1. SKRIFLESING:
Matt.17:14-23 ~ Toe hulle weer by die mense kom, het 'n man voor Hom kom kniel en gesê:"Here, ontferm U tog oor my seun, want hy is geestelik versteurd en
hy ly verskriklik. Hy val dikwels in die vuur en dikwels in die water. Ek het
hom al na u dissipels toe gebring, en hulle kon hom nie gesond maak nie."
"Ongelowige en ontaarde geslag," het Jesus gesê, "hoe lank moet Ek nog saam met julle wees? Hoe lank moet Ek julle
nog verdra? Bring hom hier vir My!" Jesus het die bose gees skerp
aangespreek, en die bose gees het van die seun af weggegaan. Van daardie
oomblik af het die seun gesond geword. Die dissipels het toe alleen na Jesus
toe gekom en gevra:"Waarom kon ons hom nie uitdryf nie?" "Omdat
julle geloof te klein is," sê Hy vir hulle.
"Dit verseker Ek julle: As julle maar geloof het so groot soos' n mosterdsaadjie, sal julle vir
hierdie berg sê:`Gaan staan daar anderkant! 'en hy sal gaan. Niks sal vir julle onmoontlik
wees nie." Toe die dissipels weer in Galilea bymekaar was, het Jesus vir
hulle gesê:"Die Seun
van die mens gaan oorgelewer word in die hande van mense, en hulle sal Hom
doodmaak, en op die derde dag sal Hy uit die dood opgewek word." Hieroor
het hulle baie bedroef geword.
Joh.7:37-39 ~ Op die laaste dag, die groot dag van die huttefees, het Jesus daar gestaan
en uitgeroep:"As iemand dors het, laat hy na My toe kom en drink! Met die
een wat in My glo, is dit soos die Skrif sê:Strome lewende water sal uit sy binneste vloei." Hiermee het Hy na
die Gees verwys, want die mense wat tot geloof in Hom kom, sou die Gees
ontvang. Die Gees was nog nie uitgestort nie, omdat Jesus toe nog nie
verheerlik was nie.
2. INLEIDING:
Net soos wat die dissipels
vir Jesus gevra het waarom hulle nie die duiwel uit die seun kon dryf nie (v.19b), het julle dalk
ook al gewonder en vir julleself die vraag afgevra wat ons dalk kortkom in ons
gemeente - waar ons tekort skiet? Trouens dit is só ’n belangrike vraag
dat elke gemeentelid hierdie vraag gereeld vir homself/haarself móét afvra, anders kan
so ’n lidmaat of
gemeente dalk op ’n dag die volgende
hoor ~ Dink daaraan hoe ver julle al agteruitgegaan het. Bekeer
julle en doen weer wat julle in die begin gedoen het. Anders, as julle julle
nie bekeer nie, kom Ek na julle toe en sal Ek julle lamp van sy plek af wegvat (Openb.2:5). Indien dit waar
is moet ons na die Woord van God luister en biddend probeer vasstel wat die
Woord van God hieroor te sê het en dan die nodige regstellende
optrede van stapel stuur.
3. STRUIKELBLOKKE:
Toe die dissipels vir Jesus
gevra het waarom hulle nie ook die duiwel uit die seun kon dryf nie, was Jesus
se antwoord baie eenvoudig ~ Omdat julle
geloof te klein is, of soos die AOV dit vertaal ~ Deur
julle ongeloof.
Ek wil nie vanoggend fokus op
die uitdryf van duiwels nie, maar wel op die feit dat die dissipels nie oor
krag beskik het nie, omdat hulle nie geloof gehad het nie en hierdie “geloof” waarvan Jesus
gepraat het, het niks te doen gehad met saligmakende geloof nie.
•
Ongeloof:
Ten einde hierdie harde
uitspraak van Jesus te verstaan, moet ons gaan kyk na Luk.24:49 waar Jesus, net
voor Sy hemelvaart vir Sy dissipels gesê het ~ En Ek sal die gawe wat my Vader beloof het, vir julle stuur. Maar julle
moet in die stad bly totdat julle met krag van bo toegerus is. Die Here hét dus die dissipels
toegerus met die nodige ”krag” om die duiwel uit
die seun te kon verdryf, maar hulle het nie oor genoegsame geloof beskik om dit
te doen nie, m.a.w. hulle het die Here se Woord nie geglo nie - Hy het dan gesê dat hulle die
nodige krag sou ontvang om dit te kan doen.
Dit is waarom Hy ook sê ~ Met die een wat in My glo, is dit soos die Skrif sê: Strome lewende water sal uit sy binneste vloei (Joh.7:38). M.a.w., sonder
geloof is dit onmoonltik om God te behaag, want hy wat na God toe gaan moet glo
dat Hy ’n Beloner is van
diegene wie Hom soek (Heb.11:6).
God wag dus op Sy kinders se
gelowige gebede om die krag van die Heilige Gees in volle maat op hulle wat glo, uit te stort. Op talle plekke in die Nuwe Testament vind
ons getuienisse t.o.v. hierdie belofte - bv. Hand.2:33 ~ Hy is verhoog aan die regterhand van God en Hy het die Heilige Gees wat
belowe is, van die Vader ontvang en uitgestort. Dit is wat julle nou sien en
hoor.
In dieselfde asem moet ons dit beklemtoon, dat hierdie gawe van die Heilige
Gees óók aan ons geskenk
word.
My broer en suster, ervaar jy
- ervaar ons in ons gemeente, strome van lewende water wat uit ons binneste
vloei? Het ons gebede krag? Beskik ons oor die nodige geloof in God se Woord -
in Sy beloftes? Is ons in afwagtng dat God sal beloon? Dat Hy my gebed sal
beantwoord? Dat Hy ’n wonderwerk sal
doen? Nie net dat Hy ’n wonderwek KAN doen
nie, maar SAL doen?
•
Kennis:
Ons lees in 1 Kor.2:4-5 ~ Die boodskap wat ek verkondig, het julle oortuig, nie deur geleerdheid en
welsprekendheid nie, maar deur die kragtige werking van die Gees. Dus is julle
geloof nie op die wysheid van mense gegrond nie, maar op die krag van God. Ons vind dus hier
’n tweede rede
waarom gelowiges moontlik nie oor die krag van die Heilige Gees beskik nie, nl.
dat daar te veel klem gelê word op geleerdheid en welsprekenheid
- op kennis, in plaas daarvan dat daar in die eerste plek op
die krag van God vertrou word.
Gee ons nog erkenning aan die
Heilige Gees, of is ons so ingestel op kennis dat ons die Heilige Gees, Sy plek
ontneem? Dit is dus nie die een of die ander nie - nee, dit is die een EN die
ander - dit is kennis van die Woord EN die krag van die Heilige Gees. Ons moet
uiters versigtig wees dat ons nie só beïndruk raak met
fenomenale kennis en lering, dat ons die Heilige Gees so stil-stil by die spreekwoordelike
agterdeur uit rangeer nie. M.a.w. ons moet versigtig wees om nie méér te hou van
hooggeleerde preke en lering, eerder as dat ons, ons in die eerste plek toewy
aan die Here Jesus Christus nie.
Ons moet deur gebed, vir die
werking en krag van die Heilige Gees vra en God vertrou en toe laat om in ons
midde en in ons lewens kragtig te werk.
•
Biddeloosheid:
Biddeloosheid is nog ’n rede waarom ons
nie die krag en lewe van die Here in en deur ons lewe ervaar nie ~ Daar is niemand wat tot U om hulp roep nie, niemand wat sy krag in U soek
nie. U het ons aan onsself oorgelaat, U laat ons wegkwyn deur ons sondes (Jes.64:7).
Andrew Murray het jare gelede
gevra: Skeel
daar nie iets met ons Christendom, omdat God se kinders so min
proefondervindelik weet wat die gebed van die geloof is nie?
In Jes.1:15 (OAV) lees ons ~ As julle julle hande in gebed uitstrek, sal Ek my oë vir julle
toemaak. Selfs al bid julle hoe baie, sal Ek nie luister nie, want julle hande
is met bloed bevlek. Is ons gebede nie dikwels ’n gegote vorm van
woorde nie? Is die gesindheid waarmee ons bid, werklik een van diep nederigheid
en gebrokenheid voor die Here en afhanklikheid van
Hom? Moet ons nie ons gebede weer in oënskou neem nie?
Ek het al dikwels vantevore
gesê, dat ek glo die
Here het ’n groter behae in ’n kort en kinderlik
opregte gebed en dat dit baie eerder dalk groter krag tot gevolg het, as ’n lang gebed wat
gelaai is met geleerde en welluidende teologiese sinsnedes - nie dat ’n lang gebed, met
teologiese sinsnedes, ens. noodwendig verkeerd is nie, maar kom dit uit ’n opregte hart en
met die regte gesindheid - dít is die vraag?
Moet ons nie meer aandag aan
Paulus se woorde in 1 Kor.2:4-5 skenk nie? Die boodskap wat ek verkondig, het julle oortuig, nie deur geleerdheid en
welsprekendheid nie, maar deur die kragtige werking van die Gees. Dus is julle
geloof nie op die wysheid van mense gegrond nie, maar op die krag van God. Die vraag is,
hoeveel waarde heg ons aan die aandeel en invloed van die krag van die Heilige
Gees voor, tydens en na die eredens; tydens ons gebede; tydens die
wedergeboorte proses; tydens ons lewe daar buite in die wêreld?
Ons het reeds in Luk.24:49
gesien dat die Here Jesus vir Sy dissipels gesê het, dat hulle eers
toegerus moet word met die krag van bo, voor hulle kan
begin preek. Dit beklemtoon vir ons die feit dat prediking - nee, ons ganse
geestelike lewe, vanuit en o.l.v. die krag van die Heillige Gees moet geskied.
4. HERWIN DIE KRAG VAN DIE HEILIGE GEES:
Ons sien in Handelinge 2 dat
die eerste gelowiges op Pinksterdag, vol vreugde en krag was en hoe kan ons in
ons gemeente en ons persoonlike lewens weer hierdie vreugde en krag herwin?
Ons moet eerstens leer hoe
onmoontlik dit vir ons is om ’n lewe van geloof in ons eie krag of
deur ons eie pogings te kan bereik. Dit is waarom Paulus dan ook in 2 Kor.4:7
gesê het… ~ Ons wat hierdie skat in ons het, is maar kleipotte wat maklik breek; die
krag wat alles oortref, kom dus van God, nie van ons nie.
Ons moet besef dat ons slegs
vas kan staan in die geloof en dat ons net kan groei in die geloof, deur die
voortdurende inspirasie van die Heilige Gees. Die implikasie hiervan is dat
indien jou geloof begin taan - indien jou vreugde afgeneem het - indien jy nie
meer bid soos vantevore nie - indien jou groei in die Woord van die Here nie is
wat dit moet wees nie, dan is dit omdat die Heilige Gees bedroef word in jou
lewe en moet jy dringend vasstel wat die rede daarvoor is, want dit móét reggestel word,
maar ons moet onthou dat dit gewoonlik gepaard gaan met sondebelydenis,
bekering en ’n vaste wete dat (dit)
vir mense onmoontlik is, maar vir God is alles moontlik (Matt.19:26).
Ons moet besef dat ons nie
ons geestelike lewe self kan “aanblaas” nie - dit is onmoontlik
vir ons om uit onsself, nuwe lewe te skep, daarom is dit nodig dat ons sal leer
om ons regte plek in te neem voor God en wel in volle afhanklikheid en
gehoorsaamheid aan Sy Gees - wanneer dít ons gesindheid
is, sál ons die krag van
die Heilige Gees in en deur ons lewe begin ervaar.
Dit is derhalwe ook
noodsaaklik dat ons as gemeente, ’n biddende gemeente sal wees en daarom
moet gebed en die bediening van gebed, ’n inherente deel
van ons eredienste en ons lewe wees, want ons kan nie sonder gebed en die
werking van die Heilige Gees, as gemeente en as individue, die
geestelike-wedloop suksesvol voltooi nie en daarom moet ons volhard in gebed.
Ons moet ook versigtig wees
om nie ons vertroue te veel in ons eie en andere se wysheid en insig te stel ten
einde geestelike dinge te begryp nie, want dit kan net geskied in afhanklikheid
met die Heilige Gees se leiding.
5. DIE BELOFTE:
Ons het ’n wonderlike
belofte van die Here Jesus Christus in Hand.1:4-5 ontvang ~ Moenie van Jerusalem af weggaan nie, maar bly wag op die gawe wat die Vader
belowe het, soos julle van My gehoor het. Johannes het wel met water gedoop,
maar julle sal binne' n paar dae met die Heilige Gees gedoop word.
Ons moet besef dat die
Heilige Gees vir ons uitgestort is en nie net vir die dissipels wat die
hemelvaart aanskou het, of die mense wat tot geloof gekom het op Pinksterdag
nie. Ons moet ook terselfdertyd besef dat die Heilige Gees, God is en daarom
is Hy die derde Persoon van die Goddelike
Drie-Eenheid en omdat Hy God is, moet ons ook besef dat Hy daarom oor
ondenkbare en bo-natuurlike seën beskik - seën wat Hy oor ons
wil uitstort - seën wat ons kan
ervaar, omdat ons as gelowiges vervul ís met die Gees.
Daarmee saam moet ons ontou, dat Hy die Een is wat lewe aan ons skenk; wat ons
Leermeester is; wat ons Trooster is en wat ons Krag is.
Dit is die Heilge Gees wat
ons verenig met die Vader, deur die Seun Jesus Christus, m.a.w. dit is die
Heilige Gees wat die wedergeboorte in ons bewerkstellig het. Hy is die Een wat
Christus in en aan ons openbaar deur Sy inwonende en blywende teenwoordgheid en
daarom is Hy en word Hy, Trooster genoem.
Deur Hom is die Here Jesus nog nader en intiemer en kragtiger deel van
ons as wat die geval aanvanklik met die dissipels was en daarom behoort ons
harte oor te loop van liefde en vreugde en met ’n blywende wete dat
Chrustus met ons is!
DIe Heilige Gees is ook Gees
van die Waarheid wat God se Waarheid aan ons openbaar - nie net deur die
verstand te verlig nie, maar ook die Waarheid in ons lewend en kragtig te maak
en te hou.
Omdat Hy HEILIGE Gees is, wil
Hy daardie sefde heiligheid in ons lewens bewekstellig en ons daarom en
daardeur, aan Christus gelykvormig maak.
Hy is ook Getuie - ons lees
in Rom.8:16 ~ Hierdie Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van
God is,
EN Hand.1:8 ~ Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor
julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea
en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.
6. AFSLUITING:
Ons moet vasstel of die krag
van die Heilige Gees in ons lewe en ook in die lewe van die gemeente afwesig is
en dan, indien wel die geval, moet ons vasstel wat die rede hiervoor is -
waarom ervaar ek/ons nie die Krag van die Heilige Gees nie? Is dit omdat ons
nie glo nie? Is dit omdat ons, ons vertorue plaas in die prediking of ons eie
kennis van die Woord? Is dit a.g.v. ’n gebrek aan gebed
en selfvrloëning”? Is dit opgeblase
vertroue in ons eie vermoëns en menslike wysheid? Is daar sonde
teenwoordig?
Laat ons smekend en biddend
voor die Here God kom, sodat ons die wonderlike belofte van die Krag van die
Heilige Gees in volle maat kan ervaar!
Wat is jou en my “geestelike toestand”? Het ek my vreugde
verloor? Het ek my vaste oortuiging en geloofsekerheid verloor? Het ek my
vrymoedigheid verloor? Ervaar ek nog die influistering van die Heilige Gees?
Ervaar ek nog dat Hy my leer? Oortuig Hy my nog van sonde en geregtigheid? Hoe
lyk my gebedslewe? Hoe lyk my verhouding met my broers en susters - aanvaar ek hulle
onvoorwaardelik met al hul foute - reik ek uit na hulle?
Kom ons spieël onsself ’n bietjie in 1
Tes.5:14-23 ~ Ons druk julle dit op die hart, broers: Wys die leeglêers onder julle tereg, praat die kleinmoediges moed in, help die swakkes,
wees met almal geduldig. Sorg dat niemand 'n ander mens kwaad vir kwaad vergeld
nie. Beywer julle liewer altyd vir die belange van julle medegelowiges en van
alle mense. Wees altyd bly. Bid gedurig. Wees in alle omstandighede dankbaar,
want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag. Moenie die werking van
die Heilige Gees teenstaan nie. Moenie profesieë geringskat nie,
maar toets dit alles, behou wat goed is, en bly weg van alles wat sleg is. Waar staan jy?
Waar staan ek? Waar staan ons as gemeente? Net so tussen hakies - die “Mekaar-tekste” is nog ’n spieël waarin ons, ons
eie maar ook die gemeente kan spieël.
Vind ek troos by die Heilige
Gees en is Hy my Leermeester? As die uitslag van al hierdie vrae en spieëltoetse nie te goed
lyk nie, moet ons dringend daaroor gesels en/of by die Here Jesus Christus
utkom en ons bekeer.
Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te VAALDRIEHOEK Gereformeerde Baptistegemeente - Sondagoggend 07 Junie 2015