Sunday 27 November 2011

Die Evangelie van Johannes - 12 (Sielewenner vir Christus)

1.     SKRIFLESING: 
U sal onthou dat ons die vorige keer gepraat het oor Jesus wat met die sedelose vrou van Samaria by die put buite Sigar gepraat het en hoe Hy haar rustig gelei het om Hom as die Messias te herken. Terwyl hierdie gesprek aan die gang was, was Sy dissipels in die dorp om kos te gaan koop.

2.     SKRIFLESING: 
Joh.4:27-42 ~ Net toe het sy dissipels teruggekom en hulle was verbaas dat Hy met ’n vrou praat. Tog het niemand vir haar gevra: “Wat wil jy hê?” of vir Hom: “Waarom praat U met haar?” nie. 28Die vrou het toe haar waterkruik net daar laat staan en na die dorp toe gegaan en vir die mense gesê: 29“Kom kyk, hier is ’n man wat my alles vertel het wat ek gedoen het. Is Hy nie miskien die Christus nie?” 30Die mense het toe uit die dorp uit na Jesus toe begin kom. 31Intussen het sy dissipels by Hom aangedring: “Rabbi, eet tog ’n stukkie.” 32Maar Hy sê vir hulle: “Ek het voedsel om te eet waarvan julle nie weet nie.” 33Die dissipels sê toe vir mekaar: “Sou iemand dalk vir Hom iets te ete gebring het?” 34Maar Jesus het vir hulle gesê: “My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het, en om sy werk te voltooi. 35Sê julle nie: ‘Nog vier maande, dan is die oes daar’ nie? Maar Ek sê vir julle: Kyk daar, kyk na die lande; hulle is ryp vir die oes. 36Nou al ontvang die man wat oes, sy loon en samel hy die oes in vir die ewige lewe. So is die een wat saai, en die een wat oes, saam bly. 37Hier is die gesegde waar: ‘Die een saai, en die ander een maai.’38Ek het julle gestuur om ’n oes in te samel waaraan julle nie gearbei het nie. Ander het gearbei, en julle pluk die vrug van hulle arbeid.” 39Baie van die Samaritane in daardie dorp het tot geloof in Jesus gekom op grond van die woorde van die vrou wat getuig het: “Hy het my alles vertel wat ek gedoen het.” 40Toe die Samaritane by Hom kom, het hulle by Hom daarop aangedring om by hulle te bly. Hy het twee dae daar gebly. 41Nog baie meer van hulle het toe tot geloof in Hom gekom op grond van wat Hy gesê het; 42en hulle het vir die vrou gesê: “Ons glo nie meer op grond van wat jy vertel het nie, want ons het self na Hom geluister, en ons weet dat Hy waarlik die Verlosser van die wêreld is.”  

3.     INLEIDING:
As ons vlugtig na hierdie gedeelte kyk wil dit voorkom asof ons hier met twee verskillende onderwerpe te doen het – vv.27-38 waar Jesus met Sy dissipels praat oor voedsel en om God se wil te doen en dan in vv.39-42 waar die Samaritaanse vrou met die inwoners van Sigar oor Jesus praat. Dit is egter nie die geval nie, want wanneer ons deeglik na hierdie gedeelte kyk, sien ons dat dit ’n pragtige geheel vorm – dit gaan hier oor die getrouheid en getuienis van die sedelose vrou wat Jesus by die put ontmoet en wat ná hul gesprek, die Samaritaanse "Sielewenner vir Christus" word.
 Ons kan hierdie gedeelte dus onder die volgende punte verdeel:
·         Die Samaritaanse vrou getuig (vv.28-38)
-       Die boodskap wat sy verkondig (vv.28-30)
-       Jesus gebruik haar as rolmodel (vv.31-38)
o    God se wil (vv.31-34)
o    Die ryp oes (vv.35-38)
·         Die Samaritaanse vrou dra vrug (vv.39-42).
 4.    DIE SAMARITAANSE VROU GETUIG:
Nadat die Samaritaanse vrou besef het dat Jesus die Messias is, kon sy haar nuut gevonde vergifnis en vryheid nie langer vir haarself hou nie en haas sy haarself terug na die dorp, waar sy vir almal wat haar eens verag het en wie sy waarskynlik so ver moontlik in die verlede probeer vermy het, sê ~ Kom kyk, hier is ’n man wat my alles vertel het wat ek gedoen het. Is Hy nie miskien die Christus nie? Dit is asof ’n mens net by die lees van hierdie vers, die opgewondenheid in haar stem kan haar.
 Wat is dit waaroor sy so opgewonde is? Ons sien in ons vorige paragraaf dat Jesus aan hierdie vrou water aangebied het wat haar dors vir ewig sou les – lewende water met ander woorde – daardie water wat die mens en dan spesifiek hierdie Samaritaanse vrou se dors na God en redding kan les.
 Ook het Jesus hierdie vrou se sonde en sondige verlede aan haar uitgewys en Hy bied terselfdertyd aan haar vergifnis vir hierdie sonde. Die vrou besef dat Jesus ’n Profeet is – ’n Profeet wat veel groter is as die aardse profete waarvan sy as Samaritaan kennis dra. Hierdeur het Jesus aan haar gesê dat haar hele manier van aanbidding nou gaan verander, want heilige plekke, of dit nou Jerusalem of Gerisim is, gaan nie meer saak maak ten einde na aan God te kom nie. Hy sê ook vir haar dat haar en die res van die wêreld se verlossing deur die Jode gaan kom en daarom staan Hy as Joodse man voor haar, want Hý is die Een wat die verlossing bring.
 Laastens sê Jesus vir haar hoe ware aanbidding lyk, nl. dat dit in Gees en waarheid moet geskied, m.a.w. sy moet God voortaan in egtheid aanbid en in die toekoms sal die Heilige Gees in ware aanbidders teenwoordig wees (Joh.14:17; 15:26; 16:13).
 Hoeveel die Samaritaanse vrou van al hierdie uitsprake van Jesus verstaan het, is nie seker nie en dit maak ook nie regtig saak nie – wat wel saak maak is die feit dat sy antwoorde op haar vrae gekry het, die oomblik toe sy besef dat die Man voor haar, inderdaad die Messias is (4:26).
 Met hierdie wete dat sy die Messias ontmoet het; dat God haar sonde vergewe het en dat sy verlossing gevind het, haas sy haar terug na die dorp om vir almal te gaan vertel van die Messias wat uiteindelik gekom het en Homself aan haar geopenbaar het – sy word die eerste sendeling na Samaria!
 Toe sy in die dorp aankom, tree sy baie geniaal en oordeelkundig op, want as sy bloot net vir die mense sou sê dat die Messias gekom het, sou die inwoners haar waarskynlik nie geglo het nie, omdat sy ’n vrou sonder sedes was – ’n vrou wat godsdienstig nie sensitief was nie; 'n vrou vir wie godsdiens nie saak gemaak het nie, want sy was tog ten einde laaste, ’n prostituut. Hoor egter hoe sy haar nuutgevonde vreugde en ontdekking met hulle deel – sy vra in v.29b ~ Is Hy nie miskien die Christus nie? Sy sê nie en sy preek ook nie. Sy prikkel hul nuuskierigheid. Wat meer is – ook hulle het, net soos die Jode, op die koms van die Messias gewag en as hierdie sedelose vrou wat in die verlede hoogs waarskynlik aggressief gereageer het as mense haar gekonfronteer het met haar donker lewe, nou openlik en met opgewondenheid vir hulle sê ~ Kom kyk, hier is ’n man wat my alles vertel het wat ek gedoen het (v.29a), dan moes daar iets wonderliks met hierdie vrou gebeur het en die inwoners van Sigem kan enersyds nie hul nuuskierigheid langer beteuel nie en andersyds besef hulle ten diepste dat hier iets gebeur het waaraan hulle deel wil hê, want hierdie vrou het voorwaar verander en hulle begeer ook dít wat sy ontvang het van hierdie Man.
 U sal onthou dat Jesus se dissipels van die dorp af by Hom aangekom het, net toe die vrou terug is dorp toe en terwyl sy van Jesus getuig, vra die dissipels vir Jesus om saam met hulle te eet, want oënskynlik wou Hy nie eet nie (v.31). Hy antwoord hulle egter op ’n baie eienaardige wyse – Hy sê in v.33 en 34 ~ Ek het voedsel om te eet waarvan julle nie weet nie.... My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het, en om sy werk te voltooi. Wat het Jesus met hierdie uitspraak bedoel?
 Alhoewel Jesus volgens 4:6 moeg was en waarskynlik ook honger, eet Hy nie saam met die dissipels nie. Vir Jesus is dit veel belangriker om God se wil te doen, eerder as Homself te versadig met fisiese kos. Toe Hy vir hulle sê dat sy voedsel is om die wil van God te doen, het Hy waarskynlik Deut.8:3 in gedagte gehad, waar Moses met die volk gepraat het en vir hulle gesê het ~ Hy (verwysende na God) het jou laat swaarkry, laat honger ly en toe met manna gevoed, iets waarmee nóg jy nóg jou voorvaders bekend was. Hy het dit gedoen om jou te leer dat ’n mens nie net van brood leef nie, maar dat hy leef van elke woord wat uit die mond van God kom. Ook in Luk.4:4 het Jesus dieselfde beginsel deurgee toe die satan Hom in die wildernis versoek het en Jesus vir hom gesê het ~ Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord van God.
 Jesus wil met hierdie antwoord vir hulle sê dat hulle nie in die eerste plek aan hulle eie fisiese behoeftes moet dink nie, maar hulle ingesteldheid moet altyd een wees waar hulle eers die geestelike raaksien en hulle ingesteldheid moet altyd wees om eers die Vader se insettinge (Sy Woord) na te kom en sodoende Sy wil te doen.
 Jesus het dit waarskynlik vir hulle gesê omdat Hy op daardie stadium reeds die inwoners van Sigem gesien het waar hulle op pad was na Hom en Sy dissipels en Hy het geweet dat iets wonderliks enige oomblik gaan plaasvind – Hy het geweet dat God ’n afspraak gehad het met baie van die inwoners en dat daar nie nou tyd was om om te sien na hulle eie fisiese behoeftes nie – daar was werk om te doen en hulle moet hulle eerder geestelik instel ten einde deel te wees van God se wil in die wederbaringsproses van die uitverkorenes wat uit Sigem op pad na hulle was.
 Jesus hou die Samaritaanse vrou as rolmodel vir Sy dissipels voor, deur vir hulle te sê dat hierdie vrou dors was, maar toe sy die waters van die lewe ontvang, was sy nie meer verder besorg oor haar fisiese dors nie, want volgens v.28 het sy haar kruike net daar by die put laat lê en was sy gehoorsaam aan God se wil en het sy nie eers gedink aan haar dors nie, maar eerder aan haar verloregaande stadsgenote in Sigem.
 Terwyl Jesus met Sy dissipels praat sien Hy die inwoners van Sigem na hulle aangestap kom en Hy wys waarskynlik na hulle en sê vir Sy dissipels ~ Kyk daar, kyk na die lande; hulle is ryp vir die oes (v.35b). Nog steeds sukkel die dissipels om geestelik te dink, want as Jesus praat van die oes wat gereed is om ingebring te word, verstaan hulle steeds nie, want die fisiese koring op die lande sal eers oor nagenoeg vier maande gereed wees om geoes te word. Jesus gaan egter voort en dit is asof Hy vir hulle sê, Sien julle daardie mense wat op pad is hierheen? Hulle is soos koring wat ryp in die aar staan en wat gereed is om geoes te word. Los nou julle kos en kry julle prioriteite reg. Berei julle eerder geestelik voor om die wil van julle Vader te doen, deur die Evangelie met hulle te deel, sodat hulle ingebring kan word in God se Koninkryk.
 Jesus wil nie hierdeur vir Sy dissipels sê dat hulle nie moet eet as daar geestelike werk is wat  gedoen moet word nie. Nee, wat Hy vir hulle wil sê, is dat hulle, hulle ingesteldheid moet regkry – hulle moet ten alle tye geestelik ingestel wees en gereed wees om God se wil onder alle omstandighede en ten alle tye te doen. Dit herinner sterk aan verlede week se boodskap uit Ps.119:1-8 nie waar nie? Ons het o.a. gesien hoe dat die Psalmis gesê het dat hy (en daarom ook ons), God se Woord dag en nag moet oordink en sodoende ’n hartsgesindheid het waar hy voortdurend volgens God se insettinge (Sy Woord) optree. 
 Jesus brei verder uit op Sy beeld wat Hy gebruik van die oes wat ryp is deur in vv.35-38 te sê ~ Sê julle nie: ‘Nog vier maande, dan is die oes daar’ nie? Maar Ek sê vir julle: Kyk daar, kyk na die lande; hulle is ryp vir die oes. 36Nou al ontvang die man wat oes, sy loon en samel hy die oes in vir die ewige lewe. So is die een wat saai, en die een wat oes, saam bly. 37Hier is die gesegde waar: ‘Die een saai, en die ander een maai.’38Ek het julle gestuur om ’n oes in te samel waaraan julle nie gearbei het nie. Ander het gearbei, en julle pluk die vrug van hulle arbeid. Jesus gebruik hier ’n metafoor ten einde aan hulle te verduidelik wat Hy bedoel as Hy praat van die oes wat ryp op die lande staan. In hierdie metafoor sê Jesus, saai die boer saad en vier maande later kan hy die koring oes, maar hierdie menslike oes wat hier van Sigem af op pad na Jesus en die dissipels is, is nou dadelik gereed om geoes te word ~ Kyk daar, kyk na die lande (met ander woorde: Kyk na die mense wat daar aan die kom is); hulle is ryp vir die oes (v.35b).
 Jesus wil hierdeur vir hulle nog iets sê en dit is dat hulle nooit geleenthede om die Evangelie met iemand te deel by hulle moet laat verbygaan nie. Of, positief gestel, hulle moet altyd gereed wees en op die uitkyk wees vir ’n geleentheid om die Evangelie te deel, want die oes is ryp en gereed om ingebring te word – nie oor vier maande nie, maar nou! Ons het ’n baie duidelike opdrag wat hierby aansluit wanneer Jesus in Matt.28:19-20a sê ~ Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en 20leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. Wanneer ons hierdie opdrag van Jesus hoor, moet ons bemoedig word deur die woorde van Paulus in Hand.28:28 ~ Julle moet nou goed verstaan dat God se boodskap van redding na die heidennasies toe gestuur word (en dan hierdie woorde). Húlle sal luister.
 Ons vind ’n baie belangrike beginsel in vv.36-38. Vers 38 verskaf aan ons die verklaring vir vv.36 en 37. Vers 38 impliseer dat niemand die eer vir homself kan opeis wanneer ’n verlore siel die Here Jesus Christus onder sy arbeid vind nie, want andere het alreeds op een of ander stadium die grondslag gelê vir so ’n persoon se redding en jy, onder wie se bediening so ’n persoon tot geloof kom, sien maar net die vrug tot wasdom kom. Die een wat die eerste grondslag gelê het vir die redding van ’n persoon, kan ook nie die eer daarvoor vir homself opeis nie, want hy het nie die persoon se redding aanskou nie. Geen individu kan dus krediet of loon opeis vir die sukses van enige Evangelistiese uitreiking of kontak nie. Die oes behoort net soveel aan die "saaier" as wat dit aan die "maaier" behoort. As voorbeeld hiervan, sê Jesus in v.38b aan Sy dissipels ~ Ander het gearbei, en julle pluk die vrug van hulle arbeid. Wat Jesus waarskynlik hier bedoel het met die "ander", is die profete wat lank voor die dissipels al die Evangelie begin verkondig het en dat die saad al lankal in mense se harte gesaai is – al wat nou gebeur, is die dissipels wat maar net die ryp oes van die lande afhaal – MAAR, afhaal moet hulle dit afhaal!
 Aan "die einde van die dag" sal die profete en die dissipels egter saam juig oor elke siel wat gered is en sal hulle saam hul loon daarvoor van die Here ontvang.
 5.    DIE SAMARITAANSE VROU DRA VRUG:
Die slotsom van Jesus se sending na Samaria vind ons in vv.39-42 en dit geskied in twee fases.
·           Ons sien dat die "vrou by die put" se getuienis vrug dra wanneer baie van die inwoners van Sigem tot geloof in Jesus kom op grond van haar getuienis en beslis ook met verdere kontak wat hulle ’n rukkie later met Jesus sou gehad het en dit word bevestig deur wat die inwoners in v.42 self gesê het ~ Ons glo nie meer op grond van wat jy vertel het nie, want ons het self na Hom geluister, en ons weet dat Hy waarlik die Verlosser van die wêreld is.  
 In v.40 sien ons iets uitsonderliks gebeur – die Samaritane vra Jesus om by hulle oor te bly. Dit is uitsonderlik, omdat ons weet dat Jode en Samaritane nie "om dieselfde vuur gesit het nie", maar hierdie Samaritane se honger en dors na verlossing was enersyds so groot en andersyds was hul nuut gevonde oortuiging dat Jesus wel die Redder is van beide Jood en Samaritaan, so groot, dat hulle nie genoeg van Hom kon kry nie. Jesus het op hulle versoek nog twee dae langer by hulle gebly. 
 ·           Tweedens sien ons in v.41 dat die Samaritaanse vrou se getuienis verdere vrug dra, wanneer nog meer van die inwoners wat na Jesus gegaan het op grond van haar getuienis, maar wat nog nie op daardie stadium geglo het nie, tot geloof in Jesus kom.
6.  TEN SLOTTE:
Hierdie gebeure wat homself afgespeel het by die put buite Sigem moes ’n klompie jare later vir een van Jesus se dissipels besondere betekenis ingehou het. Hierdie dissipel was Johannes die skrywer van hierdie Evangelie. Toe hy die Evangelie geskryf het, moes hy die impak en betekenis van Jesus se besoek aan Samaria ten volle begryp het, want jare na Jesus se besoek aan Samaria, het Filippus sendingwerk in Samaria gedoen – ons sien dit in Hand.8:5 ~ So het dit gebeur dat Filippus by ’n stad in Samaria gekom het en Christus daar verkondig het. Johannes was een die apostels wat saam met Petrus gestuur is om, in die woorde van Hand.8:15-17 ~ ...vir die mense daar (te) bid dat hulle die Heilige Gees mag ontvang, 16want die Gees het nog nie op een van hulle gekom nie; hulle was net in die Naam van die Here Jesus gedoop. 17Die apostels het hulle die hande opgelê, en hulle het die Heilige Gees ontvang. ’n Mens kan ook maar net wonder of die apostels nie dalk nog van die oorspronklike inwoners van Sigem wat tot bekering gekom die dag toe Jesus die Evangelie by die put met hulle gedeel het, tydens hierdie sendingreis ontmoet het nie – dalk nog die "vrou by die put" self ook!

Wanneer ons na hierdie verhaal luister en ons hou Jesus se "Groot Opdrag" in Matt.28 in gedagte, moet ons onsself afvra wat ons motief moet wees, wanneer ons in gehoorsaamheid aan Jesus se opdrag om dissipels te maak, uitreik na die verloregaande wêreld:
·           Uiteraard moet ons eerste motief wees omdat Jesus ons die opdrag daartoe gegee het en behoort Skrifgedeeltes soos Matt.28:19 (...Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels...) en Rom.10:14 (Maar hoe kan ’n mens Hom aanroep as jy nie in Hom glo nie? En hoe kan jy in Hom glo as jy nie van Hom gehoor het nie? En hoe kan jy van Hom hoor sonder iemand wat preek?), of Jesus se opdrag in Joh.20:21 (Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook) en vele meer, die heeltyd in ons ore weerklink.

Geliefdes, ons hoef nie te vrees om uit te reik en te begin evangeliseer nie, want Jesus bemoedig ons deur in Hand.1:8 te sê ~ Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld. Onthou ook Hand.28:28 ~ Hulle sál luister!
·           Ons tweede motief en dryfveer wat ons moet hê om uit te reik en te evangeliseer, is die feit dat daar ’n verloregaande wêreld daarbuite is. Hulle is nie net verlore in hierdie lewe nie, maar vir ewig! Ons kan ook nie agteroor sit omdat ons in die uitverkiesing glo en sê dat hulle tog sal "inkom" op die regte tyd, want hulle is mos uitverkies nie. Nee, ons moet juis instrumente in die hand van die Here wees om daardie uitverkorenes "te gaan haal" en ons weet nie wie hulle is nie en daarom moet ons in gehoorsaamheid aan 2Tim.4:2, die Evangelie, volhardend en tydig en ontydig verkondig.


[1] Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te VAALDRIEHOEK Baptiste Gemeente (Vereeniging) - Sondagoggend 27 November2011

Psalm 119 – 01 (Dié wat wandel volgens die Woord van die Here)

1.    SKRIFLESING: 
In teenstelling met die kortste Psalm, nl. Ps.117 wat uit net twee versies en vyf reëls bestaan en wat ook die kortste hoofstuk in die Bybel is, kry ons net twee Psalms later, die langste Psalm, asook die langste hoofstuk in die Bybel in die vorm van Psalm 119. Psalm 119 bevat 176 verse en 315 reëls.

Ps.119 is ’n sg. "naamdig" en is verdeel in 22 strofes en elkeen van hierdie 22 strofes begin met een van die letters van die Hebreeuse alfabet.

Wat egter die heel belangrikste eienskap van Ps.119 is, is die feit dat elkeen van die 176 verse van hierdie Psalm, met die uitsondering van hoogstens 5 verse, ’n verwysing na die Woord van God is. Daar is verder ook minstens agt sinonieme wat in hierdie Psalm vir die Skrif gebruik word. Die Wet ("Torah") kom 25 keer voor; Woord ("dabar") word nagenoeg 24 keer gebruik; Insettinge ("mispatim") – 23 keer; Getuienis ("hedot") – 23 keer; Opdragte ("miswoth") – 22 keer; Verordeninge ("huqqim") – 21 keer; Voorskrifte ("piqqudim") – 21 keer en Beloftes ("imra") – 19 keer.  

Die naam Here ("Jahweh") kom 24 keer voor in hierdie Psalm, terwyl die naam God ("Elohim") net een keer voorkom. Die verwysing na God, met die uitdrukking of woord "U" kom egter 211 keer voor. Dit is baie duidelik dat God dus die sentrale tema van hierdie Psalm is. Die feit dat die Naam vir God, nl. "Jahweh" meerendeels gebruik word en nie "Elohim" nie, dui waarskynlik daarop dat Dawid die outeur van hierdie Psalm was, alhoewel daar sommiges is wat glo dat Jeremia en selfs Daniël eerder die outeur was. - <!--more-->

2.    SKRIFLESING: 
Ps.119:1-8 ~ Dit gaan goed met dié wat onberispelik lewe, dié wat wandel volgens die woord van die Here. 2Dit gaan goed met dié wat sy verordeninge gehoorsaam, dié wat met hulle hele hart sy wil doen, 3geen onreg pleeg nie en in sy weë wandel. 4U het u bevele gegee dat dit ten volle uitgevoer moet word. 5As ek tog maar net op ’n vaste koers kan bly en my aan u voorskrifte kan hou! 6As ek al u gebooie in ag neem, sal ek nooit raad-op wees nie. 7U bepalings is regverdig; as ek hulle ter harte neem, sal ek U loof met ’n opregte hart. 8Ek sal my aan u voorskrifte hou: moet my tog nooit verlaat nie.

Wanneer ons kyk na die inhoud van hierdie eerste strofe van die Psalm, kan die tema hiervan, soos volg verwoord word: Dié wat wandel volgens die Woord van die Here.

3.    VERS-VIR-VERS VERKLARING:
Vers 1 begin met die woord "welgeluksalig" (O.A.V.) of "blessed" (E.S.V.). Die Hebreeuse woord vir "welgeluksalig" of "geseënd" begin ook met "Aleph" (die eerste woord van die Hebreeuse alfabet).

Hierdie eerste 8 verse van Ps.119 moet saam met Psalm 1 gelees word en dan sal ons sien dat die eerste drie verse van Ps.119, die positiewe kant van Ps.1:1 is ~ Dit gaan goed met die mens wat nie die raad van goddeloses volg nie, nie met sondaars omgaan en met ligsinniges saamspan nie. Ons eerste drie verse verduidelik dus aan ons hoe ons nié saam met die goddeloses moet wandel nie, trouens dit toon aan ons hoe ons vlekkeloos kan wees – iemand van integriteit. Hoe sê die Psalmdigter, hoe moet ons optree ten einde vlekkeloos te wees? Hy sê in v.1 dat ons onberispelik moet lewe en hoe kan ons dit regkry? Ons kan dit regkry deur volgens die Woord van God te wandel.

In v.2 wil die Psalmis die tema van hierdie strofe beklemtoon, wanneer hy sê dat ons God se wil met ons hele hart moet doen. Ons moet met ons hele hart, volgens God se Woord wandel. Dit is baie interessant om te sien dat die woorde, "Met jou hele hart" ook die sleutelgedagte van die boek Deuteronomium is. Dit is ook interessant om te weet dat Deuteronomium die basis vorm vir talle Psalms, soos ook vele ander Skrifgedeeltes. Die Nuwe Verbond se wortels is ook in Deuteronomium geanker en Jesus het male sonder tal, uit Deuteronomium aangehaal.

Hoe dit ook al sy, daar sit veel meer agter die woorde in v.2, wanneer dit sê dat ons God se wil met ons hele hart moet doen. God is glad nie tevrede met bloot uiterlike gehoorsaamheid en diens nie. Nee, Hy kyk na ons hartsgesindheid wanneer ons gehoorsaam is aan Sy Woord – Hy wil hê dat ons van harte, volgens Sy Woord en wil sal optree – Hy wil hê dat ons dit met oorgawe en dankbaarheid en opgewondenheid sal doen – van harte dus en nie uit pligpleging of om Hom te probeer beïndruk nie, want so ’n optrede beïndruk Hom hoegenaamd nie.

Wanneer ons God se wil van harte uitleef, wandel ons in Sy weë, soos v.3 tereg opmerk. Ons optrede en ons karakter moet dus iets van Sy karakter reflekteer, want dan wandel ons waarlik in Sy weë. 1Pet.1:14-16 sê ~ As gehoorsame kinders moet julle nie julle lewe inrig volgens die begeertes wat julle vroeër gehad het toe julle God nie geken het nie. 15Nee, soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in julle hele lewenswandel heilig wees. 16Daar staan immers geskrywe: “Wees heilig, want Ek is heilig.” Hierdie opdrag wat ons hier in Petrus se brief vind, nl. dat ons heilig moet wees, is ’n herhaling van wat in Lev.11:44a staan ~ Ek is die Here julle God. Wy julle aan my diens en wees heilig, want Ek is heilig.

Ps.119 fokus dus op ons gehoorsaamheid aan die Woord en Jakobus is baie duidelik hieroor wanneer hy in Jak.1:22 sê ~ Julle moet doen wat die woord sê en dit nie net aanhoor nie, anders bedrieg julle julleself.

Die Psalmis se opmerking in v.3 dat ons nie onreg moet pleeg, of ongeregtigheid (O.A.V.) moet doen nie, mag dalk duidelik en eenvoudig klink, maar hy skryf dit spesifiek om twee redes:
·           Eerstens wil die Psalmis ons leer dat ons ganse lewe; ons totale wese onder die beheer van God moet wees;
·           Tweedens, dat ons toegewyd en sorgvuldig aandag moet skenk aan God se Woord en daarvolgens moet leef.

Dit is voor die hand liggend dat wanneer ons volgens God se Woord leef, ons nie van die pad kan dwaal nie, maar daar is ’n voorwaarde hieraan verbonde en ons vind dit in die woorde van Ps.1:2 wat sê dat ons God se Woord dag en nag moet oordink.

Wanneer ons daaraan dink dat ons God se Woord dag en nag moet oordink, is daar twee dinge waaraan ons aandag moet skenk:
·         "Dag en nag";
·         "Oordink".

Kom ons begin by die tweede, nl. die uitdrukking "oordink" wat ook vertaal kan word met "mediteer". Die Hebreeuse woord vir "God se Woord" dui op die Torah of te wel die Mosaïese Wette en natuurlik was die Mosaïese Wette die riglyn vir die Hebreërs se lewe. Die Hebreërs (of Jode as u wil), waarvan die Psalmis natuurlik deel was, was demonstratiewe mense – hulle was, om dit in Engels uit te druk, baie "vocal" – hulle het dus hulle stemme laat hoor (soos ook in die Afrika kultuur).

Die Psalmis wil daarom in Ps.1 sê dat wanneer hy en sy volksgenote die Woord oordink, of dan mediteer, hulle dit hardop doen – hulle praat daaroor; hulle bid hardop daaroor en hulle sing dit hardop. Ons weet natuurlik dat dit reeds bewys is, dat ’n mens baie beter leer as jy dit hardop doen. Ek kan onthou toe ek in my vroeë onderwysjare Tswana vir Laerskoolkinders geleer het, hoe ons altyd in onguns by die onderwysers in die klasse langsaan was, omdat ons kort-kort gesing het, want die kinders het die frases wat hulle in Tswana geleer het, op bekende wysies soos bv. Vader Jakob gesing en dit is gedoen juis omdat die sing van frases, ’n nóg beter tegniek is om daardie frases aan te leer en vas te lê.

En síng, het die Hebreërs gesíng! Nie sommer enige volksliedjies nie – hulle het die Woord gesing! Dit is presies wat die Psalmis bedoel met die uitdrukking "oordink" of te wel mediteer, nl. dat hy die Wet van die Here dag en nag, hardop praat, bid én sing – ons kan dit in Engels "vocal meditation" noem.

Ek het die afgelope tyd baie daaroor gedink: Wat dit werklik beteken om God se Woord dag en nag te oordink? Beteken dit dat ons elke oomblik, elke sekonde van die dag en nag aan God se Woord moet dink? Baie van ons sukkel dikwels om net iets van ’n patroon in ons "stiltetyd" (in die lig van bg. moet ons dalk maar nie meer praat van "stiltetyd" nie....!) te vind en derhalwe ’n vrugbare "tydjie" saam met die Here elke dag te spandeer, wat staan nog dag en nag! Dit is tog nie moontlik nie, of is dit? Wat beteken dit regtig? Daar sal sekerlik mense wees wat van my mag verskil oor die betekenis hiervan, maar as ons regtig wil weet wat dit beteken, moet ons ’n antwoord in die Skrif daarvoor probeer vind en ’n goeie beginpunt, is dan sekerlik Ps.1:2. Die O.A.V. is hier weereens ’n beter vertaling en in ooreenstemming met die oorspronklike Hebreeuse teks. Die meeste Engelse vertalings is dit ook eens met die O.A.V. Ps.1:2 lees dan as volg ~ ... maar sy behae is in die wet van die Here, en hy oordink sy wet dag en nag. Ek dink ons moet begin deur vir mekaar te sê dat dit nie hier gaan oor allerlei "moets" en "moenies" nie – dit wat ek mag en nie mag nie. Dit gaan eerder oor ’n hartsgesindheid. My hartsgesindheid moet dus een wees waar ek in alles wat ek doen en dink en sê, God wil verheerlik. My ganse optrede en gesindheid moet dus dag en nag een wees waardeur ek Godgesentreerd en Christus- verheerlikend wil optree. Wanneer dít my uitgangspunt is, sal ek God in en deur my lewe verheerlik, want ’n mens se optrede word gemotiveer deur jou gesindheid.  

Ons totale oordenking (hou in gedagte wat tot nou gesê is t.o.v. vokaliteit) moet dus van so ’n aard wees dat ons...
·           Eerstens vreugde daaruit sal put, trouens dit moet ons soveel vreugde verskaf dat ons heeldag daaraan wíl dink én daaroor praat én daaroor sing.
·           Tweedens moet my oordenking lei tot aksie. Dit wat ek leer uit die Woord moet ek met ander woorde daagliks – elke oomblik, in my praktiese lewe begin toepas en dit verg oefening en nogmaals inoefening om daarop te konsentreer en dit te doen. As dit my ernstige voorneme is om werklik, heeldag God se Woord te oordink, sal ek erns daarmee maak om dit te begin toepas in en deur my lewe. Negatief gestel, as ek my nié daarop toespits om dit te doen nie, is ek nie ernstig met en oor God se Woord en om dit dag en nag te oordink nie.

Ons moet verstaan dat Bybelse meditasie of –oordenking, nie inhoudloos, soos baie ander wêreldse tegnieke is nie. Nee, Bybelse oordenking is vol inhoud en dit is hierdie Bybelse inhoud wat ons moet toepas op ons daaglikse lewe. As ek vanoggend in die Woord die volgende vers bv. sal lees, moet ek vir my vra hoe ek dit vandag en elke dag in my lewe sal toepas en dit begin doen (elke dag). Kan ek weer sê – En dit begin doen – dit moet dus deel word van my daaglikse optrede – dit moet dus deel uitmaak van my verwysingsraamwerk – alle toekomstige optrede moet daarvolgens gerig word. Kom ons neem sommer enige twee voorbeelde uit die Skrif, bv.: 1Kor.6:1 ~ Gaan iemand van julle wat ’n saak teen ’n ander gelowige het, werklik so ver dat hy sy reg by heidense regters soek en nie by gelowiges nie? Dit gebeur op ’n bepaalde oggend dat ’n medegelowige wat saam met jou in die gemeente is, nie sy skuld aan jou betaal op die dag waarop daar ooreengekom is  nie – wat doen jy? Dagvaar jy hom, of volg jy ’n ander roete? Natuurlik sal jy n.a.v. hierdie teksvers ’n ander roete volg en daardie roete sal bepaal word deur ’n ander Skrifgedeelte wat jy dalk twee jaar terug oordink het en wat jy ingeoefen het, deur dit memoriseer, daaroor te praat (en dit selfs dalk te sing ook?) en dit toe te pas by vorige geleenthede – ja ek praat van Matt.18:21-22 ~ Daarna het Petrus na Jesus toe gekom en gevra: “Here, hoeveel keer moet ek my broer vergewe as hy iets verkeerds teen my doen? Selfs sewe keer?” 22Jesus antwoord hom: “Ek sê vir jou, nie sewe keer nie maar selfs sewentig maal sewe keer. En daarmee saam natuurlik ook Matt.18:15-17 ~ As jou broer verkeerd opgetree het teen jou, gaan wys hom tereg waar julle eenkant alleen is. As hy na jou luister, het jy jou broer teruggewen. 16Maar as hy nie luister nie, neem nog een of twee met jou saam, sodat alles wat gesê word, deur die woord van twee of drie getuies bevestig kan word. 17En as hy na hulle nie luister nie, sê dit vir die gemeente. As hy ook na die gemeente nie luister nie, moet jy hom as ’n heiden en ’n tollenaar behandel. Dit sal dus jou optrede teen so ’n broer wees en wanneer jy so optree, is jy besig om die Woord, dag en nag te oordink.

Nog ’n voorbeeld waarop ek nie nou in detail wil ingaan nie, is bv. Jak 3:9-10 ~ Met die tong loof ons die Here en Vader, en met die tong vloek ons die mense wat as die beeld van God gemaak is. 10Uit dieselfde mond kom lof en vloek. My broers, so moet dit nie wees nie – wanneer ’n taxi skielik in ’n kruising voor jou stilhou – hoe wend jy jou tong aan? Is jou tong vir jou gegee om te loof, of om te vloek?

In die praktyk van die lewe moet ek dus alles wat ek vantevore geleer het, in my gedagtes oproep en toepas op die situasie waarin ek my bevind. Dit is waarom Dawid ook in Ps.143:5 sê ~ Ek dink aan die verre verlede, ek peins oor alles wat U gedoen het en oor die werk van u hande dink ek na. Josua rig waarskynlik dié belangrikste waarskuwing tot elke gelowige wanneer hy in Jos.1:8 sê ~ Hierdie wetboek moet die rigsnoer wees vir alles wat jy sê. Oordink dit dag en nag en sorg dat jy alles uitvoer wat daarin geskryf staan. Dan sal jy slaag in wat jy moet doen, jy sal voorspoedig wees. Hiermee saam en nóg belangriker, is Jesus se opdrag in Joh.8:31-32 (O.A.V.) ~ As julle in my woord bly, is julle waarlik my dissipels. En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak. Om in die Woord te bly beteken dus voortgesette dissipelskap, wat ’n bewys van jou kindskap van God is – anders gestel: Om kind van God te wees impliseer dat jy nie die bestudering van God se Woord sal afskeep nie; jy sal die memorisering van die Woord nie afskeep nie én jy sal dit wat jy lees en leer en memoriseer, toepas in jou daaglikse lewe – dit is bewys dat jy waarlik kind van God is. Dit is dan ook die basis vir heiligmaking in jou lewe: Lees die Woord; oordink die Woord; pas die Woord toe in jou lewe; jy word meer heilig; jy lees die Woord... ens.

Om ’n voortgesette en getroue "stiltetyd", jaar in en jaar uit te hou, is sekerlik een van die grootste gevegte wat ons in ons lewe veg, maar ons moet ons net eenvoudig self dissiplineer om dit te doen en wanneer dit die geval is, sê Ps.1:3 vir ons, sal ons ~ ...soos ’n boom (wees) wat by waterstrome geplant is, wat op die regte tyd vrugte dra en waarvan die blare nie verdroog nie. (Ons sal) voorspoedig (wees) in alles wat (ons) aanpak.

Vers 4 van Ps.119 sluit pragtig aan by wat ons tot nou uit Psalm 1 gesê het. Hier beklemtoon die Psalmis die feit dat God nie Sy bevele, of te wel Sy Wet, of dan Sy Woord, vir ons om dowe neute gegee het nie – nee, Hy het dit juis gegee sodat ons dit ten volle sal uitvoer. Hoor u wat hy sê? Ten volle. Nie net deels nie – ten volle! Nie net somtyds nie – ten volle, m.a.w. ten alle tye. Die meeste Engelse vertalings stel dit pragtig – dit sê ~ You have commanded your precepts to be kept diligently "diligently", m.a.w. dit moet ywerig, toegewyd en nougeset nagevolg en toegepas word.

Waarom moet ons God se Woord nougeset navolg en toepas? Ps.19:8 ~ Die woord van die Here is volmaak: dit gee lewe. Die onderwysing van die Here is betroubaar: dit gee wysheid aan dié wat nog onervare is.

Die Psalmis is voorwaar ’n man van God, maar in v.5 erken hy egter ook dat hy pynlik bewus is van hoe onheilig hy nog steeds is, deurdat hy ’n versugting uitspreek waarmee elkeen van ons sekerlik ook kan identifiseer ~ As ek tog maar net op ’n vaste koers kan bly en my aan u voorskrifte kan hou! Dit is waarskynlik hierdie vers wat Paulus in gedagte gehad het toe hy in Rom.7:15-23 gesê het ~ Ek begryp self nie wat ek doen nie, want wat ek wil doen, dit doen ek nie, maar wat ek haat, juis dit doen ek. 16Dat ek nie wil doen wat ek doen nie, beteken dat ek toegee dat die wet goed is. 17Maar nou is dit nie meer ek wat dit doen nie, maar die sonde wat in my woon. 18Ek weet immers dat die goeie nie in my woon nie, nie in my sondige aard nie. Daar is by my wel die wil om die goeie te doen, maar ek doen dit nie. 19Die goeie wat ek wil doen, doen ek nie, maar die slegte wat ek nie wil doen nie, dit doen ek. 20En as ek nou doen wat ek nie wil doen nie, dan is dit nie meer ek wat dit doen nie, maar die sonde wat in my woon. 21So vind ek dan hierdie wet in my: ek wil die goeie doen, maar al wat ek doen, is die slegte. 22Diep in my wese vind ek vreugde in die wet van God, 23maar ek vind in my doen en late ’n ander wet, wat stryd voer teen die wet van my gees. Dit maak my ’n gevangene van die wet van die sonde wat in my doen en late aan die werk is.

Met hierdie versugting is die Psalmis eerlik en sê hy enersyds dat ook hy van tyd daarmee sukkel en dat hy nie altyd getrou is in sy oordenking van die Wet nie. Wat belangrik is, is dat ons nie sal identifiseer met die Psalmis se, "van tyd tot gebrekkige oordenking van die Woord nie", maar met sy "versugting om die saak reg te stel".  

Die kerngedagte hier is egter dat hierdie versugting die primêre begeerte van ons hart moet wees – dit moet ook ons daaglikse gebed wees, want uit onself kan ons dit nie doen nie – Here hou ons op ’n vaste koers, sodat ons aan U voorskrifte kan bly hou

In verse 6-8 neem die Psalmis standpunt in en gaan hy oor tot aksie. Hy motiveer homself en herinner hom net weer daaraan, dat God se Wet regverdig is en as hy dít in ag neem, sal hy nooit raadop wees nie en hy weet ook dat indien hy gehoorsaam is, hy nie anders sal kan as om God te loof en te prys nie.

In v.8 kom hy in die teenwoordigheid van die Here en neem hy homself voor en maak hy ’n belofte aan die Here, dat hy homself aan God se voorskrifte sál hou. Hy hou egter steeds sy swakhede en tekortkominge in ag en in nederigheid en afhanklikheid vra hy weer vir die Here om hom by te staan in hierdie noodsaaklike proses van heiligmaking. Hierin is daar ook ’n les vir ons opgesluit. Ons moet nie net vra nie, ons moet net soos die Psalmis in afhanklikheid van God, ’n besluit neem en oorgaan tot aksie.

4    AFSLUITING:
Geliefdes, mag hierdie worsteling, maar ook kragdadige optrede van die Psalmis, ook vir ons as bemoediging dien. Mag ons ook soos hy, ernstige besluite neem t.o.v. ons oordenking van God se Woord, maar mag ons ook in nederigheid en opregtheid ons sonde en tekortkominge bely, maar mag ons egter ook ons afhanklikheid aan God se genade en hulp verklaar en hom daarom vra. Laat ons altyd die woorde van die Hebreërskrywer in gedagte hou ~ Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie.” 6Daarom kan ons met vertroue sê: “Die Here is my helper, ek ken geen vrees nie: wat kan ’n mens aan my doen?” (Hebr.13:5b-6).

V   V   V

5.    BID PSALM 119:1-8:
·           Help my Here om op ’n vaste koers te bly en my aan u voorskrifte te hou (v.5).
·           Dankie Vader dat U my help om al U gebooie in ag te neem (v.7).
·           Ek bely Here dat ek die oordenking van U Woord so dikwels al afgeskeep het en nie altyd toepas in en deur my lewe nie – vergewe my daarvoor (v.8).


[1] Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te VAALDRIEHOEK Baptistegemeente (Vereeniging) – Sondagoggend 20 November2011