Vir Oudio-opname van Preek - sien bo en volg verlangde skakel
1. SKRIFLESING:
1. SKRIFLESING:
Sagaria
1:7-17 ~ Op die vier en twintigste dag van die
elfde maand, die maand Sebat, in die tweede regeringsjaar van Darius, het die
woord van die Here gekom tot die profeet Sagaria seun van Berekja, seun van
Iddo. 8Ek
het in die nag ’n gesig gesien. Daar het ’n man op ’n bruin perd gesit. Hy was
tussen die mirtestruike in ’n diep kloof, en agter hom was ruiters op bruin en
vos en wit perde. 9Ek het gevra: “Wat beteken dit, Meneer?” ’n Engel
wat vir my die gesig moes uitlê, het vir my gesê: “Ek sal jou laat sien wat dit
beteken.” 10Toe praat die man wat tussen die mirte was. Hy het gesê:
“Dit is die ruiters wat deur die Here uitgestuur is om die wêreld te
deurkruis.” 11Die ruiters sê toe vir die engel van die Here, vir die
engel wat tussen die mirte was: “Ons hét die wêreld deurkruis, en die hele
wêreld is rustig en stil.” 12Toe sê die engel wat vir my die gesig
moes uitlê, die engel van die Here: “Here, Almagtige, hoe lank gaan dit nog
duur voordat U U weer oor Jerusalem en die stede van Juda ontferm? U toorn rus
nou al sewentig jaar op hulle!” 13Die Here het die engel vriendelik
geantwoord en hom bemoedig. 14Daarna sê die engel vir my: “Roep en
sê: So sê die Here die Almagtige: Ek is hartstogtelik begaan oor Jerusalem, oor
Sion. 15My toorn gaan losbreek teen die nasies wat nou so sorgvry
woon, want my toorn teen Jerusalem was nie so groot nie; dit is die
heidennasies wat dit so ’n groot ramp laat word het. 16Daarom, so sê
die Here, gaan Ek My weer oor Jerusalem ontferm: my tempel daar gaan herbou
word, sê die Here die Almagtige, Jerusalem sal opnuut as stad uitgelê word. 17“Roep
weer en sê: So sê die Here die Almagtige: My stede sal weer oorstroom word deur
voorspoed. Ek, die Here, gaan weer genade betoon aan Sion, Ek gaan Jerusalem
weer my woonplek maak.”
2. INLEIDING:
In
ons gelese gedeelte is daar o.a. sprake van ʼn Mirtestruik en net t.w.v.
agtergrond so iets meer oor die Mirtestruik. Hierdie groot struik, is inheems
aan Israel en groei veral in klam gebiede en in klowe en die Hebreeuse naam is הֲדַס [hadac /had·as/], dit is ʼn
veeltakkige en digte immergroen struik met groterige blare, blou-swart bessies
en pragtige wit blomme. Die hout word hoofsaaklik gebruik om houtskool van te
maak, terwyl die olieryke blare gebruik word om parfuum te vervaardig; die sap
dien as ʼn geneesmiddel en in Sardinië word daar selfs ʼn likeur van die struik
gemaak.
Daar
word op verskeie plekke in die Ou Testament verwys na die Mirtestruik – o.a. in
Jes.41. Ons sien in Neh.8:16 dat ...die
familiehoofde van die hele gemeente en die priesters en Leviete by Esra die
skrifgeleerde bymekaargekom om die inhoud van die wet te bestudeer. 15Hulle
vind toe in die wet geskrywe dat die Here deur Moses opdrag gegee het dat die
Israeliete in hutte moet woon vir die duur van die fees (die Huttefees) in die sewende maand, 16en
dat hulle die oproep moet maak en dit in al die stede en in Jerusalem moet laat
afkondig: “Gaan na die berge toe en bring olyftakke, olientakke, mirtetakke,
palmtakke, takke met digte blare om hutte te maak soos dit voorgeskryf is. Mirtetakkies
is ook in opdrag van Lev.23:40 saamgebind met Palmtakke, Wilgertakkies en ʼn
sitrusvrug met die naam van “Etrog” – hierdie bondel word ʼn “Lulav” genoem ~ Op die eerste dag moet julle sitrusvrugte
neem saam met palmblare en takke van digte bome en rivierwilgers, en dan moet
julle sewe dae lank met vreugde feesvier by die heiligdom van die Here julle
God. Hierdie “Lulav” is voor
die Sinagoge in ses rigtings rondgeswaai terwyl ʼn Hallel (gedeeltes
uit Ps.113-118) voorgedra
is.
Die
simboliek agter die ses rigtings, is om aan te dui dat God oral is – dat Hy
alomteenwoordig is. Die “Lulaf-gerf” is o.a. ook simbool van onsterflikheid (bietjie
later meer hieroor), asook
liefde en vrugbaarheid, daarom dat daar in sommige Middellandse See-kulture
vandag nog Mirteblomme en –blare voor bruide gestrooi word tydens die
huweliksprosessie.
Waarom
is daar vier verskillende spesies plante gebruik in hierdie “Lulaf-gerf”? Daar
is sekerlik baie homiletiese verduidelikings wat die getal vier in die
“Lulaf-gerf” simboliseer, maar die heel beste verduideliking is waarskynlik dat
daar vier verskillende soorte Jode is, nl.:
·
Die Jode wat oor baie kennis en goeie werke
beskik – hulle, word verteenwoordig deur die Etrog wat ʼn baie lekker smaak het,
maar ook oor ʼn heerlike geur beskik.
·
Die Palmtakke het geen smaak of reuk nie en dit
simboliseer daardie Jode wat kennis het, maar wat nie goeie werke uitleef nie.
·
Die Mirte is die teenoorgestelde van die Palm –
dit smaak na niks, maar het ʼn heerlike geur en dit simboliseer diegene met min
kennis, maar by wie goeie werke wel aangetref word.
·
Laastens, die Wilgertakke – Wilgertakke beskik
ook oor geen smaak of geur nie en dit simboliseer geen kennis en geen goeie
werke nie.
Omdat
die Joodse gemeenskap uit hierdie vier groepe bestaan, word hierdie vier
spesies saamgebind en saam rondgeswaai, ten einde eenheid in die Joodse
gemeenskap te simboliseer.
Daar
is egter nog ʼn baie belangrike en interessante verduideliking en dit is dat
hierdie vier spesies die menslike liggaam uitbeeld: die Etrogvrug is die hart;
die Palm is die ruggraat; die Mirte, die oë en die wilge tak, die mond en
hierdie vier wat saam gewuif word voor die Here tydens Sukkot (of
te wel die Loofhuttefees) simboliseer
die gelowige wat met sy hele wese die Here God aanbid, verheerlik en dien.
Laastens
is die Mirtestruik ook simbool van die ingang na die hemel.
3. INLEIDING
TOT EERSTE NAGGESIG (vv.7-17):
Hoofstuk
1:7 tot en met 8:22 bevat agt sg. Naggesigte. Die gesigte wat Sagaria sien
vertoon elkeen 'n basiese struktuur, nl.:
·
'n Inleiding;
·
Besonderhede oor die gesig en...
·
Die verklaring wat die engel aan hom verskaf.
Ons
sien in v.7 dat Sagaria homself weer identifiseer en ook presies sê wanneer hy
hierdie gesig gesien het, trouens dit is die eerste en enigste keer dat hy 'n
datum verskaf by enige van die agt gesigte, en wel op 15 Februarie 519 v.C. Die
feit dat hy net een datum verskaf, dui waarskynlik daarop dat Sagaria al agt
gesigte gedurende dieselfde nag gesien het.
In
hierdie agt gesigte word simboliese taal gebruik wat dit moeilik maak om die
gesigte goed te begryp, maar wat ons wel weet is dat die doel met hierdie
gesigte is om die toekoms van Jerusalem en Juda bekend te maak.
Wat
ook interessant is, is dat 4 sulke gesigte gewoonlik 'n orakel, of eenheid vorm
en dit word algemeen aanvaar dat hierdie opsommings was van Sagaria se preke
aan die volk.
Sagaria
se beskrywing in v.8 van wat hy ervaar, of ontvang het, nl. - Ek het in die nag ’n
gesig gesien..., is 'n tegniese uitdrukking en beteken dat Sagaria
'n openbaring van God ontvang het en impliseer dus meer as bloot net menslike insig,
of bloot net 'n droom wat ontspring in iemand se onderbewuste – dit is in
ooreenstemming met wat Jesaja bv. in Jes.30:10 aan die Israeliete gesê het, toe
hy hulle aangespreek het omdat hulle vir die profete gesê het ~ "Moenie
gesigte sien nie!" Hulle sê vir dié wat gesigte sien: "Moenie gesigte
sien oor wat ons moet doen nie, vlei ons liewer, sien liewer dinge wat ons
mislei!". Hierdie gesigte was dus die spreke van die Here wat
gerig was aan Sy volk.
'n
Naggesig, of 'n gesig, of 'n visioen, of 'n profesie, of 'n openbaring, is dus
'n Goddelik-geïnspireerde boodskap wat die Here vir 'n profeet gegee het. Net
so terloops, let ook op dat daar nie meer profete in ons dae is wat sulke
geïnspireerde boodskappe ontvang nie, omdat die Woord van God volledig is (die kanon is afgesluit) en
daarom het ons geen nuwe openbarings meer nodig nie – as iemand dus na jou toe
kom en vir jou sê dat hy (nogal
ironies – deesdae is dit hoofsaaklik "profetesse") 'n profesie
oor jou gehad het – verwerp dit met die minagting wat dit verdien en hardloop
ver weg van so 'n "profeet/profetes", want so 'n persoon tree nie net
onbybels op nie, maar sondig, want sy/haar "profesie" is uit die
vlees.
Met
die feit dat Sagaria in v.9 skryf ~ Ek het gevra: “Wat beteken dit, Meneer,
wil hy vir ons laat verstaan dat hy nie aan die droom was nie, maar dat hy
intellektueel wakker was – die Here het inderdaad met hom gepraat.
4. BESONDERHEDE
VAN DIE GESIG:
Na
die inleidende gedeelte (v.7)
volg daar nou 'n beskrywing van wat die profeet in sy eerste gesig sien.
Hy sien 'n man op 'n bruin perd tussen mirtestruike, in 'n diep kloof net buite
die stad – hierdie kloof was waarskynlik die Kedronvallei buite Jerusalem waar koning
Sedekia se paleistuin was (2 Kon.25:4) en die perderuiter word verskans deur die digte
mirtestruike. Die mirte, in hierdie geval, is simbool vir die ingang na die
ewige lewe, terwyl die donker kloof, gevaar simboliseer. Hierdie twee beelde (die mirte en die donker
kloof) impliseer derhalwe die spanningsveld wat daar vir gelowiges
bestaan tussen die hemel aan die eenkant en die diep klowe van gevaar in
hierdie lewe (die
spanning tussen "die hier en die nog nie").
Agter
hierdie ruiter op sy perd was daar nog perde, met verskillende kleure en soms
in die Skrif word daar bepaalde betekenisse geheg aan die kleur van perde, soos
bv. in Openb.6:1-18, maar in hierdie geval wil dit blyk asof daar geen bepaalde
waarde geheg moet word aan die verskillende kleure van die perde nie, want dit
het uiteindelik geen effek op die betekenis van hierdie naggesig nie.
Die
ruiters op hierdie perde is gesante van die Here wat die wêreld voortdurend
moet deurkruis op inspeksietogte (sien bv. Job 1:7; 2:2, waar die satan dit ook gedoen het) –
netnou ʼn bietjie meer daaroor.
5. DIE
VERKLARING VAN DIE NAGGESIG (vv.7-17):
Kom ons kyk egter na die toneel wat hier
buite Jerusalem afgespeel het en ons gaan dit doen aan die hand van die
volgende raamwerk:
·
Die
Profeet (vv.7-11):
-
Sy Vraag (vv.7-9a);
-
Die
Antwoord (vv.9b-11);
·
Die Engel (vv.12-17);
-
Sy Vraag (v.12) en
-
Die
Antwoord (vv.13-17).
·
Die Profeet (vv.7-11):
-
Sy vraag (vv.7-9a):
Nadat
die profeet hierdie naggesig ervaar het, vra hy, “Wat beteken dit, Meneer?”, waarop hy onmiddellik
ʼn antwoord gaan ontvang en hierdie antwoord en uitleg, sien ons in v.9, kom van
ʼn Engel wat op ʼn bruin perd sit.
-
Die
Antwoord (9b-11):
Wie
was hierdie man op die bruin perd? Kom ons spring so bietjie vooruit en kyk na
v.11, want hier word Hy geïdentifiseer as ...die engel van die Here. Hierdie uitdrukking kom gereeld op
strategiese tye in die Ou Testament te voorskyn. Ons sien dit bv. vir die
eerste keer in Gen.16:7 ~ Die Engel
van die Here het vir Hagar ontmoet by ’n fontein in die woestyn... Dit het gebeur nadat Hagar gevlug
het van die twee vroue in sy lewe, Sarai en haar slavin. Dieselfde gebeur ʼn
bietjie later in Gen.18:1, maar hierdie keer word die Engel in meer besonderhede
beskryf ~ Die Here (יְהוִה [Yâhovah /yeh·ho·vaw/]) het
aan Abraham verskyn by die groot bome van Mamre. Ons vind nog ʼn voorbeeld in Jos 5:13-15 ~ Josua was naby Jerigo. Toe hy sien, staan daar ’n
man voor hom met ’n ontblote swaard in die hand. Josua het na hom toe gegaan en
hom gevra: “Is u aan ons kant of aan ons vyande s’n?” 14“Nee,”
sê die man, “ek is die aanvoerder van die leër van die Here. Daarom is ek
hier.” Josua het diep gebuig en vir die man gesê: “Wat wil u aan my, u dienaar,
sê?” 15Toe sê die leëraanvoerder van die Here vir Josua: “Trek jou
skoene uit, want die plek waarop jy staan, is ’n gewyde plek.” Josua het dit
gedoen. Die NAV en meeste
ander vertalings sê dat Josua sy skoene uitgetrek het omdat hy op gewyde grond
gestaan het, maar die ESV vertaal dit baie mooi en korrek ~ And Joshua fell on his face to the earth and
worshipped Him and said to Him, ‘What does my Lord sat to His servant?” Die
Hebreeuse woord שָׁחָה [shachah /shaw·khaw/]
verskyn in die
oorspronklike teks wat vertaal word met aanbidding (“worship”).
Wanneer
hier in Sag.1:9 verwys word na die Engel, word daar derhalwe verwys na die Here
Jesus Christus self.
Die
Ruiter vertel nou aan Sagaria wat die naggesig beteken en Hy sê vir Sagaria dat
die perderuiters, uitgestuurde verteenwoordigers van die Here is, wat die
wêreld deurkruis, net soos die Persiese monarg wat boodskappers deur sy Ryk
stuur om boodskappe uit te dra en terselfdertyd op hoogte te bly van wat in die
Ryk aan die gang is – net so weet die Here presies wat aan die gang is in die
wêreld – onthou hierdie is ʼn beeld, want ons weet tog dat God nie net
alomteenwoordig is nie, maar ook alwetend. Die Engel sê bloot vir Sagaria, dat
die Here presies weet wat in die wêreld aan die gang is – ook in die Persiese
Ryk waaronder Sagaria en sy volksgenote hulle nou op hierdie stadium bevind.
Die
Engel sê dan ook vir Sagaria dat alles op daardie stadium goed gaan en alles is
rustig en stil (v.11).
Twee vrae spruit egter voort uit hierdie antwoord van die Engel aan Sagaria,
nl., (a) is dit goeie of slegte nuus?
(b) na watter tyd, of tydperk word
daar verwys?
(a) In die lig van v.15 is dit duidelik
dat hierdie nié ʼn positiewe reaksie is nie, want dieselfde Hebreeuse woord word
in Jes.30:7 gebruik waar daar neerhalend na Egipte verwys word ~ Egipte is
niks, sy hulp beteken niks! Ek noem hom Rahab, die een wat niks kan doen nie.
Hier het Jesaja verwys na Egipte wat geen internasionale ooreenkomste eerbiedig
het nie en hulle derhalwe nie aan God se geregtigheid onderwerp het nie – die
Engel sê dus vir Sagaria, dat die wêreld in sonde is en teen God se
Raadsbesluite optree. Ons weet ook n.a.v. Eseg.16:49 dat Sodom in sonde was ~ Jou
suster Sodom se sonde was dat sy en haar dogters selftevrede en rustig in
hoogmoed en oorvloed geleef het en vir die mens in nood en die arme niks
oorgehad het nie. Dieselfde het ook gegeld vir Moab (Jer.48:11). Beide
hierdie twee volke se toestand was dus lynreg teenoor God se ywer en begeerte
na geregtigheid.
(b) Wat die tweede vraag aan betref:
Daar is geen aanduiding iewers in die Skrif dat Sagaria teruggevoer was in tyd
of nie en daarom moet ons aanvaar dat hy hierdie naggesig wel gedurende
Februarie 519 v.C. ontvang het en dat die volkere rondom die Israeliete op
daardie stadium in sonde was.
·
Die Engel (vv.12-17):
Die aandag verskuif nou skielik van
Sagaria na die Engel wat ʼn vraag aan God self vra.
-
Sy Vraag (v.12):
Die
Engel spreek God aan as Almagtige en daardeur gee Hy erkenning aan God, nl. dat
Hy die Verbondsgod van Israel is – die Een wat in ʼn verbond staan met Israel en
wat derhalwe ʼn simpatieke God is.
Die
Engel vra, hoe lank nog – hoe lank nog voor Jerusalem en die tempel herbou sal
word en by implikasie, wanneer sal God weer in die volk se midde wees? Hy sê
ook dat God se toorn nou al sewentig jaar op die volk rus – hierdie was nie
letterlik sewentig jaar nie, maar 70 in hierdie geval, is simbool vir ʼn tydperk
wat algemeen in die antieke tye gebruik was om God, of die volk se god, se
toorn op ʼn volk of stad aan te dui – die Engel vra dus hoe lank gaan die Here
se toorn nog op Sy Verbondvolk rus.
-
Die
Antwoord (vv.13-17):
Die
Here se antwoord is baie bemoedigend. Die volk moenie moed verloor nie, want
die toorn van die Here is verby en Hy gaan Hom weer ontferm oor Jerusalem en sy
volk, trouens die Here sê in v.14 dat Hy hartstogtelik begaan is oor Jerusalem
– letterlik staan daar dat Hy grootliks jaloers is op Sion en dat Hy hulle
derhalwe wil koester en versorg en beskerm – soos ʼn hen haar kuikens. Die
tydperk van swaarkry sal dus nie vir altyd duur nie. Die tempel gaan herstel
word en die verwoeste Jerusalem gaan weer as nuwe stad herrys – teenoor die
teenspoed van nou, gaan daar ongekende voorspoed kom, trouens ons sien in v.17
dat die hele land oorstroom gaan word met voorspoed. In v.17 word die woord
“weer”, nie minder as vier keer gebruik en dit dui op die oorvloed wat die volk
gaan ervaar.
Die
belangrikste van alles is egter, dat die volk weer soos vanouds, die Here se
teenwoordigheid gaan beleef, want die Here gaan weer Sy plek in Jerusalem – in
die tempel inneem (kan julle die sentraliteit van die tempel in
die ou verbond sien en waarom die tempel in 70 n.C., permanent vernietig is ten
einde die aanvang van die Nuwe Verbond aan te kondig? Daarom ook, dat die
tempel nooit weer herbou sal word nie, want die simbool van die Ou Testament
het saam met die ou verbond vir goed verdwyn. Die boodskap van Markus 11
& 13 – wat ook sterk deur die Johannes Evangelie uitgelig word, is dat die
Joodse tempel en tempelbedeling misluk het. JESUS SELF IS NOU GOD SE
TEMPEL. In Hom beleef ons nou die heerlikheid van God. Hy gee ons
toegang tot die ware aanbidding van God!).
Terselfdertyd
sê God egter ook dat Hy, net soos wat Hy vuriglik jaloers is op Sy kinders, ook
nou vuriglik toornig is op die heidennasies. God se toorn (of
Sy “kwaad-kwaad” – onthou julle nog?)
oor die volk se voorvaders (1:2), het nou verskuif na die heidennasies. Die Here het die
heidennasies gebruik om Sy volk te straf, maar hulle het dit té ver gevat deur
onnodiglik hard en brutaal met Sy verbondskinders te wees en as gevolg daarvan
het hulle vol sondige selfvertroue geraak en hul Goddelike mandaat oorskry –
hoor wat het Jesaja geprofeteer oor Babel (Jes.47:6-11) ~ Ek was kwaad vir my volk, Ek het hulle
nie meer as my besitting beskou nie; daarom het Ek hulle in jou mag oorgegee. Maar
jy het nie met hulle medelye gehad nie; selfs op die oumense het jy ’n swaar
juk gelê. 7Jy het gedink jy sal altyd bestaan, altyd heers. Jy het
nie aan die gevolge gedink nie, jy het nie gedink aan wat sal gebeur nie. 8Luister
dan nou hierna, jy wat in wellus lewe, jy wat so rustig woon, jy wat dink: daar
is niemand soos ek nie, ek sal nie sonder ’n sorg sit soos ’n weduwee nie, en
ek sal nie my inwoners verloor nie. 9Altwee hierdie dinge sal jou
oorval, in een oomblik, op dieselfde dag: jy sal jou inwoners verloor en
niemand sal vir jou sorg nie. Dit sal jou voluit tref ondanks jou baie
toordery, ondanks jou magdom beswerings. 10Jy het op jou bose dade
vertrou, jy het gedink daar is niemand wat jou sien nie. Jou wysheid en jou
kennis het jou mislei, en jy het gedink: daar is niemand soos ek nie. 11Maar
daar kom ’n ramp oor jou wat jy nie kan besweer nie, onheil oorval jou, en jy
kan dit nie met ’n losprys keer nie. Jou ondergang kom skielik, jy het dit nie
verwag nie (sien ook Eseg.
25-32; Obadja 15-18; 2:6-20).
6. TOEPASSING:
Dit
is nie moeilik om die ooreenkoms raak te sien tussen hierdie gesig wat Sagaria
aan die einde van die Ou Testament beleef het en die visioen wat Johannes aan
die einde van die Nuwe Testament in Openbaring beleef het nie. In Openb.1:20
sien ons Jesus tussen die sewe goue kandelaars staan en vanuit daardie posisie
bemoedig Hy Sy kinders en net soos wat Jesus in die midde van die mense van
Israel in Sagaria se tyd was, net so is Hy ook in die midde van Sy uitverkore
volk, die Kerk van die Here Jesus Christus – Hy is altyd teenwoordig by diegene
wat Jesus Christus as Here en Verlosser volg ~ ... En onthou: Ek is
by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld (Matt.28:20b). Hy bemoedig ons deur Sy Woord, maar Hy
daag ons ook voortdurend uit wanneer Hy sê ~ As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, elke dag sy
kruis opneem en My volg (Luk.9:23).
Die
Here staan nou in ʼn verbond – ʼn ewige verbond, met ons en daarom is Hy ook nou
vir ons ʼn simpatieke God en ons moet moed hou in tye van swaarkry, want Sy
toorn is deur Christus Jesus nou van ons afgewend en net soos wat Hy begaan was
oor Israel van ouds, is Hy nou begaan oor elkeen van ons wat in Christus Jesus
is – Hy gaan en sal ons koester en versterk en versorg en ons het gesien dat
Jesus self nou God se tempel in ons midde is en daarom beleef ons Sy
voortdurende teenwoordigheid en Sy heerlikheid in ons lewe en omdat Hy ons Hoë Priester
is, het ons ware en vrye toegang verkry tot die
ware aanbidding van God!
Mag
ons uit hierdie naggesig van Sagaria leer, dat wanneer dinge vir ons hopeloos
lyk, dit nié ʼn hopelose saak vir die Here is nie. Waar mense begin moed
verloor, het die Here nog nie moed verloor nie en sal Hy ook nooit moed verloor
nie. Waar mense nie meer kan nie, kan God nog. God bring uitkoms uit ʼn situasie
waar daar volgens ons oordeel glad nie meer ʼn uitkoms is nie. Ons moet maar net
vashou aan die beloftes wat die Here in Sy Woord aan ons maak totdat die
uitkoms wat Hy beloof het, kom, maar terselfdertyd moet ons ook vaandeldraers
vir ons Koning in ʼn verloregaande wêreld wees – ʼn wêreld waar mense geen hoop
in hierdie lewe, óf in die hiernamaals het nie; in ʼn wêreld waar mense gebroke
en hartseer, verward en verlore is; ʼn wêreld waar daar geen vrede heers nie –
nie innerlike vrede nie en ook nie uiterlike vrede nie.
Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Sondag 09 November 2014