Saturday, 24 December 2011

Vrede op Aarde!

1.    INLEIDING:
Die wêreld vier vandag Kersfees. Ek vier nié Kersfees nie! Ek vier Christusfees! Hierdie dag het tog immers niks – hoegenaamd niks te doen met kerse nie. Hierdie dag (en die wêreld weet dit en besef dit nie regtig nie) gaan daaroor dat ons die geboorte van Jesus Christus, die Seun van God, gedenk. Hierdie is nie sommer maar net so ’n dag nie; dit is nie maar net nog ’n verjaarsdagviering nie. Nee, hierdie dag – die dag waarop Jesus gebore is, is waarskynlik die tweede belangrikste dag op die kalender van ons as gelowige Christene (Christus se kruisiging en spesifiek Sy opstanding is vir my die heel belangrikste dae en behoort dus eintlik veel, veel meer prominensie te geniet as "Kersdag").

Ons hoor ook baie dikwels gedurende die Kerstyd, dat mense  sê dat Jesus Christus na die aarde gekom het om vrede te bring. Dit klink alles so mooi en "in die gees van Kersfees" klink dit só reg, maar wat beteken dit regtig as ons dit sê – wat beteken dit as mense sê "vrede op aarde"? Beter nog, wat beteken dit as die Woord van God in Luk.2:14 sê ~ Eer aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde vir die mense in wie Hy ’n welbehae het? Beteken dit regtig dat daar vrede op aarde is – dit lyk nie vir my so nie!

2.    SKRIFLESING:
Kol.1:15-23 ~ Die Seun is die beeld van God, van God wat self nie gesien kan word nie. Die Seun is die Eerste, verhewe bo die hele skepping. 16God het deur Hom alles geskep wat in die hemel en op die aarde is: alles wat gesien kan word en alles wat nie gesien kan word nie, konings, heersers, maghebbers, gesagvoerders. Alles is deur Hom en vir Hom geskep. 17Voor alles was Hy al daar, en deur Hom bly alles in stand. 18Hy is die hoof van die liggaam, van die kerk. Hy is die oorsprong daarvan, Hy is die Eerste, die Een wat uit die dood opgestaan het, sodat Hy die eerste plek in die heelal inneem. 19God het besluit om met sy volle wese in Hom te woon 20en om deur Hom alles met Homself te versoen. Deur die bloed van sy Seun aan die kruis het Hy die vrede herstel, deur Hom het Hy alles op die aarde en in die hemel met Homself versoen. 21Ook julle was voorheen ver van God af en vyandiggesind teenoor Hom, soos blyk uit julle sondige lewenswyse. 22Maar nou het Hy ook julle met Homself versoen deurdat sy Seun as mens gesterwe het om julle heilig, sonder smet en onberispelik voor Hom te stel. 23Maar dan moet julle vas en sterk bly staan in die geloof en julle nie laat losruk van die hoop wat in julle gewek is deur die evangelie wat julle gehoor het nie. Dit is die evangelie wat aan al die mense op die aarde verkondig is en waarvan ek, Paulus, ’n dienaar geword het.

3.    TEKSVERS:
Kol.1:20b en 22 ~ Deur die bloed van sy Seun aan die kruis het Hy die vrede herstel, deur Hom het Hy alles op die aarde en in die hemel met Homself versoen....22Maar nou het Hy ook julle met Homself versoen deurdat sy Seun as mens gesterwe het om julle heilig, sonder smet en onberispelik voor Hom te stel.

4.    ONVREDE:
Nadat God die hemel en die aarde geskape en alles wat daarop en daarin is, lees ons in Gen.1:31 die volgende woorde ~ Toe het God gekyk na alles wat Hy gemaak het, en dit was baie goed. God se aanvanklike doel en plan met die skepping was dus om die mens en die res van die heelal met Homself te versoen deur Jesus Christus.

God se volmaakte skepping wat "baie goed" was is egter kort na die skepping, op tragiese wyse geskend, deurdat Adam en Eva in sonde geval het. Ons sien in Gen.6:5-7 wat God se reaksie daarop en vele ander sondes wat daarna begaan is, was ~ Toe die Here sien hoe groot die verdorwenheid van die mens op aarde is en dat hy sy lewe lank net slegte dinge bedink, 6was die Here bedroef daaroor dat hy die mens op die aarde gemaak het. Dit het Hom diep gegrief. 7Die Here het gesê: “Ek sal die mens wat Ek geskep het, wegvee van die aarde af; mens en dier, ook dié wat kruip, en die voëls, want Ek is bedroef daaroor dat Ek hulle gemaak het. As gevolg van die sonde, het daar vyandskap tussen God en die mens ontstaan. Trouens, nie net tussen God en die mens alleen nie, maar ook tussen God en die res van die skepping. Dawid sê in Ps.143:1 ~ Moet tog nie ’n regsaak teen my begin nie, want niemand wat leef, is voor U onskuldig nie!

Dit is baie duidelik vanuit die Skrif, dat ons in ’n vervloekte wêreld bly – ’n wêreld waar daar beslis geen vrede heers nie! Beide mens en die res van die skepping gaan gebuk onder die invloed van die satan – aan die eenkant sien ons moord en doodslag, aborsies en oorloë en aan die anderkant sien ons Tsunami's, droogtes, haelstorms en aardbewings en kosbare wild- en ander diersoorte wat aan die uitsterf is. Satan is voorwaar die god van hierdie wêreld soos wat Paulus hom dan ook beskryf in 2Kor.4:4 en die vors van die onsigbare magte (Ef.2:2).

Hoe is dit dan moontlik dat Jesus se koms en Sy latere kruisiging, vrede na die aarde gebring het?

Wanneer ons na hierdie vervloekte wêreld kyk, dan kan dit baie maklik vir ons voel asof hierdie realiteit daar ver buite my staan – so asof, dit darem nie regtig op my van toepassing is nie; ek is tog sekerlik nie in dieselfde vyandskapsverhouding met God as wat die Bybel hier vir ons van vertel t.o.v. die res van die wêreld en die heelal nie! Wel, as jy so dink is jy óf mislei deur jou eie verkeerde denke, óf jy is mislei deur iemand anders, of dalk ’n kerk se teologie waaraan jy behoort of behoort het – feit is: Dit is nié wat die Woord van God vir ons leer nie. Paulus stel dit ondubbelsinnig en op die man af in Rom.3:10 ~ Daar is nie een wat regverdig is nie, selfs nie een nie! Die implikasie van Ef.2:1 is ook dat die mens dood is as gevolg van sy oortredings – sy sonde met ander woorde.

Wanneer ons insien dat en saamstem daarmee, dat die wêreld daarbuite boos is, maar ek sê of voel, dat ek persoonlik darem nie te sleg is nie, of dat daar darem baie goeie mense daarbuite is, dan is ek besig om myself ernstig te bluf en moet ons Martin Luther se woorde ernstig opneem – hy het op ’n keer gesê: Die mens se finale sonde is sy onwilligheid om te erken dat hy wel ’n sondaar is.

Daar bestaan dus geen twyfel nie, dat die mensdom en die skepping, maar ook ek en jy in vyandskap met God staan en/of gestaan het. Die Nederlandse Geloofsbelydenis (Artikel 15) leer ons ook dat die mens in sonde ontvang en gebore word – elke mens (van speenoud, tot stokoud) is dus verlore!

Om dinge egter nog meer kompleks te maak, lees ons bv. die volgende situasies wat gaan plaasvind, a.g.v. hierdie vrede wat Jesus gebring het – lw. GE-bring het (verlede tyd). Jes.11:6-9 gaan bv. waar word ~ Wolwe en skape sal dan saam bly, luiperds sal tussen bokkies lê, kalwers, leeus en voerbeeste sal bymekaar wees en klein seuntjies sal vir almal sorg. 7Koeie en bere sal saam wei, hulle kleintjies sal bymekaar lê, leeus sal gras eet soos beeste. 8Babatjies sal by die gate van adders speel, klein kindertjies sal hulle hande uitsteek na giftige slange. 9Op my heilige berg sal niemand kwaad aanrig of iets verniel nie, want die aarde sal so vol wees van die kennis van die Here soos die see vol water is. Wat ’n vreedsame toneel! Of Jes.65:25 ~ Die wolf en die lam sal saam wei, die leeu sal strooi vreet soos ’n bees, en stof sal die kos van die slang wees. Op my heilige berg sal niks verkeerds gedoen word nie, niks vernietig word nie, sê die Here. Wat ’n wonderlike situasie! Dit alles a.g.v. die vrede wat Jesus gebring het!

Het Jesus dié soort vrede gebring waarna die ganse mensdom en heelal smag, of word hier iets anders bedoel? As ons kyk na teksverse soos Matt.10:34 en Luk.12:51, is dit duidelik dat die vrede waarna Paulus in Kolossense verwys, nie die tipe vrede is waarna die wêreld smag nie en natuurlik verwys die profesieë uit Jesaja ook nie na hierdie selfde vrede nie. Jesaja se vreedsame beeld wat hy vir ons in sy profesieë skets, het natuurlik te make met die vrede wat gaan heers ná Jesus se wederkoms en nadat die oordeel deur God oor die sondaars gevel is. Paulus se Kolossense-vrede is egter iets anders.

Ons vind iets van ’n antwoord op hierdie vraag reeds kort na die sondeval, toe God in gesprek was met Adam en Eva ~ Ek stel vyandskap tussen jou en die vrou, tussen jou nageslag en haar nageslag. Dan hierdie gedeelte – Haar nageslag sal jou kop vermorsel en jy sal hom in die hakskeen byt (Gen.3:15).

Die vrou se nageslag sal sy kop vermorsel! Wie is die vrou in hierdie geval? Wie sal die aksie uitvoer? Wie se kop sal vermorsel word? Sal die vraag rondom Paulus se vrede waarvan hy praat, opgeklaar word as ons die antwoorde verstrek op hierdie spesifieke vrae? Ek glo wel so.

As ons dan na die konteks van Gen.3 kyk, sien ons dat hierdie, die eerste Evangelieboodskap in die ganse Bybel is, maar ook gelykertyd, die grootste tragedie wat die heelal kon tref, nl. die sondeval – die skeiding wat tussen God en mens, maar dan ook die goeie nuus, nl. dat die vrou (Eva) se saad (Jesus), uiteindelik die satan en sy gevolg, sou oorwin (Gal.4:4-5).

Kom ons keer egter terug na die oorsaak van die onvrede – Ons het reeds gesien dat die sondeval en die satan die oorsake is vir die skeiding wat daar tussen God en die mens gekom het – die onvrede wat daar bestaan.

Dit behoort dus nou al duidelik te wees dat die vrede waarvan Paulus in Kolossense praat, niks te doen het met wêreldvrede nie – vrede van oorloë, ens. nie. Dit gaan eerder oor vrede wat tussen God en die sondige mensdom bewerkstellig moet word.

Dit is dan van hierdie Jesus waarvan Paulus ook in Kol.1:15-20 praat – Jesus is dus die Een wat hierdie vrede bring. Jesus is die Een wat die vrede tussen God en die mensdom bewerkstellig het. Jesus is die Een wat uiteindelik vrede tussen mens en dier sal bewerkstellig wanneer Hy die skepping gaan herstel – gaan herskep tot ’n nuwe aarde, waar ...wolwe en skape dan saam (sal) bly, (waar) luiperds tussen bokkies (sal) lê, kalwers, leeus en voerbeeste bymekaar (sal) wees en klein seuntjies vir almal (sal ) sorg (Jes.11:6). Paulus bevestig hierdie feit in Rom.8:21 wanneer hy sê~ ... die skepping sal self ook bevry word van sy verslawing aan die verganklikheid, om so tot die vryheid te kom van die heerlikheid waaraan die kinders van God deel sal hê.

Hierdie Jesus waarvan ons teksvers praat, is ook dié Een wat gekom het om vrede tussen God en die verlore mensdom te bewerkstellig. Vir die mens om gered te word, moes daar iewers op een of ander stadium versoening deur iets of iemand bewerkstellig word. Ons het aan die begin gesien dat God, Skepper van hemel en aarde is (Gen1:1) – ons is dus bloot skepsele waarmee Hy kan maak wat Hy wil. Voorts is God ’n heilige God wat geen sonde duld nie, daarom dat Hy o.a. in Lev.11:45b sê ~ Omdat Ek heilig is, moet julle ook heilig wees. Ons kan dus niks van ons kant doen om in vrede met God te kan lewe nie. Die enigste manier waarop vrede weer herstel kan word, is wanneer God dit van Sy kant doen.

Waarom sou God egter hierdie verbreekte verhouding met de mens wou herstel? Ons sien in Eks.34:6 dat God sê ~ ...Ek, die Here, is die barmhartige en genadige God, lankmoedig, vol liefde en trou. Hoor net wat sê Jona in Jona 4:2 ~ ...Ek het geweet U is ’n genadige en barmhartige God, lankmoedig en vol liefde. U sien maklik af van die straf wat U aangekondig het.

Hierdie barmhartigheid en genade en liefde van God, is egter nie vir alle mense beskikbaar nie, want daar is ’n voorwaarde of twee gekoppel aan hierdie genade en liefde van God – hierdie vrede wat tussen God en mens bewerkstellig moes word:  
·           Eks.33:19 ~ ... Ek betoon genade aan wie Ek genade wil betoon en Ek ontferm My oor wie Ek My wil ontferm. Dit is dus nie beskikbaar vir alle mense nie – God besluit aan wie Hy hierdie genade betoon.
·           God moes eers ’n soenoffer voorsien wat sonder gebrek was – m.a.w. dit moes ’n volmaakte offer wees wat God permanent tevrede sou stel.
·           Die mens moet glo en gehoorsaam wees. In Joh.1:12 sien ons dat Johannes sê ~ Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word. Geen mens kan dus God se vrede ervaar as Hy nie glo nie – hy moet glo ten einde kind van God te kan wees. En in Rom.6:16 staan daar ~ Julle weet tog: as julle julle aan iemand onderwerp om hom as slawe te gehoorsaam, is julle die slawe van dié een aan wie julle gehoorsaam is. As dit die sonde is, beteken dit vir julle die dood; as dit gehoorsaamheid aan God is, beteken dit vryspraak en lewe. Johannes maak dit nog duideliker in 1Joh.2:4, wanneer hy sê ~ Iemand wat sê: “Ek ken Hom,” maar nie sy gebooie gehoorsaam nie, is ’n leuenaar, en die waarheid is nie in hom nie. 5Wie sy woord egter gehoorsaam—in hom het die liefde van God werklik sy doel volkome bereik. Hieraan weet ons dat ons in Hom is. 6Wie beweer dat hy in Hom bly, behoort self ook te lewe soos Jesus gelewe het.

Wat die eerste en derde punt betref, wil ek nie nou op ingaan nie, maar wel die tweede, want dít is die kruks waarom God se plan draai ten einde vrede in die mens (in jou en my) se lewe te bewerkstellig, nl. ’n volmaakte offer.

5.    VREDE:
Ek het gesê dat God ’n volmaakte soenoffer moes voorsien, anders sou daar nooit vrede kon wees nie. God hét wel daardie Soenoffer voorsien en ons sien dit o.a. in Joh.3:16 ~ God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê. God het dus voorsien in die vorm van Sy eie Seun, Jesus Christus – Sy vlees- of menswording wat ons vandag vier – die CHRISTUSFEES! Ons sien dit dan ook in ons teksvers ~ Deur die bloed van sy Seun aan die kruis het Hy die vrede herstel, deur Hom het Hy alles op die aarde en in die hemel met Homself versoen.

Ons kan die essensie van ons teksvers opsom met vier stellings:
·           Versoening en daarom die daarstel van vrede, is ’n uitsluitlike en unieke werk van God en God alleen. Die Bybel is nie die verhaal van die mens se soeke na God nie. Dit is juis net die teenoorgestelde. In teenstelling met alle ander godsdienste op aarde, is die boodskap van Die Bybel, een waar God die mens soek – ons sien dit regdeur die Bybel – dink aan Jona; dink aan Abraham; dink aan Noag; dink aan Paulus; en so kan ons aangaan – God soek die mens en nie andersom nie!

God die Vader het Sy Seun na die aarde gestuur, ten einde sondaars van die krag en gevolge van hul sonde te red (Matt.1:21; Luk.19:10; 1Tim.1:15).
·           Tweedens is versoening, ’n afgehandelde saak. Dié van ons wie in Jesus Christus glo en Hom dien as Saligmaker en Verlosser, hoef nie tot ons dood, of tot Sy wederkoms te wag vir hierdie versoening om ’n realiteit te word nie. Nee, Jesus het reeds die versoening bewerkstellig toe Hy aan die kruis gesterf het – dit is waarom Sy laaste woorde aan die kruis, Τετέλεσται (Tetelestai) was, nl. "Dit is volbring!" – dit is afgehandel! Jesus het dus rééds sondaars wat in Hom glo, se skuld betaal en die straf op hulle sonde gedra – 1Pet.2:24 ~ Hy het self ons sondes in sy liggaam aan die kruis gedra. Daardeur is ons vir die sondes dood en kan ons lewe in gehoorsaamheid aan die wil van God. Deur sy wonde is julle genees (sien ook Rom.3:24-25).
·           In die derde plek, soos ons reeds nou al teen hierdie tyd gesien het, is die versoening aan die Kruis bewerkstellig en hierdie is die hart van die Evangelie (1Kor.2:1-5). Wat is die gevolg van hierdie versoening en vrede wat Christus aan die kruis bewerkstellig het? Ons vind die antwoord in v.23 van ons teksvers en ek wil dit graag uit die O.A.V. lees, omdat die N.A.V. hierdie vers (net soos 1Tes.5:23) teleurstellend afgewater het en ek begin by v.21 ~ Ook julle wat vroeër vervreemd was en vyandig gesind deur die bose werke, het Hy nou versoen in die liggaam van sy vlees deur die dood, (en dan hierdie woorde spesifiek) om julle heilig en sonder gebrek en onberispelik voor Hom te stel.

Die gevolg dan van hierdie versoening is:
-        Om heilig te kan wees. Die Griekse woord wat hier gebruik word, is ἅγιος (hagios) wat letterlik beteken, om afgeskei te word van sonde en eenkant, weg van sonde, vir God afgesonder te word. Dit gaan dus hier oor ons verhouding met God. As gevolg van gelowiges se geloof in Jesus Christus, beskou God hulle as heilig ~ Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom  (2Kor.5:21. O.A.V.).
-        Die gevolg van die versoening wat Christus tussen ons en God bewerkstellig het, is om sonder gebrek te wees (ἄμωμος – amōmos). In die Ou Testament is hierdie woord gebruik om na die offerdiere te verwys wat gebruik is om vrede of versoening tussen God en die volk te bewerkstellig en in die Nuwe Testament word hierdie woord uitsluitlik gebruik wanneer daar na Jesus verwys word (Heb.9:14; 1Pet.1:19). Die implikasie van Jesus se soendood aan die kruis, is dat ons as gelowiges vlekkeloos, of gebrekloos, voor God kan staan.
-        Nog ’n gevolg van die vrede wat Christus vir ons gebring het, is die derde begrip in v.21, nl. dat ons onberispelik voor God kan staan (ἀνέγκλητος – anenklētos). Om onberispelik voor God te staan, gaan ’n stappie verder as om sonder gebrek te wees – dit beteken dat niemand eers ’n klag teen ons kan lê nie – Rom.8:33 ~ Wie kan die uitverkorenes van God aankla? God self spreek hulle vry. Nie eers kan die satan, "die aanklaer van ons broeders" (Openb.12:10 – O.A.V.) dit doen nie. Om dit in Engels uit te druk, ons is nie net "above apporach" nie, ons "beyond approach"!

Geliefdes, Christus se versoeningswerk het tot gevolg dat God ons nou reeds sien soos wat ons eendag gaan wees ná ons verheerliking! Wat ’n wonderlike gerusstelling en as dít nie vrede in ons gemoed tot gevolg het, sal niks ons vrede gee nie, of anders gestel, het ons nog nie versoening in Christus Jesus ervaar nie!

6.    AFSLUITING:
Hierdie vrede waarvan ons teks praat, is dus nie vrede op aarde nie, maar vrede aan sekere mense op aarde – vrede in my en jou wat in Christus Jesus uitverkies is en in Hom glo en Hom gehoorsaam – dit is waarom Jesus self in Luk.2:14 sê ~ Eer aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde vir die mense in wie Hy ’n welbehae het!”  Jesus het dus na hierdie wêreld gekom ter wille van die uitverkorenes. Hy het gekom om alles te doen wat vir hulle redding nodig was. Hy het gekom om vrede tussen God en Sy kinders te bewerkstellig.

My liewe vriend en vriendin, mag jy ook hierdie vrede wat net Christus kan bewerkstellig, in jou lewe ontvang en ervaar en geliefdes, mag ons die vrede wat Jesus Christus na hierdie aarde gebring het in die besonder in hierdie dag ervaar! ’n Geseënde Christusfees vir elkeen van julle en mag julle vandag in die besonder, maar elke dag vir die res van julle lewe, hierdie vrede ervaar wat net God in Jesus Christus kan gee! AMEN!


[1] Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te VAALDRIEHOEK Baptiste Gemeente (Vereeniging) - Sondagoggend 25 Desember2011

Sunday, 18 December 2011

Die Boodskap van Hooglied - 01 (Eerste Siklus – Hartstogtelike Verwagting - 01)

1.    INLEIDING:
Daar is talle vooraanstaande predikers en teoloë wat deur die eeue heen gesê het en steeds sê, dat die boek Hooglied een van die kosbaarste van al die boeke in die Bybel is. Charles Spurgeon het o.a. die volgende oor Hooglied gesê: This Book stands like the tree of life in the midst of the garden, and no man shall ever be able to pluck its fruit, and eat thereof, until first he has been brought by Christ past the sword of the cherubim, and led to rejoice in the love which have delivered him from death. The Song of Solomon is only to be comprehended by men whose standing is within the veil. The outer court worshippers, and even those who only enter the court of the priests, think the Book a very strange one; but they who come very near Christ can often see in this Song of Solomon the only expression which their love to their Lord desires.

Die boek van Hooglied begin in vers 1 met die boek se titel, nl. šîr haššîrîm, wat ’n Hebreeuse idioom is wat die oortreffende trap uitdruk. Dit wil dus letterlik vir ons sê dat hierdie lied, die lied van alle liedere is – die beste en die mooiste van alle liedere. Soortgelyke Hebreeuse uitdrukkings wat die oortreffende trap van iets uitdruk, is bv. die bekende uitdrukking in Eks.26:33 waar ons lees van die tabernakel se "Allerheiligste".

Die eerste woordjie wat ons in die titel van hierdie lied vind is, soos ons reeds gesien het, šîr,  wat dui op ’n vrolike lied en is gewoonlik gebruik in liedere wat tydens feeste gesing is – ’n pragtige voorbeeld hiervan is bv. Jes.30:29 ~ Maar julle sal sing soos in die nag voor ’n fees, julle sal vrolik wees soos wanneer mense met fluitspel begin loop na die berg van die Here toe, na die Rots van Israel toe. Geen wonder dan, dat die titel van hierdie boek, Salomo se mooiste lied is nie.

2.    SKRIFLESING:
Wanneer ons uit ons Skriflesing vir vandag lees en ook in die toekoms, wanneer ons weer na Hooglied sal kyk, sal u merk dat die oorheersende struktuur van Hooglied, ’n reeks van monoloë en dialoë is. Die hele boek is verdeel in 6 siklusse en ons gaan vandag kyk na die eerste gedeelte van die eerste siklus.
                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                           
Hooglied 1:1-7 ~ Salomo se mooiste lied.
Sy: 2“Soen my, soen my weer en weer! Jou liefkosings is beter as wyn, 3jou parfuum ruik so lekker, jou naam is suiwer parfuum: daarom het die meisies jou so lief. 4Vat my saam met jou, kom ons hardloop!” Die koning vat my toe na sy kamer toe.
Hy: “Kom ons juig, kom ons wees vrolik oor jou!”
Sy: “Kom ons prys jou liefkosings, dit is beter as wyn! Ek kan verstaan dat die meisies lief is vir jou. 5“Ek is bruin gebrand maar ek is mooi, vroue van Jerusalem. Ek is so bruin soos die tente van Kedar, soos die tentdoeke van Salomo. 6Moet my nie so aankyk omdat ek donker is nie, omdat die son my gebrand het nie: my broers het my so bruin laat brand, hulle het my die wingerde laat oppas; ek kon my eie wingerd, myself, nie versorg nie. 7“Sê my, jy wat ek liefhet, waar laat jy jou kleinvee wei, waar laat jy hulle rus op die middag? Hoekom moet ek my agter ’n sluier wegsteek en by die veetroppe van jou vriende rondsoek?”

3.    STRUKTUUR:
In hierdie pas gelese gedeelte sien ons ’n gelukkige en opgewonde paartjie wat allerlei begeertes en verwagtinge teenoor mekaar uitspreek. Ons sal dan ook sien dat hier ses fases in hierdie gesprek is:
·                    In verse 2-4 vind ons die geliefde se eerste pleidooi.
·                    In verse 5-7 vind ons ’n skugter en onseker meisie.
·                    In verse 8-11 sal ons ’n minnaar se liefdevolle aanmoediging sien.

·                    In verse 12-15 vind ons die beminde se monoloog
·                    Die minnaar reageer daarop, deur te skerts en te korswel in verse 15 en 16 van hoofstuk 1 en verse 1 en 2 van hoofstuk 2.
·                    En laastens vind ons die geliefde se tweede pleidooi in 2:3-7.

Ons sal vanoggend egter net tyd hê om na die eerste twee fases te kyk.

4.    DIE BEMINDE SE EERSTE PLEIDOOI:
Die eerste woorde wat ons in hierdie lied hoor, is dié van die meisie in vv.2-4. Dit is interessant om te sien dat die meisie se stem, meer as die helfte van die totale gesprek in beslag neem – haar stem spreek van verlange; van hunkering; van vrees en van genot.

Haar eerste woorde is ’n dringende pleidooi en ’n diep begeerte wat sy tot haar minnaar rig – sy begeer sy liefkosings en sy soene; sy begeer sy intieme teenwoordigheid, sodat sy, sy parfuum kan ruik – in die oorspronklike teks word daar eintlik gepraat van "salf" – dit was natuurlik ’n welriekende salf wat gebruik was om mans lekker te laat ruik. Sy sê dat haar minnaar so heerlik ruik, dat dit geen wonder is dat die meisies so gek is na hom nie (ons moet vir geen oomblik dink dat hierdie man verwyfd was omdat hy parfuum gebruik het nie – dit was alledaagse gebruik onder die jong Israelitiese manne van daardie dag – iets soos ons "deodorant").

Sy sê ook dat haar minnaar se liefkosings beter as wyn is. Omdat wyn ’n baie belangrike rol gespeel het in enige vorm van die destydse feesvierings, is dit gepas dat die geliefde haar begeerte na haar minnaar vergelyk met wyn en sy sê dat sy liefkosings vir haar selfs beter sal wees as wyn.

Hy gee gehoor aan haar diepste begeerte; haar pleidooi en hy neem haar na sy kamer toe en hy is saam met haar opgewonde en vrolik oor die vooruitsig van hul liefkosings wat op hande is en dan herhaal sy in v.4. as refrein, dít wat sy aan die begin van haar pleidooi (v.2) gesê het ~ Kom ons prys jou liefkosings, dit is beter as wyn! Ek kan verstaan dat die meisies lief is vir jou.

Wat ook uitstaan in hierdie gedeelte, is hierdie meisie se  openlike verklaring van haar liefde vir haar minnaar. Hulle wil dus hê dat die ganse wêreld moet weet van hul liefde vir mekaar, maar hulle tye van intimiteit spaar hulle vir die privaatheid van haar geliefde se kamer – daar waar die openbare oog nie kan sien hoe hy haar soen en liefkoos nie.

Hierdie paartjie verteenwoordig elke man en elke vrou en hulle versugting en optrede is ’n weerspieëling van elke man en elke vrou se intiemste verlange.

Ons moet in gedagte hou dat hierdie boek deur Salomo geskryf is en die vraag is onmiddellik: Oor wie en watter omstandighede skryf hy hier? Gee hy hier ’n beskrywing van ’n jong meisie wat deel is van sy harem en weggevoer word deur die koning na sy kamer en sy wat uitroep na haar geliefde buite die paleismure, of is dit ’n jong meisie wat deel is van sy harem – ’n meisie wat verlief is op hom? Is dit dalk ’n beskrywing van die aankoms van Salomo se bruid – ’n Egiptiese prinses en dié se hartsbegeerte wat sy hardop teenoor hom uitspreek (1Kon.3:1 ~ Salomo het hom verbind aan die familie van die farao, die koning van Egipte. Hy het getrou met die dogter van die farao en haar in die Dawidstad laat woon totdat hy sy paleis en die tempel van die Here en die muur rondom die stad klaar gebou het)? Wat die geval ook al mag wees, ons moet enersyds tevrede wees met die gebrekkige inligting, maar andersyds is die motief van Salomo dalk juis hier om dubbelsinnig van aard te wees, sodat elkeen van ons hiermee kan identifiseer.

Ons moet verder in gedagte hou dat hierdie pragtige boek wat Salomo geskryf het, deel is van die wysheidsliteratuur en daarom is hierdie eerste vier verse van Hooglied, ’n pragtige beskrywing van ’n hart wat vernuwe is deur God se genade en wat uitroep na Jesus Christus, die groot "Objek" van so ’n gelowige se liefde. Daarom dat Spurgeon sê dat hierdie boek, ...is only to be comprehended by men whose standing is within the veil. Iemand wat nie in Christus ingeplant is nie, sal hierdie stuk prosa en lied van Salomo glad nie verstaan nie.

Ons moet ook besef dat hierdie verse (2-4) nie soseer ’n  beskrywing is van die Here Jesus Christus (die Bruidegom van die Kerk) nie – dit is eerder ’n beskrywing van die begeerte van ’n kind van God na geestelike gemeenskap met Christus en ’n ervaring van Sy liefde vir Sy kind. ’n Ware en opregte en reddingservaring deur Christus, het altyd ’n hartstogtelike liefde vir Hom tot gevolg.

Ons kan vv. 2-4 kan dus diagrammaties as volg voorstel:
V.2
Die minnaar se soene
Die genieting van Christus se liefde
V.3
Die geur van sy parfuum
Die voortreflikheid van Christus se Naam
V.4
Die privaatheid van sy kamer
Die intimiteit daarvan om in Christus se teenwoordigheid te wees

Kom ons kyk eerstens na v.2 ~ Die minnaar se soen: Hierdie woorde is woorde wat deur iemand uitgespreek word wat reeds bemin word deur Christus.

Die wortelbetekenis van hierdie Hebreeuse woord vir soen, is "om saam te voeg", spesifiek, "mond tot mond". Hierdie pleidooi van die gelowige wat gerig word tot Christus, is die begeerte van die Christelike kerk deur die eeue heen na nóg meer van Jesus se liefde, asook ’n erkenning daarvan dat Christus se liefde vir haar, die beste en grootste liefde van alle liefdes is. Fil.3:10-11 vat dit baie mooi saam ~ Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood, 11in die verwagting dat ek self deel sal hê aan die opstanding uit die dood. Dit is dus ’n voortdurende begeerte om nóg meer en nóg meer van Sy, die Bruidegom se liefde te ervaar.

Waarom sou die meisie sê dat haar minnaar se liefkosings beter as wyn is?
·           Eerstens natuurlik, omdat dit Christus se liefde is en geen liefde kan daarmee vergelyk word nie.
·           Christus se liefde kan sonder vrees geniet word, terwyl daar baie besliste gevare gekoppel is aan die gebruik van wyn wat o.a. kan lei tot afhanklikheid daarvan. Geen wonder dat Spr.20:1 as volg lees nie ~ Wyn maak jou ligsinnig, drank laat jou lawaai maak; niemand wat van dronkenskap slinger, is verstandig nie. Christus se liefde daarenteen, het nét die goeie tot gevolg en kan geen skade berokken nie – slegs seën en vreugde en plesier.
·           Ps.104:14-15a sê ~ U laat gras uitspruit vir die diere, en groen plante vir die mens sodat hy sy kos uit die aarde kan kry: 15wyn om mense se harte bly te maak. Hierdie blydskap wat wyn tot gevolg kan hê, is egter van korte duur, terwyl Christus se liefde, blywende genot inhou.
·           Wyn mag van goeie gehalte wees, maar wyn is nooit volkome suiwer nie, terwyl Christus se liefde absoluut volmaak is. Ook moet ons besef dat Christus se liefde in die meervoudsvorm gebruik word – Sy liefde verwys dus na Sy verbondsliefde; Sy uitverkiesingsliefde; Sy reddingsliefde; Sy aannemingsliefde; Sy Volhardingsliefde; Sy verheerlikingsliefde; Sy vergewingsliefde; Sy dissiplineringsliefde; Sy leidings- en lydingsliefde; Sy voorsieningsliefde; Sy leringsliefde; ens. En wat meer is, hierdie liefde van Christus duur vir ewig!

Die beminde se verwysing na haar minnaar se parfuum, of soos ons netnou gesien het, sy welriekende salf, herinner aan Ps.45:9 ~ Die geur van mirre, aalwyn en kaneel deurtrek al u klere; musiek uit u ivoorversierde paleis maak u bly. Dit herinner egter ook aan die Sterrekykers uit die Ooste, of te wel die Wyse Manne se geskenke wat hulle vir Jesus met Sy geboorte gebring het ~ Hulle het in die huis ingegaan en die Kindjie saam met Maria, sy moeder, gesien, en hulle het gekniel en aan Hom hulde bewys. Daarna het hulle hulle reissakke oopgemaak en vir Hom geskenke uitgehaal: goud, wierook en mirre (Matt.2:11). Wat hier van belang is, is dat Salomo in v.3 sê (en daarvoor moet ek uit die O.A.V. lees, omdat die N.A.V. ’n baie swak vertaling is) ~ U salf is aangenaam van geur, u naam is soos salf (en dan hierdie woorde) wat uitgegiet is; daarom het die jonkvroue u lief – "wat uitgegiet is" (E.S.V. = …your name is oil poured out). Met hierdie vergelyking van die beminde waar sy haar minnaar vergelyk met salf wat uitgegiet is, word ons o.a. herinner aan Jesus se majesteit – Hebr.1:9b sê ~ ...Daarom het God, u God, U onder groot vreugde tot Koning gesalf bo u tydgenote.  

Wie is die meisies in v.3, of die "jonkvroue" soos die O.A.V. na hulle verwys, of die "maagde" soos die meeste Engelse vertalings na hulle verwys? As ons na Openb.14:4 blaai, kan ons ’n antwoord op hierdie vraag kry ~ Dit is hulle wat hulle nie met vrouens besoedel het nie; hulle het kuis gebly. Hulle volg die Lam waar Hy ook al gaan. Hulle is onder die mense uit losgekoop as eerstelinge vir God en vir die Lam. ’n Duidelike verwysing dus na die Matt.5:8-gelowiges ~ Geseënd is dié wat rein van hart is, want hulle sal God sien.

In vers 4 sien ons die effek van hierdie liefdesverhouding tussen die beminde en die minnaar, of te wel Christus en die kerk. Christus trek elke gelowige nader na Hom en kan ons die intimiteit van Sy teenwoordigheid ervaar. Elke sprankie ervaring van Jesus se liefde en Sy genade, laat die liefde in die gelowige se hart toeneem en is die begeerte na die hereniging tussen die gelowige en Christus in die hemelse Koninkryk, soveel groter.

5.    DIE ONSEKER MEISIE:
Nadat die meisie en haar minnaar met mekaar gepraat het in vv.2-4, sien ons nou in vv.5-7 dat die meisie vir die eerste keer haar onsekerheid en haar vrese uitspreek. Sy is onseker oor wat die reaksie van die "dogters van Jerusalem" sal wees oor haar donker gelaatstrekke. Op die koop toe, sê sy ook nog dat haar broers vir haar kwaad is.

Sy sê in v.6 waarom sy so donker van kleur is, nl. dat haar broers haar gedwing het om in hulle wingerd te werk en daar het die son haar bruin gebrand en het sy nie genoeg tyd gehad om haarself behoorlik te versorg nie. Om dit te verstaan, moet ons ietsie van die kultuur van daardie tyd weet en dit is dat mans in daardie dae meisies met ’n ligte kompleks verkies het en verkieslik ook nog een met blonde hare – ’n donker of blas meisie was dus nie in aanvraag nie en sy voel onseker en minderwaardig, maar tog is sy beeldskoon en sy is baie deeglik bewus daarvan. Dit maak dus nie saak wat die ander meisies van haar dink nie en dit maak nie saak of haar uiterlike dalk verwaarloos is op hierdie stadium nie – feit is, sy weet dat sy mooi is, maar wat meer is, sy weet dat sy beeldskoon vir haar minnaar is.

Sy vergelyk haarself ook met die tente van Kedar. Die nomade van Kedar was afstammelinge van Ismael en het in tente van bokvel gebly – hierdie bokvelle het met die tyd saam al donkerder geword a.g.v. blootstelling aan die son en stof. Hierdie tente staan in skrille kontras met Salomo se kleurvolle en skoon paleis- en tempeldoeke.

Hoe moet ons hierdie gedeelte verstaan? Hierdie is ’n tipiese beeld wat die gelowige van homself het – ons weet dat ons gered is, maar tog aan die anderkant is ons steeds sondaars.

Ten spyte van die feit dat ons voortdurend bewus is van ons sonde, is ons terselfdertyd pynlik bewus van God se genade en vergifnis in ons lewe. Ons voel dikwels donker of duister in ons binneste en tog is ons ’n lieflike geur vir die Here Jesus. Ons word voortdurend onderwerp aan beproewing en tog stel God ons in staat om te volhard. Soms voel ons soos die tente van Kedar – vuil en swart en tog in Christus kan ons vergelyk word met die mooiste en kleurvolste doeke in Salomo se paleis en tempel – ons is, soos Paulus dit stel in Rom.13:14, ...beklee met die Here Jesus Christus... (O.A.V.).

Aan die eenkant is daar ’n gevoel van onwaardigheid en wegwerplikheid by ons as gelowiges teenwoordig en tog aan die anderkant, beskik ons oor ’n vaste wete van wie en wat ons in Christus Jesus is ~ ...ons (is) meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet (Rom.8:37).

Die meisie in ons Skrifgedeelte sê ook dat sy ten koste van haarself na haar broers se wingerde omgesien het. Ons moet so versigtig wees dat ons nie ons eie geestelike lewe afskeep ter wille van andere en allerlei programme en "geestelike aktiwiteite" nie. Ons eerste prioriteit is altyd om tyd met God te spandeer – skeep ons dit af, betaal ons die prys daarvoor. As jou eie "wingerd" afgeskeep word, groei die vuilgoed geil daarin en is die oes op die ou einde skraal tot geen.

Hierdie feit verduidelik dan ook aan ons die vraag wat die meisie in v.7 aan haar minnaar stel ~ Sê my, jy wat ek liefhet, waar laat jy jou kleinvee wei, waar laat jy hulle rus op die middag? Hoekom moet ek my agter ’n sluier wegsteek en by die veetroppe van jou vriende rondsoek? Hierdie meisie is op soek na haar geliefde – waarskynlik is sy moeg gewerk in haar broers se wingerde en vir die feit dat sy haarself te na gekom het wat haar fisiese voorkoms betref en daarom wil sy na haar minnaar gaan, sodat sy kan rus en vernuwe kan word na haar uiterlike. Sy vra na ’n geheime ontmoeting met hom, sodat sy, sy liefde en nabyheid kan ervaar, maar sy weet nie waar hy is nie en daarom vra sy spesifieke aanwysings na waar hy homself bevind, want anders sal sy haarself moet versluier en na hom gaan soek en dit was hoegenaamd nie fatsoenlik vir ’n meisie om haar geliefde te gaan opsoek nie. As sy ’n sluier dra, het dit egter ook bepaalde implikasies, want dit was hoofsaaklik prostitute wat in daardie dae sluiers gedra het (Tamar bv. in Gen.38:14-15). Sy wou nie graag ’n verleentheid vir haar geliefde wees nie en ook nie die oorsaak van die ander vroue se geskinder nie.

Hierdie meisie se fokus verskuif dus nou van arbeid in ’n wingerd onder dwang van haar broers, na die kleinvee van haar geliefde – daar waar sy eintlik wil wees.

Opregte en ware geloof sal onverpoosd die aangesig en teenwoordigheid van Christus opsoek – daar sal ’n voortdurende begeerte na gemeenskap met Hom wees. Ware geloof is nooit selfversekerd en selfgenoegsaam nie  Indien dit afwesig is, is daar vuilgoed in jou wingerd en is dit rede tot ernstige kommer. Hebr.12:1-4 moet voortdurend my leuse in hierdie geestelike wedloop op aarde wees ~ Terwyl ons dan so ’n groot skare geloofsgetuies rondom ons het, laat ons elke las van ons afgooi, ook die sonde wat ons so maklik verstrik, en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, 2die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof. Ter wille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig was, het Hy die kruis verduur sonder om vir die skande daarvan terug te deins, en Hy sit nou aan die regterkant van die troon van God. 3Hou Hom voor oë wat so ’n vyandige optrede van die sondaars teen Hom verdra het. Dan sal julle nie geestelik moeg word en uitsak nie.

6.    AFSLUITING:
Geliefdes, ons moet besef en glo dat ons in en deur die Here Jesus Christus, volmaak aanvaarbaar gemaak is vir God. Om dit te bevestig kan ons in die lig van Salomo se wysheidsliteratuur hierdie feit dat ons aanneemlik vir die Vader is, bevestig deur die woorde van die profeet Esegiël ~ Ek het jou gebad, die bloed van jou afgewas en jou met olie ingesmeer. 10Ek het vir jou ’n veelkleurige rok aangetrek en skoene van gebreide vel, Ek het vir jou klere laat dra van linne en ander kosbare stof. 11Ek het jou getooi met juwele: vir jou armbande en halssnoere aangesit, 12’n ring aan jou neus, hangertjies aan jou ore en ’n pragtige krans op jou kop. 13Jy kon jou tooi in goud en silwer, jou klee in linne, kosbare stof, veelkleurige materiaal; jou kos was fynmeel, heuning en olie. Jy het baie mooi geword, geskik om ’n koningin te wees. 14Jy het onder die nasies beroemd geword om jou skoonheid. Dit was ’n volmaakte skoonheid, die gevolg van die prag waarmee Ek jou uitgerus het,” sê die Here my God (Eseg.16:9-14).

Indien ons "wingerd" afgeskeep is, moet ons die woorde van Jer.29:10-13 as bemoediging en aanmoediging vir ons self neem ~ So sê die Here: Oor presies sewentig jaar sal Ek Babel straf en julle onder my sorg neem en dan sal Ek my belofte nakom om julle hier na Jerusalem toe terug te bring. 11Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ’n toekoms gee, ’n verwagting! 12Dan sal julle My aanroep, tot My kom bid, en ek sal julle gebede verhoor. 13Julle sal vra na my wil en julle sal dan my wil ken as julle met julle hele hart daarna vra.


[1] Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te VAALDRIEHOEK Baptiste Gemeente (Vereeniging) - Sondagoggend 18 Desember2011

Die Evangelie van Johannes - 13 (Hy en Sy Hele Gesin!)

1.     INLEIDING: 
Jesus het twee dae lank in Samaria in die dorpie Sigar deurgebring waar die ontugtige vrou by die put o.a. vir Jesus as Verlosser ontmoet het en waar ’n groot hoeveelheid van die dorpie se inwoners ook tot geloof in Jesus gekom het. Van Sigar af stap Jesus nou na Galilea en spesifiek na Kana waar Hy Sy eerste wonderwerk gedoen het (Joh.2).

2.     SKRIFLESING: 
Joh.4:43-54 ~ Ná die twee dae het Jesus daarvandaan na Galilea toe gegaan. 44Hy het self verklaar dat ’n profeet nie in sy eie land geëer word nie, 45maar toe Hy in Galilea kom, het die Galileërs Hom verwelkom. Hulle het alles gesien wat Hy gedurende die feesvierings in Jerusalem gedoen het, want hulle was self ook by die paasfees. 46Jesus het toe weer na Kana in Galilea toe gegaan, waar Hy die water wyn gemaak het. In Kapernaum was daar ’n sekere regeringsamptenaar wie se seun siek was. 47Toe hy hoor dat Jesus uit Judea na Galilea toe gekom het, het hy na Hom toe gegaan en Hom gevra om te kom en sy seun gesond te maak, want hy het op sterwe gelê. 48Jesus sê toe vir hom: “As julle nie tekens en wonders sien nie, glo julle eenvoudig nie.” 49En toe sê die amptenaar vir Hom: “Here, kom tog voordat my kindjie sterwe.” 50Maar Jesus sê vir hom: “Gaan maar huis toe, jou seun lewe.” Die man het geglo wat Jesus vir hom gesê het, en gegaan. 51Toe hy nog op pad was, het sy werksmense hom al tegemoet gegaan en vertel dat sy kind lewe. 52Hy vra hulle toe presies wanneer hy begin beter word het, en hulle antwoord hom: “Gistermiddag een-uur het die koors hom verlaat.” 53Die pa het toe besef dat dit op dieselfde oomblik was waarop Jesus vir hom gesê het: “Jou seun lewe.” En hy en sy hele huisgesin het tot geloof in Jesus gekom. 54Dit was die tweede wonderteken wat Jesus gedoen het nadat Hy weer uit Judea na Galilea toe gekom het.

3.    TWEE WONDERWERKE:
In hierdie paragraaf van Johannes 4 sien ons ’n tweede wonderwerk van Jesus wat eintlik uit twee wonderwerke bestaan.

Kom ons begin egter voor. Ons sien in v.44 dat Jesus iets baie eienaardigs van Homself sê ~ Hy het self verklaar dat ’n profeet nie in sy eie land geëer word nie. Dit is amper asof ’n mens wil vra, maar is Hy dan nie God nie? Kon Hy nie geweet het wat in v.45 gaan gebeur nie? Ons sien in v.45 dat presies die teenoorgestelde (oënskynlik) gebeur, want toe Hy in Galilea kom, het die Galileërs Hom verwelkom. Waarom sou Jesus gesê het wat Hy gesê het? Waarom het Hy op die oog af gesê dat Hy nie in Sy eie land geëer word nie, as die mense Hom dan verwelkom?

Hierdie uitspraak van Jesus is presies dieselfde as wat Hy vroeër in Nasaret gemaak het, toe Hy in Matt.13:57 gesê het ~ ’n Profeet word oral erken behalwe in die plek waar hy grootgeword het, en in sy familiekring.

Wat ons hier van Jesus hoor, was waarskynlik juis ’n demonstrasie van Sy alwysheid, want al was Hy op hierdie stadium vriendelik in Galilea ontvang, het Hy onthou wat nie lank terug gebeur het, toe die mense van Sy tuisdorp in Nasaret, nadat Hy vir hulle in die sinagoge gepreek het, hulle so die harnas in gejaag was, dat hulle Hom uit die stad gejaag en by ’n krans wou afgooi (Luk.4:25). Later weet ons, het hulle Hom só verag, dat hulle Hom oorhandig het, om gekruisig te word.

Omdat Hy geweet het wat in die toekoms in Sy eie tuiste gaan gebeur, maar ook gedagtig aan wat so pas, in die oë van die Jode, in die veragtelike Samaria gebeur het, maak Hy hierdie uitspraak. Die Samaritane verheerlik my, maar my eie mense gaan my verwerp, daarom dat Hy sê ~ ’n Profeet word oral erken behalwe in die plek waar hy grootgeword het, en in sy familiekring.

Vir die huidige ontvang die mense van Galilea, Jesus egter nog met ope arms, want hulle het alles gesien wat Hy gedurende die feesvierings in Jerusalem gedoen het, want hulle was self ook by die Paasfees (v.45b). Het Jesus hierdie gulde ontvangs geniet, omdat die mense opgewonde was oor wat Hy vir hulle kon doen, of was dit soos met ’n suksesvolle Springbokspan wat van oorsee af terug keer en deur ’n nuuskierige en jillende massa mense op die lughawe terug verwelkom word en met harte wat swel, want "ons seuns het goed gedoen oorsee!" Jesus was immers ’n boorling van Galilea? Wat die geval ook al mag wees – Jesus word vir die huidige terug verwelkom in Galilea en dit is met afwagting dat die mense wag om te sien wat Jesus nou gaan doen.

Nog ’n vraag wat ons kan vra is waarom Jesus weer terug gegaan het na Galilea – dit terwyl Hy weet hoe Sy eie mense ten diepste oor Hom voel? Waarom gaan Hy weer na mense wat Hom verwerp?
·           Wel, eerstens glo ek, het Hy dit gedoen omdat dit God se wil was dat Hy weer daarheen moes gaan en Jesus sou en het nooit geskroom om God se wil te doen nie – ten spyte van wat die gevolge ook al mag wees.
·           Hy het egter ook, in die tweede plek, ’n "afspraak" gehad met ’n familie wat uitverkorenes was en wat "ingebring moes word in die Koninkryk".
·           In die derde plek glo ek, het Jesus terug gegaan Galilea toe, juis omdat Hy nie die vorige keer goed ontvang was daar nie en Hy geweet het dat die Galileërs die Evangelie broodnodig gehad het.  

Terug by die skare wat Jesus ontvang het in Galilea. Dit was nie lank nie of daar kom ’n desperate regeringsamptenaar na Jesus – sy seun is ernstig siek! Hy vra vir Jesus om Sy seun te genees. Hy is raadop, want niks wil help nie en daarom kom hy al die pad van Kapernaum af (sowat 35 km. van waar Jesus Hom bevind), of was hy regtig raadop? Het hy nie dalk ten diepste geglo dat Jesus waarlik God is en daarom sy seun kon genees nie? Ons sal nie regtig weet nie en tog sal vv.50-54 vir ons meer lig hierop werp.

Met die lees van hierdie gebeure waar ’n klomp mense byeen was en die amptenaar vir Jesus vra om sy seun te genees, kan ’n mens amper die opwinding en opgewondenheid onder die Galileërs aanvoel – hier kom iets! Hulle kan hulle nuuskierigheid nie verder in bedwang hou nie! Wat is Jesus se reaksie hierop? Hy kyk hulle aan en Hy sê vir hulle ~ As julle nie tekens en wonders sien nie, glo julle eenvoudig nie (v.48). Hierdie was nie ’n teregwysing wat gerig was tot die amptenaar nie, maar dit was ’n klap van Jesus se kant wat Hy gemik het na die klomp Galileërs wat net getrakteer wil word met wonderwerke – dit gaan nie vir hulle oor Jesus die Here nie! Hulle het ’n honger na opwinding en nie na verlossing nie – hulle sien Jesus net as ’n "miracle worker" – ’n mens kan amper sê ’n towenaar of ’n goëlkunstenaar wat mense vermaak.

Daar is baie kommentators wat reken dat Jesus se teregwysing ook tot die ampsdraer gerig was en sommige reken dit was nét tot hom gerig. Ek glo egter nie dat dit die geval was nie. Hierdie man was desperaat – sy seun is besig om te sterf; hy het nie tyd vir vermaak nie en wêreldse middele het oënskynlik nie gehelp nie en daarom wend hy hom na hierdie Man Jesus wat nie ’n gewone man kon wees nie – nie op grond van wat hy reeds van Jesus gesien, of gehoor het nie (dalk in Jerusalem by die tempel, of by die bruilof toe Jesus die water in wyn verander het?). Al was sy geloof nog nie gevestig nie, was die saad reeds geplant en hy het net geweet dat Jesus anders was.

Jesus wat mense se harte ken en ook geweet het wat binnekort sou gebeur nadat die seun genesing ontvang het, laat my saam stem met enkele ander teoloë (al motiveer hulle dit nie) wat glo dat Jesus se teregwysing gemik was op die skare en nie op hierdie man nie.

In v.49 pleit die amptenaar by Jesus en dit is amper asof hy ongeduldig raak en vir Jesus sê: Los tog nou net hierdie geprekery, want my kind lê op sterwe en daar is nie meer tyd dat U nog met hierdie spul sensasiesoekers praat nie - Here, kom tog voordat my kindjie sterwe.

Jesus verras waarskynlik die omstanders met sy opdrag aan die amptenaar, toe Hy in v.50 vir hom sê ~ Gaan maar huis toe, jou seun lewe. In skrille kontras met die Galileërs, het hierdie man (net soos die Samaritaanse vrou by die put) geglo en ’n mens moet hierdie man se geloof waarlik bewonder, want hy het sonder aarseling omgedraai en homself na sy huis gehaas.

Wat hierdie man nie besef het nie, was dat sy seun genees is, die oomblik toe Jesus vir hom sê dat sy seun lewe, maar hy sou dit eers die volgende dag uitvind.

Hierdie gesprek tussen Jesus en die amptenaar het een-uur die middag plaasgevind (die sewende uur – Romeinse tyd). Omdat hy ver moes stap om by die huis te kom en dit gevaarlik was om gedurende die nag te stap, moes hy iewers oornag en die volgende oggend sy terugreis aangepak het. Op pad huis toe, kom sy werksmense hom tegemoet en breek die goeie nuus aan hom. Dit is baie interessant dat ons hier weer ’n geval het waar die diensknegte of werksmense weet wat aan die gang is nog voor diegene wat veronderstel is om dit te weet, dit besef – hier dink ons bv. aan die water wat verander het in wyn – daar het die diensknegte eerstehands gesien wat gebeur (Joh.2:9).

Toe die amptenaar vir sy werksmense vra wanneer sy kind gesond geword het en hulle hom antwoord, besef hy dat dit presies op dieselfde tyd was dat Jesus vir hom gesê het dat sy seun lewe – dit was die eerste wonderwerk wat hierdie gesin beleef het.

Verse 49-50 is twee verse wat ons nie maar net so terloops moet aanraak nie, want hierin lê veel dieper waarde opgesluit as wat dit dalk op die oog af lyk ~ En toe sê die amptenaar vir Hom: “Here, kom tog voordat my kindjie sterwe.” 50Maar Jesus sê vir hom: “Gaan maar huis toe, jou seun lewe.” Die man het geglo wat Jesus vir hom gesê het, en gegaan. 

Die amptenaar wou hê dat Jesus alles net so los en saam met hom huis toe gaan ten einde sy seun te genees. Jesus demonstreer weereens hier dat die wêreldse spreukwoord ~ om te sien is om te glo, in Sy Koninkryk net mooi andersom werk, nl. ~ om te glo is om te sien. Jesus verwag dus van hierdie man om huis toe te gaan sonder dat Jesus by is en hy sal vind dat sy seun genees is – hy moes dus glo sonder om te sien en dit is presies wat hierdie man gedoen het. Hy glo dat die menslik onmoontlike vir God geen probleem is nie. Hierdie man neem Jesus op Sy woord – hy trek dit nie in twyfel nie; hy redeneer nie daaroor nie; hy sê nie dis onmoontlik nie – hy glo en hy gaan!

Dit is so anders in ons dag – baie mense en veral teoloë in ons dag neem God nie meer op Sy Woord nie, nee hulle het slimmer geraak as God; hulle het god in hulle eie oë geraak. Hulle trek Jesus se maagdelike geboorte in twyfel; hulle trek Jesus se opstanding uit die dood in twyfel; hulle sê dat die verhaal van Jona ’n fabel is, ens. Die probleem met sulke mense is dat wanneer hulle so begin redeneer, hulle ook moet sê dat die Israeliete se "Rooi See-ervaring" ’n mite is. Wanneer ’n mens so met die Woord begin omgaan, begin jou geloof in die Woord en uiteindelik in God, stadig maar seker in mekaar tuimel en word jy uiteindelik ’n ongelowige en is jy verlore en verdoem tot ’n ewige lewe in die hel. As ons in een deeltjie van die Woord begin twyfel, begin alles in duie stort en glo ons op die ou einde glad nie meer nie (al dink ons dalk ons glo!). So gepraat van Jona en hedendaagse teoloë – Augustinus het al in 409 n.C. gesê dat die verhaal van Jona ’n grap vir die ongelowiges was, maar weet u, Jesus het in die outentiekheid van die Jona-verhaal geglo, want in Matt.12:38-42 en 16:1-4 verwys Jesus na Jona as profeet wat drie nagte lank in die maag van ’n vis was en sê Hy ook aan die Skrifgeleerdes dat hulle in die toekoms, saam met "Jona se Nineviete" voor God se Regterstoel sal staan. As "slim mense" vandag sê dat Jona ’n mite is, dan trek hulle ook Jesus se woorde en derhalwe Sy bestaan in twyfel en sal hulle óók saam met die Skrifgeleerdes en "Jona se Nineviete" voor God se Regterstoel verantwoording doen vir hulle ongeloof en "slimmighede".

Hierdie ampsdraer was egter anders – hy het Jesus op Sy woord geneem, geglo en huis toe gegaan – vol vertroue dat sy seun genees is.

Daar was ook ’n tweede wonderwerk wat in die lewe van hierdie ampsdraer en sy gesin plaasgevind het.  

Ons lees hierdie wonderlike woorde in vv.53b-54 ~ En hy en sy hele huisgesin het tot geloof in Jesus gekom. 54Dit was die tweede wonderteken wat Jesus gedoen het nadat Hy weer uit Judea na Galilea toe gekom het. 

Iemand het dit op ’n keer pragtig gestel, toe hy gesê het, dat hierdie man se geloof van "krisisgeloof" gevorder het tot "vertrouensgeloof", toe hy nie kans gesien het om gedurende die nag terug te keer huis toe nie, maar eerder vas te hou aan Jesus se belofte dat sy seun lewe. Die volgende dag egter, groei sy geloof van "vertrouensgeloof" tot "bevestigende geloof", toe hy sy seun springlewendig en gesond by die huis vind – en die gevolg? Hierdie amptenaar word deur Jesus aangeraak en nie net hy alleen nie – hy en sy hele gesin! Hy en sy hele huisgesin het tot geloof in Jesus gekom. Dit is die tweede wonderwerk in hierdie verhaal van die amptenaar.

Is dit nie eienaardig dat ons gereeld in die Nuwe Testament sien dat die verstotelinge en die "godsdiensloses", die eerstes is wie die Evangelie ontvang en aanvaar nie? Dit is die prostituut en nie die Fariseërs nie. Dit is die jonger "wegloop-kind" en nie die ouer en getroue broer nie. Dit is waarom Jesus in Mark.2:17 sê ~ Dié wat gesond is, het nie ’n dokter nodig nie, maar dié wat siek is. Ek het nie gekom om mense te roep wat op die regte pad is nie, maar sondaars.

Wat egter verder uitstaan t.o.v. hierdie amptenaar, is die feit dat hy nie net ’n verstoteling is, as dit kom by die Fariseërs nie, maar hy is aan die anderkant ’n ryk en invloedryke man. Invloedryk, omdat hy in Grieks genoem, ’n βασιλικός (basilikos) was – dit is ’n woord wat in verband gebring word met ’n koninklike, maar omdat hy, gesien in die lig van die politieke sisteem en situasie op daardie stadium, nie ’n koning was nie, moes hy ’n invloedryke koninklike amptenaar gewees het en hy moes ook baie geld gehad het, omdat hy diensknegte (meervoud) gehad het.

Ons het dus hier te doen met ’n ryk en invloedryke man, maar wat aan die "anderkant" van die godsdienstige sisteem as die Fariseërs staan en tog word hy en sy gesin deur die Evangelie geraak en getransformeer. Hierdie is dus vir ons ’n pragtige voorbeeld daarvan dat die verlossingsboodskap van die Evangelie van Jesus Christus vir alle mense bedoel is – of dit nou arm of ryk is; of dit swart of wit is; of dit werke-gedrewe godsdienstige, of wettelose uitgeworpene is – ook vir jou!

Hierdie verhaal van die amptenaar en die ervaring van twee wonderwerke in sy en sy gesin se lewe, moet ons laat besef dat ons, ons nie net moet blindstaar teen die wonderwerk alleen nie, ons moet Jesus agter hierdie wonderwerke raaksien. Die amptenaar het hom nie alleen in sy seun se genesing verheug nie; ook het hy nie net vir Jesus geloof nie – hy het in Jesus geglo – hy en sy huisgesin. Hulle het Jesus agter die wonderwerk raakgesien en hulle nie blind gestaar teen die wonderwerk nie.

4.    AFSLUITING:
Die Galileërs het Jesus om wonderwerke gevra, maar hierdie ampsdraer het Jesus se woord geglo – dit is waarom Jesus in Joh.20:29 sê ~ Glo jy nou omdat jy My sien? Gelukkig is dié wat nie gesien het nie en tog glo. Waar staan jy? Soek jy ook wonderwerke in jou lewe voor jy sal glo, of glo jy soos ’n kind? Jesus het in Matt.18:3 gesê ~ As julle nie verander en soos kindertjies word nie, sal julle beslis nie in die koninkryk van die hemel kom nie.

Neem jy ook God op Sy Woord, of moet daar eers iets spesiaals in jou lewe gebeur, voor jy glo?

Laat al hierdie "geestelike modder-gooiery" in die pers en selfs op Facebook, jou wonder oor God se soewereiniteit; begin jy twyfel in dele van God se Woord as gevolg hiervan, of glo jy steeds soos ’n kind (Matt.18:3)?

Wanneer iets wonderliks in jou lewe gebeur (’n wonderwerk) en jy nie kan stilbly daaroor nie – waarop val jou fokus wanneer jy daaroor praat – op die wonderwerk, of op Jesus Christus?

Onderskryf jy nog die 1689 Baptiste Geloofsbelydenis met jou hele hart en dan spesifiek die gedeelte wat lees: The whole counsel of God concerning all things necessary for His own glory, man's salvation, faith and life, is either expressly set down or necessarily contained in the Holy Scripture, to which nothing is to be added at any time, either by new revelation of the Spirit, or by the traditions of men? Of as jy wil Artikel 3 van die Nederlandse Geloofsbelydenis wat as volg lees: Ons bely dat hierdie Woord van God nie deur die wil van 'n mens gestuur of voortgebring is nie, maar die heilige mense van God het dit, deur die Heilige Gees gedrywe, gespreek, soos die heilige Petrus sê (2 Pet 1:21). Daarna het God deur sy besondere sorg vir ons en ons saligheid sy knegte (profete en apostels) beveel om sy geopenbaarde Woord op skrif te stel en Hy self het met sy vinger die twee tafels van die wet geskrywe. Daarom noem ons sulke geskrifte die heilige en Goddelike Skrif (2 Pet. 1:21; Ps. 102:19; Eks. 17:14; (Deut. 3); Eks. 34:27; Deut. 5:22; Eks. 31:18)?

Geliefdes, ons speel ’n uiters gevaarlike "geestelike speletjie" as ons God se Woord in twyfel begin trek – as ons begin wonder of dele nie tog dalk mites is nie, of nóg meer subtiel, wanneer ons begin sê dat dele van die Skrif nie meer op ons moderne era van toepassing is nie. As ons dit begin doen, staan ons op die rand van ’n "geestelike afgrond" en is ons koersvas op pad na ’n duistere toekoms – ’n duistere ewige lewe!


[1] Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te VAALDRIEHOEK Baptiste Gemeente (Vereeniging) - Sondagoggend 11 Desember2011