1. SKRIFLESING:
Matt.6:9-13 ~ So moet julle
bid: Ons Vader wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word; 10laat
u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel. 11Gee
ons vandag ons daaglikse brood; 12en vergeef ons ons oortredings soos
ons ook dié vergewe wat teen ons oortree; 13en laat ons nie in
versoeking kom nie maar verlos ons van die Bose.
Die O.A.V. sluit hierdie gebed in v.13b af met die woorde ~ ...Want aan U behoort die koninkryk en
die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.
2. INLEIDING:
Ons kom vanoggend by die laaste drie
smeekbedes van Jesus se Modelgebed. Ons het gesien dat die eerste drie
smeekbedes prioriteit geniet oor die laaste drie bedes en dat die eerste drie
gehandel het oor God.
Jesus het Sy dissipels geleer om hul
gebed te begin deur vir en rondom God se Naam te bid, dan oor God se Koninkryk
en dan oor God se wil – die eerste drie bedes gaan dus oor God en Sy eer. Dit
beteken egter nie dat die laaste drie bedes onbelangrik is nie – daardie bedes
wat oor ons eie behoeftes gaan – solank ons egter net altyd in gedagte sal hou
dat die eer van God se Naam altyd voorrang moet geniet in ons gebede. Met dit
in gedagte mag ons derhalwe ook soos Dawid uitroep ~ Moet
my tog nie verlaat nie, Here, my God, moenie ver van my af bly nie!
(Ps.38:22).
Ons moet onthou dat ons hemelse Vader
weet wat ons nodig het en vind ’n vreugde daarin om ons te versorg en in ons
behoeftes te voorsien. Ons Vader gee ook om vir ons praktiese en materiële en
persoonlike sake en daarom behoort ons dit nie vir Hom "weg te steek
nie", maar eerder ons afhanklikheid van Hom bekend te maak. Daar is
natuurlik nog ’n goeie rede waarom ons met ons persoonlike behoeftes na God
moet kom en dit is dat Hy, Skepper van alle dinge is. Hy skep; hou in stand;
versorg en "bestuur" alle dinge vir en na hul einddoel waarvoor dit
geskape is. Daarom sal ons Vader nie net voorsien in dit wat ons nodig het nie,
maar ook in dit wat goed is vir ons. Dit impliseer dus dat ons met
vrymoedigheid, maar ook met groot dankbaarheid na Hom kan en mag kom en ons
persoonlike behoeftes met Hom deel. Ons sal dan ook sien dat hierdie volgende
drie persoonlike smeekbedes al ons fisiese en geestelike behoeftes insluit en
omvat – hierdie smeekbedes gaan oor ons fisiese behoeftes, vergifnis van sonde
en geestelike oorwinning en dan sluit die gebed weer af met eer wat aan God
gegee word.
3. DIE VIERDE SMEEKBEDE:
Ons eerste persoonlike en vierde
smeekbede vind ons in v.11 ~ Gee ons vandag ons daaglikse brood.
Hierdie een kort sinsnede sê so geweldig baie en rondom hierdie een sinnetjie
kan ons ook soveel bid. Kom ons kyk dan in groter detail na hierdie bede.
Eerstens kyk ons na die
"bestanddeel" vir hierdie bede, nl. "brood". Brood
in hierdie geval verteenwoordig nie net voedsel nie, maar is ook simbool van al
ons ander fisiese behoeftes. Martin Luther het gesê dat hierdie
"brood" waarvan Jesus hier praat, ons daaglikse voedsel insluit, máár
dit verteenwoordig ook ’n gesonde liggaam, reën, ’n woning, ’n vrou, kinders,
’n goeie regering en vrede – alles wat ons dus "aan die lyf mag voel."
Dit is wonderlik om te besef dat die God
wat die heelal geskape het – Hy wat selfvoorsienend is; almagtig; heilig; van
ewigheid tot ewigheid is – dat Hy genoeg omgee om jou en my ook te
"voed" en te klee en te beskerm en ’n rusplek aan ons te voorsien en
ons gelukkig te maak! Dit is presies ook wat Lukas in Hand.17:24-25 vir ons sê
~ God, wat die wêreld met alles wat daarin is, gemaak het, hý is die Here van
hemel en aarde, en Hy woon nie in tempels wat deur mense gemaak is nie. 25Hy
het ook nie nodig dat mense Hom versorg nie. Inteendeel, dit is Hy wat aan
almal lewe en asem en alles gee.
God onderneem om ons te versorg en Hy
doen dit voorwaar ook, dit is waarom Jakobus in 1:17 sê ~ Elke
goeie gawe en elke volmaakte geskenk kom van Bo. Dit kom van die Vader wat die
hemelligte geskep het, maar wat self nie soos hulle verander of verduister nie.
Ons Vader wat ons aan die begin van ons gebed aangeroep het, is dus die Groot
Voorsiener van al ons behoeftes – trouens, Hy het reeds voorsien nog voor Hy
die mens geskape het – Gen.1:29 ~ Verder het God gesê: “Let op! Ek gee aan julle al die
plante wat saad gee op die hele aarde; ook al die bome wat vrugte dra en saad
gee. Dit sal julle kos wees.
Alle fisiese dinge waaroor ons beskik kom
dus van die Vader en om Hom nie elke dag daarvoor te dank nie, getuig van
ondankbaarheid en is derhalwe sonde.
Wanneer ons hierdie smeekgebed bid, nl. ~
...gee ons vandag ons daaglikse brood,
moet ons ook na die woordjie "gee" kyk. Al het God dit
ook alreeds aan ons verskaf, vra ons nogtans daarvoor, om daardeur erkenning
aan Hom te gee vir Sy versorgende liefde in die verlede, asook Sy huidige
versorging, maar daardeur spreek ons ook ons vertroue uit dat Hy ook in die
toekoms sal voorsien. Ons gee dus deur hierdie gebed, erkenning aan God vir Sy
liefdevolle versorging.
Ons kan hierdie vertroue wat ons
uitspreek in God se versorgende en voorsiende liefde en genade, alleen doen.,
op grond van die belofte in Sy Woord – so sê Ps.37:4-5 bv. ~ Vind
jou vreugde in die Here, en Hy sal jou gee wat jou hart begeer. 5Laat
jou lewe aan die Here oor en vertrou op Hom; Hy sal sorg.
Die "ons"
in hierdie vierde smeking is die hart van ons versoek wat ons tot die Vader
rig, want dit erken enbevestig ons nood, maar ook ons afhanklikheid van God.
Paulus skryf in 2 Kor.9:10-12 aan die gelowiges en hy sê ~ God
wat saad verskaf om te saai en brood om te eet, sal ook aan julle saad gee en
dit laat groei en julle vrygewigheid ’n ryk oes laat oplewer. 11Hy
maak julle altyd in alles ryk genoeg om by elke geleentheid vrygewig te kan
wees. Deur ons bemiddeling het julle vrygewigheid tot gevolg dat God gedank
word, 12want die bediening van hierdie hulpbetoon voorsien nie
alleen in die behoeftes van die gelowiges in Judea nie, maar bring ook
oorvloedige dankbaarheid teenoor God mee.
Jesus sê in Luk.18:29-30 ~ Dit verseker
Ek julle: Daar is niemand wat ter wille van die koninkryk van God afgesien het
van huis of vrou of broers of ouers of kinders nie, 30of hy ontvang
in hierdie tyd al baiekeer soveel terug, en in die tyd wat kom, die ewige lewe.
Ons hemelse Vader onderneem om in elke noodsaaklike behoefte van ons te
voorsien.
In hierdie woordjie "ons" lê
daar egter nog ’n dieper waarheid verskuil. Die Here Jesus het ons nié geleer
om te bid ~ Gee MY vandag MY daaglikse brood nie. Hierdie gebruik van die woord
"ons" impliseer dus dat ons ook vir andere se daaglikse behoeftes moet
bid, maar dit impliseer ook dat die Here in my persoonlike behoeftes voorsien,
sodat ek ook my oorvloed met andere kan deel waar daar nood bestaan. Die Here Jesus
het self gesê ~ ...Om te gee, maak ’n mens gelukkiger as om te ontvang
(Hand.20:35).
In Ef.4:28 sê Paulus ~ As iemand ’n dief is, moet hy ophou steel; hy moet
deur harde werk op ’n eerbare manier self in sy lewensonderhoud voorsien; dan
sal hy iets hê om vir die armes te gee.
Laastens die woordjie, "vandag".
Hierdie woord "vandag" soos wat dit hier in Christus se Modelgebed (v.11)
gebruik word, word nêrens anders in die Woord gebruik
nie. In die Grieks word hierdie woord ook as ’n byvoeglike naamwoord gebruik,
wat dus beteken dat ons praat van die dag wat voorlê. Indien ons dus in die
oggend vra, gee ons vandag ons daaglikse
brood, impliseer dit dat ons vra vir God se
voorsiening tydens die dag wat voorlê. Indien ons dit in die aand bid, vra ons
dus vir die voorsiening vir die volgende dag wat voorlê. Dit gaan dus oor ’n
dag-tot-dag voorsiening. Ons moet ons dus nie bekommer oor die dag van môre
nie. Jesus het self in Matt.6:34 gesê ~ Moet julle dus nie oor môre bekommer
nie, want môre bring sy eie bekommernis. Elke dag bring genoeg moeilikheid van
sy eie.
Ons sien dus dat ons enige tyd, vir enige
iets kan vra, deur gebed – Fil.4:6 bevestig dit ~ Moet oor niks besorg wees nie, maar
maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God
bekend:
·
Slegs God weet regtig wat ons nodig
het. Wanneer ons dus vir God vra om aan ons te gee wat óns glo ons nodig het,
is Hy nog steeds die Enigste Een wat weet of ons dít waarom ons vra, wérklik
nodig het. Kom ek gee ’n voorbeeld: Dit is nie verkeerd vir ’n enkellopende om
die Vader te vra om ’n godvresende man nie, maar as God nie hierdie gebed
verhoor nie, moet so ’n persoon dit aanvaar, omdat God in daardie enkellopende
se geval weet dat dit dalk beter is om nie getroud te wees nie. So is dit ook
nie verkeerd om bv. vir ’n ander kar te vra as jou kar gedaan is nie, maar as
die Vader nie vir jou ’n ander kar gee nie, moet jou gesindheid een wees waar
jy sê: Here, U genade is vir my genoeg –
ek onderwerp my aan U wil, want U weet beter.
·
Tweedens moet ons altyd die gebed wat
ons gebid het net voor ons by die laaste smeekbede kom, in gedagte hou en ons
daarby neerlê, nl. ~ ...laat U wil ook op die
aarde geskied, net soos in die hemel (v.10).
Dit bring ons by ons tweede laaste smeekbede,
nl. ~ ...
en vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié
vergewe wat teen ons oortree (v.12).
Die bekende teoloog en prediker, John Stott het eenkeer die hoof van ’n
sielsiekeinrigting in Engeland aangehaal wat gesê het ~ I
could dismiss half of my patients tomorrow if they could be assured of
forgiveness. In ons dag – soos in die verlede, roep mense uit om ware en
opregte vergifnis.
Wat is die probleem hier – waarom is dit
nodig om God te vra om ons te vergewe? Ons weet dat sonde skeiding gebring het
tussen God en die mens, toe Adam in die Tuin van Eden gesondig het en sy ganse
nageslag in hom daarvoor gestraf is, deurdat daar skeiding gebring is tussen
God en die mens (die erfsonde). Ons word
deur die gereformeerde teologie geleer dat diegene wie in Christus Jesus
ingevlug het en Hom vertrou vir hul regverdigmaking, tog rééds vergifnis
ontvang het vir hul sonde – hulle is reeds volkome geregverdig – daar is dus
geen skeiding meer tussen ons en God nie. Rom.8:1 sê dit immers ook vir ons ~ Daar is dus nou
geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie.
Die ewige Regter het ons vergewe en geregverdig, daarom sê Paulus in
Rom.8:33-34 ~ Wie kan die uitverkorenes van God aankla? God self
spreek hulle vry. 34Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het
gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die
regterhand van God, Hy pleit vir ons en dan verse 38 en
39 ~ Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of
teenswoordige of toekomstige dinge of kragte 39of hoogte of diepte
of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die
liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.
Die
feit dat ons gered is, impliseer
egter nie dat ons sondeloos is nie – ja, ons is vergewe en regverdig
verklaar
wat betref ons erfsonde (daardie sonde waaraan alle mense onderwerp is
en skuldig voor God staan - Adam se sonde - maar waarvan gelowiges
kwytgeskeld word op grond van Jesus se soendood aan die kruis), maar
ons as gelowiges sondig steeds elke dag, dit is waarom Jesus sê dat ons oortredings (meervoud) het
waarvoor ons vergifnis moet ontvang. Dawid, ’n man na God
se hart (1 Sam.13:14)
het in Ps.40:12 gesê dat sy ...ongeregtighede...meer
(is) as die hare op (sy) kop. Johannes sê ook
vir ons in 1 Joh.1:10 ~ As ons beweer dat ons nie gesondig het nie, maak ons
Hom tot leuenaar en is sy woord nie in ons nie.
Ons sien dus dat dit steeds nodig is om vergifnis te ontang vir ons daaglikse
sonde (ook genoem die sondesmet).
Om vergifnis te vra, impliseer dus
belydenis. John MacArthur het eenkeer gesê: Feet
that are not presented to Christ cannot be washed by Him. Sonde kan dus nie
vergewe word as dit nie bely word nie. Dit is presies dan ook wat Johannes vir
ons in 1 Joh.1:9 leer ~ Maar as ons ons sondes bely—Hy is getrou en regverdig,
Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid.
Die woord "bely", beteken
eintlik "om te erken". Wanneer ons dus ons sonde bely, erken ons en
stem ons saam met God dat ons sonde boos en verkeerd is. Dit is egter die
enigste manier waarop ons vry kan kom van ons sondeskuld. Spreuke sê in
Spr.28:13 ~ Wie sy sonde wegsteek, moet niks goeds te wagte wees
nie; wie sy sonde bely en daarvan afsien, sal genade ontvang.
Wanneer ons, ons sonde bely impliseer dit
egter nié dat ons maar net kan voortgaan en maar weer en weer te sondig nie.
Nee, ons moet God se vergifnis sien as ’n geleentheid tot geestelike groei en
heiligmaking en daarom behoort ons God voortdurend te dank vir Sy liefde en
gewilligheid om my te vergewe en te vergewe en weereens te vergewe. Ons moet
ook in gedagte hou, dat om ons sonde te bely, impliseer dat ons God daardeur verheerlik,
want ons gee erkenning daardeur aan Hom, dat Hy ’n heilige God is.
Jesus stel egter ’n voorwaarde wanneer
ons, ons sonde bely en om vergifnis vra ~ en vergeef ons
ons oortredings – en dan hierdie woorde ~ soos ons ook die vergewe wat
teen ons oortree. Dit kan anders gestel word: As ons
vergewe het, sal ons vergewe word. As ons nie vergewe nie, sal ons nie vergewe
word nie. Ons moet ons harte dus behoorlik ondersoek, voor ons God om vergifnis
vra. Ons kan nie verwag dat Hy ons gaan vergewe as daar mense is wie ons nie
vergewe het nie – Matt.5:7 ~ Geseënd is dié wat barmhartig is, want aan hulle sal
barmhartigheid bewys word. Vergifnis is dus ’n ware teken van
’n herskepte hart. Ef.4:32 sê ~ Wees goedgesind en hartlik teenoor mekaar, en vergewe mekaar
soos God julle ook in Christus vergewe het. Daar is
nie uitkom kans nie – daar is nie wegsteek kans nie. Om andere te vergewe,
verlos ons van God se dissipline, want waar daar ’n onvergewensgesinde gees
bestaan, is daar sonde teenwoordig en waar sonde teenwoordig is, sal daar
noodwendig straf en dissipline wees. As ons kyk na die situasie in die gemeente
in Korinte, sien ons dat daar baie gemeentelede was wat siek was en selfs
gesterf het as gevolg van hul sonde (1 Kor.11:30).
Hierdie beginsel is só belangrik dat Jesus dit na Sy modelgebed weer herhaal
het in vv.14-15 ~ As julle ander mense hulle oortredings vergewe, sal
julle hemelse Vader julle ook vergewe. 15Maar as julle ander mense
nie vergewe nie, sal julle Vader julle ook nie julle oortredings vergewe nie.
Ons moet derhalwe besef dat God ons hanteer soos wat ons ander mense hanteer (Julius
Malema e.a. – Wat is my gesindheid?).
Dit is baie moeilik om sonde te bely,
omdat die satan ons probeer weerhou daarvan en omdat ons vlees dit net nie wil
doen nie en wanneer hierdie voorwaarde wat Jesus in die "onse Vader"
stel, nog bygevoeg word, word dit nóg moeiliker. Dit is egter ongelukkig die
enigste manier waarop ons vry kan kom; vergifnis kan ontvang en ’n vreugdevolle
lewe kan lei.
Ons laaste smeekbede vind ons in v.13 ~ ...en laat ons nie in versoeking kom nie maar verlos ons van die Bose.
Wat ons hier eerste opval is dat hierdie bede met die woordjie "en"
begin. Hierdie woordjie verbid ons dringende versoek in die sesde smeekbede,
met ons versoek om vergifnis van sonde in die vyfde smeekbede. Ons ervaring van
sonde maak ons dus meer bedag op die versoekinge van die vlees en die aanslae
van die bose wat ons weer kan laat struikel en in sonde laat verval.
Ons moet onmiddellik net eers vir mekaar
sê dat God ons nooit in die versoeking lei nie – Jak.1:13 is baie duidelik
hieroor ~ Iemand wat in versoeking kom, moet nooit sê: “Ek word
deur God versoek” nie; want God kan nie verlei word nie, en self verlei Hy
niemand nie. Jakobus volg hierdie verklaring op deur vir
ons te sê waar versoeking vandaan kom – v.14 ~ Maar ’n mens word verlei deur sy eie
begeertes wat hom aanlok en saamsleep. Ons word dus deur
ons eie vlees versoek en verlei.
God sal ons egter toets, soos wat Hy vir
Abraham getoets het deur die verbond met hom te sluit, sonder ’n oënskynlike
nageslag. Satan het dan weer op sy beurt hierdie toets misbruik, sodat die
toets in Abraham se lewe, ’n versoeking geword het. Versoekings en toetse
verskil in die opsig, nl. dat Satan ons versoek en dit het boosheid tot gevolg,
daarenteen toets God ons ten einde, uiteindelik die goeie tot gevolg te hê.
Ons moet egter ook daarop let dat
versoekings nie insigself sonde is nie – dit is ons reaksie op hierdie
versoekings wat sonde kan word.
Wanneer ons hierdie gebed bid, vra ons
dus vir God om ons te help om nie toe te gee wanneer toetse oor ons pad kom
nie, maar dat Hy ons sal help om staande te bly. Hierdie is dus nie ’n gebed
wat ons bid en vra dat die Here ons sal weghou van versoekings nie, maar dat Hy
ons sal bewaar wanneer versoekings oor ons pad kom en selfs wanneer Hy ons voor
bepaalde toetse te staan bring.
Wanneer ons hierdie laaste smeekbede bid,
gee ons erkenning aan God dat ons afhanklik van Hom is en dat ons afhanklik van
Hom en niemand anders wíl wees nie.
4. DIE SLOT VAN DIE GEBED:
Jesus se Modelgebed wat Hy aan ons gegee
het, word met die woorde ~ Want aan U behoort die
koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen,
afgesluit (O.A.V.). Alhoewel hierdie
gedeelte nie in die N.A.V. en talle ander vertalings voorkom nie en ook nie in
die vroegste Latynse vertalings nie, kom dit tog voor in verskeie Griekse
manuskripte. Die vroegste kerk het ook hierdie gedeelte gebruik wanneer hulle
hierdie gebed gebid het en dit is in ooreenstemming met Paulus se doksologie (lofverheffing,
of afsluiting van ’n gebed) in bv. Rom.11:36 ~ Uit
Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Aan Hom behoort die heerlikheid
tot in ewigheid! Amen.
Hierdie gebed begin met die fokus op God
die Vader en indien hierdie gedeelte wel deel was van die oorspronklike teks,
is dit ook net van pas om die gebed weer af te sluit met eer aan God (soos
Paulus ook hierbo in sy gebed doen). Wanneer ons dan
hierdie slotgedeelte bid, sê ons:
·
As ons eerstens dan kyk na die frase ...die koninkryk,
sê ons dat die heerskappy en gesag aan God behoort, sodat ons seker kan wees,
ongeag hoe groot ons stryd met die bose is, dat ons Vader "die laaste
woord sal hê".
·
Tweedens, ...die krag: Hierdie
woorde word pragtig verduidelik deur
Ef.3:20 ~ Aan Hom wat deur sy krag wat in ons werk, magtig is om
oneindig meer te doen as wat ons bid of dink (O.A.V.).
Sy mag is ver verhewe bo dit wat ons kan bedink en dit is tot Hóm wat ons as
Vader bid!
·
Laastens, ...die heerlikheid.
Deur hierdie woorde sê ons aan ons Vader dit wat ook in Ef.3:21 staan ~ ... aan
Hom die heerlikheid in die gemeente in Christus Jesus deur alle geslagte tot in
ewigheid! Amen. En Amen!