1.
SKRIFLESING:
Hierdie
hoofstuk waarna ons vanoggend gaan kyk, handel oor die tweede droom wat Nebukadneser gedroom het.
Daniël 4:1-37 ~ “Koning Nebukadnesar aan al die volke, nasies
en taalgroepe wat oor die hele wêreld woon: Voorspoed! 2“Ek
betuig met blydskap dat ek die tekens en wonders wat die allerhoogste God
gedoen het, kon belewe. 3“Hoe groot is sy tekens, hoe magtig sy
wonders! Sy koninkryk is ’n ewige koninkryk, sy heerskappy duur van geslag tot
geslag. 4“Ek, Nebukadnesar, het rustig en voorspoedig in my paleis
gewoon, 5maar toe het ek ’n droom gehad wat my ontstel het, visioene
in my slaap, wat deur my kop gemaal en my laat bang word het. 6Daarom
het ek ’n bevel uitgevaardig dat al die koninklike raadgewers voor my gebring
moes word om vir my die droom uit te lê. 7Toe het die towenaars, die
voorspellers, die sterrekykers en die besweerders gekom, en ek het hulle die
droom vertel, maar hulle kon dit nie vir my uitlê nie. 8Uiteindelik
het Daniël, genoem Beltsasar na die naam van my god en in wie die gees van die
heilige gode is, ingekom en ek het hom die droom vertel. 9“Ek het
vir hom gesê: Beltsasar, hoof van die towenaars, ek weet dat die gees van die
heilige gode in jou is en dat geen geheim vir jou onverklaarbaar is nie. Hier
is nou my droom, lê dit vir my uit. 10“Ek het hierdie visioen in my
slaap gehad: Toe ek kyk, sien ek ’n boom in die middel van die aarde, en dit
was baie hoog. 11Die boom het so groot en sterk geword dat sy top
aan die hemel geraak het, en dit was oral op die aarde sigbaar. 12Sy
blare was mooi en sy vrugte was groot, daar was genoeg kos aan hom vir die hele
wêreld. Onder hom het die wilde diere skaduwee gesoek, en in sy takke het die
voëls nes gemaak. Alles wat leef, het van hom hulle kos gekry. 13“Toe
ek nog so kyk, terwyl ek in my slaap die visioen sien, kom daar ’n wag, ’n
engel, uit die hemel uit af. 14Hy het hard geroep: ‘Kap af die boom,
kap af sy takke, stroop af sy blare en gooi weg sy vrugte. Die wilde diere moet
onder hom uit wegvlug en die voëls uit sy takke uit. 15Maar bind ’n
yster- en ’n bronsband om sy stomp en laat dit in die grond bly saam met die
gras in die veld. Nebukadnesar moet snags deur die dou natgemaak word en van
plante leef saam met die wilde diere. 16Sy verstand moet anders word
as dié van ’n mens, hy moet die verstand van ’n dier kry. Dit moet sewe
tydperke lank oor hom kom. 17Hierdie aankondiging berus op ’n
besluit van dié wat wag hou, die engele, en hulle maak hierdie beslissings
bekend. So sal alle mense weet dat die Allerhoogste mag het oor al die
koninkryke op aarde en dat Hy dit gee aan wie Hy wil; Hy stel selfs die onbelangrikste
mens daaroor aan.’ 18“Dit is die droom wat ek, koning Nebukadnesar,
gehad het. Lê dit nou vir my uit, Beltsasar, want geen raadgewer in my
koninkryk is in staat om dit vir my uit te lê nie. Jy is daartoe in staat, want
die gees van die heilige gode is in jou.” 19Toe het Daniël, ook
genoem Beltsasar, ’n oomblik verstom gestaan, verbyster deur sy gedagtes. Die
koning het vir hom gesê: “Moenie dat die droom en sy uitleg jou ontstel nie,
Beltsasar.” Beltsasar het geantwoord: “U Majesteit, het die droom maar eerder
op u vyande geslaan, die uitleg op u teëstanders! 20Die boom wat u
gesien het, wat so groot en sterk geword het dat sy top aan die hemel geraak
het, en wat oral op die aarde sigbaar was, 21waarvan die blare mooi
en die vrugte groot was en waaraan daar genoeg kos was vir die hele wêreld,
waaronder die wilde diere gebly en in wie se takke die voëls nes gemaak het, 22die
boom is u, U Majesteit. U het groot en sterk geword, u grootheid raak selfs aan
die hemel, u mag strek oor die hele aarde. 23U Majesteit het ’n wag,
’n engel, uit die hemel uit sien afkom, en hy het gesê: ‘Kap af die boom en
verwoes dit, maar bind ’n yster- en ’n bronsband om sy stomp en laat dit in die
grond bly saam met die gras in die veld. Nebukadnesar moet snags deur die dou natgemaak
word en van plante leef saam met die wilde diere. Dit moet sewe tydperke lank
oor hom kom.’ 24“Dit is die uitleg, U Majesteit, dit is die besluit
van die Allerhoogste oor u: 25U sal uit die menslike samelewing
uitgestoot word en saam met die wilde diere moet leef. U sal moet gras eet soos
beeste en u sal snags deur die dou natgemaak word. Dit sal sewe tydperke lank
oor u kom. Dan sal u moet erken dat die Allerhoogste mag het oor al die
koninkryke op aarde en dit gee aan wie Hy wil. 26Die bevel dat die
boom se stomp in die grond moet bly, beteken dat u koningskap herstel sal word
sodra u erken dat die Hemel regeer. 27Daarom, U Majesteit, luister
na my raad: breek met u sonde en u ongeregtigheid, doen wat reg is en bewys
barmhartigheid teenoor dié wat in nood is. Dan sal u voorspoed aanhou.” 28Maar
alles het oor koning Nebukadnesar gekom. 29Na twaalf maande, terwyl
hy op die dak van die paleis geloop het, 30het hy gesê: “Kyk net hoe
groot is Babel! Deur my groot mag het ek daarvan ’n koningstad gemaak, tot my
eer en roem.” 31Sy woorde was nog nie koud nie toe kom daar ’n stem
uit die hemel: “Daar is besluit, koning Nebukadnesar, dat jy uit jou koningskap
onthef gaan word. 32Jy sal uit die menslike samelewing uitgestoot
word en saam met die wilde diere moet leef en gras moet eet soos beeste. Dit
sal sewe tydperke lank oor jou kom. Dan sal jy moet erken dat die Allerhoogste
mag het oor die koninkryke op aarde en dit gee aan wie Hy wil.” 33Op
dieselfde oomblik het oor Nebukadnesar gekom wat oor hom gesê is. Hy is uit die
menslike samelewing uitgestoot en moes gras eet soos beeste. Hy is snags deur
die dou van die hemel natgemaak, en sy hare het so lank geword soos die vere
van ’n arend en sy naels soos dié van ’n voël. 34“Toe die
vasgestelde tyd verby was, het ek, Nebukadnesar, na die hemel opgekyk om hulp
en het ek my verstand teruggekry. Ek het die Allerhoogste geprys, ek het Hom
wat ewig leef, geloof en geëer. Aan sy heerskappy is daar geen einde nie, sy
koninkryk bestaan oor al die geslagte heen. 35Teenoor Hom is al die
bewoners van die aarde soos niks; Hy doen soos Hy besluit met die hemelse magte
en met die mense op aarde. Daar is niemand wat Hom daarvan kan weerhou en vir
Hom kan sê: ‘Wat doen U?’ nie. 36“Ek het in dié tyd my verstand
teruggekry, en my koninklike waardigheid, my eer en majesteit is aan my
teruggegee. My raadgewers en hoofamptenare het my opgesoek, my koningskap is
herstel en ek het selfs meer mag gekry as tevore. 37Ek,
Nebukadnesar, prys en eer en loof die Koning van die hemel. Alles wat Hy doen,
is reg, sy optrede is regverdig. Hy het die mag om hoogmoediges te verneder.”
2. VOORAF:
In
die eerste paar verse van Dan.4 word ons voorgestel aan 'n man met baie mag,
wat die volke onder sy beheer toespreek – 'n man wat trosts is in sy eie oë,
maar 'n magtige man wat kort voor lank vernedering gaan ervaar, soos min mense
nog ervaar het – van "koning tot grasvreter"!
·
Voorspoed: Die man aan die woord in
ons openingsverse, is die magtige en skatryk koning Nebukadneser – 'n
selfvoldane man, wat in v.1 sy onderdane voorspoed toewens – voorspoed wat hy
kort voor lank self nie meer gaan ervaar nie.
·
Lofprysing: Wat egter in vv.2-3
volg, is verbysterend, want hierdie selfvoldane en magtige man, gee eer aan die
Allerhoogste God. Hierdie is leë praatjies, want hy het nog altyd geweier om
die knie te buig voor die lewende God en selfs ook voor Marduk die Babiloniese
god.
Wat
het Nebukadneser dan met so 'n uitspraak bedoel? Daar is baie moontlike
verklarings hiervoor. So verduidelik Rodney Stortz bv. dat die Nebukadneser van
die eerste drie hoofstukke, nie dieselfde een is as dié van hoofstuk vier nie
en hy bewys dit vanuit Babiloniese geskiedskrywes en dan gaan hy voort en
verduidelik waarom Nebukadneser III hierdie uitspraak t.o.v. God gemaak het. Ek
voel egter ongemaklik met hierdie ingewikkelde verklaring en sal dus net
volstaan met J.G. Baldwin se kort verklaring (waarmee die meeste ander kommentators saamstem),
nl. dat ons enersyds nie Daniël se invloed op Nebukadneser se denke en
taalgebruik moet onderskat nie, maar andersyds sê Baldwin ook dat Marduk se
aanbidders, hulle Babiloniese god in dieselfde lig as Daniël se God gesien het en
daarom Nebukadneser se woorde – woorde waar hy eintlik eer aan Marduk bring en
nie aan die lewende God nie. Laastens kan dit ook wees dat
Daniël as eerste minister die toespraak
geskryf het en het daardie woorde weliswaar na Daniël se God verwys, maar dat
Nebukadneser se hart hoegenaamd nie in die woorde was nie. Hoe dit ook al sy, wat
belangrik is, is om te onthou dat Nebukadneser steeds nie God Drie-Enig in
waarheid aanbid nie en ons sien dit duidelik in v.8 waar Nebukadneser self bely
wanneer hy sê ~ Daniël... ...wie se naam Béltsasar is, na die naam
van my god, en in wie die gees van die heilige gode is.
3. DIE
DROOM EN GEVOLGE:
In
die tweede gedeelte van ons Skriflesing (vv.4-37), vind ons dat Nebukadneser
geteister word deur 'n tweede droom – nog 'n droom wat hom vreesbevange laat en
in vv.4-5 kla hy dat hy rustig en in voorspoed geleef het, maar nou word hy
weer geteister deur 'n droom – 'n droom wat hom ontstel het (die OAV sê dit het hom
"verskrik en verontrus").
·
Die Koning se Verwaandheid
Die
een oomblik het Nebukadneser eer aan die lewende God gebring, net om die
volgende oomblik homself in verwaandheid weer te wend tot sy waarsêers (vv.6-7), maar soos die geval met sy eerste
droom, kon hulle ook nie hond-haar-afmaak nie, waarop hy hom maar weer einde
ten laaste tot Daniël wend (v.8). Ook hier blyk dit duidelik dat die koning steeds nie
weet waaroor dit gaan, as hy in v.9, Daniël die hoof van die towenaars noem
nie. Hoe skokkend om te sien dat hy steeds na die eerste wonderwerk en ingrepe
deur God, homself nie wend tot Hom wat die enigste Alwyse is nie. Vir hierdie
sonde en onkunde en insigloosheid en verwaandheid, gaan hy nog baie duur
betaal.
-
Nebukadneser
se droom:
In
vv.9-17 vertel die koning vir Daniël wat hy gedroom het – 'n ontstellende droom
wat die koning nie verstaan nie. Hy het 'n reuse boom gesien wat in die middel
van die aarde staan en wat regoor die wêreld gesien kon word; 'n pragtige boom
wat baie vrugte gedra het, maar 'n boom wat uiteindelik deur 'n heilige uit die
hemel (v.13, OAV) afgekap is. Dit was duidelik dat hierdie boom 'n mens
verteenwoordig het, want die mees onstellende deel van die droom volg direk
nadat die boom afgekap word – die koning droom dat hy deur die dou natgemaak
moet word en van plante sal moet leef en seker die ergste – hy sal die verstand
van 'n dier kry! Dan sê Nebukadneser hierdie verstommende woorde – woorde wat
hy in sy droom gehoor het (v.17, OAV) ~ Op ’n besluit van die bodes (die NAV vertaal dit met
"enegele" wat die korrekte vertaling is – קַדִּישׁ
[qaddiysh /kad·deesh/] = engele) berus die
bevel, en ’n woord van die heiliges is die saak, met die bedoeling dat die
lewendes kan erken dat die Allerhoogste mag het oor die koningskap van die mens
en dit gee aan wie Hy wil, en die nederige onder die mense daaroor aanstel. Hoe duideliker moet hy nog hoor dat
daar maar net een ware God is – dié God wat heerskappy aan mense gee en dit van
hulle wegneem.
Die
probleem met Nebukadneser was dat hy steeds trots was en in sy eie oë dié god
en daarom sál en gaan God hom wat Nebukadneser is, verneder ~ God
weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade (1 Pet.5:5) en dit, sal ons sien, is presies wat
met hierdie magtige en ryk koning gaan gebeur.
Dit
is baie interessant om te sien dat daar ook na ander vorste in die Ou Testament
verwys word as "bome" – ons het dus hier te doen met 'n algemene
simbool – Eseg.31:6 ~ Al die voëls het kom nes maak in sy takke, onder
hom het al die wilde diere hulle kleintjies in die wêreld gebring
en in sy skaduwee het al die baie nasies kom woon. Hier word natuurlik gepraat van die
Farao van Egipte.
-
Daniël se
uitleg:
Verstommend
genoeg reageer Daniël nie onmiddellik op die koning se droom, soos wat 'n mens
dalk sou verwag nie – nee, hy het vir ’n oomblik verstom gestaan, verbyster
deur sy gedagtes (v.19). Ons weet dat Daniël gereeld in gebed verkeer het (Dan.6:10) en
sekerlik sou hy ook vir die koning gebid het, soos wat dit van alle gelowiges
verwag word en daarom was Daniël nie bang oor die gevolge vir homself wanneer
hy die droom gaan uitle nie. Nee, hy was eerder ontsteld oor die uiteinde van
die koning.
Daniël
is 'n pragtige voorbeeld vir ons in v.19 wanneer hy die owerste wat oor hom
aangestel is, met respek behandel en hom aanspreek as "u majesteit".
Hierdie is so 'n pragtige voorbeeld van wat daar bestaan tussen die gelowige en
die ongelowige as dit kom by opregtheid en sensitiwiteit. In v.20 sê die koning
vir Daniël ~ Moenie dat die droom en sy uitleg jou ontstel nie,
maar Nebukadneser was vals in sy aanmoediging, want hy was baie ontsteld (v.4 ) en nou maak hy
soos die ou wat skindernuus uit 'n ander ou wil trek en dan sê hy, "ek sal
vir niemand anders vertel nie". Daniël daarenteen is opreg in sy respek en
sensitiwiteit en hy spreek Nebukadneser nie alleen aan as "u Majesteit"
nie, maar hy sê ook in v.19b ~ U Majesteit, het die droom maar
eerder op u vyande geslaan, die uitleg op u teëstanders! Hy is opreg
jammer vir hierdie man wat kranksinnigheid in die gesig staar! Die probleem met
Nebukadneser was dit wat Paulus van Timoteus in Fil.2:20-21 gesê het ~ Ek het trouens niemand met
dieselfde gesindheid as hy en wat julle belange so opreg sal behartig nie. 21Al
die ander soek net hulle eie belange, nie dié van Jesus Christus nie.
Nebukadneser gaan leer dat die uiteindelike mag en besluitneming by die
Allerhoogste gesetel is en in geen mens se hande nie.
God
het hierdie droom – 'n droom van profetiese aard – aan Nebukadneser gegee en
God gee self ook die uitleg daarvan deur sy dienskneg Daniël aan Nebukadneser.
Net so tussen hakies – heirdie is 'n klassieke voorbeeld daarvan dat bepaalde
fenomene (in hierdie
geval 'n droom), gewerk deur die Heilige Gees wel deur ongelowiges ervaar
kan word, maar dat dit steeds nie noodwendig daarop dui dat so 'n persoon, Gees
vervuld is, of gered is nie.
In
kort is die uitleg van die droom as volg:
(i) Die
sentrale element in die droom is 'n "kosmiese boom" (vv.10-12 en 20-22) en
dit reflekteer Nebukadneser se persoonlikheid en selfbeeld – sy eie
voortreflikheid (Dan.3)
is onder die vergrootglas, want hy sien homself as die heerser van die
heelal en die uiteinde van hierdie droom sal wees om hom te stroop van sy
grootheidswaan en dit sou vinnig en intens gebeur.
(ii) Tweedens
(vv.13-16; 23 en
25-26) Hierdie boom (Nebukadneser) gaan afgekap en verwoes word en tot niks gemaak
word. Nebukadneser sou nie alleen sy heerskappy verloor nie, maar ook die wese
van sy mensheid, deurdat hy soos die diere van die veld sou word (sy kos, leefwyse en
verstand).
Hier
is egter alreeds 'n glinstering van hoop wat vir de koning deurgegee word –
daar moet 'n yster- en bronsband om die stam gebind word – waarom? Die boom kan
uiteindelik weer herrys indien die stam behoue bly en dit is die kans wat die
Here God aan Nebukadneser gee, maar daar is 'n voorwaarde aan verbonde – v.27 ~
Daarom, U
Majesteit, luister na my raad: breek met u sonde en u ongeregtigheid, doen wat
reg is en bewys barmhartigheid teenoor dié wat in nood is. Dan sal u voorspoed
aanhou. Vv.28-29 is vir ons 'n aanduiding dat die Here vir
Nebukadneser 'n geleentheid gegee het om hom daar en dan te bekeer indien hy
gehoor gegee het aan die woorde van Daniël in v.27, want na Daniël se uitleg
het dit nog 12 maande geduur voor die koning gestroop is van sy menswaardigheid
– v.28 ~ Maar alles
het oor koning Nebukadnesar gekom - hy het hom nie aan die
waarskuwing gesteur nie en die vonnis is gevel – die eens magtige Nebukadneser
val van "koning tot grasvreter" en hierdie lydingstyd sal vir sewe
tydperke duur (sewe –
die Hebreeuse syfer wat volmaaktheid, of voltalligeheid aandui) en dan
daarna – na hierdie sewe tydperke? Gaan hy sterf as hy hom nie bekeer nie? God
is Nebukadneser so oneindig genadig, want Hy vonnis hom nie net nie – Hy gee
hom hoop; God gee hom 'n glimpsie van Sy genade wat op hom wag, omdat Hy wat
die Here is, in Sy Alwysheid weet dat Nebukadneser hom gaan bekeer ~ Die bevel
dat die boom se stomp in die grond moet bly, beteken dat u koningskap herstel
sal word sodra u erken dat die Hemel regeer (v.26). Ons sien ook hier 'n duidelike
verband tussen Goddelike oordeel aan die eenkant en die mens se
verantwoordelikheid aan die anderkant.
(iii)
Laastens
(vv.17 en 24) was
daar 'n Engel wat opdrag gegee het dat die boom afgekap moes word. Daniël
verduidelik aan Nebukadneser dat sy lot bepaal word deur die Allerhoogste –
deur Hom by wie alle en finale gesag berus en al dink Nebukadneser dat hy
hierdie wonderlike en reuse boom is wat aan almal voedsel en rus en skadu
voorsien – al is hy hoe magtig en invloedryk en 'n gevreesde en ryk heerser, sal
hy op die harde manier uitvind dat hy maar nogsteeds onderworpe is aan God die
Almagtige en dat sy krag en mag en rykdom deur 'n genadige God aan hom gegee is
en dat dit in 'n oogwink van hom weggeneem kan word.
-
Daar is
hoop:
Daniël gee egter 'n sprankie hoop
vir Nebukadneser in v.27 ~ Daarom, U Majesteit, luister na my raad: breek met
u sonde en u ongeregtigheid, doen wat reg is en bewys barmhartigheid teenoor
dié wat in nood is. Dan sal u voorspoed aanhou.” Daar is altyd hoop by die Here – dit
is nooit te laat nie. Al is die vonnis bykans gevel teen Nebukadneser en hy
binnekort soos die diere sou word, is daar hoop en daarom is die woorde van
Ps.8:4-9 so in die kol ~ As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers, die
maan en die sterre waaraan U ’n plek gegee het, 5wat is die mens dan
dat U aan hom dink, die mensekind dat U na hom
omsien? 6U het hom net ’n bietjie minder as ’n hemelse wese gemaak en
hom met aansien en eer gekroon, 7U laat hom heers oor die werk van u
hande, U het alles aan hom onderwerp: 8skape en beeste, alles; selfs
die diere in die veld, 9die voëls in die lug, en die visse in die
see wat die oseane deurkruis. Nebukadneser het
geheers oor dit wat God aan hom gegee het. Nebukaneser gaan vir 'n rukkie net
so laag soos die diere wees, maar dan gaan God hom verhoog, want Nebukadneser
gaan die knie voor die Almagtige buig.
·
Tugtiging deur Kranksinnigheid:
Soos
vroeër reeds gesê, het Nebukadneser die geleentheid ontvang om sy verantwoordelikheid
na te kom t.o.v. God se oordeel en seën, maar vir twaalf maande lank bekeer hy hom
nie.
-
Sy trots:
In
v.30 spog Nebukadneser steeds ~ Kyk net hoe
groot is Babel! Deur my groot mag het ek daarvan ’n koningstad gemaak, tot my
eer en roem. Hy is
trots op "sy handewerk" – so asof dit hy is wat alles totstand
gebring het. Steeds verneder hy hom nie voor God nie; steeds buig hy nie die
knie voor die Allerhoogste nie!
Trots
is waarskynlik een van die mees destruktiewe sondes wat daar is – dink maar aan
die val van die satan; van Adam; ens. Trots veroorsaak dat jy van God vergeet,
trouens deur trots verhef jy jouself bo God. Trots is gevaarlik. Trots is
subtiel – ons moet ons gedurig self ondersoek om vas te stel of daar nie dalk
trots in ons lewe is nie. Om myself hoër te ag as andere (ja,
ook ander rasse – om ander rasse as benede jou te sien) is bv. niks anders as trots nie. Om
staat te maak op jou eie vermoëns; jou eie geld ens., is niks anders as trots
nie. Hoor wat sê Johannes in 1 Joh.2:15-16 ~ Moenie die sondige wêreld en die dinge van die wêreld liefhê nie. As
iemand die wêreld liefhet, is die Vader se liefde nie in hom nie. 16Die
wêreldse dinge—alles wat die sondige mens begeer, alles wat sy oë sien en
begeer, al sy gesteldheid op besit—kom nie van die Vader nie, maar uit die
wêreld.
Ek
kan ook nie anders as om C.S. Lewis in hierdie verband aan te haal nie: In God you come up against something which
is in every aspect superior to yourself. Unless you know God as that – and,
therefore, know yourself as nothing in comparison – you do not know God at all.
As long as you are proud you cannot know God. A proud man is always looking
down on things and people: and, of course, as long as you are looking down, you
cannot see something that is above you (en weereens – dit
sluit ander rasse in!).
-
Sy straf:
Nebukadneser
was trots – hy was baie trots en as daar so 'n uitdrukking bestaan het –
arrogant trots - en sy straf daarvoor? Vv.31-32 ~ Daar is besluit, koning
Nebukadnesar, dat jy uit jou koningskap onthef gaan word. 32Jy sal
uit die menslike samelewing uitgestoot word en saam met die wilde diere moet
leef en gras moet eet soos beeste. Dit sal sewe tydperke lank oor jou kom. Dan
sal jy moet erken dat die Allerhoogste mag het oor die koninkryke op aarde en
dit gee aan wie Hy wil. Die eens trotse Nebukadneser word verneder –
laer as wat enige mens verneder kan word – hy word soos 'n dier – dit terwyl
Ps.8:4-9 uitdruklik sê dat die mens, ...net ’n bietjie minder as ’n hemelse wese
gemaak is, maar méér as die beeste van die veld, want God het die
mens ...laat
heers oor die werk van (Sy) hande.
Het
hierdie vernedering; hierdie straf, net met Nebukadneser gebeur? O nee, Paulus
waarsku almal van ons dat dit ook met ons kan gebeur. Paulus sê in Rom.1:24,
dat God diesulkes oorgee aan ...die drange van hulle hart en aan
sedelike onreinheid. God gee hulle oor aan ...skandelike
drifte (v.26)
en in v.28 sien ons dat Hy hulle
oorgee aan ...hulle verdraaide opvattings, sodat hulle doen wat
onbetaamlik is.
-
Sy herstel:
Daar is egter weer 'n glimpsie hoop;
weer 'n blik op God se onuitspreeklike genade vir ons – v.32b ~ Dan sal jy moet
erken dat die Allerhoogste mag het oor die koninkryke op aarde en dit gee aan
wie Hy wil. Na sewe jaar wat Nebukadneser soos 'n dier en saam met
die diere geleef het, kom hy tot sy sinne – nee, God bring hom tot sy sinne (v.34) en die koning
het sy les geleer en alles wat van hom weggeneem was, word herstel – sy sinne;
sy eer; sy koningskap en selfs meer mag as vantevore en hy kan nie anders as om
in lofprysing uit te bars nie – hierdie keer opreg! Hy gee vir die eerste keer
erkenning aan die lewende God en hy besing Sy lof (vv.34-35).
4. Afsluiting:
Nebukadneser
was hoogmoedig en God het hom vir sewe jaar deur 'n harde en vernederedne
leerskool geneem ten einde vir hom nederigheid aan te leer. Hieruit moet ons as
gelowiges dan ook 'n les leer, nl. om nie onsself hoër te ag as ander en selfs
in ons hoogmoed op doelbewuste of meestal op subtiele en soms selfs onbewuste
wyse, God se eer te steel nie. Ja, ons moet alles na die beste van ons vermoë
doen, maar asof vir die Here en wanneer ons sukses behaal, nogsteeds die eer
aan God te bring, deur in opregtheid te sê ~ ...dit
is God wat (my) gewillig en bekwaam maak om Sy wil uit te voer
(Fil.2:13).
Die
Here het Nebukadneser egter na sy opregte belydenis weer verhoog en onmiddellik
kan ons onsself afvra, waarom verhoog God Nebukadneser nou dat hy eintlik op
die regte plek is – 'n nederige man? Waarom ontvang hy en enige iemand wat
huleself verneder, dan soveel genade deur weer verhoog te word? Die antwoord lê
vir ons in die feitelike geskiedenis van 'n ander Koning. Hierdie Koning
waarvan ek praat kon en kan met reg uitkyk oor die ganse wêreld en die woorde
van Nebukadneser uiter ~ Deur my groot mag het ek daarvan ’n
koningstad gemaak, tot my eer en roem (v.30). Hy het nie alleen een van die sewe
wonders van die antieke wêreld soos Nebukadneser geskep nie (die hangende tuine van
Babel). Nee, Hy het die ganse heelal uit niks geskep, deur slegs 'n
woord te spreek (Gen.1),
maar in plaas daarvan dat Hy Homself verhoog het, het Hy, wat God en self
Koning is, Homself verneder en in gehoorsaamheid, die heerlikheid van Sy
Koninkryk verlaat en na die aarde gekom as mens. Hy het egter Sy vernedering
nog 'n stap verder geneem en Hy het 'n dienskneg geword en uiteindelik, al was
Hy onskuldig, bereid gewees om aan 'n kruis te sterf – wat kan meer vernederend
wees as juis dit en dit terwyl Hy geen rede gehad het om hoegenaamd verneder te
word nie, maar Hy het dit gedoen, sodat ons verlos kan word van ons trots – Hy
wat alle reg het om Homself te verhoog, het Hom self verneder en minder as die
engele geword ten einde Sy kinders uiteindelik te verhoog! En Sy naam is Jesus
Christus ons Verlosser!
[1] Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Sondag 13 Oktober 2013