Saturday, 26 July 2014

Habakuk, ʼn Profeet met ʼn boodskap vir ons – 01 (“Sy eerste Beswaarskrif aan God”)

1.     INLEIDING:
       Twee dekades gelede het die Blankes in Suid-Afrika (nee, dit is polities- en Bybels nie korrek om so te praat nie) – het die wittes in Suid-Afrika uit die Ou-Suid-Afrika geemigreer. Of ons nou “ja” of “nee”, of glad nie gestem het nie, ons is almal deur politici aan beide kante van die politieke spektrum tot ʼn mindere of meerdere mate mislei. Dalk het hulle dit ter goedertrou gedoen, omdat hulle ook maar nie regtig geweet het wat die uiteinde sou wees nie – feit is egter dat die witte in Suid-Afrika homself vandag eensaam en geïsoleerd voel; afgestomp; vreemdelinge in ʼn vreemde land en ʼn “bedreigde spesie”. Hulle (ons) voel soos mense op ʼn skip iewers op die groot wye oseaan. Die probleem is egter dat ons al lankal nie meer op die wye oop oseaan is nie, maar stewig vasgeanker in ʼn nuwe land – ʼn land waarheen ons moet immigreer, indien ons dit nog nie gedoen het nie. Hierdie nuwe land moet ons nuwe vaderland word en dit word die Nuwe Suid-Afrika genoem. Indien ons nie immigreer nie gaan ons vergaan net soos mense wat op ʼn reddingsbootjie vir ʼn baie lang tyd op die oseaan sonder brandstof of seile ronddopper. Ter wille van oorlewing het ons derhalwe geen keuse nie as om óf te emigreer na ʼn ánder land (en bitter min van ons wittes wat nog hier in die Nuwe-Suid-Afrika aan wal gegaan het, kan dit bekostig, of sal toegelaat word in ʼn ander land), óf om van die skip af te klim, aan wal te gaan en volle burgers van hierdie nuwe vaderland te word.

       Nou is dit ook so dat ons nie baie tuis voel in hierdie nuwe vaderland nie, omdat hier dinge rondom ons gebeur waarvan ons nie hou nie; omdat hier dinge gebeur waarvan ons die rampspoedige einde reeds kan sien en ook is hier dinge aan die gang waarmee die Here nie tevrede kan wees nie. Wat meer is, dit voel baie dikwels asof die Here tjoepstil is oor wat besig is om met ons te gebeur, of is Hy juis betrokke en besig met die geskiedenis van hierdie land van ons?

       Wat staan ons egter te doen? Habakuk het nagenoeg 2600 jaar gelede vir ons ʼn boodskap geskryf waarna ons móét kyk en wat ons kan help.

2.     AGTERGROND:
       Behalwe vir Habakuk se naam, wat uit die Hebreeus stam en wat “om vas te gryp”, of “om te omhels” beteken, beskik ons nie oor veel meer inligting t.o.v. hierdie man nie. Ons weet wel dat hy een van die Klein Profete is, maar verder weet ons nie uit watter stam hy kom nie; oor wie sy familie was nie en wat sy verdere agtergrond was nie.

       In v.1 verwys hy na homself as “die profeet” en was hy waarskynlik ʼn voltydse profeet en die feit dat hierdie boek van hom opgeneem is in die kanon van die Woord impliseer dit dus dat sy boodskap, Goddelik geïnspireer was. Ons weet wel dat hy in Juda gebly het en waarskynlik in Jerusalem en dat hy ʼn tydgenoot van die profeet Jeremia was. Habakuk tree dus nagenoeg tussen die jare 612 tot 587 v.C. op as profeet en ons weet dit n.a.v. die situasie wat hy in hierdie kort boek beskryf, want hy het dit geskryf na die val van Nineve aan die hand van die Babiloniërs in 612 v.C. (soos deur Nahum geprofeteer) en voor die val van Jerusalem, ook deur die Babiloniërs in 587 v.C.

       Habakuk was deel van ʼn volk wat in die verlede ʼn geestelike herlewing beleef het – waar dit geestelik baie goed gegaan het, maar wat nou op hierdie stadium van sy optrede geestelik geweldig veragter het. Wat hom egter die meeste gepla het, was nie sy volk se geestelike verval nie, maar God se stilswye oor die situasie.

       Wat uniek t.o.v. Habakuk se profesie is, is dat hy, in teenstelling met ander profete, geen direkte boodskap van God aan die Judeërs of ons bring nie. Trouens, dit vertel vir ons wat Habakuk en God vir mekaar gesê het en dan uiteindelik wat die profeet se reaksie op hierdie tweegesprek was. Wat dit egter nog meer merkwaardig maak, is die oënskynlike klagte van die profeet se kant teenoor God se apatie terwyl Sy volk deur die meule gaan.

       Die boek kan basies verdeel word in twee klagtes of beswaarskrifte van Habakuk teenoor God (1:1-4 en 1:12-2:1); twee antwoorde van God (1:5-11 en 2:2-20) en laastens ʼn loflied van Habakuk teenoor God (3:1-19). Baie teoloë beskou hierdie laaste loflied as waarskynlik die mooiste geloofsverklaring van enige iemand in die ganse Ou Testament.

3.     SKRIFLESING:
     Hab.1:1-11 ~ ’n Uitspraak van die Here wat Hy aan die profeet Habakuk geopenbaar het. 2Hoe lank moet ek om hulp roep voordat U hoor, Here, moet ek by U bly kla oor geweld voordat U red? 3Waarom laat u my die onreg sien wat gedoen word, waarom kyk U toe as daar soveel ellende is? Oral rondom my is daar onderdrukking en geweld, en word daar getwis en gebaklei. 4Die wet het nie meer krag nie, en daar geskied nie meer reg nie. Slegte mense het die oorhand oor die goeies, en so word die reg verkrag. 5Die Here het geantwoord: Kyk na die ander nasies: julle sal verstom staan oor wat julle sien. Ek gaan nog tydens julle lewe iets doen wat julle nie sal glo as dit vir julle vertel word nie. 6Ek gaan die Galdeërs laat kom, die wrede, woeste nasie wat dwarsoor die aarde rondtrek om lande te verower wat nie hulle s’n is nie. 7Hulle is ’n nasie wat vrees en ontsag inboesem, hulle ken net een wet, een trots, hulle eie. 8Hulle perde is vinniger as luiperds, vuriger as honger wolwe. Hulle ruiters kom aan op ’n galop, hulle kom van ver af, hulle vlieg soos arende wat op hulle prooi neerskiet. 9Hulle hele leërmag kom om verwoesting te saai, hulle kom aangestorm soos die oostewind en maak krygsgevangenes bymekaar soos sand. 10Die Galdeërs dryf die spot met konings en lag maghebbers uit. Hulle lag oor al die vestingstede: hulle gooi grondwalle teen die stede op en neem hulle in. 11Dan jaag hulle verder, hulle trek verby soos die wind. Vir hierdie sondige nasie is sy eie mag sy god.

4.     DIE TITEL (v.1):
       V.1 word oor die algemeen beskou as die titel van die boek ~ ’n Uitspraak van die Here wat Hy aan die profeet Habakuk geopenbaar het. Die woord “uitspraak” wat hier in die NAV gebruik word, word in Engels vertaal met “oracle” en in die Hebreeus is dit מַשָּׂא [massaʾ /mas·saw/] en dit dui op ʼn swaar las wat op iemand gelê word. Habakuk wil dus deur hierdie opskrif vir ons sê, dat God, in Sy antwoorde op sy klagtes, ʼn baie swaar las op hom wat Habakuk is, se skouers gelê het.

5.     HABAKUK SE EERSTE BESWAARSKRIF (vv.2-4):
       In vv.2-4 lê Habakuk sy eerste klagte voor God en trek hy God se regverdigheid in twyfel. Wat baie interessant is, is dat Habakuk nie bang is om God te bevraagteken nie. Sulke optrede is egter nie ongewoon in die Ou Testament nie. Ons sien in Ps.22 dat Dawid dieselfde doen, wanneer hy uitroep ~ My God, my God, waarom het U my verlaat en bly U ver as ek om hulp roep? (v.1). Habakuk se kennis van God, nl. dat Hy ʼn regverdige God is, klop nie nou met sy ervaring nie, want Hy tree dan nie op nie. Daar heers anargie en geweld in sy land; misdaad vier hoogty, wreedheid is aan die orde van die dag; seksuele sondes was niks snaaks nie; onderdrukking vind plaas en soos hy dit stel, die reg word verkrag. Die Hebreeuse woord vir “reg” in hierdie geval is תֹּורָה [towrah, torah /to·raw/]Habakuk verwys dus hier na die “wet en die profete” – na God se Woord en Sy Wet. Die feit dat God se volk nie meer Sy Wet gehoorsaam nie, is een van Habakuk se grootste worstelinge.

·         Hoe lank nog Here? (v.2):
Habakuk roep uit tot God om hulp en verligting en hy vra in v.2: Hoe lank nog Here; hoe lank moet ek nog roep na U en vra vir hulp, sodat hier bekering en vrede kan kom, sodat die volk U weer sal dien? God is egter stil en die anargie en ongeregtigheid duur onverpoosd voort. Klink dit bekend? Dit laat ʼn mens dink aan die uitroepe van die gelowiges wat gesterf het vir hul geloof en wat in Openb.6:10 vermeld word – toe die Lam die vyfde seël oopmaak, het hulle uitgeroep ~ Hoe lank nog, heilige en getroue Heerser? Wanneer voltrek U die oordeel en wreek U ons dood op die bewoners van die aarde?

Nog ʼn interessante woord waarmee ons te doen kry in v.2, is “geweld” – die Hebreeuse woord hiervoor is חָמָס [chamac /khaw·mawce/] (“Hamas”), wat dui op voortdurende onderdrukking van die bose, asook die brutaliteit en aanvalle met die oog daarop om jou naaste te beseer of te dood. In meer algemene terme dui dit op ʼn ernstige oortreding van die morele wet en daarom is dit eties onaanvaarbaar.

·         Waarom Here? (v.3):
Habakuk se uitroep gaan dus oor hierdie wetteloosheid en ongeregtigheid wat God oënskynlik net toelaat, sonder dat Hy iets daaromtrent wil doen, trouens hy is amper reeds op ʼn plek waar hy begin twyfel of God enigsins oor die vermoë beskik om iets omtrent die situasie te kan doen! Hy vra aan God waarom Hy oënskynlik afwesig is en dit klink asof Habakuk wil sê: Wat help dit tog om te bid, want God hoor nie, trouens ek begin dink Hy kan niks aan die situasie doen nie – is Hy werklik soewerein?

·         Wetteloosheid (v.4):
       Habakuk sê in v.4, dat die wet wat veronderstel is om die krag te wees wat mense sal weerhou van wetteloosheid, “sy tande” verloor het. Hy het waarskynlik hier verwys na wat Moses in Eks.18:16 gesê het ~ As hulle in sake betrokke raak, kom hulle na my toe. Ek lewer dan uitspraak oor die geskille tussen hulle en maak terselfdertyd God se voorskrifte en wette aan hulle bekend. Hierdie voorskrifte en wette was God se verbondsreëls wat Hy deur Moses aan Israel gegee het, wat as basis vir orde gedien het – dit is in die besonder in Deuteronomium uiteengesit en het die morele, seremoniële en regterlike wette ingesluit.

6.     GOD SE ANTWOORD (vv.5-11):
       In vv.5-11 reageer God “uiteindelik” op Habakuk se uitroepe en verwyte en die antwoord wat Hy gee is nie wat Habakuk of selfs ons sou verwag nie – Hy vertel nié vir die profeet hoe Hy die onderdrukkers gaan verwoes nie en die regverdiges gaan red nie, inteendeel!
       In die Here se antwoord sê Hy in v.5, vier dinge aan Habakuk:
-       Eerstens sê Hy aan hom dat Hy wel betrokke is en dat daar binnekort ʼn antwoord op Habakuk se gebede sal kom.
-        Tweedens sê Hy aan Habakuk dat Hy nog in sy (Habakuk) se lewe ʼn antwoord sal verskaf op sy pleidooie.
-        Derdens sê God dat Sy optrede só ingrypend sal wees, dat hy wat Habakuk is, nie sy oë sal kan glo nie.
-        Vierdens sê God iets wat Habakuk dalk nie sou wou hoor nie – Hy sê vir hom dat die Galdeërs (ook genoem die Babiloniërs) opgerig word as ʼn magtige nasie – ʼn nasie wat die ganse wêreldgeskiedenis ingrypend sou verander (v.6). Hy sê o.a. dus vir Habakuk, dat hy hom nie self moet blindstaar teen net sy eie klein kolletjie op die wêreldkaart nie, maar dat daar ʼn groter prentjie is waar God besig is, alhoewel dit uiteindelik ook ʼn impak op Habakuk en sy volk sou hê – trouens nie baie lank hierna nie en ook ingrypend en met tragiese gevolge – nog erger as wat Habakuk en die Judeërs nou ervaar!

       Hierdie was niks nuuts nie, want reeds in Jes.29:13-14 het God die volgende deur Sy profeet gesê ~ Die Here het gesê: Hierdie volk is naby My met die mond, hulle eer My met wat hulle sê, maar hulle hart is ver van My af, hulle dien My soos mense dit wil hê, nie soos Ek wil nie. 14Daarom gaan Ek nog ongehoorder dinge doen met hierdie volk: die een ongehoorde ding na die ander, sodat die wysheid van sy wyse manne sal verdwyn, die verstand van sy verstandige mense tot niet sal gaan.

       Die Galdeërs was op pad na Israel en ons weet dat hulle nie lank na Habakuk se worsteling met God, Juda binnegeval en Jerusalem beset het nie en in die proses is duisende Judeërs weggevoer na Babilon as slawe.

       Die Here gaan voort en beskryf in vv.7-11 wie en wat hierdie verskriklike nasie – die Galdeërs, werklik is. Hy sê o.a. dat hulle geen respek het vir ander nasies en hul wette nie, want net hul wet geld. Hy beskryf o.a. ook hul weermag deur te sê dat hul perde vinniger as luiperds is en hul ruiters se akkuraatheid in hul gevegte is soos dié van ʼn arend wanneer hy sy klein prooi op ʼn hoë hoogte sien en steeds kan neerskiet op hom en hom in sy kloue gryp, nog voor die prooi onder die gras kan wegkruip.

       Meer nog, die Here sê vir Habakuk – Hy waarsku hom en sê vir hom, dat die Galdeërs op pad is om die Judeërs te verwoes en weg te voer as krygsgevangenes (v.9). Dit is asof die Here vir Habakuk sê: Habakuk, jy verkwalik My dat dit sleg gaan met jou ou volkie en dat ek nie na jou luister nie – daar wag egter nog groter ellende op hulle – kyk maar, dit gaan binnekort gebeur!

       Al was die Galdeërs ʼn goddelose nasie, trouens hulle was hulle eie god en daarom skuldig voor God – nie net omdat hulle hulself oorgegee het aan wetteloosheid en wreedaardigheid nie, maar omdat hulle hulself boonop gekroon het as hul eie god (v.11) en al was hulle dan in hul eie oë die “aller alles” het God juis hierdie sondige volk gebruik om die Judeërs te straf.

       Hierdie nuus moes vir Habakuk verwarrend gewees het. Dit was verstaanbaar dat die Judeërs gestraf moes word vir hul eie gruwelike sonde en skaamtelose rebellie, maar wat vir Habakuk onverstaanbaar was, was dat God ʼn nog boser volk sou gebruik om die Judeërs te straf – dit het net nie sin gemaak nie – was hulle straf nie te erg nie?

7.     TOEPASSING:
     Die boek Habakuk is nie ʼn maklike boek om te interpreteer nie. Waarom sou God vir ons ʼn boek gee waar Habakuk se volk se ondergang en straf die fokus van hierdie verhaal is? Ons weet ook nie eens hoe Habakuk aan die einde van sy lewe gekom het nie en of hy die ballingskap oorleef het nie – ja, al was hy ʼn profeet van God, het hy saam met sy volksgenote die volle geweld van die Galdeërs ervaar!

     Wat moet ons met hierdie gedeelte doen? Hoe is dit van toepassing op ons situasie vandag in Suid-Afrika? Is dit enigsins op ons van toepassing?

     Ons sien toenemend hoe die situasie rondom ons in chaos en bykans onregeerbaarheid verval – dink maar net aan die dreigende (nuwe) “Rooi gevaar” – die EFF se ongedissiplineerde wetlose jongelinge en hul revolusionêre uitsprake – hoor net wat het Malema gister op die EFF se eerste verjaarsdagvieringe gesê: the party is an international organisation and that more parties would emerge in other countries. “Children of Africa, freedom is coming. We have not tasted freedom. Freedom will come with the coming revolution...we will liberate the world (The Mail & Guardian). Die EFF kan soos wat in baie ander lande gebeur het, ook hierdie land in ʼn burgeroorlog dompel. In hoeveel Europese en Oos-Europese lande het die juig nie juis net dit bewerkstellig nie? Sommer net nou die dag het dit in Egipte en omliggende Noord-Afrikaanse lande gebeur.

     Die situasie in ons land (en die res van die wêreld) is niks anders as ongeveer 2600 jaar gelede in Habakuk se tyd nie en daarom is en moet hier lesse te leer wees vir ons in ons dag. As ons maar net na Habakuk self kyk kan ons een of twee dinge leer en wat ons in ons situasie nie moet vergeet nie:
-     Habakuk was eerlik teenoor God – hy het nie doekies omgedraai nie (net soos Job – Job 30, 31). Die Psalmskrywers het dit gedoen en so ook Jesus – en hulle het dit almal gedoen sonder om skuldig na die tyd te voel. Ons moet ook die vrymoedigheid neem, om ons harte oop te maak teenoor die Here, maar ons moet egter onthou dat ons, net soos Habakuk e.a., dit steeds met die grootste agting en respek doen, maar dóén dit net.
-     Habakuk het geleer dat God sonde nie ongestraf laat bly nie en dat ons nie God se oordeel of besluite oor hoe en wanneer en wie Hy straf in twyfel moet trek nie.
-     Al was Habakuk ʼn profeet van God, het hy saam met sy volksgenote die volle geweld van die Galdeërs ervaar (en so ook al die ander “Torah-gehoorsame” Judeërs) en is hulle nie uitgered en gespaar van die ellende soos die vroeë Christene rondom 70 n.C. wat uit Jerusalem weggeneem is na Pela toe, toe die Romeine Jerusalem en die Tempel verwoes het nie, maar God sou Habakuk en die ander gelowiges deur hierdie beproewing dra – net soos vir Daniël en sy vriende en hierin lê daar geweldige troos en bemoediging vir ons as gelowiges – ten spyte van wat die toekoms ook al inhou en te midde van ʼn geweldgeteisterde land, sal die Here ons ook dra!

     Wanneer ons na die groter prentjie kyk – na die profesie self, sien nog ʼn paar dinge wat ons kan leer:
-     Ons moet besef dat die wêreld se geskiedenis (al lyk dit hoe duister), steeds onder God se beheer is. Ons sien dit in Sy reaksie teenoor Habakuk wanneer Hy in vv.5-6 sê ~ Ek gaan nog tydens julle lewe iets doen... Ek gaan die Galdeërs laat kom. God is in beheer – Hy is altyd in beheer, al lyk dit nie altyd vir ons so nie. Dink maar net terug aan nét 25 jaar gelede – na 72 jaar se kommunisme en lande wat gebuk gegaan het onder Russiese en Kommunistiese onderdrukking; gelowiges wat gesterf het vir hulle geloof, ens. val die Berlynmuur op 9 November 1989 en verander die wêreld oornag – God is inderdaad in beheer!
-     Nog iets wat belangrik is om te besef, is dat die wêreld se geskiedenis nie “per ongeluk” plaasvind nie, al mag dit vir ons so voorkom. Ons moet nooit vergeet dat die Kerk van die Here Jesus Christus, altyd sentraal staan in God se plan en daarom kan en mag ons nooit agteroor sit met ʼn gesindheid van “laat gods water maar oor godsakker loop” nie – ons moet aktief bid – bid soos Habakuk, dat God verandering en vrede sal bring, maar dat ons dit ook sal aanvaar wanneer God die Kerk tugtig, ten einde die Kerk te suiwer – is dit nie juis wat op die oomblik in ons land aan die gang is nie en dalk nog erger gaan word?
-     Geskiedenis volg derdens ʼn Goddelike tydskedule. Ons sal hierdie feit regdeur Habakuk sien ontplooi – God sê vir Habakuk in vv.5-6 dat Hy nog in hulle leeftyd iets gaan doen omtrent die situasie – nie dalk, of Hy weet nie – Hy weet presies wanneer en daarom moet ons ontspan en rus in God se soewereiniteit en weet dat gebeure in ons land en in die wêreld gekoppel is aan ʼn Goddelike tydskedule.
-     Laastens moet ons besef dat die sleutel tot die wêreld se geskiedenis, die Koninkryk van God is. Met enige gebeure in die wêreld, moet ons onsself afvra wat die relevansie of betekenis daarvan vir die Koninkryk van God is en moet ons nie angsbevange raak nie, want God is in beheer – selfs al moet ons dalk in die proses, die “hoogste prys” betaal. Indien ons hierdie vraag nie altyd kan beantwoord nie, moet ons aanvaar – nee, weet dat God wel ʼn plan daarmee het en dat ons daarin kan rus dat ons (die van ons wie Sy kinders is) steeds deur Hom gedra sal word – ons moet net steeds saam met Dawid glo en sê ~ Die Here is my lig en my redder, vir wie sou ek bang wees? Die Here is my toevlug, vir wie sou ek vrees? (gaan lees gerus die volledige Psalm).

     Wanneer ons gebeure rondom ons op hierdie wyse hanteer, volg ons Jesus se raad wat Hy aan Sy dissipels gegee het in Matt.24:4-6 ~ Jesus antwoord hulle: “Pas op dat niemand julle mislei nie. 5Baie sal onder my Naam kom en sê: ‘Ek is die Christus,’ en hulle sal baie mense mislei. 6Julle sal die rumoer van oorloë en gerugte van oorloë hoor. Pas op, moenie verskrik word nie. Dit moet kom, maar dit is nog nie die einde nie.


     In hierdie eerste elf verse van Habakuk, sien ons ook die Evangelie van Jesus Christus baie duidelik, want hier is kort-kort verwysings na geregtigheid en genade, van wysheid en Goddelike voorsiening. Waar dit vir baie eeue voorgekom het asof God afwesig was in die geskiedenis van die Judeërs, het Hyself uiteindelik in die volheid van die tyd, deur die Persoon en werk van Sy Seun, Jesus Christus wat vlees geword het, geregtigheid en genade gebring vir almal wat in Hom glo, want aan die kruis het Jesus die volmaakte offer gebring sodat ons  regverdigmaking kon ontvang – elkeen wat in Hom glo en Hom navolg as Verlosser en Saligmaker en elkeen wat onvoorwaardelik in Hom glo, se sonde sal vergewe word en sal hy gered word ~ Maar nou het die vryspraak deur God waarvan die wet en die profete getuig, in werking getree. Dit is die vryspraak wat nie verkry word deur die wet te onderhou nie, 22maar deur in Jesus Christus te glo. God gee dit sonder onderskeid aan almal wat glo. 23Almal het gesondig, en het nie deel aan die heerlikheid van God nie, 24maar hulle word, sonder dat hulle dit verdien, op grond van sy genade vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus Christus. 25–26Hom het God gegee as offer wat deur sy bloed versoening bewerk het vir dié wat glo. Hierdeur het God getoon wat sy vryspraak behels: Hy het die sondes wat Hy voorheen in sy verdraagsaamheid tydelik ongestraf laat bly het, vergewe. Maar Hy het ook getoon wat sy vryspraak in die teenswoordige tyd behels: Hy oordeel regverdig deurdat Hy elkeen vryspreek wat in Jesus glo (Rom.3:21-26).

Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Sondag 27 Julie 2014

Saturday, 19 July 2014

Die Brief aan die Hebreërs – 34 (“Algemene riglyne vir ’n lewe as Gelowige – 03”)

1.     INLEIDING:
       In hierdie laaste hoofstuk van die Hebreërbrief, spreek die skrywer vir ons enkele riglyne vir ʼn lewe van ʼn gelowige aan. Tydens die twee vorige geleenthede het ons gesien dat hy geskryf het oor ons verhouding teenoor medegelowiges en dan spesifiek t.o.v. ons liefde vir ons broers, gasvryheid, ons optrede teenoor medegelowiges wat vir hul geloof in die tronk is, die huwelik, tevredenheid of te wel vergenoegdheid en ook volharding in die geloof.

       In hierdie derde en laaste gedeelte van die skrywer se persoonlike raad aan ons as gelowiges, spreek hy ons optrede t.o.v. God aan, asook enkele ander opdragte.

2.     SKRIFLESING:
                 Hebr.13:10-25 ~ Ons het ’n altaar waarvan dié wat nog die offerdiens volgens die ou orde verrig, nie die reg het om te eet nie. 11Die bloed van die offerdiere word deur die hoëpriester in die heiligdom ingebring vir die sonde, maar hulle liggame word buitekant die laer verbrand. 12Daarom het Jesus ook buitekant die stadspoort gely om die volk deur sy eie bloed van hulle sonde te reinig. 13Laat ons dan nou uitgaan na Hom toe buitekant die laer en die smaad dra wat Hy gedra het, 14want ons het in hierdie wêreld geen vaste verblyfplek nie, ons is op soek na die toekomstige. 15Laat ons dan onophoudelik deur Jesus aan God ’n offer van lof bring, dié lof wat aan Hom gebring word deur die lippe wat sy Naam bely. 16Moenie nalaat om goed te doen en mededeelsaam te wees nie, want dít is die offers wat vir God aanneemlik is. 17Julle voorgangers hou wag oor julle lewe en moet aan God rekenskap gee. Wees gehoorsaam en onderdanig aan hulle, want dan sal hulle hulle werk met vreugde kan doen en nie kla nie; anders het dit vir julle geen nut nie. 18Hou aan om vir ons te bid, want ons is daarvan oortuig dat ons gewete skoon is, omdat ons in elke opsig probeer doen wat reg is. 19Veral dring ek by julle daarop aan om te bid dat God my gou na julle toe sal laat terugkom.
Gebed vir die lesers
20God wat vrede gee, het ons Here Jesus wat deur die bloed van die ewige ver3bond die groot Herder van sy kudde is, uit die dood teruggebring. 21Mag dié God julle toerus met alles wat goed is, sodat julle sy wil kan doen. Mag Hy deur Jesus Christus in ons tot stand bring wat vir Hom aanneemlik is. Aan Hom behoort die heerlikheid tot in alle ewigheid! Amen.
Laaste versoek en groete
22Broers, dit is my dringende versoek: julle moet geduldig na hierdie woorde luister waarmee ek julle bemoedig het, al het ek dit net kortliks aan julle geskrywe. 23Julle weet seker al dat ons broer Timoteus vrygelaat is. As hy gou genoeg kom, bring ek hom saam wanneer ek julle besoek. 24Groete aan al julle voorgangers en aan al die gelowiges. Dié wat van Italië afkomstig is, stuur ook vir julle groete. 25Die genade van God sal by julle almal wees!

3.     ONS ALTAAR (v.10-14):
       Onder sekere van die Mosaïese Wette was die priesters toegelaat om van die offervleis, of graanoffers te eet (Lev.7), maar dan was daar ook ander offerandes waarvan die priesters niks mag geëet het nie. Een so ʼn offer was die sondeoffer soos omskryf in Lev.4 en Lev.16, waar die priester ʼn gebreklose bul moes slag en van die bloed sewe maal teen die voorhangsel in die Tent van Ontmoeting moes sprinkel. Die res van die bloed moes teen die fondament van die offeraltaar gegooi word; die vet om die binnegoed word op die altaar verbrand, terwyl die res van die bul (binnegoed, vleis, bene, pensmis, ens.) buite die kamp op ʼn houtvuur op die ashoop verbrand word, ens.

       Dit is baie duidelik dat die Hebreërskrywer met sy skrywe hier, presies daardie ritueel van die sondeoffers in gedagte het. Ons het egter vroeër in hoofstukke 9 en 10 gesien dat die apostel die lyn deur getrek het van die seremoniële wette na die offer wat Christus gebring het op Golgota en dat hierdie Ou
Testamentiese offers hul vervulling in Christus Jesus gevind het, deurdat Jesus die volmaakte en finale offer gebring het en weer opgestaan het uit die dood en opgevaar het na die hemel, ten einde die weg te open na die ewige heerlikheid vir almal wat in Hom glo en in Hom uitverkies is.

       Wat wil die apostel dus sê as hy in v.10, 11 sê dat ons ʼn altaar het? Die vroeë Christene aan wie hierdie brief gerig was, het waarskynlik gevoel dat die Christelike geloof afsteek by die Judaïsme omdat die Judaïste ʼn altaar gehad het, maar die gelowiges nie en daarom sê die skrywer vir hulle dat hulle wel ʼn altaar het, nl. die kruis waaraan Jesus Sy finale en volmaakte offer gebring het, trouens hy gaan verder en sê dat die priesters nie deel mag hê aan die sondeoffer en daarvan eet nie, maar óns mag wel, want ons het deel aan Christus se offer ~ Laat julle as lewende stene opbou tot ’n geestelike huis, om ’n heilige priesterdom te wees en geestelike offers te bring wat deur Jesus Christus vir God welgevallig is (1 Pet.2:5).

       Die apostel wil dus ook vir sy lesers sê dat hulle nie so moet fokus op die rituele nie, maar op die feit dat God in hul harte werk. Ons moet dus nie allerlei uiterlike gebruike en tradisies aanhang nie, maar ons moet let op ons hartsgesindheid en ingesteldheid. Wat gaan ten diepste aan in ons geestelike lewe; groei ons in ons heiligmaking en in ons liefde vir Christus en ons naaste; neem ons kennis van die Woord toe en weerstaan ons versoeking al beter en beter – dít is die dinge waaroor ons besorg moet wees en nie allerlei uiterlike dinge nie.

       Wat verder opmerklik is, is die feit dat die Hebreërskrywer die feit in v.12 vermeld, dat Jesus buite Jerusalem gekruisig is – waarom is dit so belangrik om dit te noem? Behalwe vir die feit dat alle misdadigers in die oë van die Jode buite die stad gekruisig moes word, het dit besondere waarde vir ons as gelowiges, want eerstens is dit gedoen om daardeur die breuk tussen die Judaïsme en die Christelike geloof op tasbare wyse te illustreer – Christus distansieer Hom van al die dooie Levitiese rituele wat binne in daardie stad aan die gang was. Net so moet ons nooit ooit weer betrokke raak by dooie onbybelse rituele nie en terselfdertyd moet ons, wanneer ons verwerping ervaar a.g.v. ons navolging van Christus, weet dat ons identifiseer met Christus wat as uitgeworpene buite die stadsmure “geoffer” was. Paulus het baie oor hierdie afskeiding van ons as gelowiges te sê gehad ~ Moenie met ongelowiges in dieselfde juk trek nie. Hoe kan daar vennootskap wees tussen reg en onreg? Hoe kan daar gemeenskap wees tussen lig en duisternis? 15Hoe kan daar eenstemmigheid wees tussen Christus en Belial? Hoe kan ’n gelowige dieselfde belange hê as ’n ongelowige? (2 Kor.6:14-15).

       Behalwe dat die Hebreërskrywer ons in v.13 waarsku dat ons ook “na buite” moet gaan en die smaad saam met Christus dra, waarsku Paulus ons ook terselfdertyd in 2 Tim.3:12 van dieselfde ding ~ Almal wat in Christus Jesus toegewy aan God wil lewe, sal ook vervolg word. Dit moet ons derhalwe nie verbaas as ons vervolging ervaar wanneer ons, onsself afskei van die wêreld nie.

       Wanneer ons egter verwerping en vervolging ervaar moet ons altyd onthou, dat dit maar net vir ʼn kort tydjie sal aanhou, want soos die apostel in v.14 sê ~ ...want ons het in hierdie wêreld geen vaste verblyfplek nie, ons is op soek na die toekomstige – ons oë moet gevestig wees op die hiernamaals – ons moet ʼn ewigheidsperspektief ontwikkel.

       Ek móét egter onmiddellik ook byvoeg en sê dat hierdie afskeiding net te doen het met die sonde van hierdie wêreld en dat dit nie impliseer dat ons, ons ook moet afskei van die mense van die wêreld nie, want ons moet tog immers steeds betrokke by hulle wees, want hoe anders sal hulle dan die Evangelie hoor en dit is tog immers ook die opdrag wat ons van die Here Jesus self ontvang het in Matt.28:19-20?

4.     ʼn LOFOFFER (v.15-16):          
       Dit is derhalwe baie duidelik dat die gelowige niks meer uit te waai moet hê met die Joodse offersisteem nie en dit is wat die skrywer vir sy lesers wil sê – waarom? Omdat die offers wat ons bring van totaal en al ʼn ander aard is, want slegs en alleen deur die bemiddeling en tussenkoms van Christus – en Christus alleen, kan en mag ons offers aan God die Vader bring. Hierdie offerandes wat ons deur Christus bring is ook nie bloedoffers soos onder die Mosaïese wette nie, maar lofoffers tot God Drie-Enig en wat in ons harte ontspring en deur ons lippe voortgebring word.

       Vers 16 herinner ons egter verder daaraan dat daar nog ʼn faset van lofoffer is wat ons moet bring, nl. om goed te doen en mededeelsaam te wees, want sê die Hebreërskrywer, dít is offers wat vir God aanneemlik is.

       Die implikasie hiervan is derhalwe dat gelowiges geen altare oprig nie en geen bloedoffers bring nie en nooit priesters aanstel nie. Ons hoop is nie gevestig op, of hang nie af van enige iets of iemand anders as net Jesus Christus nie. Al wat saak maak is ʼn persoonlike verhouding met Hom en daarom het ons nie nodig om enige iets anders te doen nie, want Hy het alles reeds vir ons vermag wat nodig was om ʼn aanneemlike offer vir God die Vader te wees en daarom is die Christelike godsdiens nie ʼn godsdiens van rituele, van vorm en seremonies; van altare en kerse; van togas en mantels en wierook, of hooftooisels nie. Ook is dit nie ʼn godsdiens van heiliges en klokkies en kruise en ikone nie – ook is dit nie ʼn godsdiens van offerandes en allerlei moets en moenies nie. Enige godsdiens wat aandag aan hierdie dinge gee, is nie die ware godsdiens en Christendom nie, want diesulkes verstaan van God se vrye genade geen snars nie. Ons vertroue is gesetel in die genadige en voltooide werk van Jesus Christus en ons geloof in Hom en Hom alleen en dit het tot gevolg dat ons ʼn ewigheidsperspektief ontwikkel; met God, deur Christus Jesus praat; gevul is met dankbaarheid en lofprysing en t.w.v. Sy eer ander hoër ag as onsself, hulle lief het en goed doen aan andere. In woord en daad dien ons dus die lewende God.

5.     VOORGANGERS (v.17):
       Die volgende riglyn vir die lewe van gelowiges, is dié van onderwerping. In v.7 het die apostel die gemeente terug verwys na vorige leiers en wie se geloofpad hulle moet navolg, maar nou druk hy dit op hul harte om hul huidige leiers te gehoorsaam. Waarom skryf hy dit vir hulle? Enersyds omdat hy oortuig is van die opregtheid en gawes van die leiers, maar ook omdat hy waarskynlik besef dat al die gemeentelede nie die nodige respek betoon teenoor die leiers wat vereis word nie, omdat hulle leiers deur God self geroep en aangewys is.

       Die punt wat die Hebreërskrywer wil maak, is dat dit tot die voordeel van die gemeente is, om gehoorsaam te wees aan die leierskap en hulle aan die voorgangers te onderwerp. Hierdie oproep is in lyn met dit wat Paulus in 1 Tes.5:12-13 sê ~ Broers, ons vra julle: Erken die mense wat so hard onder julle werk en julle in opdrag van die Here lei en teregwys. 13Betoon in liefde die hoogste agting aan hulle ter wille van hulle werk. Leef in vrede met mekaar.

       Waarom is dit nodig om te onderwerp aan die leierskap? V.17a verskaf die antwoord ~ Julle voorgangers hou wag oor julle lewe en moet aan God rekenskap gee. Dit dan is die anderkant van die muntstuk en dit laat my sidder, want daar rus derhalwe ʼn geweldige verantwoordelikheid op die skouers van die voorganger van ʼn gemeente/leierskap. Verder is die Nuwe Testament vol opdragte aan voorgangers waaraan hulle moet voldoen en ek noem slegs enkeles – bv. ~ Dit is die dinge waaroor jy moet praat. Gebruik jou volle gesag om aan te moedig en tereg te wys. Gee aan niemand aanleiding om op jou neer te sien nie (Titus 2:15); Pas die kudde van God wat aan julle toevertrou is, goed op. Hou toesig oor hulle, nie uit dwang nie, maar gewillig soos God dit verwag; nie om eie gewin nie, maar uit toegewydheid; 3ook nie deur baas te speel oor dié wat God aan julle sorg toevertrou het nie, maar deur ’n voorbeeld vir die kudde te wees (1 Pet.5:2-3). Jakobus waarsku ook in Jak.3:1 wanneer hy sê ~ My broers, julle moenie almal leermeesters wil wees nie, want julle moet weet dat ons wat leermeesters is, strenger as ander beoordeel sal word.

       Hoor egter terselfdertyd die belofte aan die gemeente wanneer hulle gehoor gee aan hierdie opdrag ~ En dan, wanneer die Opperherder kom, sal julle die heerlikheid as onverganklike kroon ontvang (v.4).

       Behalwe vir die geweldige verantwoordelikheid wat daar op die skouers van voorgangers rus, bring die gemeente se onderwerping, lojaliteit, gehoorsaamheid en navolging ook vir die voorganger groot vreugde en daarom het die gemeente ook ʼn verantwoordelikheid om dit vir hom/hulle aangenaam te maak, daarom dat die skrywer in die tweede gedeelte van v.17 sê ~ Wees gehoorsaam en onderdanig aan hulle, want dan sal hulle hulle werk met vreugde kan doen en nie kla nie; anders het dit vir julle geen nut nie. Hoor wat sê Johannes ~ Niks verskaf my groter vreugde nie as om te hoor dat my kinders in die waarheid lewe (3 Joh.4). Wanneer die gemeente gehoor gee aan hierdie oproep, dan kan die voorganger saam met die apostel Paulus uitroep ~ Julle is my blydskap en my kroon (Fil.4:4c).
        
6.     GEBED (vv.18-21):
       Nog ʼn riglyn en opdrag is om voorbidding te doen. Wanneer die gemeente vir hul voorganger bid, verskaf dit plesier aan die Here en is dit nog ʼn wyse om Hom te dien.

       Die skrywer van die Hebreërbrief was waarskynlik ʼn leier van ʼn gemeente of selfs gemeentes en hier vra hy dat hulle vir hom sal bid. Elke dienskneg van God het die gebede van gelowiges nodig ten einde hulle te kan bedien. Voorgangers van gemeente is net so blootgestel aan versoeking en sonde soos die gemeente self; hulle het ook hulle blindekolle en swakhede en as hulle nie staande kan bly nie, kan hulle nie met vrug arbei in die gemeente nie en ly die gemeente geestelik skade, trouens gemeenteleiers word baie dikwels baie meer en feller geteister deur die vyand, omdat hy weet dat indien die leraar van die gemeente nie sy kudde behoorlik kan lei en leer nie, die hele gemeente daaronder ly. 

       As ons krag en lewe in ons eie lewe, maar ook in die gemeente wil ervaar, moet ons bid. Ek wil dus vandag (weer soos in die verlede) onbeskaamd vra dat julle vir my op gereelde basis sal bid asb. – bid dat ek bewaar sal bly van aanvalle deur die vyand; bid dat ek weerhou sal word om te sondig en dan veral ook die woorde van Ef.6:19 ~ Bid ook vir my dat wanneer ek preek, God my die woorde gee dat ek die geheimenis van die evangelie met vrymoedigheid kan bekend maak.

       In v.19 vra die skrywer veral dat die gemeente sal bid dat hy spoedig met hulle verenig sal word – ons weet nie waarom hy nie by hulle is nie en ook nie waar hy is nie, maar deur hierdie versoek openbaar hy enersyds sy geloof in en afhanklikheid van gebed en andersyds dat hy lief is vir sy broers en dat hy daarom daarna verlang om by hulle te wees.

       In vv.20-21 bid die skrywer nou vir sy lesers en erken hy dat God dié Een is wat vrede aan hom en sy lesers geskenk het deur Sy Seun Jesus Christus se soendood en bid hy verder dat hierdie genadige en versoenende God, sy lesers sal toerus en geestelik sal opbou, sodat hulle Hom as Here sal navolg en dien en sodoende Sy wil vir hul lewens sal uitleef. Hieruit is dit derhalwe duidelik, dat ons nie alleen God se wil sal ken nie (deur die kennis van die Woord), maar dat ons ook die nodige krag sal ontvang om Sy wil te kan uitleef en dit is wat die skrywer hier ook voor vra en daarom sê hy dan ook by implikasie, dat ons nie God se wil kan uitleef uit eie krag nie – slegs God kan dit aan ons verskaf en daarom moet ons gereeld daarom vra ~ Uit onsself is ons nie in staat om iets te bedink asof dit uit onsself kom nie. Ons bekwaamheid kom van God... (2 Kor.3:5). Wat ons te doen staan, is om gewillig te wees om God se wil te doen en daarom te vra en Hy sál dit gee, want 2 Kor.9-10 leer ons dat ~ God wat saad verskaf om te saai en brood om te eet, sal ook aan julle saad gee en dit laat groei en julle vrygewigheid ’n ryk oes laat oplewer. Ons God is ʼn God wat die beloftes van Sy Woord gestand doen en daarom kán elkeen van ons geestelik groei en volhard tot die einde toe en v.21 is dan presies ook die gebed wat ons elke dag hiervoor kan bid en die Here sal vra dat Hy ons vandag en elke dag sal toerus met alles wat goed is, sodat ons Sy wil sal kan doen en dat Hy deur Jesus Christus in ons dít tot stand sal bring wat vir Hom aanneemlik is.

7.     GROETEWOORDE (vv.22-25):
       In die laaste vier verse van hierdie brief aan die Hebreërs, vra hy sy lesers om hierdie brief geduldig te lees, iets wat hy sekerlik heel aan die begin van sy brief moes geskryf het, maar hy wil hierdeur vir al sy lesers (daarom ons ook) aanmoedig om sy brief weer en weer te lees, juis omdat hy soveel dinge net kortliks aangespreek het en daarom hoef ʼn mens nie hierdie brief in een sitting deur te lees nie, maar kan en behoort ons dit tema vir tema te lees en te oordink en toe te pas en hierdie temas is nie lang temas nie, daarom dat die Hebreërskrywer sê dat hy Hierdie woorde net kortliks geskrywe het.

            Wanneer die skrywer dit sê, moet ons onsself afvra hoe ernstig neem ons sy boodskap op en dan veral die ses pastorale waarskuwings wat primêr handel oor die terugdraai van mense – selfs mense wat hulself op ʼn stadium Christene genoem het en wat nie volhard in die geloof tot die einde toe nie – Nico van der Walt sê die volgende van hierdie pastorale waarskuwings: Die ses pastorale waarskuwings in die boek vul enige Christen met die vrese van die Here (2:1-4; 3:7-4:13; 5:11-6:12; 10:26-39; 12:14-17; 12:25-29). So 'n terugdraai, word onmiskenbaar duidelik gesê, kom neer op 'n miskenning van wat God finaal en volmaak in Christus gedoen het. Dit word in skokkende sterk taal gesê. Dis so goed soos om die Seun van God weer te kruisig en te verag; om Hom openlik te bespot; om die bloed van die verbond te minag (Hebr.6:6: 10:29). Só ʼn ernstige saak is dit, dat diegene wat hulle daaraan skuldig maak, net een uiteinde het - die verskriklike toorn van God.

      Ons moet dus luister na wat die Woord vir ons leer en dit in en deur ons lewe toepas, anders kan ons terugval en diegene wie die Evangelie gehoor het en nie volhard tot die einde toe nie, sal erger gestraf word as diegene wie nog nooit die Evangelie gehoor het nie.

      In vv.23-25 sluit die Hebreërskrywer sy brief af deur groete aan ʼn paar mense oor te dra en wat meer is, hy bring ʼn bekende Nuwe Testamentiese broer saam met hom wanneer hy na hulle kom, nl. Timoteus wat vrygelaat is nadat hy uit die gevangenis was vir sy geloof – inderdaad goeie nuus, want ʼn geliefde broer is vrygelaat en dan in v.25 spreek hy ʼn seënwoord oor hulle uit en hierdie woorde is dieselfde as dié wat ons in Hebr.13:9, asook 2 Kor.12:9 vind, nl. ~ Die genade van God sal by julle almal wees!

Amen.


Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Sondag 20 Julie 2014

Saturday, 21 June 2014

Die Brief aan die Hebreërs – 33 (“Algemene riglyne vir ’n lewe as Gelowige - 02”)

1.     INLEIDING:
       Ons sal in ons Skriflesing vandag, die tweede gedeelte van die gelowige se optrede en gedrag t.o.v. homself en andere vind.

       Ons het verlede week in vv.1-3, riglyne gevind t.o.v. ons optrede en gedrag jeens medegelowiges en daar het ons spesifiek stil gestaan by ons liefde wat ons vir ons broers aan die dag moet lê. Ons het ook gekyk na gasvryheid en ook na ons gesindheid jeens gevangenis en bedelaars.

       Vandag gaan ons na riglyne kyk t.o.v. die huwelik, ons besittings en ook standvastigheid in ons geloof.

2.     SKRIFLESING:
Heb.13:4-6 ~ Die huwelik moet deur almal eerbaar gehou word. Wees in die huwelikslewe getrou aan mekaar, want ontugtiges en egbrekers sal onder die oordeel van God kom. 5Hou julle lewe vry van geldgierigheid; wees tevrede met wat julle het. God self het gesê: “Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie.” 6Daarom kan ons met vertroue sê: “Die Here is my helper, ek ken geen vrees nie: wat kan ’n mens aan my doen?” 7Dink aan julle voorgangers wat die woord van God aan julle verkondig het. Let op hulle lewenswandel tot die einde toe, en volg die voorbeeld van geloof wat hulle gestel het. 8Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid. 9Moet julle nie laat meevoer deur allerhande vreemde leringe nie. Die goeie is daarin geleë dat die hart deur genade versterk word, nie deur eetgebruike nie. Dié wat hulle aan hierdie gebruike gehou het, het niks daarby gebaat nie.

3.     DIE HUWELIK (v.4):
       In v.4 spreek die Hebreërskrywer die huwelik aan en ’n mens mag wonder waarom hy dit doen? Die rede was dat gelowiges gedurende die eerste eeu, teenoor die res van die gemeenskap uitgestaan wat betref die huwelik, omdat hulle ’n heel teenoorgestelde gesindheid gehad het t.o.v. die huwelik en die seksuele.

       Die gelowiges van die eerste eeu was gekonfronteer met ’n moreel vervalle en siek wêreld – die huweliksverbond het niks beteken nie; seksuele omgang oor huweliksgrense was aan die orde van die dag en so ook buitehuwelikse omgang en homoseksualiteit was niks snaaks nie (“what’s new?”).

       Hierdie toestand van die wêreld het tot gevolg gehad dat sommige gelowiges oorreageer het. Van diegene wat oorreageer het, het gesê dat seksuele reinheid só belangrik is, dat gelowiges eerder in selibaatskap moet leef en sommige het selfs so ver gegaan en gesê dat gelowiges eerder ’n asketiese lewe moet lei (iemand wat hom afsonder en ’n streng, vroom lewe sonder enige sinlike genot lei) en daarom behoort gelowiges nie te trou, of enige iets met die seksuele te doen hê nie en selfs hul liggame ru behandel.

       In die lig van die toestand waarin die wêreld verkeer het en waarin die gelowiges hulself bevind het, sê die skrywer nou vir sy lesers dat hulle die huwelik eerbaar moet hou en dat egpare getrou aan mekaar moet bly.

       Die huwelik as instelling is deur God ingestel en dit is nie toevallig dat Hy Sy eerste wonderwerk juis by ’n huwelik gedoen het nie, trouens die Here ag die huwelik so belangrik en heilig dat Hy die huwelik as beeld voorhou vir hoe die Kerk moet wees en daarom mag geen mens dit mag minag nie – met die enkele uitsonderings wat die Skrif natuurlik vir ons gee.

       Dit is baie interessant om te sien dat die Woord van God ten minste drie redes vir die instelling van die huwelik vir ons gee:
·           Die voortbring van kinders. Die mens het al so vroeg soos in Gen.1:28a die opdrag hiertoe ontvang ~ Toe het God hulle geseën en vir hulle gesê: “Wees vrugbaar, word baie, bewoon die aarde en bewerk dit.
·           Tweedens is die huwelik ingestel juis om seksuele sondes te verhoed ~ ...maar weens die gevare van onsedelikheid behoort elke man sy eie vrou te hê en elke vrou haar eie man (1 Kor.7:2).
·           Kameraadskap en vriendskap is ’n derde motivering vir die huwelik ~ Verder het die Here God gesê: “Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom iemand maak wat hom kan help, sy gelyke” (Gen.2:18).

       Die Amplified Bible (AB) vertaal die Grieks baie mooi wanneer dit sê dat die huwelik hoog geag moet word – dat dit agtingswaardig is en dat dit gerespekteer sal word – nie net as instelling nie, maar dat man en vrou mekaar ook sal respekteer in alle opsigte – mekaar se gevoelens, mekaar se menswaardigheid, emosies, voorkeure, wense en begeertes, ens.

       Die huwelik is ook kosbaar en ’n groot skat uit die hand van God en daarom moet dit ten alle koste bewaar en gekoester word.

       In die lig hiervan gaan die Apostel dan verder en sê hy in v.4b, dat die huwelikslewe impliseer dat man en vrou getrou aan mekaar sal wees. Die vraag is ten opsigte waarvan moet  hulle getrou aan mekaar wees? Die volgende sin verklaar dit, maar kom ons kyk net eers hoe die OAV dit vertaal ~ ...Laat die huwelik in alle opsigte eerbaar wees... en dan hierdie woorde, ...en die bed onbesmet (v.4). Die ESV sê ~ ...and let the marriage bed be undefiled en die NKJV ~ ...and the bed indefiled.

       Die Grieks wat hier gebruik word vir “bed” is κοίτη [koite /koy·tay/]. Wat ’n direkte verwysing na seksuele gemeenskap is. Die res van v.4 sê dan ~ ...want ontugtiges en egbrekers sal onder die oordeel van God kom. Dit gaan dus hier oor mans en vrouens wat hul huweliksbeloftes minag en seksueel betrokke is by iemand buite die huwelik. Paulus waarsku ook in 1 Kor.6:18, wanneer hy sê ~ Julle moet niks met seksuele losbandigheid te doen hê nie. Elke ander sonde wat ’n mens doen, vind buite sy liggaam plaas, maar iemand wat seksueel losbandig lewe, vergryp hom aan sy eie liggaam.

       Die wêreld waarin die Hebreërs geleef het, was behep met die seksuele en so ook die wêreld waarin ons vandag leef. Kyk maar net rondom jou wanneer jy in inkopiesentrums loop, of op paaie ry – jy word aanhoudend (en veral mans) gebombardeer met wellustige, popmooi, volmaak gevormde meisies wat daarop ingestel is om die “dier in ’n man wakker te maak”. Bykans elke rolprent, program en sepie op TV het gedurig subtiel tot banale seksuele tonele wat die mens se moraliteit aftakel totdat jy op ’n punt kom waar alles aanvaarbaar is – immoraliteit en pornografie is nie net al meer en meer aanvaarbaar nie, maar word al meer en meer beoefen en goedgekeur – waarom? Omdat die media dit as aanvaarbaar en baie aanloklik en bevredigend aanbied.

       Binnehuwelikse gemeenskap is deur God aan die mens gegee en daarom is dit mooi en edel, kreatief en vervullend, maar buitehuwelikse seks is vuil, lelik, onvervuld, vernietigend en veroordelend, daarom dat Jesus ook waarsku en sê ~ ...want ontugtiges en egbrekers sal onder die oordeel van God kom (v.4b).

       Ons moet ook vir geen oomblik dink dat nét die fisiese daad van egbreuk hier aangespreek word nie – Jesus sê in Matt.5:28 ~ Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat na ’n vrou kyk en haar begeer, het reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg. Wanneer ons skuldig is aan hierdie waarskuwing van Jesus, is ons skuldig aan v.4 van ons Skriflesing van vandag, want of egbreuk in die reële wêreld plaasvind, of in die gedagtes – is dit een en dieselfde ding.

       Vrouens moet nie nou agteroor sit en dink dat hierdie net op mans van toepassing is nie. Die Hebreërskrywer tref nie hier ’n onderskeid nie en al word daar in die media primêr, of hoofsaaklik op mans gefokus (dink maar net aan bykans elke advertensie waar daar hoofsaaklik ’n vrou gedrapeer word oor of op of langs die objek wat geadverteer word), moet ons nie dink dat vrouens gevrywaar word nie. Ek het al baie keer gewonder waarom dit juis mans is wat hoofsaaklik geteiken word om te “val” vir die verlokking van “seksie-vrouens” en ek het dit vir myself uitgemaak dat dit is omdat mans die leiers is, of jagters is en dit is ook reg so en ook Bybels, maar ook dit verander vinnig, want ons sien al meer en meer hoe vrouens ook uitgebeeld word in die media as die jagters en die hele onbybelse en globale veldtog om gelyke regte aan vrouens te gee verhaas hierdie hele proses en ons sien dit reeds, maar ek dink dat ons al meer en meer “seksie mans” in advertensies sal sien (ook t.w.v. die hele “gay-agenda” wat geweldig sterk gepromoveer word in die media).

       Ons moet ons huwelike voortdurend aan hierdie vereistes vir die huwelik toets en kyk waar ons enersyds tekort skiet, maar selfs andersyds ook kyk of ons hoegenaamd ’n huwelik het en dan alles in ons vermoë doen om ons te bekeer waar nodig en ons huwelik weer terug te bring binne God se ordes vir die huwelik, want ons moet altyd in gedagte hou dat die huwelik ’n instelling van God is.

4.     VERGENOEGDHEID (vv.5-6):
Ons sien dat God in die Wet aan die Israeliete gesê het ~ Jy mag nie egbreuk pleeg nie, iets wat die Hebreërskrywer dus in v.4 herhaal, maar God sê direk na Eks.20:14 in v.17 ~ Jy mag nie begeer nie. Hy wys derhalwe hierdeur dat die jaloerse begeerte na materiële besittings, net so boos en onaanvaarbaar is as die boosheid van sondige seksuele begeertes en sonde.

       Die Hebreërskrywer wil in vv.5-6 vir ons wys op die sonde en onaanvaarbaarheid van begeerte in die algemeen, maar ’n begeerte na geld en materiële besittings in die besonder. Die apostel spreek dus in hierdie twee verse iets aan wat vir die meeste van ons maar ’n groot probleem is, nl. vergenoegdheid (contentment), m.a.w. om tevrede te wees met wat ons het, of anders gestel, dit is die teenoorgestelde van inhaligheid; begeertes; geldgierigheid, ens. (covetousness). Die Hebreërskrywer weet dat diegene wie lief is vir die wêreld en derhalwe vir geld, baie moeilik geestelik staande sal bly en daarom sê hy in vv.5-6 ~ Hou julle lewe vry van geldgierigheid; wees tevrede met wat julle het. God self het gesê: “Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie.” 6Daarom kan ons met vertroue sê: “Die Here is my helper, ek ken geen vrees nie: wat kan ’n mens aan my doen?”

Enige vorm van begeerte word baie streng veroordeel deur die Woord, trouens dit word verbied. Jesus waarsku bv. in Matt.6:19-21 dat ons nie skatte hier op aarde bymekaar moet maak, waar mot en roes dit vernietig nie, maar eerder skatte in die hemel, want en dit is die waarskuwing, waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees. Jesus het ook in Matt.6:24 gesê dat ons nie twee meesters kan dien nie, want hy sal die een liefhê en die ander een haat.

Meer en meer gelowiges glo in ons dag dat rykdom en die besit van materiële besittings – en selfs ʼn oorvloed daarvan, gelowiges se reg is. Hulle gaan selfs so ver as om te sê en te verkondig dat God dit van gelowiges verwag om daarvoor te vra en dit dan met geforseerde en self-opgeklitste “geloof” op te eis en te verwag as deel van Sy beloftes aan Sy kinders – so asof God (in groot piëteit gesê) ʼn “Genie-lampie” in ons hande is.

Dit is wel so dat beide die Ou- en Nuwe Testament leer dat God die getroues sal seën, maar die vraag is of hierdie “seën” noodwendig, materiële seën impliseer? Beteken dit dat alle gelowiges ryk kan wees? Daar is baie wat dit glo en verkondig – daarom dat daar soveel “godsdienstige lyke” op straat lê nadat hulle rykdom en/of voorspoed verwag het en dit nie gekry het nie en hulle dan deur hierdie voorspoedteoloë daarop gewys is dat hulle óf sonde in hul lewe het (asof hulle nie sonde het nie!), óf dat hulle geloof te klein is en dan tuimel hierdie arme misleide mense wat voorspoed beloof is, se “geloofskaartehuis” in mekaar.

  Paulus bv. meld voortdurend dat hy geseën en geroep was deur God, maar dan lees ons terselfdertyd van hoe swaar hy gekry het – hoe hy gely en beproef is, maar dat dit nooit sy vreugde gesteel het, of sy ervaring van die volheid van die lewe ontneem het nie, trouens – en dit is belangrik – hy skryf gereeld in sy sendbriewe dat sy lyding deel is van die getuienis dat hy geseën word; dat hy gered is; dat hy geroep is deur God – luister ~ In alles word ons verdruk, maar ons is nie terneergedruk nie; ons is oor raad verleë, maar nie radeloos nie; 9ons word vervolg, maar nie deur God verlaat nie, op die grond neergegooi, maar nie vernietig nie. 10Die sterwe van Jesus dra ons altyd saam in ons liggaam, sodat ook die lewe van Jesus sigbaar kan word in ons liggaam. 11Voortdurend word ons wat lewe, ter wille van Jesus uitgelewer aan die dood, sodat ook in ons sterflike bestaan die lewe van Jesus sigbaar kan word. 12Dit beteken dat in ons die dood aan die werk is, maar in julle die lewe. 13Daar staan in die Skrif: “Ek het geglo, daarom het ek gepraat.” Ons het dieselfde Gees wat die geloof wek, en ons glo, daarom praat ons ook. 14Ons weet immers dat God, wat die Here Jesus uit die dood opgewek het, ons ook saam met Jesus sal opwek en ons saam met julle voor sy troon sal stel. 15Ons doen dit alles om julle ontwil, sodat die genade van God steeds meer mense kan bereik. Dan word die dankgebede ook meer, en God ontvang die eer. 16Om hierdie rede word ons nie moedeloos nie. Al is ons uiterlik besig om te vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe. 17Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op ’n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly. 18Ons oog is nie op die sigbare dinge gerig nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig (2 Kor.4:8-18).

            Hoor wat sê Paulus ook in 2 Kor.6:10 ~ Ons ontvang eer en oneer, ons word beledig en geprys. Ons word behandel as verleiers, en tog is ons betroubaar; 9as onbekendes, en tog is ons goed bekend; as sterwendes en, soos julle sien, ons lewe; as gestraf, maar ons is nie doodgemaak nie; 10as bedroefdes, en tog is ons altyd opgeruimd; as armes, maar ons maak baie ander ryk; as mense wat niks het nie, en tog besit ons alles. In Efese was hy in die tronk en tog skryf hy van sy rykdom waaroor hy in die Evangelie beskik – dít is waaroor rykdom gaan; dít is die rykdom waaroor die “welvaartsteoloë” veronderstel is om te preek – nee, waaroor hulle móét preek, maar hulle het die spreekwoordelike “kat aan die stert beet” wanneer dit kom by Skrifuitleg – ons rykdom en oorvloed lê in die Evangelie van Jesus Christus opgesluit en nié in materiële besitting nie!

Paulus impliseer deurgaans dat rykdom en voorspoed nie noodwendig ʼn teken van God se seën is nie, maar tevredenheid is wel (“contentment”). In FIl.4:4 sê Paulus ~ Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly! – en in Fil.4:4-7 sê hy ~ Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly! 5Wees inskiklik teenoor alle mense. Die Here is naby. 6Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. 7En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus. Dit is derhalwe baie duidelik dat vergenoegdheid of te wel tevredenheid en vreugde en vrede die karakter eienskappe van ʼn ryk gelowiges is en nie materiële besitting nie – soek dus jou vreugde en vrede en tevredenheid en vervulling – ja jou rykdom, in die Evangelie van Jesus Christus ~ As ons dan kos en klere het, moet ons daarmee tevrede wees (1 Tim. 6:8). Jesus sê ook in Luk.12:15 ~ Pas op en wees op julle hoede vir elke vorm van gierigheid, want ’n mens se lewe is nie afhanklik van die oorvloed van sy besittings nie.

Wanneer Jesus tydens Sy aardse bediening gepraat het oor ons navolging van Hom, het Hy veel-veel meer gepraat oor lyding (“suffering”) as wat Hy lering gegee het oor vergifnis en liefde en nederigheid ens.
 
Dit is dus duidelik dat die Nuwe Testament materiële rykdom veel eerder sien as ʼn gevaar, eerder as ʼn seën – waarskynlik die bekendste teksvers in die verband is dié in Luk.18:24-25 ~ Hoe moeilik is dit tog vir mense wat ryk is, om in die koninkryk van God te kom. 25Dit is makliker vir ’n kameel om deur die oog van ’n naald te kom as vir ’n ryke om in die koninkryk van God te kom.

  Wat presies het Jesus bedoel toe Hy in Matt.6:20 gepraat het van skatte wat ons in die hemel bymekaar moet maak waar mot en roes dit nie kan vernietig nie? Wat Jesus hier wil sê, is dat ons, ons aardse rykdom so moet aanwend dat dit vir ons dividende in die hemel sal oplewer. Dit gaan dus daaroor dat ons nie moet terughou wanneer dit kom by vrygewigheid nie – selfs al is dit ook uit die min wat ons moontlik mag hê.

Net ʼn laaste opmerking oor “welvaartsteoloë” wat sê dat ons ryk moet wees en behoort te wees. Hoe verklaar hulle die arm weduwees van Hand.6 in die eerste gemeente in Jerusalem – ongeloof? Hoe verklaar hulle die behoeftiges waarvan Paulus in 2 Kor.8 praat – sonde? En asof dit nie genoeg is nie – net twee van die sewe gemeentes in Openbaring wat nie tereg gewys is nie, was gemeentes wat in die oë van die wêreld nie materieel voorspoedig was nie!

Ek wil egter ook net sê, dat daar beslis ook plek in die Koninkryk en die Kerk vir ryk mense is – dink aan Abraham (Gen.13:2), Barsillai (2 Sam.19:32), die Sunemmitiese vrou (2 Kon.4:8), Josef van Arimatea (Matt.27:57), en vele meer. Om die luukshede wat welvaart vir jou kan koop is ook nie noodwendig verkeerd nie, maar dit is opmerklik dat al vier hierdie mense wat ek genoem het, bekend gestaan het vir hul vrygewigheid. Ryk gelowiges kan Christus derhalwe verheerlik deur veral nederig, vrygewig en godvrugtig te wees. Daarteenoor kan en moet arm gelowiges die Here Jesus eer en verheerlik deur tevrede te wees, vol geloof en ook vrygewig met die bietjie wat hulle het – om dus godvrugtig in en deur hul armoede te wees. Mense met hierdie karaktereienskappe word deur die Woord van God beskryf as voorspoedig, ryk en geseënd.

Ons moet altyd Paulus se woorde in 1 Tim.6 onthou waar hy sê dat ʼn heilige lewe veel meer belangrik is as rykdom. Jesus is vir ons dié voorbeeld in hierdie verband ~ Julle ken die genade van ons Here Jesus Christus: hoewel Hy ryk was, het Hy ter wille van julle arm geword, sodat julle deur sy armoede ryk kon word (2 Kor.8:9) en Fil.2:7 ~ ...maar Hy (dit is Jesus) het Homself verneder deur die gestalte van ’n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word.

5.     VOLHARDING (vv.7-9):
       In die laaste drie verse van ons Skriflesing moedig die Hebreërskrywer sy lesers aan om te volhard in die geloof, maar hy waarsku hulle ook terselfdertyd deur aan hulle drie dinge te noem wat hulle in gedagte moet hou en waaraan hulle vas moet hou in hul poging om te volhard tot die einde toe:
·        Onthou julle Voorgangers: Hy verwys eerstens na hulle voorgangers. Nou op die oog af lyk dit asof die skrywer hier verwys na die huidige voorganger wat op daardie stadium in diens van die Here in die Kerk staan, maar let mooi op wat hier staan ~ ...en volg die voorbeeld van geloof wat hulle gestel het... – ”gestel het” – verlede tyd. Die OAV stel dit nog beter ~ ...aanskou die uiteinde van hulle lewenswandel en volg hulle geloof na. Dit gaan dus hier oor leiers uit die verlede wat aan die einde van hul lewens gekom het. As ek hierdie vers kan parafraseer sou dit as volg kon lees ~ In die verlede het julle wonderlike leiers gehad. Dink aan hulle. Hulle was manne van geloof en bekend daarvoor dat hulle die Waarheid verkondig het en dit opgevolg het met godvrugtige lewens. Dink weer na oor hul lewens, in plaas daarvan dat julle jul geloof versaak en die lewe wat hulle vir julle voorgeleef en geleer het om na te volg. Leef hulle geloof na en volg hulle lewensvoorbeeld. In kort, boots hulle na. In v.17 wat ons nou nie vandag gaan aanspreek nie, sê die apostel egter ook vir sy lesers wat hulle gesindheid teenoor hul huidige leier(s) moet wees.
·        Onthou Jesus Christus: Ten einde te volhard tot die einde toe, sê die Hebreërskrywer tweedens in v.8 dat ons ook Jesus Christus in gedagte moet hou.

       In teenstelling met mense wat kom en gaan en mense wat so veranderlik is, aanbid ons Jesus Christus die Verlosser, Koning, Skepper en ewige Rots – hy wat ~ ...gister en vandag dieselfde (is) en tot in ewigheid – in Hom moet ons, ons vertroue plaas, Hom moet ons navolg; Hom moet ons in gedagte hou – elke dag en elke nag! Hy wat opgestaan het uit die dood en opgevaar het na die hemel waar Hy nou as Hoë Priester vir jou en my intree by die Vader!
·        Onthou die Waarheid: Die logiese volg uit hierdie waarheid van v.8 wanneer die Hebreërskrywer nog ʼn faset van die gelowiges se lewe aanspreek waaraan hulle/ons ernstig aandag moet gee ten einde te volhard tot die einde toe.
      
       Een van die tragieste en hartseerste dinge wat sekerlik in die Christelike wêreld kan gebeur – en ons sien dit daagliks en veral die afgelope klompie jare rondom ons en dit neem net in intensiteit toe, is dat gelowiges al meer en meer ingesuig word deur vals leer. Dit is egter iets wat van die vroegste tye van die Kerk gebeur het, daarom dat Paulus die opmerking in Gal.1:6-7 maak ~ Dit verbaas my dat julle so gou van God wat julle deur die genade van Christus geroep het, afvallig word en ’n ander evangelie aanneem. 7Daar is geen ander evangelie nie! Tog is daar mense wat
die evangelie van Christus probeer verdraai, en dit is hulle wat vir julle in verwarring bring.

       Baie gelowiges val vir elke vals en misleidende leer, solank dit net ʼn geestelike klankie het en soveel te meer nog as dit aanskoulik en opwindend is, daarom dat hulle al wat boek in sekere “geestelike Boekwinkels” verslind en verslaaf raak aan allerlei “Tele-predikers” (ja ook op Afrikaanse TV-programme), maar die probleem is dat hulle geen onderskeid het tussen wat waar en vals is nie en nie behoorlik gevestig is in die leer van die Woord nie – hulle is nog geestelike babatjies en die tragiek is, hulle bly babatjies! Ons moet soos Paulus in 1Tim.4:6 sê, ons voortdurend... ~ voed met die woorde van die geloof en die goeie leer.

6.     AFSLUITING:
Ons het die onveranderlike Jesus Christus as voorbeeld om na te volg. Waarom soek na opwinding in vals lering; in “profete” en charismatiese leiers; in “worship” en allerlei “profesieë” en “glitter” en “wonderwerke”? Nee, jaag die Waarheid in God se Woord na en dien Christus en Christus Jesus alleen!

Laat Jesus steeds die Onveranderlike wees in jou lewe en laat die fundamentele geloofsvertrekpunte van die sestiende-eeuse Reformasie steeds ʼn realiteit in jou en my lewe wees, nl.: die eer van God alleen, Christus alleen, die Skrif alleen, genade alleen en geloof alleen. Amen.

Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Sondag 22 Junie 2014

1. SOLI DEO GLORIA - DIE EER VAN GOD ALLEEN Alles wat God beplan het en in die geskiedenis uitvoer (niks wat is of gebeur, is uitgesluit nie), het een finale doelwit, nl. om Homself te verheerlik. Die najaging van hierdie doel is dan ook elke mens se hoogste en onontkombare roeping. Om vir jouself te leef, is die wese van sonde
2. SOLUS CHRISTUS - CHRISTUS ALEEN Hierdie genade wat God aan miljoene sondaars deur alle eeue betoon het, was nog altyd volledig gebaseer op die volmaakte middelaarswerk van Sy Seun, Jesus Christus, en daarop alleen.
3. SOLA SCRIPTURA - DIE HELE SKRIF EN NET DIE SKRIF Die hele Bybel, en net die Bybel, is God se besondere en geïnspireerde openbaring aan die mens. Daarom is dit algeheel betroubaar en die universeel gesagvolle norm vir leer en lewe.
4. SOLA GRATIA - GENADE ALLEEN As 'n sondaar gered word, dan is dit geheel-en-al te danke aan God se vrye genade, en daaraan alleen.
5. SOLA FIDE - GELOOF ALLEEN God verklaar enige en elke sondaar regverdig wanneer die vanuit sy of haar geestelike en morele bankrotskap volledig op die middelaarskap van Jesus Christus staat maak ten einde vir God aanvaarbaar te wees. Daar is geen ander manier om met God versoen te word nie. Geen menslike verdienste, van watter aard ook al, kan Christus se verdienste aanvul nie; trouens, die Woord waarsku uitdruklik dat enige poging daartoe diskwalifiserend is.

Besoek gerus die volgende Webtuiste: 
http://www.huffingtonpost.com/pastor-rick-henderson/osteen-meyer-prosperity-gospel_b_3790384.html