1. INLEIDING:
’n Teksvers waarmee ek as
kind groot geword het en baie gereeld gehoor het en ook ’n teksvers wat u gereeld
hier in ons gemeente hoor, is dié van
2 Kor.13:13, nl.: Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige
Gees sy met julle almal! Amen.
Hierdie seënbede, of te wel benediksie,
of as u wil seënwens, hoor ons baie gereeld
aan die einde van ’n erediens en selfs, soms
ook vóór ’n erediens. Ek het gedink dat dit daarom ook nodig is dat
ons na hierdie seënwens sal kyk, anders kan
dit bloot maar net ook ’n gewoonte of ’n kerklike ritueel word – selfs hier in ons
gemeente. Wat meer is, ek dink daar is
ook baie mense wat nie eens besef dat dit ’n aanhaling uit die Bybel is, wanneer hulle dit hoor nie.
Wanneer ons na hierdie teksvers kyk,
vind ons ’n swaar gelaaide beskrywing
van die Goddelike Drie-Eenheid in een kort teksvers vasgevang – dit is teologie op sy
beste! En tog, wanneer ’n mens na kommentare gaan
kyk, vind ’n mens bitter min hieroor
geskryf.
Paulus sluit sy tweede brief
aan die Korintiërs af met hierdie seënbede, omdat hulle
eerstehandse ervaring gehad het van die werking van ’n Drie-Enige God in hul
lewens. Deur God die Seun as Middelaar
en Redder, het hulle na God die Vader gedraai en die uitstorting van die
Heilige Gees in hul harte, het hulle in staat gestel om oor hierdie versoening
te jubel en te juig. Dit is deur die
genade van God die Vader in Christus Jesus die Seun, dat hulle die liefde van
die Vader kon ervaar én gemeenskap met die Heilige
Gees kon ervaar. Hierdie drieledige en
tog enkelvoudige gebeurtenis het hul lewens letterlik, vir ewig verander. En indien hierdie gebeurtenis nie ’n blywende gebeurtenis was
nie, was dit nie ’n reddende realiteit
nie. Daarom dat Paulus in sy slotwoorde
aan hulle, die bede en hoop uitgespreek sodat hulle die realiteit van hierdie
reddende genade van ’n Drie-Enige God in hulle
lewens sál ervaar.
Wanneer ons dan kyk na hierdie baie
bekende en besonderse seënbede, sien ons dat Paulus
elkeen van die drie Persone van die Goddelike Drie-Eenheid, koppel aan ’n baie spesifieke eienskap
of hoedanigheid van elkeen van die Persone van die Drie-Eenheid.
Wat verder opmerklik is, is dat
hierdie seënbede se volgorde, dieselfde
volgorde volg soos wat ons as gelowiges, die reddingsgenade van Christus
ervaar, want dit is deur die genade van die Here Jesus Christus, dat ons bewus
raak van God se liefde en sodoende deel kry aan ’n ewige lewe, deur die werking van die Heilige Gees. Natuurlik kom genade nie alleen net van
Christus nie, maar ook van die Vader, en die liefde is nie net beperk tot die
Vader alleen nie, want dit is ook ’n baie besliste karaktereienskap van Christus, en
gemeenskap is nie alleen gesetel in die Heilige Gees nie, maar ook in Christus.
Hierdie onderskeid van Paulus is egter
baie spesifiek van toepassing op die reddingsproses.
Kom ons kyk dan na hierdie drie frases
afsonderlik
2. CHRISTUS SE GENADE:
Die eerste frase van die seënbede verwys dan na die ...genade van die Here Jesus
Christus. Hierdie seënbede het in die oorspronklike Grieks, geen werkwoord bevat
nie en daarom kon hierdie seënbede
ewe maklik gesien word as ’n
gebed wat gebid word en waarin gevra word dat Christus se genade vaardig sal
wees in elkeen se lewe vir wie dit gebid word.
Aan die anderkant kan dit ook ’n blote uitspraak wees wat sê dat
die genade van die Here met julle ís. Dit is egter ook
moontlik dat beide hierdie gekombineer kan word en dit is waarskynlik die beste
om dit so te sien en te hanteer (m.a.w. mag God se genade vaardig in julle sal wees en met
julle sal wees).
Kom ons kyk na die genade
waarvan hier sprake is:
o Genade van Christus: Hoe moet ons die uitdrukking
“genade” verstaan? Wat lê agter
hierdie woord wat ongeveer 155 keer in die Nuwe Testament voorkom?
“Charis” spruit
voort uit die Griekse woord “char” wat in kontemporêre Griekse geskrifte verwys
na dinge wat welwillendheid voortbring, soos bv. “goedheid”, “skoonheid”, “dankbaarheid” en “guns”. Die Griekssprekende Jode wat die Ou Testament
in Grieks vertaal het, het hierdie woord “charis” so vertaal, dat dit gedui
het op die goedhartigheid van ’n
gesaghebbende persoon wat iemand “benede” hom
gehelp het. ’n Goeie voorbeeld hier, is
die lewensreddende kos wat die Eerste Minister van Egipte (Josef) aan sy honger familie gegee
het. Of die onverdiende eer wat koning
Saul aan Dawid gebied het. Of die guns
wat Boas teenoor Rut bewys het, toe hy haar toegelaat het om koringare op sy
lande op te tel.
In die Nuwe Testament word hierdie
selfde woord gebruik om die krag en guns te beskryf wat vanaf die Vader na
mense toe vloei, ten einde hulle in staat te stel om te kan glo en gered te
word. Paulus gebruik hierdie woord
ongeveer ’n 100 keer (100 uit die 155 keer) en elke keer gebruik hy dit
om die redding te omskryf wat deur Christus aan verloregaande siele geskenk
word. Hierdie genade word geheel en al
onverdiend aan mense geskenk, waardeur hulle gered word. Hierdie genade is persoonlik en dit kom van
Jesus en raak mense diep, intens en persoonlik en verander hulle lewens
permanent. Dit is dieselfde tipe genade
wat die “verlore seun” terug verwelkom het by die
huis (Luk.15:11-32) en dit is dieselfde genade
wat sewentig maal sewe keer vergewe (Matt.18:22).
•
Eerstens
ontvang elke uitverkorene, redding deur Christus se genade – Ef.2:5 ~ Deur sy groot liefde het Hy
ons wat dood was as gevolg van ons oortredings,
saam met Christus lewend gemaak. Uit genade is julle gered!
•
Tweedens
werk hierdie genade van Christus in elke gelowige ten einde geloof in hom of
haar te bewerkstellig. Ef.2:5,8 ~ Deur sy groot liefde het Hy
ons wat dood was as gevolg van ons oortredings, saam met Christus lewend
gemaak. Uit genade is julle gered! .....8 Julle is inderdaad uit
genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit
is ’n gawe van God. Die meeste gelowiges beskou hierdie
gebeurtenis as die hoogtepunt van hul geestelike lewe, nl. toe hul lewend gemaak
is deur die genade wat God aan hulle geskenk het. Redding is dus geheel en al ’n geskenk van God – ons glo ja, maar selfs
hierdie geloof is ’n geskenk van God soos
Paulus tereg ook sê.
•
In die
derde plek word hierdie genade van Christus, enersyds met rykdom vergelyk. Volgens Ef.1:7-8 word dit met oorvloedige
rykdom vergelyk. Ef.2:7 beskryf dit as goedheid en Ef.32:8 beskryf dit as
onpeilbare rykdom. Genade is so kosbaar dat die wyse man en vrou, absoluut alles
sal gee ten einde hierdie genade van Christus te kan ontvang.
Hierdie genade van Christus is egter
andersyds, al is dit kosbaar en onpeilbaar duur, heeltemal gratis én wat meer is, dit word
eensydig deur God geskenk.
Ons moet egter altyd onthou dat
hierdie gratis geskenk van God, met geweldige koste gepaard gegaan het – dit het die dood van Sy
Seun, Jesus Christus gekos en daarom kan en moet hierdie gratis geskenk met
onuitspreeklike dankbaarheid in ontvangs geneem word.
•
Vierdens
is Christus se genade, alles omvattend.
Dit beteken dat Sy genade voldoende is om ons volkome te red. Sy genade is ook voldoende vir alles wat ons
nodig het vir hierdie lewe en vir alle omstandighede. Niks is buite die sfeer
van God se genade nie.
•
Laastens verbind Paulus genade so
intiem en eksklusief met Christus, dat ons tereg kan sê dat Christus, self genade
is. En dan lees ons lees in Joh.8:19 die
volgende ~ Toe
vra hulle vir Hom: “En waar is die vader van jou?” Jesus het geantwoord: “Julle ken My nie en ook nie
my Vader nie. As julle My geken het, sou julle my Vader ook geken het.” En in Joh.10:4 ~ Wanneer hy al sy skape
uitgebring het, loop hy voor hulle uit, en die skape volg hom, omdat hulle sy
stem ken. En Joh.8:31-32 lees as volg ~ As julle aan my woorde
getrou bly, is julle waarlik my dissipels; 32 en julle sal die waarheid
ken, en die waarheid sal julle vry maak. Ons sien dus dat
Christus se genade tot gevolg het dat ons Hom en die Vader mag en kan ken.
3. DIE VADER SE LIEFDE:
Die genade wat in en deur
Christus gereflekteer word, openbaar God se oneindige liefde vir ons. Eenvoudig gestel: God het jou lief en Christus bewys dit! Hierdie liefde van God, is dan ons tweede
frase van Paulus se seënbede en met hierdie tweede
frase spreek Paulus dan ook die tweede Persoon van die Goddelike Drie-Eenheid
aan.
Om mense se liefde te ervaar is een
ding, maar om God se liefde te ervaar beteken om deur Hom versterk en bemagtig
te word.
Met hierdie tweede gedeelte van Paulus
se seënbede vorder hy ’n entjie verder in sy
teologie wat hy t.o.v. die Drie-Eenheid van God vir die Korintiërs wil leer.
Hierdie liefde van God is dan ook die
hart van die Christen se teologie t.o.v. God, want hierdie liefde van die
Vader, is die hart van die Evangelie en die grondslag vir alle menslike liefde – 2 Kor.5:14 ~ Die liefde van Christus dring ons,
omdat ons tot die insig gekom het dat een vir almal gesterwe het, en dit
beteken dat almal gesterwe het.
Daar is soveel wat ’n mens oor God se liefde kan
sê. Die volgende vier eienskappe van God se
liefde is moontlik die mees fundamentele van almal, nl.: God se liefde is ewig; God se liefde is
magtig en vol gesag; God se liefde is onveranderlik en God se liefde is
persoonlik.
•
Eerstens
dan: God se liefde is ewig. Omdat dit die kern van God se karakter is en
omdat God ewig is, is Sy liefde dus ook ewig.
Na aanleiding hiervan sê Paulus
dan ook aan die Korintiërs in 1 Kor.13:8, dat die liefde (nooit) vergaan
nie. Ons moet ook verstaan dat liefde nie eensydig
kan bestaan nie – liefde vereis ’n verhouding – dit moet dus deur een
uitgedruk word en deur ’n ander ontvang word en
daarom kan liefde nie bestaan as net God die Vader bestaan het nie – hierdie liefde kom dus
volmaak tot uiting in die verhouding tussen die Drie Persone van die Goddelike
Drie-Eenheid. En ons as kinders van God
het die voorreg om hierdie liefde van die Drie-enige God te kan ervaar. Hy is
die Bron van die liefde en ons is die objek vir daardie liefde.
•
Die
mees fundamentele eienskap van die ewige liefde van God, is dat dit volmaak
onselfsugtig is en net die beste vir ons as mense wil hê, daarom dat Hy Sy Seun
gegee het om volmaakte versoening vir ons te bewerkstellig. God se liefde is instaat om uit te reik na
ons wat nie in staat is om enige liefde terug te gee aan God nie. Dit is onselfsugtig eensydig en breek deur
enige “muur van weerstand”.
Hierdie liefde van God vind sy beslag
in die Kruis van Jesus Christus en is beskikbaar vir almal wat in Hom glo. 1
Joh.4:10 ~ Werklike
liefde is dít: nie die liefde wat ons
vir God het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur
as versoening vir ons sondes.
•
In die
derde plek is God se liefde onveranderlik en konstant.
God se liefde verander nooit nie en
omdat ons as mense blootgestel word aan andere, en ons eie “emosionele en geestelike
wipplank ryery”, is dit vir ons moeilik om
altyd te glo dat God se liefde ewig en onveranderlik konstant is. Ons liefde vir mekaar en vir God is so
onvoorspelbaar – dit kom en gaan, soos die
getye van die see. Dan verloor ons, ons
Eerste liefde en dan bekeer ons onsself en groei ons weer in heiligmaking – ons is sulke patetiese
wesens in vergelyking met God, wie se liefde nooit verander nie (1Joh.4:10-11).
Hoe dikwels maak ons nie ook die fout
om te dink dat wanneer dit nie geestelik en emosioneel goed gaan met ons nie,
dit is omdat God ons minder liefhet nie.
Dit is natuurlik nie waar nie, want dit is óns liefde vir God wat
afneem. Ons moet egter moed hou, want
God het die moontlikheid van herstel en groei vir ons gegee – Hebr.13:20-21 ~ God wat vrede gee, het ons Here
Jesus wat deur die bloed van die ewige verbond die groot Herder van sy kudde
is, uit die dood teruggebring. 21 Mag dié God julle toerus met alles
wat goed is, sodat julle sy wil kan doen. Mag Hy deur Jesus Christus in ons tot
stand bring wat vir Hom aanneemlik is. Aan Hom behoort die heerlikheid tot in
alle ewigheid! Amen. Christus Jesus is juis gegee sodat hierdie
liefdesverhouding tussen ons en God reggestel kan word en kan groei.
•
Ons
sien in die vierde plek dat God se liefde persoonlik van aard is. God red individue. God het individue dus lief en daarom is God
se liefde persoonlik gerig op jou en my.
Geen liefdesverhouding kan egter eensydig bestaan nie – ja, dit is so dat God nie
afhanklik is van ons liefde nie, maar omdat Hy persoonlik lief is vir jou en
vir my, impliseer dit ook dat ons Hom moet liefhê, anders kan daar nie sprake wees van ’n verhouding nie.
Paulus se seënbede (2Kor.13:13) vra dus nie alleen dat God
se liefde met ons sal wees nie, maar dit is ook ’n oproep wat tot ons gerig word, dat ook óns God sal liefhê.
4. DIE GEMEENSKAP VAN DIE GEES:
Soos wat genade dié uitstaande eienskap van
Jesus is en liefde dié van die Vader, is gemeenskap
of deelgenootskap (“fellowship”), dié uitstaande eienskap van die
Heilige Gees, daarom dat Paulus sê ~
...en
die gemeenskap van die Heilige Gees sy met julle almal!.
Met die byvoeging van
hierdie derde frase word hierdie seënbede ’n
unieke seënbede in teenstelling met
die ander seënbedes van Paulus. In sommige gevalle sal hy sy briewe begin of
afsluit met bv. die woorde, ...die genade van die Here Jesus Christus (sal) met julle
wees. Die meeste kere maak Paulus egter gebruik van
’n tweeledige seënbede of –groet, soos bv. in 2
Kor.1:2, nl. ~ Genade
en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus!
In 2 Kor.13:13 voeg Paulus egter ’n derde en finale frase by,
waar hy bid dat die Heilige Gees met die Korintiërs sal wees. Wat
beteken hierdie uitdrukking, …gemeenskap
van die Heilige Gees?
•
Eerstens
sien ons dan dat die Heilige Gees, “koinonia”, of te wel gemeenskap, of
deelgenootskap bewerkstellig. In die
alledaagse omgangstaal, word hierdie woord bv. gebruik om die gemeenskaplike
besit van ’n vissersboot deur Simon en
Jakobus en Johannes te illustreer. In ’n meer spesifieke
Christelike sin, kan hierdie woord egter verwys na drie aaneengeskakelde
verhoudings. Eerstens kan dit verwys na
die wyse waarop God bestaan, nl. genade en liefde. Tweedens kan dit verwys na die gemeenskap wat
gelowiges met God ervaar deur die teenwoordigheid van die Heilige Gees en
laastens kan dit verwys na die gemeenskap wat gelowiges onderling met mekaar
geniet deur die teenwoordigheid van die Heilige Gees.
Ons sien dus telkens dat die funksie
van die Heilige Gees is om te verenig en gemeenskaplikheid te
bewerkstellig. Die Heilige Gees, kan ons
dus sê, is die Derde Party wat
tussen ons en andere staan; of tussen ons en die Vader staan en wat ons bewus
maak van ons eenheid met mekaar. Primêr maak Hy dus ons geloofsoë oop vir Christus Jesus en
maak Hy ons oë spreekwoordelik oop vir ons
broers en susters in Christus en vir bv., die nood waarin ons medemens verkeer.
•
Tweedens
skenk die Heilige Gees lewe. Iemand het
eenkeer gesê dat, “die lewe ’n oorerflike siekte is
waaraan ons almal uiteindelik sal sterf”.
Sonder om te deel in God se lewe, sal almal van ons voorwaar uiteindelik
sterf. Lewe is dus ’n geweldige geskenk, maar
wat ons eintlik ontvang, is gemeenskap aan God se lewe. Hierdie “deel aan God se lewe” word vir ons pragtig beskryf
deur Paulus in Romeine 6 en 8; deur Petrus in 2 Pet.1:4 en deur Johannes in die
bekende gedeelte in Joh.6:53-57 ~ Maar Jesus sê vir hulle: “Dit verseker Ek julle: As
julle nie die liggaam van die Seun van die mens eet en sy bloed drink nie, het
julle nie die lewe in julle nie. 54 Wie my liggaam eet en my
bloed drink, het die ewige lewe, en Ek sal hom op die laaste dag uit die dood
laat opstaan. 55 My liggaam is die ware
voedsel, en my bloed is die ware drank. 56 Wie my liggaam eet en my
bloed drink, bly in My en Ek in hom. 57 Soos die lewende Vader My
gestuur het, en Ek deur Hom lewe, so sal hy wat My eet, ook deur My lewe.
Hierdie “deel” in God se lewe, is ’n baie moeilike begrip vir
ons om te verstaan, want ons ervaar dit tog nie in ons verhoudinge met ander
mense nie – ja, ons ervaar hulle
hartseer en vreugde ens., maar hulle leef afsonderlik en los van ons. Wat dit egter beteken, is dat ons deur die
Heilige Gees, deel kry aan God se lewe, deurdat ons die ewige lewe deur
Christus van die Vader erf. Is dit nie
onuitspreeklike genade nie!
•
Laastens
moet ons besef dat die Heilige Gees ook die gemeente van Christus bou. Hy
vestig ons fokus op Jesus Christus en daarna plant Hy ons in ’n plaaslike gemeente en dit
is deur die gemeente dat Hy ons lei en leer.
Ons moet besef dat die Heilige Gees primêr vir die Liggaam gegee word en nie primêr vir individue nie
5. SAMEVATTING:
Hierdie seënbede van Paulus word
afgesluit met die woorde ~ ...die gemeenskap van die Heilige Gees sy met julle almal! Hier staan nié, “mag die gemeenskap van die
Heilige Gees met elkeen van julle individueel wees nie.” Nee, hier staan ...maar met julle almal – almal
korporatief dus.
Al het Paulus die gemeente in Korinte
hier in gedagte gehad toe hy hierdie seënbede uitgespreek het, word
hierdie gebed al sedert die
vroegste tye beskou as ’n samevatting van die
Evangelie en daarom is dit ook op ons van toepassing.
Hierdie seënbede som ons aanbidding
pragtig op en is die fondasie van ons Christelike teologie. Dit beteken dus dat ons verhouding met die
Drie-enige God, ’n dinamiese en persoonlike
verhouding van liefde is wat moontlik gemaak word deur die genade van Jesus
Christus en middellik gewerk word deur die gemeenskap van die Heilige Gees.
Dit is voorwaar ’n gebed wat ons teologie
pragtig saamvat en wat tot seën vir
elkeen van ons strek en wat ons herinner aan die vele fasette van God die Vader
en van die Seun Jesus Christus en van die Heilige Gees se karaktereienskappe
wat met ons gedeel en aan ons geskenk word.
Hierdie seënbede is voorwaar ’n swaar gelaaide gebed!
Elke keer wanneer ons dan vir mekaar sê ~ Die genade van die Here Jesus Christus sy met jou, weet dan dat hierdie
genade van Christus wat met my is, geloof in my werk. Dit herinner my daaraan dat ek volkome deur
Christus gered is en deur hierdie genade ontvang ek ook kennis van God – Genade dus vir jou!
Elke keer wanneer ons dan vir mekaar sê ~ Die liefde van God sy met jou. Sê ons
vir mekaar dat ons moet onthou dat God ons persoonlik, oneindig lief het en dat
hierdie liefde elke oomblik met ons is, inteendeel dit is vir ewig met ons en
dit is hierdie liefde van God wat my eensydig gered het en dat hierdie liefde nooit
sal verander nie
Elke keer wanneer ons dan vir mekaar sê ~ …die gemeenskap van die
Heilige Gees sy met julle almal!, sê ons vir mekaar en herinner
ons mekaar daaraan dat dit die Heilige Gees is wat aan ons die ewige lewe skenk en dat dit Hy is wat
ons in die lewe hou.
Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te Drie Riviere Baptiste Kerk op Sondag 13 September 2015