1.
SKRIFLESING:
Jak.2:14-26
~ Wat help dit, my broers, as iemand beweer dat hy glo, maar sy dade bevestig
dit nie? Kan so ’n geloof ’n mens red? 15Sê nou daar is ’n broer of
’n suster wat nie klere het nie en dag vir dag honger ly, 16en sê
nou een van julle sou vir hulle sê: “Mag dit met julle goed gaan; gaan trek
julle warm aan en eet genoeg,” maar julle gee nie vir hulle wat hulle nodig het
om van te lewe nie, wat help dit dan? 17So gaan dit ook met die
geloof: as dit nie tot dade oorgaan nie, is dit sonder meer dood. 18Maar iemand kan miskien sê: “Die een
het die geloof en die ander het die dade.” Goed, wys dan vir my jou geloof wat
sonder dade is, en ek sal jou my geloof wys uit my dade. 19Glo jy
dat daar net een God is? Dit is reg. Die bose geeste glo dit ook—en hulle
sidder van angs. 20Jou dwaas, wil jy ’n bewys hê dat geloof sonder
dade nutteloos is? 21Ons voorvader Abraham het sy seun Isak op die
altaar gelê. Is dit nie op grond van wat hy gedoen het dat God hom vrygespreek
het nie? 22Jy sien dus dat sy geloof met dade gepaard gegaan het en
dat dit eers deur dade volkome geword het. 23So is die Skrif vervul
wat sê: “Abraham het in God geglo, en God het hom vrygespreek,” en hy is ’n
vriend van God genoem. 24Julle sien dus dat ’n mens vrygespreek
word op grond van sy dade en nie net op grond van sy geloof nie. 25Is
Ragab die prostituut nie ook vrygespreek op grond van wat sy gedoen het toe sy
die verkenners weggesteek en hulle met ’n ander pad laat ontkom het nie? 26’n
Liggaam wat nie asemhaal nie, is dood. So is die geloof wat nie tot dade kom
nie, ook dood.
2. INLEIDING:
Baie gelowiges voel baie ongemaklik met die brief van
Jakobus, omdat hulle sê dat dit lynreg teen Paulus se lering staan. Ekself het baie jare gesukkel om werklik te
verstaan waarom Jakobus se lering en Paulus se lering oënskynlik teenstrydig
is.
Jakobus beklemtoon die feit dat geloof dood is sonder
werke, daarom dat hy in v.17 sê ~ So
gaan dit ook met die geloof: as dit nie tot dade oorgaan nie, is dit sonder
meer dood. In v.20 herhaal hy dieselfde boodskap, deur
te sê ~ So gaan dit ook met die geloof: as
dit nie tot dade oorgaan nie, is dit sonder meer dood.
Paulus
daarenteen sê in Ef.2:8-9 ~ Julle is
inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself
nie; dit is ’n gawe van God. 9Dit
kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op
homself trots te wees nie. Paulus beklemtoon dus die feit dat ons op
grond van geloof en net geloof alleen, gered word. Ons regverdiging en die ontvangs van die
Heilige Gees het dus niks te doen met ons eie werke of gehoorsaamheid aan die
Wet nie.
Die
kern van Paulus se prediking in veral Galasiërs en Romeine, maar ook in sy ander briewe, is die
feit dat ons uit genade gered word, deur geloof en hierdie redding kom nie uit
onsself nie, want dit is ’n gawe van God.
Paulus het terselfdertyd enige persoon wat geleer het dat jy geregverdig
word deur werke, met al sy krag en mag geopponeer.
Wie
is dan nou eintlik reg en wie is verkeerd en hoe is dit moontlik dat een
verkeerd kan wees en nogtans word hy aangehaal in die Woord en word sy skrywes
gesien as outentiek en deel van die kanon van die Bybel? Het ons hier
dalk te doen met twee strome in die teologie wat in konflik staan
teenoor mekaar?
3. JAKOBUS
VS. PAULUS:
Ons
moet eerstens verstaan dat nie een van die briewe in die Nuwe Testament aan óf
dieselfde mense geskryf is; óf op dieselfde tyd geskryf is; óf onder dieselfde
omstandighede; óf met dieselfde motief geskryf is nie.
As
ons dit in gedagte hou begin ons ’n klein bietjie beter verstaan dat hier tog
dalk nie konflik in opinie bestaan nie.
’n
Verdere feit wat ons in gedagte moet hou, is dat Paulus en Jakobus onder woorde
"geloof" en "werke: nie dieselfde ding
verstaan
nie.
Wat
geloof aan betref, stel Paulus primêr belang in geloof wat die grondslag vorm
vir die Christelike lewe. Dit is
waarskynlik hierdie selfde "geloof" waarna Jakobus verwys in Jak.2:19
wanneer hy sê ~ Glo jy dat daar
net een God is? Dit is reg.
Jakobus verklaar dus dat dit goed is wanneer jy glo in God. Daar bestaan dus geen behoefte by hom om
geloof "af te maak" as minder belangrik , of selfs onbelangrik is
nie. Trouens in Jak.2:5 sê hy juis dat
diegene wat ryk is in die geloof, die Koninkryk van God sal beërwe.
Jakobus
ontken dus nêrens die noodsaak aan geloof vir redding nie. Jakobus laat val sy "soeklig" op
die kwaliteit
van geloof by "volwasse gelowiges" en die ontwikkeling of groei van
"jong gelowiges".
Wanneer
Paulus van "werke" praat, praat hy van "werke van die Wet",
terwyl Jakobus dit nooit in daardie sin gebruik nie, maar eerder in die sin van
barmhartigheidsdiens, of liefdesdiens.
Die
tipe werke waarvan Jakobus dan praat, is presies dieselfde as dié wat Paulus
aanprys, wanneer hy praat van "geloof wat tot uiting kom in liefde."
Ene
Douglas Moo beskryf dit as volg: Die verskil tussen Jakobus en Paulus bestaan
in die opeenvolging van werke en bekering:
Paulus ontken die invloed van "VOOR-bekerings"
werke, terwyl Jakobus pleit vir die absolute noodsaaklikheid van "NA-bekeringswerke."
Vir baie
jare in die teologie, moes "arme
Jakobus" homself altyd teen Paulus "verdedig". Een van die redes was dat baie mense Paulus
altyd gesien het as meer geestelik volwasse, of verder gevorder op die
teologiese leer. Dit alles was uiters
onregverdig teenoor Jakobus, omdat Paulus en Jakobus se teologie, of standpunte
teen die agtergrond van hul eie konteks gelees moet word en nie teen ’n agtergrond
van sg. "geestelikheid" nie.
Ene Richard
Bauckman sê dat, indien Jakobus, Paulus se standpunt oor geloof probeer
ondermyn, hy nié baie suksesvol in sy poging is nie. Die hoofsaak waaroor dit vir Paulus gaan,
soos bv. die besnydenis; die saam eet met heidene en ander voedselwette, word
nie eens aangespreek deur Jakobus nie.
Indien
Jakobus dan besig is om te verskil van Paulus, dan sou hy tog sekerlik hierdie
aspekte aangesny het. Trouens, wanneer
ons Jakobus se brief teen die agtergrond van verskeie ander Joodse geskrifte
lees wat oor dieselfde sake handel, dan maak Jakobus se brief baie meer
sin. Ons het dus nie nodig om ’n debat
te voer oor wie nou eintlik reg en wie verkeerd is nie. Nee, Jakobus en Paulus se fokuspunte lê net
op verskillende sfere in die teologie.
Ons het
gesien dat Jakobus sy soeklig laat val op die kwaliteit van geloof onder
gelowiges, terwyl Paulus weer na werke van die Wet verwys. Paulus se "werke-uitdrukking" kom
dus vóór
wedergeboorte, m.a.w. dat géén mens gered kan word deur werke nie. Terwyl Jakobus weer die noodsaak van werke ná
wedergeboorte beklemtoon en wel in terme van o.a. barmhartigheidsdiens,
of te wel liefdesdiens, ens.
4. DIE AARD
VAN OPREGTE GELOOF:
Kom ons kyk
nou die aard van ware geloof. In v.14
van Jak.2 vra Jakobus die vraag ~ Wat
help dit, my broers, as iemand beweer dat hy glo, maar sy dade bevestig dit
nie? Kan so ’n geloof ’n mens red? Eintlik het
Jakobus hierdie vraag alreeds in die vorige gedeeltes van sy brief beantwoord,
deurdat hy dit aanmekaar beklemtoon dat ware en opregte geloof tot uitdrukking
kom in aktiewe, God-verheerlikende werke.
In die lig
van wat Jakobus tot nou toe geskryf het, is die logiese antwoord op sy vraag,
of iemand gered kan word sonder werke, ’n baie besliste NEE.
Belangrik om
daarop te let, is die feit dat Jakobus in sy redenasie nié die klem laat val op
geloof wat aanvanklik nodig is vir redding en/of die volgehoue geloof wat nodig
is om die "wedloop te voltooi nie".
Nee, aan die een kant laat val hy die klem op die kontras tussen
vergeefse-, of vrugtelose geloof en aan die anderkant, effektiewe-, of
doeltreffende geloof.
Die werke of
dade wat Jakobus in gedagte het, is soos reeds gesê, dade wat verband hou met
dade van o.a. welwillendheid en vrygewigheid, liefdesgawes; gasvryheid;
bemoediging; ens., maar die feit dat hy na Abraham en Ragab verwys, dui tog ook
aan dat hy iets meer in gedagte het as bloot net vrygewigheid, ens.
Jakobus sê
dus vir ons dat geloof wat bloot net ’n openbare en mondelingse getuienis is,
of ’n verstandelike- en teologiese toe-eiening van ’n "suiwere" leer,
onvoldoende is vir opregte en ware geloof.
Indien daar nie getuienis is van ’n geloofslewe wat gepaard gaan met
opregte dade nie, is dit ’n futiele geloof wat nié kan uitloop op redding nie.
Om hierdie
feit te illustreer, kom Jakobus soos ’n ware en goeie leraar en hy illustreer
dit wat hy sê aan die hand van die voorbeeld in vv.15-16 ~ Sê nou daar is ’n broer of ’n suster wat nie klere het
nie en dag vir dag honger ly, 16en sê nou een van julle sou vir
hulle sê: “Mag dit met julle goed gaan; gaan trek julle warm aan en eet
genoeg,” maar julle gee nie vir hulle wat hulle nodig het om van te lewe nie,
wat help dit dan? Jakobus sê dus dat sulke geloof soos wat
hierdie hardvogtige mense in vv.15-16 openbaar, niks anders as dood is nie.
Dit laat my
dink aan die verhaal van ’n man wie se perd gevrek het en terwyl daar ’n klomp
mense rondom hom en die perd staan en simpatiseer met hom, kom daar ’n
predikant aan – hy het sy hoed van sy kop gehaal en na die man wat die hardste
en meeste gesimpatiseer het, uitgehou en vir hom gesê: Ek is
’n "R100 jammer", hoeveel is jy jammer? Daarna het hy sy hoed in die rondte
gestuur. ’n Belydenis vereis optrede,
anders is die nie opreg nie.
Wanneer ons
geneig is om te praat oor ons geloof in Christus en die waarheid van Sy Woord,
maar ons doen nie veel nie, is ons "geestelik in die moeilikheid." Wanneer
ons nie veel oor het vir andere nie; wanneer ons nie bereid is om ons geld, of
ons tyd met andere te deel nie; wanneer ons nie simpatie met andere het nie;
wanneer ons nie tyd maak vir andere nie; wanneer ons nie gasvry is nie, ens., moet
ons voorraadopname maak van ons geestelike lewe – moet ons kyk wat in ons siele
aan die gang is. Jakobus sê ~ as (geloof) nie tot dade oorgaan nie, is dit sonder
meer dood (v.17).
Dit is so
ironies as Jakobus in v.18b sê ~ ...wys
dan vir my jou geloof wat sonder dade is, en ek sal jou my geloof wys uit my
dade.
Luister mooi wat hy sê. As ons
twee mense hier langs mekaar sit en die een praat net die heeltyd oor sy
geloof, terwyl die ander een doen wat hy glo – wie sal jy glo is die ware
gelowige?
Dit is
verder interessant om te sien dat Jakobus se broer die Here Jesus self, saam
met Jakobus stem wanneer Hy Sy gelykenis van die saaier in Matt.13 vertel. Die eerste drie tipes grond het geen vrug opgelewer
nie, maar hoor wat sê Jesus in Matt.13:23 ~ Die man by wie daar op goeie grond gesaai is, is hy wat die woord hoor en
dit verstaan. Hy dra inderdaad vrug en lewer ’n oes: soms honderdvoudig, soms
sestigvoudig, soms dertigvoudig. Ware en opregte geloof bring vrug voort en
hierdie vrug is optrede – dit het aksie tot gevolg! Aan die einde van die Bergpredikasie waarsku
Jesus ons as Hy sê ~ Aan hulle
vrugte sal julle hulle ken. Kry ’n mens dan druiwe aan doringstruike of vye aan
dissels? 17Elke goeie boom dra tog goeie vrugte, maar ’n slegte
boom dra slegte vrugte. 18’n Goeie boom kan tog nie slegte vrugte
dra nie, en ’n slegte boom nie goeie vrugte nie. 19Elke boom wat
nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi. 20So
sal julle die vals profete dan aan hulle vrugte ken.” 21“Nie elkeen wat vir My sê:
‘Here, Here,’ sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy wat
die wil doen van my Vader wat in die hemel is (Matt.7:16-21).
U sal met my
saamstem dat geen voël kan vlieg met net een vlerk nie. Geloof en werke is soos die vlerke van ’n
voël. Daar kan geen lewe wees as daar
net en van die twee teenwoordig is nie.
Jakobus
sluit sy betoog af met amper ’n absurde vergelyking – hy sê in v.19 ~ Glo jy dat daar net een God is? Dit is reg. Die bose
geeste glo dit ook—en hulle sidder van angs.
Daar is nie ’n
enkele demoon in die ganse heelal wat nie glo dat God die enigste ware, lewende
en heilige God is nie. Daar is nie ’n
enkele demoon wat nie glo en weet dat God Drie-Enig, God is nie – hulle glo aan
God die Vader, God die Seun Jesus Christus en God die Heilige Gees. Daar is waarskynlik talle demone, indien nie
almal nie, wat jou en my persoonlik ken.
Ja daar is waarskynlik selfs demone wat die 1689 Baptiste Belydenis uit hul koppe ken. Sommige demone is briljante teoloë. Trouens, sommige demone beskik oor beter
teologie as waaroor ons saam mag beskik, MAAR Jakobus sê ~ Die bose geeste glo dit ook—en hulle sidder van angs (Jak.2:19b).
Hoor ’n
bietjie wat sê Lukas in Hand.8:13 ~ Selfs
Simon het gelowig geword. Hy is gedoop en het Filippus oral vergesel. Hy was
verstom oor die groot tekens en kragte wat hy sien gebeur het. ’n Entjie
verder lees ons in vv.18-23 ~ Toe
Simon sien dat die mense die Gees ontvang as die apostels hulle die hande oplê,
het hy hulle geld aangebied 19en gesê: “Gee my ook hierdie bevoegdheid
sodat elkeen wat ek die hande oplê, die Heilige Gees kan ontvang.” 20Maar Petrus antwoord hom: “Gaan
na die verderf met jou geld en al! Dink jy jy kan die gawe van God met geld
koop? 21In hierdie werk is daar vir jou geen plek nie, want jou gesindheid
teenoor God is nie reg nie. 22Bekeer jou van hierdie dwaling en bid
tot die Here: miskien sal Hy jou hierdie gesindheid van jou hart vergewe. 23Ek
sien jy is deur afguns vergiftig en deur die sonde verstrik.”
Simon se
geloof het vir hom net so min beteken as wat die demone se geloof vir hulle
beteken het, trouens dit beteken dalk selfs nog minder as wat dit vir die
demone beteken, want ten minste sidder die demone van angs.
5. AFSLUITING:
Geliefdes,
het julle "twee vlerke"? Waarom "twee vlerke"? Besef jy waaruit
jy en ek gered is? Besef jy hoe groot God se genade is om ons te kon red? Beskik
jy oor ’n ewigheidsperspektief? Dan sal jy uit dankbaarheid, goed wil doen ten
einde lof aan jou Koning te bring en Hom te behaag deur jou optrede en te
getuig van Wie jy aanbid.
[1]Boodskap
gelewer deur Kobus van der Walt te Vaaldriehoek
Baptiste Gemeente (Vereeniging) –
Sondagoggend 18 September 2011