Saturday, 31 January 2015

Die Tweede Brief van Petrus - 02 (“Krag vir Godvrugtigheid”)

1.    INLEIDING:
       Voorverlede week het ons na die eerste 2 verse van die Tweede Brief van Petrus gekyk en het ons gefokus op God se geregtigheid en dan spesifiek op daardie faset van God se geregtigheid wat handel oor ons verlossing en wat ons in en deur Christus Jesus ontvang het.

       Ons het gesien dat Adam (en daarmee saam ons ook), Sy geregtigheidsaard of geregtigheidstoestand met die sondeval verloor het en dat hy daarna ʼn sondige natuur ontvang het sonde het ons gesien is die teenoorgestelde van geregtigheid. Hierdie situasie word die erfsonde genoem.

       Adam het egter ook sy juridiese geregtigheidstand voor God verloor en dit word die erfskuld genoem, wat impliseer dat alle mense strafwaardig voor God is selfs babatjies.

       Ons het egter ook gesien dat wanneer 'n sondaar in alle opregtheid en erns sy volle geloofsvertroue in Christus stel, word hy of sy by wyse van spreke uit Adam uitgehaal en in Christus oorgeplant Adam se sonde wat aan ʼn sondaar toegereken was, oftewel gedebiteer was, word nou gekanselleer hy word derhalwe gekrediteer (geen skuld meer nie).

       Daar was egter nog een dilemma en dit was dat Christus se vryspraak nog nie voldoende was nie, want al is ons ná Sy soendood kwytgeskeld van alle skuld sit ons nog met ons daaglikse sonde. Daar is dus nie net straf om te ontkom nie; daar is loon om te verwerf en as ons die ewige lewe wil beërwe, moet ons God volkome gehoorsaam en dit is ons grootste probleem, want ons kan dit nie uit eie krag verdien of verwerf nie! Hierdie onoorkombare dilemma van die sondegevalle mens word egter óók deur Christus aangespreek. Hý het God volkome gehoorsaam van Sy eerste lewenslig af, tot en met Sy dood aan die kruis, want Hy was volkome, ja tot die dood toe, gehoorsaam aan Sy Vader en hierdie selfde gehoorsaamheid word aan elkeen wat waarlik glo, toegereken! Christus se volkome gehoorsaamheid word oorgeboek na sy of haar rekening wat glo! Ons moet dus ons geloofsvertroue in die verdienste van die Plaasvervanger, Jesus Christus plaas en dan word ons óók met Sy volmaakte geregtigheid gekrediteer!
 
2.    SKRIFLESING:
       Ek wil dat ons vandag fokus op 2 Pet.1:3-4, maar hierdie twee verse kan nie in isolasie van die voorafgaande verse gelees word nie en verder vorm vv.3-4 ook die fondasie vir v.5.

       2 Pet.1:1-4 ~ Van Simon Petrus, n dienaar en apostel van Jesus Christus. Aan dié wat deur die regverdige beskikking van ons God en Verlosser, Jesus Christus, dieselfde kosbare geloof as ons ontvang het. 2Mag daar vir julle genade en vrede in oorvloed wees deur julle kennis van God en van Jesus ons Here! 3Sy Goddelike krag het ons alles geskenk wat ons nodig het om te lewe en Hom te dien. Dit kom deurdat ons Hom ken wat ons geroep het deur sy heerlikheid en mag. 4Deur dit te doen, het Hy ons die kosbaarste en allergrootste gawes geskenk wat Hy belowe het. Daardeur kan julle die verderf ontvlug wat deur begeerlikheid in die wêreld werksaam is, en deel kry aan die Goddelike natuur.

3.    KRAG VIR GODVRUGTIHEID:
       Wat is die kruks van die eerste twee verse? Dit gaan oor die oorvloedige en soewereine geskenk van geregtigheids-genade wat gelowiges van Hom in wie hulle glo, ontvang het, maar dan in vv.3-4 skryf Petrus oor geestelike brandstof wat ons as gelowiges ontvang het om ons lewensvlam aan die brand te hou en hierdie vlam word ook uit genade aan ons geskenk sonder dat ons ʼn oog hoef te knip. As dit nie vir hierdie lewensvlam was nie, sou ons nie kon lewe nie nie fisies nie (God se algemene genade), maar beslis ook nie geestelik nie (God se toegespitste genade). Ons moet egter daarop let dat hierdie krag waarvan v.3 praat, dui op geestelike lewe daardie eenheidslewe wat ons met Christus Jesus beleef.

       Ons het egter nie net God se krag ontvang om geestelik te lewe nie, v.3 leer ons dat ons as gelowiges, wat uit genade God se geregtigheid deelagtig geword het, al die krag ontvang om te lewe en om Hom te dien. Ons as gelowiges het dus een primêre roeping en dit is om só te lewe, dat ons die Here altyddeur sal verheerlik en dit word deur 1 Pet.4:11b bevestig ~ So moet julle God in alles verheerlik deur Jesus Christus, aan wie die heerlikheid en die krag behoort tot in alle ewigheid, asook 1 Kor.10:31 ~ Of julle eet en of julle drink of wat julle ook al doen, doen alles tot eer van God.
      
       As ons nie hieraan voldoen en hierdie opdrag gehoorsaam nie, kan ons, onsself nie gelowiges noem nie as dit nie ons daaglikse en opregte strewe is om God-Drie-enig te verheerlik deur ons lewe nie, moet ons ernstig besin of ons God se geregtigheid werklik ontvang het en laat ek dit sommer nou hier uit die staanspoor sê; indien jy wel op ʼn punt is en jouself ernstig afvra waar jy staan wat hierdie primêre roeping van jou aan betref en jy oortuig is dat jy dalk tog nog nie God se geregtigheid ontvang het nie, is dit nie nodig om in ʼn hoekie te gaan sit en jouself jammer te kry nie daar is tyd dat jy jou kan bekeer en na God kom en jou geloof en vertorue in Christus Jesus plaas en Hom vra om jou wel deel te laat kry aan die Vader se genadige gergetigheid, maar dan moet dit ook jou opregte voorneme wees om jou te bekeer van jou verkeerde weë.

       Jy is dalk een van baie gelowiges wat sê dat jy ʼn opregte en vaste begeerte en strewe het om God te verheerlik, deur heilig te lewe en Hom te dien, maar dat jy dit net nie regkry nie dat jy net nie kan nie en daarom probeer jy nie eers nie indien dit waar is van jou, moet jy mooi oplet op Petrus se woorde in v.3, want hy dink so bietjie anders oor hierdie saak hy sê in v.3 dat God, deur ...Sy Goddelike krag, ons alles geskenk (het) wat ons nodig het om te lewe en Hom te dien. As ons derhalwe sê dat ons dit nie kan regkry nie, omdat ons nie geestelik sterk genoeg is nie, het ons te kampe met een of meer probleme:
        Die eerste is dat ons God se Woord nie glo nie – Petrus sê dan dat ons wel die krag ontvang het en as ons sê dat ons dit nié ontvang het nie, glo ons nie die Woord van God nie.
        ʼn Tweede moontlikheid is dat ons nie glo dat God almagtig is nie en dat Hy derhalwe nie daartoe in staat is om grote ek van die nodige krag te voorsien nie.
        Nog ʼn moontlikheid is dat ek moedswillig en doodeenvoudig nie lus is om gehoor te gee aan God se opdrag om Hom met oorgawe te dien nie die wêreld en my eie vlees is net té lekker en té aanloklik.

       Indien enige van hierdie drie moontlikhede waar is van jou, moet jy 2 Pet.3:7 in gedagte hou wat sê ~ Maar die hemel en die aarde van vandag is bestem en word bewaar vir die vuur, ook deur die woord van God, en word in stand gehou tot op die dag waarop die goddelose mense veroordeel en verdelg sal word. Ons moet egter daarteenoor die belofte in gedagte hou wat Petrus ook in 2 Pet.3:13 vir ons gee nl. ~ Maar ons leef in die verwagting van n nuwe hemel en n nuwe aarde wat God belowe het en waar die wil van God
sal heers.

       Indien jy en ek wel glo dat ons God se geregtigheid deelagtig geword het, maar nie regtig tot Sy eer lewe nie, moet ons, ons daadwerklik bekeer en die woorde van Petrus ter harte neem, nl. dat God, deur ...Sy Goddelike krag, ons alles geskenk (het) wat ons nodig het om te lewe en Hom te dien.

       Jesus stel baie hoë standaarde aan ons om te lewe en Hom te dien, m.a.w. om ʼn goddelie, of heilige lewe te lei. Hierdie heilige lewe waarna Petrus verwys en waaraan ons, onsself moet onderwerp, maar ook waaraan ons, ons kán onderwerp, omdat Christus ons die krag daarvoor gee hierdie heilige lewe, was ʼn tema wat Jesus regdeur Sy aardse bediening beklemtoon het en dit is nêrens meer duidelik uitgespel as juis in die Bergpredikasie nie (Matt.5-7).

       Wanneer ons egter na die Bergpredikasie kyk, raak die meeste, indien nie almal van ons nie, heeltemal moedeloos, want om aan daardie eise te voldoen is bykans ʼn saak van onmoontlikheid. Ons moet egter onthou, dat Jesus nié Sy standaarde vir ʼn heilige lewe voorop kom stel het vir volmaakte mense nie, maar vir gebroke en onvolmaakte mense wat in afhanklikheid van Hom lewe.

       Paulus sê vir ons in Ef.2:8 ~ Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is n gawe van God. Indien ons glo dat God ons gered het indien Hy ons die gawe van verlossing en ʼn ewige lewe geskenk het, dan moet ons 2 Pet.1:3 daarmee saam glo, nl. dat Hy ook aan ons die vermoë geskenk het om Hom te dien en goddelike lewens te lei m.a.w. Hy wat ons geroep het, stel ons ook in staat om Hom te dien en heilig te lewe Hy red én Hy bemagtig. Hy red ons nie net en laat ons dan aan ons eie lot oor nie. Nee, Hy gee aan ons die krag en die mag om heilig te lewe en indien ons nie hierdie krag gebruik nie - ons nie die wil het om heilig te leef nie, is ons in sonde en moet ons, ons bekeer.

       Let ook op dat, net soos wat ons redding en vergifnis reeds ontvang het, hierdie belofte van God se krag, ook reeds aan ons gegee is dit gaan nie nog gegee word nie, dit is rééds gegee. Petrus sê in v.3 ~ Sy Goddelike krag het ons alles geskenk. Wat meer is, wanneer ons na die Grieks kyk, is hierdie belofte nie sterk genoeg in ons moderne tale vertaal nie, want die Grieks vir hierdie uitdrukking dui op n vrygewige, oordadige en koninklike geskenk en dít alles dui op ʼn gratis en volmaakte geskenk wat uit genade deur die Almagtige God aan Sy kinders geskenk word.

4.    DIE BRON VAN DIE KRAG:
       Die realiteit en Bybelse Waarheid t.o.v. die bestaan van hierdie krag, laat ons egter in ʼn posisie waar ons verantwoordelik voor die Here is oor wat ons daarmee maak en soos reeds gesê, ervaar baie van ons, indien nie almal nie, ʼn afwesigheid in ʼn mindere of meerdere mate daarvan.

       Die vraag is derhalwe waarom ons nie altyd hierdie beskikbare krag in ons lewe ervaar nie? Waar en/of hoe moet ons dit ontdek en vir onsself toe-eien, of dalk nog beter gestel, hoe kan ons dit vrystel in werking stel? Petrus gee vir ons die antwoord in v.3b ~ ...Dit kom deurdat ons Hom ken wat ons geroep het deur sy heerlikheid en mag geen geheime resep dus nie net, deurdat ons Hom ken.

       Om Jesus Christus te ken is ons geboortereg wat ons ontvang het, die dag toe Jesus ons geroep het. Hierdie woord roep is in die Grieks ʼn werkwoord wat in die aoristus vorm geskryf is - m.a.w., dit is ʼn aksie wat eenmalig plaasvind, maar met blywende gevolge. By wedergeboorte het ons dus hierdie krag ontvang en dit bly permanent teenwoordig en beskikbaar. Die antwoord is dus eenvoudig, ons ontvang hierdie krag deur Jesus Christus te ken.

       Die onmiddelike reaksie hierop kan dus wees dat indien ons nie oor die nodige krag beskik om geestelik te groei nie, dit a.g.v. ʼn gebrek aan kennis van Christus is, want Chirstus is die Bron vir geestelike krag en groei ~ Daarom, van die dag af dat ons dit van julle gehoor het, hou ons ook nie op om vir julle te bid nie. Ons vra God dat Hy deur al die wysheid en insig wat die Gees gee, julle sy wil duidelik sal laat ken, 10sodat julle tot eer van die Here sal lewe deur net te doen wat Hy verlang. Mag julle vrugte dra deur goeie werke en toeneem in die kennis van God (Kol.1:9-10). Paulus skryf verder aan die gemeente in Kolosse ~ My doel daarmee is dat (julle) bemoedig moet word. (Julle) moet met liefde aan mekaar verbind wees en saam strewe na diep en volledige insig, sodat hulle God se geheimenis kan ken. Die geheimenis is Christus, 3en in Hom is al die verborge skatte van wysheid en kennis te vind (Kol.2:2-3).

       Om Jesus te ken; om Jesus beter te leer ken; om van Jesus te leer; om Jesus te gehoorsaam dít is die sleutel tot ontsluiting van hierdie krag wat lei tot ʼn heilige lewe – ʼn heilige lewe wat God van elkeen verwag aan wie Hy uit genade en in oormaat die krag daartoe geskenk het. Ons gebed vir onsself en vir mekaar moet deurgaans dié van Paulus wees wat ons so pas gelees het vanuit Kol.1:9-10 en Kol.2:2-3. nl. dat ons sal toeneem in die kennis van God en dat ons sal strewe na n diep en volledig insig sodat ons God se geheimenis kan ken.

5.    DIE GEVOLG VAN DIE KRAG:
       Wanneer ons as gelowiges beklee word met God se geregtigheid word ons nuwe skepsele ~ Iemand wat aan Christus behoort, is n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom (2 Kor.5:17). Wie en wat is hierdie nuwe skepsele? ʼn Kennis van my (Philip du Toit) het sy doktorsgraad oor hierdie uitdrukking (die Beklee-metafoor) gedoen en hy sê o.a. (p.114 van sy verhandeling) dat Christus in ʼn besondere eenheid met diegene staan vir wie Hy gesterf en opgestaan het. Die mens deel nou ten volle in dit wat Christus vir hom of haar gedoen het en deel ook in dit wat met Christus gebeur het. Dit gaan oor ʼn identifkasie met Christus in terme van die effek van Christus se versoeningswerk deur Sy dood en opstanding, asook die implikasies daarvan vir die manier hoe die gelowige moet lewe. Alles wat waar is van die nuwe mensheid is dus ook waar van die gelowige.

       Ons word derhalwe en inderdaad, nuwe skepsele wat deel kry aan Chrstus se aard ~ Julle word egter nie deur julle sondige natuur beheers nie, maar deur die Gees, want die Gees van God woon in julle. As iemand die Gees van Christus nie het nie, behoort hy nie aan Christus nie (Rom.8:9). As ons deel kry aan Christus se aard, is dit nie meer ons wat lewe nie, maar Christus wat in ons lewe. Die vraag is weerspieël my lewe dit? Weerspieël my optrede Jesus Christus?

       Petrus sê in v.4 vir ons dat daar ʼn paar beloftes vir ons opgesluit lê indien ons die krag van God ervaar en aan Christus toegewyde lewens leef en let op dat hy sê dat hierdie beloftes, die kosbaartse en allergrootste geskenke ooit is hy sê ~ Deur dit te doen, het Hy ons die kosbaarste en allergrootste gawes geskenk wat Hy belowe het. Daardeur kan julle die verderf ontvlug wat deur begeerlikheid in die wêreld werksaam is, en deel kry aan die Goddelike natuur (v.4). 

        Die belofte van ontvlugting: Die eerste belofte waarvan Petrus getuig, is dié van ontvlugting - ontvlugting van die begeerlikhede van hierdie wêreld en dit opsigself is deel van die heiligmakingsproses. Hoe ver is jy al gevorder op hierdie pad van heiligmaking? Jou ontvlugting van die begeerlikhede van hierdie wêreld is ʼn aanduiding van hoe ver jy al gevorder is op hierdie pad.

       Weereens wat moet ons reaksie wees op hierdie beloftes en hierdie feite?
-        Vers 1 het reeds die eerste vereiste uitgespel, nl. geloof geloof wat ons uit genade deelagtig geword het.
-        Tweedens sien ons in v.4a dat ons moet vlug van die wêreld, bedoelende dat ons nie deel moet wees en deelneem aan die wêreld wat uit rebellie vervreem van God is nie ~ Moenie die sondige wêreld en die dinge van die wêreld liefhê nie. As iemand die wêreld liefhet, is die Vader se liefde nie in hom nie. 16Die wêreldse dingealles wat die sondige mens begeer, alles wat sy oë sien en begeer, al sy gesteldheid op besitkom nie van die Vader nie, maar uit die wêreld. 17En die wêreld met sy verleidelike dinge gaan verby, maar wie die wil van God doen, bly ewig lewe (1 Joh.2:15-17).

        Die belofte van verheerliking: Wanneer Petrus oor die tweede belofte in v.4 praat, raak hy die teologiese kwessie van die eskatologie aan (die leer van die laaste dinge). Hy skryf oor hierdie kwessie omdat daar vals leraars in die gemeente was wat n ekstreme kant van die eskatologie aangehang het.

       Ons vind vandag nog twee ekstreme kante van die eskatologie, nl. n onder-beklemtoonde eskatologie. Met hierdie uitgangspunt word die geweldige transformasie wat plaasvind in die verhouding tussen God en die mens a.g.v. Christus se lewe, dood en opstanding bloot net geïgnoreer. Hierdie groep mense benader God nog soos in die Ou Testamentiese tye, met die verskil dat daar nie meer diereoffers plaasvind nie, maar asemrowende geboue (katedrale) wat gebou word en daar word gebruik gemaak van  o.a. mistiese musiek, wierook, kerse, mantels en allerlei mistiese tekens en gebruike. Die gevoel wat so gelaat word, is dat God nogsteeds nie direk deur aanbidders genader kan word nie, behalwe deur n uitgesoekte klompie mense. Die enigste manier om God tevrede te stel is om streng wette en reëls na te kom - dít terwyl God reeds tevrede gestel is deur Jesus se soendood.

       Die ander faset van ekstreme eskatologie is dié van n oor-beklemtoonde eskatologie. Met hierdie uitgangspunt glo hulle dat alles wat belowe is vir die tyd ná Jesus se terugkeer, vandag alreeds n relaiteit is - bv. n sondelose toestand. Hierdie kan tog ook nie wees nie, omdat ons steeds te doen het met die vlees en sonde.

       In die lig van hierdie valsleraars se dwaling, skryf Petrus dan aan sy lesers dat hulle in die hier-en-die-nog nie tydperk lewe - die tydperk tussen Christus die Dienskeng en Christus die Here. Eendag sal ons verheerlikte liggame hê, maar intussen voer ons steeds die stryd teen sonde en intussen sterf ons nog. Petrus leer sy lesers dat hulle mense is en nie gode nie - ons is skepsele en nie Skepper nie (Gen.1:26).

       Ons is van nature rebels en jaag die vlees na en daar is maar net een manier om God se oordeel op ons rebellie te ontsnap en dit word deur Petrus in 2 Pet.3:10-12 beskryf ~ Maar die dag van die Here sal so onverwags soos 'n dief kom. En op dié dag sal die hemel met' n groot gedruis verdwyn, die hemelliggame brand en tot niet gaan, en die aarde met alles wat daarop moet is, vergaan. Aangesien al hierdie dinge so aan hulle einde gaan kom, julle des te meer vroom en aan God toegewy lewe. Leef in verwagting dat die dag van God kom en beywer julle daarvoor, die dag waarop die hemel in vlamme sal vergaan en die hemelliggame sal brand en wegsmelt. Hier is dit weer ~ julle (moet) des te meer vroom en aan God toegewy lewe. Leef in verwagting dat die dag van God kom en beywer julle daarvoor.

       Die keuse is ons sn - óf ons leef soos die wêreld wat deur God veroordeel gaan word, óf ons leef volgens die standaarde van Hom wat gaan oordeel.

       Hoe is dit moontlik? Deur die krag wat ons van Christus Jesus ontvang het!

6.    AFSLUITING:
       Geliefdes, ons moet die Heilige Gees vra om ons aanspreeklik te hou (accountable) t.o.v. hierdie genadige geskenk van krag om heilig te lewe - ons moet Hom m.a.w. vra om ons op ons sonde te wys, sodat ons dit kan bely en ons bekeer, ten einde heilige lewens te leef. Dit eindig egter nie daar nie - ons moet ook ons broers en suster vra om ons aanspreeklik te hou en wat meer is; ons moet met dankbaarheid toelaat dat broers en susters in ons lewe inspreek (Matt.18) waarom is dit nodig?
    Sodat ons tot eer van God kan leef;
    Sodat ons kan groei in heiligmaking;
    Sodat die Bruid van Christus suiwer kan bly;

    Sodat die beloftes soos uitgelig deur Petrus n realiteit in ons lewe kan wees en word, nl. om die verderf (te kan) ontvlug wat deur begeerlikheid in die wêreld werksaam is, en deel (te kan) kry aan die Goddelike natuur.

Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te VAALDRIEHOEK Gereformeerde Baptistegemeente  Sondagoggend 01 Februarie 2015

Saturday, 24 January 2015

Die Profeet Sagaria - 08 (“Die Loot”)

1.     INLEIDING:
       Die naggesigte wat Sagaria tot nou gesien het, was grootliks bemoedigend, maar dit het nie te veel troos vir die huidige inwoners van Jerusalem op daardie tydstip gebring nie, want dit is een ding om swaar te kry en die beloftes van die Here te hoor en dit kom in vervulling, maar dis iets anders as die beloftes nog nie in vervulling gekom het nie en jy steeds die swaarkry aan jou lyf voel – en dit was presies die geval met die volk van die Here in die tyd dat Sagaria die gesigte van die Here ontvang het.

       Is dit nie maar grootliks ook die geval met ons nie – ons ervaar swaarky van allerlei aard en omvang en dan word daar gereeld hier “van voor af” gesê dat ons ʼn ewigheidsperspektief moet ontwikkel, maar dit bring nie altyd die nodige bemoediging en oplossing vir my probleem nie, want wat ek nou ervaar is nie wat ek eendag sal ervaar nie, maar ek is nou hier in die nou en nie daar in die ewigheid nie.

       Wat die Judeërs aan betref – baie van hulle was nog in Babilon en kon nog nie op daardie stadium terugkeer na Jerusalem nie. Diegene wie reeds terug was in Jerusalem het nog nie ʼn tempel gehad waar hulle kon aanbid nie; hulle het nog nie ʼn koning nie; hulle goue voorwerpe wat in die tempel was en wat nodig was om God te aanbid en Sy teenwoordigheid te ervaar, was weggevoer – in kort, die volk kry swaar; hulle is verarm en hulle kan God nie aanbid soos hulle wil en moet nie – hoe nou verder?

2.     SKRIFLESING:
Sag.6:9-15 ~ Die woord van die Here het tot my gekom en gesê: 10Gaan vandag nog na die huis van Josia seun van Sefanja toe waar die ballinge Geldai, Tobija en Jedaja uit Babel aangekom het 11en kry by hulle silwer en goud. Maak dan daarvan ’n kroon en sit dit op die kop van die hoëpriester Jesua seun van Josadak. 12Dan moet jy vir hom sê: So sê die Here die Almagtige: Daar is ’n man met die naam Loot. Hy maak vinnig opgang en hy sal die tempel van die Here bou. 13Dit is hy wat die tempel van die Here sal bou, dit is hy wat die mag sal besit, wat op die troon sal sit en sal heers. ’n Priester sal saam met hom regeer en daar sal vriendelike oorleg tussen hulle twee wees. 14Die kroon moet in die tempel van die Here bly as ’n gedagtenis aan Geldai, Tobija en Jedaja en aan die goeie gesindheid van die seun van Sefanja. 15Mense sal van ver af kom en aan die tempel van die Here bou, sodat julle sal weet dat die Here die Almagtige my na julle toe gestuur het. Dit sal gebeur as julle in alles gehoorsaam is aan die Here julle God.

3.     SAGARIA – WAT OM TE DOEN:
       Te midde van God se volk se swaarkry en dilemma gee Hy opdragte aan Sagaria oor wat om volgende te doen. Hy verwys hom na die huis van Josia, seun van Sefanja, waar drie manne pas uit ballingskap vanaf Babel in Jerusalem aangekom het en hierdie drie manne het silwer en goud by hulle gehad – silwer en goud wat hulle vanaf Babel saamgebring het. Ons sien in Esra 1 :7-11 dat Sesbassar deur Kores (Cyrus) aangestel was as eerste goewerneur in Juda en hy het opdrag van Kores ontvang om al die goud en silwer wat deur die Babiloniërs weggevoer was, terug te neem na Jerusalem. Hierdie drie manne het waarskynlik intussen en in opdrag van Sesbassar van die goud en silwer solank na Jerusalem geneem. Sagaria ontvang ʼn boodskap van die Here dat hy hierdie goud en silwer moes gaan haal.

       Sagaria se opdrag het ook behels dat hy dieselfde dag nog hierdie drie manne moes besoek, want daar was nie tyd om vermors te word nie en dit plaas die klem op die belangrikheid van dít wat verder gedoen moes word met hierdie goud en silwer.

       Ons lees in v.11 van ene Jesua (of Josía soos dit in die OAV vermeld word) en hierdie man is net so onbekend soos die drie ballinge wat terug gekeer het uit Babilon. Ons vind tog egter ʼn wenk oor wie dit moontlik mag wees in die verwysing na die feit dat hy die seun van Sefanja was. Sefanja word ook in 2 Kon.25:18 vermeld en daar sien ons dat Sefanja die “tweede-in-bevel” hoëpriester was tydens die ballingskap en daarom kan aanvaar word dat Josía die tweede priester in Jerusalem was, tydens die gebeure waarvan ons gelees het en derhalwe was die huis van Josía dan ook die ideale plek vir die simboliese seremonie waarvan daar in v.11 sprake is, nl. die kroning van die hoëpriester. Wat ons egter verseker weet, is dat Josía voortaan ʼn baie belangrike rol in die lewen van die Israeliete sou speel.

       Nadat Sagaria die goud en silwer as bydraes van die drie manne ontvang het, maak hy ʼn kroon of krone daarvan – ek sê krone omdat hierdie woord in sy oorspronklike vorm in die meervoudsvorm geskryf was. Hier is weereens baie redenasies waarom die enkelvoud eerder gebruik moet word en waarom nie, ek wil egter net kortliks die volgende daarop sê:
·           Daar was twee metale teruggebring van Babilon;
·           Beide metale moes gebruik word om die opdrag uit te voer;
·           Die hoëpriester se kroon het altyd net uit goud bestaan ~ Hy het die tulband om sy kop gesit en die goue blom aan die voorkant van die tulband vasgesit as ’n besondere wydingsteken. Dit is alles gedoen soos die Here Moses beveel het (Lev.8:9 – sien ook Eks.39:30).
·           Die Ou Testamentiese konings se krone het ook net uit goud bestaan – ons sien in Ps.21:1-3 dat Dawid hom verheug het in die goue kroon wat die Here aan hom gegee het. In Ester 8:15 lees ons van Mordegai se goue kroon ~ Mordegai het van die koning af weggegaan in ’n koninklike kleed van blou en wit linne, met ’n groot goue kroon op, en ’n mantel van fyn linne en pers stof aan. Die stad Susan het gejubel en gejuig.

       Op die oog af lyk dit dus asof hier twee verskillende krone gemaak moes word, maar kan ʼn mens ook aanvaar dat hier net een kroon ter sprake was, maar omdat ons nie regtig uit die konteks kan agterkom vir wie so ʼn tweede kroon gemaak moes word nie, is die moontlikheid  aanloklik om die opsie van net een kroon wat gemaak moes word, te aanvaar, maar dat die kroon uit beide metale moes bestaan – maar netnou meer hieroor.

       Dit is baie belangrik om daarop te let dat die twee ampte van koning en priester altyd apart van mekaar gehou was – daar was dus nooit ʼn koning wat terselfdertyd koning en hoëpriester was nie (of andersom nie) en wat meer is, die hoëpriesters het almal altyd uit die stam van Levi gekom en die konings uit die stam van Dawid. Hierdie saak was so ernstig dat toe Saul in 1 Sam.15 besluit het om self ʼn brandoffer in Samuel se afwesigheid in die tabernakel te bring, het die Here hom as koning uit sy amp verwyder.

       Sagaria was egter ʼn uitsondering op die reël, want hy was nie alleen ʼn profeet nie, maar hy het ook diens gedoen in die tempel. In Sag.1:1 sê hy dat hy seun van Berekja, seun van Iddo is. Iddo was die hoof van die priesterlike families wat uit ballingskap gekom het (Neh.12:4, 16) – dit het dus van Sagaria ʼn priester gemaak. Sagaria het egter terselfdertyd ook uit die nageslag van die koninklike familie van Dawid gekom.

       Ons moet ook in gedagte hou dat die volk se hoop op die koms van die Messias op hierdie stadium na ʼn lang tydperk van baie swaarkry in ballingskap, baie hoog was en baie mense het waarskynlik gedink dat Sagaria die uiteindelike Messias is, omdat hy by wyse van spreke en soos ons nou net gesien het, oor beide koninklike- sowel as priesterlike “bloed” beskik het – ʼn “volmaakte” getuigskrif en “kwalifikasie” derhalwe, om geïdentifiseer te word as die Joodse Messias. Ons sien ook die uitdrukking “Loot” (of Spruit – OAV) in Sag.6:12-14 – die Loot wat sou regeer en die tempel bou (lw. nie herbou nie) – hierdie profesie pas dus vir Sagaria soos ʼn handskoen, want hy is betrokke by die herbou van die tempel.

       Iets wat nog verder kon lei tot die oortuiging dat Sagaria die Messias is, kan gegrond word op dit wat in Ps.110 deur Dawid voorspel is, nl. dat die Messias, beide Koning en Priester volgens die orde van Melgisedek sou wees – koning en priester dus van Salem – die plek wat later Jerusalem geword het. Wat die volk waarskynlik nie verder onthou het nie, is die woorde in Hebr.7:1-3 wat sê dat Melgisedek nié oor ʼn geslagregister beskik het nie en daarom kon Sagaria nie die Messias gewees het nie, omdat Sagaria ʼn aangetekende en bekende geslagsregister gehad het.

       Maar terug na die twee metale en die krone. Ons het netnou gesien dat daar twee krone gemaak moes word en dit word gegrond op die tekskritiese feit dat die meervoudsvorm gebruik word wanneer hier gepraat word van “krone”. Ons kan dus aanvaar dat twee verskillende krone gemaak moes word – een van goud (die hoëpriesters en konings se krone was van goud) en nog ʼn kroon, gemaak van silwer. Ons teks sê ook wie moet watter een kry, nl. die goue vir die hoëpriester Jesua en die ander vir die man genaamd “Loot” of “Spruit”.

       Wie is hierdie “Loot”? Is dit Serubbabel wat in 538 v.C. uit ballingskap terug gekeer het en begin het om die tempel te herbou, of was hierdie kroon bestem vir ʼn ander onbekende persoon – óf dalk ʼn anonieme Messiaanse figuur in die toekoms?

       As ons na Jer.23:5 kyk, sien ons ʼn verwysing na hierdie “Spruit” ~ Daar kom ’n tyd, sê die Here, dat Ek vir Dawid ’n regverdige spruit sal laat opskiet, ’n koning wat verstandig sal regeer. Hy sal die reg eerbiedig en regverdig regeer in sy land. In Sag.6:8 lees ons dat hierdie “Loot” die tempel van die Here sal bou. Dit wil dus op die oog af lyk asof Serubbabel die een is wat hierdie tweede kroon moet kry, want hy is die volk se leier op die stadium en hy herbou die tempel. Dit kan egter ook nie hy wees nie, want na koning Sedekia wat 11 jaar geheers het (597-586 V.C.) weet ons, was daar nooit weer ʼn koning wat oor Israel geheers het nie. Die enigste ander moontlikheid is derhalwe dat hierdie “Loot” ʼn Messiaanse figuur is wat nog in die toekoms voorlê, trouens Ps.110 praat reeds hiervan, wanneer Dawid voorspel dat hierdie Messias, beide koning en priester sal wees – vv.1-2 ~ Die Here het vir my heer die koning gesê: “Kom sit aan my regterhand, en Ek sal jou vyande aan jou onderwerp.” 2As die Here die septer, simbool van u mag, uit Sion aan u oorhandig, heers dan oor u vyande! V.4 ~ 4Die Here het ’n eed afgelê en Hy sal dit nie herroep nie: “Jy sal altyd priester wees in die priesterorde van Melgisedek.”

       Daar kan maar net Een wees wat aan hierdie beskrywing voldoen en dit is die Messias, Jesus Christus. Dit is dan ook so dat ons in Luk.1:32-33 sien dat die Here God aan Hom die troon van sy vader Dawid sal gee, en Hy sal Koning wees oor die huis van Jakob tot in ewigheid.

4.     SAGARIA – WAAROM DIT DOEN?
       Waarom moes Sagaria die goue koninklike kroon op die hoëpriester Jesua se kop plaas as daar nie meer ʼn koning in Israel sou wees nie? Die antwoord hierop is baie eenvoudig – dit was ʼn simboliese handeling, want dit het gesimboliseer dat die “Loot”, beide ons Koning sowel as ons Priester sou wees – die twee krone verteenwoordig dus ʼn dubbele beeld, maar voortaan sou daar net ʼn Koninklike kroon wees – een kroon wat baie krone verteenwoordig en baie koninkryke van die wêreld oor wie die Hoëpriester en Koning sou regeer.

       Vv.12-13 is dus ʼn profetiese vooruitskouing van Jesus Christus, die ewige en enigste Messias wat sou kom. Ene prof. C. Feinberg, ʼn uitstaande Messiaanse Jood en kenner van die Ou Testament, beklemtoon die betekenis van hierdie twee verse só: “Dit is een van die mees merkwaardige en kosbaarste Messiaanse profesieë, en daar is nie ʼn duideliker profetiese uitspraak in die hele Ou Testament oor die Persoon van die beloofde Verlosser, die ampte wat Hy sal beklee en die taak wat Hy sal verrig nie.”

       Spoedig sal die magtige Priester-Koning van Israel én die hele wêreld kom om sy vyande te oordeel, die oorblyfsel in Israel te red en die wêreld uit die hemelse Jerusalem te regeer. Sy heiliges sal sy heerlikheid met Hom deel en saam met Hom as konings regeer.

       Hierdie hele profetiese drama wat hom in ons gelese gedeelte afspeel, gaan dus glad nie oor Sagaria, óf Jesua, óf Serubbabel en ook nie oor Josía nie, maar eerder oor dié Een wie Jesua verteenwoordig – dié Een na wie Jesua heenwys, nl. Jesus die Christus.

5.     DIE LOOT SE AMPTE:
       Wie en wat is ons Loot, Jesus Christus?
·           Christus is Koning: As Koning dra Christus ʼn kroon. Met Sy eerste koms het Hy ʼn doringkroon gedra, maar met Sy tweede koms sal Hy die kroon van heerlikheid dra en kom om te heers ~ Sy oë het soos vuur gevlam, en op sy kop was daar baie heerserskrone. Daar was ’n Naam op Hom geskrywe wat niemand anders ken nie, net Hy self (Openb.19:12). Christus is dus ons Koning.
·           Christus is Hoëpriester: In v.13 van ons Skriflesing, lees ons dat Hy Priester op Sy eie troon sal wees en as Priester tree Hy op as tussenganger tussen die heilige God en die sondegevalle mens. Jesus moes o.a. ook Mens word ten einde met ons te kan identifiseer, sodat Hy tot God kan nader namens ons ~ Daarom moes Hy in elke opsig aan sy broers gelyk word, sodat Hy ’n barmhartige en getroue Hoëpriester voor God kon wees om die sondes van die volk te versoen (Hebr.2:17). Christus is derhalwe ook Hoë Priester.

       Die priesters tydens die Aäronitiese bedeling het nooit gesit terwyl hulle in die Tempel was nie (daar was geen stoele nie) omdat hulle werk nooit afgehandel was nie. Hulle moes voortdurend sondeoffers gebring het vir hul eie sonde en dié van die volk sʼn, terwyl Jesus net één offer gebring het en dit was ʼn voldoende offer- en ʼn aanvaarde offer vir God en daarom sit Hy nou aan die regterhand van God  ~ Maar Jesus Christus het één offer vir die sondes gebring en vir altyd aan die regterhand van God gaan sit. 13Nou wag Hy daar totdat sy vyande aan Hom onderwerp is (Hebr.10:12-13).

       In die lig hiervan, sal geen mens ooit volkome vrede kan ervaar as Jesus Christus nie beide Koning én Hoëpriester in sy of haar lewe is nie, want ons het ʼn volmaakte Hoëpriester nodig om die volmaakte offer te bring, ten einde ons skuld voor God te hanteer en wanneer jy jou volle vertroue in Hom stel, dan is daardie offer op jou van toepassing.
 omHo
· 
       Jy en ek het egter ook ʼn Koning nodig om oor jou lewe te heers en aan wie jy jouself moet onderwerp – Hy is beide Koning en Hoëpriester en daarom kom alle lof en eer Hom alleen toe.

6.     DIE LOOT SE TEMPEL:
       V.12 eindig met dit waarmee v.13 begin, nl. dat “die Loot”,  die tempel self sal bou – met die herhaling van hierdie feit word die klem geplaas op die feit dat Christus self Sy tempel (Sy Kerk) bou. Die gedagte met hierdie herhaling was enersyds om die moeë werkers wat aan die herbou van die tempel deelgeneem het, te bemoedig om hul werk te voltooi. Dit wys egter ook heen en veral, na die Kerk wat Christus bou ~ En Ek sê vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my kerk bou, en die magte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie (Matt.16:18). Natuurlik is hierdie Kerk, ʼn geestelike tempel (Ef.2:21), waarheen al die nasies van die wêreld sal stroom (bedoelende al die uitverkorenes uit al die volke en nasies en tale – sien Jes.2:1-4; 56:6-7; Eseg.40:48; Miga 4:1-7; Hag.2:7-9).

       Die hoof gedagte met die Tempel is om heen te wys na God se woonplek onder Sy kinders, die plek waar Sy heerlikheid en teenwoordigheid onder Sy kinders weerspieël was. Die objekte in die Tempel het Sy karakter verteenwoordig en dit alles dui vir ons aan in watter gesindheid ons tot Hom moet nader. Die Ou Testamentiese Tempel was die naaste “iets” waar mense God kon sien en die wonderlike is dat ons as gelowiges onder die nuwe Verbond, nou self die Tempel van die lewende God is – die Tempel is nou ín ons ~ Hoe kan ’n ooreenkoms tot stand kom tussen die tempel van God en afgode? Ons is immers die tempel van die lewende God. Dit is soos God gesê het: “Ek sal onder hulle woon en wandel, en Ek sal hulle God wees en hulle sal my volk wees” (2 Kor.6:16) en 1 Pet.2:5 ~ Laat julle as lewende stene opbou tot ’n geestelike huis, om ’n heilige priesterdom te wees en geestelike offers te bring wat deur Jesus Christus vir God welgevallig is.

7.     DIE LOOT SE VOLGELINGE:
       In v.15 lees ons ~ Mense sal van ver af kom en aan die tempel van die Here bou, sodat julle sal weet dat die Here die Almagtige my na julle toe gestuur het. Hier word daar verwys na mense wat van ver gaan kom en aan die tempel gaan werk en dit dui op die impak wat die gelowiges van oor die hele wêreld op die kerk van Christus gaan hê – Openb.21:24-26 ~ Die nasies sal in die stad se lig lewe, en die konings van die aarde verleen luister daaraan. 25Die poorte daarvan word gedurende die hele dag nooit toegesluit nie: daar sal nie meer nag wees nie. 26Die mense sal luister en die rykdom van die nasies daarheen bring.

8.     AFSLUITING:
       Ter afsluiting kan ons net kortliks na die laaste gedeelte na v.15 kyk ~ Dit sal gebeur as julle in alles gehoorsaam is aan die Here julle God. Hierdie is een van daardie “indien-beloftes” waarna ons die afgelope Woensdag gekyk het nl. daardie beloftes wat voorafgegaan word deur die woord “indien”, of “as”, of o.a. die uitdrukking, “Jy moet, dan…”. Wanneer ons so ʼn belofte sien moet ons weet dat dit bepaalde gehoorsaamheid vereis, voor ons kan verwag dat die belofte vervul sal word in of deur my lewe.

       Indien daar sulke “indien- beloftes” is en ons ignoreer die voorwaardes, moet ons ook weet (al neem ons nie die belofte vir onsself nie) dat ons ongehoorsaam is. Ons is m.a.w. baie keer geneig om die belofte vir onsself toe te eien, maar ons vergeet gerieflikheidshalwe van die voorwaardes van swaarkry indien ons nie aan die voorwaardes voldoen nie.


       Net so met die vervulling van die belofte in v.15, nl. ~ Dit sal gebeur as julle in alles gehoorsaam is aan die Here julle God. Die Here sal toesien dat Sy planne vir die herstel en opbou van Jerusalem en die tempel volgens plan verloop, maar die voorwaarde is dat die volk na Sy opdragte sal luister. Presies dieselfde geld vir ons vandag – indien ons verlang dat die Here ons herstel en opbou moet ons ook na Sy opdragte luister – moet ons na Sy Woord luister en dit gehoorsaam, want dan sal Hy ons, wat nou Sy tempel is, opbou in die allerheiligste geloof.

Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Sondag 25 Januarie 2015