Vir Klankopname - Gaan na:
https://soundcloud.com/kobus-van-der-walt/jesus-se-versoeking-in-die-wildernis-1
1.
INLEIDING:
https://soundcloud.com/kobus-van-der-walt/jesus-se-versoeking-in-die-wildernis-1
Ons het ʼn paar weke gelede gekyk na Jesus se
doop deur Johannes die Doper. Vanoggend gaan ons begin kyk na Jesus se
versoeking in die wildernis. Matteus sê vir ons dat Jesus onmiddellik na sy
doop weggevoer is na die woestyn, of te wel die wildernis, waar Hy blootgestel
was aan aanvalle deur die Satan. Sy doop het derhalwe onmiddellik gelei tot ’n
tydperk van intense versoeking. Die Skrif beklemtoon ook die feit dat, al was
dit nie wat die Here Jesus vir Homself sou kies nie, dit nogtans die Vader se
wil was vir Sy Seun, daarom dat Matteus ook in ons Skrifgedeelte vir vandag
skryf, dat Jesus deur die krag van die Heilige Gees in die wildernis ingedryf
was.
Wanneer ons na Jesus se versoeking in die
wildernis kyk, wil ek hê dat ons eers na die agtergrond kyk waarteen hierdie
versoeking van Jesus afgespeel het en dan gaan ons na vier fasette van Jesus se
versoeking kyk (een
vandag en drie D.V. volgende Sondag):
·
Die Plek;
·
Die
Versoeker;
·
Die
Versoekings en
·
Die
Oorwinning
Blaai asb. saam met my na Matt.4:1-11.
2.
SKRIFLESING:
Matt.4:1-11
~ Toe is Jesus deur die Gees die
woestyn [die
Grieks hier is ἔρημος
(eremos), wat dalk eerder vertaal moet word met woesteny of wildernis] in gelei om deur die duiwel
versoek te word. 2 Veertig dae en veertig nagte
het Hy niks geëet nie en naderhand het Hy honger geword. 3 Die versoeker het toe gekom en vir Hom gesê: “As U
die Seun van God is, sê hierdie klippe moet brood word.” 4 Maar Hy antwoord: “Daar staan geskrywe: ’n Mens
leef nie net van brood nie maar van elke woord wat uit die mond van God kom.” 5 Daarna neem die duiwel Hom na die heilige stad toe
en laat Hom op die hoogste punt
van die tempel staan 6 en
sê vir Hom: “As U die Seun van God is, spring af! Daar staan mos
geskrywe: Hy sal sy engele oor jou opdrag gee en: Op hulle hande sal hulle jou
dra, sodat jy nie jou voet teen ’n klip sal stamp nie.” 7
Jesus sê vir hom: “Daar staan ook geskrywe: Jy mag
die Here jou God nie op die proef stel nie.” 8
Toe neem die duiwel Hom na ’n baie hoë berg toe, wys
Hom al die koninkryke van die wêreld met hulle prag 9
en sê vir Hom: “Dit alles sal ek vir U gee as U
neerval en my aanbid.” 10 Maar
Jesus sê vir hom: “Gaan weg, Satan, want daar staan geskrywe: Die Here jou God
moet jy aanbid en Hom alleen dien.” 11
Daarna het die duiwel Hom met rus gelaat, en daar
het engele gekom en Hom versorg.
3.
JESUS SE VERSOEKING:
·
Die Agtergrond:
Waar begin die verhaal van die Bybel? Dit
begin met die Tuin (die
Tuin van Eden). Adam was in ’n tuin geplaas en daar het God alles
denkbaar aan Adam gegee wat hom genoegdoening kon verskaf – daar was vrugtebome
met wonderlike vrugte aan; daar was die diere wat Adam se vriende was; Eva was
daar wat sy helper was; Adam het Eva volmaak lief gehad en sy het hom volmaak
lief gehad. Die beste van alles – God het afgekom en saam met Adam in die
aandwindjie gewandel. In hierdie Tuin het daar geen pyn of hartseer bestaan
nie; daar was geen vrees nie; geen gevaar nie; geen honger en dors nie; geen
eensaamheid nie; geen siekte of dood nie – alles was volmaak!
Alles rondom Adam het getuig van God se
liefde en volmaaktheid; van Sy genade en barmhartigheid; van Sy almag, maar ook
van Sy heiligheid. Adam het dus al die rede in die wêreld gehad om God lief te
hê en om Hom te vertrou en om Hom te gehoorsaam, maar toe het die “Groot
Versoeker” die Tuin binnegekom en hy (Satan – julle ken die verhaal) het met Eva gepraat – en wat sê
hy vir haar? Hy sê, God gee nie om nie. God
is besig om jou te mislei. God sal jou nie toelaat om van die vrugte van die
Boom van Kennis te eet nie, want Hy wil nie hê dat jy wys sal word nie. God is
nie eerlik nie, want Hy hou allerlei goeie goed weg van jou. Al gee Hy voor dat
Hy jou vriend is, is Hy eintlik teen jou. Ons moet in gedagte hou dat Adam die
heeltyd daar was, terwyl die slang met Eva praat. Wat gebeur nadat die slang
met Eva gepraat het? Sy pluk die vrug – sy bied ook die vrug aan Adam om
daarvan te eet en in plaas daarvan dat Adam haar teregwys en in plaas daarvan
dat hy weier om daarvan te eet, neem hy die verbode vrug van haar en eet ook hy
daarvan.
Adam
het geen verskoning gehad nie – God het hom in ’n Tuin met volmaakte
omstandighede geplaas, met tekens van God se volmaaktheid en God se goedheid
rondom hom – en tog sondig Adam! Hy verander opeens van onskuldig tot skuldig
en hy trek God in twyfel, terwyl daar geen rede was om te twyfel in God nie,
want al die getuienis van wie en wat God is, was oral rondom hom. En die straf
op sy sonde? Hy sou sterf – inteendeel, van die oomblik dat hy die verbode vrug
geëet het, was hy reeds in die oë van God morsdood en hierdie wêreld het ’n
vervloekte plek geword – God sê aan Adam in Gen.3:17 ~ ...die aarde (is) deur jou
toedoen vervloek; met swaarkry sal jy daaruit ’n bestaan maak, jou lewe lank; 18 die aarde sal vir jou dorings en dissels laat
uitspruit. Adam is ’n
vervloekte en voortaan sal hy en sy nageslag op ’n vervloekte aarde leef! Hulle
sal uit die Tuin gedryf word in ’n wêreld in, wat ’n wildernis sal wees.
Om
op te som: Adam was versoek in ’n Tuin – ʼn volmaakte plek en ten spyte van die
feit dat God alles aan hom in die Tuin gegee het om hom gelukkig te maak, faal
hy nogtans en is hy ongehoorsaam aan God en daarom ontvang hy die doodsvonnis
en word hierdie wêreld ’n wildernis.
Dan,
honderde jare later het God die mensdom weer getoets, maar hierdie keer was dit
nié in die Tuin nie – nie in ʼn volmaakte omgewing nie – hierdie keer was dit in
die woestyn – in die wildernis.
God
kies vir Hom een nasie – die nasie van Israel en God lei hulle uit Egipte na
die wildernis en daar het Hy hulle getoets vir veertig jaar lank, ten einde vas
te stel of hulle aan Hom gehoorsaam sou wees. Dit was ’n moeilike plek om te
oorleef – daar groei niks nie, net dorings en distels, maar nogtans gee God aan
hulle wonderlike dinge – Hy betoon Sy liefde en genade aan hulle daar in die
wildernis – Hy het manna en kwartels vanuit die hemel vir hulle gegee en water
uit die rots, sodat hulle nooit honger of dors geraak het nie. Daar was ’n
wolkkolom oor die kamp in die dag en ’n vuurkolom in die nag. Hy het belowe dat
hul klere nie gedaan sou raak nie – vir veertig jaar!
God
toets hulle egter daar in die wildernis. Hy het hulle getoets deur pynlike
gebeurtenisse, maar Hy het hulle ook getoets deur die betoning van Sy goedheid.
Waarom het Hy dit gedoen? Om te sien of hulle Hom sou vertrou en of hulle deur
dik en dun aan Hom gehoorsaam sou wees – onder alle omstandighede; ten alle tye.
Hy
wou egter ook aan hulle toon dat Hy ’n God is waarop hulle kon steun en Wie hulle
kon vertrou – en wat het gebeur? Die Israeliete het die toets daar in die
wildernis geheel en al gefaal. Daar was tye dat hulle kwaad geword het vir God
en Hom kwalik geneem het vir hul omstandighede. Daar was tye dat hulle wou
teruggaan na Egipte – die land waaruit hulle verlos is; hulle het ’n goue kalf
aanbid; hulle het gedreig om Moses te stenig; hulle het geweier om die Beloofde
Land binne te gaan en so kan ons aangaan. Die ganse volk van Israel het die “toets
gedruip”! Daarom dat bykans almal van hulle daar in die wildernis onder die
oordeel van God gesterf het.
Sien
julle wat daar gebeur het? God toets die volk Israel daar in die wildernis,
maar Hy toets ook die ganse menseras, want indien die Israeliete die toets sou
druip, sou alle mense die toets druip, want ons is nie anders as hulle nie.
Wanneer ons deur Eksodus en Numeri lees, lees ons, ons eie verhaal. Ons lees
van die kere wat óns God blameer het; van die kere wat óns ongehoorsaam was aan
God; wat óns geweier het om God te vertrou; van die kere wat óns afgode aanbid
het. Ons weet wat gebeur het – ons het keer op keer op keer gesondig.
Ons
praat derhalwe van twee geleenthede waartydens die mens getoets is – Adam was
in ’n volmaakte omgewing geplaas en getoets, maar hy het gefaal en gesondig. Israel
was getoets in ’n wildernis – ’n wildernis waar Israel versorg en beskermd was,
maar nogtans het hulle gefaal. Adam het gefaal en elke mens daarna het deur hom
gefaal. Israel was getoets en hulle het gefaal en daardeur het elke volk deur
hulle gefaal.
Dit
wat die agtergrond betref.
·
Die Plek van Jesus se Versoeking:
Kom
ons kyk dan eerstens na die plek van Jesus se versoeking en dan sal ons D.V.
volgende week na die res kyk.
Kan
julle onthou wat die Stem tydens Jesus se doop gesê het? Dit is my geliefde Seun
(Matt.3:17). Adam was God se
seun deur die skepping (Luk.3:38) en Israel was
God se seun deur die verbond – in Hos.11:1 sê God ~ Toe Israel nog ’n
kind was, het Ek hom al liefgehad, en Ek het hom, my seun, uit Egipte geroep. Jesus was God
se Seun van nature – Hy was die ewige Seun van God wat mens geword het, maar nou dryf
die Gees van God, die Seun van God die wildernis in – na die plek van vervloeking. Jesus gaan
getoets word deur God en Hy gaan versoek word deur Satan. Jesus gaan
egter nié op dieselfde wyse versoek word as Adam, waar alles rondom Hom perfek
was nie. Nee,
Hy gaan in die wildernis versoek word. Adam het ’n Helper aan sy, sy gehad – Jesus
gaan stok siel alleen wees. Adam was voorsien van alles wat hy nodig gehad het en nog meer, terwyl
Jesus ontneem gaan wees van alles. Selfs die diere was Adam se vriende, terwyl
Markus vir ons vertel dat Jesus saam met die wilde diere in die wildernis was ~
Net
daarna het die Gees Hom weggevat die woestyn in, 13waar Hy veertig
dae lank gebly het en deur die Satan versoek is. Jesus was daar saam met die
wilde diere, en die engele het Hom versorg (Mark.1:12-13).
Jesus
gaan ook nie soos die Israeliete versoek word nie – hulle het voordurend die
wolk- en vuurkolom by hulle gehad, maar Jesus gaan in ’n plek versoek en
getoets word, waar daar geen teken van God se teenwoordigheid is nie. Daar in
die wildernis gaan geen teken vir Jesus wees dat die Vader omgee vir Hom nie. Wanneer
Hy in die nag gaan slaap, gaan daar geen vuurkolom wees om Hom op te pas nie – Jesus
was met ander woorde op ’n manier versoek, waarop géén ander mens ooit versoek
was of sal wees nie. Die Heilige Gees dryf Jesus in ’n plek in waar Hy gestroop
was van alle vorme van gerief en sekuriteit en versorging en liefde. Hy het
honger geword; Hy het koud gekry; Hy het voortdurend allerlei gevare
getrotseer; Hy was eensaam en daar was geen teken dat Sy Hemelse Vader omgegee
het nie. Jesus het daar in die woesteny desperaat geraak, want die mees
desperate en negatiewe gedagtes het Hom geteister.
4.
AFSLUITING:
Ek
ken nie regtig enige een van julle se “diepste binneste” nie en hier is van
julle vandag wat dalk voel dat jy ook in die wildernis is – dalk voel jy al
jare so en dalk voel jy dat God jou daarheen gedryf het – dat Hy jou in ’n baie
pynlike en baie eensame en ’n ongenaakbare plek geplaas het en dat jy ook
versoek is – jy ervaar dalk dat jy versoek is om wanhopig te raak; jy is dalk
versoek om in God te begin twyfel; jy is dalk versoek om net op te gee en jy
het gewonder of die Here regtig verstaan hoe swaar jy kry – hoe swaar daardie
versoeking is; of Hy regtig verstaan hoe dit is om “in jou wildernis” te wees.
Onthou
egter dat Jesus presies weet hoe dit voel en hoe dit is om in die wildernis te
wees – inteendeel, onthou dat Hy die wildernis ervaar het soos geen mens dit
nog ooit ervaar het nie – selfs ons ergste “wildernis ervarings” denkbaar is
nie naastenby soos Sy “wildernis ervaring” nie. In die ergste denkbare
situasies in die woestyn, het die Israeliete steeds God se teenwoordigheid
ervaar en het hulle iets van God se vertroosting en versorging en beskerming
geniet en God doen presies dieselfde vir ons ook – ons is nooit volkome alleen
nie – maar nie Jesus nie – Hy was van God verlate.
Die
meeste van ons het tog iewers familie en sommige van ons het tog iewers, ’n
paar Christenvriende wat omgee vir jou en wat bid vir jou. Iewers was daar vir
die Israeliete ’n oasis in die woestyn – iewers is daar ’n oasis in jou lewe.
Jesus het egter geen oasis gehad nie. In Sy wildernis het Hy niemand gehad nie.
In jou en my slegste oomblikke is daar tog iets wat ons kan doen om ons
woesteny te verlig – al is dit ook net om ’n koppie tee vir jouself te gaan
maak. Jesus het egter niks gehad om Hom te vertroos en te versterk nie – Hy was
dieper in die wildernis en die duisternis as wat ek en jy ooit kan wees.
Jesus
verstaan eensaamheid; Hy verstaan pyn; Hy verstaan hartseer; Hy verstaan
verwerping; Hy verstaan vrees; Hy verstaan wanneer God geen teken gee dat Hy
omgee nie. Hy verstaan hoe desperaat jou situasie is. Hy verstaan hoe verlore
jy dalk is. Hy ken jou wroeginge en jou uitroepe, maar meer belangrik nog – Hy
verstaan dit – My God, My God, waarom het U my verlaat (Mark.15:34).
Dit
is die eerste punt wat ek wil maak – Waar was Jesus versoek? Hy was in die
wildernis versoek. Jesus het in hierdie vervloekte wêreld ingekom; in hierdie
wildernis-wêreld – ’n wêreld wat vervloek is deur Adam se sonde en Jesus moes
Sy Vader in hierdie wildernis-wêreld gehoorsaam en Hy het ter wille van jou en
my en veral ter wille van die eer van
God na die wildernis gegaan om daar versoek te word, sodat Hy met ons
versoekings en beproewings kan identifiseer en daarom kan ons ten alle tye die
vrymoedigheid neem om na Hom te gaan, omdat Hy reeds die “pad geloop” het en
daarom verstaan Hy.
As
die Here wil, sal ons volgende week verder kyk na Jesus se versoeking in die
woestyn en dan spesifiek na die Versoeker; die Versoekings en Jesus se
Oorwinning.
Boodskap gebring deur Kobus van der Walt te Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Sondagoggend 28 Oktober 2014