Saturday 27 April 2013

Bewaar Jou Hart - 01 (“Roei sonde met wortel en tak uit")





1.     VOORAF:
Met die boodskap wat ek vanoggend gaan bring, wil ek heel eerste sê, dat bitter min van die inhoud, my eie werk is. Ek en Jeanne het nou onlangs, gedurende ons tydjie in die Wildtuin, na ’n preek van Dr. Steven Lawson (Senior pastor of Christ Fellowship Baptist Church in Mobile, Alabama, USA) geluister wat hy gegrond het op Jonathan Edwards se "70 Resolutions", of te wel sy "70 Vaste Voornemens vir ’n heilige lewe". Hierdie boodskap het my so aangespreek en aangegryp dat ek net gevoel het dat ek dit met julle móét deel en daarom gee ek ten volle erkenning aan Steve Lawson vir die inhoud van vanoggend se boodskap. Uiteraard moet ’n mens ook erkenning gee aan die bekende ou Puriteinse teoloog, Jonathan Edwards (1703-1758), wat veral bekendheid verwerf het vir o.a. twee van sy boeke nl.: "Sinners in the Hands of an Angry God" en "Freedom of the Will".

2.     INLEIDING:
As daar een ding is wat sal verhoed dat God se heerlikheid in en deur ons lewens sal manifesteer, is dit die teenwoordigheid van sonde in ons lewe. Anders gestel, dit is sonde wat God ontneem van heerlikheid in en deur ons lewens. As gelowiges is dit tog ook so dat ons nie een oomblik ons Hemelse Vader wil bedroef nie, maar dit is juis sonde in ons lewe wat God bedroef.

Ons diepste begeerte as gelowiges is en moet tog altyd wees om God te verheerlik in en deur ons lewe – ons wil nie meer, en ons behoort nie meer, ons lewe te lei soos óns wil nie, trouens as dít nié ons diepste begeerte is nie, kan ons wedergeboorte baie sterk in twyfel getrek word.

Ten einde ons te help met hierdie worsteling in elkeen
se lewe, gaan ons kyk na hoe Jonathan Edwards hierdie saak aangepak het. Edwards het vir homself 70 voornemens neergeskryf waarvolgens hy sy lewe ingerig het, en ons gaan vanoggend na een van hierdie "voornemens" kyk, ten einde ons te help om sonde in ons lewe te beveg.

Ons gaan dan vanoggend praat oor jou en my hart, want ons hart is die setel van alles wat goed of sleg is – ons hart is die episentrum van ons ganse lewe. Alles wat jy dink en sê en doen vloei voort vanuit jou hart. Die ware jy is wat jou hart in werklikheid is. Ons kan baie maklik iets voorgee wat ons nié in werklikheid in ons hart is nie. Die Fariseërs was baie goed hiermee – hulle het baie vroom voorgekom, maar in hulle hart van harte, was hulle korrup. Soos Steve Lawson dit pragtig stel: Hulle was baie goed daarmee om die buitekant van die glas baie mooi skoon en blink te hou, maar hulle het nooit die binnekant van die glas skoon gemaak nie.

Dit help dus niks om aan die buitekant baie vroom en godsdienstig voor te kom, maar aan die binnekant (in ons hart van harte) is ons korrup nie. As jy en ek dus God in waarheid en oorgawe wil dien, moet ons hart in harmonie wees met God se hart en dít is waarin God belangstel – nie ons uiterlike optrede nie, maar ons hart – ons siel. Die wortel van ’n boom, bepaal uiteindelik die vrug wat so ’n boom dra. Om die bron van jou optrede na buite te bepaal, moet jy derhalwe na jou hart gaan kyk. Nét wanneer die fontein van jou siel suiwer is, sal daar ’n suiwer en heilige stroom van lewenswater voortspruit (Joh.7:38). Daarom, ten einde ’n godvrugtige en heilige lewe te leef wat tot eer van God is, moet ons toesien dat ons harte rein is.

Toe God ons uit genade wederbaar het, het Hy aan elkeen van ons ’n nuwe hart gegee – Hy het in onverklaarbare genade, die ou hart van klip wat in rebellie teen God was, vervang met ’n nuwe hart van vlees – ’n hart wat verlang na God en wat God lief het (Eseg.11:19; 36:26).

Ons moet egter daagliks omsien na hierdie nuwe hart van ons, want a.g.v. ons sondige natuur wil ons hart van vlees gedurig terug neig na die hart van klip wat ons vantevore gehad het en daarom waarsku Salomo ons in Spr.4:23 ~ Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe.

Na aanleiding hiervan gaan ons dan na twee dinge kyk:
·           Eerstens gaan ons vandag kyk na Edwards se 24ste voorneme en dit gaan wees asof ons aan sy voete sit en luister na hoe hy ons bemoedig en aanmoedig om ons lewens in die regte rigting te stuur.
·           Tweedens gaan ons D.V. volgende week, na een van Jonathan Edwards se preke kyk en ervaar hoe hy ons vanuit die Woord van God voed en leer ten einde hierdie geveg teen sonde te veg en te wen.

3.    EDWARDS SE 24 ste VOORNEME:
Edwards het, soos vroeër vermeld, sewentig voornemens vir homself neergeskryf ten einde sy eie geestelike lewe te moniteer en hom op die regte pad te hou. Hy het dit gedoen, nadat hy die Woord bestudeer het en hy ernstig oor hierdie voornemens besin en gebid het én waarna hy ’n opregte toewyding ("commitment") teenoor God hieroor gemaak het.

Sy 24ste voorneme waarna na ons vanoggend gaan kyk, lui soos volg: Ek het die vaste voorneme om elke keer wanneer ek enige ooglopende sonde begaan, die oorsprong daarvan op te spoor en dit dan doelbewus nié meer te doen nie en ook om daadwerklik en met al my mag, teen die oorsprong daarvan te veg en te bid. Let op wat hy gesê het, "...om die oorsprong daarvan op te spoor".

     Wanneer ’n mens ’n nuwe bedding in jou tuin maak, help dit nie om die vuilgoed net bokant die grond af te steek met ’n graaf nie – dit gaan net weer groei, trouens dit gaan net nóg beter en geiler en sterker daarna groei – nee, elke stukkie vuilgoed moet met wortel en tak uitgeroei word, as jy ontslae wil raak van die vuilgoed.

Dit is presies wat Jonathan Edwards in hierdie 24ste voorneme van hom sê – hy wil m.a.w. nie net die uiterlike en sienlike deel van die sonde afsny, sonder om die oorsprong van die sonde, wat onder die oppervlak en onsigbaar is, aan te spreek en uit die weg te ruim nie – daardie wortel wat sy oorsprong in sy hart het. Om dit suksesvol te doen, verg sorg en onderskeid, asook ernstige en opregte sondebelydenis én opregte bekering. Dít is wat God ook in jou en my lewe wil doen – Hy wil reg daar in jou hart kom werk ten einde jou sonde met wortel en tak uit te roei en nie net die uiterlike manifestasie daarvan nie.

Wanneer ons kyk na Edwards se voorneme, plaas Steve Lawson vir ons die fokus op ses sleutelaspekte van hierdie voorneme van Edwards, nl. om sonde in jou lewe te identifiseer en dit met wortel en tak uit te roei – onthou, die primêre redes waarom ons hieroor praat en waarom Edwards so ’n ernstige voorneme hieroor geneem het, is omdat sonde God beroof van Sy heerlikheid in en deur ons lewe en daarom moet ons ook uiters toegewyd en ernstig aandag aan hierdie saak skenk.

·           Die eerste sleutelaspek vir Edwards en daarom vir ons ook, is om die bestaan van sonde te erken – sonde in die algemeen, maar spesifiek dan ook sonde in ons eie lewe. Ons kan nie die bestaan van sonde ontken nie. 1 Joh.1:8 sê ~ As ons beweer dat ons nie sonde het nie, bedrieg ons onsself en is die waarheid nie in ons nie. Ons almal het sonde in ons lewe en dit is die Woord van God en die Heilige Gees wat met ons bewussyn werk om sonde in ons lewe te identifiseer – beide aan die buite- sowel as in die binnekant. Edwards het dan ook gesê dat dit nie genoeg is om net die uiterlike sonde aan te spreek nie, maar dat hy ook die oorsprong van sonde wil identifiseer en dit hanteer. Kom ek gee ’n voorbeeld hiervan. In Ps.51:5 sê Dawid ~ Want ék ken my oortredinge, en my sonde is altyddeur voor my (OAV). Om op hierdie plek te wees waar Dawid was, is ’n baie gesonde plek in jou geestelike lewe, waar jou sonde voorop staan en jy dit herken en erken.

       Dit is ’n feit dat hoe meer jy groei as gelowige in genade en kennis van die Here Jesus Christus, hoe meer sal jy bewus wees van sonde in jou lewe. Daar behoort dus minder sonde in jou lewe te wees na mate jy ouer word en geestelik groei, asook ’n groter bewustheid daarvan dat sonde uit jou lewe geweer moet word! Hoe nader jy aan die Lig lewe en hoe nader jy getrek word aan die Lig van die heiligheid van God, hoe meer word jou sonde en onvolmaaktheid verlig – 1 Joh.1:5b ~ ... God is lig, en daar is geen duisternis in Hom nie.

       Hierdie is die beginpunt waar elkeen van ons móét wees – ’n erkenning van sonde en onvolmaaktheid; ’n punt waar jy eienaarskap aanvaar vir jou sonde. Dit begin dus by ’n punt waar jy sê: Dit is ek; dit is EK; dit ÍS ek! Dit begin by ’n punt waar jy ophou om die vinger na andere, of jou omstandighede te wys en die blaam op hulle of dit te plaas, maar waar jy jou vinger na jou eie lewe en jou eie hart wys en jy erken dat jý die oortreder en sondaar is!

       Dit is die plek waar jy moet wees – om jou sonde te herken en te erken, want jy kan nie begin om jou sonde te hanteer, as jy dit nie sien en erken nie.

·           Tweedens: Dit is nie net genoeg om jou sonde te erken nie, maar jy moet ook saamstem met wat God oor en van jou sonde sê; om posisie saam met God in te neem teen jou sonde; dit te erken en dit dan ook te bely. Jesus het vir ons tydens Sy Bergpredikasie geleer hoe om te bid en daarom moet dit ’n integrale deel van ons lewe wees ~ ...en vergeef ons ons sondes (Luk.11:4a). Ons moet dus berouvolle "belyers" van sonde wees.

·           Nie alleen moet jy sonde erken en bely nie, maar jy moet dit ook naspoor tot in sy wortel – tot sy oorsprong. Wanneer Edwards dit sê, verwys hy na sy eie hart, omdat alle sonde hul oorsprong in die hart het. Edwards het op ’n keer gesê: "When I look into my heart and take a view of my wickedness it looks like an abyss (afgrond) infinitely deeper than hell."

       Ons het meesters geword om sonde in ander mense raak te sien en die skuld op alles en almal buite onsself te plaas, terwyl ons meesters moet word om sonde in ons eie harte te identifiseer en wel tot by die diepste, diepste oorsprong daarvan – kom ons kyk na ’n paar Skrifgedeeltes:
-        Saam met Dawid moet ons uitroep ~ Toets my, Here, keur my, ondersoek my deur en deur (Ps.26:2) – hier is Dawid besig om sy sonde na te speur tot by die oorsprong – die OAV stel dit nog mooier ~ Toets my, Here, en beproef my, keur my niere en my hart. Dawid vra dat God sy hart sal ondersoek en toets en te ontbloot – nie vir God om sy sonde te sien nie, want God sien dit in elk geval, maar dat hý wat Dawid is, sy sonde kan sien – "Laat my toe om myself – my eie hart, te sien soos wat U my sien Here!" Alleenlik wanneer ons by hierdie punt is, kan ons stappe neem om God te verheerlik.

       Ons sê gereeld vir mekaar dat ons geskape is om God deur ons lewe te verheerlik, maar om dit te doen, begin nie by mooi en lofwaardige dade nie – nee, ons moet by die regstel van ons sonde – by ons harte begin – dít is waar ons begin om God te verheerlik!

-        Ps.139:23-24 ~ Deurgrond my, o God, deurgrond my hart, ondersoek my, sien tog my onrus raak. 24Kyk of ek nie op die verkeerde pad is nie en lei my op die beproefde pad! Die Psalmis pleit hier dat God sy eie hart aan hom sal ontbloot, want hy weet dat God alles weet, trouens hy bely dit alreeds in v.1 van Ps.139 ~ Here U sien dwarsdeur my, U ken my (...gedagtes – OAV). Waarom vra hy dit vir die Here – waarom moet jy en ek dit vir die Here vra? Omdat ons in ontkenning oor ons eie sonde leef – ons mislei onsself dus gedurig wat ons eie sonde betref; ons bedek dit en ons bedek dit so goed, dat ons dit self nie eers meer raaksien nie ~ Deurgrond my, o God, deurgrond my hart, ondersoek my... Wanneer laas het jy hierdie gebed van Dawid gebid? Het jy al ooit hierdie gebed van Dawid gebid? Wanneer jy hierdie gebed bid, is dit die begin van ’n proses om God deur jou lewe te verheerlik. Waarom is dit nodig? Jer.17:9 ~ Die hart is bedriegliker as enigiets anders, hy is ongeneeslik; wie kan hom verstaan? Die antwoord hierop? Niemand; niemand, net God kan en daarom moet Hy ons harte aan ons ontbloot.
-        Jesus sê in Matt.12:35b ~ ...die slegte mens bring die slegte te voorskyn uit die oorvloed slegte dinge in sy hart.
-        Mark.7:21-22 ~ Van binne af, uit die hart van die mens, kom die slegte gedagtes: onkuisheid, diefstal, moord... M.a.w., nog lank voor die sondedaad begaan word, was dit alreeds teenwoordig in die hart, ... 22owerspel, hebsug, kwaadwilligheid, bedrog, losbandigheid, afguns, kwaadpratery, hoogmoed, ligsinnigheid. 23Al hierdie slegte dinge kom van binne af en dit maak n mens onrein. Hierdie is die kern van die leerstuk van radikale verdorwenheid ("total depravity" = die "T" in TULIP). Edwards het gesê dat hy God met alles in Hom wil verheerlik, maar hy besef ook dat die stok in die speek om dit te laat realiseer, die teenwoordigheid van sonde is en daarom moet en sal hy sy sonde erken; die oorsprong daarvan bepaal en dit derdens laat staan – opregte bekering moet derhalwe plaasvind.
·           Sonde moet altyd tot belydenis en bekering lei, anders is dit nie opreg nie. Martin Luther het gesê: "To do so no more, is the truest repentance". Lawson sê hierop, dat dit nie net "krokodiltrane" is nie, maar om dit nié meer te doen nie – dít is opregte belydenis en bekering.
-        Jesaja sê in Jes.55:7 ~ Die goddelose moet sy verkeerde pad laat staan, die slegte mens sy slegte planne. Hy moet hom tot die Here bekeer...
-        Jes.1:1:16 sê ~ …remove the evil of your deeds from before my eyes; cease to do evil (ESV).
-        Hoor wat sê Jesus in Matt.5:27 t.o.v. die bekering en neerlê van jou sonde – die ontworteling van sonde uit jou hart ~ Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘Jy mag nie egbreuk pleeg nie.’ 28Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat na n vrou kyk en haar begeer, het reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg. En dan gaan Jesus voort deur in v.29 te sê ~ As jou regteroog jou laat struikel (m.a.w. deur jou oog kom die wellus – sê Hy...), haal hom uit en gooi hom van jou af weg; want dit is vir jou beter dat net een van jou ledemate verlore gaan as dat jou hele liggaam in die hel gegooi word. Wat Jesus hier sê, is dat jy en ek, radikaal met sonde moet omgaan – wat dit ook al neem om dit uit jou lewe verwyder te kry – kry dit net uit! Hanteer dit! Lê dit af! Draai weg van daardie sonde – moet dit nie langer in jou hart vertroetel nie, want jy kan God nie verheerlik indien jy volhard in sonde nie.
-        Kol.3:8 ~ Maar nou moet julle al hierdie dinge laat staan: woede, haat, nyd en gevloek. Vuil taal moet daar nie uit julle mond kom nie.
-        Ef.4:22 ~ Hou dan op om te lewe soos julle vroeër gelewe het; breek met die ou, sondige mens in julle wat deur sondige begeertes verteer word. Hier het ons weer die hele gedagte van "putting off" en "putting on" (iets wat ons al vantevore in die gemeente hanteer het) – lê af en neem op m.a.w. – die ESV sê ~ put off your old self.     

       Ons moet sonde met wortel en tak uit ons lewe weer. Watter sonde is daar teenwoordig in jou hart – dit is ’n baie persoonlike saak, maar dit is ’n ernstige saak – ’n lewensbelangrike saak – ’n "ewige-lewe-belangrike-saak". Watter sonde belig die Heilige Gees vandag in jou hart? Skenk ernstig en dringend aandag daaraan, sodat jy jou lewe maksimaal tot eer van God kan leef! Wanneer jy daardie sonde bely en laat staan, skyn die heerlikheid van God in en deur jou lewe en word God verheerlik.

·           Die vyfde sleutel: Edwards het homself nie alleen voorgeneem om sonde af te lê nie, maar hy sê verder dat hy doelbewus teen sonde veg. Sonde gee nie maklik bes nie; sonde en veral diep gewortelde sonde gaan nie sommer net verdwyn sonder dat ons ’n geveg opsit nie, daarom dat Edwards gesê het, dat hy met al sy mag daarteen sal veg. Hy het ook gesê, dat hierdie geveg sal voortduur tot die einde toe – so lank as wat jy en ek hier op aarde is sal hierdie geveg, deel wees van ons lewe – tot eer van die Here! ’n Geveg teen ons eie vlees – Islam en Zuma en die liberales en postmodernisme is nie ons grootste vyand nie – ons eie vlees is ons grootste vyand en ons besef dit nie eers altyd nie!

       Ons moet paraat wees om elke dag, tot die einde toe in ’n hand-tot-hand geveg betrokke te wees teen ’n dodelike vyand! Dit is hoe Paulus dit stel in 1 Kor.9:27 ~ Maar ek oefen my liggaam en bring dit onder beheer... Die werkwoord wat Paulus hier gebruik wat vertaal word met "oefen", is  ὑπωπιάζω (hypopiazō). Hierdie woord verwys na die boksers wat in Korinte aan die Isthmiaanse Spele deel geneem het (iets sg. aan vandag se Olimpiese Spele) en waar hierdie boksers handskoene met koper knobbels aangehad en letterlik tot die dood toe baklei het. Hierdie woord ὑπωπιάζω (hypopiazō) beteken dan ook letterlik om swart en blou te slaan (kneusplekke). Let op wat Paulus hier sê – hy sê, ek slaan en ek kneus my eie liggaam – hy hanteer m.a.w. sonde in sy lewe, op ’n radikale wyse en wel op so ’n wyse totdat sy liggaam "swart en blou" is – en dit doen hy deur die krag van die Heilige Gees.

·           Die laaste sleutelaspek vir Edwards, is om teen sonde te bid. Wanneer hy dit sê, bely hy dat hy nié op sy eie hierdie geveg teen die sonde en die mag van sy vlees kan veg nie, want die vlees kan tog nie die vlees weerstaan nie – dit kan net gedoen word deur die krag van God en net met die hulp van God kan hy sy sonde raaksien, dit bely en hom daarvan bekeer. Daarom dat hy sê dat hy met al sy mag tot God bid. God moet hom die genade skenk; God moet hom die krag gee; God moet hom die genade skenk om hierdie sonde te oorkom en om hom van hierdie sonde te bekeer ~ Nie met mag en krag sal jy slaag nie, maar deur my Gees, sê die Here die Almagtige (Sag.4:6). Luister na 2 Tes.3:3 ~ Die Here is getrou; Hy sal julle versterk en julle van die bose bewaar.

4.    AFSLUITING:
       Geliefdes, wat se sonde is daar waarin jy vasgevang sit – ’n sonde wat net weer en weer kop uitsteek; ’n sonde wat jy nie kan afskud nie? ’n Sonde wat jy male sonder tal bely het en weer bely het en waarvan jy in opregtheid wou wegdraai, maar dit bly homself net weer en weer herhaal? God se krag en genade om jou daarvan te bevry ís kragtig en beskikbaar – ons moet net bid en God vra om genade, ten einde daardie sonde uit ons lewe te weer en saam met Hom, daadwerklik daarteen te veg en dit te weerstaan en dit uiteindelik te oorwin!

       Dit is wat Jonathan Edwards vir homself en teenoor die Here onderneem het, nl. om sy lewe en sy hart te bewaar – nie net om sonde aan die buitekant te poleer nie, maar om dit na te speur tot in sy wortels – tot daar waar hierdie donker en bose fontein ontspring.

       Die vraag is of jy jou hart voortdurend ondersoek en of jy sonde tot in sy wortel volg en uitroei – of jy ernstig, baie ernstig is oor sonde? Die realiteit van wie en wat jy is, word bepaal deur die toestand van jou hart en die heel belangrikste ding in jou geestelike lewe, is dat jou hart suiwer en rein sal wees en dat jy ’n diep en opregte hartsverlange na God sal hê; dat jou hoogste prioriteit in hierdie lewe sal wees om God te verheerlik, deur jou hart te reinig en jou van sonde te bekeer; dat jy God meer lief sal hê as wat jy die wêreld en sonde lief het. Dit was Jonathan Edwards se vaste voorneme.

       Dit is so dat daar te veel gelowiges is wat maar net té neutraal t.o.v. sonde staan en óf nie betrokke raak in die geveg teen sonde nie, óf sommer gou tydens die geveg net bes gee en toegee aan die versoeking – of dit nou van buite kom en of dit in jou hart ontspring – die wil om teenstand te bied is net té dikwels nie daar nie.

       Ons móét, t.w.v. die eer van die Here, maar ook t.w.v. ons eie siele heil, ’n vaste voorneme maak om sonde terug te volg tot in die wortel en dit dan m.b.v. gebed en die krag van die Heilige Gees, met wortel en tak uit te roei en te beveg – tot die dood toe!

       Ons moet tyd maak en stil raak in die teenwoordigheid van God en gaan soek na diepgewortelde sonde in ons lewe en dit met die genade van die Here uitroei en beveg!


[1] Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Sondag 28 April 2013

Saturday 20 April 2013

Openbaring Ontsluit – B03 (“Die Heilige Oorlog”)


1.     INLEIDING:
      In Joh.12:31 het Jesus die volgende aan Sy dissipels oor Sy komende kruisiging gesê ~ Nou kom die oordeel oor hierdie wêreld; nou sal die owerste van hierdie wêreld uitgegooi word buitentoe. In Johannes Calvyn se kommentaar oor hierdie gedeelte sê hy die volgende (ek haal aan in Engels):  As if He had already finished the fight, the Lord now rejoices as the Victor, not only over fear but also over death... And although Christ had already begun to set up the kingdom of God, it was His death that was the true beginning of a properly-ordered state and the complete restoration of the world.  Calvyn het onwrikbaar geglo dat die kruisgebeure, die aanvang van die hervorming en herstel van die wêreld was.  Hy het dus geglo dat die kruis die beginpunt was van die herstel van die verhouding tussen die mens en God.  Hierdie is dan ook deurgaans die onderliggende tema van Openbaring. Hierdie brief van Johannes is dus nie een of ander mistiese geskrif wat ons allerlei leidrade gee sodat ons die toekoms kan ontrafel nie.  Nee, hierdie profesie is primêr vir ons gegee, sodat ons die Persoon van Jesus Christus beter kan leer ken en kan sien hoe dat Hy Sy koninkryk deur die kerk, vestig in hierdie wêreld.

      Openbaring 12 is een van die duidelikste gedeeltes in die Woord om hierdie waarheid aan ons te openbaar.  Hierdie hoofstuk vertel vir ons van die heilige oorlog en hoe dit by Israel begin het (God se Ou Verbondsvolk) en hoe hulle deur die groot draak, satan geteister is.  Satan het dan ook die volk vervolg omdat die ware Israel in die midde van die Ou Verbondsvolk bestaan het – hulle wat vooruit geglo het in die Saligmaker, Jesus Christus. 

      Satan het egter die Joodse volk om nog ’n rede vervolg en dit was omdat hy geweet het dat die Messias vanuit die volk van Israel gebore sou word en daarom wou hy die volk verwoes, sodat Jesus Wie belowe is dat Hy die satan se kop sou kom vermorsel (Gen.3:15), nie gebore sou word nie – Satan het dus in voortdurende vrees geleef!  Jesus is egter gebore en Hy het uiteindelik opgevaar na die hemel en die satan het derhalwe sy fokus verskuif en gefokus op die kerk – die ware Israel van God – dit alles het ons reeds in 12:1-6 gesien.

      Jesus se kruisiging, opstanding en hemelvaart, het ’n hemelse viering en feestelikheid tot gevolg gehad en ons behoort saam te jubel met almal in die hemel oor hierdie gebeure rondom Jesus.

      Nadat Johannes die groot rooi draak en sy magte gesien het, het hy ’n harde stem in die hemel gehoor.  Dit was ’n stem wat feesvieringe verteenwoordig het en hoor net wat sê die stem in v.10 ~ Nou het ons God die redding gebring, nou is sy mag en koningskap hier, en die gesag van sy Gesalfde!  Wat het hier gebeur (vanuit “hemelse perspektief”)?  Christus het na die hemel terug gekeer, Satan is neergewerp op die aarde en Christus se koninkryk het gekom.  Toe Adam gesondig het, het Satan die heerskappy wat aan Adam gegee was, onwettig vir homself opgeëis.  Die Laaste Adam het die satan egter nou verslaan en die heerskappy en gesag terug geneem.  Satan het geen gesag meer in hierdie wêreld nie en alle gesag op aarde en in die hemel behoort nou aan Christus.

       Omdat Christus die oorwinning behaal het, het ons ook die oorwinning oor die satan behaal, omdat ons in Christus Jesus ingeplant is ~ Hulle het self die oorwinning oor hom behaal danksy die bloed van die Lam en die boodskap waarvan hulle getuig het; en hulle het nie hulle lewens so lief gehad dat hulle onwillig was om vir Hom te sterwe nie (Openb.12:11). Die woord “oorwin” is in die Grieks ’n juridiese woord, wat letterlik beteken om ’n gunstige uitspraak te ontvang.  Die satan het die Ou Testamentiese gelowiges aangekla, maar in Christus het hulle ’n "gunstige uitspraak" ontvang en is hulle vrygespreek op alle aanklagte.  Hierdie oorwinning is natuurlik aan die kruis behaal. 

      Die Ou Testamentiese gelowiges het Christus en Christus alleen vertrou vir hulle geestelike oorwinning – en ons moet van hulle leer.  Daar word in ons dae baie gepraat van geestelike oorlogvoering, maar wanneer ons geteister word deur die vyand, oorwin ons hom en sy bose engele, nie in eie krag nie, maar deur die kruis van Jesus en Sy Evangelie.  Ons kyk na Hom en Hom alleen in ons stryd teen die vyand.

      Wanneer ons dit doen, het ons oneindig baie rede om ons te verheug in Christus, want met die insig wat ons vandag deur die Woord van God het, weet ons waar ons heil lê – kennis en insig wat die Ou Testamentiese gelowiges nie oor beskik het nie, maar nogtans het hulle “vooruit” in Christus Jesus geglo en in Sy Naam gejubel.  Ons kan jubel en God verheerlik, want Christus sit op Sy troon in die hemel en die vyand kan ons nie meer aankla nie.

      Openb.12:12 stel ons bekend aan die materiaal wat gaan volg in 12:13-17.  Johannes skryf ~ Daarom, hemel en dié wat daarin bly, verheug julle. Maar vir julle, land en see, wag daar ellende omdat die duiwel na julle toe gekom het met groot woede en met die wete dat hy min tyd het.  Diegene wat in die hemel “tabernakel” (woon),  het baie rede tot feesvieringe, omdat die satan nie met hulle, hul “woonplek” deel nie, maar daar heers ’n ander gesindheid op aarde, want die duiwel is uitgestort op die aarde en daaroor is hy baie kwaad – die ongeredde aardbewoners behoort opreg rede te hê om bekommerd en vreesbevange te wees. 

      Die satan se primêre fokus het egter nou (ná Golgota en die opstanding) verskuif na die kerk.  Ons as gelowiges – die kerk van die Here Jesus Christus, het egter niks om te vrees nie.  Ja, ons word ook geteister deur die satan, maar ons weet dat ons in en deur Christus reeds die oorwinning behaal het.

2.     SKRIFLESING:
      Openb.12:13-17  ~ Toe die draak sien dat hy op die aarde gegooi is, het hy die vrou agtervolg wat die seun in die wêreld gebring het. 14 Maar aan die vrou is twee groot arendsvlerke gegee, sodat sy na die woestyn, na haar plek toe, kon vlieg. Daar word sy die hele vasgestelde tyd, weg van die slang af, versorg. 15 Die slang het toe ’n stroom water soos ’n rivier uit sy bek agter die vrou aan uitgespoeg, sodat sy deur die stroom meegesleur kon word, 16 maar die aarde het die vrou te hulp gekom. Dit het oopgegaan en die stroom opgesluk wat die draak uit sy bek uitgespoeg het. 17 Die draak was woedend oor die vrou en hy het weggegaan om oorlog te maak teen haar ander nakomelinge wat die gebooie van God nakom en aan die getuienis vashou wat Jesus gelewer het. 18 Die draak het toe op die seestrand gaan staan.

3.    DIE OORLOG:
      In die eerste ses verse van hierdie gedeelte, sien ons dat die groot rooi draak oorwin is en dat hy sy stryd teen die “Kind” (die Messias) verloor het en nou verskuif hy sy fokus na die “vrou” wat die “Kind” in die lewe gebring het, nl. die Joodse kerk.  Die kerk word egter bewaar, deurdat God aan haar twee groot arendsvlerke gegee het.  Hierdie is natuurlik Ou Testamentiese  beeldspraak ~ Julle het gesien wat Ek aan Egipte gedoen het, en hoe Ek julle soos op arendsvlerke veilig gedra en na My toe gebring het. 5-6 As julle My gehoorsaam en julle aan my verbond hou, sal julle uit al die volke my eiendom wees, ’n koninkryk wat My as priesters dien, en ’n gewyde nasie. Die hele aarde behoort immers aan My.’ Dit is wat jy aan die Israeliete moet vertel (Eks.19:4-6).  Ons lees ook in Deut.32:10-12 ~ Hy het sy volk in die woestyn gevind, in ’n onbewoonbare land waar woestyndiere skreeu. Die Here het sy volk omhels, hom vertroetel en versorg soos die appel van sy oog. 11 Soos ’n arend wat sy kleintjies uit die nes uitskop, oor hulle fladder en hulle vang op sy vlerke wat hy oopsprei, soos ’n arend wat sy kuikens op sy vlerke dra, 12 so het die Here, net Hy alleen, sy volk gelei; daar was nie ’n ander god by Hom nie.  In beide hierdie gedeeltes word Israel se uittog uit Egipte beskryf in terme van arendsvlerke.  Hier in Openb.12:14 word die ware Israel van God weer gered van die “nuwe Egipte” (Jerusalem – Openb.11:8), deur arendsvlerke.  Hulle word gered en weggelei na ’n veilige plek (en hier moet ons weer na die O.A.V. kyk, omdat die N.A.V. hierdie gedeelte nie korrek vertaal het nie) ~ ...sodat sy na die woestyn, na haar plek, kon vlieg, waar sy uit die gesig van die slang onderhou word, ’n tyd en tye en ’n halwe tyd.  Ons het hierdie tydsduur van ’n tyd en tye en ’n halwe tyd al vantevore gesien en toe ook vasgestel dat dit dui op ’n tydperk van drie-en-’n-half jaar.  Die gelowiges word uit Jerusalem na Pella in die woestyn gelei vir die duur van die verwoesting van Jerusalem. 

      Hierdie gebeure het egter nie die groot rooi draak se aanvalle gestop nie, want ons sien in vv.15-16 die volgende ~ Die slang het toe ’n stroom water soos ’n rivier uit sy bek agter die vrou aan uitgespoeg, sodat sy deur die stroom meegesleur kon word, 16 maar die aarde het die vrou te hulp gekom. Dit het oopgegaan en die stroom opgesluk wat die draak uit sy bek uitgespoeg het.  In Egipte het die satan die Farao gebruik in sy poging om die volk van God uit te wis.  Die Farao het opdrag gegee dat al die seuntjies onder die ouderdom van 2 in die Nylrivier gegooi moes word.  God het egter Sy volk beskerm.  By die Rietsee (Skelfsee – O.A.V.) het Satan gedink dat hy die volk in ’n val gelei het, toe hulle te staan gekom het voor die see en die Egiptiese weermag wat in aantog was van agter.  Weer red God Sy volk deur die water te kloof.  Ons vind hierdie selfde beeldspraak van water, weer hier in Openb.12 waar Satan poog om die vrou te vernietig.  God gryp egter weer in ~ ...maar die aarde het die vrou te hulp gekom. Dit het oopgegaan en die stroom opgesluk wat die draak uit sy bek uitgespoeg het (v.16). Soos in die verlede ook reeds aangetoon, verteenwoordig die aarde, Jerusalem.  Satan se poging om die kerk te vernietig, was geabsorbeer deur Jerusalem gedurende die Joodse oorlog.  Alhoewel die “vloedgety” van die Romeinse Ryk oor Jerusalem gespoel het, het God weereens Sy kinders bewaar, want dit was die afvallige Jerusalem wat in die slag gebly het en nie “die vrou” nie.  Die draak se wraak het tot gevolg gehad dat Jerusalem en die tempel vernietig is – die vernietiging van Judaïsme en die dood van 1,1 miljoen Jode, maar die gelowiges het ongeskonde daarvan afgekom – ons het voorwaar niks te vrees nie!  Onthou:  Dit kon nie “maanskyn en rose” vir die gelowiges in Pella gewees het nie – weggeruk van hulle besittings, werk, ongeredde vriende en familie en vir 3½ jaar in die woestyn, maar God het hulle te midde van die swaarkry bewaar!  Satan smee allerlei planne teen die Bruid van Christus, maar hy is ’n blote pion in die hand van God en kan hy derhalwe niks aan God se kinders doen, sonder dat God dit toelaat nie.

4.    AFSLUITING:
      Weereens moet ons besef dat die satan nie nou sommer net handdoek sal ingooi nie en daarom is hy steeds daarop uit gewees om oorlog te maak teen die oorblyfsel van die saad van “die vrou”, wat God se gebooie onderhou – hulle wat die getuienis van Jesus Christus in hulle dra – die nuwe verbondskinders van God – ONS! 

      Na die verwoesting van Jerusalem het die satan sy aandag op die Nuwe Testamentiese kerk begin vestig.  Ons sien dit in die sewe gemeentes in Klein-Asië (Openb.2-3).  Maar steeds bewaar God Sy kerk al is daar vandag omtrent geen steen meer sigbaar van die sewe gemeentes in Klein Asië nie – ons is getuienis daarvan.  Die kerk is nie daar verwoes nie en het steeds van krag tot krag gegaan – ja daar was die Rooms Katolieke era en vele ander tye en gebeurtenisse wat gelyk het asof die satan weer die oorwinning kan behaal, maar telkens kom God en red Hy Sy kinders (dink bv. aan die Hervorming). 

      Al is ons getuies van God se beskerming van die kerk teen die vyand deur die eeue heen, het die satan se aanslag teen die kerk nie opgehou nie – ons is egter steeds verseker van ’n Hoërhand wat ons beskerm – die kerk sal nooit vernietig word nie. ’n Pragtige bewys hiervan is die kerk in China wat ten spyte van erge vervolging, van omtrent geen gelowiges tot bykans 50 miljoen gelowiges gegroei het en daar word steeds daagliks groot getalle nuwe gelowiges bygevoeg.

      Ja, satan is ’n brullende leeu, maar hy is ’n reeds oorwonne brullende leeu. Laat ons daarom in oorwinning wandel, deur Christus lief te hê en Hom voortdurend in gehoorsaamheid na te volg en te dien, want deur Hom voortdurend in elke faset van ons lewe te gehoorsaam en na te volg en te dien, trek ons die volle wapenrusting aan (Ef.6) en sal ons paraat wees teen die vyand en sy aanslae en sál God verheerlik word!


[1] Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Sondag 21 April 2013.

Saturday 13 April 2013

Die Openbaring aan Johannes – B02 (“Christus die Vegter”)


1.     INLEIDING:
       Soos so dikwels in die Openbaringbrief, moet ons besef dat nie alle gebeure altyd streng volgens tyd- of chronologiese volgorde weergegee word nie. Ook is dit die geval met Openb.12:7-12 waarna ons vandag gaan kyk. Die eerste 6 verse waarna ons die vorige keer gekyk het, het vir ons ’n kykie gegee in die konflik waarin die kerk haarself bevind en steeds sal bevind, tot en met Christus weer kom en hierdie heilige oorlog word in drie gedeeltes in Openbaring 12 uiteengesit:
-       Die vrou (12:1-6);
-       Die vegter (12:7-12);
-       Die oorlog (12:13-17).

       Ons gaan dan vanoggend kyk na die tweede gedeelte van die konflik waarin die Kerk haarself bevind, nl. die vegter. Die verse tussen die vrou en die oorlog (12:7-12), verduidelik aan ons waarom daar soveel teenkanting en haat in vv.1-6 en 13-17 is. Dit is asof Johannes sê:  Laat my net eers gou toe om ’n bietjie meer agtergrond te gee ten einde 12:1-6 en 13-17, beter te verstaan...

2.     SKRIFLESING:
       Openb.12:7-12 ~ Daar het toe oorlog gekom in die hemel: Migael en sy engele moes oorlog voer teen die draak. Die draak en sy engele het oorlog gevoer, 8 maar hulle is verslaan. In die hemel was daar geen spoor meer van hulle te vind nie, 9 want die groot draak, die slang van ouds, wat die duiwel en die Satan genoem word en wat die hele wêreld verlei, is uit die hemel uit gegooi. Hy is op die aarde gegooi en sy engele saam met hom. 10 Toe het ek ’n stem in die hemel gehoor wat hard uitgeroep het: “Nou het ons God die redding gebring, nou is sy mag en koningskap hier, en die gesag van sy Gesalfde! Die aanklaer van ons medegelowiges is uit die hemel uit gegooi, hy wat hulle dag en nag voor ons God aangekla het. 11 Hulle het self die oorwinning oor hom behaal danksy die bloed van die Lam en die boodskap waarvan hulle getuig het; en hulle het nie hulle lewens so lief gehad dat hulle onwillig was om vir Hom te sterwe nie. 12 Daarom, hemel en dié wat daarin bly, verheug julle. Maar vir julle, land en see, wag daar ellende omdat die duiwel na julle toe gekom het met groot woede en met die wete dat hy min tyd het.” .

3.    DIE VEGTER:
       Hierdie gedeelte weerspieël ’n geveg tussen twee weermagte. Die goeie weermag word aangevoer deur Migael en sy engele, terwyl die bose weermag aangevoer word deur die draak en sy engele. Dit is belangrik om daarop te let dat Migael se weermag, die aggressors in hierdie geval is en hulle beskerm nie net bloot hul grondgebied nie – nee, hulle trek op teen die draak en sy engele. Migael en die draak is die twee onderskeie generaals, terwyl die engele die soldate aan beide kante is.

       In v.9 word die draak onteenseglik geïdentifiseer as die slang van ouds, wat die duiwel en die Satan genoem word. Dit is egter nodig om in meer detail na te vors wie Migael werklik is, omdat dit nie so voor die handliggend in bg. verse uitgespel word nie.

       Daar word in drie boeke van die Bybel gepraat van Migael, nl.: Daniël, Judas en Openbaring. Ons kom die eerste keer in aanraking met Migael in Dan.10. Ons lees in die eerste vers van Dan.10 dat iets wat moeilik was om te verstaan, aan Daniël geopenbaar was. Daar word nie presies vertel wat hierdie verskriklike ding was wat aan Daniël geopenbaar is nie, maar wel dat dit in die verre toekoms sou plaasvind. Daniël het egter geweet wat hierdie ding was en dit het hom daartoe gedryf om te vas en te treur (Dan.10:2-3). Terwyl hy gevas en getreur het, het hy ’n ander visioen ontvang. In vv.4-6 beskryf hy hoe hy, terwyl hy by die Tigrisrivier was, ’n manjifieke Wese gesien het.  Al was Migael nie alleen nie, het nét hy die visioen gesien. 

       Met hierdie agtergrond bring dit ons by ’n baie belangrike Skrifgedeelte wat meer lig sal werp oor die geveg waarin Migael en die draak betrokke was, nl. Dan.10:10-21 ~ Daarna het ’n hand my gevat en my op my knieë en hande laat staan, terwyl ek gebewe het. 11 Die man sê toe vir my: “Daniël, jy vir wie God liefhet, gee ag op wat ek vir jou gaan sê, en staan regop. Ek is na jou toe gestuur.” Toe hy dit vir my sê, het ek bewend regop gaan staan. 12 Hy sê toe vir my: “Moenie bang wees nie, Daniël, want van die eerste oomblik af dat jy jou ingespan het om insig te kry en jou voor jou God verootmoedig het, is jou gebede verhoor. Ek het gekom in antwoord op jou gebede. 13 Die engel van die Persiese ryk het my een en twintig dae lank teruggehou, maar toe het Migael, een van die vernaamste engele, my te hulp gekom en ek was nie meer nodig teen die Persiese konings nie. 14 Ek het gekom om jou in te lig oor wat in die toekoms met jou volk gaan gebeur, want ook hierdie visioen sien op die tye wat kom.” 15 Terwyl hy dit vir my sê, het ek sprakeloos my kop na die grond toe laat sak. 16 Toe het iemand wat soos ’n mens gelyk het, my lippe aangeraak, en ek kon weer my mond oopmaak en praat. Ek het vir die een wat voor my gestaan het, gesê: “Meneer, die visioen het my so ontstel dat ek geen krag meer het nie. 17 Hoe kan ek, u dienaar, met iemand soos u praat, Meneer! My kragte het ingegee, ek kan skaars nog asemhaal.” 18 Toe het hy wat soos ’n mens gelyk het, my weer aangeraak en vir my krag gegee. 19 Hy het vir my gesê: “Moenie bang wees nie, jy vir wie God liefhet! Dit sal goed gaan met jou. Wees sterk! Wees sterk!” Terwyl hy met my praat, het ek weer sterk gevoel en gesê: “U kan maar praat, want u het vir my krag gegee.” 20 Hy het toe vir my gesê: “Nou weet jy waarom ek na jou toe gekom het. En nou moet ek teruggaan om teen die engel van Persië te gaan veg, en as ek met hom klaar is, sal die engel van Griekeland kom. 21 Maar eers sal ek jou vertel wat in die Boek van die Waarheid opgeteken is. Daar is niemand wat my teen hulle bystaan nie behalwe julle engel Migael.

       Die indruk wat ’n mens hier kry, is dat die heerlike wese nou verdwyn en dat ’n hand Daniël nou vir drie weke aanraak. Hierdie hand moes onteenseglik, die hand van ’n engel gewees het en heel waarskynlik was dit die hand van Gabriël, want dit was gewoonlik hy wat met Daniël gepraat het, wanneer Daniël gebid het – Bv.: Dan.9:21 ~ ...terwyl ek nog so aan die bid was, het Gabriël, die man wat ek die vorige keer in die visioen gesien het, by my aangevlieg gekom (sien ook 8:15-16).

       Daniël het gevas en gebid ten einde hierdie visioen te verstaan, maar steeds het hy geen duidelikheid daaroor gekry nie. Die antwoord was reeds op die eerste dag beskikbaar, maar die engel van Persië (dink aan die Rekenaarspeletjie waarop kinders versot is – “The Prince of Persia”!) het Gabriël vir 21 dae teengestaan en verhoed dat hy die antwoord aan Daniël gee. Hierdie engel van Persië was vanselfsprekend ’n demoniese wese en dalk Satan self – ons kan nie met sekerheid sê nie, want hy was kragtig genoeg om die engel Gabriël te kon weerstaan. Ons sien egter in v.13 dat Migael, een van die hoof engele, of te wel, een van die vernaamste prinse, tot die hulp van Gabriël gekom het en kon hy die antwoord aan Daniël verskaf. Presies wie Migael is, is nie vir ons duidelik nie, behalwe dat die Woord hom een van die vernaamste prinse noem en dit is ook duidelik dat hy ’n kragtiger wese as Gabriël is. Verder is dit ook duidelik dat Gabriël en Migael bondgenote is en volgens v.21 word Migael ook geïdentifiseer as die volk van God, se “prins”.  Net twee hoofstukke verder (12:1) word Migael die groot engel of die prins van die volk genoem en daar sien ons dat hy die wag oor die volk hou.

       Ons lees dan in Dan.21:1 die volgende ~ In daardie tyd sal Migael, die groot engel wat oor die lede van jou volk waghou, op die toneel verskyn. Dit sal ’n swaar tyd wees, so swaar soos dit nog nooit was vandat daar nasies is nie. In daardie tyd sal almal uit jou volk wat in die boek opgeskryf is, gered word.  Waarna word hier verwys?  Nooit in die geskiedenis van die volk was daar ooit so ’n verskriklike tyd soos wat hier van gepraat word nie.  Waarna word hier dan verwys?  Dit kan nie anders wees, as die val van Jerusalem in 70 n.C. nie, want daar was geen erger lot wat die volk van Israel ooit oorgekom het as daardie gebeure in die jaar 70 n.C. nie. En wie was deur die engel Migael bewaar in daardie tyd? Hulle wie se name in die boek opgeskryf is. En wie was hulle? Die gelowiges wat betyds uitgelei is uit Jerusalem na Pella en sodoende die val en verwoesting van Jerusalem vrygespring het!

       Na hierdie voorval in Daniël kry ons eers weer laat in die Nuwe Testament te doen met Migael en wel in Judas vers 9 ~ Nie eens die aartsengel Migael het so iets gedoen nie. Toe hy met die duiwel gestry het oor die liggaam van Moses, het hy hom dit nie veroorloof om die duiwel te beledig en te veroordeel nie, maar hy het vir hom gesê: “Die Here sal jou straf.” 

       Eerstens is dit interessant om hier te sien, dat die engel (Migael) hom nie veroorloof het om die satan te beledig, of te veroordeel nie. Hy het egter wel ’n geldige beskuldiging teen die satan gerig. Waarom doen hy dit? Omdat die wraak en veroordeling net God toekom (Rom.12:19). Dit laat ’n mens dink oor mense wat hulleself uitgee as “duiwel uitdrywers” en wat betrokke is by sg. “bevrydingsbedieninge” en die wyse waarop diesulkes te kere gaan wanneer hulle die duiwel begin bestraf! Hulle vergeet heeltemal van Rom.12 en hulle matig hulleself meer mag aan as waaroor Migael bv. beskik!

       Tweedens word hier na Migael as ’n aartsengel verwys.  Daar word op geen ander plek in die Woord verwys na (’n) ander aartsengel(e) nie. Migael is dus die enigste aartsengel. Daar word dikwels deur mense na Gabriël as die/’n aartsengel verwys, maar daar is geen Skrifbewyse daarvoor nie. Migael is die aartsengel en die woord aartsengel beteken “die hoof van die engele”.

       Ons moet egter ook na enkele ander teksverse gaan kyk waar daar sprake van “die hoof van die engele” is.

       Jos.5:13 is baie interessant en ons moet daarna kyk ~ Josua was naby Jerigo. Toe hy sien, staan daar ’n man voor hom met ’n ontblote swaard in die hand. Josua het na hom toe gegaan en hom gevra: “Is u aan ons kant of aan ons vyande s’n?” 14 “Nee,” sê die man, “ek is die aanvoerder van die leër van die Here. Daarom is ek hier.” Josua het diep gebuig en vir die man gesê: “Wat wil u aan my, u dienaar, sê?” 15 Toe sê die leëraanvoerder van die Here vir Josua: “Trek jou skoene uit, want die plek waarop jy staan, is ’n gewyde plek.” Josua het dit gedoen. Hier het Josua te doen met die aanvoerder van die leër van die Here. Min kommentators sal stry daaroor dat ons hier te doen het met die Here Jesus Christus self, want Josua word aangesê om sy skoene uit te trek omdat hy op heilige grond staan. Waarom was die grond heilig? Omdat Josua in die teenwoordigheid van die heilige God self was (Eks.3:1-6)!

       Ons vind nog ’n verwysing na hierdie Soewereine Engel en wel in Eks.23:20-23 ~ “Ek, die Here, stuur ’n engel voor jou uit om jou op die pad te beskerm en jou na die plek toe te bring wat Ek vir jou reg gemaak het. 21 Gee ag op die engel en luister na hom; moet jou nie teen hom verset nie. Hy sal jou nie vergewe as jy teen hom in opstand kom nie, want Ek het aan hom my volmag gegee. 22 As jy goed ag gee op hom en alles doen wat Ek sê, sal Ek die vyand van jou vyande wees en die teëstander van jou teëstanders. 23 “My engel sal voor jou uitgaan en jou bring by die Amoriete, Hetiete, Feresiete, Kanaäniete, Hewiete en Jebusiete, en dan sal Ek hulle uitwis.  Hier gee die Here aan Moses en die Israeliete die versekering dat die Engel hulle na die Beloofde Land sou lei. Weereens is daar breë eenstemmigheid daaroor dat hierdie “engel” weereens ’n verwysing na Jesus Christus is.

       Die gevolgtrekking waartoe ons dus moet kom (dit kan nie anders nie), is dat die aartsengel niemand anders kan wees as Christus self nie. Hierdie feit blyk ook duidelik uit 1Tes.4:13-18, waar ons vertel word dat Jesus met die stem van die aartsengel sal terugkeer na die aarde met Sy tweede koms. Die woord aartsengel kom net twee keer voor in die Woord: Eenkeer in Judas vers 9 waar daar verwys word na Migael en eenkeer in 1Tes.4:16 waar daar na Christus verwys word. Dit blyk dus duidelik dat Migael en Christus een en dieselfde Persoon is. Christus gaan met die stem van ’n aartsengel terugkeer na die aarde, omdat Hy voorwaar self die Aartsengel is!

       In Dan.12:1 word daar gesê dat Migael diegene wie se name in die Boek van die Lewe opgeskryf is, sal beskerm – is dit nie slegs Christus Jesus wat kan veroordeel of regverdig verklaar nie? Is dit nie op grond van Christus se soendood alleen dat ons name in die hemel opgeskryf word nie? Migael is kragtiger as Gabriël. En Migael (Jesus) en Gabriël is bondgenote. Migael se naam beteken juis ook “wie soos God is”. En wie anders as Christus Jesus is soos God?

       In Judas het ons gesien dat Migael en die vyand gestry het oor Moses se liggaam en Migael het gedurende hierdie situasie geen grondige beskuldiging teen die satan ingebring nie, want die Here God het die satan gestraf. Dit wil dus voorkom asof Judas met hierdie skrywe van hom in Judas vers 9, die woorde in Sag.3:1-5 in gedagte gehad het ~ Die Here het my ’n gesig laat sien. Ek het die hoëpriester Jesua voor die engel van die Here sien staan, en regs van hom het die Satan gestaan, besig om Jesua aan te kla. 2 Die Here het vir die Satan gesê: Ek sal jou straf, Satan, Ek wat Jerusalem my woonplek gemaak het, sal jou straf. Hierdie man is soos ’n stuk hout wat uit die vuur gered is. 3 Jesua het klere aangehad wat liederlik bevuil was. Hy het daar voor die engel gestaan, 4 en die engel het vir sy helpers gesê: “Trek uit dié liederlike vuil klere van hom.” Vir Jesua het hy gesê: “Ek het jou jou oortredings vergewe en Ek gaan vir jou skoon klere aantrek.” 5 Toe sê ek: “Hulle moet ’n skoon tulband op sy kop sit!” Hulle het die skoon tulband op sy kop gesit en hom aangetrek terwyl die engel van die Here daar by staan. Jesua staan hier voor die engel van die Here (Jesus Christus). Satan staan ook daar en hy bring beskuldiging in teen Jesua. Ook hier bestraf die engel van die Here nie die satan nie – God doen dit self. Volgens Sag.3 handel hierdie dispuut oor Jerusalem wat die Ou Testamentiese kerk verteenwoordig. 

       Net soos wat die Nuwe Testamentiese kerk, die Liggaam van Christus is, is die Ou Testamentiese kerk liggaam van Moses. Dit gaan dus nie hier in Sag.3 oor die fisiese liggaam van Moses nie, maar oor die geestelike Liggaam van Moses, nl. die Ou Testamentiese kerk, wat hier verteenwoordig word deur die hoëpriester, Jesua en Jerusalem. Migael die aartsengel in die woorde van Judas, is dieselfde as die engel van die Here en beide verwys ondubbelsinnig na Jesus Christus. 

       Dit blyk dus baie duidelik uit hierdie redenasie en die Skrifverwysings, dat Migael, Christus self is.

       Die Jehova se Getuies glo natuurlik ook dat Migael en Jesus een en dieselfde Persoon is. Die vraag is nou of ek dieselfde glo as die “Jehova se Getuies”? Die antwoord hierop is ’n baie duidelike “NEE!” Ek glo dat Jesus Christus, God is – en die “Jehova se Getuies” glo dit nie. Dit beteken dus dat ek glo dat Migael God is en die “Jehova se Getuies” glo dit nie. Ons moet versigtig wees dat ons nie iemand veroordeel wanneer dit wil lyk asof hy saamstem met bepaalde uitsprake van sektes of kultusse, ens. nie. Die Rooms Katolieke glo ook in die maagdelike geboorte van Jesus, Sy kruisdood en Sy opstanding uit die dood, maar dit maak nie van my ’n Katoliek nie, want die Roomse glo ook aan allerlei ander onbybelse dinge en daarom maak een ooreenkoms nie van my ’n Katoliek nie!

4.    AFSLUITING:
       Terug na Openb.12:7-12 egter. Met die feit dat Migael, Jesus Christus is, is dit betekenisvol dat Migael die Een is wat die aanvaller, of die aggressor is in die oorlog soos beskryf in Openb.12. Christus word voorgestel as Migael en Hy en sy heilige engele voer oorlog teen die satan, wat die draak genoem word, en sy gevalle engele (demone) en ons sien dat die satan met sy gevalle engele, saam deur Christus en Sy engele uit die hemel op die aarde neergewerp word (v.4; Judas vers 6; 2Pet.2:4).

       Jesus het ook tydens Sy aardse bediening, as aggressor teen die satan en sy demone opgetree – dink bv. aan die kere wat Hy demone uit mense gedryf het (Matt.8:16; 29-34; 9:32-35; 12:22-28, ens.). Christus en engele word dikwels verbind aan mekaar: Die engele het Hom bv. versorg en gedien na Sy versoeking in die wildernis (Matt.4:11). Jesus kon meer as 12 legioene engele ingeroep het om Hom te beskerm teen Sy inhegtenisname (Matt.26:53). ’n Engel het Hom in Getsemane versterk (Luk.22:43).

       Die duiwels was ondergeskik aan die dissipels, omdat Satan soos weerlig uit die hemel geval het. Meer fenomenaal selfs as dit, was die redding wat bewerkstellig was deur die Persoon en Werk van Christus. Vroeër in Openb.12:5 het Johannes die vleeswording en die hemelvaart van Christus gesien, maar nou sien Hy die kruis. En dit is deur die kruis dat Migael en Sy engele die draak en sy demone oorwin. Dit was dan in hierdie konteks (met verwysing na Sy kruisiging) dat Jesus in Joh.12:31 sê ~ Nou kom die oordeel oor hierdie wêreld; nou sal die owerste van hierdie wêreld uitgegooi word buitentoe. En later brei Paulus uit op hierdie waarheid toe hy gesê het ~ Julle was dood deurdat julle gesondig het en deurdat julle sondige natuur nog nie weggeneem was nie. God het julle egter saam met Christus lewend gemaak deurdat Hy ons al ons sondes vergewe het. 14 Hy het die skuldbewys met sy eise teen ons tot niet gemaak. Deur dit aan die kruis te spyker, het Hy dit vir goed weggeneem. 15 Hy het elke mag en gesag ontwapen en hulle in die openbaar vertoon deur hulle as gevangenes in die triomftog van Christus mee te voer (Kol.12:13-15). Dit is deur die kruis dat Jesus die vyand ontwapen het en die skrywer van die Hebreërboek stem hiermee saam ~ Aangesien hierdie kinders mense van vlees en bloed is, het Hy ook net soos hulle mens geword. Dit het Hy gedoen om deur sy dood dié een wat mag het oor die dood, dit is die duiwel, te vernietig 15 en om hulle wat uit vrees vir die dood hulle hele lewe lank in slawerny was, te bevry (Hebr.2:14-15).  Johannes sê in 1Joh.3:8 ~ ...wie aanhou sonde doen, behoort aan die duiwel, want die duiwel hou van die begin af aan met sondig. En die Seun van God het juis gekom om die werk van die duiwel tot niet te maak. Dit was dus gedurende Jesus se aardse bediening dat Hy die satan en sy gevalle engele oorwin het.

       Voor hierdie gebeure op Golgota was die wêreld vasgevang in die kloue van Satan. Israel was die enigste volk met ’n monoteïstiese godsdiens (God is die enigste ware God), terwyl die res van die wêreld vasgevang was in die greep van die satan. Die satan het sedert die sondeval, onverpoosd voortgegaan met sy geveg teen die mensdom en voortdurend aanklagtes voor God ingebring (ook bekend as die aanklaer van ons broeders – Openb.12:10 – O.A.V.)  – dink hier aan Job byvoorbeeld. 

       MAAR, ná Golgota lyk die prentjie egter veel anders, want die Evangelie was nog nooit vantevore so wydverspreid en gevestig deur die wêreld soos vandag nie! Die satan en sy demone is verslaan deur Jesus Christus en hy en sy demone is neergewerp uit die hemel en daarom kan hy geen beskuldigings meer inbring teen die kinders van God nie (Rom.8:33) hy het geen toegang meer tot die troon van God nie! Christus sit nou op die hemelse troon en Hy tree vir ons in by God die Vader! Rede tot onuitspreeklike vreugde!

       Die oorlog is gewen! Ons moet egter onthou dat ons probleme nog nie verby is nie, want die satan is neergewerp op die aarde en hy loop soos ’n brullende leeu rond opsoek na iemand om te verslind (1Pet.5:8).

       Diegene van ons wat egter in Christus ingeplant is hoef nie die brullende leeu te vrees nie, want ’n ander Leeu, die Leeu uit die stam van Juda, se “brul is veel harder” en daarom sal die poorte van die hel nie die kerk van die Here Jesus Christus oorweldig nie (Matt.16:18)!


[1] Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Sondag 14 April 2013