1. VOORAF:
Ek wil vanoggend ’n onderwerp aanpak wat
deur baie teoloë beskou word as een van die moeilikste teologiese onderwerpe in
die ganse Woord. Aanvanklik het ek gedink dat dit tog voor die handliggend is,
want die Woord moet mos vir ons die antwoorde hierop verskaf, maar hoe langer
ek hiermee geworstel het, hoe meer het ek besef dat hierdie geen eenvoudige
saak is nie en dat die teoloë reg is. Ek het egter ook besef dat dit nie ’n
onderwerp is wat ek maar net daar eenkant kan "parkeer" en daarvan
vergeet nie, want ek wou weet wat die verklaring is; wat die eindresultaat is.
In my worsteling en soeke na antwoorde, het ek ook besef dat hier baie
meningsverskil bestaan en dat nie een van ons waarskynlik ooit in hierdie lewe
’n "aller-antwoord" sal kry nie en dat ons aan die einde van ons
soeke na ’n antwoord, waarskynlik moet besluit wat vir ons die regte standpunt
is, maar terselfdertyd nie andere "afskiet", of selfs veroordeel as
hulle die alternatief glo nie (let net op dat daar wel standpunte is
wat lynreg téén die Woord indruis en daarna sal ek net kortliks verwys).
Ons moet ook verstaan dat hierdie ’n
geweldige omvangryke onderwerp is en waaraan ’n mens baie moeilik in een sessie
reg kan laat geskiet, maar kom ons probeer....
Die meeste van ons, indien nie almal nie,
ken of het al ten minste gehoor van die "Twaalf
Artikels" of te wel "Die "Apostoliese
Geloofsbelydenis". Ons haal dit baie dikwels aan, of ons bid gereeld
rondom dit, of wanneer ons getuig oor ons geloof, sal ons stellings maak wat,
wetend of onwetend, presies ooreenstem met die "Twaalf Artikels" – uitsprake soos: (1) Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die
Skepper van die hemel en die aarde. (2) En in Jesus Christus, sy eniggebore
Seun, ons Here... of die vyfde
artikel wat sê: (5) ...wat op
die derde dag weer opgestaan het uit die dood.
Van ons ouer garde kan dalk ook onthou
hoe ons die "Twaalf Artikels"
in die kerk, hardop saam met die predikant opgesê het en, bygesê, hoeveel van
ons het die volgende woorde nagesê, sonder om regtig daaroor na te dink: (4) wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is,
gesterf het en begrawe is en neergedaal het na die hel – spesifiek dan hierdie laaste uitdrukking, ... neergedaal het na die hel. Jesus neergedaal na die hel? Was Jesus regtig in die
hel? God se Seun onder die heerskappy van die satan?
Net ’n
laaste opmerking voor ons na hierdie artikel in die "Apostoliese Geloofsbelydenis" kyk. Die "Apostoliese Geloofsbelydenis"
verwys nié na ’n spesifieke kerkgenootskap nie, maar ook is dit nié deur die
Apostels opgestel nie. 'n Presiese datering vir die "Apostoliese Geloofsbelydenis" is nie moontlik nie, maar
alle aanduidings is dat die geskrif teen ongeveer die derde eeu na Christus al
baie algemeen en wyd bekend was in die vroeë-Christelike kerk. Dit kon moontlik
'n geskrif wees wat as antwoord moes dien op die dwaalleer wat sy kop aan die
einde van die eerste eeu na Christus in die kerk uitgesteek het, naamlik die
Gnostisisme (Teosofiese
rigting wat al die elemente van die godsdiens bevat het, maar ook die
filosofiese behoeftes wou bevredig).
Volgens
oorlewering het elkeen van die 12 apostels van Jesus Christus een van die
artikels in die "Apostoliese
Geloofsbelydenis" opgelewer, vandaar die benaming, "Apostoliese
Geloofsbelydenis" of "12 Artikels". Daar is egter nie genoegsame bewyse
vir hierdie teorie nie. Hierdie belydenis word baie wyd in Christelike
kerke van verskillende denominasies aanvaar en maak deel uit van die Algemene
Belydenisskrifte van die Protestantse kerke. Verskillende vertalings van die
dokument is in omloop, derhalwe kom daar verskille tussen kerke se inhoud van
die Belydenis voor. Die kern van die Geloofsbelydenis bly egter in sulke
gevalle behoue.
2. SKRIFLESING:
1
Pet.3:18-22 ~ Ook Christus
het een maal vir die sondes gely, die onskuldige vir die skuldiges, om julle na
God te bring, Christus wat as mens doodgemaak is, maar deur die Gees lewend gemaak
is. 19En so het Hy na die
geeste in die gevangenis gegaan en daar sy oorwinning aangekondig. 20Dit
is hulle wat aan God ongehoorsaam gebly het toe Hy groot geduld met hulle aan
die dag gelê het in die tyd toe Noag die ark gebou het. Net ’n klein klompie in
die ark, ag in getal, is deur die water gered. 21Dit dui op die
doop, waardeur julle ook nou gered word. Die doop is nie ’n afwassing van die
vuilheid van die liggaam nie, maar ’n bede tot God om ’n skoon gewete, en dit
red julle op grond van die opstanding van Jesus Christus. 22Hy is
nou aan die regterhand van God nadat Hy die engele en magte en kragte aan Hom
onderwerp het en die hemel ingegaan het.
1 Pet.4:4-6
~ Nou vind die heidene dit vreemd dat
julle nie langer met hierdie stroom van losbandigheid saamgaan nie, en hulle
beswadder julle. 5Hulle sal rekenskap moet gee aan Hom wat klaar
staan om oor die lewendes en die dooies te oordeel. 6Daarom is die evangelie immers ook
verkondig aan dié wat nou dood is sodat, hoewel hulle as mense onder die
oordeel was om na die liggaam te sterwe, hulle na die gees sou lewe soos God
lewe.
3. INLEIDEND:
Daar het deur die eeue heen en vandag
nogsteeds, baie verklarings bestaan vir die uitdrukking, "ter helle neergedaal"
en wat nie strook met die res van wat die Woord van God vir ons leer nie. Die
Rooms Katolieke bv. (en talle Protestante) bely dat Jesus letterlik neergedaal
het na die hel – dat Hy m.a.w. daar in die teenwoordigheid van die satan was,
asook al die verlore siele en hulle grond hulle standpunt op ’n paar
Skrifgedeeltes, maar spesifiek op die Skrifgedeeltes wat ons so pas gelees het
en dan spesifiek op v.19 van hoofstuk 3 ~ En so het Hy na die geeste in die gevangenis gegaan en daar sy oorwinning
aangekondig., asook
en v.6 van hoofstuk 4 ~ Daarom
is die evangelie immers ook verkondig aan dié wat nou dood is sodat, hoewel
hulle as mense onder die oordeel was om na die liggaam te sterwe, hulle na die
gees sou lewe soos God lewe.
Natuurlik, is daar ook diegene wat glo
dat Jesus nié
letterlik
(of selfs figuurlk) neergedaal
het na die hel nie. Die mees ontstellende is egter dat waarskynlik die grootste
meerderheid van gelowiges net nooit regtig aandag aan hierdie verklaring gegee
het en/of dit bevraagteken, of gesoek het na ’n verklaring van wat dit nou
regtig beteken nie – tot my eie skande, moet ek erken, dat ek vir baie jare
deel uitgemaak het van hierdie lg. groep.
Wie is dan reg? Digene wat glo dat Jesus
vir drie dae letterlik en fisies in die hel was – van die oomblik dat Hy Sy
asem uitgeblaas het, tot en met Sy opstanding uit die dood, of is diegene wat
sê dat daar ’n ander verklaring hiervoor is, reg? Indien lg. groep reg is, wat
beteken hierdie uitdrukking dan, of anders gestel, moet ons dan nie liewer
hierdie gedeelte uit die AGB ("Apostoliese
Gloofsbelydenis") verwyder
nie – soos wat baie gelowiges/kerke, ens. wel doen?
Die vraag is: Waar en hoe moet ons begin
om hierdie vrae te ontrafel? Wie is die geeste waarheen Christus gegaan het?
Wanneer het Christus Sy oorwinning aan hierdie geeste verkondig? Wat was die
inhoud van Sy proklamasie? Bloot net omdat ons nie vanoggend genoegsame tyd tot
ons beskikking het nie, gaan ek ook nie aan al hierdie aspekte aandag gee nie,
alhoewel sommige tog hopelik, indirek beantwoord sal word.
Laat ons daarom, eers na ons twee
Skrifgedeeltes kyk en dan spesifiek na 3:19 en 4:6 en veral moet ons kyk na die
oorkoepelende gedagte van Jesus wat na die geeste in die gevangenis gegaan het (3:19) en die mense onder die oordeel (4:6).
Petrus stel dit onomwonde in v.18, voor
hy met sy argument begin, dat Jesus se kruisdood nié op ’n nederlaag dui nie –
Jesus het dus nié die knie gebuig voor die satan nie, want Petrus sê baie
duidelik ~ maar (Jesus is) deur die Gees lewend
gemaak. Jesus is die
Oorwinnaar en nié die satan nie en nou dat Petrus dit onomwonde verklaar het,
gaan hy voort en sê wat Christus gedoen het en waarheen Hy is, nadat Hy die
laaste asem uitgeblaas het en gesterf het.
Kom ons kyk ook net vlugtig na vier verskillende
verklarings of uitgangspunte vir hierdie gedeelte:
·
Die
eerste groep verkondig dat Christus gedurende die tydperk van Sy dood (Vrydagmiddag
tot Sondagoggend met Sy opstanding),
na die realm van die dood gegaan het en daar vir Noag se tygenote gepreek het.
Hierdie denkrigting kan egter verder in twee subgroepe verdeel word, nl.:
o
Christus
het aan die afgestorwenes, verlossing gaan aanbied – Hy het hulle m.a.w. nog ’n
kans gaan gebied om gered te word – Rooms Katolieke.
o
Die
tweede subgroep reken dat Christus deur Noag, die mensdom voor die Sondvloed,
opgeroep het tot bekering (Gen.6-8), maar hulle het hulle nie aan Noag
gesteur nie en dat Christus nou weer ’n verdere oordeel oor hierdie mense gaan
uitspreek het.
o
Die
derde subgroep leer dat Christus Goeie Nuus gaan verkondig het, aan die
afgestorwenes wie reeds gered is – so asof Hy hulle redding gaan bevestig.
·
Die
tweede hoofgroep van verklaarders, sê dat Petrus hier verwys na die vooraf-reedsbestaande
Christus, wat in Noag se tyd oordele uitgespreek het oor Noag se tydgenote
·
Die
derde hoofgroep sê dat Christus tydens die drie dae vanaf Sy kruisiging en
sterwe, Sy oorwinning teenoor die gevalle engele (satan en
die demone), asook Noag
se veroordeelde tydgenote, geproklameer het (die Lutherane bv.). Hulle sê verder dat hierdie
proklamsie plaasgevind het...:
o
Tydens
die tydperk dat Hy neergedaal het na die hel, of...
o
’n
Tweede groepering sê dat dit plaasgevind het tydens Christus se hemelvaart.
·
Vierdens
is daar ’n groep wat mynsinsiens, naaste aan die waarheid aangaande hierdie
saak is, alhoewel hulle tog van mekaar verskil en aan hierdie twee standpunte
wil ek nou aandag skenk, waarna ek ter afsluiting, ’n gevolgtrekking wil maak.
4. CALVYN EN ANDERE:
Van hierdie twee groeperinge, wat ek glo
die naaste aan die waarheid is, wil ek t.w.v. ons redenasie, opskrif, "Calvyn en Andere" gee.
·
Calvyn: Johannes Calvyn het reeds in 1534 die
standpunt gehuldig dat Jesus letterlik en fisies neergedaal het na die hel.
Voor hom het enkele ander teoloë dit ook verkondig (bv.
Nicolaus van Cusa en ook Pico della Mirandola). Calvyn sê o.a. die volgende t.o.v. die "AGB": ..."Dan volg daar in die
geloofsbelydenis dat Hy (Christus) gesterwe het en begrawe is. Hierin kan
ons weer sien hoe Hy homself in alle opsigte in ons plek gestel het om die prys
van ons verlossing te betaal. Die dood het ons onder sy juk (die
dood) vasgeknel gehou;
Christus het Homself in ons plek aan die mag van die dood oorgegee om ons
daarvan te verlos"
– waarvan te verlos? Van die mag van die dood. Calvyn gaan voort en hy sê - ...So verstaan die apostel (Petrus) dit wanneer hy skryf dat
Hy (Christus)
die
dood vir almal gesmaak het. Want deur te sterwe het Hy veroorsaak dat ons nie
sal sterf nie, of – en dit is dieselfde – deur Sy dood het Hy vir ons die lewe
gekoop." Dan
gaan hy verder aan en sê ~ Kortom: om hom
wat oor die dood gesag gehad het (dit is die duiwel), deur die dood te
vernietig en dié wat deur die vrees vir die dood hulle lewe lank aan die
slawerny van die dood onderworpe was, daarvan te bevry (Hebr.2:15)" [2].
Wat Christus se "neerdaal na die hel" betref, gaan hy voort en hy sê dat
Christus se "neerdaal na die hel van
groot belang is. Hoewel dit n.a.v. die geskrifte van die ou skrywers blyk dat
die artikel in die Geloofsbelydenis nie so algemeen in die kerk gebruik was
nie, moet daar in die behandeling van die ’n samevatting van die leer tog
daarvoor plek ingeruim word".
Waarom sê hy dat daar nie in die vroeë
kerk veel aandag hieraan gegee is nie? Dit is omdat daar nêrens in die Woord
melding gemaak word van Christus wat ter helle neergedaal het nie – dit is nie
hy wat dit sê nie – dit is ek wat dit sê, asook die meeste regsinnige teoloe en predikers van ons tyd - manne soos bv. Don Carson; Albert Mohler; John Piper; John MacArthur ens. Die Ou Puriteine het dit nie aangespreek nie, omdat hulle verstaan het wat daarmee bedoel was.
Calvyn sê egter dat indien ons hierdie gedeelte van die belydenis agterweë
laat, ons die geheel van ons verlossing en baie van die vrug van Christus se
sterwe, wat van soveel waarde is, verlore sou laat gaan.
Calvyn gee terselfdertyd toe, dat die
woord "hel", tergelykertyd "graf" kan beteken, maar dan
gaan hy voort en sê dat Christus se dood niks sou gebaat het, as Hy bloot net
’n liggaamlike dood gesterf het nie, want Christus moes ook die onverbiddelike (ou
Argaiëse Afrikaanse woord wat vir my baie beskrywend is =
"gestrengheid") wraak
van God ervaar, ten einde Sy toorn af te wend en aan Sy reverdige oordeel te
voldoen. Daarom moes Hy ook met die magte van die hel en die verskrikking van
die ewige dood hand teen hand worstel. As daar dus gesê word dat Hy na die hel neergedaal het, is dit nie
iets eienaardigs nie, aangesien Hy die dood verduur het wat God in Sy toorn op
sondaars lê. Die doel hiervan alles, sê Calvyn, is dat ons kan weet dat nie
alleen Christus se liggaam as losprys vir ons oorgelewer is nie, maar dat daar
’n groter en uitnemender prys was, nl. dat Hy in Sy siel die verskriklike
foltering van ’n verdoemde en verlore mens gedra het, terwyl Hy in die hel was.
Net ’n laaste opmerking of twee t.o.v.
Calvyn se standpunt, is dat hy sy standpunt baie sterk gegrond het op
Matt.27:46b wat nie noodwendig die korrekte interpretasie vir hieride
Skrifgedeelte is nie, nl. ~ Eli,
Eli, lemá sabagtani?” Dit is: My God, my God, waarom het U My verlaat.
Calvyn e.a. grond hulle standpunt op
teksverse soos o.a. Hand.2:27; Rom.10:6-7; Ef.4:8-9; 1 Pet.3:18-20 en 1 Pet.4:6.
Net iets kortliks oor die laaste twee Skrifverwysings:
o
1
Pet.3:18-20: Hier kry ons die woorde in vv.19-20 ~ En so het Hy na die geeste in die
gevangenis gegaan en daar sy oorwinning aangekondig. 20Dit is hulle wat aan God ongehoorsaam
gebly het toe Hy groot geduld met hulle aan die dag gelê het in die tyd toe
Noag die ark gebou het. Net ’n klein klompie in die ark, ag in getal, is deur
die water gered. Om
egter hieruit af te lei dat Christus neergedaal het na die hel, is nie goeie
eksegese nie, omdat dit nie in die teks self verduidelik word nie en ook nie in
die konteks nie. Waarom sou Christus net vir die ongelowiges van Noag se tyd
gaan preek het en nie andere ook nie en in elk geval het geen sondaar wat reeds
verdoem is tot die hel, enigsins ’n kans om daaruit te ontsnap nie, want
daarvaoor is daar genoeg teksverse om dit te bevestig, bv. Luk.16:26 ~ En buitendien is daar ’n groot kloof tussen ons en
julle, sodat dié wat hiervandaan wil oorgaan na julle toe, nie kan nie, en dié
wat dáár is, ook nie na ons toe kan oorkom nie (sien ook
Hebr.10:26-27).
o
1
Pet.4:6 ~ Daarom is die evangelie immers ook
verkondig aan dié wat nou dood is sodat, hoewel hulle as mense onder die
oordeel was om na die liggaam te sterwe, hulle na die gees sou lewe soos God
lewe. Ook wat hierdie
verse betref, kan ons sê dat dit ’n weerspreking van o.a. Luk.16:26 sal wees.
Wie is hierdie dooies dan waarvan hier
gepraat word? Wayne Grudem stel dit baie mooi in sy "Systematic Theology"
(p.592),
wanneer hy sê: "Thus 'the dead' are people
who have died and are now dead, even though they were alive and on earth when
the gospel was preached to them." Die N.I.V. vertaal hierdie vers baie
mooi ~ For this reason the gospel
was preached even to those who are now dead.
·
Andere:
Die ander teologiese groepering (teenoor
Calvyn) wat ek
"andere" noem se standpunt berus baie sterk op die Heidelbergse
Kategismus, Sondag 17, vraag en antwoord 44 en wat as volg lui:
Vraag:
Waarom volg daar (n.a.v. die Apostoliese
Geloofsbeydenis):
en neergedaal het
na die hel?
Antwoord: Sodat ek in my swaarste
aanvegtinge verseker kan wees en myself volkome kan vertroos dat my Here Jesus
Christus my van die hel se benoudheid en pyn verlos het (a). Hierdie verlossing
het Hy bewerk deur sy onuitspreeklike angs, smarte en verskrikking (b) wat Hy
ook aan sy siel deur sy hele lewe, maar veral aan die kruis gely het.
Ons moet daarop let dat daar geen
melding in die Kategismus gemaak word van enige soenlyde van Christus na Sy
sterwensoomblik nie. Selfs Sy begrafnis (Heidelbergse
Kategismus, Sondag 17, v/a 41)
is bevestiging daarvan dat Hy gesterf het, en nog bevestigende deel van sy
vernedering, maar nie meer deel van sy soenlyde vir ons sondes nie
’n Vraag wat ons vir onsself moet vra is: "Wat is
die hel en wie is baas van die hel?" Volgens Matteus 25:41 sê Jesus dat Hy
met sy wederkoms die mense sal oordeel en vir die vervloektes sal sê: "Gaan na die ewige vuur wat vir die
duiwel en sy engele berei is". Dit beteken dat God die ongelowiges en
die duiwel en al sy engele in die hel sal straf – in die hel wat Hy vir hulle
berei – nie Christus nie, maar die vervloektes. In Openbaring 20:10 vertel
Johannes van sy gesig, nl. dat die duiwel wat die nasies verlei het, in die
poel van vuur en swawel gegooi is...hulle sal dag en nag gepynig word tot in
alle ewigheid. En in 20:15 word dit ook gesê van die mense wie se name nie in "Die
Boek van die Lewe" geskryf is nie.
Die hel is dus die aanduiding van God se straf op die
sonde. En dit is presies wat Jesus reeds aan die kruis gedoen het, toe Hy die
sonde van die ganse mensheid op Hom geneem het, en God se straf op ons sonde
beleef het as dat Hy van God verlate is – hier, juis hier op hierdie oomblik
het Hy die volmaakte offer vir ons gebring en daarom het Hy in gesê, "τελειόω" (teleioō) ~ Ek
het U op die aarde verheerlik deur die werk te volbring wat U My gegee het om
te doen (Joh.17:4) –Christus se
werk was afgehandel; Hy het nie nodig gehad om ook nog na die hel neer te daal
nie.
Hy kon juis die sonde van die ganse wêreld dra omdat
Hy ten volle mens geword het, om namens ons God se straf te dra, en Hy kon die
onmoontlik sware vrag slegs dra omdat Hy God self is. So lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy Seun gegee
het (Joh.3:16). Christus het op die bestemde tyd vir die goddeloses
gesterwe en God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons
gesterf het toe ons nog sondaars was (Rom. 5:6,8).
Die hel is om sonder God te wees. In Rom. 1:18 sê
Paulus dat God sy toorn openbaar oor die goddeloosheid en ongeregtigheid van
die mense wat die waarheid onderdruk. In vss. 24-32 word vertel wat dit behels,
nl. dat God die mens oorgee aan sy eie begeertes en drange om te doen net wat
hy wil. So vernietig die mens homself, maar as daar nie meer dood is nie, gaan
die selfvernietiging vir ewig voort.
5. SLOTSOM:
Die slotsom waartoe ek gekom het, is
dat daar geen Skrifgronde is om te glo dat Jesus fisies "neergedaal het na die hel" nie. Trouens daar is een of
meer teksverse wat vir ons op die teendeel wys, bv. Luk.23:42 waar die een
misdadiger wat saam met Jesus gekruisig is, die volgende gesê het ~ Jesus, dink aan my wanneer U in u koninkryk kom en waarop Jesus hom in v.43 geantwoord
het ~ Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees. Hierdie is vir ons ’n baie duidelike aanduiding van wat
met Jesus gebeur het tussen Sy sterwensuur op die Vrydagmiddag en Sy opstanding
op die daaropvolgende Sondagoggend. Ek glo nié dat die misdadiger wat sy geloof
en vertroue in Jesus Christus as Verlosser uitgespreek en derhalwe gered is,
eers na die hel sou gaan en daarna na die "paradys" (die
hemel/die ewige heerlikheid)
nie. Ook sou Jesus nie in Sy sterwensoomblik die "hel", "paradys"
genoem het nie. Jesus het dus, soos Hy tereg aan die misdadiger gesê het, op
daardie selfde dag – die Vrydag, saam met die misdadiger na die hemel gegaan –
Sý Paradys.
Christus het in Sy laaste oomblikke
hier op aarde, die geweldige verlatenheid van God die Vader ervaar, terwyl die
sonde van die mensdom op Hom "ingebrand" het.
Hoe moet ons dan hierdie woorde in 1
Pet.3:19 verstaan? Ek glo van harte dat hierdie woorde ten diepste beteken dat
die skokgolf van Christus se afgehandelde versoeningswerk aan die kruis en
Sy opstanding uit die dood, tot
in die hel weerklink het – ja, op daardie twee gewigtige oomblikke is die dood
verslind en verplaas met ’n hemelse- en ewige oorwinning – 1 Kor.15:54-55 ~ En wanneer hierdie verganklike liggaam met die
onverganklike beklee is, en hierdie sterflike liggaam met die onsterflike, dan
sal die woord wat geskrywe staan, vervul word: “Die dood is vernietig, die oorwinning is behaal. 55Dood,
waar is jou oorwinning? Dood, waar is jou angel? En dan een van my gnsteling teksverse
~ Ek (sal) my gemeente bou, en die
poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie (Matt.16:18b
– O.A.V.).
ooo OOO
ooo
Die "Apostoliese
Geloofsbelydenis", of Twaalf Artikels van die algemene ongetwyfelde,
Christelike geloof
(Die Christelike Kerk noem hierdie
Belydenisskrif die "Apostoliese Geloofsbelydenis", alhoewel die
apostels dit nie opgestel het nie. Reeds vanaf die 2de eeu het dit sy ontstaan
gehad en het verder ontwikkel totdat dit ongeveer die 4de eeu sy finale beslag
gekry het (NGB, art.9).
(1) Ek glo
in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde.
(2) En in
Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here;
(3) wat
ontvang is van die Heilige Gees, gebore uit die maagd Maria;
(4) wat gely
het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is en neergedaal
het na die hel
(of
alternatiewelik: ...wat die
lyding van die hel ondergaan het...);
(5) wat op
die derde dag weer opgestaan het uit die dood;
(6) opgevaar
het na die hemel en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader,
(7)
waarvandaan Hy sal kom om die lewendes en die dooies te oordeel.
(8) Ek glo
in die Heilige Gees.
(9) Ek glo
aan 'n heilige, algemene, Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges;
(10) die
vergewing van sondes;
(11) die
opstanding van die liggaam
(12)
en 'n ewige lewe.