1. INLEIDING:
In die vorige hoofstukke van die apostel
se brief aan die gelowiges van Hebreërs, het hy dit baie duidelik gemaak dat
indien ons vordering wil maak op ons pad van heiligmaking, moet ons verstaan
wat dit beteken wanneer hy praat van die Here Jesus Christus wat ons Hoë Priester
is. Die skrywer het tot nou toe, dit baie duidelik vir ons uiteengesit dat
Christus genadig is; dat Hy getrou is, en dat Hy toeganklik is, maar hy het ook
reeds ’n paar keer vir ons gesê dat Christus, ’n Hoë Priester volgens die Orde
van Melgisedek is. Wat presies beteken dit? Hoofstuk 7, waarna ons van
vanoggend af gaan kyk, verskaf aan ons die antwoord.
2. SKRIFLESING:
Hebr.7:1-10
~ Melgisedek was koning van Salem en
priester van God die Allerhoogste. Dit is Melgisedek wat vir Abraham tegemoet
gegaan en hom geseën het toe Abraham op pad terug was nadat hy die konings
verslaan het, 2en dit is ook aan hom dat Abraham ’n tiende van al
die oorlogsbuit gegee het. In die eerste plek, sy naam Melgisedek beteken:
koning van geregtigheid; en hy was ook koning van Salem, en dit beteken: koning
van vrede. 3Niks is bekend omtrent sy vader en moeder of sy
afstamming of die begin en einde van sy lewe nie. Hy is soos die Seun van God
en hy bly priester vir altyd. 4Let
nou op hoe groot hierdie man was aan wie Abraham, die stamvader, ’n tiende
van die beste oorlogsbuit gegee het. 5Die priesters wat van Levi
afstam, het volgens die bepaling van die wet die reg om ’n tiende in te vorder
van die volk, dit wil sê van hulle broers, wat net soos hulle ook afstammelinge
van Abraham is. 6Maar Melgisedek, wat nie van Levitiese afstamming
was nie, het van Abraham ’n tiende geneem en hom, aan wie God sy beloftes gegee
het, geseën. 7Dit is onbetwisbaar dat dit altyd die mindere is wat
deur die meerdere geseën word. 8In die geval van die Levitiese
priesters is dit sterflike mense wat tiendes invorder, maar in die geval van
Melgisedek iemand van wie getuig word dat hy lewe. 9’n Mens kan sê
dat ook Levi, wat tiendes invorder, deur Abraham aan Melgisedek die tiende
gegee het, 10want Levi was nog in die liggaam van die stamvader toe
Melgisedek vir Abraham tegemoet gegaan het.
3. NOOD AAN ’N HOË PRIESTER:
Ons het reeds by herhaling vir mekaar
gesê dat die lesers van die Hebreërbrief, hoofsaaklik Jode was. Hulle het
gelowiges geword, maar tog op ’n stadium in hul geestelike lewe, weer begin
wonder of hulle nie maar moet terugdraai na die Judaïsme, waaruit hulle gekom
het nie. Vir 1 500 jaar, vanaf Aäron, het hulle en hul voorgeslagte, priesters
gehad wat hulle verteenwoordig het en vir hulle ingetree het by God die Vader.
Die dag toe hulle Christene (gelowiges) geword het, is daar vir hulle gesê
dat hulle moet wegdraai van die Aäronitiese priesterdiens en Jesus Christus
moet aanvaar as hul Hoëpriester. Hulle moes dit doen al het hulle geweet dat
die Aäronitiese priesterdiens ’n instelling van God was en hulle moes dit doen,
met die wete dat Christus nié gekom het vanuit die priesterlike stam van Levi
nie, maar van die koninklike stam van Juda (v.14) – wanneer ons dit besef, begin ons
verstaan wat ’n geweldige groot prys hierdie Jode betaal het, maar
terselfdertyd watter geweldige groot genade God aan hulle geskenk het, toe
hulle gelowiges geword het!
Waarom
het ons ’n Hoë Priester nodig? As ek na
enige gemiddelde persoon in die straat sou gaan en vir hom sou sê: “Ek het goeie nuus! Jesus Christus is ’n Hoëpriester!”,
dan sou die meeste mense waarskynlik reageer: “Só… wat is so besonders daaraan!? Ek het in elk geval nie ‘n hoëpriester nodig nie – wie gee om!”
Ten einde
te verstaan waarom ons ’n Hoë Priester nodig het, moet elkeen van ons weer
opnuut en deeglik verstaan en besef dat ons sondaars is. As ons
eerlik na ons lewens kyk, dan weet ons wat die waarheid is: Ek is ’n leuenaar,
ek is ’n egbreker, ek is ’n moordenaar; ek onteer my ouers, ek ontheilig die Sabbat,
ek begeer die verkeerde. Ek breek die wet van die heilige en almagtige God. As
ek myself meet aan die Wet, besef ek dat ek skuldig staan teen ’n wet wat goed
is, en plaas ek myself op dié manier aan die kant van die kwade.
Ons weet
ook dat God goed is; dat Hy heilig is en dat Hy sonder sonde is en daarom haat
Hy die sonde. As jy en ek nie ’n Hoëpriester het om vir ons sonde, versoening
te doen nie, dan haat God ook vir jou en my! Ps.11:5 is baie duidelik daaroor
dat God die sonde haat ~ Die
Here onderskei tussen regverdige en goddelose. Wie geweld liefhet, haat Hy.
As God jou
dus haat – haat met ’n regverdige en heilige haat, dan sál Hy jou en my
dienooreenkomstig straf met die ewige straf aan liggaam en siel. Hel is dus ’n
realiteit vir ’n ieder en ’n elke mens – die hel; die ewige verdoemenis wat
elkeen van ons verdien.
As elkeen
van ons dus eerlik na onsself kyk in die lig van God se Woord, dan besef ons
hoe dringend ons ’n Hoë Priester nodig het om namens ons die offer te bring ter
versoening van ons sonde – net soos die wat die hoë priesters destyds onder die
Ou Verbond, jaarliks op die Groot Versoendag, versoening namens die volk se
sonde gedoen het, toe hulle offers gebring het in die Allerheiligste van die
Tabernakel/Tempel. Dít is die goeie nuus wat die Hebreërskrywer vir ons in
hoofstuk 7 wil bring – dít is die Goeie Nuus van ons prediking vanoggend.
4. MELGISEDEK:
Ons Skrifgedeelte van vanoggend (Hebr.7:1-10) is ’n aanhaling vanuit Gen.14 en saam
met Ps.110:4, is hierdie die enigste historiese verwysing in die ganse Ou
Testament na Melgisedek – Melgisedek is dus ’n redelik misterieuse figuur, maar
tog het Abraham toegelaat dat Melgisedek hom seën, waarop Abraham ’n tiende van
alles wat hy besit, aan Melgisedek gegee het! Hierdie gebeurtenis waar Abraham
by betrokke was, het rondom 2000 v.C. plaasgevind en vir bykans 2 000 jaar is
daar doodse stilte in die Ou Testament oor hierdie man, Melgisedek. Dit is eers
gedurende die tiende eeu v.C. dat koning Dawid in Ps.110 na Melgisedek verwys
en dan ook net in een versie, nl. v.4 ~ Die Here het ’n eed afgelê en Hy sal dit nie herroep nie: “Jy sal altyd
priester wees in die priesterorde van Melgisedek.”
Hier in Ps.110 het God belowe dat Hy iets
nuuts gaan doen en Sy motief was dat Hy Iemand sou stuur wat ’n priester sou
wees soos Melgisedek – en net soos Melgisedek sou Hy ook beide Koning en Priester
wees (Ps.110:1).
Wat meer is, Sy priestersamp sou vir ewig duur. Dit alles is deur God
gewaarborg, deurdat Hy in v.4a gesê het ~ Die Here het ’n eed afgelê en Hy sal dit nie herroep nie....
Wie was hierdie Melgisedek en wat was so
besonders aan hom? Benewens die twee verwysings in die Ou Testament, lig die
Hebreërskrywer vir ons die sluier so effens wanner hy ’n bietjie meer inligting
oor Melgisedek vir ons in Hebreërs 5-7 verskaf, maar die meeste inligting vind
ons in vv.1-3 van ons Skriflesing ~ Melgisedek
was koning van Salem en priester van God die Allerhoogste. Dit is Melgisedek
wat vir Abraham tegemoet gegaan en hom geseën het toe Abraham op pad terug was
nadat hy die konings verslaan het, 2en dit is ook aan hom dat
Abraham ’n tiende van al die oorlogsbuit gegee het. In die eerste plek, sy naam
Melgisedek beteken: koning van geregtigheid; en hy was ook koning van Salem, en
dit beteken: koning van vrede. 3Niks is bekend omtrent sy vader en
moeder of sy afstamming of die begin en einde van sy lewe nie. Hy is soos die
Seun van God en hy bly priester vir altyd. Hieruit blyk dit duidelik dat die skrywer, Melgisedek
as ’n "tipe van Christus" beskryf.
Wanneer ons in die teologie praat van ’n "tipe van..." verwys dit na ’n Ou Testamentiese persoon, -gebruik
of -seremonie wat ’n ewebeeld, of ’n antitipe, in die Nuwe Testament het. Wat
egter belangrik is om te onthou, is dat so ’n historiese, of Ou Testamentiese
persoon onvolmaak en tydelik van aard is, terwyl die Nuwe Testamentiese antitipe,
altyd volmaak en ewig van aard is (die studieveld
word in die teologie, "Tipologie"
genoem).
’n Voorbeeld van so ’n "tipe"
in die Ou Testament is bv. die "Goue Slang" wat Moses in opdrag van
God omhoog moes hou (Num.21:8). Hierdie "slang" was ’n
tipe van die Lam van God, Jesus Christus, wie gekruisig sou word en sodoende die
volmaakte offer sou bring vir die sonde van die wêreld (Joh.1:29;
Openb.5:6, 8).
Kom ons som net weer kortliks,
bepaalde aspekte van die Ou Testamentiese priesters op:
·
Ons
het al vantevore gesien dat alle priesters uit die geslag van Levi moes kom –
die priesterskap was dus oorerflik – niemand buite die geslag van Levi kon
derhalwe priesters word nie.
·
Hierdie
priesters moes ook gewone landsburgers wees, omdat hulle afgesonder was om die
priesterlike amp (Num.8:14-16), wat ’n voltydse amp was, te volbring. Priesters was dus
ondergeskik aan die koning en het nooit deel uitgemaak van die regering nie.
·
Priesters
se offers wat hulle gebring het, moes voortdurend herhaal word en was dus nooit
permanent en nooit volledig nie. Priesters kon nooit volkome of permanente
vergifnis, of geregtigheid, of vrede bewerkstellig nie. Net soos wat die offers
wat die priesters gebring het, tydelik van aard was, was hulle dienstydperk ook
net tydelik van aard, omdat priesters slegs diens as priesters gelewer het van
ouderdom 25 tot en met 50 (Num.8:24-25).
Kom ons keer terug na Melgisedek. Melgisedek
sien ons in vv.1-3 van ons Skriflesing, was in elke opsig, ver verhewe bo dié
van die Levitiese priesters:
·
In
v.3 lees ons dat ... niks
bekend (is) omtrent sy vader en moeder of sy afstamming of die begin en einde
van sy lewe nie. Hierdie opmerking van die Hebreërskrywer is
bloot net om aan te dui dat Melgisedek se priesterskap nie spruit uit die feit
dat hy deel is van die nageslag van Levi nie, maar dat sy priesterskap, persoonlik
van aard is en nie oorerflik nie. Op grond hiervan is Melgisedek ’n tipe van
Christus – nie omdat Jesus geen familie of genealogie (of
stamboom) het nie, maar net
soos wat Melgisedek geen priesterlike genealogie het nie, net so het Jesus ook
geen priesterlike genealogie nie, omdat Hy dit nie nodig gehad het nie, trouens
dit is hoegenaamd nie belangrik wanneer dit kom by Sy Priesterskap nie.
·
Melgisedek
was ’n priester, maar hy was ook ’n koning – koning van Salem (’n
ou antieke naam vir Jerusalem).
Melgisedek, sien ons in v.2 se naam beteken letterlik ...koning van geregtigheid en sy titel koning van Salem beteken "Vredeskoning", of "koning van
vrede".
Dit
is opmerklik dat beide hierdie eienskappe van geregtigheid en vrede, eienskappe
is waaroor daar reeds in Jes.9:6 oor Jesus geprofeteer was – Hy wat nie deel
van die nageslag van Aäron of die Leviete was nie, maar deel van Juda se
nageslag – die koninklike geslag, Hy is die Prins van Vrede wat in geregtigheid
sou regeer ~ Sy
heerskappy sal uitbrei, en Hy sal vir altyd vrede en voorspoed bring. Hy sal op
die troon van Dawid sit en oor sy koninkryk regeer. Hy sal dié koninkryk vestig
en in stand hou deur reg en geregtigheid, van nou af en vir altyd. Daarvoor sal
die onverdeelde trou van die Here die Almagtige sorg! Die Nuwe Testament identifiseer
Jesus spesifiek as die Regverdige (1Joh.2:1) en in 1Kor.1:30 as ons geregtigheid.
·
Ons
het gesien dat die Ou Testamentiese priesterskap tydelik van aard was en dat
dit beëindig is in 70 n.C. met die verwoesting van Jerusalem en die Tempel in
Jerusalem. Melgisedek se priesterskap het egter geen tydsgrense geken nie, trouens
v.3 sê vir ons dat sy priesterskap vir
altyd is. Dit is nie omdat
hy vir ewig leef, of beskik oor ’n ewige lewe nie, maar dit beteken dat die amp
van sy priesterskap, vir ewig duur en daarom is Melgisedek as persoon en sy
priesterskap as amp, ’n voorafskaduwing van Christus se ewige Priesterskap. En
omdat Christus se priesterskap ewig van aard is, is Sy amp swaar gelaai met ’n
wonderlike belofte wat nié van enige aardse priester gesê kan word nie ~ Omdat Jesus vir ewig bly, beklee Hý ’n priesterskap
wat nie op ’n ander oorgedra word nie. 25Daarom kan Hy ook dié wat
deur Hom na God gaan, eens en vir altyd
verlos: Hy lewe vir altyd om vir
hulle by God in te tree
(Hebr.7:24-25).
Melgisedek
word deur die Hebreërskrywer ook aan ons voorgehou as ’n verhewe of superieure
persoon. Ons sien dit in vv.4-10 van ons Skriflesing en kan dit opsom met twee gebeurtenisse,
nl. die gee van ’n "tiende" en die seën wat Abraham ontvang het. In
die antieke wêreld is "tiendes" gegee uit erkenning van iemand anders
se verhewe status, of anders gestel ’n tiende was gegee wanneer iemand sy
ondergeskiktheid aan iemand anders betoon het.
Ek het netnou gesê dat ons Skriflesing uit Hebr.7, ’n
aanhaling van Gen.14 is en in Gen.14 lees ons van Abraham wat terug gekeer het
na ’n suksesvolle veldslag waarin hy sy grondgebied suksesvol verdedig het teen
drie vyandige konings. Hy was waarskynlik ná hierdie suksesvolle veldslag, baie
selfvoldaan, of mense het hom heel waarskynlik as ’n held beskou, want hy het
homself bewys as ’n held en ’n man van durf en ’n leier met besondere bekwaamhede.
Wat meer is, vir geslagte na Abraham, tot vandag toe, word Abraham deur die
Jode voorgehou as die grootste man "van alle tye". Hy word bv. in 2
Kron.20:7 en in Jak.2:23, ’n vriend
van God genoem! Hy word
beskou as die vader van die Israelse nasie – hy is dié Patriarg van alle
Patriarge.
In skrille kontras met al hierdie lofliedere rondom Abraham,
kom hy een dag in aanraking met Melgisedek en erken hy openlik en onbeskroomd (fearless), dat Melgisedek sy meerdere is – sy
superieure en ten einde dit te illustreer, gee Abraham ’n tiende van die buit
wat hy op sy onlangse veldtog gemaak het, aan die koning en profeet,
Melgisedek! Vers 4 noem hierdie gedeelte wat Abraham gegee het, ...die beste oorlogsbuit.
Abraham het deur hierdie gebaar, openlik erken dat hy in die teenwoordigheid is
van iemand wat veel-veel groter as hyself is.
Ons moet ook verstaan dat Abraham onder geen verpligting
verkeer het om hierdie milde bydrae aan Melgisedek te maak nie, want Melgisedek
het nie saam met Abraham teen die buitelandse konings geveg nie en nêrens het
ons ook enige getuienis dat Melgisedek enige priesterlike diens teenoor, of vir
Abraham gelewer het nie. Wat is so besonders daaraan dat Abraham, Melgisedek as
sy meerdere erken, want die ander Levitiese priesters het dekades later, ook
tiendes van die volk ontvang? Dit is asof die skrywer van die Hebreërbrief,
hierdie vraag by sy lesers antisipeer en daarom verduidelik hy dit in vv.5-6a en
sê dat Melgisedek nié van Aäronitiese afkoms is nie, maar nogtans neem hy ’n
tiende van Abraham en dit opsigself toon aan dat Melgisedek ’n lewende
Priesterskap verteenwoordig.
Melgisedek se reaksie op Abraham se bydrae, was dat hy hom
seën (v.6).
Met hierdie optrede bevestig Melgisedek sy superioriteit oor Abraham, want dit
is altyd die meerdere wat die mindere seën en nie andersom nie. Dit in
opsigself, staan in skrille kontras met wat ons in Gen.12:3 van Abraham lees ~ ...In jou sal al die volke van die aarde
geseën wees. Hy wat
alle mense rondom hom sou seën, word geseën! Ons kan derhalwe op alle logiese
en Bybelse gronde sê dat Melgisedek se priesterskap in alle opsigte, verhewe
was bo dié van die Levitiese priesters.
Ons moet egter ook onmiddellik vir mekaar sê, dat sy
priesterskap nie só verhewe was dat geregtigheid vir die mensdom in hom geleë
was nie. Nee, hy was steeds net mens en daarom was hy net ’n voorafskaduwing
van die uiteindelike en volmaakte en ewige Priester, Jesus Christus, wat sou
kom om volkome geregtigheid vir diegene wie in Hom glo, te bewerkstellig –
Jesus die antitipe van Melgisedek, wat aangestel is deur die Vader volgens die
ewige orde van Melgisedek, Hy en Hy alleen is die Een wat versoening tussen God
en mens kan bewerkstellig.
6. DIE LEVIETE IN ABRAHAM:
Ons perikoop sluit af met twee verse wat op die oog af baie
moeilik verklaarbaar is – kom ons kyk net vlugtig daarna, voor ons vandag se
boodskap saamvat.
Vv.9-10 lees soos volg ~ ’n Mens kan sê dat ook Levi, wat tiendes invorder, deur Abraham aan
Melgisedek die tiende gegee het, 10want Levi was nog in die liggaam
van die stamvader toe Melgisedek vir Abraham tegemoet gegaan het. Hierdie twee verse sluit ten nouste
aan by die voorafgaande gedeelte waarna ons so pas gekyk het en waar Abraham ’n
tiende van sy buit aan Melgisedek gegee het, want dit dui op die feit dat ook
die Levitiese priesters onderworpe was aan Iemand anders – dat geregtigheid ook
nie in hulle gelê het nie; dat hulle ook die knie moes buig voor iemand groter
en hoër as hulle en dit is presies wat hier gebeur.
Omdat
Levi en sy nageslag van priesters, afstammelinge van Abraham is en Abraham ’n
tiende gee aan Melgisedek, is dit ’n simbool van onderwerping van die Levitiese
priesters wat ná Abraham sou kom – aan iemand hoër en groter as hulle. Kom ek
verduidelik verder: Wanneer Paulus in 1 Kor.15:22a sê ~ Net soos almal deur hulle verbondenheid met Adam sterf..., beteken dit dat al Adam se nageslag (ek
en jy inkluis) gesterf
het a.g.v. Adam se sonde – hulle het in hom gesterf. Dieselfde
beginsel geld toe die Here vir Rebekka in Gen.25:23 gesê het dat daar twee
nasies (twee geslagte wat nog gaan kom) in haar is.
Op
dieselfde wyse is al die Aäronitiese, of Levitiese priesters ’n geslag wat na
Abraham nog sou kom en as Abraham ’n tiende gee, is dit ’n geval van dat ook sy
nageslag ingesluit is by hierdie gebaar – ook hulle is, net soos Abraham
ondergeskik; die mindere van Melgisedek. Dit alles dui dus daarop dat alle
mense, van Abraham, deur die priesters, tot en met ons onderworpe is aan Hom
wat aangestel is volgens die orde van Melgisedek, nl. Jesus die Christus.
5. CHRISTUS
SE PRIESTERSKAP:
Melgisedek is dus vir ons ’n
voorafskaduwing van die uiteindelike en ewige en volmaakte Koning en Priester,
Jesus Christus wat sou kom. In teenstelling met Melgisedek is sy antitipe (Jesus
Christus), die ...
Die Koning van die konings en die
Here van die heersers
(Openb.19:16b).
Johannes
sê in 1 Joh.2:1 dat Christus die enigste Een is wat volmaakte geregtigheid is
en omdat Hy God is, is daar geen sonde in Hom nie en daarom kan nét Hy
geregtigheid aan die mens skenk en daarom is Hy ook die enigste Bron van
geregtigheid.
Wat
is geregtigheid? In kort kan ons sê dat dit ’n toestand van volmaakte
moraliteit is wat God van die mens vereis ten einde die ewige lewe te beërwe (Righteousness is the state of moral
perfection required by God to enter heaven) – of anders en nog eenvoudiger gestel: Geregtigheid is om
sonder sonde voor ’n heilige God te kan staan.
Hoe
ontvang die mens (ons) hierdie
geregtigheid? Rom.3:21-22 ~ Maar
nou het die vryspraak deur God waarvan die wet en die profete getuig, in
werking getree. Dit is die vryspraak wat nie verkry word deur die wet te
onderhou nie, 22maar deur in Jesus Christus te glo. God gee dit
sonder onderskeid aan almal wat glo.
Maar, hoe presies is Christus nou ons
Hoëpriester? Hoe presies het Hy sy taak as Hoëpriester verrig? Wel, in
teenstelling met die aardse priesters het Jesus nie ’n dier geoffer nie. Nee,
Hy het Homself geoffer. Kyk maar net weer saam met my na vers Hebr.7:27 ~ Jesus
is ...een wat nie, soos die hoëpriesters, elke dag offers hoef te bring, eers vir
sy eie sondes en dan vir dié van die volk nie. Hy het immers eens en vir altyd
’n offer vir die sondes gebring toe Hy Homself geoffer het.