Saturday, 11 February 2012

Sewe Briewe aan Sewe Gemeentes - 05 (Die Gemeente in Sardis)

1.     SKRIFLESING:
Openb.3:1-6 ~ Skrywe aan die leraar van die gemeente in Sardis: So sê Hy wat die sewe Geeste van God en die sewe sterre het: Ek weet alles wat julle doen. Ek weet dat julle die naam het dat julle lewe, en tog is julle dood. 2Word wakker en versterk wat nog by julle oorgebly het, wat op die punt staan om dood te loop. Wat julle doen, vind Ek nie goed genoeg voor die oë van my God nie. 3Dink daaraan hoe julle die evangelie ontvang en daarna geluister het. Hou daarmee vol en bekeer julle. As julle nie wakker word nie, sal Ek onverwags kom soos ’n dief, en julle sal nie weet wanneer Ek op julle sal afkom nie. 4Maar julle het darem ’n paar mense daar in Sardis wat nie hulle klere besoedel het nie, en hulle sal altyd in wit klere by My wees omdat hulle dit waardig is. 5Elkeen wat die oorwinning behaal, sal sulke wit klere dra. Ek sal nooit sy naam uit die boek van die lewe uithaal nie, en Ek sal voor my Vader en voor sy engele verklaar dat hy aan My behoort. 6Elkeen wat kan hoor, moet luister na wat die Gees vir die gemeente sê.

2.     INLEIDING:
Ons briewebesteller het vanaf Tiatira, in ’n suid-oostelike rigting gedraai en na die stad Sardis gegaan.  Ons kan onsself indink oor die afwagting wat onder die gemeentelede in Sardis geheers het, want teen hierdie tyd het hulle dalk al gehoor van die briewe wat by die gemeentes in Efese, Smirna, Pergamum en Tiatira, afgelewer is en hulle kon dalk ook gehoor het van die goeie dinge waaroor Christus die vorige gemeentes aangeprys het – en as Hy dit met hulle kon doen, hoeveel te meer nie met hulle nie, want dit was geen geheim dat hulle bekend gestaan het as ’n groot, sterk en lewende gemeente, maar kom ons kyk wat het alles in hulle brief gestaan.

2.    DIE GEMEENTE IN SARDIS (3:1-6):
·           Die Geadresseerde Gemeente: 
Openb.3:1a ~ Skrywe aan die leraar van die gemeente in Sardis.  Die stad Sardis is in ongeveer 1200 v.C. gestig en was die ou hoofstad van die provinsie Lidia en het beroemd geraak vir sy rooi kleursel en wolprodukte, asook sy spoelgoud wat uit die nabygeleë Pactolusrivier gekom het.  Goud en silwer munte was waarskynlik ook die eerste keer in die geskiedenis van die wêreld, hier in Sardis gemunt. 

Die stad was geleë op ’n hoë berg wat onbereikbaar was van drie kante, a.g.v. loodregte kranse en aan die eenkant kon jy die stad net met ’n steil paadjie bereik.     Ook was hierdie stad bekend vir sy immoraliteit en dit opsigself het dit baie uitdagend gemaak vir gelowiges om daar, geestelik te kon oorleef en dit word bevestig deur die feit dat min van die gelowiges nie “hulle klere besoedel” het nie (v.4).  Aanbidding van die godin Diana (soos in Efese) het ook hier plaasgevind. 

Die stad is in 17 n.C. deur ’n verwoestende aardbewing bykans heeltemal plat gevee, maar was later weer herbou.

Hierdie gemeente het waarskynlik ook tot stand gekom onder die bediening van Paulus (Hand.19:10).  Heel moontlik was die mees prominente inwoner van Sardis, ’n man met die naam van Melito.  Hy was ’n apologeet (iemand wat die Christelike geloof verdedig het) en het gedurende die tweede eeu na Christus, as biskop van Sardis gedien.  Hy word ook erken as die persoon wat die vroegste erkende kommentaar oor gedeeltes van Openbaring geskryf het. 

·           Die Beeld van Christus:
Openb.3:1b ~ So sê Hy wat die sewe Geeste van God en die sewe sterre het.  Christus staan besonderlik bekend as dié Een van wie die Reinigende Heilige Gees kom en onder Wie se gesag en leiding die Kerk staan (sterre = 1:20).  Alhoewel die kerk deur die bloed van Jesus Christus gekoop is, is dit deur die Heilige Gees dat Christus se verlossing en versoening, toegepas word.  Dit is deur die Gees dat individue en gemeentes se geestelike lewe tot stand kom en groei – dit is deur die werking en die krag van die Heilige Gees dat die lewenslange proses van stry teen die sonde en heiligmaking plaasvind.  Dit is deur die Gees dat geestelike gawes geskenk en toegepas word aan en in die gemeente.  Dit is deur die Gees dat die kerk gebou word.  In kort, dit is deur die Heilige Gees dat Christus Sy Bruid (die kerk) voed en deur die ouderlinge, lei en regeer Hy die kerk.  Deur Homself as die Skenker van die Gees, asook die ouderlinge voor te stel, maak Christus dit baie duidelik, dat Hy die Hoof van die kerk is en aan Wie almal moet onderwerp.

·           Christus se Bestraffing:
As ons na die volgende hoofpunt, wat die struktuur van die briewe volg, wil kyk, nl. Christus se aanprysing, wyk dit hier so bietjie af van die normale volgorde wat die teksverse volg en spring ons eers na Christus se bestraffing en ons vind dit in Openb.3:1c ~ Ek weet alles wat julle doen. Ek weet dat julle die naam het dat julle lewe, en tog is julle dood.  As Hoof van die gemeente en deur Sy alwetendheid, is Christus 100% bewus van die gemeente se valsheid.  Hierdie gemeente het op die oog af ’n wonderlike reputasie gehad, maar van binne was dit korrup en vals en geestelik morsdood.  Daar het geen lewensaar tussen die gemeente en Christus bestaan nie.

Alles het administratief en organisatories baie goed gegaan in die gemeente – so ook wat betref die bywoning van die eredienste en selfs die groei van die kerk in lidmaattal.  Oënskynlik was daar ook niks fout te vinde met hulle teologie of dissipline nie.  Maar, soos die geval met die kerk in Efese, was die geloof van die lidmate dooie werke en het daar geen liefde vir Christus bestaan nie. Die prediking het waarskynlik ook nie uit liefde, dankbaarheid en gehoorsaamheid aan die Woord en tot eer van God geskied nie.

Kerklike “sukses” gaan dus nie net oor pragtige geboue, groot lidmaat getalle, pragtige en oënskynlik geseënde bedieninge en allerlei programme nie.  Ook gaan dit nie oor vooraanstaande name in die gemeente nie.  Selfs met al hierdie dinge kan ’n gemeente geestelik morsdood wees en in die gemeente van Sardis was daar oënskynlik geen geestelike groei en heiligmaking teenwoordig nie. 

Ons kan ook nie uit die brief agterkom of daar enige dwaalleer of vervolging in die gemeente was nie en waarom sal die satan dan nou ook ’n dooie kerk wíl mislei en vervolg?  Ons sal egter binnekort sien dat van hierdie dinge wel in die gemeente teenwoordig moes gewees het.

Hierdie gemeente was waarskynlik meer besorgd oor hulle reputasie by mense as oor hul reputasie in die hemel – meer besorgd oor die goedkeuring en aanprysing van ander gemeentes en mense, as vir die aanprysing van Christus.

Die hartseer ding van hierdie gemeente was dat hulle mislukkings nie die uitsondering was nie, maar die reël en daarom was Christus se eerste woorde, nie soos in die ander gevalle, ’n woord van gelukwensing nie, maar een van kritiek.  Dalk is hierdie dan ook ’n aanduiding van hoe Christus voel oor mense wat hulle voordoen vir iets of iemand wie hulle nie is nie.

·           Christus se Raad:
Nog steeds is ons nie by die normale volgorde nie en kyk ons eers na Christus se raad, wat ons in Openb.3:2-3 vind.    Word wakker en versterk wat nog by julle oorgebly het, wat op die punt staan om dood te loop. Wat julle doen, vind Ek nie goed genoeg voor die oë van my God nie. 3 Dink daaraan hoe julle die evangelie ontvang en daarna geluister het. Hou daarmee vol en bekeer julle. As julle nie wakker word nie, sal Ek onverwags kom soos ’n dief, en julle sal nie weet wanneer Ek op julle sal afkom nie.  Christus gee hier ’n viervoudige oplossing aan die oorblyfsel van die gemeente wat getrou gebly het en Hy praat spesifiek met die oorblyfsel van getroues, omdat dit nie help om met die “dooies” te praat nie.

Eerstens moes die gemeente wakkerskrik en besef dat aanvaarding by die wêreld, nie noodwendig aanvaarding by God is nie.  Hulle kon dus nie maar net voort dryf en maak soos almal om hulle maak nie.  Hulle moes aktief betrokke raak en sonde in hulle midde identifiseer en dit met wortel en tak uitroei.

Tweedens moes hulle daardie dinge versterk wat nog oorgebly het, maar wat op die punt gestaan het om ook dood te loop.  ’n Radikale geestelike lewe het kort gekom in die gemeente en dit moes weer aangeblaas word.

Derdens moes die getroue gelowiges wat oorgebly het in die gemeente, alles wat hulle vantevore gehoor en ontvang het, in herinnering roep.  Hulle moes terugkeer na die Woord van die Here.  Dit is dus duidelik dat die Here Jesus ’n baie hoë premie plaas op die lê van die regte fondasies in ’n gemeente, want dit stel bepaalde standaarde waarvolgens ’n gemeente kan en moet lewe en wanneer dit nodig mag wees (soos hier in die geval van die gemeente in Sardis), kan daar “teruggegryp” word na die standaarde en fondasie wat in die verlede gelê is.  Dit herinner ons aan 2:5 ~ Dink daaraan hoe ver julle al agteruitgegaan het. Bekeer julle en doen weer wat julle in die begin gedoen het.  Hier in Sardis was dit dus nodig om die fondasie weer stewig te ontgin en waar nodig oor te lê, want slegs dít kan die restourasie proses in die gemeente suksesvol laat verloop – ’n mens kan amper sê dat dit ’n “back-to-basics” situasie is.

Vierdens moes hulle op ’n plek kom waar hulle sondebelydenis moes doen.  Geen geestelike verval kan reggestel word deur dit “reg te dokter” met allerlei menslike oplossings, programme of tegnieke nie – ernstige en opregte selfondersoek moet gedoen word; sonde moet bely word en bekering moet plaasvind waar nodig.

Hierdie vier stappe, indien dit toegewyd toegepas en uitgeleef word, sal geestelike herlewing in elke individuele lidmaat, maar ook in die gemeente, korporatief tot gevolg hê.

·           Christus se Aanprysing:
Nou keer ons terug na Christus se aanprysing en wel in Openb.3:4 ~ Maar julle het darem ’n paar mense daar in Sardis wat nie hulle klere besoedel het nie, en hulle sal altyd in wit klere by My wees omdat hulle dit waardig is.  In die midde van hierdie dooie gemeente, gevul met mense wat ongered was, was daar darem ’n paar opregte gelowiges.  Ongelukkig was hulle nie genoeg om die gemeente se status in die oë van Christus van ’n dooie gemeente na ’n lewende gemeente te verander nie, maar Christus het nie diegene wat getrou aan Hom gebly het, vergeet nie.  Dit laat ’n mens dink aan Mal.3:16-17 en Hebr.6:10 ~ Toe het die mense wat eerbied vir die Here het, onder mekaar geredeneer, en die Here het dit gehoor en daarop ag geslaan. Daar is ’n gedenkboek voor Hom geskryf met die name van dié wat eerbied vir die Here het en waarde heg aan sy Naam. 17 Hulle sal vir My ’n kosbare besitting wees die dag as Ek ingryp, sê die Here die Almagtige. Ek sal goed wees vir hulle, soos iemand goed is vir sy seun wat vir hom werk (Mal.3:16-17) en ...God is nie onregverdig nie: Hy sal julle werk nie vergeet nie en ook nie die liefde wat julle vir sy Naam betoon het deurdat julle julle medegelowiges gedien het en nog dien nie (Hebr.6:10).

Een van die deurlopende temas van die Woord is dat God voortdurend besig is om Sy “getroue oorblyfsel” (Sy kinders wat getrou aan Hom bly), te bewaar.  Paulus beskryf dit pragtig in Rom.11:1-5 ~ “Het God dan nie tog sy volk verstoot nie?” sou iemand kon vra. Beslis nie! Ek is immers self ook ’n Israeliet, ’n afstammeling van Abraham, uit die stam Benjamin. 2 God het sy volk, wat Hy lank tevore verkies het, nie verstoot nie. Of weet julle nie wat die Skrif sê van Elia nie, hoe hy by God oor Israel gekla het: 3 “Here, hulle het u profete doodgemaak en u altare afgebreek, en net ek het oorgebly, en hulle wil my ook om die lewe bring.” 4 Maar wat het God hom geantwoord? “Ek het vir My sewe duisend manne laat oorbly wat nie vir Baäl aanbid het nie.” 5 Net so is dit ook vandag: daar is ’n oorblyfsel wat uit genade deur God uitverkies is.  God het dus ’n “oorblyfsel” – selfs in die dooie gemeente van Sardis!  Daar was ’n paar opregtes tussen die huigelaars en geveinsdes; ’n paar nederiges tussen die hoogmoediges; ’n handjievol tussen die wêreldlinge; ’n paar koringare tussen die onkruid.

Christus beskryf die paar mense wat getrou gebly het, as ’n paar mense daar in Sardis wat nie hulle klere besoedel het nie.  Die woord besoedel in die Grieks beteken om te  “bevlek”; of te “besmet”, of te “skend”, of “vuil te maak”, of te “verontreinig”, of te “besoedel”, of te “onteer”.  Hierdie woord was ook gebruik wanneer wol gekleur is en derhalwe moes dit ’n bekende woord in die gemeente van Sardis gewees het. 

“Kledingstukke” of “klere” word weer in die Skrif gebruik om karakter te versinnebeeld, Jes.64:6 ~ Ons het almal geword soos mense wat onrein is, ons beste dade is soos vuil klere; of Judas 23 ~  Ander moet julle red deur hulle uit die vuur te ruk. Oor ander moet julle julle met versigtigheid ontferm; en verafsku selfs die klere wat deur hulle sondige luste besmet is.

Die wonderlike nuus vir die getroues in Sardis is dat hulle met vrymoedigheid in die teenwoordigheid van God kon kom omdat hulle klere nie bevlek is nie, maar dat hulle getrou was aan hulle goddelike karakter.

Christus sê ook spesifiek vir hierdie gelowiges dat hulle altyd in wit klere by (Hom) sal wees omdat hulle dit waardig is.  In die antieke dae het mense wit klere aangetrek wanneer hulle fees gevier het en wit het ook reinheid gesimboliseer.  Hierdie “wit klere van reinheid” wat Christus hier in v.4 & v.5 belowe, is dieselfde klere wat Christus gedra het Matt.17:2 ~ Daar het sy voorkoms voor hulle oë verander: sy gesig het begin straal soos die son, en sy klere het wit geword soos die lig.  Ook die heilige engele dra hierdie wit klere (Matt.28:3).  En hoe word hierdie gelowiges se klere wit? – Openb.7:14 ~ ...Hulle het hulle klere gewas en dit wit gemaak in die bloed van die Lam.

Elke gelowige – m.a.w. elke heilig verklaarde (heilig verklaar deur God en nie mense, of soos in die R.K.K. nie) sal uiteindelik volmaakte heiligheid en reinheid ontvang in die hiernamaals.

Ten spyte van die feit dat ons dalk mag dink of glo dat ons dalk sosiaal nie so belangrik soos sommige mense is nie; of dat ons dalk akademies of intellektueel, of finansieel minder goed bedeeld en geseënd is, mag ons nooit, ooit dink dat Christus nie ons getrouheid raaksien nie.  Ook nie omdat ons dalk ’n klein gemeentetjie is nie.  Hy ken elkeen van ons op die naam en Hy ken ons werke!

·           Christus se Belofte:
Openb.3:5-6 ~ Elkeen wat die oorwinning behaal, sal sulke wit klere dra. Ek sal nooit sy naam uit die boek van die lewe uithaal nie, en Ek sal voor my Vader en voor sy engele verklaar dat hy aan My behoort. 6 Elkeen wat kan hoor, moet luister na wat die Gees vir die gemeentes sê.  Nadat Christus die gemeente aangespreek en raad aan hulle gegee het, kom Hy met hierdie wonderlike bemoediging en belofte.

Eerstens, soos reeds gesê, sal al die getroue gelowiges geklee word in wit klere (onthou:  wit simboliseer reinheid – skoon gewas deur die bloed van Christus dus).  Alle ware gelowiges sal hierdie wit klere dra wanneer hulle aansit by die bruilofsmaal van die Lam van God – Openb.19:7-9 ~ Laat ons bly wees en juig en aan Hom die eer gee, want die bruilof van die Lam het aangebreek, en sy bruid het haar daarvoor gereed gemaak. 8 God het haar dit vergun om fyn, helder blink klere aan te trek.” Hierdie fyn klere is die regverdige dade van die gelowiges. 9 Toe sê die engel vir my: “Skryf op: Geseënd is hulle wat na die bruilofsmaal van die Lam uitgenooi is.” Verder sê hy vir my: “Dit is die woorde van God, en hulle is waar.” 

Tweedens belowe Christus dat Hy nooit die name van die ware gelowiges uit die Boek van die Lewe sal vee nie. Trouens, Christus belowe dat Hy elke getroue gelowige se naam voor die Vader en die Engele sal noem en verklaar dat ons aan Hom behoort.  Hier herbevestig Christus dus die belofte wat Hy in Matt.10:32 gemaak het, nl. ~ Elkeen wat hom voor die mense openlik vir My uitspreek, vir hom sal Ek My ook openlik uitspreek voor my Vader wat in die hemel is.  Die gerusstellende waarheid en sekuriteit t.o.v. die gelowige se ewige redding loop soos ’n goue draad regdeur die Woord van God en word waarskynlik nêrens mooier en vollediger beskryf as in Rom.8:28-39 nie ~ Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is. 29 Dié wat Hy lank tevore verkies het, het Hy ook bestem om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat sy Seun baie broers kan hê van wie Hy die Eerste is. 30 Dié wat Hy daartoe bestem het, het Hy ook geroep. En dié wat Hy geroep het, het Hy ook vrygespreek.  En dié wat Hy vrygespreek het, het Hy ook verheerlik. 31 Wat is nou ons gevolgtrekking oor al hierdie dinge? Dít: God is vír ons, wie kan dan teen ons wees? 32 Hy het sy eie Seun nie gespaar nie, maar Hom oorgelewer om ons almal te red. Sal Hy ons dan nie al die ander dinge saam met Hom uit genade skenk nie? 33 Wie kan die uitverkorenes van God aankla? God self spreek hulle vry. 34 Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons. 35 Wie kan ons van die liefde van Christus skei? Lyding of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard? 36 Daar staan immers geskrywe: “Dit is oor U dat die dood ons dag vir dag bedreig, dat ons soos slagskape behandel word.” 37 Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet. 38 Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte 39 of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here. 

Hierdie brief aan Sardis word in vers 6 afgesluit met Christus wat daarop aandring dat die gemeente moet ag slaan op hierdie brief se inhoud.  Die gelowiges, of te wel diegene wat hulle gelowiges noem, moet dus wakker skrik voor dit te laat is en die handjievol gelowiges kan getroos voel met die wete dat hulle redding tot in ewigheid verseker is.

Wat het van Sardis geword?  Het hulle geluister na die waarskuwing?  Het daar herlewing gekom?  Die feit dat ’n man soos Melito etlike dekades na die skryf van hierdie brief daar gedien het, wil tog vir ons ’n aanduiding gee dat daar iets van ’n herlewing in die gemeente in Sardis moes plaasgevind het.

Ons kan ook bemoediging put uit hierdie brief en weet dat dit nooit te laat is om ons te bekeer en toe te sien dat die regte grondslag ook in ons lewe en in die lewe van ons  gemeente gelê word nie. Laat ons saam, maar ook individueel ons oë opnuut vestig op Jesus Christus en ons leer en lewe volkome aan Hom toewy.


[1] Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te VAALDRIEHOEK Baptiste Gemeente (Vereeniging) - Sondagoggend 12 Februarie 2012

Saturday, 4 February 2012

Sewe Briewe aan Sewe Gemeentes - 04 (Die Gemeente in Tiatira)

1.     SKRIFLESING:

Openb.2:18-29 ~ Skrywe aan die leraar van die gemeente in Tiatira: So sê die Seun van God, wie se oë soos vuur vlam en wie se voete soos geelkoper is: 19Ek weet alles wat julle doen. Ek ken julle liefde, geloof, diensvaardigheid en volharding en Ek weet dat julle nou ook meer doen as tevore. 20Maar Ek het dít teen julle dat julle die vrou Isebel laat begaan. Sy doen haar as profetes voor en leer en verlei my dienaars om onsedelikheid te bedrywe en afgods-offervleis te eet. 21Ek het haar kans gegee om haar te bekeer, maar sy wil haar nie van haar onsedelikheid bekeer nie. 22Kyk, Ek gee haar aan ’n siekbed oor, en die mense wat met haar owerspel gepleeg het, aan swaar lyding—as hulle hulle nie van haar praktyke bekeer nie. 23Haar volgelinge sal Ek deur ’n pessiekte om die lewe bring. Dan sal al die gemeentes weet dat dit Ek is, die Een wat die gedagtes en begeertes van die mens deurgrond. Ek sal elkeen van julle straf volgens julle doen en late. 24Maar vir julle ander in Tiatira, wat nie hierdie leer aanhang en nie die “diep geheimenisse van die Satan”, soos hulle dit noem, leer ken het nie, sê Ek: Ek lê op julle geen ander verpligting nie; 25hou net vas wat julle het, totdat Ek kom. 26Aan elkeen wat die oorwinning behaal en tot die einde toe volhou om te doen wat Ek wil hê, sal Ek mag en gesag oor die nasies gee. 27Hy sal hulle met ’n ystersepter regeer, hulle soos kleipotte stukkend slaan. 28Dieselfde mag en gesag het Ek ook van my Vader gekry. Daarby sal Ek vir elkeen wat die oorwinning behaal, die môrester gee. 29Elkeen wat kan hoor, moet luister na wat die Gees vir die gemeentes sê. 

2.     INLEIDING:
Ons briewebesteller het, nadat hy die brief wat aan die gemeente in Pergamum gerig was, afgelewer het, sy reis voort gesit en nou in oostelike rigting, die binneland in, koers gekies.  Hy het nog vier briewe in sy possak gehad en die adres op sy volgende koevert was dié van die gemeente in Tiatira.

3.    DIE GEMEENTE IN TIATIRA (2:18-29):
·           Die Geadresseerde Gemeente: 
Openb.2:18a ~ Skrywe aan die leraar van die gemeente in Tiatira.  Tiatira was een van die kleiner gemeentes in Klein-Asië, maar die gemeente wat die langste brief van die sewe gemeentes ontvang.  Dit was soos reeds gemeld in die binneland geleë en was afhanklik van handel vir sy voortbestaan.

Nie veel is bekend oor die totstandkoming van hierdie gemeente nie.  Dit is egter heel moontlik dat die gemeente se totstandkoming iets te doen gehad het met ’n vrou met die naam van Lidia, ’n purperverkoopster (’n duur en luukse pers wolmateriaal), of lede van haar huishouding, wat in Tiatira woonagtig was en wat die Evangelie van Jesus Christus op ’n handelsbesoek aan Filippi gehoor het, terwyl Paulus daar langs die rivier gepreek het  (Hand.16:14-15).  Dit kan egter ook wees dat Paulus die gemeente daar tot stand gebring het op een van sy sendingreise (Hand.19:10).  Die geestelike klimaat in Tiatira was ook nie veel anders as sy buurman na die weste toe, nl. Pergamum nie.  Immoraliteit en afgodery het ook hier hoogty gevier.

·           Die Beeld van Christus:
Openb.2:18b ~ So sê die Seun van God, wie se oë soos vuur vlam en wie se voete soos geelkoper is.  Dit gebeur nie dikwels dat Christus Homself voorstel as die Seun van God nie – Hy verkies gewoonlik eerder om Homself bekend te stel as die “Seun van die Mens”.  Met hierdie bekendstelling verkies Hy egter om die ongewone benaming te kies en wanneer Hy dit doen is dit asof Hy vir ’n oomblik die sluier lig oor Sy persoonlikheid, ten einde Homself baie duideliker en prominenter as die Tweede Persoon in die Goddelike Drie-Eenheid te onthul.  Dit was nodig dat die gemeente in Tiatira duidelik moes weet dat Christus, God self is, omdat hulle bepaalde omstandighede hierdie sekuriteit van Christus se Goddelikheid, broodnodig gehad het.

Eerstens vind ons Sy karaktereienskappe van alwetendheid en geregtigheid.  Dit word weerspieël deur die feit dat Sy oë soos ’n vuurvlam is – Hy sien alles en Hy kyk noukeurig na alles – ook na hulle omstandighede, maar ook na hulle diepste motiewe (v.23) en omdat Hy sonde veroordeel, word Sy oë beskryf as ’n vlammende vuur.

Verdere karaktereienskappe van Christus word uitgebeeld deur die uitdrukking voete soos geelkoper.  Hierdie beeld verwys na Sy almag en Sy alomteenwoordigheid.  Met “vlugtige voete” is Christus op elke plek met onbetwisbare mag.  Vir die regskapenes (eerlikes en opregtes) is hierdie ’n bron van inspirasie (Hy is altyd daar), maar vir die sondaars en boosaards is hierdie feit, rede tot siddering.

·           Christus se Aanprysing:
Openb.2:19 ~ Ek weet alles wat julle doen. Ek ken julle liefde, geloof, diensvaardigheid en volharding en Ek weet dat julle nou ook meer doen as tevore.  Hier word vyf dinge vermeld, waarmee die Hoof van die Kerk (Jesus Christus) baie in Sy skik is en Hy sê aan hulle, dat Hy weldeeglik bewus is van hulle positiewe pogings om hierdie vyf eienskappe uit te leef. 
-        Eerstens sê Christus aan hulle dat Hy deeglik bewus is van hulle werke – Ek weet alles wat julle doen.  Hierdie was dus ’n gemeente wat op wonderlike wyse die onderskeie behoeftes van haar lidmate aangespreek het en wat meer is, daar is groei in hierdie werke, m.a.w. elke keer as ’n mens vir ’n tydjie weg was en jy kom terug na hierdie gemeente, kon jy sien en ervaar dat hierdie pragtige werke met groter intensiteit en ywer uitgeleef en toegepas word - ...Ek weet dat julle nou ook meer doen as tevore (19c).  Dit is voorwaar ook só, nl. dat goeie werke nie staties moet wees nie.
-        Tweedens was hierdie gemeente by uitstek gekenmerk deur hulle liefde.  Beide gemeentelede én besoekers het die onderlinge liefde in die gemeente geniet en waardeer.  Daar is weliswaar nie baie mense wat sal kla oor aandag en omgee-liefde nie!
-        Derdens het hierdie gemeente bekend gestaan as ’n gemeente met geloof.  Die gemeente se vertroue in God om hul doelwitte te bereik was merkwaardig.  Selfs tydens tye van swaarkry en terugslae (wat alle gemeentes maar van tyd tot tyd ervaar) was hulle geloof in die Here, onwrikbaar.
-        Vierdens was hierdie gemeente nie suinig in haar beoefening van diensvaardigheid nie.  Oënskynlik was talente nie skaars onder gemeentelede nie en hierdie talente was vrylik aangewend tot diens en opbou van andere.  Dit is ook te betwyfel of hierdie ’n gemeente was waar net ’n handjievol van die gemeente al die werk gedoen het en dit wil voorkom asof al die aktiwiteite van die gemeente goed bygewoon is deur al die lidmate.
-        Vyfdens was die Tiatiragemeente ook ’n groep gelowiges wat volhard het.  Hoogs waarskynlik het hulle gedurende moeilike tye en tye van vervolging, die aangesig van God gesoek en gevra om wysheid en op Sy getroue leiding en versorging gewag.  As ’n mens in ag neem wat die gelowiges in Klein-Asië beleef het t.o.v. ekonomiese welvaart en vervolging, was hierdie gemeente heel waarskynlik baie vergewingsgesind en geduldig.

Hierdie was ’n gemeente wat voorwaar die Vader geken het.  Dit is selde dat ’n mens ’n gemeente raakloop waar al hierdie pragtige eienskappe gelyktydig aangetref word - liefde, geloof, diensvaardigheid en volharding.  En wat meer is, hulle het steeds gegroei wat hierdie eienskappe aan betref.

·           Christus se Bestraffing:
Openb.2:20-23 ~ Maar Ek het dít teen julle dat julle die vrou Isebel laat begaan. Sy doen haar as profetes voor en leer en verlei my dienaars om onsedelikheid te bedrywe en afgodsoffervleis te eet. 21 Ek het haar kans gegee om haar te bekeer, maar sy wil haar nie van haar onsedelikheid bekeer nie. 22 Kyk, Ek gee haar aan ’n siekbed oor, en die mense wat met haar owerspel gepleeg het, aan swaar lyding-as hulle hulle nie van haar praktyke bekeer nie. 23 Haar volgelinge sal Ek deur ’n pessiekte om die lewe bring. Dan sal al die gemeentes weet dat dit Ek is, die Een wat die gedagtes en begeertes van die mens deurgrond. Ek sal elkeen van julle straf volgens julle doen en late.  Nadat ons gehoor het wat se uitmuntende gemeente hierdie was, kom Christus se bestraffing en besef ons dat ook hier maar probleme was ten spyte van al die goeie en die mooie – geen kerk kan en sal dus ooit ’n “vyfster-kerk” wees nie.

Net soos die gemeente in Pergamum, was die gemeente in Tiatira se een groot probleem ’n gebrek aan dissipline en die uitoefening daarvan.  Uitermate geduld is betoon teenoor ’n vrou met die naam van Isebel.  Hierdie was waarskynlik ’n bynaam ten einde ’n ooreenkoms te tref met die bose dade wat die vrou van koning Agab, koning van Israel, gepleeg het (Agab seun van Omri het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here, meer as al sy voorgangers. 31 Dat hy voortgegaan het met die sondes van Jerobeam seun van Nebat was nog die minste; hy het ook met Isebel dogter van koning Etbaäl van die Sidoniërs getrou en die god Baäl begin dien en hom aanbid - 1Kon.16:30-31).

Presies wat was die sonde van Isebel?
-        Eerstens moet ons daarop let, dat daar gedurende hierdie tydperk baie mense was wat hulle voorgedoen het as profete en is allerlei dwaalleer op hierdie wyse verkondig en versprei.  Sommige het dit selfs op ’n voltydse basis bedryf en ander weer op ’n aan-en-af basis soos bv. Kajafas in Joh.11:49-52.  Ook Isebel het haarself voorgedoen as ’n profetes en op dié manier haar eie sienswyses gepropageer.  Hoogs waarskynlik het sy dit op ’n aan-en-af basis beoefen.  Dit is duidelik uit Christus se bestraffing, dat Isebel, wat lidmaat was in Tiatira, haar opgehou het met gru sonde en dat sy haar sonde geregverdig het deur as profetes op te tree – so asof sy haar sondige dade mag verrig omdat sy ’n profetes is  en wat meer is, sy het medelidmate by hierdie sonde betrek en verlei.

-        Tweedens moet ons na die kern van haar profesie kyk.  Dit was baie eenvoudig en op die man af – in haar lering het sy mense aangemoedig om onsedelikheid en spesifiek, allerlei vorme van seksuele immoraliteit te pleeg, soos hoerery, owerspel, ens.  Dit gaan ’n mens se verstand te bowe oor hoe dit moontlik is dat mense wat enersyds so vol liefde en diensbaarheid is en die vrug van die Heilige Gees uitleef, andersyds toe kan gee deur dwaalleer en só mislei kan word, deur seksueel losbandig te leef – en tog het dit gebeur en gebeur dit steeds en sal dit steeds in die toekoms gebeur en daarom moet ons só versigtig wes, dat ons nie ook op sleeptou geneem word deur die tydsgees wat tans rondom ons heers nie. 

Waarskynlik het die skuldige lidmate hulle sonde vergeestelik, want ons moet onthou dat seksuele losbandigheid en sonde in daardie dae, sosiaal aanvaarbaar was (bv. tempelprostitute), soos wat egskeiding, saamblyery, homoseksualiteit, buite-egtelike verhoudings ens. vandag sosiaal aanvaarbaar is.  Let net daarop dat hierdie algemeen aanvaarbare onsedelike optrede nie geduld is in die kerk van destyds nie – hier kan verwys word na die besluit wat in Jerusalem geneem is in Hand.15:28-29 ~ Die Heilige Gees en ons het besluit om geen verdere las op julle te lê as net hierdie noodsaaklike dinge nie: 29 dat julle nie vleis moet eet wat aan ’n afgod geoffer is nie, ook nie bloed nie en ook geen dier wat verwurg is nie, en dat julle onsedelikheid moet vermy. As julle julle van hierdie dinge weerhou, doen julle reg. Hartlike groete.”  Waarskynlik was dit baie moeilik vir jong gelowiges wat uit ’n wêreld van aanvaarbare immoraliteit gekom het, om skielik gehoor te gee aan hierdie “Jerusalem-besluit”.

Die subtiliteit waarmee die slinkse Isebel hierdie sonde geregverdig het, het die aanvaarbaarheid van hierdie dade bevorder.  Net soos Balak (sien die brief aan Pergamum) het Isebel ook die leer van God se genade op so ’n slinkse wyse gemanipuleer, dat dit selfs sonde soos afgodery en owerspel, geestelik aanvaarbaar en aanloklik laat voorkom het.  As ons kyk na v.24 sien ons dat sy met ’n besondere vermoë van profetiese vaardighede, verklaar het dat God  diep geheimenisse aan haar geopenbaar het.  Christus verklaar ondubbelsinnig dat hierdie geheimenisse van die Satan is. 

In Pergamum het ons kennis gemaak met die “troon van Satan”; hier in Tiatira kom ons egter iets wat nog meer boosaardig is, nl. die “dieptes van Satan”.  Hierdie “dieptes” het hoogs waarskynlik iets te doen gehad met die dwaalleer van die Gnostici (die "Nuwe Hervormers" vandag!).  Die Gnostici was ’n stroming in die Christelike kerk wat hulleself beskou het as deel van ’n hoër geestelike stand – mense wat dieper dieptes in die waarhede en geheimenisse van die Woord kon bereik – hulle was die sg. intelligentsia van die kerk. Hulle het beweer dat hulle ’n uitgelese groepie was wat nuwe openbaringe van God ontvang het, terwyl die meerderheid ander gelowiges uitgesluit was van hierdie kennis. Hierdie uitgelese groepie was “die mense van die dieptes” Hierdie “dieptes” het hulle geglo, het hulle in staat gestel om selfs sonde na te jaag, sonder dat dit enige skadelike uitwerking op hul siele sou hê, terwyl die ander “minderwaardige gelowiges”, die sonde ten alle koste moes vermy, want indien hulle in aanraking daarmee sou kom, sou dit hulle oorheers, maar die intelligentsia – die “mense van die dieptes”, moes die sonde najaag, sodat hulle dan bewys kon lewer van hulle heerskappy oor die sonde.  Húlle was dus die mense binne die kerk wat die “dieptes van Satan” beproef het.  En Isebel was die profetes wat hulle in hulle kwaad gesterk het.  G’n wonder dat Christus in Sy bekendstelling aan die gemeente, gesê het dat Hy oë soos vuurvlamme het wat oral kan sien, want daardeur wil Hy ook vir hulle sê:  Ek weet wat julle besig is om aan te vang!

Christus sê ook in vers 23 dat Hy diegene wat volhard in hierdie sonde, met ’n pessiekte ombring, maar net voor dit word so iets terloops ingevoeg wat ons baie maklik mis kan lees – en dit is God se genade.  Te midde van die geweldige oordeel wat Christus uitspreek, sê Hy in vers 22b ~ ...as hulle hulle nie van haar praktyke bekeer nie.  Soos wat Hy vir Isebel ’n kans gegee het om haar te bekeer, gee Hy ook vir haar “bedmaats”, steeds die geleentheid om hulle te bekeer, selfs nadat Isebel finaal geoordeel is – wat ’n genadige God dien ons nie!  Selfs Isebel kan vergifnis ontvang en vernuwe word, deur slegs belydenis en bekering en geloof in Jesus Christus! So kan ook ons wat dalk in die strik van soortgelyke sondes vasgevang mag wees, vergifnis van Jesus Christus ontvang!

Maar, oor diegene wat hulle nie bekeer nie word ’n oordeel uitgespreek.  En waarom doen Hy dit?  Sodat Sy naam geëer kan word in al die ander gemeentes ~ Dan sal al die gemeentes weet dat dit Ek is, die Een wat die gedagtes en begeertes van die mens deurgrond (v.23b).  En let op wat sê Hy aan die einde van hierdie vers ~ ...dat dit Ek is, die Een wat die gedagtes en begeertes van die mens deurgrond.  Christus deursoek ons gedagtes en ons begeertes.  Dit herinner ons aan Hebr.4:12-13 ~ Die woord van God is lewend en kragtig. Dit is skerper as enige swaard met twee snykante en dring deur selfs tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg. Dit beoordeel die bedoelings en gedagtes van die hart. 13 Daar is ook niks in die skepping wat vir God onsigbaar is nie; alles lê oop en bloot voor sy oë. En aan Hom moet ons rekenskap gee.

·           Christus se Raad:
Openb.2:24-25 ~ Maar vir julle ander in Tiatira, wat nie hierdie leer aanhang en nie die “diep geheimenisse van die Satan”, soos hulle dit noem, leer ken het nie, sê Ek: Ek lê op julle geen ander verpligting nie; 25 hou net vas wat julle het, totdat Ek kom.  Genadiglik is daar altyd ’n oorblyfsel (“remnant”) wat getrou bly.  Net so het hier, in Tiatira ook ’n klompie getroue lidmate oorgebly, m.a.w. nie almal in die gemeente het onder Isebel se misleiding verval en deelgeneem aan haar sonde nie.  Dit is dan aan hierdie groepie lidmate wat Christus raad gee en Hy sê aan hulle, dat Hy geen ander verpligting op hul skouers lê, behalwe om vas te hou aan wat hulle het – hulle moet net getrou bly aan die Waarheid.   Dit is so asof Christus vir hulle wil sê:  Julle het swaar genoeg gekry met al hierdie smerige leuens en sonde in julle midde, dat ek nie nog ’n klomp ander op julle wil laai nie – hou julle maar net vas aan die waarheid en lééf dit!  Wanneer Christus egter die woord “vashou” gebruik, gebruik Hy die Griekse woord, κρατέω (“krateo”), wat daarop dui dat die pad nie maklik gaan wees nie.

·           Christus se Belofte:
Openb.2:26-29 ~ Aan elkeen wat die oorwinning behaal en tot die einde toe volhou om te doen wat Ek wil hê, sal Ek mag en gesag oor die nasies gee. 27 Hy sal hulle met ’n ystersepter regeer, hulle soos kleipotte stukkend slaan. 28 Dieselfde mag en gesag het Ek ook van my Vader gekry. Daarby sal Ek vir elkeen wat die oorwinning behaal, die môrester gee. 29 Elkeen wat kan hoor, moet luister na wat die Gees vir die gemeentes sê.  Christus sê dus vir die gemeentelede wat oorgebly het, dat indien hulle vashou aan die waarheid en al die beproewing en versoekinge deurstaan en derhalwe getrou bly aan Hom as Hoof van die kerk totdat Hy kom, Hy twee beloftes teenoor hulle sal nakom (hierdie is uiteraard ook op ons van toepassing as ons die versoekings deurstaan):
-        Hy sal aan elkeen van hulle koninklike status verleen, soos wat Hý ontvang het.  Reeds in hierdie lewe, sal hulle in die bevoorregte posisie verkeer om geestelike seën aan geestelike behoeftiges uit te deel, sodat nie net hulleself nie, maar ook diegene wat deur hulle geseën word, die ware lewe reeds hier op aarde kan begin ervaar en hulle sal dit doen deur vrede en vreugde en liefde en geloof en hoop aan alle mense en volke en nasies uit te deel.  Dit sal o.a. gedoen word deur die verkondiging van die Evangelie van Jesus Christus, maar ook deur die voorbeeld wat hulle teenoor alle mense sal uitleef – in voorbeeld en in daad.  Hierdie koninklike status wat aan hulle belowe word, moet ook gesien word in die lig van 1Kor.6:2a en 3a ~ Of weet julle nie dat die gelowiges oor die wêreld sal oordeel nie? ... Weet julle nie dat ons oor die engele sal oordeel nie?  As konings gaan alle gelowiges saam met die Groot Regter, Christus Jesus, die wêreld en die engele oordeel!
-           Die ander belofte wat Christus aan die getroue lidmate in Tiatira maak, is die belofte van die Môrester. Wie is hierdie Môrester?  Dit is Jesus Christus.  Wat beteken dit?  1Kor.13:12 verskaf aan ons die antwoord ~ Nou kyk ons nog in ’n dowwe spieël en sien ’n raaiselagtige beeld, maar eendag sal ons alles sien soos dit werklik is. Nou ken ek net gedeeltelik, maar eendag sal ek ten volle ken soos God my ten volle ken.  Ons sal Jesus Christus dus eendag ten volle ken in al Sy heerlikheid en ook in Sy heerlikheid deel.  Ons sal verheerlik word en volkome geheilig word en ons sal volgens 1Joh.3:2, ...wanneer Jesus kom, soos Hy wees. Ons sal Hom sien soos Hy werklik is!


[1] Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te VAALDRIEHOEK Baptiste Gemeente (Vereeniging) - Sondagoggend 05 Februarie 2012

Sunday, 29 January 2012

Sewe Briewe aan Sewe Gemeentes - 03 (Die Gemeente in Pergamum)

1.         INLEIDING:
Ons het met die vorige twee gemeentes in Openb.2 gesien, dat daar ’n algemene patroon in die struktuur van elk van die sewe briewe in Openb.2 en 3 voorkom:
·          Elke brief is deur Christus aan ’n spesifieke gemeente gerig.
·          Elke brief stel die Hoof van die plaaslike gemeente (Christus Jesus) voor as ’n spesifieke karakter, of beeld.
·          Elke brief onthul ondubbelsinnig dat Christus oor volkome kennis beskik t.o.v. die toestand van daardie spesifieke gemeente.
·          Met die uitsondering van een gemeente, ontvang elke gemeente een of meer lofuitinge of aanprysinge.
·          Met die uitsondering van twee gemeentes, ontvang elke gemeente kritiek of een of meer bestraffinge oor een of meer situasie(s) wat in die gemeente bestaan.
·          Elke gemeente ontvang ten minste ’n vermaning en daarmee saam gee Christus raad aan hulle.
·          Elke gemeente ontvang een of ander belofte t.o.v. getrouheid.

Die briewebesteller wat die sewe briewe uitgedra het, waarmee ons in Openbaring 2 en 3 te doen kry, het nou sy reis wat by die hawestad Milete begin het, oor land verder hervat en hy het noordwaarts gereis om sy derde brief aan die herder van die plaaslike gemeente te gaan oorhandig.

2.      DIE GEMEENTE IN PERGAMUM (2:12-17):
·               Die Geadresseerde Gemeente: 
Openb.2:12 ~ Skrywe aan die leraar van die gemeente in Pergamum, of soos in die O.A.V. genoem, Pérgamus.  Die toestand in Pergamum was heeltemal anders as in die vorige twee stede waar die briewebesteller reeds aangedoen het, nl. Efese en Smirna. Pergamum was die Romeinse hoofstad in
-
Klein-Asië. Dit was ook gesien as ’n akademiese stad, wat beskik het oor ’n baie groot biblioteek. Ongelukkig was hierdie ook ’n stad wat bekend gestaan het as die setel van paganistiese (of heidense) aanbidding. Die god van genesing is o.a. hier aanbid (slang wat gevleg is om staf = Mediese Vereniging van S.A. se embleem, asook die S.A. Militêre Gesondheidsdienste – die S.A.W. Mediesekorps). Keiseraanbidding was ook sterk aan die orde van die dag. Hierdie was dan ook die eerste stad in Asië wat ’n tempel ter ere van die keiser (Caesar) opgerig het.

·                    Die Beeld van Christus:
Openb.2:12b ~ So sê Hy wat die skerp swaard met die twee snykante het. Die Here Jesus identifiseer Homself hier op ’n baie eienaardige wyse – ’n tweesnydende swaard, of ’n dodelike swaard! Net by die aanhoor van hierdie bekendstelling van Christus klink dit asof hier slegte nuus of minder goeie kommentaar, aan die kom is en ’n mens kan maar net wonder of  hier ’n oordeel uitgespreek gaan word. Ek dink dat ons ’n aanduiding kry van wat aan die kom is, deur die besonderse beskrywing van hierdie swaard.

Ons sien in Openb.1:16 dat hierdie swaard uit Christus se mond kom ~ In sy regterhand het Hy sewe sterre gehad, en ’n skerp swaard met twee snykante het uit sy mond uit gekom.  Hierdie swaard het dus beslis iets te doen met wat gesê gaan word in hierdie brief. Die swaard in hierdie geval, is dus Christus se kragtige Woord soos beskryf in Ef.6:17 ~ Sit verlossing as helm op en vat die swaard van die Gees, dit is die woord van God. 

Waarskynlik ’n nóg beter beskrywing van die Woord van God, vind ons in Hebr.4:12 ~ Die woord van God is lewend en kragtig. Dit is skerper as enige swaard met twee snykante en dring deur selfs tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg. Dit beoordeel die bedoelings en gedagtes van die hart.  Ook 2Kor.10:4-5 ~ Die wapens van ons stryd is nie die wapens van die mens nie, maar die kragtige wapens van God wat vestings kan vernietig. Daarmee vernietig ons die redenasies 5 en elke hooghartige aanval wat teen die kennis van God gerig word. Ons neem elke gedagte gevange om dit aan Christus gehoorsaam te maak. Hierdie swaard is dus baie, baie skerp – meer nog: dit het twee sulke skerp kante – dit spreek dus van verwoestende onoorwinlikheid! Soos wat Jes.55:11 tereg ook sê ~ So sal die woord wat uit my mond kom, ook wees: dit sal nie onverrigter sake na My toe terugkeer nie, maar dit sal doen wat Ek gedoen wil hê en tot stand bring waarvoor Ek dit gestuur het. Ons sien dus dat hierdie swaard se eenkant, oortuig van sonde en die anderkant verskaf vrede; die eenkant verskeur die sluier wat ons sonde vir onsself bedek; terwyl die anderkant verskeur die sluier wat Christus vir ons verberg, sodat ons Hom kan sien; die eenkant verwond die siel; die ander vestig ons aandag op die Groot Geneesheer en laat die helende balsem oor ons verwonde siele spoel.

Die feit dat hier in die enkelvoud gepraat word (die skerp  swaard), dui daarop dat daar net een gesaghebbende swaard is – net die Woord van God is dus gesaghebbend. Alle ander geskrifte is dus nié deur God geïnspireer nie.

·          Christus se Aanprysing:

As ons verder na hierdie gemeentebrief kyk en dan spesifiek onder die opskrif, "Christus se aanprysing", sien ons dat die adres op die koevert van hierdie brief dus ewe maklik as volg kon gelees het: Aan die gemeente van Christus, naas die troon van die satan, Pergamum. Uit hierdie vers blyk dit duidelik, dat Christus in hierdie vers te kenne gee dat Hy minstens twee dinge van hierdie gemeente weet:
-        Hy weet presies waar hierdie gemeente geleë is en hoe die omgewing, die mense en die geestelike klimaat van die stad daaruit sien. Dit mag dalk vir ons vreemd voorkom dat Satan oor aardse trone beskik, maar ons moet in gedagte hou dat hy die god van hierdie wêreld is en in hierdie koninkryk van hom, het hy baie onderdane. Onder hierdie onderdane is daar soveel wat so fanaties lojaal is aan hom, dat hulle enige iets sal doen om sy plan ten uitvoer te bring. Die plek waar sulke mense saamgevoeg word – of dit nou in besighede is, of sosiale klubs, casino’s, bordele, bendes, terroristegroepe, of waar ook al; dáár is Satan se troon. Enige groepering van mense wat ’n bose oogmerk het, kwalifiseer om ’n vesting vir die satan te wees.

Dit is egter die twee praktyke van afgodery wat ons reeds genoem het (die aanbidding van die god van genesing en die keiserlike aanbidding), wat hierdie stad by uitstek laat kwalifiseer het as ’n vesting of troonkamer vir die satan, want dit is beide mens (die keiser) en die satan (slang as simbool van satan) wat hier aanbid is. ’n Meer dodelike kombinasie van aanbidding (mens en satan), kan daar nie wees nie. Dit is dan spesifiek hierdie twee vorme van afgodery wat Pergamum uitnemend laat kwalifiseer as “troon van Satan”.

Christus het geweet dat hierdie afgodsentrum uiters korrup kan inwerk op die inwoners van die stad, maar ook op die gelowiges in Pergamum. En op grond daarvan kom Christus en Hy prys die gemeente aan vir die feit dat hulle, hulself daarvan weerhou om deel uit te maak van hierdie bose aktiwiteite. Deur hierdie situasie kan ons ook leer dat ons geen verskoning het om kompromie te maak met ons geloof en ons oortuigings wat gegrond is op die Woord, wanneer ons in ’n omgewing beweeg, vakansie hou, werk ens., waar mense besig is met goddelose praktyke nie – ons moet, soos die gemeente in Pergamum,  getrou bly aan die Naam van Jesus Christus en nie ons geloof in Hom, afsweer nie....

-        Tweedens is Christus baie deeglik bewus van die gemeente se standvastigheid ten spyte van fel vervolging teen hulle. ’n Gemeente wat getrou bly aan hulle roeping en gehoorsaamheid aan God gaan noodwendig die spot en die hoon en die vervolging van die wêreld ervaar – veral ’n wêreld waar afgodery baie sterk aangehang word. Christus prys hierdie gemeente juis vir die feit dat hulle te midde van geweldige vervolging, steeds “die pad loop”. As voorbeeld van hulle gehoorsaamheid, maar ook waardeur hulle gaan, en die prys wat hulle daarvoor betaal, word Antipas (waarskynlik ’n getroue lidmaat) as voorbeeld genoem wat gesterf het vir sy geloof en oortuigings en getuienis. Die gemeente in Pergamum het voorwaar aanprysing nodig gehad, maar ook verdien.

·          Christus se Bestraffing:
Openb.2:14-15 ~ Maar Ek het ’n paar dinge teen julle. Julle het mense daar wat die leer van Bileam aanhang. Hy het vir Balak geleer om die volk Israel van My afvallig te maak, sodat
hulle afgodsoffervleis geëet en onsedelikheid bedrywe het. 15 So is daar onder julle dan ook mense wat die leer van die Nikolaïete aanhang en dieselfde sondes doen.

Alhoewel Christus die gemeente aangeprys het, was hulle nogtans skuldig aan ’n paar dinge. En al was dit net ’n paar dinge, was dit nogtans ernstige oortredings. Eerstens het hulle mank gegaan onder ’n gebrek aan leerstellige (of dogmatiese) onderskeiding en tweedens was hulle laks in die toepassing van die tug in hulle midde.

Wanneer ons oppervlakkig na verse 14 en 15 kyk, kan dit lyk asof daar twee teologiese of dogmatiese strominge in die gemeente toegelaat is – dié van die Bileamiete en dié van die Nikolaïete. Die taalkonstruksie van die verse laat dit egter lyk asof dit twee verskillende groeperinge is wat hul stempel afgedruk het op die gemeente, maar as ons die verse parafraseer, sal dit waarskynlik help om die betekenis van die oënskynlik twee groepe, beter te verstaan – Dit is omdat julle verdraagsaam is t.o.v. die leer van Bileam, dat julle die Nikolaïete in julle midde verduur.   Die gedagte van hierdie verse kan dus óf histories, óf kontemporêr geïnterpreteer word. Histories:  Daar bestaan ’n genetiese identiteit tussen die dwaalleer van Bileam en dié van die Nikolaïete – beide behoort dus tot presies dieselfde soort dwaalleer.

Wat dit egter ook kan beteken is, kontemporêr geïnterpreteer, dat die een dwaalleer so sterk is, dat as jy eers daarvoor “geval” het, die ander een nie weerstaan kan word nie.  In wese beteken hierdie twee benaderings egter op die ou einde presies dieselfde ding.

Wat was die leer van Bileam dan? Tyd ontbreek ongelukkig om in detail daarop in te gaan, maar u kan gerus Num.22-25 gaan lees om meer te wete te kom van die bediening van hierdie eienaardige profeet. In kort kan ons egter sê dat die aangrensende Moabiete, die Israeliete gevrees het, waarop koning Balak van Moab die profeet Bileam in diens geneem het om vloeke oor Israel uit te spreek, ten einde die Israelitiese weermag te verswak ens. God het egter nie toegelaat dat Bileam se vloeke enige effek het nie, trouens Hy dwing Bileam om Israel elke keer te seën wanneer hy veronderstel was om hulle te vervloek. Bileam het egter teen betaling voortgegaan en meegehelp om Israel se sedes só te ondermyn, dat hulle die gramskap van God op die hals gehaal het en hulle uiteindelik tog tot ’n val gekom het.

In kort kom die leer van Bileam dus daarop neer, dat die aanhangers van Bileam so mislei word dat hulle sondig, deurdat hulle vrees vir en skuld oor sonde en die gepaardgaande straf daarop, net verdwyn en hulle geestelike groei derhalwe belemmer word. Dit opsigself lei dus logieserwys tot verdere sonde, wat selfs afgodediens en seksuele immoraliteit ingesluit het.

Wanneer ons na Christus se aanprysing kyk en dit vergelyk met wat so pas gesê is t.o.v. die leer van Bileam, dan maak dit amper nie sin nie, want sekerlik moes die “Pergamiete” tog die verskil gesien het as hulle so sterk gestaan het wat hul leer en lewe betref. Die probleem is egter dat hierdie leer van Bileam só subtiel was dat dit baie moeilik onderskei kon word.  Hoe het dit gebeur?  Die teologiese benadering van die leerstellinge van Bileam was om Goddelike genade teenoor die mens se verantwoordelikheid te verabsoluteer, m.a.w. daar is geleer dat wanneer jy ’n kind van die verbond is, jy genoegsaam geïsoleer word teen sonde en enige vorm van boosheid. Genade immuniseer dus die gelowige teen die skadelike effekte van  allerlei sondige plesiere.

Gelowiges, so het die Bileamiete geleer, is vry om die lewe te geniet saam met hulle goddelose bure, terwyl en solank hulle onder die verbond staan. As sout en lig is gelowiges in elk geval verplig om ten volle betrokke te wees by die wêreld, want sout raak nooit laf as dit op vleis ingevryf word nie. Wat meer is, so het hulle geredeneer, diegene wat gereeld betrokke is by wêreldse aktiwiteite, bekom meer en meer kennis en bekwaamhede om mense in die wêreld te help. Dít is in kort wat die teologie van Bileam gekenmerk het.

Alhoewel dit nie wil voorkom asof die meerderheid van die  lidmate van Pergamum self skuldig gestaan het wat hierdie misleiding aan betref nie, was hulle té genadig jeens ander lidmate en mense in die omgewing wat wel skuldig was aan die aanhang van hierdie leer. Die gemeente was dus skuldig t.o.v. die tug. Dalk was ’n gejaag na meer lidmate, of verdraagsaamheid t.w.v. vrede en ’n strewe na eenheid; of ’n skeefgetrekte en onbybelse siening van die liefde, van die redes vir hierdie “blindeoog-gesindheid”, of kompromie van die gemeente. 

U mag dalk wonder of die aanprysing wat die gemeente ontvang het, nie genegeer of weerspreek word deur die kritiek van Christus nie, want hoe is dit moontlik dat ’n gemeente aan die eenkant fel gekant kan wees teen heidense aanbidding, maar terselfdertyd kompromie maak wat haar leer en dissipline aan betref? Die kort en die lank daarvan is dat dit baie dikwels baie maklik is om die ooglopende en ernstige sondes te weerstaan, maar die subtiele beïnvloeding en/of leer van vooraanstaande lidmate is nie altyd so maklik onderskeibaar nie en is ook nie altyd so maklik om te onderdruk nie – en dít was die probleem in die gemeente in Pergamum.

·          Christus se Raad:
Openb.2:16 ~ Bekeer julle nou, anders kom Ek gou na julle toe en sal Ek daardie mense bestry met die swaard van my mond. Christus waarsku die gemeente om hulle te bekeer en die regte te doen, m.a.w. dit was nodig dat hulle, hul teologie en dissipline moes uitsorteer. Indien hulle dit nie doen nie, sal Hy toetree met vinnige en ongenaakbare oordeel. Dit is belangrik om daarop te let dat Christus nie dreig om die gemeente in geheel te oordeel nie, maar slegs daardie mense in die gemeente wat skuldig is aan kompromie en sonde. Daar is dus geen wegkruipplek of wegkomkans vir die skuldiges nie. Die oordeel sal gefel word deur die swaard van Christus se mond – dit is Sy Woord! Die patroon regdeur die Woord, is dus eers ’n Profetiese oordeel wat uitgereik word en dadelik opgevolg word met fisiese straf wat baie dikwels baie subtiel uitgevoer word. Die Korintiërgemeente is hier ’n sprekende voorbeeld van hierdie optrede van die Swaard van Christus se mond ~ ...want hy wat eet en drink sonder om te besef dat dit die liggaam van die Here is, bring daardeur ’n oordeel oor homself. 30 Daarom is daar baie swakkes en sieklikes onder julle en sterf daar baie van julle. 31 As ons onsself vooraf reg ondersoek het, sou ons nie onder die oordeel gekom het nie. 32 Maar nou word ons deur die Here geoordeel en getugtig, sodat ons nie saam met die wêreld veroordeel sal word nie (1Kor.11:29-32).

·          Christus se Belofte:
Openb.2:17 ~ Elkeen wat kan hoor, moet luister na wat die Gees vir die gemeentes sê. Aan elkeen wat die oorwinning behaal, sal Ek van die verborge manna gee, en daarby sal Ek vir hom ’n wit steentjie gee met ’n nuwe naam daarop gegraveer, wat niemand anders ken nie, net hy wat dit kry. Na die kras waarskuwing wat die gemeente ontvang, is daar ’n boodskap van sekuriteit en opbou van geloofsvertroue – ’n belofte van Christus. Hierdie boodskap vir die oorwinnaars sluit die verborge manna in, asook ’n wit steentjie met ’n nuwe geheime naam wat net bekend is aan die eienaar van die steentjie.

Hierdie verborge manna wys terug na die manna wat binne in die verbondsark was (Eks.16:32-34 ~ Moses het ook nog gesê: “Die Here het beveel: ’n Volle twee liter manna moet vir die nageslag bewaar word sodat hulle die kos kan sien wat Ek julle in die woestyn gegee het nadat Ek julle uit Egipte bevry het....” 

Hierdie manna in die Ark het weer heengewys na Christus Jesus in Sy volheid. In hierdie lewe kan ons Christus as die ideale manna – die Brood van die Lewe, ervaar (Joh.6:33,35). Sonde het egter tot gevolg dat ons nie Christus in Sy volheid kan ervaar en geniet nie.  In die hiernamaals sal ons Christus egter in Sy volmaakte volheid ervaar, maar vir diegene buite Christus, is hierdie manna in hierdie lewe en soveel te meer in die hiernamaals, verborge en buite bereik. 

Die wit steentjie getuig van onverganklike en ewige seën.  Die kleur van die steen (wit) dui op reinheid – die reinheid van elke gelowige se ewige saligheid. 

Die naam op die steen dui op ewige en Goddelike eienaarskap van elke gelowige individu. God se uitverkorenes is dus uitgesonderde en spesiale mense. Die eindelose en veeltalligheid van die hiernamaals sal nie die uniekheid van elke individuele gelowige ondermyn nie en sal derhalwe nie afbreuk doen aan die kwaliteit en belangrikheid van elke individu nie – elkeen sal dus maksimale en ewige heerlikheid ontvang.

Die nuutheid van elke naam herinner aan Jes.62:2-3 ~ Die nasies sal sien dat jy gered is, Jerusalem, al die konings sal sien dat jy mag het. Jy sal ’n nuwe naam kry, ’n naam wat die Here self vir jou gekies het. 3 Die Here sal jou soos ’n sierlike kroon in sy hand hou, jou God sal jou soos ’n koninklike tulband vashou. Hierdie nuwe naam dui op onbeskryflike heerlikheid en ervaring en voorreg wat ons in die hiernamaals sal ervaar,  wat ongekend is in vergelyking met dit wat ons nou hier op aarde ervaar – en dit sal nooit terug getrek kan word nie! 

Die feit dat hierdie nuwe naam net aan die eienaar daarvan bekend sal wees dui op die unieke ervaring wat elke individu van die heerlikheid sal ervaar en niemand anders sal weet hoe hy dit ervaar nie.

3.    AFSLUITING:
Ons moet besef dat die satan – ja, ek moet sekerlik eers sê dat die satan waarlik bestaan, al leer die liberale  teoloë ("Nuwe Hervormers") dat daar geen duiwel is nie, en dat hierdie selfde satan waarvan die Bybel vol is, ook ’n vervolger van gelowiges is (Openb.2:13), asook ’n misleier (Openb.2.14-15) en hy is daarop uit om ons te laat vervolg en te laat dood en daarom moet ons bid – bid vir mekaar en vir onsself, dat ons staande sal bly en geliefdes moet nié die vyand onderskat nie – hy is subtiel, uiters subtiel en as jy nie pasop nie, is jy kort voor lank vasgewikkel in sy web. Genadiglik weet ons en word ons vertroos en bemoedig vanuit Hand.4:12 ~ Hý bring die verlossing en niemand anders nie. Daar is geen ander naam op die aarde aan die mense gegee waardeur God wil dat ons verlos moet word nie.

Wanneer ons so luister na die leer van die Nikolaïete en die Bileamiete, dan is dit ’n waarskuwing wat tot ons gerig word om nie toe te gee aan ’n gees van traak-my-nie-agtigheid, of sogenaamde vryheid en immoraliteit nie, want 1Pet.1:15-16 leer ons dat ons, net... soos Hy wat (ons) geroep het, heilig is, (ons) ook in (ons) hele lewenswandel heilig (moet) wees. 16Daar staan immers geskrywe: “Wees heilig, want Ek is heilig. ’n Heilige lewe is nie ’n opsionele ekstra in die gelowige se lewe nie; dit is ’n verpligting; ’n voorwaarde. Dit is die einddoel wat elkeen van ons moet najaag – elke dag van ons lewe en daarom moet ons gedissiplineerde lewens lei en as mense ons uitskel dat ons outyds is; of fundamentalisties is – hoor die stem van satan agter sulke uitroepe!


[1] Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te VAALDRIEHOEK Baptiste Gemeente (Vereeniging) - Sondagoggend 29 Januarie 2012