Indien u hierdie preek wil uitdruk – Verlig die
teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige
Woordverwerkingsprogram (bv. MS Word of Word Perfect) – druk daarna gewoon uit.
1. VOORAF:
Ons het in vv.1-6 van Hebr.3 gesien dat
die skrywer Jesus vergelyk het met Moses en hoe hy dan duidelik aantoon dat
Jesus veel, veel groter is as Moses, want Moses was wel getrou aan God, maar hy
was nie en sou ook nooit volkome getrou kon wees soos wat Jesus was nie. Ook
het ons gesien dat Moses getrou was in God se huis, maar Jesus is getrou
oor
God se huis en dat Moses maar net ’n instrument in God se hande was. Omdat
Jesus dan groter is as Moses, trouens omdat Jesus volkome en volmaak is, moet
ons, ons oë op Hom gevestig hou.
2. SKRIFLESING:
Hebr.3:7-19
~ Luister daarom na wat die Heilige
Gees sê: “Vandag, as julle sy stem hoor, 8moet julle nie
hardkoppig wees nie, soos julle voorvaders toe hulle in opstand gekom het
en My in die woestyn op die proef gestel het. 9Daar het hulle My
op die proef gestel en uitgetart, hoewel hulle veertig jaar lank gesien het
wat Ek vir hulle gedoen het. 10Daarom het Ek ’n afkeer van
hierdie geslag gekry en gesê: ‘Met hulle hart is hulle gedurig op ’n
dwaalspoor, hulle wou my paaie nie leer ken nie.’ 11Toe het Ek in
my toorn ’n eed afgelê: In my rus sal hulle beslis nie ingaan nie.” 12Broers,
julle moet toesien dat daar nooit by een van julle ’n verkeerde gesindheid van
ongeloof ontstaan en hy van die lewende God afvallig word nie. 13Maar
solank daar nog ’n “vandag” is, moet julle mekaar elke dag aanspoor sodat
niemand van julle deur die misleiding van die sonde verhard word nie. 14Ons
behou deel aan Christus as ons end-uit volhard in die vertroue waarmee ons
begin het. 15Daarom word daar gesê: “Vandag as julle sy stem hoor,
moet julle nie hardkoppig wees nie, soos julle voorvaders toe hulle in
opstand gekom het.” 16Wie was dit dan wat gehoor het en tog in
opstand gekom het? Was dit nie hulle almal wat onder leiding van Moses uit
Egipte getrek het nie? 17En van wie het God veertig jaar lank ’n
afkeer gehad? Was dit nie van hulle wat gesondig het en wie se dooie liggame in
die woestyn agtergebly het nie? 18Oor wie anders as dié wat
ongehoorsaam was, het Hy ’n eed afgelê dat hulle nie in sy rus sou ingaan nie? 19Ons
sien dus dat hulle as gevolg van hulle ongeloof nie in sy rus kon ingaan nie.
3. SKEMA:
Die Hebreërskrywer kom nou by ’n punt
waar hy op die Heilige Gees se ernstige waarskuwing t.o.v. die sonde van
ongeloof wys en hy doen dit op die volgende wyse:
·
Die
Voorbeeld van Ontrouheid (vv.9-11 en 16-19):
o
Israel
se sonde in die wildernis (vv.9-10).
o
Israel
se vonnis in die wildernis (vv.11, 16-19) – ’n Hele geslag sterf in die
wildernis en kan nie die Beloofde Land binnegaan nie.
·
’n
Oproep tot Getrouheid (vv.7-8 en 12-15):
o
Slaan
ag op God se Woord (vv.7-8, 15).
o
Bemoedig
mekaar elke dag (vv.12-14).
4. INLEIDING:
Die Hebreërboek staan bekend
daarvoor dat dit ’n boek van vermaning is. Hierdie vermanings is nie vermanings
wat ligtelik opgeneem kan word nie, want dit is vermanings met lang termyn
gevolge as dit nie ernstig opgeneem word nie. Die Hebreërskrywer beklemtoon die
erns van hierdie vermanings deur vir sy lesers daarop te wys, dat dit nie hy is
wat hierdie waarskuwings aan hulle gee nie, maar dat dit direk van die Heilige
Gees self kom – en daarom moet elkeen van ons ook ernstig aandag skenk aan
hierdie saak.
Hierdie vermanings wat ons hier in
Hebreërs aantref, trouens in die hele Skrif, het spanning by ons as gelowiges
tot gevolg, want wanneer ’n mens ’n gelowige word, verdwyn die onsekerhede van
die mens se bestaan nie maar sommer net soos mis voor die son nie. Trouens dit
word juis geïntensiveer, want gelowiges moet elke dag saamleef met die spanning
van potensiële vervloeking of seën – van moontlike beloning of straf.
Ons Skrifgedeelte en verder aan (tot
en met 4:13) gee dan ook
juis iets van hierdie spanning vir ons deur. Waarskynlik die mees treffende, is
die vergelyking van die Israeliete se wildernis tradisie regdeur hierdie verse.
Die hele gedeelte berus op die aanname dat ons as gelowiges van die nuwe
verbond, onsself in ’n soortgelyke situasie bevind as die Israeliete van ouds.
Die beloftes en dreigemente wat Israel beleef het, kan grootliks ook deurgetrek
word na ons vandag.
Wat baie interessant is, is die skrywer se gebruik van Ps.95 in hierdie gedeelte, want die woorde van
vermaning wat tot Dawid se geslag gerig was, spreek ook die spanning aan, wat
ons as deel van die nuwe verbond in ons tyd ervaar.
5. VOORBEELD VAN ONTROUHEID:
Wat merkwaardig is van die Hebreërskrywer,
is die wyse waarop hy Ps.95 in sy teks gebruik, want hy rangskik die aanhaling
uit hierdie Psalm, op so ’n wyse dat die vermaning in hierdie Psalm, direk tot
sy lesers spreek en daarom begin hy met presies dieselfde woorde in v.8 as dié
in Ps.95:8, nl. ~ Moenie
hardkoppig wees (nie) en dan
verwys hy na die lesers se voorouers, net soos wat Dawid sy volgelinge verwys
het na hulle voorouers wat in opstand gekom het teen God. Die motief met
hierdie aanhaling, is baie duidelik – die Here se dreigement t.o.v. die
moontlikheid dat die Israeliete hul erfenis kan verbeur, is net so van
toepassing op die mense van die nuwe verbond (die gelowiges). Hy wil dus sy lesers waarsku, deur
die voorbeeld van die Israeliete se ontrouheid in die wildernis en die gevolge wat
dit vir hulle ingehou het.
o
Israel
se sonde in die wildernis:
Wat het die Israeliete se ontrouheid
behels? Hulle het toegelaat dat hulle ongeloof en rebellie, hul harte verhard het
teenoor God. Die tragiek van die hele situasie was dat God die Israeliete bo
maat geseën het terwyl hulle in die wildernis was, maar tog sondig hulle – Hy
het elke dag aan hulle kos voorsien; skadu in die dag om hulle te beskerm teen
die son en hulle te lei op die pad waarlangs hulle moes trek; in die nag het hy
’n vuurkolom geskenk om hulle te beskerm. God het hulle op wonderbaarlike wyse
gespaar van die Egiptenare en ander vyande. Hierdie beskerming wat hulle geniet
het, was nie iets onsigbaars nie (soos wanneer ons
per motor op ’n besige pad ry en veilig by ons bestemming aankom nie). Nee, hulle kon o.a. sien hoe dat
God, hulle droogvoets deur die Rooisee lei en hoe al die Egiptenare net daarna
verdrink in dieselfde see waardeur hulle pas getrek het. Nogtans was die volk
ondankbaar en ongelukkige, trouens hulle het meermale in opstand gekom teen God
as hulle nie hulle sin kon kry nie, of as hulle voel dat hulle te na gekom is –
in kort hulle rebelleer teen God en stel hulle ongeloof ten toon.
o
Israel
se vonnis in die wildernis:
Wat was die gevolg hiervan? Vers 11 sê
vir ons wat hulle vonnis op hierdie rebellie en ondankbaarheid van hulle was ~ Toe het Ek in my toorn ’n eed afgelê: In my rus sal hulle
beslis nie ingaan nie.
God het aan Moses opdrag gegee om Sy volk uit Egipte te lei, deur hierdie
woorde te spreek ~ Daarna sê die
Here: “Ek het die ellende van my volk in Egipte duidelik gesien en hulle
noodkrete oor die slawedrywers gehoor. Ek het hulle lyding ter harte geneem. 8Daarom
het Ek afgekom om hulle uit die mag van Egipte te bevry en om hulle daarvandaan
te laat trek na ’n goeie en uitgestrekte land, ’n land wat oorloop van melk en
heuning. Dit is die land van die Kanaäniete, Hetiete, Amoriete, Feresiete,
Hewiete en Jebusiete (Eks.3:7-8). Ten spyte van God se onuitspreekbare
genade en liefde en "omgee" vir Sy volk, verwerp hulle God nogtans, deurdat
(volgens Hebr.3:10),
hul, ~ ...hart(e) gedurig op ’n dwaalspoor
(is),en hulle nie God se paaie (O.A.V.-
weë) wou leer ken nie. Hierop, soos in v.11 gesien, neem God in Sy toorn, ’n
eed dat Sy volk gestraf sal word vir hierdie rebellie van hulle en sal hulle gevolglik
nié die Beloofde Land binnegaan nie.
Die woord "toorn" wat hier
gebruik word om God se gevoel jeens Sy volk uit te druk, is ’n baie sterk woord,
want dit kom daarop neer dat God Sy volk verwerp en verstoot het. Ons weet dan
ook uit die geskiedenis, dat die Israeliete op die drumpel van die Beloofde
Land gestaan het en nadat die Verspieders die land in is om te verken en hulle
terug gekeer het met nuus oor die vyand (wat reuse was) wat verdryf sou moes word, het die
volk nogeens in opstand gekom en teen God se wil en in Sy almag getwyfel deur
vreesbevange te raak en weereens teen God te rebelleer. Hierop het God in
Num.14:22-23 die volgende gesê ~ ...nie een van die manne wat my mag en die wonders wat Ek
in Egipte en in die woestyn gedoen het, gesien het, en wat My nou oor en oor
getart het en nie na my woorde geluister het nie, 23sal die land
wat Ek met ’n eed aan hulle voorvaders beloof het, sien nie. Nie een van hulle
wat My geminag het, sal die land sien nie. Die volk het meer as genoeg bewyse en getuienisse
gesien en ervaar om hul lewens aan God toe te wy en om op Hom te vertou dat Hy die
geveg vir hulle in die land Kanaän sou veg, maar hulle het God nie vertou nie
en net na hul eie vermoëns gekyk.
Die punt wat die Hebreërskrywer wil maak,
is om sy lesers te laat besef dat hulle ’n merkwaardige geestelike "uittog
uit Egipte" ervaar het, maar dat hulle op die ou einde traag geraak het en
uiteindelik die gevaar loop om ook hulle intog in die "Beloofde Land"
(die ewige lewe)
mis te loop. Dit was die boodskap van die Heilige Gees aan die lesers van die
Hebreërbrief vanuit Ps.95 – en dit is Sy boodskap vandag ook aan ons!
Indien die volk van Israel destyds oor meer
as genoeg bewyse beskik het van God se almag en liefde en genade, hoeveel te
meer nie ons in ons dag en veral nadat ons ook nog die getuienis van die
vleesgeworde Jesus en die apostels en die vroeë Christelik kerk gehoor het nie!
Die van julle wat dalk al baie lank op die drumpel van die "Beloofde Land"
staan (redding en verlossing) en steeds vir God vra om bewyse ens.,
moet versigtig wees dat God nie ook op
’n stadium jou die rug mag keer nie – ’n hele geslag van die Israeliete (almal
wat uit Egipte ontsnap het – met die uitsondering van twee) sterf op die ou einde in die
wildernis en kon nie die Beloofde Land binnegaan nie, trouens niemand oor die
ouderdom van twintig het die Beloofde land binne gegaan nie. Jy wat wik en weeg
oor God en Sy koninkryk moet versigtig wees dat jy nie ook die geleentheid om
die Beloofde Land binne te gaan, kan verspeel nie.
Die van ons wat al "lank op die
pad" is, het al dikwels mense gesien wat "radikaal tot bekering kom
en wat die pad met oorgawe loop", net om ’n paar jaar later weer
"saam met die varke in die modder rond te rol" en hul rug te keer op
Christus die Verlosser. In so ’n geval is die woorde van Jesus in Matt.13:18-22
so waar ~ Luister julle dan na wat die
gelykenis van die saaier beteken: 19Die Bose kom by elkeen wat die
woord van die koninkryk hoor maar dit nie verstaan nie, en vat dan weg wat in
sy hart gesaai is. Dit is hy by wie daar op die pad gesaai is. 20Die
man weer by wie daar op die klipbanke gesaai is, is hy wat die woord hoor en
dit dadelik met blydskap aanneem. 21Hy laat dit egter nie by hom
wortel skiet nie, en hy hou nie lank uit nie. As hy ter wille van die woord
verdruk en vervolg word, word hy gou afvallig. 22Die man by wie
daar tussen die onkruid gesaai is, is hy wat die woord hoor, maar die
bekommernis van die lewe en die verleidelikheid van rykdom verstik die woord,
en dit bly sonder vrug.
Die probleem met baie mense wat in ons
dag sê dat hulle Christene is, praat oor hul "uittog uit Egipte" en
sal selfs daaroor getuig, maar wanneer druk op hulle geplaas word, of hulle
vervolging ervaar, ens. draai hulle weg en "val heeltemal uit die Koninkryk",
of hulle wend hulle na ’n geloofstroom waar daar geen druk is nie en/of waar dit
"lekker is" en waar alles aanvaarbaar is – hulle volg dan ’n goedkoop
en mensgesentreerde evangelie wat alles behalwe welgevallig is in die oë van
die Here – sulke geloof is morsdood! Dieselfde waarskuwing wat aan die
Israeliete gerig is, geld ook vir diesulkes – v.19 ~ Ons sien dus dat hulle as gevolg van hulle ongeloof
nie in sy rus kon ingaan nie.
6. OPROEP TOT GETROUHEID:
Met die skrywer wat almal nou gewaarsku
het, vervolg hy en rig hy ’n oproep tot getrouheid. Wat behels hierdie oproep
tot getrouheid?
Die apostel skryf in v.15 ~ Vandag as julle sy stem hoor, moet julle nie hardkoppig wees nie, soos
julle voorvaders toe hulle in opstand gekom het. Die appèl wat tot God se volk gerig
was, nl. om terug te keer na Hom, word weer hier deur die Heilige Gees aan die
Hebreërskrywer se lesers gerig en ook aan elkeen van ons vandag, maar die
Israeliete wou nie glo nie en God het in Sy toorn, geweier dat hulle die
Beloofde Land binnegaan – hierdie ongeloof en ongehoorsaamheid van die volk het
hulle derhalwe gepootjie om in God se rus in te gaan.
Die Here het wonderlike seën wat Hy vir
elkeen van Sy kinders voorberei het en Hy wil hierdie seën op ons uitstort –
nou en in ewigheid, maar daarvoor het ons geloof nodig. Spr.29:1 waarsku ons
egter ~ ’n Man wat hom bly verset teen
teregwysings, kom skielik tot ’n val en staan
nie weer op nie.
Dit gaan egter nie net oor God se seën nie, dit gaan ook oor die ewigheid en
indien jy jou hart bly verhard teen die
stem van God (Sy
Woord en die influistering van die Heilige Gees), kan jy die ewige rus in Christus misloop.
Die Israeliete is deur Moses uit Egipte
gelei, met die doel voor oë dat hulle op pad was na hulle "rusplek"
in Kanaän. Tussen hul verlossing uit Egipte en ’n binnegaan in die
Beloofdeland, het daar ’n tydperk van ontbering van veertig jaar in die woestyn
vir hulle gewag. Hierdie 40 jaar se omswerwinge in die woestyn is ’n pragtige
uitbeelding van ons eie "woestynomswerwinge" wat ons in ons lewe
ervaar en die vraag is of ons, ons "wildernis tog" anders hanteer as
die destydse Israeliete? Dit is daarom dan dat die Hebreërskrywer in v.15 sê ~ Vandag as julle sy stem hoor, moet julle nie
hardkoppig wees nie, soos julle voorvaders toe hulle in opstand gekom het.
o
Slaan
ag op God se Woord:
Wanneer die skrywer dan sê dat ons nie
hardkoppig moet wees nie, moet hy tog vir ons sê wat ons in die plek van
hardkoppigheid moet doen – daarom dat hy in vv.12-15 vir ons bepaalde riglyne
verskaf waarvolgens ons moet optree.
Hy sê in v.15, dat ons moet ag slaan op
God se stem. Dit beteken dus dat ons na God se Woord moet luister – ons moet Sy
Woord bestudeer en toepas in en deur ons lewens. Dit is interessant dat hy v.15
begin met die woord, "vandag". Die gebruik van hierdie woord
beklemtoon die noodsaak daaraan dat ons erns sal maak met God se Woord en nie
sal uitstel nie – Vandag! Volharding en dan spesifiek volharding in die geloof,
is nie iets wat ons maar net kan uitstel tot môre nie – nee, ons moet elke dag
daaraan werk en ons moet vandag daarmee begin, anders mag ons ook uiteindelik
die gevolge daarvan dra.
Ons moet egter verstaan dat hierdie nie net
’n negatiewe boodskap vol dreigemente is nie, want soos wat Ps.95 ook sê, is
ons God ~ ...die rots by wie ons redding vind... ...die magtige
God, die groot koning oor al die gode. 4Die dieptes van die aarde
behoort aan Hom, die kruine van die berge is Syne. 5Die see is
Syne, Hy het dit gemaak; sy hande het die land gevorm. Met dit in gedagte sê die Psalmdigter dan in v.6 ~ Kom
ons val in eerbetoon voor Hom neer, kom ons buig, kom ons kniel voor
die Here ons Skepper! 7Hy is ons God en ons is sy volk, sy kudde,
sy skape, deur sy hand versorg.
Omdat ons skepsels van God is en ons meer as genoeg getuienisse t.o.v. Hom al
in ons lewe ervaar het, sal ons ook geen verskoning hê (soos
die Israeliete), as ons
nie ag slaan op Sy Woord nie.
Die gevaar (soos reeds
vantevore gesien) het by
die lesers van die Hebreërbrief bestaan dat hulle wou terugval op die Judaïsme,
maar dit was nie die enigste gevaar wat die skrywer geïdentifiseer het nie – hy
sien ook dat daar ’n baie besliste gevaar bestaan dat van hierdie gemeentelede
hulle geloof kon versaak, daarom dat hy in v.12 sê ~ Broers, julle moet toesien dat daar nooit by een van
julle ’n verkeerde gesindheid van ongeloof ontstaan en hy van die lewende God afvallig word nie. Die ESV stel dit nog duideliker
wanneer dit praat van "falling away
from God".
Wanneer mense ’n gesindheid van ongeloof,
of ongehoorsaamheid openbaar soos die Israeliete van ouds, het dit noodwendig
’n reaksie by God tot gevolg. Ons sien in vv.8, 15 en 16 dat God uitgedaag word
(die Engels het ’n mooi woord hiervoor, nl.:
"provoke") – in die Grieks is dit παραπικρασμός / (parapikrasmos), waar ons woord rebellie vandaan kom.
Dit impliseer dat God uitgedaag word (geprovokeer) deur die mens (ons?) – ongehoorsaamheid of ongeloof wat God
noop om ten sterkste teen so iemand op te tree.
Die woord ongeloof hier in vv.18 en 19 is
ἀπειθέω (apeitheō).
Ons woord
"apatie" ("apathy") word aan hierdie woord ontleen –
apatie beteken om lusteloos te wees, of gevoelloos, of dooierig, of ongeërgd te
wees, of ’n afwesigheid van hartstog of strewe - in kort, ’n "kan nie
worry" houding – ’n ongeërgdheid t.o.v. God en ons geloofslewe dus. Gebaseer
op die Israeliete se rebellie en ongeloof in die wildernis kom die Hebreërskrywer
en waarsku hy sy lesers, deur vir hulle te sê, dat indien hulle ongehoorsaam is
(v.18),
hulle uit die geloof kan val (en dan was hulle nooit uitverkies
nie) en dat hulle nie God
se belofte sal ontvang nie – hulle gaan m.a.w. die "Beloofde Land"
nie in besit neem nie (v.11).
In v.13 gee hy nou raad aan sy lesers oor
hoe om nié van die lewende God afvallig te raak nie:
o
Bemoedig
mekaar elke dag:
In v.13 sê hy dat hulle mekaar daagliks
moet "aanspoor" of bemoedig – παρακαλέω (parakaleō)
– ’n woord wat ons
nou al goed ken en ons het gesien dat dit ’n woord was wat Jesus t.o.v. die
Heilige Gees gebruik het – Joh.14:16 ~ Ek
sal die Vader vra, en Hy sal vir julle ’n ander Voorspraak stuur om vir ewig by
julle te wees. Die
wortelbetekenis van hierdie woord is om langs iemand te kom en so ’n persoon te
ondersteun en regop te hou, sodat hy nie struikel en val nie. V.13b sê dan ook
spesifiek dat ons mekaar moet aanspoor om nie te sondig nie. Die probleem met
sonde is dat dit subtiel is; dit mislei en dit maak uiteindelik dood soos wat
dit die Israeliete in die wildernis dood gemaak het – Rom.7:11 sê ~ Die sonde wat deur die gebod ’n vastrapplek gekry het,
het my deur die gebod mislei en my doodgemaak. Ons sien nie altyd die sonde in ons eie lewe raak nie
en daarom moet ons dit met ’n goeie gesindheid toelaat, wanneer broers en
susters in ons lewe inspreek, want hulle bedoel goed daarmee, trouens hulle
tree net in gehoorsaamheid op en dan o.a.
aan dit wat Hebr.3:13 aan ons opdra, nl. om mekaar aan te spoor.
Ons het derhalwe ’n roeping om sonder
ophou, mekaar te ondersteun en aan te spoor om te volhard in die geloof tot die
einde toe. Dit eindig egter nie daar nie – ons het ook ’n roeping om langs en
onder die ongelowiges te kom om hulle aan te spoor om nié te volhard in hul
ongeloof nie, maar hulle vertroue en geloof in Jesus Christus te plaas.
7. AFSLUITING:
Ons vind ’n wonderlike en bemoedigende
boodskap in v.14 wanneer die skrywer sê ~ Ons behou deel aan Christus as ons end-uit volhard in die vertroue waarmee
ons begin het. Ons
sal nie van God
afvallig word, indien
ons enduit volhard en geliefdes, daarvoor het ons mekaar o.a. nodig – ons kan
die pad nie alleen loop nie – dit is ’n resep vir ’n ramp – ’n ramp met ewige
gevolge – gevolge wat ons kan weerhou om die ewige rus binne te gaan en daarom
sluit die Hebreërskrywer hierdie gedeelte af, deur te sê ~ Vandag as julle sy stem hoor, moet julle nie
hardkoppig wees nie (v.15).
[1]Boodskap deur
Kobus van der Walt te Vaaldriehoek
Gereformeerde Baptistegemeente (Meyerton) - Sondag, 26 Augustus 2012