Indien u hierdie preek wil uitdruk – Verlig die
teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige
Woordverwerkingsprogram (bv. MS Word of Word Perfect) – druk daarna gewoon uit.
1. INLEIDING:
Ons het in die eerste 3 verse van die
Hebreërboek gesien dat God deur Christus geskep het, maar ook dat Jesus ver
verhewe is bo die profete en dat God Sy finale openbaring deur Jesus Christus
gebring het – m.a.w. ons sien God deur Jesus en ons sien Hom in en deur die
Woord – God het klaar gepraat; Hy het deur Jesus gepraat en Jesus se spreke is
vir ons in die Woord van God (die Bybel) vervat – ons het dus niks meer nodig
nie – geen buite-bybelse openbaringe en -spreke nie!
In die tweede, derde en vierde verse het
ons Jesus gesien as Erfgenaam (v.2); as die Skepper (v.2); as die Onderhouer (v.3); as die Glansryke (v.3); as die Verlosser (v.3) en as Heerser (v.3). Vanoggend gaan ons na verse 4-7 kyk.
2. SKRIFLESING:
Hebr.1:1-14 ~ In die verlede het God baiekeer en op baie maniere met ons voorvaders
gepraat deur die profete, 2maar nou, in hierdie laaste dae, het Hy
met ons gepraat deur die Seun. God het Hom deur wie Hy die wêreld geskep het,
ook erfgenaam van alles gemaak. 3Uit Hom straal die heerlikheid van
God en Hy is die ewebeeld van die wese van God. Hy hou alle dinge deur sy
magswoord in stand. Nadat Hy die reiniging van sondes bewerkstellig het, het Hy
gaan sit aan die regterhand van die Majesteit in die hoë hemel. 4Hy
is net so verhewe bo die engele as wat die Naam wat God Hom gegee het,
voortrefliker is as hulle naam. 5Immers, aan wie van die engele het
God ooit gesê: “Jy is my Seun, van vandag af is Ek jou Vader,” en ook: “Ek
sal sy Vader wees, en Hy sal my Seun wees”? 6En wanneer God die
Eersgeborene in die wêreld inbring, sê Hy: “Al die engele van God moet Hom
aanbid.” 7Van die engele sê Hy: “Hy maak sy engele stormwinde en
sy dienaars vuurvlamme.” 8Maar van die Seun sê Hy: “U troon, o
God, staan vir ewig vas, met u koninklike septer laat U reg geskied. 9U
het die reg lief en U haat die onreg. Daarom het God, u God, U onder groot
vreugde tot Koning gesalf bo u tydgenote.” 10En verder: “U,
Here, het in die begin die aarde gevestig, en ook die hemel is die werk van
u hande. 11Dié dinge sal vergaan, maar U bly bestaan; soos ’n
kledingstuk sal alles verslyt; 12soos klere sal U dit oprol; ja,
soos ’n kledingstuk sal dit vervang word. Maar U, U bly dieselfde, en u jare
het geen einde nie.” 13Van watter engel het Hy ooit gesê: “Sit
aan my regterhand, totdat Ek jou vyande aan jou onderwerp het”? 14Is
hulle dan nie almal geeste in diens van God, wat Hy uitstuur om dié te dien wat
die saligheid gaan beërf nie?
3. DIE ENGELE:
Met die koms van Jesus na die aarde, het
die Joodse geloof al so verdraaid geraak dat hulle ’n hele onbybelse teologie
rondom die engele ontwikkel het. Die Jode het geglo dat die engele
gesofistikeerde boodskappers tussen hulle (die mens) en God was – hulle het geglo dat die
engele hulle gebede na God dra.
Daar was ’n baie belangrike godsdienstige
groep of sekte binne die Judaïsme wat gedurende die tweede eeu voor Christus
tot en met die eerste eeu na Christus bedrywig was. Hulle het bekend gestaan as
die Esseners – dit was o.a. hulle wat die Dooie See rolle ontdek het. Hierdie
Esseners het ’n baie hoë dunk gehad van engele en baie waarde geheg aan die
bediening van engele. Hulle het o.a. geglo aan die koms van die Messias, maar
dat daar twee Messiasse sou kom – ’n koninklike Messias wat ondergeskik sou
wees aan ’n priesterlike Messias, maar beide hierdie Messiasse sou weer
ondergeskik gewees het aan die aartsengel Gabriël.
Waarskynlik
het die gelowiges aan wie die Hebreërskrywer geskryf het, uit ’n agtergrond
gekom waar prominensie verleen is aan engele – veel meer as wat die Woord doen
en het hy dit nodig geag om aan sy lesers die feit te beklemtoon dat Jesus
veel-veel meer is as engele en dat hul fokus op Jesus moet wees en nie op
engele nie. Ons kry nog steeds vandag diesulkes wat ’n baie spesiale plek aan
engele in hulle lewens gee, en is hierdie boodskap van die Hebreërskrywer nie
so ver verwyder van ons, as wat ons dalk wil dink nie.
Ten einde enige onsekerheid dan onder sy
lesers uit die weg te ruim van wie Jesus werklik is, kom die Hebreërskrywer en
maak hy gebruik van die Ou Testament om aan te toon dat Jesus ver verhewe is bo
enige ander skepsel of engel en hy doen dit deur spesifiek te verwys na die
besondere verhouding wat daar bestaan tussen die Vader en die Seun Jesus
Christus.
4. KONING JESUS:
Ons sien in v.5 van Hebr.1, die eerste aanhaling
uit die Ou Testament wat die skrywer gebruik, nl. ~ ...Immers, aan wie van die engele het God ooit gesê: “Jy
is my Seun, van vandag af is Ek jou Vader,” en ook: “Ek sal sy Vader wees,
en Hy sal my Seun wees”?
Hierdie is ’n direkte aanhaling van Ps.2:7 waar daar staan ~ Ek wil vertel wat die Here aangekondig het. Hy het
vir my gesê: “Jy is my seun, van vandag af is Ek jou Vader.
Ten einde beter te verstaan wat die
Hebreërskrywer presies vir ons hier wil sê, moet ons na die betekenis van die Psalm
in geheel kyk. Die Psalm was geskryf in ’n tyd dat Israel waarskynlik ’n krisis
beleef het en een van haar konings (waarskynlik Dawid)
het in gevaar verkeer,
want sy vyande het byeen gekom om hom omver te werp. Dit gaan in hierdie Psalm
egter om nog meer as bloot net die omverwerping van ’n Israelse koning – dit
gaan ook oor die rebellie van die wêreld teen die Almagtige God. Kyk na vv.1-2
van Ps.2 ~ Waarom is daar onrus onder die
volke, waarom smee die nasies planne—en dit tevergeefs? 2Die
konings van die aarde is in opstand, die leiers span saam teen die Here en
teen sy gesalfde. Wie
is die gesalfde van wie hier gepraat word en wanneer het leiers van die aarde
saam gespan teen die Here?
Die eerste eeu se gelowiges het geen
twyfel daaroor gehad dat hierdie woorde in Ps.2 ’n profesie was, van wat reeds in
hulle tyd vervul is. Sien Hand.4:24-28 ~ Toe hulle dit hoor, het hulle almal saam tot God gebid en gesê: “Here, dit
is U wat die hemel en die aarde en die see en alles wat daar is, gemaak het. 25En
U het deur die Heilige Gees by monde van ons voorvader Dawid, u dienaar, gesê:
Waarom het heidennasies te kere gegaan, en het volke sinlose planne beraam?
26Die konings van die aarde het in opstand gekom, en die heersers
het saamgespan teen die Here en teen sy Gesalfde. 27Dit is wat
werklik in hierdie stad gebeur het. Herodes en Pontius Pilatus het met
heidennasies en die volk Israel saamgespan teen u heilige Dienaar, Jesus, wat
deur U gesalf is, 28en hulle het alles gedoen wat U vooruit beskik
en besluit het. Ons
sien hier, die reaksie van die eerste eeu se gelowiges, nadat Johannes en
Petrus in hegtenis geneem is en hierdie is weereens ’n presiese aanhaling uit
Psalm 2. Ook hier het Herodes en Pilatus opgetree teen die lewende God en nie
maar net teen ’n aardse koning nie.
Ps.2:4 toon aan ons wat God van sulke
menslike optrede teen Sy Gesalfde dink ~ Hy wat in die hemel woon, lag hulle uit, die Here spot met hulle. En dan in v.6 sê God dat Hy Sy Seun
self as Koning gesalf het en in v.7 sê Jesus self dat die Vader vir hom gesê
het ~ ...Jy is my seun, van vandag af is Ek jou Vader. Wie dink die wêreld is Jesus
werklik? Is Hy maar net soos die engele, of dalk selfs ondergeskik aan hulle?
Waarom heg mense soveel waarde aan engele eerder as aan Jesus die Christus?
Oral sien ’n mens prentjies en beeldjies en draadfiguurtjies van engeltjies en
so word die fokus weggedraai van Jesus en gevestig op ondergeskikte, mindere wesens!
Wanneer mense soveel klem op engele plaas
en Jesus in die proses gelykstel of selfs ondergeskik aan engele, is hulle
presies waar die destydse Esseners was, of selfs waar die "Jehova se
Getuies" in ons dae is. Die Jehovas sê dat Jesus nie een is met God nie en
dat Hy ’n begin gehad het en nie soos ons glo van ewigheid af reeds daar is nie.
Daarom is Hy (volgens hulle) minder Goddelik as die Vader. Hulle grond hulle
standpunt o.a. op hierdie vers in Ps.2 en dan spesifiek die gedeelte wat sê ~ ... van vandag af is Ek jou
Vader. Hulle reken dat die
uitdrukking, "van vandag af" daarop dui dat Jesus nie
voorheen God se Seun was nie. Hierdie is natuurlik nie ’n verwysing na Jesus se
"ontstaan" nie, maar dit verwys na Jesus se opstanding uit die dood –
Hand.13:32-33 ~ En nou verkondig ons aan julle die goeie boodskap dat
God die belofte aan die voorvaders 33vir ons, hulle nageslag,
vervul het deur Jesus uit die dood te laat opstaan. So staan daar dan ook in die tweede psalm geskrywe: Jy is my
Seun, vandag het Ek aan jou die lewe gegee. Die profesie in Ps.2:7 is dus vervul tydens die
opstanding van Jesus.
Psalm 2 leer ons dat die ganse mensdom in
rebellie teen God is, maar Ps. 2 is duidelik daaroor dat hierdie rebelse
menseras, bedroë daarvan gaan afkom, as ons durf waag om in opstand teen God te
kom – hoor net wat sê vv.10-12 van die Psalm ~ Wees dan nou verstandig, konings, wees gewaarsku, regeerders van die
aarde! 11Julle moet die Here met ontsag dien, Hom met vrees en
bewing toejuig 12en Hom onderdanig wees, sodat Hy nie toornig word
en julle op die pad omkom nie, want sy toorn ontvlam gou. Dit gaan goed met
almal wat by Hom skuiling soek.
Die enigste wyse om God se toorn vry te spring, is om ons toe te wy aan Hom en
onder Sy gesag te buig.
Dit is dus duidelik uit v.5 van Hebr.1,
dat God verklaar dat Sy Seun Jesus Christus bo alles en almal is en spesifiek
ver verhewe is bo enige engel of aardse maghebber. Jesus die Christus het geen
gelyke nie – Hy is voorwaar Jesus Christus, die Koning!
5. JESUS DIE EWIGE SEUN VAN GOD:
’n Tweede aanhaling uit die Ou Testament
vind ons in die tweede deel van v.5 ~ Ek sal sy Vader wees, en Hy sal my Seun wees. Hierdie is ’n aanhaling uit 2
Sam.7:14 waar Natan vir Dawid gesê het dat een van sy nageslag, die eerste Tempel
vir God in Jerusalem sou bou. Daar is egter terselfdertyd geprofeteer dat Dawid
se seun se koningskap vir altyd sal duur (2 Sam.7:14) – bedoelende dat Jesus die ewige
Koning, uit Dawid se nageslag sou kom.
Omdat die gelowiges aan wie die Hebreërskrywer
geskryf het, terug geneig het na die Judaïsme en omdat hulle die Ou Testament
baie goed geken het, verwys hy hulle na hierdie gedeelte, ten einde hulle
daaraan te herinner dat die koms van Jesus reeds in die Ou Testament
geprofeteer was. Hy wil dus vir hulle sê dat dit ondenkbaar is dat hulle die Ou
Testamentiese profesie ken en terselfdertyd die vervulling van daardie profesie
ervaar het en dit nou oorweeg om terug te keer na die Judaïsme! Om Jesus as
Koning te verwerp, is om die hele Ou Testament en daarmee saam, ook die Nuwe
Testament te verwerp.
Deur 2 Sam.7:14 aan te haal wil die skrywer
ook die ewige status van God se Seun beklemtoon – daar sal dus nooit in der
ewigheid ’n oomblik wees dat Jesus nie die Seun van God sal wees nie en geen
engel kan daarmee vergelyk word nie! Jesus is die unieke Seun van God (2
Kor.1:19).
As ons na teksverse soos Rom.5:9; 8:14 en
9:26 kyk, sien ons dat ons wat gelowiges is, ook seuns van God is. Jesus is uit
die aard van Sy wese, Seun van God, maar ons is seuns van God uit genade. En
daarom is Jesus ons Oudste Broer! Net soos wat Jesus, ewige Seun van God is, is
God se kinders (ons) ook
ewige seuns van God!
6. ELKE KNIE SAL VOOR JESUS BUIG:
Die Hebreërskrywer haal ’n derde gedeelte
uit die Ou Testament aan as hy in v.6 sê ~ En wanneer God die Eersgeborene in die wêreld inbring, sê Hy: Al die
engele van God moet Hom aanbid.
Hierdie is natuurlik ’n aanhaling uit Deut.32:43 wat ’n gedeelte is van die
"Lied van Moses". Hierdie aanhaling kom egter ook uit Ps.97:7 en Ps.
97 is deel van ’n groep Psalms wat handel oor God se oordele en heerskappy –
dit word baie mooi uitgespel in Ps.96:11-13 ~ Die
hemele moet bly wees en die aarde moet juig, die see en alles daarin moet
druis, 12die veld en alles daarop moet jubel, al die bome in die
bos moet hulle verheug 13voor die Here, want Hy kom, Hy kom om
oor die aarde te heers. Hy sal oor die wêreld heers met regverdigheid, oor
die volke met billikheid.
Net vroeër in dieselfde Psalm sien ons egter ook dat Christus op so ’n wyse
gaan kom, dat elke mens op aarde Hom sal sien en dit sal gepaard gaan met
geweldige oordele oor die onregverdiges (vv.3-7) en in Rom.14:11 en Fil.2:9-11 sien ons
dat elke knie op daardie dag voor Christus sal buig – ja, óók die engele sal
hul knieë voor Hom buig! Elke mens en elke engel sal op daardie grootse dag
erken dat Jesus die Christus is – gelowiges sal dit met blydskap en diepe
dankbaarheid doen en ongelowiges tot hul ewige en nimmereindigende spyt!
God se Seun het geen gelyke nie, want Hy
is terselfdertyd God!
7. ’n LAASTE WOORD OOR DIE ENGELE:
Ek wil net ten slotte iets sê oor die engele.
Die Hebreërskrywer begin v.5 met ’n retoriese vraag, wanneer hy skryf ~ Immers, aan wie van die engele het God ooit gesê: “Jy
is my Seun, van vandag af is Ek jou Vader,” en ook: “Ek sal sy Vader wees,
en Hy sal my Seun wees”?
Die skrywer wil eintlik hierdeur sê: Daar is nie ’n enkele engel vir wie God
gesê het dat daardie engel ’n seun van God is nie en Hy sê dit juis om Jesus se
Seunskap te beklemtoon. Maar wie of wat is die engele dan?
In teenstelling met Jesus wat God se
Eersgeborene is (v.6),
is die engele ondergeskik aan Jesus en sien ons dat die skrywer hulle aan ons
in twee rolle voorstel, nl. dié van wesens wat Christus moet aanbid (v.6)
en dié van dienende
geeste (v.7).
Behalwe dat die skrywer vir ons in v.6 sê
dat God opdrag aan die engele gee om Jesus te aanbid, word dit ook geïmpliseer
in Ps.97:7.
In Ps.104:4 word die rol van engele baie
mooi beskryf, nl. dat hulle in diens van God staan en in daardie geval, Sy boodskappers
is. In teenstelling met wat baie mense glo (ook die ou Judaïste
soos vroeër gemeld), is
die engele nié in diens van die mens nie, maar uitsluitlik in diens van God –
ons sien dit dan ook in Hebr.1:14 ~ Is
hulle dan nie almal geeste in diens van God, wat Hy uitstuur om dié te dien wat
die saligheid gaan beërf nie?
In die Woord van God sien ons baie duidelik dat engele geskape, hemelse wesens
is wat primêr optree as boodskappers vir God en hierdie boodskappe behels
bepaalde openbarings en die aankondiging van sekere spesiale geleenthede. Ons
sien dit bv. in Gen.19 waar twee engele die verwoesting van Sodom aan Lot
bekend maak. In Eks.3 verskyn ’n engel aan Moses in die brandende bos en gee
aan hom die opdrag van God, om sy volk uit Egipte te lei. In Rigters 2 kondig
’n engel God se oordeel oor die volk Israel aan. In Matt.1 stel ’n engel vir
Josef gerus en verduidelik hy Maria se swangerskap aan Josef, nl. dat sy deur
die Heilige Gees, swanger geword het.
Daar is egter ook Skrifgedeeltes wat aan
ons toon dat engele in opdrag van God, Sy kinders beskerm (bv.
Eks.14:19-20 – ’n engel van God trek voor die volk uit; 1 Kon.19:1-8 – Elia deur
’n engel in die woestyn beskerm; Hand.12:7-11 – ’n engel red Petrus uit die
tronk). Ons moet egter
daarop let dat mense nie om hierdie rede nou direk met die engele moet probeer
praat en vra om beskerming nie – God gee aan engele opdrag om dit te doen en
daarom moet ons en mag ons nét tot God bid en Hóm om beskerming vra – of Hy dit
nou deur engele doen al dan nie, maak tog immers nie saak nie.
8. AFSLUITING:
Wanneer ons na hierdie openingsverse in
Hebreërs 1 kyk, is dit baie duidelik dat Jesus God is en dat ons Hom nie hoog
genoeg kan ag nie, trouens ons as gelowiges behoort opnuut weer Jesus se
grootsheid te bewonder en Hom daarvoor te eer.
Die Christelike geloof bied nie aan die
wêreld net nog ’n ander geestelike leier of profeet, soos talle ander wêreldse
geestelike leiers wat gekom en gegaan het nie. Nee, die Woord van God bied aan
die wêreld die Verlosser, die Messias, die Koning van alle konings – die ewige
Jesus Christus! En die opdrag – die boodskap wat ons hier uit Hebr.1:4-6 kry is:
Aanbid
Jesus die Christus en volg Hom na – as die engele dit moet doen, dan ons ook
soveel te meer!
[1]Boodskap deur
Kobus van der Walt te Vaaldriehoek
Gereformeerde Baptistegemeente (Meyerton) - Sondag, 01 Julie 2012