Sunday 29 January 2012

Sewe Briewe aan Sewe Gemeentes - 03 (Die Gemeente in Pergamum)

1.         INLEIDING:
Ons het met die vorige twee gemeentes in Openb.2 gesien, dat daar ’n algemene patroon in die struktuur van elk van die sewe briewe in Openb.2 en 3 voorkom:
·          Elke brief is deur Christus aan ’n spesifieke gemeente gerig.
·          Elke brief stel die Hoof van die plaaslike gemeente (Christus Jesus) voor as ’n spesifieke karakter, of beeld.
·          Elke brief onthul ondubbelsinnig dat Christus oor volkome kennis beskik t.o.v. die toestand van daardie spesifieke gemeente.
·          Met die uitsondering van een gemeente, ontvang elke gemeente een of meer lofuitinge of aanprysinge.
·          Met die uitsondering van twee gemeentes, ontvang elke gemeente kritiek of een of meer bestraffinge oor een of meer situasie(s) wat in die gemeente bestaan.
·          Elke gemeente ontvang ten minste ’n vermaning en daarmee saam gee Christus raad aan hulle.
·          Elke gemeente ontvang een of ander belofte t.o.v. getrouheid.

Die briewebesteller wat die sewe briewe uitgedra het, waarmee ons in Openbaring 2 en 3 te doen kry, het nou sy reis wat by die hawestad Milete begin het, oor land verder hervat en hy het noordwaarts gereis om sy derde brief aan die herder van die plaaslike gemeente te gaan oorhandig.

2.      DIE GEMEENTE IN PERGAMUM (2:12-17):
·               Die Geadresseerde Gemeente: 
Openb.2:12 ~ Skrywe aan die leraar van die gemeente in Pergamum, of soos in die O.A.V. genoem, Pérgamus.  Die toestand in Pergamum was heeltemal anders as in die vorige twee stede waar die briewebesteller reeds aangedoen het, nl. Efese en Smirna. Pergamum was die Romeinse hoofstad in
-
Klein-Asië. Dit was ook gesien as ’n akademiese stad, wat beskik het oor ’n baie groot biblioteek. Ongelukkig was hierdie ook ’n stad wat bekend gestaan het as die setel van paganistiese (of heidense) aanbidding. Die god van genesing is o.a. hier aanbid (slang wat gevleg is om staf = Mediese Vereniging van S.A. se embleem, asook die S.A. Militêre Gesondheidsdienste – die S.A.W. Mediesekorps). Keiseraanbidding was ook sterk aan die orde van die dag. Hierdie was dan ook die eerste stad in Asië wat ’n tempel ter ere van die keiser (Caesar) opgerig het.

·                    Die Beeld van Christus:
Openb.2:12b ~ So sê Hy wat die skerp swaard met die twee snykante het. Die Here Jesus identifiseer Homself hier op ’n baie eienaardige wyse – ’n tweesnydende swaard, of ’n dodelike swaard! Net by die aanhoor van hierdie bekendstelling van Christus klink dit asof hier slegte nuus of minder goeie kommentaar, aan die kom is en ’n mens kan maar net wonder of  hier ’n oordeel uitgespreek gaan word. Ek dink dat ons ’n aanduiding kry van wat aan die kom is, deur die besonderse beskrywing van hierdie swaard.

Ons sien in Openb.1:16 dat hierdie swaard uit Christus se mond kom ~ In sy regterhand het Hy sewe sterre gehad, en ’n skerp swaard met twee snykante het uit sy mond uit gekom.  Hierdie swaard het dus beslis iets te doen met wat gesê gaan word in hierdie brief. Die swaard in hierdie geval, is dus Christus se kragtige Woord soos beskryf in Ef.6:17 ~ Sit verlossing as helm op en vat die swaard van die Gees, dit is die woord van God

Waarskynlik ’n nóg beter beskrywing van die Woord van God, vind ons in Hebr.4:12 ~ Die woord van God is lewend en kragtig. Dit is skerper as enige swaard met twee snykante en dring deur selfs tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg. Dit beoordeel die bedoelings en gedagtes van die hart.  Ook 2Kor.10:4-5 ~ Die wapens van ons stryd is nie die wapens van die mens nie, maar die kragtige wapens van God wat vestings kan vernietig. Daarmee vernietig ons die redenasies 5 en elke hooghartige aanval wat teen die kennis van God gerig word. Ons neem elke gedagte gevange om dit aan Christus gehoorsaam te maak. Hierdie swaard is dus baie, baie skerp – meer nog: dit het twee sulke skerp kante – dit spreek dus van verwoestende onoorwinlikheid! Soos wat Jes.55:11 tereg ook sê ~ So sal die woord wat uit my mond kom, ook wees: dit sal nie onverrigter sake na My toe terugkeer nie, maar dit sal doen wat Ek gedoen wil hê en tot stand bring waarvoor Ek dit gestuur het. Ons sien dus dat hierdie swaard se eenkant, oortuig van sonde en die anderkant verskaf vrede; die eenkant verskeur die sluier wat ons sonde vir onsself bedek; terwyl die anderkant verskeur die sluier wat Christus vir ons verberg, sodat ons Hom kan sien; die eenkant verwond die siel; die ander vestig ons aandag op die Groot Geneesheer en laat die helende balsem oor ons verwonde siele spoel.

Die feit dat hier in die enkelvoud gepraat word (die skerp  swaard), dui daarop dat daar net een gesaghebbende swaard is – net die Woord van God is dus gesaghebbend. Alle ander geskrifte is dus nié deur God geïnspireer nie.

·          Christus se Aanprysing:

As ons verder na hierdie gemeentebrief kyk en dan spesifiek onder die opskrif, "Christus se aanprysing", sien ons dat die adres op die koevert van hierdie brief dus ewe maklik as volg kon gelees het: Aan die gemeente van Christus, naas die troon van die satan, Pergamum. Uit hierdie vers blyk dit duidelik, dat Christus in hierdie vers te kenne gee dat Hy minstens twee dinge van hierdie gemeente weet:
-        Hy weet presies waar hierdie gemeente geleë is en hoe die omgewing, die mense en die geestelike klimaat van die stad daaruit sien. Dit mag dalk vir ons vreemd voorkom dat Satan oor aardse trone beskik, maar ons moet in gedagte hou dat hy die god van hierdie wêreld is en in hierdie koninkryk van hom, het hy baie onderdane. Onder hierdie onderdane is daar soveel wat so fanaties lojaal is aan hom, dat hulle enige iets sal doen om sy plan ten uitvoer te bring. Die plek waar sulke mense saamgevoeg word – of dit nou in besighede is, of sosiale klubs, casino’s, bordele, bendes, terroristegroepe, of waar ook al; dáár is Satan se troon. Enige groepering van mense wat ’n bose oogmerk het, kwalifiseer om ’n vesting vir die satan te wees.

Dit is egter die twee praktyke van afgodery wat ons reeds genoem het (die aanbidding van die god van genesing en die keiserlike aanbidding), wat hierdie stad by uitstek laat kwalifiseer het as ’n vesting of troonkamer vir die satan, want dit is beide mens (die keiser) en die satan (slang as simbool van satan) wat hier aanbid is. ’n Meer dodelike kombinasie van aanbidding (mens en satan), kan daar nie wees nie. Dit is dan spesifiek hierdie twee vorme van afgodery wat Pergamum uitnemend laat kwalifiseer as “troon van Satan”.

Christus het geweet dat hierdie afgodsentrum uiters korrup kan inwerk op die inwoners van die stad, maar ook op die gelowiges in Pergamum. En op grond daarvan kom Christus en Hy prys die gemeente aan vir die feit dat hulle, hulself daarvan weerhou om deel uit te maak van hierdie bose aktiwiteite. Deur hierdie situasie kan ons ook leer dat ons geen verskoning het om kompromie te maak met ons geloof en ons oortuigings wat gegrond is op die Woord, wanneer ons in ’n omgewing beweeg, vakansie hou, werk ens., waar mense besig is met goddelose praktyke nie – ons moet, soos die gemeente in Pergamum,  getrou bly aan die Naam van Jesus Christus en nie ons geloof in Hom, afsweer nie....

-        Tweedens is Christus baie deeglik bewus van die gemeente se standvastigheid ten spyte van fel vervolging teen hulle. ’n Gemeente wat getrou bly aan hulle roeping en gehoorsaamheid aan God gaan noodwendig die spot en die hoon en die vervolging van die wêreld ervaar – veral ’n wêreld waar afgodery baie sterk aangehang word. Christus prys hierdie gemeente juis vir die feit dat hulle te midde van geweldige vervolging, steeds “die pad loop”. As voorbeeld van hulle gehoorsaamheid, maar ook waardeur hulle gaan, en die prys wat hulle daarvoor betaal, word Antipas (waarskynlik ’n getroue lidmaat) as voorbeeld genoem wat gesterf het vir sy geloof en oortuigings en getuienis. Die gemeente in Pergamum het voorwaar aanprysing nodig gehad, maar ook verdien.

·          Christus se Bestraffing:
Openb.2:14-15 ~ Maar Ek het ’n paar dinge teen julle. Julle het mense daar wat die leer van Bileam aanhang. Hy het vir Balak geleer om die volk Israel van My afvallig te maak, sodat
hulle afgodsoffervleis geëet en onsedelikheid bedrywe het. 15 So is daar onder julle dan ook mense wat die leer van die Nikolaïete aanhang en dieselfde sondes doen.

Alhoewel Christus die gemeente aangeprys het, was hulle nogtans skuldig aan ’n paar dinge. En al was dit net ’n paar dinge, was dit nogtans ernstige oortredings. Eerstens het hulle mank gegaan onder ’n gebrek aan leerstellige (of dogmatiese) onderskeiding en tweedens was hulle laks in die toepassing van die tug in hulle midde.

Wanneer ons oppervlakkig na verse 14 en 15 kyk, kan dit lyk asof daar twee teologiese of dogmatiese strominge in die gemeente toegelaat is – dié van die Bileamiete en dié van die Nikolaïete. Die taalkonstruksie van die verse laat dit egter lyk asof dit twee verskillende groeperinge is wat hul stempel afgedruk het op die gemeente, maar as ons die verse parafraseer, sal dit waarskynlik help om die betekenis van die oënskynlik twee groepe, beter te verstaan – Dit is omdat julle verdraagsaam is t.o.v. die leer van Bileam, dat julle die Nikolaïete in julle midde verduur.   Die gedagte van hierdie verse kan dus óf histories, óf kontemporêr geïnterpreteer word. Histories:  Daar bestaan ’n genetiese identiteit tussen die dwaalleer van Bileam en dié van die Nikolaïete – beide behoort dus tot presies dieselfde soort dwaalleer.

Wat dit egter ook kan beteken is, kontemporêr geïnterpreteer, dat die een dwaalleer so sterk is, dat as jy eers daarvoor “geval” het, die ander een nie weerstaan kan word nie.  In wese beteken hierdie twee benaderings egter op die ou einde presies dieselfde ding.

Wat was die leer van Bileam dan? Tyd ontbreek ongelukkig om in detail daarop in te gaan, maar u kan gerus Num.22-25 gaan lees om meer te wete te kom van die bediening van hierdie eienaardige profeet. In kort kan ons egter sê dat die aangrensende Moabiete, die Israeliete gevrees het, waarop koning Balak van Moab die profeet Bileam in diens geneem het om vloeke oor Israel uit te spreek, ten einde die Israelitiese weermag te verswak ens. God het egter nie toegelaat dat Bileam se vloeke enige effek het nie, trouens Hy dwing Bileam om Israel elke keer te seën wanneer hy veronderstel was om hulle te vervloek. Bileam het egter teen betaling voortgegaan en meegehelp om Israel se sedes só te ondermyn, dat hulle die gramskap van God op die hals gehaal het en hulle uiteindelik tog tot ’n val gekom het.

In kort kom die leer van Bileam dus daarop neer, dat die aanhangers van Bileam so mislei word dat hulle sondig, deurdat hulle vrees vir en skuld oor sonde en die gepaardgaande straf daarop, net verdwyn en hulle geestelike groei derhalwe belemmer word. Dit opsigself lei dus logieserwys tot verdere sonde, wat selfs afgodediens en seksuele immoraliteit ingesluit het.

Wanneer ons na Christus se aanprysing kyk en dit vergelyk met wat so pas gesê is t.o.v. die leer van Bileam, dan maak dit amper nie sin nie, want sekerlik moes die “Pergamiete” tog die verskil gesien het as hulle so sterk gestaan het wat hul leer en lewe betref. Die probleem is egter dat hierdie leer van Bileam só subtiel was dat dit baie moeilik onderskei kon word.  Hoe het dit gebeur?  Die teologiese benadering van die leerstellinge van Bileam was om Goddelike genade teenoor die mens se verantwoordelikheid te verabsoluteer, m.a.w. daar is geleer dat wanneer jy ’n kind van die verbond is, jy genoegsaam geïsoleer word teen sonde en enige vorm van boosheid. Genade immuniseer dus die gelowige teen die skadelike effekte van  allerlei sondige plesiere.

Gelowiges, so het die Bileamiete geleer, is vry om die lewe te geniet saam met hulle goddelose bure, terwyl en solank hulle onder die verbond staan. As sout en lig is gelowiges in elk geval verplig om ten volle betrokke te wees by die wêreld, want sout raak nooit laf as dit op vleis ingevryf word nie. Wat meer is, so het hulle geredeneer, diegene wat gereeld betrokke is by wêreldse aktiwiteite, bekom meer en meer kennis en bekwaamhede om mense in die wêreld te help. Dít is in kort wat die teologie van Bileam gekenmerk het.

Alhoewel dit nie wil voorkom asof die meerderheid van die  lidmate van Pergamum self skuldig gestaan het wat hierdie misleiding aan betref nie, was hulle té genadig jeens ander lidmate en mense in die omgewing wat wel skuldig was aan die aanhang van hierdie leer. Die gemeente was dus skuldig t.o.v. die tug. Dalk was ’n gejaag na meer lidmate, of verdraagsaamheid t.w.v. vrede en ’n strewe na eenheid; of ’n skeefgetrekte en onbybelse siening van die liefde, van die redes vir hierdie “blindeoog-gesindheid”, of kompromie van die gemeente. 

U mag dalk wonder of die aanprysing wat die gemeente ontvang het, nie genegeer of weerspreek word deur die kritiek van Christus nie, want hoe is dit moontlik dat ’n gemeente aan die eenkant fel gekant kan wees teen heidense aanbidding, maar terselfdertyd kompromie maak wat haar leer en dissipline aan betref? Die kort en die lank daarvan is dat dit baie dikwels baie maklik is om die ooglopende en ernstige sondes te weerstaan, maar die subtiele beïnvloeding en/of leer van vooraanstaande lidmate is nie altyd so maklik onderskeibaar nie en is ook nie altyd so maklik om te onderdruk nie – en dít was die probleem in die gemeente in Pergamum.

·          Christus se Raad:
Openb.2:16 ~ Bekeer julle nou, anders kom Ek gou na julle toe en sal Ek daardie mense bestry met die swaard van my mond. Christus waarsku die gemeente om hulle te bekeer en die regte te doen, m.a.w. dit was nodig dat hulle, hul teologie en dissipline moes uitsorteer. Indien hulle dit nie doen nie, sal Hy toetree met vinnige en ongenaakbare oordeel. Dit is belangrik om daarop te let dat Christus nie dreig om die gemeente in geheel te oordeel nie, maar slegs daardie mense in die gemeente wat skuldig is aan kompromie en sonde. Daar is dus geen wegkruipplek of wegkomkans vir die skuldiges nie. Die oordeel sal gefel word deur die swaard van Christus se mond – dit is Sy Woord! Die patroon regdeur die Woord, is dus eers ’n Profetiese oordeel wat uitgereik word en dadelik opgevolg word met fisiese straf wat baie dikwels baie subtiel uitgevoer word. Die Korintiërgemeente is hier ’n sprekende voorbeeld van hierdie optrede van die Swaard van Christus se mond ~ ...want hy wat eet en drink sonder om te besef dat dit die liggaam van die Here is, bring daardeur ’n oordeel oor homself. 30 Daarom is daar baie swakkes en sieklikes onder julle en sterf daar baie van julle. 31 As ons onsself vooraf reg ondersoek het, sou ons nie onder die oordeel gekom het nie. 32 Maar nou word ons deur die Here geoordeel en getugtig, sodat ons nie saam met die wêreld veroordeel sal word nie (1Kor.11:29-32).

·          Christus se Belofte:
Openb.2:17 ~ Elkeen wat kan hoor, moet luister na wat die Gees vir die gemeentes sê. Aan elkeen wat die oorwinning behaal, sal Ek van die verborge manna gee, en daarby sal Ek vir hom ’n wit steentjie gee met ’n nuwe naam daarop gegraveer, wat niemand anders ken nie, net hy wat dit kry. Na die kras waarskuwing wat die gemeente ontvang, is daar ’n boodskap van sekuriteit en opbou van geloofsvertroue – ’n belofte van Christus. Hierdie boodskap vir die oorwinnaars sluit die verborge manna in, asook ’n wit steentjie met ’n nuwe geheime naam wat net bekend is aan die eienaar van die steentjie.

Hierdie verborge manna wys terug na die manna wat binne in die verbondsark was (Eks.16:32-34 ~ Moses het ook nog gesê: “Die Here het beveel: ’n Volle twee liter manna moet vir die nageslag bewaar word sodat hulle die kos kan sien wat Ek julle in die woestyn gegee het nadat Ek julle uit Egipte bevry het....” 

Hierdie manna in die Ark het weer heengewys na Christus Jesus in Sy volheid. In hierdie lewe kan ons Christus as die ideale manna – die Brood van die Lewe, ervaar (Joh.6:33,35). Sonde het egter tot gevolg dat ons nie Christus in Sy volheid kan ervaar en geniet nie.  In die hiernamaals sal ons Christus egter in Sy volmaakte volheid ervaar, maar vir diegene buite Christus, is hierdie manna in hierdie lewe en soveel te meer in die hiernamaals, verborge en buite bereik. 

Die wit steentjie getuig van onverganklike en ewige seën.  Die kleur van die steen (wit) dui op reinheid – die reinheid van elke gelowige se ewige saligheid. 

Die naam op die steen dui op ewige en Goddelike eienaarskap van elke gelowige individu. God se uitverkorenes is dus uitgesonderde en spesiale mense. Die eindelose en veeltalligheid van die hiernamaals sal nie die uniekheid van elke individuele gelowige ondermyn nie en sal derhalwe nie afbreuk doen aan die kwaliteit en belangrikheid van elke individu nie – elkeen sal dus maksimale en ewige heerlikheid ontvang.

Die nuutheid van elke naam herinner aan Jes.62:2-3 ~ Die nasies sal sien dat jy gered is, Jerusalem, al die konings sal sien dat jy mag het. Jy sal ’n nuwe naam kry, ’n naam wat die Here self vir jou gekies het. 3 Die Here sal jou soos ’n sierlike kroon in sy hand hou, jou God sal jou soos ’n koninklike tulband vashou. Hierdie nuwe naam dui op onbeskryflike heerlikheid en ervaring en voorreg wat ons in die hiernamaals sal ervaar,  wat ongekend is in vergelyking met dit wat ons nou hier op aarde ervaar – en dit sal nooit terug getrek kan word nie! 

Die feit dat hierdie nuwe naam net aan die eienaar daarvan bekend sal wees dui op die unieke ervaring wat elke individu van die heerlikheid sal ervaar en niemand anders sal weet hoe hy dit ervaar nie.

3.    AFSLUITING:
Ons moet besef dat die satan – ja, ek moet sekerlik eers sê dat die satan waarlik bestaan, al leer die liberale  teoloë ("Nuwe Hervormers") dat daar geen duiwel is nie, en dat hierdie selfde satan waarvan die Bybel vol is, ook ’n vervolger van gelowiges is (Openb.2:13), asook ’n misleier (Openb.2.14-15) en hy is daarop uit om ons te laat vervolg en te laat dood en daarom moet ons bid – bid vir mekaar en vir onsself, dat ons staande sal bly en geliefdes moet nié die vyand onderskat nie – hy is subtiel, uiters subtiel en as jy nie pasop nie, is jy kort voor lank vasgewikkel in sy web. Genadiglik weet ons en word ons vertroos en bemoedig vanuit Hand.4:12 ~ Hý bring die verlossing en niemand anders nie. Daar is geen ander naam op die aarde aan die mense gegee waardeur God wil dat ons verlos moet word nie.

Wanneer ons so luister na die leer van die Nikolaïete en die Bileamiete, dan is dit ’n waarskuwing wat tot ons gerig word om nie toe te gee aan ’n gees van traak-my-nie-agtigheid, of sogenaamde vryheid en immoraliteit nie, want 1Pet.1:15-16 leer ons dat ons, net... soos Hy wat (ons) geroep het, heilig is, (ons) ook in (ons) hele lewenswandel heilig (moet) wees. 16Daar staan immers geskrywe: Wees heilig, want Ek is heilig. ’n Heilige lewe is nie ’n opsionele ekstra in die gelowige se lewe nie; dit is ’n verpligting; ’n voorwaarde. Dit is die einddoel wat elkeen van ons moet najaag – elke dag van ons lewe en daarom moet ons gedissiplineerde lewens lei en as mense ons uitskel dat ons outyds is; of fundamentalisties is – hoor die stem van satan agter sulke uitroepe!


[1] Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te VAALDRIEHOEK Baptiste Gemeente (Vereeniging) - Sondagoggend 29 Januarie 2012

Saturday 21 January 2012

"Gewyde Heiligheid van die Lewe"

1.     INLEIDING:
Kom ons wees bietjie eerlik vanoggend. Hoe voel jy elke keer as ’n pragtige, skaars, onskuldige renoster gestroop word vir sy horing? Kwaad? Opstandig? Hartseer? ’n Belangriker vraag: Wat is jou eerlike reaksie as jy daaraan dink dat aborsies gewettig is in Suid-Afrika? Nee kom, wees eerlik, baie eerlik. Is ons al afgestomp hieroor? My een skoondogter is in die goeie sin van die woord, ’n "pro-life" aktivis en sy is ’n stigterslid van ’n organisasie genaamd "Abort 97" (http://www.abort97.co.za/) en een van hulle slagspreuke is: "Rhinos arn't the only things worth living". Dit is so waar, trouens in vergelyking met aborsie is renosters bykans nie eens noemenswaardig nie.

Vir die Christelike wêreld is vandag, "The Sanctity of Life-Sondag" en ek het besluit dat al is ons as gemeente eenstemmig daaroor dat aborsie vanuit die bose is, ons nogtans na hierdie onderwerp moet kyk aangesien ons die nodige toerusting benodig om ons standpunt te kan onderskryf. Natuurlik handel hierdie onderwerp nie nét oor aborsie nie, maar óók oor die kosbaarheid van die lewe in die algemeen – dit sal derhalwe onderwerpe soos selfmoord; moord; ’n wilde en roekelose lewe; ens. insluit, maar vandag sal ons net fokus op aborsie.

Ek het ook lank "gestoei" om ’n aanvaarbare vertaling vir die uitdrukking "The Sanctity of Life" te vind en ek dink dat die titel van vandag se boodskap, dalk die naaste aan die regte vertaling is (voorstelle t.o.v. ’n beter vertaling sal natuurlik verwelkom word), nl. "Gewyde Heiligheid van die Lewe".

Om oor aborsie te praat en te preek is geweldig omvangryk en is daar soveel fasette waarin ’n mens vasgevang kan raak dat jy bykans nooit sal ophou praat daaroor nie – sake soos statistiek; vroueregte; wetgewing; die vals gronde waarop wetgewing aanvanklik gebaseer was; die regte van die fetus; watter kontrasepsie middele kan gelyk gestel word met aborsie en watter nie?; die Bybelse perspektiewe t.o.v. aborsie; die geskiedenis; metodes; wanneer is aborsie, aborsie?; die etiek rondom aborsie; ens., ens. Daar bestaan ook letterlik duisende webtuistes wat oor hierdie saak handel en dit sluit o.a. gru video insetsels in (ek sal aan die einde slegs enkele webadresse aan julle verskaf).

Ek wil vanoggend net kortliks op enkele fasette fokus, ten einde ons ’n bietjie meer te bemagtig en ’n bietjie meer bewus te maak van die hele saak. Ons gaan dan kortliks na die volgende aspekte kyk:
·         ’n Definisie;
·         Agtergrond;
·         Metodes;
·         Statistiek;
·         Die Woord van God?

2.    DEFINISIE:
Wat dan, is aborsie? Ek sou aborsie soos volg definieer: Aborsie is die doelbewuste beëindiging van ’n swangerskap na konsepsie en dit behels die doodmaak van ’n embrio of fetus.

Ondersteuners van aborsie probeer ’n saak daarvoor uitmaak, dat ’n embrio of ’n fetus nie ’n mens is nie, of anders gestel, dat die regering nie die reg het om aborsie te verban, tensy hulle kan bewys dat ’n embrio of fetus, ’n mens is nie. Voorstanders vir aborsie sê ook dat aborsie nêrens in die Woord van God vermeld word nie en daarom is dit geregverdig – iets wat natuurlik nie waar is nie (ons sal netnou daarna kyk).

3.    AGTERGROND:
Daar bestaan meningsverskil oor watter land die eerste was om aborsie te wettig – die meeste bronne sê egter dat dit Ysland was wat dit op 28 Januarie 1935 (presies 77 jaar gelede!) gewettig het. Amerika het aborsie gewettig na die "Roe vs. Wade" saak in 1973. Suid-Afrika het aborsie op 1 Februarie 1997 gewettig. Ons moet ons egter nie blindstaar teen hierdie datums en dink dat aborsie iets nuuts is nie – so asof dit ’n produk van moderne denke, of moderne wetenskaplike ontwikkeling en -uitvindings is nie. Aborsie is iets wat al baie eeue deel van die mensdom is. Die vroegste beskrywing van aborsie word aangetref in die Ebers-Papirusfragment wat dateer uit 1550 v.C. Hierdie papirusfragment is ’n antieke Egiptiese mediese skets wat gedoen is op grond van dokumente wat so ver terug dateer as 3000 v.C. Hierdie fragment beskryf hoe dat aborsie gedoen kan word met behulp van ’n mengsel van heuning en dadels. Later is verskeie kruiemiddele gebruik, waaronder "penny royal" (kruisement) wat vandag steeds in "onwettige" praktyke gebruik word (http://civilliberty.about.com/od/abortion/f/When-Did-Abortion-Begin.htm).

Dit is ook bekend dat die antieke Egiptenare, Persiërs en Romeine reeds aborsies toegepas het – dit blyk uit verskeie opgrawings van papirusrolle, kunswerke, etse, volksverhale, ens.

In China word gesê dat aborsies reeds so lank terug as 5000 jaar gelede m.b.v. kwik gedoen is.

Wat egter is die motief agter aborsies? Waarom wil vroue dit laat doen en waarom is dit gewettig? Hieroor kan ons baie lank gesels, maar in kort is die pro-aborsie aktiviste se standpunt dat, ’n fetus nie die reg het om in ’n vrou se baarmoeder te wees nie – dit is slegs daar met toestemming van die vrou. Hierdie toestemming mag teruggetrek word op enige stadium, want die vrou se baarmoeder is deel van háár liggaam (sien u die eie-geregtigheid en selfgerigtheid?). Verder sê hulle dat toestemming nie ’n reg is nie. Daar bestaan dus nie so iets soos die reg om binne-in die liggaam van iemand anders te bestaan nie, want dit is gelykstaande aan parasitisme.

Selfs al is ’n fetus so ver gevorder dat dit onafhanklik buite die liggaam van ’n vrou kan leef, het so ’n fetus steeds nie die reg (volgens aborteurs) om binne in ’n vrou se liggaam te wees nie. Net soos wat ’n vrou die reg het om te kies met wie sy haar intieme lewe wil deel (haar liggaam is immers haar eiendom), net so het sy die reg om te bepaal wat kan en wat kan nie in haar liggaam teenwoordig wees nie. Net soos wat dit boos is van iemand om haar voor te skryf om haar liggaam beskikbaar te stel tydens verkragting, net so is dit boos van enige iemand of regering om haar te dwing om swanger te bly – aldus die voorstanders van aborsie.

Hierdie voorstanders van aborsie sê ook dat aborsie nie gelyk gestel kan word aan moord nie, want ’n fetus is nie ’n mens nie – dit is slegs potensiële lewe. Net soos wat ’n akker ’n potensiële akkerboom is, maar nie reeds ’n boom nie, net so is ’n fetus ook nog nie mens nie.  ’n Fetus ("potensiële lewe in hul oë) beskik dus oor geen regte nie, want slegs lewende mense beskik oor regte. Dit is eers ná geboorte dat ’n fetus mens word en derhalwe oor regte beskik.

In die V.S.A. word aborsies egter slegs toegelaat tot en met 24 weke omdat aborsies na 24 weke, ’n gesondheidsrisiko vir die vrou inhou – in Suid-Afrika is dit 20 weke (kom ons kyk bietjie na ’n paar foto's van ’n 20 weke oue fetus en besluit self of dit mens is al dan nie).

Dit is natuurlik moontlik om ’n hoë risiko aborsie na 20 weke te laat doen – in Suid-Afrika kan ’n onwettige aborsie in bv. die Johannesburgse agterstrate,  op enige stadium van ’n swangerskap vir so min as R 500 laat doen word! Trouens, dit word soms openlik geadverteer (het u al die advertensies hier in Vereeniging se middedorp teen die lamppale gesien?).

4.    METODES:
Daar bestaan verskeie metodes waarop aborsies uitgevoer kan word en ek wil nie in detail daarop ingaan nie, omdat dit net té grafies is, maar ek noem bloot net die name van sommige van die metodes:
·           Suiging ("Suction").
·           Sout vergiftiging (Inspuiting van "Saline" oplossing)
·           Hormonale kontrasepsiemiddels
·           Gedwonge kraamproses (wat so intens is dat die fetus dit nie kan oorleef nie).
·           RU-486 (’n middel wat toegedien word om die nodige voedingstowwe van die moeder na die fetus af te sny en die fetus sterf dus).
·           ’n Versnippering van die fetus (In Engels: "Dilatation" of "Curettage").
·           ’n Operasie soortgelyk aan ’n keisersnee (Engels = Hysterotomy).
·            Dan is daar natuurlik kontrasepsiemiddels (hierdie sluit "Depo-Provera, Norplant and IUD's" in), waarvan die meeste, indien nie almal nie, ’n kombinasie van estrogeen en progestien bevat wat voor ’n swangerskap gebruik word ten einde die embrio wat net na konsepsie gevorm het, af te dryf. Hierdie middel word bv. deur duisende gelowige vroue gebruik sonder om te besef dat dit in werklikheid niks anders as aborsie is nie! Hierdie feit word bevestig in ’n boek deur Randy Alcorn met die titel, "Does the Birth Control Pill Cause Abortions?" ’n Amerikaanse ginekoloog (Paul L. Hayes, M.D., Board Certified Fellow of the American College of Obstetricians/Gynecologists) het bv. as volg gereageer op hierdie boek: "From medical textbooks and pharmacy references, to statements from the Pill-manufacturers themselves, this book proves, beyond any doubt, the abortion-causing action of birth control pills. This book should be read by everyone interested in knowing the truth."  Ene dr. Beverly A. McMillan (M.D., Ob/Gyn) sê die volgende: "In this impeccably researched book, Randy Alcorn takes an unblinking look at what medical experts know about how birth control pills work. I painfully agree that birth control pills do in fact cause abortions. Our individual and collective Christian response to this heretofore varnished-over information will have profound consequences for time and eternity. This is a disturbing must-read for all who profess to be prolife" (Beknopte weergawe van boek is gratis beskikbaar op Internet in P.df-formaat - http://www.prolife.com/BIRTHCNT.html).

5.    STATISTIEK:
Ons weet dat baie aborsies wêreldwyd uitgevoer word, maar kom ons kyk egter ook net vlugtig na die harde werklikhede van statistiek – en natuurlik is hierdie statistiek net t.o.v. aangemelde en/of "wettige" aborsies – daar word gespekuleer dat ontwettige en "agterstraat-aborsies" dalk selfs meer kan wees as die "wettige" en aangemelde aborsies!

Sedert 1997, tot en met 2007 was daar meer as 600 000 fetusse "wettig" geaborteer in Suid-Afrika (en dit met jou en my belastinggeld!). Dit is 60 000 per jaar; 5 000 per maand en gemiddeld dus 167 per dag – of as jy wil, ongeveer 7 per uur! Gedurende 2010 is daar in Gauteng alleen, 20 930 "wettige" aborsies uitgevoer.

Daar word beweer dat daar wêreldwyd nagenoeg 115 000 aborsies per dag uitgevoer word, dit is sowat 42 miljoen per jaar! 83% van hierdie aborsies vind in ontwikkelende lande plaas, terwyl 17% in ontwikkelde lande uitgevoer word. Daar bestaan nog talle ander baie interessant statistiek waarop ek nie nou wil ingaan nie (bv. hoeveel Protestante, Roomse, Jode, ens. Hoeveel swart, wit, ens. vroue; statistiek t.o.v. ouderdomme, ens.).  Net twee laaste  stukkies statistiek wat ek egter tog wil noem is die rede waarom vroue aborsies ondergaan: 1% van alle vroue ondergaan dit a.g.v. verkragtings; 6% a.g.v. potensiële gesondheidsprobleme vir moeder en/of kind, terwyl 93% van alle aborsies geskied om sosiale redes (bv. die kind is ongewens of ongerieflik). Laastens word beweer dat amper 43% van alle vroue ten minste een aborsie sal ondergaan voor hulle 45 jaar oud is en 47% van alle aborsies word uitgevoer op vroue wat reeds vantevore ’n aborsie ondergaan het.

6.    DIE WOORD VAN GOD:
Aborsie word nêrens eksplisiet in die Woord van God aangespreek nie, maar soos ons reeds gesien het, is dit deur die Egiptenare e.a. gepraktiseer, selfs lank voor Jesus se koms na die aarde dus. As ons egter bely dat God se Woord steeds in ons dae relevant is, moet ons tog antwoorde in die Bybel vind t.o.v. hierdie brandende kwessie en daar is weliswaar verskeie Skrifgedeeltes waarna ons kan kyk.

Ek het gesê dat aborsie nêrens in die Woord eksplisiet aangespreek word nie, maar daar is egter talle gedeeltes wat sterk suggereer dat lewe reeds vóór geboorte bestaan. Kom ons lees saam van een so ’n verwysing in die Bybel.

7.    SKRIFLESING:
Ps.139:1-24 ~ Vir die koorleier. Van Dawid. ’n Psalm. 
Here, U sien dwarsdeur my, U ken my. 2Of ek sit en of ek opstaan, U weet dit, U ken my gedagtes nog voordat hulle by my opkom. 3Of ek reis en of ek oorbly, U bepaal dit, U is met al my paaie goed bekend. 4Daar is nog nie ’n woord op my tong nie of U, Here, weet wat dit gaan wees. 5U omsluit my van alle kante, U neem my in besit. 6Dié wete oorweldig my, dit is te hoog vir my begrip. 7Waarheen sou ek gaan om u Gees te ontvlug? Waarheen sou ek vlug om aan u teenwoordigheid te ontkom? 8Klim ek op na die hemel, is U daar, gaan lê ek in die doderyk, is U ook daar. 9Vlieg ek na die ooste, of gaan woon ek in die verre weste, 10ook daar lei u hand my, hou u regterhand my vas. 11Ek sou die duisternis kon vra om my weg te steek, of die lig rondom my om in nag te verander, 12maar vir U is selfs die duisternis nie donker nie en die nag so lig soos die dag, duisternis so goed soos lig. 13U het my gevorm, my aanmekaargeweef in die skoot van my moeder. 14Ek wil U loof, want U het my op ’n wonderbaarlike wyse geskep. Wat U gedoen het, vervul my met verwondering. Dit weet ek seker: 15geen been van my was vir U verborge toe ek gevorm is waar niemand dit kon sien nie, toe ek aanmekaargeweef is diep in die moederskoot. 16U het my al gesien toe ek nog ongebore was, al my lewensdae was in u boek opgeskrywe nog voordat ek gebore is. 17Hoe wonderlik is u gedagtes vir my, o God, hoe magtig hulle almal! 18As ek hulle sou wou opnoem—hulle is meer as wat daar sand is, en as ek daarmee klaar is, sou ek nog steeds met U te doen hê. 19As U tog maar die goddelose uit die weg wou ruim, o God! Gaan weg van my af, julle moordenaars! 20Dit is hulle wat bose planne teen U smee, wat so vals teen U optree. 21Moet ek u haters dan nie haat nie, Here, moet ek nie ’n weersin hê in mense wat teen U in opstand is nie? 22Ek haat hulle met ’n uiterste haat, want hulle is ook my vyande. 23Deurgrond my, o God, deurgrond my hart, ondersoek my, sien tog my onrus raak. 24Kyk of ek nie op die verkeerde pad is nie en lei my op die beproefde pad.

Hierdie Skrifgedeelte is maar een wat verwys na die wonder van lewe wat in die moederskoot gevorm word. Ander Skrifgedeeltes wat ook na lewe voor geboorte verwys, is bv. Luk.1:41 ~ Net toe Elisabet die groet van Maria hoor, het die kindjie in Elisabet se moederskoot beweeg. Maria het die grootsheid van God besing nadat die Heilige Gees Jesus die Christus in haar verwek het (v.49). Selfs Job verwys daarna wanneer hy in Job 31:15 sê ~ Het Hy wat my in die moederskoot gemaak het, hulle nie ook gemaak nie? Het Hy ons nie almal gevorm nie? Ook in Jer.1:5 sien ons dat God hom reeds geken het in fetus-vorm en is sy lewe en roeping alreeds voor sy verwekking, deur God bepaal ~ Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken; voordat jy gebore is, het Ek jou aan My gewy en jou as profeet vir die nasies aangestel.
·           Hieruit blyk dit dus baie duidelik dat lewe reeds bestaan van die oomblik dat die man se sperma (saad) en die vrou se ovum (eiersel) saamsmelt om ’n embrio te vorm. Lewe begin dus op die oomblik van bevrugting. In die lig hiervan moet aborsie dus afgemaak word as blatante en voorbedagte moord. Eks.20:13 verbied moord ondubbelsinnig wanneer dit sê ~ Jy mag nie moord pleeg nie. Die betekenis van die woord wat hier in Eks.20:13 gebruik word vir moord is korrek vertaal in Afrikaans en dui dus op die doelbewuste en persoonlike neem van ’n lewe – m.a.w., nié soos in ’n oorlog, of tydens ’n teregstelling na ’n hofuitspraak nie (Rom.13:1-7). Daar is egter ook ’n duidelike implikasie in Rom.13:4, dat die owerhede nié "die onskuldiges" (in hierdie geval ’n fetus dus) enige leed mag aandoen nie. Die is dus duidelik dat Eks.20:13 ondubbelsinnig verklaar dat die doodmaak van onskuldige ongebore babas, verbode is.
·           Eks.21:22-23 is ook ’n belangrike Skrifverwysing in hierdie verband en is daar dan ook ’n direkte verwysing na die doodmaak van ’n fetus ~ Wanneer mans met mekaar baklei en hulle ’n swanger vrou omstamp, sodat sy ’n miskraam het maar nie blywend beseer is nie, moet hy wat haar gestamp het, onderhewig aan die goedkeuring van die regbank, die boete betaal wat die eggenoot van die vrou hom oplê. 23As sy blywend beseer is, is die straf: ’n lewe vir ’n lewe. Hier sien ons dat die ongebore baba in dieselfde lig as die vrou, deur God beskou word – nl. ’n mens en net so kosbaar soos die moeder self, trouens as ons na Ps.127:3 kyk, kry ons die indruk dat kinders en daarom ook ’n fetus, nóg belangriker vir God is, want sê die Psalmis ~ Seuns is geskenke van die Here, kinders word deur Hom gegee.

Aborsie is niks anders as ’n direkte aanval op die "Lewe-skeppende-God nie. Toe God die mens geskep het, het Hy gesê ~ ...Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis (Gen.1:26a – O.A.V.; Kol.3:10) en Ps.139:13 stel dit so pragtig ~ U het my gevorm, my aanmekaargeweef in die skoot van my moeder. Dit wat God aan mekaar geweef het, is Sy handewerk – Sy skepping van ’n mens na Sy beeld.
·           U sal met my saamstem dat ’n ongebore fetus in ’n sekere gekwalifiseerde sin, "onskuldig" is (ons weet dat kinders in sonde ontvang en gebore word). Ps.106:38 praat van die bloedvergieting van onskuldige kinders en dat diegene wie hulle daaraan skuldig maak, blootgestel sal word aan God se toorn! Mense wat dus aborsies laat doen, asook diegene wat dit uitvoer – hulle sál God se toorn ervaar.
·           Ons lees in Eks.22:21-24 die volgende ~ “Jy mag nie ’n vreemdeling verdruk of laat swaarkry nie, want jy was self ’n vreemdeling in Egipte. 22“Jy mag geen weduwee of weeskind veronreg nie. 23As jy tog so iemand veronreg, en hy na My roep, sal Ek na sy hulpgeroep luister. 24Dan sal my toorn ontvlam, en Ek sal jou om die lewe bring, sodat jou vrou ’n weduwee word en jou kinders weeskinders. In Ps.82:3-4 sê Asaf ~ Julle moet reg laat geskied aan die mens in nood en aan die weeskind, ’n regverdige uitspraak vir die hulpelose en die behoeftige lewer, 4julle moet die mens in nood en die arme bevry, hulle uit die mag van die goddelose red. Ook hier sien ons dat God se toorn sal ontvlam teen diegene wat die swakkes en hulpeloses viktimiseer, of beseer, of dood. Hierdie selfde waarskuwing word ook in Ps.94:23 gegee ~ Hy sal hulle laat boet vir hulle dade, Hy sal hulle verdelg oor hulle boosheid. Die Here ons God sal hulle verdelg. God stel dus ’n baie hoë premie op die beskerming van hulpeloses – en wat is meer hulpeloos as ’n fetus?

Jesus het kinders besonder lief – ons sien dit bv. in Luk.18 waar Hy Sy dissipels aanspreek omdat hulle die kindertjies weggejaag het. Wat hier interessant en daarom ook betekenisvol is, is die feit dat die Griekse woord wat hier in Luk.18 vir "kindertjies" gebruik word, presies dieselfde woord is as wat vir die ongebore (fetus)  van Johannes in Luk1:41, 44 gebruik word. Waarom sou Jesus ’n fetus "kindjie" noem as ’n fetus nog nie lewe is wat deur Hom gekoester word nie? Dit maak tog net nie sin nie.
·           Baie mense wat pro-aborsie is, reken dat dit in elk geval beter is vir die geaborteerde fetus om nie gebore te word nie, want alle kindertjies gaan tog immers hemel toe en daar is dit beter vir hulle as om in hierdie "aaklige lewe" gebore en groot te word.

Ons kan hierop sê dat lyding en beproewing deur die Woord van God as noodsaaklike element gesien word t.w.v. ons redding en uiteindelike verheerliking ~ Hulle het die gelowiges geestelik versterk en hulle aangespoor om getrou te bly in die geloof. “Ons sal eers deur baie verdrukking moet gaan voordat ons in die koninkryk van God kom,” het hulle gesê (Hand.14:22). Paulus skryf o.a. ook aan die gemeente in Tessalonika ~ Dat ons ter wille van ons geloof vervolg sal word, staan vas. Dit weet julle (1Tes.3:3b).  Ons kan en mag dus nie lyding in hierdie lewe kortwiek of pypkan deur byvoorbeeld ’n lewe te beëindig nie ("genadedood bv.), trouens Paulus sê ~ Almal wat in Christus Jesus toegewy aan God wil lewe, sal ook vervolg word (2Tim.3:12).

Wanneer vrugafdrywers (of aborteurs) dus sê dat, om aborsie toe te pas, minder boos is as om ’n kind aan hierdie bose wêreld bloot te stel, tree hulle wyser op as God – of so dink hulle altans – God is dié Een wat die beste weet, omdat Hy ’n Alwyse God is, maar met hierdie optrede van die vrugafdrywers, gaan hulle vanuit die standpunt dat hulle eintlik die kind se ewige bestemming in die hemel deur hul optrede verseker en met sulke denke slaan hulle óók die bal mis, want dit is net God en God alleen wat alle mense se ewige lot bepaal – net God bepaal wie verlos en wie verdoem is ~ Dié wat Hy daartoe bestem het, het Hy ook geroep. En dié wat Hy geroep het, het Hy ook vrygespreek. En dié wat Hy vrygespreek het, het Hy ook verheerlik (Rom.8:30). Die Baptiste Geloofsbelydenis van 1689 stel dit baie mooi en duidelik in hoofstuk 32 wat handel oor die laaste oordeel – ek haal enkele gedeeltes daaruit aan: God het ’n dag bepaal waarop Hy die wêreld in regverdigheid sal oordeel in Jesus Christus, aan wie alle mag en strafgerig oorgegee is deur die Vader. In hierdie dag sal nie alleen die gevalle engele geoordeel word nie, maar ook alle mense wat op die aarde geleef het. Hulle sal voor die regterstoel van God verskyn om rekenskap te gee van hulle gedagtes, woorde en dade, en om te ontvang volgens hulle dade in die liggaam, of dit dan goed of sleg was.  Die hoofdoel vir God se daarstelling van hierdie dag is die openbaarmaking van die heerlikheid van Sy genade in die ewige redding van die uitverkorenes, en ook Sy regverdigheid in die ewige verdoemenis van die verworpenes, wie boos en ongehoorsaam is..... (volledige 1689 Baptiste Geloofsbelydenis in P.df-formaat van my verkrygbaar – stuur net E-Pos aan kobus.j.a.vanderwalt@gmail.com. Engelse weergawe verkrygbaar by:

6.    AFSLUITING:
Daar is ’n wonderlike verlossende en positiewe boodskap wat ons as gelowiges kan bring aan elke persoon wat in sy of haar lewe al op een of ander wyse betrokke was by aborsie – ook diegene wat "onskuldig" betrokke was by die neem van kontraseptiewe middele. Ons moet verstaan en dit is die boodskap wat ons kan en moet uitdra, nl. dat reddende geloof in Jesus Christus, vergifnis van sonde en die reiniging van die geredde mens se gewete impliseer, asook ’n vaste hoop op die ewige lewe – dit word bevestig deur Paulus se woorde in Ef.1:7-8 ~ Deur die bloed van sy Seun is ons verlos en is ons oortredinge vergewe kragtens die ryke genade van God 8wat Hy in al sy wysheid en insig so oorvloedig aan ons geskenk het (Ef.1:7-8).

7.    ENKELE WEBTUISTES:
·            http://www.abort97.co.za/
·            https://www.facebook.com/Abort97
·            http://abortioninstruments.com/
·            http://www.abortionno.org/
·            http://www.prolife.com/BIRTHCNT.html
·            Of gaan "Google" bloot die woord "Abortion".


[1] Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te VAALDRIEHOEK Baptiste Gemeente (Vereeniging) - Sondagoggend 22 Januarie 2012