Saturday, 7 January 2012

Sewe Briewe aan Sewe Gemeentes - 01 (Die Gemeente in Efese)

1.     INLEIDING:
In hoofstukke 2 en 3 van die profesie van Openbaring, vind ons briewe wat Johannes aan sewe gemeentes in Klein-Asië geskryf het, nadat Jesus Christus dit aan hom gedikteer het.  Hierdie gemeentes aan wie Johannes sy briewe rig, was Efese (2:1-7), Smirna (2:8-11), Pergamum (2:12-17), Tiatira (2:18-29), Sardis (3:1-6), Filadelfia (3:7-13) en Laodisea (3:14-22).  Hierdie was werklike gemeentes wat bestaan het in die tyd wat Johannes hierdie apokalips (openbaring van God) ontvang het.  Ook het die toestande t.o.v. van die gemeentes, soos beskryf in Openbaring, werklik in daardie spesifieke gemeentes geheers.

Hierdie toestande wat in hierdie sewe gemeentes geheers het, is dan ook realiteite wat in die kerk in die breë vandag nog voorkom.  Elke gemeente ervaar dus op een of ander stadium van haar lewe, een of meer van hierdie toestande – dalk al sewe gelyktydig!  Elke gemeente ervaar dus van tyd tot tyd (oor korter en soms langer stadiums) dinge wat prysenswaardig is; of afkeurenswaardig is; of dinge wat verbetering en/of verandering benodig.

Al was hierdie briewe dus oorspronklik vir sewe spesifieke gemeentes bedoel, dien dit vandag nog as bloudruk vir die kerk van ons dag, waaraan ons onsself moet meet.  Ons as gemeente en die kerk in die algemeen moet haarself dus voortdurend aan al sewe hierdie briewe meet en moet ons as individue, maar ook as gemeente saam, ons opnuut verbind daaraan om te wees wat Christus wil hê ons as gemeente moet wees. Laat ons dus deeglik kennis neem van wat aan hierdie gemeentes gesê is; laat ons, onsself (weereens: individueel en as gemeente) daaraan meet; ons bekeer en ons daarop toespits en daaraan wy om die individu en die gemeente te wees wat Christus – ons Hoof – wil hê ons moet wees.

Ons vind ’n algemene patroon in die struktuur van elk van hierdie sewe briewe:
·           Elke brief is deur Christus aan ’n spesifieke gemeente gerig.
·           Elke brief stel die Hoof van die plaaslike gemeente (Christus Jesus) voor as ’n spesifieke karakter, of beeld.
·           Elke brief onthul ondubbelsinnig dat Christus oor volkome kennis beskik t.o.v. die toestand van daardie spesifieke gemeente.
·           Met die uitsondering van een gemeente, ontvang elke gemeente een of meer lofuitinge.
·           Met die uitsondering van twee gemeentes, ontvang elke gemeente kritiek oor een of meer situasie(s) wat in die gemeente bestaan.
·           Elke gemeente ontvang ten minste ’n vermaning.
·           Elke gemeente ontvang een of ander belofte t.o.v. getrouheid.

Kom ons kyk net eers na ’n kort opsomming van elk van die gemeentes, voor ons na elke gemeente individueel kyk:
DIE SEWE GEMEENTES IN KLEIN-ASIË
Die Geadres-seerde Gemeente
Beeld van Christus
Christus se Aanprysing
Christus se Bestraffing
Christus se Raad
Christus se Belofte
Efese
(2:1-7)
Hoof van die Kerk en altyd teenwoordig in Sy Kerk
Ywer, volharding en suiwerheid van leer en dissipline
Verlies van Eerste Liefde
Bekering en terugkeer na vroeëre werke
Boom van die Lewe
Smirna
(2:8-11)
Die Ewige Een en die Eerste uit die dood
Volharding deur vervolging, armoede en lastering
Geen
Vreesloos en getrou tot die dood
Kroon van die Lewe en immuniteit teen die ewige dood
Pergamum (2:12-17)
Besitter van die tweesnydende swaard
 Standvastig en getrou aan Christus
Staan onverskillig t.o.v. dwaalleer; immoraliteit en afgodery
Bekering
Verborge manna; Wit Keursteen en ’n Nuwe Naam
Tiatira
(2:18-29)
Seun van God met oë soos vlammende vuur en voete soos blinkkoper
Liefde, diensbaarheid, geloof en geduld
Verdra immoraliteit en afgodery
Volharding tot die einde
Mag om oor die Nasies te regeer en die Môre Ster
Sardis
(3:1-6)
Besitter van sewe Geeste en sewe sterre
Huisves ’n getroue groep van die uitverkorenes
Dooie Kerk maar het die naam dat hul leef
Waaksaamheid, bevestiging van oorblywende deugde
Naby wandel met Christus, wit kleed, name in Boek van die Lewe
Filadelfia (3:7-13)
Heilig, Waar en besitter van Dawid se Sleutel
Getrouheid aan Christus se Woord en Naam
Geen
Volharding in geloof en goeie werke
Vyand buig voor hulle; beskerm en geëer word
Laodisea (3:14-22)
Die Amen, Getroue en Ware Getuie en Regeerder van God se Skepping
Geen
Louwarm
Soek Goddelike hulp
Sit saam met Christus op Sy Troon



Kom ons kyk dan na die eerste gemeente aan wie Johannes geskryf het, nl. die gemeente in Efese.

2.    SKRIFLESING:
Openb.2:1-7 ~ Skrywe aan die leraar van die gemeente in Efese: So sê Hy wat die sewe sterre in sy regterhand vashou en wat tussen die sewe goue lampe rondgaan: 2Ek weet alles wat julle doen. Ek ken julle onvermoeide arbeid en julle volharding. Julle kan nie slegte mense verdra nie. Julle het ondersoek ingestel na die mense wat voorgee dat hulle apostels is, en dit nie is nie, en gevind dat hulle leuenaars is. 3Verder volhard julle ook; julle het baie vir my Naam verduur, en julle het nie moeg geword nie. 4Maar Ek het dít teen julle: julle het My nie meer so lief soos in die begin nie. 5Dink daaraan hoe ver julle al agteruitgegaan het. Bekeer julle en doen weer wat julle in die begin gedoen het. Anders, as julle julle nie bekeer nie, kom Ek na julle toe en sal Ek julle lamp van sy plek af wegvat! 6Maar dít het julle darem in julle guns: julle verafsku wat die Nikolaïete doen, net soos Ek dit ook verafsku. 7Elkeen wat kan hoor, moet luister na wat die Gees vir die gemeentes sê. Aan elkeen wat die oorwinning behaal, sal Ek te ete gee van die boom van die lewe, wat in die paradys van God is.


3.    DIE GEMEENTE IN EFESE (2:1-7):
·           Die Geadresseerde Gemeente: 
In vers 2:1a sien ons wie die geadresseerde gemeente van hierdie eerste brief is, nl. Efese ~ Skryf aan die engel van die gemeente in Efese (O.A.V.), of volgens die N.A.V. ~ Skrywe aan die leraar van die gemeente in Efese.  Hierdie brief word direk gerig aan die engel of die leraar van die gemeente in Efese. 

Hierdie gemeente is in ongeveer 60-63 n.C. deur Paulus gestig en met die Woord “gevoed” (Hand.18:19-21; 19:1; 20:16-38).  Hierdie brief uit Patmos word dus so kort as 35 jaar na die stigting van die gemeente aan hulle gestuur.  Die gemeente van Efese was waarskynlik op haar dag, die sterkste gemeente in Klein-Asië, maar dit is hartseer om te sê dat hierdie gemeente vandag nie meer bestaan nie, behalwe vir ’n paar bouvalle, want die primêre rede hiervoor en die feit dat Islam hierdie gebied vandag oorheers, is o.a. omdat die gemeente haarself nie voortdurend gemeet het aan die brief wat gedurende die eerste eeu by haar afgelewer is nie en haarself nie bekeer het nie.

Ten spyte van die feit dat hierdie gemeente in ’n "duistere stad" gevestig was (die Tempel van Diana – een van die sewe wonders van die antieke tyd – was bv. in Efese gesetel) en dat die vervolging teen Christene geweldig fel was (Hand.19:8-9, 21; 20:18-19), was hierdie ’n gemeente wat in ’n uiters bevoorregte posisie verkeer het – die “grootte” Apostel Paulus het hierdie gemeente geplant en die eerste groep gemeentelede het aan Paulus se voete gesit!  Paulus het die Woord hier vir drie jaar lank bedien – langer as by enige ander gemeente ooit (behalwe natuurlik sy tuisgemeente in Antiochië). Mense van statuur het saam met hom daar gewerk en ook die gemeente ná Paulus se tyd, bedien met die Woord – hulle was dus medewerkers met Paulus en het meegehelp om die fondasie van hierdie gemeente te lê – mense soos Akwila (Hand.18:19,26), Apollos (18:24-28) en Timoteus (1Tim.1:3) – Dink jou in:  Jy sit aan hierdie formidabele manne se voete om van die Woord te leer!  Asof dit nie genoeg is nie, ontvang hierdie gemeente ook nog Johannes se eerste brief wat hy vanuit die tronk geskryf het – nie ’n ander gemeente nie, Efese. Volgens Ef.1:1 was dit in ongeveer 60 n.C. 

Ons het dus hier te doen met ’n gemeente waarvan die fondasies baie deeglik in die Woord gelê is.  Dit is verder ’n gemeente wat in ’n ryk, bekende en vooruitstrewende stad geleë was – ’n stad wat bekend was vir sy handel, maar ook vir die Tempel van Diana (Hand.19:23-27).  Met soveel weelde en oorvloed is korrupsie en sonde, natuurlik ook dikwels die natuurlike gevolg.

·           Die Beeld van Christus:
In die tweede gedeelte van v.1, word aandag geskenk aan die beeld van Christus, deur dat daar twee dinge t.o.v. Christus gesê, nl. ~ So sê Hy wat die sewe sterre in sy regterhand vashou en wat tussen die sewe goue lampe rondgaan (Openb.2:1b).  Eerstens word gesê dat Hy “die sewe sterre in Sy regterhand vashou”  Met hierdie bekendstelling, onthul Christus Homself as die Hoof van die Kerk en dit impliseer dus dat alle die beheer en die regering van die Kerk ondergeskik is aan Christus

In Openb.1:20 is "die sewe sterre" reeds geïdentifiseer as die Kerkleiers van gemeentes, wat onder die leiding en beheer van Christus staan.  Kerkleiers moet altyd hiervan bewus wees, want heeltemal te veel kerkleiers tree deesdae op, asof gemeentes onder hulle direkte beheer staan – so asof hulle die soewereine leiers van die gemeente is.  Hulle gebruik en misbruik die finansies van die gemeente asof dit hulle s’n is en selfs gemeentes wat onder sy bediening geplant word, bly staan onder sy diktatuur.  Niemand mag sy optrede in twyfel trek nie, want hy is nie verantwoording verskuldig aan enige iemand nie.  

Dit is opmerklik dat ons in v.2b sien dat Christus die sewe sterre in Sy regterhand vashou.  Die regterhand word gewoonlik beskou as ’n hand van krag ~ Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God. Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red Ek jou (Jes.41:10).  Die Here Jesus regeer dus Sy kerk met ’n ferm hand.  Hy gee dan ook aan die Kerk ’n vaste fondasie in die vorm van die Woord van God.  Aan die hand van hierdie fondasie moet die Kerk dan ook regeer word en daarom het geen leier absolute mag of beheer oor die gemeente nie en geeneen het die reg om die Kerk buite die mandaat van die Woord te lei nie.  Alle leiers en lidmate staan dus onder leiding van die Here Jesus Christus – Hý is die Opperherder.

Voorgangers van gemeentes word derhalwe deur Christus geroep, toegerus en gestuur.  Voorgangers staan dus onder Christus se gesag en leiding.  Dit impliseer verder dat die Kerk, voorgangers dus moet sien as sondige mense, maar toegerus, geroep en verhef bo die ander lidmate in die gemeente en wel op grond van die feit dat Christus die voorgangers in Sy regterhand vashou.

Tweedens sien ons ook in v.2b, dat Christus tussen die sewe goue lampe rondgaan – dit beteken dat Christus intens betrokke is by al Sy gemeentes – selfs by die gemeentes se alledaagse doen en late.  Waar Sy kinders ook al byeen is, is Hy teenwoordig – daarom dat daar in Matt.18:20 staan ~ ...want waar twee of drie in my Naam saam is, daar is Ek by hulle.  Waarom is Hy so intens teenwoordig en betrokke?  Om Sy kinders te lei en te seën.  Christus is voorwaar alomteenwoordig en almagtig en daarom ontglip geen enkele aktiwiteit of motief Sy aandag nie.  Hierdie wete laat ’n mens sidder en noop ’n mens terselfdertyd om toe te sien dat jou leer (“doctrine”) en optrede altyd sal getuig van suiwerheid en gehoorsaamheid aan die Woord.  Aan die anderkant egter, behoort dit alle gelowiges wat in die Waarheid wandel, te bemoedig en te vertroos, omdat hulle weet dat die Trooster altyd in hulle midde is.

·           Christus se Aanprysing:
Ons vind Christus se aanprysing in Openb.2:2-3 ~ Ek weet alles wat julle doen. Ek ken julle onvermoeide arbeid en julle volharding. Julle kan nie slegte mense verdra nie. Julle het ondersoek ingestel na die mense wat voorgee dat hulle apostels is, en dit nie is nie, en gevind dat hulle leuenaars is. 3 Verder volhard julle ook; julle het baie vir my Naam verduur, en julle het nie moeg geword nie.  Verskeie dinge in die gemeente in Efese was prysenswaardig in die oë van die Here.  Eerstens, was dit hulle ywer.  Hierdie was nie ’n gemeente vol luiaards en toeskouers, wat alles aan die ouderlinge en diakens of leierskap oorgelaat het om te doen nie.  Elkeen het presies geweet wat van hom of haar verwag is en watter rol hulle moes vervul en hulle het dit ook met ywer gedoen en waarskynlik met die minimum toesig.  Hierdie was ’n deug wat baie tyd en energie gevra het en die alwyse Christus het dit raakgesien, soos wat Hy ook al ons deugde (of passiwiteit?) raaksien.

Tweedens het Christus, hulle geprys vir hul volharding. Hierdie gemeente het onder moeilike omstandighede gearbei – onthou, hulle gemeente was in ’n bose gemeenskap gesetel, waar daar ernstige vervolging teen gelowiges geheers het. Nogtans volhard hierdie gelowiges getrou en geduldig. Hulle het meer gedoen as bloot net om te oorleef, daar was vrug op hulle arbeid.

Derdens was hierdie gemeente se optrede en leer (“doctrine”), stewig gegrond in die Woord en het ons hier te doen met ’n gemeente wat oënskynlik alles denkbaar beleef het wat ’n gemeente maar kon beleef, maar nogtans was hulle geduldig en het hulle gedissiplineerd opgetree.  Te midde van teenkanting en vervolging en verguising en blootstelling aan vals leer, was hulle nogtans geduldig en gedissiplineerd.  Hierdie geduld en dissipline, onder hierdie omstandighede was welgevallig in die oë van die Here.  Hierdie gemeente was uitverkoop aan die feit dat die kerk suiwer moes bly.  Hierdie oortuiging van hulle was gekenmerk deur hulle onverdraagsaamheid jeens boosaards, slegte mense en bedrieërs – hulle het die kerklike tug toegepas en het nie sonde in hul midde toegelaat nie.  Hulle het onwrikbaar op die Woord gestaan en was daarom selfs bereid om as wetties geëtiketteer te word – in kort, hul was absoluut ernstig oor heiligmaking.

Dit is interessant om te sien en te besef dat elke era, sy eie kwota bedrieërs en dwaalleraars oplewer, maar tydens elkeen van hierdie eras, is daar nie baie gelowiges wat hierdie boosaards ontbloot en teëstaan nie.  Die vraag is waarom die ander ses gemeentes, maar ook mense in ons tyd, nie altyd kans sien om boosaards te ontbloot en teë te staan nie?  Waarskynlik die grootste en belangrikste rede hiervoor, is ’n vrees vir mense en wanneer jy mense vrees, vrees jy God baie minder en dit is sonde.  Tot haar krediet, het die gemeente in Efese God egter meer gevrees as mense en daarom het hulle opgetree teen hierdie boosaards.

Hierdie gemeente in Efese het leerstellig korrek opgetree en het vals leer geïdentifiseer en het geweier om gemeenskap met mense te hê wat immoreel was – ons sien dit in hulle afsku wat hulle in die Nikolaïete gehad het (Openb.2:6).  Dit is dus duidelik dat die lering wat die grondleggers van hierdie gemeente gelê het, ter harte geneem is deur die lidmate en dat hulle dit nie net by kop kennis laat bly het nie, maar dat hulle dit in die praktyk toegepas het.

Vierdens was hulle aangeprys oor hulle onderskeiding. Hulle het waarskynlik Paulus se waarskuwing in Hand.20:28-31a voortdurend in gedagte gehou ~ Pas julle self op en die hele kudde wat die Heilige Gees onder julle sorg gestel het. Soos wagters ’n kudde versorg, so moet julle die gemeente van God versorg wat Hy vir Hom verkry het deur die bloed van sy eie Seun. 29Ek weet dat daar ná my vertrek wrede wolwe onder julle sal indring, en hulle sal die kudde nie ontsien nie. 30Ja, uit julle eie geledere sal daar mense na vore kom wat met leuens die gelowiges agter hulle aan sal probeer verlei. 31Wees waaksaam.... Hulle het m.a.w. nie toegelaat dat enige persoon wat homself voorgedoen het as ’n prediker, die Woord daar bedien het nie, want hulle was ernstig oor die handhawing van die suiwere leer en verkondiging van die Woord van God.

In die vyfde plek het Christus, hulle aangeprys vir hulle diensbaarheid. Christus het geweet dat hulle leuse, "Soli Deo Gloria" was (alle eer aan die Here). God se eer was hulle strewe en prioriteit en hulle was nie bereid om kompromie met die wêreld en allerlei dwaalleringe wat die ronde gedoen het, te maak nie.

Laastens het Christus, hulle aangeprys vir hul suiwere leer. In v.6 sien ons dat Christus vir hulle sê ~ ...julle verafsku wat die Nikolaïete doen, net soos Ek dit ook verafsku. Die gemeente in Efese het die regte dinge gehaat, omdat hulle leerstellig, suiwer was en hulle het geweier om te buig onder vals leer. Weereens het hulle gehoor gegee aan Paulus se woorde in Ef.4:14 ~ Dan sal ons nie meer kinders wees nie; ons sal nie meer soos golwe op en af en heen en weer geslinger word deur elke wind van dwaalleer as vals leraars ons met hulle slinksheid en listigheid op dwaalweë wil wegvoer nie.

As ons na die laaste vier aanprysings van die Here Jesus kyk, sien ons dat die gemeente in Efese onverdraagsaam was, maar onverdraagsaam oor die regte Bybelse sake. In hierdie dae ervaar ons presies die teenoorgestelde in die wêreld, maar ook in so baie kerke en sogenaamde kerklike kringe, waar "toleransie" of verdraagsaamheid t.o.v. alles en almal gepredik word en is jy fundamentalisties en wetties en vanuit die oude doos as jy onwrikbaar staan op dit wat die Woord en die Woord alleen leer.

·           Christus se Bestraffing:
Na al hierdie pragtige aanprysing kom Christus egter nou ook soos in die res van die sewe briewe en vind ons ook hier, dat  Christus die gemeente ernstig aanspreek en bestraf – Openb.2:4 ~ Maar Ek het dít teen julle: julle het My nie meer so lief soos in die begin nie.  Hier vind ons ongelukkig ’n hartseer kant by die suksesverhaal van die gemeente in Efese – hulle het Christus nie meer so lief soos in die begin nie!  Dit is dus amper so asof die Efesiërs al die regte dinge gedoen het, soos wat hulle geleer is, maar hulle harte was nie meer daar in nie – hulle harte het koud geword – hulle het hul, soos die O.A.V. en meeste Engelse vertalings dit stel, hul Eerste Liefde verlaat en die Here was so ernstig hieroor dat Hy die gemeente waarsku en sê dat indien hulle, hulle nie bekeer nie, Hy hulle lamp of hul kandelaar soos die O.A.V. dit noem, sal verwyder. 

Wat was die redes hiervoor?  Was dit die gejaagdheid in hierdie belangrike handelstad?  Wat die rede(s) ook al hiervoor was, daar is altyd bepaalde tekens wat daarop dui dat ons liefde vir Christus getaan het:
-        Minder aandag en tyd word spandeer aan oordenking van God en Sy Woord.
-        Minder vervulling word geput uit God se Woord; die prediking; gebed; die Nagmaal; evangelisasie; Christus gefokusde gemeenskap met ander heiliges; die gee van “tiendes” en ander offergawes.
-        Gewilligheid om betrokke te wees by teregwysing van andere oor sonde in hul lewe, of ’n gebrek aan gewilligheid om te getuig.
-        Gee nie om as verhoudinge taan nie en het ook nie motivering om versoening na te jaag nie.
-        Jy weerstaan die oortuigingswerk van die Heilige Gees as jy gesondig het en/of jy onderdruk enige skuldgevoelens oor sonde.
-        Jy put meer geluk by die wêreld en uit wêreldse geluk, as uit die geestelike.
-        Die leiding van die Heilige Gees maak al minder en minder sin vir jou en jy sukkel al meer en meer om God se wil in en vir jou lewe raak te sien.
-        Jou begeerte om God te verheerlik in en deur jou ganse lewe, is nie meer ’n prioriteit nie.

Die gevaar is dat ons baie toegewyd in ons godsdienstige lewe en diensbaarheid kan wees, waar dit gepaard kan gaan met al minder en minder liefde vir God – Hy teenoor en aan wie hierdie toewyding en diensbaarheid gemaak en gerig moet word – daarom kan selfs leerstellig korrekte gemeentes louwarm en selfs koud wees, want leerstellinge, konstitusies ens. alleen, verskaf nie immuniteit teen ’n verval in ons liefde vir Christus nie.

Geestelike veiligheid en stabiliteit lê opgesluit in ’n  Bybelse en stewige teologie wat gegrondves is in ’n opregte liefde vir Christus.  Leerstellinge en Godsvrug ontspring dus uit ’n diep en opregte liefde vir Christus Jesus. 

As ons na Christus se waarskuwing luister, moet ons egter ook vir mekaar sê dat wanneer Hy sê dat hulle, hul Eerste Liefde verlaat het, dit nie noodwendig ’n ieder en ’n elk in die gemeente insluit nie, maar God oordeel gemeentes korporatief, al is daar uitsonderings. Wat dus waar is van individue, is net so waar van die Liggaam van Christus – die plaaslike gemeente in geheel en andersom.  Een van die grootste redes wat lei tot ’n gemeente se afname in haar liefde vir Christus, is o.a. wanneer die prediking nie meer sonde aanspreek nie en wanneer sonde onder lidmate nie meer aangespreek word nie – en lg. is nie net die werk van die leierskap nie, maar elke lidmaat het ’n verantwoordelikheid wat dit aan betref.

’n Gemeente moet veral ook bedag wees op hulle liefde vir Christus, wanneer daar baie wisseling in lidmate plaasvind, want so ’n metamorfose het tot gevolg dat nuwe lidmate baie maklik nie dieselfde getrouheid en toewyding en liefde teenoor Christus openbaar en uitleef nie en daarom moet hulle deeglik deur medelidmate en die leierskap begelei word wat hierdie fasette betref.

Hierdie gemeente is skaars 15 jaar oud en hulle het die regte dinge geden, maar te midde daarvan, het hulle vergeet van hul aanvanklike toewyding aan die Here Jesus toe Hy hulle harte die eerste keer aangeraak het. Hul het dus nodig dat die vuur opnuut weer in hul harte sal opvlam.

A.W. Tozer skryf in sy boek, "The Pursuit of God" die volgende: The modern scientist has lost God amid the wonders of His world; we Christians are in real danger of losing God amid the wonders of the Word."  Ons kan leerstellig só korrek wees, maar wat toewyding en heiligmaking betref, kan ons só ver verwyder wees van die Waarheid.

·           Christus se Raad:
In vv5-6 gee Christus raad aan die gemeente in Efese ~ Dink daaraan hoe ver julle al agteruitgegaan het. Bekeer julle en doen weer wat julle in die begin gedoen het. Anders, as julle julle nie bekeer nie, kom Ek na julle toe en sal Ek julle lamp van sy plek af wegvat! 6 Maar dít het julle darem in julle guns: julle verafsku wat die Nikolaïete doen, net soos Ek dit ook verafsku. 

Hierdie verse verskaf soveel sekuriteit aan ons as gelowiges, want hier kan ons weereens sien dat God ons nooit alleen laat met ons tekortkominge en ons probleme nie.  Drie geneesmiddele of oplossings word vir die Efesiërs voorgeskryf, nl.:  Oordenking; Berou, Belydenis en Bekering.

Oordenking gaan daaroor dat ons dit wat goed was en dit waaroor ons beskik het, weer in herinnering sal roep.  Berou beteken om die wortel van ons louheid te identifiseer en dit te bely as sonde en dit neer te lê.  Bekering beteken om alles weer in die stryd te werp om my liefde vir Christus te herstel – en hoe doen ek dit?  Deur bg. lys van agt dinge om te skakel in positiewes, m.a.w. om byvoorbeeld weer my volle toewyding en aandag te skenk aan my “stiltetyd” (sien probleem # 1 hierbo), ens. 

Christus waarsku ons dat indien daar nie berou en bekering is nie, word die voortbestaan van die gemeente bedreig.  Enige vorm van sonde (hoe gering ook al) moet dus met wortel en tak uitgeroei word – indien die gemeente dus vir jou belangrik is, sál jy alles in die stryd werp om sonde onder gemeentelede (beginnende by jouself natuurlik) met wortel en tak uit te roei.

·           Christus se Belofte:
Die brief aan die Efesiërs sluit met ’n belofte af wat Christus aan die gemeente gee ~ Elkeen wat kan hoor, moet luister na wat die Gees vir die gemeentes sê. Aan elkeen wat die oorwinning behaal, sal Ek te ete gee van die boom van die lewe, wat in die paradys van God is (Openb.2:7).  1Kor.2:14 sê ~ Die mens wat nie die Gees van God het nie, aanvaar nie die dinge van die Gees van God nie.  Indien die geadresseerdes (en onthou dit sluit ons in) dan wederbaar is, is hulle gevul met die Gees van God en daarom moet hulle (en ons) luister na die teregwysing van die Gees t.o.v. hul liefde (individueel en korporatief) vir Christus. 

Die hoop op oorwinning oor hierdie probleem lê vir ons opgesluit in die woorde van 1Joh.5:4-5 sê ~ ...want enigeen wat ’n kind van God is, kan die sondige wêreld oorwin. En die oorwinning wat ons oor die wêreld behaal het, is deur ons geloof. 5 Wie anders is dit wat die wêreld oorwin as hy wat glo dat Jesus die Seun van God is?  As ons dus gehoorsaam is en die oorwinning behaal, sal ons te ete (kry) van die boom van die lewe, wat in die paradys van God is.


[1] Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te VAALDRIEHOEK Baptiste Gemeente (Vereeniging) - Sondagoggend 08 Januarie 2012

Saturday, 31 December 2011

En My God Sal In Elke Behoefte Ryklik Voorsien

1.    ONS BEHOEFTE:
Elkeen van ons betree vandag hierdie nuwe jaar met bepaalde behoeftes – of dit nou finansieel, of fisies, of geestelik is. Miskien wonder jy hoe jy hierdie jaar finansieel sal oorleef; jy wonder dalk of jy al jou verpligtinge sal kan na kom. Gaan my besigheid die syfers haal wat nodig is om my maatskappy doelwitte te bereik? Gaan ek nie dalk in hierdie jaar gerasionaliseer word nie? Sal jy in al jou familie se behoeftes kan voorsien? Miskien sukkel jy met ’n kwaal (waarvan nie een van ons dalk eers weet nie) en wonder, of hoop jy dat jy genesing sal ervaar. Miskien wonder jy of ons as gemeente nog aan die einde van 2012 sal bestaan, en so kan ons aangaan.

Daar is nie een van ons wat vanoggend hier bymekaar is wat nie geweldige geestelike behoeftes het nie. Sommige van ons weet presies waarna ons verlang in ons geestelike lewe, of wat tekort skiet in ons geestelike lewe, maar of dit nou die geval is of nie, elkeen van ons het geestelike behoeftes en ek kan dit sê, bloot op grond van die feit dat ons deel het aan die sondesmet wat voortspruit uit die sondeval. Ons het behoefte aan voortdurende reiniging en vergifnis van ons sondesmet en ons geestelike "mislukkings".

Ons het behoefte aan God se krag om staande te bly teen die geestelike aanslae wat ons ervaar en wat ons deurgaans deur hierdie nuwe jaar gaan ervaar. Trouens, ek moet eintlik sê dat ons behoefte het aan God se krag om nie net staande te bly nie, maar om in oorwinning te staan teen die daaglikse aanslae en versoekings van die bose en ons eie vlees.

Ons het verder, behoefte aan God se leiding en begeleiding deur hierdie jaar, anders kan en sal ons nie staande bly nie. Ons het behoefte en gaan behoefte hê aan God se wysheid, leiding, vertroosting, onderskeiding, ondersteuning, ens. Ons sal behoefte hê aan God se krag, geduld en hoop, wanneer ons beproewing van een of ander aard gaan ervaar.

Daar is talle ander behoeftes wat ons sekerlik nog kan opnoem en wat geweldige uitdagings aan ons kan en sal stel gedurende 2012 wat vandag ’n aanvang neem.

2.    DIE VOORSIENER:
As ons egter na Fil.4:19 kyk, sien ons dat die volgende woorde daar geskryf staan ~ En my God sal in elke behoefte van julle ryklik voorsien volgens sy wonderbaarlike rykdom in Christus Jesus. Hierdie vers wat Paulus neergepen het onder inspirasie van die Heilige Gees, is ’n wonderlike belofte wat ons saam met ons in hierdie nuwe jaar kan dra. Dit is ’n belofte wat ’n liefdevolle Vader maak aan elke gelowige wat bepaalde behoeftes in sy binneste rond dra. Dit is die Vader se hartsbegeerte om in Sy kinders se behoeftes te voorsien – wat meer is, daar is nie ’n enkele behoefte waarin Hy nie kan voorsien nie, want Hy is ons Almagtige Vader aan wie al die diere in die bos behoort en die wild op duisende berge (Ps.50:10).

Ons behoeftes is groot – oorweldigend groot, maar...... Hy wat ons Voorsiener is, is baie, baie groter en dit behoort vir ons te dien as geweldige bemoediging hier aan die begin van ’n nuwe jaar. Dit maak dus nie saak hoe ek voel en in watter omstandighede ek myself bevind nie – ek kan elke keer wanneer dit nodig is, saam met al die gelowiges deur die eeue heen sê ~ My God en my Vader – Hy ken my omstandighede en Hy het in Fil.4:19 belowe dat Hy in my, Sy kind se behoeftes sál voorsien! Dit is nodig dat ons hierdie feit vir onsself sal toe-eien; dit sal glo en daarop sal staan – en God selfs in nederigheid en in eerbied, daaraan sal herinner. Oordink hierdie feit – God sál in elkeen van my behoeftes, ryklik voorsien – dít is hoe God oor jou voel; dít is wat Hy van jou dink – Hy is voorwaar ons Voorsiener en wat meer is, dit is presies wat Hy in ons lewe wíl wees – ons (Sy kinders) se Voorsiener! Dink maar terug aan jou lewe as gelowige – was Hy nie elke keer daar, om in jou behoeftes op Sy unieke wyse en volgens Sy wil te voorsien nie. Baie keer voel dit in die situasie nie asof God ons Groot Voorsiener is nie, maar tog uiteindelik en by nabaat as ons mooi daaroor terug dink, sien ons dat Hy ryklik en oorvloedig voorsien het. Miskien het jy op ’n stadium alle materiële besittings verloor (dit het al met my en Jeanne gebeur), maar in die proses het die Here jou op ’n ander wyse geseën en versorg, of vertroos – sommige van julle het dalk alles op ’n stadium verloor – luukshede wat julle dalk tot vandag toe nog nie weer "terug gekry het nie", maar in die proses het jy Jesus Christus as Saligmaker en Koning in jou lewe ontmoet – is dit nie voorsiening nie!

Dink aan Jona – hy het swaar gekry en teen die Here met gebalde vuiste rondgeloop, maar aan die einde van die dag, as ons wat buitestaanders is, na sy lewe kyk, weet ons dat dit vir sy eie beswil en tot sy seën was dat God die pad met hom geloop het wat Hy geloop het. Dink aan Job – dieselfde storie. Job het al sy besittings verloor: ...sewe duisend stuks kleinvee, drie duisend kamele, vyf honderd paar trekosse, vyf honderd donkies en baie slawe (Job 1:3), maar erger nog, hy het ook, sewe seuns en drie dogters gehad  (Job1:2) en ook hulle is op een slag deur die dood van Job, weggeneem! Na al hierdie slegte nuus sê Job in v.21 ~ Sonder iets het ek in die wêreld gekom en sonder iets gaan ek daaruit. Die Here het gegee en die Here het geneem. Prys die Naam van die Here – Prys die Naam van die Here!

Job is na al hierdie verliese wat hy gely het, nog boonop getref deur pynlike swere. Job het deur erge depressie gegaan en sover gegaan om sy geboortedag te vervloek. Sy vriende het o.a. vir hom gesê dat dit hom nie eers sal help om tot God uit te roep nie. Hoor net wat sê Job steeds in Job 16:7-22 ~ Nou het God my afgetakel, Hy het my hele gesin uitgewis. 8Hy het my beetgepak, en dít dien as getuienis teen my; my vervalle toestand staan op en getuig teen my. 9God het my in sy toorn verskeur en vervolg, in sy woede het Hy my lewe bedreig, Hy, my Teëstander, deurboor my met sy oë. 10Mense rek hulle monde oor my, hulle beledig my, hulle sak op my toe. 11God het my oorgelewer aan slegte mense, Hy het my in die hande van goddeloses laat val. 12Ek het rustig gelewe, toe versteur God my rus, Hy het my aan die nek beetgepak en my vergruis. Hy het van my ’n teiken gemaak: 13sy pyle tref my hele liggaam, meedoënloos deurboor Hy my niere en my gal loop uit op die grond. 14Wond op wond dien Hy my toe, soos ’n soldaat storm Hy op my af. 15Ek het vir my ’n roukleed gemaak, my eer het in die stof verdwyn. 16Ek het my oë rooi gehuil, daar is swart kringe onder my oë. 17Tog is ek nie skuldig aan geweld nie  en is my gebed opreg. 18Moenie die onreg Teen my verberg nie, aarde, moenie dat my noodkrete tot rus kom nie. 19Selfs nou nog het ek ’n getuie in die hemel, Hy wat vir my getuig, is daar bo. 20My vriende het my bespotters geword, daarom pleit ek met trane by God 21dat Hy uitspraak lewer in die saak tussen ’n mens en Hom soos in ’n saak tussen ’n man en sy vriend, 22want my jare is min en gaan verby, en ek gaan na die plek toe waarvandaan niemand terugkom nie.” Job was, soos die Engelse sal sê: "down and out". God tree toe en in ’n gesprek met Job, oortuig God vir Job dat niemand soos Hy (God) is nie en uiteindelik kom Job tot hierdie slotsom wanneer hy in Job 42:2 sê ~ Nou weet ek dat U tot alles in staat is en dat U kan uitvoer wat U besluit. Job gee homself oor aan God en dan uiteindelik hoor ons wat Job se uiteinde was nadat God die Groot Voorsiener ingegryp het in Job se lewe ~ Die Here het die laaste deel van Job se lewe voorspoediger gemaak as die eerste: hy het veertien duisend stuks kleinvee, ses duisend kamele, twee duisend beeste en ’n duisend donkies gekry, 13en ook sewe seuns en drie dogters. 14Die oudste dogter het hy Jemima genoem, die tweede Kesia en die derde Keren-Puk. 15Nêrens in die land was daar vroue so mooi soos Job se dogters nie. Hulle pa het hulle saam met hulle broers laat erf. 16Job het nog honderd en veertig jaar gelewe. Hy het sy kinders en kindskinders tot in die vierde geslag gesien. 17Job het toe gesterf. Hy was oud en het ’n vol lewe gehad (Job 42:12-17).

Wanneer  ons in die Woord lees van God se voorsiening in mense soos Abraham en Noag en Gideon en Dawid en vele ander, moet ons nie dink dat dit net die geval met hulle was nie – hulle was hierdie geloofsreuse en daarom het God in hulle lewens voorsien – nee, hou Rom.2:11 in gedagte wanneer jy so begin redeneer ~ God trek immers niemand voor nie. Om dit dus met groot piëteit te sê, God het nie witbroodjies nie – Hy het al Sy kinders op dieselfde wyse en ewe veel lief – al is dit Dawid of Marius; Naomi of Sonja; Josua of Hugo; Johannes of Riaan – God behandel al Sy kinders op presies dieselfde wyse.

Daar is egter ’n paar belangrike vrae wat jy vir jouself moet afvra en dit is of God, waarlik jou Vader is? Het jy die realiteit van sonde in jou lewe al herken en erken? Het jy die behoefte aan verlossing en vergifnis in jou lewe ervaar? Het jy jou lewe al aan Hom toegewy en doen jy dit voortdurend in jou lewensgang? Maak jy staat op God se genade en vergifnis ten einde jou te red? Is daar bewyse in jou lewe dat die Heilige Gees jou aangeraak het – m.a.w. is daar vrug in jou lewe? Bestaan daar ’n opregte begeerte in jou lewe vir ’n heilige lewe? As jy bevestigend op al hierdie vrae kan antwoord, kan jy saam met Paulus uitroep ~ My God! As jy dít kan uitroep, kan jy ook uitroep ~ Hy het ’n belofte aan my gemaak. Wat is die belofte? My God sal in elkeen van my behoeftes, ryklik voorsien!

Daar is egter twee woorde wat ons net eers van naderby moet bekyk en dit is behoeftes en voorsien, of ryklik voorsien, as jy wil. Die Griekse woord wat vir behoeftes gebruik word is, χρεία (chreia). Die E.S.V. vertaal hierdie woordjie korrek wanneer dit sê ~ And my God will supply every need.... Die woord "need", moet in Afrikaans vertaal word met noodsaaklikheid. Ons moet dus besef dat ons nie soos sommige gewilde teoloë dit wil hê, kan "name and claim" wat ons graag wil hê nie – wat ons hart begeer nie. Dit gaan hier oor noodsaaklikhede – dit wat God weet wat ons werklik nodig het om te kan leef en Hom te kan dien. As ek nie kry wat ek dink noodsaaklik is nie? Dan het ek dit óf nie regtig nodig nie, óf God wil hê dat ek eers iets moet leer. Job is nie dadelik gehelp nie en daarom kan ek ook nie verwag dat my noodsaaklikhede aangespreek word wanneer ek dink dit tyd daarvoor is nie – God bepaal die tyd en die noodsaak aan iets, máár, ek sal altyd kry wat ek waarlik nodig het – Hy sal ons nooit in die steek laat nie – nooit!

Die tweede woord waarna ons moet kyk is voorsien. Die Griekse betekenis van hierdie woord is om "tot boordens toe" vol te maak ("to fill to the brim"). Hieruit kan ons aflei, dat God nie sommige noodsaaklikhede aanspreek en vervul en ander net half en half voorsien nie. Tweedens beteken dit dat daar in al ons noodsaaklikhede ten volle en tot oorlopens toe voorsien sal word, maar steeds sal God dit op Sy tyd en op Sy manier vervul. Wanneer ek egter ’n noodsaaklikheid dringend nodig het, sál Hy dit voorsien.

Blaai saam met my na 2Kon.4:1-7 ~ ’n Vrou van ’n profeet het haar nood by Elisa kom kla: “My man is dood. U weet self dat hy die Here gedien het. Nou het die skuldeiser gekom om my twee seuns te vat en hulle sy slawe te maak.” 2Elisa het vir haar gesê: “Ek sal jou help. Sê vir my: wat het jy in jou huis?” Sy het geantwoord: “Ek het niks in die huis nie behalwe ’n erdekannetjie olie.” 3Hy het toe gesê: “Gaan leen nou by al jou bure leë kruike, en sorg dat jy nie te min leen nie. 4Dan gaan jy in jou huis in, maak die deur agter jou en jou seuns toe, en gooi elkeen van hierdie kruike vol olie. Soos elkeen vol word, moet jy hom wegpak.” 5Sy is van hom af weg. Sy het die deur agter haar en haar seuns toegemaak. Soos hulle die kruike na haar toe aangedra het, het sy hulle volgemaak. 6Toe die kruike vol was, sê sy vir een van haar seuns: “Bring vir my nog ’n kruik.” Maar hy het gesê: “Daar is nie meer ’n kruik oor nie.” Toe het daar nie 7meer olie uit die kannetjie gekom nie. Sy het by die man van God aangekom en dit vir hom vertel. Hy het gesê: “Gaan verkoop die olie en betaal jou skuld. Jy en jou seuns kan dan leef van wat oorbly.”

Hierdie vrou verkeer in groot nood – haar man is dood en sy kan nie haar skuld vereffen nie, maar sy doen die regte ding – sy soek God se aangesig oor hierdie saak deur na die profeet Elia te gaan. Op Elia se vraag wat sy in haar huis het, sê sy dat sy net ’n fles olie het. Hierdie vrou het waarlik nood – sy het nood op daardie oomblik en in die res van die verhaal sien ons hoe God die Vader in haar behoefte voorsien en let op Hy hou nie op voorsien toe daar genoeg olie is nie – nee, die voorsiening stop omdat daar nie meer genoeg kruike was nie.

As jy vandag dalk voel soos hierdie weduwee, wil ek jou aanmoedig om na jou Vader te gaan en Hom ten volle te vertrou vir dit wat jy waarlik benodig en net soos die weduwee kan jy ook God se grootsheid; Sy liefde; Sy almag; Sy genade; Sy voorsiening, in aksie sien.

3.    SY BRON:
Geliefdes, terug na Fil.4:19 – God het nie net die begeerte om in ons behoeftes te voorsien nie, Hy beskik ook oor al die bronne wat nodig is om daarin te voorsien. God voorsien volgens sy wonderbaarlike rykdom in Christus Jesus – Sy wonderbaarlike rykdom. Die E.S.V. sê ~ ...according to his riches. Wat beteken dit as Paulus sê dat God volgens sy wonderbaarlike rykdom voorsien? Kom ek verduidelik: Wanneer jy ’n miljoenêr sou nader en hom sou vra om ’n donasie te gee vir een of ander goeie doel en hy gee jou R 10, dan gee hy vanuit ("out of") sy rykdom aan jou ’n donasie, maar dit is nie proporsioneel tot sy rykdom nie. Indien dieselfde miljoenêr egter vir jou ’n tjek ten bedrae van R 250 000 uitskryf, dan gee hy volgens ("according to") sy rykdom en dan is sy bydrae proporsioneel tot sy rykdom.

Die punt is, dat God nie suinig is nie – Hy gee volgens Sy rykdom. Hy sal in elke noodsaaklike behoefte volgens Sy rykdom voorsien – en nog meer! Onthou, ons het netnou gesien dat ~ ... al die diere in die bos is (Syne), die wild op duisende berge (Ps.50:10). Volgens hierdie rykdom skenk Hy aan ons. Kom ons kyk gerus ook na 2Kor.9:8-9 ~ En God is by magte om aan julle alles in oorvloed te skenk, sodat julle in alle opsigte altyd van alles genoeg kan hê en volop kan bydra vir elke goeie werk. In die oorspronklike teks staan daar letterlik, sodat julle in alle opsigte altyd van alles "alleroorvloedig" sal hê!

4.    DIE KANAAL:
Indien ons nie na God gaan met ons behoeftes nie kan ons nie noodwendig verwag dat Hy daarin moet voorsien nie. Ons moet egter ook besef dat die kanaal waarvolgens God in ons behoeftes voorsien, deur Jesus Christus en nét deur Jesus is –  dit impliseer dat Jesus Christus die Gewer en Middelaar is deur wie God se gawes na ons vloei, maar ook deur Wie ons tot God moet nader wanneer ons nood ervaar – net soos wat die weduwee deur die profeet Elisa tot God genader het.

Daar is egter ’n veel belangriker aspek aan hierdie vers verbonde as om te sê dat Christus die kanaal is deur Wie ons voorsiening en versorging kom – ons moet onthou en ons het dit vroeër gesê ook, hierdie voorsiening waarvan Paulus praat, is in die eerste plek geestelik van aard en daarom, wanneer Paulus sê dat ons voorsiening in Christus Jesus kom, dan sê hy in die eerste plek, dat die rykdom van God se genade en voorsiening in Jesus Christus aan ons bekend gemaak is en omdat Christus in ons is, is Hy ons hoop op die heerlikheid (Kol.1:27b). Kol.2:2-3 omskryf hierdie saak nog verder, wanneer dit sê ~ dat ons ...tot alle rykdom van die volle versekerdheid van insig (kan kom), om die verborgenheid te leer ken van God en die Vader en van Christus, in wie al die skatte van wysheid en kennis verborge is. Dit is die eerste en heel belangrikste noodsaaklike behoefte waaroor enige een van ons ooit kan beskik. As hierdie behoefte nie vervul word nie – as daar nie in hierdie behoefte voorsien word nie, maak dit nie eers saak of ons ander behoeftes het nie – hierdie moet ons prioriteit wees – ...om die verborgenheid te leer ken van God en die Vader en van Christus, in wie al die skatte van wysheid en kennis verborge is (Kol.2:2-3).

5.    AFSLUITING:
Lyk dit soms vir jou, asof jy puur verniet wag op uitkoms en voorsiening, want niks gebeur nie? Hou jou beproewing net aan en aan? Ek wil jou vanoggend opnuut weer bemoedig en aanmoedig, om nie op te hou vertrou op God se voorsiening en uitkoms nie, want Hy weet presies wat jou behoeftes behels, maar Hy weet ook presies wat die perfekte tyd is om in jou behoeftes te voorsien. Dit kan wees dat Hy wil hê dat sekere ander behoeftes eers in jou lewe aangespreek moet word. Dit kan egter ook wees dat sommige van jou behoeftes nie regtig grondige behoeftes is nie. Of die Here weet beter en weet dat jy dalk liewer sonder daardie bepaalde behoeftes moet klaarkom, omdat dit vir jou eie sieleheil beter sal wees om sonder dit te wees en dan moet ons dit so aanvaar.

Weereens, moet jy, jou lewe in oënskou neem en terug dink aan hoe God in die verlede, op die regte tyd en op die regte manier in jou behoeftes voorsien het. Hy was nog altyd getrou – God het elkeen van ons nog elke keer in die verlede deur ons krisisse gedra en elke keer in ons noodsaaklike behoeftes voorsien – dink net terug! Hy belowe dit nog steeds ~ En my God sal in elke behoefte van julle ryklik voorsien volgens sy wonderbaarlike rykdom in Christus Jesus!

Hoe gaan ons hierdie nuwe jaar binne – in vrees of in geloof en ’n vaste vertroue? Toe die weduwee al die kruike gesien het, was sy waarskynlik gevul met vrees en wantroue en het sy gewonder hoe op dees aarde gaan al hierdie kruike vol olie word? Of het sy in geloof en ’n vaste vertroue in haar hemelse Vader, die kruike begin bymekaar maak, met die wete dat haar God in elke behoefte, ryklik sal voorsien?  

God het nog altyd ons "leë kanne" tot oorlopens toe gevul en Hy sal dit weer op Sy tyd in 2012 doen wanneer dit nodig is. My gebed is dat elkeen van ons in hierdie jaar, sal vashou aan hierdie woorde van Fil.4:19 en ook die woorde van 1Pet.5:7 voorop in ons gedagte sal hou, nl. ~ Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle.

Mag julle elkeen ’n wonderlike en geseënde 2012 beleef!


[1] Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te VAALDRIEHOEK Baptiste Gemeente (Vereeniging) - Sondagoggend 01 Januarie 2012