Saturday 25 February 2012

“Sewe Briewe aan Sewe Gemeentes - 07” (Die Gemeente in Laodisea)


1.     INLEIDING:
Ons briewebesteller het nog net een brief in sy possak en hy is fluks oppad na die sewende gemeente in Laodisea.  In vele opsigte is hierdie brief ook die tragieste van al sewe die briewe wat hy oorspronklik in sy possak gehad het, omdat dit die enigste was waarin Christus dit onmoontlik gevind het om ná Sy bestraffing selfs één enkele woord van aanprysing te gee.  Selfs in die dooie gemeente van Sardis was daar darem ’n groepie lewende Christene wat ’n paar woorde van lof kon ontvang, maar in Laodisea was daar nie eens so ’n oorblyfsel nie!

Al is hierdie brief die droewigste van al die briewe, is hierdie brief waarskynlik ook die teerste en liefdevolste van almal en dit is omdat die bestraffing uit ’n hart vol liefde gekom het, omdat Hy ’n uitnodiging aan hierdie groep mense stuur wat spreek van Sy liefde.

2.    DIE GEMEENTE IN LAODISEA (3:14-22):
·           Die Geadresseerde Gemeente: 
Openb.3:14a:  ~ Skrywe aan die leraar van die gemeente in LaodiseaDie gemeente van Laodisea was in ’n vooruitstrewende en welvarende stad geleë.  Die stad was op ’n plato geleë en daar was geen water in die nabye omgewing nie en daarom moes water daarheen aangelê word d.m.v. ondergrondse kanale.  Die bankwese het hier gefloreer en die stad was so ryk, dat dit self (onafhanklik van Rome) vir die herstel van die stad kon betaal na die aardbewing van 60 n.C.  Daar was ’n baie bekende medieseskool gevestig en hulle het bekend geraak vir hulle oogkundige navorsing en hulle het ’n oogsalf daar ontwikkel en vervaardig wat alom bekend was.  Ook het die stad bekendheid verwerf vir sy sagte swart wol wat in klere en matte gebruik was.  Ons sal ook mettertyd sien dat al drie hierdie uitstaande kenmerke van die stad (wol, bankwese en salf) ’n rol speel in hierdie brief aan die gemeente.  Daar het nagenoeg 7 500 Joodse mans (en nog meer vrouens en kinders) in Laodisea gewoon en dit was bekend dat dit finansieel baie goed gegaan het met die Jode daar.

Die gemeente was waarskynlik deur Epafras (’n medewerker van Paulus) gestig en die eerste herder en leraar was waarskynlik Argippus (Filemon 1:2).

·           Die Beeld van Christus:
Openb.3:14b ~ So sê die Amen, die geloofwaardige en ware getuie, Hy deur wie God alles geskep hetChristus stel Homself hier bekend as die Amen.  Hierdie woord “amen” kom nege keer voor in Openbaring, maar hier word dit die enigste keer as ’n titel of ’n naam gebruik en dit is ’n Hebreeuse uitdrukking wat gebruik word om iets wat gesê word met baie sterk klem te bevestig, m.a.w. wanneer daar “amen” gesê word, is dit asof die spreker met erns en klem sê, “dit sál so wees!”  Christus wil dus vir die gemeente met hierdie naam sê, dat hulle moet luister, want wat Hy gaan sê is vas en seker en dit word met uiterste erns dus gesê.  As die “Amen-Christus”, wou Christus dus hê dat hierdie lou en self-misleide gemeente sal besef en weet dat Christus die Een is, deur wie God Sy doelwitte bereik ~ Want hoeveel beloftes van God daar ook mag wees, in Hom (dit is Christus) is hulle ja en in Hom amen, tot heerlikheid van God deur ons (2Kor.1:20 – O.A.V.).

Ook sê Christus dat Hy Seun van God is, deur wie alles geskape is en daarom, omdat Hyself God is, durf hulle nie Sy brief ignoreer nie, want Hy is geloofwaardig en wanneer Hy getuig moet daar geluister word.

·           Christus se Aanprysing:
Soos reeds gesê, is hier geen aanprysing van Christus se kant aan die gemeente in Laodisea nie.

·           Christus se Bestraffing:
Openb.3:15-16 ~ Ek weet alles wat julle doen. Ek weet dat julle nie koud is nie, en ook nie warm nie. As julle tog maar koud of warm was! 16 Maar nou, omdat julle lou is, nie warm nie en ook nie koud nie, gaan Ek julle uit my mond uitspoeg. Christus se verwysing hier na “koud” en “warm”, dui op die werke wat voortgespruit het, of nié voortgespruit het uit hierdie gemeente se geestelike lewe.  Dade, of werke is gewoonlik ook ’n aanduiding van mense se geestelike toestand en dit word bevestig deur o.a. Matt.7:16a ~ Aan hulle vrugte sal julle hulle ken (sien ook Rom.2:6-8).  Al word redding geheel en al geskenk uit genade en geloof alleen, bevestig dade of vrug, die teenwoordigheid van opregte en ware redding en wedergeboorte ~ Wat help dit, my broers, as iemand beweer dat hy glo, maar sy dade bevestig dit nie? Kan so ’n geloof ’n mens red? (Jak.2:14). Die alwyse Here het presies geweet wat die toestand van die gemeentelede van Laodisea was en dat hulle deur die afwesigheid van vrug in hul lewens, toonbeelde was van ’n ongeredde gemeente.

Christus bestraf hulle oor die feit dat hulle louwarm is.  Die metaforiese taal wat Hy hier gebruik (...nie koud is nie, en ook nie warm nie. As julle tog maar koud of warm was), is ’n verwysing na die toestand van die stad se water – omdat dit oor baie kilometers deur ondergrondse kanale na die stad gevloei het, was die water vuil, besoedel en louwarm teen die tyd dat dit by stad uitgekom het.  Die water was nie warm genoeg om in te bad nie (soos die water van die warmwaterbron by die nabygeleë Hierapolis) en dit was ook nie koel en verfrissend, soos die water by Kolosse nie.  Laodisea se vuil en louwarmwater was eintlik nutteloos.  In die lig van hierdie vergelyking met die water van die stad, sê Christus dat Hy hulle uit Sy mond spuug, net soos wat ’n mens die water van Laodisea sal uitspoeg as jy dit onbehandeld sou drink.

“Warm mense” is daardie gelowiges wat geestelik lewend is en oor die vurigheid van ’n veranderde hart beskik.  Die “geestelik-koue mense” is weer daardie wat Christus openlik verwerp.  Die Evangelie laat hulle koud en onaangeraak.  Hulle stel nie belang in Christus of die Woord van God, of die Kerk van die Here Jesus nie.  Die “koues” maak ook geen geheim daarvan nie.

Om dus “louwarm” te wees pas in geeneen van hierdie kategorieë nie.  Hulle is m.a.w. nie waarlik gered nie, maar hulle verwerp ook nie die Evangelie openlik nie.   Hulle is deel van ’n gemeente; hulle woon eredienste by en hulle maak aanspraak daarop dat hulle Christus ken.  Net soos die Fariseërs is húlle ook tevrede om ’n godsdiens van selfregverdiging te leef.  Hulle is soos huigelaars wat allerlei speletjies speel.  Die Here beskryf sulke mense in Matt.7:22-23 ~ Baie sal daardie dag vir My sê: ‘Here, Here, het ons dan nie in u Naam gepreek nie, deur u Naam bose geeste uitgedryf en deur u Naam baie wonders gedoen nie?’ 23 Dan sal Ek openlik vir hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My af, julle wat die wet van God oortree.”

Die “louwarmes” is soos die ongelowige Jode waarvan Paulus in Rom.10:2 gesê het ~ ...want ek kan van hulle getuig dat hulle vol ywer vir God is, maar sonder die regte insigHulle beskik oor, wat Paulus in 2Tim.3:5 noem, ...die uiterlike skyn van die godsdiens, maar die krag van die godsdiens sal hulle nie ken nieDie probleem met mense soos hierdie, is dat dit veel-veel moeiliker is om hulle met die waarheids-evangelie te bereik.  Niemand is moeiliker om te bereik as ’n vals Christen nie.

Volgens John Stott is sulke louwarm gemeentes soos hierdie een in Laodisea, algemeen in ons tyd – Hy skryf ...Perhaps none of the seven letters is more appropriate to the twentieth (twenty-first) century church than this.  It describes vividly the respectable, sentimental, skin-deep religiosity which is widespread among us today.  Our Christianity is flabby and anaemic.  We appear to have taken a lukewarm bath of religion.

Christus het ’n ernstige probleem met die toestand in hierdie gemeente en die groep mense wat hulleself Christene noem.  En omdat hulle toestand net so erg is as wat warm soutwater vir ’n dorstige mens is, sê Christus:  ... Ek (gaan) julle uit my mond uitspoeg

’n Gemeente is net bruikbaar vir die Here Jesus wanneer sy God liefhet en die wêreld en wêreldgelykvormigheid haat – jy kan nie beide lief hê nie en ’n neutrale gesindheid is net so erg, want dít rig meer skade aan as openlike geloofsversaking. Die wêreld reageer met skok en verbasing teenoor mense wat hulle geloof versaak of wat Godverloënend optree, maar kort voor lank is dit verby en het die “geskoktes” herstel, maar neutrale gesindheid het ’n effek op mense wat baie dikwels “rimpelinge tot in die hemel” veroorsaak, omdat dit die eer en heerlikheid van God aantas en dit mislei dosyne mense wat op die ou einde in ontnugtering sit en dikwels nie weer daar uitkom nie.  Iemand wat dus sy Eerste Liefde verloor is presies dieselfde as iemand wat geestelik lou is.  God haat beide en Hy sal gemeentes en mense wat hieraan skuldig is, uitwerp. 

Ons sien dus dat die eerste en die laaste gemeentes wat briewe ontvang het, nl. Efese en Laodisea, beide die risiko geloop het om geheel en al verwerp te word deur Christus indien hulle hulself nie sou bekeer nie.

Die vraag wat ons en alle ander gemeentes dus moet vra, is nié of ons sukkel met mense wat terugval nie; of pas ons die tug genoegsaam en reg toe nie; of hanteer ons konflik reg nie.  Nee, die regte vraag is of ons konsekwent is in ons liefde vir Christus en of ons geestelik groei en of ons ’n geesdrif en ywer het om Christus meer en meer lief te hê. 

·           Christus se Raad:
Openb.3:17-20 ~ Julle sê: “Ons is ryk, skatryk, en ons het niks meer nodig nie,” en julle weet nie dat julle ellendig en beklaenswaardig is nie, arm, blind en kaal. 18 Daarom raai Ek julle aan om by My goud te koop wat deur vuur gelouter is, sodat julle ryk kan word; en koop wit klere, sodat julle julle kan aantrek en julle skande, julle naaktheid, nie gesien word nie; en koop oogsalf om aan julle oë te smeer, sodat julle kan sien. 19 Ek bestraf en tug elkeen wat Ek liefhet. Laat dit dan vir julle erns wees en bekeer julle. 20 Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek by hom ingaan en saam met hom die feesmaal hou, en hy saam met MyHierdie gemeente in Laodisea het “breëbors gespog”, maar ongelukkig is hulle gespog op ’n verrotte fondament van veronderstelde geloof en geestelike rykdom gebou.  ’n Ongesonde en selfs ’n onheilige selfvoldaanheid van onafhanklikheid het posgevat in hierdie gemeente.  Dit is heel waarskynlik so, dat die rykdom van die stad en omgewing ook aan hulle “afgesmeer” het en het dit waarskynlik ’n windmakerige en pragtige kerkgebou tot gevolg gehad, met pragtige binneversiering en duur parafernalia om lofprysing aan te help; reuse spaarrekenings; ens.

Hierdie gevoel van sekuriteit en rykdom was egter ’n illusie en ’n hersenskim, want presies die teenoorgestelde was waar van hul geestelike toestand.  So ver dit hulle getrouheid en getuienis betref, was hulle volgens vers 17, ellendig en beklaenswaardig, arm, blind en kaalHierdie leë dade en toestand waarin hulle verkeer, het hulle toestand voor die Here bevestig en was die woorde van die Here Jesus in Matt.7:21, waar van hulle ~ Nie elkeen wat vir My sê: ‘Here, Here,’ sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemel isEn net soos die ryk jongman was hulle mislei t.o.v. hul geestelike toestand (Matt.19:16-22).  Die rykdom van hierdie Gemeentelede het tot gevolg gehad dat hulle ’n vals oortuiging van sekuriteit en geestelikheid gehad het, omdat hulle rykdom hulle laat dink het dat dit ’n weerspieëling was van hulle geestelike rykdom.  Hulle was ryk en geestelik trots ja, maar brandarm wat betref reddingsgenade.  Hulle het gedink dat almal rondom hulle, jaloers op hulle sou wees, maar eintlik moes almal hulle intens jammer gekry het, want hulle was geestelik ellendig, beklaenswaardig, arm, blind en kaal.

Die Here Jesus kon hierdie gemeente met een “handveeg” uitgewis het, maar nadat Hy hulle geestestoestand uitgespel het, kom Hy egter in vers 18 en gee Hy raad aan hierdie gemeente wat kan lei tot opregte en ware redding en daarom bied Christus, hulle drie produkte te koop aan, nl. geestelike goud; geestelike klere en geestelike insig.

Hy bied redding aan hulle aan die hand van hierdie drie uitstaande kenmerke van die stad waarin hulle as gemeente geleë is, nl.  rykdom; swart wol en die oogsalf wat in die stad vervaardig is.  Natuurlik leer Christus nié dat redding verdien kan word deur goeie werke nie, want verlore sondaars hét geen betaalmiddele om hulle redding te koop nie (Jes.64:5-6), wat Hy wel vir hulle sê, is dat die “betaalmiddele” wat Hy vir hulle bied om gered te word, dieselfde is as dié in Jes.55:1 ~ Kom, almal wat dors is, kom na die water toe, selfs ook dié wat nie geld het nie, kom, koop en eet; ja, kom, koop sonder geld en sonder om te betaal, wyn en melkAl wat sondaars dus moet aanbied as betaling ten einde gered te word, is hulle verlore toestand en in ruil daarvoor bied Christus vir hulle vergifnis van sonde en word die verhouding tussen die Vader en die sondaar herstel.

In die gees van die welvarende Laodisea bied Christus dan vir hulle die volgende aan:
*        Eerstens sê Hy dat hulle goud van hom moet koop, want hierdie goud wat Christus aanbied, is gelouterde goud – m.a.w. dit is sonder enige onsuiwerhede en dit verteenwoordig die onskatbare rykdom van ware redding en verlossing.  Petrus vergelyk ook die geloof met goud in 1Pet.1:7 ~ Julle geloof is baie kosbaarder as goud, goud wat vergaan. Selfs die suiwerheid van goud word met vuur getoets, en die egtheid van julle geloof moet ook getoets word, sodat dit lof en heerlikheid en eer waardig mag wees by die wederkoms van Jesus Christus. Hierdie aanbod van goud is dus ’n waarborg van ewige rykdom.
*        Tweedens bied Christus vir hulle wit klere aan.  Dit staan in skrille kontras met die swart wol waarvoor Laodisea bekendheid verwerf het en wat ’n versinnebeelding van die gemeente se verlore toestand was – dit is in ooreenstemming met Jes.64:6a ~  Ons het almal geword soos mense wat onrein is, ons beste dade is soos vuil klereDie morele naaktheid waarin hierdie gemeente verkeer het, was o.a. as gevolg van hulle wêreldgelykvormigheid.  Christus kom egter nou en Hy bied aan hulle geregtigheid om hulle sonde te bedek – geregtigheid in die vorm van rein wit klere soos o.a. in Openb.3:4 beskryf ~ Maar julle het darem ’n paar mense daar in Sardis wat nie hulle klere besoedel het nie, en hulle sal altyd in wit klere by My wees omdat hulle dit waardig is.
*        Laastens bied Christus aan hulle oogsalf om aan julle oë te smeerDie Here Jesus wil aan hulle sê dat Hy helende salf aan hulle bied, ten einde hulle geestelike blinde oë te genees.  Hierdie blindheid van die gemeente het gemanifesteer in ’n gebrek aan begrip en kennis van geestelike waarhede.  Dit laat ’n mens dink aan Jesus se woorde aan die Fariseërs in Matt.23:26 ~ Blinde Fariseër, maak eers die binnekant van die beker skoon, dan sal sy buitekant ook skoon weesSoos alle verlore mense het ook hierdie gemeentelede in Laodisea nodig gehad dat hul blinde oë geopen moes word ~ Jy moet hulle oë oopmaak sodat hulle hulle van die duisternis tot die lig en van die mag van die Satan tot God kan bekeer. Deur in My te glo, sal hulle sondes vergewe word en sal hulle deel word van die volk van God (Hand.26:18).

Waarom kom Christus en sê Hy dat Hy diegene wat Hy liefhet, bestraf en tug?  Hierdie opmerking dui eerstens daarop dat hierdie gemeente nie gered was nie en daarom word hulle bestraf en getugtig, maar hoe klop dit met die feit dat Hy sê dat Hy hulle liefhet?  Eerstens moet ons besef dat Christus ’n besondere liefde vir Sy uitverkorenes het, maar verse soos Mark.10:21 en Joh.3:16 dui vir ons aan dat Christus ook ongeredde mense liefhet.  Mark.10:21 ~ Jesus het na hom gekyk en hom liefgekry en vir hom gesê: “Net een ding kom jy kort. Gaan verkoop alles wat jy het, en gee die geld vir armes, en jy sal ’n skat in die hemel hê. Kom dan terug en volg My!” en Joh.3:16 ~ God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hêChristus het dus ook hierdie ongeredde “Laodisente” lief, maar Hy waarsku hulle om hulle te bekeer, anders gaan Hy hulle straf en tugtig.

Ten spyte egter van hierdie dreigement kom Christus, soos telkemale met van die ander gemeentes en nooi Hy hierdie "ongereddenes" wat hulself Christene noem, om die deur van hul harte oop te maak vir Jesus Christus – daarom dat Hy sê ~ ...as iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek by hom ingaan en saam met hom die feesmaal hou, en hy saam met My. Hierdie woorde van Christus impliseer dus ook dat daar geen enkele gelowige in daardie gemeente was nie. 

Hierdie uitnodiging na ’n maaltyd dui op intieme gemeenskap wat in die vooruitsig gestel word deur Christus en indien daar bekering sou plaasvind en wanneer hulle aansit by die maal, sal hulle geseën word. Daarom dat Openb.19:9 sê ~ Toe sê die engel vir my: Skryf op: Geseënd is hulle wat na die bruilofsmaal van die Lam uitgenooi isDie Griekse word wat in vers 20 gebruik word vir “feesmaal”, dui op die hoofmaaltyd wat in die aand genuttig is.  Christus dring dus by hulle aan om hulle te bekeer, sodat hulle saam met Hom aan die feestafel kan aansit, voor die nag hulle oorval – die nag van ewige duisternis.

·           Christus se Belofte:
Openb.3:21-22  ~ Elkeen wat die oorwinning behaal, sal Ek saam met My op my troon laat sit, net soos Ek ook die oorwinning behaal het en saam met my Vader op sy troon gaan sit het. 22 Elkeen wat kan hoor, moet luister na wat die Gees vir die gemeentes sêHier gee Christus ’n wonderlike belofte aan elkeen in die gemeente wat luister en hulle bekeer – hulle sal saam met Christus op Sy troon gaan sit, soos wat Christus gedoen het nadat Hy die sonde en die dood oorwin het.  Matt.19:28 ~ Dit verseker Ek julle: Wanneer alles nuut gemaak word, as die Seun van die mens op sy koninklike troon sit, sal ook julle wat My gevolg het, op twaalf trone sit en oor die twaalf stamme van Israel regeerDie reg om saam met Christus op ’n troon te sit en te regeer is maar een van baie beloftes wat gemaak word aan gelowiges soos wat ons die afgelope tyd gesien het – ons sal eet van die Boom van die Lewe (Openb.2:7); Ons sal die Kroon van die Lewe dra (2:10); ons sal beskerming ontvang teen die tweede dood (2:11); ons sal van die verborge manna eet (2:17); ons sal nuwe name ontvang en dit sal op ’n wit steentjie geskryf word (2:17); Ons sal gesag ontvang en heers oor die nasies (2:26-27); ons sal die môrester as besitting ontvang (2:28); ons sal wit klere ontvang wat reinheid en heiligheid demonstreer (3:5); ons sal ’n pilaar in die Tempel van God wees (3:12) en die Naam van God, asook die Naam van Christus en ook die naam van die nuwe Stad Jerusalem sal op ons geskryf word.  En met hierdie uitnodiging en belofte in hulle ore, kom Christus met die uitnodiging soos in al die ander briewe ~ Elkeen wat kan hoor, moet luister na wat die Gees vir die gemeente sê.

[1]Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te VAALDRIEHOEK Baptistegemeente (Vereeniging) - Sondagoggend 26 Februarie 2012

Saturday 18 February 2012

Sewe Briewe aan Sewe Gemeentes - 06 (Die Gemeente in Filadelfia)

1.     INLEIDING:
Ons het reeds gesien dat die pos uit Patmos baie verrassings ingehou het vir die gemeentes wat briewe ontvang het. Ons het gemeentes gesien wat baie hard teen dwaalleer gestry het, net om die klag van die Here te hoor dat hulle, hul eerste liefde verlaat het. Ander weer is deur van die ander gemeentes geëer vir hulle onvermoeide ywer en bedrywighede, net om van die Here te hoor dat hulle dood is.  Die possak wat ons briewebesteller gedra het, was dus vol verassings én skokke. 

Daar is nog net twee briewe oor in die possak en die volgende gemeente wat besoek word, is dié in Filadelfia. Ons beskik nie oor baie inligting t.o.v. hierdie gemeente nie, maar wat ons wel weet is dat dit ’n klein en swak gemeentetjie was, want Christus sê in Openb.3:8 o.a. dat hulle min krag het en daarom kan ons onsself indink dat hierdie gemeente gespanne gewag het om te hoor wat Christus van hulle sê, want as ’n groot en gevestigde gemeente soos dié in Efese só ’n skerp aanklag van Christus moes ontvang; as ’n lewendige en oënskynlik gesonde gemeente soos dié in Sardis moes verneem dat hulle ’n dooie gemeente is, wat kon hierdie klein en swak gemeentetjie in Filadelfia te wagte wees? Daarom het hierdie groepie gelowiges waarskynlik in groot angs gesit en wag dat hulle leraar die brief moes ooprol en voorlees. En wat ’n groot verrassing het nie op hulle gewag nie! Maar kom ons begin by die begin.

2.     SKRIFLESING:
Openb.3:7-13 ~ Skrywe aan die leraar van die gemeente in Filadelfia: So sê die Heilige, die Ware God, Hy wat die sleutel van Dawid het, wat die deur oopsluit en niemand sal dit weer toesluit nie, en dit toesluit en niemand sluit dit weer oop nie: 8Ek weet alles wat julle doen. Kyk, Ek het ’n deur voor julle oopgesluit en niemand kan dit weer toesluit nie. Ek weet dat julle min krag het, en tog het julle aan my boodskap vasgehou en My nie verloën nie. 9Kyk, ek beskik dat van die lede van die sinagoge van die Satan, die mense wat daarop aanspraak maak dat hulle Jode is, en dit nie is nie, maar lieg—kyk, Ek sal maak dat hulle kom en voor julle kniel en erken dat Ek julle liefhet. 10Omdat julle aan die boodskap van my volharding in lyding vasgehou het, sal Ek julle ook vashou in die tyd van beproewing wat oor die hele wêreld gaan kom om die bewoners van die aarde op die proef te stel. 11Ek kom gou. Hou vas wat julle het, sodat niemand julle kroon wegvat nie. 12Elkeen wat die oorwinning behaal, sal Ek ’n pilaar in die tempel van my God maak, en hy sal vir altyd daar bly. Ek sal op hom die Naam van my God skrywe en die naam van die stad van my God, die nuwe Jerusalem, wat van my God af uit die hemel uit afkom. En Ek sal ook my eie nuwe Naam op hom skrywe. 13Elkeen wat kan hoor, moet luister na wat die Gees vir die gemeentes sê.

3.    DIE GEMEENTE IN FILADELFIA:
·           Die Geadresseerde Gemeente: 
Openb.3:7a ~ Skrywe aan die leraar van die gemeente in Filadelfia. Die wortelbetekenis van die stad Filadelfia se naam is “broederliefde”. Hierdie stad was sowat 48 km. vanaf Sardis langs ’n besige handelsroete en in die pragtige Hermusriviervallei geleë. Hierdie vallei was in ’n vulkaniese gebied geleë en die grond was derhalwe baie vrugbaar en ideaal vir die groei van wingerde. Die stad was geoormerk deur die Grieke as ’n Kultuurstad vanwaar hulle die Griekse taal en kultuur na ander dele van Klein-Asië wou versprei.  Ons weet ook dat daar baie Jode in die stad gewoon het. 

Gedurende 17 n.C. het dieselfde aardbewing wat Sardis swaar getref het ook Filadelfia bykans verwoes. Uit dankbaarheid teenoor keiser Tiberius se finansiële hulp om die stad weer te herbou, word ’n monument ter ere van die keiser opgerig en word die naam van die stad vir ’n ruk lank verander na Neocaesarea (“caesar” = keiser), maar ’n hele klompie dekades later word dit verander na Flavia, ter ere van die regerende Romeinse keiserlike familie.

Hierdie gemeente was die jongste van die sewe gemeentes en ons sal weldra sien dat Christus geen woord van kritiek teen hierdie gemeente gehad het nie en dit opsigself behoort vir ons as geweldige bemoediging te dien, omdat ons daardeur kan weet dat óns gemeente ook potensieel ’n gemeente kán wees teen wie Christus niks hou nie.

·           Die Beeld van Christus:
Openb.3:7b ~ So sê die Heilige, die Ware God, Hy wat die sleutel van Dawid het, wat die deur oopsluit en niemand sal dit weer toesluit nie, en dit toesluit en niemand sluit dit weer oop nie.  Vir die gemeente in Filadelfia stel Christus Homself voor met veral vier van Sy karaktereienskappe. 

Eerstens sê Hy, dat Hy die Heilige is, omdat Hy vir ewig en geheel en al sonder sonde is en Sy regverdige oordeel oor sondaars is dan juis ook ’n duidelike uitdrukking van Sy heiligheid. – Hy ís tog immers God. 

Tweedens is Hy die Ware God. Dit is Hy en Hy alleen wat die ware en lewende God is en dit ís so omdat Hy Waarheid is. In Hom is daar geen valsheid nie en voor Hom sidder almal wat vals is. 

Derdens is Hy die Besitter van die Sleutel van Dawid.  Hierdie is ’n sinspeling op Jes.22:22.  ’n Sleutel is simbool van gesag en verantwoordelikheid om besluite te neem en hierdie sleutel van geweldige verantwoordelikheid is destyds in Jes.22, aan Eljakim gegee – ons lees daarvan in verse 19-22 ~ Die Here sal jou uit jou amp ontslaan, Hy sal jou wegvat uit die plek waar jy in diens is. 20Dan sal Ek my dienaar Eljakim seun van Gilkija roep, sê die Here, 21Ek sal jou ampskleed vir hom aantrek, jou serp vir hom omhang en die gesag wat jy nou het, vir hom gee. Hý sal vir die mense van Jerusalem en vir die inwoners van Juda ’n vader wees. 22Aan hom sal Ek die sleutels van die koning se huis gee; wat hý oopsluit, sal niemand toesluit nie, wat hý toesluit, sal niemand oopsluit nie

Die persoon wat die verantwoordelikheid gedra het om die paleis oop en toe te sluit en om, om te sien na die paleis se algemene huishouding, moes uiteraard ’n uiters betroubare persoon gewees het en hy het dan ook ’n kleed gekry met ’n serp wat oor sy skouer gehang het, met die paleis se sleutel daaraan. Hierdie is dieselfde idee van gesag en verantwoordelikheid wat van Jesus Christus in Jes.9:6 gesê word ~ Sy heerskappy sal uitbrei, en Hy sal vir altyd vrede en voorspoed bring. Hy sal op die troon van Dawid sit en oor sy koninkryk regeer. Hy sal dié koninkryk vestig en in stand hou deur reg en geregtigheid, van nou af en vir altyd. Daarvoor sal die onverdeelde trou van die Here die Almagtige sorg

Ons kan dus sê, en dit is dan ook wat met hierdie hele gedagte gekommunikeer word, dat Jesus die draer van die Koninkryk se sleutels is en dat Hy alleen beklee is met die verantwoordelikheid en gesag om toegang tot die Hemelse Koninkryk te beheer en dat Hy die huishoudelike sake van die Hemelse Koninkryk beheer – daardie posisie beklee Hy dan ook vir ewig, daarom dat Jes.22:23a sê ~ Ek sal hom in sy amp bevestig, hy sal wees soos ’n spyker wat goed ingeslaan is. Christus se Koninkryk is dus onveranderlik en ewig en Hy is die Voorsiener van lewe en alles wat Sy kinders nodig het.

Vierdens is Christus die Een wat die deur oopsluit en toesluit.  Hierdie benaming hang baie nou saam en is ’n uitvloeisel van die vorige benaming, nl. die Besitter van die Sleutel van Dawid.  Christus is die Enigste Een wat oor soewereine krag beskik om toegang te verleen of te weier tot tydelike of ewige seën hier op aarde, of in die hemel.

·           Christus se Aanprysing:
Openb.3:8 ~ Ek weet alles wat julle doen. Kyk, Ek het ’n deur voor julle oopgesluit en niemand kan dit weer toesluit nie. Ek weet dat julle min krag het, en tog het julle aan my boodskap vasgehou en My nie verloën nie. Wanneer Christus verwys na hierdie gemeente as ’n gemeente met min krag, moet ons nie negatief daaroor dink nie – dit was m.a.w. nie ’n negatiewe opmerking t.o.v. hul hulpeloosheid ens. nie, maar in die konteks gesien, is dit juis ’n verwysing na hul krag, want hulle was min, of klein in getal, maar kragtig in optrede en getuienis. Die oorgrote meerderheid van die lidmate was waarskynlik arm en het deel uitgemaak van die laer vlakke van die samelewing – dink maar aan Paulus se beskrywing van die gelowiges in 1Kor.1:26 ~ Dink maar net, broers, aan wat julle was toe julle geroep is. Volgens die opvatting van mense was daar nie baie geleerdes of baie invloedrykes of baie mense van aansien onder julle nie. Maar saam met Paulus kon die lidmate van die Filadelfiagemeente gesê het ~ My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees. 10Daarom is ek bly oor swakhede, beledigings, ontberings, vervolging en moeilikhede ter wille van Christus, want as ek swak is, is ek sterk (2 Kor.12:9-10).

Ten spyte dus van hulle getalle wat min was, het geestelike krag van hierdie gemeente uitgevloei en is mense na Christus gelei en is lewens verander en is die Evangelie van Jesus Christus verkondig.

Christus prys hierdie gemeente vir ’n tweede ding en dit is dat hulle aan (Sy) boodskap vasgehou (het)Hulle het dus getrou gebly en vasgehou aan Sy Woord en die waarhede daarin en hulle het dienooreenkomstig, in gehoorsaamheid gelewe.  Saam met Job kon hulle sê ~ Sy bevel verontagsaam ek nie, ek heg meer waarde aan sy woorde as aan my eie begeertes (Job 23:12).

Verder prys Christus die gemeente vir die feit dat hulle (Hom) nie verloën (het) nie. Hierdie gemeentetjie het getrou aan God gebly ten spyte van vervolging en swaarkry. 

Dit was dieselfde onwrikbare “uithou en vasbyt” wat Jesus se aardse lewe gekenmerk het (Hebr.12:2-4) en dit is ’n voorbeeld wat alle gelowiges moet navolg – net so moet ons ook volhard tot die einde toe (2Tes.3:5) – trouens, volharding is ’n integrale deel van reddende geloof – Matt.10:22 ~ Julle sal ter wille van my Naam deur almal gehaat word. Maar wie tot die einde toe volhard, sal gered word. Op grond van hierdie gemeente se volgehou getrouheid, maak Christus ’n verstommende belofte aan hulle, nl. ~ Kyk, Ek het ’n deur voor julle oopgesluit en niemand kan dit weer toesluit nie. Christus sê dus aan hulle, dat hulle redding verseker is en dat niemand hulle ooit uit Sy hand sal ruk nie. Hy sê egter ook aan hulle dat Hy aan hulle ’n wawyd oop deur van geleenthede gee – geleenthede om die evangelie te verkondig.  Dit laat ’n mens terug dink aan die woorde van Paulus in 1Kor.16:8-9 ~ Ek sal egter tot pinkster in Efese bly, 9want hier staan ’n groot en belangrike deur vir my oop, maar hier is ook baie teenstanders. Ook in 2Kor.2:12 praat Paulus van hierdie “oop deur/e” wanneer hy sê ~ Toe ek in Troas gekom het om die evangelie van Christus daar te verkondig, het die Here die deure vir my wyd oopgemaak. In Kol.4:2-3 skryf Paulus aan die Kolossense ~ Volhard in die gebed! Wees daarby waaksaam en dankbaar 3en bid tegelykertyd ook vir ons. Bid dat God vir ons ’n deur vir die woord oopmaak sodat ons die geheimenis van Christus kan verkondig waarvoor ek hier gevange sit. Dit is baie duidelik dat Paulus hier verwys na geopende deure om die Evangelieboodskap te verkondig.

Christus sê derhalwe hier vir die gelowiges van Filadelfia dat hulle stad ideaal geleë is vir die verkondiging van die Evangelie.

·           Christus se Bestraffing:
Soos reeds gemeld, het hierdie gemeente geen bestraffing van Christus ontvang nie.

·           Christus se Raad:
Christus gee ook geen raad aan hulle nie – net beloftes.

·           Christus se Belofte:
Openb.3:9-13 ~ Kyk, ek beskik dat van die lede van die sinagoge van die Satan, die mense wat daarop aanspraak maak dat hulle Jode is, en dit nie is nie, maar lieg—kyk, Ek sal maak dat hulle kom en voor julle kniel en erken dat Ek julle liefhet. 10Omdat julle aan die boodskap van my volharding in lyding vasgehou het, sal Ek julle ook vashou in die tyd van beproewing wat oor die hele wêreld gaan kom om die bewoners van die aarde op die proef te stel. 11Ek kom gou. Hou vas wat julle het, sodat niemand julle kroon wegvat nie. 12Elkeen wat die oorwinning behaal, sal Ek ’n pilaar in die tempel van my God maak, en hy sal vir altyd daar bly. Ek sal op hom die Naam van my God skrywe en die naam van die stad van my God, die nuwe Jerusalem, wat van my God af uit die hemel uit afkom. En Ek sal ook my eie nuwe Naam op hom skrywe. 13Elkeen wat kan hoor, moet luister na wat die Gees vir die gemeentes sê.

Van die sewe gemeentes ontvang die gemeente in Filadelfia die meeste beloftes – beloftes waaraan Christus Hom verbind.

Ons het reeds in v.8 gesien dat Christus vir hulle sê ~ Kyk, Ek het ’n deur voor julle oopgesluit en niemand kan dit weer toesluit nie – Hul redding is dus vas en seker

Net soos in die geval van Smirna, is die gelowiges in Filadelfia onderwerp aan vervolging deur ongelowige Jode en omdat hulle (die Jode) Christus Jesus, nie as Messias erken het nie, was hulle nie deel van die Sinagoge van God nie, maar wel van die Sinagoge van die Satan. Al het hulle beweer dat hulle Jode was, was hulle dit nie. Hulle was wel kultureel en seremonieel Jode en volgens ras was hulle ook Jode, maar hulle was nie régtig Jode nie – Dit klink na ’n teenstrydigheid, maar Paulus gee vir ons die verklaring hiervoor wanneer hy ’n rasegte Jood in Rom.2:28-29 vir ons beskryf ~ U het my die paaie van die lewe geleer; u teenwoordigheid sal my met vreugde vul. 29“Broers, wat ons voorvader Dawid betref, moet ek dit vir julle duidelik stel: Hy het gesterwe en is begrawe, en sy graf is nou nog hier by ons

Christus belowe die gelowiges in hierdie klein gemeentetjie, dat hierdie selfde Jode wat die gelowiges vervolg, nog eendag sal kom en op hul knieë sal staan en erken dat Christus waarlik die Messias is. Hulle sal waarskynlik terselfdertyd doen wat in Hand.2:37 beskryf word ~ By die aanhoor hiervan is die mense diep getref en het hulle vir Petrus en die ander apostels gevra: “Wat moet ons doen, broers?” En as ons Hand.2:38 hiermee saam lees, nl. ~ Toe antwoord Petrus hulle: “Bekeer julle en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus, en God sal julle sondes vergewe, en julle sal die Heilige Gees as gawe ontvang, dan is dit duidelik dat Christus nog verder vir die groepie in Filadelfia sê, dat wanneer dít gebeur daar nog ’n verdere deur vir hulle sal oopgaan om die Evangelie te verkondig.

Hierdie belofte dat die Jode sal erken dat Jesus hierdie groepie gelowiges lief het, is natuurlik ook ’n vervulling en verwysing na Jes.60:14 waar daar verwys word na die ongelowige heidene wat voor die gelowige oorblyfsel van Israel sal kom kniel ~ ...dié wat jou verdruk het, sal na jou toe kom en buig, almal wat jou met minagting behandel het, sal by jou voete kniel. Hulle sal jou noem: Stad van die Here, Sion van die Heilige van Israel (sien ook Jes.45:14; 49:23). Wat wil Christus dan deur hierdie belofte sê? Die getrouheid van hierdie klein groepie gelowiges sal beloon word met die redding van sommige van hierdie selfde Jode wat hulle nou vervolg.

Hierdie is dus ’n derde belofte wat aan die gemeente gemaak word – die eerste was dat hul redding vas en seker was; die tweede, dat die Jode uiteindelik sal erken dat Christus waarlik die Messias is en die derde was die belofte van ’n oop deur om die Evangelie te verkondig.

’n Vierde belofte vind ons in vers 10 ~ Omdat julle aan die boodskap van my volharding in lyding vasgehou het, sal Ek julle ook vashou in die tyd van beproewing wat oor die hele wêreld gaan kom om die bewoners van die aarde op die proef te stel

Christus belowe die gelowiges dat Hy hulle ten tye van vervolging, wat binnekort sou volg (Openb.1:1), sou vashou. Die vrede wat in die harte van gelowiges leef oor die wederkoms van Christus en die belofte dat Hy hulle sal vashou, sal help dat gelowiges deur beproewing kan gaan – dit is o.a. waarom dit so belangrik is dat ons ’n ewigheidsperspektief sal hê.

Ons vind ’n vyfde belofte in vers 11, nl. dié van ’n kroon en natuurlik verwys hierdie kroon na die ewige lewe in die hemel, wat wag op die getroue gelowiges. Omdat Christus se koms egter enige oomblik kan plaasvind, word daar aan die gelowiges in Filadelfia gesê dat hulle moet volhard tot die einde toe, want dan sal hulle die Kroon van die Lewe ontvang. Dit herinner ons aan die woorde in Openb.2:10 ~ Moenie bang wees vir wat julle alles gaan ly nie. Kyk, die duiwel gaan party van julle in die tronk laat gooi, sodat julle in beproewing sal kom, en julle sal tien dae lank baie swaar kry. Bly getrou tot die dood toe, en Ek sal julle die lewe as kroon gee.

Ons vind ’n sesde belofte in vers 12, nl. dat diegene wat oorwin, of te wel volhard tot die einde toe, ’n pilaar in die tempel van God (ge)maak (sal word), en hy sal vir altyd daar bly. ’n Pilaar simboliseer stabiliteit en permanensie. Pilare kan egter ook eer verteenwoordig. Ons sien ook in Gal.2:9 dat daar na die leiers van die kerk in Jerusalem verwys word as pilare. Hierdie metafoor word dan ook oorgedra na die hemelse koninkryk, en impliseer dus dat die gelowiges in die hiernamaals nie meer vervolging sal ervaar nie en dat hulle verseker word van ’n ewige lewe in die hemel – hulle sal dus nooit daar kan “uitval” nie (Joh.10:28).

Ons lees in ander dele van Openbaring dat daar ook ’n Tempel in die hemel gaan wees (sien Openb.7:15; 11:19 en 15:6-8) en dat hierdie Tempel se dak omhoog gehou sal word deur Pilare en die eer om deel uit te maak van hierdie groep gelowiges wat pilare in God se Tempel gaan wees, sal o.a. die “Filadelfiërs” toekom.

Om nog verder luister en heerlikheid te verleen aan die ererol wat die “Pilare van Filadelfia” gaan speel, sal Christus ’n sesde belofte nakom en dit is dat Hy aan hulle drie name sal gee:
·           Eerstens sal die Naam van die Vader aan hulle gegee word, wat daarop dui dat hulle, die Vader se besitting is – nog verdere sekuriteit dat hulle nooit uit die hemel gewerp sal word nie.
·           Die Naam van die Nuwe Jerusalem sal aan hulle gegee word, wat weereens dui op hulle ewige burgerskap in die hemel waarvan die hoofstad die nuwe Jerusalem sal wees (sien Openb.21).
·           Laastens word Christus se nuwe Naam aan hulle belowe. Hierdie Naam verteenwoordig die volheid van Sy Persoon. Volgens 1Joh.3:2 sal alle gelowiges Christus sien soos Hy is – in al Sy heerlikheid en ons sal toegelaat word om Hom op Sy nuwe Naam te noem – inteendeel, ons sal dieselfde naam dra.

Hierdie brief aan Filadelfia word op dieselfde wyse afgesluit as al die ander briewe, nl.: Elkeen wat kan hoor, moet luister na wat die Gees vir die gemeentes sê. Gelowiges (van alle tye) moet dus luister na hierdie briewe en ag slaan daarop, omdat hierdie boodskappe vir alle gelowiges is.


[1] Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te VAALDRIEHOEK Baptiste Gemeente (Vereeniging) - Sondagoggend 19 Februarie 2012

Saturday 11 February 2012

Sewe Briewe aan Sewe Gemeentes - 05 (Die Gemeente in Sardis)

1.     SKRIFLESING:
Openb.3:1-6 ~ Skrywe aan die leraar van die gemeente in Sardis: So sê Hy wat die sewe Geeste van God en die sewe sterre het: Ek weet alles wat julle doen. Ek weet dat julle die naam het dat julle lewe, en tog is julle dood. 2Word wakker en versterk wat nog by julle oorgebly het, wat op die punt staan om dood te loop. Wat julle doen, vind Ek nie goed genoeg voor die oë van my God nie. 3Dink daaraan hoe julle die evangelie ontvang en daarna geluister het. Hou daarmee vol en bekeer julle. As julle nie wakker word nie, sal Ek onverwags kom soos ’n dief, en julle sal nie weet wanneer Ek op julle sal afkom nie. 4Maar julle het darem ’n paar mense daar in Sardis wat nie hulle klere besoedel het nie, en hulle sal altyd in wit klere by My wees omdat hulle dit waardig is. 5Elkeen wat die oorwinning behaal, sal sulke wit klere dra. Ek sal nooit sy naam uit die boek van die lewe uithaal nie, en Ek sal voor my Vader en voor sy engele verklaar dat hy aan My behoort. 6Elkeen wat kan hoor, moet luister na wat die Gees vir die gemeente sê.

2.     INLEIDING:
Ons briewebesteller het vanaf Tiatira, in ’n suid-oostelike rigting gedraai en na die stad Sardis gegaan.  Ons kan onsself indink oor die afwagting wat onder die gemeentelede in Sardis geheers het, want teen hierdie tyd het hulle dalk al gehoor van die briewe wat by die gemeentes in Efese, Smirna, Pergamum en Tiatira, afgelewer is en hulle kon dalk ook gehoor het van die goeie dinge waaroor Christus die vorige gemeentes aangeprys het – en as Hy dit met hulle kon doen, hoeveel te meer nie met hulle nie, want dit was geen geheim dat hulle bekend gestaan het as ’n groot, sterk en lewende gemeente, maar kom ons kyk wat het alles in hulle brief gestaan.

2.    DIE GEMEENTE IN SARDIS (3:1-6):
·           Die Geadresseerde Gemeente: 
Openb.3:1a ~ Skrywe aan die leraar van die gemeente in Sardis.  Die stad Sardis is in ongeveer 1200 v.C. gestig en was die ou hoofstad van die provinsie Lidia en het beroemd geraak vir sy rooi kleursel en wolprodukte, asook sy spoelgoud wat uit die nabygeleë Pactolusrivier gekom het.  Goud en silwer munte was waarskynlik ook die eerste keer in die geskiedenis van die wêreld, hier in Sardis gemunt. 

Die stad was geleë op ’n hoë berg wat onbereikbaar was van drie kante, a.g.v. loodregte kranse en aan die eenkant kon jy die stad net met ’n steil paadjie bereik.     Ook was hierdie stad bekend vir sy immoraliteit en dit opsigself het dit baie uitdagend gemaak vir gelowiges om daar, geestelik te kon oorleef en dit word bevestig deur die feit dat min van die gelowiges nie “hulle klere besoedel” het nie (v.4).  Aanbidding van die godin Diana (soos in Efese) het ook hier plaasgevind. 

Die stad is in 17 n.C. deur ’n verwoestende aardbewing bykans heeltemal plat gevee, maar was later weer herbou.

Hierdie gemeente het waarskynlik ook tot stand gekom onder die bediening van Paulus (Hand.19:10).  Heel moontlik was die mees prominente inwoner van Sardis, ’n man met die naam van Melito.  Hy was ’n apologeet (iemand wat die Christelike geloof verdedig het) en het gedurende die tweede eeu na Christus, as biskop van Sardis gedien.  Hy word ook erken as die persoon wat die vroegste erkende kommentaar oor gedeeltes van Openbaring geskryf het. 

·           Die Beeld van Christus:
Openb.3:1b ~ So sê Hy wat die sewe Geeste van God en die sewe sterre het.  Christus staan besonderlik bekend as dié Een van wie die Reinigende Heilige Gees kom en onder Wie se gesag en leiding die Kerk staan (sterre = 1:20).  Alhoewel die kerk deur die bloed van Jesus Christus gekoop is, is dit deur die Heilige Gees dat Christus se verlossing en versoening, toegepas word.  Dit is deur die Gees dat individue en gemeentes se geestelike lewe tot stand kom en groei – dit is deur die werking en die krag van die Heilige Gees dat die lewenslange proses van stry teen die sonde en heiligmaking plaasvind.  Dit is deur die Gees dat geestelike gawes geskenk en toegepas word aan en in die gemeente.  Dit is deur die Gees dat die kerk gebou word.  In kort, dit is deur die Heilige Gees dat Christus Sy Bruid (die kerk) voed en deur die ouderlinge, lei en regeer Hy die kerk.  Deur Homself as die Skenker van die Gees, asook die ouderlinge voor te stel, maak Christus dit baie duidelik, dat Hy die Hoof van die kerk is en aan Wie almal moet onderwerp.

·           Christus se Bestraffing:
As ons na die volgende hoofpunt, wat die struktuur van die briewe volg, wil kyk, nl. Christus se aanprysing, wyk dit hier so bietjie af van die normale volgorde wat die teksverse volg en spring ons eers na Christus se bestraffing en ons vind dit in Openb.3:1c ~ Ek weet alles wat julle doen. Ek weet dat julle die naam het dat julle lewe, en tog is julle dood.  As Hoof van die gemeente en deur Sy alwetendheid, is Christus 100% bewus van die gemeente se valsheid.  Hierdie gemeente het op die oog af ’n wonderlike reputasie gehad, maar van binne was dit korrup en vals en geestelik morsdood.  Daar het geen lewensaar tussen die gemeente en Christus bestaan nie.

Alles het administratief en organisatories baie goed gegaan in die gemeente – so ook wat betref die bywoning van die eredienste en selfs die groei van die kerk in lidmaattal.  Oënskynlik was daar ook niks fout te vinde met hulle teologie of dissipline nie.  Maar, soos die geval met die kerk in Efese, was die geloof van die lidmate dooie werke en het daar geen liefde vir Christus bestaan nie. Die prediking het waarskynlik ook nie uit liefde, dankbaarheid en gehoorsaamheid aan die Woord en tot eer van God geskied nie.

Kerklike “sukses” gaan dus nie net oor pragtige geboue, groot lidmaat getalle, pragtige en oënskynlik geseënde bedieninge en allerlei programme nie.  Ook gaan dit nie oor vooraanstaande name in die gemeente nie.  Selfs met al hierdie dinge kan ’n gemeente geestelik morsdood wees en in die gemeente van Sardis was daar oënskynlik geen geestelike groei en heiligmaking teenwoordig nie. 

Ons kan ook nie uit die brief agterkom of daar enige dwaalleer of vervolging in die gemeente was nie en waarom sal die satan dan nou ook ’n dooie kerk wíl mislei en vervolg?  Ons sal egter binnekort sien dat van hierdie dinge wel in die gemeente teenwoordig moes gewees het.

Hierdie gemeente was waarskynlik meer besorgd oor hulle reputasie by mense as oor hul reputasie in die hemel – meer besorgd oor die goedkeuring en aanprysing van ander gemeentes en mense, as vir die aanprysing van Christus.

Die hartseer ding van hierdie gemeente was dat hulle mislukkings nie die uitsondering was nie, maar die reël en daarom was Christus se eerste woorde, nie soos in die ander gevalle, ’n woord van gelukwensing nie, maar een van kritiek.  Dalk is hierdie dan ook ’n aanduiding van hoe Christus voel oor mense wat hulle voordoen vir iets of iemand wie hulle nie is nie.

·           Christus se Raad:
Nog steeds is ons nie by die normale volgorde nie en kyk ons eers na Christus se raad, wat ons in Openb.3:2-3 vind.    Word wakker en versterk wat nog by julle oorgebly het, wat op die punt staan om dood te loop. Wat julle doen, vind Ek nie goed genoeg voor die oë van my God nie. 3 Dink daaraan hoe julle die evangelie ontvang en daarna geluister het. Hou daarmee vol en bekeer julle. As julle nie wakker word nie, sal Ek onverwags kom soos ’n dief, en julle sal nie weet wanneer Ek op julle sal afkom nie.  Christus gee hier ’n viervoudige oplossing aan die oorblyfsel van die gemeente wat getrou gebly het en Hy praat spesifiek met die oorblyfsel van getroues, omdat dit nie help om met die “dooies” te praat nie.

Eerstens moes die gemeente wakkerskrik en besef dat aanvaarding by die wêreld, nie noodwendig aanvaarding by God is nie.  Hulle kon dus nie maar net voort dryf en maak soos almal om hulle maak nie.  Hulle moes aktief betrokke raak en sonde in hulle midde identifiseer en dit met wortel en tak uitroei.

Tweedens moes hulle daardie dinge versterk wat nog oorgebly het, maar wat op die punt gestaan het om ook dood te loop.  ’n Radikale geestelike lewe het kort gekom in die gemeente en dit moes weer aangeblaas word.

Derdens moes die getroue gelowiges wat oorgebly het in die gemeente, alles wat hulle vantevore gehoor en ontvang het, in herinnering roep.  Hulle moes terugkeer na die Woord van die Here.  Dit is dus duidelik dat die Here Jesus ’n baie hoë premie plaas op die lê van die regte fondasies in ’n gemeente, want dit stel bepaalde standaarde waarvolgens ’n gemeente kan en moet lewe en wanneer dit nodig mag wees (soos hier in die geval van die gemeente in Sardis), kan daar “teruggegryp” word na die standaarde en fondasie wat in die verlede gelê is.  Dit herinner ons aan 2:5 ~ Dink daaraan hoe ver julle al agteruitgegaan het. Bekeer julle en doen weer wat julle in die begin gedoen het.  Hier in Sardis was dit dus nodig om die fondasie weer stewig te ontgin en waar nodig oor te lê, want slegs dít kan die restourasie proses in die gemeente suksesvol laat verloop – ’n mens kan amper sê dat dit ’n “back-to-basics” situasie is.

Vierdens moes hulle op ’n plek kom waar hulle sondebelydenis moes doen.  Geen geestelike verval kan reggestel word deur dit “reg te dokter” met allerlei menslike oplossings, programme of tegnieke nie – ernstige en opregte selfondersoek moet gedoen word; sonde moet bely word en bekering moet plaasvind waar nodig.

Hierdie vier stappe, indien dit toegewyd toegepas en uitgeleef word, sal geestelike herlewing in elke individuele lidmaat, maar ook in die gemeente, korporatief tot gevolg hê.

·           Christus se Aanprysing:
Nou keer ons terug na Christus se aanprysing en wel in Openb.3:4 ~ Maar julle het darem ’n paar mense daar in Sardis wat nie hulle klere besoedel het nie, en hulle sal altyd in wit klere by My wees omdat hulle dit waardig is.  In die midde van hierdie dooie gemeente, gevul met mense wat ongered was, was daar darem ’n paar opregte gelowiges.  Ongelukkig was hulle nie genoeg om die gemeente se status in die oë van Christus van ’n dooie gemeente na ’n lewende gemeente te verander nie, maar Christus het nie diegene wat getrou aan Hom gebly het, vergeet nie.  Dit laat ’n mens dink aan Mal.3:16-17 en Hebr.6:10 ~ Toe het die mense wat eerbied vir die Here het, onder mekaar geredeneer, en die Here het dit gehoor en daarop ag geslaan. Daar is ’n gedenkboek voor Hom geskryf met die name van dié wat eerbied vir die Here het en waarde heg aan sy Naam. 17 Hulle sal vir My ’n kosbare besitting wees die dag as Ek ingryp, sê die Here die Almagtige. Ek sal goed wees vir hulle, soos iemand goed is vir sy seun wat vir hom werk (Mal.3:16-17) en ...God is nie onregverdig nie: Hy sal julle werk nie vergeet nie en ook nie die liefde wat julle vir sy Naam betoon het deurdat julle julle medegelowiges gedien het en nog dien nie (Hebr.6:10).

Een van die deurlopende temas van die Woord is dat God voortdurend besig is om Sy “getroue oorblyfsel” (Sy kinders wat getrou aan Hom bly), te bewaar.  Paulus beskryf dit pragtig in Rom.11:1-5 ~ “Het God dan nie tog sy volk verstoot nie?” sou iemand kon vra. Beslis nie! Ek is immers self ook ’n Israeliet, ’n afstammeling van Abraham, uit die stam Benjamin. 2 God het sy volk, wat Hy lank tevore verkies het, nie verstoot nie. Of weet julle nie wat die Skrif sê van Elia nie, hoe hy by God oor Israel gekla het: 3 “Here, hulle het u profete doodgemaak en u altare afgebreek, en net ek het oorgebly, en hulle wil my ook om die lewe bring.” 4 Maar wat het God hom geantwoord? “Ek het vir My sewe duisend manne laat oorbly wat nie vir Baäl aanbid het nie.” 5 Net so is dit ook vandag: daar is ’n oorblyfsel wat uit genade deur God uitverkies is.  God het dus ’n “oorblyfsel” – selfs in die dooie gemeente van Sardis!  Daar was ’n paar opregtes tussen die huigelaars en geveinsdes; ’n paar nederiges tussen die hoogmoediges; ’n handjievol tussen die wêreldlinge; ’n paar koringare tussen die onkruid.

Christus beskryf die paar mense wat getrou gebly het, as ’n paar mense daar in Sardis wat nie hulle klere besoedel het nie.  Die woord besoedel in die Grieks beteken om te  “bevlek”; of te “besmet”, of te “skend”, of “vuil te maak”, of te “verontreinig”, of te “besoedel”, of te “onteer”.  Hierdie woord was ook gebruik wanneer wol gekleur is en derhalwe moes dit ’n bekende woord in die gemeente van Sardis gewees het. 

“Kledingstukke” of “klere” word weer in die Skrif gebruik om karakter te versinnebeeld, Jes.64:6 ~ Ons het almal geword soos mense wat onrein is, ons beste dade is soos vuil klere; of Judas 23 ~  Ander moet julle red deur hulle uit die vuur te ruk. Oor ander moet julle julle met versigtigheid ontferm; en verafsku selfs die klere wat deur hulle sondige luste besmet is.

Die wonderlike nuus vir die getroues in Sardis is dat hulle met vrymoedigheid in die teenwoordigheid van God kon kom omdat hulle klere nie bevlek is nie, maar dat hulle getrou was aan hulle goddelike karakter.

Christus sê ook spesifiek vir hierdie gelowiges dat hulle altyd in wit klere by (Hom) sal wees omdat hulle dit waardig is.  In die antieke dae het mense wit klere aangetrek wanneer hulle fees gevier het en wit het ook reinheid gesimboliseer.  Hierdie “wit klere van reinheid” wat Christus hier in v.4 & v.5 belowe, is dieselfde klere wat Christus gedra het Matt.17:2 ~ Daar het sy voorkoms voor hulle oë verander: sy gesig het begin straal soos die son, en sy klere het wit geword soos die lig.  Ook die heilige engele dra hierdie wit klere (Matt.28:3).  En hoe word hierdie gelowiges se klere wit? – Openb.7:14 ~ ...Hulle het hulle klere gewas en dit wit gemaak in die bloed van die Lam.

Elke gelowige – m.a.w. elke heilig verklaarde (heilig verklaar deur God en nie mense, of soos in die R.K.K. nie) sal uiteindelik volmaakte heiligheid en reinheid ontvang in die hiernamaals.

Ten spyte van die feit dat ons dalk mag dink of glo dat ons dalk sosiaal nie so belangrik soos sommige mense is nie; of dat ons dalk akademies of intellektueel, of finansieel minder goed bedeeld en geseënd is, mag ons nooit, ooit dink dat Christus nie ons getrouheid raaksien nie.  Ook nie omdat ons dalk ’n klein gemeentetjie is nie.  Hy ken elkeen van ons op die naam en Hy ken ons werke!

·           Christus se Belofte:
Openb.3:5-6 ~ Elkeen wat die oorwinning behaal, sal sulke wit klere dra. Ek sal nooit sy naam uit die boek van die lewe uithaal nie, en Ek sal voor my Vader en voor sy engele verklaar dat hy aan My behoort. 6 Elkeen wat kan hoor, moet luister na wat die Gees vir die gemeentes sê.  Nadat Christus die gemeente aangespreek en raad aan hulle gegee het, kom Hy met hierdie wonderlike bemoediging en belofte.

Eerstens, soos reeds gesê, sal al die getroue gelowiges geklee word in wit klere (onthou:  wit simboliseer reinheid – skoon gewas deur die bloed van Christus dus).  Alle ware gelowiges sal hierdie wit klere dra wanneer hulle aansit by die bruilofsmaal van die Lam van God – Openb.19:7-9 ~ Laat ons bly wees en juig en aan Hom die eer gee, want die bruilof van die Lam het aangebreek, en sy bruid het haar daarvoor gereed gemaak. 8 God het haar dit vergun om fyn, helder blink klere aan te trek.” Hierdie fyn klere is die regverdige dade van die gelowiges. 9 Toe sê die engel vir my: “Skryf op: Geseënd is hulle wat na die bruilofsmaal van die Lam uitgenooi is.” Verder sê hy vir my: “Dit is die woorde van God, en hulle is waar.” 

Tweedens belowe Christus dat Hy nooit die name van die ware gelowiges uit die Boek van die Lewe sal vee nie. Trouens, Christus belowe dat Hy elke getroue gelowige se naam voor die Vader en die Engele sal noem en verklaar dat ons aan Hom behoort.  Hier herbevestig Christus dus die belofte wat Hy in Matt.10:32 gemaak het, nl. ~ Elkeen wat hom voor die mense openlik vir My uitspreek, vir hom sal Ek My ook openlik uitspreek voor my Vader wat in die hemel is.  Die gerusstellende waarheid en sekuriteit t.o.v. die gelowige se ewige redding loop soos ’n goue draad regdeur die Woord van God en word waarskynlik nêrens mooier en vollediger beskryf as in Rom.8:28-39 nie ~ Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is. 29 Dié wat Hy lank tevore verkies het, het Hy ook bestem om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat sy Seun baie broers kan hê van wie Hy die Eerste is. 30 Dié wat Hy daartoe bestem het, het Hy ook geroep. En dié wat Hy geroep het, het Hy ook vrygespreek.  En dié wat Hy vrygespreek het, het Hy ook verheerlik. 31 Wat is nou ons gevolgtrekking oor al hierdie dinge? Dít: God is vír ons, wie kan dan teen ons wees? 32 Hy het sy eie Seun nie gespaar nie, maar Hom oorgelewer om ons almal te red. Sal Hy ons dan nie al die ander dinge saam met Hom uit genade skenk nie? 33 Wie kan die uitverkorenes van God aankla? God self spreek hulle vry. 34 Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons. 35 Wie kan ons van die liefde van Christus skei? Lyding of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard? 36 Daar staan immers geskrywe: “Dit is oor U dat die dood ons dag vir dag bedreig, dat ons soos slagskape behandel word.” 37 Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet. 38 Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte 39 of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here

Hierdie brief aan Sardis word in vers 6 afgesluit met Christus wat daarop aandring dat die gemeente moet ag slaan op hierdie brief se inhoud.  Die gelowiges, of te wel diegene wat hulle gelowiges noem, moet dus wakker skrik voor dit te laat is en die handjievol gelowiges kan getroos voel met die wete dat hulle redding tot in ewigheid verseker is.

Wat het van Sardis geword?  Het hulle geluister na die waarskuwing?  Het daar herlewing gekom?  Die feit dat ’n man soos Melito etlike dekades na die skryf van hierdie brief daar gedien het, wil tog vir ons ’n aanduiding gee dat daar iets van ’n herlewing in die gemeente in Sardis moes plaasgevind het.

Ons kan ook bemoediging put uit hierdie brief en weet dat dit nooit te laat is om ons te bekeer en toe te sien dat die regte grondslag ook in ons lewe en in die lewe van ons  gemeente gelê word nie. Laat ons saam, maar ook individueel ons oë opnuut vestig op Jesus Christus en ons leer en lewe volkome aan Hom toewy.


[1] Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te VAALDRIEHOEK Baptiste Gemeente (Vereeniging) - Sondagoggend 12 Februarie 2012