Saturday, 14 June 2014

Die Brief aan die Hebreërs – 32 (“Algemene riglyne vir ’n lewe as Gelowige - 01”)

1.     INLEIDING:
       Ons kom nou by die laaste hoofstuk van ons prediking uit die brief aan die Hebreërs en tot nou het ons gesien hoe die skrywer Jesus Christus verheerlik deur sy skrywe, maar ook die seën wat diegene ontvang wie Hom dien. Hy het voortdurend in die brief gepleit dat ons moet volhard tot die einde toe, maar hy het homself ook nie terug gehou in sy waarskuwings aan ons oor die gevolge wat op ons wag indien ons nie volhard in die geloof tot die einde toe nie. Die apostel begin egter nou in hierdie laaste hoofstuk om sy brief af te sluit en hy doen dit deur bepaalde praktiese riglyne vir ’n lewe as gelowige aan sy lesers te gee.
      
       In die eerste 6 verse gee hy vyf baie praktiese riglyne wat teenwoordig moet wees in elke gemeente van die Kerk van die Here Jesus Christus. Hy gee ’n verdere sewe riglyne in vv.7-19 t.o.v. die gemeente se verhouding jeens hul leiers, asook ’n persoonlike oproep tot gebed. In vv.22-25  sluit hy sy brief finaal af, met bepaalde laaste versoeke en groetewoorde.

       Wees ook gewaarsku dat ekself vandag baie prakties gaan wees.

2.     SKRIFLESING:
       Hebr.13:1-3 ~ As broers moet julle mekaar altyd liefhê. 2Moenie nalaat om gasvry te wees nie, want deur gasvry te wees, het sommige mense sonder dat hulle dit geweet het, engele as gaste gehuisves. 3Dink aan die gevangenes asof julle self ook gevangenes is, en aan dié wat mishandel word, asof julle self ook mishandel word.

3.     LIEFDE VIR MEDEGELOWIGES (v.1):
       Die Hebreërskrywer het in die voorafgaande twaalf hoofstukke vir ons in duidelike taal twee uitstaande karakter eienskappe van God geskets – aan die een kant die God wat ’n  verterende vuur is – die verterende vuur van die Berg Sinai – die verterende vuur van oordeel en gramskap. Aan die anderkant het ons egter ook die God van die Berg Sion gesien – ’n God van verterende liefde – van oorvloedige; onverstaanbare en vanuit ons perspektief, onverdiende liefde. Die God van die Wet is dus dieselfde God as die God van die Evangelie.

       Die vraag wat ons as gelowiges dan vir onsself behoort te vra en voortdurend behoort te vra, is hoe ons dan in die lig van die feit dat God beide ’n verterende vuur, maar ook ’n God van verterende liefde is – hoe ons behoort te leef ten einde te kan volhard tot die einde toe?

       Die apostel mors nie tyd wanneer hy vir ons riglyne begin gee ten einde hierdie belangrike vraag wat ons, onsself moet afvra, te verskaf nie. Hy sê in v.1 ~ As broers moet julle mekaar altyd liefhê.        Die liefde waarvan hy hier praat is in die Grieks, φιλαδελφία [philadelphia /fil·ad·el·fee·ah/] en dit word deurgaans vertaal met “broederlike liefde”.  Die skrywer begin dus deur vir ons te sê dat gelowiges, broers is – dít is die feit wat hy wil konstateer, m.a.w. daar is nie gelowiges wat mindere of meerdere broers van ons is nie – gelowiges ís ons broers en dit is nie net ons broers in dieselfde gemeente waar ons aanbid nie, maar alle gelowiges oor die wêreld heen – selfs hulle wat ons nie baie gek oor is nie – geen uitsonderings nie en as dIt dan die geval is, moet ons mekaar lief hê, met ’n “philadelphia”- liefde – broederlike liefde.

       Hierdie oproep deur die apostel is ’n deurlopende tema regdeur die Nuwe Testament, so sê Paulus bv. in Rom13:8 ~ Julle moet niemand iets verskuldig wees nie, behalwe om mekaar lief te hê. Wie sy medemens liefhet, voer die hele wet van God uit. Petrus is nóg meer spesifiek t.o.v. sy opdrag aan gelowiges, wanneer hy sê ~ Noudat julle julle in gehoorsaamheid aan die waarheid  gereinig het om mekaar as broers ongeveins lief te hê, moet julle mekaar dan ook van harte en vurig liefhê (1 Pet.1:22). Hoor wat sê Johannes in 1 Joh.2:10 ~ Wie sy broer liefhet, bly in die lig, en daar is niks wat hom laat struikel nie.

       ’n Ander woord in v.1 wat ons nie uit gedagte moet verloor nie, is die woordjie “altyd”. Die OAV is kort en kragtig wanneer dit sê ~ Die broederliefde moet bly. Eerstens impliseer dit dus dat daar alreeds liefde bestaan en dit word bevestig deur Paulus in Rom.5:5 waar hy sê ~ ...want God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het.  Tweedens egter en veral as ons na die Griekse woord kyk wat hier gebruik word, dan sien ons dat dit dui op ’n voortgaande aksie, m.a.w. ons moet mekaar aanhoudend, deurlopend en altyd lief hê, tot die einde toe. 

       Ons as gelowiges is deel van ’n geestelike familie wat saamgevoeg is deur die Evangelie – die bloed van Jesus Christus; deur ons gedeelde geloof in Jesus Christus. Ons moet Christus nadoen in alles, want Hy is die volmaakte toonbeeld van liefde vir ons as gelowiges.

4.     GASVRYHEID (v.2):
       Ons as gelowiges moet mekaar liefhê (“philadelphia-liefde”) – dit is duidelik, maar wat moet ons gesindheid en optrede jeens vreemdelinge, of te wel, ongelowiges wees? V.2a ~ Moenie nalaat om gasvry te wees nie.... Die Engelse vertalings is dalk nog duideliker, wanneer dit sê ~ ...Do not neglect to show hospitality to strangers. Die Grieks vir gasvryheid wat die Hebreërskrywer hier gebruik is φιλοξενία (philoxenia) wat, indien dit direk vertaal word, gasvryheid teenoor vreemdelinge beteken.

       Die probleem met baie gelowiges en baie gemeentes is dat
hulle mekaar só lief het en só na binne leef, dat hulle daarin gefaal het om betrokke te wees en betrokke te bly by die wêreld daarbuite en ons sal ons baie deeglik self moet ondersoek om vas te stel of dit nie dalk ook met ons die geval is nie.

       Die wêreld “daarbuite” moet leer van hierdie liefde van Christus en dan praat ek nie in die eerste plek van onderlinge liefde nie, maar van Christus se liefde vir verloregaande siele en daarom gaan die skrywer voort deur te sê en let op, hy skryf nie hierdie opdrag nét aan sy destydse lesers nie – nee, hy skryf dit aan alle lesers, van alle tye – ons derhalwe ook – hy skryf dat ons gasvry teenoor vreemdelinge ook moet wees – net “goeie” vreemdelinge? Nee, sondaars (en alle vreemdelinge in hierdie konteks is sondaars) – sondaars van alle soorte. As ons na Jesus se woorde in Matt.5:43-44 kyk sal ons sien dat hierdie opdrag om gasvry te wees, ook ons vyande insluit ~ Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘Jou naaste moet jy liefhê en jou vyand moet jy haat.’44Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle vyande liefhê, en julle moet bid vir dié wat vir julle vervolg.

       Wat beteken dit? Wat is die implikasies hiervan vir ons? As ons na 1 Tim.3:2 en Titus 1:8 kyk, sien ons dat een van die voorvereistes om ’n ouderling te kan wees, is om o.a. gasvry te wees en daarom moet ouderlinge en voorgangers van gemeentes, se deure oopstaan vir alle mense, sodat gasvryheid teenoor hulle betoon kan. Máár,  gasvryheid word egter nie net beperk tot ouderlinge nie, want die Hebreërskrywer wys daarop dat alle gelowiges, gasvry moet wees – die Griekse woord wat vir gasvry in v.2a gebruik word is φιλοξενίας (philoxenias)  wat letterlik beteken om gasvry teenoor vreemdelinge te wees. Wat meer is, Paulus sê ook in 1 Tim.5:10, dat ’n geestelike vrou ~ ...bekend (moet) wees om haar goeie dade, naamlik dat sy haar kinders goed opgevoed het, vreemdelinge gehuisves het, die voete van die gelowiges gewas het, die verdruktes gehelp het en goed gedoen het waar sy kon. Met ander woorde, gasvryheid moet ’n kenmerk en basiese karaktereienskap van alle gelowiges wees.

       Paulus leer ons in Gal 6:10 die volgende ~ Solank ons die geleentheid het, moet ons dus aan almal goed doen, veral aan ons medegelowiges. Dit beteken dus dat ons primêre verantwoordelikheid by ons broers in Christus lê, maar ons verantwoordelikheid eindig egter nie daar nie, want die Skrif is duidelik daaroor dat ons gasvry teenoor alle mense moet wees.

       Ons vind in v.2b ’n baie interessante opmerking en ’n opmerking wat ek glo deur baie gelowiges verkeerdelik gesien en hanteer word ~ ...sommige mense sonder dat hulle dit geweet het, engele as gaste gehuisves. Daar is mense wat gasvryheid betoon omdat hulle bang is dat dit dalk ’n engel is wat by hul voordeur staan – dit mag nooit ons motief wees nie.

       Maar, beteken dit nie tog dalk dat ons soms getoets word deur engele wat aan ons deure klop en (ek sê dit met die grootste piëteit) met ’n “Flip File” daar staan en kollekteer vir een of ander Tehuis vir verwaarloosde kindertjies nie, of ’n ou wat oor die interkom by die hek vra vir ’n geldjie om huis toe te kan ry met die trein, want hy het hier werk kom soek en nou het hy nie geld om terug te gaan huis toe nie? Dit mag dalk so wees, wie weet, maar dit moet nooit ons uitgangspunt wees om te wonder of hierdie “gladde mond ou” dalk ’n engel is en daarom moet ek nou op my hoede wees en vir hom gee soos hy vra nie. Nee, my motief moet wees om liefde te betoon t.w.v. diegene wie ek help, maar veral t.w.v. die eer van die Here – natuurlik moet ek steeds en veral in hierdie dae met groot omsigtigheid te werk gaan, want ons leef nie meer in die tyd van die Hebreërskrywer, toe daar enersyds, nie gastehuise, ens. was nie en reisigers by enige huis kon aanklop en oornagplek kon kry nie en andersyds, toe bedelaars nog opreg was in hul afhanklikheid van aalmoese en hulp van andere – maar ons moet daarop let, dat die beginsel van liefde en gasvryheid steeds in ons dag van toepassing bly.

       Toe die drie vreemdelinge by Abraham se tent in Gen.18 verby geloop het, was sy gesindheid nie een van wag en sien wat gebeur, of selfs een waar hy hulle geïgnoreer het nie, maar een waar hy na hulle uitgereik het en vir hulle gesê het ~ Menere, u sal my ’n guns bewys deur nie by my verby te gaan nie. 4Laat ek eers ’n bietjie water laat haal sodat u u voete kan was, en kom rus dan onder die boom. 5U is nou eenmaal op pad hier by my verby, en daarom wil ek ’n stukkie brood vir u gaan haal dat u weer nuwe krag kan kry (Gen. 18:3-5) ... en raai wie was dit wat Abraham hier bedien het? Gen.18:15 ~ ...Maar die Here het gesê... ...en ons sien dit weer ’n paar keer in vv.17-33, waar die Here met Abraham praat. Dit was die Here Jesus Christus en twee engele wat Abraham besoek het. Abraham se gesindheid was om te gee en goed te wees en lief te hê en te bedien en nie om te sien wat hy daaruit kan kry, of sodat hy geseën kan word nie – veral as dit “dalk net per ongeluk, ’n engel” was nie.

       Dit is wel so dat ons in ’n sekere sin tog gasvryheid en goedheid en liefde teenoor Christus betoon, elke keer as ons dit teenoor ons naaste doen, want Christus sê in Matt.25:40 ~ Dit verseker Ek julle: Vir sover julle dit aan een van die geringste van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen, maar ons motief mag nooit wees – wat gaan ek hieruit kry nie, of is dit dalk ’n engel nie. Nee, my motief moet diensbaarheid en gehoorsaamheid wees, ten einde lof en eer aan God te bring en liefde teenoor my naaste te betoon.

5.     DIE GEVANGENIS (v.3):
       Vers 3 roep ons op om aan die gevangenis te dink. Ek moet eerlik wees as ek sê dat ek tien kommentare geraadpleeg het – van die 18de en 19de eeuse teoloog John Brown, tot en met huidige kommentators soos Stuart Olyott, R. Kent Hughes e.a. en almal gaan van die veronderstelling uit dat hier verwys word na gelowiges wat in die tronk is. Ek het egter gesoek en probeer vasstel of dit régtig is wat hier geskryf staan – moet ons nie net neem wat daar staan en aanvaar dat ons ’n opdrag het om aan alle gevangenis te dink nie?

       Ek glo dat Hebr.10:34 vir ons meer lig werp op hierdie vraag, nl. van watter tipe gevangene hier gepraat word – álle gevangenis, of net gelowige wat in die gevangenis is?  Want julle het ook saam met my gevoel in my boeie, en julle het die berowing van julle goed met blydskap aanvaar, omdat julle geweet het dat julle in julself ’n beter en blywende besitting in die hemele het (OAV – Hebr.10:34). Die Hebreërskrywer het homself vroeër in gevangenisskap bevind en hier verwys hy na sy medegelowiges wat aan hom gedink het terwyl in die tronk was en ons kan aanvaar dat hy oor sy geloof in die tronk was.

       Net t.w.v. ’n klein bietjie agtergrond – gevangenis was baie sleg behandel gedurende die eerste eeu en was die meeste van die tyd afhanklik van vriende en familie vir hul mees basiese versorging en dit is presies van hierdie versorging waarvan die apostel hier getuig.

       Ek dink dat wanneer ons dus na die konteks van die Hebreërbrief kyk, kan ons aanvaar dat die skrywer hier gelowiges in gedagte het wanneer hy van gevangenis praat – gelowiges wat net soos hy, vir hulle geloof in die gevangenis is. Ek dink dit is dan ook die rede waarom al die kommentators van hierdie uitgangspunt uitgaan – ek vind dit net jammer dat nie een van hierdie tien wat ek geraadpleeg het motiveer waarom hulle aanvaar dat dit gelowiges is waarvan die apostel praat nie.

Tweedens wat beteken dit as die teks sê dat ons aan gevangenis moet “dink”? Weereens moet ons na die Griekse woord gaan kyk en die woord wat dan in die oorspronklike teks gebruik word, is μιμνησκομαι (mimnēskomai) en dit beteken letterlik om iemand in jou gedagtes te hou asof jy self in daardie persoon se situasie of posisie verkeer. M.a.w., gelowiges moet so met hul vervolgde medegelowiges  identifiseer, asof dit hulleself is wat daar is. Paulus het hierdie selfde versugting uitgespreek toe hy sy brief aan die Kolossense afsluit met hierdie woorde ~ Nou skrywe ek met my eie hand. Groete, Paulus. Dink aan my waar ek hier gevange sit. Die genade sal by julle wees – “dink aan my” (Kol.4:18).

       Hoe kan ons “dink” aan, of te wel identifiseer met ons broers wat in die tronk sit vir hul geloof in Jesus Christus? Daar is basies drie dinge wat ons kan doen:
·           Eerstens kan ons net daar wees vir hulle – baie dikwels is iemand se teenwoordigheid in so ’n situasie, meer as genoeg vertroosting en ondersteuning en bemoediging. Paulus gee vir ons ’n baie mooi getuienis hieroor in 2 Tim.1:16-18 toe hy in die tronk gesit het ~ Mag die Here barmhartigheid bewys aan die huisgesin van Onesiforus, want hy het my dikwels kom opbeur. Hy het hom nie daarvoor geskaam dat ek in boeie sit nie, 17maar toe hy in Rome kom, het hy ywerig na my gesoek tot hy my gekry het. 18Mag die Here gee dat hy by Hom ontferming vind op die dag dat Hy weer kom....
·           Tweedens kan ons direkte hulp verleen en sulke gelowiges fisies ondersteun. Weer gee Paulus vir ons ’n baie mooi  voorbeeld hiervan in Fil.4:14-16, toe hy swaar gekry en deur beproewing gegaan het en hy aan die gemeente in Filippi geskryf het ~ Nietemin het julle goed gedoen deur my in my moeilike omstandighede by te staan. 15Julle in Filippi weet ook dat in die begin van my evangelieprediking, na my vertrek uit Masedonië, geen enkele gemeente behalwe julle ’n aandeel gehad het aan my rekening van inkomste en uitgawe nie. 16Ook toe ek in Tessalonika was, het julle meer as een maal iets vir my behoeftes gestuur.
·           ’n Derde wyse waarop ons met sulke broers kan identifiseer, is om vir hulle te bid.

       Wat hierdie laaste punt betref, raak dit ons baie direk, want in ons dag en in hierdie land van ons waar ons godsdiensvryheid geniet, ken ons waarskynlik nie een enkele gelowige wat vir sy geloof in die tronk sit nie en daarom kan ons ten minste vir vervolgde gelowiges bid, trouens ons móét vir  hulle bid.

       Nie net is die Hebreërskrywer baie prakties in sy riglyne wat hy in hierdie laaste hoofstuk deurgee nie, maar gaan ek ook baie prakties wees en sonder om in te veel detail in te gaan, dink en voel ek dat dié van ons wat slimfone het, “Voice of the Martyrs” se “Toepassing” (“App”) moet aflaai. sodat ons elke dag opgedateerde nuus kan ontvang oor vervolgdes regoor die wêreld, vir wie ons kan bid (ons –“philadelphia-broers”!). Hierdie “Toepassing” is ook vir iPads beskikbaar (VOM Prayer Calender – wees net versigtig en maak seker dat jy die regte een kry, want radikale Moslems het soortgelyke “Apps”), of jy kan inskryf op “Voice of the Martyrs” se nuusbrief (Christian Mission International, Posbus 7157, Primrose Hill, 1417), of hul webtuiste gereeld besoek (baie aanskoulike  en praktiese webtuiste - http://www.persecution.com/).

       Ek het gesê dat ons waarskynlik nie martelare persoonlik ken nie, maar die Woord van God is nie net vir sekere mense geskryf nie, maar elkeen van ons en daarom moet ons gehoor gee aan hierdie oproep deur die Hebreërskrywer, deur dan ten minste te bid vir vervolgdes. Ons moet egter ook nie so gerus gestel lewe en dink dat ons en/of ons gelowige kinders, of familie en vriende nie dalk in die toekoms vervolging vir hul  geloof kan ervaar nie en daarom behoort ons ook “byvoorbaat” nou reeds te bid rondom so ’n moontlikheid – ja, ons moet ook gereeld ons dankbaarheid teenoor die Here betuig vir die vryheid wat ons geniet, maar ons moet ook bid dat hy ons en ons nageslag daarvan sal bewaar en indien ons en/of hulle ooit daaraan bloot gestel mag word, ons enersyds bereid sal wees om diesulkes te ondersteun, maar ook as ons dalk vervolg sou word, ons die krag en genade sal ontvang om deur dit te kan gaan en dat ons saam met Paulus, toe hy in moeilike omstandighede verkeer het (en hy het waarskynlik verwys na sy eie gevangesetting toe hy dit gesê het) – dat ons saam met hom sal kan sê ~ Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee (Fil.4:13).

       Ons het nou na die eerste drie van die vyf praktiese riglyne gekyk, wat ek gesê het die Hebreërskrywer aanspreek in die eerste ses verse van sy laaste hoofstuk en dit het gehandel oor ons naaste. Tyd ontbreek ongelukkig om nou ook na die oorblywende twee te kyk wat handel oor onsself en ons sal liewer D.V. volgende Sondag daarna kyk, nl. ons gesindheid t.o.v. die huwelik en –geld (v.4, 5-6).

6.     BEDELAARS EN GELOWIGES:
       Ek wil egter net vir ’n oomblik en ten slotte stilstaan by iets wat ’n realiteit in ons tyd is, maar ook ’n wesentlike probleem, veral hier in ons omgewing (en ironies genoeg, veral in die somer), nl. bedelaars en ons gesindheid in die lig van wat die Skrif hieroor te sê het.

       Ek het gesê dat ons motief altyd moet wees om liefde te betoon t.w.v. diegene wie ek help, maar veral ook t.w.v. die eer van die Here. Wat moet ons gesindheid en optrede régtig wees teenoor die bedelaars wat by die verkeersligte staan? Die probleem is dat waarskynlik elkeen van ons al in die verlede teleurgestal was deur sulke bedelaars (ek en Jeanne het al bv. brood aan ’n bedelaar gegee om net te sien hoe hy dit ’n ent verder weggooi en nog later het ons dieselfde bedelaar en sy oënskynlike vrou sien inkopies doen en hulle kos koop wat ons nie eens kon bekostig nie). Ons weet dat van hierdie bedelaars die geld gebruik om drank te koop – ons sien dit aan hul pers gesigte en ons ruik selfs hulle alkohol asems soms – ons het almal dus negatiewe ervarings met bedelaars. Ons as gelowiges met egter uitvind wat in God se hart leef t.o.v. van hierdie oënskynlike probleem.

·           Eerstens: Die gevaar dat ons vir ’n “ride” geneem kan word, of om die bos gelei kan word deur hierdie bedelaars, of dat hulle vir ons lieg, mag nooit ons verskoning wees om nié te help nie.
·           Ons moet ons nugter verstand (“common sense”) gebruik wanneer ons besluit om te help, of nie te help nie en hoe ons dit gaan doen. Ons eerste uitgangspunt moet dus nie wees om aan planne te dink hoe ek hierdie bedelaar kan ontduik of vermy nie, maar hoe ek kan help én of dit verantwoordelik sal wees om in bepaalde gevalle te help.
·           Wanneer ons onseker is, behoort ons te help en dit in geloof doen, met die vertroue dat die Here die res van die situasie tot Sy eer sal hanteer.
·           In plaas daarvan dat jy of ons vir bedelaars en daarmee saam armes, geld of selfs kos by die verkeerslig gee, kan jy selfs daaraan dink om iets soos ’n sopkombuis by jou huis te begin, waar mense wat werklik honger is, sal kom eet (ek besef dat dit waarskynlik vir baie van ons nie moontlik is nie, want baie van ons bly in sekuriteitskomplekse waar so iets nie bedryf mag word nie).
·           In plaas daarvan om vir die “Flip File- draers” leë hande weg te stuur – dink daaraan om dalk vir hulle te bid – hulle kan dit nie weggooi nie – dalk net verwerp.
·           Dit is ongelukkig ook so dat die meeste van die wit bedelaars in ons tyd voldoen aan die beskrywing van Spr.20:4 ~ ’n Luiaard ploeg nie in die saaityd nie en soek in die oestyd na iets wat nie daar is nie en dan moet ons onmiddellik die woorde van 2 Tes.3:10 hier byvoeg ~ ...as iemand nie wil werk nie, moet hy ook nie eet nie. Ek wil nie te gou oordeel en te kras wees in my beoordeling nie, maar ek dink dat die meeste wit bedelaars, gewoon net te lui is om te werk en dit is sonde – daar is steeds baie werk wat armes en werkloses kan doen (verkoop hangers; karwag, ens.) (Spr.6:6, 9-11; 10:4-5, 26; 12:24; 13:4; 15:19; 18:9; 19:15, 24; 20:4, 13; 21:25-26; 23:21; 24:30-31, 33-34; 26:14-16; Pred.4:5; 10:18; Jes.56:10; Eseg.16:49; Matt.20:6-7; 25:26-27; Rom.12:11; 2 Thes.3:10-11; 1 Tim.5:13; Hebr.6:10).
·           Nog ʼn probleem in ons dag, is misdaad en dit is ook iets wat ons in gedagte moet hou wanneer bedelaars ons nader – is dit nie dalk ʼn vangstrik nie?
·           Vir die Nuwe Testamentiese-kerk was die versorging van die armes ’n hoë prioriteit en Jesus en die apostels het ook nie die armes en bedelaars geïgnoreer nie – dink bv. aan die lam bedelaar in Hand.3 wat by die tempelpoort gebedel het en hoor net wat was Petrus se reaksie ~ Geld het ek nie; maar wat ek het, gee ek vir jou: in die Naam van Jesus Christus van Nasaret, staan op en loop! Petrus het hom nie op fisiese wyse gehelp nie, maar wel op ʼn geestelike wyse.
·           Wanneer ons sê dat die versorging van die armes vir die Nuwe Testamentiese- kerk ’n prioriteit was, moet ons besef dat hulle eerste prioriteit by hul sorgbehoewende broers en susters
gelê het – dít is waar hulle primêr bedien het en ook nie almal in die gemeente het gekwalifiseer vir hierdie aalmoese nie – slegs diegene wie regtig daarvoor gekwalifiseer het – soos die weduwees wie niemand gehad het om hulle te versorg nie (1 Tim.5:3-6), maar daar was nog verdere kwalifikasies waaraan hierdie weduwees moes voldoen ~ ...’n Weduwee kan op die lys van dienende weduwees kom as sy minstens sestig jaar oud is en aan haar man getrou was. 10Sy moet bekend wees om haar goeie dade, naamlik dat sy haar kinders goed opgevoed het, vreemdelinge gehuisves het, die voete van die gelowiges gewas het, die verdruktes gehelp het en goed gedoen het waar sy kon. 11Jonger weduwees moet jy nie in die lys opneem nie... (1 Tim.5:9-11).
·           Ons prioriteit lê dus in die eerste plek by die gemeente, maar vanuit ons oorvloedige “ekstras” kan ons die bedelaars help op die voorwaardes en riglyne wat ek reeds gegee het.

       Wanneer ons oor hierdie saak nadink, moet ons Dawid se woorde in Ps.41:2-3 in gedagte hou ~ Welgeluksalig is hy wat ag gee op die arme; die Here sal hom red in die dag van onheil. Die Here sal hom bewaar en hom in die lewe hou; hy sal gelukkig gemaak word op die aarde. Ja, U kan hom nie oorgee aan die begeerte van sy vyande nie (OAV), maar hiermee saam ook, 1 Kor.13:3 ~ Al deel ek al wat ek het aan ander uit, en al gee ek my liggaam prys om my daarop te kan beroem, maar ek het geen liefde nie, baat dit my niks.

       Ons moet baie dink en bid oor hierdie saak en vir wysheid en onderskeiding vra; ons moet ons harte ondersoek en vasstel of ons huiwering om te gee, voortspruit uit selfsug of nie, maar ons moet ook vasstel of ons vrygewigheid nie gedryf word deur skuldgevoelens en/of ’n soeke na erkenning en seën nie – werke m.a.w.


       Laastens moet elkeen van ons dit vir onsself voor die Here uitmaak wat ons te doen staan wanneer ons gekonfronteer word deur ’n bedelaar en nie kyk wat die ander een doen nie.

Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Sondag 01 Junie 2014

Sunday, 8 June 2014

Die Heilige Gees (Sy Funksie)

1.    SKRIFLESING:
       Hand.2:1-4 ~ Toe die dag van die pinksterfees aanbreek, was hulle almal op een plek bymekaar. 2Skielik was daar ’n geluid uit die hemel soos van ’n geweldige stormwind, en dit het die hele vertrek gevul waar hulle gesit het. 3Hulle het iets soos vuur gesien wat in tonge verdeel en op elkeen van hulle gekom het. 4Almal is met die Heilige Gees vervul en hulle het in ander tale begin praat soos die Heilige Gees dit aan hulle gegee het om onder sy leiding te doen.

2.    INLEIDING:
       Vandag staan op die Christelike kalender bekend as Pinksterdag – die dag waarop ons die uitstorting van die Heilige Gees gedenk en ek het dit goed gedink om kortliks te kyk na wat die funksie van die Heilige Gees is, want wanneer ʼn mens ook al na die gawes van die Gees wil kyk of daaroor wil praat, móét ʼn mens eers kyk na die funksie van die Heilige Gees. Ek wil julle ook waarsku dat ons vanoggend hoofsaaklik die Skrif gaan toelaat om die “praatwerk” te doen.

       Baie mense dink dat die Heilige Gees die eerste keer na die wêreld gekom het, tydens Pinksterdag, maar dit is nie heeltemal die geval nie.

       Ons vind talle bedieninge of funksies van die Heilige Gees in die Woord, waarvan verskeie reeds in die Ou Testament voorkom.

3.    DIE HEILIGE GEES SE FUNKSIE:
Kom ons noem net enkele van hierdie bedieninge kortliks.

·         Die Heelal:
Ons sien in Ps. 19:2 dat die Vader die heelal en alles daarin, geskape het: Die hemel getuig van die mag van God, die uitspansel maak die werk van sy hande bekend. Daarenteen sien ons dat Johannes sê dat Christus die heelal geskape het ~ Alles het deur Hom tot stand gekom: ja, nie ’n enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie. 4In Hom was daar lewe, en dié lewe was die lig vir die mense (Joh. 1:3-4).

       In ander verse sien ons weer dat die Heilige Gees die Skepper is, bv. Ps. 104:30 ~ U stuur u Gees uit, hulle word geskape; en U maak die gelaat van die aarde nuut (OAV).

       Wat moet ons nou glo t.o.v. die skepping? Die antwoord is natuurlik baie eenvoudig, nl. dat al drie persone van de Drie-Eenheid betrokke was by die Skepping, en daarom was die Heilige Gees ook betrokke by die Skepping. Hier kan ons ook kyk na Job 33:4 ~ Die Gees van God het my gemaak,  die asem van die Almagtige het my die lewe gegee (“asem” hier, weet ons, is ʼn ander benaming vir die Heilige Gees – tog jammer dat die vertalers nie tog maar by “Gees” gehou het nie).

·        Sy bediening t.o.v. lewe
Terwyl die “voor-sondegevalle” Adam geleef het, het hy oor die Heilige beskik ~ Toe sê die Here: “My Gees sal nie meer so lank in die mens bly nie, want hy is sterflik. Sy lewensduur sal nou honderd en twintig jaar wees” (Gen.6:3).

·         Die Woord:
Die tweede funksie van die Heilige Gees is t.o.v. die Woord. Die Heilige Gees is die Outeur van die Woord van God en Hy het drie basiese wyses gekies in die voorbereiding en ontvangs van die Woord en dit is as volg:
-      Openbaring: Die Woord is deur nagenoeg 40 mense geskryf en hulle het dit gedoen onder leiding van die Gees en wel d.m.v. openbaring.
-      Inspirasie: Inspirasie was die wyse waarop die Gees by wyse van spreke, die skrywers van die Bybel se penne gelei het om te skryf en wel tot so ʼn mate, dat daar net geskryf was wat God wou hê daar geskryf moes word – niks meer en niks minder nie.
-      Verligting: Verligting geskied wanneer die Heilige Gees, die gelese, of gepredikte Woord neem en dit “oop maak” vir die leser/luisteraar, sodat hy dit verstaan en deel maak van hom.

       Kom ons kyk na enkele teksverse ter ondersteuning hiervan:
       Ons het gesê dat die Heilige Gees die Outeur van die Woord is – 2 Sam. 23:2 ~ Die Gees van die Here het deur my gepraat, ja, sy woord was op my lippe.

Jes. 59:21 ~ Wat My betref, sê die Here, dit is my verbond met die volk: my Gees wat op jou is en my woorde wat ek in jou mond lê, sal nie uit jou mond en uit die mond van jou kinders en jou kindskinders verdwyn nie, sê die Here, nie nou nie en nooit nie.

Jer. 1:9 ~ Hy het sy hand uitgesteek, my mond aangeraak en vir my gesê: Ek het nou my woorde in jou mond gelê.

2 Pet.1:21 ~ ...want geen profesie is ooit deur die wil van ’n mens voortgebring nie. Nee, deur die Heilige Gees meegevoer, het mense die woord wat van God kom, verkondig.

2 Tim. 3:15-17 ~ en jy ken van kleins af die heilige Skrif. Dit kan jou die kennis bybring wat tot verlossing lei deur die geloof in Christus Jesus. 16Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ’n regte lewenswyse te kweek, 17sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk.

·         Die Gees se funksie t.o.v Israel:
       Nie minder nie as 16 van Israel se leiers het die salwing van die Heilige Gees ervaar. Die Gees het dus Ou Testamentiese leiers van Israel, bekragtig. So sien ons dat Josef bekragtig is ~ Toe sê die farao vir sy amptenare: “Waar kry ons so iemand, ’n man met die verstand van ’n god?” Die farao het daarop vir Josef gesê: “God het jou dit alles bekend gemaak. Daaruit is dit duidelik dat niemand soveel verstand en wysheid as jy het nie. Ek stel jou aan oor my paleis (Gen. 41:38-40).

       Kom ons kyk na Moses ~ Ek sal dan afkom en daar met jou praat, en Ek sal van die Gees wat op jou is, op hulle laat kom. Hulle sal dan saam met jou die verantwoordelikheid vir die volk dra, sodat jy dit nie alleen hoef te doen nie (Num. 11:17).

       So was daar dan ook – en ek noem hulle net vlugtig vir u:
Josua (Num. 27:18); Otniël (Rigters 3:10); Gideon (Rigters 6:34); Jefta (Rigters 11:29); Simson (Rigters 14:6, 19; 15:14-15); Saul (1 Sam. 10:10).

       In teenstelling met Saul, het die Heilige Gees Hom nooit van Dawid onttrek nie ~ Samuel het die horing met olie gevat en hom voor sy broers gesalf. Die Gees van die Here het van daardie dag af kragtig in Dawid gewerk. Daarna het Samuel klaargemaak en na Rama toe teruggegaan (1 Sam. 16:13).

       Dan kry ons nog verder vir Elia (1 Kon. 18:12, 2 Kon. 2:16); Elisa (2 Kon. 2:15); Esegiël (Eseg. 2:2); Daniël (Dan. 5:11); Miga (Miga 3:8); Asarja (2 Kron. 15:1); Sagaria (2 Kron. 24:20).

       Ook het die Heilige Gees op Israel se ouderlinge gerus ~ Die Here het toe in die wolk afgekom, met Moses gepraat en ’n deel van die Gees wat op Moses was, op die sewentig laat kom. Toe die Gees op hulle kom, het hulle as profete begin optree, maar daarna nie meer nie (Num. 11:25). Die Heilige Gees het die Tabernakel oordek (Eks. 40:34), Hy het Israel se Tempel gevul (1 Kon. 8:10). Hy het die volk Israel deur die woestyn gelei (Neh. 9:20; Jes. 63:10).

·         Die duiwel:
       Die Heilige Gees tree op as stuwal om die satan se volle impak teë te hou, asook die sonde wat ons daagliks teister ~ Van oos tot wes sal die Naam en die mag van die Here geëer word. Wanneer die teëstander aanstorm soos ’n rivier, jaag die Gees van die Here hom op loop (Jes. 59:19 – sien ook: 2 Tes. 2:7-14).

·         Die Gees se funksie t.o.v. die Verlosser:
       Die Here Jesus Christus is van die oomblik van “konsepsie” tot en met Sy hemelvaart, deur die Heilige Gees gelei.

-      Die Redder is verwek deur die Heilige Gees ~ Die engel antwoord haar: “Die Heilige Gees sal oor jou kom, en die krag van die Allerhoogste sal die lewe in jou wek. Daarom sal die een wat gebore word, heilig genoem word, die Seun van God (Luk. 1:35).

-      Christus is deur die Heilige Gees gesalf ~ Julle weet van Jesus van Nasaret, dat God Hom met die Heilige Gees gesalf en met krag toegerus het (Hand. 10:38).

-      Die Heilige Gees bemagtig Jesus ~ Julle moet nie werk vir die voedsel wat vergaan nie, maar vir die voedsel wat nie vergaan nie en wat ewige lewe gee. Dit sal die Seun van die mens vir julle gee, want God die Vader het Hom die mag daartoe verleen (Joh. 6:27).

-      Jesus word gelei deur die Heilige Gees ~ Toe is Jesus deur die Gees die woestyn in gelei om deur die duiwel versoek te word (Matt 4:1).

-   Die Gees bekragtig Christus ~ Aangesien Ek deur die Gees van God die bose geeste uitdryf, het die koninkryk van God inderdaad tot by julle gekom (Matt 12:28).

-      Ons Verlosser was vervul met die Gees ~ Jesus het vol van die Heilige Gees van die Jordaan af teruggekom, en deur die Gees is Hy na die woestyn toe gelei (Luk. 4:1).

-      Jesus het in die Gees, emosies ervaar – Hy het hartseer geword ~ Toe Jesus sien dat Maria huil en dat die Jode wat saam met haar gekom het, ook huil, het sy gemoed vol geskiet en was Hy aangedaan (Joh. 11:3). Jesus het Hom in die Gees verbly ~ By daardie selfde geleentheid het Jesus deur die Heilige Gees dit uitgejubel (Luk. 10:21).

-      Christus offer Homself deur die Gees ~ Hiervoor het Christus immers Homself as volkome offer deur die ewige Gees aan God geoffer (Heb. 9:14b).

-      Die Gees wek Christus op uit die dood ~ Ook Christus het een maal vir die sondes gely, die onskuldige vir die skuldiges, om julle na God te bring, Christus wat as mens doodgemaak is, maar deur die Gees lewend gemaak is (1 Petrus 3:18).

-      Christus gee opdragte aan Sy dissipels deur die Gees ~ Voordat Hy in die hemel opgeneem is, het Hy deur die Heilige Gees bevele gegee aan die manne wat Hy as apostels uitgekies het (Hand. 1:2).

-      Christus gaan weer kom en die dooies opwek uit die dood ~ Omdat die Gees van Hom deur wie Jesus uit die dood opgewek is, in julle woon, sal Hy deur wie Christus uit die dood opgewek is, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon (Rom. 8:11).

       Uit dit wat ons tot nou gesien het t.o.v. die Heilige Gees se bediening aan die Verlosser, behoort dit baie duidelik te wees dat indien Christus so afhanklik van die Gees was, hoeveel te meer, moet ons nie van Hom afhanklik wees nie!

·         Gawes en vaardighede aan mense:
       Die Heilige Gees verskaf besondere gawes aan die mens ~ Ek het hom toegerus met my Gees sodat hy met vaardigheid, insig en verstand enige werk kan doen (Eks.31:3).

·         Die sondaar:
       Die Heilige Gees oortuig die sondaar van ʼn paar dinge:
-      Van sonde: Die vraag is van watter sonde oortuig die Heilige Gees ons?  ~ Wie in Hom glo, word nie veroordeel nie; wie nie glo nie, is reeds veroordeel omdat hy nie in die enigste Seun van God glo nie (Joh. 3:18). Ons sien derhalwe hier, dat Hy ons nie in die eerste plek oortuig van sonde soos steel, lelik praat ens. nie – nee, Hy oortuig ons primêr daarvan, dat ons Christus se offer op Golgota verwerp – dit is natuurlik dié uitnemende sonde wat skeiding tussen mens en God bring.

       Daar is verskeie Skrifgedeeltes wat vir ons baie duidelik wys op die Heilige Gees se oortuigingswerk – ons sien dit bv. met die mense op Pinksterdag na Petrus se preek en dan lees ons hierdie woorde in Hand.2:41 ~ Dié wat sy woorde aangeneem het, is gedoop, en omtrent drie duisend mense is op daardie dag by die getal van die gelowiges gevoeg (Hand. 2:18); die Etiopiese Koopman (Hand. 8:29-38); Saulus van Tarsus (Hand. 9:1-6); die tronkbewaarder in Filippi (Hand. 16:25-34); Felix die Goewerneur (Hand. 24:24-25) en koning Agrippa (Hand. 26:23-28).

-      Hy oortuig ons van Christus se geregtigheid. Die Heilige Gees het die Apostel Paulus gelei om ʼn hele Sendbrief te wy aan die woord “geregtigheid”. In hierdie Sendbrief (Romeine) beklemtoon Paulus, drie dinge:
o   God ís geregtigheid;
o   God vereis geregtigheid;
o   God voorsien geregtigheid.

-      Die Heilige Gees oortuig van die toekomstige oordeel. Hier kan ons o.a. kyk na Joh. 8:44; Rom. 16:20 en Matt. 25:41.

·         Die Kerk:
-      Hy rig die Kerk op ~ Julle is dus nie meer ver van God af nie, nie bywoners nie, maar mede-burgers van die gelowiges en lede van die huisgesin van God. 20Julle is ’n gebou wat opgerig is op die fondament van die apostels en die profete, ’n gebou waarvan Christus Jesus self die hoeksteen is. 21In Hom sluit die hele gebou saam en verrys dit tot ’n heilige tempel vir die Here, 22in wie julle ook saam opgebou word as ’n geestelike huis waarin God woon (Ef. 2:19-22).

-      Hy is betrokke by die plaaslike Kerk. Kom ons kyk kortliks na areas in die Plaaslike Kerk waar Hy betrokke is:
o    Hy begeer om die aanbiddingsdiens te inspireer ~ Ons het die ware besnydenis, óns wat God deur sy Gees dien, óns wat ons op Christus Jesus beroem en nie op uiterlike dinge vertrou nie (Fil. 3:3). As beide leraar en lidmaat, die Heilige Gees toelaat, sal hulle die teenwoordigheid en krag van God tydens elke erediens ervaar.

o     Hy wil meewerk in elke gemeente se sendingaksie ~ Toe sê die Gees vir Filippus: “Gaan loop saam met daardie wa (Hand. 8:29 – sien ook Hand. 16:6-10).

o     Hy wil betrokke wees in die gemeente se sang ~ ...laat die Gees julle vervul, 19en sing onder mekaar psalms, lofgesange en ander geestelike liedere; sing met julle hele hart tot eer van die Here (Ef. 5:18-19).

o     Hy roep en wys die herders van gemeentes aan ~ Pas julle self op en die hele kudde wat die Heilige Gees onder julle sorg gestel het. Soos wagters ’n kudde versorg, so moet julle die gemeente van God versorg wat Hy vir Hom verkry het deur die bloed van sy eie Seun (Hand. 20:28).

o     Hy salf die leraars ~ Die boodskap wat ek verkondig, het julle oortuig, nie deur geleerdheid en welsprekendheid nie, maar deur die kragtige werking van die Gees (1 Kor. 2:4).

o     Hy waarsku gelowiges ~ Die Gees sê uitdruklik dat in die eindtyd sommige afvallig sal word van die geloof. Hulle sal misleidende geeste navolg en die leerstellings van bose geeste aanhang (1 Tim. 4:1).

o     Hy veroordeel of seën die gemeente se werk ~ Elkeen wat kan hoor, moet luister na wat die Gees vir die gemeentes sê.... (Openb. 2:7, 11, 17, 29).

·        Pinksterdag:
       Van al die belangrike geestelike gebeurtenisse deur die geskiedenis van die kerk, was Pinksterdag sekerlik dié mees opspraakwekkende en belangrikste dag. Op hierdie dag het die Heilige Gees Sy grootste en mees verrykende werk verrig, nl. die uitstorting van die Gees en die “lansering” van die Nuwe Testamentiese Kerk (Hand. 2).

·         Die gelowige:
       Ek wil ook hier hê dat ons net kortliks sal kyk na die Gees se betrokkenheid by die gelowige – ek noem enkeles:

-      Met ons wedergeboorte ontvang ons die Heilige Gees as gawe ~ Wat uit die mens gebore is, is mens; en wat uit die Gees gebore is, is gees (Joh.3:6 – sien Joh. 3:3-7).

-      Hy woon in die gelowige sondaar ~ As julle My liefhet, sal julle my opdragte uitvoer. 16Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle ’n ander Voorspraak stuur om vir ewig by julle te wees, 17naamlik die Gees van die waarheid. Die wêreld kan Hom nie ontvang nie, omdat hulle Hom nie sien en Hom nie ken nie. Maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees (Joh. 14:15-17 – sien ook 1 Kor. 2:12).

-      Hy is in ons harte gegee as waarborg van ons redding ~ God self het ons saam met julle op hierdie vaste grond gevestig: op Christus. God het ons vir Hom afgesonder, 22ons as sy eiendom beseël en die Heilige Gees in ons harte gegee as waarborg van wat ons nog sal ontvang (2 Kor. 1:21-22).

-      Hy vul die gelowige sondaar ~ Almal is met die Heilige Gees vervul (Hand. 2:4a).

-      Hy gee vreugde aan ons ~ Die koninkryk van God is nie ’n saak van eet en drink nie, maar van gehoorsaamheid aan God, vrede en vreugde, wat die Heilige Gees ons gee (Rom.14:17). Hieruit volg ʼn sesde funksie...

-      Die Gees bring lewe en vrede – ewige lewe en vrede met God ~ God het ons dan nou vrygespreek deurdat ons glo. Daarom is daar nou vrede tussen ons en God deur ons Here Jesus Christus (Rom.5:1).

       Hierdie eerste ses funksies van die Heilige Gees t.o.v. die gelowige, vind onmiddellik met wedergeboorte plaas. Al ses vind ook plaas na aanleiding van die gelowige se geloof en is hoegenaamd nie afhanklik van jou emosies nie en ons kan nie daarom vra nie.

       Die gelowige kan hierdie funksies van die Gees, nooit “verloor” nie, maar die sewende funksie kan wel verloor word en daarom moet ons telkens daarom vra.

-      Daar is egter ʼn sewende funksie – Ek het gesê dat ons met en deur wedergeboorte, vrede met God ervaar, maar ons ervaar ook die vrede van God wat deur die Heilige Gees in stand gehou word ~ En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus (Fil.4:7).

Ons kan hierdie funksie, nl. die vrede van God wel verloor en as volg uitbeeld:


Ons weet ook nou al teen hierdie tyd, dat ons die sewende funksie, nl. die “vrede van God” dadelik terug kan kry, deur opregte sondebelydenis én bekering ~ Maar as ons in die lig lewe soos Hy in die lig is, het ons met mekaar deel aan dieselfde gemeenskap en reinig die bloed van Jesus, sy Seun, ons van elke sonde. 9Maar as ons ons sondes bely—Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid (1 Joh. 1:7,9).

Nog verdere funksies van die Heilige Gees, is ook dat Hy:
-      ...voortdurend vir ons intree by die Vader ~ Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie (Rom. 8:26).

-      ...ons lei as gelowiges ~ Almal wat hulle deur die Gees van
 God laat lei, is kinders van God (Rom. 8:14).

-      ...ons leer ~ Wat júlle egter betref, die Gees waarmee Hy julle gesalf het, bly in julle, en julle het niemand anders nodig om julle te leer nie (1 Joh. 2:27).

-      ...gelowiges bekragtig ~ Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom... (Hand. 1:8).

-      ...skenk die liefde van Jesus Christus aan gelowiges ~ ...en dié hoop beskaam nie, want God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het (Rom. 5:5).

-      ...verander gelowiges na die beeld van Christus ~ ... Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word. Die heerlikheid wat van ons uitstraal, neem steeds toe. Dit doen die Here wat die Gees is (2 Kor. 3:18).

-      ...versterk ons geloof ~ Julle, geliefdes, moet egter voortgaan om julle lewe te bou op julle allerheiligste geloof. Bid altyd deur die krag van die Heilige Gees (Judas 20).

-      ...openbaar Bybelse waarhede aan gelowiges ~ Aan ons dan het God dit deur die Gees bekend gemaak, want die Gees deursoek alle dinge, ook die diepste geheimenisse van God (1 Kor. 2:10).

-      ...verskaf sekerheid van geloof en wedergeboorte ~ Hierdie Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is (Rom. 8:16).

-      ...verskaf vryheid aan gelowiges ~ ...waar die Gees van die Here is, is daar vryheid (2 Kor. 3:17).

-      ...maak getuies van ons as gelowiges ~ En ons is getuies hiervan, ons en die Heilige Gees wat deur God gegee is aan dié wat aan Hom gehoorsaam is (Hand. 5:32).

4.    AFSLUITING:
Ons kan sien watter geweldig belangrike rol speel die Heilige Gees in die lewe van die gelowige, asook die lewe van die Liggaam van Christus en daarom moet ons onsself afvra, of ons regtig die regmatige plek vir die Heilige Gees in ons lewens en in die lewe van ons gemeente gee?


Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Sondag 08 Junie2014