Saturday 28 September 2013

Openbaring Ontsluit – 48 (Die Koms van die Koninkryk - 01)


1.     INLEIDING:
Wanneer ons kyk na hierdie gedeelte uit Openb.19, het ons voorwaar nodig om ’n paradigma skuif te maak (sommige in elk geval). Vir baie jare en uit die meeste oorde word hierdie gedeelte gesien as die tweede koms van die Here Jesus Christus, wat nog iewers in die toekoms lê. Hierdie gedeelte bring dan ’n radikale onderskeid tussen hoofsaaklik vier hoofdenkrigtings in die teologie, nl. aan die eenkant, die Pre-Millennialistiese siening (of "dispensationalism") en die Historiese Pre-Millennialisme en aan die anderkant, die A-Millennialisme en Postmillennialisme.

Die dispensasie-siening leer dat Christus na ’n tydperk van erge verdrukking wat sewe jaar sal duur, sal terugkeer – dit lê dus nog steeds in die toekoms. Nadat Hy gekom het, sal Hy Sy Koninkryk op aarde setel en vir ’n duisend jaar hier regeer. Wat egter belangrik is, is om ook te noem, dat die gelowiges "weggeraap" ("rapture") sal word voor die sewe jarige verdrukking op aarde sal losbars (aldus die "Dispensasionaliste" of Pre-Millennialiste). Daar is egter ook verskeie strominge in hierdie siening – sommige sê dat gelowiges ’n ietsie van die verdrukking sal beleef en dan weggeraap sal word; andere (die oorgrote meerderheid) sê dat die gelowiges voor die verdrukking weggeraap sal word en dan is daar ook ’n groepie wat leer dat die gelowiges aan die einde van die verdrukking, weggeraap sal word. Een ding waaroor hierdie groepe egter saamstem, is dat die wegraping en die wederkoms van Christus baie duidelik onderskeibaar sal wees en dat die wederkoms sal plaasvind ná ’n toekomstige "groot verdrukking". Dit is belangrik om te beklemtoon dat hierdie groep mense glo dat Christus se Koninkryk, eers ná Sy tweede koms gevestig sal word – Sy Koninkryk bestaan reeds, maar Hy moet nog eers ingehuldig word as Koning en Sy aardse heerskappy hier op aarde sal vir ’n 1000 jaar duur. Hierdie groep word in ons dae, veral verteenwoordig deur die Charismatiese- en Pinkstergroepe en dan word talle kerkgangers en oningeligte gelowiges in ons tradisionele Gereformeerde kerke (bv. N.G.-, Gereformeerde- en Hervormde gemeentes), op sleeptou geneem deur ’n geweldige aanslag wat geloods word deur boeke en films wat die Pre-Millennialistiese teologie verkondig (boeke soos bv. die "Left-behind" reeks en letterlik duisende ander).

Die klassieke Pre-Millennialisme (klassieke "Dispensasionaliste"), glo dat die wegraping en die wederkoms ter gelykertyd gaan plaasvind, maar hulle stem saam met die Pre-Millennialiste, dat Christus se Koninkryk vir ’n duisend jaar ná die wederkoms, hier op aarde gevestig sal wees.

Die A-Millennialiste en Postmillennialiste (wat lg. aan betref hys ek my vlag hier), stem saam met die klassieke Pre-millennialiste, nl. dat die wegraping en die wederkoms tegelykertyd sal geskied ~ Wanneer die bevel gegee word en die stem van die aartsengel en die trompet van God weerklink, sal die Here self uit die hemel neerdaal. Allereers sal dié wat in Christus gesterf het, uit die dood opstaan; 17daarna sal ons wat nog lewe, saam met hulle op die wolke weggevoer word, die lug in, die Here tegemoet. En so sal ons altyd by die Here wees (1Tes.4:16-17). Daar bestaan egter ’n fundamentele verskil wat betref die siening oor God se Koninkryk. Die A- en Postmillennialiste sê dat Christus nié ná die wegraping, of anders gestel, ná Christus se tweede koms (wederkoms), Sy Koninkryk hier op aarde kom voortsit of vestig vir ’n 1000 jaar nie. Nee, ons glo dat Christus sal kom om Sy reeds bestaande Koninkryk te voltooi, of beter gestel, te vervul. Christus het rééds Sy Koninkryk betree, met die hemelvaart en Hy sit stééds op Sy troon en regeer tans vanuit die hemel. Sy wederkoms aan die einde van tyd, sal Sy Koninkryk vervul, waarop die ewigheid onmiddellik sal volg – sonder ’n tussentydse millennium (1000 jaar tydperk) dus.

Die doel van ons studie vandag, is egter nie om in detail in te gaan op die verskillende eskatologiese modelle nie – waarom nie? Baie eenvoudig: Omdat Openb.19:11-21 niks te make het met Jesus  Christus se wederkoms nie! Dit klink dalk ’n bietjie vergesog en radikaal vir sommige, maar ek glo ek sal daarin slaag om dit te bewys en ook aan te toon dat Christus se Koninkryk reeds meer as 2000 jaar gelede gevestig is – "hê dus net ’n bietjie geduld met my".

Ek sê dus, dat hierdie verse niks te doen het met Christus se tweede koms nie, maar dit het alles te doen met Jesus se antwoord op die dissipels se vraag oor gebed in Matt.6 en Luk.11 en dan spesifiek t.o.v. van die woorde ~ ...laat u koninkryk kom... (Matt.6:10a; Luk.11:2).

Openb.19 begin met ’n glansryke visioen van die Here Jesus Christus as Oorwinnende Regter – hierdie gedeelte, net soos die res van Openbaring, handel dus oor Jesus Christus ~ Toe het ek voor sy voete op my knieë neergeval om hom te aanbid. “Pas op, moenie!” sê hy toe vir my. “Ek is ’n mededienaar van jou en van jou medegelowiges wat aan die getuienis vashou wat Jesus gelewer het. Aanbid God, want dit is Jesus wat die getuienis gelewer het, en dit is die Gees wat die profesie gegee het.” (Openb.19:10). Christus se Koninkryk is ten volle van stapel gestuur en Hy regeer voorwaar en in Openb.19:11-16 sal ons ten minste twee heerlike waarhede t.o.v. hiervan sien.

Vandag gaan ons na twee fasette van Christus kyk, nl. Christus die Oorwinnaar en Christus die Regeerder.

2.    CHRISTUS DIE OORWINNAAR:
·           Openb.19:11 ~ Toe het ek gesien die hemel is oop. Daar was ’n wit perd. Sy Ruiter word die Getroue en die Betroubare genoem. Met regverdigheid oordeel Hy en voer Hy oorlog. Hier word van Christus gepraat en ons sien dat Hy getrou is en dat Sy oordele regverdig is. In die Bybel word die woord "perd" gebruik om oorlog of ’n veldslag te simboliseer en ’n wit perd is simbool van oorwinning. Christus word derhalwe hier in v.11 gesien as die Oorwinnaar wat op Sy wit perd ry. Hoe weet ons dat hier na Christus verwys word? In Openb.1:5 word daar spesifiek na Christus verwys as die geloofwaardige getuie (die getroue getuie – O.A.V.) en in 3:14 as die geloofwaardige en ware getuie (getroue en waaragtige Getuie – O.A.V.). Hy wat die Getroue en Waaragtige genoem word, het met regverdigheid (geregtigheid) gekom om te oordeel en oorlog te voer. Die Ou Testament is vol van soortgelyke "oordeel-taal" en dan spesifiek verwysende na Jesus Christus, bv. Ps.72:2 ~ ...sodat hy regverdige beslissings oor u volk sal vel en aan die verdruktes reg laat geskied, so ook bv. Ps.96:11-13 ~ Die hemele moet bly wees en die aarde moet juig, die see en alles daarin moet druis, 12die veld en alles daarop moet jubel, al die bome in die bos moet hulle verheug 13voor die Here, want Hy kom, Hy kom om oor die aarde te heers. Hy sal oor die wêreld heers met regverdigheid, oor die volke met billikheid.

       Hoor net wat Jesaja t.o.v. Christus geskryf het ~ ’n Takkie sal uitspruit uit die stomp van Isai, ’n loot uit sy wortels sal vrugte dra. 2Die Gees van die Here sal op hom rus: die Gees wat wysheid en insig gee, die Gees wat raad en sterkte gee, die Gees wat kennis verleen en eerbied vir die Here. 3Die takkie sal vreugde vind in die diens van die Here. Hy sal nie regspreek volgens uiterlike skyn nie en nie oordeel volgens hoorsê nie. 4Hy sal die armes billik verhoor en die ootmoediges in die land regverdig oordeel. Hy sal die goddeloses in die land hard oordeel, met sy uitsprake sal hy hulle om die lewe bring.5Hy sal regverdig en betroubaar regeer (Jes.11:1-5). Jeremia het iets soortgelyks gesê ~ Daar kom ’n tyd, sê die Here, dat Ek vir Dawid ’n regverdige spruit sal laat opskiet, ’n koning wat verstandig sal regeer. Hy sal die reg eerbiedig en regverdig regeer in sy land. 6In sy tyd sal Juda gered word en sal Israel veilig woon. Sy naam sal wees: Die Here regeer regverdig oor ons (Jer.23:5-6).

       Tot hier sien ons dus dat, ongeag van watter gebeurtenis hier in Openb.19 gepraat word, dit duidelik is dat Christus gaan kom as die volmaak, getroue, ware en regverdige Regter – Hy is die absoluut Betroubare!

3.  CHRISTUS DIE REGEERDER:
·           Openb.19:12-16 ~ Sy oë het soos vuur gevlam, en op sy kop was daar baie heerserskrone. Daar was ’n Naam op Hom geskrywe wat niemand anders ken nie, net Hy self. Hy het klere aangehad wat met bloed deurweek was, en sy Naam is: Die Woord van God. 14Die leërs in die hemel het op wit perde agter Hom aan gery. Hulle het fyn, helder wit klere aangehad. 15Uit sy mond het daar n skerp swaard uitgekom om die nasies mee te tref, en Hy sal hulle met n ystersepter regeer. Hy sal self die parskuip trap vir die wyn, die wyn van die toorn en die oordeel van God, die Almagtige. 16Op sy klere, by sy heupe, was daar n Naam geskrywe: Die Koning van die konings en die Here van die heersers.

       Christus is nie alleen betroubaar nie, maar Hy is ook die Onbegryplike en dit sien ons hier in v.12 (...wat niemand anders ken nie...). Jesus word hier beskryf as Een met oë wat soos ’n vuurvlam is (O.A.V.). Dit spreek van Christus se rein en alsiende oog van oordeel – Hy ken ons harte deur en deur. Hy weet as ons bitterheid koester, of vreugde, of haat, onreinheid, of hartseer, ens. Ons moet besef dat Hy glad nie verander het sedert die visioen aan Johannes gegee is nie – Sy oë is steeds soos vuur – en dit is op ons gerig!

Vers 12 sê ook vir ons dat daar baie heerserskrone op Sy kop is. Die Grieks vir "krone" in hierdie teksvers, is διάδημα (diadēma), wat spreek van ’n koninklike kroon en is tekenend van oorwinning. Ons het al vantevore hierdie selfde woord gesien, maar toe was dit gebruik t.o.v. God se vyande (bv. Openb.12:3; 13:1), maar in daardie gevalle het dit gedui op valse gesag – Christus alleen beskik oor alle gesag op aarde en in die hemel ~ Jesus kom toe nader en sê vir hulle: “Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde (Matt.28:18 – sien ook Ef.1:20-21; Fil.2:9; 1Pet.3:22). Jesus is die Heerser oor die konings van die aarde (Openb.1:5). Wanneer ons aan hierdie waarheid t.o.v. Christus se gesag en Koningskap dink, hoef ons nooit enige heerser of despoot te vrees nie [selfs in ons werksituasie – of huwelike(?)] – Christus is die "aller" Heerser.

       In Openb.19:16 sien ons dat die naam, ...Die Koning van die konings en die Here van die heersers, op Christus se klere en wel by Sy heupe geskrywe was en in v.13 sien ons dat Sy Naam, Die Woord van God is, maar nou sien ons hier in v.12 dat daar ’n naam op Hom geskrywe is, wat niemand anders ken nie. Wat beteken dit? Het ons hier te doen met ’n teenstrydigheid, of is dit bloot net nog ’n naam wat niemand ken nie? Die woord "ken" wat hier gebruik word, beteken dikwels om iets te besit. Wat hierdie gedeelte in v.12 dus wil sê, is dat ons as gelowiges Hom kan ken as ...die Woord van God, of ...Die Koning van die konings en die Here van die heersers ens., maar ons sal nooit in hierdie lewe, die volle omvang en betekenis van Sy Name en daarom Sy karakter kan ken nie, ons beskik bloot net nie oor die nodige verstand en insig om dit te begryp nie – Net Christus en Hy alleen kan die volle betekenis daarvan verstaan en verduidelik, want Hy is die Besitter van daardie Name – net Hy kan die volle omvang en betekenis van die majesteit van Sy wese verstaan.

       Christus is derhalwe ook die Onbegryplike, maar dank die Here – ons kan Hom ook ken! Ons kan Christus reeds in hierdie lewe ken as Here en Redder, maar eendag in die ewigheid sal ons Hom ten volle leer ken in al Sy heerlikheid! Die voorwaarde vir lg. is egter die wedergeboorte.

·           Johannes sê vir ons dat die klere wat Jesus aangehad het, in bloed gedoop was (O.A.V.). Ons kan tereg vra waarom hier gepraat word van Christus se klere wat met bloed deurweek is. Kom ons kyk na Jes.63:1-6 en dit behoort aan ons ’n antwoord te verskaf ~ Wie is dit wat daar aankom uit Edom, wat daar uit Bosra kom met bloedrooi klere aan? Wie is so indrukwekkend met daardie rooi klere aan, so vol krag? Dit is Ek, die Here, Ek wat oorwinning aankondig, wat magtig is om te red. 2Waarom is u klere so rooi, waarom lyk dit soos dié van iemand wat die wynpers trap? 3Ek alleen het die wynpers getrap, niemand van die volke het My bygestaan nie. Ek het op hulle getrap in my toorn, Ek was  woedend en Ek het hulle getrap. Hulle bloed het op my klere gespat, en Ek het my klere daarmee rooi gemaak. 4Ek het besluit om nou my vyande te straf; die tyd van verlossing vir my volk het aangebreek. 5Ek het rondgekyk, maar daar was niemand om te help nie, Ek was ontsteld toe niemand My bystaan nie. Ek het self opgetree, my woede het My bygestaan. 6Ek het volke getrap in my toorn, Ek het hulle laat steier deur my woede, Ek het hulle bloed oor die grond laat vloei.

       Hier in Jesaja sien ons Christus as Seun van God wat red wie Hy wil en dan spesifiek hier is dit die bloed van hulle wat Hom verwerp, wat op Sy klere spat en dit is hierdie selfde bloed – dié van diegene wie Jesus verwerp as Verlosser, wie se bloed, Christus se klere deurweek het in Openb.19:13. Ons moet na die konteks kyk hier en ons sien dat dit in hierdie gedeelte gaan oor Christus wat in ’n geveg betrokke is, daarom dat ons sê dat die bloed hier, dié van die veroordeeldes is.

       Die leërs in die hemel wat Christus op wit perde gevolg het, kan verwys na die engele, maar dit is meer waarskynlik dat hier verwys word na die Kerk – die Kerk in die hemel. Hierdie moontlikheid word dan ook deur die meeste kommentare ondersteun.

Soos wat Christus op Sy triomftog ry, sien Johannes ’n skerp swaard wat uit Sy mond kom en waarmee Hy die nasies gaan tref, waarna Hy hulle met ’n ystersepter gaan regeer. Omdat die swaard uit Sy mond kom, is dit duidelik dat dit nie ’n fisiese swaard is nie, maar ’n uitbeelding van God se gesproke Woord. In Ef.6:17 word God se Woord dan ook as ’n swaard beskryf ~ ...en vat die swaard van die Gees, dit is die woord van God. Die oorlog waarvan hier ter sprake is, is dus ’n geestelike oorlog en die uiteinde van hierdie geveg is dat Christus die oorwinning gaan behaal en die nasies met ’n ystersepter gaan regeer. Hierdie beeld kom direk vanuit Ps.2:9 ~ ... Jy sal hulle verpletter met jou ystersepter, hulle flenters slaan soos ’n kleipot, asook Ps.110:2 ~ As die Here die septer, simbool van u mag, uit Sion aan u oorhandig, heers dan oor u vyande!

En die naam wat op Christus se heupe geskryf staan ~ ...Die Koning van die konings en die Here van die heersers (v.16)? Hierdie is presies dieselfde naam as wat in 1Tim.6:15b aan Hom toegeken word.

4.     AFSLUITING:
Hoe vind ek en jy vanoggend baat by hierdie gedeelte uit Openbaring? As ons sê dat hierdie Skrifgedeeltes in Openb.19 aansluit by Matt.6 en Luk.11, dan moet ons tog uit vanoggend se boodskap vir onsself kan sê wat dit vir ons beteken. Ons het begin deur te sê dat Hy die Oorwinnaar is en ons sê ook dat Hy die Regeerder is. Daarmee saam bely ons ook dat Hy die Getroue; Geloofwaardige; Betroubare; Alsiende Regeerder is wat reeds in hierdie tyd regeer as Oorwinnaar en Koning. Wat egter besonder belangrik is, is dat ons in ons persoonlike lewe moet fokus op Sy Getrouheid; Sy Geloofwaardigheid en verder Hom in totale oorgawe moet toelaat om in ons lewens te regeer.

Die Nagmaal is dan juis ook 'n simbool van die feit dat Christus in Sy getrouheid, op geloofwaardige wyse aan die kruis vir ons sonde gesterf het en deur die Nagmaal vandag te gebruik, proklameer ons teenoor mekaar; teenoor die wêreld en teenoor die geesteswêreld, dat Christus die dood oorwin het en dat Hy derhalwe as Oorwinnaar vandag vir ons 'n plek berei in die hemel waar Hy as Regeerder vandag steeds regeer en dat Hy ons as Betroubare weer eendag sal kom haal.

Daar kan laastens ook geen twyfel bestaan oor die feit dat hierdie gedeelte handel oor die komende Messias nie, maar die vraag is: Na watter koms word hier verwys? Is dit ’n verwysing na Sy finale terugkeer na die aarde, of is hierdie ’n verwysing na ’n geestelike "wederkoms"? Soos aan die begin gesê, sal die meeste mense sê dat hierdie ’n verwysing is na Christus se tweede en finale koms – die wederkoms, maar die vraag is: Pas die beeldspraak van hierdie gedeelte by ’n tweede wederkoms-beeld? Ek glo nie. Om hierdie vraag op te klaar sal ons egter moet wag tot volgende keer.




[1] Boodskap gebring deur Kobus van der Walt te Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente.  Vereeniging – 29 September 2013

Saturday 14 September 2013

Openbaring Ontsluit – 46 (Die Bruilofsmaal)


1.      INLEIDING:
Ons het tot nou toe reeds baie tyd in Openbaring spandeer en veral het ons baie tyd spandeer aan die val van Jerusalem wat in 70 n.C. plaasgevind het. Sommige van ons moes ’n totale paradigmaskuif ondergaan het t.o.v. dit wat ons in die verlede geleer was oor, of geweet het van Openbaring, of wat ons maar so hier en daar uit gesprekke en dalk selfs uit die wêreldse pers t.o.v. Openbaring gehoor het – ek wil sover gaan as om te sê dat die meeste van ons (indien nie almal nie?), ons eie uiters wollerige en baie dikwels onbybelse siening (nie eens ’n standpunt nie) van klein deeltjies van Openbaring gevorm het.

Ons kom nou by ’n gedeelte in Openbaring waaroor daar ook menige verklaring bestaan, nl. die Maaltyd- of Bruilof van die Lam. Wat is die betekenis hiervan? Wanneer het dit, of gaan dit plaasvind? Wat is die betekenis daarvan, ens.?

 In die voorafgaande gedeelte het ons gesien dat die sg. "oorspronklike bruid van God" (Israel en Judaïsma) ’n afvallige, ontrou- en owerspelige vrou geword het wat uiteindelik deur God se oordele in 70 n.C. getref is.

Die trant en atmosfeer verander egter nou dramaties in hoofstuk 19, want hier gaan ons ’n vreugdevolle gebeurtenis vind, waar daar lofsange is en ook ’n bruilof – die oue lê in die verlede en die nuwe word omhels. Trouens, ons vind hier die instelling en "lansering" van die nuwe verbond in Christus Jesus.

Ons moet egter voorbereid wees daarop dat hierdie hoofstuk ook nie sonder bloedige tonele is nie. Ons tref twee maaltye hier aan: die maaltyd van die Lam (19:1-10) en die “Maaltyd van God” (19:12-21). Lg. maaltyd is ’n bloedige toneel, waar die roofvoëls van die hemel uitgenooi word om die vleis van die opperbevelhebbers, die vleis van die magtiges en die vleis van die perde en hulle ruiters, ja, die vleis van allerhande mense: vryes en slawe, klein en groot, te eet (v.17-18).

Voor ons in meer detail na hierdie hoofstuk kyk, is daar ’n paar dinge waarvan ons kennis moet neem:
·           Ons moet voortdurend in gedagte hou dat God die Vader nog altyd maar net een Bruid gehad het, nl. die ware Israel van God (dit is al die uitverkorenes deur al die eeue heen). God se ewige en onvoorwaardelike verbond met Sy uitverkorenes was nog altyd en sal altyd onaangeraak en vlekkeloos wees.
·           Tweedens moet ons verstaan dat daar ’n metaforiese betekenis opgesluit lê in die gedagte van God wat "getroud" is/was met die geopolitiese Israel as volk. Hierdie verbond met Israel, was ’n voorwaardelike verbond. Soos ons reeds vantevore gesien het, word God se waarskuwing t.o.v. ’n verbreking van die verbond tussen Hom en Israel, in Lev.26 en Deut.28 uiteengesit. In kort, indien Israel, God sou gehoorsaam, sou God haar seën; indien Israel ongehoorsaam is, sal God haar straf en sal Israel vervloek wees.
·           In die derde plek moet ons ook daarvan kennis neem dat, voor God (ek sê dit met die uiterste piëteit) "in die huwelik kon tree" met die Nuwe Testamentiese Kerk, Hy eers "verlos" moes word van Sy verbond met Israel. Omdat ’n huwelik, ’n "tot-die-dood-ons-skei-verhouding" is, moes God Israel "teregstel", vir hul doodsonde van owerspel.
·           Ons moet laastens daarop let dat God nie eers "in die huwelik getree" het met die Kerk na die verwoesting van Jerusalem nie. Die huwelik tussen God en Sy uitverkorenes kan al die pad teruggespeur word tot by die Tuin van Eden – trouens tot voor die skepping al. Die nuwe verbond was egter eers ten volle ingestel met die val van Jerusalem. Na aanleiding hiervan vind ons dan dat Openb.19 ’n figuurlike of sinnebeeldige beskrywing is van God se huwelik met die Kerk.  

2.    VERS-VIR-VERS ONTLEDING:
·        Openb.19:1-5 ~ Hierna het ek iets gehoor soos die harde geluid van ’n groot menigte in die hemel wat uitroep: “Prys die Here! Die oorwinning, die heerlikheid en die mag behoort aan ons God! 2Regverdig en reg is sy oordele, want Hy het die oordeel voltrek oor die sedelose vrou wat die aarde deur haar onsedelikheid verwoes het. Hy het die dood van sy dienaars op haar gewreek.” 3Verder het hulle uitgeroep: “Prys die Here! Haar rook styg tot in alle ewigheid op.” 4Die vier en twintig ouderlinge en die vier lewende wesens het gekniel en God aanbid wat op die troon sit. Hulle het gesê: “Amen! Prys die Here!” 5Toe het daar ’n stem van die troon af gekom wat gesê het: “Loof ons God, al sy dienaars, dié wat Hom vrees, klein en groot!”.

3.      HALLELUJAH:
       Ons vind hier ’n uitgelate gejubel in die lig van die naderende bruilofsmaal. Dit is egter ook opmerklik dat die Here se majesteit hier besing word – God se ou verbondsvolk het die verbond met God verbreek, maar God sal steeds verheerlik word deur Sy Bruid.

       In die oorspronklike teks (vv.1-6) word die woord Halleluja, vier keer gebruik. In die Hebreeuse teks kom hierdie uitdrukking nagenoeg 26 keer in die Psalms voor (o.a. Ps.102:18; 104:35; 105:45; ens.). Dit word elke keer in Engels as "praise the Lord" vertaal. Halleluja is dus ’n woord wat direk uit die Ou Testament kom.

       Soos ek reeds gesê het, kom die woord “hallelujah”, vier keer voor in hierdie gedeelte waarna ons vanoggend kyk. ’n Huwelik is altyd rede tot feesviering en dit is presies ook die geval met hierdie huwelik wat in Openb.19 beskryf word en daarom vier "hallelujas" in net ses verse!

       Die eerste "halleluja" wat Johannes hoor, was soos die harde geluid van ’n groot menigte in die hemel. Ons kan nie met sekerheid sê wie hierdie skare in die hemel is nie, maar hierdie eerste halleluja in v.1 prys God vir die verwoesting van Jerusalem en dan spesifiek omdat God se oordele regverdig en reg is (v.2). Ons het al gesien hoe Jerusalem, ...die nasies van die dwelmdrank van haar onsedelikheid laat drink het (Openb.14:8) en hoe Jerusalem die gelowiges vervolg en gedood het (Openb.6:10) en o.a. op grond hiervan juig die menigtes in die hemel en hierdie hallelujas word uitgesing in ooreenstemming met bv. Openb.18:20 ~ Verheug jou daaroor, hemel, en julle, gelowiges, apostels en profete! God het die oordeel waarmee sy julle getref het, oor haar voltrek. Hierdie menigte, het ’n persoonlike verhouding met God en ons sien dit in v.1b waar hulle sê ~ ...die mag behoort aan ONS God. Nou loof en prys hulle, húlle God omdat Hy Jerusalem laat val het. Let op, dit is nie die Palestyne, of Irakiërs (of wie ook al) wat God loof en prys nie – dit is Sy eie kinders.

       Die tweede "halleluja" kom ook van dieselfde groep van wie die eerste halleluja gekom het en hulle eer God omdat Jerusalem nie meer sal bestaan nie. Hierdie gebeure herinner sterk aan Jesaja se profesie teen Edom in Jes.34:10 ~ Dit sal bly brand, dag en nag; die rook sal aanhou opstyg. Geslagte lank sal die land in puin lê; tot in die verre toekoms sal niemand ooit weer daar rondtrek nie. Ons kan moontlik ook hierin, ’n metaforiese verwysing na Gen.19:27-28 sien, waar die verwoesting van Sodom en Gomorra weergegee word.

       Edom het weliswaar weer as volk opgestaan nadat Jesaja se profesie vervul is, maar hulle het nooit weer in al hul glorie herrys nie. Op dieselfde wyse is die verwysing na Jerusalem se rook wat opstyg tot in alle ewigheid, nie ’n letterlike, of fisiese oordeel nie – dit gaan meer oor haar geestelike oordeel. Op ’n stadium was Jerusalem, menslik gesproke,  God se stad – Sy woonplek. Jerusalem sal egter nooit weer herstel word tot haar volle glorie nie. Dit beteken natuurlik nie dat die Jode in Jerusalem nooit gered kan word nie. Trouens, op grond van Rom.9-11 glo ek dat daar ’n tyd sal kom dat daar groot hoeveelhede Jode onder die geklank van die Evangelie gered sal word, maar Jerusalem as stad sal nooit weer die "uitverkore geestelike stad" wees wat sy op ’n tyd was nie, want haar rook styg op tot in alle ewigheid.

       Die fokus verskuif nou na die derde "halleluja" in v.4 wat deur die vier en twintig ouderlinge en die vier lewende wesens uitgeroep word. Hierdie is die laaste keer dat ons met hulle in Openbaring te doen sal kry. Hulle "halleluja" word voorafgegaan met die woord "Amen" wat "mag dit so wees", of ’n betuiging van instemming, beteken. Dit mag dalk nie "goed op die oor val" om te hoor dat God se kinders "amen" uitroep op Sy oordele en vernietiging van ’n stad en sy inwoners nie, maar dit is presies wat gebeur het – al vier-en-twintig ouderlinge in die hemel het saamgestem toe hulle ’n "amen" en ’n "halleluja" uitgeroep het op God se oordele. Terwyl die wêreld nie God se oordele oor Jerusalem dalk verstaan nie, het die ouderlinge in die hemel en die ander hemelwesens, dit beslis verstaan en saam met God daaroor gestem.

       Die vierde "halleluja" som die lofprysing van God se kinders oor Sy oordele pragtig op. Ons kan weereens nie met sekerheid sê wie se stem van die troon gehoor word nie (v.5). Ek glo dat dit ’n berekende besluit sal wees wanneer ons sê dat dit Jesus Christus se stem is wat van die troon gehoor word en dat Hy Sy broers oproep om saam met Hom, God te verheerlik ~ Hy wat heilig maak, sowel as die mense wat geheilig word, is almal uit een Vader. Om hierdie rede is Jesus nie skaam om hulle sy broers te noem nie. 12Hy sê tog: “Ek sal u Naam aan my broers bekend maak, in die samekoms van die gemeente sal Ek u lof besing” (Hebr.2:11-12). Hierdie is natuurlik ook ’n ego van Ps.22:23 (O.A.V.) ~ Ek wil u Naam aan my broers vertel, in die vergadering U prys. Ons is Jesus se broers en Hy is ons "Oudste Broer".

       Jesus wie se hartstog altyd is om God te verheerlik, roep Sy broers op om saam met Hom, God te verheerlik oor Sy geregtigheid. Toe Jerusalem verwoes is, het Christus Sy Koningskap volkome opgeneem en sal Hy bly regeer tot die einde toe wanneer Hy die Koninkryk weer aan Sy Vader sal oorhandig (1Kor.15:24-28). Christus eer Sy Vader omdat Hy nou die nuwe verbond ten volle geïmplementeer het en die Kerk ontvang opdrag om hulle by die kore van die hemel te voeg en God te verheerlik omdat hulle die Bruid van Christus geword het. Daar was oorgenoeg rede vir die Kerk om God te verheerlik oor Jerusalem se val, want die val van Jerusalem het die weg gebaan vir die nuwe verbond en die gelowiges wat deel daarvan uitmaak.  

4.      DIE NUWE VERBOND GESLUIT:
·           Openb.19:6 ~ Ek het toe iets gehoor soos die geluid van ’n groot menigte, soos die gedruis van ’n groot watermassa en soos die gedreun van swaar donderweer. Hulle het uitgeroep: “Prys die Here! Die Here ons God, die Almagtige, heers nou as koning. Ons sien dan hier in v.6 hoe dat Jesus se broers reageer op Sy oproep tot lofprysing. Die verwysing na ’n groot watermassa en die gedreun van swaar donderweer, is ’n aanduiding dat daar ’n verbond gesluit is – die nuwe verbond. Ons sien soortgelyke gebeure met die sluiting van die ou verbond aan die voet van die Berg Sinaï in Eks.19.

       In kort dan, was die verwoesting van Jerusalem ’n gebeurtenis waardeur Jesus bewys het dat Hy regeer en waartydens Hy die nuwe verbond volkome ingestel het – dit was ’n gebeurtenis wat aangedui het, dat die huwelik tussen Hom en Sy bruid binnekort sou plaasvind.

5.      DIE HUWELIK:
Tot nou het die Kerk, God geloof en geprys vir die huwelik wat op hande is. Indien ons iets van hierdie huwelik wil verstaan, moet ons iets van die Joodse huwelike beter verstaan. Die heel eerste ding wat plaasgevind het, is die verlowing. ’n Verlowing in daardie tye was iets baie meer bindend en gewigtig as in ons dae. Indien iemand ’n verlowing wou verbreek, moes die verbreking ’n regsroete gevolg het – daar was dus bepaalde kontraktuele sake wat uitgesorteer moes word en so ’n verbreking van ’n verlowing was in dieselfde ernstige lig beskou as ’n egskeiding.

’n Verlowing het gewoonlik nagenoeg een jaar geduur. Gedurende hierdie tyd sou die bruidegom ’n huis bou en/of inrig vir sy toekomstige bruid. Wanneer dit afgehandel is, sou hy na sy bruid gaan en andere wat saam met hom gaan (gewoonlik jong manne), sal uitroep: "Die bruidegom is op pad!", waarna sy by die groep aangesluit het vir die voltrekking van die huwelik (gewoonlik vind dit in die huis plaas waar sy op daardie oomblik bly – gewoonlik haar ouers se huis). Hierna vertrek die prosessie na die bruidegom se huis waar die huweliksonthaal plaasvind en so ’n onthaal het tot ’n week lank geduur. Tydens hierdie fees voorsien die bruidegom en sy ouers gewoonlik al die eetgoed, asook die wyn (dink aan Jesus se eerste wonderwerk in Kana toe Hy water in wyn verander het – Joh.2:1-12).

·           Openb.19:7-8 ~ Laat ons bly wees en juig en aan Hom die eer gee, want die bruilof van die Lam het aangebreek, en sy bruid het haar daarvoor gereed gemaak. 8God het haar dit vergun om fyn, helder blink klere aan te trek.” Hierdie fyn klere is die regverdige dade van die gelowiges. Met die verwoesting van die tempel en Jerusalem het die huweliksvoltrekking tussen  Christus en die nuwe verbondskerk plaasgevind. Wat dus  volg, is die huweliksonthaal van die Lam van God. En dit was iets om oor fees te vier en jou in te verheug! Hierdie verse verwys na die tydperk tussen Pinksterdag en 70 n.C. Deurgaans gedurende hierdie tydperk het die apostels die kerk voorberei vir haar huwelik met Christus. Die apostel Paulus stel dit pragtig in 2Kor.11:1-2 ~ Nou wil ek hê julle moet ’n bietjie dwaasheid van my kant verdra! Ja, verdra my maar! 2Ek waak oor julle met ’n ywer wat van God kom, want julle is soos ’n jongmeisie wat ek aan een man toegesê het as sy bruid en wat ek vlekkeloos na hom toe wil bring. Die man is Christus. En in Ef.5:25-27 sê hy ~ Mans, julle moet julle vrouens liefhê soos Christus die kerk liefgehad en sy lewe daarvoor afgelê het. 26Dit het Hy gedoen om die kerk aan God te wy, nadat Hy dit met die water en die woord gereinig het, 27sodat Hy die kerk in volle heerlikheid by Hom kan neem, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks, heilig en onberispelik. Paulus se begeerte is om die kerk in Korinte voor te berei ten einde ’n vlekkelose maagd te wees wat gereed is om in die huwelik te tree met Christus. Hy wou hê dat die Korintiërs hulle met ganse hart toewy aan Christus die Bruidegom, sodat hulle deel kon wees van die suiwer Bruid.

       Ons moet ingedagte hou dat die kerk tussen Pinkster en 70 n.C. onder geweldige vervolging en verguising (beledigings) onder die hande van eers die Jode en later ook die Romeine, gebuk gegaan het en dit was nie vir hulle maklik om vlekkeloos te gebly het tot en met die huweliksvoltrekking nie. In die lig hiervan wou Paulus nie hê dat die kerk (die bruid) haarself bevlek deur gedurende hierdie "verlowingstydperk", haarself te ontreinig, of selfs af te skei van die Bruidegom nie. Die kerk het haarself dus gedurende hierdie tydperk, deeglik voorberei vir die huweliksvoltrekking en Paulus en die ander apostels het hulle (die kerk) aangemoedig en gelei om vlekkeloos te bly. Die ware kerk het dan uiteindelik vlekkeloos deur die vervolgingstydperk (of sal ons sê stormagtige verlowingstydperk) gekom en was sy geklee
in fyn, helder blink klere (fyn linne – O.A.V.) en gereed om in die huwelik te tree met die Bruidegom.

       Die blink klere dui op die geregtigheid van Christus, trouens v.8b sê dit ook ondubbelsinnig vir ons. Die betekenis hiervan is dat ons (wat deel is van die kerk – die bruid) regverdig verklaar is deur Christus – ons kan en het dit nie verdien nie, v.8a sê dat dit ons vergun is om hierdie blink klere aan te trek – ons kan amper sê dat, soos ’n bruid deur iemand anders aangetrek word (wanneer sy haar trourok aantrek), net so het ons geen aandeel in die "aantrek" van ons huweliksrok gehad nie, maar is dit vir ons aangetrek. Die bruid was gereed vir die huwelik op grond van die toegerekende geregtigheid van Christus.

       Hierdie beeld van die bruid met haar fyn, helder blink klere staan in skrille kontras met die beeld wat in Openb.17 en 19 geskilder word van die ontugtige- of sedelose vrou.

6.      DIE GASTE:
·           Openb.19:9 ~ Toe sê die engel vir my: “Skryf op: Geseënd is hulle wat na die bruilofsmaal van die Lam uitgenooi is.” Verder sê hy vir my: “Dit is die woorde van God, en hulle is waar.” Johannes is steeds in die teenwoordigheid van dieselfde engel (dié een met die sewe bakke) wat na hom gekom het in Openb.17:1 en hierdie engel praat weer met hom. Hierdie uitspraak van die engel wat Johannes moes neerskryf, was die vierde van die sewe saligsprekinge in Openbaring (die ander: 1:3; 14:13; 16:15; 20:6; 20:7; 22:14). Hier word die kerk as geseënd, of salig gereken, want sy tree nou in ’n ewige verbondverhouding met die Bruidegom, Jesus Christus. Hierdie huwelik sal en kan nooit verbreek word nie en ons het die absolute sekerheid daarvan, omdat God dit gesê het en Sy woorde is waar (v.9b).

       Dit is nogal hartseer dat die huwelik tussen die Nuwe Testamentiese kerk en Christus plaasgevind het, omdat die "kerk" onder die ou verbond (die volk Israel), haar verbond, eensydig met God verbreek het. Jesus het hierdie feit in een van Sy gelykenisse geskilder ~ Jesus het weer in gelykenisse met die mense gepraat. 2Hy het gesê: “Met die koninkryk van die hemel gaan dit soos met ’n koning wat vir sy seun ’n bruilofsfees voorberei het. 3Hy het sy slawe uitgestuur om die genooides na die bruilof te roep, maar hulle wou nie kom nie. 4Toe stuur hy weer ander slawe met die opdrag: ‘Sê vir die genooides: Die maaltyd is reg; my beeste en vetgemaakte vee is geslag, en alles is gereed. Kom na die bruilof toe.’ 5“Maar die genooides het hulle nie daaraan gesteur nie, en die een het na sy stuk grond en ’n ander een na sy werkplek toe gegaan. 6En party het sy slawe gegryp en mishandel en doodgemaak. 7Die koning het kwaad geword en sy leër gestuur om daardie moordenaars dood te maak en hulle stad aan die brand te steek. 8“Toe sê hy vir sy slawe: ‘Alles staan klaar vir die bruilofsfees, maar die genooides was dit nie werd nie. 9Gaan nou uit na die straathoeke en nooi soveel mense as wat julle teenkom, na die bruilofsfees toe.’10Toe het daardie slawe uitgegaan op die strate en almal wat hulle gekry het, bymekaargemaak, slegtes sowel as goeies. So het die feessaal vol gaste geword (Matt.22:1-10).

       Die Vader het ’n huwelik tussen Sy Seun en Israel gereël. Hy het boodskappers na Israel gestuur (profete, apostels, ens.) om hulle op te roep tot hierdie huwelik, maar hulle was nie geïnteresseerd nie. Hulle het die boodskappers gehoon, afgejak, vervolg en selfs gedood. Die Vader woes woedend hieroor. Hy het Sy weermag (die Here van die leërskare – bv. 1Sam.1:11) gestuur om Israel te vernietig. Die vreugdevolle huwelik sou egter voortgaan – die verskil: andere sal nou betrokke wees in die huwelik met Christus..

       Jesus het hierdie voorval ook vooruit gesien en daaroor gepraat in Matt:8:11-12 ~ Ek sê vir julle: Baie sal van die ooste en die weste af kom en saam met Abraham, Isak en Jakob aan tafel gaan in die koninkryk van die hemel. 12Maar mense vir wie die koninkryk bedoel is, sal in die diepste duisternis daarbuite gegooi word, waar hulle sal huil en op hulle tande sal kners.” Jesus het self gesê dat daar ’n tyd gaan kom dat Israel as verbondsvolk, deur God verwerp sal word; en dan sal ’n nuwe bruid – die kerk van Jesus Christus, omhels word deur die Seun.

       Die bruilofsmaal is egter ’n maaltyd wat in 70 n.C. begin het en steeds voortduur tot vandag toe. Ons ervaar hierdie maal ook tasbaar en sigbaar, elke keer wanneer ons deel het aan die Nagmaal.

       Toe Jesus saam met Sy dissipels die eerste Nagmaal geniet het, het Hy gesê ~ Ek sê vir julle: Van nou af sal Ek nie weer van hierdie wyn drink nie tot op die dag wanneer Ek saam met julle die nuwe wyn in die koninkryk van my Vader sal drink (Matt.26:29). Jesus het Sy Koninkryk betree met Sy hemelvaart (Dan.7:13-14). Tussen die aand van die instelling van die Nagmaal en die hemelvaart, het Hy nie weer saam met Sy dissipels, deelgeneem aan die Nagmaal nie.

       Die Nagmaal hou veel meer betekenis in as wat baie gelowiges besef – Jesus ontmoet ons elke keer wanneer ons om die Nagmaalstafel vergader! En dit sal elke keer die geval wees, totdat Hy sigbaar terugkeer na die aarde ~ ... en, nadat Hy God daarvoor gedank het, het Hy dit gebreek en gesê: “Dit is my liggaam; dit is vir júlle, en wat daarop volg en dan gaan Hy voort en sê in v.26 ...Elke keer as julle van hierdie brood eet en uit die beker drink, verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom (1Kor.11:24-26).

7.      AANBID GOD ALLEEN:
·           Openb.19:10 ~ Toe het ek voor sy voete op my knieë neergeval om hom te aanbid. “Pas op, moenie!” sê hy toe vir my. “Ek is ’n mededienaar van jou en van jou medegelowiges wat aan die getuienis vashou wat Jesus gelewer het. Aanbid God, want dit is Jesus wat die getuienis gelewer het, en dit is die Gees wat die profesie gegee het.” Met die gesig van die bruid in haar fyn, helder blink klere, val Johannes op sy knieë voor die engel in ’n poging om die engel te aanbid! Dit word egter nie toegelaat nie en Johannes se aandag word op God gevestig, deurdat die engel vir hom sê dat hy God alleen moet aanbid, want hy as engel is niks meer as ’n blote boodskapper van God, wat gestuur is om Johannes te begelei deur hierdie visioen wat Johannes ontvang.

       Die engel voeg egter iets belangriks by wanneer hy aan Johannes sê ~ Ek is ’n mededienaar van jou en van jou medegelowiges wat aan die getuienis vashou wat Jesus gelewer het. Wat hy vir Johannes sê, is dat die doel met profesie is, om getuienis te lewer t.o.v. Jesus Christus. Hierdie is ’n uiters belangrike opmerking, want hierdeur word dit vir ons baie duidelik en ondubbelsinnig verklaar dat Openbaring nie primêr vir ons (of vir die eerste lesers) gegee is ten einde ’n kykie in die toekoms te kry en daaroor te bespiegel nie. Dit is primêr vir ons gegee ten einde ons fokus op Jesus Christus te plaas; om ons aandag te vestig op die Lam wat in die huwelik getree het met Sy bruid, die Nuwe Testamentiese kerk. Dit is die verhaal van die Bybel: die verhaal van die "vrou se nageslag wat die slang se kop sou vermorsel" (Gen3:15). Die Bybel gaan oor Christus wat die Koninkryk van God vestig en dit is waarop alle profesieë dui in die Woord – dieselfde geld vir Openbaring. Die kop van die slang is reeds op Golgota vermorsel én die Nuwe Testamentiese kerk gaan daagliks voort om die saad van die slang te vermorsel. Wanneer ons, soos die eerste eeu se kerk, deur moeilike omstandighede gaan, moet ons na Openbaring kyk en die heerlikheid van Jesus Christus raaksien en in herinnering roep.

       Ons hoop moet nie op ’n "wegraping", of ’n "herstelde Israel", ens. gevestig wees nie, maar op Jesus Christus en Jesus Christus alleen. Ons hoop lê daarin dat Jesus ons sonde op Golgota weggeneem het en die feit dat Hy dit bevestig het met Sy opstanding uit die dood. Ons hoop is daarop gevestig, dat Jesus aan die regterhand van God se troon sit en oor al die gesag in die hemel en op die aarde beskik (Openb.12:10).

       Ons geniet die Bruilofsmaal van die Lam, want God het die sedelose vrou van die ou verbond vernietig en ons deur Christus se geregtigheid by die nuwe verbond ingesluit. Mag ons groei in ons waardering van die nuwe verbond; in ons waardering en liefde vir die Bruid van Christus (die kerk) en die mees belangrike, in ons toewyding aan ons Bruidegom, die Lam van God, die Here Jesus Christus!

       Geliefdes, ons sê dus vir mekaar, dat die Bruilofsmaal reeds plaasgevind het en in ons geval, reeds met ons wedergeboorte en dit sal voortduur tot in ewigheid en daarom kan ons, ons verbly in Christus Jesus en ‘n vaste sekuriteit van ons oorwinning en ewige bestemming hê.



[1] Boodskap gebring deur Kobus van der Walt te Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente. Vereeniging – 15 September 2013