Sunday, 7 April 2013

Die Openbaring aan Johannes – B01 (“Die Vrou”)



1.     INLEIDING:
Die Openbaring is in twee gedeeltes verdeel en ons gaan vanoggend begin kyk na die tweede gedeelte van hierdie wonderlike boek.

Die eerste elf hoofstukke van Openbaring het vir ons die oorwinning van Jesus Christus aangetoon deur Sy oordeel oor Jerusalem in 70 n.C. Dit was die einde van die “Joodse-era” of te wel die ou verbond.  70 n.C. kondig vir ons die volle instelling, of “lansering” van die nuwe verbond aan.  Vanaf die dertiende hoofstuk en verder aan, sien ons die oorwinning van die kerk van Christus (wat natuurlik die direkte gevolg is van Christus se oorwinning aan die kruis en Sy opstanding). Die eerste gedeelte handel oor die verwoesting van die tempel en Jerusalem; die tweede gedeelte handel oor die totstandkoming van die nuwe Jerusalem – die kerk van die Here Jesus Christus. Dit is egter belangrik om daarop te let, dat beide gedeeltes handel oor God se getrouheid aan Sy verbond.

       Dit is ook belangrik om daarop te let dat die ou verbond nie gekanselleer is en toe is ’n nuwe verbond daargestel nie. Wat gebeur het, is dat Israel die verbond verbreek het. God se verbond was ’n tweeledige verbond:
·           Indien Israel God gehoorsaam, sou God hulle seën.
·           Indien hulle die verbond minag, sou hulle deur God vervloek wees (Lev.26, 28).

       God het dus nooit Sy verbond met Israel verbreek nie – húlle het die verbond self verbreek, terwyl hulle geweet het wat die gevolge daarvan sou wees. God is altyd getrou aan Sy verbond en dit is die hooftema van Openbaring.

       In “ge-toebroodjie” tussen hierdie gedeeltes (1-11) en die res van Openbaring (13-22), vind ons Openb.12 – dit dien as ’n oorgang tussen die twee gedeeltes:
·           Hierdie hoofstuk verskaf aan ons die agtergrond vir die hele profesie.
·           Hierdie hoofstuk toon ook aan ons hoe dat God Sy nuwe verbond deur Christus tot stand bring, ten spyte van die feit dat die satan sy uiterste bes doen om God se plan in die wiele te ry.
·           Dit gee voorts vir ons ’n kykie in die konflik waarin die kerk haarself bevind en steeds sal bevind, tot en met Christus weer kom en hierdie heilige oorlog word in drie gedeeltes in Openbaring 12 uiteengesit (ons gaan vanoggend net na die eerste gedeelte kyk):
-       Die vrou (12:1-6);
-       Die vegter (12:7-12);
-       Die oorlog (12:13-17).

       Deurgaans deur hierdie heilige oorlog sien ons die pragtige en bemoedigende waarheid dat Christus en Sy kerk die uiteindelike oorwinning oor die saad van die slang van hierdie wêreld behaal.

2.     SKRIFLESING:
Openb.12:1-6 ~ Toe het daar ’n groot teken in die hemel verskyn: daar was ’n vrou met die son as kleed om haar, die maan onder haar voete, en op haar kop ’n kroon van twaalf sterre. 2Sy was swanger en het geskree van die pyn, want die geboortepyne was daar. 3Daar het ook ’n ander teken in die hemel verskyn: daar was ’n groot vuurrooi draak met sewe koppe en tien horings, en op sy koppe was daar sewe heerserskrone. 4Sy stert het ’n derde van die sterre van die hemel saamgesleep en hulle op die aarde gegooi. Die draak het voor die vrou gestaan wat op die punt was om ’n kind te kry. Hy wou haar kind verslind sodra sy hom in die wêreld bring. 5Sy het ’n kind in die wêreld gebring, ’n seun, bestem om al die nasies met ’n ystersepter te regeer. Haar kind is egter weggeruk na God en na sy troon toe, 6en die vrou het na die woestyn toe gevlug waar God vir haar ’n plek gereed gemaak het, sodat die mense haar daar twaalf honderd en sestig dae lank kon versorg.

3.    DIE VROU:
Die eerste ding wat Johannes sien met die opening van hierdie hoofstuk, is ’n vrou wat deur ’n groot draak gejag word. Hierdie verse dek die geskiedenis van die heilige oorlog met spesifieke verwysing na Israel, trouens die ware Israel van God – die kerk van Christus.  Hierdie gesig het twee hoofkarakters, nl. die vrou en die draak.

Johannes vertel ook vir ons wat hierdie ...groot teken (v.1) was, nl. ’n vrou met die son as kleed om haar, die maan onder haar voete, en op haar kop ’n kroon van twaalf sterre.  Hierdie is die eerste gesig of visioen van ’n vroulike karakter in hierdie profesie. Maar wie is hierdie vrou presies?  Ten einde ’n antwoord hierop te vind, moet ons na die Ou Testament blaai ~ Hy het ook nog ’n ander droom gehad en hy het dit vir sy broers vertel. Hy het gesê: “Ek het weer gedroom. Die son en die maan en elf sterre het voor my kom buig.” 10 Toe hy dit vir sy pa en sy broers vertel, het sy pa hom berispe en vir hom gesê: “Wat vir ’n soort droom is dit wat jy gehad het? Verbeel jy jou ek en jou ma en jou broers moet voor jou kom buig?” 11 Sy broers was afgunstig op hom, en sy pa het aan die droom bly dink (Gen.37:9-11).

Dit is opmerklik dat Josef hier droom van dieselfde hemelliggame wat Johannes in Openb.12 sien: die son, die maan en die sterre. Josef het geen behoefte gehad om hierdie droom aan sy Pa uit te lê nie, want sy pa het die verklaring daarvan onmiddellik gesien. Jakob het verstaan dat die son ’n simbool was van hom; die maan het Rebekka gesimboliseer en die sterre was verteenwoordigend van Jakob se seuns. Waarom is daar net elf sterre? Dit is omdat Josef die twaalfde ster is – die ander 11 sterre in sy droom, het voor hom, die twaalfde ster, kom buig.  Aangesien Jakob se twaalf seuns die leiers van die twaalf stamme van Israel sou word, is Josef se droom baie duidelik daaroor dat sy droom na Israel verwys. Net so sien Johannes ook dieselfde hemelliggame en verwys dit ook na Israel, maar aangesien ~ ...nie almal wat nakomelinge van Abraham is, werklik kinders van Abraham (is) nie (Rom.9:7), ontstaan die vraag dus, na watter Israel verwys Johannes se visioen?  Die antwoord word duideliker wanneer ons na die volgende vers kyk ~ Sy was swanger en het geskree van die pyn, want die geboortepyne was daar (12:2). Weereens word hier na Israel verwys as daar van die vrou gepraat word, aangesien daar kort-kort na Israel verwys word in die Ou Testament as ’n vrou in kraam (Jes.66:5-10; Jes.26:17-18; Miga 5:1-3).  Die volk word uitgebeeld as ’n swanger vrou, omdat Israel uiteindelik die Messias gaan voortbring. Ek moet egter dadelik byvoeg dat wanneer hier van Israel gepraat word, daar nie na die etniese Israel verwys word nie, maar na die ware Israel onder die ou verbond (wat natuurlik hoofsaaklik uit etniese Jode bestaan het, maar wie hul geloof in die komende Messias, Jesus Christus geplaas het).

Daar is baie mense wat glo dat al die Jode iewers in die toekoms, na Israel gaan terugkeer. Dit is wel so dat die Woord leer dat ’n groot aantal etniese Jode iewers in die toekoms hul oë op Christus gaan vestig en in Hom alleen gaan glo, maar daar is niks in die Woord wat daarop dui dat daar ’n massa terugkeer van Jode na Israel gaan wees nie.

’n Tweede hoofkarakter verskyn in v.3 op die toneel, nl. ’n groot vuurrooi draak. Alhoewel hierdie draak ’n mistiese figuur is, laat dit ons in geen twyfel wat die identiteit van hierdie draak is nie. Hy word later in Openb.12:9 as die slang van ouds, wat die duiwel en die Satan genoem word, geïdentifiseer. Hierdie draak is iets verskrikliks en hy word voorgestel met... ~ sewe koppe en tien horings, en op sy koppe was daar sewe heerserskrone. Hy het verder ’n buitengewoon kragtige stert gehad, wat... ~ ’n derde van die sterre van die hemel saamgesleep en hulle op die aarde gegooi het.  Dit is dus baie duidelik dat die duiwel nie lyk soos wat Hollywood hom uitbeeld, nl. ’n klein rooi mannetjie met ’n lang vurk in die hand nie. Hollywood het van die satan, ’n karikatuur gemaak, terwyl die satan geen grap is nie.  Hy is slu; veragtelik; gemeen; ’n moordenaar en ’n leuenaar.

Die rooi kleur van die draak verwys waarskynlik na al die bloed wat hy deur die eeue heen vergiet het, want hy was van die begin af, ’n moordenaar ~ ...Hy (die duiwel) was van die begin af ’n moordenaar. En hy staan nie aan die kant van die waarheid nie, omdat daar geen waarheid in hom is nie. Wanneer hy leuentaal praat, is dit volgens sy aard, want hy is ’n leuenaar en die vader van die leuen (Joh.8:44).

Die mistiese gedeelte van hierdie draak, is die sewe koppe en tien horings. Wat moet ons met hierdie mistiese beeld maak, hoe moet ons dit verstaan? Baie pogings word deur verskillende groepe en oortuigings gemaak om dit te verklaar, maar dan neem nie een van hulle regtig die res van die Skrif in ag wanneer hulle dit probeer verklaar nie. Kom ons kyk na Dan.7:1-8 ten einde ons te help om hierdie beeld te verklaar ~ In die eerste regeringsjaar van koning Belsasar van Babel het Daniël ’n droom gehad en visioene gesien in sy slaap. Hy het die droom opgeskryf en die inhoud daarvan soos volg weergegee. 2 Hy het gesê: “In my nagtelike visioen het die wind uit al vier windstreke die groot see onstuimig laat word. 3 Vier groot diere het uit die see uit opgekom, en elkeen was anders as die ander. 4 Die eerste het soos ’n leeu gelyk en hy het arendsvlerke gehad. Terwyl ek kyk, is sy vlerke afgeruk en is hy opgelig, sodat hy op twee voete gestaan het soos ’n mens, en ’n mens se verstand is aan hom gegee. 5 Die tweede dier het soos ’n beer gelyk. Hy het op sy agterpote gestaan en het drie ribbebene in sy bek gehad. Daar is vir hom gesê: ‘Vreet maar! Vreet soveel vleis as jy wil!’ 6 En toe ek weer sien, was daar nog ’n dier, een soos ’n luiperd. Hy het op sy rug vier vlerke gehad soos dié van ’n voël. Hy het vier koppe gehad en aan hom is heerskappy gegee. 7 My nagtelike visioen het voortgeduur en toe ek weer sien, was daar ’n vierde dier, skrikwekkend, vreesaanjaend en baie sterk. Hy het groot ystertande gehad en alles wat voorkom, verslind en vermorsel en wat oorgebly het met sy pote vertrap. Hy was anders as die vorige diere en het tien horings gehad. 8 Terwyl ek stip na die horings kyk, het daar ’n klein horinkie tussen hulle uitgekom, en drie van die ander is uitgeruk om vir hom plek te maak. Hierdie horing het mensoë gehad en ’n mond wat allerlei verwaande dinge kwytgeraak het.

Daniël se visioen fokus hier op vier groot diere. Die eerste dier met die vlerke verteenwoordig Babilon. Die feit dat hierdie dier opgelig en ’n mensehart gegee is, mag dui op wat God met Babilon se groot koning, Nebukadneser, gedoen het ~ Nebukadneser ...is uit die menslike samelewing uitgestoot en moes gras eet soos beeste. Hy is snags deur die dou van die hemel natgemaak, en sy hare het so lank geword soos die vere van ’n arend en sy naels soos dié van ’n voël (Dan.4:33b).

Die tweede dier, met die drie ribbebene in sy bek, verteenwoordig waarskynlik die Mede-Persiese koninkryk. Die feit dat die beer homself opgelig en op sy agterpote gaan staan het, dui daarop dat die magsbalans in hierdie alliansie nie gelyk verdeel was nie, want die Perse was sterker as die Mediërs en het uiteindelik die oorheersende mag in die wêreld geword.  Die drie ribbes in die beer se mond verteenwoordig die drie sterkste magte wat deur die Mede en Perse verower is, nl. Lydia,  Egipte en Babilon (Lydia was ’n Ystertydperk-koninkryk wat in die moderne Turkse provinsies Manisa en Izmir geleë was.  Babilon was ’n Stadstaat van antieke Mesopotamië en was in die huidige Al Hillah in die Babil provinsie van Irak geleë).

Die derde dier, was soos ’n luiperd met vier vlerke en dit het die Griekse koninkryke verteenwoordig. Toe Alexander gesterf het, is sy koninkryk verdeel tussen sy vier generaals:  Ptolmey I, (wat Egipte en Palestina beheer het), Seleucus I (wat Sirië beheer het), Lysimahus (beheer Tragië en Klein-Asië) en Antipater en Cassander (wat gesamentlike heersers oor Masedonië en Griekeland was). Hierdie kwartet van regeerders word uitgebeeld as die vier koppe (en waarskynlik die vier vlerke) van die luiperd.

       Die vierde dier word beskryf as skrikwekkend, vreesaanjaend en baie sterk, met groot ystertande. Hierdie dier het die Romeinse Ryk verteenwoordig.  Daniël kon nie hierdie dier ten volle beskryf nie, want die gesig was te verskriklik, daarom dat hy sê, dat ... Hy anders (was) as die vorige diere en het tien horings gehad (ons sal later na die betekenis van hierdie tien horings kyk – Openb.13).

Elkeen van hierdie heidense nasies het Israel op een of ander stadium regeer. Indien ’n mens die koppe in Dan.7 sou neem, vind ons dat daar 7 koppe was (1+1+4+1=7), wat presies dieselfde hoeveelheid koppe is, as waaroor die “groot rooi draak” van Openb.12:3 beskik het. Elke kop het ’n kroon opgehad, wat dui op lande (Ryke) wat op een of ander stadium, heerskappy uitgeoefen het oor Israel, maar volgens 12:3 sien ons dat die “groot rooi draak” elke keer agter elke heidense oorheersing oor Israel gesit het, behalwe dat Nebukadneser van Babilon uiteindelik gered is en die hart van ’n mens ontvang het. God se volk in die Ou Testament was voortdurend onder die beheer van heidense nasies, maar soos reeds gesê, was dit die “groot rooi draak” wat agter dit alles gesit het. Johannes se gesig is dus die "geestelike-agter-die-skerms-kykie" van die ware geskiedenis van God se ou verbondsvolk. Die motief van die sataniese aanslag teen God se volk was natuurlik primêr geloods om te verhoed dat die Messias uit die volk van God gebore sou word – daarom dat die volk uitgewis moes word.

Die draak se oorlogvoering word vir ons verder in v.4 beskryf. Hier word aan ons verduidelik hoe die draak, die vyand van God geword het. Die beskrywing is kort en bondig ~ Sy stert het ’n derde van die sterre van die hemel saamgesleep en hulle op die aarde gegooi. Engele word dikwels in die Bybel as sterre beskryf. In hierdie vers lees ons dan van engele wat neergewerp is op die aarde. Dit blyk dus ’n verwysing te wees na Satan se aanvanklike val, waartydens hy een derde van die engele saam met hom geneem het.  Hierdie is dus ’n verdere uitbreiding of voortsetting van Jes.14:12-15 ~ Jy wat die helder môrester was, het uit jou hemel geval. Jy wat ’n oorwinnaar van nasies was, is in die grond in verpletter. 13 En dit jy, jy wat gedink het: ek klim op hemel toe, ek gaan my troon neersit bokant die hoogste sterre, ek gaan my plek inneem op die berg waar die gode mekaar ontmoet, ver in die noorde; 14 ek klim op tot bokant die wolke, ek word soos die Allerhoogste self. 15 Maar jy stort af in die doderyk, af tot in sy diepste deel (sien ook Eseg.28:11-18).

Die satan het regdeur die geskiedenis maar net een doel voor oë gehad, nl. om die Messias te vernietig.  Waarom? Omdat, tot ’n bepaalde en gekwalifiseerde mate, hy in die Woord van God glo!  Hy het geweet en hy glo dat die Nageslag van die vrou, sy kop uiteindelik sou vermorsel (Gen.3:15) en hy het elke moontlike “truuk in die boek” uitgehaal om dit te voorkom, want as hy eerste met die Messias kon afreken, sou die Messias nie met hom kon afreken nie.

Hierdie pogings van die satan om die Messias te vernietig, begin reeds met Kain en Abel, want uit een van hierdie twee sou die Messias voortkom en die waarskynlikheid was die grootste dat Hy vanuit Abel sou kom, want Kain het volgens 1 Joh.3:12, ...aan die Bose behoort en sy broer vermoor. En dan vra Johannes die vraag:  En waarom het hy hom vermoor? Omdat sy eie dade sleg was en sy broer s’n reg. In die lig hiervan, vermoor die satan dan vir Abel aan die hand van Kain. Ongelukkig vir die satan het dit nie gewerk nie, want God stuur hierna vir Set, deur wie se bloedlyn die Messias uiteindelik gebore sou word.

Ons sien in Gen.6, dat die satan reeds die aarde so “besoedel” het met sy boosheid, omdat hy gedink het dat God die wêreld sou straf vir hul boosheid en hulle derhalwe sou uitwis en dit sou dan tot gevolg hê dat die Messias nie gebore sou word nie. Weer het hy nie geslaag nie, want ons sien in Gen.6:8, dat Noag genade gevind (het) in die oë van die HERE. God het Noag en sy seuns bewaar en dan spesifiek vir Sem, uit wie se nageslag die Verlosser (Christus Jesus) gebore sou word.

Jare later nadat Israel onder die eersteministerskap van Josef in Egipte, sekuriteit ervaar het, het Satan weereens ’n poging aangewend om die heilige lyn wat na die Verlosser sou lei, te vernietig. Toe die Farao senuweeagtig begin raak oor die toename van die Israeliete se getalle, het hy onder die invloed van die Rooi Draak, opdrag gegee dat al die seuntjies onder die ouderdom van twee dood gemaak moes word (onthou: die Messias sou as ’n seuntjie in hierdie wêreld gebore word). Weereens tree God in en word die seuntjie Moses bewaar – Moses die groot leier wat die volk uit Egipte sou lei na die Beloofde Land. Satan se pogings eindig egter ook nie hier nie, want terwyl die volk in die woestyn is, lei hy hulle in afgodery in, sodat God se oordele weereens oor die volk losbreek en spesifiek tydens die era van die Rigters.  Hy poog om Dawid, die voorvader van Jesus, aan die hand van Saul te vermoor.

By twee geleenthede tydens die era van die verdeelde koninkryke, is die heilige lyn in Juda bykans uitgewis, maar God het telkens ingegryp en sy volk bewaar. Buitelandse magte is deur die satan misbruik om die koms van die Messias te verhoed: Assirië, Babilon, die Mede en Perse, die Grieke en die Romeine. Gedurende die Mede-Persiese regering, het die koning opdrag gegee dat die Joodse volk van die aangesig van die aarde, uitgewis moes word, maar God het vir koninging Ester gebruik om dit te verhoed.

Met die aanbreek van die Nuwe Testamentiese tydperk, vind ons dat die satan steeds nie bes gee nie.  Herodes word as instrument gebruik om die opdrag wat die Farao lank terug gegee het, weer te herhaal, deurdat alle seuntjies onder die ouderdom van twee, gedood moes word. God verhoed weereens dat hierdie poging die koms van die Messias in die wiele ry, deurdat Hy aan Josef opdrag gee om met Maria en die Jesus-kind na Egipte te vlug.

Toe dit duidelik blyk dat Jesus gebore is, probeer die satan nog ’n keer om Jesus van Sy Goddelikheid te ontneem, deur Hom in die wildernis te versoek, wat Christus natuurlik self weerstaan het. Bo en behalwe sy poging in die wildernis, het Satan tydens Jesus se tydperk op aarde, verskeie pogings aangewend om Jesus om die lewe te bring – dink aan die godsdienstige leiers van Jesus se dag. God het Hom elke keer beskerm – en dan die einde – Jesus sterf aan die kruis op Golgota.  Satan moes gedink het dat hy uiteindelik die oorwinning behaal het – Die Messias is dood en hy wat Satan is, se kop is nog heel! Maar dan vind die opstanding en Christus se hemelvaart plaas!  Aan Christus word alle gesag in hemel en op aarde gegee (soos bewys o.a. in die val van Jerusalem nagenoeg 40 jaar later). Satan se kop is inderdaad verbrysel!  Satan het gefaal!

Satan se pogings is absoluut futiel.  Die goddelike nageslag sal altyd oorwin, al moet sy dikwels beproewing in die proses ervaar. Hierdie feit lê aan die hart van geestelike oorlogvoering. Dit is belangrik dat ons onmiddellik daarop moet wys, dat geestelike oorlogvoering soos in hierdie hoofstuk beskryf (en in die meeste gedeeltes van die Nuwe Testament) korporatiewe (gesamentlik) oorlogvoering is, m.a.w. die gelowige voer dit nooit op sy eie nie, trouens hy kan dit nie op sy eie voer nie.  Daar word deesdae baie klem gelê op geestelike oorlogvoering, maar die klem word heeltemal te veel op individuele oorlogvoering geplaas (of dit ten minste gesuggereer), i.p.v. korporatiewe oorlogviering. Natuurlik moet elke individuele gelowige uitvoering gee aan Ef.6:10 (Soek julle krag in die Here en in sy groot mag), maar ons moet altyd in gedagte hou dat die satan se primêre aanslag teen die kerk eerder as individuele gelowiges is. Ons veg nooit alleen nie; ons veg in ’n “Christelike weermag”. Die Kerk moet die geveg veg in die krag van Jesus Christus.

Ons het tot ’n mate al gekyk na die draak se mislukking, maar Johannes spel dit vir ons in v.5 nog duideliker uit. Die draak se pogings om die Kind te vernietig, het ons gesien, het op niks uitgeloop nie, want uiteindelik word Hy opgewek uit die dood en vaar Hy op na die hemel en begin Hy om oor al die nasies van die wêreld te heers.

Die Kruisgebeure word glad nie hier op die agtergrond geskuif nie, maar Johannes praat hier van twee bykomende hoofmomente in Christus se bediening, nl. Sy geboorte (Sy het ’n kind in die wêreld gebring) en Sy hemelvaart (Haar kind is egter weggeruk na God en na sy troon toe). God se plan was volbring – Hy het voorwaar die nasies met Sy ystersepter begin regeer (v.5)! Hierdie uitdrukking word verleen aan Ps.2:9. In Ps.2 vind ons beide Jood en heiden, wat saam in rebellie teen God verkeer.  Hulle het beide daarna gesoek om alle vorme van gesag van hulle af te skud. God laat Hom egter nie intimideer deur mense nie en Sy teenoptrede is om die koms van Sy Seun aan te kondig, wanneer Hy sê ~ Jy sal hulle verpletter met jou ystersepter, hulle flenters slaan soos ’n kleipot (Ps.2:9).  Hierop gee God ’n opdrag aan hulle ~ Wees dan nou verstandig, konings, wees gewaarsku, regeerders van die aarde! 11 Julle moet die Here met ontsag dien, Hom met vrees en bewing toejuig 12 en Hom onderdanig wees, sodat Hy nie toornig word en julle op die pad omkom nie, want sy toorn ontvlam gou. Dit gaan goed met almal wat by Hom skuiling soek (Ps.2:10-12).

Die boek van Openbaring het een hooftema, nl.: Christus ontvang die volkere as Sy erfenis. A.g.v. die opstanding en hemelvaart, sal die Evangelie, alle nasies bereik en oorwin. Satan haat die Groot Opdrag, maar ten spyte van sy aanvalle teen die kerk, sal hy nooit die oorwinning behaal nie, want Hy kan nie meer wen nie, omdat sy kop reeds verbreisel is – en dit is genoeg rede vir ons om in lofprysing uit te bars!

Die fokus verskuif nou in v.6, weg van die draak na die vrou.  Hier vind ons ’n beskrywing van die beskerming van die Joodse kerk na die hemelvaart en dan met spesifieke verwysing na Luk.21:20-24 ~ Wanneer julle sien dat Jerusalem deur leërs omsingel word, moet julle weet dat sy verwoesting naby is. 21 Dan moet dié wat in Judea is, die berge in vlug, en dié wat in die stad is, daaruit padgee, en dié wat op die plase is, nie na die stad toe gaan nie, 22 want in daardie dae voltrek God sy straf. Alles wat geskrywe staan, word dan bewaarheid. 23 “Dit sal bitter swaar gaan met die vrouens wat in daardie tyd swanger is en met dié wat nog klein kindertjies het, want daar sal groot nood in die land heers, en God sal hierdie volk straf. 24 “Sommige sal deur die swaard val en ander as krygsgevangenes na al die nasies toe weggevoer word. Jerusalem sal deur die heidennasies vertrap word totdat ook hulle tyd verby is. Gedurende die finale veldslag teen Jerusalem, het die gelowiges uit Jerusalem ontvlug na Pella waar hulle vir 3½ jaar (42 maande, 1 260 dae – ’n tyd, en tye en ’n halwe tyd) deur God beskerm is.

Deurgaans deur die geskiedenis het Satan daarop gefokus om die Messias se koms te verhoed, of om Hom uit die weg te ruim.  Elke poging wat geloods was, was teen God se kinders geloods, want vanuit hierdie heilige bloedlyn sou Christus kom. Teen die tyd dat Christus opgevaar het na die hemel, was dit baie duidelik (selfs vir die groot rooi draak self ook) dat die satan misluk het.  Hy kon niks meer doen om die Messias se heerskappy te voorkom of te beëindig nie en daarom, in sy woede, rig hy sy aandag nou op die vrou. As hy Christus nie uit die weg kon ruim nie, kan hy ten minste probeer om die kerk te vernietig. Satan se primêre fokus sal aanvanklik gerig wees op die kerk in Jerusalem. Met die Romeinse oorheersing en aanval teen Jerusalem (<70 n.C.) het die duiwel waarskynlik gedink dat daar ’n kans bestaan om suksesvol te wees in sy doelwit, maar ook daarin het hy misluk, want Christus het Sy kinders beseël en afgemeet sodat hulle beskerm sou word (Openb.7:1-8; 11:1).

Hierdie beskerming word vir ons verder in v.6 beskryf.  God het vir hulle ’n plek in die wildernis voorberei, by name Pella, waarheen Sy kinders sou vlug ten einde die verwoesting van Jerusalem te ontkom. Daar was weliswaar erge vervolging teen die kerk van die Here Jesus gedurende die Joodse oorloë, maar God was getrou en het hulle deurentyd beskerm. God se wraak en oordele sou eerder op die afvallige Israel val, eerder as op die kerk.

Daar in Pella, was die kerk vir 1 260 dae gevoed en versorg – onthou dat hierdie tydperk van 1 260 dae, presies die tydperk was wat die Joodse oorlog geduur het.  God het Sy kinders (die kerk) uit die oorlogsone in Jerusalem verwyder en hulle derhalwe beskerm terwyl die afvallige Israel verwoes is.

4.    AFSLUITING:
Hierdie Goddelike versorging en voeding van die kerk, herinner ’n mens nogal aan Elia se ervaring toe hy weggevlug het van koning Agab en koningin Isébel ~ Elia die Tisbiet was ’n bywoner uit Gilead. Hy het vir Agab gesê: “So seker as die Here leef, die God van Israel in wie se diens ek staan, daar sal die volgende paar jaar geen dou of reën val nie, behalwe as ek so sê.” 2 Die woord van die Here het tot Elia gekom en gesê: 3 “Gaan hiervandaan af ooswaarts en gaan versteek jou in Kritspruit, anderkant die Jordaan. 4 Jy kan water uit die spruit drink, en Ek het die kraaie beveel om daar vir jou te sorg.” 5 Hy het gedoen soos die Here aan hom opgedra het. Hy het daar in Kritspruit gaan bly, anderkant die Jordaan. 6 Die kraaie het vir hom soggens brood en vleis gebring en hulle het vir hom saans brood en vleis gebring, en hy het water uit die spruit gedrink (1Kon.17:1-6).

Net soos wat God vir Elia beskerm en versorg het, net so het Hy Sy kinders versorg en beskerm teen die aanslag van die groot rooi draak. Wanneer dit wil voorkom asof die satan die kerk en ons domineer, kan ons altyd die versekering hê dat God Sy oorblyfsel sal beskerm.  Daarom hoef ons niks te vrees nie! God het altyd in die verlede en sal altyd in die toekoms, Sy ware Israel – vir jou en my, beskerm!


[1] Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Sondag 07 April 2013

Saturday, 23 March 2013

Jona het nood aan die Evangelie - 06 ("Jona, het jy rede om kwaad te word?")


 

1.    INLEIDING:
       Die Nineviete het tot bekering gekom en ’n mens kon maklik gedink het dat God Sy doel bereik het en dat die verhaal aan die einde van hoofstuk 3 kon geëindig het, maar dit is alles behalwe die geval – onthou ons het vantevore gesê dat God meer belangstel in die werker as die werker se werk en daarom gaan ons sien dat hierdie verhaal nie aan die einde van hoofstuk drie kon eindig nie, omdat God nog nie klaar was met die werker Jona nie.

2.    SKRIFLESING:
Jona 3:10-4:11 ~ 10Toe God sien wat hulle doen, en hoe hulle hulle bekeer van hulle verkeerde dade, het Hy afgesien van die ramp wat Hy gesê het Hy oor hulle sal bring. Hy het nie die ramp gestuur nie. 1Hieroor was Jona baie ontevrede en hy het baie kwaad geword. 2Hy het tot die Here gebid en gesê: “Ag, Here, ek het dit geweet toe ek nog in my land was. Daarom het ek reg in die begin na Tarsis toe gevlug. Ek het geweet U is ’n genadige en barmhartige God, lankmoedig en vol liefde. U sien maklik af van die straf wat U aangekondig het. 3“Laat ek nou maar sterf, Here, want dit is vir my beter om te sterf as om te lewe.” 4Toe vra die Here vir hom: “Het jy rede om kwaad te word?” 5Jona is toe uit die stad uit. Hy het oos van die stad gaan sit en vir hom ’n skerm gebou. Hy het daaronder in die skaduwee gaan sit om te sien wat in die stad gebeur. 6Toe laat die Here God ’n komkommerplant opkom, en dit het bo-oor Jona gerank om skaduwee te gee vir sy kop en om hom van sy misnoeë te bevry. Jona was baie bly oor die komkommerplant. 7Die volgende môre met dagbreek laat God toe ’n wurm kom, en dit het aan die komkommerplant gevreet, sodat dit verdroog het. 8Toe die son opkom, het God ’n skroeiende sterk wind uit die ooste laat waai. Die son het vir Jona op sy kop gesteek, en hy het baie swak geword en gewens om maar liewer te sterf. Hy het gesê: “Dit is vir my beter om te sterf as om te lewe.” 9Toe vra God vir Jona: “Het jy rede om kwaad te word oor die komkommerplant?” en Jona antwoord: “Ek het rede genoeg: ek is besig om te sterf!” 10Die Here het vir Jona gesê: “Jy is besorg oor die komkommerplant waarvoor jy nie gewerk het nie en wat jy nie versorg het nie. Dit het oornag opgekom en oornag is dit dood. 11Maar Ek mag nie besorg wees oor die groot stad Nineve nie, ’n stad waarin daar meer as honderd en twintig duisend mense is wat nie weet wat reg of verkeerd is nie, en ook nog baie diere?”  

3.    ’N GENADIGE GOD:
       Uiteindelik hoor ons die waarheid uit Jona se mond – hy verskaf aan ons die rede waarom hy in die eerste plek van God se aangesig af gevlug het. Dit was nie omdat hy bang was dat hy nie God se opdrag suksesvol sou kon uitvoer nie – nee, sy groot vrees was daarin geleë, dat God se opdrag aan hom, in vervulling sou kom – dat Nineve haar sou  bekeer en hy het ten diepste geweet dat dit presies is wat sou gebeur as hy gehoorsaam was!

       Jona moes vooraf geweet het dat God ’n plan met Nineve gehad het en hy het God ook goed genoeg geken om te weet dat God ’n genadige God is, trouens hy sê dit self in v.2 ~ Ek het geweet U is ’n genadige en barmhartige God, lankmoedig en vol liefde (geen ander mensgemaakte godsdiens op aarde leer dit vir hulle dissipels nie!).

       Toe Jona sien wat in Nineve aan die gang was (hul grootskaalse bekering), moes hy vir homself gesê het: Ek het dit geweet; ek geweet dit is wat God in die mou voer! In v.1 sien ons dat Jona baie ontevrede was – hier het ons weer die Hebreeuse woord waarna ons die vorige keer na gekyk het, nl. "gadol" iets wat in die oortreffende trap beskryf word – Jona was dus "gadol" ontevrede – hy was geweldig ontevrede; hy was buite homself ontevrede – hy was woedend om die minste daarvan te sê!

       Dit is so ironies, dat hy net in die volgende vers getuig van God se goedheid en lankmoedigheid, ens., maar hy self is in alle opsigte net mooi die teenoorgestelde. Hierdie was nie ’n nuwe karaktertrek wat God van Homself nou vir die eerste keer aan Jona geopenbaar het nie – hierdie is ’n karaktereienskappe van God wat so ver terug strek as Eks.33, waar God aan Moses gesê het ~ Ek sal al my voortreflikheid voor jou laat verbykom en Ek sal die Naam ‘die Here’ vir jou uitroep, want Ek betoon genade aan wie Ek genade wil betoon en Ek ontferm My oor wie Ek My wil ontferm (v.19). Hierdie woorde van God aan Moses, moes bekende woorde vir die profeet Jona gewees het, maar nogtans "stamp" Jona homself teen hierdie wonderlike God van hom.

       Hierdie gesindheid van Jona spruit uit ’n uiters selfgesentreerde gesindheid, omdat hy die Assiriërs (Nineve) steeds beskou as ’n geweldige dreigement vir sy geliefde land Israel en hy het nie ’n saak met dít wat op God se hart vir hierdie bose land en stad is nie – God moet hulle straf en uitwis! In plaas daarvan dat Jona God aanvaar soos Hy is en Wie Hy is, wil Jona, God in ’n "boksie" indruk wat hý ontwerp het. Skielik besef ons waarom ons tot nou toe geen woord van sondebelydenis uit Jona se mond hoor kom het nie, want dit gaan oor Jona en sy volkie en nie oor God en God se wil en planne nie.

       Die wonder van God in hierdie spesifieke oomblik van Jona se woede en onvergenoegdheid, is dat God na Jona luister, selfs terwyl Jona uiters selfgesentreerd is en baie, baie ernstig is met wat hy vir die Here te sê het. Luister net na sy gebed in v.2a ~ Ag, Here, ek het dit geweet toe ek nog in my land was. Daarom het ek reg in die begin na Tarsis toe gevlug as om te lewe.” Alles gaan oor Jona – net oor homself, maar God luister steeds na hom.

       Soos altyd, ignoreer God egter nie hierdie geweldige gebed van Jona, waarin hy vra dat hy maar moet sterf nie – God antwoord hom, maar Hy antwoord hom op ’n subtiele wyse, deur in v.4 aan Jona ’n vraag te vra ~ Het jy rede om kwaad te word? Dit is so asof die Here vir hom sê: Jona, Jona, my liewe kind, wat doen jy aan jouself? Is dit reg dat jy kwaad is? Is jy seker jou beoordeling van die situasie is reg? Trek jy dalk My oordeel in twyfel? God was nie besig om Jona te berispe nie en ook nie om vir hom te vra wie hom die reg gee om so met God te praat nie. Nee, die Here het eerder aan Jona gesuggereer dat Jona se oordeel dalk nie heeltemal in die kol is nie en dat hy weer daaroor moet nadink – weereens sien ons ’n genadige en liefdevolle Vader, wat sagkens met Sy "dwars-kind" werk.

       Na Jona se redding uit die see en die vis, het dit so gelyk asof ons te doen het met ’n nuwe Jona – ja ons het tog, want Jona druk deur met sy opdrag om na Nineve te gaan om hulle in die Naam van die Here aan te spreek oor hul sonde. Maar tog, aan die anderkant blyk dit nou dat daar steeds iets ernstigs skort – so asof hy al klaar weer vergeet het van sy verlossing ’n maand of drie vantevore – miskien het al sy dinkery op sy 1 500 km. lange staptog deur woestynlandskap en oor landsgrense heen, hom laat vergeet van God se genade in sy lewe.

       Die probleem met Jona, is dat God, deur Sy optrede, totaal buite Jona se "boksie-god" is – hoe hý God sien, teenoor wie God werklik is en Jona kan dit nie hanteer nie. Jona kan die woorde in v.2b, wat gebaseer is op Eks.34:6 en  Ps.86:15, hardop bid ~ U is ’n genadige en barmhartige God, lankmoedig en vol liefde, maar in sy hart van harte, glo Jona dit nie regtig nie en kan hy hierdie wonderlike waarheid wat hy met sy kop bid, nie in die praktyk van sy lewe uitleef nie.

4.    REDDING EN VERGIFNIS:
       As ’n mens weer mooi na Jona se gebed in die vis se maag gaan kyk, dan besef jy dat Jona nog steeds nie verstaan het nie. Ja, hy het weliswaar verklaar dat hy ’n loflied tot die Here sing en dat hy ’n offer aan die Here wil bring en dat al die hulp net van die Here kom (2:9) en ja, die Here het hom gered, maar Jona het steeds nood aan die Evangelie – hy het nood aan vergifnis; hy het nood aan verlossing van sy sonde, want hy het nog steeds nie sy sonde bely nie.

       Die woord wat in die Grieks gebruik word vir verlossing, beteken letterlik om gered te word ("to be rescued"). Wanneer die Woord daarvan praat dat die mens gered moet word van sonde, gebruik die Woord dit op verskillende wyses. Dit kan beteken:
·           Jou eenmalige redding van die sonde se ewige straf – dit is m.a.w. verlossing en redding van die erfsonde – daardie sonde wat Adam oor homself en sy nageslag, wat ons insluit, gebring het (Gen.3).
·           Jou voortdurende bevryding en verlossing van die sondemag wat jou voortdurend deur hierdie lewe teister – die sondesmet.
·           Jou finale en uiteindelike verlossing van die sonde se teenwoordigheid in en om jou, wanneer Christus jou kom haal.

       Wanneer iemand nie in Christus Jesus is nie, het hy nood aan verlossing van al drie bogemelde. Wanneer iemand egter wederbaar is, het hy steeds behoefte aan die laaste twee. Paulus noem dit in Rom.1:16 ~ ...want dit is ’n krag van God tot redding van elkeen wat glo... Wanneer Paulus dit so stel, bedoel hy nié dat redding ’n krag is wat tot eenmalige verlossing lei nie – nee, hy sê dat ons nood het aan God se daaglikse redding – redding van sonde; redding uit die kloue en vangnette van die sonde – ons het dit daagliks nodig, tot op die dag dat ons verheerlik sal word. Calvyn het gesê dat ons as gelowiges, "gedeeltelik ongelowiges is, totdat ons sterf".

       Hierdie is dan ’n presiese beskrywing van wie Jona op hierdie stadium van sy lewe is. Laat my ook net dadelik sê, dat ons nie nou skielik moet neersien op hierdie sondige profeet van God nie, want dit is maar presies net waar ons ook is. Jona het steeds behoefte – nee, nood daaraan dat God hom sal red en ons sien God se sagte hand op Jona in hierdie proses ~ Jona, ... het jy rede om kwaad te word?

       As ons met ons hele hart glo dat verlossing alleen van God kom, dan sal ons, ons vertroue volkome in Hom plaas (en nie in ons eie pogings nie) om ons aanvanklike redding; ons daaglikse redding en ook ons uiteindelike redding, te bewerkstellig. Om redding in enige iets anders as God self te soek, lei net tot selfvernietiging en slawerny aan die bose (afgodedienaars), want ons is uitsluitlik geskape vir God en niks en niemand anders nie! Die ou kerkvader, Augustinus het gesê: "You made us for Yourself, and our hearts are restless until they rest in You".

       Wat Jona nie besef het nie, is dat hy ook afgode aanbid het en in die proses enige aanspraak op God se genade in die wind geslaan het – en tog, tog is God hom steeds genadig. Die afgode wat Jona aanbid het, het dalk anders gelyk as die wat die matrose op die gedoemde skip aanbid het, of die inwoners van Nineve, maar in wese was dit presies dieselfde, want alle afgode is God se vyande. Wat was Jona se afgode? Die Hebreeuse Judaïsme was een ("MY kerk"), toe hy reg aan die begin van sy verhaal gesê het ~ Ek is ’n Hebreër (Jona 1:9). Nog een was sy godsdienstige snobisme – sy godsdiens (die Judaïsme) was uitsluitlik bedoel vir die Jode en niemand anders nie en ons sien dit baie duidelik in sy woede oor die bekering van die Nineviete (v.1). Jona het weliswaar die regte dinge gedoen, maar hy het dit met die verkeerde gesindheid gedoen en dit is bewys dat hy God se hart nie op daardie stadium geken het nie.

       Ek sê weer, ons moet versigtig wees om nie vir Jona te gou te oordeel nie, want is dit nie maar presies waar ons, onsself ook so dikwels bevind nie? Ons is maar almal afgodedienaars – van iets! Alle mense is geskape om te aanbid – dit was tog die uitsluitlike rede waarom God die mens geskape het – die probleem is net dat ons aanbiddingsfokus, so dikwels uit fokus raak en selfs verduister raak en dat ons harte en toewyding en uiteindelik ons aanbidding op hierdie dinge gefikseer raak en dat ons God nie meer aanbid soos ons hierdie afgode aanbid nie.

       Ons raak so dikwels, vasgevang en verknog aan dinge wat so belangrik en allesoorheersend in ons lewe raak – ons ontspanning; ons sport; ons stokperdjies; ons werk; ons gesinslewe; ons eie probleme of frustrasies; of iemand sonder wie ons nie kan leef nie; ens. Uiteindelik bepaal ons aanbidding wie ons werklik is. Ons aanbid derhalwe almal iets of iemand – die vraag is net wie of wat? Dit, of die persoon of Persoon wat ons aanbid, bepaal of ons lewe betekenisvol en met sekuriteit gevul sal wees – of ons net godsdienstig is, of geestelik en of ons ware gelowiges is!

       Ek het gesê dat ons almal aanbidders is, maar God is die enigste betroubare "Objek" van aanbidding, omdat niks en niemand behalwe God self, waardig is om aanbid te word nie. Volgens die Woord is enige iets wat ons aanbid, anders as God self, afgodery. As ons derhalwe baie eerlik met onsself is, sal ons besef dat afgodery nie net iets is wat deur heidene begaan word nie, maar gelowiges is ook dikwels daaraan skuldig – Is jy dalk daaraan skuldig? Jona was.

       Om God se reddingsplan in ons lewens te ervaar, moet ons die afgode in ons lewens begin identifiseer – die Here sal ons daarmee help – Hy het Jona daarmee begin help ~ ... het jy rede om kwaad te word Jona?  

5.    JONA SE ONVERGENOEGDHEID:
       In plaas daarvan dat Jona hoor wat die Here vir hom sê, nl. dat hy steeds met verkeerde motiewe in sy hart sit en dat hy hom moet bekeer, sien ons in v.5 dat hy ~ ...toe uit die stad uit (is). Hy het oos van die stad gaan sit en vir hom ’n skerm gebou. Hy het daaronder in die skaduwee gaan sit om te sien wat in die stad gebeur. Hy sonder homself af en sit in afwagting om te sien wat met die stad gaan gebeur en terwyl hy daar sit, wil hy gemaklik wees en homself beskerm teen die woestynson en daarom bou hy vir homself ’n skuiling.

       God laat Jona egter steeds nie aan sy eie lot oor nie en Hy help hom, deur ~ ...’n komkommerplant (te laat) opkom, en dit het bo-oor Jona gerank om skaduwee te gee vir sy kop en om hom van sy misnoeë te bevry. Jona was baie bly oor die komkommerplan (v.6). God se genade stroom steeds onverdiend oor Jona! Ure vantevore was Jona kwaad (v.4) – nou is Jona baie bly! Hy is bevry van sy misnoeë (v.5) – misnoeë beteken natuurlik ook onvergenoegdheid en hierdie is presies dieselfde woord wat in v.1 gebruik was en wat in die Afrikaans vertaal is met "ontevredenheid" en met "kwaad". Die Here kom en verlig hierdie swaarmoedige ontevredeheid en woede van Jona, deur ’n komkommerplant oor sy skuiling te laat groei en Jona is bly!

       Jona word egter spoedig weer beproef en getoets – v.7 ~ Die volgende môre met dagbreek laat God toe ’n wurm kom, en dit het aan die komkommerplant gevreet, sodat dit verdroog het. Die Here is die Een wat gee, maar die Here is ook die Een wat neem. Toe die son opkom, het God ’n skroeiende sterk wind uit die ooste laat waai. Die son het vir Jona op sy kop gesteek, en hy het baie swak geword... (v.8).

       Hierdie komkommerplant was bewys van God se liefde, maar so was ook die wurm en die skroeiende wind, want ~ ...die Here tug hom wat Hy liefhet, Hy straf elkeen wat Hy as kind aanneem (Hebr.12:6). Jona sien hierdie belangrike faset van die gelowige se geestelike groei glad nie raak nie (soos ons ook maar so dikwels, nie waar nie?).

       Jona wens egter weer dat hy maar liewer moet sterf (v.8b). Weer vra die Here vir Jona in v.9 ~ Het jy rede om kwaad te word oor die komkommerplant? Dit herinner sterk aan die profeet Elia wat ’n honderd jaar of wat vantevore, ’n soortgelyke ervaring gehad het, nadat hy die vals profete gekonfronteer het en gevlug het vir sy lewe ~ Hy self het egter ’n dagreis ver die woestyn in gegaan. Daar het hy onder ’n besembos gaan sit en gewens hy gaan dood. Hy het gesê: “Nou is dit genoeg, Here! Neem my lewe, want ek is niks beter as my voorvaders nie” (1 Kon.19:4).

       Weer is dit woede wat Jona onvergenoegd laat – weer is dit sy afgod self en sy eie gemak, wat op die voorgrond tree. Hierdie situasie is egter maar net ’n duidelike bewys van die sinneloosheid daarvan om afgode in jou lewe te hê, want dit is niks meer as net "’n sonverdroogde- en wurm-opgevrete-komkommerplant" nie! Met hierdie realiteit rondom (of sal ek sê, bokant) Jona, is dit asof die Here weereens vir hom vra, "Jona is dit regtig wys en verstandig van jou om só op jou omstandighede te reageer? Jona, Jona, hou asseblief op daarmee – ter wille van jouself; moenie langer teen die prikkels skop nie – jy het nie rede om so te reageer nie!" Steeds kan ’n mens die liefde en genade in God se stem hoor, maar wat is Jona se reaksie? Ek het rede genoeg: ek is besig om te sterf (v.9).

       Vir ’n derde keer het Jona geen insig in God se genade jeens hom nie – hy wil maar net opskop; boedel oorgee, eerder as om homself oor te gee aan sy Skepper – en die Here? Hy volhard om Jona se versoek te ignoreer, nl. om te sterf, trouens Hy hou vol om Jona te bedien met Sy genade en Sy liefde en Hy doen dit deur vir Jona te sê ~ Jy is besorg oor die komkommerplant waarvoor jy nie gewerk het nie en wat jy nie versorg het nie. Dit het oornag opgekom en oornag is dit dood. 11Maar Ek mag nie besorg wees oor die groot stad Nineve nie, ’n stad waarin daar meer as honderd en twintig duisend mense is wat nie weet wat reg of verkeerd is nie, en ook nog baie diere? (v.10).

       Punt! Hiermee eindig die verhaal – dit eindig met ’n vraag wat die Here vra. Wanneer ’n verhaal eindig met ’n vraag, impliseer dit dat die leser baie stof tot nadenke moet hê – ons moet nou die punte bymekaar probeer uitkry – wat het van Jona geword? Is hy werklik gered? Het God hom uiteindelik gestraf vir sy rebellie? Het Jona uiteindelik insig in homself gekry en sy sonde bely? In kort, hier is oënskynlik geen toepassing op die verhaal nie en tog, wil die Here juis met die feit dat hierdie boek eindig met ’n vraag, ons noop om selfondersoek te doen en te bepaal, of ons nie dalk ook presies is waar Jona is nie – selfgesentreerd en besig met ons eie afgode? Is ons nie ook waar Jona is nie – maak aanspraak op God se genade, maar gun geen ander mens genade nie – nie van God se kant nie en ook geen of bitter min genade van ons kant af?

6.    TOEPASSING:
       Met die vrae wat die Here voortdurend vir Jona gevra het, wou Hy vir Jona lei om insig in homself te kry en sy hart met die van God se hart te vergelyk. Jona reageer op klein en onbenullige dingetjies – ’n plant; ’n wurm – sy eie miserabele ou lewetjie, terwyl God se hart "warm klop" vir die menigte – vir 120 000 mense wat nie weet wat reg of verkeerd is nie, en ook nog baie diere – God gee om vir mens en dier (Ps.36:6; Matt.10:29). Jona wil aanspraak maak op God se genade, maar hyself gun geen genade vir die Nineviete nie!

       God daarenteen, is steeds besig om Sy aanvanklike skeppingsdoel ten uitvoer te bring, nl. dat die ganse skepping lof en eer aan Hom sal bring en daarom is God besig om dit wat die sondeval bederf het, weer om te draai en te vernuwe en dit sluit mens en dier in – daarom dat Hy in Openb.21:5 sê ~ Kyk, Ek maak alles nuut. Hy gaan alles  hernu; verlos en opwek deur Jesus Christus en daarom roep die engele dit in die hemel uit ~ Die koningskap oor die wêreld behoort aan ons Here en sy Gesalfde, en Hy sal as koning heers tot in alle ewigheid (Openb.11:15).

       Die Here wil dat Jona en ons besef, dat Hy soewerein is; dat Hy kan besluit wie Hy veroordeel en wie Hy red.

       Daar is egter nog iets wat ons uit hierdie verhaal van Jona moet besef en dit is dat indien God belangstel in die 120 000 én die diere in Nineve, dan is getalle beslis belangrik vir Hom en indien dit die geval is, is twee en drie en daarom ook een vir Hom belangrik – daarom is Jona vir God net so belangrik as al die Nineviete en daarom is jy ook net so belangrik vir die Here God!

       Net ’n laaste vraag (wat ek reeds vroeër gevra het): Het Jona sy les geleer? My antwoord hierop is, "ja, ek glo van harte hy het". Ek glo dat Jona uiteindelik God se hart uiteindelik gehoor het. Ek glo van harte dat Jona ook uiteindelik sy sonde bely en hom bekeer het – hy het tog immers hierdie boek geskryf, nie waar nie? Jona hét insig gekry – hy hét uiteindelik verstaan. Jona stel homself geweldig bloot deur hierdie boek te skryf en sy verhaal te vertel en hy laat toe dat God die laaste woord sê – daarom glo ek, Jona het insig gekry; Jona het gehoor; Jona het hom bekeer!

En jy en ek?


[1] Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Sondag 24 Maart 2013.