Saturday 23 March 2013

Jona het nood aan die Evangelie - 06 ("Jona, het jy rede om kwaad te word?")


 

1.    INLEIDING:
       Die Nineviete het tot bekering gekom en ’n mens kon maklik gedink het dat God Sy doel bereik het en dat die verhaal aan die einde van hoofstuk 3 kon geëindig het, maar dit is alles behalwe die geval – onthou ons het vantevore gesê dat God meer belangstel in die werker as die werker se werk en daarom gaan ons sien dat hierdie verhaal nie aan die einde van hoofstuk drie kon eindig nie, omdat God nog nie klaar was met die werker Jona nie.

2.    SKRIFLESING:
Jona 3:10-4:11 ~ 10Toe God sien wat hulle doen, en hoe hulle hulle bekeer van hulle verkeerde dade, het Hy afgesien van die ramp wat Hy gesê het Hy oor hulle sal bring. Hy het nie die ramp gestuur nie. 1Hieroor was Jona baie ontevrede en hy het baie kwaad geword. 2Hy het tot die Here gebid en gesê: “Ag, Here, ek het dit geweet toe ek nog in my land was. Daarom het ek reg in die begin na Tarsis toe gevlug. Ek het geweet U is ’n genadige en barmhartige God, lankmoedig en vol liefde. U sien maklik af van die straf wat U aangekondig het. 3“Laat ek nou maar sterf, Here, want dit is vir my beter om te sterf as om te lewe.” 4Toe vra die Here vir hom: “Het jy rede om kwaad te word?” 5Jona is toe uit die stad uit. Hy het oos van die stad gaan sit en vir hom ’n skerm gebou. Hy het daaronder in die skaduwee gaan sit om te sien wat in die stad gebeur. 6Toe laat die Here God ’n komkommerplant opkom, en dit het bo-oor Jona gerank om skaduwee te gee vir sy kop en om hom van sy misnoeë te bevry. Jona was baie bly oor die komkommerplant. 7Die volgende môre met dagbreek laat God toe ’n wurm kom, en dit het aan die komkommerplant gevreet, sodat dit verdroog het. 8Toe die son opkom, het God ’n skroeiende sterk wind uit die ooste laat waai. Die son het vir Jona op sy kop gesteek, en hy het baie swak geword en gewens om maar liewer te sterf. Hy het gesê: “Dit is vir my beter om te sterf as om te lewe.” 9Toe vra God vir Jona: “Het jy rede om kwaad te word oor die komkommerplant?” en Jona antwoord: “Ek het rede genoeg: ek is besig om te sterf!” 10Die Here het vir Jona gesê: “Jy is besorg oor die komkommerplant waarvoor jy nie gewerk het nie en wat jy nie versorg het nie. Dit het oornag opgekom en oornag is dit dood. 11Maar Ek mag nie besorg wees oor die groot stad Nineve nie, ’n stad waarin daar meer as honderd en twintig duisend mense is wat nie weet wat reg of verkeerd is nie, en ook nog baie diere?”  

3.    ’N GENADIGE GOD:
       Uiteindelik hoor ons die waarheid uit Jona se mond – hy verskaf aan ons die rede waarom hy in die eerste plek van God se aangesig af gevlug het. Dit was nie omdat hy bang was dat hy nie God se opdrag suksesvol sou kon uitvoer nie – nee, sy groot vrees was daarin geleë, dat God se opdrag aan hom, in vervulling sou kom – dat Nineve haar sou  bekeer en hy het ten diepste geweet dat dit presies is wat sou gebeur as hy gehoorsaam was!

       Jona moes vooraf geweet het dat God ’n plan met Nineve gehad het en hy het God ook goed genoeg geken om te weet dat God ’n genadige God is, trouens hy sê dit self in v.2 ~ Ek het geweet U is ’n genadige en barmhartige God, lankmoedig en vol liefde (geen ander mensgemaakte godsdiens op aarde leer dit vir hulle dissipels nie!).

       Toe Jona sien wat in Nineve aan die gang was (hul grootskaalse bekering), moes hy vir homself gesê het: Ek het dit geweet; ek geweet dit is wat God in die mou voer! In v.1 sien ons dat Jona baie ontevrede was – hier het ons weer die Hebreeuse woord waarna ons die vorige keer na gekyk het, nl. "gadol" iets wat in die oortreffende trap beskryf word – Jona was dus "gadol" ontevrede – hy was geweldig ontevrede; hy was buite homself ontevrede – hy was woedend om die minste daarvan te sê!

       Dit is so ironies, dat hy net in die volgende vers getuig van God se goedheid en lankmoedigheid, ens., maar hy self is in alle opsigte net mooi die teenoorgestelde. Hierdie was nie ’n nuwe karaktertrek wat God van Homself nou vir die eerste keer aan Jona geopenbaar het nie – hierdie is ’n karaktereienskappe van God wat so ver terug strek as Eks.33, waar God aan Moses gesê het ~ Ek sal al my voortreflikheid voor jou laat verbykom en Ek sal die Naam ‘die Here’ vir jou uitroep, want Ek betoon genade aan wie Ek genade wil betoon en Ek ontferm My oor wie Ek My wil ontferm (v.19). Hierdie woorde van God aan Moses, moes bekende woorde vir die profeet Jona gewees het, maar nogtans "stamp" Jona homself teen hierdie wonderlike God van hom.

       Hierdie gesindheid van Jona spruit uit ’n uiters selfgesentreerde gesindheid, omdat hy die Assiriërs (Nineve) steeds beskou as ’n geweldige dreigement vir sy geliefde land Israel en hy het nie ’n saak met dít wat op God se hart vir hierdie bose land en stad is nie – God moet hulle straf en uitwis! In plaas daarvan dat Jona God aanvaar soos Hy is en Wie Hy is, wil Jona, God in ’n "boksie" indruk wat hý ontwerp het. Skielik besef ons waarom ons tot nou toe geen woord van sondebelydenis uit Jona se mond hoor kom het nie, want dit gaan oor Jona en sy volkie en nie oor God en God se wil en planne nie.

       Die wonder van God in hierdie spesifieke oomblik van Jona se woede en onvergenoegdheid, is dat God na Jona luister, selfs terwyl Jona uiters selfgesentreerd is en baie, baie ernstig is met wat hy vir die Here te sê het. Luister net na sy gebed in v.2a ~ Ag, Here, ek het dit geweet toe ek nog in my land was. Daarom het ek reg in die begin na Tarsis toe gevlug as om te lewe.” Alles gaan oor Jona – net oor homself, maar God luister steeds na hom.

       Soos altyd, ignoreer God egter nie hierdie geweldige gebed van Jona, waarin hy vra dat hy maar moet sterf nie – God antwoord hom, maar Hy antwoord hom op ’n subtiele wyse, deur in v.4 aan Jona ’n vraag te vra ~ Het jy rede om kwaad te word? Dit is so asof die Here vir hom sê: Jona, Jona, my liewe kind, wat doen jy aan jouself? Is dit reg dat jy kwaad is? Is jy seker jou beoordeling van die situasie is reg? Trek jy dalk My oordeel in twyfel? God was nie besig om Jona te berispe nie en ook nie om vir hom te vra wie hom die reg gee om so met God te praat nie. Nee, die Here het eerder aan Jona gesuggereer dat Jona se oordeel dalk nie heeltemal in die kol is nie en dat hy weer daaroor moet nadink – weereens sien ons ’n genadige en liefdevolle Vader, wat sagkens met Sy "dwars-kind" werk.

       Na Jona se redding uit die see en die vis, het dit so gelyk asof ons te doen het met ’n nuwe Jona – ja ons het tog, want Jona druk deur met sy opdrag om na Nineve te gaan om hulle in die Naam van die Here aan te spreek oor hul sonde. Maar tog, aan die anderkant blyk dit nou dat daar steeds iets ernstigs skort – so asof hy al klaar weer vergeet het van sy verlossing ’n maand of drie vantevore – miskien het al sy dinkery op sy 1 500 km. lange staptog deur woestynlandskap en oor landsgrense heen, hom laat vergeet van God se genade in sy lewe.

       Die probleem met Jona, is dat God, deur Sy optrede, totaal buite Jona se "boksie-god" is – hoe hý God sien, teenoor wie God werklik is en Jona kan dit nie hanteer nie. Jona kan die woorde in v.2b, wat gebaseer is op Eks.34:6 en  Ps.86:15, hardop bid ~ U is ’n genadige en barmhartige God, lankmoedig en vol liefde, maar in sy hart van harte, glo Jona dit nie regtig nie en kan hy hierdie wonderlike waarheid wat hy met sy kop bid, nie in die praktyk van sy lewe uitleef nie.

4.    REDDING EN VERGIFNIS:
       As ’n mens weer mooi na Jona se gebed in die vis se maag gaan kyk, dan besef jy dat Jona nog steeds nie verstaan het nie. Ja, hy het weliswaar verklaar dat hy ’n loflied tot die Here sing en dat hy ’n offer aan die Here wil bring en dat al die hulp net van die Here kom (2:9) en ja, die Here het hom gered, maar Jona het steeds nood aan die Evangelie – hy het nood aan vergifnis; hy het nood aan verlossing van sy sonde, want hy het nog steeds nie sy sonde bely nie.

       Die woord wat in die Grieks gebruik word vir verlossing, beteken letterlik om gered te word ("to be rescued"). Wanneer die Woord daarvan praat dat die mens gered moet word van sonde, gebruik die Woord dit op verskillende wyses. Dit kan beteken:
·           Jou eenmalige redding van die sonde se ewige straf – dit is m.a.w. verlossing en redding van die erfsonde – daardie sonde wat Adam oor homself en sy nageslag, wat ons insluit, gebring het (Gen.3).
·           Jou voortdurende bevryding en verlossing van die sondemag wat jou voortdurend deur hierdie lewe teister – die sondesmet.
·           Jou finale en uiteindelike verlossing van die sonde se teenwoordigheid in en om jou, wanneer Christus jou kom haal.

       Wanneer iemand nie in Christus Jesus is nie, het hy nood aan verlossing van al drie bogemelde. Wanneer iemand egter wederbaar is, het hy steeds behoefte aan die laaste twee. Paulus noem dit in Rom.1:16 ~ ...want dit is ’n krag van God tot redding van elkeen wat glo... Wanneer Paulus dit so stel, bedoel hy nié dat redding ’n krag is wat tot eenmalige verlossing lei nie – nee, hy sê dat ons nood het aan God se daaglikse redding – redding van sonde; redding uit die kloue en vangnette van die sonde – ons het dit daagliks nodig, tot op die dag dat ons verheerlik sal word. Calvyn het gesê dat ons as gelowiges, "gedeeltelik ongelowiges is, totdat ons sterf".

       Hierdie is dan ’n presiese beskrywing van wie Jona op hierdie stadium van sy lewe is. Laat my ook net dadelik sê, dat ons nie nou skielik moet neersien op hierdie sondige profeet van God nie, want dit is maar presies net waar ons ook is. Jona het steeds behoefte – nee, nood daaraan dat God hom sal red en ons sien God se sagte hand op Jona in hierdie proses ~ Jona, ... het jy rede om kwaad te word?

       As ons met ons hele hart glo dat verlossing alleen van God kom, dan sal ons, ons vertroue volkome in Hom plaas (en nie in ons eie pogings nie) om ons aanvanklike redding; ons daaglikse redding en ook ons uiteindelike redding, te bewerkstellig. Om redding in enige iets anders as God self te soek, lei net tot selfvernietiging en slawerny aan die bose (afgodedienaars), want ons is uitsluitlik geskape vir God en niks en niemand anders nie! Die ou kerkvader, Augustinus het gesê: "You made us for Yourself, and our hearts are restless until they rest in You".

       Wat Jona nie besef het nie, is dat hy ook afgode aanbid het en in die proses enige aanspraak op God se genade in die wind geslaan het – en tog, tog is God hom steeds genadig. Die afgode wat Jona aanbid het, het dalk anders gelyk as die wat die matrose op die gedoemde skip aanbid het, of die inwoners van Nineve, maar in wese was dit presies dieselfde, want alle afgode is God se vyande. Wat was Jona se afgode? Die Hebreeuse Judaïsme was een ("MY kerk"), toe hy reg aan die begin van sy verhaal gesê het ~ Ek is ’n Hebreër (Jona 1:9). Nog een was sy godsdienstige snobisme – sy godsdiens (die Judaïsme) was uitsluitlik bedoel vir die Jode en niemand anders nie en ons sien dit baie duidelik in sy woede oor die bekering van die Nineviete (v.1). Jona het weliswaar die regte dinge gedoen, maar hy het dit met die verkeerde gesindheid gedoen en dit is bewys dat hy God se hart nie op daardie stadium geken het nie.

       Ek sê weer, ons moet versigtig wees om nie vir Jona te gou te oordeel nie, want is dit nie maar presies waar ons, onsself ook so dikwels bevind nie? Ons is maar almal afgodedienaars – van iets! Alle mense is geskape om te aanbid – dit was tog die uitsluitlike rede waarom God die mens geskape het – die probleem is net dat ons aanbiddingsfokus, so dikwels uit fokus raak en selfs verduister raak en dat ons harte en toewyding en uiteindelik ons aanbidding op hierdie dinge gefikseer raak en dat ons God nie meer aanbid soos ons hierdie afgode aanbid nie.

       Ons raak so dikwels, vasgevang en verknog aan dinge wat so belangrik en allesoorheersend in ons lewe raak – ons ontspanning; ons sport; ons stokperdjies; ons werk; ons gesinslewe; ons eie probleme of frustrasies; of iemand sonder wie ons nie kan leef nie; ens. Uiteindelik bepaal ons aanbidding wie ons werklik is. Ons aanbid derhalwe almal iets of iemand – die vraag is net wie of wat? Dit, of die persoon of Persoon wat ons aanbid, bepaal of ons lewe betekenisvol en met sekuriteit gevul sal wees – of ons net godsdienstig is, of geestelik en of ons ware gelowiges is!

       Ek het gesê dat ons almal aanbidders is, maar God is die enigste betroubare "Objek" van aanbidding, omdat niks en niemand behalwe God self, waardig is om aanbid te word nie. Volgens die Woord is enige iets wat ons aanbid, anders as God self, afgodery. As ons derhalwe baie eerlik met onsself is, sal ons besef dat afgodery nie net iets is wat deur heidene begaan word nie, maar gelowiges is ook dikwels daaraan skuldig – Is jy dalk daaraan skuldig? Jona was.

       Om God se reddingsplan in ons lewens te ervaar, moet ons die afgode in ons lewens begin identifiseer – die Here sal ons daarmee help – Hy het Jona daarmee begin help ~ ... het jy rede om kwaad te word Jona?  

5.    JONA SE ONVERGENOEGDHEID:
       In plaas daarvan dat Jona hoor wat die Here vir hom sê, nl. dat hy steeds met verkeerde motiewe in sy hart sit en dat hy hom moet bekeer, sien ons in v.5 dat hy ~ ...toe uit die stad uit (is). Hy het oos van die stad gaan sit en vir hom ’n skerm gebou. Hy het daaronder in die skaduwee gaan sit om te sien wat in die stad gebeur. Hy sonder homself af en sit in afwagting om te sien wat met die stad gaan gebeur en terwyl hy daar sit, wil hy gemaklik wees en homself beskerm teen die woestynson en daarom bou hy vir homself ’n skuiling.

       God laat Jona egter steeds nie aan sy eie lot oor nie en Hy help hom, deur ~ ...’n komkommerplant (te laat) opkom, en dit het bo-oor Jona gerank om skaduwee te gee vir sy kop en om hom van sy misnoeë te bevry. Jona was baie bly oor die komkommerplan (v.6). God se genade stroom steeds onverdiend oor Jona! Ure vantevore was Jona kwaad (v.4) – nou is Jona baie bly! Hy is bevry van sy misnoeë (v.5) – misnoeë beteken natuurlik ook onvergenoegdheid en hierdie is presies dieselfde woord wat in v.1 gebruik was en wat in die Afrikaans vertaal is met "ontevredenheid" en met "kwaad". Die Here kom en verlig hierdie swaarmoedige ontevredeheid en woede van Jona, deur ’n komkommerplant oor sy skuiling te laat groei en Jona is bly!

       Jona word egter spoedig weer beproef en getoets – v.7 ~ Die volgende môre met dagbreek laat God toe ’n wurm kom, en dit het aan die komkommerplant gevreet, sodat dit verdroog het. Die Here is die Een wat gee, maar die Here is ook die Een wat neem. Toe die son opkom, het God ’n skroeiende sterk wind uit die ooste laat waai. Die son het vir Jona op sy kop gesteek, en hy het baie swak geword... (v.8).

       Hierdie komkommerplant was bewys van God se liefde, maar so was ook die wurm en die skroeiende wind, want ~ ...die Here tug hom wat Hy liefhet, Hy straf elkeen wat Hy as kind aanneem (Hebr.12:6). Jona sien hierdie belangrike faset van die gelowige se geestelike groei glad nie raak nie (soos ons ook maar so dikwels, nie waar nie?).

       Jona wens egter weer dat hy maar liewer moet sterf (v.8b). Weer vra die Here vir Jona in v.9 ~ Het jy rede om kwaad te word oor die komkommerplant? Dit herinner sterk aan die profeet Elia wat ’n honderd jaar of wat vantevore, ’n soortgelyke ervaring gehad het, nadat hy die vals profete gekonfronteer het en gevlug het vir sy lewe ~ Hy self het egter ’n dagreis ver die woestyn in gegaan. Daar het hy onder ’n besembos gaan sit en gewens hy gaan dood. Hy het gesê: “Nou is dit genoeg, Here! Neem my lewe, want ek is niks beter as my voorvaders nie” (1 Kon.19:4).

       Weer is dit woede wat Jona onvergenoegd laat – weer is dit sy afgod self en sy eie gemak, wat op die voorgrond tree. Hierdie situasie is egter maar net ’n duidelike bewys van die sinneloosheid daarvan om afgode in jou lewe te hê, want dit is niks meer as net "’n sonverdroogde- en wurm-opgevrete-komkommerplant" nie! Met hierdie realiteit rondom (of sal ek sê, bokant) Jona, is dit asof die Here weereens vir hom vra, "Jona is dit regtig wys en verstandig van jou om só op jou omstandighede te reageer? Jona, Jona, hou asseblief op daarmee – ter wille van jouself; moenie langer teen die prikkels skop nie – jy het nie rede om so te reageer nie!" Steeds kan ’n mens die liefde en genade in God se stem hoor, maar wat is Jona se reaksie? Ek het rede genoeg: ek is besig om te sterf (v.9).

       Vir ’n derde keer het Jona geen insig in God se genade jeens hom nie – hy wil maar net opskop; boedel oorgee, eerder as om homself oor te gee aan sy Skepper – en die Here? Hy volhard om Jona se versoek te ignoreer, nl. om te sterf, trouens Hy hou vol om Jona te bedien met Sy genade en Sy liefde en Hy doen dit deur vir Jona te sê ~ Jy is besorg oor die komkommerplant waarvoor jy nie gewerk het nie en wat jy nie versorg het nie. Dit het oornag opgekom en oornag is dit dood. 11Maar Ek mag nie besorg wees oor die groot stad Nineve nie, ’n stad waarin daar meer as honderd en twintig duisend mense is wat nie weet wat reg of verkeerd is nie, en ook nog baie diere? (v.10).

       Punt! Hiermee eindig die verhaal – dit eindig met ’n vraag wat die Here vra. Wanneer ’n verhaal eindig met ’n vraag, impliseer dit dat die leser baie stof tot nadenke moet hê – ons moet nou die punte bymekaar probeer uitkry – wat het van Jona geword? Is hy werklik gered? Het God hom uiteindelik gestraf vir sy rebellie? Het Jona uiteindelik insig in homself gekry en sy sonde bely? In kort, hier is oënskynlik geen toepassing op die verhaal nie en tog, wil die Here juis met die feit dat hierdie boek eindig met ’n vraag, ons noop om selfondersoek te doen en te bepaal, of ons nie dalk ook presies is waar Jona is nie – selfgesentreerd en besig met ons eie afgode? Is ons nie ook waar Jona is nie – maak aanspraak op God se genade, maar gun geen ander mens genade nie – nie van God se kant nie en ook geen of bitter min genade van ons kant af?

6.    TOEPASSING:
       Met die vrae wat die Here voortdurend vir Jona gevra het, wou Hy vir Jona lei om insig in homself te kry en sy hart met die van God se hart te vergelyk. Jona reageer op klein en onbenullige dingetjies – ’n plant; ’n wurm – sy eie miserabele ou lewetjie, terwyl God se hart "warm klop" vir die menigte – vir 120 000 mense wat nie weet wat reg of verkeerd is nie, en ook nog baie diere – God gee om vir mens en dier (Ps.36:6; Matt.10:29). Jona wil aanspraak maak op God se genade, maar hyself gun geen genade vir die Nineviete nie!

       God daarenteen, is steeds besig om Sy aanvanklike skeppingsdoel ten uitvoer te bring, nl. dat die ganse skepping lof en eer aan Hom sal bring en daarom is God besig om dit wat die sondeval bederf het, weer om te draai en te vernuwe en dit sluit mens en dier in – daarom dat Hy in Openb.21:5 sê ~ Kyk, Ek maak alles nuut. Hy gaan alles  hernu; verlos en opwek deur Jesus Christus en daarom roep die engele dit in die hemel uit ~ Die koningskap oor die wêreld behoort aan ons Here en sy Gesalfde, en Hy sal as koning heers tot in alle ewigheid (Openb.11:15).

       Die Here wil dat Jona en ons besef, dat Hy soewerein is; dat Hy kan besluit wie Hy veroordeel en wie Hy red.

       Daar is egter nog iets wat ons uit hierdie verhaal van Jona moet besef en dit is dat indien God belangstel in die 120 000 én die diere in Nineve, dan is getalle beslis belangrik vir Hom en indien dit die geval is, is twee en drie en daarom ook een vir Hom belangrik – daarom is Jona vir God net so belangrik as al die Nineviete en daarom is jy ook net so belangrik vir die Here God!

       Net ’n laaste vraag (wat ek reeds vroeër gevra het): Het Jona sy les geleer? My antwoord hierop is, "ja, ek glo van harte hy het". Ek glo dat Jona uiteindelik God se hart uiteindelik gehoor het. Ek glo van harte dat Jona ook uiteindelik sy sonde bely en hom bekeer het – hy het tog immers hierdie boek geskryf, nie waar nie? Jona hét insig gekry – hy hét uiteindelik verstaan. Jona stel homself geweldig bloot deur hierdie boek te skryf en sy verhaal te vertel en hy laat toe dat God die laaste woord sê – daarom glo ek, Jona het insig gekry; Jona het gehoor; Jona het hom bekeer!

En jy en ek?


[1] Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Sondag 24 Maart 2013.

Saturday 16 March 2013

Die Brief aan die Hebreërs - 20 ("Christus, die Aanbieder van ’n beter Offer")


 

1.    INLEIDING:
       Die Apostel en skrywer van die brief aan die Hebreërs, het in die eerste sewe hoofstukke, uitgebrei oor wie die Here Jesus Christus is en hy het dit baie duidelik gemaak dat Christus die Middelaar van ’n beter verbond is – die Nuwe Verbond.

       Van 8:1 af, het die skrywer egter weggedraai van die Persoon van Jesus en begin fokus op Sy werk. In 9:1-14 het ons gesien dat hy vir ons ’n blik gee op die plek waar die Ou Testamentiese hoë priester gewerk het, nl. die Tabernakel en daarna het hy gekyk na waar ons ewige Hoë Priester werk, nl. in die teenwoordigheid van God in die ewige hemelse Tabernakel – Jesus is die Hoë Priester van ’n beter Tabernakel.

       Die skrywer gaan nou verder in 9:15 en fokus verder op Christus as die "Offeraar", of Aanbieder van ’n beter Offer.

2.    SKRIFLESING:
       Hebr.9:15-28 ~ Daarom is Hy ook die Middelaar van ’n nuwe verbond. Sy dood het plaasgevind om mense te verlos van die oortredinge wat onder die eerste verbond begaan is, sodat dié wat geroep is, die beloofde ewige erfenis kan ontvang. 16Dit is soos met ’n testament: daar moet eers bewys word dat die testamentmaker dood is, 17want ’n testament word alleen geldig by die dood van die testamentmaker; dit word nooit van krag so lank as hy nog leef nie. 18Daarom is die eerste verbond ook nie sonder bloed ingestel nie. 19Nadat Moses al die gebooie van die wet aan die hele volk oorgedra het, het hy bloed van kalwers en bokke saam met water geneem en met rooi wol en hisop die wetboek self sowel as die hele volk besprinkel 20en gesê: “Dit is die bloed van die verbond wat God vir julle ingestel het. 21Ook die verbondstent en al die voorwerpe vir gebruik by die erediens het hy op dieselfde wyse met die bloed besprinkel. 22Byna alles word volgens die wet met bloed gereinig, en sonder die vergieting van bloed vind daar geen vergewing plaas nie. 23Die aardse afbeeldings van die hemelse dinge moes dus noodwendig deur hierdie middele gereinig word, maar die hemelse dinge self deur beter offers as hierdie. 24Christus het nie ingegaan in ’n heiligdom wat deur mense gemaak is en net ’n namaaksel van die ware is nie. Nee, Hy het in die hemel self ingegaan om nou ter wille van ons voor God te verskyn. 25Hy het nie ingegaan om Homself herhaaldelik te offer nie, soos die hoëpriester elke jaar die Allerheiligste binnegaan met bloed wat nie sy eie is nie. 26Dan sou Christus immers herhaaldelik moes gely het, reeds van die skepping van die wêreld af. Maar nou het Hy net een keer in die voleinding van die tye verskyn om deur sy offer die sonde weg te neem. 27’n Mens is bestem om net een maal te sterf, en daarna kom die oordeel. 28So is Christus ook net een maal geoffer om die sondes van baie weg te neem. As Hy die tweede keer verskyn, kom Hy nie in verband met sonde nie, maar om verlossing te bring vir dié wat Hom verwag.

3.    VOORAF:
       Ons moet vooraf ’n paar dinge in gedagte hou en verstaan:
·           Die Ou Testamentiese offerstelsel was ’n heenwysing na Christus se offer wat Hy sou bring;
·           Die Ou Testamentiese offerstelsel was ’n bloedige affêre. Gedurende die ongeveer duisend jaar wat die ou verbond in plek was, is daar letterlik meer as ’n miljoen diereoffers gebring. As ons in gedagte hou dat daar met die dood van elke bul, nagenoeg 3 tot 4 liter bloed gestort is en met elke bok tussen 1 en 2 liter, dan begin ’n mens besef hoeveel bloed het werklik gevloei. Gedurende die Paastyd, is daar bv. ’n geut of sloot gegrou wat die bloed van die Tempel af weggevoer het na die Kedronspruit – soos R. Kent Hughes dit op ’n keer genoem het, "a sacrificial plumbing system!". Die Kedron was natuurlik dieselfde plek waar baie van die lyke, vuilgoed en as van Jerusalem weggegooi is – hulle vullisstortingsterrein dus (Jer.31:40).
·           Ons kan onsself tereg afvra, waarom hierdie "see van bloed"? Dit was nodig vir een enkele rede, nl. om te besef dat sonde die stort van bloed benodig.
·           Ons moet egter besef dat bloed op sigself nie vergifnis of versoening bewerkstellig nie.
·           Wat hierdie Ou Testamentiese offerstelsel dus wel vir ons wys, is dat sonde, die dood vereis en daarom lei dit tot die dood ~  Al die mense behoort aan My, vaders en kinders is Myne. Dit is die mens wat sondig wat sal sterf (Eseg.18:4).

       Die aanbidders onder die ou verbond het dus besef:
·           Dat alle offers gepaard moes gaan met ’n gees van bekering – offers moet dus lei tot bekering.
·           Dat die aanbieder van ’n offer, steeds by God moet pleit om genade. Ons weet egter ook dat die aanbidders onder die ou verbond, wel geglo het in ’n ewige lewe, vergifnis en reiniging, máár ons sien ook in v.15 dat die ou verbond en die offers van die ou verbond nooit hierdie dinge kon skenk nie. Dit kon net sonde wat onwetend begaan is, vergewe (Hebr.9:7); dit kon nooit aan die mense ’n skoon gewete skenk nie (9:9).
·           Hoe is hulle gered en was almal onder die ou verbond gered? Die kort antwoord hierop is dat slegs diegene wat deel was van die ou verbondsvolk van God en wat "vooruit" geglo het in die geprofeteerde en volmaakte offer van die komende Messias, gered is en dit was die enigste gronde waarop die Ou Testamentiese Jode (al was hulle God se volk genoem) gered kon word – Jesus Christus die volmaakte Lam van God! Die ware gelowiges onder die ou verbond het dus besef dat ’n volmaakte Aanbieder van ’n finale offer aan die kom was (sien bv. Ps.22 en Jes.53).

4.    ’N REGSDOKUMENT:
       Met dit nou alles in gedagte, sien ons dat v.15 begin met die woord "daarom" en dit verwys natuurlik terug na dit wat ek so pas gedeel het en die skrywer gaan nou, met dit alles in gedagte, voort en vestig ons aandag op Christus, die Aanbieder van ’n beter offer.

       Die Hebreërskrywer wil hierdie hele kwessie van redding wat ook beskore was vir mense uit die verlede en wat vooruit gekyk het na Christus, aan die hand van ’n testament verduidelik. Hy verduidelik dan aan ons in vv.16-17, dat solank die testateur (die persoon wat die testament maak) nog lewe, kan hy na goeddunke en net wanneer hy wil, veranderings aan die testament aanbring. Solank hy lewe, beskik die testament dus oor geen regsgeldigheid nie, maar die oomblik as hy sterf, verander die "prentjie" dramaties. Dan is hierdie testament ’n regsdokument wat afdwingbaar is en geen veranderinge kan meer aangebring word nie. Hoe word ’n testament wat vir lank nutteloos was, van krag? Die oomblik as die testateur sterf. Dit is sy afsterwe wat al die voordele van die testament, van krag laat word – en niks kan dit verander nie.

       Jesus het "in die ewigheid terug", so ’n ooreenkoms met die Vader aangegaan. Al Christus se beloftes vir Sy nageslag word van krag, die oomblik as Hy sou sterf. Die testament het o.a. beslis, dat ál Christus se kinders wat in Sy testament vermeld word, se skuld ten volle betaal sal word uit Sy erflating en dat hulle o.a. ook die ewige lewe sal beërwe. Dit is waarom Paulus in 2 Kor.8:9 sê ~ Julle ken die genade van ons Here Jesus Christus: hoewel Hy ryk was, het Hy ter wille van julle arm geword, sodat julle deur sy armoede ryk kon word. Al hierdie is en was onmoontlik as Christus Jesus nie gesterf het nie....maar Hy het!

5.    VERGIFNIS VEREIS BLOED:        
       Wanneer ons na vv.18-22 kyk, vind ons ’n tweede rede waarom Christus moes sterf, want vergifnis het die stort van bloed vereis. Ons kan nou vra, maar waarom was dit nodig? Waarom al die bloed? Waarom Christus se bloed? Ten einde dit te beantwoord, moet ons terugkyk na die instelling van die verbond met Israel wat destyds op die berg Sinaï plaasgevind het en daar was die stort van bloed ’n baie prominente element.

Ons vind in Eks.24 ’n volledige weergawe van die gebeure daar. Die volk het reeds die Tien Gebooie ontvang (Eks.19,20) en dan gebeur die volgende (Eks.24:5-8) ~ Hy het toe van die jong Israeliete gestuur om bulle as brandoffers en maaltydoffers vir die Here te offer. 6Moses het die helfte van die bloed in bakke gehou en die ander helfte op die altaar gesprinkel. 7Hy het die verbondsboek geneem en dit vir die volk voorgelees. Hulle het gesê: “Ons sal alles doen wat die Here beveel het en daaraan gehoorsaam wees.” 8Moses het toe die bloed gevat en op die volk gesprinkel terwyl hy sê: “Dit is die bloed van die verbond wat die Here op grond van al hierdie gebooie met julle gesluit het.” Al hierdie bloed wat gestort en gesprinkel was, het plaasgevind om die volk daaraan te herinner, dat die gevolg van sonde, die dood is – die bloed van die offerdiere was dus ’n simbool – ’n teken en dit dui vir ons op die erns van sonde – sonde bring vyandskap tussen mens en God. Aan die anderkant is bloed egter ook simbool van ’n prys wat betaal word ten einde vergifnis te ontvang.

Die gebruik van bloed as simbool van dood wat volg op sonde, is ’n algemene prentjie regdeur die Woord, so het Jesus bv. die aand voor Sy dood, die volgende gesê ~ ...want dit is my bloed, die bloed waardeur die verbond beseël word en wat vir baie vergiet word tot vergewing van sondes (Matt.26:28). Jesus het dus die nuwe verbond op dieselfde wyse as die ou verbond bekragtig – deur die stort van bloed! Wat belangrik is om in gedagte te hou, is dat dit nie Jesus se bloed is wat ons red nie, maar Sy dood – Sy dood wat Hy namens ons gesterf het en hierdie dood van Jesus word gesimboliseer deur Sy bloed wat Hy gestort het.

       Net om te bevestig dat bloed, net ’n teken was en nie die "reinigingsmiddel" self nie, is daar onder die ou verbond, bv. voorsiening gemaak vir armes wat nie kon bekostig om selfs ’n klein offerdiertjie te bring om geoffer te word nie ~ As twee tortelduiwe of twee ander duiwe bo die persoon se vermoë is, bring hy as offer vir sy sonde twee kilogram meel as sondeoffer. Hy gooi nie olie daarop nie en sit nie wierook bo-op nie, want dit is ’n sondeoffer (Lev.5:11). Meel was derhalwe ook aanvaarbaar om ’n arme se sonde te bedek – dit is dus nie die bloed wat vergewe nie, maar Christus se soendood – die bloed (of dan die meel in Lev.5  se geval) is bloot net die teken of simbool van Christus se soendood aan die kruis. Ek moet egter ook dadelik byvoeg, dat die "Lev.5-meel" die enigste uitsondering was en dat ons nie nou maar enige "voorwerp" kan aanvaar of gebruik as simbool nie – dan is ons Rooms in ons optrede. Nee, bloed is die teken en die meel het heengewys na offerdiere se bloed wat as simbool gedien het. Die beginsel bly dus vasstaan – sonder die stort van bloed, kan daar nie vergifnis wees nie.

       Geen mens (ook nie een van ons nie) kan ooit, op eie meriete en eie poging, in die teenwoordigheid van God te staan kom nie. Die enigste weg tot geregtigheid; die enigste wyse om in God se teenwoordigheid te kan staan; die enigste manier om deel te wees van die nuwe verbond, is deur die soendood van Jesus Christus en dit word bekragtig wanneer ons in Hom glo en ons, ons vertroue in Hom plaas as Redder en Verlosser.

       God se standaarde – sy reëls is eenvoudig: sondig ons, sterf ons, maar as ons gered word, sál ons gered word deur die offer wat Jesus Christus gebring het. Vir hierdie offer is daar gaan uitsondering nie; geen ander plaasvervanger nie, want dit is die enigste voorwaarde wat God gestel het vir redding en verlossing – vir geregtigheid – daar is geen ander wyse nie; geen ander weg nie – net Jesus Christus se soendood aan die kruis en dit is wat die Vader vir ons gegee het – Sy enigste Seun as offer!

6.    CHRISTUS SE BETER OFFER:
       Nadat die Hebreërskrywer vir ons die belangrikheid van bloed en dood tydens die ou verbond en dan spesifiek tydens die inwyding van die Tabernakel beskryf het, gaan hy nou voort in vv.23-24 en hy beskryf vir ons die onoortrefbare effek; die volmaaktheid van Christus se offer, asook die voordele toe Hy die nuwe verbond van stapel gestuur het:
·           Hy begin deur te sê dat Christus se offer, beter en volmaakte reiniging tot gevolg het. Hy verwys in v.23 na ... die hemelse dinge wat gereinig word deur Christus se offer en hierdie hemelse dinge is niks anders as onsself nie! Ons word gereinig deur Christus se offer. Ons het netnou in Eks.24:6 gesien dat die Tabernakel gereeld gereinig moes word deur die sprinkel van bloed – net so ook God se kinders, maar met dié verskil – die Tabernakel moes gereeld besprinkel word, terwyl Christus se offer voldoende was om net eenkeer te besprinkel – en dit was genoeg; eens en vir altyd – Christus se offer was die beter offer – die volmaakte offer en die permanensie van hierdie reiniging was en is nodig, sodat God ’n permanente woning deur Sy Gees in elkeen van Sy kinders kon bekom (Ef.2:22). Dit is waarom Petrus ook in 1 Pet.2:5 na ons as gelowiges verwys, as lewende stene wat opgebou word ...tot ’n geestelike huis, om ’n heilige priesterdom te wees en geestelike offers te bring wat deur Jesus Christus vir God welgevallig is. Om hierdie geestelike huis te wees, was dit nodig dat Christus se bloed vergiet moes word ~ Soos God die Vader dit vooraf bestem het, het Hy julle uitverkies en deur die Gees afgesonder om aan Hom gehoorsaam te wees en besprinkel te word met die bloed van Jesus Christus (1 Pet.1:2).

       Die storting van Christus se bloed het tot gevolg dat ons aanvaarbaar vir God die Vader geword het – dat daar vrede tussen ons en Hom bewerkstellig is.

·           Tweedens het Christus se bloedoffer tot gevolg dat Hy ons volmaak kan verteenwoordig en intree by die Vader as wat enige aardse Hoëpriester dit ooit kon doen. Ons het ook vroeër reeds in Hebr.7:25 gesien waar die skrywer die vraag vra en dan dadelik die antwoord gee ~ Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons. En wanneer ons sondig? Paulus verskaf hierdie volgende vertroostende woorde ~ Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons (Rom.8:34). Johannes ego hierdie woorde van Paulus in 1 Joh.2:1 ~ Dit skrywe ek aan julle, my liewe kinders, dat julle nie moet sondig nie. En (ons kan ook sê, "maar") as een van ons sondig—ons het Jesus Christus, die regverdige, as ons voorspraak by die Vader.

·           ’n Verdere feit t.o.v. Jesus se beter offer, vind ons in vv.25-28 en daarin sien ons dat Sy offer doeltreffend en volmaak effektief was en daarom was en is dit nie nodig vir Hom om gedurig nuwe offers te bring nie – m.a.w. om Homself voortdurend te laat offer nie en dit was so doeltreffend, dat Hy voortdurend vir ons intree by die Vader (soos vantevore reeds gesien).

       Jesus skryf by wyse van spreke, en in groot vetgedrukte letters: VERGEWE!

·           Laastens verskaf Christus se offer aan ons ’n beter hoop ~ As Hy die tweede keer verskyn, kom Hy nie in verband met sonde nie, maar om verlossing te bring vir dié wat Hom verwag (v.28b). Jesus kom weer en dan kom Hy nie om ons te straf, of om ons weer te vergewe nie. Nee. Hy kom om ons te kom haal, meer nog – Sy koms gaan die seël plaas op Sy offer wat Hy reeds gebring het.

7.    AFSLUITING:
       Een maal per jaar, op die Groot Versoendag wanneer die hoë priester in die Allerheiligste in gegaan het om in die teenwoordigheid van God te verskyn, het die volk rondom die Tabernakel vergader en asem opgehou om te sien of die hoëpriester lewend uit die Allerheiligste sou kom (van die teenwoordigheid van God af) en wanneer hy uitgekom het, het hulle ’n sug van verligting geslaak. Sy verskyning het aan die volk die boodskap gekommunikeer, dat sy offer wat hy namens hulle aan God gebring het, deur God aanvaar is.

       Ons Here Jesus Christus het egter ook die hemelse Allerheiligste binnegegaan, nadat Hy Sy lewe geoffer het en Hy uit die dood opgestaan het, waar Hy namens ons, in die woorde van v.24, voor God verskyn – lw. Hy was nie in die teenwoordigheid van God en toe het Hy weer "uitgekom" nie – nee, Hy is steeds daar en Hy sal vir ewig daar wees – waarom? Omdat Sy offer finaal en afgehandel is, terwyl die aardse hoëpriester se offer nooit finaal en afgehandel was nie. Ja, Christus gaan wel weer verskyn en terug kom na ons toe, maar nié om maar net weer ’n jaar later na die Vader te gaan met ’n nuwe offer nie, maar om ’n finale en ewige verlossing vir ons te bring – vir ons wie op Hom gaan wag (v.28).

       Daardie dag van Christus se wederkoms, gaan ’n onbeskryflik wonderlike dag wees, want dit gaan die finale voltooiing, of vervolmaking wees van God se verlossingsplan vir ’n verlore mensdom. Wat se groter en beter en wonderliker hoop kan die mens hê, as juis dit! Ons kan ons nie indink in hoe wonderlik dit gaan wees nie! Ons kan ons nie indink in die omvang en die grootsheid van die vreugde en heerlikheid wat ons gaan ervaar nie! Ons kan maar net elke dag van ons lewe daaraan dink en voortbeur na daardie oomblik toe en in die proses moet ons Jesus Christus dank en eer, omdat Hy dit vir ons moontlik gemaak het.

            Ons gaan hemel toe! Ons gaan hemel toe! Christus gaan ons kom haal, maar ons moet ook onthou dat niemand sonder Hom daarheen kan gaan nie en daarom moet ons mense wat nie oor hierdie wonderlike hoop beskik nie, van Jesus Christus vertel en van Sy offerbloed wat ook vir hulle gevloei het!


[1]  Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Sondag 17 Maart 2013.

Saturday 9 March 2013

Jona het nood aan die Evangelie - 05 ("Jona se Boodskap")


 

1.    INLEIDING:
       Ons het die vorige keer gekyk na die eerste twee verse van Jona 3 en daarin het ons onder meer gesien dat die oomblik toe Jona weer op droë grond staan, hy weer dieselfde opdrag van God ontvang, as wat hy in 1:2 ontvang het, nl. ~ Maak klaar, gaan na die groot stad Nineve toe en spreek hom aan, want Ek weet hoe sleg hy is. Met hierdie tweede opdrag, gee God egter aan hom (Jona) die versekering dat Hy aan Jona die boodskap sal gee wat hy moet bring.

       Ons het ook uit hierdie eerste twee verse van hoofstuk 3 gesien dat, al het Jona lynreg opgetree teen God se opdrag, God nie wrokke teen Jona gedra het nie. Ons het ook gesien dat die Here nie "kop gee" wanneer Hy ’n opdrag aan ons gee, of ’n roeping op ons lewe lê nie. Ook het dit duidelik geblyk dat God meer belangstel in die werker as wat Hy belangstel in die werker se werk.

N​a J​ona se ervaring op die skip en in die maag van die vis,​ is ​hy​ ’n nuwe mens, met ’n nuwe visie en nuwe durf en nuwe hoop en sal hy en behoort hy ’n nuwe impak op die Nineviete te hê, net soos wat elke gelowige ’n besondere impak op die wêreld rondom hom moet hê - daarom moet ons ook uit hierdie verhaal leer dat ons redding nie ’n privaatsaak mag wees nie, maar ’n saak wat die wêreld om ons moet raak.
      Elkeen van ons het 'n roeping om te vervul in hierdie wêreld en die vraag is of ons gaan maak soos die "vóór-die-storm-Jona", of soos die "ná-die-storm-Jona"?
2.    SKRIFLESING:
Jona 3:1-10 ~ Die woord van die Here het ’n tweede keer tot Jona gekom: 2“Maak klaar, gaan na die groot stad Nineve toe en spreek hom aan met die boodskap wat Ek jou sal gee.” 3Toe maak Jona klaar en gaan na Nineve toe soos die Here hom beveel het. Nineve was ’n baie groot stad: ’n mens het drie dae gevat om dit deur te stap. 4Jona het die stad ingegaan en ’n dag lank daar rondgestap en toe roep hy: “Nog net veertig dae en Nineve word verwoes!” 5Die mense van Nineve het toe in God geglo en hulle het ’n dag aangekondig om te vas. Groot en klein het rouklere aangetrek. 6Die berig het ook by die koning van Nineve uitgekom. Hy het van sy troon af opgestaan en sy koningsklere uitgetrek, rouklere aangetrek en op ’n ashoop gaan sit. 7Hy het in Nineve laat proklameer: “Die koning en sy raadgewers beveel dat mens en dier, grootvee en kleinvee, aan niks mag proe nie, dat hulle niks mag eet en nie water mag drink nie. 8Mens en dier moet rouklere aanhê, en die mense moet ernstig tot God roep en hulle van hulle verkeerde dade bekeer en berou hê oor die geweld wat hulle gepleeg het. 9Miskien sal God van plan verander en nie meer kwaad wees nie. Dan sal ons nie omkom nie.” 10Toe God sien wat hulle doen, en hoe hulle hulle bekeer van hulle verkeerde dade, het Hy afgesien van die ramp wat Hy gesê het Hy oor hulle sal bring. Hy het nie die ramp gestuur nie.

3.    DIE STAD NINEVE (3:3):
       Jona ontvang opdrag van God om na Nineve te gaan; hy vlug weg van God se aangesig; ’n storm tref die skip waarop Jona was; Jona word oorboord gegooi; die heidense matrose kom tot bekering; ’n vis sluk Jona in; Jona kom tot sy sinne; die vis spoeg hom uit; Jona staan op droë grond; Jona ontvang weer God se roeping en in v.3 sien ons dat Jona homself gereed maak om na Nineve te gaan – ’n staptog van nagenoeg 1 500 km. deur woestynlandskap en oor landsgrense heen – vreemde, vyandiggesinde en heidense lande.

       Ten spyte van wat Jona op die skip en in die vis se maag deurgemaak het, moes hierdie lang staptog vir hom baie tyd gegee het om te dink en was dit waarskynlik nie vir hom maklik gewees nie en dit is nie so vergesog en noodwendig verkeerd nie – ons sien dieselfde het met Petrus in Hand.10 en 11 gebeur toe hy geroep was om na Cornelius te gaan. Die punt is egter – Jona het nou met vertroue en ’n vaste geloof in sy Skepper voort gebeur na sy eindbestemming – Nineve, waar hy God se boodskap moes gaan lewer. Die Here mag ons ook deur woestynland en oor "vreemde grense" (fisies en/of geestelik) in ons lewe heen neem, sodat ons uiteindelik ook kan leer wat vertroue en geloof in Hom behels. Ons kan ook weet dat God aan die anderkant – daar by ons uiteindelike bestemming op ons wag, maar dat Hy ook elke oomblik by ons is, wanneer ons deur die "woestyntydperke" in ons ewe gaan.

        Wat egter ook in v.3 vermeld word, is die feit dat die stad waarna Jona op pad was, ’n baie groot stad was. Ons kan reeds in Gen.10 lees van hierdie besondere stad. Nineve is gebou deur Nimrod wat die agterkleinkind van Noag en die kleinkind van Gam was. Nimrod was in die woorde van Gen.10:9 ~ ’n Dapper jagter in die oë van die Here.

       Hierdie groot stad was God se fokus in Jona se "sendingopdrag". Presies waarom juis Nineve sal ons nie regtig weet nie en kan ons maar net bespiegel. Dalk wou God deur die uiteindelike bekering van Nineve se inwoners, ’n duidelike boodskap aan Jerusalem gee dat God ook ’n God vir die heidene is (Hand.11:18b ~ God het selfs mense wat nie Jode is nie, tot inkeer gebring om aan hulle die lewe te gee); of as ’n heidense stad hulle kan bekeer, hoeveel te meer nie Jerusalem en haar inwoners nie! Wat ons egter wel weet, is dat hierdie groot stad op God "se hart gelê het" – ons sien dit in 4:11, toe God vir Jona gevra het... ~ Maar Ek mag nie besorg wees oor die groot stad Nineve nie, ’n stad waarin daar meer as honderd en twintig duisend mense is wat nie weet wat reg of verkeerd is nie, en ook nog baie diere?

       Waarom Jona deur die stad geloop het, weet ons ook nie – dalk was hy op soek na ’n groot plein of plek waar die meeste mense op een oomblik byeen was sodat die maksimum mense moontlik, sy boodskap kon hoor en dit op daardie manier die vinnigste deur die stad kon versprei – ons het egter ook nie hierop ’n antwoord nie? Wat ons nou by nabaat ook weet, is dat die stad se dae getel was, want Nineve is uiteindelik verwoes en dit is asof God hierdie heidense nasie, net nog vir oulaas, ’n geleentheid gee om hulself tot God te bekeer.

4.    JONA SE BOODSKAP (3:4):
       Nadat Jona vir ’n dag lank rond geloop het in die stad, kom hy by ’n plek waar hy sy boodskap bring wat God aan hom gegee het. Dit blyk ’n kort en kragtige boodskap te wees, maar dit word algemeen aanvaar dat hierdie woorde wat opgeteken is, slegs ’n samevatting is van ’n langer boodskap ~ Nog net veertig dae en Nineve word verwoes! (v.4b). Hierdie boodskap kon egter ook net uit hierdie agt woorde bestaan het, want enersyds is die Evangelie van Jesus Christus ’n baie eenvoudige boodskap, alhoewel menige mens hulle juis teen die eenvoud van die Evangelie "stamp" en andersyds kon hierdie boodskap uit slegs hierdie woorde bestaan het, omdat dit ’n Geesvervulde en swaar gelaaide – kan ek sê, ’n "Godgelaaide-boodskap" was. So ’n kragtige boodskap in sy eenvoud en al, dat dit ingrypende- en verstommende gevolge sou hê!
      
       Die woord wat Jona hier gebruik om te verwys na wat met Nineve sou gebeur as die inwoners hulle nie bekeer nie, is hāpak, wat ’n direkte verwysing is na die verwoesting van Sodom en Gomorra (Gen.19:21, 25, 29). Deur hierdie woord te gebruik, wil Jona sy luisteraars herinner aan ’n vroeëre rampspoedige gebeurtenis wat aan hulle bekend was. Hierdie woord kan egter ook ’n positiewe betekenis hê, bv. Deut.23:5 ~ Die Here jou God wou egter nie na Bileam luister nie en die Here jou God het Bileam se vervloeking in ’n seën verander, want die Here jou God het jou lief. Hierdie swaar gelaaide woord in Jona se boodskap, moes die Nineviete aangespreek het, want wat hy inderwaarheid vir hulle sê, is: Bekeer julle anders gaan julle verwoes word en in swael en vlamme opgaan soos die destydse inwoners van Sodom en Gomorra, maar as julle, julle bekeer, sal julle die seën van die Here ervaar.
      
       Die feit dat die getal veertig in Jona se boodskap gebruik word, is ook veelseggend, want hierdie getal is ’n getal wat op baie plekke in die Ou Testament voorkom en wat gewoonlik negatief van aard was – tydens die sondvloed het stortreën bv. vir veertig dae  en –nagte geval ten einde die aarde te bedek (Gen.7:12). Die Israeliete het vir veertig jaar in die wildernis rond geswerf na hul rebellie teen God (Num14:32-35). In Deut.25:1-3 sien ons ook die getal veertig ~ Wanneer die skuldige dan lyfstraf opgelê is, moet ’n regter hom op die grond laat lê, en hy moet in die teenwoordigheid van die regter soveel houe kry as hy verdien. 3Hy mag nie meer as veertig houe kry nie, want as hy meer as dit kry, word jou volksgenoot voor jou oë verkleineer.

       Hierdie veertig dae grasie wat Nineve ontvang het, impliseer dat God ernstig was met Sy waarskuwing.

5.    NINEVE SE SONDEBELYDENIS (3:5-9):
       Ek sou graag wou weet wat deur Jona se kop gegaan het, terwyl hy die boodskap uitgebulder het op die stadsplein, of waar hy ook al was. Dalk het hy gedink, ek bring hierdie boodskap wat ek van God ontvang het, maar daar is tog sekerlik nie die vaagste moontlikheid dat hierdie spul heidene hulle sal bekeer nie en ek beter vinnig padgee, voor hulle my dood maak – of voor ek oor veertig dae dalk saam met hulle in ’n swaelvuur omkom.

       Waarskynlik een van die mees indrukwekkende gebeurtenisse in die geskiedenis van die aarde, vind egter bykans onmiddellik na Jona se boodskap plaas – van die hoogste tot die laagste inwoner kom tot bekering – van die koning tot die eenvoudigste burger! Die Heilige Gees het elke heiden se hart in daardie stad, ontvanklik gemaak vir die Evangelieboodskap wat Jona gebring het. Hulle roep ’n vasdag uit en trek rouklere aan – rouklere om hulle berou oor hul sonde te betoon.

       Net soos wat dit die geval moet wees met alle gelowiges, glo die inwoners van Nineve in God en nie in Jona die prediker nie – God word verheerlik; nie Jona nie; die volk bekeer hulle tot God en nie tot Jona nie. As heidense volk met baie afgode wat aanbid was, kon hulle baie maklik Jona verhef het tot ’n god en hom begin aanbid het, maar hulle draai na die Skepper van hemel en aarde – na Hand.17:23 se "Onbekende God".

       Ons het egter ook te doen met ’n negatiewe kant aan hierdie wonderlike gebeure wat in Nineve plaasvind en dit blyk duidelik uit Jona se boodskap en dit is dat Jona self nog nie ’n hartsverandering ondergaan het nie – ja, hy is uiteindelik gehoorsaam aan die opdrag wat God aan hom gegee het, maar daar moet nog iets diep binne in Jona se hart gebeur. Waarom sê ek dit? Jona bied geen moontlike oplossing aan die Nineviete om uit hul benarde situasie te kom nie – hy dui geen weg tot vergifnis aan nie, want hy wil nie sien dat die heidene hulle tot SY God wend nie. Hy preek net duisternis en oordeel. Hy verkies dat die Nineviete eerder moet sterf. Hy wil nie hê dat hulle dieselfde vergifnis moet ervaar wat hy ’n paar weke vantevore ervaar het, toe hy in die see gegooi is en later op die strand uitgespoeg is nie. Hierdie is nie die eerste en laaste keer dat Jona so voel oor God se genade oor die Nineviete nie – ons sal dit later weer sien, o.a. in 4:1 toe hy sien hoe die volk hulle beker en hy kwaad geraak daaroor, waarop God vir hom gevra het (v.4) ~ Het jy rede om kwaad te word?

       Nog ’n rede waarom ek sê dat Jona geen oplossing bied nie, blyk duidelik uit die feit dat die inwoners van hierdie groot stad so onkundig is (geen lering dus van die profeet se kant nie), dat hulle selfs hul diere laat vas (v.7-8). 

       Die wonder van hierdie verhaal, ten spyte van die profeet se selfgerigte opstand, is dat God steeds voortgaan om die Nineviete te vergewe en Sy oordeel terug te trek, maar ook dat God Jona steeds nie aan sy eie lot oorlaat nie – God stel steeds in Jona as mens belang. Ten spyte van die feit dat Jona oënskynlik nog steeds nie vergifnis vir sy eie sonde gevra het nie en sy woede oor die Nineviete se bekering, stort God steeds Sy genade oor die volk uit en versorg Hy steeds vir Jona en praat Hy steeds met Jona. God se gewilligheid om te vergewe is infinitief groter as ons eie gewilligheid om te sondig! Die God wat storms ontketen en groot visse se weë bepaal, doen iets nog "groter en moeiliker" – Hý verander mense se harte.

       Ons moet egter aan die anderkant ruimte daarvoor hê, dat Jona se boodskap wat vir ons in v.4 neergepen is, dalk net ’n opsomming is van ’n moontlike langer en meer gedetailleerde boodskap, maar die feit bly steeds staan, dit is God wat mense se harte verander en dat Jona steeds duisternis in sy hart ronddra oor wat aan die gang is in Nineve – ja, hy is gehoorsaam en hy bring die boodskap wat God aan hom gegee het, maar daar is steeds opstand in sy hart oor die gebeure rondom hom, want wat hy verwag het, is dat die Nineviete hulle sou verset teen God en dat God hulle dan sou vernietig, maar net die teenoorgestelde gebeur.

       Nog iets wat vermelding verdien, is die feit dat die koning nie rasionaliseer oor Jona se
waarskuwing nie – hy voer nie allerlei verskonings aan nie, ook ignoreer hy nie die boodskap nie, trouens hy gee opdrag dat die mense meer moet doen as net bid – hy gee opdrag dat mens en dier moet vas en rouklere aantrek – hy stel die voorbeeld en trek sy koninklike kleed uit en simboliseer daardeur dat hy hom onderwerp aan die Koning van alle Konings!

       Die koning gee verder opdrag dat sy volksgenote ernstig tot God moet bid en berou moet hê oor hulle sonde en hulle daarvan moet bekeer – die koning besef dat net ’n ware en opregte hartsverandering hul lot sal kan verander – niks anders nie. As ons na die Israeliete kyk, sien ons dat selfs die heidense Nineviete in ’n sekere sin, hulle geestelik ver voor was, want in Jes.58:3-9 sien ons dat die Israeliete wel gevas het, maar dit was met bymotiewe en hoegenaamd nie in opregtheid nie en daarom het God nie ag geslaan op hulle gebede en gevas nie.

       Net soos die heidense kaptein (1:6) en matrose (1:14) op die skip waarmee Jona aanvanklik weggevlug het, erken die koning en sy onderdane dat God oor die vryheid beskik om te doen soos wat Hy goed dink. Hulle besef dat vals gebede en vals verootmoediging niks sal help ten einde vergifnis en genade te ontvang nie (Joël 2:13-14) ~ Skeur julle harte, nie julle klere nie. Kom terug na die Here julle God toe: Hy is genadig en barmhartig; Hy is lankmoedig en vol liefde. Hy is bereid om straf te herroep. 14Wie weet of Hy nie die straf sal herroep nie; of Hy nie weer voorspoed sal gee nie sodat daar weer graan- en drankoffers sal wees vir die Here julle God!

       Die koning en die Nineviete bekeer hulle opreg en hulle bewys dit met dade wat by die bekering pas (Hand.26:20).   

6.    GOD SE GENADE (3:10):
       Dit is interessant om te sien hoe die woord "groot" (bv. "groot storm" in 1:4 en "groot vis" in 1:17 en "groot stad" in 3:2, ens.) amper iets van ’n sleutelwoord in hierdie boek is – die Hebreeuse woord is "gadol" en dui o.a. op grootsheid, of in die oortreffende trap en dit is presies wat gedurig in die boek Jona gebeur – niks in hierdie verhaal is gering of betekenisloos nie, want net soos wat die groot stad se inwoners tot bekering kom, net so groot is God se genade vir hierdie volk se verootmoediging.

       Dit is so tragies dat Jona in 2 Kon.14:25 juis geprofeteer het dat Israel se grense uitgebrei gaan word, maar toe dit gebeur en juis hy die instrument in God se hand is, is hy onwillig om in oorgawe en met blydskap in sy hart saam met God te werk.

       Wat andersyds egter wonderlik is, is dat God ’n man gebruik wat steeds onvergenoegd is; ’n man wat in ’n sekere sin ’n mislukking is – hy word gebruik om hierdie grootse werk te doen; deur wie hierdie groot genade van God manifesteer. God gebruik die "onvolmaakte Jona", omdat God enersyds nie afhanklik is van volmaakte "instrumente" om Sy doel te bereik nie, trouens Hy gebruik juis "krom stokke om reguit houe mee te slaan". Andersyds is God ook nog nie klaar met Jona nie – daarom gebruik die Here hierdie "kromstok-Jona".

       Hierdie feit dat God "kromstokke gebruik om reguit houe mee te slaan", is uniek aan die Christelike godsdiens en verder is dit ’n geweldige verligting, want dan kan Hy my mos ook gebruik! Wanneer ons verstaan dat ons in Christus is, hoef ons nie te presteer nie en hoef ons nie volmaak te wees om kind van God te wees en instrument in Sy hand te wees nie.  

       Omdat God "kromstokke" gebruik, kan Hy dan ook deur Jona die Nineviete oproep tot bekering en nadat hulle, hulle in opregtheid verootmoedig het, skenk God genade en vergifnis en redding aan hulle!

7.    AFSLUITING:
       Ek wil ter afsluiting twee uiteenlopede sake kortliks aansny – die eerste is God se dreigement dat Hy Nineve gaan verwoes, maar "verander" oënskynlik Sy besluit en dit terwyl ’n Skrifgedeelte soos 1 Sam.15:29 sê ~ Die Ewige van Israel lieg nie en Hy verander nie van gedagte nie, want Hy is nie ’n mens dat Hy van gedagte sou verander nie. Hoe moet ons hierdie Skrifgedeelte versoen met die realiteit wat in Nineve gebeur het?

       Ons moet verstaan, dat God, God is en dat Hy kan doen wat Hy wil en Hy kan (en Hy doen dit inderdaad ook) genade betoon teenoor wie Hy wil ~ Een oomblik kondig Ek aan dat Ek ’n nasie, ’n koninkryk sal afbreek, sal uitroei, sal vernietig. 8Maar wanneer dié nasie hom bekeer van sy boosheid waaroor Ek hom wou straf, sien Ek af van die straf wat Ek oor hom wou bring (Jer.18:7-8). Die vraag is egter hoe ons dit moet verklaar as die Bybel op een plek sê dat God nie Sy gedagtes kan verander nie en die volgende oomblik sê die Woord dat Hy dit wel doen?

       Wanneer ons die twee teksverse waarna ons so pas gekyk het (1 Sam.15:29 en Jer.18:7-8) in gedagte hou, is daar ’n baie eenvoudige verklaring vir die vraag wat ek hierbo gevra het – Eerstens moet ons nie God se dreigement sien as ewige verordening of besluit nie, maar dit is eerder deel van Sy soewereine besluit en ’n genadige reaksie op Nineve se hartsverandering.

       Nog iets wat ons in gedagte moet hou, is dat God in Sy groot genade, dikwels Sy straf op die mens se sonde uitstel, maar die gevolge op daardie sonde en uiteindelike oordeel, indien daar nie permanente bekering is nie, sal uiteindelik geskied.

       ’n Tweede saak wat ek kortliks wil aanraak, is wat belydenis beteken en uiteindelik tot gevolg het.
·           Wat is belydenis? Daar bestaan twee soorte belydenis – die eerste kan ons "spyt" ("attrition") noem. Dit is wanneer iemand spyt is oor iets wat hy verkeerd gedoen het – dit is niks anders nie as ’n selfsugtig-gemotiveerde reaksie op potensiële straf wat gaan volg.

       Ons hoor baie dikwels dat ’n regter tydens ’n uitspraak sê dat hy geen berou by die beskuldige kon waarneem nie en in so ’n geval is die straf dikwels dan nog swaarder.

·           Die tweede soort belydenis word "berou" of wroeging ("contrition") genoem en dít is opregte en ware belydenis. Dit is ’n innige en opregte hartseer omdat God in die proses beledig en onteer is. Dit is selfopofferend. Dit is Godgesentreerd.

       Wat het ware en opregte belydenis tot gevolg?
·           Dit is ’n uiterlike verandering wat voortgebring word deur ’n innerlike verandering. Dit behels dus nie alleen ’n wegdraai van ongehoorsaamheid af nie, maar ’n radikale en doelbewuste draai na gehoorsaamheid

·           Die Nineviete leer ons ’n tweede aspek t.o.v. wat ware berou tot gevolg het. Hulle het hul sonde erken en hulle het restitusie gedoen by God en teenoor andere. Niemand het gesê dat dit iemand anders se skuld was nie – hulle het erken dat hulle gesondig het – hulle het dus nie die oeroue sonde begaan van, "dit is nie ek nie – dis die vrou/slang...".

·           ’n Derde faset van opregte en ware belydenis, is nederigheid. Die Nineviete was nie meer trots nie, maar nederig, want hulle het gerou oor hul sonde en hulle waarlik daarvan bekeer en berou daaroor gehad – iemand wat vas, rouklere aantrek en berou het oor sonde en hom bekeer, kan nie meer opgeblase wees oor sy sonde nie – ware belydenis het altyd nederigheid tot gevolg.

·           God belowe dat wanneer ons in opregtheid ons sonde bely, Hy ons sál vergewe en ons sál herstel (restoureer). Die Nineviete het vergifnis en herstel ervaar, wat altyd lei tot vrede – vrede met God, maar ook innerlike vrede oor daardie sonde. Indien jy nie vrede ervaar nie, moet jy onderskei of jou belydenis waarlik opreg was en of jy geteister word deur die satan, want ware belydenis lei altyd tot vergifnis en herstel en daarom vrede.

       In die Hebreeus is die woord vir vrede, "shalom" en die diepste betekenis van "shalom" is dat die verhouding tussen mens en God volkome herstel is en dat die verhouding weer is soos wat God dit bedoel het. Iemand het op ’n keer gesê dat sonde, die vandalisme van "shalom" is.

       "Shalom" het vrede tot gevolg; "Shalom" het herstel in verhoudings tot gevolg; "Shalom" kom slegs na opregte en ware belydenis en ’n diepe berou oor sonde.

       Het jy vrede in jou hart en met God?


[1] Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Sondag 03 Maart 2013.