Sunday, 15 March 2015

Psalm 90 (“Nie net Redding nie Here, maar ’n Vol Lewe”)

1.   SKRIFLESING:
      Ps.90 ~ 'n Gebed van Moses, die man van God. Here, U was vir ons' n toevlug van geslag tot geslag. 2) Voordat die berge gebore is, voordat U die wêreld voortgebring het, ja, van ewigheid tot ewigheid is U God! 3) U laat die mens sterwe:U sê net: "Word weer stof!" 4) Duisend jaar is vir U soos gister as dit verby is, soos een enkele wagbeurt in die nag. 5) U maak 'n einde aan' n mens, hy gaan die doodslaap in. Hy is soos gras wat in die môre afgesny word: 6) in die môre is dit nog groen, maar dit word afgesny en teen die aand is dit verlep en dit verdroog. 7) Ons vergaan onder u toorn, ons gaan te gronde onder u gramskap. 8) U sien ons oortredinge raak, U bring die sondes wat ons wou wegsteek, aan die lig. 9) Onder u toorn vlieg ons dae en skiet ons jare verby soos 'n gedagte. 10) Ons lewe maar sewentig jaar, of, as ons baie sterk is, tagtig, en dié is vol swaarkry en leed. Dit is gou verby, ons vlieg na ons einde toe. 11) Wie ken die krag van u toorn beter as u dienaars? Wie ken u gramskap beter? 12) Leer ons ons dae so gebruik dat ons wysheid bekom. 13) Hoe lank nog, Here, voordat U ons te hulp kom? Ontferm U tog oor ons. 14) Skenk ons elke dag u liefde in oorvloed, dat ons ons lewe lank mag juig en bly wees. 15) Soveel dae as dié waarin U ons verdruk het, soveel jare as dié waarin ons gely het, gee ons soveel jare van blydskap. 16) Laat u werk vir ons duidelik word en u grootheid vir ons kinders. 17) Laat ons die goedheid van die Here ons God belewe:hou die werk van ons hande in stand, ja, die werk van ons hande, hou dit in stand.

2.   INLEIDING:
      Hierdie Psalm is ’n gebed van Moses en is op die oog af seker die somberste stuk wat hy ooit geskryf het - maar tog is dit ook nie. Hierdie Psalm handel oor die realiteit van die donker tonnel wat vir elkeen van ons voorlê van ons geboorte, tot en met die  onafwendbare en uiteindelik dood van elke siel op aarde, (behalwe natuurlik diegene wie Christus se wederkoms lewend gaan beleef) en met die wederkoms gaan elke verlore siel, die ewige en soewereine God se toornige oordeel beleef. Daarteenoor gaan diegene wie in Christus Jesus is, God se onverdiende en onbeskryflike genade ervaar en dit is die ligpunt in hierdie oëskynlike somber Psalm. Hierdie gebed van Moses is dus beide ’n klaaglied of ’n weeklag, sowel as ’n loflied.

      Ten einde hierdie aanvanklik somber gebed van Moses beter te verstaan, moet ons na die historiese agtergrond kyk waarteen dit geskryf is. As ons na Numeri 20 kyk, sien ons dat Moses verskeie hartseer gebeurtenisse rondom hom ervaar. In v.1 van Num.20 lees ons dat sy geliefde suster Miriam dood is. Ons moet in gedagte hou dat Moses op die stadium rondom Miriam se dood, nog net vir haar en sy broer Aaron, asook Kaleb en Josua oor gehad het, met wie hy herinneringe uit die volk se tyd in Egipte kon deel - op hierdie stadium was almal wat saam met hulle in Egipte gewoon het, reeds dood - sy oorspronklike familie en volksgenote is nie meer met hom nie.

      Sy hartseer eindig egter nie hier nie, want in vv.2-13 sien ons hoe Moses ongehoorsaam was aan die Here, deurdat hy die Rots van Meriba geslaan het, terwyl hy dit net moes aanspreek. Vir 38 jaar het die 120 jaar oue Moses die Here getrou gevolg en die volk geduldig gelei - hulle is amper in die Beloofde Land, maar nou, hier by Meriba word sy geduld beproef en knak hy, want hy hy kan dit net nie meer hanteer dat die murmerende volk nie meer geduldig vashou aan God se beloftes - soos hulle voorvaders wat saam met Moses uit Egipte getrek het nie - hulle het net nie meer dieselfde visie en roeping as oupa en ouma nie (klink dit bekend - as ons dink aan die Hugenote en selfs geslagte daarna nog - mense met ’n roeping en ’n visie, maar as ons hulle vergelyk met ons huidige geslag, dan kry ons so bietjie meer simpatie vir Moses - nie waar nie?). Wat was die gevolg van Moses se ongeduld en ongehoorsaamheid? Hy sou op die berg Nebo sterf en derhalwe ook nie die Beloofde Land binne kon gaan nie (Deut.34).

      Laastens in Num.20:22-29 het Moses ook sy broer Aaron aan die dood afgestaan. ’n Maand van treur of ’n geweeklaag het hierop gevolg. Vir veertig jaar het die twee broers saam gewerk en nou is die laaste lid van Moses se familie ook weg.

      Hierdie hartseer momente word regdeur die Psalm gehoor, maar dit het nie een keer ’n toon van verietiging, of bitterheid, of pessimisme nie - somber ja, maar nooit sonder hoop nie.

      Soos Num.20, handel Ps.90 ook oor die korstondigheid en verganklikheid van die mens, maar terselfdertyd ’n stille vertroue  in God, wie die vaste hoop vir die Regverdiges is.

      Bitter min mense deur die geskiedenis heen, het God waaskynlik so goed geken soos Moses, want Moses het God intiem geken, wat meer is, hy het “mond tot mond” met God by meer as een geeentheid gepraat (Num.12:8).

3.   GOD IS EWIG (vv.1-2):
      Ten spyte van sy hartseer en andersyds omdat hy God so goed ken, begin hy hierdie gebed van hom met ’n loflied oor God en praat hy direk met Hom. Hy sê vir die Here dat hy en die Israeliete (God se volk) vir veertig geen aardse woning gehad het nie, maar dat die Here deurgaans hulle toevlug en skuiling (woonplek) was.

      Ongeag hierdie situasie (of dalk juis a.g.v hierdie situasie) verklaar Moses dat sy siel rus in die Here en dat geslagte kom en gaan - dat die mens kom en gaan, maar God is ewig - Hy is ewig daar en daarom elke oomblik van die mens se lewe, is Hy daar, ook in tye van onsekerheid, en ook wanneer die mens die dal van doodskaduwee betree. Trouens in v.2 verklaar hy dat God al voor die skepping daar was - voor enige iets daar was, was God alreeds. In ’n voortdurend veranderende wêreld is God die enigste onveranderlike. Daar was nog nooit ’n tyd dat God nie was nie en daar sal ook nooit ’n tyd wees dat God nie is nie! Hy sal vir ewig God wees!

4.   GOD IS SOEWEREIN (vv.3-6):
      In v.3 draai Moses geen doekies om nie en sê hy dat, in skrille kontras met God, die mens niks meer as blote stof is nie. Die mens is deur God uit stof geformeer (Gen.2:7; 3:19) en aan die einde van sy lewe sal die mens maar net weer terugkeer na stof - God het die mens geskep en God is die Een wat die mens se lewe beheers en God is die Een wat die mens se lewensdae bepaal - God is dus soewerein.

      In v.4 draai Moses die fokus weg van die soewereine God en fokus hy op die verganklikheid van die mens en kan ’n mens wonder oor wat hy nou eintlik wil sê, maar as ons na die onmiddellike konteks kyk (v.3) dan dui dit ook vir ons op die skrille kontras tussen die kortstondigheid van die mens se lewe aan die eenkant en God se ewigheid aan die anderkant - vir God is ’n duisend jaar soos een nagwaak en daarom is die mens se lewe hier op aarde in ’n oogwink verby - soos ’n nag se slaap, of soos hy in v.6 sê, so kortstondig soos gras ~ …in die môre is dit nog groen, maar dit word afgesny en teen die aand is dit verlep en dit verdroog. Jesaja sê in Jes.40:6-7 ~ Alle mense is soos gras, alles waarop hulle staatmaak, is soos 'n veldblom: gras verdor en blomme verwelk as die Here sy wind daaroor laat waai. "Dit ís so, die volk is soos gras.

      Die gevolg van die mens se sonde is dus die doosdvonnis wat God oor Adam uitgespreek het in Gen.2 en 3. God is soewerein en ewig - die mens is sterflik en sy lewe van korte duur - hy is niks in vergelyking met God nie!

5.   GOD IS TOORNIG (vv.7-12):
      In die derde gedeelte van hierdie Pslam, nl. vv.7-12 erken Moses dat die mens se grootste probleem nie sy verganklikheid (“frailty”) is nie, maar die feit dat hy onder die toorn van God staan, omdat hy sondaar is - dit is juis sy sonde wat die oorsaak is van sy dood, soos ons netnou reeds in Gen.2 en 3 gesien het.

      Die Israeliete was ongehoorsaam aan God in die wildernis, trouens hulle het hulle geloof in God versaak en hulleself oorgegee aan agodediens en as gevolg daarvan, het hulle met God se toorn te doen gekry, deurdat hulle daar in die woestyn gesterf het en gevolglik nie deel gehad aan die verbondsbelofte wat aan Moses gemaak was nie, nl. die inbesitneming van die Beloofde Land (hierdie is weereens ’n klassieke voorbeeld daarvan dat daar gevolge is vir diegene met wie God ’n verbond sluit, maar wie nie die voorwaardes van die verbond nakom nie).

      Moses sê dat geen sonde vir God weggesteek kan word nie Dit is dan ook waarom die Hebreërskrywer in Hebr.4:13 sê ~ Daar is ook niks in die skepping wat vir God onsigbaar is nie; alles lê oop en bloot voor sy oë. En aan Hom moet ons rekenskap gee.

      God se morele reaksie op ongehoorsaamheid en sonde is Sy toorn. Omdat Hy ’n heilige God is, kan en mag Hy nie sonde ongesiens laat verbygaan nie en dit is nie net “groot” volksondes, of individuele openlike sonde nie, dit is ook privaat sonde - daardie sonde wat net ek van weet …en God - dit is waarom Dawid in Ps.19:13 bid en vir die Here vra ~ Wie sien sy eie dwalinge raak? Moet my tog nie straf vir sondes wat ek onwetend gedoen het nie.

      In v.10 maak hy melding van die kortstondigheid van die mens se lewe wanneer hy sê dat die mens maar net sowat 70 jaar lank lewe en as hy sterk is, 80 en dan kom die onfwendbare dood.
     
      Moses is ietwat sinies wanneer hy voortgaan in v.10 en sê dat hierdie lewe verbyvlieg en dan gaan dit nog gepaard met moeite en verdriet ook! Agter hierdie woorde van Moses lê die realiteit van ’n lewe wat in ’n oogwink verby is en dan is hierdie kort lewe nog boonop vol van mislukkings ook - ’n lewe waar bykans niks regtig bereik is nie.

      Omdat Moses bang is dat Hy die Here aanstoot kon gee met sy sinisme, gee hy dadelik erkenning aan die feit dat God heilig is en dat Hy sonde haat en dan bring hy dit in v.11 in verband met de volk se beproewing en lyding in die wildernis en sê hy dat as daar nou iemnad is wat besef wat God se toorn en gramskap op sonde is, dan is dit hy en sy volksgenote. Hy sluit dan ook vv.11-12 af deur te vra dat die Here hulle sal leer om die res van hulle lewe reg te leef, sodat hulle in wysheid kan groei.

      Wat sê Moses met hierdie woorde? Hy sê dat die beste manier om nie aanstoot aan God te gee nie, is om oor die regte begrip van God se toorn te beskik. Om dus te besef dat die lewe kort is en die tyd behoorlik uitgekoop moet word, sodat ons nie aanstoot aan God sal gee nie, sal Goddelike wysheid tot gevolg hê wat God tevrede sal stel (netnou meer hieroor). Geen wonder dat Paulus in Ef.5:16 ook gesê het ~ …Maak die beste gebruik van elke geleentheid, want ons lewe in 'n goddelose tyd.

      Moses se gebed gaan dus daaroor dat die Here hulle moet help, sodat hulle hul kort lewens só sal deurbring dat hulle God nie aanstoot gee nie en dat hulle in wysheid sal groei en derhalwe nie hul kort lewens sal mors op tydelike verbygaande beuselagtighede nie, maar om in die ewigheid te belê.

6.   GOD IS GENADIG (vv.13-17):
      Hierdie gebed van Moses sluit in vv.13-17 af met ’n pleitrede om God se genade, wanneer hy sê ~ …Keer terug Here! (OAV). Letterlik vra hy dat die Here weer Sy genade en Sy liefde oor hulle sal uitstort voor hulle sterf, want hierdie straf waaronder die volk gebuk gaan, hou nou te lank aan en hulle kan nie meer nie!

      Waarom die NAV v.14 vertaal het met, …skenk ons elke dag…, weet ek nie, want die OAV en die meeste gesaghebbende Engesle vertalings vertaal dit korrek, wanneer dit sê ~ Versadig ons in die môre… Die ESV en die NASB sê ~ Satisfy us in the morning… Moses vra dus dat die Here gou sal maak om genade teenoor hulle te betoon - sommer vroeg-vroeg al, want die nag van swaarkry en God se toorn was lank.

      Hy vra dat die Here hul swaarkry sal verander in blydskap en jubeling en wat meer is, hy vra dat die Here hulle nie net vir ’n kort tydjie sal seën met blydskap nie, maar dat die tyd van blydskap net so lank as die tyd van swaarkry sal wees (v.15).

      In vv.16-17 sluit Moses sy gebed af deur te vra dat die Here Sy werk, m.a.w. God se genade en daarom Sy grootsheid, sigbaar sal laat word in hulle midde en wat meer is, hy vra dat hulle nageslag dit ook sal ervaar.

      Moses het sy roeping volvoer, maar nou vra Hy om genade, sodat die Israeliete, as volk gevestig kan word.

      Hierdie genade en liefde en vreugde waarom hy vra gaan nie net daaroor dat hulle uit die wildernis waarin hulle al veertig jaar ronddwaal, verlos moet word en dat hulle dadelik die Beloofde Land binne gebring moet word nie - hy vra dit nie - nee, dit gaan daaroor dat Moses vra dat God Sy toorn oor hulle sal beëindig en al moet hulle dan nog vir veertig jaar in die wildernis deurbring, dat dit onder Sy genade en liefde sal wees en dat hulle in daardie tyd God se vreugde deelagtig sal wees, omdat hulle as volk doen wat reg is; dit waartoe hulle geroep is en dit wat God sal verheerlik.

7.   AFSLUITING:
      Hierdie gebed van Moses erken die kortstondigheid van die mens se lewe en leer ons, dat ons, ons kort lewe, só sal leef soos wat dit God se uitverkorenes betaam.

      As ons egter ons lewe wil deurbring soos wat dit “God se uitverkorenes betaam”, moet ons verstaan wat ons redding werklik beteken - wat die Evangelie van Jesus Christus werklik beteken, want dit is in essensie wat Moses se gebed ook behels het - Nie net redding nie Here, maar ’n vol lewe.

      Daar is baie mense en baie kerke wat ’n enkelvoudige, of eenvoudige Evangelie verkondig en ons moet versigtig wees dat ons nie ook daarin verval nie. Die Evangelie kan opgesom word in die woorde van Rom.1:17 en dit is wat derduisende gelowiges glo en dit is gladnie verkeerd nie, trouens dit ís, soos gesê die kruks van die Evangelie ~ In die evangelie kom juis tot openbaring dat God mense van hulle sonde vryspreek enkel en alleen omdat hulle glo. Dit is soos daar geskrywe staan: "Elkeen wat deur God vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe. Uit genade is julle gered, omdat julle glo en daarom sal julle die ewige lewe beërwe - dit is wat derduidende gelowiges glo en lewe (uitverkorens - l.w. hulle ís gered), maar die Evangelie gaan nie nét daaroor nie, want as dít ons standpunt is, vervlak ons en water ons Christus se versoeningswerk aan die kruis af.

      Daar bestaan ’n baie bekende beeld om die Evangelie aan mense te verduidelik, te midde van die feit dat dit ’n pragtige uitbeelding van die Evangelie is, is dit nie verteenwoordigend van die totale prentjie nie. Hierdie beeld waarvan ek praat is dié van ’n mannetjie wat aan die eenkant van ’n onoorbrugbare afgrond staan en aan die anderkant van die afgrond en die enigste manier om aan die “oorkant” te kom, is om oor ’n brug te loop en dan sal die mense wat hierdie beeld gebruik, ’n kruis teken wat van die eenkant van die afgrond tot die anderkant strek en wat dan illustreer hoe dat Chirstus ons Brughoof is - dat Christus vir ons ’n Brughoof geslaan het - en dit is alles waar, maar Christus se  versoenings- en verlossingswerk, gaan om veel, veel meer as net daaroor dat ons ’n persoonlike verhouding met Jesus Christus het en dat ons hemel toe gaan - dat Hy dit vir ons moontlik gemaak het, deur ons Brughoof te wees.

      Die Evangelie begin nie by my vergifnis en daarom my redding nie - nee, die Evangelie begin by die mensdom se verlorenheid - by my en jou verlore toestand - ons doemwaardige toestand voor God - dat ons wegwerplik is in die oë van God; dat ons Adam se sonde geërf het (Gen.3) - dit is waar die Evangelie begin!

      Die Evangelie begin dus deur God Sy regmatige plek te gee in ons reddingsproses, want enersyds wys dit vir ons op Sy heiligheid (Hy sien nie sonde oor nie), maar ook wys dit op Sy onuitspreeklike genade, want Hy het Sy Seun, Jesus Christus gestuur om versoeing vir ons aan die kruis te bewerkstellig. Die Evangelie gaan dus oor veel-veel meer as net ek en myself - dit gaan daaroor dat Jesus gekom, nee dat dei Vader Sy enigste geliefde Seun gestuur het, het om die ganse kosmos - nie net vir my nie, maar die ganse kosmos, te kom verlos en te herskep (Gen.3:17-18 ~ Vir die mens het die Here God gesê:"Omdat jy na jou vrou geluister het en geëet het van die boom waarvan Ek jou verbied het om te eet, is die aarde deur jou toedoen vervloek; met swaarkry sal jy daaruit 'n bestaan maak, jou lewe lank; die aarde sal vir jou dorings en dissels laat uitspruit, en jy sal veldplante eet). Jesus en Sy Evangelie is dus veel groter as net die “Brug-illustrasie”.

      Die volgende stap is dus nie nou die hemel en ’n ewige lewe nie, daar is nog eers ’n tydperk (as ek mag uitbrei op die “brug-illustrasie”) wat ons op (in) die kruis oor die afgrond moet stap - hoe ons as verlostes in die hier en die nou moet lewe - ná ons wedergeboorte en vóór ons afsterwe. Die fokus in die hier en die nou, is om die heilge en toornige God van wie ek vervreem was, trouens, deur wie ek, a.g.v. die erfsonde, verdoem was, nou lief te hê en te verheerlik deur my lewe as verloste en God te verheerlik deur ’n heilige- en dankbaarheidslewe te leef, maar ook om ’n verskil in die res van die skeping wat deur Christus verlos is te bring, nl. om die wêreld te vertel van hierdie bevrydende Boodskap - hierdie wonderlike Evangelieboodskap van Jesus Christus - ons mag nie stil bly nie, anders is ons selfsugtig.


      Mag die “laaste veertig jaar” van ons lewe, die teenoorgestelde wees as die “eerste veertig jaar” toe ons in die wildernis van die vlees en sondegevalle toestand, doelloos rondgeswerf het - mag ons hierdie “laaste veertig jaar”, ook ’n vol lewe vir die Here lewe en mag ons, …die goedheid van die Here ons God belewe: (en mag Hy) die werk van ons hande in stand (hou).

Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te VAALDRIEHOEK Gereformeerde Baptostegemeente - Sondagoggend 15 Maart 2015

Saturday, 7 March 2015

Die Bybelse Hantering van Beproewing

1.     INLEIDING:
Ek wil vanoggend oor ’n onderwerp met julle deel wat ek voel noodsaaklik is om van kennis te neem, omdat ek persoonlik dink dat dit ’n reuse blokkasie in bykans alle gelowiges se lewe is. 

Daar is nie een van ons wat vanoggend hier sit wie nie op een of ander stadium van ons lewe, een of ander vorm van beproewing of pyn of lyding ervaar het nie.  Sommige in ’n bykans oortreffende trap en andere moontlik in ’n mindere mate – Niemand word gespaar van pyn en lyding nie!

Dit is verder van die uiterste belang dat ons as gelowiges sal leer om pyn en lyding, of beproewing as u wil, op die regte wyse te hanteer, want as ons nie weet hoe om dit te hanteer nie, kan ons ontnugter raak in God; kan ons knak onder vervolging indien ons ooit daaraan blootgestel mag raak; ons kan verbitterd en uitsigloos raak, ens.

Ek wil graag twee vrae aanspreek in ons soeke na ’n Bybelse hantering van beproewing en dié twee vrae is die volgende:
·      Hoe moet ek God se soewereiniteit en beproewing met mekaar versoen?
·      Hoe moet ek pyn en lyding op die regte wyse, nee, op ’n Bybelse wyse hanteer?

2.  BEPROEWING EN GOD SE SOEWEREINITEIT:
Ons lees die volgende in 1 Kron.29:10-16 ~ Dawid het ’n lofprysing aan die Here in teenwoordigheid van die hele vergadering uitgespreek. Sy woorde was: “Geloof sy U, Here, God van ons voorvader Israel, van ewigheid tot ewigheid. 11 Die grootheid, Here, die krag, die glans, die roem en die majesteit behoort aan U, ja, alles in die hemel en op aarde. Aan U, Here, behoort die heerskappy; U is bo almal verhewe. 12 Van U kom rykdom en eer. U heers oor alles. Mag en krag word deur U geskenk, en dit berus by U om enigiemand groot en sterk te maak. 13 En nou loof ons U, ons God, ons prys u glansryke Naam, 14 want wie is ek en wie is my volk dat ons die vermoë sou hê om sulke gawes te bring? Alles kom tog van U af en ons gee aan U wat ons van U gekry het. 15 Net soos al ons voorvaders is ons by U sonder reg of aanspraak. Ons tyd op aarde is soos ’n skaduwee, dit gaan verby. 16 Here ons God, al hierdie goed wat ons bymekaargemaak het om ’n huis vir u heilige Naam te bou, het ons van U gekry en dit behoort aan U.

Hierdie gedeelte waar Dawid, God loof en prys, is ’n klassieke Skrifgedeelte om na God se soewereiniteit te verwys. 

Wat bedoel ons egter met die uitdrukking, “God se soewereiniteit”?  A.W. Pink, in sy klassieke werk, “The Sovereignty of God”, sê dat wanneer ons sê dat God soewerein is, ons daarmee verklaar dat God, God ís.  Hy sê verder ~ To say that God is sovereign is to declare that He is the Most High, doing according to His will in the army of heaven, and among the inhabitants of the earth, so that none can stay His hand or say unto Him, What doest Thou?  Dit grond Pink natuurlik op Dan.4:35 ~ Teenoor Hom is al die bewoners van die aarde soos niks; Hy doen soos Hy besluit met die hemelse magte en met die mense op aarde. Daar is niemand wat Hom daarvan kan weerhou en vir Hom kan sê: ‘Wat doen U?

Hy gaan voort en sê:  To say that God is sovereign is to declare that He is the Almighty, the Posessor of all power in heaven and earth...  Dit weer, grond hy op Ps.115:3 ~ En dit terwyl ons God in die hemel is! Alles wat Hy wil, doen Hy.

Die SOLA5 Geloofsbelydenis verklaar in paragraaf 1.3 die volgende oor die soewereiniteit van God ~ God is sovereign and works all things according to his own righteous will, for His own glory.  From all eternity God decreed everything that would ever happen in time; He did this in perfect wisdom and holiness.  Furthermore, God sustains and governs all His creatures by His supremely wise and holy providence.  In so doing He fulfils thepurpose for which they were created, in order that His own attributes and glory may be praised.

Hierdie is pragtige en Bybelse korrekte definisies van God se soewereiniteit en ek glo dat die meeste, indien nie almal van ons volmondig hiermee saamstem. 

Wanneer ons gekonfronteer word met allerlei swaarkry en beproewing is die meeste van ons ook reeds so “geprogrammeer” om baie vinnig te sê dat God soewerein is en dat Hy nie foute begaan nie en dat ek onder Sy soewereine wil buig. Dat Hy in beheer is!  En dit is nie verkeerd nie, want dit ís so dat God deur Sy soewereine wil, beproewing in my lewe toelaat, die vraag is egter, wat my siening régtig is t.o.v. God se soewereiniteit is.  Sien ek God as ’n soewereine God wat maak net wat Hy wil en tree Hy gevoelloos en liefdeloos op, of is daar genade en liefde en guns en barmhartigheid teenwoordig in die uitvoering van Sy soewereine wil?

Indien ek sê dat God my straf as ek beproewing ervaar, kan dit op een van twee maniere manifesteer.
·      Ons kan óf in opstand kom teen God en soos die Israeliete, uiteindelik bedroë daarvan af kom.  Jesaja beskryf dit baie mooi ~ Kom tog, laat ons die saak met mekaar uitmaak, sê die Here: Al was julle skarlakenrooi van sonde, julle sal wit word soos sneeu. Al was julle purperrooi, julle sal wit word soos wol. 19 As julle gehoorsaam wil wees, sal julle die goeie van die land eet, 20 maar as julle weier en opstandig bly, sal die swaard júlle eet, want dit is die Here wat dit gesê het (Jes.1:18-20).
·      Of ons kan God se soewereiniteit gelate aanvaar, want ek mag mos nie teen God in opstand kom nie en daarom onderdruk ek enige negatiewe gevoelens oor my pyn en lyding, maar ek tree tog ook nie Bybels korrek op nie, want ek dra en hanteer hierdie pyn en lyding steeds nie met die regte gesindheid nie – ek kan nie oorwinning kry nie; ek kan nie in vreugde lewe nie

Wat is die gevolg van beide hierdie gesindhede; van hierdie siening van God se soewereiniteit?  So ’n optrede en gesindheid, lei uiteindelik tot wanhoop en uitsigloosheid en ontnugtering – ontnugtering in ’n God wat toelaat dat hierdie swaarkry oor my kom en uiteindelik kan ek so maklik uitroep: Hoe kan die Woord sê dat Hy ’n God van liefde is?  Of die Woord maak ten diepste net nie vir my sin nie – ek verstaan God se karakter nie; ek verstaan Sy liefde nie – in kort, ek verstaan Sy Woord nie.

Hoe moet ek dan God se soewereiniteit sien?  Kom ons kyk net kortliks daarna:
·                    Ons moet besef dat God in die eerste plek ’n barmhartige God is.  Ons het nie ’n reg tot God se barmhartigheid nie.  Nee, Hy skénk dit aan ons wie gebuk gaan onder die sonde en die sondeval.  ’n Volmaakte voorbeeld van God se soewereine barmhartigheid, is die feit dat Sy Seun, Jesus Christus mens geword het en tussen ons kom bly het.
·                    Tweedens leer die Woord ons, dat God se soewereiniteit genadig van aard is.  God stort Sy genade uit oor almal van ons wat dit beslis nie verdien nie.  Ons sien God se soewereine genade pragtig uitgebeeld in Rom.5:21 ~ Die doel was dat, soos die sonde deur die dood heerskappy gevoer het, die genade deur die vryspraak ook heerskappy kan voer en tot die ewige lewe kan lei deur Jesus Christus ons Here.
·                    Ons het eerstens gesien dat God se soewereiniteit gaan oor barmhartigheid en tweedens het ons gesien dat God se soewereiniteit vol genade is.  Nou sien ons in die derde plek, dat die fondasie van God se soewereiniteit, Sy liefde is.  Rom.8:31-39 beskryf dit vir ons pragtig ~ Wat is nou ons gevolgtrekking oor al hierdie dinge? Dít: God is vír ons, wie kan dan teen ons wees? 32 Hy het sy eie Seun nie gespaar nie, maar Hom oorgelewer om ons almal te red. Sal Hy ons dan nie al die ander dinge saam met Hom uit genade skenk nie? 33 Wie kan die uitverkorenes van God aankla? God self spreek hulle vry. 34 Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons. 35 Wie kan ons van die liefde van Christus skei? Lyding of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard? 36 Daar staan immers geskrywe: “Dit is oor U dat die dood ons dag vir dag bedreig, dat ons soos slagskape behandel word.” 37 Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet. 38 Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte 39 of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.

Wanneer ek dus oor die regte siening t.o.v. God se soewereiniteit beskik begin ek beproewing uit ’n ander hoek sien, maar steeds kan daar vrae in my gemoed wees, vrae soos:  Indien God liefdevol, genadig en barmhartig soewerein is, waarom ervaar ek dan hierdie beproewing  - Sy Woord sê tog immers in Rom.8:28 ~ Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is.  Alles werk nie nou terwyl ek hierdie beproewing ervaar ten goede vir my uit nie en as ek dan glo dat God se soewereiniteit in liefde en genade en barmhartigheid geskied, moet die fout mos by my lê! Baie gelowiges kom dan op hierdie punt en begin hulle glo dat hulle gesondig het en daarom is God nie meer lief vir hulle nie en straf Hy hulle.

Ons moet altyd in gedagte hou en veral wanneer ons beproewing ervaar, dat God beproewing in Sy soewereine wil toelaat en dat hierdie soewereine wil, altyd geskied uit barmhartigheid, genade en in volmaakte Goddelike liefde.

3.  HOE OM BEPROEWING BYBELS TE HANTEER:
Ten einde die probleem van beproewing verder aan te spreek en te kyk wat die regte gesindheid onder die omstandighede behoort te wees, moet ons gaan kyk waar beproewing vandaan kom en daarvoor moet ons uiteraard, spesifiek na die Woord van God gaan kyk:
·       In die eerste plek leer die Woord ons dat alle pyn en lyding en beproewing, uiteindelik terug gelei kan word na Adam se sonde.  Gen.3:17-19 ~ Vir die mens het die Here God gesê: “Omdat jy na jou vrou geluister het en geëet het van die boom waarvan Ek jou verbied het om te eet, is die aarde deur jou toedoen vervloek; met swaarkry sal jy daaruit ’n bestaan maak, jou lewe lank; 18 die aarde sal vir jou dorings en dissels laat uitspruit, en jy sal veldplante eet; 19 net deur harde werk sal jy kan eet, totdat jy terugkeer na die aarde toe, want daaruit is jy geneem. Stof is jy, en jy sal weer stof word.

Ons moet dus altyd in gedagte hou dat swaarkry in hierdie lewe, bestaan a.g.v. Adam se sonde en dit sal nooit verdwyn alvorens Jesus Christus ons kom haal nie.  Die enigste manier om uiteindelik van hierdie swaarkry op aarde en die uiteindelike ewige swaarky, verlos te word, is deur die soendood wat Jesus Christus aan die kruis vir my gesterf het, maar solank ek in hierdie lewe is, sal ek voortdurend gekonfronteer word met beproewing in een of ander vorm.

·      Tweedens leer die Woord ons, dat sommige van die ellende in hierdie lewe, die gevolg is van ons eie sonde.  Ons gaan dus gebuk onder die gevolge van ons eie sonde in hierdie lewe.  ’n Eenvoudige voorbeeld dalk: Die Woord leer ons dat ons, ons moet onderwerp aan die gesag wat oor ons aangestel is (Rom.13:1-5) en hierdie “gesag” bepaal dat ek nie die snelheidsgrens van 60 k.p.u. in die dorp mag oorskry nie – is ek ongehoorsaam en ek word gevang, lei ek aan die gevolge van my eie sonde, deurdat ek ’n boete moet betaal. 

Ook hier kan ons egter staatmaak op God se liefdevolle en barmhartige soewereiniteit, deurdat ek my sonde teenoor Hom kan bely en om vergifnis vra ~ 1Joh.1:9 ~ Maar as ons ons sondes bely-Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid. 

·      Derdens kan beproewing veroorsaak word deur ander mense se sonde.  Ons vind talle sulke voorbeelde in die Woord. Ons sien bv. in Gen.12, hoe dat Abraham vir Sarai sy vrou, opdrag gegee het om vir die koning van Egipte te lieg oor die feit dat sy, sy vrou is en ons sien in vers 17 wat die koning van Egipte se beproewing was, a.g.v. Abraham se liegsonde ~ Maar die Here het die farao en sy huis met swaar plae getref oor Sarai die vrou van Abram. 

Ons ken ook die verhaal van Jakob en Esau baie goed, waar Jakob sy pa Isak bedrieg het en sy ouer broer Esau, se seën “gesteel” het.  Die gevolg was dat Esau vir die res van sy lewe, asook sy nageslag, erge beproewing sou moes ervaar.  Esau is ontneem, van sy eersgeboortereg (Gen.27:36).  Esau en sy nageslag sou Jakob se diensknegte moes word (v.37).  Esau het geen seën van sy vader ontvang nie, al was hy die oudste (v.38).  Esau was gebroke en hy het gehuil (v.38).  Ons sien in vers 39, dat die Edomiete, Esau se nageslag ’n land sou bly met grond wat nie baie vrugbaar sou wees nie.  Hy sou van oorlog moes leef sê vers 40 vir ons.  En in vers 41 sien ons dat Esau gebuk gegaan het onder haatgevoelens jeens sy broer en het hy homself voorgeneem om Jakob te vermoor.

Ook in hierdie geval sien ons dat God se soewereine liefde en genade ons kan help om hierdie beproewing te bowe te kom, deur o.a. die volgende Bybelse beginsels toe te pas:
-     Matt.6:14 ~ As julle ander mense hulle oortredings vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe.  Indien ons nie andere vergewe nie, sê die Woord, kan ons nie verwag dat die Vader ons moet vergewe nie.  Hy is egter getrou en regverdig en Hy sal ons vergewe, het ons netnou in 1Joh.1:9 gesien.
-     Indien ons nie vergewe nie, kan ons ook nie bid nie, want hoor net wat sê Jesus in Sy modelgebed, hoe ons o.a. moet bid ~ ...en vergeef ons ons sondes, want ons vergewe ook elkeen wat teen ons oortree (Luk.11:4).  Doen ons dit werklik?
-     Die uiteinde van Jakob en Esau se verhaal ken ons ook – Gen.33:4 ~ Esau het hom tegemoet gehardloop en hom omhels. Esau het sy arms om Jakob se nek gesit en hom gesoen, en hulle het gehuil.

Ons moet dus diegene wat teen ons sondig, vergewe en ons kan dit net regkry as ons God se soewereine liefde en genade in ons eie lewe ervaar.

·      In die vierde plek kan God beproewing in ons lewe wil, sodat ’n situasie geskep kan word, waardeur ons Hom kan verheerlik.  Dit impliseer dus dat nie elke stuk beproewing, noodwendig terug gelei kan word na eie sonde, of ander se sonde nie, en dan moet ons onsself afvra, hoe ons hierdie bepaalde situasie gaan hanteer.

Ook hier kan ons aan verskeie voorbeelde in die Skrif dink waar die persoon wat deur beproewing gegaan het, nie geweet het waarom dit hom getref het nie, maar sy gesindheid was deurgaans om God te loof en te prys in sy omstandighede.  Dink maar net aan Fil.1:29 ~ God het julle die voorreg gegee om Christus te dien, nie alleen deur in Hom te glo nie, maar ook deur vir Hom te ly.

Hoeveel te meer moet ons nie bereid wees om te ly as ons dink aan die woorde van Petrus, toe hy gesê het ~ Juis hiervoor is julle ook geroep, omdat Christus self vir julle gely en so vir julle ’n voorbeeld gestel het, sodat julle in sy voetspore kan volg. 22 “Hy het geen sonde gedoen nie en uit sy mond het daar nooit ’n leuen gekom nie.” 23 Toe Hy beledig is, het Hy nie terug beledig nie, toe Hy gely het, het Hy nie gedreig nie, maar alles oorgelaat aan Hom wat regverdig oordeel. 24 Hy het self ons sondes in sy liggaam aan die kruis gedra. Daardeur is ons vir die sondes dood en kan ons lewe in gehoorsaamheid aan die wil van God. Deur sy wonde is julle genees (1Pet.2:21).  Om te ly soos wat Christus gely het, behoort dus eintlik vir ons ’n voorreg te wees. Kan ons dit uit eie krag regkry om God te verheerlik deur ons swaarkry? Natuurlik kan ons nie, maar Hy kan en wil ons deur Sy liefde en barmhartigheid help om dit wel reg te kry.

·                    Laastens leer die Woord ons dat beproewing wat oor ons pad kom, altyd ons eie geestelike groei ten doel het. Al is ons beproewing te wyte aan watter een van hierdie faktore ook al, moet ons elke keer wanneer ons beproewing ervaar, onsself meet aan Gal.5:22-23 (“Die Vrug van die Gees”). Wanneer ek besef dat my liefde vir my naaste (broers, susters, vreedmdelinge – ook my man of vrou) bv. nie is wat dit moet wees nie, of as my vreugde, of my vrede, of my geduld, of vriendelikheid, of goedhartigheid, getrouheid, nederigheid, of my selfbeheersing te kort skiet, dan moet ek my bekeer en aandag skenk aan daardie tekortkominge.

Daar moet dus biddend, ernstige selfondersoek gedoen word, ten einde vas te stel in watter kwaliteite die Here wil hê dat ek sal groei, sodat ek Hom daardeur sal verheerlik. 

Dit is dus ook baie duidelik dat die Here God  beproewing op hierdie vlak oor ons pad bring, omdat Hy ons oneindig lief het.

4.  TEN SLOTTE:
Dit is van kardinale belang dat ons, wanneer ons midde in beproewing en pyn en lyding verkeer, die regte gesindheid jeens God en beproewing sal hê ~ Geliefdes, moenie verbaas wees oor die vuurproef waaraan julle onderwerp word nie. Dit is nie iets vreemds wat met julle gebeur nie. 13 Wees liewer bly hoe meer julle in die lyding van Christus deel, want dan sal julle ook oorloop van vreugde by sy wederkoms in heerlikheid. 14 Geseënd is julle wanneer julle beledig word ter wille van die Naam van Christus. Dit is ’n bewys dat die Gees aan wie die heerlikheid behoort, die Gees van God, op julle bly (1Pet.4:12-14) en 1Pet.1:6 ~ Verheug julle hieroor, selfs al is dit nodig dat julle ’n kort tydjie bedroef gemaak word deur allerhande beproewings.

Dit is ook belangrik dat ons sal besef dat daar 4 redes is waarom beproewing oor ons pad kom en dat dit belangrik is dat ons sal vasstel watter rede op ons van toepassing is. 

Beproewing is altyd deel van Adam se sonde. Volgende moet ons vir ons afvra, of die beproewing, die toedoen van my eie sonde is, of die van andere; of die moeilikste een om dalk te onderskei, is of dit bloot is om God te verheerlik en laastens dat ek my daarin kan verheug dat dit altyd sal lei tot my eie heiligmaking.

Ons kan altyd verseker wees en daarin rus, dat beproewing ’n baie besliste doel dien.  Probeer dus vasstel wat dit is wat die Here vir jou wil leer – en leer dit!  Jakobus sê hieroor in Jak.1:3-4 ~ ...want, soos julle weet, as julle geloof die toets deurstaan het, stel dit julle in staat om te volhard. 4 En die volharding moet end-uit volgehou word sodat julle tot volle geestelike rypheid kan kom, sonder enige tekortkoming.  En mag ons na die tyd saam met Job kan sê ~ Hy ken my pad; as Hy my toets, is ek suiwer soos goud (Job 23:10).

Ek wil ons almal aanmoedig dat ons getrou en gehoorsaam aan die Here sal bly tydens ons beproewing ~ Maar wanneer iemand ly omdat hy ’n Christen is, moet hy hom nie daaroor skaam nie. Inteendeel, as draer van daardie naam moet hy God verheerlik. 19 Daarom moet dié wat ly omdat God dit wil, hulle lewe toevertrou aan die getroue Skepper, en aanhou goed doen (1Pet.4:16,19).


Ons moet laastens besef dat die Here nie noodwendig altyd die beproewing van ons sal wegneem nie, maar Hy belowe dat Hy aan ons die nodige sal voorsien om staande te kan bly te midde van die beproewing – dink maar net hier aan Paulus se “doring in die vlees” (2Kor.12:7-11).  Jes.41:10 ~ Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God. Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red Ek jou. Ook die bekende 1Kor.10:13 ~ Geen versoeking wat meer is as wat ’n mens kan weerstaan, het julle oorval nie. God is getrou. Hy sal nie toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; as die versoeking kom, sal Hy ook die uitkoms gee, sodat julle dit kan weerstaan. Laastens, 1Pet.5:10 ~ God wat alle genade gee en wat  julle geroep het om in Christus Jesus deel te hê aan sy ewige heerlikheid, sal julle, nadat julle ’n kort tydjie gely het, self weer oprig en julle moedig, sterk en standvastig maak. 

Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te VAALDRIEHOEK Gereformeerde Baptistegemeente – Sondagoggend 08 Maart 2015