Wednesday 30 January 2013


Let asb. daarop dat hierdie 'n ongeredigeerde weergawe van die oorspronklike lering is en die eerste en lateres, sal weldra ook geplaas word - daar word ook nog ernstig gedink aan beter vertalings vir die verskillende karakters se name - voorstelle sal verwelkom word

DIE PELGRIM SE REIS ~ 16
(Vir Oulaas in die Pragtige Paleis)
p.50-56   of   p.53-56  of  p. 61-63

1.  INLEIDING:
“Pelgrim” is nog steeds in die Pragtige Paleis en nadat daar ‘n pad van dissipelskap met hom geloop is deur “Godsvrug”, “Wysheid” en “Liefde” sien ons dat “Pelgrim” saam met die ander inwoners van die paleis, aansit vir ‘n ete.

Lees p.50-50 of 53-54 (1) of 61-62
Wat gebeur hier met hierdie ete?  Hebr.10:24-25 ~ Laat ons ook na mekaar omsien deur mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade. 25 Ons moenie van die samekomste van die gemeente af wegbly soos party se gewoonte is nie, maar mekaar eerder aanmoedig om daarheen te gaan, en dit des te meer namate julle die oordeelsdag sien nader kom.  Ons moet die onderlinge byeenkomste nie afskeep nie.  1Tes.5:11 ~ Praat mekaar moed in en versterk mekaar dan met hierdie woorde, soos julle trouens reeds doen.  Ons moet mekaar bemoedig.

Wat verteenwoordig hierdie aandete?  Daarna neem Hy ’n beker, spreek die dankgebed uit en sê: “Neem dit en gee dit vir mekaar aan. 18 Ek sê vir julle: Ek sal van nou af nie weer wyn drink voordat die koninkryk van God gekom het nie.” 19 Toe neem Hy brood, spreek die dankgebed uit, breek dit en gee dit vir hulle met die woorde: “Dit is my liggaam wat vir julle gegee word. Gebruik dit tot my gedagtenis.” 20 Met die beker na die maaltyd het Hy net so gemaak en gesê: “Hierdie beker is die nuwe verbond, beseël deur my bloed, wat vir julle vergiet word (Luk.22:17-20).  Ons moet dus die Nagmaal gereeld vier.

Hulle gesprek aan tafel behoort ook vir ons ’n aanduiding te wees waaroor ons gesprekke behoort te gaan, wanneer ons as gelowiges bymekaar is.  Hulle praat oor wat Jesus gedoen het, m.a.w. oor die kruis.  Hulle praat ook oor die Kerk, die Woord ens. en hulle roep dit alles in herinnering, deur saam die Nagmaal te vier.

N.a.v. die betekenis van hierdie ete en ook waaroor hulle gepraat het, moet ons 7 dinge onthou en ons moet dit aan die hand van 1Kor.11:23-32 onthou ~ Ek het van die Here ontvang wat ek ook aan julle oorgelewer het: Die Here Jesus het in die nag waarin Hy oorgelewer is, brood geneem 24 en, nadat Hy God daarvoor gedank het, het Hy dit gebreek en gesê: “Dit is my liggaam; dit is vir júlle. Gebruik dit tot my gedagtenis.” 25 Net so ook het Hy ná die maaltyd die beker geneem en gesê: “Hierdie beker is die nuwe verbond, wat deur my bloed beseël is. Gebruik dit, elke keer as julle daaruit drink, tot my gedagtenis.” 26 Elke keer as julle van hierdie brood eet en uit die beker drink, verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom. 27 Elkeen wat op ’n ongepaste wyse van die brood eet of uit die beker van die Here drink, sal skuldig wees aan sonde teen die liggaam en die bloed van die Here. 28 Maar elkeen moet eers homself ondersoek voor hy van die brood eet en uit die beker drink, 29 want hy wat eet en drink sonder om te besef dat dit die liggaam van die Here is, bring daardeur ’n oordeel oor homself. 30 Daarom is daar baie swakkes en sieklikes onder julle en sterf daar baie van julle. 31 As ons onsself vooraf reg ondersoek het, sou ons nie onder die oordeel gekom het nie. 32 Maar nou word ons deur die Here geoordeel en getugtig, sodat ons nie saam met die wêreld veroordeel sal word nie.

Die sewe dinge dan wat ons moet onthou:
*       Christus het ’n pynlike dood gesterf vir ons (Jes.52:14-53:5);
*       Christus het in ons plek gesterf – ’n Plaasvervangende dood dus. Ef.1:7 ~ Deur die bloed van sy Seun is ons verlos en is ons oortredinge vergewe kragtens die ryke genade van God (sien ook Matt.20:28; 1Pet.2:24).
*       Indien die mens die voordele van Christus se dood deelagtig wil word, moet Sy dood toegeëien word – ons moet dus in Hom glo ~ Joh.3:36 leer ons ~ Wie in die Seun glo, het die ewige lewe (sien ook 1Kor.11:17-29; Joh.7:37-39; 8:12; 6:35).
*       Die EEN beker wat Christus gedeel het met Sy dissipels, dui op die eenheid wat tussen broers en susters bestaan – Gal.3:28 ~ Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie: in Christus Jesus is julle almal één.
*       Die effek van Christus se dood het ‘n permanente effek – Hebr.9:12 ~ Met sy eie bloed en nie met dié van bokke en kalwers nie, het Hy net een maal die heiligdom binnegegaan en ’n ewige verlossing tot stand gebring.
*       Ons moet die doel van Christus se dood in gedagte hou, nl. dat ons vrygekoop is van die vloek van die wet – 1Pet.2:24 ~ Hy het self ons sondes in sy liggaam aan die kruis gedra. Daardeur is ons vir die sondes dood en kan ons lewe in gehoorsaamheid aan die wil van God. Deur sy wonde is julle genees.
*       Hy het opgestaan uit die dood; Hy lewe en Hy gaan weer terug kom.

Lees p.50-52 of 54-54 (2) of 62-62
“Pelgrim” word na die vertrek genaamd “Vrede” geneem.  Ons sien verder dat hy rustig slaap en die volgende oggend met sonsopkoms, verfris en al singende wakker word.  Dit laat ‘n mens onwillekeurig dink aan die verskillende en verskriklike maniere en metodes waarop mense probeer rus en vrede vind – deur bv. dwelms, “stress management” klinieke ens., ja selfs selfmoord, eerder as om in Christus en deur die bediening van die kerk, rus en vrede te vind.

Daar bestaan verskeie redes waarom “Pelgrim” vrede ervaar het:
*       Hy het vrede met God ervaar: Kol.1:21-22 ~ Ook julle was voorheen ver van God af en vyandiggesind teenoor Hom, soos blyk uit julle sondige lewenswyse. 22 Maar nou het Hy ook julle met Homself versoen deurdat sy Seun as mens gesterwe het om julle heilig, sonder smet en onberispelik voor Hom te stel (sien ook Rom.5:8; 8:7; Ef.2:3,11,12; 2Kor.5:21; Gal.3:10-13; Rom.3:22-25; Kol.1:22)
*       Hy het vrede met homself ervaar – Jes.57:20-21 ~ Maar die goddeloses is soos die onstuimige see wat nie tot rus kan kom nie en waarvan die golwe aanhou om slyk en modder uit te stoot. 21 Vir die goddeloses is daar geen vrede nie, sê my God (sien ook Rom.3:17; Fil.4:7; Joh.14:27; Ps.3:5; 4:8; Hand.12:1-9)
*       Hy het vrede met ander mense ervaar – Titus 3:3 ~ Vroeër was ons ook onverstandig, ongehoorsaam, op die verkeerde pad, verslaaf aan allerlei begeertes en singenot; ons het ons lewe in kwaadwilligheid en jaloesie deurgebring; ons was haatlik en het mekaar gehaat (sien ook Rom.3:13-17; Kol.3:15; Ef.4:3; 1Pet.1:22; Matt.5:9; Hebr.12:14).
*       “Pelgrim” moedig hierdie drie tipes vrede aan en hy is daarop ingestel, om dit ook voortdurend te bewaar en in stand te hou.  Ons moet leer hoe om hierdie vrede (met God, met onsself en met ons naaste) in stand te hou en ’n bestanddeel daarvan, is om voortdurend ingestel te wees daarop, dat ons berou sal hê oor ons eie sonde en ons daarvan bekeer, maar ook dat ons andere voortdurend sal vergewe.  Hoe kan ons dit regkry?  Deur in afhanklikheid van God ons daarvoor te beywer; gereeld daaroor te bid en ’n Godverheerlikende lewe te leef – Hebr.12:13 ~ Beywer julle vir vrede met alle mense asook vir ’n heilige lewe, waarsonder niemand die Here sal sien nie.  En dan natuurlik is Ef.4:1-3 van uiterste belang ~ Laat julle lewenswandel in ooreenstemming wees met die roeping wat julle van God ontvang het. 2 Wees altyd beskeie, vriendelik en geduldig, en verdra mekaar in liefde. 3 Lê julle daarop toe om die eenheid wat die Gees tussen julle gesmee het, te handhaaf deur in vrede met mekaar te lewe.

“Pelgrim” word nou na die Studeerkamer en daarna na die Wapenopslagplek geneem.
Lees p.50-51 of 54-56 (3) of 62-63
Waarop dui “Pelgrim” se besoek aan die Studeerkamer en spesifiek t.o.v. die kerk in die besonder en die gelowige in die algemeen?

Bunyan wil vir ons sê, dat hierdie die dinge is wat moet gebeur wanneer mense na die kerk kom  - hulle moet geleer en nie getrakteer word nie en dit is dan ook waarop die boeke in die Studeerkamer dui – Hand.2:42 ~ Hulle het hulle heelhartig toegelê op die leer van die apostels en die onderlinge verbondenheid, die gemeenskaplike maaltyd en die gebede, asook Rom.12:7 ~ As dit is om te dien, laat ons dien. As dit is om onderrig te gee, laat ons onderrig gee.  Ook 1Tim.2:7 ~ Met die oog hierop is ek aangestel as prediker en apostel, as ’n leraar om die heidennasies te onderrig in die boodskap van die geloof en die waarheid. Ek praat die waarheid, ek lieg nie (sien ook: 2Tim.3:16; Esra 7:10; 2Tim.2:15; 2:7; Ps.1:2; Joh.1:8; Jak.1:21-25).

Wat het “Pelgrim” geleer toe hy na die kerk gekom het?
*       Hy het geleer dat die Woord bestudeer moet word –  Dit is dan ook in ooreenstemming met 1Pet.1:10-12 ~ In verband met hierdie saligheid het die profete, wat die genade verkondig het wat vir julle bestem is, deeglik en noukeurig ondersoek ingestel. 11 Die Gees van Christus wat in hulle was, het vooruit verkondig dat Christus moet ly en daarna verheerlik sal word, en hulle het probeer naspeur wat die tyd en die omstandighede sou wees wat die Gees bedoel het. 12 Aan hulle is geopenbaar dat wat hulle geprofeteer het, nie vir hulleself bedoel was nie, maar vir julle. Nou het dié wat die evangelie aan julle verkondig het, dit aan julle bekend gemaak deur die Heilige Gees wat van die hemel af gestuur is. Dit is dinge waarin selfs engele begerig is om insig te kry.  Ook 2 Tim.3:16-17 ~ Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ’n regte lewenswyse te kweek, 17 sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk (sien ook:2Pet.1:20-21; Hebr.1:1-3; Luk.24:44-45; 2Tim.4:2; Judas 3).
*       Hy was egter ook spesifiek geleer van Christus Jesus en wat Christus vir Sy kinders gedoen het.  Hy het geleer van God se genade, maar hy het ook geleer van die lewens en dade van Goddelike mense, asook historiese feite en God se plan met die toekoms.

Nog iets wat belangrik is om na te kyk, is die feit dat “Pelgrim” in die oggend na die Studeerkamer geneem is – waarom?

Ps.5:2-4 ~ Luister tog na my woorde, Here, hoor hoe ek sug. 3 Gee tog aandag aan my hulpgeroep, my Koning en my God, want tot U bid ek. 4 U luister na my stem in die môre, Here, in die môre terwyl ek voor U verskyn en op U wag.  Ps.57:8-9 ~ 8 Ek voel weer veilig, o God! Ek voel weer veilig! Ek wil ’n lied sing, ja, ek wil sing. 9 Ek wil vroeg opstaan, met harp en lier wil ek die rooidag wakker maak!.  Ps.119:147 ~ In die oggendskemer roep ek om hulp en stel ek my vertroue in u woord.. Mark.1:35 ~ Die môre vroeg, toe dit nog nag was, het Hy opgestaan en buitentoe gegaan na ’n eensame plek en daar gebid.

Ons sien dus hier dat die vroeë oggendure, waarskynlik die beste tyd is om na die Here te kom in gebed en om Sy Woord te bestudeer.  Maar, ons kan uiteraard ter enige tyd na Hom kom – Ook gedurende die nag ~ Die hele nag lê ek wakker en oorpeins ek u woord (Ps.119:148).  Ook ander tye van die dag ~ Maar ek roep na God, na die Here wat my sal red. 18 In die aand, in die môre en in die middag, heeldag kla en sug ek, en Hy hoor my roep (Ps.55:16-17).

Hoe moet ons die Woord bestudeer?
*       Met geopende geestesoë (Ps.119:18)
*       Met vreugde (Ps.1:2)
*       Lê jou daarop toe om jou tot beskikking van God te stel as ’n arbeider wat die goedkeuring van God wegdra, ’n arbeider wat hom vir sy werk nie hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid suiwer verkondig (2Tim.2:15). 
*       Hoe?  Beskikbaar om skaamteloos, gehoorsaam.  En die Woord wat ek gelees het, moet ek suiwer verkondig
*       Met verwagting en geloof (Jes.8:19-20 – sien ook Ps.119:128)
*       Met verwagting dat ons lig vir ons pad sal vind (Ps.119:105)
*       Besef ons is in die teenwoordigheid van God (Hand.10:33)
*       Lees dit met ’n ontvanklike hart, asook onderskeiding (Hand.17:11)
*       Weet dat die hele Skrif deur God geïnspireer is (2Tim.3:16-17)
*       Die Kanon van die Woord is afgesluit (Luk.24:44 – sien ook Joh.5:39; Hebr.10:7)
*       Genade en vrede vloei voort uit die kennis van die Woord (2Pet.1:2,21 – sien ook Ef.1:17)

Waarom is dit noodsaaklik om die Woord noukeurig en toegewyd te bestudeer?
*       Ten einde God se wil te kan leer en doen (Hebr.10:7)
*       Kom ons lees Ps.19:8-10 ~ Die woord van die Here is volmaak: dit gee lewe. Die onderwysing van die Here is betroubaar: dit gee wysheid aan dié wat nog onervare is. 9 Die bevele van die Here dui die regte koers aan: dit bring blydskap. Die gebod van die Here is helder: dit gee insig.  Ons sien dus dat dit noodsaaklik is om God se Woord te lees, omdat dit wysheid gee; dit dui die regte koers aan en dit bring blydskap.  Dit gee ook insig
*       Dit onderrig ons in die waarheid; dit bestry dwaling.  Dit stel verkeerde dinge reg en kweek ’n regte lewenswyse.  Dit berei ook voor en  rus toe vir goeie werke (2Tim.3:16-17)
*       Bring geloof mee (Rom.10:17)
*       Dit beoordeel bedoelings en gedagtes (Hebr.4:12)
*       Dit snoei ons geestelik (Joh.15:3 – sien ook Ef.5:26)
*       Bou ons op en laat ons deel in die seën wat God aan ons belowe het (Hand.20:32)
*       Gee hoop (Rom.15:4)
*       Word al meer aan Christus gelyk (2Kor.3:18)
*       In Ps.119:1-176 verskyn daar talle redes waarom die Woord bestudeer moet word.

Lees p.51-52 of 55-56 (4) of 63-63
Ons het gesien dat “Pelgrim” van die Studeerkamer na die Wapenopslagplek geneem is.  Ons moet besef dat ons voortdurend in ’n geestelike stryd gewikkel is teen die satan en sy demone – 2Kor.10:3-4 ~ Natuurlik leef ons in ’n menslike liggaam, maar ons voer nie die stryd met menslike wapens nie. 4 Die wapens van ons stryd is nie die wapens van die mens nie, maar die kragtige wapens van God wat vestings kan vernietig. Daarmee vernietig ons die redenasies.

Ons moet ook besef dat ons nie passief in hierdie stryd kan staan nie –2Tim.2:3-4 ~ Dra jou deel van die ontberings soos ’n goeie soldaat van Christus Jesus. 4 ’n Soldaat in aktiewe diens wat sy bevelvoerder tevrede wil stel, bemoei hom nie met die dinge van die gewone lewe nie.

Hierdie stryd kan ons ook nie op ons eie behartig nie – daar moet ’n paar dinge gebeur – Ef.6:10-18 ~ Verder nog dit: Soek julle krag in die Here en in sy groot mag. 11 Trek die volle wapenrusting aan wat God julle gee, sodat julle op julle pos kan bly ondanks die listige aanslae van die duiwel. 12 Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen elke mag en gesag, teen elke gees wat heers oor hierdie sondige wêreld, teen elke bose gees in die lug. 13 Trek daarom die volle wapenrusting aan wat God julle gee, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle die stryd tot die einde toe gevoer het, nog op julle pos kan bly staan. 14 Bly dan op julle pos, toegerus met die waarheid as gordel om julle heupe, die vryspraak deur God as borsharnas, 15 en die bereidheid om die evangelie van vrede te verkondig as skoene aan die voete. 16 Daarby moet julle altyd geloof as skild in die hand hê, want daarmee sal julle al die brandpyle van die Bose kan afweer. 17 Sit verlossing as helm op en vat die swaard van die Gees, dit is die woord van God. 18 Doen dit alles biddend en smeek God by elke geleentheid deur die Gees. Wees waaksaam en bid gedurig vir al die gelowiges.

Die Woord leer ons ook om nie moed te verloor in hierdie stryd nie – hoor wat sê 1Pet.5:8-11 ~ Wees nugter, wees wakker! Julle vyand, die duiwel, loop rond soos ’n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind. 9 Bly standvastig in die geloof en staan hom teë. En moenie  duur.10 God wat alle genade gee en wat julle geroep het om in Christus Jesus deel te hê aan sy ewige heerlikheid, sal julle, nadat julle ’n kort tydjie gely het, self weer oprig en julle moedig, sterk en standvastig maak. 11 Aan Hom behoort die krag tot in ewigheid! Amen.

Ons lees in Ef.6:11-12,18 ~ Trek die volle wapenrusting aan wat God julle gee, sodat julle op julle pos kan bly ondanks die listige aanslae van die duiwel. 12 Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen elke mag en gesag, teen elke gees wat heers oor hierdie sondige wêreld, teen elke bose gees in die lug. 18 Doen dit alles biddend en smeek God by elke geleentheid deur die Gees. Wees waaksaam en bid gedurig vir al die gelowiges.

Waarom is dit so uiters belangrik om hierdie gedagte aan ’n geestelike oorlog voortdurend in gedagte te hou?
*       Sodat die satan nie die oorhand oor ons kan kry nie en hy is voortdurend besig om planne teen ons te beraam (2Kor.2:11; 11:3,4,14)
*       Omdat satan soos ’n brullende leeu rondloop om mense geestelik te verslind – hy is dus aktief en ook subtiel (1Pet.5:8; 2Pet.2:1-2; Gen.3:106; Hand.20:28-31)
*       Omdat enige een van ons kan val (Hebr.3:12)
*       Omdat die vyand veral aktief is wanneer ons geestelik slaap (Matt.13:24-25).  Dink ook hier aan Simson wie se hare (waarom sy krag gelê het) afgesny is, terwyl hy geslaap het (Rigters 16:18-20)

Daar word ses dinge n.a.v. Ef.6:10-19 (“Die Wapenrusting”) aan “Pelgrim” gewys, terwyl hy in die Wapenopslagplek is:
*       Die Gordel van Waarheid – God se Woord moet dus stewig ingeplant wees en dit verskaf o.a. vrede aan ons.  Paulus sê dus vir ons, dat indien ons wil wen in hierdie stryd teen die satan en sy bose magte, moet ons die Evangelie van Vrede besit – vrede met God, vrede met jouself en vrede met ander, anders kan jy nie wen nie
*       Die Borsharnas van Vryspraak.  Die Borsharnas het van die nek tot by die heupe gestrek en het dus die hart, maag, lewer, niere, ens. (al die organe dus) bedek. Hierdie Borsharnas verwys na God se geregtigheid – Sy reddende genade. Ons moet nie staatmaak op emosies ens. nie, maar ons vashou aan God en daarom Christus se geregtigheid.
*       Die Skoene vir die bereidheid om die Evangelie van vrede te verkondig.  Die Romeinse soldate se skoene was geweldig belangrik tydens oorlogvoering, want as hy gewond sou raak in sy voete kan hy niks doen nie.  Hierdie stewels het ook knoppies op die sole gehad, sodat hulle stewig vas kon staan.
*       Die Skild van die Geloof.  Daar het verskillende grote skilde bestaan, maar die kerk moet die grote voorsien, d.m.v. prediking. Aanvalle kom op allerlei wyses – deur mense, TV, universiteite, tydskrifte ens.  Ons moet gereeld wees en daarom altyd vasstaan in die geloof.
*       Die Helm van Verlossing.  Die helm beskerm die kop van die soldaat – die brein en gedagtes dus, so ook gesindhede ens.  As ons dus wil wen, moet ons, ons gedagtes gevange neem tot gehoorsaamheid aan God.
*       Die Swaard van die Gees.  Ons moet die Woord ken.  Weereens was daar groot en klein swaarde deur die Romeinse soldate gebruik.  Die kleintjies was vir naby en daarom intieme gevegte en die grote vir gevegte wat oor ’n afstand geveg is.  Die groot swaard kan vergelyk word met ons algemene kennis van die Woord, maar die klein swaardjie verwys na spesifieke teksverse wat gebruik kan word om sonde en die satan Identifiseer en teen te staan, of ‘n swak plek in jou mondering (bv. geld of leuens of wellus ens.).  Ons moet dus teksverse leer rondom dit waar ons aanslae ervaar, sodat ons die vyand met spesifieke teksverse kan weerstaan wanneer ’n bepaalde versoeking oor ons pad kom (ek kan help daarmee).  As jy nie teksverse het nie, het jy nie ‘n kort swaard nie en kan jy nie jouself verdedig nie.

“Pelgrim” het nog meer in die Wapenopslagplek gesien:
*       Daar was ’n oormaat van hierdie toerusting – die Woord is m.a.w. vol daarvan
*       Die voortreflikheid en superioriteit van die wapens – die wêreld beskik dus nie oor iets soortgelyks nie
*       Hy sien ook die wapens wat God se diensknegte in die verlede gebruik het (dit is amper soos ’n museum – ons sien ook hierdie wapens in die Woord) – bv. die geselskap wat Simson gebruik het en ook Dawid se slingervel.
*       Hy sien ook die Wapen wat Christus gaan gebruik wanneer Hy die satan finaal gaan oorwin – 2Tes.2:8b ~ Maar wanneer die Here Jesus kom, sal Hy hom met die asem uit sy mond verdelg en deur die glans van sy verskyning vernietig en Openb.19:21a ~ Die ander mense is doodgemaak met die swaard wat uitgegaan het uit die mond van die Ruiter op die wit perd.

Waarom is al hierdie dinge aan “Pelgrim” gewys?  Om hom die versekering te gee dat Jesus kom en dat Hy die satan en sy magte finaal gaan veroordeel.  Hy hoef dus nie te vrees nie en hy kan die vertroue hê dat die wapens vir die stryd vir die hier en die nou, tot sy beskikking is – Die volgende teksverse is hier van belang:
*       Rom.15:4 ~ Alles wat vooraf in die Skrif opgeteken is, is tog opgeteken om ons te leer sodat ons deur die standvastigheid en bemoediging wat die Skrif ons gee, vol hoop kan wees. 
*       2Kor.10:3 ~ Natuurlik leef ons in ’n menslike liggaam, maar ons voer nie die stryd met menslike wapens nie (sien ook 1Kor.1:27-29; Jes.55:7; Ps.96:7-13; Ps.98:7-9).

Ons vind ’n paar baie bemoedigende dinge t.o.v. die Wapenrusting, soos wat Bunyan dit vir ons beskryf:
*       Hierdie wapentoerusting is heeltemal voldoende om enige uitdaging te aanvaar – al die nodige toerusting is tot ons beskikking – toerusting waaroor die wêreld nie beskik nie (selfs nie eens die V.S.A. se “moeder van alle bomme” of die Russe se Vakuumbom wat hulle nou die “vader van alle bomme” noem nie!
*       Hierdie toerusting sal nooit wegslyt of gedaan raak nie.
*       Daar is ’n oorvloed van hierdie wapens beskikbaar vir God se kinders.
*       Hierdie wapens is al behoorlik getoets en beproef deur baie van God se kinders in die verlede en dit is bewys, as absoluut betroubaar en meer as voldoende.
*       Al hierdie wapens wat aan “Pelgrim” gewys is, lyk onbelangrik en ontoereikend, maar dit is alles behalwe – kyk wat het Moses se kierie gedoen; Simson se eselskaak; Dawid se slingervel ens.
*       In oë van wêreld mag dit lagwekkend voorkom, maar ons wapens is nie vleeslik nie, maar magtige instrumente in God se hand.  Hy kan ‘n kakebeen gebruik.
*       Wat ook interessant is, is die feit dat hierdie wapens in baie gevalle deur “onbeduidende mannetjies” gebruik is – Dawid ’n klein en jong "skaapherdertjie", met geen militêre opleiding nie en hy verslaan die magtige Goliat, vir wie die hele Israelitiese weermag nie eens kans gesien het nie!

5.  VOLGENDE KEER:
DIE PELGRIM SE REIS ~ 17
Die Geveg met Apollion
p.51-56   of   p.56-64  of  p.64-76