Saturday, 4 April 2015

JESUS, DIE OPGESTANE CHRISTUS

1.     SKRIFLESING: 
Hand.17:1-4 en 16-34 ~ Paulus-hulle het deur Amfipolis en Apollonië na Tessalonika toe gereis, waar daar n Joodse sinagoge was. 2 Soos dit Paulus se gewoonte was, het hy daarheen gegaan en op drie sabbatdae na mekaar uit die Skrif met die Jode geredeneer. 3 Hy het die Skrif uitgelê en daaruit aangetoon dat die Christus moes ly en uit die dood moes opstaan. Hierdie Jesus wat ek aan julle verkondig, het hy gesê, Hy is die Christus. 4 Party van die Jode het oortuig geraak en by Paulus en Silas aangesluit. n Groot aantal godvresende Grieke en n aansienlike getal vooraanstaande vroue het ook nog bygekom. 16 Terwyl Paulus in Atene vir Silas en Timoteus wag, het hy baie verontwaardig geword toe hy sien hoe vol afgodsbeelde die stad is. 17 Hy het in die sinagoge met die Jode en die godvresendes geredeneer en elke dag op die stadsplein met die verbygangers gepraat. 18 n Paar wysgere, Epikureërs en Stoïsyne, het met hom gestry. Party het gesê: Wat sou hierdie praatjiesmaker tog wil sê? Ander het gesê: Dit lyk of hy n boodskapper van vreemde gode is. Dit was omdat Paulus die evangelie van Jesus en sy opstanding verkondig het. 19 Hulle het hom na die Areopagus toe geneem en gesê: Kan ons te wete kom wat hierdie nuwe leer is wat jy verkondig? 20 Party van die dinge wat jy sê, klink vir ons vreemd, en ons wil graag weet wat dit beteken. 21 Die Ateners in die algemeen en die uitlanders wat daar gewoon het, het hulle tyd aan niks anders bestee as om iets nuuts te sê of te hoor nie. 22 Paulus het toe in die middel van die Areopagus gaan staan en gesê: Ateners, ek sien dat julle in alle opsigte baie godsdienstig is. 23 Terwyl ek deur julle stad geloop en kyk het na die plekke waar julle aanbid, het ek ook n altaar gekry waarop geskrywe staan: Aan n onbekende god. Nou ja, wat julle aanbid sonder om daarvan kennis te hê, verkondig ek aan julle. 24 God, wat die wêreld met alles wat daarin is, gemaak het, Hy is die Here van hemel en aarde, en Hy woon nie in tempels wat deur mense gemaak is nie. 25 Hy het ook nie nodig dat mense Hom versorg nie. Inteendeel, dit is Hy wat aan almal lewe en asem en alles gee. 26 Uit een mens het Hy al die nasies gemaak. Hy het hulle gemaak om oor die hele aarde te woon. Hy het bepaal hoe lank hulle sal bestaan en waar hulle sal woon. 27 God het hulle gemaak om Hom te soek, al sou hulle ook moes rondtas om Hom te vind. Hy is nie ver van enigeen van ons af nie, 28 want deur Hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons. Of soos party van julle digters ook gesê het: Ons stam ook van Hom af.e 29 Aangesien ons dan self van God afstam, moet ons nie dink dat die Godheid aan beelde van goud, silwer of klip gelyk is nie. Dit is bloot skeppinge van menslike vaardigheid en verbeelding. 30 God het die tye van onkunde oorgesien, maar nou roep Hy al die mense oral op om hulle te bekeer, 31 want Hy het n dag bepaal waarop Hy regverdig oor die wêreld gaan oordeel deur n Man wat Hy uitgekies het. As bewys daarvan vir almal, het Hy Hom uit die dood laat opstaan. 32 Toe hulle van die opstanding uit die dood hoor, het party hom uitgelag, maar party het gesê: Ons sal jou weer hieroor wil hoor. 33 So het Paulus van hulle af weggegaan. 34 n Paar mense het egter gelowig geword en by hom aangesluit. Onder hulle was daar Dionisius, n lid van die Areopagus, en n vrou met die naam Damaris en nog ander saam met hulle.

2.     INLEIDING:
Onder al die groepe wat deurgaan as Christene, is daar verskillende fokuspunte, wanneer dit kom by Christelike feesdae:  So is daar groepe wat net die klem lê op Christus se geboorte (Kersdag) en alhoewel dit n uiters belangrike faset van God se reddingsplan met die mens is, is daar nog n faset wat uiters belangrik is, en dit is Christus se kruisiging. 

Baie gelowiges steek by hierdie punt vas en skenk gedurende hierdie tyd van die jaar, nl. die Pase, hoofsaaklik aandag aan die kruisiging van Jesus en natuurlik is dit ook n geweldige belangrike faset in God se plan. Ons sien dieselfde tendens in die kunswêreld en in loodglasvensters in katedrale oor die wêreld heen ook daar sien ons hoofsaaklik twee tonele uitgebeeld, nl. Jesus in n krip met donkies en die Wyse Manne rondom Hom en die ander toneel, is dié van die gekruisigde Jesus, maar n derde toneel word omtrent nooit uitgebeeld nie en dit is dié van die opgestane Christus en indien ons God se volledige plan vir n verloregaande wêreld wil aanskou, móét ons na hierdie derde gebeurtenis van God se reddingsplan kyk én dit verkondig, want sonder hierdie faset is God se reddingsplan onvolledig.

3.     PAULUS IN ATHENE:
In ons gelese gedeelte, sien ons n Paulus wat die Atheners in die skadu van die Akropolis-toespreek en sy boodskap sentreer rondom die tema, Jesus, die opgestane Christus.  Hierdie boodskap, is sekerlik díé belangrikste waarheid aangaande die Christendom, want hierdie realiteit, is juis díé een aspek, wat die Christendom onderskei van álle ander godsdienste in die wêreld.  Alle ander godsdienste, het óf n leier wat reeds gesterf het, óf wat besig is om te sterf.

Op pad na Athene, het Paulus o.a. in Thessalonika gepreek waar ʼn opstand onder die Jode uitgebreek het ná sy prediking.  Daarna het hy in Berea, dieselfde boodskap aan die Jode aldaar gebring.  Ook daar het die Evangelieboodskap die Jode so ontstel, dat Paulus in die nag uit Berea na Athene gebring moes word. Ook hier in Athene bring hy eers sy boodskap van Jesus Christus aan die Joodse inwoners in die sinagoge, maar kort voor lank, sien ons n prekende Paulus op die markplein. 

Hier is egter een verskil en dit lê in sy gehoor. Paulus se toehoorders is nou nie meer uitsluitlik Jode nie, maar bestaan nou hoofsaaklik uit n klomp heidene, máár, hy wyk nie af van sy boodskap wat hy tot nou toe aan die Jode gebring het nie, nee, hy bring presies dieselfde boodskap, nl. Jesus, die opgestane Christus

4.  DIE BETEKENIS VAN CHRISTUS SE OPSTANDING:
Hierdie was dan ook die sentrale tema van al die vroeë Christene se boodskappe.  Weer en weer, het hulle gepreek oor Jesus se opstanding uit die dood.  Lukas het dit pragtig opgesom in Hand.4:33 ~ Die apostels het kragdadig getuig dat die Here Jesus uit die dood opgestaan het, en die genade van God was groot oor hulle almal.  Hierdie boodskap wat die Apostels gepreek het, was natuurlik in direkte opdrag van Jesus self ~ Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld (Hand.1:8)

n Teksvers wat ook baie insiggewend in hierdie verband is, is Hand.1:22, toe die Apostels n ander apostel in die plek van Judas moes aanwys, was die voorwaarde, dat daar ~ ...nog n getuie van Jesus se opstanding by (hulle) gevoeg (moes) word.

Waarom was dit nodig om die boodskap van die opgestane Jesus te verkondig?  Omdat Christus se opstanding, bo alle twyfel bewys het, dat Jesus van Nasaret, wel die Seun van God, die Messias, die Christus, die Beloofde Een was.

Dit was dan ook juis Petrus se redenasie tydens die eerste opgetekende preek, wat in Jerusalem, op Pinksterdag gepreek is (Hand.2:14-36) ten einde te bewys dat Christus die Messias was.  Hy het verskeie Ou Testamentiese Skrifgedeeltes, so wel as van die toe onlangse gebeure rondom Jesus, asook Sy opstanding, tydens hierdie preek aangehaal.  Wat egter interessant is, is dat Petrus, Christus se opstanding as n gegewe aanvaar het. 

Alhoewel die opstanding die sentrale punt van sy boodskap was, was dit nie gebruik om die mense te oortuig van die opstanding nie, maar is die opstanding gebruik as argument om Jesus se Messiasskap te bewys, m.a.w. daar is algemeen aanvaar dat almal in Jerusalem bekend was met die feit dat Jesus opgestaan het uit die dood, want net té veel mense het die kruisiging van Jesus aanskou en Hom ná Sy dood, weer gesien en al het almal Hom nie gesien nie, het hulle iemand geken wat Hom wél gesien het.

Die kruks waarom dit dus gegaan het, was níé om te bewys dat Christus opgestaan het nie, maar wat die betekenis van Sy opstanding was. 

Daarom dan, dat Petrus tydens die Pinksterdag preek, hierdie wonderlike gebeure van die opstanding gebruik het om te bewys dat Christus waarlik die Messias is en dat die Koninkryk van God deur Hom gekom het. Dít was die boodskap die Goeie Nuus, wat Petrus en die ander Apostels gebring het.  Ons sien dit in Hand.8:12 ~ Maar toe Filippus die evangelie van die koninkryk van God en die Naam van Jesus Christus aan hulle verkondig het, het hulle gelowig geword, en mans sowel as vrouens is gedoop (Hand.19:8; 20:25; 28:23; 28:31).

Die mense wat geglo het dat Jesus die opgestane Christus was, was volgens Hand.11:26, vir die eerste keer Christene genoem ~ Toe hy hom kry, het hy hom na Antiogië toe gebring, en hulle twee het n hele jaar lank saam in die gemeente gewerk en baie mense onderrig. In Antiogië is die gelowiges die eerste keer Christene genoem.

        Waarom die Opstanding?
Wanneer ons fokus op Christus se opstanding, is dit nodig dat ons kortliks ook sal kyk na wat gebeur het tydens en net na die opstanding en wat die betekenis daarvan vir ons is:
o     Die opstanding is volgens Ef.1:19-20 n demonstrasie van God se almag ~ ...en hoe geweldig groot sy krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo. Dit is dieselfde kragtige werking van sy mag 20 wat Hy uitgeoefen het toe Hy Christus uit die dood opgewek en Hom in die hemel aan sy regterhand laat sit het

Die betekenis vir ons lê daarin, dat die kloof wat bestaan het, tussen die ewige dood waartoe ons almal gevonnis was, en die vernuwing en herskepping van n nuwe wedergebore lewe, nou oorspan is en is dit moontlik om die ewige dood vry te spring.
o     Ten einde te bewys dat Christus se soendood volkome en afgehandel was, was dit noodsaaklik dat Hy uit die dood moes opstaan Rom.4:22-24 ~ Deurdat Abraham geglo het, het God hom dus vrygespreek.  Dat hy vrygespreek is deurdat hy geglo het, is nie net ter wille van hom opgeteken nie, maar ook ter wille van ons wat vrygespreek sal word, óns wat in God glo wat vir Jesus, ons Here, uit die dood opgewek het.
o     God word verheerlik deur Christus se opstanding Rom.6:4 ~ Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in n nuwe lewe kan wandel (OAV).
o        Vir Christus het Sy opstanding geïmpliseer, dat Hy voldoen het aan Sy Vader se opdrag Die Vader het My lief omdat Ek my lewe aflê om dit weer op te neem....  Dit is die opdrag wat Ek van my Vader ontvang het (Joh.10:17, 18c).
o        Die Vader het Jesus se gebed beantwoord In Joh.12:27 het Jesus uitgeroep ~ Nou is Ek diep ontsteld. En wat moet Ek sê? Moet Ek sê: Vader, red My uit hierdie uur? Maar juis hiervoor het Ek gekom, vir hierdie uur.  Die opstanding was die Vader se beantwoording van hierdie gebed.
o        Volgens Hand.2:36 het God deur die opstanding, Jesus beide Soewereine Oorwinnaar en Verlossser gemaak ~ Die  hele Israel moet nou vas en seker weet: God het hierdie Jesus, wat julle gekruisig het, Here en Christus gemaak!
o        Deur die opstanding het Christus die Hoof van die Kerk geword ~ Hy is die hoof van die liggaam, van die kerk. Hy is die oorsprong daarvan, Hy is die Eerste, die Een wat uit die dood opgestaan het, sodat Hy die eerste plek in die heelal inneem. (Kol.1:18).
o      Die opstanding en hemelvaart moes plaasvind, sodat die Heilige Gees uitgestort kon word ~ Tog sê Ek vir julle die waarheid: Dit is tot julle voordeel dat Ek weggaan, want as Ek nie weggaan nie, sal die Voorspraak, die Heilige Gees, nie na julle toe kom nie; maar as Ek gaan, sal Ek Hom na julle toe stuur (Joh.16:7).
o      Deur Christus se opstanding, toon God aan ons dat Sy krag genoegsaam is om die grootste sondaar te kan red ~ ...en hoe geweldig groot sy krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo. Dit is dieselfde kragtige werking van sy mag wat Hy uitgeoefen het toe Hy Christus uit die dood opgewek en Hom in die hemel aan sy regterhand laat sit het (Ef.1:19-20).
o      Sy opstanding bevestig ons vryspraak van God se straf op die sonde ~ Hy is vanweë ons oortredings oorgelewer en Hy is opgewek sodat ons vrygespreek kan word (Rom.4:25).
o      Christus moes uit die dood opstaan en opvaar na die hemel, ten einde vir ons in te tree by die Vader en daarom kan niemand ons meer by God aankla nie ~ Wie kan die uitverkorenes van God aankla? God self spreek hulle vry.  Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons (Rom.33:34).
o      Volgens Kol.3:1 is ons as gelowiges reeds uit die dood opgewek, m.a.w. ons is oorgedra in n ander lewe, waar ons nie meer vleis en melk nodig het om van te leef nie en moet ons daarom gemotiveerd wees om heilig te leef.
o      Christus se opstanding skenk aan ons die nodige hoop en sekuriteit dat onsself ook uit die dood opgewek sal word ~ Nog net n klein rukkie, en dan sien die wêreld My nie meer nie, maar julle sien My, omdat Ek lewe en julle sal lewe (Joh.14:19).
o      Ons liggame sal soos Christus sn verheerlikte liggame wees, met Sy wederkoms.

Jesus het met dieselfde liggaam uit die graf gekom as waarmee Hy in die graf in is.  Hy het dus nie as n gees opgestaan nie, anders sou die graf nie leeg gewees het nie.  Wat meer is, Hy het oor n verheerlikte liggaam beskik

Die betekenis hiervan lê vir ons veral daarin, dat Christus weer in dieselfde liggaam sal terugkeer op die dag van die wederkoms. 

Ons gees en liggaam gaan geskei word tydens die dood, maar die dag wanneer ons opstaan, gaan ons liggame in verheerlikte vorm, weer met ons gees verenig word in die hiernamaals ~ Wanneer die bevel gegee word en die stem van die aartsengel en die trompet van God weerklink, sal die Here self uit die hemel neerdaal. Allereers sal dié wat in Christus gesterf het, uit die dood opstaan;  daarna sal ons wat nog lewe, saam met hulle op die wolke weggevoer word, die lug in, die Here tegemoet. En so sal ons altyd by die Here wees (1Tes 4:16-17)  Deur die krag waarmee Hy alles aan Homself onderwerp, sal Hy ons nederige liggame verander om soos sy verheerlikte liggaam te wees (Fil.3:21) Soos ons die beeld van die stoflike mens was, sal ons ook die beeld van die hemelse wees (1Kor.15:49).

5.  AFSLUITING:
Die opstanding van die Here Jesus Christus is nie deel van die Christelike geloof nie dit is die hart van die Evangelie en daarom kan die opstanding van Christus nie alleen beperk word tot die Paassondag (of die Maandag nét na Goeie Vrydag) nie.

Die Jode het op die sewende dag van die week byeengekom om God te aanbid ten einde God se Rusdag na die Skepping te gedenk ons as gelowiges kom egter byeen op die eerste dag van die week ten einde God se skepping van nuwe lewe te gedenk. Jesus lewe en omdat Hy lewe, mag ons ook lewe en lewe ons inderdaad Jesus het in Joh.14:9 gesê ~ Ek is al so lank by julle, en ken jy My nie, Filippus? Wie My sien, sien die Vader. Hoe kan jy dan sê: Wys vir ons die Vader?

Die opstanding is goeie nuus en daarom kan ons as gelowiges die Goeie Nuus deel met n wêreld wat besig is om te sterf - die Goeie Nuus van n lewe in Christus Jesus. Die dood spreek vir gelowiges nie meer die laaste woord nie, want Jesus het opgestaan uit die dood en deur op te staan uit die dood het Hy lewe en onsterflikheid aan almal wat in Hom glo, geskenk. 

Iemand het op n keer gesê dat Christus se opstanding n nuwe pad oopgekap het deur die vallei van die skadu van die dood en deur geloof kan ons Hom nou volg na die ewige lewe. C.S. Lewis noem Christus, the Pioneer of life, omdat Christus die deur oopgeforseer het wat sedert die dood van Adam gesluit was.

Met dit alles in gedagte, is die opstanding dus nie net Goeie Nuus vir die toekoms nie, maar ook wonderlike nuus vir die huidige, want dieselfde krag wat in werking was om Christus uit die dood te week, is vandag aan die werk om ons teen sonde staande te hou; om ons deur beproewing te dra. Dit is waarom Paulus in Fil.3:10 gesê het ~ Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood en in Fil.4:13 getuig Paulus dan ook van hierdie krag wanneer hy sê ~ Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee. Jesus gee ook aan ons die wonderlike bemoedigende woorde in Matt.28:20 ~ ...onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld. Hierdie is wonderlike en goeie nuus vir n wêreld wat al hoe eensamer raak; wat al hoe meer gebuk gaan onder eensaamheid en hartseer en stress - allerlei soorte druk en beproewing dus!  

Voor ek afsluit moet ons ook net eers 2 Kor.5:14-15 aanhaal ~ Die liefde van Christus dring ons, omdat ons tot die insig gekom het dat een vir almal gesterwe het, en dit beteken dat almal gesterwe het. En Hy het vir almal gesterwe, sodat dié wat lewe, nie meer vir hulleself moet lewe nie, maar vir Hom wat vir hulle gesterf het en uit die dood opgewek is.

Indien ons bely dat Jesus gekruisig is en opgetsaan het en ons sê dat Hy dit vir ons gedoen het, moet ons in die lig van Paulus se woorde hier in 2 Korintiërs ook sê dat ons nie meer vir onsself lewe nie, maar vir Christus Jesus as ons werklik ernstig nadink oor wat Hy vir my en jou gedoen het, móét ons slawe van Hom wees, want ons behoort nie meer aan onsself nie maar aan Hom.

Mag vandag as Opstandingsondag vir u besondere betekenis inhou.

Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Sondag, 05 April 2015



e Hierdie versreël kom uit n gedig van die Griekse digter Aratus, wat omtrent drie honderd en vyftien tot twee honderd en veertig v.C. gelewe het

Saturday, 28 March 2015

DIE NAGMAAL ~ 01 (Toewyding)

1.      SKRIFLESING:
       1 Kor.11:23-34 ~ Ek het van die Here ontvang wat ek ook aan julle oorgelewer het: Die Here Jesus het in die nag waarin Hy oorgelewer is, brood geneem 24 en, nadat Hy God daarvoor gedank het, het Hy dit gebreek en gesê: Dit is my liggaam; dit is vir júlle. Gebruik dit tot my gedagtenis. 25 Net so ook het Hy ná die maaltyd die beker geneem en gesê: Hierdie beker is die nuwe verbond, wat deur my bloed beseël is. Gebruik dit, elke keer as julle daaruit drink, tot my gedagtenis. 26 Elke keer as julle van hierdie brood eet en uit die beker drink, verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom. 27 Elkeen wat op n ongepaste wyse van die brood eet of uit die beker van die Here drink, sal skuldig wees aan sonde teen die liggaam en die bloed van die Here. 28 Maar elkeen moet eers homself ondersoek voor hy van die brood eet en uit die beker drink, 29 want hy wat eet en drink sonder om te besef dat dit die liggaam van die Here is, bring daardeur n oordeel oor homself. 30 Daarom is daar baie swakkes en sieklikes onder julle en sterf daar baie van julle. 31 As ons onsself vooraf reg ondersoek het, sou ons nie onder die oordeel gekom het nie. 32 Maar nou word ons deur die Here geoordeel en getugtig, sodat ons nie saam met die wêreld veroordeel sal word nie. 33 Daarom, my broers, as julle saamkom om die nagmaal te vier, wag vir mekaar. 34 As een van julle honger is, moet hy liewer by die huis eet, sodat julle nie n oordeel oor julle bring as julle bymekaarkom nie. Die ander sake sal ek reël wanneer ek daar kom.

2.   INLEIDING:
       Charles Hodge het op n keer gesêWe cannot commemorate Christ as our Saviour without thereby acknowledging ourselves to be His, the purchase of His blood and devoted to His service.

       Die Nagmaal is n verordening, of instelling, en natuurlik, n sakrament wat n permanente beslaglegging op ons harte beklemtoon, maar ook n permanente heilige toewyding van ons  vereis.

       Paulus suggereer aan ons hierdie permanensie wanneer hy in vers 26 van ons Skriflesing sê ~ Elke keer as julle van hierdie brood eet en uit die beker drink, verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom elke keer.

       Ek wil graag vanoggend drie sake t.o.v. die Nagmaal met u behandel:
-     Vir Wie is die Nagmaal bedoel?
-    God se Doel met die Nagmaal.
-    n Toets vir Opregtheid.

3.   VIR WIE IS DIE NAGMAAL:
       Eerstens dan, vir wie is die Nagmaal bedoel?
          Ons moet in die eerste plek besef dat die Heilige Nagmaal, slegs vir mense is wat bely dat hulle Christene is.  Thomas Doolittle het op n keer gesêDooie mense mag nie aansit aan die tafel van die Lewende God nie.  Nee, die Nagmaal is slegs vir diegene wat saam met Tomas kan uitroep, My Here en my God! (Joh. 20:28).

       Die Nagmaal is n baie sterk Evangelistiese middel, omdat gelowiges deur hul deelname aan die Nagmaal, aan die wêreld toon dat hulle Jesus Christus as Saligmaker en Here navolg en dat hul harte van klip verander is in harte van vlees ~ Ek sal hulle 'n ander hart gee en' n nuwe gees onder hulle laat posvat, Ek sal die kliphart uit hulle liggaam verwyder en hulle 'n hart van vleis gee (Eseg.11:19).        
       Daar is mense wat redeneer, omdat Judas die Iskariot teenwoordig was by die instelling van die Nagmaal, mag ongelowiges daarom ook deelneem aan die Nagmaal hulle slaan egter die bal ver mis.  Judas het tot en met daardie stadium, Jesus Christus as Here bely en was hy een van Jesus se dissipels.  Sy mededissipels het hom aanvaar as n broeder in  Christus en Jesus het hom op sy woord geneem (al het Hy in Sy Goddelike alwysheid geweet dat Judas nie gered was nie).  Judas was egter vals en skynheilig en was kort voor lank ontbloot as n huigelaar.  Vir n tyd lank het hyself gedink dat hy gered was en wel op grond van sy belydenis, maar gedurende die Paasfees waartydens Jesus gekruisig is, het Judas besef dat hy nie gered is nie en dat hy slegs voorgegee het dat hy n gelowige is.  As n verraaier van Jesus, is hy waarskynlik een van die beste voorbeelde van iemand wat die Nagmaal op onwaardige wyse gebruik het en derhalwe n oordeel oor homself geëet en gedrink het - kan u ook hierin sien hoe belangrike heiligmaking is?

  Die Heilige Nagmaal is tweedens n maaltyd waartydens God ons wil versterk en bevestig as gelowiges.                 

       Die Heilige Nagmaal is een van die sakramente waarvan die 1689 Baptiste Belydenis van Geloof praat (hoofstuk 28) die ander sakrament is natuurlik die heilige doop (hoofstuk 29).  Die woord sakrament is nie n Bybelse uitdrukking nie, maar word van die Latynse woord sacramentum afgelei, wat na iets heiligs en misterieus verwys en wat n baie diepliggende geestelike betekenis het.  Die eed wat Romeinse soldate afgelê het, het ook bekend gestaan as n sacramentum en dit het op n baie dieper  vlak van toewyding gelê as wat n gewone werknemer se lojaliteit bv. gelê het.

       Hierdie selfde diepgaande eed en ooreenkoms vind ons in die Nagmaal, waar die huidige en toekomstige toewyding van die gelowige aan die Verlosser herbevestig en vasgelê word.  Dit lê dus amper op die vlak van n hertoewyding aan Jesus Christus deur elke individuele gelowige. 

     Die Nagmaal is n korporatiewe gebeurtenis, of n gesinsmaal.  Niemand kan die Nagmaal aan homself bedien nie. Die Nagmaalstafel behoort aan die huisgesin van God en hulle nuttig dit, terwyl hulle die Here Jesus Christus loof en prys en dien.  Die feit dat die Nagmaal die vorm van n maaltyd aanneem, beklemtoon die gemeenskap van die gelowiges, of die broederskap, rondom die Tafel, ten einde geestelik gevoed te word en dit is dan ook in ooreenstemming met Joh.6:35 ~ Ek is die
brood wat lewe gee. Wie na My toe kom, sal nooit weer honger kry nie, en wie in My glo, sal nooit weer dors kry nie.

4.   GOD SE DOEL MET DIE NAGMAAL:
       God wil deur die Nagmaal, bepaalde praktiese doelwitte met Sy kinders bereik.

  Eerstens moet ons besef dat die doel met die Nagmaal nié is om mense wat daaraan deelneem, in te lyf in die Koninkryk van God nie.  Dit is dus nie ingestel om mense te bekeer nie.  Dit is dus nie n bekerings-ordonansie nie, of n maaltyd wat ook aan ongelowiges gebied word met die hoop dat hulle hul tot Christus sal bekeer nie. 

  Nee, soos reeds gesê, is die Nagmaal ingestel vir gelowiges en het dit ten doel om die deelnemers aan die Nagmaal, die geleentheid te bied om hul geloof in Jesus Christus te verklaar en te bevestig dit is dus n bevestigings ordonansie.  Die Nagmaal het dus ten doel om toegewyde gelowiges se persoonlike heiligmaking en geestelike groei, opnuut weer aan te wakker.

  Hierdie geestelike groei en heiligmaking word gewerk deur die Heilige Gees in en deur die sakrament van die Heilige Nagmaal.  Dit gebeur nie outomaties nie.  Daar is geen magiese kragte aant werk tydens die Nagmaal nie.  Dit alles gebeur deur geloof ons geloof in Jesus Christus, asook deur die Nagmaal op n waardige wyse te gebruik.

       Ons sien in 1 Korintiërs dat die gemeentelede in Korinte, dikwels deel gehad het aan die Nagmaal, maar hulle het ook dikwels, die Nagmaal op n onwaardige wyse gebruik en dit het dan tot gevolg gehad dat die Here Sy krag van hulle weerhou het en hulle gestraf het vir die onwaardige wyse waarop hulle die Nagmaal gebruik het 1Kor.11:30 ~ Daarom is daar baie swakkes en sieklikes onder julle en sterf daar baie van julle.  God hanteer ons as verantwoordelike wesens en daarom verwag Hy dat ons Hom ernstig sal opneem.

       Tydens die instelling van die Nagmaal het Jesus verwys na die Heilige Gees wat sou kom en wat die dissipels in alle waarheid sou inlei Joh.16:13 ~ Wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei. Wat Hy sal sê, sal nie van Homself kom nie: Hy sal net sê wat Hy hoor, en Hy sal die dinge wat gaan kom, aan julle verkondig

  Dit is dan ook die rede waarom die bediening van die Nagmaal altyd voorafgegaan behoort te word deur die prediking van die Woord, want sonder die Woord word die sakrament van die Nagmaal bloot afgewater tot simbole en n ritueel gestroop van die ware betekenis.  Dit is natuurlik iets wat reeds algemeen voorkom in kerke wat hulle verankerdheid in die Skrif verloor het. 

  Deur die krag van die Woord en die werking van die Heilige Gees, dien die Nagmaal as bevestiging van die Here Jesus se soendood, waardeur ons vergifnis van ons  sonde ontvang het, asook ons redding.

  Omdat die Nagmaal die fokus plaas op die dood van Christus en dit ons, by wyse van spreke, by die voet van die Kruis bring, lei dit ons ook na n leë graf en die feit dat Christus opgestaan het.

  Jesus is nie meer aan die kruis nie en Hy is ook nie meer in die graf nie.  Hy het gely, gesterf en weer opgestaan uit die dood, ten einde die verheerlikte Middelaar en Verlosser van God se uitverkorenes; die Redder van die verlorenes en die Hoof van die Kerk te word.

5.  SELFONDERSOEK:
       Wat dus vanuit die Kruis vloei, is nuwe lewe in die verrese Redder. Om hierdie punt te mis wanneer ons die Nagmaal gebruik, is om alles te mis wat die Woord vir ons leer oor môre
en die ewigheid.

       Vir baie nee, vir miljoene is die gebruik van die Heilige Nagmaal, slegs n godsdienstige viering of voorskrif wat nagekom moet word en is dit dus niks anders as n sondige ritueel nie.  Dit het tot gevolg dat diesulkes se lewe tussen die een Nagmaal en die volgende Nagmaal ook niks anders is as n lewe van godsdienstige voorskrifte wat nagekom word of wat hulle poog om na te kom.  Hulle hele lewe word dus niks anders as n godsdienstige ritueel nie.

      Wanneer ons die Nagmaal gebruik, moet ons in alle nederigheid, in die woorde van Gal.2:20 bely, ...en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe. Die lewe wat ek nou nog hier lewe, leef ek in die geloof in die Seun van God wat sy liefde vir my bewys het deur sy lewe vir my af te lê.  Enige iets minder as dit, is koud, klinies, meganies, werke gedrewe en slegs n nakoming van n bepaalde ritueel of rituele in kort, dit is n tragedie, want dit is n aanduiding van n hart en lewe wat nié in die regte verhouding tot God staan nie.

      Ons moet vir onsself n paar vrae vra wanneer ons die Nagmaal gebruik:
         Watter effek gaan die Nagmaal op my en my lewe hê, gedurende hierdie komende week en weke?
         Spreek die gebruik van die Nagmaal jou aan t.o.v. jou lewe, jou lewenstyl, jou optrede ens.?
         Oor wat spreek die Heilige Gees jou aan, wanneer jy aansit by die tafel? 
         Het jy Christus waarlik lief?
         Wy jy jou ganse lewe toe aan Hom?
         Wil jy Christus waarlik volg as Verlosser en Here in jou lewe?

      n Nuwe, vars voorneme om jou lewe te wy aan Christus, is n aanduiding dat jy die Nagmaal in opregtheid gebruik dit is n bevestiging van jou lewende geloof in Christus Jesus.

      Die tragiese van die Nagmaal is dat miljoene mense die betekenis van die Nagmaal in hulle daaglikse lewe weerspreek deur hul optrede.

       weer wat Jesus vir jou gedoen het waarvoor Hy waarlik gesterf het.  Is dit sodat ons n skoon gewete kan hê?  Waarvoor het Hy opgestaan uit die dood is dit sodat ons maar steeds kan leef soos ons wil, sonder n gedagte aan sonde, geregtigheid en oordeel?

6.   N TOETS VIR OPREGTHEID:
      Wanneer ons onder God se soeklig van geregtigheid kom, is die regte reaksie om ons sonde te bely.  Indien dit nié die geval is nie, sê die Apostel Johannes in 1Joh.1:10  die volgende ~ As ons beweer dat ons nie gesondig het nie, maak ons Hom tot leuenaar en is sy woord nie in ons nie.

      Belydenis van sonde is egter een ding, maar dit is nie dieselfde as persoonlike heiligmaking nie en daarom gaan Johannes verder en sê hy dat die uiteindelike doel met sondebesef en die belydenis van sonde, is om n heilige lewe te leef, daarom dat hy in 1Joh.2:1-3 die volgende sê ~ Dit skrywe ek aan julle, my liewe kinders, dat julle nie moet sondig nie. En as een van ons sondig-ons het Jesus Christus, die regverdige, as ons voorspraak by die Vader. 2 Hy is die versoening vir ons sondes; en nie net vir óns sondes nie, maar ook vir dié van die hele wêreld. 3 As ons die gebooie van God gehoorsaam, weet ons daaraan dat ons Hom ken.

      Sien u die oorgang hier van vers 2 na vers 3?  In vers 2 praat Johannes van Jesus se soendood vir ons, sodat ons aanneemlik kon raak vir God, maar Johannes gaan voort in vers 3 en sê in geen onduidelike taal aan ons, dat indien ons versoen is met God deur Christus, ons n verantwoordelikheid het om God se gebooie te gehoorsaam.  Ons lewe moet dus gekenmerk word deur gehoorsaamheid aan God en aan Sy Woord.

      Johannes gaan voort in sy eerste brief en hy gee n paar toetse aan ons deur, waardeur ons kan vasstel, of ons, ons vertroue waarlik in Christus plaas en daarom in gehoorsaamheid aan hom leef.
   Ons vind die eerste toets in 1Joh.2:3-4 ~ As ons die gebooie van God gehoorsaam, weet ons daaraan dat ons Hom ken. Iemand wat sê: Ek ken Hom, maar nie sy gebooie gehoorsaam nie, is n leuenaar, en die waarheid is nie in hom nie. Hiermee saam 1Joh.2:5a ~ Wie sy woord egter gehoorsaam-in hom het die liefde van God werklik sy doel volkome bereik.  Ons moet dus gehoorsaam wees aan God se Woord.
   Tweedens moet ons in en deur ons lewe, navolgers van Christus wees ~ Hieraan weet ons dat ons in Hom is. Wie beweer dat hy in Hom bly, behoort self ook te lewe soos Jesus gelewe het (1Joh.2:5b-6).

      Hierdie laaste Skrifgedeelte konfronteer ons dus met n baie direkte vraag, nl.: Ken jy régtig die Here Jesus? 

7.   AFSLUITING:

      Wanneer ons dan die Nagmaal gebruik, word ons na die Kruis van Jesus gebring en word ons in die woorde van Ps.116:12, opnuut weer opgeroep om onsself toe te wy aan Christus ~ Hoe sal ek die Here vergoed vir al sy weldade aan my?