Saturday 31 December 2011

En My God Sal In Elke Behoefte Ryklik Voorsien

1.    ONS BEHOEFTE:
Elkeen van ons betree vandag hierdie nuwe jaar met bepaalde behoeftes – of dit nou finansieel, of fisies, of geestelik is. Miskien wonder jy hoe jy hierdie jaar finansieel sal oorleef; jy wonder dalk of jy al jou verpligtinge sal kan na kom. Gaan my besigheid die syfers haal wat nodig is om my maatskappy doelwitte te bereik? Gaan ek nie dalk in hierdie jaar gerasionaliseer word nie? Sal jy in al jou familie se behoeftes kan voorsien? Miskien sukkel jy met ’n kwaal (waarvan nie een van ons dalk eers weet nie) en wonder, of hoop jy dat jy genesing sal ervaar. Miskien wonder jy of ons as gemeente nog aan die einde van 2012 sal bestaan, en so kan ons aangaan.

Daar is nie een van ons wat vanoggend hier bymekaar is wat nie geweldige geestelike behoeftes het nie. Sommige van ons weet presies waarna ons verlang in ons geestelike lewe, of wat tekort skiet in ons geestelike lewe, maar of dit nou die geval is of nie, elkeen van ons het geestelike behoeftes en ek kan dit sê, bloot op grond van die feit dat ons deel het aan die sondesmet wat voortspruit uit die sondeval. Ons het behoefte aan voortdurende reiniging en vergifnis van ons sondesmet en ons geestelike "mislukkings".

Ons het behoefte aan God se krag om staande te bly teen die geestelike aanslae wat ons ervaar en wat ons deurgaans deur hierdie nuwe jaar gaan ervaar. Trouens, ek moet eintlik sê dat ons behoefte het aan God se krag om nie net staande te bly nie, maar om in oorwinning te staan teen die daaglikse aanslae en versoekings van die bose en ons eie vlees.

Ons het verder, behoefte aan God se leiding en begeleiding deur hierdie jaar, anders kan en sal ons nie staande bly nie. Ons het behoefte en gaan behoefte hê aan God se wysheid, leiding, vertroosting, onderskeiding, ondersteuning, ens. Ons sal behoefte hê aan God se krag, geduld en hoop, wanneer ons beproewing van een of ander aard gaan ervaar.

Daar is talle ander behoeftes wat ons sekerlik nog kan opnoem en wat geweldige uitdagings aan ons kan en sal stel gedurende 2012 wat vandag ’n aanvang neem.

2.    DIE VOORSIENER:
As ons egter na Fil.4:19 kyk, sien ons dat die volgende woorde daar geskryf staan ~ En my God sal in elke behoefte van julle ryklik voorsien volgens sy wonderbaarlike rykdom in Christus Jesus. Hierdie vers wat Paulus neergepen het onder inspirasie van die Heilige Gees, is ’n wonderlike belofte wat ons saam met ons in hierdie nuwe jaar kan dra. Dit is ’n belofte wat ’n liefdevolle Vader maak aan elke gelowige wat bepaalde behoeftes in sy binneste rond dra. Dit is die Vader se hartsbegeerte om in Sy kinders se behoeftes te voorsien – wat meer is, daar is nie ’n enkele behoefte waarin Hy nie kan voorsien nie, want Hy is ons Almagtige Vader aan wie al die diere in die bos behoort en die wild op duisende berge (Ps.50:10).

Ons behoeftes is groot – oorweldigend groot, maar...... Hy wat ons Voorsiener is, is baie, baie groter en dit behoort vir ons te dien as geweldige bemoediging hier aan die begin van ’n nuwe jaar. Dit maak dus nie saak hoe ek voel en in watter omstandighede ek myself bevind nie – ek kan elke keer wanneer dit nodig is, saam met al die gelowiges deur die eeue heen sê ~ My God en my Vader – Hy ken my omstandighede en Hy het in Fil.4:19 belowe dat Hy in my, Sy kind se behoeftes sál voorsien! Dit is nodig dat ons hierdie feit vir onsself sal toe-eien; dit sal glo en daarop sal staan – en God selfs in nederigheid en in eerbied, daaraan sal herinner. Oordink hierdie feit – God sál in elkeen van my behoeftes, ryklik voorsien – dít is hoe God oor jou voel; dít is wat Hy van jou dink – Hy is voorwaar ons Voorsiener en wat meer is, dit is presies wat Hy in ons lewe wíl wees – ons (Sy kinders) se Voorsiener! Dink maar terug aan jou lewe as gelowige – was Hy nie elke keer daar, om in jou behoeftes op Sy unieke wyse en volgens Sy wil te voorsien nie. Baie keer voel dit in die situasie nie asof God ons Groot Voorsiener is nie, maar tog uiteindelik en by nabaat as ons mooi daaroor terug dink, sien ons dat Hy ryklik en oorvloedig voorsien het. Miskien het jy op ’n stadium alle materiële besittings verloor (dit het al met my en Jeanne gebeur), maar in die proses het die Here jou op ’n ander wyse geseën en versorg, of vertroos – sommige van julle het dalk alles op ’n stadium verloor – luukshede wat julle dalk tot vandag toe nog nie weer "terug gekry het nie", maar in die proses het jy Jesus Christus as Saligmaker en Koning in jou lewe ontmoet – is dit nie voorsiening nie!

Dink aan Jona – hy het swaar gekry en teen die Here met gebalde vuiste rondgeloop, maar aan die einde van die dag, as ons wat buitestaanders is, na sy lewe kyk, weet ons dat dit vir sy eie beswil en tot sy seën was dat God die pad met hom geloop het wat Hy geloop het. Dink aan Job – dieselfde storie. Job het al sy besittings verloor: ...sewe duisend stuks kleinvee, drie duisend kamele, vyf honderd paar trekosse, vyf honderd donkies en baie slawe (Job 1:3), maar erger nog, hy het ook, sewe seuns en drie dogters gehad  (Job1:2) en ook hulle is op een slag deur die dood van Job, weggeneem! Na al hierdie slegte nuus sê Job in v.21 ~ Sonder iets het ek in die wêreld gekom en sonder iets gaan ek daaruit. Die Here het gegee en die Here het geneem. Prys die Naam van die HerePrys die Naam van die Here!

Job is na al hierdie verliese wat hy gely het, nog boonop getref deur pynlike swere. Job het deur erge depressie gegaan en sover gegaan om sy geboortedag te vervloek. Sy vriende het o.a. vir hom gesê dat dit hom nie eers sal help om tot God uit te roep nie. Hoor net wat sê Job steeds in Job 16:7-22 ~ Nou het God my afgetakel, Hy het my hele gesin uitgewis. 8Hy het my beetgepak, en dít dien as getuienis teen my; my vervalle toestand staan op en getuig teen my. 9God het my in sy toorn verskeur en vervolg, in sy woede het Hy my lewe bedreig, Hy, my Teëstander, deurboor my met sy oë. 10Mense rek hulle monde oor my, hulle beledig my, hulle sak op my toe. 11God het my oorgelewer aan slegte mense, Hy het my in die hande van goddeloses laat val. 12Ek het rustig gelewe, toe versteur God my rus, Hy het my aan die nek beetgepak en my vergruis. Hy het van my ’n teiken gemaak: 13sy pyle tref my hele liggaam, meedoënloos deurboor Hy my niere en my gal loop uit op die grond. 14Wond op wond dien Hy my toe, soos ’n soldaat storm Hy op my af. 15Ek het vir my ’n roukleed gemaak, my eer het in die stof verdwyn. 16Ek het my oë rooi gehuil, daar is swart kringe onder my oë. 17Tog is ek nie skuldig aan geweld nie  en is my gebed opreg. 18Moenie die onreg Teen my verberg nie, aarde, moenie dat my noodkrete tot rus kom nie. 19Selfs nou nog het ek ’n getuie in die hemel, Hy wat vir my getuig, is daar bo. 20My vriende het my bespotters geword, daarom pleit ek met trane by God 21dat Hy uitspraak lewer in die saak tussen ’n mens en Hom soos in ’n saak tussen ’n man en sy vriend, 22want my jare is min en gaan verby, en ek gaan na die plek toe waarvandaan niemand terugkom nie.” Job was, soos die Engelse sal sê: "down and out". God tree toe en in ’n gesprek met Job, oortuig God vir Job dat niemand soos Hy (God) is nie en uiteindelik kom Job tot hierdie slotsom wanneer hy in Job 42:2 sê ~ Nou weet ek dat U tot alles in staat is en dat U kan uitvoer wat U besluit. Job gee homself oor aan God en dan uiteindelik hoor ons wat Job se uiteinde was nadat God die Groot Voorsiener ingegryp het in Job se lewe ~ Die Here het die laaste deel van Job se lewe voorspoediger gemaak as die eerste: hy het veertien duisend stuks kleinvee, ses duisend kamele, twee duisend beeste en ’n duisend donkies gekry, 13en ook sewe seuns en drie dogters. 14Die oudste dogter het hy Jemima genoem, die tweede Kesia en die derde Keren-Puk. 15Nêrens in die land was daar vroue so mooi soos Job se dogters nie. Hulle pa het hulle saam met hulle broers laat erf. 16Job het nog honderd en veertig jaar gelewe. Hy het sy kinders en kindskinders tot in die vierde geslag gesien. 17Job het toe gesterf. Hy was oud en het ’n vol lewe gehad (Job 42:12-17).

Wanneer  ons in die Woord lees van God se voorsiening in mense soos Abraham en Noag en Gideon en Dawid en vele ander, moet ons nie dink dat dit net die geval met hulle was nie – hulle was hierdie geloofsreuse en daarom het God in hulle lewens voorsien – nee, hou Rom.2:11 in gedagte wanneer jy so begin redeneer ~ God trek immers niemand voor nie. Om dit dus met groot piëteit te sê, God het nie witbroodjies nie – Hy het al Sy kinders op dieselfde wyse en ewe veel lief – al is dit Dawid of Marius; Naomi of Sonja; Josua of Hugo; Johannes of Riaan – God behandel al Sy kinders op presies dieselfde wyse.

Daar is egter ’n paar belangrike vrae wat jy vir jouself moet afvra en dit is of God, waarlik jou Vader is? Het jy die realiteit van sonde in jou lewe al herken en erken? Het jy die behoefte aan verlossing en vergifnis in jou lewe ervaar? Het jy jou lewe al aan Hom toegewy en doen jy dit voortdurend in jou lewensgang? Maak jy staat op God se genade en vergifnis ten einde jou te red? Is daar bewyse in jou lewe dat die Heilige Gees jou aangeraak het – m.a.w. is daar vrug in jou lewe? Bestaan daar ’n opregte begeerte in jou lewe vir ’n heilige lewe? As jy bevestigend op al hierdie vrae kan antwoord, kan jy saam met Paulus uitroep ~ My God! As jy dít kan uitroep, kan jy ook uitroep ~ Hy het ’n belofte aan my gemaak. Wat is die belofte? My God sal in elkeen van my behoeftes, ryklik voorsien!

Daar is egter twee woorde wat ons net eers van naderby moet bekyk en dit is behoeftes en voorsien, of ryklik voorsien, as jy wil. Die Griekse woord wat vir behoeftes gebruik word is, χρεία (chreia). Die E.S.V. vertaal hierdie woordjie korrek wanneer dit sê ~ And my God will supply every need.... Die woord "need", moet in Afrikaans vertaal word met noodsaaklikheid. Ons moet dus besef dat ons nie soos sommige gewilde teoloë dit wil hê, kan "name and claim" wat ons graag wil hê nie – wat ons hart begeer nie. Dit gaan hier oor noodsaaklikhede – dit wat God weet wat ons werklik nodig het om te kan leef en Hom te kan dien. As ek nie kry wat ek dink noodsaaklik is nie? Dan het ek dit óf nie regtig nodig nie, óf God wil hê dat ek eers iets moet leer. Job is nie dadelik gehelp nie en daarom kan ek ook nie verwag dat my noodsaaklikhede aangespreek word wanneer ek dink dit tyd daarvoor is nie – God bepaal die tyd en die noodsaak aan iets, máár, ek sal altyd kry wat ek waarlik nodig het – Hy sal ons nooit in die steek laat nie – nooit!

Die tweede woord waarna ons moet kyk is voorsien. Die Griekse betekenis van hierdie woord is om "tot boordens toe" vol te maak ("to fill to the brim"). Hieruit kan ons aflei, dat God nie sommige noodsaaklikhede aanspreek en vervul en ander net half en half voorsien nie. Tweedens beteken dit dat daar in al ons noodsaaklikhede ten volle en tot oorlopens toe voorsien sal word, maar steeds sal God dit op Sy tyd en op Sy manier vervul. Wanneer ek egter ’n noodsaaklikheid dringend nodig het, sál Hy dit voorsien.

Blaai saam met my na 2Kon.4:1-7 ~ ’n Vrou van ’n profeet het haar nood by Elisa kom kla: “My man is dood. U weet self dat hy die Here gedien het. Nou het die skuldeiser gekom om my twee seuns te vat en hulle sy slawe te maak.” 2Elisa het vir haar gesê: “Ek sal jou help. Sê vir my: wat het jy in jou huis?” Sy het geantwoord: “Ek het niks in die huis nie behalwe ’n erdekannetjie olie.” 3Hy het toe gesê: “Gaan leen nou by al jou bure leë kruike, en sorg dat jy nie te min leen nie. 4Dan gaan jy in jou huis in, maak die deur agter jou en jou seuns toe, en gooi elkeen van hierdie kruike vol olie. Soos elkeen vol word, moet jy hom wegpak.” 5Sy is van hom af weg. Sy het die deur agter haar en haar seuns toegemaak. Soos hulle die kruike na haar toe aangedra het, het sy hulle volgemaak. 6Toe die kruike vol was, sê sy vir een van haar seuns: “Bring vir my nog ’n kruik.” Maar hy het gesê: “Daar is nie meer ’n kruik oor nie.” Toe het daar nie 7meer olie uit die kannetjie gekom nie. Sy het by die man van God aangekom en dit vir hom vertel. Hy het gesê: “Gaan verkoop die olie en betaal jou skuld. Jy en jou seuns kan dan leef van wat oorbly.”

Hierdie vrou verkeer in groot nood – haar man is dood en sy kan nie haar skuld vereffen nie, maar sy doen die regte ding – sy soek God se aangesig oor hierdie saak deur na die profeet Elia te gaan. Op Elia se vraag wat sy in haar huis het, sê sy dat sy net ’n fles olie het. Hierdie vrou het waarlik nood – sy het nood op daardie oomblik en in die res van die verhaal sien ons hoe God die Vader in haar behoefte voorsien en let op Hy hou nie op voorsien toe daar genoeg olie is nie – nee, die voorsiening stop omdat daar nie meer genoeg kruike was nie.

As jy vandag dalk voel soos hierdie weduwee, wil ek jou aanmoedig om na jou Vader te gaan en Hom ten volle te vertrou vir dit wat jy waarlik benodig en net soos die weduwee kan jy ook God se grootsheid; Sy liefde; Sy almag; Sy genade; Sy voorsiening, in aksie sien.

3.    SY BRON:
Geliefdes, terug na Fil.4:19 – God het nie net die begeerte om in ons behoeftes te voorsien nie, Hy beskik ook oor al die bronne wat nodig is om daarin te voorsien. God voorsien volgens sy wonderbaarlike rykdom in Christus Jesus – Sy wonderbaarlike rykdom. Die E.S.V. sê ~ ...according to his riches. Wat beteken dit as Paulus sê dat God volgens sy wonderbaarlike rykdom voorsien? Kom ek verduidelik: Wanneer jy ’n miljoenêr sou nader en hom sou vra om ’n donasie te gee vir een of ander goeie doel en hy gee jou R 10, dan gee hy vanuit ("out of") sy rykdom aan jou ’n donasie, maar dit is nie proporsioneel tot sy rykdom nie. Indien dieselfde miljoenêr egter vir jou ’n tjek ten bedrae van R 250 000 uitskryf, dan gee hy volgens ("according to") sy rykdom en dan is sy bydrae proporsioneel tot sy rykdom.

Die punt is, dat God nie suinig is nie – Hy gee volgens Sy rykdom. Hy sal in elke noodsaaklike behoefte volgens Sy rykdom voorsien – en nog meer! Onthou, ons het netnou gesien dat ~ ... al die diere in die bos is (Syne), die wild op duisende berge (Ps.50:10). Volgens hierdie rykdom skenk Hy aan ons. Kom ons kyk gerus ook na 2Kor.9:8-9 ~ En God is by magte om aan julle alles in oorvloed te skenk, sodat julle in alle opsigte altyd van alles genoeg kan hê en volop kan bydra vir elke goeie werk. In die oorspronklike teks staan daar letterlik, sodat julle in alle opsigte altyd van alles "alleroorvloedig" sal hê!

4.    DIE KANAAL:
Indien ons nie na God gaan met ons behoeftes nie kan ons nie noodwendig verwag dat Hy daarin moet voorsien nie. Ons moet egter ook besef dat die kanaal waarvolgens God in ons behoeftes voorsien, deur Jesus Christus en nét deur Jesus is –  dit impliseer dat Jesus Christus die Gewer en Middelaar is deur wie God se gawes na ons vloei, maar ook deur Wie ons tot God moet nader wanneer ons nood ervaar – net soos wat die weduwee deur die profeet Elisa tot God genader het.

Daar is egter ’n veel belangriker aspek aan hierdie vers verbonde as om te sê dat Christus die kanaal is deur Wie ons voorsiening en versorging kom – ons moet onthou en ons het dit vroeër gesê ook, hierdie voorsiening waarvan Paulus praat, is in die eerste plek geestelik van aard en daarom, wanneer Paulus sê dat ons voorsiening in Christus Jesus kom, dan sê hy in die eerste plek, dat die rykdom van God se genade en voorsiening in Jesus Christus aan ons bekend gemaak is en omdat Christus in ons is, is Hy ons hoop op die heerlikheid (Kol.1:27b). Kol.2:2-3 omskryf hierdie saak nog verder, wanneer dit sê ~ dat ons ...tot alle rykdom van die volle versekerdheid van insig (kan kom), om die verborgenheid te leer ken van God en die Vader en van Christus, in wie al die skatte van wysheid en kennis verborge is. Dit is die eerste en heel belangrikste noodsaaklike behoefte waaroor enige een van ons ooit kan beskik. As hierdie behoefte nie vervul word nie – as daar nie in hierdie behoefte voorsien word nie, maak dit nie eers saak of ons ander behoeftes het nie – hierdie moet ons prioriteit wees – ...om die verborgenheid te leer ken van God en die Vader en van Christus, in wie al die skatte van wysheid en kennis verborge is (Kol.2:2-3).

5.    AFSLUITING:
Lyk dit soms vir jou, asof jy puur verniet wag op uitkoms en voorsiening, want niks gebeur nie? Hou jou beproewing net aan en aan? Ek wil jou vanoggend opnuut weer bemoedig en aanmoedig, om nie op te hou vertrou op God se voorsiening en uitkoms nie, want Hy weet presies wat jou behoeftes behels, maar Hy weet ook presies wat die perfekte tyd is om in jou behoeftes te voorsien. Dit kan wees dat Hy wil hê dat sekere ander behoeftes eers in jou lewe aangespreek moet word. Dit kan egter ook wees dat sommige van jou behoeftes nie regtig grondige behoeftes is nie. Of die Here weet beter en weet dat jy dalk liewer sonder daardie bepaalde behoeftes moet klaarkom, omdat dit vir jou eie sieleheil beter sal wees om sonder dit te wees en dan moet ons dit so aanvaar.

Weereens, moet jy, jou lewe in oënskou neem en terug dink aan hoe God in die verlede, op die regte tyd en op die regte manier in jou behoeftes voorsien het. Hy was nog altyd getrou – God het elkeen van ons nog elke keer in die verlede deur ons krisisse gedra en elke keer in ons noodsaaklike behoeftes voorsien – dink net terug! Hy belowe dit nog steeds ~ En my God sal in elke behoefte van julle ryklik voorsien volgens sy wonderbaarlike rykdom in Christus Jesus!

Hoe gaan ons hierdie nuwe jaar binne – in vrees of in geloof en ’n vaste vertroue? Toe die weduwee al die kruike gesien het, was sy waarskynlik gevul met vrees en wantroue en het sy gewonder hoe op dees aarde gaan al hierdie kruike vol olie word? Of het sy in geloof en ’n vaste vertroue in haar hemelse Vader, die kruike begin bymekaar maak, met die wete dat haar God in elke behoefte, ryklik sal voorsien?  

God het nog altyd ons "leë kanne" tot oorlopens toe gevul en Hy sal dit weer op Sy tyd in 2012 doen wanneer dit nodig is. My gebed is dat elkeen van ons in hierdie jaar, sal vashou aan hierdie woorde van Fil.4:19 en ook die woorde van 1Pet.5:7 voorop in ons gedagte sal hou, nl. ~ Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle.

Mag julle elkeen ’n wonderlike en geseënde 2012 beleef!


[1] Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te VAALDRIEHOEK Baptiste Gemeente (Vereeniging) - Sondagoggend 01 Januarie 2012

Saturday 24 December 2011

Vrede op Aarde!

1.    INLEIDING:
Die wêreld vier vandag Kersfees. Ek vier nié Kersfees nie! Ek vier Christusfees! Hierdie dag het tog immers niks – hoegenaamd niks te doen met kerse nie. Hierdie dag (en die wêreld weet dit en besef dit nie regtig nie) gaan daaroor dat ons die geboorte van Jesus Christus, die Seun van God, gedenk. Hierdie is nie sommer maar net so ’n dag nie; dit is nie maar net nog ’n verjaarsdagviering nie. Nee, hierdie dag – die dag waarop Jesus gebore is, is waarskynlik die tweede belangrikste dag op die kalender van ons as gelowige Christene (Christus se kruisiging en spesifiek Sy opstanding is vir my die heel belangrikste dae en behoort dus eintlik veel, veel meer prominensie te geniet as "Kersdag").

Ons hoor ook baie dikwels gedurende die Kerstyd, dat mense  sê dat Jesus Christus na die aarde gekom het om vrede te bring. Dit klink alles so mooi en "in die gees van Kersfees" klink dit só reg, maar wat beteken dit regtig as ons dit sê – wat beteken dit as mense sê "vrede op aarde"? Beter nog, wat beteken dit as die Woord van God in Luk.2:14 sê ~ Eer aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde vir die mense in wie Hy ’n welbehae het? Beteken dit regtig dat daar vrede op aarde is – dit lyk nie vir my so nie!

2.    SKRIFLESING:
Kol.1:15-23 ~ Die Seun is die beeld van God, van God wat self nie gesien kan word nie. Die Seun is die Eerste, verhewe bo die hele skepping. 16God het deur Hom alles geskep wat in die hemel en op die aarde is: alles wat gesien kan word en alles wat nie gesien kan word nie, konings, heersers, maghebbers, gesagvoerders. Alles is deur Hom en vir Hom geskep. 17Voor alles was Hy al daar, en deur Hom bly alles in stand. 18Hy is die hoof van die liggaam, van die kerk. Hy is die oorsprong daarvan, Hy is die Eerste, die Een wat uit die dood opgestaan het, sodat Hy die eerste plek in die heelal inneem. 19God het besluit om met sy volle wese in Hom te woon 20en om deur Hom alles met Homself te versoen. Deur die bloed van sy Seun aan die kruis het Hy die vrede herstel, deur Hom het Hy alles op die aarde en in die hemel met Homself versoen. 21Ook julle was voorheen ver van God af en vyandiggesind teenoor Hom, soos blyk uit julle sondige lewenswyse. 22Maar nou het Hy ook julle met Homself versoen deurdat sy Seun as mens gesterwe het om julle heilig, sonder smet en onberispelik voor Hom te stel. 23Maar dan moet julle vas en sterk bly staan in die geloof en julle nie laat losruk van die hoop wat in julle gewek is deur die evangelie wat julle gehoor het nie. Dit is die evangelie wat aan al die mense op die aarde verkondig is en waarvan ek, Paulus, ’n dienaar geword het.

3.    TEKSVERS:
Kol.1:20b en 22 ~ Deur die bloed van sy Seun aan die kruis het Hy die vrede herstel, deur Hom het Hy alles op die aarde en in die hemel met Homself versoen....22Maar nou het Hy ook julle met Homself versoen deurdat sy Seun as mens gesterwe het om julle heilig, sonder smet en onberispelik voor Hom te stel.

4.    ONVREDE:
Nadat God die hemel en die aarde geskape en alles wat daarop en daarin is, lees ons in Gen.1:31 die volgende woorde ~ Toe het God gekyk na alles wat Hy gemaak het, en dit was baie goed. God se aanvanklike doel en plan met die skepping was dus om die mens en die res van die heelal met Homself te versoen deur Jesus Christus.

God se volmaakte skepping wat "baie goed" was is egter kort na die skepping, op tragiese wyse geskend, deurdat Adam en Eva in sonde geval het. Ons sien in Gen.6:5-7 wat God se reaksie daarop en vele ander sondes wat daarna begaan is, was ~ Toe die Here sien hoe groot die verdorwenheid van die mens op aarde is en dat hy sy lewe lank net slegte dinge bedink, 6was die Here bedroef daaroor dat hy die mens op die aarde gemaak het. Dit het Hom diep gegrief. 7Die Here het gesê: “Ek sal die mens wat Ek geskep het, wegvee van die aarde af; mens en dier, ook dié wat kruip, en die voëls, want Ek is bedroef daaroor dat Ek hulle gemaak het. As gevolg van die sonde, het daar vyandskap tussen God en die mens ontstaan. Trouens, nie net tussen God en die mens alleen nie, maar ook tussen God en die res van die skepping. Dawid sê in Ps.143:1 ~ Moet tog nie ’n regsaak teen my begin nie, want niemand wat leef, is voor U onskuldig nie!

Dit is baie duidelik vanuit die Skrif, dat ons in ’n vervloekte wêreld bly – ’n wêreld waar daar beslis geen vrede heers nie! Beide mens en die res van die skepping gaan gebuk onder die invloed van die satan – aan die eenkant sien ons moord en doodslag, aborsies en oorloë en aan die anderkant sien ons Tsunami's, droogtes, haelstorms en aardbewings en kosbare wild- en ander diersoorte wat aan die uitsterf is. Satan is voorwaar die god van hierdie wêreld soos wat Paulus hom dan ook beskryf in 2Kor.4:4 en die vors van die onsigbare magte (Ef.2:2).

Hoe is dit dan moontlik dat Jesus se koms en Sy latere kruisiging, vrede na die aarde gebring het?

Wanneer ons na hierdie vervloekte wêreld kyk, dan kan dit baie maklik vir ons voel asof hierdie realiteit daar ver buite my staan – so asof, dit darem nie regtig op my van toepassing is nie; ek is tog sekerlik nie in dieselfde vyandskapsverhouding met God as wat die Bybel hier vir ons van vertel t.o.v. die res van die wêreld en die heelal nie! Wel, as jy so dink is jy óf mislei deur jou eie verkeerde denke, óf jy is mislei deur iemand anders, of dalk ’n kerk se teologie waaraan jy behoort of behoort het – feit is: Dit is nié wat die Woord van God vir ons leer nie. Paulus stel dit ondubbelsinnig en op die man af in Rom.3:10 ~ Daar is nie een wat regverdig is nie, selfs nie een nie! Die implikasie van Ef.2:1 is ook dat die mens dood is as gevolg van sy oortredings – sy sonde met ander woorde.

Wanneer ons insien dat en saamstem daarmee, dat die wêreld daarbuite boos is, maar ek sê of voel, dat ek persoonlik darem nie te sleg is nie, of dat daar darem baie goeie mense daarbuite is, dan is ek besig om myself ernstig te bluf en moet ons Martin Luther se woorde ernstig opneem – hy het op ’n keer gesê: Die mens se finale sonde is sy onwilligheid om te erken dat hy wel ’n sondaar is.

Daar bestaan dus geen twyfel nie, dat die mensdom en die skepping, maar ook ek en jy in vyandskap met God staan en/of gestaan het. Die Nederlandse Geloofsbelydenis (Artikel 15) leer ons ook dat die mens in sonde ontvang en gebore word – elke mens (van speenoud, tot stokoud) is dus verlore!

Om dinge egter nog meer kompleks te maak, lees ons bv. die volgende situasies wat gaan plaasvind, a.g.v. hierdie vrede wat Jesus gebring het – lw. GE-bring het (verlede tyd). Jes.11:6-9 gaan bv. waar word ~ Wolwe en skape sal dan saam bly, luiperds sal tussen bokkies lê, kalwers, leeus en voerbeeste sal bymekaar wees en klein seuntjies sal vir almal sorg. 7Koeie en bere sal saam wei, hulle kleintjies sal bymekaar lê, leeus sal gras eet soos beeste. 8Babatjies sal by die gate van adders speel, klein kindertjies sal hulle hande uitsteek na giftige slange. 9Op my heilige berg sal niemand kwaad aanrig of iets verniel nie, want die aarde sal so vol wees van die kennis van die Here soos die see vol water is. Wat ’n vreedsame toneel! Of Jes.65:25 ~ Die wolf en die lam sal saam wei, die leeu sal strooi vreet soos ’n bees, en stof sal die kos van die slang wees. Op my heilige berg sal niks verkeerds gedoen word nie, niks vernietig word nie, sê die Here. Wat ’n wonderlike situasie! Dit alles a.g.v. die vrede wat Jesus gebring het!

Het Jesus dié soort vrede gebring waarna die ganse mensdom en heelal smag, of word hier iets anders bedoel? As ons kyk na teksverse soos Matt.10:34 en Luk.12:51, is dit duidelik dat die vrede waarna Paulus in Kolossense verwys, nie die tipe vrede is waarna die wêreld smag nie en natuurlik verwys die profesieë uit Jesaja ook nie na hierdie selfde vrede nie. Jesaja se vreedsame beeld wat hy vir ons in sy profesieë skets, het natuurlik te make met die vrede wat gaan heers ná Jesus se wederkoms en nadat die oordeel deur God oor die sondaars gevel is. Paulus se Kolossense-vrede is egter iets anders.

Ons vind iets van ’n antwoord op hierdie vraag reeds kort na die sondeval, toe God in gesprek was met Adam en Eva ~ Ek stel vyandskap tussen jou en die vrou, tussen jou nageslag en haar nageslag. Dan hierdie gedeelteHaar nageslag sal jou kop vermorsel en jy sal hom in die hakskeen byt (Gen.3:15).

Die vrou se nageslag sal sy kop vermorsel! Wie is die vrou in hierdie geval? Wie sal die aksie uitvoer? Wie se kop sal vermorsel word? Sal die vraag rondom Paulus se vrede waarvan hy praat, opgeklaar word as ons die antwoorde verstrek op hierdie spesifieke vrae? Ek glo wel so.

As ons dan na die konteks van Gen.3 kyk, sien ons dat hierdie, die eerste Evangelieboodskap in die ganse Bybel is, maar ook gelykertyd, die grootste tragedie wat die heelal kon tref, nl. die sondeval – die skeiding wat tussen God en mens, maar dan ook die goeie nuus, nl. dat die vrou (Eva) se saad (Jesus), uiteindelik die satan en sy gevolg, sou oorwin (Gal.4:4-5).

Kom ons keer egter terug na die oorsaak van die onvrede – Ons het reeds gesien dat die sondeval en die satan die oorsake is vir die skeiding wat daar tussen God en die mens gekom het – die onvrede wat daar bestaan.

Dit behoort dus nou al duidelik te wees dat die vrede waarvan Paulus in Kolossense praat, niks te doen het met wêreldvrede nie – vrede van oorloë, ens. nie. Dit gaan eerder oor vrede wat tussen God en die sondige mensdom bewerkstellig moet word.

Dit is dan van hierdie Jesus waarvan Paulus ook in Kol.1:15-20 praat – Jesus is dus die Een wat hierdie vrede bring. Jesus is die Een wat die vrede tussen God en die mensdom bewerkstellig het. Jesus is die Een wat uiteindelik vrede tussen mens en dier sal bewerkstellig wanneer Hy die skepping gaan herstel – gaan herskep tot ’n nuwe aarde, waar ...wolwe en skape dan saam (sal) bly, (waar) luiperds tussen bokkies (sal) lê, kalwers, leeus en voerbeeste bymekaar (sal) wees en klein seuntjies vir almal (sal ) sorg (Jes.11:6). Paulus bevestig hierdie feit in Rom.8:21 wanneer hy sê~ ... die skepping sal self ook bevry word van sy verslawing aan die verganklikheid, om so tot die vryheid te kom van die heerlikheid waaraan die kinders van God deel sal hê.

Hierdie Jesus waarvan ons teksvers praat, is ook dié Een wat gekom het om vrede tussen God en die verlore mensdom te bewerkstellig. Vir die mens om gered te word, moes daar iewers op een of ander stadium versoening deur iets of iemand bewerkstellig word. Ons het aan die begin gesien dat God, Skepper van hemel en aarde is (Gen1:1) – ons is dus bloot skepsele waarmee Hy kan maak wat Hy wil. Voorts is God ’n heilige God wat geen sonde duld nie, daarom dat Hy o.a. in Lev.11:45b sê ~ Omdat Ek heilig is, moet julle ook heilig wees. Ons kan dus niks van ons kant doen om in vrede met God te kan lewe nie. Die enigste manier waarop vrede weer herstel kan word, is wanneer God dit van Sy kant doen.

Waarom sou God egter hierdie verbreekte verhouding met de mens wou herstel? Ons sien in Eks.34:6 dat God sê ~ ...Ek, die Here, is die barmhartige en genadige God, lankmoedig, vol liefde en trou. Hoor net wat sê Jona in Jona 4:2 ~ ...Ek het geweet U is ’n genadige en barmhartige God, lankmoedig en vol liefde. U sien maklik af van die straf wat U aangekondig het.

Hierdie barmhartigheid en genade en liefde van God, is egter nie vir alle mense beskikbaar nie, want daar is ’n voorwaarde of twee gekoppel aan hierdie genade en liefde van God – hierdie vrede wat tussen God en mens bewerkstellig moes word:  
·           Eks.33:19 ~ ... Ek betoon genade aan wie Ek genade wil betoon en Ek ontferm My oor wie Ek My wil ontferm. Dit is dus nie beskikbaar vir alle mense nie – God besluit aan wie Hy hierdie genade betoon.
·           God moes eers ’n soenoffer voorsien wat sonder gebrek was – m.a.w. dit moes ’n volmaakte offer wees wat God permanent tevrede sou stel.
·           Die mens moet glo en gehoorsaam wees. In Joh.1:12 sien ons dat Johannes sê ~ Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word. Geen mens kan dus God se vrede ervaar as Hy nie glo nie – hy moet glo ten einde kind van God te kan wees. En in Rom.6:16 staan daar ~ Julle weet tog: as julle julle aan iemand onderwerp om hom as slawe te gehoorsaam, is julle die slawe van dié een aan wie julle gehoorsaam is. As dit die sonde is, beteken dit vir julle die dood; as dit gehoorsaamheid aan God is, beteken dit vryspraak en lewe. Johannes maak dit nog duideliker in 1Joh.2:4, wanneer hy sê ~ Iemand wat sê: “Ek ken Hom,” maar nie sy gebooie gehoorsaam nie, is ’n leuenaar, en die waarheid is nie in hom nie. 5Wie sy woord egter gehoorsaam—in hom het die liefde van God werklik sy doel volkome bereik. Hieraan weet ons dat ons in Hom is. 6Wie beweer dat hy in Hom bly, behoort self ook te lewe soos Jesus gelewe het.

Wat die eerste en derde punt betref, wil ek nie nou op ingaan nie, maar wel die tweede, want dít is die kruks waarom God se plan draai ten einde vrede in die mens (in jou en my) se lewe te bewerkstellig, nl. ’n volmaakte offer.

5.    VREDE:
Ek het gesê dat God ’n volmaakte soenoffer moes voorsien, anders sou daar nooit vrede kon wees nie. God hét wel daardie Soenoffer voorsien en ons sien dit o.a. in Joh.3:16 ~ God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê. God het dus voorsien in die vorm van Sy eie Seun, Jesus Christus – Sy vlees- of menswording wat ons vandag vier – die CHRISTUSFEES! Ons sien dit dan ook in ons teksvers ~ Deur die bloed van sy Seun aan die kruis het Hy die vrede herstel, deur Hom het Hy alles op die aarde en in die hemel met Homself versoen.

Ons kan die essensie van ons teksvers opsom met vier stellings:
·           Versoening en daarom die daarstel van vrede, is ’n uitsluitlike en unieke werk van God en God alleen. Die Bybel is nie die verhaal van die mens se soeke na God nie. Dit is juis net die teenoorgestelde. In teenstelling met alle ander godsdienste op aarde, is die boodskap van Die Bybel, een waar God die mens soek – ons sien dit regdeur die Bybel – dink aan Jona; dink aan Abraham; dink aan Noag; dink aan Paulus; en so kan ons aangaan – God soek die mens en nie andersom nie!

God die Vader het Sy Seun na die aarde gestuur, ten einde sondaars van die krag en gevolge van hul sonde te red (Matt.1:21; Luk.19:10; 1Tim.1:15).
·           Tweedens is versoening, ’n afgehandelde saak. Dié van ons wie in Jesus Christus glo en Hom dien as Saligmaker en Verlosser, hoef nie tot ons dood, of tot Sy wederkoms te wag vir hierdie versoening om ’n realiteit te word nie. Nee, Jesus het reeds die versoening bewerkstellig toe Hy aan die kruis gesterf het – dit is waarom Sy laaste woorde aan die kruis, Τετέλεσται (Tetelestai) was, nl. "Dit is volbring!" – dit is afgehandel! Jesus het dus rééds sondaars wat in Hom glo, se skuld betaal en die straf op hulle sonde gedra – 1Pet.2:24 ~ Hy het self ons sondes in sy liggaam aan die kruis gedra. Daardeur is ons vir die sondes dood en kan ons lewe in gehoorsaamheid aan die wil van God. Deur sy wonde is julle genees (sien ook Rom.3:24-25).
·           In die derde plek, soos ons reeds nou al teen hierdie tyd gesien het, is die versoening aan die Kruis bewerkstellig en hierdie is die hart van die Evangelie (1Kor.2:1-5). Wat is die gevolg van hierdie versoening en vrede wat Christus aan die kruis bewerkstellig het? Ons vind die antwoord in v.23 van ons teksvers en ek wil dit graag uit die O.A.V. lees, omdat die N.A.V. hierdie vers (net soos 1Tes.5:23) teleurstellend afgewater het en ek begin by v.21 ~ Ook julle wat vroeër vervreemd was en vyandig gesind deur die bose werke, het Hy nou versoen in die liggaam van sy vlees deur die dood, (en dan hierdie woorde spesifiek) om julle heilig en sonder gebrek en onberispelik voor Hom te stel.

Die gevolg dan van hierdie versoening is:
-        Om heilig te kan wees. Die Griekse woord wat hier gebruik word, is ἅγιος (hagios) wat letterlik beteken, om afgeskei te word van sonde en eenkant, weg van sonde, vir God afgesonder te word. Dit gaan dus hier oor ons verhouding met God. As gevolg van gelowiges se geloof in Jesus Christus, beskou God hulle as heilig ~ Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom  (2Kor.5:21. O.A.V.).
-        Die gevolg van die versoening wat Christus tussen ons en God bewerkstellig het, is om sonder gebrek te wees (ἄμωμοςamōmos). In die Ou Testament is hierdie woord gebruik om na die offerdiere te verwys wat gebruik is om vrede of versoening tussen God en die volk te bewerkstellig en in die Nuwe Testament word hierdie woord uitsluitlik gebruik wanneer daar na Jesus verwys word (Heb.9:14; 1Pet.1:19). Die implikasie van Jesus se soendood aan die kruis, is dat ons as gelowiges vlekkeloos, of gebrekloos, voor God kan staan.
-        Nog ’n gevolg van die vrede wat Christus vir ons gebring het, is die derde begrip in v.21, nl. dat ons onberispelik voor God kan staan (ἀνέγκλητοςanenklētos). Om onberispelik voor God te staan, gaan ’n stappie verder as om sonder gebrek te wees – dit beteken dat niemand eers ’n klag teen ons kan lê nie – Rom.8:33 ~ Wie kan die uitverkorenes van God aankla? God self spreek hulle vry. Nie eers kan die satan, "die aanklaer van ons broeders" (Openb.12:10 – O.A.V.) dit doen nie. Om dit in Engels uit te druk, ons is nie net "above apporach" nie, ons "beyond approach"!

Geliefdes, Christus se versoeningswerk het tot gevolg dat God ons nou reeds sien soos wat ons eendag gaan wees ná ons verheerliking! Wat ’n wonderlike gerusstelling en as dít nie vrede in ons gemoed tot gevolg het, sal niks ons vrede gee nie, of anders gestel, het ons nog nie versoening in Christus Jesus ervaar nie!

6.    AFSLUITING:
Hierdie vrede waarvan ons teks praat, is dus nie vrede op aarde nie, maar vrede aan sekere mense op aarde – vrede in my en jou wat in Christus Jesus uitverkies is en in Hom glo en Hom gehoorsaam – dit is waarom Jesus self in Luk.2:14 sê ~ Eer aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde vir die mense in wie Hy ’n welbehae het!”  Jesus het dus na hierdie wêreld gekom ter wille van die uitverkorenes. Hy het gekom om alles te doen wat vir hulle redding nodig was. Hy het gekom om vrede tussen God en Sy kinders te bewerkstellig.

My liewe vriend en vriendin, mag jy ook hierdie vrede wat net Christus kan bewerkstellig, in jou lewe ontvang en ervaar en geliefdes, mag ons die vrede wat Jesus Christus na hierdie aarde gebring het in die besonder in hierdie dag ervaar! ’n Geseënde Christusfees vir elkeen van julle en mag julle vandag in die besonder, maar elke dag vir die res van julle lewe, hierdie vrede ervaar wat net God in Jesus Christus kan gee! AMEN!


[1] Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te VAALDRIEHOEK Baptiste Gemeente (Vereeniging) - Sondagoggend 25 Desember2011

Sunday 18 December 2011

Die Boodskap van Hooglied - 01 (Eerste Siklus – Hartstogtelike Verwagting - 01)

1.    INLEIDING:
Daar is talle vooraanstaande predikers en teoloë wat deur die eeue heen gesê het en steeds sê, dat die boek Hooglied een van die kosbaarste van al die boeke in die Bybel is. Charles Spurgeon het o.a. die volgende oor Hooglied gesê: This Book stands like the tree of life in the midst of the garden, and no man shall ever be able to pluck its fruit, and eat thereof, until first he has been brought by Christ past the sword of the cherubim, and led to rejoice in the love which have delivered him from death. The Song of Solomon is only to be comprehended by men whose standing is within the veil. The outer court worshippers, and even those who only enter the court of the priests, think the Book a very strange one; but they who come very near Christ can often see in this Song of Solomon the only expression which their love to their Lord desires.

Die boek van Hooglied begin in vers 1 met die boek se titel, nl. šîr haššîrîm, wat ’n Hebreeuse idioom is wat die oortreffende trap uitdruk. Dit wil dus letterlik vir ons sê dat hierdie lied, die lied van alle liedere is – die beste en die mooiste van alle liedere. Soortgelyke Hebreeuse uitdrukkings wat die oortreffende trap van iets uitdruk, is bv. die bekende uitdrukking in Eks.26:33 waar ons lees van die tabernakel se "Allerheiligste".

Die eerste woordjie wat ons in die titel van hierdie lied vind is, soos ons reeds gesien het, šîr,  wat dui op ’n vrolike lied en is gewoonlik gebruik in liedere wat tydens feeste gesing is – ’n pragtige voorbeeld hiervan is bv. Jes.30:29 ~ Maar julle sal sing soos in die nag voor ’n fees, julle sal vrolik wees soos wanneer mense met fluitspel begin loop na die berg van die Here toe, na die Rots van Israel toe. Geen wonder dan, dat die titel van hierdie boek, Salomo se mooiste lied is nie.

2.    SKRIFLESING:
Wanneer ons uit ons Skriflesing vir vandag lees en ook in die toekoms, wanneer ons weer na Hooglied sal kyk, sal u merk dat die oorheersende struktuur van Hooglied, ’n reeks van monoloë en dialoë is. Die hele boek is verdeel in 6 siklusse en ons gaan vandag kyk na die eerste gedeelte van die eerste siklus.
                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                           
Hooglied 1:1-7 ~ Salomo se mooiste lied.
Sy: 2“Soen my, soen my weer en weer! Jou liefkosings is beter as wyn, 3jou parfuum ruik so lekker, jou naam is suiwer parfuum: daarom het die meisies jou so lief. 4Vat my saam met jou, kom ons hardloop!” Die koning vat my toe na sy kamer toe.
Hy: “Kom ons juig, kom ons wees vrolik oor jou!”
Sy: “Kom ons prys jou liefkosings, dit is beter as wyn! Ek kan verstaan dat die meisies lief is vir jou. 5“Ek is bruin gebrand maar ek is mooi, vroue van Jerusalem. Ek is so bruin soos die tente van Kedar, soos die tentdoeke van Salomo. 6Moet my nie so aankyk omdat ek donker is nie, omdat die son my gebrand het nie: my broers het my so bruin laat brand, hulle het my die wingerde laat oppas; ek kon my eie wingerd, myself, nie versorg nie. 7“Sê my, jy wat ek liefhet, waar laat jy jou kleinvee wei, waar laat jy hulle rus op die middag? Hoekom moet ek my agter ’n sluier wegsteek en by die veetroppe van jou vriende rondsoek?”

3.    STRUKTUUR:
In hierdie pas gelese gedeelte sien ons ’n gelukkige en opgewonde paartjie wat allerlei begeertes en verwagtinge teenoor mekaar uitspreek. Ons sal dan ook sien dat hier ses fases in hierdie gesprek is:
·                    In verse 2-4 vind ons die geliefde se eerste pleidooi.
·                    In verse 5-7 vind ons ’n skugter en onseker meisie.
·                    In verse 8-11 sal ons ’n minnaar se liefdevolle aanmoediging sien.

·                    In verse 12-15 vind ons die beminde se monoloog
·                    Die minnaar reageer daarop, deur te skerts en te korswel in verse 15 en 16 van hoofstuk 1 en verse 1 en 2 van hoofstuk 2.
·                    En laastens vind ons die geliefde se tweede pleidooi in 2:3-7.

Ons sal vanoggend egter net tyd hê om na die eerste twee fases te kyk.

4.    DIE BEMINDE SE EERSTE PLEIDOOI:
Die eerste woorde wat ons in hierdie lied hoor, is dié van die meisie in vv.2-4. Dit is interessant om te sien dat die meisie se stem, meer as die helfte van die totale gesprek in beslag neem – haar stem spreek van verlange; van hunkering; van vrees en van genot.

Haar eerste woorde is ’n dringende pleidooi en ’n diep begeerte wat sy tot haar minnaar rig – sy begeer sy liefkosings en sy soene; sy begeer sy intieme teenwoordigheid, sodat sy, sy parfuum kan ruik – in die oorspronklike teks word daar eintlik gepraat van "salf" – dit was natuurlik ’n welriekende salf wat gebruik was om mans lekker te laat ruik. Sy sê dat haar minnaar so heerlik ruik, dat dit geen wonder is dat die meisies so gek is na hom nie (ons moet vir geen oomblik dink dat hierdie man verwyfd was omdat hy parfuum gebruik het nie – dit was alledaagse gebruik onder die jong Israelitiese manne van daardie dag – iets soos ons "deodorant").

Sy sê ook dat haar minnaar se liefkosings beter as wyn is. Omdat wyn ’n baie belangrike rol gespeel het in enige vorm van die destydse feesvierings, is dit gepas dat die geliefde haar begeerte na haar minnaar vergelyk met wyn en sy sê dat sy liefkosings vir haar selfs beter sal wees as wyn.

Hy gee gehoor aan haar diepste begeerte; haar pleidooi en hy neem haar na sy kamer toe en hy is saam met haar opgewonde en vrolik oor die vooruitsig van hul liefkosings wat op hande is en dan herhaal sy in v.4. as refrein, dít wat sy aan die begin van haar pleidooi (v.2) gesê het ~ Kom ons prys jou liefkosings, dit is beter as wyn! Ek kan verstaan dat die meisies lief is vir jou.

Wat ook uitstaan in hierdie gedeelte, is hierdie meisie se  openlike verklaring van haar liefde vir haar minnaar. Hulle wil dus hê dat die ganse wêreld moet weet van hul liefde vir mekaar, maar hulle tye van intimiteit spaar hulle vir die privaatheid van haar geliefde se kamer – daar waar die openbare oog nie kan sien hoe hy haar soen en liefkoos nie.

Hierdie paartjie verteenwoordig elke man en elke vrou en hulle versugting en optrede is ’n weerspieëling van elke man en elke vrou se intiemste verlange.

Ons moet in gedagte hou dat hierdie boek deur Salomo geskryf is en die vraag is onmiddellik: Oor wie en watter omstandighede skryf hy hier? Gee hy hier ’n beskrywing van ’n jong meisie wat deel is van sy harem en weggevoer word deur die koning na sy kamer en sy wat uitroep na haar geliefde buite die paleismure, of is dit ’n jong meisie wat deel is van sy harem – ’n meisie wat verlief is op hom? Is dit dalk ’n beskrywing van die aankoms van Salomo se bruid – ’n Egiptiese prinses en dié se hartsbegeerte wat sy hardop teenoor hom uitspreek (1Kon.3:1 ~ Salomo het hom verbind aan die familie van die farao, die koning van Egipte. Hy het getrou met die dogter van die farao en haar in die Dawidstad laat woon totdat hy sy paleis en die tempel van die Here en die muur rondom die stad klaar gebou het)? Wat die geval ook al mag wees, ons moet enersyds tevrede wees met die gebrekkige inligting, maar andersyds is die motief van Salomo dalk juis hier om dubbelsinnig van aard te wees, sodat elkeen van ons hiermee kan identifiseer.

Ons moet verder in gedagte hou dat hierdie pragtige boek wat Salomo geskryf het, deel is van die wysheidsliteratuur en daarom is hierdie eerste vier verse van Hooglied, ’n pragtige beskrywing van ’n hart wat vernuwe is deur God se genade en wat uitroep na Jesus Christus, die groot "Objek" van so ’n gelowige se liefde. Daarom dat Spurgeon sê dat hierdie boek, ...is only to be comprehended by men whose standing is within the veil. Iemand wat nie in Christus ingeplant is nie, sal hierdie stuk prosa en lied van Salomo glad nie verstaan nie.

Ons moet ook besef dat hierdie verse (2-4) nie soseer ’n  beskrywing is van die Here Jesus Christus (die Bruidegom van die Kerk) nie – dit is eerder ’n beskrywing van die begeerte van ’n kind van God na geestelike gemeenskap met Christus en ’n ervaring van Sy liefde vir Sy kind. ’n Ware en opregte en reddingservaring deur Christus, het altyd ’n hartstogtelike liefde vir Hom tot gevolg.

Ons kan vv. 2-4 kan dus diagrammaties as volg voorstel:
V.2
Die minnaar se soene
Die genieting van Christus se liefde
V.3
Die geur van sy parfuum
Die voortreflikheid van Christus se Naam
V.4
Die privaatheid van sy kamer
Die intimiteit daarvan om in Christus se teenwoordigheid te wees

Kom ons kyk eerstens na v.2 ~ Die minnaar se soen: Hierdie woorde is woorde wat deur iemand uitgespreek word wat reeds bemin word deur Christus.

Die wortelbetekenis van hierdie Hebreeuse woord vir soen, is "om saam te voeg", spesifiek, "mond tot mond". Hierdie pleidooi van die gelowige wat gerig word tot Christus, is die begeerte van die Christelike kerk deur die eeue heen na nóg meer van Jesus se liefde, asook ’n erkenning daarvan dat Christus se liefde vir haar, die beste en grootste liefde van alle liefdes is. Fil.3:10-11 vat dit baie mooi saam ~ Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood, 11in die verwagting dat ek self deel sal hê aan die opstanding uit die dood. Dit is dus ’n voortdurende begeerte om nóg meer en nóg meer van Sy, die Bruidegom se liefde te ervaar.

Waarom sou die meisie sê dat haar minnaar se liefkosings beter as wyn is?
·           Eerstens natuurlik, omdat dit Christus se liefde is en geen liefde kan daarmee vergelyk word nie.
·           Christus se liefde kan sonder vrees geniet word, terwyl daar baie besliste gevare gekoppel is aan die gebruik van wyn wat o.a. kan lei tot afhanklikheid daarvan. Geen wonder dat Spr.20:1 as volg lees nie ~ Wyn maak jou ligsinnig, drank laat jou lawaai maak; niemand wat van dronkenskap slinger, is verstandig nie. Christus se liefde daarenteen, het nét die goeie tot gevolg en kan geen skade berokken nie – slegs seën en vreugde en plesier.
·           Ps.104:14-15a sê ~ U laat gras uitspruit vir die diere, en groen plante vir die mens sodat hy sy kos uit die aarde kan kry: 15wyn om mense se harte bly te maak. Hierdie blydskap wat wyn tot gevolg kan hê, is egter van korte duur, terwyl Christus se liefde, blywende genot inhou.
·           Wyn mag van goeie gehalte wees, maar wyn is nooit volkome suiwer nie, terwyl Christus se liefde absoluut volmaak is. Ook moet ons besef dat Christus se liefde in die meervoudsvorm gebruik word – Sy liefde verwys dus na Sy verbondsliefde; Sy uitverkiesingsliefde; Sy reddingsliefde; Sy aannemingsliefde; Sy Volhardingsliefde; Sy verheerlikingsliefde; Sy vergewingsliefde; Sy dissiplineringsliefde; Sy leidings- en lydingsliefde; Sy voorsieningsliefde; Sy leringsliefde; ens. En wat meer is, hierdie liefde van Christus duur vir ewig!

Die beminde se verwysing na haar minnaar se parfuum, of soos ons netnou gesien het, sy welriekende salf, herinner aan Ps.45:9 ~ Die geur van mirre, aalwyn en kaneel deurtrek al u klere; musiek uit u ivoorversierde paleis maak u bly. Dit herinner egter ook aan die Sterrekykers uit die Ooste, of te wel die Wyse Manne se geskenke wat hulle vir Jesus met Sy geboorte gebring het ~ Hulle het in die huis ingegaan en die Kindjie saam met Maria, sy moeder, gesien, en hulle het gekniel en aan Hom hulde bewys. Daarna het hulle hulle reissakke oopgemaak en vir Hom geskenke uitgehaal: goud, wierook en mirre (Matt.2:11). Wat hier van belang is, is dat Salomo in v.3 sê (en daarvoor moet ek uit die O.A.V. lees, omdat die N.A.V. ’n baie swak vertaling is) ~ U salf is aangenaam van geur, u naam is soos salf (en dan hierdie woorde) wat uitgegiet is; daarom het die jonkvroue u lief – "wat uitgegiet is" (E.S.V. = …your name is oil poured out). Met hierdie vergelyking van die beminde waar sy haar minnaar vergelyk met salf wat uitgegiet is, word ons o.a. herinner aan Jesus se majesteit – Hebr.1:9b sê ~ ...Daarom het God, u God, U onder groot vreugde tot Koning gesalf bo u tydgenote.  

Wie is die meisies in v.3, of die "jonkvroue" soos die O.A.V. na hulle verwys, of die "maagde" soos die meeste Engelse vertalings na hulle verwys? As ons na Openb.14:4 blaai, kan ons ’n antwoord op hierdie vraag kry ~ Dit is hulle wat hulle nie met vrouens besoedel het nie; hulle het kuis gebly. Hulle volg die Lam waar Hy ook al gaan. Hulle is onder die mense uit losgekoop as eerstelinge vir God en vir die Lam. ’n Duidelike verwysing dus na die Matt.5:8-gelowiges ~ Geseënd is dié wat rein van hart is, want hulle sal God sien.

In vers 4 sien ons die effek van hierdie liefdesverhouding tussen die beminde en die minnaar, of te wel Christus en die kerk. Christus trek elke gelowige nader na Hom en kan ons die intimiteit van Sy teenwoordigheid ervaar. Elke sprankie ervaring van Jesus se liefde en Sy genade, laat die liefde in die gelowige se hart toeneem en is die begeerte na die hereniging tussen die gelowige en Christus in die hemelse Koninkryk, soveel groter.

5.    DIE ONSEKER MEISIE:
Nadat die meisie en haar minnaar met mekaar gepraat het in vv.2-4, sien ons nou in vv.5-7 dat die meisie vir die eerste keer haar onsekerheid en haar vrese uitspreek. Sy is onseker oor wat die reaksie van die "dogters van Jerusalem" sal wees oor haar donker gelaatstrekke. Op die koop toe, sê sy ook nog dat haar broers vir haar kwaad is.

Sy sê in v.6 waarom sy so donker van kleur is, nl. dat haar broers haar gedwing het om in hulle wingerd te werk en daar het die son haar bruin gebrand en het sy nie genoeg tyd gehad om haarself behoorlik te versorg nie. Om dit te verstaan, moet ons ietsie van die kultuur van daardie tyd weet en dit is dat mans in daardie dae meisies met ’n ligte kompleks verkies het en verkieslik ook nog een met blonde hare – ’n donker of blas meisie was dus nie in aanvraag nie en sy voel onseker en minderwaardig, maar tog is sy beeldskoon en sy is baie deeglik bewus daarvan. Dit maak dus nie saak wat die ander meisies van haar dink nie en dit maak nie saak of haar uiterlike dalk verwaarloos is op hierdie stadium nie – feit is, sy weet dat sy mooi is, maar wat meer is, sy weet dat sy beeldskoon vir haar minnaar is.

Sy vergelyk haarself ook met die tente van Kedar. Die nomade van Kedar was afstammelinge van Ismael en het in tente van bokvel gebly – hierdie bokvelle het met die tyd saam al donkerder geword a.g.v. blootstelling aan die son en stof. Hierdie tente staan in skrille kontras met Salomo se kleurvolle en skoon paleis- en tempeldoeke.

Hoe moet ons hierdie gedeelte verstaan? Hierdie is ’n tipiese beeld wat die gelowige van homself het – ons weet dat ons gered is, maar tog aan die anderkant is ons steeds sondaars.

Ten spyte van die feit dat ons voortdurend bewus is van ons sonde, is ons terselfdertyd pynlik bewus van God se genade en vergifnis in ons lewe. Ons voel dikwels donker of duister in ons binneste en tog is ons ’n lieflike geur vir die Here Jesus. Ons word voortdurend onderwerp aan beproewing en tog stel God ons in staat om te volhard. Soms voel ons soos die tente van Kedar – vuil en swart en tog in Christus kan ons vergelyk word met die mooiste en kleurvolste doeke in Salomo se paleis en tempel – ons is, soos Paulus dit stel in Rom.13:14, ...beklee met die Here Jesus Christus... (O.A.V.).

Aan die eenkant is daar ’n gevoel van onwaardigheid en wegwerplikheid by ons as gelowiges teenwoordig en tog aan die anderkant, beskik ons oor ’n vaste wete van wie en wat ons in Christus Jesus is ~ ...ons (is) meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet (Rom.8:37).

Die meisie in ons Skrifgedeelte sê ook dat sy ten koste van haarself na haar broers se wingerde omgesien het. Ons moet so versigtig wees dat ons nie ons eie geestelike lewe afskeep ter wille van andere en allerlei programme en "geestelike aktiwiteite" nie. Ons eerste prioriteit is altyd om tyd met God te spandeer – skeep ons dit af, betaal ons die prys daarvoor. As jou eie "wingerd" afgeskeep word, groei die vuilgoed geil daarin en is die oes op die ou einde skraal tot geen.

Hierdie feit verduidelik dan ook aan ons die vraag wat die meisie in v.7 aan haar minnaar stel ~ Sê my, jy wat ek liefhet, waar laat jy jou kleinvee wei, waar laat jy hulle rus op die middag? Hoekom moet ek my agter ’n sluier wegsteek en by die veetroppe van jou vriende rondsoek? Hierdie meisie is op soek na haar geliefde – waarskynlik is sy moeg gewerk in haar broers se wingerde en vir die feit dat sy haarself te na gekom het wat haar fisiese voorkoms betref en daarom wil sy na haar minnaar gaan, sodat sy kan rus en vernuwe kan word na haar uiterlike. Sy vra na ’n geheime ontmoeting met hom, sodat sy, sy liefde en nabyheid kan ervaar, maar sy weet nie waar hy is nie en daarom vra sy spesifieke aanwysings na waar hy homself bevind, want anders sal sy haarself moet versluier en na hom gaan soek en dit was hoegenaamd nie fatsoenlik vir ’n meisie om haar geliefde te gaan opsoek nie. As sy ’n sluier dra, het dit egter ook bepaalde implikasies, want dit was hoofsaaklik prostitute wat in daardie dae sluiers gedra het (Tamar bv. in Gen.38:14-15). Sy wou nie graag ’n verleentheid vir haar geliefde wees nie en ook nie die oorsaak van die ander vroue se geskinder nie.

Hierdie meisie se fokus verskuif dus nou van arbeid in ’n wingerd onder dwang van haar broers, na die kleinvee van haar geliefde – daar waar sy eintlik wil wees.

Opregte en ware geloof sal onverpoosd die aangesig en teenwoordigheid van Christus opsoek – daar sal ’n voortdurende begeerte na gemeenskap met Hom wees. Ware geloof is nooit selfversekerd en selfgenoegsaam nie  Indien dit afwesig is, is daar vuilgoed in jou wingerd en is dit rede tot ernstige kommer. Hebr.12:1-4 moet voortdurend my leuse in hierdie geestelike wedloop op aarde wees ~ Terwyl ons dan so ’n groot skare geloofsgetuies rondom ons het, laat ons elke las van ons afgooi, ook die sonde wat ons so maklik verstrik, en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, 2die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof. Ter wille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig was, het Hy die kruis verduur sonder om vir die skande daarvan terug te deins, en Hy sit nou aan die regterkant van die troon van God. 3Hou Hom voor oë wat so ’n vyandige optrede van die sondaars teen Hom verdra het. Dan sal julle nie geestelik moeg word en uitsak nie.

6.    AFSLUITING:
Geliefdes, ons moet besef en glo dat ons in en deur die Here Jesus Christus, volmaak aanvaarbaar gemaak is vir God. Om dit te bevestig kan ons in die lig van Salomo se wysheidsliteratuur hierdie feit dat ons aanneemlik vir die Vader is, bevestig deur die woorde van die profeet Esegiël ~ Ek het jou gebad, die bloed van jou afgewas en jou met olie ingesmeer. 10Ek het vir jou ’n veelkleurige rok aangetrek en skoene van gebreide vel, Ek het vir jou klere laat dra van linne en ander kosbare stof. 11Ek het jou getooi met juwele: vir jou armbande en halssnoere aangesit, 12’n ring aan jou neus, hangertjies aan jou ore en ’n pragtige krans op jou kop. 13Jy kon jou tooi in goud en silwer, jou klee in linne, kosbare stof, veelkleurige materiaal; jou kos was fynmeel, heuning en olie. Jy het baie mooi geword, geskik om ’n koningin te wees. 14Jy het onder die nasies beroemd geword om jou skoonheid. Dit was ’n volmaakte skoonheid, die gevolg van die prag waarmee Ek jou uitgerus het,” sê die Here my God (Eseg.16:9-14).

Indien ons "wingerd" afgeskeep is, moet ons die woorde van Jer.29:10-13 as bemoediging en aanmoediging vir ons self neem ~ So sê die Here: Oor presies sewentig jaar sal Ek Babel straf en julle onder my sorg neem en dan sal Ek my belofte nakom om julle hier na Jerusalem toe terug te bring. 11Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ’n toekoms gee, ’n verwagting! 12Dan sal julle My aanroep, tot My kom bid, en ek sal julle gebede verhoor. 13Julle sal vra na my wil en julle sal dan my wil ken as julle met julle hele hart daarna vra.


[1] Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te VAALDRIEHOEK Baptiste Gemeente (Vereeniging) - Sondagoggend 18 Desember2011