1. INLEIDING:
In
die eerste elf verse van Habakuk het ons gesien dat hy teenoor God gekla het en
dat die Here oënskynlik nie na hom luister nie en ook niks omtrent die Judeërs
se sonde doen nie, waarop die Here hom geantwoord het en wel op ʼn manier wat
Habakuk dit waarskynlik nie verwag het nie, deurdat God vir hom gesê het dat
die volk deur die Galdeërs verslaan en weggevoer sou word in ballingskap. In
ons Skriflesing vandag kom Habakuk ʼn tweede keer na God met nog ʼn beswaarskrif.
2.
SKRIFLESING:
Hab.1:12-2:1 ~ U is tog van altyd af daar, Here; U is my
heilige God; ons sal nie sterwe nie. U, Here, het die Galdeërs aangestel om die
vonnis te voltrek, U, ons Rots, het hulle die mag gegee om ons te straf. 13U
oë is te rein om toe te kyk terwyl daar verkeerd gedoen word, U kan tog nie
sien dat daar ellende is en niks doen nie! Waarom doen U dan niks aan die
trouelose mense nie, waarom bly U stil wanneer slegte mense dié vernietig wat
beter as hulle is? 14Hoe kan U mense behandel asof hulle visse is, asof
hulle kruipende insekte sonder leier is? 15Die Galdeërs vang mense
met hoeke, trek hulle vas in nette, maak hulle bymekaar in treknette, en juig
en jubel oor die vangs! 16Die Galdeërs bring selfs offers vir hulle
nette, brand wierook vir hulle treknette, want deur die nette leef hulle in
weelde en het hulle volop kos! 17Sal hulle maar deurentyd voortgaan
om hulle nette uit te skud, om nasies meedoënloos om die lewe te bring? 2 1Op my wagtoring wil ek gaan staan
en op ’n skansmuur my stel, en ek wil speur om te sien wat Hy in my sal spreek,
en wat ek op my klagte moet antwoord.
Hierdie tweede klagstaat
wat Habakuk inbring teen God kan in drie dele verdeel word, nl. ʼn
Geloofsverklaring (vv.12-13a); Habakuk bevraagteken weereens God se wyse van oordeel t.o.v. die volk
se sonde en afvalligheid (vv.13b-17) en laastens wag hy weer op God se antwoord (2:1).
3.
HABAKUK
EN SY TEOLOGIE (vv.12-13a):
As ʼn mens na Habakuk
luister in sy aanvanklike reaksie voor sy tweede klagte teenoor God, dan is dit
duidelik dat hy verward is nadat die Here hom op sy eerste klagte geantwoord
het. Dit is onbetwisbaar duidelik dat die Judeërs gestraf moet word vir hul
afvalligheid en rebellie teen God, maar wat Habakuk nie kan verstaan nie, is
dat ʼn goddelose volk gebruik gaan word om God se Verbondsvolk mee te straf en
wat nog meer verwarrend vir hom is, is dat hierdie antwoord van die Here net
nie strook met sy teologiese oortuiging nie.
In vv.12-13 kan gesien word
as ʼn samevatting van die profeet se teologiese oortuiging. Hy begin deur God in
Sy verbondsnaam aan te spreek, nl. יְהוִה [Yâhovah /yeh·ho·vaw/]. Hierdeur
verklaar hy dat God ʼn soewereine God is, die ewige en onveranderlike God wie se
Naam bo alle name is.
Hy spreek hierdie
teologiese oortuigings van hom uit d.m.v. retoriese vrae en dít terwyl hy die
antwoorde op sy vrae ken – wat meer is, hy weet ook dat God die antwoorde ken
op sy vrae. Hy herinner homself en God eintlik maar net weer aan al God se
attribute (karaktereienskappe). So vra hy bv. of God dan nie ʼn heilige God is nie; of Hy nie getrou
is nie; soewerein en regverdig is nie, maar hy verklaar ook dat God rein is en dan
verwys hy spesifiek na God se integriteit wanneer hy sê ~ U oë is te rein om toe te kyk terwyl daar
verkeerd gedoen word (v.13a).
Ons vind ook ʼn ander baie
interessante opmerking wat Habakuk maak en wel in v.12, wanneer hy sê ~ ...ons sal nie sterwe nie. As hy praat van “ons” dan verwys hy nie net na die uitverkorenes
onder die Judeërs nie, maar hy verwys na die ganse volk – ook hulle wat God
verloën het en hy sê dat “ons as ʼn volk” nie aan die hand van die Galdeërs (Babiloniërs) sal sterf nie, want God is ʼn verbondsgod wat nie Sy verbond verbreek nie.
4.
HABAKUK
BEVRAAGTEKEN GOD WEER (vv.13b-2:1):
Dit is duidelik dat Habakuk sukkel om sy
teologie t.o.v. God se attribute te versoen met God se beloftes van oordeel oor
die volk, want aan die eenkant is Sy God in wie hy onvoorwaardelik glo en wie
Hy persoonlik ken, ʼn volmaak heilige en ewige verbondsgod, maar aan die
anderkant is Hy ʼn wrede, onvergewensgesinde en onregverdige God wat ʼn nóg
goddeloser nasie stuur om sy volk te kom straf – dit maak net nie sin nie en
wat meer is, Hy is nie net onregverdig en ongenaakbaar nie, Hy hoor Habakuk se
uitroepe ook nie ~ Waarom
doen U dan niks aan die trouelose mense nie, waarom bly U stil wanneer slegte
mense dié vernietig wat beter as hulle is? (v.13b).
Dit is so ironies dat Habakuk hier vir
die Here vra waarom Hy nie iets aan die trouelose mense doen nie (v.13b) – dit is duidelik dat hy hier aan die Galdeërs dink, maar hy vergeet
dat sy eie volk wat op die drumpel van vernietiging en ballingskap staan, net
so troueloos is, want is hulle nie minder sondig en minder afvallig van God as
die Galdeërs nie? Nee, hulle is op presies dieselfde plek as die Galdeërs – weg
van God!
In v.14 sê Habakuk dat God agter alles in
die ganse heelal sit en dat Hy die Regeerder van alle nasies is en daarom laat
Hy toe dat die mensdom mishandel en verwoes word, want oorspronklik het God die
mens geskep om o.a. oor die visse van die see te heers, maar nou is die mens (sy mense) nes die visse – daar word oor hulle geheers en hulle is soos die visse
van die see ook nog leierloos, want dit wil voorkom asof God hulle ook nou
verwerp en aan hulle vyande oorgegee het!
In vv.15-17 beskryf Habakuk die wegvoer
van die Judeërs in ballingskap deur die Babiloniërs en hy praat van visse met
hoeke in die bek en treknette vol visse. Dit is baie interessant om na
illustrasies deur die Babiloniërs te kyk wat vandag nog in die Pergamon Museum
in Berlyn bewaar word – in daardie illustrasies word die weerlose mense wat
deur die Babiloniërs weggevoer is, geteken as ʼn klomp mense wat aan mekaar gehaak
was met hoeke in die onderlip. Geen simpatie was betoon deur die wrede
Babiloniërs nie.
In v.17 vra Habakuk die Here, wanneer die
Galdeërs dan nou gaan ophou om hulle so te mishandel en weg te voer en dood te
maak?
5.
HABAKUK
SE EERLIKHEID:
Habakuk is deursigtig en eerlik wanneer
hy hierdie dinge vir die Here sê. Hy worstel daarmee om God se soewereiniteit
aan die eenkant en die toenemende boosheid in die wêreld aan die anderkant, met
mekaar te versoen. Ons behoort ook ernstig en eerlik oor hierdie feite met
onsself en met die Here te redeneer soos wat Habakuk gedoen het, maar
uiteindelik sal ons sien, net soos wat Habakuk sal sien, dat God voorwaar in
beheer is en dat Hy inderdaad soewerein is en hy begin waarskynlik stadig maar
seker sien en verstaan wat J.C. Ryle so goed opgesom het, toe hy gesê het, Die
mees bose vyande van God, is bloot maar net byle, sae en hammers in God se hand
en hulle is onbewus daarvan dat hulle maar net instrumente in Sy hand is, ten
einde Sy werk in die wêreld te doen.
Wat doen Habakuk nou nadat hy sy hart
teenoor die Here uitgestort het en hy steeds nie antwoorde het nie? Hy gee die
saak oor aan die Here en hy wag in afwagting en in geloof om weer van die Here
te hoor en juis hierin lê die les vir ons opgesluit.
Vir ons lê die oplossing vir ons probleme
meestal op die vlak van ʼn onmiddellike verwydering van die probleem – bv.,
Malema pla ons en bedreig ons vrede, en in ons sondige gedagtes gebeur dit dalk
vir ʼn vlietende oomblik dat ons wens iemand wil hom “uithaal”. Wanneer ons siek
word wil ons onmiddellike genesing hê, of ons sal bid, Here gee tog dat
hierdie knop nie kwaadaardig sal wees nie en jy vertel vir jou vriende en
broers en susters daarvan en hulle reaksie is dalk ook dié van Habakuk s’n in
v.12 ~ U is tog van altyd af daar, Here; U is my heilige God; ons sal nie sterwe
nie. Hiskia
het ʼn soortgelyke gebed gebid in 2 Kon.20:3 toe hy verneem het dat hy terminaal
siek is ~ Ag,
Here, neem tog in ag dat ek voor U in trou en met volle oorgawe geleef het en
dat ek gedoen het wat reg is in u oë.” Hiskia het bitterlik gehuil.
So ʼn reaksie is ʼn tipiese reaksie van
menige mens, maar dit is ook ʼn goeie reaksie en dit is ook preses wat Habakuk
doen, want te spyte en te midde van sy vrae en worsteling, is hy steeds besig
om God te aanbid en bevestig hy net weer al die waarhede t.o.v. Sy Vader, nl.
wie en wat sy heilige God waarlik is.
Hy spreek egter ook terselfdertyd sy
verwarring uit, want tog maak alles nie vir hom sin nie – verstaan hy nie God
se optrede teen sy volk nie, want (soos voorheen
reeds gesê), kan hy
nie verstaan waarom God ʼn nóg boser nasie gebruik om sy volk te straf nie – dit
is asof ons vir die Here wil vra, maar Here, ons as gelowiges is dan bevry
van die erfsonde deurdat Christus Jesus vir ons op Golgota gesterf het, waarom
moet ons nog ly? Waarom moet ons ook kanker kry; waarom word van ons medegelowiges
vermoor; waarom, waarom...?
Habakuk sien ons, in ons Skriflesing,
stort sy hart teenoor God uit en hy praat reguit met God – hy sê presies hoe hy
voel en hy vra reguit vrae.
God verbied ons nie om Hom te
bevraagteken wanneer ons verward is, of twyfel, of bang is nie. Habakuk het
presies dít gedoen en ons lees nêrens dat God hom met ʼn weerligstraal dood
geslaan het nie. Abraham het dit ook gedoen toe hy by God gepleit het dat Hy
Sodom moes vernietig. God het Abraham in groot liefde geantwoord, omdat God
Abraham se hart geken het – Hy het geweet dat Abraham se motief nie rebellie
was nie, maar juis geloof en liefde en vertroue in Hom, die soewereine God. Dit
was dus eerder ʼn geval van gebrekkige kennis en insig en beide Abraham en
Habakuk wou maar net antwoorde op hul verwarde gedagtes gehad het.
In die lig hiervan is dit dus nie
verkeerd as ons vra en ja, selfs pleit by God dat Hy Sy “besluit” in
heroorweging moet neem nie – dit is nie verkeerd om te vra, “waarom” nie. Ja,
ons weet en glo dat God soewerein is, maar ons mag nog steeds ons binneste met
Hom deel, Hy is tog immers ons Vader. Toe Jesus in die Tuin van Getsemane was,
het Hy presies geweet wat vir Hom voorlê, nl. dat Hy gekruisig sou word; Hy het
geweet dat dit ʼn soewereine besluit van God was en dat Sy kruisiging uitgevoer
móés word, want dit was die begin van die afhandeling van Sy roeping na die
aarde, maar Hy is hartseer en Hy kry swaar, so swaar dat Sy sweet soos
bloeddruppels geword het en Hy bid tot Sy Vader en hoor wat sê Hy ~ My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie beker
by My verbygaan; nogtans nie soos Ek wil nie, maar soos U wil (Matt.26:39). Hy weet Hy moet sterf en Hy
weet waarom Hy moet sterf, maar nogtans vra HY...
Wanneer ons, soos Habakuk en Abraham en
Job en selfs Jesus, aan God vrae vra en vir Hom sê hoe ons voel, is ons in ʼn
persoonlike gesprek betrokke met ons Vader – ʼn liefdevolle, genadige
Verlosser-Vader, Wie Sy kinders wat swaarkry, dra en beskerm – al is dit ook déúr
die dood, maar op Sy perfekte en soewereine tyd sál Hy oorwinning gee en sal Hy
selfs antwoorde gee, al is dit ook eers eendag wanneer hierdie wêreld herskep
gaan word en ons wie Sy kinders is, die ewige lewe met Hom binnegaan. Hy sal op
Sy vooraf verordineerde tyd uitkoms gee; vrede gee; oorwinning gee; herstel
gee, of wat dit ook al mag wees wat ons nodig het. Diegene van ons wie in
volmaakte verhouding met Hom staan – versoen deur Jesus Christus en wie verlang
na die Koninkryk van God met sy vrede, liefde en volmaaktheid, kan hoop put uit
hierdie wete.
Habakuk het steeds hoop in die skadu van
oordeel en swaarkry – waarom? Habakuk het in ʼn verhouding met God gestaan; hy
het sy Maker vertrou en hy het Hom geken. Hy het geweet dat God, Jahweh is – my
God, wat ewig is en wat nie stilbly nie (v.12). Sy verhouding
met die Skepper van die heelal en die Outeur van sy en sy volk se geskiedenis
is intiem en persoonlik en daarom onspan hy en wag hy nou op God en hy wag met
afwagting op God se antwoord, wanneer hy in 2:1 sê ~ Op my wagtoring
wil ek gaan staan en op ’n skansmuur my stel, en ek wil speur om te sien wat Hy
in my sal spreek, en wat ek op my klagte moet antwoord.
Al verstaan Habakuk nie waarom sy volk
moet ly nie, weet hy uit persoonlike ervaring dat Jahweh goed is en daarom
spreek hy Hom aan as ~ ...my
heilige God en hy
verwys ook na Hom as die Rots (v.12) – die
standvastige en getroue God.
6.
DIE
EVANGELIE IN HABAKUK:
Ons het verlede week die Evangelie in
Habakuk vanuit God se perspektief gesien – ʼn genadige God, wat regverdig optree
en in wysheid voorsien – voorsien het in ʼn Verlosser, Jesus Christus – in
Habakuk se geval, nog sou voorsien en in ons geval, reeds voorsien het.
In vandag se Skrifgedeelte kan ons weer
die Evangelie raak sien, maar die keer vanuit Habakuk se perspektief. Ons sien
hoe Habakuk getuig van God se goedheid en Sy bevryding van die volk uit hul omswerwinge
in die wildernis ná Egipte en hoe Hy hulle in die Beloofde Land gevestig het. Net
so het elkeen van ons wat in Christus Jesus glo en in ʼn intieme verhouding met
Hom staan, ook bevryding ervaar. Trouens ons bevryding – ons verlossing, was
veel, veel groter en baie meer ingrypend as dié van die Israeliete – ons het en
ervaar steeds, daardie verlossing waarna die Ou Testament voortdurend verwys
het en waarna die volk van God so rykhalsend uitgesien het, nl. Jesus Christus
se soendood aan die kruis en Sy opstanding uit die dood en Sy hemelvaart. Ons
het reeds die belofte van sondevergifnis en ʼn tuiste in die ewige hiernamaals
ontvang, want Jesus Christus het reeds die volmaakte en finale offer gebring om
ons te verlos van die slawerny van sonde.
Die waarheid of realiteit van die
Evangelie wat Habakuk uiteindelik ontdek het en wat elke geslag na hom en na
ons opnuut moet ontdek is in 2:4 (OAV) opgeteken en
Habakuk herinner ons vandag weer aan hierdie Evangeliese waarheid ~ ...Maar die regverdige, deur sy geloof sal hy
lewe.
Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente
(Drie Riviere) – Sondag 03 Augustus 2014