Saturday 24 March 2012

Die Brief aan die Filippense - 02 (Paulus se Gebed)

1.    INLEIDING:
Ons het verlede week gesien dat Paulus vir ons in Fil1:1 leer dat die basis om vreugdevolle diensknegte van Jesus Christus te wees, is om slawe vir Christus te wees. Paulus het homself en Timoteus reg aan die begin van hierdie brief geïdentifiseer as slawe van Christus en wanneer Paulus so na homself verwys, val die klem op die "verpligte, ondergeskikte en verantwoordelike" aard van sy slaafskap – dit is m.a.w. iets wat hy geweldig ernstig en met toewyding opneem en uitleef.

Ons het ook gesien dat ’n tweede aspek van vreugdevolle diensknegskap is om ’n geheiligde in Christus Jesus te wees. Die grondbetekenis van die woord "geheilig" het ons gesien, is om "opsy gesit te wees" – die Griekse woord vir "geheiligdes" is ἅγιος (hagios) – ’n "geheiligde" is derhalwe iemand wat uitsluitlik afgesonder is, of opsy gesit is vir God.

’n Derde vereistes om ’n vreugdevolle dienskneg te wees, is om deel te wees van ’n plaaslike gemeente, waar die waarheid verkondig word [Nico van der Walt het eendag gesê: Indien jy deel is van ’n dooie gemeente, is jy deel van die oorsaak – jy moet dus toesien dat daar weer lewe kom (wat waarskynlik ’n onmoontlike taak sal wees), of jy moet deel word van ’n gemeente waar God teenwoordig is en waar daar lewe is].

Laastens het ons gesien dat vreugdevolle diensknegte, ontvangers is van God se genade en vrede. Ons het ook gesien dat hierdie genade en vrede, verwys na God se onverdiende guns wat Hy betoon aan diegene wat Sy oordeel verdien (elkeen van ons dus!) en Hy skenk dan hierdie genade aan elkeen wat besef dat hy God se oordeel verdien en wanneer die nuwe gelowige dan hierdie genade van God ervaar, sal hy vrede ervaar en elke keer wanneer ’n gelowige aan die genade dink wat God aan Hom geskenk het, ten einde hom te red, sal hy opnuut daardie vrede ervaar wat net God aan hom kan skenk.

2.    SKRIFLESING: 
Fil.1:1-11 ~ Van Paulus en Timoteus, dienaars van Christus Jesus. Aan almal in Filippi wat deur Christus Jesus aan God behoort, met hulle ouderlinge en diakens. 2Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus! 3Ek dank my God elke keer as ek aan julle dink. 4In al my gebede bid ek altyd met blydskap vir julle almal, 5omdat julle van die eerste dag af tot nou toe saamgewerk het aan die verkondiging van die evangelie. 6Ek is veral ook daarvan oortuig dat God, wat die goeie werk in julle begin het, dit end-uit sal voer en dit sal voleindig op die dag wanneer Christus Jesus kom. 7Dit is ook heeltemal reg dat ek so oor julle almal dink, omdat julle my na aan die hart lê. Julle deel immers almal saam met my in die genade wat God my gee, sowel in my gevangenskap as in my verdediging van die evangelie en die bevestiging van die waarheid daarvan. 8God is my getuie, Hy weet hoe ek na julle almal verlang met die liefde van Christus Jesus in my hart. 9Ook bid ek dat julle liefde al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling, 10sodat julle die dinge sal kan onderskei waarop dit werklik aankom. Dan sal julle op die dag wanneer Christus kom, onberispelik en sonder blaam wees, 11 en deur Jesus Christus sal julle geheel en al in die regte verhouding met God wees, tot sy lof en eer

3.    OMLYNING VAN TEKSGEDEELTE:
Die sleutelgedagte in hierdie gedeelte waarna ons vandag gaan kyk, is Paulus se gebed vir die gemeente in Filippi en die omlyning waarvolgens ek hierdie gedeelte vanoggend wil benader sien as volg daaruit:
·           Vir wie Paulus bid (vv.1-2);
·           Wanneer Paulus bid (v.3-4);
·           Waarom Paulus bid (v.5, 7-8);
·           Wat Paulus bid (vv.6, 9-11).

4.    VIR WIE PAULUS BID:
Vir wie bid Paulus dan in hierdie gedeelte? Hy bid vir die gemeente; die ouderlinge en die diakens in die gemeente. Hoe kan ek dit sê? As ons na v.3-4 kyk staan daar geskryf ~ Ek dank my God elke keer as ek aan julle dink. 4In al my gebede bid ek altyd met blydskap vir julle almal. Wie is die "almal" vir wie Pauls bid – terug na v.1 ~ Aan almal in Filippi wat deur Christus Jesus aan God behoort, met hulle ouderlinge en diakens. Hy skryf dus aan hulle wat aan God, deur Jesus Christus   behoort.

Wat hierdie gebed van Paulus so merkwaardig maak, is die feit dat hy in kettings in ’n tronk, ver van die gemeente in Filippi sit en tog dink hy aan hulle. ’n Gemeente wat hy nagenoeg 10 jaar vantevore daar geplant het – in ’n stad wat waarskynlik gemengde emosies in hom tot gevolg het, want dit is o.a. daar dat hy in hegtenis geneem is en baie geslaan is en hy in voetboeie vasgeklem was, maar dit was ook daar dat hy op wonderbaarlike wyse uit die tronk ontset is, toe ’n aardbewing die stad geruk het; dit was daar dat Lidia en ook die tronkbewaarder tot bekering gekom het. Hy sit egter nou weer in die tronk en nogtans dink hy aan hierdie gemeente en hy skryf aan hulle om vir hulle te sê dat hy vir hulle bid.

Hierdie wete dat Paulus vir hulle as gemeente bid, moes baie vreugde aan hulle verskaf het en besef hulle dat al het daar reeds nagenoeg 10 jaar verloop sedert hy die gemeente geplant het, hy nog steeds in liefde aan hulle dink.

Die vraag wat ons moet beantwoord, is of ons ook ten spyte van ons omstandighede, steeds aan andere dink en vir hulle bid, of is ons gebede so selfgesentreerd dat ons nie intree by die Here vir ander nie? Paulus stel hier vir ons ’n voorbeeld dat ons ten spyte van ons omstandighede, vir die gemeente – vir mekaar en vir ander moet bid.

5.    WANNEER PAULUS BID:
Paulus gaan in v.3 voort en hy sê in sy brief dat wanneer hy bid, hy God dank, elke keer as (hy) aan (hulle) dink. Paulus moes baie goeie herinneringe aan hierdie gemeente gehad het en elke lidmaat moes hom baie na aan die hart gelê het en dit is duidelik dat hier ’n besondere band tussen Paulus en die gemeente was. Hierdie was egter nie die enigste gemeente met wie Paulus ’n besondere verhouding gehad het nie – ons sien bv. in 1Tes5:6 dat hy ook so oor die gemeente in Tessalonika gevoel het. In Rom.1:9 skryf hy ook aan die gemeente in Rome, dat hy gedurig dink aan hulle in sy gebede. In Ef.1:16 sien ons dat dit ook die geval met die gemeente in Efese is, ens. Die punt is, dat hy voortdurend en gereeld bid vir diegene met wie hy verhoudinge het.

Wat waarskynlik die mees prominente van hierdie vers is, is die vreugde wat weerspieël word. Paulus is in kettings in ’n gevangenis en tog leer hy ons om vol vreugde te wees ten spyte van ons omstandighede. Vreugde, weet ons, is een van die Vrugte van die Gees en dit is daarom ’n eienskap wat in God gevestig is, eerder as wat dit op ons emosies en menslike gevoelens gebaseer is.

As ons kyk na verse soos bv. Hand.2:46; 8:8 en 15:3, sien ons dat vreugde een van die eienskappe van die vroeë Nuwe Testamentiese kerk was – bv. ~ Die gelowiges in Antiogië was vol blydskap en vol van die Heilige Gees (Hand.13:52). Die gemeente in Filippi het ewe eens vir Paulus vervul met vreugde – ons sien dit reg deur die brief (bv.1:18,19; 25;,26; 2:2, 17, 18, 29; 3:1; 4:4, 10)

Ons sien dus dat Paulus tydig en ontydig, voorbidding doen vir almal met wie hy verhoudinge het – hy doen dit elke keer dat hy aan hulle dink.

Daar is baie mense wat sê dat hulle vir spesifieke persone bid wanneer hulle gelei voel om vir daardie persone te bid – die probleem met so ’n standpunt is dat ons "geestelikheid" en ons gevoelens kom en gaan. Dit is dan ook nié wat Paulus vir ons hier leer nie – nee, hy leer ons dat ons voortdurend vir almal moet bid. Paulus het ten spyte van sy besige lewe en ten spyte van sy omstandighede voortdurend vir andere gebid en in Filippi se geval (ons kan aanvaar dat dit ook die geval met ander gemeentes en individue was) sê hy uitdruklik dat hy vir almal bid – hy moes dus elke lidmaat by die naam genoem het en vir elkeen persoonlik gebid het. Ons moet van Paulus leer in hierdie geval en ons moet die goeie gewoonte aanleer om ook vir ons geliefdes, vriende, kenisse, broers en susters, by die naam te bid. Geliefdes, ons moet leer dat gebed nie ’n gesprek is waar ons onophoudelik en aanmekaar moet of hoef te praat nie – daar kan ook stiltes tussenin wees – wees rustig en oordink elke naam en dink (en vra die Heilige Gees) wat jy vir elke persoon spesifiek kan bid en bid dan.

Wanneer Paulus bid sien ons ook dat hy dit met vreugde doen, want vreugde is, soos reeds gesê, een van die Vrugte van die Gees en dit is die Gees van die Here wat hom aanspoor om te bid. Elkeen van ons wat Christus eerste plaas in ons lewe, sál hierdie vrug van vreugde in ons binneste dra en sál daarom met vreugde intree vir andere. 

6.    WAAROM PAULUS BID:
In die geval van die gemeente in Filippi was daar spesifieke redes waarom Paulus vir hulle bid en ons vind dit in vv.5,7-8.
·           Eerstens dink Paulus aan die gemeente se ondersteuning en samewerking t.o.v. die uitdra van die Blye Boodskap ~ ... omdat julle van die eerste dag af tot nou toe saamgewerk het aan die verkondiging van die evangelie (v.5). Dit is ook heeltemal reg dat ek so oor julle almal dink, omdat julle my na aan die hart lê. Julle deel immers almal saam met my in die genade wat God my gee, sowel in my gevangenskap as in my verdediging van die evangelie en die bevestiging van die waarheid daarvan. 8God is my getuie, Hy weet hoe ek na julle almal verlang met die liefde van Christus Jesus in my hart. Daar bestaan gewoonlik ’n baie dieper gewaarwording van eenheid en lojaliteit wanneer mense saam die Evangelie verkondig en hierdie gelowiges het saam met hom in die voorste linies geveg in die verkondiging van die Evangelie en met entoesiasme en oorgawe saam met Paulus gearbei, van ’n situasie wat daar geen gemeente was nie, totdat daar ’n gevestigde gemeente in die stad was.
·           Wanneer mense so saamwerk aan ’n gemeenteplanting, kan dit nie anders as dat daar ’n baie nou band tussen die individue ontstaan nie en daarom lê hierdie mense, Paulus baie na aan die hart en dit is ’n tweede rede waarom Paulus vir hulle bid.  

Die voorbeeld van hierdie eerste eeu se gemeente plaas ons as gemeente, soos die Engelse sal sê, "on the spot" – dit ontbloot en konfronteer ons pynlik en direk – hierdie is dan ook in lyn met wat ons as gemeente, n.a.v. die prediking oor die Sewe Gemeentes in Openbaring, geïdentifiseer het as leemte in óns midde en iets waarom Christus ons sou aanspreek as daar ook ’n brief destyds in die posman se possak was, wat aan ons geadresseer sou gewees het en daarom moet ons werklik erns maak (soos wat ons van plan is om te doen) met hierdie voorbeeld wat Filippi aan ons stel en wat, ek glo, die Heilige Gees vir ons vanuit Openbaring aangetoon het – ons as gemeente móét meer aandag skenk aan ons betrokkenheid by die uitdra van die Evangelie. 
·           Daar was heelwat van die mense in die gemeente wie Paulus waarskynlik self geëvangeliseer het en dit is nog ’n rede waarom hierdie mense Paulus besonder na aan die hart lê en dit verbly sy hart om te sien hoe hierdie "dissipels van hom" voortgaan om die Evangelie aan andere uit te dra – daar is min dinge wat ’n mens soveel vreugde verskaf as om vrug op jou arbeid te sien en Paulus bid vir hierdie dierbare broers en susters in Christus.

7.    WAT PAULUS BID:
Ons het tot nou gesien vir wie Paulus gebid het en wanneer hy gebid het, maar ook waarom hy vir hulle gebid het – hy het m.a.w. ’n pragtige voorbeeld aan ons gestel oor voorbidding vir andere – die vraag is egter wat het hy vir hulle gebid – of anders gestel, wat moet ons vir andere bid wanneer ons bid?
·           In v.6 bid Paulus vir die voleinding van die goeie werk wat God in elke gelowige se lewe begin het. Met ander woorde, hy bid dat elkeen sal volhard tot die einde toe, wanneer Christus weer sal kom. Die enigste rede waarom ons as gelowiges kan volhard op hierdie geestelike pad, is omdat God aan die werk is in ons. Sonder God in ons lewe, sal en kan ons nie volhard op hierdie geestelike pad nie. Joh.15:5 stel dit baie mooi ~ Ek is die wingerdstok, julle die lote. Wie in My bly en Ek in hom, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie. Paulus herinner die gemeentelede daaraan dat hulle volharding nie in Paulus se arbeid geleë is nie, maar beslis ook nie in hulle eie pogings nie – dit is slegs God, wat die goeie werk in hulle lewes begin het, wat dit kan voleindig en daarom moet ons gebede vir onsself en vir mekaar, om op hierdie pad van heiligmaking te volhard, tot God gerig wees. En geliefdes, God is getrou – wanneer ons bid vir hierdie voleinding van die werk wat Hy begin het, sál Hy dit doen, omdat Christus Jesus aan die kruis uitgeroep het ~ τελέω (teleō)...dit is volbring (Joh.19:30)! Jesus belowe self in Matt.28:20 dat Hy altyd met ons sal wees – tot die einde toe! Ook in Jos.1:5 sê die Here ~ ... Soos Ek by Moses was, so sal Ek by jou wees. Ek sal jou nie in die steek laat nie, jou nie verlaat nie. Paulus gaan later in 2:13 op hierdie tema voort borduur.
·           In v.9 bid Paulus dat die liefde wat reeds in die lewe van die gemeente bespeur kan word, sal toe neem. Die O.A.V. stel dit korrek wanneer dit lees ~ En dit bid ek dat julle liefde nog meer en meer oorvloedig mag word in kennis en alle ervaring. Hoor u wat hy sê? Hy sê ~ En dit bid ek dat julle liefde nog meer en meer oorvloedig mag. Die implikasie is dus dat hulle reeds beskik oor liefde vir mekaar en deur erkenning daaraan te  gee en hulle te komplimenteer daarvoor, moedig Paulus hulle nou aan om hierdie liefde nog meer te laat groei.

Hy bid egter nie nét dat dit sal toeneem nie, maar dat dit sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling. Die enigste manier vir die gemeente om mekaar op ’n Bybelse wyse lief te hê, is gebaseer op hul kennis en dan spesifiek op ’n groeiende kennis van die Woord van God. Ons tref hierdie selfde gedagte aan in Kol.1:9 waar Paulus sê ~ Daarom, van die dag af dat ons dit van julle gehoor het, hou ons ook nie op om vir julle te bid nie. Ons vra God dat Hy deur al die wysheid en insig wat die Gees gee, julle sy wil duidelik sal laat ken. Hier bid Paulus en hy vra dat die gemeente in Kolosse, ’n diep geestelike insig en begrip in die Woord van God sal verkry, wat weer daarop sal uitloop dat hulle die diepte en wydte en hoogte van God se liefde sal verstaan en sal uitleef – mekaar dus op dieselfde wyse lief sal hê.

Hy bid egter ook dat hierdie liefde in fyn aanvoeling sal groei. Liefde wat ongevoelig is – liefde wat nie andere se gevoelens in ag neem nie, is nie liefde nie. Dit is interessant dat die Griekse woord vir fyn aanvoeling, αἴσθησις (aisthēsis) is en dit kan in Afrikaans vertaal word met "onderskeiding" (sien E.S.V. en N.K.J.V.). Ons hoor al meer en meer in ons dag dat mense gelowiges beskuldig van liefdeloosheid, wanneer ons iemand bv. sal veroordeel wat aborsie goedkeur – die probleem is dat sulke mense "liefde" gebruik of misbruik om sonde toe te smeer en te regverdig en Paulus brei hierop uit, wanneer hy in v.10 sê dat hy bid dat sy broers en susters in Filippi, ...die dinge sal kan onderskei waarop dit werklik aankom.

Paulus bid dus dat hulle liefde vir mekaar sal voortspruit uit kennis van God se Woord, maar dat hierdie liefde egter ook gepaard sal gaan met onderskeiding, of soos die N.A.V. dit stel, "fyn aanvoeling". Om liefdevol op te tree, is om die regte ding te doen en daarom kan ons nie sonde lief hê nie – ons as gelowiges moet dus onderskei tussen wat reg en verkeerd is en dit wat verkeerd is mag ons nie lief hê nie en wanneer iemand anders in sonde is, moet ons daardie sonde veroordeel (nie die persoon nie) en nie die persoon maar net onvoorwaardelik lief hê ten spyte van sy sonde nie – want dit is nou kwansuis sy reg om sus of so op te tree nie.

Rom.2:18 is hier ’n pragtige toepassing van hierdie twee beginsels ~ ...jy ken sy wil en jy onderskei die dinge waar dit werklik op aankom, omdat jy deur die wet onderrig word. Hier is dus sprake van beide kennis en onderskeiding en dit is dan hoe ons liefde daaruit moet sien – gedryf deur kennis, maar met onderskeiding as riglyn.
·           In v.10b bemoedig Paulus die gemeente deur vir hulle te sê dat indien hulle op hierdie wyse liefhet, hulle ...op die dag wanneer Christus kom, onberispelik en sonder blaam (sal) wees, maar nie net sal hulle onberispelik en sonder blaam voor Christus staan wanneer Hy kom nie, hulle sal ook, volgens v.11, ...geheel en al in die regte verhouding met God wees, tot sy lof en eer. Die O.A.V. stel dit pragtig, julle sal ...vervul (wees) met die vrug van geregtigheid wat daar is deur Jesus Christus tot heerlikheid en lof van God.

Paulus sê nie alleen dat indien hulle mekaar op die regte wyse lief het (met kennis en onderskeiding) en daardie liefde groei, hulle vervul sal wees met die vrug van geregtigheid nie – hy bíd ook dat hulle vervul sal wees met die vrug van geregtigheid. Wat beteken dit – wat beteken dit om vervul te wees met die vrug van geregtigheid? Dit beteken dat jy in Jesus Christus ingeplant sal wees en dan sal die "vrug van geregtigheid", of te wel die bewys dat jy gered en wederbaar is, in die vorm van die Vrug van die Gees in en deur jou lewe sigbaar wees. Wat is hierdie vrug? Gal.5:22-23 ~ Die vrug van die Gees..., ...is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, 23nederigheid en selfbeheersing. Paulus bid m.a.w. dat sy broers en susters se lewe in opregtheid deurspek sal wees van die Vrug van die Gees, omdat hulle in die regte verhouding met God die Vader staan – Joh.15:4a stel dit uitstekend ~ Julle moet in My bly en Ek in julle. Om in Christus te wees, sal tot gevolg hê dat die Vrug van die Gees in jou lewe teenwoordig sal wees en dit kan nie deur jouself "opgeklits" word nie, want, soos wat Johannes voortgaan in Joh.15:4 ~ ...’n Loot kan nie uit sy eie vrugte dra as hy nie aan die wingerdstok bly nie; en so julle ook nie as julle nie in My bly nie.

8.    AFSLUITING:
Geliefdes, ons kan baie meer oor gebed sê en daar is al boek op boek deur die eeue heen geskryf oor hierdie onderwerp, maar Paulus spreek hier in Fil.1, ’n kosbare faset van gebed aan en dan spesifiek t.o.v. gebed vir ons medegelowiges.

Ons het gesien dat hy tydig en ontydig voorbidding doen vir almal met wie hy verhoudinge het – hy doen dit elke keer as hy aan hulle dink.

Ons moet vir mekaar bid en van die Here vra dat Hy die goeie werk wat Hy in ons begin het, sal voleindig op die dag dat Hy weer sal kom – m.a.w. ons moet bid dat die Here sal voortgaan om ons te laat groei op daardie pad van heiligmaking waarmee hy in elkeen van ons begin het, toe Hy ons wederbaar het en Hy moet daarmee aanhou, tot en met Sy wederkoms.

Ons moet ook bid dat elkeen van ons sal toeneem in liefde en onderskeiding, sodat ons sal weet waarop dit werklik aankom.

Laastens moet ons vir mekaar bid en vra dat elkeen van ons gevul sal wees met die vrug van geregtigheid.

Waarom moet ons dit alles vir mekaar bid? Sodat dit goed kan gaan met ons? Sodat andere geseën kan word deur ons? Sodat....? Nee, in die laaste woorde van v.11, sodat dit alles kan wees ~ ... tot heerlikheid en lof van God.

[1]Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te VAALDRIEHOEK Baptiste Gemeente (Meyerton) - Sondagoggend  25 Maart 2012

Die Brief aan die Filippense - 01 (Paulus se Gebed)

1.    INLEIDING:
Ons het verlede week gesien dat Paulus vir ons in Fil1:1 leer dat die basis om vreugdevolle diensknegte van Jesus Christus te wees, is om slawe vir Christus te wees. Paulus het homself en Timoteus reg aan die begin van hierdie brief geïdentifiseer as slawe van Christus en wanneer Paulus so na homself verwys, val die klem op die "verpligte, ondergeskikte en verantwoordelike" aard van sy slaafskap – dit is m.a.w. iets wat hy geweldig ernstig en met toewyding opneem en uitleef.

Ons het ook gesien dat ’n tweede aspek van vreugdevolle diensknegskap is om ’n geheiligde in Christus Jesus te wees. Die grondbetekenis van die woord "geheilig" het ons gesien, is om "opsy gesit te wees" – die Griekse woord vir "geheiligdes" is ἅγιος (hagios) – ’n "geheiligde" is derhalwe iemand wat uitsluitlik afgesonder is, of opsy gesit is vir God.

’n Derde vereistes om ’n vreugdevolle dienskneg te wees, is om deel te wees van ’n plaaslike gemeente, waar die waarheid verkondig word [Nico van der Walt het eendag gesê: Indien jy deel is van ’n dooie gemeente, is jy deel van die oorsaak – jy moet dus toesien dat daar weer lewe kom (wat waarskynlik ’n onmoontlike taak sal wees), of jy moet deel word van ’n gemeente waar God teenwoordig is en waar daar lewe is].

Laastens het ons gesien dat vreugdevolle diensknegte, ontvangers is van God se genade en vrede. Ons het ook gesien dat hierdie genade en vrede, verwys na God se onverdiende guns wat Hy betoon aan diegene wat Sy oordeel verdien (elkeen van ons dus!) en Hy skenk dan hierdie genade aan elkeen wat besef dat hy God se oordeel verdien en wanneer die nuwe gelowige dan hierdie genade van God ervaar, sal hy vrede ervaar en elke keer wanneer ’n gelowige aan die genade dink wat God aan Hom geskenk het, ten einde hom te red, sal hy opnuut daardie vrede ervaar wat net God aan hom kan skenk.

2.    SKRIFLESING: 
Fil.1:1-11 ~ Van Paulus en Timoteus, dienaars van Christus Jesus. Aan almal in Filippi wat deur Christus Jesus aan God behoort, met hulle ouderlinge en diakens. 2Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus! 3Ek dank my God elke keer as ek aan julle dink. 4In al my gebede bid ek altyd met blydskap vir julle almal, 5omdat julle van die eerste dag af tot nou toe saamgewerk het aan die verkondiging van die evangelie. 6Ek is veral ook daarvan oortuig dat God, wat die goeie werk in julle begin het, dit end-uit sal voer en dit sal voleindig op die dag wanneer Christus Jesus kom. 7Dit is ook heeltemal reg dat ek so oor julle almal dink, omdat julle my na aan die hart lê. Julle deel immers almal saam met my in die genade wat God my gee, sowel in my gevangenskap as in my verdediging van die evangelie en die bevestiging van die waarheid daarvan. 8God is my getuie, Hy weet hoe ek na julle almal verlang met die liefde van Christus Jesus in my hart. 9Ook bid ek dat julle liefde al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling, 10sodat julle die dinge sal kan onderskei waarop dit werklik aankom. Dan sal julle op die dag wanneer Christus kom, onberispelik en sonder blaam wees, 11 en deur Jesus Christus sal julle geheel en al in die regte verhouding met God wees, tot sy lof en eer. 

3.    OMLYNING VAN TEKSGEDEELTE:
Die sleutelgedagte in hierdie gedeelte waarna ons vandag gaan kyk, is Paulus se gebed vir die gemeente in Filippi en die omlyning waarvolgens ek hierdie gedeelte vanoggend wil benader sien as volg daaruit:
·           Vir wie Paulus bid (vv.1-2);
·           Wanneer Paulus bid (v.3-4);
·           Waarom Paulus bid (v.5, 7-8);
·           Wat Paulus bid (vv.6, 9-11).

4.    VIR WIE PAULUS BID:
Vir wie bid Paulus dan in hierdie gedeelte? Hy bid vir die gemeente; die ouderlinge en die diakens in die gemeente. Hoe kan ek dit sê? As ons na v.3-4 kyk staan daar geskryf ~ Ek dank my God elke keer as ek aan julle dink. 4In al my gebede bid ek altyd met blydskap vir julle almal. Wie is die "almal" vir wie Pauls bid – terug na v.1 ~ Aan almal in Filippi wat deur Christus Jesus aan God behoort, met hulle ouderlinge en diakens. Hy skryf dus aan hulle wat aan God, deur Jesus Christus   behoort.

Wat hierdie gebed van Paulus so merkwaardig maak, is die feit dat hy in kettings in ’n tronk, ver van die gemeente in Filippi sit en tog dink hy aan hulle. ’n Gemeente wat hy nagenoeg 10 jaar vantevore daar geplant het – in ’n stad wat waarskynlik gemengde emosies in hom tot gevolg het, want dit is o.a. daar dat hy in hegtenis geneem is en baie geslaan is en hy in voetboeie vasgeklem was, maar dit was ook daar dat hy op wonderbaarlike wyse uit die tronk ontset is, toe ’n aardbewing die stad geruk het; dit was daar dat Lidia en ook die tronkbewaarder tot bekering gekom het. Hy sit egter nou weer in die tronk en nogtans dink hy aan hierdie gemeente en hy skryf aan hulle om vir hulle te sê dat hy vir hulle bid.

Hierdie wete dat Paulus vir hulle as gemeente bid, moes baie vreugde aan hulle verskaf het en besef hulle dat al het daar reeds nagenoeg 10 jaar verloop sedert hy die gemeente geplant het, hy nog steeds in liefde aan hulle dink.

Die vraag wat ons moet beantwoord, is of ons ook ten spyte van ons omstandighede, steeds aan andere dink en vir hulle bid, of is ons gebede so selfgesentreerd dat ons nie intree by die Here vir ander nie? Paulus stel hier vir ons ’n voorbeeld dat ons ten spyte van ons omstandighede, vir die gemeente – vir mekaar en vir ander moet bid.

5.    WANNEER PAULUS BID:
Paulus gaan in v.3 voort en hy sê in sy brief dat wanneer hy bid, hy God dank, elke keer as (hy) aan (hulle) dink. Paulus moes baie goeie herinneringe aan hierdie gemeente gehad het en elke lidmaat moes hom baie na aan die hart gelê het en dit is duidelik dat hier ’n besondere band tussen Paulus en die gemeente was. Hierdie was egter nie die enigste gemeente met wie Paulus ’n besondere verhouding gehad het nie – ons sien bv. in 1Tes5:6 dat hy ook so oor die gemeente in Tessalonika gevoel het. In Rom.1:9 skryf hy ook aan die gemeente in Rome, dat hy gedurig dink aan hulle in sy gebede. In Ef.1:16 sien ons dat dit ook die geval met die gemeente in Efese is, ens. Die punt is, dat hy voortdurend en gereeld bid vir diegene met wie hy verhoudinge het.

Wat waarskynlik die mees prominente van hierdie vers is, is die vreugde wat weerspieël word. Paulus is in kettings in ’n gevangenis en tog leer hy ons om vol vreugde te wees ten spyte van ons omstandighede. Vreugde, weet ons, is een van die Vrugte van die Gees en dit is daarom ’n eienskap wat in God gevestig is, eerder as wat dit op ons emosies en menslike gevoelens gebaseer is.

As ons kyk na verse soos bv. Hand.2:46; 8:8 en 15:3, sien ons dat vreugde een van die eienskappe van die vroeë Nuwe Testamentiese kerk was – bv. ~ Die gelowiges in Antiogië was vol blydskap en vol van die Heilige Gees (Hand.13:52). Die gemeente in Filippi het ewe eens vir Paulus vervul met vreugde – ons sien dit reg deur die brief (bv.1:18,19; 25;,26; 2:2, 17, 18, 29; 3:1; 4:4, 10). 