1. SKRIFLESING:
Die
vorige hoofstuk van Daniël het afgesluit met Daniël wat baie geskenke ontvang
het en as hoof van al die
koninklike raadgewers aangestel is en op sy versoek ...het die koning vir
Sadrag, Mesag en Abednego in beheer geplaas van die administrasie van die
provinsie Babel. Maar Daniël self het in die paleis gebly.
Daniël
3:1-30 ~ Koning Nebukadnesar het
’n goue beeld laat maak, dertig meter hoog en drie meter breed, en dit laat
oprig in die Duradal in die provinsie Babel. 2Toe het hy opdrag
gegee dat al sy amptenare, die goewerneurs-generaal, die goewerneurs, die
administrateurs, die raadgewers, die tesourieamptenare, die regters, die
landdroste, al die hoofamptenare van die provinsie, bymekaar moes kom vir die
wyding van die beeld wat die koning laat oprig het. 3So het al die
hoë amptenare, die goewerneurs-generaal, die goewerneurs, die administrateurs,
die raadgewers, die tesourieamptenare, die regters, die landdroste, al die
hoofamptenare van die provinsie, bymekaargekom vir die wyding van die beeld wat
koning Nebukadnesar laat oprig het en hulle het voor die beeld gaan staan. 4’n
Aankondiger het hard geroep: “Alle volke, nasies en taalgroepe, julle word
beveel: 5Wanneer julle die geluid hoor van trompet, fluit, siter, lier,
harp, ’n ander blaas- of musiekinstrument, moet julle buig voor die goue beeld
wat koning Nebukadnesar laat oprig het, en dit aanbid. 6Wie nie
buig en die beeld aanbid nie, sal onmiddellik in ’n brandende oond gegooi
word.” 7Daarom het al die volke, nasies en taalgroepe, sodra hulle
die geluid van trompet, fluit, siter, lier, harp of enige ander
musiekinstrument hoor, voor die goue beeld wat koning Nebukadnesar laat oprig
het, gebuig en dit aanbid. 8Dit was toe dat sekere Galdeërs die
Jode gaan verkla het. 9Hulle het vir koning Nebukadnesar gesê: “Mag
die koning baie lank lewe! 10U het ’n bevel uitgevaardig dat
enigiemand wat die geluid hoor van trompet, fluit, siter, lier, harp, ’n ander
blaas- of musiekinstrument, voor die goue beeld moet buig en dit moet aanbid. 11Wie
nie buig en die beeld aanbid nie, moet in ’n brandende oond gegooi word. 12Maar,
U Majesteit, nou is daar Jode, Sadrag, Mesag en Abednego, vir wie u in beheer
van die administrasie van die provinsie Babel geplaas het, wat hulle nie steur
aan u bevel nie. Hulle dien nie u god nie, hulle aanbid nie die goue beeld wat
u laat oprig het nie.” 13Toe het Nebukadnesar woedend geword en vir
Sadrag, Mesag en Abednego laat kom. Dié manne is voor die koning gebring, 14en
Nebukadnesar het vir hulle gesê: “Is dit waar, Sadrag, Mesag en Abednego, dat
julle my god nie dien nie, die goue beeld wat ek laat oprig het, nie aanbid
nie? 15Nou kyk, dit sal in orde wees as julle bereid is om te buig
en die beeld te aanbid sodra julle die geluid hoor van trompet, fluit, siter,
lier, harp, ’n ander blaas- of musiekinstrument. Maar as julle hom nie aanbid
nie, sal julle dadelik in ’n brandende oond gegooi word, en watter god sal
julle uit my mag kan red?” 16Sadrag, Mesag en Abednego het koning
Nebukadnesar geantwoord: “Ons hoef u nie hierop te antwoord nie. 17Ons
het ons God vir wie ons dien. Hy het die mag om ons te red uit die brandende
oond, en Hy sal ons ook red uit u mag. 18Selfs as Hy dit nie doen
nie, moet u weet dat ons u god nie sal dien nie, die goue beeld wat u laat
oprig het, nie sal aanbid nie.” 19Toe het Nebukadnesar wit geword
van woede vir Sadrag, Mesag en Abednego en opdrag gegee dat die oond sewe maal
warmer gemaak moet word as gewoonlik. 20Daarna het hy van die
sterkste manne in sy lyfwag beveel om vir Sadrag, Mesag en Abednego vas te bind
en hulle in die brandende oond te gooi. 21Hulle is toe vasgebind en
sommer met hulle hemde, broeke en kopdoeke, met al hulle klere, in die
brandende oond gegooi. 22Omdat die koning se opdrag so streng was,
was die oond so verskriklik warm dat die manne wat vir Sadrag, Mesag en
Abednego moes ingooi, deur die vlamme doodgebrand is. 23Maar die
drie manne, Sadrag, Mesag en Abednego, het vasgebind binne-in die brandende
oond geval. 24Toe het koning Nebukadnesar verskrik opgespring en
vir sy raadgewers gevra: “Het ons dan nie drie manne vasgebind in die oond
gegooi nie?” En hulle sê vir hom: “Dit is so, U Majesteit!” 25Hy
sê toe: “Maar ek sien dan vier manne wat vry en ongedeerd rondbeweeg in die
vuur, en die vierde lyk soos ’n hemelwese!” 26Toe het Nebukadnesar
na die bek van die brandende oond toe gekom en geroep: “Sadrag, Mesag en
Abednego, dienaars van die allerhoogste God, kom uit hierheen!” En Sadrag,
Mesag en Abednego het uit die oond uitgekom. 27Toe die
goewerneurs-generaal, die goewerneurs, die administrateurs en die raadgewers
van die koning nader kom, sien hulle aan die manne dat die vuur niks aan hulle
liggame kon doen nie, dat hulle hare op hulle koppe nie eens geskroei was nie
en dat hulle klere niks makeer nie; jy kon nie eens ruik dat hulle in die vuur
was nie. 28Toe sê Nebukadnesar: “Aan die God van Sadrag, Mesag en
Abednego kom die eer toe, Hy wat sy engel gestuur het en sy dienaars gered het.
Hulle het op hulle God vertrou en het die koninklike bevel verontagsaam en
hulle was bereid om hulle lewe te verloor eerder as om enige god behalwe húlle
God te dien of te aanbid. 29Daarom vaardig ek ’n bevel uit dat
enige persoon, van watter volk, nasie of taalgroep hy ook is, wat met minagting
praat oor die God van Sadrag, Mesag en Abednego, in stukke gekap moet word en
dat sy huis ’n puinhoop gemaak moet word. Daar is immers geen ander god wat in
staat is om so te red nie.” 30Die koning het toe gesorg dat dit
voorspoedig gaan met Sadrag, Mesag en Abednego in die provinsie Babel.
2. DIE
GOUE BEELD:
Waarskynlik
steeds onder die indruk van die droom wat koning Nebukadneser gedroom het, sien
ons in v.1 dat hy ’n reuse beeld in die Duradal laat oprig. Die naam van die
beeld word nie in Daniël bekend gemaak nie, maar was wel ’n verteenwoordiging
van Nebukadneser, of van sy god of gode. Wat egter duidelik was, is dat hierdie
beeld deur die grote Nebukadneser opgerig was – ons sien dit kort-kort in
hierdie hoofstuk, nl. dat die mense se aandag daarop gevestig word, dat dit hy
is wat die beeld laat oprig het (vv.1-3, 5, 7, 12,
15, 18). Al was die beeld
dan verteenwoordigend van een van Babilon se gode, was daar geen twyfel wie
agter die oprigting daarvan gesit het nie – Nebukadneser!
Die
verskil tussen hierdie beeld en die beeld van sy drome, was dat hierdie beeld
in totaliteit van goud gemaak was en sy motivering hiervoor was waarskynlik om
as teenvoeter te dien vir die beeld waarvan hy gedroom het – ’n standpunt
waarin hy wou verklaar dat daar in teenstelling met die beeld van sy droom en
die uitleg daarvan, geen einde aan sý koninkryk sal kom nie en dat sý
heerlikheid; sý grootsheid ook vir altyd sal voortduur.
Die
Duradal waar die beeld opgerig was, is dieselfde dal waar die Toring van Babel
gebou was (Gen.11:2). Die motivering vir die bou van die Toring van Babel,
was tweeledig van aard en dit is veelseggend dat die oprigting van Nebukadneser
se beeld, op presies dieselfde motivering gegrond was, nl.:
·
Om ’n blywende naam en indruk te maak vir die
oprigters daarvan, sodat daar altyd aan hulle gedink kan word – is dit nie maar
presies dieselfde as wat die wêreld tans poog om met Mandela te doen nie – om
dit in Engels uit te druk, "to
create a lasting legacy to his glory"!
Nebukadneser
wou ook sy naam verewig in die anale van die wêreldgeskiedenis – daarom dat hy
opdrag gee aan al die ...amptenare, die
goewerneurs-generaal, die goewerneurs, die administrateurs, die raadgewers, die
tesourieamptenare, die regters, die landdroste (en)
al die hoofamptenare om die wyding van die beeld by te woon (v.3). Hierdie
uitgelese groep mense was verteenwoordigend van die volke van die wêreld.
·
Om te verhoed dat die mense/nasies deur die wêreld
heen sal versprei – lynreg teen God se opdrag in Gen.9:7 (OAV) ~ Maar
julle, wees vrugbaar en vermeerder; wemel op die aarde en vermeerder daarop.
In Gen.11:4b word hierdie motivering vir die bou van die Toring ook geïmpliseer
~ Dan
sal ons nie oor die hele aarde versprei nie. Nebukadneser wou almal verenig
onder die Babiloniese koninkryk en hy doen dit deur opdrag te gee dat almal in
die land die beeld moet aanbid – ’n opdrag wat hy, indien nodig, met die dood
sou afdwing (v.6).
Ons sien dan ook in die geskiedenis, dat hierdie Babiloniese Ryk inderdaad
bestaan het, maar tragies, net soos in die geval van Babel, het Nebukadneser se
Babiloniese Ryk ook nie lank bestaan nie – slegs vir 86 jaar – die kortste van
al die groot Ryke!
In
v.4 gee Nebukadneser opdrag aan ...alle
volke, nasies en taalgroepe,
om die beeld te aanbid wanneer hulle ...die geluid hoor van trompet, fluit, siter, lier, harp, (en) ander
blaas- of musiekinstrument(e).
Uit
hierdie gebeure blyk twee dinge baie duidelik:
·
Nebukadneser
het oor geweldige mag beskik: Onthou dat God hierdie mag aan hom gegee het (2:37), maar hy het
dit misbruik; hy het dit gebruik om die aandag op hom te vestig in plaas
daarvan dat hy sy mag gebruik het om eer aan God te bring – Nebukadneser
verplaas die lewende God van hemel en aarde, met ’n magtelose, dooie en
verganklike afgod! Hy tree in die woorde van 4:27 sondig en in ongeregtigheid
op, in plaas daarvan dat hy vanuit sy rykdom, barmhartigheid bewys aan dié wat
in nood is, maar hy gebruik sy skatte om eer aan ’n beeld te bring en ten
diepste word Nebukadneser die objek van aanbidding, i.p.v. God – sy sonde is
niks anders as Godslastering nie – Paulus waarsku ook in Rom.1:25 hierteen,
wanneer hy sê ~ Dit is hulle wat die waarheid van God verruil vir
die leuen. Hulle dien en vereer die skepsel in plaas van die Skepper, aan wie
die lof toekom vir ewig.
Ons
moet onsself afvra, of ons altyd regtig so ver verhewe is bo hierdie sonde van
Nebukadneser? Is daar nie maar ook iewers iets, of selfs iemand in ons lewe wat
’n objek van aanbidding vir ons is, in plaas van God nie? Trouens Godslastering
is ten diepste die "moedersonde" van alle sonde – dit is die mees
natuurlike begeerte in die mens se hart en manifesteer meestal baie subtiel in
ons lewe en dit vind meestal in die "geheim" plaas – daar waar mense
nie sien nie en waar ons gerieflikheidshalwe vergeet dat God dit wel kan sien.
Die vraag is of ons God beroof van Sy eer en heerlikheid deur ons aanbidding
van die self en ander dinge of mense?
Daar
is egter ’n tweede rooilig wat vir ons deur hierdie gebeurtenis in die Duradal
flikker – dit is dat ons ook soos die Babiloniërs mag dink, nl. dat aanbidding
’n estetiese effek moet hê, m.a.w. dat daar ’n behoorlik afgerigte orkes en
koor moet wees, dat daar (soos
in sommige kerke) selfs flikkerligte (of is dit nou diskoteekligte?) moet wees en
allerlei ander bykomstighede en by-effekte! Die
"Duradal-aanbiddingsgeleentheid" was gekenmerk deur die estetiese –
trompette, fluite, liere, harpe, ens. (v.4).
Hoe
wil God hê dat ons Hom moet loof en aanbid? Joh.4:23 (OAV) ~ God is Gees; en die
wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid. Die fokus moet op
Hom gevestig wees en nie op die "band" (orkes) en alles wat daarmee gepaard gaan
nie.
·
Nebukadneser
was godsdienstig, maar sonder ware bekering en aanbidding van die lewende God:
Nadat Daniël die droom aan Nebukadneser uitgelê het, het hy wat Nebukadneser
is, diep voor Daniël gebuig (2:46) en verklaar dat God die grootste van alle gode is (2:47). Hy het dus geweet
dat hy in die teenwoordigheid van "die God van alle gode"
is – hy het egter net vir ’n wyle – op daardie oomblik, afgewyk van sy
selfverheerliking, want hier in hoofstuk 3 is hy maar net weer waar hy was – Hy
die grote koning. In plaas daarvan dat hy ’n nuwe hart ontvang, kies hy om
steeds die hart van vlees te behou (Eseg.36:26). Op die oog af het hy verander, maar in sy hart was
daar geen verandering nie. Dit laat ’n mens dink aan die woorde van die Here
Jesus in Mark.4:19 ~ ...maar die sorge
van die lewe en die verleiding van rykdom en die begeertes na allerhande ander
dinge kom op en verstik die woord, en dit bly sonder vrug. Van die woorde
van Paulus in Gal.5:22-25, was daar ook geen sprake nie ~ Die vrug van die
Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid,
goedhartigheid, getrouheid, 23nederigheid en selfbeheersing. Teen
sulke dinge het die wet niks nie. 24Dié wat aan Christus Jesus
behoort, het hulle sondige natuur met al sy hartstogte en begeertes gekruisig. 25Ons
lewe deur die Gees; laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal.
3. DIE
VUURPROEF:
Ons
lees in vv.8-12 dat sekere Galdeërs vir
die koning gaan vertel het dat Daniël se vriende, Nebukadneser se opdrag ignoreer
om die beeld te dien en te aanbid en hulle herinner hom daaraan dat diesulkes
in ’n vuuroond gegooi moes word. By die aanhoor van hierdie nuus het Nebukadneser
woedend geword en nadat hy die driemanskap gekonfronteer het en hulle nog ’n
kans gegee het om die beeld te aanbid, antwoord hulle hom deur vir hom te sê
dat hulle, hul God aanbid – wat meer is, hulle daag hom uit, deur vir hom te sê
dat húlle God hulle uit die brandende oond sal red, asook uit die mag van
Nebukadneser.
Nadat
die jongmanne dit vir hom gesê het, het die koning woedend geword en opdrag
gegee dat die oond nog warmer gemaak moes word en dat Sadrag, Mesag en Abednego
daarin gegooi moes word.
Geen
gebeurtenis in die Bybel illustreer die opdrag van die latere apostels mooier
as juis hierdie gebeurtenis nie – die apostels het in Hand.5:29 gesê ~ ’n
Mens moet eerder aan God gehoorsaam wees as aan mense! – Hierdie
manne was meer gehoorsaam aan God. Toe hulle gekonfronteer word met die keuse
om te buig of te brand, het hulle nie ’n oomblik geweifel nie, maar vir die
koning gesê, "...ons is eerder aan
God gehoorsaam as aan jou."
Wat
opmerklik hier is, is dat Daniël se naam nie in hierdie gedeelte van die
verhaal vermeld word nie en ons weet nie regtig waarom nie – die enigste
moontlike verklaring hiervoor is dat Daniël dalk op daardie stadium in ’n ander
deel van die koninkryk besig was met een of ander opdrag en dat hy nie naby die
beeld gesien was en derhalwe verkla kon word nie. Daar bestaan egter geen
twyfel daaroor dat Daniël saam met sy vriende sou weier om die knie voor die
beeld te buig.
Iets
wat vir ons uit hierdie gedeelte konfronteer is die woorde van Rom.13:1 ~ Elke mens moet hom onderwerp aan die owerhede wat oor hom gestel is.
Daar is immers geen gesag wat nie van God kom nie, en die owerhede wat daar is,
is daar deur die beskikking van God en dan ook die "minder
bekende" woorde van Titus 3:1 ~ Herinner die mense nadruklik daaraan dat
hulle hulle aan owerheid en gesag moet onderwerp, daaraan gehoorsaam moet wees
en bereid moet wees om alles te doen wat goed is. Het Daniël se
vriende in hierdie verhaal, kontra hierdie opdragte opgetree? Wat staan ons te
doen in ’n soortgelyke situasie?
Is
daar nie ’n teenstrydigheid hier tussen Rom.13:1 en Titus 3:1 aan die eenkant
en Hand.5:29 aan die anderkant nie? Dit is so dat ons die staat moet
gehoorsaam, omdat dit die gesag is wat vir die oomblik deur God daargestel is
om oor ons te heers, máár die feit dat hulle deur God daargestel is, impliseer
nié dat hulle absoluut outonoom, m.a.w. los van God, kan doen wat hulle wil nie
– hulle beskik nie oor onbeperkte magte en regte nie, want hulle is verantwoording
verskuldig teenoor Hom wat hulle daargestel het en hulle moet in afhanklikheid
aan Hom regeer – of hulle Hom erken of nie. Dit het tot gevolg dat gelowiges
die staat aan hulle verantwoordelikheid voor God moet herinner en daarom moet ons
as gelowiges dit in woord en daad doen en as die staat nie binne God se ordes
optree nie, kan en moet ons gehoor gee aan Hand.13:1, nl. dat ons ...eerder
aan God gehoorsaam (moet) wees as aan mense.
Wat
het dit vir Sadrag, Mesag en Abednego moontlik gemaak om vas te staan, sodat
hulle vir die koning kon sê ~ Ons hoef u nie hierop te antwoord
nie. 17Ons het ons God vir wie ons dien. Hy het die mag om ons te
red uit die brandende oond, en Hy sal ons ook red uit u mag. 18Selfs
as Hy dit nie doen nie, moet u weet dat ons u god nie sal dien nie, die goue
beeld wat u laat oprig het, nie sal aanbid nie? Wat het dit vir
hulle moontlik gemaak om vas te staan?
·
Hulle het geweet
dat hulle God soewerein is: Uit hierdie mans se reaksie op die koning se
dreigement, het dit glashelder geblyk dat hulle onverskrokke in God se
soewereiniteit geglo het ~ Ons God vir wie ons dien. Hy het
die mag om ons te red uit die brandende oond, en Hy sal ons ook red uit u mag
(v.16). Hulle
het onwrikbaar geglo dat God soewerein is en daarom het hulle, hul totale
lewens aan Hom toevertrou – wat ook al mag gebeur. Is ek en jy op dieselfde
plek my broer en suster? Is ons op ’n plek waar ons so onwrikbaar vashou aan
God se soewereine beheer oor ons lewe, dat ons bereid sal wees om enige
beproewing wat God oor ons pad bring te aanvaar as Sy wil vir ons lewe? Wat het
dit vir hulle moontlik gemaak om vas te staan?
·
Hulle het
die Woord geken: Omdat hulle die Woord geken het, het hulle geweet dat God
afgodediens verbied en daarom het hulle geweier om toe te gee aan die koning se
eise. Dit is die rede waarom ons ook die Woord moet ken, want alles is nie
swart-wit aangeleenthede waar ons dadelik kan weet of ons mag of nie en of ons
moet of nie – daarvoor het ons kennis van die Woord nodig, sodat ons kan
beoordeel of ons, ons moet onderwerp aan die owerhede, of aan God – die enigste
betroubare bron om ons in sulke situasies te help, is die Woord van God – ons
het Woensdag gekyk na die hele saak van surrogaatmoederskap – as ons nie kennis
van die Woord het nie kan ons nie ’n ingeligte besluit en standpunt inneem
daarvoor of daarteen nie. Wat het dit vir hulle moontlik gemaak om vas te
staan?
·
Hulle was
bereid om te sterf vir hul geloof en oortuigings: Hierdie is ’n baie
belangrike punt, want ons kan glo dat God soewerein is en ons kan oor al die
kennis van die Skrif beskik, maar as ons nie bereid is om kompromieloos "ons
staan te staan" nie, kan ons nie saam met Paulus sê ~ As ons lewe, leef
ons tot eer van die Here; en as ons sterwe, sterf ons tot eer van die Here.
Of ons dan lewe en of ons sterwe, ons behoort aan die Here (Rom.14:8).
Nadat
die drie jongmanne vasgestaan het en geweier om die knie voor Nebukadneser en
sy beeld te buig, gee hy opdrag dat hulle in die vuur gegooi moet word. Dit is
so ironies dat die lyfwagte wat die koning se opdragte uitvoer, sterf as hulle
Daniël se vriende in die vuur gooi, maar hulle wat nié die koning se opdrag
uitgevoer het nie, kom niks oor nie (vv.22) – wat ’n pragtige illustrasie van wat
Jesus in Matt.16:25 vir ons leer ~ ...want
wie sy lewe wil behou, sal dit verloor; maar wie sy lewe ter wille van My
verloor, sal dit terugkry.
Behalwe
vir die feit dat die drie manne ongeskonde in die vuuroond rondloop, sonder dat
hulle klere eers brand, gebeur daar egter nog iets meer indrukwekkend – toe
Nebukadneser by die oond inkyk, sien hy vier figure in die vuur – een meer as
wat ingegooi is! Wie was dit? Ons weet nie - wat ons egter wel weet, is dat dit
’n duidelike teken van God se teenwoordigheid by hulle was. Wat hier gebeur
het, was ’n vervulling van wat die Here vir Sy volk, bykans 200 jaar vantevore
gesê het deur Sy profeet Jesaja ~ As
jy deur water moet gaan, is Ek by jou, deur riviere, hulle sal jou nie
wegspoel nie; as jy deur vuur moet gaan, sal dit jou nie skroei nie, die
vlamme sal jou nie brand nie, 3want Ek is die Here jou God, die
Heilige van Israel, jou Redder (Jes.43:2-3a).
Wat
vir ons hier belangrik is om van kennis te neem, is dat God nie gesê het dat Hy
Sy volk óm die waters en óm die vuur sal lei nie, maar dat Hy bý hulle sal wees
wanneer hulle deur die water of die vuur gaan! Dit laat my weer dink aan die
woorde van J.C. Ryle wat ek so ’n week of wat gelede hier op die muur vertoon
het: "Trials are intended to make us
think, to wean is from the world, to send us to the Bible, to drive us to our
knees." Beproewing sal altyd deel wees van God se kinders ~ Hulle het die gelowiges geestelik versterk
en hulle aangespoor om getrou te bly in die geloof. “Ons sal eers deur baie
verdrukking moet gaan voordat ons in die koninkryk van God kom,” het hulle gesê (Hand.14:22). Petrus sê in 1 Pet1:6-7 ~ Verheug julle hieroor, selfs al is dit nodig
dat julle ’n kort tydjie bedroef gemaak word deur allerhande beproewings 7sodat
die egtheid van julle geloof getoets kan word. Julle geloof is baie kosbaarder
as goud, goud wat vergaan. Selfs die suiwerheid van goud word met vuur getoets,
en die egtheid van julle geloof moet ook getoets word, sodat dit lof en
heerlikheid en eer waardig mag wees by die wederkoms van Jesus Christus. Die troos en bemoediging wat ons
egter het, is die belofte van Jes.43:2-3 waarin God sê dat Hy saam met ons deur
die water en die vuur sal gaan.
Hierdie
belofte van God dat Hy altyd by ons sal wees, het sy vervulling bereik met die
koms van die Here Jesus Christus – in Hom het die Emmanuel-belofte ("God
met ons"), vlees
geword en het Hy in hierdie lewe ervaar wat ons ervaar en nog meer, sodat Hy
nou vir ons die Trooster kan wees; dié Een wat vir ons intree by die Vader. Hy
het ook gekom, sodat Sy Koninkryk op aarde gevestig kon word en dat ons deel
daaraan kan hê ~ Toe het die
sewende engel op sy trompet geblaas. Daar was stemme in die hemel wat hard
uitgeroep het: “Die koningskap oor die wêreld behoort aan ons Here en sy
Gesalfde, en Hy sal as koning heers tot in alle ewigheid (Openb.11:15).
Wat
die Toring van Babel en Nebukadneser wou vermag, maar wat jammerlik misluk het,
was om ’n ewige naam vir hulself te maak en die nasies van die wêreld onder een
koninkryk te vestig. Jesus Christus het dit egter vermag ~ Op sy klere, by sy heupe, was daar ’n Naam geskrywe:
“Die Koning van die konings en die Here van die heersers (Openb.19:16). Hierna het ek ’n groot menigte gesien wat niemand kon tel nie. Hulle
was van elke nasie, stam, volk en taal en het voor die troon en voor die Lam
gestaan. Hulle het wit klere aangehad, en daar was palmtakke in hulle hande (Openb.7:9).
Die
drie jongmanne het ongeskonde deur die vuurproef gegaan omdat God by hulle was en
Nebukadneser was so stomgeslaan toe hy dit sien, dat hy na hulle roep en sê dat
hulle uit die vuur moes kom. Hy is só beïndruk met die jong Judeërs se God dat
hy uitroep ~ Aan die God van
Sadrag, Mesag en Abednego kom die eer toe, Hy wat sy engel gestuur het en sy
dienaars gered het. Hulle het op hulle God vertrou en het die koninklike bevel
verontagsaam en hulle was bereid om hulle lewe te verloor eerder as om enige
god behalwe húlle God te dien of te aanbid
(v.28) en
in v.29b sê hy ~ ...
Daar is immers geen ander god wat in staat is om so te red nie.
Hy gee terselfdertyd opdrag
dat niemand minagtend van die Judeërs se God mag praat nie en die ~ ...koning het toe gesorg dat dit voorspoedig
gaan met Sadrag, Mesag en Abednego in die provinsie Babel (v.30b) – hierna sal ons nie weer van Sadrag,
Mesag en Abednego hoor nie, want dit gaan nie in hierdie verhaal oor mense nie,
maar oor God en Sy heerskappy. Hierdie drie manne maak deel uit van die naamlose
geloofshelde van Hebr.11, maar die fokus in Daniël is op God gevestig. Hierdie
drie manne maak deel uit van die naamlose geloofshelde van Hebr.11, maar die
fokus in Daniël is op God gevestig.
Ons
moet ons nie laat mislei deur hierdie uitspraak van Nebukadneser waarin hy lof
en erkenning aan God bring nie, want dit dui nie noodwendig op ’n opregte
bekering aan sy kant nie. Ons sien op verskeie plekke in die Woord dat mense
eer aan God bring, sonder opregtheid en baie dikwels het hulle dit gedoen omdat
hulle gedwing was om God se soewereiniteit te erken (bv.
Jos.7:19; 1 Sam.6:5; 1 Pet.2:12 en ander).
Ons het ook reeds in Dan.2 gesien dat Nebukadneser God se soewereiniteit erken,
maar dat dit net tydelik van aard was. Die bewys van ware en opregte bekering
word gesien in die vrug wat so ’n persoon dra (Matt.12:33).
[1] Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente
(Drie Riviere) – Sondag 11 Augustus 2013