Die Doring in My Vlees - 01
1.
INLEIDING:
Hier
is nie een van ons wat vandag hier sit, wat nie wens dat hy/sy verlos kan raak
van bepaalde slegte ervaringe en/of sonde
uit sy/haar verlede nie – synde dit ’n slegte gebeurtenis of
gebeurtenisse is, of ’n verkeerde optrede of besluit, of bepaalde gru sonde. Ek
praat van gebeurtenisse en/of sonde wat jou na jare nog steeds bloots ry; nog
steeds laat wakker lê; wat steeds jou daaglikse gang beïnvloed; wat selfs jou
persoonlikheid beïnvloed; iets waaroor jy jou hare uit jou kop wil trek; of wat
jy maar net nie afgeskud kan kry nie.
Baie
van ons het waarskynlik al gevra of ons as gelowiges nie veronderstel is om dít
wat in die verlede gebeur het, agter te laat en vooruit te kyk nie? Is dit nie
sonde om in die verlede te grawe nie? Die meeste van ons ken die uitdrukking
dat wanneer ons eers met die kruis van Christus gekonfronteer is en ons vergifnis
vir ons sonde ontvang het, ons ’n bordjie met die woorde, “no fishing allowed”
by daardie donker poel(e) van ons verlede moet inkap. Die realiteit is egter
dat die meeste van ons tog maar weer en weer “lyne gaan natmaak by daardie
donker poele van die verlede”. Die vraag is: Hoe moet ons dit hanteer? Kan ons
dit hanteer? Is daar bevryding en verlossing vir ons van hierdie "donker
poele" uit die verlede?
Die
Woord van God verskaf wel aan ons antwoorde op hierdie vrae en gee ook vir ons
raad oor hoe ons, ons verlede op sy plek kan sit.
2.
VOORBEELDE
UIT DIE SKRIF:
Kom ons kyk eerstens of
ons as gelowiges wel in ons verlede mag “grawe” en daarvoor wil ek hê dat ons
na ’n paar mense in die Bybels sal gaan kyk en sien hoe hulle opgetree het.
·
Paulus: Kom ons begin met Paulus en daarvoor
wil ek hê dat ons saam moet blaai na 2 Kor.12:1-10 ~ Om te roem, het wel geen sin nie, maar terwyl dit dan
nou moet, kom ek by gesigte en openbarings wat die Here gegee het. 2 Ek
ken ’n man wat aan Christus behoort. Veertien jaar gelede is hy weggeruk tot in
die derde hemel. Of dit met die liggaam was of sonder die liggaam, weet ek nie,
net God weet dit. 3-4 Ek weet ook dat hierdie man weggeruk is na
die paradys toe. Of dit met die liggaam was of sonder die liggaam, weet ek nie,
net God weet dit. Daar het hy woorde gehoor wat ’n mens nie kan of mag
uitspreek nie. 5 Oor hierdie man sal ek roem, maar nie oor myself
nie, behalwe oor my swakhede. 6 Al sou ek wil roem, sal ek tog nie
dwaas wees nie, omdat ek die waarheid sal praat. Maar ek weerhou my daarvan
omdat ek nie wil hê dat iemand aan my meer moet toeskryf as wat hy my sien doen
of my hoor sê nie, 7 selfs nie vanweë die verhewenheid van die
openbarings nie. Daarom, sodat ek nie hoogmoedig sou wees nie, is daar vir my
’n doring in die vlees gegee, ’n boodskapper van Satan om my met vuiste te
slaan. 8 Drie maal het ek die Here gebid dat dit van my af
weggeneem moet word. 9 Sy antwoord was: “My genade is vir jou
genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” Daarom sal ek
baie liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan
wees. 10 Daarom is ek bly oor swakhede, beledigings, ontberings,
vervolging en moeilikhede ter wille van Christus, want as ek swak is, is ek
sterk.
As ons na hierdie
gedeelte uit 2 Kor.12 kyk, sien ons dat Paulus praat van “’n doring in sy
vlees” – iets (of dalk iemand?) uit sy verlede wat groot pyn en lyding
by hom tot gevolg gehad het en hy praat nie net eenkeer hieroor nie – hy verwys
dikwels daarna. Paulus dink dus gereeld aan sy verlede. Wat hierdie “doring”
ook al mag wees – Paulus het geglo dat God hierdie “doring” in sy lewe
toegelaat het, ten einde geestelike groei by hom te laat plaasvind en dat dit
tot voordeel en bevordering van sy bediening kon wees. Paulus sê in v.7, dat
hierdie “doring” hom nederig hou. Hierdie “doring” het Paulus geestelik sterker
en toenemend Christusgesentreerd gemaak.
Een van die redes waarom
hy nooit vir sy lesers sê wat hierdie “doring” presies is nie, is waarskynlik omdat
hy nie die fokus op die satan wil plaas nie en daarom noem hy dit net so in die
verbygaan. Paulus het geleer dat sy fokus en sy vreugde eerder op Christus
gevestig moet wees
·
Naomi:
Naomi waarvan ons in Rut 1 lees, is nog ’n voorbeeld waarna ons kan kyk.
Ons sien in Rut 1:1-6, dat ...~ ...daar
op ’n keer hongersnood in die land (was), en ’n man met sy vrou en sy twee
seuns het uit Betlehem in Juda weggetrek om ’n heenkome te soek in die gebied
van Moab. 2 Die man was Elimelek, sy vrou Naomi, en sy twee seuns
Maglon en Kiljon. Hulle was afkomstig uit Efrata in Betlehem in Juda. Hulle het
in Moab aangekom en hulle daar gevestig. 3 Toe Naomi se man,
Elimelek, sterf, het sy en haar twee seuns alleen agtergebly. 4 Die
twee seuns het later getrou met die Moabitiese meisies Orpa en Rut. Naomi en
haar seuns het omtrent tien jaar in Moab gebly. 5 Toe haar twee
seuns Maglon en Kiljon ook sterf, het sy alleen agtergebly sonder haar seuns en
sonder haar man. 6 Toe sy verneem dat die Here vir sy volk uitkoms
gebring het deur vir hulle ’n goeie oes te gee, het sy en haar skoondogters
klaargemaak om van Moab af terug te gaan. U ken die verhaal, nl. dat Naomi terug is na Bethlehem in Juda en dat Orpa
na ’n ruk omgedraai het, maar dat Rut getrou gesweer het aan haar skoonma en
saam is na Bethlehem. Toe Naomi in haar tuisdorp aankom, het van die vroue haar
herken en sê toe in v.19 ~ “Maar dis mos Naomi!”, waarop Naomi toe hierdie volgende woorde in v.20-21 sê ~ Moet
my asseblief nie meer Naomi noem nie, noem my Mara, want die Almagtige het die
lewe vir my baie bitter gemaak. 21 My lewe was vol toe ek hier weg
is, maar die Here het my leeg laat terugkom. Waarom noem julle my nog Naomi?
Die Here het dan teen my gedraai, die Almagtige het ’n ramp oor my gebring.” Naomi verwys na haar verlede – haar
omstandighede was buite haar beheer – sy was nie die oorsaak van haar situasie nie,
maar anders as Paulus verwyt sy God vir haar omstandighede.
·
Saggeus: Nog
iemand na wie ons kan kyk is Saggeus – Saggeus, daardie klein, ryk mannetjie
wat in die boom geklim het om Jesus te sien en by wie Jesus toe oorgebly
het. Nadat Jesus by Saggeus aan huis
gekom het, sê Saggeus vir Jesus in v.8 van Luk.19 ~ Here, ek gaan die helfte van my goed vir die armes gee, en waar ek iets
van iemand afgepers het, gee ek dit vierdubbel terug. Ons sien dus
hier, dat Saggeus na sy verlede verwys en erken dat hy verkeerd opgetree en
gesondig het en hy sê aan Jesus dat hy sy verkeerde optrede gaan regstel.
Saggeus het dus verstaan dat hy onafgehandelde sonde gehad het wat hy moes bely
en wat hy moes regstel. Jesus se reaksie hierop was dat Hy in Luk.19:9-10 vir
Saggeus gesê het ~ Vandag
het daar redding vir hierdie huis gekom; ook hierdie man is ’n kind van
Abraham. 10 Die Seun van die mens het immers gekom om te soek en
te red wat verlore is.
Natuurlik het Saggeus
nie verlossing ontvang, omdat Hy sy verkeerde optrede teenoor mense reggestel het nie,
want indien dit die geval sou wees, sou dit nie in lyn wees met, wat die res van
die Skrif sê t.o.v. sonde en vergifnis en redding nie – bv. Ef.2:8-9 ~ Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof.
Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ’n gawe van God. 9 Dit
kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op
homself trots te wees nie.
Saggeus was opreg en het opreg berou gehad oor Sy sonde en hy het besef dat hy
sy verkeerde optrede van die verlede, reg moet stel.
·
Jona: Ons ken almal die verhaal van Jona.
’n Profeet wat deur God na Nineve gestuur is en Jona se probleem begin sommer heel
aan die begin van die boek Jona, want Jona wil nie hulle aartsvyande reg help
ten einde by God uit te kom nie. God sê vir Jona in Jona 1:2 ~ Maak klaar, gaan na die groot stad Nineve toe en
spreek hom aan, want Ek weet hoe sleg hy is.” Hoor egter wat doen Jona toe (v.3) ~ Maar Jona het klaargemaak om na Tarsis toe te vlug, weg van die Here af.
Jona is af Joppe toe, en daar het hy ’n skip gekry wat op vertrek was Tarsis
toe. Hy het vir die reis betaal en aan boord gegaan om saam met die bemanning
Tarsis toe te gaan, weg van die Here af (Jona 1:2-3). Jona ontvang ’n opdrag van God en hy
begin God se opdrag uitvoer deur na die hawe te gaan en op ’n skip te klim,
maar asof hy dink dat God nie kan sien wat hy doen nie, klim hy op ’n skip wat
in ’n gans ander rigting vaar (is dit nie ’n weerspieëling van wat
ons ook maar só dikwels doen nie?) –
Jona sondig deur nie aan God gehoorsaam te wees nie. Dit eindig egter nie daar
nie. God gee hom weer ’n kans, want ’n groot vis sluk hom in en spoeg hom op
die strand uit, waarop Jona toe tog na Nineve gaan en teen die stad preek. In
Jona 4 sien ons dat die koning en die inwoners van Nineve hulle bekeer en weer
is Jona kwaad vir God, want hoe durf God barmhartig wees teenoor ’n heidense
volk – Israel is tog immers die enigste volk van God (Jona
het skoon vergeet dat Israel nog altyd ’n seën vir ander volke moes wees –
Gen.12:3; 28:14)! Terwyl
Jona buite die stad sit om te kyk wat met die stad gaan gebeur, laat God ’n
komkommerplant by Jona groei wat skadu aan hom gee, maar terwyl Jona slaap,
vrek die plant en toe Jona wakker word en hy sien wat met die plant gebeur het,
sondig hy weer en is hy weer kwaad. Elke keer dat hy kwaad word, vra God vir
hom ~ Het jy rede om kwaad te
word...?
In hierdie verhaal van
Jona sien ons dat sy een sonde net weer lei tot ’n volgende sonde, sonder dat
hy hom bekeer.
Jy mag dalk nou sê dat
hierdie vier verhale van Paulus, Naomi, Saggeus en Jona, so uiteenlopend van
aard is en jy is reg as jy dit sê en ons gaan dit juis vorentoe in hierdie
reeks aanspreek. Die vraag wat ons egter aanvanklik gevra het, nl. of dit
Bybels is om na ons verlede te verwys en daaroor te dink, glo ek is met hierdie
vier voorbeelde beantwoord, want nie net het Paulus byvoorbeeld gereeld na sy
verlede verwys nie, maar ook die Bybel doen dit gereeld.
Ons het dan tot nou toe
gesien dat die verlede, wat gebeure; keuses; optredes; ens. kan insluit,
verskillend deur verskillende mense hanteer kan word. So het Paulus bv., elke
keer dat hy aan die “doring in sy vlees” gedink het, opnuut weer onder die
besef van God se genade vir hom gekom. Naomi weer, se hart was gevul met
bitterheid a.g.v. wan opvattings t.o.v. God oor gebeurtenisse wat in die
verlede met haar gebeur het. Saggeus weer het besef dat sy nuut gevonde geloof
en wedergeboorte, geïmpliseer het dat hy dit wat hy verkeerd gedoen het in die
verlede, reg moes stel. Jona het weer die een verkeerde besluit op die ander
geneem in sy reaksie op God se goedheid en genade.
3. JOU VERLEDE – JOU GROOTSTE VYAND:
Die probleem met ons
verlede en ons reaksie daarop, is dat ons verlede ons grootste vyand kan word
en alles hang af van ons reaksie op ons verkeerde keuses, ons sonde, of wat ons
optrede ook al in die verlede was. As ons nie die negatiewe en verkeerde dinge
van ons verlede (wat ook al in die verlede met elkeen van ons
individueel gebeur het)
reg hanteer nie, kan dit ’n dramatiese effek op ons huidige en toekomstige
geestelike groei in Jesus Christus hê en wel op een of meer van die volgende
ses vlakke:
·
Onbeantwoorde
Vrae uit my verlede: As
jy terug dink aan jou verlede, kan jy waarskynlik aan só baie dinge dink wat jy
dalk anders sou hanteer het as jy oor die kennis beskik het waaroor jy nou
beskik – jy sou dalk ander keuses uitgeoefen het; of dalk nie gesondig het soos
jy gesondig het nie, ens. Waarom het ek dit of dat gedoen? Hoe moes ek sus of
so hanteer het? Kon ek dalk anders opgetree het, of ander besluite geneem het?
As ek maar net.... Of, as ek maar net nie.... Wat pla jou die meeste uit die
verlede? Waarom staan hierdie gebeure so uit in my gemoed? As ons gaan stil sit
en dink oor ons verlede en al die vrae wat by ons opkom, kan dit ’n lang lys
raak as ons dit begin neerskryf.
Daar
is baie voorbeelde uit die Skrif wat aan ons toon dat ons maar vrae kan vra aan
God – dat ons maar ons pyn uit die verlede met Hom kan deel. Habakuk was so ’n
man. Habakuk vra o.a. in Hab.1:2-4 ~ Hoe
lank moet ek om hulp roep voordat U hoor, Here, moet ek by U bly kla oor
geweld voordat U red? 3Waarom laat u my die onreg sien wat gedoen
word, waarom kyk U toe as daar soveel ellende is?... Dink maar net aan van die Psalms
wat niks anders is as klaagliedere nie, trouens omtrent ’n derde van die Psalms
is sulke klaagliedere. Ons mag maar openhartig teenoor God wees, want Hy is tog
ons Vader, is Hy nie?
Natuurlik
moet ons vrae – ons klaagliedere, steeds spreek van eerbied en ontsag vir God
en wanneer ons vra en wanneer ons kla, moet ons altyd Jesus se woorde in
Joh.16:33 in herinnering roep ~ ... hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin!
Die
vraag wat ek jou vandag wil vra, is of jy al hierdie vrae vir God gevra het?
Het jy al regtig gaan stil sit en met Hom hieroor gepraat? Jesus het tog self
in Joh.7:37 gesê ~ As
iemand dors het, laat hy na My toe kom en drink! 38Met die een wat
in My glo, is dit soos die Skrif sê: Strome lewende water sal uit sy binneste
vloei. In Matt.5:6
het Jesus ook gesê ~ Geseënd
is dié wat honger en dors na wat reg is, want hulle sal versadig word. Jesus nooi ons om met Hom oor
hierdie vrae te praat, want dit is tog juis vrae wat ons vra omdat ons die
waarheid najaag en geregtigheid in en deur ons lewe wil sien geskied. Te veel
mense dink dat dit verkeerd is om met God te praat en vrae aan Hom te stel,
maar wanneer ons op die regte wyse en met suiwer motiewe, vrae aan Hom stel, is
dit ’n ander manier om eer aan Hom te bring, want daardeur erken jy Hom as jou
Vader wat jou kan help en lei en vergewe – daardeur toon jy dat jy ’n begeerte
het daarna om geestelik te groei en meer en meer aan Jesus gelykvormig te wil
word.
Dit
beteken natuurlik nie dat God ons op ’n hoorbare wyse sal antwoord nie, want ~ Sy Goddelike krag het ons alles geskenk wat ons nodig
het om te lewe en Hom te dien. Dit kom deurdat ons Hom ken wat ons geroep het
deur sy heerlikheid en mag
(2Pet.1:3)
en ...die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die
waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ’n regte
lewenswyse te kweek, 17sodat die man wat in diens van God staan,
volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk (2Tim.3:16-17)
en laastens, ... Julle is egter deur die Heilige Gees gesalf, en
julle ken almal die waarheid. 21Ek skrywe nie vir julle omdat julle
nie die waarheid sou ken nie, maar juis omdat julle dit ken en weet dat daar
geen leuen uit die waarheid voortkom nie...
... 27Wat júlle egter betref, die Gees waarmee Hy julle
gesalf het, bly in julle, en julle het niemand anders nodig om julle te leer
nie. Sy Gees leer julle alles, en wat Hy julle leer, is die waarheid en geen
leuen nie. Ja, soos Hy julle geleer het, moet julle in die Seun bly (1Joh.2:20-21, 27).
·
Onafgehandelde
Pyn uit my verlede: Daar
is nie een van ons wat nie al een of ander vorm van pyn in hierdie lewe ervaar
het nie. Net soos wat dit die geval was met vrae uit my verlede, kan ek ook
maar my pyn en lyding teenoor Jesus erken. Daar word te veel en te maklik
voorgegee dat ons nie pyn ervaar nie. Daar word gesê dat manne nie huil nie.
Dit is tog nie hoe dit in die Kerk moet wees nie. Jesus het self pyn ervaar –
ja weliswaar nie oor Sy verlede nie, maar Hy het ook gehuil – dink aan
Joh.11:33-34 ~ Toe
Jesus sien dat Maria huil en dat die Jode wat saam met haar gekom het, ook
huil, het sy gemoed vol geskiet en was Hy aangedaan. 34Hy vra toe:
“Waar het julle hom begrawe?” Hulle het vir Hom gesê: “Here, kom kyk” en dan v.35 ~ Jesus het gehuil. Jesus staan ook bekend as "die Man van Smarte." (ondermeer n.a.v.
Jes.63:9).
Job het gesê ~ My vriende het my bespotters geword,
daarom pleit ek met trane by God (Job 16:20).
Ons moet pyn uit ons
verlede hanteer anders kan dit kragtige negatiewe effekte op my persoon en
geestelike lewe hê.
·
Onopgeloste
Probleme uit my verlede: Onopgeloste
probleme wat nie uitgestryk word nie kan ons grootste vyand word. Een so ’n
gevolg kan bitterheid wees, of ek begin die leuen van die satan glo dat ek nie wedergebore
is nie. Hebr.12:14-15 sê nie verniet ~ Beywer julle vir vrede met alle mense asook vir ’n heilige lewe, waarsonder
niemand die Here sal sien nie. 15Sorg dat niemand van die genade
van God afvallig word nie. Sorg dat daar nie verbittering soos ’n wortel
uitspruit, moeilikheid veroorsaak en baie besmet nie. Bitterheid is soos ’n witstinkhoutboompie
wat aanvanklik onder die oppervlakte groei en wortel skiet en teen die tyd dat
jy dit in jou bedding sien en wil uittrek het dit so ’n lang wortel dat jy dit
nie sommer maklik kan uittrek nie. Let egter ook op dat v.15 sê dat bitterheid
tot gevolg kan hê dat iemand "uit die geloof kan val".
·
Onwyse
Keuses uit my verlede: Die
probleem met onwyse en verkeerde keuses uit jou verlede is dat dit ’n direkte
invloed op die res van jou lewe mag hê – soos wat Stephen Viars dit stel, ..."it becomes part of your spiritual
DNA". Die probleem met verkeerde keuses is dat dit tot negatiewe,
slegte en selfs sondige gebruike en gewoontes kan lei, wat baie moeilik is om
te breek of om van ontslae te raak. Dit is waarom Paulus in Gal.6:7 vir die
Galasiërs sê ~ Moenie
julleself mislei nie: God laat nie met Hom spot nie. Wat ’n mens saai, dit sal
hy ook oes. Wat jy
saai, sál jy oes! Anders gestel: As jy nie sleg wil oes nie, moenie saai nie!
Die
probleem is egter dat die meeste van ons, indien nie almal nie, reeds in die
verlede baie verkeerde keuses gemaak het en ontstaan die vraag nou: Hoe breek ek
daarmee? Hoe verander ek my situasie nou? Dít is o.a. waarop ek D.V. die
volgende Sondag of wat wil fokus.
·
Onbelyde
Sondes uit my verlede: Baie
mense wil hulleself nie herinner aan die verlede se verkeerde keuses, optredes,
mislukkings en/of sonde nie. Die mens kan uiters vernuftig raak wanneer hy sy
sonde probeer ontken of verdoesel.
Adam byvoorbeeld, het in
Gen.3:12 gesê ~ Die
vrou wat U my gegee het om my by te staan, sy het vir my van die boom se vrugte
gegee, en ek het geëet.
So asof hy wou sê: Dis nie ek nie Here,
dis my vrou – en nogal die vrou wat God aan Hom gegee het! Eva het nog
verder gegaan en die skuld op die slang gepak (Gen.3:13).
Ons moet luister na wat
Salomo sê ~ Wie
sy sonde wegsteek, moet niks goeds te wagte wees nie; wie sy sonde bely en
daarvan afsien, sal genade ontvang (Spr.28:13). Genadiglik kan ons ons sonde bely en
vergifnis daarvoor kry, omdat Jesus aan die kruis vir ons sonde gesterf en
versoening daarvoor gemaak het.
·
Lesse
nog nie Geleer uit my verlede nie: ’n Sesde en laaste wyse waarop die verlede ons vyand kan
wees, is wanneer ons nié die lesse leer wat God wil hê ons moet leer nie. Die
probleem hiermee is dat ons sulke foute oor en oor begaan, totdat ons die les
leer wat ons moet leer. Salomo illustreer hierdie feit op ’n baie grafiese wyse
in Spr.26:11 ~ Soos
’n hond wat na sy braaksel toe terugkom, so is ’n dwaas wat dieselfde
dwaasheid weer begaan.
Slegte en verkeerde
keuses en optrede wat ons nie as verkeerd herken en erken en derhalwe regstel
nie, word uiteindelik deel van ons – dit word deel van ons denke en optrede.
Elke keer dat ons sondig in ons gedagtes, begeertes, woorde, of optrede word
dit al makliker om dieselfde sonde te herhaal.
4. AFSLUITING:
As jy jouself dalk in
een of meer van hierdie kategorieë sien, wil ek jou bemoedig, want die Woord
van God bied aan ons oplossings en soos ek reeds gesê het gaan ons D.V. die
volgende Sondag of wat aandag hieraan skenk en kyk hoedat ons in en deur Jesus
Christus verlos kan word van hierdie vyand(e) uit ons verlede.
Ons moet intussen net
daaraan vashou, dat ons God nie ’n "gesiglose god" is nie. Hy is die
Lig vir die wêreld en Hy wil ons verlos en vrymaak – Hy wil ons help om vry te
kom van ons verlede, sodat ons vorentoe kan beweeg op die pad van heiligmaking
en kan lewe tot Sy eer!
[1] Hierdie reeks
boodskappe steun swaar op die boek deur Stepehen Viars met die titel
"Putting Your Past in Its Place". 2011. Harvest House Publishers. Eugene, Oregon.
247p.