1. INLEIDING:
Ons staan aan die begin van ’n nuwe jaar en die meeste van
ons, indien nie almal nie, het al lankal besef en besluit dat allerlei
nuwejaarsvoornemens sommer net ’n klomp nonsens is en dat dit tog nooit werk
nie – baie dikwels is die eerste dag van die nuwe jaar nog nie eens verby nie
en vind jy dat jy alreeds een of meer van jou goeie voornemens nie nagekom het
nie en die redes daarvoor is legio.
As daar egter een voorneme is wat ons as gelowiges behoort te
neem – en nie net aan die begin van die nuwe jaar nie, maar elke oggend en
middag en aand van ons lewe, is dit dat ons, ons dag en nag en week en maand en
nuwe jaar, in afhanklikheid van die Here Jesus Christus moet deurbring en
watter beter voorneme kan daar wees, as juis dit, want Jesus Christus is ons
soewereine Verlosser en as ons dit bely en leef, kan daar geen beter voorneme
wees as juis dit nie, maar dit moet en mag nie net by ’n voorneme bly nie – dit
moet ’n absolute leefwyse word, want dan sál dit goed gaan met ons. Waarom –
waarom juis hierdie bepaalde voorneme? Kom ons lees Psalm 110.
2. SKRIFLESING:
Psalm 110:1-7 ~ Van Dawid. ’n Psalm. Die Here
het vir my heer die koning gesê: “Kom sit aan my regterhand, en Ek sal jou
vyande aan jou onderwerp.” 2As die Here die septer, simbool van u
mag, uit Sion aan u oorhandig, heers dan oor u vyande! 3U volk is
gereed vir die dag waarop u u magte monster. U jongmanne is u krag as hulle
teen dagbreek aantree, geklee vir die heilige stryd. 4Die Here het
’n eed afgelê en Hy sal dit nie herroep nie: “Jy sal altyd priester wees in die
priesterorde van Melgisedek.” 5Die Here gee u die oorwinning, Hy
verdelg konings die dag as Hy sy toorn laat losbreek. 6Hy straf die
nasies, Hy verdelg hulle leiers, Hy laat die wêreld vol lê van hulle lyke. 7Die
koning drink water uit die stroom langs die pad, hy sal die oorwinning behaal.
Psalm 110 word algemeen beskou as die “Kroon van al die
Psalms”. Hierdie Psalm, net soos Ps.2, was waarskynlik gebruik tydens kroningsplegtighede
en –rituele in die vroeë Israel. Martin Luther het bv. gesê dat hierdie Psalm
waardig is om bekroon te word met die kosbaarste edelstene.
Spurgeon het hierdie Psalm se sewe verse in drie dele verdeel,
met v.4 wat die middelste gedeelte uitmaak. Anders gesien, kan ons sê dat
hierdie Psalm uit twee parallelle gedeeltes bestaan. Beide gedeeltes begin met
die Here wat aan die woord is in vv.1 en 4 en dan die Psalmskrywer se reaksie
of oordenking in vv.2-3 en 5-7.
Die eerste gedeelte (v.1) praat van ~ ...my heer die koning (let op die kleinletters) en
die tweede gedeelte praat van ~ ... priester wees in die priesterorde van
Melgisedek priester wees in die priesterorde van Melgisedek (v.4). Ons sien ook
in v.1 dat daar melding gemaak word van God se regterhand en dan ook weer in
v.5. Ons vind dus ’n pragtige beweging van verheerliking in die hemel, na
verheerliking op aarde. Die boodskap is dat die Here as koning, ’n universele
en ewige koninkryk daarstel deur oorwinning oor Sy vyande.
3. CHRISTUS
SE HEERSKAPPY:
Die sinnetjie in v.1, nl. ~ Die Here het vir my heer die koning
gesê: “Kom sit aan my regterhand, en Ek sal jou vyande aan jou onderwerp,
lei ons tot twee vrae:
·
Wie is hier aan die woord?
·
Tot wie word hierdie woorde gerig?
Verskeie
verklarings bestaan oor wie hier aan die woord is en tot wie hierdie woorde
gerig is. Die ou Joodse Rabbi’s het o.a. gesê dat dit Melgisedek is wat hier
met Abraham praat.
Dawid word ook in sekere kring as
moontlikheid genoem, maar dit kon ook nie Dawid gewees het waarvan hier gepraat
word nie, omdat Dawid nooit opgeneem is in die hemel soos wat v.1 suggereer nie
– dieselfde redenasie geld dan uiteraard ook vir mense – konings en leiers soos
Salomo, Serubbabel, Sadok, Josua en om dieselfde
rede kon dit ook nie Abraham en Melgisedek gewees het nie
Hier
is ook geen engel ter sprake nie, want die Hebreërskrywer sê ondubbelsinnig in
Hebr.1:13 ~ Van watter engel het Hy ooit
gesê: “Sit aan my regterhand,
totdat
Ek jou vyande aan jou onderwerp het”?
Die
waarheid is dat hierdie woorde deur God self gespreek word en Hy praat hier in
Ps.110 van Sy Seun, Jesus Christus, die Messias en Hoë Priester volgens die
Orde van Melgisedek wat aan Sy regterhand sit, totdat Hy weer sal terugkeer na
die aarde as die seëvierende Koning.
Jesus
beklee dus die hoogste; mees bevoorregte en mees gesaghebbendste posisie in die
ganse skepping.
In
vv.2-3 antwoord, of reageer die Psalmdigter nou op hierdie uitspraak wat God
die Vader t.o.v. Sy Seun maak, deur te sê dat hierdie toekomstige heerskappy
van die Seun, Jesus Christus, verseker gaan plaasvind, deurdat Hy Sy septer (teken
van oorwinning en heerskappy en ook om guns en oordeel aan te dui) uiteindelik oor die ganse heelal uitgestrek
sal hou, trouens hierdie proses is reeds aan die gang en sal sy klimaks bereik
met Jesus se tweede koms.
In
v.3 sien ons dat die Seun se troepe – die ware gelowiges, gereed is om saam te
veg. Wanneer vind hierdie geveg plaas? Die OAV
vertaal v.3 met die woorde ~ ...op
die dag van u krygsmag.
Wanneer is hierdie ...dag van
krygsmag? Hierdie dag van
krygsmag strek van Jesus se hemelvaart tot en met Sy wederkoms – nou terwyl Hy
aan die regterhand van God die Vader sit.
Hoe
vind hierdie geveg plaas? Paulus verskaf aan ons die antwoord in Rom.12:1 ~ En
nou doen ek ’n beroep op julle, broers, op grond van die groot ontferming van
God: Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik
is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen – Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom
aanneemlik is. Petrus sê
in 1 Pet.1:15-16 ~ ...soos
Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in julle hele lewenswandel
heilig wees. 16Daar staan immers geskrywe: “Wees heilig, want Ek is
heilig.” Dit is belangrik
dat ons daarop sal let dat heiligmaking niks met wettisisme te doen het nie –
’n interessante verduideliking van heiligmaking is dat iemand wat heiligmaking
najaag, die begeerte en strewe het om sy eie lewe en alles om hom te herstel
tot dit wat dit was en hoe dit was voor die sondeval. Dit is ’n begeerte en
strewe om my lewe te konformeer na die wese en karakter van Jesus Christus.
Let
op hoe stel die Psalmskrywer v.3 in die OAV – hy sê ~ U volk sal baie gewillig wees op die dag van
u krygsmag – U
volk sal baie gewillig wees.
Sy volk kies om diensbaar aan Hom te wees; hulle is vrywilligers wat onder geen
dwang staan nie. Hulle is waar Jesaja was in hulle keuse om diensbaar te wees–
hulle sê saam met Jesaja ~ Hier is
ek! Stuur my! (Jes.6:8).
Wanneer
ek heiligmaking najaag in en deur my lewe, is ek besig om saam met Christus in
hierdie heilige stryd te veg teen die satan en sy bose magte en is ek deel van
Openb.19:14 se leër ~ Die leërs in
die hemel het op wit perde agter Hom aan gery. Hulle het fyn, helder wit klere
aangehad – hierdie wit perde
en wit klere dui natuurlik op heilige en onbesmette lewens en dit is wat ons
moet najaag.
Jesaja sê in Jes.1:19 dat indien ons gehoorsaam is
en deelneem aan hierdie stryd, sal ons ...die goeie van die land eet, maar as julle weier (sê
hy), sal die swaard júlle eet,
want dit is die Here wat dit gesê het.
4. CHRISTUSSE
SE HOË PRIESTERLIKE AMP:
Hierdie geveg geskied o.l.v. Koning,
Jesus Christus, maar meer nog – ons sien in v.4 dat Hy ook Priester is volgens
die Orde van Melgisedek. Waarom word Melgisedek se naam so prominent hier genoem;
waarom is dit belangrik dat Jesus volgens hierdie orde Priester is?
Ons kry slegs drie keer met Melgisedek
in die Woord te doen. Hy word vir ons bekend gestel in Gen.14 as deel van
Abraham se verhaal. Na hierdie bekendstelling is daar ’n duisend jaar stilte
oor hom en word hy skielik weer hier in Psalm 110 vermeld – en sommer ook net
so terloops. Na ’n verdere duisend jaar, kry ons weer met hom in Hebreërs te
doen. Die Hebreërskrywer maak vier keer melding van Melgisedek (Hebr.5:6, 10; 6:20; 7:17) en
’n verdere vier keer van die Orde van Melgisedek (Hebr.5:6, 10; 6:20; 7:17). Die
Hebreërskrywer sê o.a. van hom in Hebr.7:4 ~ Let nou op hoe
groot hierdie man was aan wie Abraham, die stamvader, ’n tiende van die beste
oorlogsbuit gegee het. Wie en wat was hierdie misterieuse man?
In
Gen.14 lees ons van Abraham wat Lot gered het van ’n koalisie van vier konings
wat Lot en sy familie aangeval het. Op sy pad terug ná die geveg, ontmoet
Abraham vir Melgisedek. Ons lees die verhaal van hierdie unieke ontmoeting in
drie verse in Gen.14 – en dit is al wat in Genesis van hom vertel word ~ Melgisedek,
koning van Salem en priestervan God die Allerhoogste, het vir Abram kos en wyn
gebring 19en hom geseën: “Mag Abram geseën word deur God die
Allerhoogste, Skepper van hemel en aarde. 20Geloof sy God die
Allerhoogste! Hy het jou vyand in jou mag oorgegee.” Toe het Abram vir
Melgisedek ’n tiende van alles gegee. 21Die koning van Sodom het vir
Abram gesê: “Gee my net die mense en vat die besittings vir jou.” (vv.18-20). Hier word
Melgisedek dus geïdentifiseer as ’n koning en priester van God wat van Salem in
Sodom afkomstig was – dis al. Wat ons egter ook weet van hierdie man, is dat sy
naam, eintlik ’n titel was wat hy gedra het, want ”Melgisedek” beteken “koning
van geregtigheid”. Die uitdrukking, “koning van Salem” beteken “koning van
vrede”. Klink hierdie titels bekend? Jesus Christus het vir ons geregtigheid
geword en sodoende deur Sy dood, vrede tussen ons en God gebring. Melgisedek
was dus ’n “Tipe van Christus” en het derhalwe vooruit gewys na Christus.
Wanneer ons na Ps.110 kyk, word die
naam of titel, “Melgisedek” baie duidelik gebruik as ’n tipe van Messias of
Verlosser. In die eerste vers word die Here beskryf as Goddelike Verlosser aan
wie die Vader heerskappy gegee het oor die vyande en dan in v.4 waarna ons nou
kyk, word Hy beskryf as Priester volgens die Orde van Melgisedek. Ons sien dus
dat Jesus beide Koning en Priester is (nes Melgisedek). Ons moet verstaan dat hierdie
samevoeging van hierdie twee spesifieke ampte iets totaal ongehoords was in Israel
– geen koning kon ’n priester wees nie en geen priester kon ’n koning wees nie
– ’n goeie voorbeeld hiervan was toe Ussia, koning van Juda wierook in die
Tempel wou brand en hy onmiddellik met melaatsheid gestraf is (2
Kron.26:16-23).
Melgisedek wat nie ’n Israeliet was nie, was egter beide koning en priester en
deur hierdie uitdrukking, “volgens die Orde van Melgisedek”, wil die Woord vir
ons sê dat Christus uniek en derhalwe verhewe is bo enige Joodse priester of
koning – Hy is inderdaad God en daarom heers Hy oor Sy Koninkryk, maar Hy is
ook terselfdertyd Priester wat vir ons voorbidding kan doen.
Wat meer is, God het ’n eed geneem (Hy het by Sy eie Naam
gesweer) dat Hy Sy Seun as Priester
na hierdie wêreld sal stuur. Wanneer God sweer, of ’n eed neem, is dit
belangrik dat ons na Hebr.6:16-18 sal kyk om hierdie optrede van God beter te
verstaan ~ Mense lê ’n
eed af by iemand groter as hulleself. Vir hulle is dit die bevestiging van ’n
saak, en dit sluit alle teëspraak uit. 17En omdat God aan die
erfgename van die belofte bo alle twyfel wou verseker dat sy besluit
onveranderlik is, het Hy dit met ’n eed gewaarborg. 18Die twee
onveranderlike dinge, die belofte en die eed, waarborg dat God sy woord gestand
sal doen, en is vir ons wat ons toevlug tot Hom geneem het, ’n kragtige
aansporing om vas te hou aan die hoop op wat vir ons weggelê is.
Volgens die Hebreërskrywer is hierdie
aanstelling van Christus as Priester volgens die Orde van Melgisedek ook uniek,
anders en ewig, omdat Sy Priesterskap vir ons ’n beter hoop gee
as dié van aardse priesters (Hebr.7:19). Hebr.9:9-11 sê ook vir ons dat Sy Priesterskap,
gegrond word op ’n groter en volmaakte verbond en in
Hebr.9:12-14 word dit vir ons bevestig, dat Christus se Priesterskap nooit
tot ’n einde sal kom nie.
Hierdie eed wat God neem, sê dus vir ons
dat Christus se aanstelling as ewige Koning en ewige Priester vasstaan en nooit
in der ewigheid sal en kan verander nie en dit impliseer dus ook dat Christus
se Plaasvervangende offerwerk aan die kruis ook vir ewig vasstaan en dit word
vir ons bevestig in Hebr.10:17-18 ~ Dan sê Hy verder: “Aan hulle sondes en
hulle oortredings sal Ek nooit meer dink nie. 18Waar die sondes
vergewe is, is geen offer daarvoor meer nodig nie!
5. CHRISTUS
SE WEDERKOMS:
Dawid, in hierdie pragtige Psalm van hom, voorsien ook ’n
toekomstige tyd en
–gebeurtenis wanneer Christus gaan terugkeer – ’n profetiese visioen van die
einde dus; ...die dag as Hy sy toorn laat losbreek – die dag wanneer
die laaste geveg o.l.v. Christus geveg sal word teen die satan en al sy lakeie
– Openb.19:11-15 ~ Toe het ek
gesien die hemel is oop. Daar was ’n wit perd. Sy Ruiter word die Getroue en
die Betroubare genoem. Met regverdigheid oordeel Hy en voer Hy oorlog. 12Sy
oë het soos vuur gevlam, en op sy kop was daar baie heerserskrone. Daar was ’n
Naam op Hom geskrywe wat niemand anders ken nie, net Hy self. 13Hy
het klere aangehad wat met bloed deurweek was, en sy Naam is: “Die Woord van
God.” 14Die leërs in die hemel het op wit
perde agter Hom aan gery. Hulle het fyn, helder wit klere aangehad. 15Uit
sy mond het daar ’n skerp swaard uitgekom om die nasies mee te tref, en Hy sal
hulle met ’n ystersepter regeer. Hy sal self die parskuip trap vir die wyn, die
wyn van die toorn en die oordeel van God, die Almagtige.
In
die laaste drie verse van hierdie wonderlike Psalm, sien ons skielik ’n wending
in gebeure plaasvind – tot en met v.4 het ons gesien dat daar gepraat word oor
’n geveg en die oorwinning wat behaal sal word en Christus se bekleding as
Koning en Hoë Priester, maar nou hier in vv.5-7 is die geveg klaar geveg en
tree die Vader en die Seun nou tesame op tydens die finale oordeel – Christus
se heerskappy oor hierdie huidige bedeling word nou afgesluit en Hy is op die
punt om Sy vyande finaal te vernietig; te oorwin en te oordeel – ’n vervulling
van Ps.2. In v.11 waarsku die Here hulle, deur te sê ~ Dien die Here
met vrees, en juig met bewing,
maar hulle het hulle nie gesteur aan hierdie waarskuwing nie en daarom gaan die
waarskuwing in v.9 nou in vervulling
kom, nl. ~ U sal hulle verpletter
met ’n ysterstaf, U sal hulle stukkend slaan soos ’n erdepot. Ons sien dan in vv.5 en 6 hoe dit gaan
gebeur. Christus gaan op die dag van Sy wederkoms alle konings wat hom
geopponeer het, oordeel deur hulle tot die ewige verdoemenis te veroordeel (Ps.110:5;
Openb.6:16-17) en in v.6
sien ons dat die Seun, die nasies gaan oordeel en die skape van die bokke gaan skei
(Matt.25:31-46).
In
v.7 bereik alles egter ’n klimaks en keer Christus die ewige Koning en –Hoë
Priester finaal terug om vir ewig te heers oor die ganse heelal.
6. SLOTSOM:
Ons sien Jesus Christus in hierdie Psalm, as die soewereine
Heerser oor alles en almal, maar ons sien Hom ook as Redder van diegene wie in
Hom glo en daarom is dit van kritieke belang dat elkeen van ons reg sal reageer
op sy roepstem; op die Psalmdigter se oproep van Ps.2, toe hy gesê het ~ Dien
die Here met vrees, en juig met bewing. As ons dit doen het ons niks
te vrees nie, want Christus as Hoë Priester hét die volmaakte en afgehandelde
offer vir ons wie in Hom glo, gebring en Hy doen voortdurend voorbidding vir
ons by die Vader, sodat ons nie uit Sy hand geruk sal word nie.
As ek daarom maar een Nuwejaarsvoorneme kan hê, dan behoort
dit te wees om my Redder en Hoë Priester met oorgawe te dien en al wat dit vra
is om:
·
My sonde te bely en my daarvan te bekeer.
Bekering van sonde lê dan ook aan die hart van die Evangelie, daarom dat Jesus
in Matt 4:17 gesê het ~ Bekeer julle, want die koninkryk
van die hemele het naby gekom. Elke sondaar wat gered wil word, móét
hom van sy sonde bekeer – hy móét m.a.w. ophou om te volhard in bepaalde sondes
en hom/haar wend tot Christus Jesus. Dit behels m.a.w. ’n totale verandering
van gesindheid, van gedagtes en denke; van optrede – daar moet ’n totale
hartsverandering plaasvind en ons moet op ’n punt van algehele gebrokenheid en
berou oor ons sonde kom ~ Laat ons dan ophou met die werke
van die duisternis; laat ons die wapens van die lig opneem (Rom.13:12).
·
Tweedens moet ek in Jesus Christus glo – werklik
glo. Reddingsgeloof behels ’n volkome en algehele en onvoorwaardelike oorgawe
aan Sy wil, soos uitgedruk in die Woord van God – elkeen van ons moet aan die
einde van onsself kom en die woorde van Jesus in Matt 16:24, nooit vergeet nie,
maar meer nog, ons moet dit daagliks prakties toepas in en deur ons lewe ~ As
iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My
volg. Ons moet Christus en Christus alleen vertrou vir ons redding ~
Julle
is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit
julleself nie; dit is ’n gawe van God. 9Dit kom nie deur julle eie
verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees
nie (Ef.2:8-9).
My
gebed vir elkeen van julle en uiteraard vir myself ook, is dat hierdie ons
opregte Nuwejaarsvoorneme en –strewe sal wees – mag julle ’n geseënde 2014
beleef wat gekenmerk sal word deur geestelik groei!
Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Sondag 12 Januarie 2014