1. INLEIDING:
Die vorige keer wat ons na Sagaria gekyk het (Sag.6:9-15),
het ons na ’n profetiese vooruitskouing van Jesus
Christus gekyk en ons het ook gesien dat Hy, die Loot genoem is. Sagaria het
onder meer, Christus geïdentifiseer as Koning en Hoë Priester. Sagaria het ook
daarna verwys dat “die Loot”
self Sy Tempel sal
bou en dat die hoofgedagte met die
Tempel was om heen te wys na God se woonplek onder Sy kinders, die plek waar Sy
heerlikheid en teenwoordigheid onder Sy kinders weerspieël was en dat die
objekte in die Tempel, God se karakter verteenwoordig het.
Dit het ook duidelik geblyk dat die gelowiges van oor die wêreld heen, ’n
impak op die Kerk van Christus sal hê.
Laastens het ons ook gesien dat die Here vir ons gesê het, dat Hy ons sal opbou in die
allerheiligste geloof, indien ons na Sy Woord luister en dit gehoorsaam.
2. SKRIFLESING:
Sag.7:1-14 ~ In die vierde regeringsjaar van koning Darius het die woord van die Here
tot Sagaria gekom. Dit was op die vierde Kislef, die negende maand. Die mense
van Bet- El het vir Sar- Eser en vir Regem- Melek met sy manne gestuur om die
Here te raadpleeg. Hulle moes vir die priesters by die huis van die Here die
Almagtige en vir die profete vra: "Moet ons nog in die vyfde maand huil en
vas soos ons nou al jare lank doen?" Die woord van die Here die Almagtige
het toe tot my gekom: Sê vir almal in die
land en vir die priesters: Julle vas en treur nou al sewentig jaar lank in die
vyfde en in die sewende maand, maar vas julle tot my
eer? En as julle eet en drink, doen julle dit vir julleself. Daar is mos ook
nog die woorde wat Ek, die Here, deur die vroeëre profete laat
aankondig het in die tyd toe Jerusalem nog bewoon en veilig was en toe die stede rondom
Jerusalem en ook die Suidland en die Laeveld bewoon was. Dié woord van die
Here het ook tot Sagaria gekom: So het die Here die Almagtige gesê: Laat reg
geskied aan almal, bewys liefde en barmhartigheid aan mekaar; moenie die
weduwee en die weeskind, die vreemdeling en die arme verdruk nie; moenie bose
planne teen mekaar bedink nie. Maar die volk het geweier om daarop ag te slaan,
hulle was moedswillig, hulle het hulle doof gehou, hulle het hulle soos die
hardste klip gehou en wou nie luister na die wet en na die boodskap wat die
Here die Almagtige deur sy Gees, deur die vroeëre profete,
gestuur het nie. Daarom was die toorn van die Here die Almagtige so groot. Hy
het geroep, maar hulle het nie geluister nie, en toe het die Here die Almagtige
gesê: Ek sal ook nie luister as hulle roep nie, Ek sal hulle met 'n stormwind
verstrooi onder al die nasies vir wie hulle tot nou toe onbekend was, en agter
hulle sal die land so verwoes wees dat niemand meer daar deurtrek nie. Hulle
het van' n pragtige land 'n verwoeste wêreld gemaak.
SAG.8:1-23: Die woord van
die Here die Almagtige het tot my gekom. So sê die Here die Almagtige:Ek is hartstogtelik
begaan oor Sion, Ek het woedend geword vir sy vyande, so begaan is Ek oor hom.
So sê die Here:Ek gaan
na Sion toe terugkom, Ek gaan in Jerusalem woon. Jerusalem sal genoem word Stad
van Trou, Berg van die Here die Almagtige, Heicsclige Berg. So sê die Here die Almagtige:Daar sal weer bejaarde
mans en vrouens, ryp in jare, op die pleine in Jerusalem sit, elkeen met 'n
kierie in die hand. Die pleine in die stad sal vol seuns en dogters wees wat
daar speel. So sê die Here die
Almagtige:As dit vir die oorblyfsel van hierdie volk vandag onmoontlik lyk,
moet dit dan ook vir My onmoontlik lyk? Die Here die Almagtige het dit gesê. So sê die Here die Almagtige:Ek
gaan my volk red uit die land in die ooste, uit die land waar die son opkom. Ek
gaan hulle bring, en hulle gaan in Jerusalem woon. Hulle sal my volk wees, en
Ek sal hulle God wees, in trou en in geregtigheid. So sê die Here die Almagtige:Skep moed! Julle het
gehoor wat die profete destyds gesê het toe die fondamente van die tempel van die Here
die Almagtige gelê is sodat dit
herbou kan word. Voor daardie tyd was daar nie geld om mense of diere te huur
nie, en die toestand was so gevaarlik dat niemand veilig kon beweeg nie. Ek het
al die mense mekaar se vyande gemaak. Maar nou is my houding teenoor die
oorblyfsel van hierdie volk anders as toe, sê die Here die Almagtige. Daar sal nou voorspoed
wees:die wingerdstok sal sy druiwe dra, die land sal sy oes lewer, die hemel
sal sy vog lewer, en Ek sal dit alles aan die oorblyfsel van hierdie volk gee.
Julle name, Juda en Israel, is onder die nasies gebruik in vervloekings, maar
Ek het julle gered, en nou sal julle name gebruik word in seënwense. Moenie
bang wees nie, skep moed! So sê die Here die Almagtige:Omdat julle voorvaders
my toorn laat ontvlam het, het Ek besluit om julle kwaad aan te doen, en Ek het
nie die straf herroep nie, sê die Here die
Almagtige. Maar nou is my bedoeling anders:Ek wil goed doen aan Jerusalem en
Juda. Moenie bang wees nie! Wat julle moet
doen, is dit:Praat die waarheid met mekaar, laat die waarheid en die reg geld
in julle regspraak sodat daar vrede onder julle kan wees. Moenie bose planne
teen mekaar bedink nie, moenie vals ede bly aflê nie. Ek haat sulke dinge, sê die Here. Die woord van die Here die Almagtige
het tot my gekom. So sê die Here die Almagtige:Elke vasdag, of dit nou
val in die vierde of die vyfde, die sewende of die tiende maand, sal vir Juda'
n dag van vrolikheid word, 'n dag van vreugde. Dié dae sal
feestelike byeenkomste word, maar dan moet julle bly by die waarheid en sorg
dat daar vrede onder julle is. So sê die Here die Almagtige:Volke sal kom, inwoners
van baie stede. Die inwoners van een stad sal na dié van die volgende
toe gaan en elkeen sal sê:"Kom ons gaan
raadpleeg die Here, ons gaan vra na die wil van die Here die
Almagtige. Ek gaan ook!" Baie volke sal kom, groot nasies, om in Jerusalem
na die wil van die Here die Almagtige te vra, om Hom te raadpleeg. So sê die Here die Almagtige: Daardie tyd sal
uit al die nasies tien man een Judeër aan die klere
gryp en sê:"Ons wil met julle saamgaan, want ons het gehoor God is by julle.
3. LITTERêRE PATROON:
Hierdie
twee hoofstukke is die laaste paragraaf van die eerste gedeelte van die boek
Sagaria en dit is geskryf in ’n “konsentriese
struktuur”, of te wel “chiastiese
struktuur”. Een van die
ander tipes literêre strukture, is ’n “liniêre struktuur” en dit kan as volg voorgestel word: a,
b, c, d, e, f,, ens., terwyl ons ’n “konsentriese
struktuur” as volg kan
voorstel: a, b, c, X, c, b, a, ens. Na die “X” word die eerste gedeelte herhaal, maar op die
teenoorgestelde volgorde en baie dikwels ook die negatiewe daarvan. Die “X” is dan ook die
sentrale tema van die gedeelte.
In die
geval van hoofstukke sewe en agt, sien die stuktuur as volg daar uit:
a) Die Vraag oor
Vas (7:1-3);
b) Boodskap teen
Skynheiligheid (7:4-14);
X) God se Belofte (8:1-8);
b) Boodskap oor
Opregte Gehoorsaamheid (8:9-17);
a) Die Antwoord:
Van Vas tot Fees (8:18-23).
Met die lees van
hierdie twee hoofstukke bevind ons onsself twee jaar later nadat Sagaria die
naggesigte van die Here ontvang het. Sagaria het sy bediening in 516 v.C. begin
(dieselfde jaar as wat bouwerk aan die tempel begin is) en ons weet ook
dat bouwerk aan die tempel in 520 v.C. voltooi is. Die Tempel is dus al halfpad
klaar gebou met die skrywe van hierdie hoofstukke.
Die volk begin
wonder hoe hulle godsdiensbeoefening daar gaan uitsien as die tempel klaar
gebou is - gaan hulle dieselfde paktyke beoefen as wat die geval in
Babilon tydens die ballingskap was - gaan daar anpassings en veranderings wees?
Een van die eerste dinge waaraan hulle dink is die hele kwessie van die volksvas, of die
vaspratyke en -seremonies.
4. DIE
VRAAG OOR VAS (7:1-3):
Uit v.1 is dit baie
duidelik dat die volk nog onder buitelandse beheer gestaan het en al was hulle
terug in hul tuisland en verlos van ballingskap, is hulle nog nie verlos van
die gevolge van hulle volksonde wat gelei het tot hulle ballingskap nie (algemene
armoede en moedeloosheid bv.). Volgens die datum wat Sagaria verstrek kan sy
skrywe gedateer word op Desember 518 v.C. en die geskiedenis bevestig dan ook
dat koning Darius gedurende daardie tyd nog oor Israel geregeer het.
’n Twee-man
afvaardiging het van Bet-el af (ongeveer 20 km. noord van Jerusalem) by die profete en priesters (wat Sagaria
ingesluit het) aangekom om uit te vind of hulle steeds moet volhard met die vyfde-maand
vasdag soos wat ingestel was na die val van Jerusalem en die ballingskap (2 Kon.25:8-11) en waarmee hulle
reeds vir sewentig jaar volgehou het. Omdat hierdie vasdag deel was van die
wegvoering van die volk, is dit seker logies dat die afskaffng daarvan nou kan
plaasvind en kan die huil wat gepaard gegaan het met die swaarky, nou plek maak
vir vreugde en feesvierige, want die ballingskap is agter die rug en die tempel
is amper klaar gebou, maar wat hierdie arme manne nie besef het nie is dat
hulle hulself met hierdie vraag, blootgestel het aan ’n konfrontasie
met hul diepste hartsmotiewe.
5. BOODSKAP
TEEN SKYNHEILIGHEID (7:4-14):
Ons sien in
vv.4-5 dat die Here vir Sagaria opdrag gee om nie net hierdie manne aan te
spreek nie, maar sommer ook die priesters en die hele volk en in plaas daarvan
dat hy hierdie manne se vraag beantwoord, kritiseer hy die wyse waarop hulle
die vastye onderhou het (vv.4-7).
D.m.v. ’n klompie
retoriese vrae, ontbloot die Here deur Sagaria, die opregtheid van die volk se
onderhouding van die vasdag en alhoewel die manne net gevra het oor die vyfde
maand se vas, spreek Hy sommer ook die sewende maand se vas aan (Jer.7:5-6; 22:3). Hy wys in v.5 daarop dat hulle
vasdae nie oor die Here gegaan het nie, maar oor hulle eie belang - hulle harte
was nie opreg nie, want net soos ’n mens eet om
jou eie ligaam te voed, net so was dit die geval met hulle vasdae - dit het net
oor hulleself gegaan en nie die Here nie (v.6).
Hierdie
vals onderhouding van die volk is al voorheen aangespreek deur die profeet
Jesaja in Jes.58:3 en dit is waarna Sagaria verwys as hy in v.7 vir hulle vra
of die Here hulle nie nog voor die ballingskap al gewaarsku het oor hul
wanpraktyke t.o.v. die vasdae nie ~ Hulle vra: Waarom vas ons,
maar U sien dit nie, verootmoedig ons ons, maar U gee nie aandag daaraan nie?
Dit is omdat julle op die vasdae doen wat julle wil en die mense wat vir julle
werk, nog harder laat werk.
Sagaria
wil met hierdie verwysing na Jesaja vir die volk sê, dat hulle nie
destyds geluister het nie en die gevolge was rampspoedig en hulle het selfs tydens
die ballingskap ook nie die vasdae in opregtheid onderhou nie,
daarom vra hy indirek vir hulle, of hulle nie dink dat dit tyd is dat hulle nou begin luister nie?
In
vv.8-10 sê Sagaria vir die volk, dat indien
hulle opreg wil wees in hul vaspraktyke, hulle ook aandag moet skenk aan die
meer gewigtige fasette van die wet. Soos verskeie profete in die verlede by
hulle daarop aangedring het, dring Sagaria ook by hulle aan om reg en
geregtigheid te laat geskied en dat hulle genade met mekaar moet hê en nie die weduwee en wese en vreemdelinge en die armes moet verdruk nie -
die opdrag oorspan dus die hele verhoudingspektrum van die volk.
Die Here
het nog altyd die volk se lojaliteit en gehoorsaamheid aan die verbond
vereis (Belofte: Gehoorsaamheid = seën; Ongehoorsaamheid = straf). Die Here
gebruik derhalwe die volk se uiterlke optrede as maatstaf vir hulle lojaliteit
en gehoorsaamheid aan die verbond.
Sagaria
noem die eerste “toets” in
v.9 en sê n.a.v. Eks.18:19-23 waar Moses in opdrag van God, leiers
moes aanstel, dat regverdigheid deurgaans deur leiers en broers onderling,
toegepas en uitgeleef moet word, want dit bind mense aan mekaar, soos wat mense
aan God verbind word en dan spesifiek in ’n verbondsverhouding
~ Ek gaan jou aan My bind deur my onverbreekbare trou sodat jy aan My, die
Here, toegewy sal wees (Hos.2:19). Hier moet ons ook verstaan, dat ware geregtigheid,
altyd liefde en omgee insluit (soos met die doel van die “Matt.18-pad” wat ons met
broers moet loop wat in sonde is).
Die volgende toets wat
Sagaria noem, hang baie nou saam met die eerste, nl. liefde (Engels = “kindness”). Liefde tussen
broers en susters, sluit ook altyd lojaliteit in en dit geld vir alle
verhoudinge - tussen broers; tussen vriende en ook tussen man en vrou en ouers
en kinders, ens.
Derdens, die weduwee en
wese, asook die armes, in die geloofsgemeenskap, maar ook vreemdelinge wat
sorgbewhoewend is, moet versorg word.
Die
vierde toets wat Sagraia aanlê, is ’n waarskuwing om
nie “bose planne” teen mekaar te smee nie - die OAV sê, …moenie kwaad in julle
harte teenoor mekaar bedink nie.
Broers
was almal deel van dieselfde gemeenskap en hulle was verbind aan mekaar deur
hulle lojaliteit aan die Here en daarom moes hierdie onderlinge verhoudinge
uitgewerk en gehandhaaf word, maar die probleem was egter dat die volk hul
harte verhard het (soos diamante sê v.12) en geweier het
om te luister (v.11), waarop die
Here vir die volk gesê het ~ Ek sal ook nie luister as hulle
roep nie… …Ek sal hulle met
'n stormwind verstrooi onder al die nasies… (v.13-14). - Hy het hulle
dus in ballingskap laat wegvoer. Die land wat eens die “Land van Melk en
Heuning” genoem was, met
wuiwende koringlande en vrugbare wingerde, was leeg en verlate (Num.13:27; 16:14), trouens die
land was so verlate dat Klaagl.1:4 gesê het ~ Die paaie na
Sion toe treur omdat daar geen feesgangers is nie; al haar poorte is verlate,
haar priesters sug, haar jong vroue is bedroef, sy het dit bitter.
Sagaria verwys nie eers in sy boodskap na die vraag oor die “vas” nie, maar Sagaria het die hart van die probleem aangespreek en hy wys hulle daarop, dat hulle, hul vasdae deurgebring het, deur te treuer oor hulle persoonlike en selfgerigte verliese, eerder as om God se voorskrifte na te kom. Die vraag is, was hulle beter voorbereid daarop om nou ná die ballingskap, aan God se vereistes te voldoen as tydens die ballingskap? Die doel met die vasdae was juis verootmoediging en byldenis en bekering en om eer aan God te gee, maar sou hulle dit nou kon doen? Dit was die vraag?
6. GOD
SE BELOFTE (8:1-8):
Hoofstuk
8 is bekend vir sy tienvoudige repitisie of herhalings van die uitdrukking, So sê die Here... (vv.2, 3, 4, 6, 7, 9, 14, 19, 20, 23). Met hierdie
herhaling wil Sagria die feit beklemtoon dat God ernstig is oor Sy beloftes aan
Sy verbondsvolk. In vv.1 en 18 is daar ook ’n herhaling van
twee uitdrukkings, nl.: Die woord van die Here het tot my gekom… wat impliseer
dat die vorige tien herhalings in twee groepe van sewe en drie elk verdeel is.
Wat baie
interessant is, is dat Sagaria, direk nadat hy die volk se harte middeldeur
gesny het deur oor die gevolge van God se wraak te preek, hy onmiddellik
voortgaan en die volk verseker dat God hulle lief het en dat Hy besorgd is oor Sy volk en
Hy belowe dat Hy sou terugkeer en weer en in hul midde sal
kom woon en herstel bewerkstellig. In ’n sekere sin het
Hy reeds terug gekeer, want talle ballinge het reeds teruggekeer na hul land
van herkoms en die die tempel is al weer halfpad klaar gebou. Trouens ’n baie
rooskleurige en idilliese prentjie oor die toekoms word deur Sagaria geskilder
- dit in teenstelling met vroeëre profesië (Jer.5:1; Jer.9:21; Amos 9:21; Klaagl.2:11-12; Klaagl.4:18; Eseg.16:23-34) - Jerusalem sal
weer vol mans en vrouens wees en kinders sal weer hardloop en speel (8:3-5) ~ So sê die Here:Ek sal die lot van Jakob se woonplekke
verander, Ek sal My ontferm oor die streke waar hy woon:sy stad sal uit sy puin
herbou word, sy paleis sal staan waar hy hoort. Daar sal lofsange uit hulle
kom, feesliedere! Ek sal my volk baie maak, hulle sal nie minder word nie. Ek
sal eer aan hulle gee, hulle sal nie geminag word nie. Sy kinders sal weer soos
tevore wees, die gemeente in hom sal 'n blywende plek hê in my teenwoordigheid. Ek sal almal straf wat
hom verdruk. Sy leier sal een van sy eie mense wees, sy regeerder sal uit sy
eie kring kom. Ek sal hom laat nader kom en hy sal na My toe kom. Wie is hy wat
sy lewe sal waag om na My toe te kom? sê die Here. Julle sal my volk wees, en Ek sal
julle God wees (Jer.30:18-22).
Hierdie
belofte om die volk en Jerusalem weer te herstel, spruit voort uit God se
toewyding aan Sy verbond met die volk en daarom sê die Here deur Sagaria in 8:8 ~ Ek gaan hulle bring, en
hulle gaan in Jerusalem woon. Hulle sal my volk wees, en Ek sal hulle God wees,
in trou en in geregtigheid. Beide Sagaria en Jeremia het presies
dieselfde aanslag wanneer hulle God se verbond en verhouding met die volk
verduidelik. So ’n verhouding bevat drie eienskappe:
• Eerstens sal so ’n
verbond altyd op God se inisiatief plaasvind en wel deur die reiniging van die
volk ~ Hulle sal hulle
nooit weer verontreinig met afgode en
afskuwelike dade en sondes nie. Ek sal hulle bevry uit al hulle woonplekke waar
hulle gesondig het en hulle reinig. Hulle sal my volk wees, en Ek sal hulle God
wees (37:23).
• Tweedens sal die Here ’n
nuwe hart vir die volk gee ~ Ek sal hulle die insig gee om My te ken. Ek is die Here! Hulle sal my volk
wees, en Ek sal hulle God wees, want hulle sal heelhartig na My toe terugkom (Jer.24:7).
• Laastens sal die Here Sy Wet op hul harte ingraveer ~ Dan sal hulle volgens my voorskrifte leef en my
bepalings nakom en daarvolgens
optree. Hulle sal my volk wees, en Ek sal hulle God wees (Eseg.11:20).
7. BOODSKAP
OOR GEHOORSAAMHEID (8:9-17):
Soos wat ons
netnou gesien het, het die Here reeds begin met die herstelproses. Nes ander
profete van Sagaria se tyd, bemoedig Sagaria die volk. Een van die ander
profete, nl. Haggai het bv. die volgende vir die volk gesê ~ Begin met die werk, want
Ek is by julle, sê die Here die
Almagtige. My belofte wat Ek met die uittog uit Egipte aan julle gemaak het,
sal Ek nakom:my Gees sal altyd by julle bly. Moenie bang wees nie (Hag.2:4b-5). Sagaria, sien ons in
8:9 en 13 sê vir die volk ~ So sê die Here die Almagtige: Skep moed! Julle het
gehoor wat die profete destyds gesê het toe die fondamente van die tempel van die
Here die Almagtige gelê is sodat dit
herbou kan word… en v.13 ~ Julle name, Juda
en Israel, is onder die nasies gebruik in vervloekings, maar Ek het julle
gered, en nou sal julle name gebruik word in seënwense. Moenie
bang wees nie, skep moed.
Hierdie
woord van Sagaria was baie bemoedigend, want tussen die jare nadat hulle terug gekeer het uit ballingskap en
die begin van die bou van die tempel, het hulle baie swaar gekry, so lees ons
bv. in Hag.1:10-11 ~ Dit is oor julle dat die hemel sy reën en die aarde
sy opbrengs teruggehou het. Ek het droogte laat kom oor die land en oor die berge,
oor die koring, die wyn en die olie en oor die opbrengs van die land, oor mens
en dier en oor alles waarmee die mens hom besig hou. Die bou van
die tempel het egter in 520 n.C. hervat en die volk ontvang nou hierdie
bemoedigende nuus van Sagaria! Hulle moes net aanhou en uithou, want hulle moet
hulle hoop vestig op die Here en dit wat Hy belowe het en hulle moet net
gehoorsaam en getrou bly, dan sal hulle te doen kry met God se getrouheid.
Hulle moet net hul skeinheiligheid en selfgerigtheid wat hul vastye gekenmerk
het, opsy stoot en hul sosiale verantwoordelikhede teenoor mekaar en hul
naaste, nakom en dan gaan Sagaria in vv.16-17 van Sag.8 voort en sê vir hulle ~ Wat julle moet
doen, is dit:Praat die waarheid met mekaar, laat diewaarheid en die reg geld in julle regspraak sodat daar
vrede onder julle kan wees. Moenie bose planne teen mekaar bedink nie, moenie
vals ede bly aflê nie. Ek haat sulke dinge, sê die Here.
8. DIE
ANTWOORD: VAN VAS TOT FEES (8:18-23):
Sagaria
antwoord steeds nie die volk se vraag of hulle maar kan ophou vas of nie. Wat hy wel vir hulle sê is dat wanneer die Here Sy herstelwerk voltooi het, dit nie meer vir die
volk nodig sal wees om te vas nie. Wat Sagaria dus eintlik vir hulle sê is dat, of hulle nou vas of nie, wat uiteindelik belangrik gaan wees, is
die feit dat ’n nuwe era oppad is.
Wanneer hierdie
nuwe seisoen aanbreek sal die vyfde en sewende maand se vastye onnodig wees,
trouens ook die vastye in die vierde- (2 Kon.25:3-7) en tiende maande (2 Kon.25:1) en die volk se hartseer en pyn sal verander in feesviering - daar sal
geen plek meer wees vir hartseer nie en feeste sal aan die orde van die dag
wees.
As
gevolg hiervan sal Jerusalem ’n stad van waarheid en
vrede word en sal hulle ’n aantrekkingskrag vir
baie nasies word (2:10-11; 8:20-23; Jes.2:1-4; 66:18-23; Miga 4:1-4).
Soos
wat hierdie gedeelte in Sagaria begin het met ’n klein
geselskap afgevaardigdes wat wil praat oor vastye, so eindig dit met massas wat
feesvier!
Die
beeld wat in v.23 gebruik word is baie betekenisvol ~ So sê die Here die Almagtige: Daardie tyd sal
uit al die nasies tien man een Judeër aan die klere
gryp en sê: "Ons wil
met julle saamgaan, want ons het gehoor God is by julle. Elke Jood
wat tien heidene sal hê wat sy klere
aangryp is ’n beeld van universaliteit of alomvattendheid. Die wortelbetekenis van
die woord “gryp” hier in v.23, is presies dieselfde as dié van die woorde “skep moed” in vv.9 en 13 (OAV = “sterk wees”; ESV = “be strong”). Namate God
se volk al sterker word, sal die heidennasies al meer en sterker aangetrek word
om ook die volk se God te aanbid. Namate die volk sterker en sterker word in
hul toewyding aan God en die tempel se voltooïïng nader, des
te meer sal die nasies van die wêreld aangetrek word na
die Here omdat Hy teenwoordig is in die tempel in Jerusalem.
9. AFSLUITING:
Een van die
maniere waarop die Here deur Sagaria Sy volk aangespoor het, was om vir hulle
beloftes te maak van ’n mooi toekoms wat vir hulle gewag het, ’n tyd waarin
hulle weer in alle opsigte die seën van die Here sou geniet. Sagaria 8 is ’n hoofstuk vol
sulke beloftes, ’n hoofstuk waarin die Here hulle aanmoedig om nie vas te kyk teen wat hulle
toe gesien het nie, maar om te kyk wat die Here vorentoe alles vir hulle sal gee en doen.
Die hoogtepunt
van ons Skrifgedeelte is die belofte dat hierdie
klein volkie op wie die wêreld neergekyk het, ‘n volk gaan word waarheen
baie mense van verskillende volke en tale sal stroom om aandag en
hulp en uiteindelik verlossing te ontvang. Dit laat my dink aan Paulus se woorde in 1 Kor.14:25 waar hy dit
duidelik maak dat ware godsvrug, of “godliness”, ongelowiges
na God toe aantrek - hy sê ~ Die verborge
dinge van sy hart kom aan die lig. En so kom hy daartoe om op sy knieë te val, God te aanbid en
openlik te getuig:"Waarlik, God is hier by julle (1 Kor.14:25).
Hierdie
belofte wat Sagaria aan die volk gegee het, geld ook vandag vir ons. Indien ons
met “sterk hande aan die tempel” werk, m.a.w.
indien ons (soos ons verlede week uit 2 Petrus gesien het)
heiligmaking, of te wel godsvug najaag, sal mense wat honger en dors na God se
geregtigheid deur ons na Hom getrek word. Mag dít ons opregte
strewe wees, sodat ons godvrugtge lewens, getuies vir die Koninkryk van die Lig
kan wees en tientalle mense na die Verlosser Jesus Christus sal stroom, deurdat
hulle ook sal sê, …Waarlik, God is
hier by julle.
Ons móét ’n evangeliserende gemeente wees. Die boodskap van verlossing en vrede wat ons in en deur
Christus Jesus ontvang het, moet ons ook met ander deel. Dit beteken
onder andere dat ons moet uitgaan na ander mense toe – heidene, ongelowiges, kerkloses,
kerk-vervreemdes – en die Blye Boodskap aan
hulle bring. Dit is die
Bybelse opdrag wat ons ontvang het, maar dit impliseer ook
en veral, dat ons
lewe so sal wees dat mense graag deel sal wíl wees van
die Koninkryk (en van ons gemeente). Ons moet dus ons roeping om te
evangeliseer uitlewe, maar ons lewe moet ook spreek van ’n
God-verheerlikende lewe en ons motiewe moet suiwer wees - dit gaan nié in die eerste of laaste plek oor ons gemeente nie, maar oor verlore
siele en die eer van God en God alleen.
(Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente op 15 Februarie 2015)