Thursday 28 February 2013

LIEWE LULU - Wat weet jy van Calvinisme?

(Outeur: Ds. Johannes de Koning, N.G. predikant, Tsumeb)

Dit lyk my as jy iemand wil slegsê en jy het nie feite nie, dan beskuldig jy hom van rassisme of Calvinisme. So het minister Lulu Xingwana*. van Suid-Afrika onlangs in ‘n onderhoud gesê: "Jong Afrikanermans word grootgemaak in die Calvinistiese geloof en glo hulle besit 'n vrou, hulle besit 'n kind, hulle besit alles, en daarom kan hulle daardie lewe neem, want hulle besit dit." ‘n Groter vertoon van sotlikheid en dwaasheid is moeilik denkbaar. Miskien moet mens Lulu tog nie te hard oordeel nie, want geestelike insig kan seker nie verwag word uit die geledere van die goddelose ANC met sy heidens sekulêre agenda nie. Die absolute onkunde oor wat Calvinisme is, is egter nie net beperk tot die ANC nie, maar floreer ook onder mense wat veronderstel is om die Bybel en die kerkgeskiedenis te ken. So iemand is Prof. Johan Malan (‘n mede evangeliese gelowige) wat op sy webwerf beweer : “Calvinisme is ‘n misleidende leerstelling waardeur ‘n valse geestelike fondament aan ongeredde mense gebied word.” Watter totale onkunde! Het Prof. Malan nog nie gehoor van die duisende mense wat onder die Calvinistiese prediking van ‘n George Whitefield, Charles Spurgeon, Robert Murray M’Cheyne, Martyn Lloyd-Jones... en ons eie Dr. Willie Marais om maar net enkele voorbeelde te noem, tot bekering gekom het nie? (Prof. Malan maak wel melding van Spurgeon en beweer dat hy nie regtig ‘n Calvinis was nie. Wil hy die man nou in sy graf laat omdraai?) Weet hy van Calviniste soos Howel Harris, Daniel Rowland en Jonathan Edwards se rol in die groot herlewings van die 18de eeu? Dra hy kennis van die pionier sendingwerk van William Carey, David Brainard, William Burns...? En wat van die Calvinistiese sendelinge van die NG Kerk wat die lig tot diep in donker Afrika ingedra het? Is Prof. Malan bewus van die kosbare nalatenskap van geestelike reuse soos Tyndale, Latimer, Knox, Wishart, Perkins, Rutherford, Bunyan (Pelgrim’s Progress), Owen, Goodwin, Watts, Newton (Amazing Grace)... ? Het Prof. Malan moeite gedoen om uit te vind wat Calvinisme is of baseer hy sy insigte op iemand soos Dave Hunt se bewerings?

WAT IS CALVINISME?

Om mee te begin is dit belangrik om te weet dat Johannes Calvyn self nooit so ‘n beskrywing van sy leerstellings sou goedgekeur het nie. Hy het geglo dat wat hy geleer het, bloot die waarhede van die Ou en Nuwe Testament was. Tog het hierdie briljante teoloog se uitleg van die Skrif inderdaad ‘n groot invloed gehad op wat later as Calvinisme bekend sou staan.

Die term, Calvinisme kom hoofsaaklik uit die 17 de eeu vanuit opposisie teen die dwalinge van Arminius, wat uiteindelik by die Sinode van Dordt in 1618 veroordeel is. Hierdie kosbare waarhede vind neerslag in die Dordtse Leerreëls.

Die kernbeginsel van die Calvinisme is die eer van die soewereine God. Soli Deo Gloria. Skepping en selfs verlossing is nie primêr gerig op die mens se vervulling en plesier nie, maar gebeur alles ter wille van God. Alles is uit God, deur God en tot God, soos Paulus in Romeine 11:36 sê. Die bron van Calvinistiese leerstellings is die Bybel. Die Bybel is die enigste bron van kennis oor God en sy wil, want vanweë ons sonde is ons blind vir God se heerlikheid wat uit sy werke uitstraal. God openbaar Homself aan die mens deur sy Woord en die werk van die Heilige Gees.

Ook vind ons in die Bybel alleen insig in die ware (verlore) toestand van die mens. Hiervan is die leerstuk van die TOTALE VERDORWENHEID van die mens ‘n baie realistiese verduideliking. Dis ‘n Bybelse waarheid soos duidelik gevind in Romeine 3:10-12 wat lees : “soos geskrywe is: Daar is niemand regverdig nie, selfs nie een nie. Daar is niemand wat verstandig is nie, daar is niemand wat God soek nie. Hulle het almal afgewyk, saam het hulle ontaard. Daar is niemand wat goed doen nie, daar is selfs nie een nie.” Dit beteken nie soos sommige probeer voorgee dat die mens nie ‘n wil het of bloot ‘n robot is nie, dit gaan daaroor dat die mens se wil ook deur die sondeval bedorwe is, tot so ‘n mate dat niemand vanself God wil ken of homself wil bekeer nie. Calvinisme maak erns met die verwoesting van die sondeval. Dit het die gevolg dat ons as mense volkome afhanklik is van God se genade! Sonder werklike genade sal niemand gered word nie, want selfs ons geregtighede is soos “vuil klere” voor God. (Jesaja 64:6)

Omdat ons so boos is dat niemand van ons eerste God sal kies nie, maar daar tog baie mense gered word, is dit vanselfsprekend dat God ons eerste kies deur sy genadige ONVOORWAARDELIKE UITVERKIESING. Die beginsel van onverdienstelikheid word alreeds gesien in God se verkiesing van Israel soos beskryf in Deuteronomium 7:7-8 “Die HERE het 'n welgevalle aan julle gehad en julle uitverkies, nie omdat julle meer was as al die ander volke nie, want julle was die geringste van al die volke. Maar omdat die HERE julle liefgehad en die eed gehou het wat Hy vir julle vaders gesweer het, het die HERE julle met 'n sterke hand uitgelei en jou uit die slawehuis, uit die hand van Farao, die koning van Egipte, verlos." Hierdie waarheid geld vir almal wat God se kinders is binne die Nuwe Verbond en word besonder helder in die Nuwe Testament gestel o.a. in Romeine 8:29,30 “Want die wat Hy vantevore geken het, dié het Hy ook vantevore verordineer om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat Hy die eersgeborene kan wees onder baie broeders; en die wat Hy vantevore verordineer het, dié het Hy ook geroep; en die wat Hy geroep het, dié het Hy ook geregverdig; en die wat Hy geregverdig het, dié het Hy ook verheerlik.” Die totale verlossing van die mens, tot by die eindpunt van finale verheerliking is in die eerste instansie 'n werk van God!

Die uitverkorenes is sondaars soos alle ander mense en onder die toorn van God. Jesus moes dus kom en spesifiek en genoegsaam hulle sondeskuld aan die kruis deur sy plaasvervangende sterwe kom dra en die straf daarvoor op Hom neem. Die PARTIKULIERE VERSOENING beteken dat Christus sy mense werklik effektief met God versoen het deur hulle spesifieke straf vir hulle sondes te vat. Ja, Hy het die “gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee” (Efesiërs 1:4) Hierdie toegespitse versoeningswerk ter wille van die uitverkorenes, beteken nie dat God suinig is met sy genade nie.** Christus het inderdaad ‘n versoening bewerk wat genoegsaam is vir die sondes van die hele wêreld, soos die Dordtse Leerreëls dit self stel.*** Dis egter net effektief ten opsigte van die uitverkorenes. Hy gee self onweerstaanbaar daaraan deel diegene wat deur sy Vader aan Hom gegee is (Johannes 17:2) en na Hom getrek word. “Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie; en Ek sal hom opwek in die laaste dag.” (Johannes 6:44) Let op hoe die onvermoë van die sondegevalle mens weer hier deur Jesus self bevestig word.

Hierdie onvermoë beteken dat elkeen van ons afhanklik is van God se ONWEERSTAANBARE GENADE, anders sal niemand gered word nie. Dit word so pragtig bevestig in die bekering van Lidia in Handelinge 16. Dis die Here wat haar hart geopen het om ag te gee op Paulus se woorde. Niemand is outomaties gered nie. Sondaars moet ‘n defnitiewe wilskeuse vir Jesus Christus maak. Dis egter slegs God wat die verdorwe wil van die sondaar so kan aanraak dat hy tot ‘n besluit kan kom. Calviniste glo daarom, anders as wat hulle vyande dikwels beweer, nie dat mense willose robotte is nie. Die Dordtse Leerreëls is hieroor baie duidelik as dit verklaar dat God nie met ons werk asof ons “stokke en blokke” is nie. Calviniste glo daarom ook dat alle mense opgeroep moet word tot geloof en bekering. God se beloftes en uitnodigings kom inderdaad werklik en opreg tot alle mense. Net soos die apostels moet ons die evangelie aan almal verkondig, alhoewel slegs diegene wat bestem is vir die ewige lewe gehoor sal gee. “...en daar het gelowig geword almal wat verordineer was tot die ewige lewe.” (Handelinge 13:48) Diegene wat gehoor gee aan die oproep tot bekering en vir Christus kies moet egter weet dat dat nie hulle eie goedheid is wat hulle daartoe gebring het nie, maar alleenlik die uitverkiesende en onweerstaanbare genade van God. Dat ons in Christus glo, dat ons van ons kant ook vir God kies, is nie die vrug van ons eie goedheid nie, maar is as sodanig reeds ‘n geskenk van sy genade. Die verlossing is van voor tot agter die vrug van Gods liefdevolle en genadige inisiatief. Alles, alles is genade, onverdiende vrye guns alleen!**** Diegene aan die anderkant, wat verlore gaan, kan nie God daarvoor blameer nie, want hulle het self die genade aanbod van die evangelie verwerp.

As God dan self so ‘n bonatuurlike wonderwerk in iemand gedoen het, nie op grond van enige verdienste aan ons kant nie, maar weens sy ewige besluit, sal God hierdie werk einduit volvoer. In Filippense 1:16 stel Paulus dit duidelik dat God die werk wat Hy in mens begin het, sal voltooi. Dis die waarheid van die VOLHARDING VAN DIE HEILIGES. Natuurlik kan mense met valse mensgemaakte bekerings nie aanspraak op hierdie belofte maak nie. Natuurlik misbruik baie hierdie belofte terwyl hulle lustig voortgaan met sonde. Dis direk teen wat die Calvinisme leer. God se bewaring vind plaas via die weg van volhardende geloof, die voortdurende stryd teen sonde en die positiewe najaging van heiligmaking. Die troos is dat Hy in sy groot genade ons hiertoe instaatstel en dat Hy die mag het om ons vlekkeloos te bewaar tot die einde! (Judas vers 24)

Hierdie kosbare waarhede sal, as ons dit werklik glo ‘n verskil in die alledaagse lewe van die kind van God maak. Calvyn se uitverkiesingsleer gaan allermins oor metafisiese spekulasie. “Dit het ‘n praktiese doel, naamlik om die gelowige op te wek om alle eer aan God te gee, homself voor God te verootmoedig, en al sy troos en sekerheid in God se beloftes te soek.” (Jonker) Die erkenning van God se heerskappy oor sy hele skepping en alle fasette van menswees sal die gevolg wees in die lewe van alle mense wat voor hierdie Bybelse waarhede buig.

As Calviniste, maak ons in ons prediking erns met die volle Skrifopenbaring. Ons neem Goddelike soewereiniteit en menslike verantwoordelikheid beide ewe ernstig op. As die Skrif verklaar dat God mense uitkies, dan verkondig ons dit. (Romeine 9:11-13) En dis juis 'n heerlike waarheid, want God kies nie volgens status of verdienste nie! Dit gee juis hoop aan die slegste sondaars! Uitverkiesing het in die Bybel nie met 'n donker swartlys te make het nie, maar is 'n genadewoord wat in die konteks van lofprysing en dankbaarheid gebruik word. ( Efesiërs 1:3-14) Aan die anderkant, as die Skrif ons as mense uitdaag tot 'n keuse of uitnooi om na Christus te kom, dan pleit ons met vrymoedigheid en erns by alle mense om hierop te reageer! (Matteus 11:28-30)

Liewe Lulu, die probleme in die Suid-Afrikaanse gemeenskap is nie te wyte aan die Calvinisme nie, maar juis vanweë die hartseer feit dat baie hoofstroomkerke in ons dag hulle kosbare Calvinistiese erfenis verruil het vir postmodernisme (‘n lewe en teologie sonder waarheid en norme), teologiese liberalisme (verwerping van die Bybelse gesag) en ‘n eensydige horisontale sosiale evangelie (wat ontken dat die mens ‘n helverdiende sondaar is wat vergifnis by God nodig het om gered te word) en baie ander derglike goggas! Ongelukkig kry baie min Afrikaners (en ander volke) in ons land die geleentheid om die Calvinistiese (Bybelse) evangelie te hoor... die rugstreel en goedvoelboodskappies vanaf baie kansels lei nie juis tot bekering en lewensverandering nie.

Calvinisme is eintlik maar niks anders as die waarhede wat Paulus en die ander apostels, ja, Jesus self verkondig het nie. Die humanistiese selfgenoegsame mens van ons dag hou egter nie van ‘n God wat “Hom ontferm oor wie Hy wil, en verhard wie Hy wil” nie. (Romeine 9:18) Vir elkeen wie se hart wel uit genade deur die Gees sag en nederig gemaak is, is dit ‘n vreugde om in blydskap te buig voor die God wat waarlik God en soewereine heerser van die heelal is! Soli Deo Gloria!

Wednesday 27 February 2013

Oscar, geweld teen vrouens en kinders, vrou in die amp, en laaste maar nie die minste nie, die Calvinistiese geloof

HIERDIE IS GENEEM VAN DIE VOLGENDE BLOG: ProRegno
Ek lees die volgende boodskap op die gksaforum:
"Die burgerregte-organisasie AfriForum oorweeg dit om die Gelykheidshof te nader met ʼn klag van diskriminasie teen die minister van vroue, kinders en gestremdes, Lulu Xingwana,  nadat sy gister op ʼn Australiese nuusprogram gesê het dat jong Afrikaners en hul Calvinistiese geloof blameer moet word vir geweld teen vroue en kinders in Suid-Afrika. Xingwana het haar uitspraak gister op die Australiese nuuskanaal ABC News gemaak: “Young Afrikaner men are brought up in the Calvinist religion believing that they own a woman, they own a child, they own everything and therefor they can take that life because they own it….”
Sien die volledige onderhoud hier: Pistorius case highlights South Africa's gun violence
Voor ek my spesifieke bydrae tot hierdie onderwerp maak, net 'n vinnige paar opmerkings:
1. Me. Lulu behoort aan 'n party wat die humanistiese godsdiens aanhang, wat leer "mothers own a baby, they own a child, they own everything and therefore they can take that life because they own it" via 'abortion-murder' natuurlik.  Nou hoekom is een 'n misdaad  en boos (moord en verkragting gevalle), maar nie die ander een nie (aborsie) ?  Albei is natuurlik boos en verkeerd.
2. Die ware calvinistiese geloof leer dat alles behoort aan God (Ps.24:1), nie aan enige mens nie, ook nie die humanistiese verlossingsstaat (die ANC) nie, en daarom moet almal en alles volgens sy goeie wet en Woord ingerig word, in liefde en waarheid. Daarom moet liefde en geregtigheid volgens die Woord geskied tussen mense onderling, ongeag hul geslag (man en vrou) of ouderdom (ouers en kinders).
3. Deur die wettige owerhede wat God daar stel (Rom.13), mag 'n lewe geneem word na 'n billike regverdige verhoor.  Die individu mag nie die reg in eie hande neem nie, behalwe in gevalle van nood en selfverdediging.
Met daardie voorlopige paar gedagtes, hier is my perspektief:
Baie is geskok en baie kwaad oor bogenoemde uitspraak van me. Lulu.
Maar, laat ons bietjie verder dink daaroor.
Dalk is sy reg ?
Dit is nou 'reg' volgens sekere teologiese professore van 'calvinistiese' kerke in ons land.
Die lede van AfriForum wat in die NGK, NHK en sekere feministiese plaaslike kerke van die GKSA sit, moet daarom versigtig wees voordat hulle haar aanvat.
Sonder om die naam 'calvinisties' spesifiek te gebruik, impliseer dr. Riaan Rheeder [tydens die skryf van die artikel in 2009, predikant van die GK Randfontein (Wesrand), huidiglik professor in etiek aan die Teologiese Skool Potchefstroom van die GKSA], dat die bybels-calvinistiese oortuiging volgens die Skrif aangaande die man en vrou se verskillende rolle en take, lei tot:
a. 'geinstitusionaliseerde, psigiese en emosionele geweld', en
b. dat die 'patriargale denke' (waarmee Rheeder dan die huidige 'calvinistiese' standpunt van die GKSA verbind), "een van die belangrikste redes (is) vir die hoë voorkoms van geweld teen vroue in Suid-Afrika"
Dr. Rheeder, wat toekomstige predikante in etiek oplei, skryf hieroor in sy artikel, "Die implikasie van die GKSA se 2009-besluit rakende die vrou in die regeeramp".
Rheeder skryf daar onder andere:
"Ons leef in ‘n land van baie geweld teen vroue en kinders en daarom, “Wanneer jy as man vir ‘n dogter wat die roeping ervaar, sê dat sy nie predikant mag wees nie, is dit nie ook ‘n vorm van geweld nie ? Geïnstitusionaliseerde geweld; psigiese en emosionele geweld.”
Rheeder beroep hom ook in die artikel op prof. Rachel Jewkes, direkteur van die Mediese Navorsingsraad (MNR) se geslags- en gesondheidsnavorsinggroep, wat “oortuig (is) dat een van die belangrikste redes vir die hoë voorkoms van geweld teen vrou in Suid-Afrika, ‘n patriargale opvatting van manlikheid is,” om dan die volgende te skryf:
“In patriargale denke word man en vrou as ongelykes gesien.  Dit beteken dat die man as sterk, taai, dominant en as baas oor vroue gesien word. Volgens die sinode besluit word man en vrou nie as gelykes gesien nie. Ek weet in my hart dit word nie so deur die kerk bedoel nie, maar dra hierdie sinodebesluit nie by tot geweld teen vroue nie ? Waarskynlik nie direk nie, maar indirek. Gaan hierdie besluit nie sekere onaanvaarbare gedrag van sommige mans onbewustelik in stand hou nie?”
Nog 'n professor aan die TSP in Potchefstroom van die GKSA, prof Koos Vorster, skryf iets soortgelyks in sy artikel, "Christian Attitude and the Dignity of Women":
"But it is evident that religions have also contributed to women’s predicament. Christianity did not change patriarchal structures; if anything, it rather entrenched them. Christianity can therefore also be blamed – at least as far as certain traditions within Christianity are concerned."
En dan blameer hy o.a. vir Calvyn direk, die persoon wat die meeste verantwoordelik was vir die vorming van wat genoem kan word die 'Calvinistiese tradisie' en die huidige standpunt van die GKSA oor vroue in die besondere ampte (nl. dat vroue nie mag predikante en ouderlinge wees nie, weens God se skeppingsordening soos bevestig en vervul in Christus):
"Virtually all prominent exponents of the different traditions in Christianity in the past more or less regarded women as inferior and were satisfied that social relations should demonstrate this inferiority. This is true of the Church Fathers, Thomas Aquinas, Luther and Calvin. Christian traditions were thus part of the entrenchment of the inferior and subordinate position of women in church and society throughout the centuries."
So, volgens professore Rheeder en Vorster, het me. Lulu se uitspraak sterk gronde om op te staan.
Dus, as jy as Calvinus nié met Lulu, Rheeder en Vorster saamstem nie, maar jy en jou gesin bevind jul nog in 'n gemeente en kerkverband wat wel vroue in die ampte van ouderling en predikant het, wel, dan het jy nie rede om kwaad te wees nie, of geskok te wees nie.  Dan moet jy eintlik sulke uitsprake verwelkom, want dit is mos die 'calvinistiese' siening wat al die verkeerde dinge teen vroue en kinders veroorsaak het, of hoe ?
Dit is vir my tragies en hartseer, hoe andersins goeie calviniste op soveel ander terreine (bv. die verlossingsleer, skeppingsleer, Christusleer, huweliksleer, ens) so regsinnig kan wees, maar as dit kom by die bybels-calvinistiese leer oor die man en vrou se verskillende rolle, dan beskryf hul dit bloot as 'net vir daardie tyd en kultuur' of 'n 'patriargale denke wat nie vir vandag geld nie'.
Tragies, hoe die skeppingsleer vir altyd geldig en waar gesien word, en nie net vir die 'antieke bybelse tyd' nie (soos die teistiese evolusioniste sal redeneer) .... maar wat die vrou se rol en take betref, is dit nou skielik 'net vir Paulus se tyd' gewees ?
Hoekom is homoseksualisme altyd sonde, maar vroue wat hul vergryp aan die besondere wat hul volgens die skeppingsorde en wet van God nie toegelaat word nie, is nou skielik 'net vir daardie tyd' ?
Hoekom is die verlossingsleer in Christus, dat Jesus mens en God is, dat Christus plaasvervangend vir ons gesterwe het, 'n ewige waarheid vir altyd, en dus nie net 'n tydelike waarheid volgens die destydse griekse mitologie (soos die Nuwe Hervormers sal beweer) nie, maar die begronding van geen vroue in die leer en regeerampte, wat Paulus juis in die skeppingsorde en wet begrond, is nou skielik 'tydelik en van verbygaande aard' in die NT ?
Natuurlik lê alle waarheid nie op dieselfde vlak nie, maar dit bly alles waarheid en God se wil, soos die Skrif dit self openbaar.
Laat ons heeltemal en aanhou reformeer, hoe langer hoe meer.  Die gesegde is waar: skeur iewers blaaie (leringe) uit die Bybel, dan begin ander blaaie (leringe) ook uit te val.  Die Skrif kan nie gebreek word nie (Joh.10:35).
Onderliggend aan die VIDA saak is Skrifbeskouing, Skrifgesag, Skrifverklaring en hermeneutiek, soos dr. Mark Dever skryf:
It is my best and most sober judgment that this position [egalitarianism] is effectively an undermining of—a breach in—the authority of Scripture. . . . it seems to me and others (many who are younger than myself) that this issue of egalitarianism and complementarianism is increasingly acting as the watershed distinguishing those who will accommodate Scripture to culture, and those who will attempt to shape culture by Scripture. You may disagree, but this is our honest concern before God. It is no lack of charity, nor honesty. It is no desire for power or tradition for tradition’s sake. It is our sober conclusion from observing the last 50 years. . . .
Of course there are issues more central to the gospel than gender issues. However, there may be no way the authority of Scripture is being undermined more quickly or more thoroughly in our day than through the hermeneutics of egalitarian readings of the Bible. And when the authority of Scripture is undermined, the gospel will not long be acknowledged. 
Dr. Rheeder se volledige artikel, asook my antwoord daarop waar ek wys op sy
a) verdraaiings en strooipop-argumente teen die bybels calvinistiese geloof aangaande die man en vrou se rolle en take, asook
b) die geweldige implikasies wat sy redenasies het vir die gay-debat, kan hier gelees word:
(let wel: as u die artikel van Rheeder oopmaak, is die bladsy volgorde waarin dit oopmaak 36-34, u moet dus van agter na voor lees, dus 34-36)
So, nou bly die vraag: hoekom iemand buite ons 'calvinistiese' kerkverbande hof toe wil sleep, as ons toelaat dat ons professors, teologiese skole, predikante, ens. dan eintlik - by implikasie - ook sê wat sy sê: naamlik die valse aanklag/verdraaiing dat die ware bybelse calvinistiese geloof (ware bybelse patriargie) lei tot geweld teen vroue en kinders ?
Ek gaan nie nou hier weer alles herhaal wat ek oor die kwessies deur die jare geskryf het nie, u kan dit self gaan oplees om opnuut my standpunt aan te hoor:
Wat ek wel kan sê, is: ons weet dit is juis omdat ons nié die bybels calvinistiese geloof najaag in ons verhoudings, huwelike, gesinne, gemeentes en gemeenskappe nie, wat lei tot onbybelse geweld onder mekaar en teen almal.
En, as ons wat ons assosieer met 'die calvinistiese geloof' in naam en/of kerklik, dan enigsins skuldig is aan enige vorm van geweld teenoor ons naaste wat die Bybel veroordeel, dan is dit omdat ons juis afgewyk het van wat die Bybel self leer oor hierdie sake, ja, afgewyk het van die hoë waarde wat die Reformatore en hulle wat gevolg het, oor die vrou, kinders en ons naaste het.
Dan is ons die naam bybelse calviniste nie meer waardig nie.
Laat ons almal opnuut ag gee op ons liefdevolle regverdige Patriarg se Woord deur Petrus, waar hy beide liefdevolle leierskap deur die man, en gehoorsame onderdanigheid, albei in die Here, bevestig:
1 Petrus 3:1-7  Net so moet julle, vroue, aan jul eie mans onderdanig wees, sodat, as sommige aan die woord ongehoorsaam is, hulle ook deur die wandel van die vroue sonder woorde gewin kan word  2 as hulle jul reine, godvresende wandel aanskou het.  3 Julle versiering moet nie uiterlik wees nie: haarvlegtery en omhang van goud en aantrek van klere nie,  4 maar die verborge mens van die hart in die onverganklike versiering van 'n sagmoedige en stille gees, wat baie kosbaar is voor God.  5 Want so het vroeër ook die heilige vroue wat op God gehoop het, hulleself versier, en hulle was aan hul eie mans onderdanig6 soos Sara gehoorsaam was aan Abraham en hom heer genoem het; wie se kinders julle geword het as julle goed doen en geen enkele verskrikking vrees nie.  7 Net so moet julle, manne, verstandig met hulle saamlewe en aan die vroulike geslag, as die swakkere, eer bewys, omdat julle ook mede-erfgename van die genade van die lewe is -- sodat julle gebede nie verhinder mag word nie.
 nota: so terloops, volgens my kennis is al die gevalle sporthelde van die laaste paar dekades, juis nié calviniste gewees, of deel van calvinistiese kerke nie, en dan bedoel ek calvinisties volgens die gereformeerde belydenisskrifte, nie die 'Calvin Light' en 'Calvin Zero' weergawes van die postmoderne kerke nie.  Nie OJ Simpson, Tiger Woods, Lance Amstrong, Hansie Cronje, Joost van der Westhuizen of Oscar Pistorius kom uit of is gereformeerd in die historiese sin van die woord nie. Hulle was of is - as hul enigsins kerklik betrokke was/is - meer deel van pinkster-charismatiese kerke, maar ek staan onder korreksie.  Ek ken nie almal se spesifieke geloofsoortuigings en kerklike agtergrond nie, weet net Woods is 'n Budhis, en dalk het die bogenoemde Afrikaanse sportsterre uit 'n NG Kerk agtergrond grootgeword, maar later charismaties geword ?

Saturday 23 February 2013

Die Brief aan die Hebreërs - 19 ("Die Aardse- en die Hemelse Tabernakels")


 

1.    INLEIDING:
       Ons het tot nou o.a. gesien dat die skrywer van die Hebreërbrief, eers vir ons die Ou Verbond beskryf en daarna die Nuwe Verbond – die Nuwe Verbond wat Jesus Christus tot stand gebring het en dan het ons ook gesien dat Christus, die Middelaar van ’n beter Verbond geword het en dat Hy vir ons ’n Hoë Priester is wat voortdurend vir ons by die Vader intree.

       In vandag se hoofstuk, kyk die apostel na die Tabernakel waarbinne die priesters van die Ou Verbond gewerk het. Die probleem met die Tabernakel (en die latere Tempel) is dat dit steeds geen direkte toegang vir die gelowige tot God gebied het nie. Jesus Christus het hierdie ontoeganklikheid vir die gelowige egter permanent verander – Hy het die Hoë Priester van ’n beter Tabernakel geword.

       Die Apostel benader hierdie feit op ’n baie interessante, dog verstaanbare wyse, deur eers in die eerste 6 verse, na sewe voorwerpe te verwys wat in die Tabernakel aangetref was en wat aantoon dat die Ou Verbond en Tabernakeldiens, nie toegang vir gelowiges tot God gebied het nie. Vanaf vers 11 begin die apostel dan om die toeganklikheid van die gelowige in die Ou Verbond, te kontrasteer met dít wat Christus gedoen het en waar Hy nou as Hoë Priester op tree. Hy sluit dan af met die feit dat ons wat in die tydvak van die Nuwe Verbond leef, direkte toegang tot God het.

2.    SKRIFLESING:
       Hebr.9:1-15 ~ Die eerste verbond het voorskrifte vir die erediens gehad, en ook ’n aardse heiligdom. 2Die verbondstent is opgerig, en in die voorste gedeelte daarvan, wat die Heilige genoem word, het die kandelaar en die tafel met die offerbrode gestaan. 3Agter die tweede voorhangsel was die gedeelte wat die Allerheiligste genoem word. 4Daarin was die goue wierookaltaar en die verbondsark, wat in sy geheel met goud oorgetrek was. In die ark was die goue kruik met manna, die kierie van Aäron wat gebot het, asook die plat klippe met die wet van die verbond daarop geskrywe. 5Bo-op die ark het die gerubs wat die heerlikheid van God voorstel, hulle vleuels oor die versoendeksel uitgestrek. Op die besonderhede kan ons nie nou verder ingaan nie. 6Met die dinge só ingerig, het die priesters gereeld die voorste gedeelte van die verbondstent binnegegaan om die dienste te verrig. 7Maar in die agterste gedeelte het alleen die hoëpriester ingegaan, en dit net een keer in die jaar, en dan nie sonder bloed nie, om vir homself te offer en vir die sondes wat die volk onwetend gedoen het. 8Hiermee maak die Heilige Gees duidelik dat die pad na die Allerheiligste toe nie oop is solank as die voorste gedeelte van die verbondstent bestaan nie. 9Dit alles wys vooruit na die huidige tyd waarin offergawes en diereoffers gebring word wat nie vir dié een wat dit bring, ’n volkome skoon gewete kan gee nie. 10Dit het net betrekking op voedsel, drank en ’n verskeidenheid reinigingsgebruike. Dit is voorskrifte wat slegs die uiterlike raak en wat opgelê is tot die tyd dat God ’n beter orde sou instel. 11Maar Christus het gekom as Hoëpriester van die weldade wat nou verwesenlik is. Hy dien in die verbondstent wat groter en volmaakter is en nie deur mense gemaak is nie, dit wil sê wat nie tot hierdie wêreld behoort nie. 12Met sy eie bloed en nie met dié van bokke en kalwers nie, het Hy net een maal die heiligdom binnegegaan en ’n ewige verlossing tot stand gebring. 13Wanneer die bloed van bokke en bulle en die as van ’n vers op die onreines gesprinkel word, maak dit hulle uiterlik rein. 14Hoeveel te meer sal die bloed van Christus ons gewete bevry van die las van dade wat tot die dood lei, sodat ons die lewende God kan dien! Hiervoor het Christus immers Homself as volkome offer deur die ewige Gees aan God geoffer. 15Daarom is Hy ook die Middelaar van ’n nuwe verbond. Sy dood het plaasgevind om mense te verlos van die oortredinge wat onder die eerste verbond begaan is, sodat dié wat geroep is, die beloofde ewige erfenis kan ontvang.

3.    DIE AARDSE TABERNAKEL:
       In die eerste vyf verse van hierdie hoofstuk verwys die skrywer na sewe voorwerpe wat in die Tabernakel gebruik was, asook waar hulle aangetref was. Ons moet ook in gedagte hou dat die doel met die Tabernakel was om die teenwoordigheid van God in die midde van die volk te verbeeld, hoewel Hyself nie werklik daar teenwoordig was nie. Hierdie Tabernakel moes indrukwekkend gewees het en daarmee saam die voorwerpe wat in die Tabernakel was:
·           Die Kandelaar: Die Hebreeuse woord vir hierdie kandelaar is, "menorah" en dit was gemaak uit goud en het sewe takke gehad wat uit ’n sentrale stam geloop het. Aan die punt van elke tak was daar ’n olielamp. Hierdie olielamp is waarskynlik vandag nog steeds, dié mees uitstaande simbool van die Judaïsme en die Joodse volk.

Die metafoor (betekenis) van die lig in die duisternis is ’n baie duidelike simbool van God se teenwoordigheid in die Tabernakel – maar ’n simbool bly dit steeds ’n simbool.

·           Die Tafel met die Offerbrode: Hierdie tafel was in opdrag van God, van akasiahout gemaak en oorgetrek met goud (die N.A.V. praat van doringhout, maar al die ander vertalings vertaal dit met akasiahout). Op die tafel was daar ongesuurde brode wat die twaalf stamme van Israel verteenwoordig het. Die brood was uitsluitlik bedoel vir gebruik deur die priesters en was vars gebak vir elke Sabbat (Matt.12:1-8). Die simboliek van hierdie tafel en brode, dui op God se versorging van Sy volk.

·           Die Goue Wierookaltaar: Vir die grootste deel van die jaar het die meeste van die werk van die priesters rondom die Goue Wierookaltaar plaasgevind, want daagliks is daar wierook en ander offers op hierdie altaar gebring. Daar was egter een uitsondering en dit was dat die Hoë Priester een maal per jaar en wel op die Groot Versoendag, kole van hierdie altaar, met ’n goue lepel geneem het en daarmee na die Allerheiligste gegaan het, om daar tot God te offer (Lev.16:12). Hierdie simboliek is natuurlik dan ook die fokus van die Hebreërbrief, nl. dat die reukoffer, die Israeliete se gebede verteenwoordig wat opstyg na God – dit laat ’n mens dink aan Openb.8:3-4 ~ ’n Ander engel het toe gekom en by die altaar gaan staan met ’n goue wierookbak. Daar is baie wierook aan hom gegee om dit saam met die gebede van al die gelowiges op die goue altaar voor die troon te offer. 4Die rook van die wierook wat deur die engel geoffer is, het saam met die gebede van die gelowiges opgestyg voor God.

       Hierdie eerste drie items in die Tabernakel, het in die "Heilige" gestaan en was deur ’n gordyn afgeskerm van die "Voorhof", wat deur ’n groot wit muur omring was (sien skets aan einde).

·           Die Verbondsark:
Agter ’n verdere gordyn (voorhangsel) is die Allerheiligste, waarin ’n voorwerp geplaas was, wat sonder gelyke was, nl. die Verbondsark. Hierdie ark was oorgetrek met goud en hierdie ark was verteenwoordigend van God se teenwoordigheid en groot genade vir Sy volk. Hierdie Ark het ook gedien as houer of kis, waarin ’n paar voorwerpe in opdrag van God geplaas was, om die volk te herinner aan God se beskerming in die wildernis.

       In die Ark van die Verbond wat in die Allerheiligste gestaan het, was daar drie objekte:
-        Die Goue Kruik met Manna: Dit was die een voorwerp wat in die ark was. Hierdie was ’n herinnering aan God se getroue versorging in die wildernis, toe Hy die volk vir nagenoeg veertig jaar voorsien het van kos om te eet. Die Fees van die Tabernakels wat tot vandag toe deur die Jode gevier word, is ’n herdenking aan hierdie genadige versorging van die Here. Die wonderlike hiervan was dat die volk teen God gerebelleer het en dat hulle ondankbaar was teenoor Hom en daarom moes hulle gestraf word, maar God het hulle steeds nie laat vergaan van honger nie – Hy versorg te midde van straf!
-        Die Kierie van Aäron: Hierdie kierie verwys na Aäron se kierie wat wonderbaarlik, bloeisels gekry en amandels begin dra het, as bevestiging dat Moses en Aäron, God se gekose leiers vir die Israeliete in die wildernis was (Num.17). God laat nooit Sy kinders sonder leiers nie en dit opsigself dui op Sy eie gesag.
  
-        Die Kliptafels met die Wet: Die laaste artikel wat in die ark was, was die kliptafels waarop God die Wet met Sy vinger geskryf het en aan Moses op die Berg Sinaï gegee is. Hierdie kliptafels verteenwoordig God se openbaring en spreke met Sy volk. Net om weer na God se wonderlike genade te verwys; genade wat Hy keer op keer bewys – Nadat Moses die kliptafels ontvang het, het die volk in sonde verval en ’n goue kalf begin aanbid, waarop Moses uit woede vir die volk se optrede, die kliptafels stukkend gegooi het op die grond (Eks.32-34). Wat doen God? Hy gee aan Moses opdrag om ’n tweede stel kliptafels te maak!

       Hierdie is maar net weereens bewys dat God se optrede en woede oor Sy volk se sonde, spruit uit ’n diepe liefde vir hulle, asook ’n liefdevolle toewyding jeens hulle – hierdie straf wat spruit uit liefde, word baie mooi omskryf in Spr.3:11-12 ~ My seun, aanvaar die straf wat van die Here kom en moet jou nie teen sy teregwysing verset nie, 12want die Here straf die mens wat Hy liefhet net soos ’n vader doen met sy seun. God se optrede teen die volk se sonde en daarom sonde deur enige iemand anders (ons dus ook), spruit nié uit ’n wispelturige geaardheid nie, maar uit liefde ~ Terwyl Hy by Moses verbygaan, roep die Here: “Ek, die Here, is die barmhartige en genadige God, lankmoedig, vol liefde en trou. 7Ek betoon my liefde aan geslagte en geslagte. Ek vergewe ongeregtigheid, oortreding en sonde, maar Ek spreek niemand sonder meer vry nie. Ek reken kinders en kleinkinders die sondes van vaders toe selfs tot in die derde en vierde geslag” (Eks.34:6-7).

       ’n Baie belangrike aspek van die Verbondsark, was die twee groot afbeeldings van engele of gerubs wat bo-op die Verbondsark geplaas was (Eks.25:18-22; 37:7-9). Dit was natuurlik gerubs wat na die sondeval, die toegang tot die Tuin van Eden, namens God bewaak het (Gen.3:24). God het Homself dikwels in die teenwoordigheid van gerubs aan verskeie mense geopenbaar, bv. Moses in Eks. 25:22; Num.7:89 en andere (1 Sam.4:4; Ps.80:1; 99:1; Jes.37:16; Eseg.10:1-5). Hierdie gerubs in die allerheiligste het dus God se teenwoordigheid gesimboliseer.

       Die woord "teenwoordigheid" in die Hebreeus, is veelseggend, want die woord vir "teenwoordig", is "shekinah". Hierdie woord kom van dieselfde stamwoord waaruit "Tabernakel" spruit, nl. "mishkan", Die Tabernakel beeld dus die teenwoordigheid van God uit. Hierdie selfde woord vir "God se teenwoordigheid", word dikwels vertaal met "God se heerlikheid" – die gerubs was dus ook verder simbool van God se heerlikheid. Hierdie gerubs was derhalwe, die simbool van die plek waar God se genade ontvang kon word, want dit was hier in die teenwoordigheid van die afbeeldings van die gerubs en in die Allerheiligste, dat die hoëpriester in die "shekinah" teenwoordigheid van God verskyn het en God Sy vergifnis oor die volk uitgespreek het (sien Lev.16).

       Hierdie praktyk van vergifnis wat een keer per jaar verkry is deur die hoë priester namens die volk, is verplaas met Jesus Christus se offer wat Hy eens en vir altyd vir ons gebring het ~ Hom het God gegee as offer wat deur sy bloed versoening bewerk het vir dié wat glo. Hierdeur het God getoon wat sy vryspraak behels: Hy het die sondes wat Hy voorheen in sy verdraagsaamheid tydelik ongestraf laat bly het, vergewe. Maar Hy het ook getoon wat sy vryspraak in die teenswoordige tyd behels: Hy oordeel regverdig deurdat Hy elkeen vryspreek wat in Jesus glo (Rom.3:25).
      
       In vv.6-7 verwys die apostel na die verantwoordelikhede van die priesters en die hoë priester en hy noem dit om daarop te wys dat die hele doel met die Tabernakel juis was om die volk voor te berei vir die koms van Christus d.m.v. bepaalde geestelike beginsels. Wanneer ons vandag terugkyk na die Tabernakel en die verantwoordelikhede van die priesters, verstaan ons beter wat Christus reeds vir ons gedoen het en wat Hy steeds besig is om vir ons te doen.

       Die feit bly egter staan – en dit is belangrik – dat die Tabernakel nooit regtig volledige toegang tot God bewerkstellig het nie.

       Die skrywer draai ons aandag nou weg van die Tabernakel self en vestig ons aandag vir ’n oomblik op die rituele in die Tabernakel en spesifiek op dít wat op die Groot Versoendag gebeur het.

       In v.6 verwys hy na "dienste wat verrig is", nl. die alledaagse rituele wat die priesters moes verrig in die Heilige en soos omskryf in veral Num.4. Hulle moes o.a. die ark en ander toebehore vervoer het as daar getrek is.

       Ons sien dat v.7 met die woord "maar" begin. Dit beklemtoon vir ons die groot verskil wat daar bestaan het tussen die funksies van die gewone priesters en dié van die hoë priester en dan spesifiek Aäron (die hoë priester) se verantwoordelikheid ~ Elke oggend wanneer Aäron die lampe versorg, moet hy geurige wierook op die altaar brand. 8Elke aand wanneer hy die lampe aansteek, moet hy wierook brand. Die wierookoffer moet altyd, ook deur julle nageslag, vir My, die Here, gebring word (Eks.30:7-8). In Lev.24:3-4 gee die Here ’n verdere opdrag ~ Aäron moet sorg dat daar dwarsdeur die nag ’n lig brand in die tent van ontmoeting, voor die voorhangsel waaragter die ark met die getuienis is en waar die Here teenwoordig is. Dit is ’n vaste voorskrif ook vir julle nageslag. 4Aäron moet die lampe van die goue kandelaar gereeld versorg oor die Here[2]. T.o.v. die toonbrode, was daar ook ’n spesifieke opdrag ~ Die brood moet gereeld op elke sabbat daar voor die Here vervang word. Dit is ’n verpligting wat vir altyd op die Israeliete rus. 9Die brood kom Aäron en sy seuns toe. Hulle moet dit op ’n gewyde plek eet, want dit is ’n besondere gewyde gawe. Dit is ’n deel wat hulle altyd moet kry uit die offers wat aan die Here gebring word (Lev.24:8-9).

       ’n Belangrike aspek t.o.v. die hoë priester wat ons nie uit gedagte moet verloor nie, is dat hy elke keer wanneer hy een maal per jaar op die Groot Versoendag (Lev.16) in die Allerheiligste in gegaan het om versoening te bewerkstellig tussen God en die volk, hy homself eers moes reinig van sy eie geheime sonde (sien ook: Pred.23:2, 14). Hierdie was dus ’n onvolmaakte man wat die volk se sonde kom bely het en daarom was hierdie vergifnis ook nooit permanent van aard nie en moes dit jaarliks herhaal word.

       Alles in die Tabernakel het gewys op en almal herinner aan die noodsaak aan reiniging, maar almal het geweet dat permanente reiniging, hulle nog nie beskore was nie, omdat nie een van die talle rituele dit aan hulle kon verskaf nie. Ook was die Tabernakel simbool van God se teenwoordigheid, maar niemand behalwe die hoë priester het werklik toegang tot God gehad nie – die gordyn in die Tabernakel was dan ook simbool van hierdie ontoereikendheid – twee belangrike feite wat ons nie moet vergeet nie.

       Dit is egter so dat al hierdie simbole en rituele in die Tabernakel, nie heeltemal tevergeefs en sinneloos was nie, want dit het die volk voortdurend daaraan herinner dat iets beters en iets groters – ’n beter Verbond, aan die kom was.

       Wat die Hebreërskrywer o.a. ook deur sy verwysing na die Tabernakel vir ons (en die Jode) wil sê, is dat daar 6 heilige voorwerpe in die Tabernakel was, maar selfs dít kon nie toegang tot God bewerkstellig nie. Daarom dat die skrywer in vv.8-10 sê ~ Hiermee maak die Heilige Gees duidelik dat die pad na die Allerheiligste toe nie oop is solank as die voorste gedeelte van die verbondstent bestaan nie. 9Dit alles wys vooruit na die huidige tyd waarin offergawes en diereoffers gebring word wat nie vir dié een wat dit bring, ’n volkome skoon gewete kan gee nie. 10Dit het net betrekking op voedsel, drank en ’n verskeidenheid reinigingsgebruike. Dit is voorskrifte wat slegs die uiterlike raak en wat opgelê is tot die tyd dat God ’n beter orde sou instel.

4.    DIE HEMELSE TABERNAKEL:
       Tot nou het ons kennis gemaak met heelwat eienskappe van die Nuwe Verbond. In die laaste gedeelte van ons Skriflesing (vv.11-15), spreek die skrywer egter eienskappe aan wat uiters belangrik is om van kennis te neem, ten einde die kontras tussen die Oue en die Nuwe te beklemtoon en daarop te wys dat die Oue, slegs ’n afbeelding is van die Nuwe wat gekom het. Hy beklemtoon hierdie feit in vv.13-14 deur te sê (ek parafraseer), As hierdie ou dinge, sulke goeie en wonderlike simbole was, hoeveel beter is die werklike dinge wat dit simboliseer dan nie? Indien die uiterlike en fisiese en tydelike Verbond, sy doel so pragtig kon vervul het, hoeveel te meer nie die innerlike, geestelike en ewige Verbond nie!  

       In die laaste vier verse noem die skrywer dan net kortliks drie eienskappe van die Nuwe Verbond ten einde die kontras tussen die Oue en die Nuwe te beklemtoon:
·           Die Nuwe Heiligdom (v.11): Die ou Tabernakel was deur God ontwerp, maar deur mense gebou, met materiaal vanuit die aarde. Vir daardie tyd en vir die doel waarvoor dit opgerig moes word, was dit indrukwekkend, maar dit was net ’n tent, gebou deur mense en uit aardse materiaal wat onderworpe was aan verval en uiteindelike verdwyning en/of vernietiging van die Tabernakel, asook die latere Tempels in Jerusalem[3].

       Die nuwe Tempel is egter nie deur mensehande van aardse materiaal gebou nie. Dit is deur God self in Sy woonplek, nl. die hemel voortgebring en ons het nou al herhaalde kere gesien dat die Hebreërskrywer vir ons daarop wys, dat Jesus Christus volgens die orde van Melgisedek aangestel is as Hoë Priester en Hy regeer en bedien vanuit dieselfde plek as waar God is, nl. die hoogste hemele – die ou plek van aanbidding en simbool van God se teenwoordigheid, is nou vervang met die hemel – die Koninkryk van God; die Troonkamer van die Drie-Enige God.

       Ons Hoë Priester, Jesus Christus verrig derhalwe Sy onophoudelike en volmaakte diens in ’n nuwe, maar ook perfekte en volmaakte Tabernakel, waar Hy aan die regterhand van God sit.

       Die aardse priesters moes elke keer in de Allerheiligste ingaan – ons Hoë Priester is vir ewig daar. Die aardse priesters het alleen en namens die volk ingegaan – ons Hoë Priester neem Sy kinders saam met Hom na die hemel, waar ons in die teenwoordigheid van God self sal wees – nie na ’n simboliese teenwoordigheid van God nie, maar die werklike teenwoordigheid van God Almagtig! Christus het ons nie alleen vooruitgegaan nie, maar Hy neem ons ook uiteindelik saam met Hom ~ Maar God is ryk in barmhartigheid en het ons innig lief. 5Deur sy groot liefde het Hy ons wat dood was as gevolg van ons oortredings, saam met Christus lewend gemaak. Uit genade is julle gered! 6Ja, in Christus Jesus het Hy ons saam met Hom opgewek uit die dood en ons saam met Hom ’n plek in die hemel gegee... (Ef.2:4-6).

·           Die Nuwe Offerdiens (v.12): Die tweede eienskap wat die Hebreërskrywer vir ons uitlig ten einde die kontras tussen die Ou- en die Nuwe Verbond te illustreer, is die nuwe offerdiens. Christus verrig Sy diens as ewige en volmaakte Hoë Priester op drie maniere:
-        Eerstens gebruik Hy nie die bloed van offerdiere nie, maar Hy het Sy eie bloed gestort vir Sy eenmalige en volmaakte offer aan die kruis – die Offer, was die "Offeraar" (Christus) self.
-        Tweedens was Christus se offer ’n eenmalige offer vir almal wat in die verlede in Hom geglo het; almal wat tans in Hom glo en vir almal wat nog in die toekoms in Hom sal glo.
-        Laastens het Christus ’n ewige verlossing verkry vir almal wat in Hom glo, want Sy offer was ’n volmaakte offer, wat God die Vader volkome tevrede gestel het.
      
·           Die Nuwe Betekenis (vv.13-14): Die laaste eienskap wat die Hebreërskrywer vir ons uitlig ten einde die kontras tussen die Ou- en die Nuwe Verbond te illustreer, is die nuwe betekenis wat die Nuwe Verbond vir ons inhou. Die Ou Verbond met al sy gebreke het sy doel gedien, maar hoeveel te meer sal die Nuwe Verbond met Christus as Hoë Priester nie sy doel dien nie, trouens dit is ’n volmaakte Verbond – niks kan weggeneem word en niks hoef en kan bygevoeg word nie. Die doel met die Ou Verbond was om die afwassing van uiterlike sonde te simboliseer, maar die doel met die Nuwe Offer is om die reiniging van ons innerlike sonde (hartsonde) te bewerkstellig.

       Isaac Watts het die volgende hieroor gesê:
Not all the blood of beasts on Jewish altars slain,
Could give the guilty conscience peace or wash away the stain.
Christ the heavenly Lamb takes all our sins away,
A sacrifice of nobler name and richer blood than they.

5.    AFLSUITING:
       Die somtotaal van die Nuwe Verbond in teenstelling met die Ou Verbond, lê vir ons opgesluit in die woorde van v.15 ~ Daarom is Hy ook die Middelaar van ’n nuwe verbond. Sy dood het plaasgevind om mense te verlos van die oortredinge wat onder die eerste verbond begaan is, sodat dié wat geroep is, die beloofde ewige erfenis kan ontvang. Dit is wat Christus vir ons gedoen het, sal ons nie daarom.....
·           Elke dag ’n ernstige poging aanwend om tot hierdie wonderlike en volmaakte Hoë Priester te nader in ons gebede, wat soos wierook voor Hom opstyg nie?
·           Sal ons dan nie ons lewe op die altaar offer in Sy diens nie? Laat ons dit dan doen soos in Rom.12:1-2 in "tabernakel-terme" beskryf word ~ ...Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen. 2Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.
·           Sal ons nie altyd op Sy nabyheid staatmaak nie?
·           Sal ons, ons nie voortdurend verbly in die Here nie (Fil.4:4).
·           Sal ons nie ons vertroue volkome op Hom vestig nie ~ Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend (Fil.4:6).

       Met Christus by Sy kinders, en met Sy wederkoms naby, kan ons volhard op die pad van geloof; die pad van hierdie tydelike "woestynlewe", totdat hierdie tentwoning vervang word met die permanente – die hemelse stad van God, waarvan Hy, die groot Argitek, die plan ontwerp het!




[1] Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Sondag 24 Februarie 2013.
[2] Die indruk word dikwels geskep dat die hoë priester net een keer per jaar in die Allerheiligste ingegaan het, maar dit is nie korrek nie – wanneer daar van "een maal..." gepraat word, dui dit op die een keer per jaar wat die hoë priester gegaan het om versoening te gaan doen op die Groot Versoendag (Lev.16) – hy het egter ook ander kere in gegaan – drie keer word algemeen aanvaar, maar Joodse tradisie wil dit hê dat dit selfs dalk vier keer per jaar was (Lev.16:12,14, 15).
[3] Die eerste Tempel is in 587 v.C. deur Nebukadneser vernietig en in 70 n.C. is die herboude Tempel deur die Romeine vernietig.

Saturday 16 February 2013

Jona het nood aan die Evangelie - 04 ("Jona word weer Geroep")


 

1.    INLEIDING:
       Aan die einde van Jona 2 het ons gelees dat die Here die vis opdrag gegee het om Jona op die vasteland uit te spoeg. Jona kry inderdaad ’n tweede kans en hy kan ’n nuwe begin maak en ’n mens kan maar net wonder wat hy van hierdie geleentheid gaan maak en wat op daardie oomblik deur sy gemoed gemaal het, toe hy uiteindelik weer op die strand gestaan het.

        Ons het gesien dat hy weggehardloop het van God se aangesig en dat God nie Jona se ongehoorsaamheid en naïwiteit om te dink dat hy van ’n alomteenwoordige God kan weghardloop, geduld het nie en daarom keer God hom voor deur ’n storm oor die boot te laat losbreek waarop hy was. Jona kon dalk gedink het dat hy so misluk het dat God hom nie eers waardig genoeg ag om hom Sy kind te noem nie en daarom dat hy eintlik maar weer moet wegkruip en net boedel oorgee, of hy kon dalk gedink het, dat God hom ’n tweede kans gegee het en dat Hy steeds ’n doel met hom het – dat daar steeds ’n toekoms en hoop is vir hom wat Jona is? Wat ons wel sal sien, is dat Jona steeds in die nabye toekoms, nood gaan hê aan die Evangelie.
      
       Net om onsself weer te oriënteer t.o.v. waar Jona vandaan gekom het en waarheen hy moes gaan, kan ons net vlugtig weer na die kaart kyk:

2.    SKRIFLESING:
Jona 3:1-10 ~ Die woord van die Here het ’n tweede keer tot Jona gekom: 2“Maak klaar, gaan na die groot stad Nineve toe en spreek hom aan met die boodskap wat Ek jou sal gee.” 3Toe maak  Jona klaar en gaan na Nineve toe soos die Here hom beveel het. Nineve was ’n baie groot stad: ’n mens het drie dae gevat om dit deur te stap. 4Jona het die stad ingegaan en ’n dag lank daar rondgestap en toe roep hy: “Nog net veertig dae en Nineve word verwoes!” 5Die mense van Nineve het toe in God geglo en hulle het ’n dag aangekondig om te vas. Groot en klein het rouklere aangetrek. 6Die berig het ook by die koning van Nineve uitgekom. Hy het van sy troon af opgestaan en sy koningsklere uitgetrek, rouklere aangetrek en op ’n ashoop gaan sit. 7Hy het in Nineve laat proklameer: “Die koning en sy raadgewers beveel dat mens en dier, grootvee en kleinvee, aan niks mag proe nie, dat hulle niks mag eet en nie water mag drink nie. 8Mens en dier moet rouklere aanhê, en die mense moet ernstig tot God roep en hulle van hulle verkeerde dade bekeer en berou hê oor die geweld wat hulle gepleeg het. 9Miskien sal God van plan verander en nie meer kwaad wees nie. Dan sal ons nie omkom nie.” 10Toe God sien wat hulle doen, en hoe hulle hulle bekeer van hulle verkeerde dade, het Hy afgesien van die ramp wat Hy gesê het Hy oor hulle sal bring. Hy het nie die ramp gestuur nie.

3.    GOD SE OPDRAG (3:1-2):
       Jona het skaars grond gevat (letterlik en figuurlik), of God herbevestig sy roeping wat Hy oorspronklik aan Jona gegee het ~ Die woord van die Here het ’n tweede keer tot Jona gekom: 2“Maak klaar, gaan na die groot stad Nineve toe en spreek hom aan met die boodskap wat Ek jou sal gee” (vv.1-2). Enersyds moes hierdie herbevestiging van Jona se roeping, vir hom ’n geweldige verleentheid voor sy Skepper gewees het, maar andersyds sien ons God se geweldige en grootse genade op wonderlike wyse hier in aksie – Hy gee aan Jona ’n tweede kans ........... en steeds bely Jona geen sonde nie!

       Net ’n terloopse opmerking hier: Ons moet nie aanvaar dat ons, soos met Jona, altyd en in alle omstandighede, noodwendig ’n tweede kans sal kry indien ons gefaal of verbrou het nie, want is dit nie wat ons maar al te dikwels aanvaar nie – God sal ons ’n tweede kans gee? Dink maar net aan Ananias en Saffira (Hand.5), of Lot se vrou (Gen.19) wat nie tweede kanse gekry het nie.

       Jona kry egter ’n tweede kans – niks het aan God se kant verander sedert Hy Jona die
eerste keer geroep het nie. Dit is asof Hy kies om bloot net te vergeet van Jona se aanvanklike ongehoorsame en dwase optrede – dit is asof Hy Jona se sonde so ver verwyder soos wat die ooste van die weste af is! Een ding wat egter soos ’n paal bo die water staan, is dat God se reaksie op Jona se sonde net genade op genade is en dat enige een wat van God af weghardloop en uiteindelik terug keer na Hom, altyd deur Hom terug verwelkom word!

       Toe God sy opdrag ’n tweede keer aan Jona herhaal, moes Jona dalk Josef se woorde in Gen.41:32 aan die Farao, in gedagte gehad het ~ Die droom het twee keer na u toe gekom omdat die saak vas staan by God. Hy sal dit binnekort uitvoer. Wanneer God 'n tweede keer gepraat het, staan dit vas – baie vas!

       Jona moes so opgewonde gewees het, dat God weer met hom praat en hom belowe dat hy die boodskap wat Jona vir Nineve moet bring, vir hom sal gee, dat Jona sonder huiwering reageer en soos ons in v.2 sien ~ Toe maak Jona klaar en gaan na Nineve toe soos die Here hom beveel het. Met die eerste opdrag het Jona gevlug – nou met die tweede opdrag, gehoorsaam hy God se bevel. Al is uitgestelde gehoorsaamheid steeds ongehoorsaamheid, kan dit en word dit in Jona se geval, verplaas met ware gehoorsaamheid, bewerk deur God se oneindige genade.

       Niks is belangriker as gehoorsaamheid aan God nie, dit blyk ook duidelik uit 1 Sam.15:22-23 ~ Maar Samuel antwoord: “Is brandoffers en ander diereoffers net so aanneemlik vir die Here as gehoorsaamheid aan sy bevel? Nee, gehoorsaamheid is beter as offerande, om te luister is beter as die vet van ramme. 23Weerspannigheid is net so erg as die sonde van waarsêery; eiesinnigheid net so erg as die bedrog van afgodery. Omdat jy die woord van die Here verwerp het, het Hy jou as koning verwerp”.

       God se tweede opdrag aan Jona vestig ons aandag op drie aspekte van Sy genade:
·           God dra geen wrokke nie. Jona ontvang weer die aanvanklike opdrag van God, sonder dat enige verwyte teen Jona se kop geslinger word – Jona word nie herinner aan sy misstap nie – God se woorde dra geen wrok nie.

       Dit is presies wat die Evangelie van Jesus Christus impliseer. God sal nooit ’n sondaar wat hom bekeer en vergifnis ontvang het vir sy sonde, deur God herinner word aan sy sonde nie en dit is die wonderlike van die voortgaande Evangelie vir alle gelowiges (daarom ook vir ons) – God sal ons nooit herinner aan ons misstappe en sonde nie – Hy sal ons nooit verwyt nie; Hy sal nooit weer daaraan dink nie – trouens, getrou aan Sy karakter, kan Hy nie weer aan ons sonde dink nie, omdat Hy ons reeds vergewe en vrygespreek het. Paulus bevestig hierdie feit en waarheid van die Evangelie in 2 Kor.5:21 wanneer hy sê ~ Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel sodat ons, deur ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan wees. Ons sonde word dus teen Christus en Sy geregtigheid en volmaaktheid gereken en nooit teen ons swakheid en sonde nie – Hy aanvaar ons dus, nie op grond van wat ons doen nie, maar op grond van wat Sy Seun, Jesus Christus gedoen het. Dit is waarskynlik die beste verduideliking van wat genade is en dit is die enigste godsdiens in die ganse wêreld wat dit vir die mensdom aanbied.

·           God "gee nie kop nie". Toe Hy die tweede keer met Jona praat en Sy opdrag aan Jona herhaal, het God nie Sy opdrag ligter of makliker gemaak nie – Hy was nie bang dat Jona die eerste keer nie kans gesien het vir die opdrag en daarom, net om "veilig te speel", gee Hy aan hom ’n ligter opdrag nie. Nee God "gee nie kop nie". Hy onderhandel nie met ons wanner Hy Sy genade op ons uitstort nie. Hy sê bv. nie vir ons: Ek weet dat jy ’n swakheid het vir dit of dat en daarom sal ek jou oorsien as jy dit weer en weer doen nie. O nee, te midde van Sy groot genade, sal Hy nie kompromie maak ten einde ons te akkommodeer nie – Hy gee aan ons ’n kans – dalk ’n tweede, of derde, of vierde kans, maar die kans wat Hy gee geskied binne Sý voorwaardes. Jona kry nie ’n makliker opdrag nie – hy ontvang presies dieselfde opdrag ~ Maak klaar, gaan na die groot stad Nineve toe en spreek hom aan (v.2a).

       Voor jy dalk sê, maar dan is daar geen kans dat ek God se voorwaardes sal kan nakom nie, moet ons onthou dat Jesus reeds elkeen van hierdie vereistes wat God aan ons mag stel, reeds namens ons nagekom het.

       Soos wat God die onmoontlike vir ons moontlik gemaak het toe Hy Sý Seun tot verantwoording geroep het vir óns sonde – Hy stel die vereistes, maar Hy maak dit ook vir ons moontlik om daardie vereistes na te kom. Ons sien hierdie feit ook baie duidelik in die opdrag wat Jona ontvang het ~ Maak klaar, gaan na die groot stad (v.2a) ... en spreek hom aan met die boodskap wat Ek jou sal gee (v.2b).

·           God stel meer belang in die werker as wat Hy belangstel in die werker se werk. Jy moet altyd onthou, dat God meer belangstel in jou as persoon, eerder as wat Hy belangstel in wat jy kan doen of nie kan doen nie. Vanuit Jona se perspektief, moet ons verstaan dat indien God meer belang gestel het in Sy opdrag om na Nineve te gaan, as in Jona self, sou Hy eenvoudig ’n ander profeet na Nineve gestuur het. Nadat Jona weggehardloop het, hou God Sy hand nog steeds oor Jona en herhaal Hy Sy opdrag aan Jona – God stel belang in Jona se persoon – Hy het ’n doel met Jona, want Hy weet dat Jona nood het aan die Evangelie en Hy gaan Jona nie uitlos voor Hy nie Sy doel met Jona bereik het nie.

       Waarom stel God meer belang in die werker as die werk self? Dit is omdat werkers, almal sondaars is en God sondaars lief het en om geen ander rede nie! 

       Kom ons keer egter terug na Jona se tweede roeping en opdrag. God sê nie alleen aan Jona dat hy na Nineve moet gaan nie; Hy sê ook aan Jona, dat hy wat Jona is, die boodskap wat gebring moet word, van God self sal ontvang. Jona hoef dus nie in vertwyfeling te wees oor wat hy vir die Nineviete moet sê nie en ook nie hoe hy dit moet sê nie, want God self sál aan hom die boodskap gee en God sál met hom wees.

       Ons moet ook net weer vir ’n oomblik dink aan die situasie waaruit Jona so pas gekom het, of anders gestel, waardeur hy is sedert sy eerste roeping. Jona was hel toe en terug; hy het uitgeroep na God, soos wat die matrose gedoen het; hy is eers gered deurdat ’n vis hom ingesluk het en daar binne-in die vis het hy die haglikste omstandighede denkbaar beleef, maar dan ervaar hy ook hoe dat God hom ’n tweede keer red. Ek sou derhalwe reken, dat hy nie graag weer dieselfde paadjie sou wou volg nie! Ook dink ek dat ons almal sal reken dat Jona na dít wat hy alles beleef het, nie weer dieselfde mens sou wees nie. Hy is ’n nuwe mens, met splinternuwe en intense lewenservaring agter die rug, wat hy op wonderlike wyse in sy nuwe situasie, of tydens sy tweede roeping kan toepas. Hy behoort ook met nuwe ywer sy "tweede roeping" aan te pak en hy moet verseker ’n nuwe oortuiging hê dat God hom nie in die steek sal laat nie, want God het dit nie op die boot en in die see gedoen nie, waarom sal hy dit op pad na en in Nineve doen?

4.    TOEPASSING:
       Jona is ’n nuwe mens, met ’n nuwe visie en nuwe durf en nuwe hoop en sal hy en behoort hy ’n nuwe impak op die Nineviete te hê, net soos wat elke gelowige ’n besondere impak op die wêreld rondom hom behoort te hê en daarom behoort ons ook uit hierdie verhaal te leer dat ons redding nie ’n privaatsaak mag wees nie, maar ’n saak wat die wêreld om ons moet raak.

       Elkeen van ons het ’n roeping om te vervul in hierdie wêreld en die vraag is of ons gaan maak soos die "vóór-die-storm-Jona", of soos die "ná-die-storm-Jona"? Daar mag verskeie redes wees waarom ons nie ons roeping na behore vervul nie – een van die redes kan wees omdat ons bloot net ongehoorsaam is en daarom in sonde is; ons kan allerlei verskonings aanvoer, soos ek weet nie hoe om bv. te getuig nie, of ek sien nie kans nie, ens., maar dit is ook niks anders as ongehoorsaamheid nie. Ons kan ook voel dat die opdrag té groot vir ons is, of soos in Jona se gevoel, dat dit nie ’n regverdige, of billike opdrag is nie.

       Wanneer ons na die dissipels kyk, is dit verstommend om hul onmiddellike gehoorsaamheid en positiewe reaksie op Jesus se roeping te sien ~ En Hy sê vir hulle: Kom agter My aan, en Ek sal julle vissers van mense maak. En hulle het dadelik die nette laat staan en Hom gevolg (Matt.4:19-20 – O.A.V.). Die dissipels het hul werk, hul besittings (bote en nette) en familie net daar gelos en Jesus – die "totaal onbekende Jesus", gehoorsaam en gevolg (lw. hulle het nie vrouens en kinders gehad nie – hulle het dus nie hul huweliks- en ouerlike pligte net opgesê nie – Jesus sou dit in Sy roeping in ag geneem het).

       Nie een van die dissipels het Jesus probeer systap, of gerasionaliseer oor waarom hulle Hom nie moet volg nie. Jy mag dalk sê dat hulle persoonlik deur Jesus geroep was en dat dit anders was. Nee, dit was nie anders nie – Jesus roep ons ook persoonlik, bv. ~ Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het (Matt.28:19). Dalk sê jy dat die dissipels meer "heilig" was as jy. Nee, hulle het verlossing en vergifnis net so nodig gehad soos jy en ek – hulle was sondaars nes ons – dink aan Petrus, die Rots waarop Jesus Sy Kerk sou bou in Joh.13:38 ~ Jesus antwoord hom: Sal jy jou lewe vir My gee? Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, die haan sal sekerlik nie kraai voordat jy My drie maal verloën het nie.

       Ons moet ook nie dink dat dit heel dag en al dag, maanskyn en rose vir die dissipels en apostels was nie. Ons lees bv. in 2 Kor.11:25-28, waar Paulus in detail beskryf wat hy alles t.w.v. sy roeping moes deurstaan ~ Drie maal is ek met stokke geslaan, een maal is ek gestenig, drie maal het ek skipbreuk gely, ’n nag en ’n dag het ek op die diepwater deurgebring — dikwels op reis, in gevare van riviere, in gevare van rowers, in gevare van my volk, in gevare van die heidene, in gevare in die stad, in gevare in die woestyn, in gevare op see, in gevare onder valse broeders; in arbeid en moeite, in slapelose nagte dikwels, in honger en dors, dikwels sonder ete, in koue en naaktheid. Behalwe dit alles my daaglikse bekommernis, die sorg vir al die gemeentes. Dan praat ons nie eens van die feit dat al die dissipels (met die uitsondering van Johannes), ’n martelaarsdood gesterf het nie.

       Ons het ook uit die roeping van Jona gesien, dat die Here nie met Jona onderhandel nie – Hy gee net opdrag aan Jona om te gaan, met die bemoedigende woorde ~ ...gaan na die groot stad Nineve toe en spreek hom aan met die boodskap wat Ek jou sal gee (v.2). God sal Jona die boodskap gee om te preek. Ons het dieselfde bemoedigende belofte van Jesus ontvang ~ Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld (Hand.1:8). Wat is hierdie krag wat Jesus hier belowe het? Die Griekse woord wat hier gebruik word, is δύναμις (dynamis) en beteken letterlik om die vermoë te ontvang om ’n bepaalde optrede te kan uitvoer. Ons kan dus die versekering hê dat die Heilige Gees ons al die toerusting sal gee wat ons nodig het om ons roeping uit te leef. Geen verskonings dus nie!

       Dié Een wat roep, is ook dié Een wat bevry en toerus – of dit altyd ’n "Sondagskool piekniek" gaan wees, is beslis nie gewaarborg nie, daarom dat Jesus Sy dissipels (en vir ons) in Luk.14:27 gewaarsku het ~ Iemand wat nie sy eie kruis dra en agter My aankom nie, kan nie my dissipel wees nie. Hierdie waarskuwing van Jesus mag ons egter nie afskrik, of ontmoedig nie.

       Abraham is nog ’n goeie voorbeeld van iemand wat deur God geroep was en wat dit nie maklik gehad het nie – hy moes in ’n vreemde land tussen heidene gaan bly; hy was geroep om sy seun te offer – sy seun in wie se nageslag die belofte van die verbond gesetel was. God het egter deurgaans voorsien en verlossing en uitkoms gegee.

       Dawid, toe hy van Absalom gevlug het, het troos gevind by God asook sy bemoediging en beskerming ~ Maar U, Here, beskerm my aan alle kante, U herstel my eer en aansien (N.A.V.) en die O.A.V. sê ~ Maar U, Here, is ’n skild wat my beskut, my eer en die Een wat my hoof ophef (Ps.3:4). Die Here sal ook ons skild wees in die uitvoering van ons roeping, of dit nou is om ons roeping as evangelis uit te leef; of as huweliksmaat; of ouer onder moeilike omstandighede; of as werknemer in ’n vyandiggesinde werksmilieu.

       Jona het aanvanklik sy roeping geminag; die objekte van sy roeping gehaat (die Nineviete); hy het vyandskap en vernedering verwag, maar hy het hom bekeer en homself opnuut weer toegewy aan Sy "Opdraggewer" en met nuwe moed en nuwe ywer sy roeping hervat. Wil jy nie ook maar weer daardie roeping waartoe jy geroep is, met nuwe moed en ywer hervat nie – ter wille van God se eer en hulle wie God deur jou wil seën? Dalk sal jy hierdie vrug op jou lewe nooit in jou lewe beleef nie, of dalk eers in jou oudag die uitkoms daarvan beleef. Punt is, ons moet maar net gehoorsaam wees aan ons roeping en/of roepinge en die Here sál ons gebruik en Hy sál ons toerus om ons roepingspad, enduit te volvoer!

       Mag ons saam met Miga sê ~ So seker as die Here leef, wat die Here vir my sê, dit sal ek sê! (1 Kon.22:14).


[1] Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Sondag 17 Februarie 2013.