1. INLEIDING:
Ons kom vanoggend by ’n aangrypende hoofstuk in Daniël – ’n
hoofstuk waarin ons gaan lees en leer van konings en koninkryke, maar ook gaan
ons ’n profetiese rede hoor wat heenwys na gebeure in Openbaring en dan
spesifiek na Christus se tweede koms.
Daniël 7 kan hoofsaaklik ingedeel word in drie dele en ek wil
dat ons t.w.v. ’n inleiding kyk na die eerste gedeelte wat strek van v.1 tot en
met v.8 en daarvoor sal ek hoofsaaklik vanoggend kyk na gedeeltes uit Openbaring 13 waarna ons ook
in Februarie 2011 gekyk het.
2.
SKRIFLESING:
Daniël
7:1-8 ~ In die eerste regeringsjaar van koning
Belsasar van Babel het Daniël ’n droom gehad en visioene gesien in sy slaap. Hy
het die droom opgeskryf en die inhoud daarvan soos volg weergegee. 2Hy
het gesê: “In my nagtelike visioen het die wind uit al vier windstreke die
groot see onstuimig laat word. 3Vier groot diere het uit die see uit
opgekom, en elkeen was anders as die ander. 4Die eerste het soos ’n
leeu gelyk en hy het arendsvlerke gehad. Terwyl ek kyk, is sy vlerke afgeruk en
is hy opgelig, sodat hy op twee voete gestaan het soos ’n mens, en ’n mens se
verstand is aan hom gegee. 5Die tweede dier het soos ’n beer gelyk.
Hy het op sy agterpote gestaan en het drie ribbebene in sy bek gehad. Daar is
vir hom gesê: ‘Vreet maar! Vreet soveel vleis as jy wil!’6En toe ek
weer sien, was daar nog ’n dier, een soos ’n luiperd. Hy het op sy rug vier
vlerke gehad soos dié van ’n voël. Hy het vier koppe gehad en aan hom is
heerskappy gegee. 7My nagtelike visioen het voortgeduur en toe ek
weer sien, was daar ’n vierde dier, skrikwekkend, vreesaanjaend en baie sterk.
Hy het groot ystertande gehad en alles wat voorkom, verslind en vermorsel en wat
oorgebly
het met sy pote vertrap. Hy was anders as die vorige diere en het horings
gehad. 8Terwyl ek stip na die horings kyk, het daar ’n klein horinkie
tussen hulle uitgekom, en drie van die ander is uitgeruk om vir hom plek te
maak. Hierdie horing het mensoë gehad en ’n mond wat allerlei verwaande dinge
kwytgeraak het.
3. DIE
DIERE:
Ons sien hier dat die “Dier” of “Diere” uit die see kom. Ons het destyds, regdeur ons studie van
Openbaring gesien dat die see, die heidennasies verteenwoordig (Openb.17:5
~ Verder het hy vir my gesê: Die waters wat jy gesien het waar die
sedelose vrou bly, is volke en stamme, nasies en tale). Hierdie "Dier" of "Diere"
kom dus vanuit die heidendom en in hierdie geval verteenwoordig dit ’n
heidennasie of -nasies. Die vraag is,
watter nasie(s)?
Openb.17
(wat ook gesien kan word as iets van ’n kommentaar
oor Openb.13) kan ons baie help ten einde ’n antwoord te vind op hierdie vraag. Terwyl ’n Engel later in Openb.17, hierdie
Dier aan Johannes beskryf, sien ons dat hy in v.9 sê ~ ...Die
sewe koppe is sewe berge.... Die Dier kan
derhalwe “die Dier met die sewe koppe”,
genoem word. Wanneer die Dier so genoem
word, gee dit onmiddellik sy identiteit weg.
Onthou, ons het gesê dat die Dier verwys in hierdie geval na ’n
heidennasie en hierdie beskrywing in 17:9 sê vir ons wie hierdie heidennasie
is, nl. Rome, want Rome staan ook bekend as die “stad op sewe heuwels” (die Palatyn, Kapitolyn, Quirinaal, Esquilyn, Viminaal,
Caelianus en Aventyn heuwels - wat later die hoof-stedelike
gebied van dié stad gevorm het, maar wat vroeër klein dorpies en plasies was.
Hierdie afsonderlike gemeenskappe het geleidelik
tot een
gemeenskap saamgegroei, wat die laerliggende gebied langs die Tiber-rivier
ingesluit het. Dit is seker dat daar teen 600 v.C. 'n aansienlike dorp bestaan
het wat in die Antieke Tyd as Roma bekend was – sien kaart hiernaas[2]). Daar word egter
ook na Rome verwys as Die Dier en is dus verteenwoordigend van die Romeinse
owerheid. Rome was die grootste en
sterkste wêreldmag in die tyd wat Johannes hierdie brief geskryf het. Die koppe verwys na die kollektiewe Rome en
individuele konings as verteenwoordigers van politieke Rome. Ter verduideliking (in kort): Elke
heuwel was op ’n tyd sy eie koninkrykie en het sy eie koning gehad en saam het
hulle die groter Rome regeer (uiteraard is dit baie
meer ingewikkeld as wat ek hier baie kortliks probeer aandui, maar ons is nie
nou besig met ’n politieke- of geskiedenis kursus nie – nie waar nie?). Ons sal so bietjie later weer kyk na hierdie
“koppe”.
Ons
sien dat die eerste Bees, nie net “sewe koppe” gehad het nie, maar ook “tien
horings”. Indien die “sewe koppe”, die
sewe konings verteenwoordig het, dan moet die “tien horings” verwys na ander
heersers wat ondergeskik was aan die konings (Openb.17:12-13 ~ Die tien horings wat jy gesien
het, is tien konings. Hulle het nog nie die koningskap gekry nie, maar hulle
kry saam met die dier een uur lank gesag as konings. 13 Hulle
het een en dieselfde doel voor oë, en hulle stel hulle mag en gesag tot die
dier se beskikking). Hoogs waarskynlik verwys hierdie
“ondergeskiktes” na die goewerneurs van die tien Romeinse provinsies wat tydens
Johannes se skrywe, regeer het (die
tien provinsies het heel moontlik uit die volgende lande bestaan: Italië, Egeïese, Asië, Sirië, Egipte, Afrika, Spanje, Brittanje en
Duitsland).
Ons
lees verder dat daar op hierdie koppe van die Dier, godslasterlike name geskryf
was. Die “name” was op die koppe en nie
die horings geskryf nie, omdat dit die konings was wat as goddelik verklaar was
en nie die goewerneurs nie. En hierdie
“name” was waarskynlik die “goddelike” titels wat hierdie konings aan hulleself
toegedig het.
Die
Bees wat Johannes dus gesien het, was ’n bose en veragtelike wese, wat ’n bose
en veragtelike nasie verteenwoordig het, nl. antieke Rome, wat daarop uit was
om God se plek op onregmatige wyse in te neem.
Johannes
gaan in Openb.13:2 voort deur te sê dat hierdie Dier, ...soos ’n luiperd gelyk (het).
Sy pote was soos dié van ’n beer en sy bek soos dié van ’n leeu. Hierdie beskrywing herinner ons dan ook aan
die politieke profesie in ons Skriflesing vanoggend (Dan.7:1-8).
Dit is
opmerklik dat “Johannes se Dier”, ’n samestelling is van “Daniël se eerste drie
Diere”. Die eerste Dier wat Daniël dan gesien
het, was soos ’n leeu. Die tweede soos
’n beer en die derde soos ’n luiperd, terwyl die vierde beskryf word as skrikwekkend, vreesaanjaend en
baie sterk met ystertande (v.7).
Daniël
se visioen kan maklik geïnterpreteer word, wanneer dit vergelyk word met
Nebukadneser se droom in Dan.2, asook met wêreldgeskiedenis. U sal onthou dat
Nebukadneser gedroom het van ’n groot beeld met ’n kop van goud; ’n bors en
arms van silwer; ’n maag en heupe van brons; bene van yster en voete van yster
en klei (Dan.2:25-35). Die interpretasie van die goue kop, was dat
dit Babilon verteenwoordig het (Dan.2:36-38) en die res van die
beeld word geïnterpreteer as die Mede-en-Perse (silwer), die Grieke (brons) en die Romeine (yster en klei). Die vier
Diere van Dan.7 is net ’n verskillende weergawe van dieselfde koninkryke: die leeu het die Babiloniërs verteenwoordig;
die beer die Mede-en-Perse; die luiperd was die Grieke en die skrikwekkend, vreesaanjaend en
baie sterk Bees was die Romeine.
Johannes
borduur voort op hierdie visioene wanneer hy hierdie skrikwekkend, vreesaanjaend en
baie sterk Bees (wat in sy dag bestaan het) beskryf en hy gaan
voort, deur te sê dat hierdie Bees, ’n samestalling en kulminasie (hoogtepunt) van die vorige drie politiek Beeste was wat hierdie
huidige een voorafgegaan het. Johannes sien dus hierdie visioen van hom in
Openb.13, as ’n vervulling van Daniël se visioen in Dan.7, nl. die finale
heidense wêreldmag wat deur die Groot Rooi Draak geïnspireer was, daarom dat hy
in Openb.13:2c sê ~ Die draak het sy mag, sy troon en groot gesag aan hom
gegee. Hierdie is dan ook die eenparige slotsom
waartoe al wat kommentator is kom (synde
Pre-, A-, of Post-millennialis). Die verskil
is dat die Pre-millennialiste (Futuriste) glo dat Johannes hier
praat van ’n herrese Romeinse Ryk wat iewers in die verre toekoms gaan herleef (baie glo dat dit nog in ons tyd sal wees), terwyl die res (ons) glo dat Johannes hier praat van die Romeinse Ryk wat
in sy tyd bestaan het. Dit is moeilik om
te verstaan hoe die Futuriste kan glo dat daar nog ’n herrese Romeinse Ryk in
die toekoms gaan ontstaan, terwyl daar nêrens in die Woord sprake van so ’n
toekomstige gebeurtenis gaan wees nie.
Jay E. Adams skryf in p.76-77 van sy boekie “The Time is at Hand” [3], Why, then, speculate that “revived” Rome and Jerusalem will be revived
and restored to exactly what they once were, only to fall again precisely as
they once did? Is it not apparent that
this is an artificial interpretation invented to circumvent the clear intent of
the passage? That Jerusalem and Rome
should fall again exactly as they did in the past is not only improbable, but
virtually impossible. That such a wooden
interpretation must be forced upon the book in order to explain away the
obvious meaning of the revelation, is by itself a very strong argument for the
contemporary view. Dit is dus
duidelik dat Johannes, die Romeinse Ryk in gedagte gehad het toe hy Openbaring
geskryf het en daar is geen (en dit is belangrik) aanduiding in die ganse Daniël óf Openbaring wat
daarop dui dat die vierde Dier sou sterf en weer op ’n stadium lewend sou word
en ’n millennium later sou terugkeer nie, trouens n.a.v. Nebukadneser se droom
in Dan.2, sou die vierde koninkryk (die
yster-en-klei koninkryk) in die tyd van Christus geregeer het. Jesus Christus (die “klip” wat later ’n “rots” sou word – Dan.2:34) sou daardie koninkryk
verwoes en Sy eie vestig (die “klip” wat ’n “groot rots sou word wat
die hele aarde sou bedek - Dan.2:35)!
In
kort, die vierde Dier verteenwoordig dus die Romeinse Ryk wat aan bewind was in
Johannes se tyd. Hierdie feit word
ondersteun deur ’n boek van Publius Cornelius Tacitus (55n.C. – 120 n.C.) wat oor die geskiedenis van die Romeinse Ryk
verslag gelewer het. Hy noem o.a. in
hierdie geskrif dat die Romeinse Ryk vanaf die derde eeu voor Christus, sy
invloed laat geld het in Europa, Asië en Afrika. Wat egter veral van belang is, is dat die
verdere datums wat hy noem en spesifiek die beëindiging van die Romeinse Ryk,
die tydperk insluit waartydens Johannes, Openbaring geskryf het, asook die feit
dat dit die laaste keer was, dat een land, heerskappy sou voer oor die ganse
Middellandse See gebied.
Ons
lees in Rom.13:1 ~ Elke mens moet hom onderwerp aan die owerhede wat oor
hom gestel is. Daar is immers geen gesag wat nie van God kom nie, en die
owerhede wat daar is, is daar deur die beskikking van God. Ons weet dat dit God is wat regerings oprig,
maar ook tot ’n val bring. Dit is egter
ook God wat “die Dier” toegelaat het om Sy wil ten uitvoer te bring en sodoende
word die Dier ’n instrument in God se hand om God se wil uit te voer. Dit is presies wat dan gebeur het met die
eerste eeuse Romeinse Ryk – nie net omdat ons daarvan lees in die Woord nie (v.2 ~ ... Die draak het sy mag, sy troon
en groot gesag aan hom gegee), maar ook die
geskiedenisboeke oor die Romeinse Ryk dui onteenseglik daarop.
As ons
dink dat die wêreld vandag pervers is, moet ons die geskiedskrywings oor die
destydse Romeinse Ryk gaan lees en dan sal ons sien hoe pervers die Romeinse
Ryk werklik was, veral gedurende Nero se tyd, wat natuurlik ook die tyd was
waartydens Openbaring geskryf is.
Kindermoord was bv. aan die orde van die dag. ’n Pa het letterlik oor die mag beskik om sy
kind te laat dood maak indien hy bv. ’n seun wou hê en daar ’n dogter gebore is
– al het die moeder ook hoe geprotesteer.
Aborsie was aan die orde van die dag.
Immoraliteit en homoseksualisme was alledaags. Bykans alles en nog meer waaraan ons kan
dink, was teenwoordig of gepraktiseer in Nero se tyd. Hulle kultuur laat ons hedendaagse kultuur
soos die “Amish” lyk (’n godsdienstige sekte
in die V.S.A. – sien http://en.wikipedia.org/wiki/Amish - ook: http://www.800padutch.com/amish.shtml). En tog was die Romeinse Ryk uitermate magtig,
trouens dié magtigste heidense Ryk tot op datum. Hierdie beskrywing van die verskriklike Dier
met sy sewe koppe en tien horings is dus ’n getroue beskrywing van Rome.
Johannes
het egter iets gesien wat met die Dier gebeur ~ Dit het gelyk asof hy aan een van sy koppe dodelik
gewond was, maar die dodelike wond het genees, en die hele wêreld het
verwonderd agter die dier aan geloop (v.3). Ons moet daarop let dat dit nie die Dier was
wat gewond was nie, maar een van sy koppe.
Die Dier het sewe koppe waarvan een nou dodelik gewond is. Hierdie verwonde kop sou egter hoegenaamd nie
die Dier beïnvloed nie, daarom dat ons sien dat v.3 sê dat die dodelike wond genees
het. Hierdie mag, kan miskien voorkom as
nietige detail, maar dit is belangrike inligting ten einde ons in staat te stel
om hierdie gedeelte na behore te interpreteer.
Ons
lees in Hebr.7:8 dat drie van die horings van die vierde dier ontwortel is en
dat daar ’n ander horinkie uitgekom het. Dit is in ooreenstemming met Openb.13:3
dat ...dit gelyk (het) asof hy (die dier) aan een van sy koppe dodelik gewond was. Hierdie
beeld pas pragtig in by ons interpretasie tot dusver, nl. dat die Dier, beide
Rome en die keiser verteenwoordig. Nero
– een van die sewe koppe – is dood. Nero
is ook gedood met ’n noodlottige wond teen die kop (sy
swaard is deur sy keel opgedruk tot in sy brein). Die profesie het
dus beide daaroor gegaan dat die keiser sou sterf met ’n noodlottige wond teen
die kop en dat die Romeinse Ryk sou wankel.
Weereens toon die geskiedenis aan dat hierdie profesie en ook ons
interpretasie korrek is.
Net
na Nero se selfmoord en tydens die heerskappy van Galba, Otho en Vittellius se
heerskappy, het daar chaos geheers in die Ryk – hoofsaaklik a.g.v. die
voortdurende wedywering om die leierskap van die Ryk. Eers toe Vespasianus ingehuldig is as keiser (21
Des. 69 n.C.) is
stabiliteit in die Ryk bewerkstellig.
Dit het dus gelyk asof die Dier dodelik gewond is toe Nero selfmoord
gepleeg het en die dodelike keiserlikelyn (familielid volg
familielid op – ook genoem die Julio-Claudian
dinastie) is
vir goed afgesny met die dood van Nero.
Nadat
Vespasianus terug gekeer het na Rome, het genl. Titus bevel oor die magte in
Jerusalem geneem en is Jerusalem is 70 n.C. beset en is die stad en die Tempel
verwoes. Openb.13:3 sê ook ~ ...
maar die dodelike wond het genees. Hierdie genesing dui dus onteenseglik
op die amperse val van die Romeinse Ryk, met Nero as leier (v.3a ~ Dit het gelyk asof hy aan een van sy koppe dodelik gewond was) en die daaropvolgende herstel van die
Ryk o.l.v. Vespasianus. Die Romeinse Ryk
het ’n verdere 350 jaar voortbestaan (tot 410 n.C.).
Die
Romeinse Ryk van Johannes se tyd was dus die politieke Dier van
Openbaring. En die hoof van daardie
politieke Dier was ’n “dierlike keiser” met die naam van Nero. Die Dier is dus nie ’n leier wat nog
geïdentifiseer moet word, of wat nog moet kom nie – nee, as ons na die Woord
kyk, was dit die Romeinse Ryk o.l.v. keiser Nero en hierdie is dan ook die
vervulling van Daniël se se profesie in Daniël 7.
Nou
wie het die drie ander diere in Daniël 7 dan verteenwoordig? Sonder om in dieselfde
detail te verval as wat ons so pas gedoen het om Nero en die Romeinse Ryk te
identifiseer (en nog in meer detail vantevore in ons reeks
oor Openbaring) en soos
wat ek netnou reeds genoem het, verwys hierdie drie ander diere na die drie
ander groot Ryke van die voor-Babiloniese tydperk waaroor Daniël ook in Dan.2
geprofeteer het, nl. die Babiloniese Ryk (die leeu met
arendsvlerke – v.4); die
Mede-Persiese Ryk (’n beer met ribbebene in sy bek – v.5); die Griekse Ryk (’n luiperd met vier vlerke en –koppe – v.6) en dan natuurlik laastens die Romeinse
Ryk net voor en net na Jesus se tyd hier op aarde (’n skrikwekkende dier met ystertande – v.7).
Wie of wat is die klein horinkie waarna Daniël in v.8 verwys?
Dit is ’n duidelike verwysing na Nero – die drie wat uitgepluk is, was
Tiberius, Gaius en Claudius wat vermoor is, sodat plek gemaak kon word vir Nero
wat nie in die keiserlike lyn ingesluit was nie – Nero was dan die sesde
horinkie die “ander een tussen die ander”.
In v.11 lees ons hierdie woorde ~ Terwyl ek kyk, is
die een dier oor die verwaande gepraat van die horinkie doodgemaak en is sy
liggaam vernietig deur dit in die vuur te gooi. Hierdie is ’n verwysing
na die omverwerping van die Romeinse Ryk en die selfmoord van Nero.
Alles in Dan.7:1-8 is dus ’n profesie van dinge wat rondom die
tyd van Jesus sou gebeur en Jesus bevestig dan die vervulling van hierdie
profesie van Daniël in Luk.21:20-24 wanneer Hy sê ~ Wanneer
julle sien dat Jerusalem deur leërs omsingel word, moet julle weet dat sy
verwoesting naby is. Dan moet dié wat in Judea is, die berge in vlug, en dié
wat in die stad is, daaruit padgee, en dié wat op die plase is, nie na die stad
toe gaan nie, want in daardie dae voltrek God sy straf. Alles wat geskrywe
staan, word dan bewaarheid. " Dit sal bitter swaar gaan met die vrouens
wat in daardie tyd swanger is en met dié wat nog klein kindertjies het, want
daar sal groot nood in die land heers, en God sal hierdie volk straf. "Sommige
sal deur die swaard val en ander as krygsgevangenes na al die nasies toe
weggevoer word. Jerusalem sal deur die heidennasies vertrap word totdat ook
hulle tyd verby is – ’n duidelike verwysing na die val van Jerusalem
en die Tempel in 70 n.C.
4. DIE OORWONNE
DIER:
Ons
moet besef dat die eerste eeuse Dier vandag nog net so met ons is – net in ’n
ander gedaante en hy is steeds met dieselfde krag en gesag beklee as destyds –
alhoewel die oorwinning reeds in Christus oor hom behaal is! Ons het in v.2 gesien dat die Dier oor krag
en gesag beskik het en hierdie krag en gesag het Nero en Rome van Satan
ontvang. Hierdie selfde kragte werk
vandag nog mee om die kerk van ons dag te vervolg en in die proses te probeer
vernietig. Gelukkig, soos reeds gesê,
het Christus reeds die oorwinning op Golgota behaal. Ook die geskiedenis wys vir ons dat hierdie
magte wat teen die kerk ingespan word, mettertyd verdwyn. Dink eerstens aan Rome – eens magtige Ryk,
toe niks; dink aan die kommunisme en die
“Rooi Bedreiging” van die destydse Rusland (U.S.S.R.)
– op ’n
tyd het almal gevrees en nou....? Rome
moes egter baie meer bewondering (en
vrees) afgedwing
het as Rusland en daarom is dit geen wonder dat almal agter Rome aan geloop het
nie. Daar was waarskynlik selfs
Christene wat dit gedoen het en daarom was die profesie van Daniël en die boodskap
van Openbaring so dringend noodsaaklik vir die kerk om van kennis te neem.
Hoe kan ’n
mens in verwondering staan oor ’n land en agter ’n land aanloop soos v.3 vir
ons sê? Om “agter iets of iemand (of ’n land) aan te loop”, beteken dat jy gehoorsaam is aan
daardie land se opdragte. Die boodskap
wat ons hieruit moet neem, is dat die kerk nooit mag ingee aan bose vereistes
wat ’n land (se regering) van die kerk verwag
nie. Wanneer ’n regering wegbeweeg van
sy Godgegewe mandaat, kan aanvaar word dat so ’n regering in die hand van die
Satan speel. Ons moet altyd onthou dat
alle gesag en derhalwe regeringsgesag ook, ’n mandaat is wat God aan so ’n
persoon of party verleen en daarom kan politiek goed en sleg wees – dit hang
net af van die een wat regeer, of hy dit binne God se mandaat doen of
daarbuite. Salomo stel dit baie raak in
Spr.29:2 ~ ’n
Volk juig as regverdige mense die mag kry; ’n volk sug as ’n goddelose mens
regeer. Lg. gebeur wanneer ’n regering sy Godgegewe
mandaat verwerp en hy ’n despoot of diktator raak (dink aan Gadaffi, Mugabe, e.a.). Rom.13:1 sê nie verniet ~ Elke mens moet hom onderwerp
aan die owerhede wat oor hom gestel is. Daar is immers geen gesag wat nie van
God kom nie, en die owerhede wat daar is, is daar deur die beskikking van God. Owerhede is daar, deur die beskikking van
God. (Hierdie
teksvers impliseer natuurlik nié dat ons, ons ten alle koste en te alle tye aan
die regering van die dag moet onderwerp nie.
Wat is die uitsonderings? Wanneer
hul opdragte, wette, ens. lynreg bots met God se opdragte soos opgeteken in Sy
Woord. Ons moet bv. te alle tye by die
spoedbeperkings hou, of dit ons pas of nie, maar indien die regering van ons
sou verwag om enige kind wat verwek word te laat aborteer as ons bv. reeds twee
kinders het, mag ons nie toegee aan so ’n opdrag nie – aborsie = moord. Iets van lg. is/was waar in Cjina). ’n Goeie Bybelse
voorbeeld hiervan is dié van koning Darius in Dan.6, wat opdrag gegee het dat
net hy aanbid mag word, waarop Daniël toe ~ ...na sy huis gegaan (het). Sy
dakkamer se venster het na Jerusalem se kant toe gekyk en soos sy gewoonte
altyd was, het Daniël voortgegaan om drie maal per dag voor sy God te kniel en
Hom te prys, te aanbid en te dank. Wat was
die gevolg van Daniël se weiering om die knie te buig op die koning se “satan
geïnspireerde wetgewing”? Hy is in die
leeukuil gegooi – MAAR, en dit is belangrik, God het Daniël se gehoorsaamheid
geëer en sy lewe selfs in die leeukuil gespaar!
Hand.5:29 is baie duidelik hieroor ~ ’n Mens moet eerder aan God gehoorsaam wees as aan
mense!
Die rede
waarom daar so dikwels (miskien nog glad nie,
of in elk geval tot ’n mindere mate in Suid-Afrika) konflik tussen kerk en
staat is, is juis omdat die kerk en die staat, beide wettige sfere van gesag
besit, maar konflik vind plaas wanneer die staat die gesagsfeer van die kerk (wat gebaseer is op die Woord van God) binnedring. Die kerk
in Johannes se tyd het nodig gehad om hierdie beginsel te verstaan en daarom
o.a. die skrywe van Johannes.
Hoe het die eerste
eeuse kerk die Dier oorkom? Hoe kan ons
die hedendaagse Dier(e) oorkom?
ü Openb.12:11 ~ Hulle het self die oorwinning
oor hom behaal danksy die bloed van die Lam en die boodskap waarvan hulle
getuig het; en hulle het nie hulle lewens so lief gehad dat hulle onwillig was
om vir Hom te sterwe nie. Die eerste
eeuse kerk het die bose deur die Evangelie oorwin.
ü
Tweedens word die bose oorwin deur geregtigheid. Ons is die sout wat in die vleis ingevryf
moet word. Ons is die lig wat in ’n
duister wêreld moet brand. Slegs as ons,
ons verantwoordelikheid nakom om die waarheid uit te dra én daarvolgens te
leef, sal ons oorwinning verkry.
ü
In derde plek word die Dier oorkom, deur uit te reik na ’n verloregaande
wêreld en dissipels van alle nasies te maak.
ü Laastens kan ons die
oorwinning behaal deur kinders op te voed wat God eer en dien. En namate ons kinders voortgaan om te doen
wat ons gedoen het, sal die geslagte wat kom ook in oorwinning leef.
In
kort: In plaas daarvan dat die kerk (ons) vir bevryding soek, moet ons in oorwinning leef en dit
dryf die gelowige uiteraard na sy knieë in gebed.
5. AFSLUITING:
Ons as gelowiges moet
bemoedig wees, want God sál die onreg wreek wat teen Sy kinders gepleeg
word. Ons hoef nie wraak te neem nie,
want God sal dit vir ons doen. Ons moet
verder ook moed hou en verseker weet dat God ons huidige (en toekomstige) “Diere” uiteindelik op hul knieë sál dwing en
vernietig, tewens Hy het reeds die oorwinning deur Jesus Christus se kruisiging
en opstanding behaal en dit sal uiteindelik ook vir ons in volle vervulling
kom.
Wanneer
dinge in ons wêreld heeltemal buite beheer lyk (dink jou in
die posisie van die Europeërs gedurende W.O.II, met Hitler wat elke land op
aarde wou inpalm), moet
ons besef dat ons soewereine God in volkome beheer is. As God in beheer was tydens Nero die Tiran se
oorheersing, is hy vandag net so in beheer – Hy is steeds besig om alles
haarfyn uit te werk tot Sy eer! Die kerk
het die “Dier” oorleef en daarom kan ons verseker daarvan wees, dat die kerk,
met God se genade, vandag en môre ook sal oorleef. Ja, ons weet dat die satan soos ’n brullende
leeu rondloop om ons te verskeur (1Pet.5:8) en ons sal en word in ons dag steeds
vervolg deur allerlei “beeste”, maar ons moet altyd die woorde van Jesus in
gedagte hou ~ ...Ek (sal) my kerk
bou, en die magte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie (Matt.16:18).
[1]Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente
(Drie Riviere) – Sondag 01 Desember 2013
[2]Sien Internetartikels by: http://www.myfundi.mobi/a/Die_Antieke_Romeine#Romeine.2C_Die_Antieke en http://en.wikipedia.org/wiki/Seven_hills_of_Rome
[3]ADAMS, Jay E. 2000.
The Time is at Hand. Woodruff, SC
: Timeless Texts. 132p. (ISBN:
1-889032-24-7)