Vir Oudio-opname van Preek - sien bo en volg verlangde skakel
1. INLEIDING:
1. INLEIDING:
Wanneer
ons na ons eie lewe kyk, maar ook na dié van andere, sien ons dat alles in ons
lewe nie altyd uitwerk soos wat ons dit graag sou wou hê nie en wanneer dit
gebeur, is daar dikwels en begryplikerwys, teleurstelling, in ʼn mindere of
meerdere mate.
Die
kleinprofeet, Sagaria het by uitnemendheid vir sulke mense geskryf en in sy
profesie, bied hy troos vir elkeen wat teleurstelling ervaar het, of dalk
steeds ervaar. Die troos wat Sagaria bring, is om mense na God toe te wys. Wat
die Here doen, is anders, maar altyd beter as wat mense doen en dit moet ons
altyd in gedagte hou as ons deur Sagaria werk en wanneer ons teleurstelling
ervaar.
Ek
wil dan dat ons begin met die profesie van Sagaria. Ons kan hierdie boek in drie
dele verdeel:
·
Sagaria
1-8: Hierdie gedeelte vorm die eerste deel van die boek en dit handel oor
bekering, vertroue en verlossing. Hierdie deel bestaan uit ʼn oproep tot
bekering en agt naggesigte, gevolg deur ʼn aantal profesieë van algemene aard.
·
Sagaria
9-11: In hierdie gedeelte val die klem op die Messias wat seën en
oorwinning verskaf – troosvolle woorde dus wat tot die volk gerig word.
·
Sagaria
12-14: Hierdie derde gedeelte handel hoofsaaklik oor die “eindtyd” wat op
hande is en bevat ʼn boodskap van troos vir die volk.
Ons kan verder ook vyf hooftemas
onderskei in hierdie boek:
·
Die
soewereiniteit van God;
·
God
se onbuigbare en regverdige oordeel oor sonde;
·
God
se wonderbaarlike en onuitspreeklike liefde;
·
Die
noodsaak daaraan om in die regte verhouding met God te staan en
·
Die
koms van die Messias.
Daar
is Skrifkritici wat reken dat Sagaria net die eerste 8 hoofstukke van hierdie
boek geskryf het, maar sonder om in teologiese redenasies te verval oor die
outentisiteit al dan nie van die laaste ses hoofstukke, kan ek net sê dat
daar algemeen aanvaar word en gegrond op baie goeie teologiese beredenering,
dat die laaste wel deur Sagaria geskryf is
– net later as die eerste
gedeelte.
2. HISTORIESE
AGTERGROND:
Gepraat
van "later", wanneer het Sagaria opgetree as profeet. Ten einde dit
te beantwoord moet ons na die geskiedkundige agtergrond kyk waarteen hierdie
profesie afspeel.
Die
Persiërs o.l.v. Kores die Grote het in 550
v.C. die Ryk van die Perse tot stand gebring en in slegs twee dekades (559-539
v.C.) bykans die hele
Nabye Ooste geannekseer, die laaste gebied om voor Kores te val, was die
Babiloniese Ryk waarheen duisende Israeliete
vroeër weggevoer was (o.a.
Daniël).
Omdat Juda onder beheer van die Babiloniese Ryk gestaan het, was hulle nou
outomaties ook onder die heerskappy van die Persiërs.
Kores
het 'n beleid van verdraagsaamheid teenoor die oorwonne mense ingestel, ten
einde hulle goedgesindheid te verkry en een van die dinge wat hy toegelaat het,
was dat die onderskeie volke hul tempels kon herbou. Ons weet dat die Israeliete se tempel in 586 v.C. deur die Babiloniërs vernietig is, maar nou het hulle die geleentheid
gekry om dit te herbou. Ons het ook al meer kere vantevore gesien dat die
tempel die sentrale punt van die Israeliete se totale lewe uitgemaak het, want
dit is daar waar hulle God ontmoet het en dit is daar waar hulle kon ervaar dat
hulle sonde vergewe word deur die offers wat in die tempel gebring is.
Met hierdie gebeure sien ons dat 'n
baie interessante profesie van Jeremia, wat ongeveer 110 jaar vantevore gebring
is, nou in vervulling gekom het - Esra 1:1-4 ~ In die eerste regeringsjaar van koning Kores van Persië is die belofte
vervul wat die Here by monde van Jeremia uitgespreek het: die Here het koning
Kores van Persië laat besluit om dwarsoor sy ryk ’n proklamasie te laat
afkondig. Die proklamasie, wat ook skriftelik was, het soos volg gelui: 2“Koning
Kores van Persië maak bekend: Die Here die God van die hemel het al die
koninkryke van die aarde aan my gegee. Hy het my beveel om vir hom ’n tempel in
Jerusalem in Juda te bou. 3Enigiemand onder julle wat aan sy volk
behoort—mag sy God by hom wees—mag na Jerusalem in Juda toe gaan en die tempel
gaan bou vir die Here die God van Israel. Hy is God in Jerusalem. 4Elkeen
wat van dié volk nog oor is, waar hy ook al tydelik gewoon het, moet deur die
mense van sy omgewing voorsien word van die nodige silwer, goud, gebruiksgoed
en vee, tesame met ’n vrywillige gawe vir die tempel van God in Jerusalem.”
Die Israeliete het nie alleen Kores se
edik gesien as 'n politieke skuif nie, maar ook 'n ingrepe deur die Here en die
vervulling van Jeremia se profesie.
Kores
het verder toegelaat dat van die ballinge in o.a. Babilon kon terugkeer na
hulle tuislande ten einde 'n sterker front aan die westekant te kon vorm om die
Ryk teen Egipte te beskerm
– duisende Israeliete en dan spesifiek van die stamme van
Juda en Benjamin keer terug na Jerusalem en omgewing ten einde die tempel te
herbou. Sesbassar (Esra 1:7-11) word deur Kores (Cyrus)
aangestel as eerste goewerneur in Juda
en hy kry opdrag van Kores om ook al die goud en silwer wat deur die Babiloniërs weggevoer was, terug te neem na Jerusalem. Ons sien in Esra
5:16 dat die fondasies vir die tempel kort na die terugkoms van die ballinge,
gelê is (in 537 v.C.), maar nie lank daarna nie, het alle
werk, a.g.v. interne en eksterne faktore (o.a. baie hoë
belasting wat betaal moes word) opgehou en vir die volgende sewentien
jaar het daar bykans niks gebeur nie.
Gedurende
hierdie sewentien jaar het baie dinge op politieke terrein gebeur en is Kores
vermoor en het sy seun by hom oorgeneem, maar ook hy het na slegs na 8 jaar
gesterf en is Darius I as keiser aangestel. Toe hy bestuur van die Ryk
oorgeneem het, was alles in chaos en het hy o.a. die Ryk in 22 distrikte, of
satrapye verdeel met 'n satrap of goewerneur aan die hoof van elke satrapy. 'n
Afstammeling van Dawid, met die naam van Serubbabel,
is in 520 v.C. deur Darius aangestel as die satrapy vir Juda. Gedurende hierdie
tyd het die herbou van die tempel weer in alleryl begin en spesifiek onder die
leierskap van Serubbabel en Josua die hoëpriester. Die aktiewe profete gedurende hierdie tyd was Haggai
en Sagaria (Haggai 1:1,14 en Esra 3:8-11). Die tempel is uiteindelik gedurende
Februarie 515 v.C. voltooi.
Die
volgende 65 jaar, tot en met 449 v.C. was egter stormagtige jare met verskeie
oorloë tussen die Persiese Ryk en die Griekse
Ryk, asook Egipte en Babilon wat hul onafhanklikheid van die Persiese Ryk, met
soms gewelddadige opstande, geëis het. Te midde van al hierdie
woelinge in die Persiese Ryk, het mense van Juda en Jerusalem, finansieel baie
swaar gekry en was hulle verder ook polities gefrustreerd en sosiaal verdeeld.
Dit is gedurende hierdie stormagtige jare tussen 539 en 449 v.C. dat die Jode ʼn “teologiese bril” nodig gehad het om perspektief te kry
op hulle situasie en dit is dan gedurende hierdie periode dat Sagaria geroep is
om m.b.v. ʼn teologiese
boodskap, perspektief en hoop aan
sy volk te gee.
3. WIE
WAS SAGARIA?
Net
kortliks: Wie was Sagaria? Daar was ongeveer 30 mense in die Ou Testament met
die naam Sagaria – watter een van hierdie klomp was die profeet van wie ons
hier praat? Ons sien in vers 1 van Sag.1 dat hy homself bekendstel as die... seun
van van Berekja, seun van Iddo.
Verskeie verwysings in Sagaria dui aan dat hy uit ʼn Joodse priesterlike familie
kom wat ook uit ballingskap uit Babilon terug gekeer het na Jerusalem. Daar is
ook aanduidings dat hy dalk ʼn priester was voor hy geroep was om op te tree as
profeet, maar dit kan nie onomwonde bewys word nie.
Sy
eerste profesie is op 27 Oktober 520 v.C. gebring – dit was enkele weke nadat
die profeet Haggai, die Judeërs oortuig het om die bou van die tempel voort te
sit. Sagaria se profesieë is oor ʼn tydperk van drie jaar gebring. Sagaria en
Haggai het gelyktydig opgetree as profete en beide was geroep om die volk uit
te daag en te motiveer.
4. SKRIFLESING:
Sag.1:1-6
~ In die agste maand van die tweede
regeringsjaar van Darius het die woord van die Here gekom tot die profeet
Sagaria seun van Berekja, seun van Iddo: 2Die toorn van die Here het
oor julle voorvaders losgebreek. 3En nou moet jy vir jou volk sê: So
sê die Here die Almagtige: Bekeer julle tot My, sê die Here die Almagtige, dan
sal Ek weer by julle wees, sê die Here die Almagtige. 4Moenie soos
julle voorvaders wees nie. Die profete van vroeër het hulle aangespreek en
gesê: “So sê die Here die Almagtige: Bekeer julle van julle slegte lewe en
julle slegte dade!” Maar hulle was ongehoorsaam, hulle het hulle nie aan My
gesteur nie, sê die Here. 5Waar is julle voorvaders nou? En die
profete? Leef húlle vir altyd? 6Het die uitsprake, die voorskrifte
wat Ek my dienaars die profete laat maak het, dan nie julle voorvaders ingehaal
nie? Hulle moes erken: Die Here die Almagtige het met ons gedoen wat Hy Hom
voorgeneem het om met ons te doen, presies volgens ons lewe en ons dade.
5. OPROEP
TOT BEKERING:
Hierdie
eerste profesie van Sagaria word in 520 v.C. gebring in Jerusalem en dit word
gerig aan die ballinge wat uit Babilon terug gekeer het. ʼn Mens kan hierdie
profesie amper beskou as ʼn “intreepreek” soos wanneer ʼn predikant nuut in ʼn
gemeente kom en hy sy eerste preek lewer en hierdie “intreepreek” van Sagaria
is ʼn oproep tot bekering. Die feit dat die profeet se “intreepreek” ʼn
bekeringspreek was, laat ʼn mens sterk herinner aan Jesus se “intreepreek” wat
ook ʼn bekeringspreek was – die somtotaal van Jesus se boodskap vind ons in
Mark.1:15 ~ Die tyd het
aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom. Bekeer julle en glo die
evangelie.
In
die geval van Sagaria is die teks van sy boodskap wel bekend aan die Judeërs,
want die teks is hulle eie geskiedenis. Hierdie geskiedenis van die volk van God,
is ʼn tragiese geskiedenis, want dit wys keer op keer daarop dat hulle
voorvaders nie geluister het na die waarskuwings en oproepe van die Here se
profete nie en die gevolg daarvan was God se oordele en hier was die jongste
oordeel nog vars in die geheue van die volk – die ballingskap na Babel.
As
ʼn mens die gemoedstoestand van die volk in ag neem, op hierdie stadium dat
Sagaria sy eerste profesie (of “intreepreek” as jy wil) bring, nl. dat hulle moedeloos is – dat
hulle finansieel baie swaar
kry en dat hulle ook polities gefrustreerd en sosiaal verdeeld is, sou ʼn mens verwag dat God ʼn bemoedigende
boodskap aan hulle sou bring, maar in plaas van bemoediging, is dit ʼn kort en
kragtige oproep tot bekering ~ En nou moet jy vir jou volk sê: So sê die Here die
Almagtige: Bekeer julle tot My, sê die Here die Almagtige (v.3a).
Voor
daar enige beloftes, of bemoedigende visioene oor die toekoms gebring word,
ontvang Sagaria die opdrag om ʼn boodskap van bekering te preek. Die boodskap
van hoop sal nog kom, maar eers nagenoeg vier maande later. Nou is dit eers tyd
dat die volk hulle self moet ondersoek; hulle moet hulle bekeer en hulle opnuut
hertoewy aan die verbondsbeloftes.
Hierdie
oproep tot bekering begin met die profeet wat die volk se aandag vestig op
hulle volk se geskiedenis van ontrou teenoor die Here en dit sluit die huidige
geslag in. Sagaria sê in v.2 dat vorige geslagte, kort-kort die toorn van die
Here op hulle hals gehaal het. In die oorspronklike teks word die woord vir
toorn [קֶצֶף, קֶצֶף [qetseph
/keh·tsef/]]
twee keer gebruik. Die ESV
vertaal dit met ~ The Lord was
very angry. Omdat Hebreeus in
baie gevalle baie moeilik is om te vertaal het die vertalers van die ESV die
tweede woord vir “kwaad”, vertaal met “baie” – die Here was baie kwaad – daar staan dus eintlik in die oorspronklike
Hebreeuse teks, dat die Here kwaad, kwaad was vir hulle voorvaders.
Jare
se afgodediens, sinkretisme, vals aanbidding, morele mislukkings, die
uitbuiting van armes, alliansies met die vyand wat God nie goedgekeur het nie
en korrupte leierskap, het God se geduld tot by ʼn breekpunt gebring. Sagaria se
oproep tot die volk is om te doen wat hulle voorvaders nié gedoen het nie – bekeer
julle!
In
v.3 stel Sagaria dit nog duideliker aan sy toehoorders ~ Bekeer julle tot My, sê die Here die Almagtige, m.a.w. die volk moet hulle tot God
wend, of terugkeer na die Here. As ons na die historiese konteks kyk, dan sou
die volk se terugkeer na die Here, begin met ʼn toegewyde herbou van die tempel.
As
ʼn mens na v.3 kyk, kan jy baie maklik sê dat bekering en/of ʼn terugkeer na die
Here ʼn eerste aksie van die mens se kant vereis, maar dit is glad nie wat
hierdie vers sê nie, want dit is eerder ʼn reaksie wat van die mens se kant
geneem moet word, nádat die Here die inisiatief geneem het en eerste met hulle
gepraat het. V.3 begin tog immers met die Here wat aan die woord is en dit is
deurgaans die geval in die Woord van God – Hy neem altyd die inisiatief eerste,
waarop ons dan moet reageer. Dit is dan presies wat hier gebeur – die Here kom
eerste na die volk toe; Hy neem die inisiatief en praat met die volk deur
Sagaria.
Ons
moet ook daarop let dat hierdie bekering ʼn verhoudings-optrede of –daad is,
want die Here sê aan Sy volk, draai om en kom terug na My toe. Iemand wat nie
in ʼn verhouding met die Here staan nie, kan nie na Hom terugkeer nie. Dit gaan
dus nie in die eerste plek oor die regstel van sonde nie, maar dit gaan in die
eerste en laaste plek oor die herstel van ʼn gebroke verhouding
en in hierdie geval tussen Israel se Verbondsgod en Sy verbondsvolk. As gevolg
van die sonde wat die volk begaan het, het daar ʼn breuk in die verhouding
plaasgevind. Is dit nie presies wat gebeur wanneer twee mense in ʼn verhouding
staan en die een tree sondig op nie – daar vind ʼn breuk in die verhouding plaas
en dit is presies dieselfde met ons en met die Here, met dié een verskil en dit
is dat dit altyd ons is wat die sonde begaan – ons is dus altyd die oorsaak van
die breuk in die verhouding tussen ons en die Here. Hierdie feit blyk ook
duidelik uit v.4, waar ons sien dat die volk se voorvaders nie in die eerste
plek gesondig het deur verkeerde praktyke aan te hang en hulle eie koppe te volg
nie, maar omdat hulle die verhouding tussen hulle en God geskaad het, deur nie
na Hom te luister nie ~ Maar hulle was ongehoorsaam, hulle het hulle nie
aan My gesteur nie, sê die Here
(v.4b).
6. WAARSKUWING:
Vers
4 sê dus dat die volk nie net hul terugdraai na God moet betoon deur die herbou
van die tempel nie, maar primêr deur ʼn hartsverandering te ondergaan en hul
persoonlike verhouding met die Here te herstel, m.a.w. om weer opnuut in ʼn
verbondsverhouding met Hom te staan en nie bloot net deur uiterlike rituele,
soos die herbou van die tempel nie. Die bou van die tempel moet bloot net die
vrug van hul hartsverandering wees. Dit is presies dieselfde met ons – ons
verhouding met die Here word nie bewys deur uiterlike goeie werke, gebruike en
rituele nie, maar deur bekering – deur ʼn besnede hart.
Verse
3-6a rig ʼn baie ernstige waarskuwing tot die volk: Indien hulle, hulself nie
bekeer nie, wag dieselfde oordeel op hulle as wat hul voorgeslag getref het.
Die voorgeslagte het nie die verbondsverhouding tussen hulle en God reggestel
nie en het uiteindelik na vele waarskuwings en heel party geslagte, die volle
mag van God se oordeel ervaar. Die barmhartige en genadige en liefdevolle God
se geduld het uiteindelik opgeraak ~ 5Waar is julle voorvaders nou? En die
profete? Leef húlle vir altyd? 6Het die uitsprake, die voorskrifte
wat Ek my dienaars die profete laat maak het, dan nie julle voorvaders ingehaal
nie? (vv.5-6a).
Wat
was die gevolg van hierdie verbondsbreuk? Die noordelike koninkryk (genaamd
Israel of soms ook Efraim) was
weggevoer deur die Assiriërs en ʼn bietjie meer as 100 jaar later is die
suidelike koninkryk van Israel weggevoer na Babilon en in lg. proses is die
tempel in Jerusalem verwoes – die voorvaders se verbondontrou het hulle
uiteindelik ingehaal en die volk is weggevoer in ballingskap en “die kersie op
die koek” – die tempel is verwoes. Die kruks van hierdie geskiedenis, soos ons
reeds gesien het, is dat sonde verdeeldheid en ʼn breuk in verhouding tot gevolg
het. Na hierdie breuk in verhouding was daar egter weer (ek
wil amper sê, weereens),
herstel deur die Here bewerkstellig, nadat Hy dit in Jes11:12-13 belowe het ~ Die Here sal ’n vaandel oprig onder die
nasies en sal die ballinge van Israel bymekaarmaak, die verstrooides van Juda
laat saamkom van die uithoeke van die aarde af. 13Efraim se naywer
sal verdwyn, en Juda se teëstanders sal uitgeroei word. Efraim sal nie weer jaloers
wees op Juda nie, en Juda sal nie weer vyandig wees teenoor Efraim nie.
Die
volk het teruggekeer uit ballingskap soos Jesaja geprofeteer het, maar die Here
ken die hart van die mens en daarom waarsku Hy hulle betyds, voor dit te laat
is en Hy weer moet optree.
Die
woord “terugkeer” is die sleutel woord in hierdie openingsprofesie en dit word
vier keer in vv.3-6 gebruik en dit spreek van God se genade teenoor Sy kinders
– Hy is dus steeds onveranderlik wat Sy verbondsbeloftes betref en al is die
volk se omstandighede negatief en voel hulle ontmoedig, was daar nogtans ʼn
wêreld van hoop wat oopgelê het voor hulle – die sleutel tot die realisering
van hierdie hoop, was bekering, waarop gereinigde harte sal volg – Keer
terug na My! Die vraag is of hulle sou en v.6b skep die indruk dat
hulle dit wel gedoen het ~ Die Here die Almagtige het met ons gedoen wat Hy
Hom voorgeneem het om met ons te doen, presies volgens ons lewe en ons dade. Ons sal egter later sien dat probleme daartoe
gelei het dat teregwysing van Sagaria se kant tog van tyd tot tyd nodig was (5:1-11;
7:4-14), maar oor die
algemeen hét die volk hulle bekeer en teruggekeer na die Here, waarop die Here
kragtige dade in hul midde gedoen het.
7. DIE GRONDSLAG
VIR VERSOENING:
Wat
was die grondslag vir die herstel van die volk en versoening met God? Nie in
die eerste plek die herbou van die tempel nie, maar ʼn besnydenis van hart – bekering.
Die herbou van die tempel sou slegs simbool wees van die volk se terugkeer na
die Here – van ʼn besnyde en gereinigde hart.
Die
ware grondslag vir God se Koninkryk is altyd ʼn berouvolle hart – berouvol oor
jou sonde – dit is waar dit altyd begin. Dit word nêrens duideliker
geïllustreer as juis in die vestiging van God se Koninkryk deur die bediening
van Jesus Christus nie. Van die begin van Jesus se aardse bediening af, het Hy
dit baie duidelik gestel dat die individu slegs die Koninkryk van God kan
ontvang, deur die besnydenis van die hart – deur bekering dus ~ Nadat Johannes in die tronk opgesluit is,
het Jesus na Galilea toe gegaan en die evangelie van God verkondig. 15Hy
het gesê: “Die tyd het aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom.
Bekeer julle en glo die evangelie”
(Mark.1:14-15).
Jesus wou deur hierdie verklaring sê dat almal wat Hom volg en dissipels van
Hom word, se lewe gekenmerk moet wees deur bekering – nie goeie werke in die
eerste plek nie, maar bekering. Hierdie boodskap was ook die boodskap van Jesus
se dissipels wat deur Jesus uitgestuur was ~ Hulle het toe gaan verkondig dat die mense hulle moet bekeer (Mark.6:12).
Ook
ná Jesus se opstanding het Hy dieselfde opdrag aan Sy dissipels gegee ~ Verder sê Hy vir hulle: “So staan daar
geskrywe: ‘Die Christus moet ly en op die derde dag uit die dood opstaan, 47en
in sy Naam moet bekering en vergewing van sondes aan al die nasies verkondig word,
van Jerusalem af en verder’ (Luk.24:46-47). Ook die Apostels het, hierdie boodskap
uitgedra ~ Toe antwoord Petrus
hulle: “Bekeer julle en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus
Christus, en God sal julle sondes vergewe, en julle sal die Heilige Gees as
gawe ontvang (Hand.2:38). Hierdie oproep is deur die gang van
die Kerkgeskiednis, hard en duidelik gepreek.
God
se groot werk in mense begin altyd by mense wat hulle tot God in en deur Jesus
Christus bekeer. Seker een van die mees ingrypende voorbeelde van hierdie feit,
was met Martin Luther se bekering en sy uiteindelike vasspyker van sy
95-Stellinge teen die deur van die katedraal in Wittenberg op 31 Oktober 1517 (e.k.
Vrydag, 497 jaar gelede) en
die gevolglike Protestantse Reformasie wat daarop gevolg het – ʼn tydperk van
intense en opregte bekering deur duisende en wat 131 jaar lank geduur het. Raai
wat was die essensie van die heel eerste stelling op die deur? Dat gelowiges se
hele lewe, gekenmerk sal wees deur bekering!
8. TOEPASSING:
Net
soos die volk in Sagaria se tyd, is ons ook geneig om te vergeet dat die
grondslag vir God se Koninkryk, ʼn voortdurende terugkeer na die Here is – dat
ons, ons voortdurend moet bekeer van ons sondige optrede.
Hierdie
selfde beginsel van bekering en ʼn terugkeer na God, is uiteraard ook op elkeen
van ons van toepassing. Ons moet voortdurend Dawid se gebed, wat hy in
Ps.139:23-24 gebid het, vir onsself bid ~ Deurgrond my, o God, deurgrond my hart,
ondersoek my, sien tog my onrus raak. 24Kyk of ek nie op die
verkeerde pad is nie en lei my op die beproefde pad!
Ons
moet onthou dat bekering – dat opregte belydenis van sonde, nie altyd hierdie
donker, morbiede saak is, of hoef te wees nie – aanvanklik ja, wanneer ons
gekonfronteer word deur die Heilige Gees dat ons in sonde is, maar belydenis en
ʼn terugkeer na God, lei elke keer tot bevryding en blydskap, want soos Johannes
in 1 Joh.1:9 tereg sê ~ Maar as
ons ons sondes bely—Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en
reinig ons van alle ongeregtigheid.
Sagaria
het die volk opgeroep om hulle na die Here te wend, dit impliseer ook dat ons
as gemeente onsself voortdurend moet ondersoek, of ons nie ook in sonde is nie
en dit dan bely en ons bekeer – sonde en sondebelydenis is dus nie altyd net ʼn
individuele saak nie, maar soms ook ʼn korporatiewe saak.
Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente
(Drie Riviere) – Sondag 26 Oktober 2014