Saturday, 12 May 2012


Die Doring in My Vlees - 04
(My Verlede – Begrawe in die Verlede)

1.     INLEIDING:
       Almal van ons ken mense wat verkeerde besluite in hul lewens geneem het, net om die res van hulle lewe daaroor te kerm en te kla en alles en almal rondom hulle te verwyt, of gedurig daaroor te praat en op die ou einde ’n verbitterde ou man of vrou te raak. Aan die anderkant ken ons sekerlik ook mense wat verkeerde besluite geneem het in hul lewe, maar nie in ’n "gat van verbittering" bly sit nie, maar eerder die beste van ’n slegte situasie maak en uiteindelik ver bo sy of haar aanvanklike omstandighede uitstyg.

       Die vraag is, of ons gaan toelaat dat ons verlede ’n negatiewe of positiewe impak op ons lewe gaan hê. Die groot verskil tussen hierdie twee moontlikhede, is of ons in ons eie vlees en op sondige wyse, kies om in die modder te bly lê, of om te kies om ons beproewing met die hulp van God op te los en agter ons te sit, want sonder Hom kan ons dit nie alleen doen nie, omdat ons maar gedurig weer sal terug dink aan die verlede met sondige gedagtes.

       Verlede week het ons gesien hoe om ons beproewing – ons “dorings”, op ’n Bybelse wyse op te los en agter ons te plaas – ek wil egter net daarop wys, dat pyn en hartseer, nie  noodwendig in ’n oogwink soos mis voor die son sal verdwyn nie. Die verlede bly tog immers ’n realiteit en deel van ons langtermyn geheue, maar die belangrike is dat ons, ons verlede op ’n Bybelse wyse sal hanteer en sal toesien dat ons nié in die proses van beproewing, sondig nie.

       ’n Nog meer belangrike vraag is egter of ons toegerus en voorbereid is op toekomstige beproewing, ten einde dit reg te hanteer wanneer ons daarmee gekonfronteer word – dit is amper soos met mense wat sukkel om hul gewig op ’n aanvaarbare vlak te hou – “val” jy elke keer daarvoor om maar net weer ’n lekker vars gebakte wit broodrolletjie met turksvystroop te eet, al het jy al twee gehad, of het jy ’n “mental make-up” wat elke keer vir jou sê: Die tydelike genot om ’n derde rolletjie te neem is net nie die moeite werd wanneer dit opgeweeg word teen die langtermyn stryd om daardie ekstra kilogram of twee af te skud nie?  

       Ons moet in gedagte hou, dat :
·           Vandag se reaksie word môre se gewoonte;
·           Vandag se keuse word môre se invloed;
·           Vandag se woede word môre se bitterheid;
·           Vandag se gedagtes word môre se oortuigings;
·           Vandag se begeertes word môre se afgode en
·           Vandag se keuses word môre se gevolge.

       Salomo het in Spr.4:23 gesê ~ Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe. Wanneer jy jou reaksie op vandag se potensiële doring oorweeg, moet jy in die gewoonte kom, om altyd eers te vra: Wil ek regtig die gevolge van hierdie of daardie reaksie, in my hart ronddra?

       Paulus sê in 1 Kor.15:3-4 ~ Die belangrikste wat ek aan julle oorgelewer het en wat ek ook ontvang het, is dit: Christus het vir ons sondes gesterf, volgens die Skrifte; 4 Hy is begrawe en op die derde dag opgewek, volgens die Skrifte. Let op wat hy sê – hy sê ~ Die belangrikste wat ek aan julle oorgelewer het... – die belangrikste...! Die O.A.V. sê ~ ...In die eerste plek.... Die E.S.V. sê ~ ...of first importance.... C.J. Mahaney is reg wanneer hy sê: Paul simply refused to be pulled away from the Gospel. The cross wasn’t merely one of Paul’s messages; it was the message. He taught other things as well, but whatever he taught was always derived from, and related to, the foundational reality that Jesus Christ died so that sinners would be reconciled to God. Presies dít moet ook ons uitgangspunt wees; presies dít moet ook ons denkpatrone wees; presies dít moet ook ons optrede wees – die kruis van Jesus Christus moet ook ons boodskap wees – moet die spilpunt wees waar rondom ons besluit hoe ons reageer op die “dorings” wat oor ons pad mag kom.

       Ons vind genadiglik verskeie beginsels in die Woord om ons te help om beproewing te hanteer en dan spesifiek ook daardie beproewinge wat oor ons pad kom waar ons nie die omstandighede oor onsself gebring het nie, maar waar ons nogtans verkeerd gereageer het – sulke verkeerde optrede kan óf reg hanteer word en ons in ’n nóg beter verhouding met Jesus te staan bring, óf ons kan só fokus op die seer van die verlede wat deur andere veroorsaak is, dat ons onbybels daarop reageer.



Onskuldig
Skuldig
Jou  Reaksie….
Reg

Ž


Jou  Reaksie….
Verkeerd

(Jy het jou omstandighede nie oor jourself gebring nie, maar jy het nogtans verkeerd reageer )


    Wanneer ons na hierdie "blok" kyk, moet ons besef dat dit  nooit maklik is om jou foute of sonde te erken wanneer daar teen jou gesondig is nie – om egter op ’n punt te kom waar jy jou foute, sonde en tekortkominge erken, is ’n reuse stap vorentoe, want God gebruik juis dít om jou verhouding met Hom nog verder te ontwikkel – ons moet dus die vermoë ontwikkel om eerlik te erken wanneer ons gefaal het. Ons moet leer om ten minste ses vrae te vra oor hoe ek gereageer het op iemand se sondige optrede teenoor my:
·           Eerstens moet ek myself afvra of ek kwaad met kwaad vergeld het?
·           Tweedens, het ek bitterheid teenoor God ontwikkel?
·           Het ek ’n onbybelse siening van ander mense ontwikkel?
·           Het ek ’n onbybelse siening t.o.v. myself gevorm?
·           Moet ek die persoon konfronteer wat teen my gesondig het en indien wel, het ek?
·           Indien jy die ander persoon gekonfronteer het, wat teen jou gesondig het, het jy hom vergewe indien hy jou om vergifnis gevra het?

       Kom ons kyk na die eerste vraag hier, nl. het jy kwaad met kwaad vergeld en daarvoor wil ek hê ons moet na Rom.12:17-21 blaai ~ Moenie kwaad met kwaad vergeld nie. Wees goedgesind teenoor alle mense. 18 As dit moontlik is, sover dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense. 19 Moenie self wraak neem nie, geliefdes, maar laat dit oor aan die oordeel van God. Daar staan immers geskrywe: “Dit is my reg om te straf; Ék sal vergeld,” sê die Here. 20 “As jou vyand honger is, gee hom iets om te eet; as hy dors is, gee hom iets om te drink; want deur dit te doen, maak jy hom vuurrooi van skaamte.” 21 Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie.

2.    KWAAD MET KWAAD VERGELD:
     Kom ons kyk na die eerste vraag hier, nl. het jy kwaad met kwaad vergeld en daarvoor wil ek hê ons moet na Rom.12:17-21 blaai ~ Moenie kwaad met kwaad vergeld nie. Wees goedgesind teenoor alle mense. 18 As dit moontlik is, sover dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense. 19 Moenie self wraak neem nie, geliefdes, maar laat dit oor aan die oordeel van God. Daar staan immers geskrywe: “Dit is my reg om te straf; Ék sal vergeld,” sê die Here. 20 “As jou vyand honger is, gee hom iets om te eet; as hy dors is, gee hom iets om te drink; want deur dit te doen, maak jy hom vuurrooi van skaamte.” 21 Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie.
  
     Uit hierdie gedeelte is dit baie duidelik dat Paulus veronderstel dat ons deur andere benadeel sal word, maar die vraag is hoe ons dit gaan hanteer? Om kwaad met kwaad te vergeld is verkeerd, trouens Paulus sê net die teenoorgestelde, nl. dat ons goedgesind moet wees teenoor alle mense. Die mens se natuurlike reaksie is om iemand terug te betaal as hy te na gekom word – selfs al is dit net ’n kyk en erger nog, al is dit net wraak gedagtes, maar vergeld wil die mens vergeld! Die Woord is egter baie duidelik daaroor dat ons nooit mag vergeld nie – nooit nie! Ook nie deur handgebare of bose gedagtes wanneer ’n taxi skielik voor jou stop nie – nooit nie! Weerwraak is in die eerste plek ’n hartsgesindheid.

       Ons moet egter daarop let, dat dit nie beteken dat iemand wat teen jou gesondig het, in alle gevalle verontskuldig moet of hoef te word nie. Seksuele misbruik, moord, diefstal, oortreding van die landswette, ens. is bv. sake wat gevolge móét dra. Die sleutelvraag wat egter hier gevra moet word, is wat my motief met die aanmelding van so ’n misdaad is? Is dit ’n begeerte om God te behaag, of is dit ’n geval van ’n oog vir oog? Dit is waarom Paulus in v.18, hierdie woorde skryf ~ ... As dit moontlik is, sover dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense. Dit maak m.a.w. nie saak wie wat doen nie, ons moet die vrede handhaaf deur nie op dieselfde wyse (of erger) op te tree as die ander persoon nie.

       In v.21 sê Paulus ~ Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie. Die woord "oorwin" is in die Grieks, νικάω (nikaō). Hierdie is ’n militêre uitdrukking en beteken letterlik om seëvierend te wees, of om in oorwinning te staan. God wil hê dat die bose oorwin sal word deur goeie dade. As jou vyand bv. honger is, moet jy hulle voed. As hy dors is, bied hom iets aan om te drink. Die probleem is dat die meeste van ons nie met welwillendheid reageer wanneer ons gekonfronteer word met onaangename, of bose optrede van ander nie.

       Indien jy nou sou sê dat dit nie maklik is om so op te tree nie, moet ons in gedagte hou dat Paulus in die eerste 11 hoofstukke van die Romeinebrief verduidelik dat a.g.v. die afgehandelde werk van Christus aan die kruis, dit moontlik gemaak is vir ons om vergifnis van God die Vader te ontvang en om een te word met Christus Jesus se dood en opstanding. Die klimaks van Paulus se verduideliking vind ons in vv.1-2 van Rom.12 ~ En nou doen ek ’n beroep op julle, broers, op grond van die groot ontferming van God: Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen. 2Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is. Die implikasie van hierdie verse is dat ons in Christus is en daarom beskik ons oor die krag om enige iets te doen wat die Woord van ons vereis, al is dit hoe  moeilik en dit impliseer dus dat ons nie op dieselfde wyse hoef te reageer as wat die wêreld op die bose, of teen mense wat ons te na kom, reageer nie.

3.    BITTERHEID TEENOOR GOD:
       Kom ons kyk na die tweede sondige optrede wat ons kan begaan wanneer daar teen ons opgetree word en ons sondig reageer en dit is bitterheid teenoor God.

Wat is bitterheid? ’n Kort definisie hiervoor sou kon wees: Bitterheid is woede wat na binne gekeer is. Sommige mense het bitterheid op hulle gesigte geskryf en wanneer hulle praat bevestig hulle woorde en gesigsuitdrukkings, dít wat in hulle harte leef! Hoe gebeur dit dat mense so raak? Ons kan maar net weer na die verhaal van Naomi verwys en spesifiek na haar bitterheid teenoor God wat by haar posgevat het na haar swaarkry in Moab – swaarkry wat sy nie oor haarself gebring het nie, maar wat sy verkeerd en sondig hanteer het – ons "tweede blokkie" het haar verlede geword, trouens dit het deel van haar totale wese geword.

A.W.Tozer het in sy boek "The Knowledge of the Holy", die volgende gesê: ...what comes into our minds when we think about God is the most important thing about us. Toe Naomi terug kom in Bethlehem het sy vir die vrouens wat haar herken het gesê ~ Moet my asseblief nie meer Naomi noem nie, noem my Mara, want die Almagtige het die lewe vir my baie bitter gemaak. 21My lewe was vol toe ek hier weg is, maar die Here het my leeg laat terugkom. Waarom noem julle my nog Naomi? Die Here het dan teen my gedraai, die Almagtige het ’n ramp oor my gebring (Rut 1:20-21). Naomi het gekies om bitterheid teenoor God te koester.

Die Hebreërskrywer sê in Hebr.12:15 ~ ...en pas op dat niemand in die genade van God veragter nie; dat geen wortel van bitterheid opskiet en onrus verwek en baie hierdeur besoedel word nie. Gal. 5:19-21 is baie duidelik daaroor dat bitterheid, deel is van ’n sondige natuur en dan gaan Paulus voort in v.21b deur te sê ~ ...Wie hom aan sulke dinge skuldig maak, sal nie die koninkryk van God as erfenis verkry nie. Bitterheid is dus iets wat ons ernstige aandag verg en wat ons so gou as moontlik met wortel en tak uit ons lewe moet verwyder.

4.    ONBYBELSE SIENING VAN MENSE:
            Derdens moet ons onsself afvra of ons die korrekte siening van mense het – beskik ons oor ’n Bybelse siening van mense? Jesus sê ondubbelsinnig in Matt.23:37-40 dat ons, ons naaste moet liefhê – die probleem is dat sommige mense sukkel om diegene wat hulle te na gekom het, lief te hê. Byvoorbeeld, sommige vrouens wat deur hul mans mishandel is, se reaksie daarna is: Alle mans is so. A.g.v. hul ervaring, ervaar hulle probleme om op ’n normale wyse, interaksie met mans te hê. Om mense so oor dieselfde kam te skeer is sonde. Daarenteen moet ons kies om almal lief te hê (1Kor.13:1-4), al was jy mishandel, of finansieel "ingeloop", of wat ook al – God skenk aan Sy kinders die vermoë om lief te hê, as ons maar net vra daarom en dit in opregtheid najaag – m.a.w. as ons ernstig daaroor is om ons te bekeer, sal God ons help om ons naaste en ons vyande lief te hê.

5.    ONBYBELSE SIENING VAN JOUSELF:
Baie keer word afbrekende woorde oor ons, deur andere geuiter – Spr.18:21a sê ~ Die tong het mag oor dood en lewe. Ons kan nie ander mense se kommentaar oor ons beheer nie, maar ons kan kies om dit wat gesê word te glo en/of deel van ons lewe te maak en daarvolgens op te tree en derhalwe ’n onbybelse siening van onsself te ontwikkel, of ons kan kies om dit nié te glo nie en nié op dieselfde wyse oor onsself te dink nie.

Dit is wel so dat ons nie maar net die impak van sulke woorde teen ons kan negeer, of ontken nie – woorde soos toe ons dalk op skool gesukkel het en ’n onderwyser vir jou gesê het dat jy "stupid" is (ek kan onthou hoe my boekhou onderwyser eenkeer wat ek voor die skryfbord gestaan en sukkel het met ’n rekeningkundige probleem, my beenhare getrek het en terselfdertyd vir my gesê het: "Kom van der Waltjie, jou broer kon dit doen" – vandag, 45 jaar later onthou ek dit nog so helder soos daglig!). Ons moet egter leer om sulke (ook nou by nabaat) opmerkings te evalueer teen dit wat God van óns sê. Dit is wat Paulus bedoel het, toe hy in Rom.12:3 gesê het ~ Kragtens die genade wat aan my gegee is, sê ek vir elkeen van julle: Moenie van jouself meer dink as wat jy behoort te dink nie. Nee, lê jou liewer daarop toe om beskeie te wees in ooreenstemming met die maat van geloof wat God aan elkeen toebedeel het. God kan en wil elkeen van ons help om onbybelse uitsprake oor ons en ook onbybelse denkpatrone t.o.v. onsself, te vervang met gedagtes wat waar en rein is - dink bv. maar net aan Gen.1:26-27 wat leer dat ons na die beeld van God geskape is! Laat dit jou nie in verwondering staan nie? Ek na die beeld van God geskape! Ons het die Heilige Gees as Trooster ontvang (Joh.14:16, 26). Luister net na hierdie pragtige waarheid ~ God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het (Ef.2:10) – en nog vele meer.


Gaan sit dus vir 'n verandering net bietjie stil en dink mooi na oor hoe God jou "deur die bloed van Jesus Christus" beskou - wie sien Hy? Wat sien Hy? Ons mag nie 'n verkeerde siening; 'n negatiewe; 'n afbrekende siening van onsself hê nie - dit is sonde!

6.    KONFRONTASIE VAN OORTREDER:
’n Baie belangrike vraag waarop ons ’n antwoord moet vind, is of ons diegene wie teen ons gesondig het, moet konfronteer daaroor al dan nie?

            Daar is ’n paar dinge wat ons in gedagte moet hou wanneer ons hierdie vraag beantwoord.
·           Ons moet eerstens besef dat ons nie van volwassenes wat as kinders misbruik, afgetakel, verneder, of wat ook al was, kan verwag om soos volwasse gelowiges op te tree nie en daarom steek hierdie gebeure in ’n kind se gemoed vas en het dit ’n impak op sy lewe en kan so ’n kind nie altyd die "oortreder" konfronteer nie omdat dit te lank terug gebeur het, terwyl so ’n persoon eintlik gekonfronteer moet word.
·           Konfrontasie is ’n baie belangrike Bybelse beginsel. Die baie bekende Matt.18 is baie duidelik hieroor en dan spesifiek v.15 ~ As jou broer verkeerd opgetree het teen jou, gaan wys hom tereg waar julle eenkant alleen is. As hy na jou luister, het jy jou broer teruggewen. Baie gelowiges reageer op sonde teen hulle, deur dit te ignoreer; of so ’n broer net af te sny; of oor so ’n persoon te begin skinder; ens. Sulke reaksies word "items" in ons "tweede blok" en dit raak al moeiliker (soos wat die tyd aanstap) om die oortreder te konfronteer.

       Dit is wel belangrik dat jy elke situasie biddend en individueel moet beoordeel ten einde te sien óf dit hanteer moet word en indien wel, hóé dit hanteer moet word. Dit is  ook belangrik dat die stappe in Matt.18 nagevolg sal word, wanneer jy iemand konfronteer en die persoon nie Bybels optree nie. Indien jy gewillig is om volgens Matt. 18 op te tree, kan jy met vertroue die woorde van Joh.7:17 vir jouself toe-eien ~ As iemand gewillig is om die wil van God te doen, sal hy weet of hierdie leer van God af kom, en of Ek uit my eie praat.

Wat doen jy as jy iemand nié kan konfronteer nie (bv. uit die verre verlede)? Jy moet die saak biddend voor die aangesig van die Here bring en vergifnis teenoor daardie persoon uitspreek en ook vergifnis vra vir jou (dalk jarelange) bitterheid en onvergenoegdheid en ongelukkigheid oor die persoon se optrede teenoor jou. Wanneer dit gedoen is, dank jy die Here vir die feit dat jy in Hom ’n nuwe skepsel is en nie meer die persoon wat jy was toe jy te na gekom is nie.

            ’n Ander vraag wat ons moet oorweeg, is wanneer ons wel iemand gekonfronteer het, maar wat nie vir ons om vergifnis gevra het nie. Daar is een kort antwoord op so ’n vraag: Ons gesindheid moet ten spyte van hul onbybelse optrede steeds een van vergifnis en liefde wees – ons moet vergewe al vra hul nie om vergifnis nie. Ons reaksie moet dus dié van Jesus wees toe Hy aan die kruis gehang het ~ Toe sê Jesus: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!” (Luk.23:34).

7.    HET EK VERGEWE INDIEN DAAROM GEVRA?
Jesus praat gereeld oor die belangrikheid daarvan om andere te vergewe – so sê Hy bv. in Luk.17:3-4 ~ Wees dus self op julle hoede. “As jou broer verkeerd optree, berispe hom; en as hy berou kry, vergewe hom. 4Selfs as hy sewe maal op ’n dag verkeerd optree teen jou en sewe maal na jou toe terugkom en sê: ‘Ek is jammer,’ moet jy hom vergewe.”                 

Die laaste vraag wat jy, jouself dus moet afvra ten einde te weet hoe jy die verlede "op sy plek moet sit" – daardie verlede waar mense verkeerd teen jou opgetree het en waar jy ook verkeerd opgetree het, is om te vra of jy mense uit die verlede vergewe het wat jou om vergifnis gevra het? Indien jy nie bereid is om te vergewe nie, is jou voorland "blok 2" (sien diagram) en sal jou doring met jou wees tot jy bereid is om diegene wat om vergifnis gevra het, se belydenis te aanvaar – ons kan en mag net eenvoudig nie mense wat om vergifnis vra, se belydenis weier nie – hoe kan ons ooit verwag dat die Vader ons moet vergewe as ons nie bereid is om andere te vergewe nie? Mark.11:25 verskaf hier aan ons ’n baie duidelike antwoord ~ En wanneer julle staan om te bid, en julle het iets teen iemand, vergewe hom; dan  sal julle Vader wat in die hemel is, julle ook julle oortredings vergewe. Die implikasie van hierdie vers, is dat ons vergifnis afhang van ons gewilligheid om andere te vergewe wat teen ons oortree! Hierdie feit behoort genoegsame rede vir ons te wees om seker te maak dat ons tweede blok "skoon gemaak sal word"!

8.    AFSLUITING:
Dit wat ek vandag met julle gedeel het, is voorwaar nie maklik nie, maar indien ons na die beeld van God geskape is en as ons onsself gelowiges noem wat hervorm is na die beeld van Christus, moet ons soos Christus optree. Paulus leer ons in Ef.4:24, dat ons ~ ...as nuwe mense (moet lewe) wat as die beeld van God geskep is: en daarom moet ons volkome volgens die wil van God (lewe) en heilig (wees).


[1] Boodskap deur Kobus van der Walt te Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Meyerton) - Sondag,  13 Mei 2012

Saturday, 5 May 2012


Die Doring in My Vlees - 03
(My Verlede en My Hoop)

1.    INLEIDING:
Ons het almal huiswerk gehad om te doen en ek vertrou van harte dat julle elkeen die huiswerk biddend en ernstig benader het én dat julle dit gedoen het. Ek glo ook dat indien julle dit met die nodige erns benader het, julle (soos ek) sou besef dat daar van die "dorings" uit julle verlede, dalk meer kompleks is as wat julle gedink het. So het ek bv. besef dat ek ’n bepaalde "doring" uit my verlede het, wat maar nog steeds my aandag van tyd tot tyd vra en wat meer is, ek kon dit in elkeen van die vier blokke skryf, want daar was fasette van die situasie waar ek onskuldig was en wat ek reg hanteer het, maar terselfdertyd was daar fasette in die gebeurtenis waar ek onskuldig was, maar wat ek nie reg hanteer het nie, trouens waar ek selfs gesondig het. Daar het dit egter nie geëindig nie, want ek het ook besef dat daar fasette was waar ek die skuldige party was – waar bepaalde optredes van my ongevraagd en verkeerd was – ek was dus skuldig, maar het met die genade van die Here dit kon uitsorteer en vergifnis daarvoor vra en ontvang, maar helaas was daar ook situasies rondom hierdie een "groot doring" uit my verlede waar ek nie alleen skuldig was nie, maar waar ek dit ook nie reggestel het nie.



Onskuldig
Skuldig
Jou  Reaksie….
Reg
Œ       

(Jou reaksie was welgevallig voor God)
Ž     

(Jy sondig, maar jy het dit reg hanteer)

Verkeerd
     
(Jy het jou omstandighede nie oor jourself gebring nie, maar jy het nogtans verkeerd reageer )
        

(Jy sondig, maar jy hanteer dit  ook swak – en selfs met bykomende sonde)


       In die proses van selfondersoek het ek ook aan situasies gedink wat ek eintlik al van vergeet het, maar wat steeds ’n negatiewe invloed op my lewe uitoefen en wat ek nou skielik weer onthou het en ek eer die Here dat Hy dit vir my uitgewys het, sodat ek dit nou kan hanteer en dat dit reg gestel kan word.

       Ons sien dus dat sommige van ons "dorings" baie meer kompleks is as wat ons dalk aanvanklik besef het, maar genadiglik is die woorde van Ef.3:18-19, só waar, nl. dat dit vir ons bykans onmoontlik is om te besef hoe ~ ... wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek... en dat ons wel Christus se liefde kán ervaar ~ ... liefde wat ons verstand te bowe gaan... én dat ons vervul kán word met die volheid van God!

       Paulus skryf in Rom.15:13 hierdie pragtige woorde ~ Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees! Is dit nie wonderlik om te weet dat God na Homself verwys as, die Bron van hoop nie? Dit is hierdie God van hoop wat jou en my wil en kan verlos van ons verlede – ons kán dus oor hoop op verlossing en bevryding beskik!

       Wat ons verlede betref, waar ons "nie die oorsaak" was vir ons omstandighede nie en waar ons welgevallig opgetree het in die oë van die Here, is daar verskeie Skrifgedeeltes wat as bemoediging en as raad dien en waaruit ons hulp kan put om verlos te kom van daardie situasies wat ons maar net nie alleen wil laat nie en waaraan ons gedurig terug dink en wat ons dalk nog steeds pla ook. Een so ’n Skrifgedeelte is Ps.73 en ’n ander is 2 Kor.1. Hierdie Skrifgedeeltes help ons om te hoor hoe werklike lyding klink en hoe dit werklik voel en daaruitsien.

2.    SKRIFLESING:
       Psalm 73:1-28 ~ ’n Psalm van Asaf. God is vir Israel baie goed, vir dié wat rein van hart is. 2Tog het ek daaraan begin twyfel, ek het byna koers verloor, 3want ek het die hooghartige goddeloses met afguns bejeën toe ek hulle voorspoed sien. 4Hulle het geen kwellings nie, hulle is sterk en gesond, 5hulle het nie sorge soos ander mense nie, hulle het nie teëspoed soos ander nie
6Daarom hang die trots aan hulle soos ’n halssnoer en kleef geweld aan hulle soos ’n kleed. 7In die weelde van hulle voorspoed matig hulle hulle enigiets aan; 8smalend stook hulle kwaad, hooghartig dreig hulle met geweld. 9Hulle laster teen die hemel en beledig links en regs op die aarde. 10Tog hang die volk hulle aan en drink gretig hulle woorde in. 11Hulle vra: “Hoe sal God dit uitvind? Hoe sal die Allerhoogste dit weet?” 12Dit is hoe die goddelose mense is! So gaan hulle ongehinderd voor om rykdom op te hoop! 13Dat ek die kwaad vermy het en met ’n eed my onskuld verklaar het, het dus niks gehelp nie, 14want elke nuwe dag het vir my teenslae gebring en elke nuwe môre straf. 15Maar as ek so sou aanhou praat, sou ek dié verloën wat aan U behoort. 16Daarom het ek diep nagedink om dit te verstaan en was dit vir my bitter moeilik 17totdat ek in die heiligdom van God Ingegaan en besef het wat die uiteinde van die goddeloses is. 18U laat hulle op gladde plekke loop, U laat hulle ondergaan deur hulle eie geknoei. 19In ’n oogwink word hulle iets afgrysliks, gaan hulle te gronde, tref ’n verskriklike einde hulle. 20Net soos ’n droom wat ophou as ’n mens wakker word, so verdwyn hulle, Here, as U ingryp. 21Toe ek verbitter was en veronreg gevoel het, 22was ek dom en sonder insig; soos ’n redelose dier het ek my teenoor U gedra. 23Tog was ek nog altyd by U, want U vat my aan die hand. 24U lei my met u raad en aan die einde sal U my in ere by U opneem. 25Daar is niks in die hemel of op die aarde wat vir my meer beteken as U nie. 26Al is ek afgetakel na liggaam en gees, God is my sterkte; aan Hom behoort ek vir altyd. 27Dié wat ver van U af is, gaan verlore, U vernietig dié wat aan U ontrou is. 28Maar wat my aangaan, dit is vir my goed om naby God te wees. Ek het die Here my God gekies as my toevlug! Ek sal van al u werke bly vertel.
      
3.    WEES OPENLIK EN EERLIK:
       ’n Vraag wat moontlik by jou kon opkom t.o.v. ons eerste blokkie, is waarom gebeurtenisse wat daar hoort, jou steeds pla. Daar is verskeie redes waarom dit die geval kan wees.
      


Onskuldig

Jou  Reaksie.
Reg
Œ    

(Jou reaksie was welgevallig voor God)










       Een van die hoofredes is dat ons in ons kultuur geleer
word dat ’n mens die verlede moet begrawe en dit moet  ignoreer en selfs ontken, wanneer ons daaraan herinner word. Veral ons ouer geslag is van kleinsaf geleer dat "manne nie huil nie".

       Nog ’n rede kan wees dat ons net eenvoudig nie kan glo dat die Here ons kan en wil verlos van ons verlede nie; of ons gee die Here net eenvoudig nie die kans om dit te doen nie – dit is amper asof ons maar eerder self daarmee wil stoei en dit self probeer oplos en in die proses word baie mense "smartvrate" en is dit asof hulle dit geniet om swaar te kry oor die swaar verlede!

       Ons as gelowiges moet egter weet en besef dat die Woord van God vir ons ’n dramaties teenoorgestelde benadering verskaf en ons moet maar net kyk na die lewe en optrede van baie van die Bybelfigure – mans en vrouens wat openlik en eerlik was oor wat met en in en rondom hulle gebeur het.

       Asaf, die skrywer van die Psalm wat ons saam gelees het, is uiters deursigtig en eerlik oor hoe moeilik en kompleks die lewe kan wees. Hy sê bv. in v.2 ~ Tog het ek daaraan begin twyfel, ek het byna koers verloor. In 2 Kor.1:4 praat Paulus op dieselfde wyse wanneer hy aan sy broers en susters skryf oor ...elke moeilikheid, of soos die O.A.V. dit uitdruk, ...al ons verdrukking en Paulus gaan in v.5 voort en hy praat van ons (gelowiges) se oorvloed van  lyding. In v.8 sê Paulus vir die gemeente in Korinte ~ Ons wil hê, broers, dat julle moet weet van die moeilikhede wat ons in die provinsie Asië ondervind het. Die swaar wat ons moes verduur, het ver bo ons kragte gegaan, sodat ons selfs die hoop om te bly lewe, laat vaar het.

       Hierdie benadering van beide Asaf en Paulus is só anders as waaraan ons gewoond geraak het oor die jare heen in ons bepaalde kultuur. Ek moet egter onmiddellik hiermee saam sê dat hierdie benadering nie impliseer dat ons nou maar onophoudelik moet en kan begin kla teenoor almal wat wil luister en selfs ook teenoor diegene wat nie wil hoor nie. Wat Asaf en Paulus vir ons hier demonstreer is dat ons in tye van swaarkry openlik en in eerlikheid ons swaarkry en selfs vertwyfeling en verwarring moet erken en uitspreek.

       Asaf maak geen geheim daarvan waarom hy amper gestruikel het nie. Hy erken dat hy die hooghartige goddeloses met afguns bejeën (het) toe (hy) hulle voorspoed sien (v.3). Asaf het egter nie net volhard in afguns en bitterheid nie – nee, hy het volgens v.16 ~ ...diep nagedink om dit te verstaan.  

       Paulus het die doring in sy vlees op dieselfde wyse hanteer toe hy in 2 Kor.12:8 gesê het ~ Drie maal het ek die Here gebid dat dit van my af weggeneem moet word. Paulus was ’n geharde man wat swaarkry kon hanteer – hy was bv. volgens 2 Kor.6:5 ~ ...geslaan, in die tronk gegooi en het in oproere beland; het swaar gewerk, nagte sonder slaap deurgemaak en honger gely, maar hy was ook mans genoeg om te huil en tot God te roep as hy dinge wat in sy lewe gebeur het, nie verstaan het nie.

       Dawid is nog ’n voorbeeld van ’n man wat sy probleme en die vrae in sy gemoed openlik en eerlik in die gesig gestaar het ~ Hoor tog my hulpgeroep, o God, slaan tog ag op my gebed. 3Ver uit die vreemde uit, in wanhoop, roep ek na U. Bring my op ’n rots waar ek veilig sal wees. 4U is vir my ’n toevlug, ’n sterk vesting buite bereik van die vyand. 5Laat my by U ’n blywende tuiste vind. Laat my skuil onder u vleuels.     Sela 6U, o God, hoor my geloftes, U vervul die wens van hulle wat u Naam eer (Ps.61:1-4).

       As gelowiges word ons aangemoedig en selfs verplig om ons pyn uit die verlede na Christus Jesus te bring, want Hy is ons Hoë Priester wat kan en wil simpatiseer met ons swakhede en seerkry. Hebr.4:15 stel dit pragtig ~ Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie. Die Hebreërskrywer gaan voort in v.16 en sê ~ Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word.

       Ons kan slegs in en deur God volkome bevryding ontvang van ons sorge; ons probleme; ons worstelinge – waarom sal ons dan nie gebruik maak daarvan nie?

4.    "TREK JOU EERSTE DORING UIT":
       Vir Asaf het die deurbraak en bevryding in v.17 gekom, toe hy ~ ...in die heiligdom van God ingegaan... het. Ten einde vry te kom van ons verlede en dan spesifiek van daardie dinge wat met ons gebeur het en waaraan ons geen aandeel gehad het nie, moet ons ook ~ ... in die heiligdom van God ingaan.... Ons moet ons verlede Bybels hanteer – dit is die enigste wyse waarop ons vry kan kom van ons verlede en ons hoop kan vestig op die toekoms en dit is waarom Paulus in Rom.15:4 skryf ~ Alles wat vooraf in die Skrif opgeteken is, is tog opgeteken om ons te leer sodat ons deur die standvastigheid en bemoediging wat die Skrif ons gee, vol hoop kan wees en Dawid sê in Ps119:71 ~ Dit is vir my goed dat ek swaargekry het, want daardeur het ek u voorskrifte geleer.

       Daar is ’n paar dinge wat ons in gedagte moet hou wanneer ons "in God se heiligdom ingaan", ten einde bevry te raak van ons verlede en ons toekomstige "dorings" te hanteer:
·           Erken en besef dat pyn en lyding, of te wel "dorings", onontkombaar (inescapable) deel is van die lewe. God se Woord is baie duidelik daaroor dat beproewing deel van hierdie lewe is. Petrus waarsku ons in 1 Pet.4:12-13, wanneer hy sê ~ Geliefdes, moenie verbaas wees oor die vuurproef waaraan julle onderwerp word nie. Dit is nie iets vreemds wat met julle gebeur nie. 13Wees liewer bly hoe meer julle in die lyding van Christus deel, want dan sal julle ook oorloop van vreugde by sy wederkoms in heerlikheid.
·           Besef dat daar nie altyd ’n direkte verband tussen lyding en sonde is nie. Een ding wat gereeld by baie gelowiges opkom is dat wanneer hy deur beproewing gaan, dit as gevolg is van sonde in sy lewe. Dit is presies wat Job se eerste drie vriende veronderstel het, maar God antwoord hulle in Job 42:7 ~ Nadat Hy met Job gepraat het, het die Here vir Elifas die Temaniet gesê: “Ek is kwaad vir jou en jou twee vriende, want julle het nie die waarheid oor My gepraat soos my dienaar Job nie. Dieselfde het gebeur toe sommige van Jesus se volgelinge vir Hom gevra het wie se sonde die oorsaak was van die man wat van geboorte af blind was – die blinde man of die ouers s’n, waarop Jesus in Joh.9:3 hulle antwoord ~ Dit is nie deur sy eie sonde nie en ook nie deur sy ouers s’n nie, maar hy is blind sodat die werke wat God doen, in hom gesien sal kan word.

       Ja, dit is so dat sonde gevolge in ons lewe het en ons kan "met blindheid geslaan word" a.g.v. sonde (Spr.28:13; Gal.6:7; Hebr.12:7-11), maar dit wat met jou gebeur is nie noodwendig, of altyd die gevolg van sonde in jou lewe nie en as jy jou hart in alle eerlikheid en opregtheid voor die Here ondersoek het en jy kan geen verband sien met sonde nie, dan moet jy aanvaar dat jou "doring" nie is as gevolg van sonde nie (daarom dat ons hier na ons eerste kolom kyk).
·           God voorsien iets veel beter as blote regverdigheid. Ons hoor baie dikwels dat mense sê dat God onregverdig is – veral wanneer iets onaangenaams hulle tref; wanneer hulle gepla word met ’n "doring in die vlees". Tot ’n sekere mate is hulle natuurlik reg, want indien God regverdig was, sou ons dood gebore gewees het, omdat nie een van ons verdien om te lewe nie a.g.v. die erfsonde (Ps.51:5; Rom.5:12-21) – omdat, soos Rom.6:23a dit stel ~ Die loon wat die sonde gee, is die dood.... Ons moet dus elke keer dat ons dink dat God nie regverdig is nie, vir onsself sê: Ek is so bly en dankbaar dat God nie regtig regverdig is nie, want ek het ’n genadige; geduldige en liefdevolle God nodig om te kan lewe.

       Wat God egter in ruil vir regverdigheid aan ons bied, is Sy goedgunstige soewereiniteit. Hy belowe om elke liewe omstandigheid en gebeurtenis in jou lewe, te gebruik tot ons eie geestelike voordeel, ten einde ons na die beeld van Christus te vorm – Rom.8:28-29 sê ~ Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is. 29Dié wat Hy lank tevore verkies het, het Hy ook bestem om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat sy Seun baie broers kan hê van wie Hy die Eerste is. As dit dus swaar gaan met jou, weet dat God besig is om dit te gebruik om jou meer en meer na Christus se beeld te vorm.
·           Sien toe dat jou "doring" ’n veel nouer verhouding met God tot gevolg het. Die ou Puritein, Richard Baxter het gesê: Suffering so unbolts the door of the heart, that the Word has easier entrance. Een van die wyses waarop ons ontslae kan raak van die doring(s) uit ons verlede, wat ons nie oor onsself gebring het nie, is om toe te laat dat elkeen daarvan ons nader aan God sal bring. Oordink ’n bietjie die volgende verse wanneer beproewing jou teister:
~  Die doderyk is die bestemming van die skuldiges, van al die nasies wat aan God nie dink nie (Ps.9:18);
~  My loflied in die volle vergadering kom van Hom af, my geloftes sal ek nakom voor die mense wat Hom dien (Ps.22:26);
~  Dit is my troos in my ellende: dat u belofte my in die lewe hou (Ps.119:50);
~  Laat daar geen skindertong in die land wees nie, laat onheil dié wat geweld pleeg, elke keer weer tref! (Ps.140:12);
~  Die Here is goed vir sy volk, Hy kroon die hulpeloses met oorwinning (Ps.149:4);
·           Staar jou "doring" hoopvol in die gesig. Baie van ons probeer eerder ons "dorings" uit die verlede te ignoreer, of selfs die bestaan daarvan te ontken, omdat ons baie keer die gevolge daarvan vrees. Die probleem met so ’n gesindheid is dat ons God nie vertrou nie, of selfs nie glo dat Hy ons in ’n beter posisie in ons verhouding met Hom wil bring nie. Ons moet dus op ’n plek in ons lewe kom dat ons God sal vertrou en sal weet dat Hy ons wil laat groei in heiligmaking – ons moet dus hoopvol wees en weet dat God alles ten goede laat meewerk in ons lewe (Rom.8:28).
·           Jou beproewing sal nooit so erg wees dat jy dit nie sal kan verduur nie. Ons kan Paulus maar glo wanneer hy sê dat ons nooit bo ons kragte versoek sal word nie (1 Kor.10:13 – O.A.V.), want hy het waarskynlik baie erger dinge gedurende sy lewe ervaar as wat enige een van ons ooit sal ervaar (dink bv. weer aan 2 Kor.6:5 ~ Ons is geslaan, in die tronk gegooi en het in oproere beland; ons het swaar gewerk, nagte sonder slaap deurgemaak en honger gely).
·           In die sewende plek moet jy weet dat jou Redder gereed staan om jou te vertroos en te versterk. Paulus gee hierdie versekering vir ons in 2 Kor.1:4 ~ In elke moeilikheid bemoedig Hy ons. Daarom kan ons weer ander bemoedig wat in allerlei moeilikhede verkeer. Ons kan hulle bemoedig met dieselfde bemoediging waarmee God ons bemoedig. Die Griekse woord vir bemoedig, is παρακαλέω (parakaleō) en beteken letterlik om langs iemand te staan ten einde hom te ondersteun en te bemoedig wanneer hy geweldige beproewing ervaar. Dit is presies wat ons hemelse Vader gereed is om te doen – Hy wil ons bystaan, vertroos en versterk.
·           Wanneer ons deur beproewing gaan, ontvang ons die geleentheid om ons harte te ondersoek en vas te stel wat ons diepste motiewe en begeertes is – is ons in sulke tye, selfgerig of Godgesentreerd? Ons moet in sulke situasies, daarop fokus dat God se eer ons primêre fokus sal wees.  Ons fokus moet wees om in die proses nader aan Christus te kom. Ons moet daarop ingestel wees om ons vervolgers te seën in die proses. Ons moet dus die geleentheid van beproewing gebruik, om ons harte te reinig.
·           Sien jou beproewing deur die lens van die ewigheid. Waarskynlik die grootste hoop wat ons kan hê t.o.v. die "doring(s)" in ons vlees, is die feit dat dit nie vir altyd sal aanhou nie. 1 Pet.1:6-9 ~ Verheug julle hieroor, selfs al is dit nodig dat julle ’n kort tydjie bedroef gemaak word deur allerhande beproewings 7sodat die egtheid van julle geloof getoets kan word. Julle geloof is baie kosbaarder as goud, goud wat vergaan. Selfs die suiwerheid van goud word met vuur getoets, en die egtheid van julle geloof moet ook getoets word, sodat dit lof en heerlikheid en eer waardig mag wees by die wederkoms van Jesus Christus. 8–9Hom het julle lief, al het julle Hom nie gesien nie. Deur in Hom te glo, al sien julle Hom nou nie, het julle reeds deel aan die saligheid wat die einddoel van julle geloof is. En dit vervul julle met ’n onuitspreeklike en heerlike blydskap.  
·           Beide Asaf en Paulus het uitgesien na die dag dat hulle beproewing kon dien as kanaal vir troos en bemoediging vir andere. Hoor wat sê Asaf in Ps.73:28 ~ Maar wat my aangaan, dit is vir my goed om naby God te wees. Ek het die Here my God gekies as my toevlug! Ek sal van al u werke bly vertel (sien ook 2 Kor.1:6-7).

5.    AFSLUITING:
       Ons het tot nou gesien hoe ons situasies van beproewing wat oor ons lewenspad kom en waar ons nie die oorsaak daarvan is nie, moet hanteer en indien ons dit nie so hanteer het in die verlede nie, moet ons nou tyd maak om elkeen van hierdie situasies wat ons in ons eerste kolom neergeskryf het, biddend te benader en elkeen van daardie gevalle aan die hand van gemelde tien punte te beskou; daaroor te bid en dit af te handel. Die Hebreërskrywer gee in Hebr.9:14 vir ons hierdie wonderlike belofte (en hierop moet ons staan!) ~ ...die bloed van Christus (sal) ons gewete bevry van die las van dade wat tot die dood lei, sodat ons die lewende God kan dien! Hiervoor het Christus immers Homself as volkome offer deur die ewige Gees aan God geoffer.


[1]Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te VAALDRIEHOEK Gereformeerde Baptistegemeente (Meyerton) - Sondagoggend  06 Mei 2012