Saturday 31 August 2013

Die Brief aan die Hebreërs - 23 ("Die Onvergeeflike Sonde")

1.    SKRIFLESING:
       Ons Skriflesing handel vanoggend oor opsetlike sonde wat iemand begaan. Só opsetlik en só erg, dat géén offer, versoening tussen God en daardie mens kan bewerkstellig nie – daardie veelbesproke "onvergeeflike sonde".

Hebr.10:26-39 ~ Wanneer ons opsetlik bly sondig nadat ons die kennis van die waarheid ontvang het, is daar geen offer meer wat ons sondes kan wegneem nie. 27Daar bly alleen ’n verskriklike verwagting oor van oordeel en ’n gloeiende vuur wat die teenstanders van God sal verteer. 28As iemand die wet van Moses oortree, en twee of drie getuies bevestig dit, word hy nie begenadig nie, hy word doodgemaak. 29Hoeveel swaarder straf, dink julle, sal hy kry wat die Seun van God verag het, die bloed van die verbond waardeur hy geheilig is, geminag het en die Gees van genade beledig het? 30Ons weet tog wie Hy is wat gesê het: “Dit is mý reg om te straf; Ek sal vergeld;” en verder: “Die Here sal oor sy volk oordeel.” 31Dit is verskriklik om in die hande van die lewende God te val. 32Dink terug aan vroeër dae toe God julle tot die lig gebring het, hoe julle in die stryd staande gebly het toe julle baie moes ly. 33Deels is julle deur beledigings en vervolging openlik tot bespotting gemaak en deels het julle gely omdat julle julle vereenselwig het met ander wat hierdie dinge oorgekom het. 34Julle het met die gevangenes meegevoel gehad, en toe op julle besittings beslag gelê is, het julle dit met blymoedigheid aanvaar omdat julle geweet het dat julle ’n besitting het wat beter en blywend is. 35Julle geloofsvertroue moet julle dus nie prysgee nie: dit hou groot beloning in. 36Volharding is wat julle nodig het om die wil van God te doen en te ontvang wat Hy beloof het. 37Nog net “’n kort, kort tydjie, en Hy wat kom, sal kom en nie talm nie. 38En wie deur My vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe; maar as hy terugdeins, het Ek aan hom niks meer nie.” 39Maar ons is nie van dié wat terugdeins en verlore gaan nie; nee, ons glo en ons sal lewe.

2.    INLEIDING:
       Dit is belangrik dat ons vanuit die staanspoor sal besef van wie die Apostel hier praat – hy praat van mense wat bely dat hulle gelowiges is, maar wat dan hul rug keer op hul geloof, Hy praat derhalwe nié hier van sonde en tekortkominge wat alle ware en opregte gelowiges beleef nie – hy het tog immers al in 4:14-16 gesê dat gelowiges, genade sal ontvang om weer met vrymoedigheid na God se genadetroon te kan terugkeer ~ Terwyl ons dan nou ’n groot Hoëpriester het wat reeds deur die hemele gegaan het, Jesus, die Seun van God, laat ons vashou aan die geloof wat ons bely. 15Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie. 16Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word. Die Evangelie van Jesus Christus is dus ’n boodskap van genade en liefde en barmhartigheid – máár die Evangelie van Jesus, is egter óók ’n boodskap van veroordeling en verdoemenis vir diegene wat nié daarop reageer nie, of hul rug daarop draai.

3.    GELOOFSVERSAKING:
       In hierdie gedeelte gaan dit vanoggend dan spesifiek oor geloofsversaking en dan moet ons vir onsself dadelik uitmaak wat presies is geloofsversaking? Dit is nie die eerste keer dat die Hebreërskrywer waarsku teen geloofsversaking nie. Hy het die eerste keer in 2:1 daarna verwys, toe hy gesê het ~ Om hierdie rede moet ons soveel kragtiger vasgryp aan wat ons gehoor het, sodat ons nie dalk wegdrywe nie. Hy praat vir ’n tweede keer hieroor in 3:12 ~ Broers, julle moet toesien dat daar nooit by een van julle ’n verkeerde gesindheid van ongeloof ontstaan en hy van die lewende God afvallig word nie. In 4:1 verwys hy weer daarna ~ Terwyl die belofte om in sy rus in te gaan nog van krag is, moet ons oppas dat dit nie miskien later blyk dat een van julle agtergebly het nie. Hebr.6:4-6 is veral ’n ernstige waarskuwing ~ Wanneer mense een keer deur God verlig is, die hemelse gawe ontvang en deel gekry het aan die Heilige Gees, 5die goeie woord van God leer ken het en die kragte van die toekomstige wêreld ondervind het 6en dan nogtans afvallig geword het, is dit onmoontlik om hulle weer tot bekering te bring. In hulleself kruisig hulle immers weer die Seun van God en maak hulle Hom in die openbaar tot ’n bespotting.

       Wat gebeur as iemand afvallig raak, of dan sy geloof versaak? Van wie word hier gepraat? Hier word gepraat van mense wat eens verklaar het dat hul gelowiges is, en hulle die kennis van die Waarheid ontvang het en dan op ’n stadium, willens en wetens (doelbewus en moedswillig) sondig en hul rug op God draai en Hom verwerp en die Evangelie afmaak as ’n leuen. V.29 beskryf hierdie sonde aan die hand van drie grafiese beelde:
·           Om Jesus en alles wat Hy ons geleer het, te verag en te verwerp. Die OAV beskryf dit nog meer grafies, wanneer dit so ’n persoon beskryf as iemand wat die Seun van God vertrap, soos wat ’n soldaat op sy neergevelde vyand se dooie liggaam sal trap (die ESV en NASB praat van "trampled under foot").
·           Tweedens sê die skrywer dat geloofsversaking gelykstaande daaraan is om die bloed van die verbond te minag, asof dit sommer maar net alledaagse en gewone bloed is – dit is iemand wat op ’n keer in sy lewe gesê het dat Jesus se bloed, sy sonde afgewas het en hom geregverdig het, maar beskou nou daardie bloed as van nul en gener waarde. So ’n persoon verwerp dus Jesus se versoeningswerk aan die kruis.
·           Derdens sien ons in v.29, dat iemand wat afvallig raak, ’n belediging vir die Heilige Gees is en daarom sonde teen die Heilige Gees pleeg.

       Hierdie selfde sonde waaroor die Hebreërskrywer hier skryf, word ook deur Jesus in Luk.9:62 beskryf, as iemand wat die hand aan die ploeg slaan, maar aanhoudend omkyk na wat agter is en dan gaan die Here Jesus voort en Hy sê dat so iemand, nie geskik is vir die Koninkryk nie!

4.    DIE GEVOLGE VAN GELOOFSVERSAKING:
       Kom ons keer egter terug na v.27. Wat is die gevolge vir iemand wat die rug op Jesus Christus keer? Die Apostel noem aan ons twee dinge wat met so ’n persoon gebeur:
·           Eerstens is daar geen versoening vir so ʼn persoon nie; geen offer meer wat so ’n persoon se sonde kan wegneem nie (v.26b). Die enigste offer wat enige persoon kan regverdig, is die offer wat Jesus Christus gebring het. Indien Christus se offer verwerp word, word enige hoop op redding verbeur – die geleentheid tot redding is vir ewig verby; die ewige lewe is vir ewig verbeur – niks, absoluut niks kan dit ongedaan maak nie – geen offer nie en Jesus se offer het Hy eenkeer gebring – Hy gaan dit nooit weer herhaal nie, want Sy offer was voldoende ~ Want die dood wat Hy gesterf het, het Hy vir die sonde eens en vir altyd gesterwe (OAV - Rom.6:10).
·           Tweedens wag daar vir so ’n persoon, maar net een uitkoms – nog ’n groter oordeel as vir ander verlorenes – v.27 ~ Daar bly alleen ’n verskriklike verwagting oor van oordeel en ’n gloeiende vuur wat die teenstanders van God sal verteer – God se oordeel! So ’n persoon val in die hande van die heilige God. Hoor wat sê Petrus in 2 Pet.2:20-21 ~ Mense wat van die besmettinge van die wêreld vrygekom het deurdat hulle ons Here en Verlosser, Jesus Christus, leer ken het, en wat weer daarin vasgevang en daardeur oorweldig word, is aan die einde slegter daaraan toe as aan die begin. 21Dit sou vir hulle beter gewees het as hulle die wil van God nie leer ken het nie as dat hulle dit wel leer ken het en daarna afgewyk het van die heilige gebod wat aan hulle oorgedra is.

       Hierdie persoon sny homself van God se genade af – hy word ’n vyand van die kruis en daar wag ...’n verskriklike oordeel en ’n gloeiende vuur vir hom – en dit alles op grond van sy eie keuse! Dit is waarom daar in v.31 staan ~ Dit is verskriklik om in die hande van die lewende God te val. Ons sal in 12:29 sien dat onse God, ’n verterende vuur is. Hierdie is ook in ooreenstemming met die profetiese woorde van Sefanja in Sef.1:18 ~ Nòg hulle silwer nòg hulle goud sal hulle kan red op die dag wanneer die toorn van die Here losbreek, wanneer die hele land verteer word deur die vuur van sy woede. Hy bring vernietiging en skrik oor al die inwoners van die land.

       Baie mense dink dat die God van die ou verbond en die God van die nuwe verbond nie dieselfde God is nie – volgens hulle is God van die ou verbond, ’n onwrikbare, gevoellose en genadelose God, terwyl die nuwe, ’n liefdevolle, barmhartige en genadige God is. Ons moet egter verstaan dat God se liefde en genade aan die eenkant en Sy wraak en oordeel oor sonde aan die anderkant, in beide Testamente geleer word – ja, dit is so dat ons ’n meer gedetailleerde prentjie geskilder kry van God se liefde en genade in die Nuwe Testament as in die Ou Testament, maar ons kry terselfdertyd ’n baie meer intense beskrywing van Sy oordeel in die Nuwe Testament – dink maar net aan bv. Openbaring.

       Anders gestel, God is nie minder verdraagsaam t.o.v. sonde in die Nuwe Testament, as in die Ou Testament nie, trouens Hy straf sonde in die Nuwe Testament, juis meer intens as in die Ou Testamentiese tydperk, omdat ons wat in die Nuwe Testamentiese tydperk leef, veel meer lig ontvang het ~ God het die tye van onkunde oorgesien, maar nou roep Hy al die mense oral op om hulle te bekeer, 31want Hy het ’n dag bepaal waarop Hy regverdig oor die wêreld gaan oordeel deur ’n Man wat Hy uitgekies het. As bewys daarvan vir almal, het Hy Hom uit die dood laat opstaan (Hand.17:30-31).

       Ons hoor baie keer dat mense sê dat daar nie "groot sondes" en "klein sondes" is nie, maar hier in Hebr.10:28-29 sien ons tog iets daarvan ~ As iemand die wet van Moses oortree, en twee of drie getuies bevestig dit, word hy nie begenadig nie, hy word doodgemaak. 29Hoeveel swaarder straf, dink julle, sal hy kry wat die Seun van God verag het, die bloed van die verbond waardeur hy geheilig is, geminag het en die Gees van genade beledig het? Wat ons dus hier sien, is dat daar geen groter sonde is, as die sonde van geloofsversaking nie en wat meer is, die oordeel daarop is ook die heel grootste van alle oordele.

       ’n Voorbeeld van groter sonde as ander, is bv. dié waar Jesus vir Pilatus gesê het dat Judas se sonde groter was as dié van Pilatus ~ U sou geen gesag oor My gehad het as dit nie van Bo aan u gegee was nie. Daarom het hy wat My aan u uitgelewer het, groter skuld (Joh.19:11). Jesus het dit ook in Luk.12:47-48 duidelik gemaak, dat oordeel en straf in ooreenstemming met die oortreding of sonde is ~ Die slaaf wat geweet het wat sy eienaar wil hê maar wat nie gereed gemaak of volgens die wil van sy eienaar gehandel het nie, sal ’n swaar straf kry. 48Maar hy wat nie geweet het nie en dinge gedoen het wat straf verdien, sal ’n ligte straf kry. Van elkeen aan wie baie gegee is, sal baie geëis word; en van hom aan wie baie toevertrou is, sal meer gevra word (Luk.12:47-48).
      
       Dit is dus duidelik, dat diegene wie die geloof in die Here versaak, ’n groter sonde begaan as ander en dat so ’n persoon swaarder straf te wagte kan wees as ander verloregaande mense.

5.    ONTHOU EN VOLHARD:
       Na hierdie verskriklike veroordeling wat mense wat hul geloof versaak het, opgelê is, kom die Hebreërskrywer nou in vv.32-39 en wil hy mense wat reeds die Lig gesien het – wat reeds kennis dra van die Waarheid, aanmoedig om ’n stap verder te gaan, anders mag hierdie veroordeling van die voorafgaande klompie verse, ook op hulle van toepassing wees.

       Ons moet verstaan dat die apostel bewus was daarvan, dat baie mense in die gemeentes aan wie hy geskryf het en wat intens betrokke was by die kerk en wat bekend gestaan het as Christene – hulle het selfs gedeel in die vervolging wat teen die kerk geloods was, maar wat nog nie opregte gelowiges was nie. Hierdie ongelowige Jode in die gemeentes was so aangetrek deur die Evangelie; deur Christus se liefde; Sy beloftes en Sy lering, dat hulle die Judaïsme die rug gekeer het, maar hulle het nog nie waarlik in die Evangelie geglo nie.

       Hierdie Jode was intellektueel verlig deur die Waarheid – hulle het al die basiese beginsels van die Evangelie geken, maar hulle het nog nie waarlik geglo nie, maar die apostel moedig hulle aan om ’n stappie verder te gaan en daarom sê hy vir hulle in vv.32-34 ~ Dink terug aan vroeër dae toe God julle tot die lig gebring het, hoe julle in die stryd staande gebly het toe julle baie moes ly.... Hy sê dus vir hulle: Hoe verskriklik sal dit nie wees as julle, nadat julle al so ver gekom het en soveel gedoen het; soveel vervolging ervaar het en soveel ingeboet het in die lewe, op die ou einde die lig verloor wat julle al begin sien het – nadat julle so naby was – moenie nou tou opgooi nie – moenie nou die ewige lewe versaak nie. Byt vas en plaas julle vertroue in Christus Jesus, sodat julle deel kan word van Sy Koninkryk. Moenie wees soos die man waar die saad op die klipbanke gesaai is nie, maar soos die een waar die saad in vrugbare en goeie grond gesaai is (Mark.4:16-20)! 

       Die openingswoorde in v.32, nl. "dink terug" is in die OAV "onthou" en hierdie woord "onthou" in die Grieks, is ἀναμιμνῄσκω (anamimnesko) en beteken meer as bloot net om te onthou – dit beteken letterlik in hierdie spesifieke verband, dat hulle die Waarheid wat hulle tot nou toe gehoor het en dít wat hulle tot nou ervaar en gesien het, baie ernstig moet oordink en opnuut weer moet rekonstrueer en uitpluis en verstaan, want dit sal ’n baie sterk teenvoeter wees teen die uiteindelike terugval in ongeloof.

       In 35-39 gaan die skrywer voort en moedig hy sy lesers (en natuurlik vir ons ook) aan om nie net te "onthou" nie, maar ook om vas te hou aan die feit dat ware geloofsvertroue, uiteindelik uitloop op ’n groot beloning – dit beteken dus dat as hulle hierdie vertroue sou neerlê, hulle daarmee saam hul beloning sou verloor. Hierdie beloning is die moeite werd om voor te stry en voor te veg en al die verwerping en vervolging wat daarmee gepaard gaan, die hoof te bied, want in die woorde van Paulus in Rom.8:18, is hy ~ ...daarvan oortuig dat die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie. Hierdie heerlikheid waarna die Hebreërskrywer verwys, is die onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemel vir (ons) in bewaring gehou word, waarvan Petrus ook in 1 Pet.1:4 van praat en elkeen wat hierdie erfenis in besit neem, sal ...die oorwinnaarskroon van 2 Tim.4:8 ontvang, nl. ’n ~ ...lewe by God en, gaan Paulus voort, hierdie oorwinnaarskroon en gepaardgaande lewe by God, sal ...op die dag dat die Here Jesus Christus, die regverdige Regter weer kom, vir my gegee word, en nie net vir my nie, maar ook vir almal wat met verlange uitsien na sy koms.

       Wat het hierdie mense nodig? Wat het ons nodig? V.36 ~ Volharding is wat julle nodig het om die wil van God te doen en te ontvang wat Hy beloof het. Hierdie groep mense het hoop gehad, maar hulle hoop was nie sterk genoeg nie – hulle het God se wil nie volkome uitgeleef nie, omdat hulle nie ten volle in Christus Jesus geglo het nie en voor dit nie gebeur nie – voor hulle nie God se wil ten volle uitleef en hul vertroue ten volle in Christus plaas en vestig nie, sal hulle nie dit wat belowe is, in ontvangs kan neem nie. Hierdie lesers het die beloftes van die Waarheid geken; hulle het hulle verheug daarin; hulle het selfs daarvoor gely, maar hulle het dit nog nie volkome ontvang nie – hulle is die mense waarvan Jesus in Matt.7:22-23 praat ~ ...Baie sal daardie dag vir My sê: ‘Here, Here, het ons dan nie in u Naam gepreek nie, deur u Naam bose geeste uitgedryf en deur u Naam baie wonders gedoen nie?’23Dan sal Ek openlik vir hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My af, julle wat die wet van God oortree.

       In v.37 haal die skrywer aan uit Jes.26:20 wanneer hy skryf ~ ...Kruip ’n rukkie weg totdat God klaar is met straf. Hierdie aanhaling uit Jesaja is gegrond op Hab.2:3, waar die koms van Christus die Messias geprofeteer is. Christus is dus die Een wat gaan kom in die Ou Testament, maar Hy is ook die komende Verlosser in die Nuwe Testament – die regverdige Regter, waarna o.a. Matt.3:12 dan ook verwys ~ Hy het sy skop in sy hand en Hy sal sy dorsvloer deur en deur skoonmaak. Sy koring sal Hy na die skuur toe bring, maar die kaf sal Hy met ’n onblusbare vuur verbrand.

       Vir ons in die huidige bedeling, voel dit asof Christus nooit gaan kom nie, maar ons moet in gedagte hou dat die Jode presies dieselfde gevoel het en uiteindelik hét Hy gekom (al was dit slegs nagenoeg 600 jaar na Habakuk) en net so sál Hy ook weer kom – die Here het dit minder as 2000 jaar gelede reeds belowe ~ Terwyl Hy weggaan (dit is Jesus se hemelvaart) en hulle nog stip na die hemel kyk, het daar skielik twee mans in wit klere by hulle gestaan. 11Dié sê toe vir hulle: “Galileërs, waarom staan julle so na die hemel en kyk? Hierdie Jesus wat van julle af na die hemel toe opgeneem is, sal net so terugkom soos julle Hom na die hemel toe sien opgaan het (Hand.1:9-11).

       Die Hebreërskrywer wil derhalwe net soos die profete Jesaja en Habakuk van ouds, vir sy lesers en vir ons sê: Hou vol; volhard, want dit is nie meer lank nie, dan gaan julle die prys wen, want die Vader weet reeds wanneer Christus gaan kom – die tyd is reeds bepaal – hou moed; Hy kom; wy julleself toe aan Hom.

       In v.38 gaan die skrywer voort met sy aanhaling uit Habakuk en hy sê dat "vrygespreektes" net vir ’n rukkie nog moet uithou en die beproewing van hierdie aardse lewe verduur, want die heerlikheid wat hierna gaan volg, gaan ewigdurend wees. Wie is hierdie "vrygespreektes"? Gal.2:19-20 ~ Maar wat my betref, deur die wet is ek vir die wet dood sodat ek vir God kan lewe: ek is saam met Christus gekruisig, 20en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe. Die lewe wat ek nou nog hier lewe, leef ek in die geloof in die Seun van God wat sy liefde vir my bewys het deur sy lewe vir my af te lê. ’n Vrygespreekte persoon, is dus iemand wat deur Christus se offer, geregverdig is en wat op grond van geloof leef, m.a.w. hy het elke greintjie van eie -verdienste en selfstandigheid neergelê en is sy verlossing geheel en al afhanklik van Christus se soendood. Paulus sê in Gal.3:11, dat niemand op grond van die wet vrygespreek, of geregverdig word nie, maar op grond van sy geloof.

       Dit is interessant, dat ’n Joodse Rabbi, gedurende die derde eeu, by name Rabbi Simla gesê het dat Moses 365 verbiedende en 248 positiewe bevele gegee het. Dawid sê die Rabbi, het dit gereduseer tot 11 bevele in Ps.15; Jesaja het dit in Jes.33:14-15 verder afgeskaal tot 6 bevele; Miga tot 3 in Miga 6:8, terwyl Habakuk dit alles in een saamgevat het, nl. ~ Maar die regverdige, deur sy geloof sal hy lewe (Hab.2:4b – die woorde wat dan ook hier in Hebr.10:38 aangehaal word).

       Wat beteken hierdie woordjie geloof? In die Grieks is dit πιστεύω (pisteõs) en beteken dit letterlik om in iets of iemand te glo; om jou vertroue volkome in iets of iemand te plaas. Waarin glo gelowiges dus? In wie of wat plaas gelowiges hul vertroue? In kort wat glo gelowiges, ten einde gered te word? Ef.2:8-9 ~ Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ’n gawe van God. 9Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie. Gelowiges lewe deur geloof en nie deur sien nie (2 Kor.5:7). Johannes vat dit alles baie mooi saam in Joh.3:36 ~ Wie in die Seun glo, het die ewige lewe; wie egter aan die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die straf van God bly op hom. Ons vind ’n pragtige voorbeeld hiervan, reeds so vroeg as Gen.15:6 ~ En hy (dit is Abraham) het in die Here geglo; en Hy het hom dit tot geregtigheid gereken.

       Om dan terug te keer na Hebr.10:38 – ’n "Vrygespreekte" is dus iemand wat in Christus Jesus glo en aan Jesus Christus vashou vir sy redding en op niks anders staatmaak as net Christus se soendood aan die kruis nie – so iemand sien ons in v.38, sal lewe, maar indien hy terugdeins van hierdie waarheid, sal hy uitgespoeg word deur die Here (in die woorde van Openb.3:16) – v.38 sê ~ ...het ek (die Here) niks meer aan hom nie.

       Die Hebreërskrywer sluit hierdie gedeelte af deur sy lesers te bemoedig en te motiveer, deur vir hulle te sê ~ Maar ons is nie van dié wat terugdeins en verlore gaan nie; nee, ons glo en ons sal lewe.

6.    AFSLUITING:
       Een van die karakters in C.S. Lewis se klassieke verhaal, "The Narnia Chronicles", is Aslan wat ’n uitbeelding is van Christus en Lewis sê die volgende van Aslan: He is not a tame lion. Elke keer dat Aslan in die verhaal praat, bestaan daar geen twyfel oor wie in beheer is nie – Aslan! Dit is wie en wat ons Here Jesus Christus is ~ ...kyk, die Leeu wat uit die stam van Juda is, die wortel van Dawid, het oorwin om die boek oop te maak en sy sewe seëls te breek (Openb.5:5). Jesus, die Leeu uit die stam van Juda is in beheer en Hy is nie Iemand om mee te speel nie en daarom behoort elke mens erns te maak met sy geloof en toewyding aan Jesus Christus.

       Waar laat hierdie Skrifgedeelte van vanoggend ons? Die ewige lewe (die hemel) is die ewige bestemming van elke gelowige en niks, absoluut niks kan enige gelowige uit die hemel hou nie, behalwe wanneer ons daarin misluk om te volhard tot die einde toe. Ons het vroeër in Hebreërs reeds gesien dat die geheim om te kan volhard tot die einde toe, daarin geleë is dat ons, onsself voortdurend aan die Woord in al sy vorms sal blootstel (prediking; onderlinge byeenkomste; persoonlike Woordstudie en gebed) en om voortdurend ons oë gefokus te hou op Jesus Christus as ons groot Hoë Priester.

       Mag die waarskuwing in Hebr.10 vir elkeen van ons voortdurend dien as aanmoediging om v.39 in opregtheid te kan proklameer ~ Maar ons is nie van dié wat terugdeins en verlore gaan nie; nee, ons glo en ons sal lewe Daarmee saam, mag Ps.119:11 egter ook vir ons in hierdie verband altyd voorop staan ~ Aan U beloftes hou ek vas. Dit weerhou my van sonde teen U.


[1] Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Sondag 01 September2013.

Saturday 24 August 2013

Die Brief aan die Hebreërs - 22 ("Nader tot God in Opregtheid")


1.    SKRIFLESING:
       Ons het in die voorafgaande hoofstukke van Hebreërs (tot 10:18) gesien hoe dat die skrywer bepaalde leerstellinge in detail uiteensit. Ons kom nou by ’n gedeelte waar die Hebreërskrywer ’n opregte en ernstige oproep rig tot sy lesers, ten einde die leerstellige wat hy tot nou toe met hulle gedeel het, toe te pas in die praktyk. Hierdie metode – eers leerstellinge en dan die praktyk, is presies dieselfde metode wat in die res van die Apostoliese briewe gebruik word. Leerstellings is nie blote teologie nie: dit moet toegepas word. Geloof moet beide beoefen en bely word. Die Waarheid moet gelééf word, anders is dit nie die papier werd waarop dit geskryf staan nie.
      
       Hebr.10:19-25 ~ Broers, ons het dus nou deur die bloed van Jesus vrye toegang tot die heiligdom, 20en dit op ’n weg wat nuut is en na die lewe lei. Hierdie weg het Hy vir ons gebaan deur die voorhangsel heen, dit is deur sy liggaam. 21En terwyl ons Hom ook as groot priester oor die huis van God het, 22laat ons tot God nader met ’n opregte hart en met volle geloofsekerheid. Ons harte is immers gereinig van ’n skuldige gewete, en ons liggame is gewas met skoon water. 23Laat ons styf vashou aan die hoop wat ons bely, want God is getrou: Hy doen wat Hy beloof het. 24Laat ons ook na mekaar omsien deur mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade. 25Ons moenie van die samekomste van die gemeente af wegbly soos party se gewoonte is nie, maar mekaar eerder aanmoedig om daarheen te gaan, en dit des te meer namate julle die oordeelsdag sien nader kom.

2.    INLEIDING:
       Verse 19-21 vorm ’n brug tussen die leerstellige aan die eenkant (1:1-10:18) waarna ek verwys het en die volgende verse (10:22 en verder).

       In v.19 sien ons dat daar geen twyfel bestaan nie – gelowiges kan God met oorgawe nader, want Jesus het vir ons die "deur oopgemaak" na die Vader. Daar hoef dus geen vrees of onsekerheid by ons te bestaan nie. God die Vader sal ons gebede – ons toetrede tot Sy genadetroon, aanvaar op grond daarvan dat Hy Sy Seun se offer aan die kruis aanvaar het – daar is dus vrye toegang vir elkeen van ons bewerkstellig. Die Allerheiligste van die Tabernakel of van die Tempel, het God se teenwoordigheid onder die volk gesimboliseer en net die Hoë Priester kon een maal per jaar daar ingaan, maar Christus se volmaakte offer het dit alles verander – wat ’n voorreg het ons nie nou om self in die Vader se teenwoordigheid te kom nie en wat meer is, ons mag meer as eenkeer per jaar dit doen, trouens ons kan dit voortdurend doen!

       Ons moet enersyds besef dat dit vir toegewyde Jode wat uit die Judaïsme oorgekom het na die Christendom op grond van God se uitverkiesende genade, ’n geweldige gedagte moes gewees het – vir eeue kon net die Hoë Priester een maal per jaar in die Allerheiligste kom en nou? Nou kan elke individuele gelowige dit vrylik en meer as gereeld doen!

       Aan die anderkant moet ons ook besef, dat geen mens in God se teenwoordigheid kan kom, indien hy dit op grond van sy eie verdienste, of karakter, of dade, of godsdienstigheid ens. probeer doen nie – hy sal geen toegang vind nie; geen ontvanklikheid nie; geen antwoord nie! So ’n persoon kan ook nie toegang verkry, bloot net op grond van sy belydenis dat hy in Christus glo nie ~ Nie elkeen wat vir My sê: ‘Here, Here,’ sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is. 22Baie sal daardie dag vir My sê: ‘Here, Here, het ons dan nie in u Naam gepreek nie, deur u Naam bose geeste uitgedryf en deur u Naam baie wonders gedoen nie?’23Dan sal Ek openlik vir hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My af, julle wat die wet van God oortree (Matt.7:21-23) – ’n Persoonlike verhouding met Jesus Christus, is nodig voor vrye toegang geniet kan word en natuurlik word daardie verhouding uit
genade en deur die soendood van Jesus Christus aan die uitverkorenes geskenk – selfs die geloof wat hulle bely word uit genade aan hulle geskenk.

       Ons lees in v.20 van ’n "weg wat nuut" is. Hierdie woordjie "nuut" is in die Grieks πρόσφατος (prosphatos) en word net een keer in die ganse Nuwe Testament gebruik. Dit beteken letterlik "om vars geslag te wees" Jesus is hierdie "vars geslagte offer" wat die pad oopmaak vir elke gelowige na die Vader se genadetroon. Op die oog af klink dit na ’n teenstrydigheid, want slagting dui tog immers op dood, maar hier dui dit juis op ’n nuwe lewe – dit is omdat Jesus se dood, die dood self oorwin het en daarom lewe gee. Sy dood is die enigste weg tot ’n ewige lewe en daarom ’n oop en lewende verhouding met God.

       Vers 21 som vir ons die hele middelste gedeelte van hierdie Sendbrief op, nl. dat ons ’n Hoë Priester het wat vir ons by die Vader intree. In Eks.28 word daar baie spesifieke voorskrifte deur God gegee t.o.v. die volk se verteenwoordiging deur die Hoë Priester voor God. So moes Aäron bv. twee stene op die skouerbande van sy priesterlikekleed gedra het, sodat die stene verteenwoordigend kon wees van die twaalf stamme van Israel (Eks.28:12) en in v.21 sien ons dat die name van die stamme op twaalf stene gegraveer word en die priester moes hierdie stene op ’n borssak, oor sy bors gedra het.

       As ons hierdie voorskrifte in gedagte hou en onthou dat die priester ook net op spesifieke tye voor God kon verskyn ten einde die stamme te verteenwoordig, dan het ons soveel om voor dankbaar te wees, want Christus dra nie net ons name op Sy skouers en op Sy bors nie – nee, ons name is in Sy hand gegraveer (Jes.49:16) – Hy dra ons name in Sy totale wese.

       Met hierdie vertroostende stelling sluit die skrywer sy leerstellige gedeelte af en gaan hy nou in v.22 voort, met die praktiese toepassing van die leerstellige wat hy tot nou met sy lesers gedeel het.

3.    EERSTE OPROEP:
       In vv.22-25 ontvang ons as gelowiges ’n hartlike uitnodiging en roep die skrywer ons op om in die teenwoordigheid van God te leef. Daar is egter ’n voorwaarde gekoppel aan hierdie uitnodiging en dié voorwaarde word vir ons in v.22 uitgespel, nl. dat ons dit slegs kan doen met ’n "opregte hart" en met "volle geloofsekerheid". "Opreg" is in die Grieks ἀληθινός (alēthinos) en die Afrikaanse vertaling hiervan kan nie meer sê as wat dit reeds sê nie – "opreg", met ’n opregte hart. Wat beteken dit egter om ’n opregte hart te hê wanneer ons in die teenwoordigheid van die Here wil leef? Eerstens kan ons sê dat die teenoorgestelde vir "opreg", is "vals" – dit gaan dus hier oor ons motiewe. Waarom bid ons tot God? Om ons gewete te salf? Om ’n pligpleging afgetik te kan kry op ons "om-te-doen-lysie"? Gaan ons na die Here omdat ons Hom waarlik in eerlikheid en opregtheid wil verheerlik; wil loof en prys en wil dank? Om ons harte in opregtheid voor Hom oop te maak en te bid om vertroosting, hulp en leiding?

       Vers 22 sê egter ook dat ons in "volle geloofsekerheid" (πληροφορία / plērophoria) in God se teenwoordigheid moet leef en daarom ook tot God moet bid. Dit beteken m.a.w. dat ons absolute sekerheid en oortuiging daarvan sal hê, dat ons kinders van God is en dat ons met vrymoedigheid voor Hom mag staan. Ons moet derhalwe verstaan waar ons reddinggeloof vandaan kom, nl. van God en deur Sy uitverkiesende genade wat vasgemaak is deur Jesus Christus se soendood aan die kruis en ons geloof in Hom wat deur die Heilige Gees in ons bewerk en aan ons geskenk is. Vra bietjie vir mense op grond waarvan is hulle gered en kyk hoe min kan vir jou regtig vertel waarom hulle glo dat hulle gered is en as jy dan verder met hulle gesels, kom jy gewoonlik baie gou agter dat diesulkes nie ’n idee het waaroor dit gaan nie en daarom waarskynlik ook nie gered is nie – sulke mense het nié "volle geloofsekerheid" nie en jy kan ook baie gou agterkom dat hulle nie gemaklik is om te bid nie, of selfs hoegenaamd te bid nie.

       Ons vind baie voorbeelde in die Woord waar mense nié met opregte harte na die Here gegaan het nie. Een so ’n voorbeeld in die Nuwe Testament is bv. waar Petrus vir Simon betig en veroordeel omdat hy nie met ’n opregte hart na Jesus gegaan het nie ~ Maar Petrus antwoord hom: “Gaan na die verderf met jou geld en al! Dink jy jy kan die gawe van God met geld koop? 21In hierdie werk is daar vir jou geen plek nie, want jou gesindheid teenoor God is nie reg nie. 22Bekeer jou van hierdie dwaling en bid tot die Here: miskien sal Hy jou hierdie gesindheid van jou hart vergewe (Hand.8:21-22).

       Indien ons in ons lewe op ’n plek is waar ons nie in opregtheid na God kom en in Sy teenwoordigheid leef nie, is daar egter hoop vir ons. Ons vind in die Ou Testament nog ’n voorbeeld van mense wat nie in opregtheid na God gegaan het nie ~ En asof dit nie genoeg was nie, het haar ontroue suster Juda na My toe teruggekom, maar nie met volle oorgawe nie; dit was vals, sê die Here (Jer.3:10). Daar was egter hoop en ’n vooruitsig dat die volk se gesindheid en situasie sou verander en ons sien dit reeds Jer.24:7 ~ En Ek sal hulle ’n hart gee om My te ken, dat Ek die Here is; en hulle sal vir My ’n volk wees, en Ek sal vir hulle ’n God wees, want hulle sal na My terugkeer met hul hele hart (OAV). Die Here het Sy volk se harte verander, hoeveel te meer nie ons harte, indien ons verhouding met die Here verswak het, om watter rede ook al – indien ons in opregtheid vir Hom vra om ons situasie om te draai; om ons ontrouheid om te draai, hoeveel te meer sal Hy dit nie nou in Christus Jesus, ons Hoë Priester doen nie – Hy wat onophoudelik vir ons intree by die Vader!

        Ons vind in die tweede gedeelte van v.22 twee eienskappe wat tekenend is van verloste mense – mense wat met opregte harte en in volle geloofsekerheid in die teenwoordigheid van die Here leef en na Hom gaan – in die eerste plek is dit diegene wie verlossing van ’n skuldige gewete ervaar. Die teoloog Philip Hughes sê: "Only a heart that has been 'sprinkled from an evil conscience' can be 'a true heart' and can know the 'full assurance of faith'; and this heart belongs to the person whose humanity has been 'washed with pure water'".

       Wanneer Rom.10:9-13 vir ons ’n vaste realiteit is, nl. ~ As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word. 10Met die hart glo ons, en ons word vrygespreek; en met die mond bely ons, en ons word gered. 11Die Skrif sê tog: “Niemand wat in Hom glo, sal teleurgestel word nie.” 12“Niemand nie!” Dit maak dus geen verskil of ’n mens ’n Jood of ’n Griek is nie, want dieselfde Here is Here van almal, en Hy seën almal wat Hom aanroep, ryklik, 13want elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word – wanneer hierdie wonderlike belofte van die Here vir ons ’n vaste realiteit is, sal en mag ons beskik oor geloofsekerheid en wanneer ons oor geloofsekerheid beskik, reinig die Here ons van allerlei skuldige gewetens oor sonde uit ons verlede.

       ’n Skuldige gewete veroordeel ons voortdurend en wanneer dit gebeur is een van drie dinge besig om te gebeur:
·           Of jy is nie vergewe nie en derhalwe nie wedergebore nie, omdat ’n skuldige gewete nie verwyder kan of sal word as jy nie vergewe is nie en as jy nie vergewe is nie, is jy nie gered nie en moet jy dringend aandag aan hierdie geweldige wete en feit skenk en ernstig voor die Here kom en Hom vra om vergifnis en genade - reddingsgenade.
·           As jy geteister word deur ’n skuldige gewete oor bepaalde sonde in jou lewe, kan dit wees omdat jy, jou "ore uitleen" vir die vyand en toelaat dat hy jou beskuldig van dinge wat wél gebeur het in jou lewe, maar waarvoor jy reeds volkome  vergifnis ontvang het en daarom moet jy die vyand teenstaan, deur Ef.6:14-17 se wapenrusting in gedagte te hou en dit prakties toe te pas en dan spesifiek in hierdie geval, die borsharnas van vryspraak en die verlossing as helm op die kop, toe te pas in jou weerstand teen die satan wanneer hy jou beskuldig – jy moet m.a.w. seker maak en seker wees van jou wedergeboorte – om m.a.w. seker te wees dat jy in Christus is en dat jy jou redding ten alle tye in gedagte sal hou; daaraan vas te hou; die sekerheid en realiteit daarvan uit te leef en dit onwrikbaar te glo.
·           ’n Derde moontlike rede waarom jy dalk sit met ’n skuldige gewete, is omdat jy nie die geloof as skild in die hand het nie – dat jy nie presies weet wát jy glo en waarom jy dit glo nie; dat jy nie dinge verstaan soos God se uitverkiesende genade nie; God se soewereiniteit en almag nie, ens. Indien dit die geval is, moet jy ernstig werk maak daarvan en ’n studie te maak van o.a. die sondeval; God se verlossingsplan wat reeds in Gen.3 aangekondig is; van  genade; van die uitverkiesing; van geloof, ens.

       Om dit alles moontlik te maak, is dit derhalwe noodsaaklik dat jy die swaard van die Gees en die waarheid as gordel aan sal hê – om m.a.w. voortdurend in die Woord te wees en jou kennis van die Woord uit te brei en dit uit te leef – dan sal jy nie meer sit met ’n skuldige gewete nie.

       Vierdens sê die skrywer dat gelowiges wat in opregtheid bid en wat geloofsekerheid ervaar en wat vry van ’n skuldige gewete is, ook moet weet dat hulle liggame skoon gewas is met skoon water. Net vir geval daar dalk enige moontlike onsekerheid bestaan – daar bestaan geen verband tussen hierdie "water" en die doop nie. Dit gaan hier oor die wyse waarop ons lewe; die wyse waarop die Heilige Gees ons lewe verander – ons groei in heiligmaking. Dit is dieselfde reiniging waarvan Paulus in Titus 3:5 praat ~ Hy het ons verlos, nie op grond van iets wat ons vir ons vryspraak gedoen het nie, maar op grond van sy eie ontferming. Dit het Hy gedoen deur die wedergeboorte wat die sonde afwas, en deur die Heilige Gees wat nuwe lewe gee. Hier verwys Paulus na die reiniging van die wedergeboorte en vernuwing deur die Heilige Gees. Dan verwys dit ook na Ef.5:26 wat gaan oor die was of reiniging deur die Woord van God ~ Dit het Hy gedoen om die kerk aan God te wy, nadat Hy dit met die water en die woord gereinig het. Hierdie twee aspekte van reiniging is onafskeidbaar van mekaar – die een kan nie sonder die ander nie – wedergeboorte en die lees en bestudering van God se Woord is ’n identiese tweeling – waar die een is, moet die ander een wees. Christus het deur Sy kruisdood die straf op ons sonde betaal en God is tevrede gestel en dan begin die Heilige Gees se reinigingsproses in ons lewe en dit geskied deur die Woord te lees en te leef – ons word gewas deur die Woord en heiligmaking vind plaas – ons word van binne en van buite gewas en gereinig en daarom kan ons in God se teenwoordigheid verskyn.Here HereHere hartehartekkkkkharte

       Om v.22 dan saam te vat: ’n Lewe en geloof en gebed wat God verheerlik, is geloof wat voortspruit uit ’n opregte hart – ’n opregte hart wat weet dat hy deur die genadewerking van God die Vader en die offer wat Christus aan die kruis gebring het, verlos is van die ewige verdoemenis, maar ook ’n lewe wat derdens, ’n rein gewete het en laastens wie se lewe skoon gewas is en daarom ’n heilige lewe lei.

4.    TWEEDE OPROEP:
       Ons het dan nou gesien, dat die heel eerste reaksie op ’n lewe wat wederbaar is, ’n uitnodiging is wat God aan ons rig om met opregte harte en sekerheid van redding, in Sy teenwoordigheid te leef. In v.23 vind ons ’n tweede oproep wat volg op die eerste en dit is dat ons moet vashou aan die hoop wat ons bely.

       Voor ons egter aan "hoop kan vashou" en dit bely soos v.23 sê, moet ons sekerlik eers verstaan wat hierdie hoop is. Ons het reeds in 4:14 ’n verwysing gekry na hierdie woord "hoop" ~ Terwyl ons dan nou ’n groot Hoëpriester het wat reeds deur die hemele gegaan het, Jesus, die Seun van God, laat ons vashou aan die geloof wat ons bely. Ons hoop bestaan dus daarin dat ons verlossing uiteindelik en finaal afgehandel sal word met die tweede koms van ons Here Jesus Christus – daardie dag wanneer ons finaal geregverdig sal word en onbevlek voor God in die hemelse Koninkryk sal staan ~ Wat ons betref, deur die werking van die Gees is dit ons hoop en verwagting dat ons deur te glo, vrygespreek sal word (Gal.5:5).

       Net mense wat hierdie verwagting van Gal.5:5 kan koester, kan in opregtheid aan die hoop van uiteindelike redding vashou en die Hebreërskrywer sê in v.23 dat ons aan hierdie hoop kán vashou, omdat God getrou is en Hy doen wat Hy beloof het. Hierdie hoop moet ons vertroetel; ons moet ons verheug daarin en ons moet die vyand daaraan herinner, voor ons ons "ore uitleen" aan hom.

5.    DERDE OPROEP:
       Ten einde hierdie perikoop waarna ons vanoggend kyk, af te sluit, kom die skrywer en nadat hy eerstens ’n oproep tot ons gerig het t.o.v. geloof en toe t.o.v. hoop, rig hy nou ’n derde oproep tot ons en wel om twee dinge te doen:
·           In die eerste plek sê hy dat ons ...na mekaar (moet) omsien. Waarom sou hy hierdie oproep tot sy destydse lesers gerig het? Waarskynlik omdat daar tekens was van afval onder van die lede van die liggaam en waarskynlik ook ’n laksheid om liefde teenoor mekaar te toon. Die probleem met so ’n situasie waar lidmate nie meer omgee vir die welsyn van die liggaam nie, is simptomaties van mense wat in sonde is – sonde van egoïsme (soos wat ’n goeie vriend van my altyd daarna verwys: "die onheilige drie-eenheid – ek, my en myself"). Die probleem met selfsug of egoïsme, is dat selfsug en skeurmakery altyd hand-aan-hand gaan, want selfliefde kweek gewoonlik ’n gees van afsondering en isolasie. Daarteenoor sê die Here Jesus in 1 Joh.4:7-12 ~ Geliefdes, ons moet mekaar liefhê, want liefde kom van God, en elkeen wat liefhet, is ’n kind van God en ken God. 8Wie nie liefhet nie, het geen kennis van God nie, want God is liefde. 9Híerin is God se liefde vir ons geopenbaar: sy enigste Seun het Hy na die wêreld toe gestuur sodat ons deur Hom die lewe kan hê. 10Werklike liefde is dít: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes. 11Geliefdes, as dit is hoe God sy liefde aan ons bewys het, behoort ons mekaar ook lief te hê. 12Niemand het God nog ooit gesien nie, maar as ons mekaar liefhet, bly God in ons en het sy liefde in ons sy doel volkome bereik.

       Ons moet onsself en mekaar se liefde en omgee vir mekaar dus voortdurend onder die loep neem en kyk waar ons staan t.o.v. hierdie oproep van die Hebreërskrywer en ons moet t.w.v. onsself en van mekaar, maar allereers t.w.v. die eer van die Here, in mekaar se lewens inspreek as ons bemerk dat daar ’n agteruitgang in onderlinge liefde is en daarom moet ons n.a.v. v.24, ...omsien (na) mekaar, (deur mekaar) aan te spoor tot liefde en goeie dade.
·           Tweedens sê die Apostel dat ons nie ...van die samekomste van die gemeente af (moet) wegbly soos party se gewoonte is nie.... En dan gaan hy voort deur aan te sluit by sy vorige opdrag, nl. om na mekaar om te sien, wanneer hy sê dat ons mekaar moet aanmoedig om die onderlinge byeenkomste by te woon. Waarom is dit so belangrik? Want dit sal ons help om in die lig van v.23, styf vas te hou aan die hoop. Hoeveel keer sien ’n mens dit nie, dat mense wat onbetrokke is, die eerstes is wat terugval.

       Ons moet so gereeld moontlik met ons broers en susters byeen kom ter wille daarvan dat ons opgebou kan word in die allerheiligste geloof en dat ons mekaar kan bemoedig en aanspoor en ons moet dit doen, want sê die Hebreërskrywer, die oordeelsdag kom nader. Omdat die einde elke dag een dag nader is, behoort ons elke nuwe dag ernstiger te wees met ons verhouding met die Here Jesus, as die vorige dag.

6.    SLOTSOM:
       Die Apostel maak dit baie duidelik in hierdie gedeelte, dat dit nie genoeg is om bloot net die Waarheid te ken nie – nee, die gewenste en toepaslike reaksie moet voortspruit uit ons kennis van die Waarheid en die regte reaksie, soos wat hy verduidelik het, is ’n onbeskaamde Christusgesentreerde lewe wat gekenmerk word deur gebed, gemeenskap met gelowiges, groeiende ywer, besorgdheid oor medegelowiges en ’n onophoudelike verwagting dat Jesus gaan kom.


[1] Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Sondag 16 Junie 2013.

Saturday 17 August 2013

Openbaring Ontsluit – 28 (“Die Heilige Oorlog”)


1.     INLEIDING:
       In Joh.12:31 het Jesus die volgende aan Sy dissipels oor Sy komende kruisiging gesê ~ Nou kom die oordeel oor hierdie wêreld; nou sal die owerste van hierdie wêreld uitgegooi word buitentoe. In Johannes Calvyn se kommentaar  oor hierdie gedeelte sê hy die volgende (ek haal aan in Engels):  As if He had already finished the fight, the Lord now rejoices as the Victor, not only over fear but also over death... And although Christ had already begun to set up the kingdom of God, it was His death that was the true beginning of a properly-ordered state and the complete restoration of the world.

       Calvyn het onwrikbaar geglo dat die kruisgebeure, die aanvang van die hervorming en herstel van die wêreld was. Hy het dus geglo dat die kruis die beginpunt was van die herstel van die verhouding tussen die mens en God. Hierdie is dan ook deurgaans die onderliggende tema van Openbaring. Hierdie brief van Johannes is dus nie een of ander mistiese geskrif wat ons allerlei leidrade gee sodat ons die toekoms kan ontrafel nie. Nee, hierdie profesie is primêr vir ons gegee, sodat ons die Persoon van Jesus Christus beter kan leer ken en kan sien hoe dat Hy Sy koninkryk deur die kerk, vestig in hierdie wêreld.

       Openbaring 12 is een van die duidelikste gedeeltes in die Woord om hierdie waarheid aan ons te openbaar. Hierdie hoofstuk vertel vir ons van die heilige oorlog en hoe dit by Israel begin het (God se Ou Verbondsvolk) en hoe hulle deur die groot draak, Satan geteister is. Satan het dan ook die volk vervolg omdat die ware Israel in die midde van die Ou Verbondsvolk bestaan het – hulle wat vooruit geglo het in die Saligmaker, Jesus Christus.

       Satan het egter die Joodse volk om nog ’n rede vervolg en dit was omdat hy geweet het dat die Messias vanuit die volk van Israel gebore sou word en daarom wou hy die volk verwoes, sodat Jesus Wie belowe is dat Hy die satan se kop sou kom vermorsel (Gen.3:15), nie gebore sou word nie – Satan het derhalwe in voortdurende vrees geleef! Jesus is egter gebore en Hy het uiteindelik opgevaar na die hemel en daarom het die satan sy fokus verskuif en op die kerk begin fokus – die ware Israel van God – dit alles het ons reeds in 12:1-6 gesien.

       Jesus se kruisiging, opstanding en hemelvaart, het ’n hemelse viering en feestelikheid tot gevolg gehad en ons behoort saam te jubel met almal in die hemel oor hierdie gebeure rondom Jesus.

       Nadat Johannes die groot rooi draak en sy magte gesien het, het hy ’n harde stem in die hemel gehoor. Dit was ’n stem wat feesvieringe verteenwoordig het en hoor net wat sê die stem in v.10 ~ Nou het ons God die redding gebring, nou is sy mag en koningskap hier, en die gesag van sy Gesalfde! Wat het hier gebeur (vanuit “hemelse perspektief”)?  Christus het na die hemel terug gekeer, Satan is neergewerp op die aarde en Christus se koninkryk het gekom. Toe Adam (die Eerste Adam) gesondig het, het Satan die heerskappy wat aan Adam gegee was, onwettig vir homself opgeëis. Die Laaste Adam (Jesus Christus) het die satan egter nou verslaan en die heerskappy en gesag terug geneem. Satan het geen gesag meer in hierdie wêreld nie en alle gesag op aarde en in die hemel behoort nou aan Christus.

       Omdat Christus die oorwinning behaal het, het óns ook, in en deur Christus Jesus, die oorwinning oor die satan behaal, omdat ons in Christus Jesus ingeplant is ~ Hulle het self die oorwinning oor hom behaal danksy die bloed van die Lam en die boodskap waarvan hulle getuig het; en hulle het nie hulle lewens so lief gehad dat hulle onwillig was om vir Hom te sterwe nie (Openb.12:11). Die woord “oorwin” is in die Grieks ’n juridiese woord, wat letterlik beteken om ’n gunstige uitspraak te ontvang. Die satan het die Ou Testamentiese gelowiges aangekla, maar in Christus het hulle ’n "gunstige uitspraak" ontvang en is hulle vrygespreek op alle aanklagte. Hierdie oorwinning is natuurlik aan die kruis behaal.

       Die Ou Testamentiese gelowiges het Christus en Christus alleen vertrou vir hulle geestelike oorwinning – en ons moet van hulle leer. Daar word in ons dae baie gepraat van geestelike oorlogvoering, maar wanneer ons geteister word deur die vyand, oorwin ons hom en sy bose engele, nie in eie krag nie, maar deur die kruis van Jesus en Sy Evangelie. Ons kyk na Hom en Hom alleen in ons stryd teen die vyand.

       Wanneer ons dit doen, het ons oneindig baie rede om ons te verheug in Christus, want met die insig wat ons vandag deur die Woord van God het, weet ons waar ons heil lê – kennis en insig wat die Ou Testamentiese gelowiges nie oor beskik het nie, maar nogtans het hulle “vooruit” in Christus Jesus geglo en in Sy Naam gejubel. Ons kan jubel en God verheerlik, want Christus sit op Sy troon in die hemel en die vyand kan ons nie meer aankla nie.

       Openb.12:12 stel ons bekend aan die materiaal wat gaan volg in 12:13-17. Johannes skryf ~ Daarom, hemel en dié wat daarin bly, verheug julle. Maar vir julle, land en see, wag daar ellende omdat die duiwel na julle toe gekom het met groot woede en met die wete dat hy min tyd het. Diegene wat in die hemel (“tabernakel” – Openb.13:6) woon, het baie rede tot feesviering, omdat die satan nie hul “woonplek” met hulle deel nie, maar daar heers ’n ander gesindheid op aarde, want die duiwel is uitgestort op die aarde en daaroor is hy baie kwaad – die ongeredde aardbewoners behoort opreg rede te hê om bekommerd en vreesbevange te wees.

       Die satan se primêre fokus het egter nou (ná Golgota en die opstanding) verskuif na die kerk. Ons as gelowiges – die kerk van die Here Jesus Christus, het egter niks om te vrees nie. Ja, ons word ook geteister deur die satan, maar ons weet dat ons in en deur Christus reeds die oorwinning behaal het – die ewige oorwinning!

2.     SKRIFLESING:
       Openb.12:13-17  ~ Toe die draak sien dat hy op die aarde gegooi is, het hy die vrou agtervolg wat die seun in die wêreld gebring het. 14 Maar aan die vrou is twee groot arendsvlerke gegee, sodat sy na die woestyn, na haar plek toe, kon vlieg. Daar word sy die hele vasgestelde tyd, weg van die slang af, versorg. 15 Die slang het toe ’n stroom water soos ’n rivier uit sy bek agter die vrou aan uitgespoeg, sodat sy deur die stroom meegesleur kon word, 16 maar die aarde het die vrou te hulp gekom. Dit het oopgegaan en die stroom opgesluk wat die draak uit sy bek uitgespoeg het. 17 Die draak was woedend oor die vrou en hy het weggegaan om oorlog te maak teen haar ander nakomelinge wat die gebooie van God nakom en aan die getuienis vashou wat Jesus gelewer het. 18 Die draak het toe op die seestrand gaan staan.

3.    DIE OORLOG:
       In die eerste ses verse van hierdie gedeelte, sien ons dat die groot rooi draak oorwin is en dat hy sy stryd teen die “Kind” (die Messias) verloor het en nou verskuif hy sy fokus na die “vrou” wat die “Kind” in die lewe gebring het, nl. die Joodse kerk (gelowiges). Die kerk word egter bewaar, deurdat God aan haar twee groot arendsvlerke gegee het. Hierdie is natuurlik Ou Testamentiese beeldspraak ~ Julle het gesien wat Ek aan Egipte gedoen het, en hoe Ek julle soos op arendsvlerke veilig gedra en na My toe gebring het. 5-6 As julle My gehoorsaam en julle aan my verbond hou, sal julle uit al die volke my eiendom wees, ’n koninkryk wat My as priesters dien, en ’n gewyde nasie. Die hele aarde behoort immers aan My.’ Dit is wat jy aan die Israeliete moet vertel (Eks.19:4-6). Ons lees ook in Deut.32:10-12 ~ Hy het sy volk in die woestyn gevind, in ’n onbewoonbare land waar woestyndiere skreeu. Die Here het sy volk omhels, hom vertroetel en versorg soos die appel van sy oog. 11 Soos ’n arend wat sy kleintjies uit die nes uitskop, oor hulle fladder en hulle vang op sy vlerke wat hy oopsprei, soos ’n arend wat sy kuikens op sy vlerke dra, 12 so het die Here, net Hy alleen, sy volk gelei; daar was nie ’n ander god by Hom nie. In beide hierdie gedeeltes word Israel se uittog uit Egipte beskryf in terme van arendsvlerke. Hier in Openb.12:14 word die ware Israel van God weer gered uit die “nuwe Egipte” (Jerusalem – Openb.11:8), deur arendsvlerke. Hulle word gered en weggelei na ’n veilige plek (en hier moet ons weer na die OAV kyk, omdat die NAV hierdie gedeelte nie korrek vertaal het nie) ~ ...sodat sy na die woestyn, na haar plek, kon vlieg, waar sy uit die gesig van die slang onderhou word, ’n tyd en tye en ’n halwe tyd. Ons het hierdie tydsduur van ’n tyd en tye en ’n halwe tyd al vantevore gesien (12:7) en toe ook vasgestel dat dit dui op ’n tydperk van drie-en-’n-half jaar.

       Wat dus hier gebeur, is dat die Joodse gelowiges vanuit Jerusalem na Pella in die woestyn gelei word vir die duur van die verwoesting van Jerusalem (historiese verslae, bevestig ook hierdie gebeure!).

       Hierdie gebeure het egter nie die groot rooi draak se aanvalle gestop nie, want ons sien in vv.15-16 die volgende ~ Die slang het toe ’n stroom water soos ’n rivier uit sy bek agter die vrou aan uitgespoeg, sodat sy deur die stroom meegesleur kon word, 16 maar die aarde het die vrou te hulp gekom. Dit het oopgegaan en die stroom opgesluk wat die draak uit sy bek uitgespoeg het.

       In Egipte het die satan die Farao gebruik in sy poging om die volk van God uit te wis. Die Farao het opdrag gegee dat al die seuntjies onder die ouderdom van 2 in die Nylrivier gegooi moes word. God het egter Sy volk beskerm. By die Rietsee (Skelfsee – OAV) het Satan gedink dat hy die volk in ’n val gelei het, toe hulle aan die voorkant, deur die see gestuit is en die Egiptiese weermag van agter af in aantog was. Weer red God Sy volk deur die water te kloof. Ons vind hierdie selfde beeldspraak van water, weer hier in Openb.12 waar Satan poog om die vrou te vernietig. God gryp egter weer in ~ ...maar die aarde het die vrou te hulp gekom. Dit het oopgegaan en die stroom opgesluk wat die draak uit sy bek uitgespoeg het (v.16). Soos in die verlede ook reeds aangetoon, verteenwoordig die aarde, Jerusalem. Satan se poging om die kerk te vernietig, was geabsorbeer deur Jerusalem gedurende die Joodse oorlog. Alhoewel die “vloedgety” van die Romeinse Ryk oor Jerusalem gespoel het, het God weereens Sy kinders bewaar, want dit was die afvallige Jerusalem wat in die slag gebly het en nie “die vrou” nie. 

       Die draak se wraak het tot gevolg gehad dat Jerusalem en die tempel vernietig is – die vernietiging van Judaïsme en die dood van 1,1 miljoen Jode, maar die gelowiges het ongeskonde daarvan afgekom – ons het voorwaar niks te vrees nie! Onthou: Dit kon nie “maanskyn en rose” vir die gelowiges in Pella gewees het nie – weggeruk van hulle besittings, werk, ongeredde vriende en familie en vir 3½ jaar in die woestyn, maar God het hulle te midde van die swaarkry bewaar! Satan smee allerlei planne teen die Bruid van Christus, maar hy is bloot ’n pion in God se hand en daarom kan hy niks aan God se kinders doen, sonder dat God dit toelaat nie.

4.    DIE OORWONNE LEEU:
       Weereens moet ons besef dat die satan nie nou sommer net handdoek sal ingooi nie en daarom is hy steeds daarop uit om oorlog te maak teen die oorblyfsel van die saad van “die vrou”, wat God se gebooie onderhou – hulle wat die getuienis van Jesus Christus in hulle dra – die nuwe verbondskinders van God – ONS! 

       Na die verwoesting van Jerusalem het die satan se woede breekpunt bereik, want sy pogings teen die Judeërs – die volk van God het misluk en daarmee saam sy pogings om die Seun van die mens te vernietig en daarom, na Christus se opstanding en die vernietiging van Jerusalem en die Judaïsme in 70 n.C., rig hy sy haat en al sy verwoestingstrategieë – al sy aandag; vurige pyle en sy aanslag op die Nuwe Testamentiese kerk – dit is waarom v.17 van ons Skriflesing dan ook sê ~  Die draak was woedend oor die vrou en hy het weggegaan om oorlog te maak teen haar ander nakomelinge wat die gebooie van God nakom en aan die getuienis vashou wat Jesus gelewer het. Die ander nakomelinge verwys natuurlik na die Nuwe Testamentiese Kerk (ons).

       Ons sien deur die loop van die moderne kerkgeskiedenis, hoe dat die satan poog om die Nuwe Testamentiese Kerk te vernietig – so het dit bv. tydens die vestiging van die Rooms Katolieke Kerk en vele ander tye en gebeurtenisse, gelyk asof die satan weer die oorwinning kan behaal, maar telkens kom God en red Hy Sy kinders (dink bv. aan die Hervorming).

       Al is ons egter getuienis van God se beskerming van die kerk teen die vyand deur die eeue heen, het die satan se aanslag teen die kerk nie opgehou nie – ons is egter steeds verseker van ’n Hoërhand wat ons beskerm – die kerk (die ware gelowiges) sal nooit vernietig word nie. ’n Pragtige bewys hiervan is die kerk in China wat ten spyte van erge vervolging, van omtrent geen gelowiges tot bykans 50 miljoen gelowiges gegroei het en daar word steeds daagliks groot getalle nuwe gelowiges bygevoeg (dieselfde gebeur in Moslemlande).

       Ons moet besef dat wanneer ons praat van die kerk, ons as individue, deel is van die kerk en daarom word die satan se aandag ook op elkeen van ons gefokus en is hy voortdurend besig om te poog om ons verhouding met die Here Jesus Christus te vernietig en daarom moet ons voortdurend bedag wees daarop en gedurig die wapen opneem teen hom en ons kan dit slegs doen in afhanklikheid van Christus, deur ons geestelike wapenrusting aan te trek en aan te hou ~ Trek die volle wapenrusting aan wat God julle gee, sodat julle op julle pos kan bly ondanks die listige aanslae van die duiwel. 12Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen elke mag en gesag, teen elke gees wat heers oor hierdie sondige wêreld, teen elke bose gees in die lug. 13Trek daarom die volle wapenrusting aan wat God julle gee, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle die stryd tot die einde toe gevoer het, nog op julle pos kan bly staan (Ef.6:11-13).

       Ja, die satan is ’n brullende leeu, maar hy is ’n reeds-oorwonne, brullende leeu, want Christus Jesus het Hom oorwin deur Sy kruisiging en opstanding. Laat ons daarom in oorwinning wandel, deur Christus lief te hê en Hom voortdurend in gehoorsaamheid na te volg en te dien, want deur Hom voortdurend in elke faset van ons lewe te gehoorsaam en na te volg en te dien, trek ons die volle wapenrusting aan en sal ons paraat wees teen die vyand en sy aanslae en sál God verheerlik word!

5.    AFSLUITING:
       V.15 waarsku ons dat ~ Die slang n stroom water soos n rivier uit sy bek agter die vrou aan uitspoeg, sodat sy deur die stroom meegesleur kon word, dit beteken dat die satan onophoudelik probeer om ons, die kerk weg te voer deur ’n magtige stroom water. Die vervolging van die kerk is nie nou meer brandstapels en ’n vuurpeleton nie – ja dit gebeur nog in sekere dele van die wêreld, maar hoofsaaklik geskied dit nou op ’n baie meer subtiele wyse en in sekere opsigte is dit baie feller en erger as brandstapels en teregstellings – so beleef ons bv. toenemend dat ou waardes net radikaal omvergewerp word; modernisme oorstroom die institusionele kerk en ons word meer en meer blootgestel aan allerlei "nuwe en moderne" filosofieë (wat nie regtig so nuut is nie!), maar daar is hoop!

       Die Bybel se openingsverse berei die toneel van God se verlossingplan vir ons voor. God het die mens geskep om oor die aarde te heers sodat God verheerlik kan word. Die mens val egter úít God se genade en ín sonde deur die inmenging van die Groot Versoeker, nl. Satan. Máár, God begin oombliklik met Sy verlossingsplan en soos aan die begin reeds gesê, is Sy plan baie duidelik uitgespel in Gen.3:15 ~ Ek stel vyandskap tussen jou en die vrou, tussen jou nageslag en haar nageslag. Haar nageslag sal jou kop vermorsel en jy sal hom in die hakskeen byt. God sál dus Sy verbondsheerskappy in plek hou, deur Sy "verbondsonderhoudende kinders". Die geestelike erfgename (ons as gelowiges) van die Tweede Adam (Jesus Christus) sál die aanvanklike opdrag vervul wat God aan die eerste Adam opgelê het – verlossing is progressief besig om tot vervulling te kom en sal uiteindelik en finaal die aanvanklike verwerping oorwin, want Christus, die Tweede Adam se opstanding en die gevolge daarvan, is onmeetbaar meer en kragtiger as die sondeval van die Eerste Adam en daarom sál die oorheersing van die wêreld en sy meester, uiteindelik oorhandig word aan Christus Jesus.

       Ons hoef nie bang te wees nie, al leef ons tans nog in die woestyn van hierdie wêreld en baie mense selfs in "kerklike woestyne", ons het manna om van te leef, nl. die Evangelie van Jesus Christus – Hy wat self die Brood van die Lewe is ~ Jesus het hulle geantwoord: “Dit verseker Ek julle: Dit is nie Moses wat vir julle die brood uit die hemel gegee het nie, maar dit is my Vader wat vir julle die ware brood uit die hemel gee. 33Die brood wat God gee, is Hy wat uit die hemel kom en aan die wêreld die lewe gee.” 34Hulle sê toe vir Hom: “Meneer, gee ons tog altyd hierdie brood.” 35Maar Jesus sê vir hulle: “Ek is die brood wat lewe gee. Wie na My toe kom, sal nooit weer honger kry nie, en wie in My glo, sal nooit weer dors kry nie (Joh.6:32-35).


[1] Boodskap deur Kobus van der Walt te Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Vereeniging), Sondag 18 Augustus 2013