Saturday, 21 January 2012

"Gewyde Heiligheid van die Lewe"

1.     INLEIDING:
Kom ons wees bietjie eerlik vanoggend. Hoe voel jy elke keer as ’n pragtige, skaars, onskuldige renoster gestroop word vir sy horing? Kwaad? Opstandig? Hartseer? ’n Belangriker vraag: Wat is jou eerlike reaksie as jy daaraan dink dat aborsies gewettig is in Suid-Afrika? Nee kom, wees eerlik, baie eerlik. Is ons al afgestomp hieroor? My een skoondogter is in die goeie sin van die woord, ’n "pro-life" aktivis en sy is ’n stigterslid van ’n organisasie genaamd "Abort 97" (http://www.abort97.co.za/) en een van hulle slagspreuke is: "Rhinos arn't the only things worth living". Dit is so waar, trouens in vergelyking met aborsie is renosters bykans nie eens noemenswaardig nie.

Vir die Christelike wêreld is vandag, "The Sanctity of Life-Sondag" en ek het besluit dat al is ons as gemeente eenstemmig daaroor dat aborsie vanuit die bose is, ons nogtans na hierdie onderwerp moet kyk aangesien ons die nodige toerusting benodig om ons standpunt te kan onderskryf. Natuurlik handel hierdie onderwerp nie nét oor aborsie nie, maar óók oor die kosbaarheid van die lewe in die algemeen – dit sal derhalwe onderwerpe soos selfmoord; moord; ’n wilde en roekelose lewe; ens. insluit, maar vandag sal ons net fokus op aborsie.

Ek het ook lank "gestoei" om ’n aanvaarbare vertaling vir die uitdrukking "The Sanctity of Life" te vind en ek dink dat die titel van vandag se boodskap, dalk die naaste aan die regte vertaling is (voorstelle t.o.v. ’n beter vertaling sal natuurlik verwelkom word), nl. "Gewyde Heiligheid van die Lewe".

Om oor aborsie te praat en te preek is geweldig omvangryk en is daar soveel fasette waarin ’n mens vasgevang kan raak dat jy bykans nooit sal ophou praat daaroor nie – sake soos statistiek; vroueregte; wetgewing; die vals gronde waarop wetgewing aanvanklik gebaseer was; die regte van die fetus; watter kontrasepsie middele kan gelyk gestel word met aborsie en watter nie?; die Bybelse perspektiewe t.o.v. aborsie; die geskiedenis; metodes; wanneer is aborsie, aborsie?; die etiek rondom aborsie; ens., ens. Daar bestaan ook letterlik duisende webtuistes wat oor hierdie saak handel en dit sluit o.a. gru video insetsels in (ek sal aan die einde slegs enkele webadresse aan julle verskaf).

Ek wil vanoggend net kortliks op enkele fasette fokus, ten einde ons ’n bietjie meer te bemagtig en ’n bietjie meer bewus te maak van die hele saak. Ons gaan dan kortliks na die volgende aspekte kyk:
·         ’n Definisie;
·         Agtergrond;
·         Metodes;
·         Statistiek;
·         Die Woord van God?

2.    DEFINISIE:
Wat dan, is aborsie? Ek sou aborsie soos volg definieer: Aborsie is die doelbewuste beëindiging van ’n swangerskap na konsepsie en dit behels die doodmaak van ’n embrio of fetus.

Ondersteuners van aborsie probeer ’n saak daarvoor uitmaak, dat ’n embrio of ’n fetus nie ’n mens is nie, of anders gestel, dat die regering nie die reg het om aborsie te verban, tensy hulle kan bewys dat ’n embrio of fetus, ’n mens is nie. Voorstanders vir aborsie sê ook dat aborsie nêrens in die Woord van God vermeld word nie en daarom is dit geregverdig – iets wat natuurlik nie waar is nie (ons sal netnou daarna kyk).

3.    AGTERGROND:
Daar bestaan meningsverskil oor watter land die eerste was om aborsie te wettig – die meeste bronne sê egter dat dit Ysland was wat dit op 28 Januarie 1935 (presies 77 jaar gelede!) gewettig het. Amerika het aborsie gewettig na die "Roe vs. Wade" saak in 1973. Suid-Afrika het aborsie op 1 Februarie 1997 gewettig. Ons moet ons egter nie blindstaar teen hierdie datums en dink dat aborsie iets nuuts is nie – so asof dit ’n produk van moderne denke, of moderne wetenskaplike ontwikkeling en -uitvindings is nie. Aborsie is iets wat al baie eeue deel van die mensdom is. Die vroegste beskrywing van aborsie word aangetref in die Ebers-Papirusfragment wat dateer uit 1550 v.C. Hierdie papirusfragment is ’n antieke Egiptiese mediese skets wat gedoen is op grond van dokumente wat so ver terug dateer as 3000 v.C. Hierdie fragment beskryf hoe dat aborsie gedoen kan word met behulp van ’n mengsel van heuning en dadels. Later is verskeie kruiemiddele gebruik, waaronder "penny royal" (kruisement) wat vandag steeds in "onwettige" praktyke gebruik word (http://civilliberty.about.com/od/abortion/f/When-Did-Abortion-Begin.htm).

Dit is ook bekend dat die antieke Egiptenare, Persiërs en Romeine reeds aborsies toegepas het – dit blyk uit verskeie opgrawings van papirusrolle, kunswerke, etse, volksverhale, ens.

In China word gesê dat aborsies reeds so lank terug as 5000 jaar gelede m.b.v. kwik gedoen is.

Wat egter is die motief agter aborsies? Waarom wil vroue dit laat doen en waarom is dit gewettig? Hieroor kan ons baie lank gesels, maar in kort is die pro-aborsie aktiviste se standpunt dat, ’n fetus nie die reg het om in ’n vrou se baarmoeder te wees nie – dit is slegs daar met toestemming van die vrou. Hierdie toestemming mag teruggetrek word op enige stadium, want die vrou se baarmoeder is deel van háár liggaam (sien u die eie-geregtigheid en selfgerigtheid?). Verder sê hulle dat toestemming nie ’n reg is nie. Daar bestaan dus nie so iets soos die reg om binne-in die liggaam van iemand anders te bestaan nie, want dit is gelykstaande aan parasitisme.

Selfs al is ’n fetus so ver gevorder dat dit onafhanklik buite die liggaam van ’n vrou kan leef, het so ’n fetus steeds nie die reg (volgens aborteurs) om binne in ’n vrou se liggaam te wees nie. Net soos wat ’n vrou die reg het om te kies met wie sy haar intieme lewe wil deel (haar liggaam is immers haar eiendom), net so het sy die reg om te bepaal wat kan en wat kan nie in haar liggaam teenwoordig wees nie. Net soos wat dit boos is van iemand om haar voor te skryf om haar liggaam beskikbaar te stel tydens verkragting, net so is dit boos van enige iemand of regering om haar te dwing om swanger te bly – aldus die voorstanders van aborsie.

Hierdie voorstanders van aborsie sê ook dat aborsie nie gelyk gestel kan word aan moord nie, want ’n fetus is nie ’n mens nie – dit is slegs potensiële lewe. Net soos wat ’n akker ’n potensiële akkerboom is, maar nie reeds ’n boom nie, net so is ’n fetus ook nog nie mens nie.  ’n Fetus ("potensiële lewe in hul oë) beskik dus oor geen regte nie, want slegs lewende mense beskik oor regte. Dit is eers ná geboorte dat ’n fetus mens word en derhalwe oor regte beskik.

In die V.S.A. word aborsies egter slegs toegelaat tot en met 24 weke omdat aborsies na 24 weke, ’n gesondheidsrisiko vir die vrou inhou – in Suid-Afrika is dit 20 weke (kom ons kyk bietjie na ’n paar foto's van ’n 20 weke oue fetus en besluit self of dit mens is al dan nie).

Dit is natuurlik moontlik om ’n hoë risiko aborsie na 20 weke te laat doen – in Suid-Afrika kan ’n onwettige aborsie in bv. die Johannesburgse agterstrate,  op enige stadium van ’n swangerskap vir so min as R 500 laat doen word! Trouens, dit word soms openlik geadverteer (het u al die advertensies hier in Vereeniging se middedorp teen die lamppale gesien?).

4.    METODES:
Daar bestaan verskeie metodes waarop aborsies uitgevoer kan word en ek wil nie in detail daarop ingaan nie, omdat dit net té grafies is, maar ek noem bloot net die name van sommige van die metodes:
·           Suiging ("Suction").
·           Sout vergiftiging (Inspuiting van "Saline" oplossing)
·           Hormonale kontrasepsiemiddels
·           Gedwonge kraamproses (wat so intens is dat die fetus dit nie kan oorleef nie).
·           RU-486 (’n middel wat toegedien word om die nodige voedingstowwe van die moeder na die fetus af te sny en die fetus sterf dus).
·           ’n Versnippering van die fetus (In Engels: "Dilatation" of "Curettage").
·           ’n Operasie soortgelyk aan ’n keisersnee (Engels = Hysterotomy).
·            Dan is daar natuurlik kontrasepsiemiddels (hierdie sluit "Depo-Provera, Norplant and IUD's" in), waarvan die meeste, indien nie almal nie, ’n kombinasie van estrogeen en progestien bevat wat voor ’n swangerskap gebruik word ten einde die embrio wat net na konsepsie gevorm het, af te dryf. Hierdie middel word bv. deur duisende gelowige vroue gebruik sonder om te besef dat dit in werklikheid niks anders as aborsie is nie! Hierdie feit word bevestig in ’n boek deur Randy Alcorn met die titel, "Does the Birth Control Pill Cause Abortions?" ’n Amerikaanse ginekoloog (Paul L. Hayes, M.D., Board Certified Fellow of the American College of Obstetricians/Gynecologists) het bv. as volg gereageer op hierdie boek: "From medical textbooks and pharmacy references, to statements from the Pill-manufacturers themselves, this book proves, beyond any doubt, the abortion-causing action of birth control pills. This book should be read by everyone interested in knowing the truth."  Ene dr. Beverly A. McMillan (M.D., Ob/Gyn) sê die volgende: "In this impeccably researched book, Randy Alcorn takes an unblinking look at what medical experts know about how birth control pills work. I painfully agree that birth control pills do in fact cause abortions. Our individual and collective Christian response to this heretofore varnished-over information will have profound consequences for time and eternity. This is a disturbing must-read for all who profess to be prolife" (Beknopte weergawe van boek is gratis beskikbaar op Internet in P.df-formaat - http://www.prolife.com/BIRTHCNT.html).

5.    STATISTIEK:
Ons weet dat baie aborsies wêreldwyd uitgevoer word, maar kom ons kyk egter ook net vlugtig na die harde werklikhede van statistiek – en natuurlik is hierdie statistiek net t.o.v. aangemelde en/of "wettige" aborsies – daar word gespekuleer dat ontwettige en "agterstraat-aborsies" dalk selfs meer kan wees as die "wettige" en aangemelde aborsies!

Sedert 1997, tot en met 2007 was daar meer as 600 000 fetusse "wettig" geaborteer in Suid-Afrika (en dit met jou en my belastinggeld!). Dit is 60 000 per jaar; 5 000 per maand en gemiddeld dus 167 per dag – of as jy wil, ongeveer 7 per uur! Gedurende 2010 is daar in Gauteng alleen, 20 930 "wettige" aborsies uitgevoer.

Daar word beweer dat daar wêreldwyd nagenoeg 115 000 aborsies per dag uitgevoer word, dit is sowat 42 miljoen per jaar! 83% van hierdie aborsies vind in ontwikkelende lande plaas, terwyl 17% in ontwikkelde lande uitgevoer word. Daar bestaan nog talle ander baie interessant statistiek waarop ek nie nou wil ingaan nie (bv. hoeveel Protestante, Roomse, Jode, ens. Hoeveel swart, wit, ens. vroue; statistiek t.o.v. ouderdomme, ens.).  Net twee laaste  stukkies statistiek wat ek egter tog wil noem is die rede waarom vroue aborsies ondergaan: 1% van alle vroue ondergaan dit a.g.v. verkragtings; 6% a.g.v. potensiële gesondheidsprobleme vir moeder en/of kind, terwyl 93% van alle aborsies geskied om sosiale redes (bv. die kind is ongewens of ongerieflik). Laastens word beweer dat amper 43% van alle vroue ten minste een aborsie sal ondergaan voor hulle 45 jaar oud is en 47% van alle aborsies word uitgevoer op vroue wat reeds vantevore ’n aborsie ondergaan het.

6.    DIE WOORD VAN GOD:
Aborsie word nêrens eksplisiet in die Woord van God aangespreek nie, maar soos ons reeds gesien het, is dit deur die Egiptenare e.a. gepraktiseer, selfs lank voor Jesus se koms na die aarde dus. As ons egter bely dat God se Woord steeds in ons dae relevant is, moet ons tog antwoorde in die Bybel vind t.o.v. hierdie brandende kwessie en daar is weliswaar verskeie Skrifgedeeltes waarna ons kan kyk.

Ek het gesê dat aborsie nêrens in die Woord eksplisiet aangespreek word nie, maar daar is egter talle gedeeltes wat sterk suggereer dat lewe reeds vóór geboorte bestaan. Kom ons lees saam van een so ’n verwysing in die Bybel.

7.    SKRIFLESING:
Ps.139:1-24 ~ Vir die koorleier. Van Dawid. ’n Psalm. 
Here, U sien dwarsdeur my, U ken my. 2Of ek sit en of ek opstaan, U weet dit, U ken my gedagtes nog voordat hulle by my opkom. 3Of ek reis en of ek oorbly, U bepaal dit, U is met al my paaie goed bekend. 4Daar is nog nie ’n woord op my tong nie of U, Here, weet wat dit gaan wees. 5U omsluit my van alle kante, U neem my in besit. 6Dié wete oorweldig my, dit is te hoog vir my begrip. 7Waarheen sou ek gaan om u Gees te ontvlug? Waarheen sou ek vlug om aan u teenwoordigheid te ontkom? 8Klim ek op na die hemel, is U daar, gaan lê ek in die doderyk, is U ook daar. 9Vlieg ek na die ooste, of gaan woon ek in die verre weste, 10ook daar lei u hand my, hou u regterhand my vas. 11Ek sou die duisternis kon vra om my weg te steek, of die lig rondom my om in nag te verander, 12maar vir U is selfs die duisternis nie donker nie en die nag so lig soos die dag, duisternis so goed soos lig. 13U het my gevorm, my aanmekaargeweef in die skoot van my moeder. 14Ek wil U loof, want U het my op ’n wonderbaarlike wyse geskep. Wat U gedoen het, vervul my met verwondering. Dit weet ek seker: 15geen been van my was vir U verborge toe ek gevorm is waar niemand dit kon sien nie, toe ek aanmekaargeweef is diep in die moederskoot. 16U het my al gesien toe ek nog ongebore was, al my lewensdae was in u boek opgeskrywe nog voordat ek gebore is. 17Hoe wonderlik is u gedagtes vir my, o God, hoe magtig hulle almal! 18As ek hulle sou wou opnoem—hulle is meer as wat daar sand is, en as ek daarmee klaar is, sou ek nog steeds met U te doen hê. 19As U tog maar die goddelose uit die weg wou ruim, o God! Gaan weg van my af, julle moordenaars! 20Dit is hulle wat bose planne teen U smee, wat so vals teen U optree. 21Moet ek u haters dan nie haat nie, Here, moet ek nie ’n weersin hê in mense wat teen U in opstand is nie? 22Ek haat hulle met ’n uiterste haat, want hulle is ook my vyande. 23Deurgrond my, o God, deurgrond my hart, ondersoek my, sien tog my onrus raak. 24Kyk of ek nie op die verkeerde pad is nie en lei my op die beproefde pad.

Hierdie Skrifgedeelte is maar een wat verwys na die wonder van lewe wat in die moederskoot gevorm word. Ander Skrifgedeeltes wat ook na lewe voor geboorte verwys, is bv. Luk.1:41 ~ Net toe Elisabet die groet van Maria hoor, het die kindjie in Elisabet se moederskoot beweeg. Maria het die grootsheid van God besing nadat die Heilige Gees Jesus die Christus in haar verwek het (v.49). Selfs Job verwys daarna wanneer hy in Job 31:15 sê ~ Het Hy wat my in die moederskoot gemaak het, hulle nie ook gemaak nie? Het Hy ons nie almal gevorm nie? Ook in Jer.1:5 sien ons dat God hom reeds geken het in fetus-vorm en is sy lewe en roeping alreeds voor sy verwekking, deur God bepaal ~ Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken; voordat jy gebore is, het Ek jou aan My gewy en jou as profeet vir die nasies aangestel.
·           Hieruit blyk dit dus baie duidelik dat lewe reeds bestaan van die oomblik dat die man se sperma (saad) en die vrou se ovum (eiersel) saamsmelt om ’n embrio te vorm. Lewe begin dus op die oomblik van bevrugting. In die lig hiervan moet aborsie dus afgemaak word as blatante en voorbedagte moord. Eks.20:13 verbied moord ondubbelsinnig wanneer dit sê ~ Jy mag nie moord pleeg nie. Die betekenis van die woord wat hier in Eks.20:13 gebruik word vir moord is korrek vertaal in Afrikaans en dui dus op die doelbewuste en persoonlike neem van ’n lewe – m.a.w., nié soos in ’n oorlog, of tydens ’n teregstelling na ’n hofuitspraak nie (Rom.13:1-7). Daar is egter ook ’n duidelike implikasie in Rom.13:4, dat die owerhede nié "die onskuldiges" (in hierdie geval ’n fetus dus) enige leed mag aandoen nie. Die is dus duidelik dat Eks.20:13 ondubbelsinnig verklaar dat die doodmaak van onskuldige ongebore babas, verbode is.
·           Eks.21:22-23 is ook ’n belangrike Skrifverwysing in hierdie verband en is daar dan ook ’n direkte verwysing na die doodmaak van ’n fetus ~ Wanneer mans met mekaar baklei en hulle ’n swanger vrou omstamp, sodat sy ’n miskraam het maar nie blywend beseer is nie, moet hy wat haar gestamp het, onderhewig aan die goedkeuring van die regbank, die boete betaal wat die eggenoot van die vrou hom oplê. 23As sy blywend beseer is, is die straf: ’n lewe vir ’n lewe. Hier sien ons dat die ongebore baba in dieselfde lig as die vrou, deur God beskou word – nl. ’n mens en net so kosbaar soos die moeder self, trouens as ons na Ps.127:3 kyk, kry ons die indruk dat kinders en daarom ook ’n fetus, nóg belangriker vir God is, want sê die Psalmis ~ Seuns is geskenke van die Here, kinders word deur Hom gegee.

Aborsie is niks anders as ’n direkte aanval op die "Lewe-skeppende-God nie. Toe God die mens geskep het, het Hy gesê ~ ...Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis (Gen.1:26a – O.A.V.; Kol.3:10) en Ps.139:13 stel dit so pragtig ~ U het my gevorm, my aanmekaargeweef in die skoot van my moeder. Dit wat God aan mekaar geweef het, is Sy handewerk – Sy skepping van ’n mens na Sy beeld.
·           U sal met my saamstem dat ’n ongebore fetus in ’n sekere gekwalifiseerde sin, "onskuldig" is (ons weet dat kinders in sonde ontvang en gebore word). Ps.106:38 praat van die bloedvergieting van onskuldige kinders en dat diegene wie hulle daaraan skuldig maak, blootgestel sal word aan God se toorn! Mense wat dus aborsies laat doen, asook diegene wat dit uitvoer – hulle sál God se toorn ervaar.
·           Ons lees in Eks.22:21-24 die volgende ~ “Jy mag nie ’n vreemdeling verdruk of laat swaarkry nie, want jy was self ’n vreemdeling in Egipte. 22“Jy mag geen weduwee of weeskind veronreg nie. 23As jy tog so iemand veronreg, en hy na My roep, sal Ek na sy hulpgeroep luister. 24Dan sal my toorn ontvlam, en Ek sal jou om die lewe bring, sodat jou vrou ’n weduwee word en jou kinders weeskinders. In Ps.82:3-4 sê Asaf ~ Julle moet reg laat geskied aan die mens in nood en aan die weeskind, ’n regverdige uitspraak vir die hulpelose en die behoeftige lewer, 4julle moet die mens in nood en die arme bevry, hulle uit die mag van die goddelose red. Ook hier sien ons dat God se toorn sal ontvlam teen diegene wat die swakkes en hulpeloses viktimiseer, of beseer, of dood. Hierdie selfde waarskuwing word ook in Ps.94:23 gegee ~ Hy sal hulle laat boet vir hulle dade, Hy sal hulle verdelg oor hulle boosheid. Die Here ons God sal hulle verdelg. God stel dus ’n baie hoë premie op die beskerming van hulpeloses – en wat is meer hulpeloos as ’n fetus?

Jesus het kinders besonder lief – ons sien dit bv. in Luk.18 waar Hy Sy dissipels aanspreek omdat hulle die kindertjies weggejaag het. Wat hier interessant en daarom ook betekenisvol is, is die feit dat die Griekse woord wat hier in Luk.18 vir "kindertjies" gebruik word, presies dieselfde woord is as wat vir die ongebore (fetus)  van Johannes in Luk1:41, 44 gebruik word. Waarom sou Jesus ’n fetus "kindjie" noem as ’n fetus nog nie lewe is wat deur Hom gekoester word nie? Dit maak tog net nie sin nie.
·           Baie mense wat pro-aborsie is, reken dat dit in elk geval beter is vir die geaborteerde fetus om nie gebore te word nie, want alle kindertjies gaan tog immers hemel toe en daar is dit beter vir hulle as om in hierdie "aaklige lewe" gebore en groot te word.

Ons kan hierop sê dat lyding en beproewing deur die Woord van God as noodsaaklike element gesien word t.w.v. ons redding en uiteindelike verheerliking ~ Hulle het die gelowiges geestelik versterk en hulle aangespoor om getrou te bly in die geloof. “Ons sal eers deur baie verdrukking moet gaan voordat ons in die koninkryk van God kom,” het hulle gesê (Hand.14:22). Paulus skryf o.a. ook aan die gemeente in Tessalonika ~ Dat ons ter wille van ons geloof vervolg sal word, staan vas. Dit weet julle (1Tes.3:3b).  Ons kan en mag dus nie lyding in hierdie lewe kortwiek of pypkan deur byvoorbeeld ’n lewe te beëindig nie ("genadedood bv.), trouens Paulus sê ~ Almal wat in Christus Jesus toegewy aan God wil lewe, sal ook vervolg word (2Tim.3:12).

Wanneer vrugafdrywers (of aborteurs) dus sê dat, om aborsie toe te pas, minder boos is as om ’n kind aan hierdie bose wêreld bloot te stel, tree hulle wyser op as God – of so dink hulle altans – God is dié Een wat die beste weet, omdat Hy ’n Alwyse God is, maar met hierdie optrede van die vrugafdrywers, gaan hulle vanuit die standpunt dat hulle eintlik die kind se ewige bestemming in die hemel deur hul optrede verseker en met sulke denke slaan hulle óók die bal mis, want dit is net God en God alleen wat alle mense se ewige lot bepaal – net God bepaal wie verlos en wie verdoem is ~ Dié wat Hy daartoe bestem het, het Hy ook geroep. En dié wat Hy geroep het, het Hy ook vrygespreek. En dié wat Hy vrygespreek het, het Hy ook verheerlik (Rom.8:30). Die Baptiste Geloofsbelydenis van 1689 stel dit baie mooi en duidelik in hoofstuk 32 wat handel oor die laaste oordeel – ek haal enkele gedeeltes daaruit aan: God het ’n dag bepaal waarop Hy die wêreld in regverdigheid sal oordeel in Jesus Christus, aan wie alle mag en strafgerig oorgegee is deur die Vader. In hierdie dag sal nie alleen die gevalle engele geoordeel word nie, maar ook alle mense wat op die aarde geleef het. Hulle sal voor die regterstoel van God verskyn om rekenskap te gee van hulle gedagtes, woorde en dade, en om te ontvang volgens hulle dade in die liggaam, of dit dan goed of sleg was.  Die hoofdoel vir God se daarstelling van hierdie dag is die openbaarmaking van die heerlikheid van Sy genade in die ewige redding van die uitverkorenes, en ook Sy regverdigheid in die ewige verdoemenis van die verworpenes, wie boos en ongehoorsaam is..... (volledige 1689 Baptiste Geloofsbelydenis in P.df-formaat van my verkrygbaar – stuur net E-Pos aan kobus.j.a.vanderwalt@gmail.com. Engelse weergawe verkrygbaar by:

6.    AFSLUITING:
Daar is ’n wonderlike verlossende en positiewe boodskap wat ons as gelowiges kan bring aan elke persoon wat in sy of haar lewe al op een of ander wyse betrokke was by aborsie – ook diegene wat "onskuldig" betrokke was by die neem van kontraseptiewe middele. Ons moet verstaan en dit is die boodskap wat ons kan en moet uitdra, nl. dat reddende geloof in Jesus Christus, vergifnis van sonde en die reiniging van die geredde mens se gewete impliseer, asook ’n vaste hoop op die ewige lewe – dit word bevestig deur Paulus se woorde in Ef.1:7-8 ~ Deur die bloed van sy Seun is ons verlos en is ons oortredinge vergewe kragtens die ryke genade van God 8wat Hy in al sy wysheid en insig so oorvloedig aan ons geskenk het (Ef.1:7-8).

7.    ENKELE WEBTUISTES:
·            http://www.abort97.co.za/
·            https://www.facebook.com/Abort97
·            http://abortioninstruments.com/
·            http://www.abortionno.org/
·            http://www.prolife.com/BIRTHCNT.html
·            Of gaan "Google" bloot die woord "Abortion".


[1] Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te VAALDRIEHOEK Baptiste Gemeente (Vereeniging) - Sondagoggend 22 Januarie 2012

Saturday, 14 January 2012

Sewe Briewe aan Sewe Gemeentes - 02 (Die Gemeente in Smirna)

1.     INLEIDING:
Ons leef in ’n uiters vyandiggesinde wêreld – ’n wêreld wat die waarheid van die Woord van God met al sy mag teëstaan. Hierdie aanslag raak by die dag erger, maar ons as gelowiges moet leer om voortdurend onder die beheer van Jesus Christus te staan en te leef en derhalwe staande te bly in die wonderlike Evangelie van Jesus Christus, want Hy is voorwaar Here en regeer oor hierdie aarde en SY Koninkryk en Sy kerk staan vasgeanker en daarom sal ...die poorte van die doderyk dit nie oorweldig nie (Matt.16:8 – O.A.V.).

Ons het verlede week begin kyk na Johannes se sewe briewe wat hy aan die sewe gemeentes in Klein-Asië gestuur het. Die eerste brief wat afgelewer was, was dié aan die gemeente in Efese. Die tweede gemeente wat hul brief ontvang, is die gemeente in Smirna.

Ons het ook gesien dat al die briewe aan die sewe gemeentes in Klein-Asië, oor dieselfde struktuur beskik, nl.:
Die Geadresseerde Gemeente
Beeld of Beskrywing
van Christus
Christus se Aanprysing
Christus se Bestraffing
Christus se Raad
Christus se Belofte
Die uitsondering is egter met twee gemeentes, nl. dié in Smirna en dié in Filadelfia – beide hierdie gemeentes het geen teregwysing, of bestraffing van Christus ontvang nie.

2.    SKRIFLESING:
Openb.2:8-11 ~ Skrywe aan die leraar van die gemeente in Smirna: So sê die Eerste en die Laaste, wat dood was en weer lewend geword het: 9Ek ken julle verdrukking en julle armoede, en tog is julle ryk. Ek weet ook van die kwaadstokery van die mense wat daarop aanspraak maak dat hulle Jode is, en dit nie is nie, maar tot die sinagoge van die Satan behoort. 10Moenie bang wees vir wat julle alles gaan ly nie. Kyk, die duiwel gaan party van julle in die tronk laat gooi,
sodat julle in beproewing sal kom, en julle sal tien dae lank baie swaar kry. Bly getrou tot die dood toe, en Ek sal julle die lewe as kroon gee. 11Elkeen wat kan hoor, moet luister na wat die Gees vir die gemeente sê. Dié wat die oorwinning behaal, sal beslis nie deur die tweede dood getref word nie.

3.    DIE GEMEENTE IN SMIRNA (2:8-11):
·           Die Geadresseerde Gemeente: 
Openb.2:8a ~ Skrywe aan die leraar van die gemeente in Smirna.  Smirna was in baie opsigte net so ’n betekenisvolle stad as dié van Efese en in baie opsigte was hierdie stad in kompetisie met Efese, t.o.v. belangrikheid wat handelstatus ens. behels. Smirna was sowat 50 km. noordwes van Efese geleë en was gesien as die mooiste stad in Klein-Asië. Wat interessant is, is dat hierdie stad ongeveer 700 jaar oud was toe Johannes die openbaring van Christus ontvang het. Vandag is die Turkse stad Izmar hier geleë.

In hierdie stad was daar ook ’n tempel wat gewy was aan ’n godin met die naam van Roma wat die gees van Rome verteenwoordig het. In 26 v.C. is daar ’n tempel gebou om keiser Augustus te aanbid en in 25 n.C. een om keiser Tiberius te aanbid.

Die stad het baie en waarskynlik oorwegend, Joodse inwoners gehad wat sterk in die handelswêreld betrokke was en soos gewoonlik het sakelui baie nou saam gewerk met die owerhede en hierdie entrepreneurs het die owerhede uitgebuit en misbruik om op te tree teen die Christen gelowiges in Smirna.

Dit is nie baie duidelik wie die kerk in Smirna gestig het nie, maar omdat Paulus se derde sendingreis deur die hele Klien-Asië gestrek het (Hand.19:10), is die kanse goed dit die stigter van hierdie gemeente dan Paulus was.  Hierdie reis het tussen 53-56 n.C. plaasgevind.

·           Die Beeld van Christus:
Ons sien in Openb. 2:8b, dat Christus Homself as volg voorstel ~ So sê die Eerste en die Laaste, wat dood was en weer lewend geword het.  Hierdie "Titel" wat Christus vir Homself gee, nl. "die Eerste en die Laaste", is ’n direkte aanhaling uit Jes.44:6 en 48:12, waar dit gebruik word om Hom as Jehova (Here God) voor te stel.  Eendersyds bevestig Jesus dus dat Hy Jehova is, maar andersyds stel Jesus Homself dus ook voor as die ewige, of ewig lewende Een en Oorwinnaar oor die dood.  In kort stel Jesus Homself dus bekend as die Almagtige God – Hy wat beskik oor alle mag en gesag in hemel en op aarde. Met hierdie bekendstelling verwys Jesus egter ook na Sy kruisdood en Sy opstanding (dood en lewe dus).

Hy stel Homself verder ook voor as dié Een op wie die Kerk moet staatmaak, omdat, soos Fil.1:6 tereg sê, Hy die Een is ...wat die goeie werk in julle begin het, dit end-uit sal voer en dit sal voleindig op die dag wanneer Christus Jesus kom.  Alle dinge is dus van Hom, deur Hom en vir Hom.  Omdat Hy die enigste Een is wat die dood kon oorwin, kan Hy tereg sê dat Hy simpatie kan hê met die ergste vorme van beproewing wat enige gelowige denkbaar kan ervaar.

Hierdie gemeente in Smirna het geweldig swaar gekry en het erge vervolging gely, net omdat hulle getrou en gehoorsaam was aan Christus en die Waarheid en daarom kon hierdie bekendstelling van Christus as die “dood-oorwinnende-Christus” nie op ’n meer geleë tyd gekom het nie en dien dit as wonderlike bemoediging vir die gelowiges, want Jesus ís voorwaar dié Een wat die dood oorwin het en is Paulus se woorde in 1Kor.15:55-57 dus vir hulle saam met hierdie bekendstelling van Wie Jesus is, ’n ware bemoediging en troos ~ Dood, waar is jou oorwinning? Dood, waar is jou angel?” 56Die angel van die dood is die sonde, en die sonde kry sy krag uit die wet van God. 57Maar ons dank God dat Hy aan ons die oorwinning gee deur ons Here Jesus Christus.

·           Christus se Aanprysing:
Ons lees in Openb.2:9 die volgende aanprysing van Christus rig tot die gemeente in Smirna ~ Ek ken julle verdrukking en julle armoede, en tog is julle ryk. Ek weet ook van die kwaadstokery van die mense wat daarop aanspraak maak dat hulle Jode is, en dit nie is nie, maar tot die sinagoge van die Satan behoort.  Wat hier opmerklik is, is dat hier geen sprake van kritiek teen die gemeente is nie, trouens die gemeente in Smirna het vir drie uitstaande dinge bekend gestaan.

Die eerste uitstaande kenmerk van hierdie gemeente, was die feit dat hulle volhard en uitgehou het te midde van fel vervolging.  Presies watter vorm hierdie vervolging aangeneem het, is nie heeltemal seker nie, maar hoogs waarskynlik het dit die vorm van fisiese mishandeling behels, wat uiteindelik tot die dood kon lei.  Sulke vervolging is waarskynlik die ergste vorm van vervolging wat ’n gelowige kan ervaar.

Tweedens het die gemeente ook geweldige armoede ervaar.  Vir ’n gemeente om te midde van rykdom rondom hulle, bekend te staan as ’n armoedige gemeente, moes geweldig vernederend gewees het.  Hierdie armoede het waarskynlik voortgespruit uit die feit dat die gelowiges ontneem is van besigheidsgeleenthede ens. en dit was hoogs waarskynlik, o.a. omdat hulle nie toegegee het aan allerlei onwettige en onbybelse praktyke ten einde hulself te verryk en om besigheid te kon kry nie (vergelykbaar met hedendaagse praktyke van bedrog en omkopery?).  Bevordering in die werksomgewing was hulle waarskynlik nie beskore nie en onregmatige afdankings en vervolging in die werk was waarskynlik aan die orde van die dag.  Elke moontlike poging is waarskynlik aangewend om materiële verlies vir die gelowiges te verseker.  Verskriklike ostrasisme (verbanning en uitsluiting uit die gemeenskap) is dus toegepas op hierdie groepie gelowiges. 

Wanneer hierdie uiterste vorme van vervolging ons tref, verseker Christus ons, dat dit bloot uiterlik is en dat wonderlike vergoeding en eer en rykdom op diegene wag wat ly t.w.v. hulle gehoorsaamheid aan Christus en hierdie vergoeding en eer en rykdom sal ’n ewigheid duur!

Derdens het die gemeente smaad en laster en beswaddering en kwaadsprekery ervaar.  Hulle is volgens oorlewering beskuldig van talle onwaarhede en hulle is geïmpliseer by allerlei skandale.  Kan julle dink hoe dit sou gevoel en gewees het, as koerante en die internet toe al bestaan het!

Die mees pynlike daarvan, was die feit dat hierdie smaad en belastering, ens. deur sg. gelowiges teen hierdie Christene geloods was.  Ons moet in gedagte hou dat die heidense wêreld, die Jode gesien het as gelowiges en daarom was hierdie aanvalle deur "gelowiges", geloods deur Jode, of deur “gelowiges” van ander denominasies wat nie waarlik die getuienis van ’n godvrugtige lewe uitgeleef het nie, of hulle kon dalk ook “gelowiges” gewees het, wat openlik gekant was teen ’n godvrugtige lewe, maar wat die etiket van ’n Christen wou dra.  Hierdie sg. gelowiges was die gelowiges se mede-volksgenote wat deel was van die Joodse sinagoge, maar Christus verwys na hulle as “behorende tot die sinagoge van satan”, want hulle was direkte instrumente in die hande van die bose.  Dit is algemene kennis dat die mees flagrante en aakligste vervolging op gelowiges, juis geskied het deur mense wat hulleself gelowiges genoem het – daarom is die Engelse spreuk so waar ~ More deeply felt is the stab of a brother than that of a stranger. Bevestiging vir wat ook so pas gesê het van die Jode, vind ons op verskeie plekke in o.a. Hand.6 en 7; 10; 14; 17; 18; 19; 21; 24; 25; 28; ens.

Jesus het in Matt.24:22 gesê dat die gelowiges (en dit sluit natuurlik die gelowiges in Smirna in) se vervolging binnekort sou toeneem – verwysende natuurlik na die gebeure in 70 n.C., toe die tempel en Jerusalem "geval" het ~ En as dit nie was dat God daardie tyd ingekort het nie, sou geen mens dit oorleef nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal God daardie tyd inkort. Daar is egter ’n bemoedigende en vertroostende boodskap opgesluit vir die gelowiges in hierdie profesie van Jesus t.o.v. die vervolging van die gelowiges wat gaan toeneem, want in Openb.2:10 sê Jesus ~ En as dit nie was dat God daardie tyd ingekort het nie, sou geen mens dit oorleef nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal God daardie tyd inkort. Die gelowiges se vervolging sou dus toeneem, maar soos ons hier in Openb.2:10 sien, is dit vir hulle eie beswil, want deur hierdie vervolging ontwikkel die gelowiges "geestelike spiere" om te kan volhard tot die einde toe.

In die lig van wat ek so pas gesê het, moet ons as gemeente ook weet en onthou, dat ons ook vervolging sal ervaar wanneer ons gehoorsaam is aan Christus en die Waarheid van die Woord maar wat ’n vertroosting vind ons nie in hierdie bemoedigende woorde van Christus aan die gemeente in Smirna nie – laat ons dit altyd in gedagte hou!

·                    Christus se Bestraffing:
Soos reeds gesê, het hierdie gemeente in Smirna, tesame met die gemeente in Filadelfia, geen bestraffing van Christus ontvang nie – dit opsigself is waarskynlik die hoogste vorm van lof wat ’n gemeente kan ontvang, nl. Geen bestraffing!

·                    Christus se Raad:
Openb.2:10 ~ Moenie bang wees vir wat julle alles gaan ly nie. Kyk, die duiwel gaan party van julle in die tronk laat gooi, sodat julle in beproewing sal kom, en julle sal tien dae lank baie swaar kry. Bly getrou tot die dood toe, en Ek sal julle die lewe as kroon gee.  Sommige vorme van lyding is baie moeilik hanteerbaar en dit is ewe moeilik om mense wat gebuk gaan onder lyding werklik te vertroos en te bemoedig – veral sekere soorte lyding.  Dit is baie dikwels net die sekuriteit en vertroosting wat God voorsien, wat regtig vertroos.  Dit is so dat God op die regte tyd sulke sekuriteit en vertroosting, asook raad skenk.

Dit is egter baie interessant om te sien dat Christus hierdie groepie mense in Smirna eers waarsku, alvorens Hy hulle vertroos.  Waarom doen Hy dit?  Omdat dit baie dikwels ’n natuurlike gevolg en optrede by mense wat ly, tot gevolg het, nl. om te vrees.  Die probleem met vrees, is dat dit baie dikwels ’n mens se emosies lam lê.  Die teenoorgestelde van hierdie verlammende vrees, is moedige en dapper hoop.  Die antwoord dus op vrees en wanneer jy onder aanvalle verkeer, is om daardie aanvalle teen te staan en te beveg en dan sal jy die vervolging en vrees die hoof kan bied.

Tweedens waarsku Christus teen hoop wat ongegrond en “self opgeklits” is.  Hoop m.a.w. wat nie gegrond is op die Woord van God nie en hoop wat onrealisties is.  Sulke hoop lei gewoonlik na ontnugtering.  Die hoop wat Christus egter bied, is realisties en eerlik en staar realiteite in die gesig – dit bied dus nie vals hoop nie.  Dit is waarom Hy nie vir die gemeente in Smirna sê:  Moenie bang wees nie, hierdie swaarkry van julle sal binnekort verby wees.   Nee, Hy weet wat vir hulle voorlê en deel van die hoop wat Hy hulle bied, is om hulle voor te berei op wat wag, daarom dat Hy sê ~ Kyk, die duiwel gaan party van julle in die tronk laat gooi, sodat julle in beproewing sal kom, en julle sal tien dae lank baie swaar kry. 

Hy sê dus op die oog af vir hulle dat dit wat hulle tot dusver ervaar het, ’n vulletjie gaan wees, in vergelyking met dit wat nog gaan kom – nog meer vervolging is dus op hande!  Dit klink nie regtig na bemoediging nie!  En nog minder sal sulke tipe bemoediging in ons moderne era “afgaan”. 

Hoe ongevoelig dit ook al mag klink – harde en ongenaakbare feite en waarheid, bemagtig en staal gelowige “soldate” baie beter as valsbeelde van oorwinning wat nie ’n realiteit is nie.

Baie belangrike waarhede spruit voort uit hierdie somber waarskuwing wat Christus maak:
–     Soms kan gelowiges se beproewing onverbiddelik voortduur.
–     Agter elke stukkie vervolging wat oor die pad van ’n gelowige kom, sit die bose – Hy was ’n “mense moordenaar” van die eerste dag af.  Hoor wat sê Joh.8:44 van mense wat folteraars is ~ Julle is kinders van die duiwel; hy is julle vader, en julle wil doen wat julle vader wil hê julle moet doen. Hy was van die begin af ’n moordenaar. En hy staan nie aan die kant van die waarheid nie, omdat daar geen waarheid in hom is nie. Wanneer hy leuentaal praat, is dit volgens sy aard, want hy is ’n leuenaar en die vader van die leuen.
–       Ons moet besef dat geen beproewing om dowe neute plaasvind nie.  Vir die gelowige is dit ’n herinnering aan die aakligheid van die sondige aard waarin ons almal nog steeds vasgevang is en fokus dit opnuut ons gedagtes op God se genade vir ons as sondaars – Hoe nodig het ons nie Sy genade nie!  Vir die gelowige is beproewing, ’n “eksamen”.  Indien hy die “eksamen” slaag, word sy karakter gebrei en word daar bygevoeg by sy hemelse beloning.
–       Ons moet besef dat geen beproewing vir altyd aanhou nie – nog net “tien dae”.  Die getal tien kan hier ook ’n volheidsgetal simboliseer – bedoelende dat hierdie beproewing deur God in Sy soewereiniteit verordineer is en nie deur die satan nie.
–       Ons moet vervolging verwag. Petrus waarsku ons in 1Pet.4:12 dat ons vervolging moet verwag

Geliefdes, ons as gelowiges moet leer om beproewing en vervolging te omhels - we must embrace our suffering.

Ons lees in Fil.3:10 hierdie swaar gelaaide en uiters gewigtige woorde van Paulus wat elkeen van ons wat bely dat ons gelowiges is, ten alle tye móét onderskryf en uitleef, nl. ~ Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood....

Hier is ’n paar dinge wat ons uit hierdie gedeelte in Filippense vir ons self moet toe-eien, ten einde voorbereid en toegerus te wees op vervolging en beproewing wat oor ons pad sal kom.

Paulus spreek in v.10, drie wense uit, nl.:
·           Om Christus te ken.  Dit is tog immers elke gelowige se begeerte, want as dit nie die geval is nie, is ons nie waarlik kind van God nie – hierdie is tog immers een van die merktekens van ’n ware gelowige. Ons kan dus met hierdie wens van Paulus identifiseer.
·           Tweedens spreek Paulus die wens uit om die krag van Christus se opstanding te ondervind. Hiermee het gelowiges ook nie ’n probleem nie, want dit is tog immers ons groot troos in die skadu van die dood en as dit nie was vir Christus se opstanding uit die dood nie, het ons ook geen hoop gehad om uit die dood te kan opstaan en ’n ewige lewe tegemoet te gaan nie.
·           In die derde plek spreek Paulus egter ’n wens uit waarmee ons as gelowiges ons nie graag vereenselwig nie, nl. om deel te hê aan Christus se lyding nie. Dit is egter noodsaaklik dat ons ook hierdie gebed saam met Paulus sal bid, want ons kan nie verwag dat Christus ons sal help en bystaan tydens beproewing, as ons nie deel het aan Sy lyding nie. 

Om deel te hê aan Christus se lyding beteken nié dat ons gewillig moet wees om vir andere se sonde te ly nie – net Jesus kon dit doen.  Nee, om deel te hê aan Jesus se lyding, beteken om vervolging wat van die wêreld kom, op dieselfde wyse te ervaar en te hanteer as wat Jesus dit gedoen het – ons reaksie moet dus elke keer dieselfde wees as Jesus se reaksie toe Hy vervolg, of benadeel was – Hy het elke keer geseën en nie vervloek nie.  Wanneer ons vervolging op hierdie wyse hanteer, sal ons nader aan Christus groei en sal ons vervolging baie beter hanteer, trouens, ons sal geseën word, elke keer as ons vervolging hanteer soos wat Jesus dit hanteer het. Ek het netnou gesê dat Petrus ons waarsku dat ons vervolging moet verwag, maar Petrus sê daarmee saam, dat ons bly moet wees as ons vervolging en beproewing ervaar, want wanneer ons deel het aan Christus se lyding, sal ons ...oorloop van vreugde by sy wederkoms in heerlikheid (1Pet.4:13).

Derdens doen Christus ’n ernstige beroep op die Kerk om getrou te bly.  Wat meer is, hierdie getrouheid moet nie tot ’n einde kom wanneer die beproewing of vervolging afneem of verby is nie – dit is ’n roeping tot die dood toe!  Dit impliseer dus dat vervolging deurgemaak en deurgestaan moet word sonder ’n gekla en gebrom of om die egtheid van jou geloof te kompromitteer; of om jou liefde vir God in die proses te verloor; of om jou vertroue in Sy getrouheid te verloor.  Hierdie getrouheid word natuurlik met die kroon van die lewe vergoed in die hiernamaals – Jak.1:12 ~ Gelukkig is die mens wat in versoeking standvastig bly. As hy die toets deurstaan het, sal hy as oorwinningsprys die lewe ontvang wat die Here belowe het aan dié wat Hom liefhet.  ’n Kroon is tekenend van koningskap en hierdie kroon wat elke getroue volgeling van Jesus Christus gaan ontvang, se glinstering gaan afhang van die dimensie van die draer se aardse arbeid, gehoorsaamheid en getrouheid.  In 2Tim4:8 lees ons van die “oorwinnaarskroon” ~ Nou wag die oorwinnaarskroon vir my, die lewe by God. Op die dag dat Hy weer kom, sal die Here, die regverdige Regter, dit vir my gee, en nie net vir my nie, maar ook vir almal wat met verlange uitsien na sy koms.  Elkeen wat versoeking en vervolging suksesvol deurstaan sal die kroon van die lewe ontvang ~ Gelukkig is die mens wat in versoeking standvastig bly. As hy die toets deurstaan het, sal hy as oorwinningsprys die lewe ontvang wat die Here belowe het aan dié wat Hom liefhet (Jak.1:12).  So sal die “sielewenner” bv. ’n kroon van blydskap ontvang ~ Wie anders tog as julle is ons hoop en ons blydskap, die kroon op ons werk waarop ons trots sal wees wanneer ons met sy wederkoms voor die Here Jesus sal verskyn? 20 Júlle is immers ons trots en ons blydskap! (1Tes.2:19-20).  ’n Kroon van heerlikheid sal gegee word vir geestelike leiers wat getrou na die kudde omgesien het (1Pet.5:5).  Al hierdie krone en ander belonings sal gegee word deur die genadige hand van Jesus die Christus wie al hierdie gawes en dienswerk aan Sy kinders geskenk het, want uit onsself is ons in elk geval nie tot hierdie goeie dade in staat nie.

·           Christus se Belofte:
Openb.2:11 ~ Elkeen wat kan hoor, moet luister na wat die Gees vir die gemeentes sê. Dié wat die oorwinning behaal, sal beslis nie deur die tweede dood getref word nie.  Weereens word hier ’n beroep gedoen op gemeentes wat in die Gees wandel, om aandag te skenk aan wát die Gees sê.  In hierdie boodskap lê daar ’n wonderlike belofte opgesluit vir die diegene wat oorwin, m.a.w. vir diegene wat tot aan die einde van hul dienswerk en lewe hier op aarde, volhard in hul geloof en gehoorsaamheid en getrouheid aan Jesus Christus.  Wat behels hierdie belofte? 
–       Dit behels ewige immuniteit teen die “tweede dood”, m.a.w. die “triomfeerders” word gespaar van ’n ewige lyding in die hel en wat meer is, volgens Paulus in 2Tim.2:12, sal ... ons (wie) in die geloof volhard, saam met Hom regeer.... 

Die eerste dood is die fisiese dood waar die liggaam afsterwe en dit opsigself is pynlik vir die gelowige, maar genadiglik (prys die Here!), nie die tweede dood nie.  Dit word ondubbelsinnig in Openb.20:6 vir ons gesê ~ Geseënd en heilig is dié wat aan die eerste opstanding deel het. Oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom die duisend jaar lank regeer (Die getal 1 000:  Lang tydperk of groot hoeveel).  Wat is die tweede dood?  Openb.20:14 ~ Toe is die dood en die doderyk in die vuurpoel gegooi. Dit is die tweede dood, die vuurpoel.  Wie gaan die tweede dood ervaar – Openb.21:8 ~ Maar dié wat bang en ontrou geword het, die losbandiges, moordenaars en onsedelikes, bedrieërs en afgodsdienaars en al die leuenaars, hulle lot is die poel wat met vuur en swael brand, dit is die tweede dood.

’n Gemeente wat deur die beproewing gaan waardeur die gemeente in Smirna gegaan het, het hierdie tipe van bemoediging absoluut nodig gehad.  Baie gepas besoek Christus die “Eerste en die Laaste”, wie dood was en nou lewend, dié Een wie deur soortgelyke beproewing as dié van die gemeente in Smirna gegaan het en veel, veel meer as dit – Hy het oor die dood getriomfeer – Hy kom nou en Hy vertroos en bemoedig die gemeente in Smirna.  Hy vertroos hulle met realistiese en opregte hoop – hoop op ’n wonderlike triomferende en ewige lewe in die hiernamaals!

Hierdie selfde hoop, nl. hoop op ’n wonderlike triomferende en ewige lewe in die hiernamaals, is ook ’n belofte van hoop wat elkeen van ons in ons harte kan vertroetel.


[1] Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te VAALDRIEHOEK Baptiste Gemeente (Vereeniging) - Sondagoggend 15 Januarie 2012