Sunday, 12 January 2014

Psalm 110 (“Ons Soewereine Verlosser”)

1.     INLEIDING:
       Ons staan aan die begin van ’n nuwe jaar en die meeste van ons, indien nie almal nie, het al lankal besef en besluit dat allerlei nuwejaarsvoornemens sommer net ’n klomp nonsens is en dat dit tog nooit werk nie – baie dikwels is die eerste dag van die nuwe jaar nog nie eens verby nie en vind jy dat jy alreeds een of meer van jou goeie voornemens nie nagekom het nie en die redes daarvoor is legio.

       As daar egter een voorneme is wat ons as gelowiges behoort te neem – en nie net aan die begin van die nuwe jaar nie, maar elke oggend en middag en aand van ons lewe, is dit dat ons, ons dag en nag en week en maand en nuwe jaar, in afhanklikheid van die Here Jesus Christus moet deurbring en watter beter voorneme kan daar wees, as juis dit, want Jesus Christus is ons soewereine Verlosser en as ons dit bely en leef, kan daar geen beter voorneme wees as juis dit nie, maar dit moet en mag nie net by ’n voorneme bly nie – dit moet ’n absolute leefwyse word, want dan sál dit goed gaan met ons. Waarom – waarom juis hierdie bepaalde voorneme? Kom ons lees Psalm 110. 

2.     SKRIFLESING:
       Psalm 110:1-7 ~ Van Dawid. ’n Psalm. Die Here het vir my heer die koning gesê: “Kom sit aan my regterhand, en Ek sal jou vyande aan jou onderwerp.” 2As die Here die septer, simbool van u mag, uit Sion aan u oorhandig, heers dan oor u vyande! 3U volk is gereed vir die dag waarop u u magte monster. U jongmanne is u krag as hulle teen dagbreek aantree, geklee vir die heilige stryd. 4Die Here het ’n eed afgelê en Hy sal dit nie herroep nie: “Jy sal altyd priester wees in die priesterorde van Melgisedek.” 5Die Here gee u die oorwinning, Hy verdelg konings die dag as Hy sy toorn laat losbreek. 6Hy straf die nasies, Hy verdelg hulle leiers, Hy laat die wêreld vol lê van hulle lyke. 7Die koning drink water uit die stroom langs die pad, hy sal die oorwinning behaal.

       Psalm 110 word algemeen beskou as die “Kroon van al die Psalms”. Hierdie Psalm, net soos Ps.2, was waarskynlik gebruik tydens kroningsplegtighede en –rituele in die vroeë Israel. Martin Luther het bv. gesê dat hierdie Psalm waardig is om bekroon te word met die kosbaarste edelstene.

       Spurgeon het hierdie Psalm se sewe verse in drie dele verdeel, met v.4 wat die middelste gedeelte uitmaak. Anders gesien, kan ons sê dat hierdie Psalm uit twee parallelle gedeeltes bestaan. Beide gedeeltes begin met die Here wat aan die woord is in vv.1 en 4 en dan die Psalmskrywer se reaksie of oordenking in vv.2-3 en 5-7.

       Die eerste gedeelte (v.1) praat van ~ ...my heer die koning (let op die kleinletters) en die tweede gedeelte praat van ~ ... priester wees in die priesterorde van Melgisedek priester wees in die priesterorde van Melgisedek (v.4). Ons sien ook in v.1 dat daar melding gemaak word van God se regterhand en dan ook weer in v.5. Ons vind dus ’n pragtige beweging van verheerliking in die hemel, na verheerliking op aarde. Die boodskap is dat die Here as koning, ’n universele en ewige koninkryk daarstel deur oorwinning oor Sy vyande.

3.     CHRISTUS SE HEERSKAPPY:
            Die sinnetjie in v.1, nl. ~ Die Here het vir my heer die koning gesê: “Kom sit aan my regterhand, en Ek sal jou vyande aan jou onderwerp, lei ons tot twee vrae:
·         Wie is hier aan die woord?
·         Tot wie word hierdie woorde gerig?

       Verskeie verklarings bestaan oor wie hier aan die woord is en tot wie hierdie woorde gerig is. Die ou Joodse Rabbi’s het o.a. gesê dat dit Melgisedek is wat hier met Abraham praat. 

       Dawid word ook in sekere kring as moontlikheid genoem, maar dit kon ook nie Dawid gewees het waarvan hier gepraat word nie, omdat Dawid nooit opgeneem is in die hemel soos wat v.1 suggereer nie – dieselfde redenasie geld dan uiteraard ook vir mense – konings en leiers soos Salomo, Serubbabel,  Sadok, Josua en om dieselfde rede kon dit ook nie Abraham en Melgisedek gewees het nie

       Hier is ook geen engel ter sprake nie, want die Hebreërskrywer sê ondubbelsinnig in Hebr.1:13 ~ Van watter engel het Hy ooit gesê: “Sit aan my regterhand, totdat Ek jou vyande aan jou onderwerp het”? 

       Die waarheid is dat hierdie woorde deur God self gespreek word en Hy praat hier in Ps.110 van Sy Seun, Jesus Christus, die Messias en Hoë Priester volgens die Orde van Melgisedek wat aan Sy regterhand sit, totdat Hy weer sal terugkeer na die aarde as die seëvierende Koning.

       Antieke aardse konings het dikwels hul regtervoet op die liggaam van ’n neergevelde en oorwonne vyand geplaas om sy oorwinning oor daardie bepaalde koning te demonstreer.   Net so word Christus ook hier beskryf as oorwinnaar oor die vyand – die satan, wanneer dit aan die einde van v.1 sê (OAV) ~ totdat Ek u vyande maak ’n voetbank vir u voet - en die vyand? Die satan natuurlik. Jesus se vyande sal dus almal aan Hom onderwerp word!  

       Jesus beklee dus die hoogste; mees bevoorregte en mees gesaghebbendste posisie in die ganse skepping.

       In vv.2-3 antwoord, of reageer die Psalmdigter nou op hierdie uitspraak wat God die Vader t.o.v. Sy Seun maak, deur te sê dat hierdie toekomstige heerskappy van die Seun, Jesus Christus, verseker gaan plaasvind, deurdat Hy Sy septer (teken van oorwinning en heerskappy en ook om guns en oordeel aan te dui) uiteindelik oor die ganse heelal uitgestrek sal hou, trouens hierdie proses is reeds aan die gang en sal sy klimaks bereik met Jesus se tweede koms.

       In v.3 sien ons dat die Seun se troepe – die ware gelowiges, gereed is om saam te veg. Wanneer vind hierdie geveg plaas? Die OAV vertaal v.3 met die woorde ~ ...op die dag van u krygsmag. Wanneer is hierdie ...dag van krygsmag? Hierdie dag van krygsmag strek van Jesus se hemelvaart tot en met Sy wederkoms – nou terwyl Hy aan die regterhand van God die Vader sit.

       Hoe vind hierdie geveg plaas? Paulus verskaf aan ons die antwoord in Rom.12:1 ~ En nou doen ek ’n beroep op julle, broers, op grond van die groot ontferming van God: Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefenGee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Petrus sê in 1 Pet.1:15-16 ~ ...soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in julle hele lewenswandel heilig wees. 16Daar staan immers geskrywe: “Wees heilig, want Ek is heilig.” Dit is belangrik dat ons daarop sal let dat heiligmaking niks met wettisisme te doen het nie – ’n interessante verduideliking van heiligmaking is dat iemand wat heiligmaking najaag, die begeerte en strewe het om sy eie lewe en alles om hom te herstel tot dit wat dit was en hoe dit was voor die sondeval. Dit is ’n begeerte en strewe om my lewe te konformeer na die wese en karakter van Jesus Christus.

            Let op hoe stel die Psalmskrywer v.3 in die OAV – hy sê ~ U volk sal baie gewillig wees op die dag van u krygsmagU volk sal baie gewillig wees. Sy volk kies om diensbaar aan Hom te wees; hulle is vrywilligers wat onder geen dwang staan nie. Hulle is waar Jesaja was in hulle keuse om diensbaar te wees– hulle sê saam met Jesaja ~ Hier is ek! Stuur my! (Jes.6:8).

       Wanneer ek heiligmaking najaag in en deur my lewe, is ek besig om saam met Christus in hierdie heilige stryd te veg teen die satan en sy bose magte en is ek deel van Openb.19:14 se leër ~ Die leërs in die hemel het op wit perde agter Hom aan gery. Hulle het fyn, helder wit klere aangehad – hierdie wit perde en wit klere dui natuurlik op heilige en onbesmette lewens en dit is wat ons moet najaag.

       Jesaja  sê in Jes.1:19 dat indien ons gehoorsaam is en deelneem aan hierdie stryd, sal ons ...die goeie van die land eet, maar as julle weier (sê hy), sal die swaard júlle eet, want dit is die Here wat dit gesê het.

4.     CHRISTUSSE SE HOË PRIESTERLIKE AMP:
Hierdie geveg geskied o.l.v. Koning, Jesus Christus, maar meer nog – ons sien in v.4 dat Hy ook Priester is volgens die Orde van Melgisedek. Waarom word Melgisedek se naam so prominent hier genoem; waarom is dit belangrik dat Jesus volgens hierdie orde Priester is?

Ons kry slegs drie keer met Melgisedek in die Woord te doen. Hy word vir ons bekend gestel in Gen.14 as deel van Abraham se verhaal. Na hierdie bekendstelling is daar ’n duisend jaar stilte oor hom en word hy skielik weer hier in Psalm 110 vermeld – en sommer ook net so terloops. Na ’n verdere duisend jaar, kry ons weer met hom in Hebreërs te doen. Die Hebreërskrywer maak vier keer melding van Melgisedek (Hebr.5:6, 10; 6:20; 7:17) en ’n verdere vier keer van die Orde van Melgisedek (Hebr.5:6, 10; 6:20; 7:17). Die Hebreërskrywer sê o.a. van hom in Hebr.7:4 ~ Let nou op hoe groot hierdie man was aan wie Abraham, die stamvader, ’n tiende van die beste oorlogsbuit gegee het. Wie en wat was hierdie misterieuse man?

     In Gen.14 lees ons van Abraham wat Lot gered het van ’n koalisie van vier konings wat Lot en sy familie aangeval het. Op sy pad terug ná die geveg, ontmoet Abraham vir Melgisedek. Ons lees die verhaal van hierdie unieke ontmoeting in drie verse in Gen.14 – en dit is al wat in Genesis van hom vertel word ~ Melgisedek, koning van Salem en priestervan God die Allerhoogste, het vir Abram kos en wyn gebring 19en hom geseën: “Mag Abram geseën word deur God die Allerhoogste, Skepper van hemel en aarde. 20Geloof sy God die Allerhoogste! Hy het jou vyand in jou mag oorgegee.” Toe het Abram vir Melgisedek ’n tiende van alles gegee. 21Die koning van Sodom het vir Abram gesê: “Gee my net die mense en vat die besittings vir jou.” (vv.18-20). Hier word Melgisedek dus geïdentifiseer as ’n koning en priester van God wat van Salem in Sodom afkomstig was – dis al. Wat ons egter ook weet van hierdie man, is dat sy naam, eintlik ’n titel was wat hy gedra het, want ”Melgisedek” beteken “koning van geregtigheid”. Die uitdrukking, “koning van Salem” beteken “koning van vrede”. Klink hierdie titels bekend? Jesus Christus het vir ons geregtigheid geword en sodoende deur Sy dood, vrede tussen ons en God gebring. Melgisedek was dus ’n “Tipe van Christus” en het derhalwe vooruit gewys na Christus.

            Wanneer ons na Ps.110 kyk, word die naam of titel, “Melgisedek” baie duidelik gebruik as ’n tipe van Messias of Verlosser. In die eerste vers word die Here beskryf as Goddelike Verlosser aan wie die Vader heerskappy gegee het oor die vyande en dan in v.4 waarna ons nou kyk, word Hy beskryf as Priester volgens die Orde van Melgisedek. Ons sien dus dat Jesus beide Koning en Priester is (nes Melgisedek). Ons moet verstaan dat hierdie samevoeging van hierdie twee spesifieke ampte iets totaal ongehoords was in Israel – geen koning kon ’n priester wees nie en geen priester kon ’n koning wees nie – ’n goeie voorbeeld hiervan was toe Ussia, koning van Juda wierook in die Tempel wou brand en hy onmiddellik met melaatsheid gestraf is (2 Kron.26:16-23). Melgisedek wat nie ’n Israeliet was nie, was egter beide koning en priester en deur hierdie uitdrukking, “volgens die Orde van Melgisedek”, wil die Woord vir ons sê dat Christus uniek en derhalwe verhewe is bo enige Joodse priester of koning – Hy is inderdaad God en daarom heers Hy oor Sy Koninkryk, maar Hy is ook terselfdertyd Priester wat vir ons voorbidding kan doen.

Wat meer is, God het ’n eed geneem (Hy het by Sy eie Naam gesweer) dat Hy Sy Seun as Priester  na hierdie wêreld sal stuur. Wanneer God sweer, of ’n eed neem, is dit belangrik dat ons na Hebr.6:16-18 sal kyk om hierdie optrede van God beter te verstaan ~ Mense lê ’n eed af by iemand groter as hulleself. Vir hulle is dit die bevestiging van ’n saak, en dit sluit alle teëspraak uit. 17En omdat God aan die erfgename van die belofte bo alle twyfel wou verseker dat sy besluit onveranderlik is, het Hy dit met ’n eed gewaarborg. 18Die twee onveranderlike dinge, die belofte en die eed, waarborg dat God sy woord gestand sal doen, en is vir ons wat ons toevlug tot Hom geneem het, ’n kragtige aansporing om vas te hou aan die hoop op wat vir ons weggelê is.

Volgens die Hebreërskrywer is hierdie aanstelling van Christus as Priester volgens die Orde van Melgisedek ook uniek, anders en ewig, omdat Sy Priesterskap vir ons ’n beter hoop gee as dié van aardse priesters (Hebr.7:19). Hebr.9:9-11 sê ook vir ons dat Sy Priesterskap, gegrond word op ’n groter en volmaakte verbond en in Hebr.9:12-14 word dit vir ons bevestig, dat Christus se Priesterskap nooit tot ’n einde sal kom nie.

Hierdie eed wat God neem, sê dus vir ons dat Christus se aanstelling as ewige Koning en ewige Priester vasstaan en nooit in der ewigheid sal en kan verander nie en dit impliseer dus ook dat Christus se Plaasvervangende offerwerk aan die kruis ook vir ewig vasstaan en dit word vir ons bevestig in Hebr.10:17-18 ~ Dan sê Hy verder: “Aan hulle sondes en hulle oortredings sal Ek nooit meer dink nie. 18Waar die sondes vergewe is, is geen offer daarvoor meer nodig nie!

5.     CHRISTUS SE WEDERKOMS:
       Dawid, in hierdie pragtige Psalm van hom, voorsien ook ’n
toekomstige tyd en –gebeurtenis wanneer Christus gaan terugkeer – ’n profetiese visioen van die einde dus; ...die dag as Hy sy toorn laat losbreek – die dag wanneer die laaste geveg o.l.v. Christus geveg sal word teen die satan en al sy lakeie – Openb.19:11-15 ~ Toe het ek gesien die hemel is oop. Daar was ’n wit perd. Sy Ruiter word die Getroue en die Betroubare genoem. Met regverdigheid oordeel Hy en voer Hy oorlog. 12Sy oë het soos vuur gevlam, en op sy kop was daar baie heerserskrone. Daar was ’n Naam op Hom geskrywe wat niemand anders ken nie, net Hy self. 13Hy het klere aangehad wat met bloed deurweek was, en sy Naam is: “Die Woord van God.” 14Die leërs in die hemel het op wit perde agter Hom aan gery. Hulle het fyn, helder wit klere aangehad. 15Uit sy mond het daar ’n skerp swaard uitgekom om die nasies mee te tref, en Hy sal hulle met ’n ystersepter regeer. Hy sal self die parskuip trap vir die wyn, die wyn van die toorn en die oordeel van God, die Almagtige.

       In die laaste drie verse van hierdie wonderlike Psalm, sien ons skielik ’n wending in gebeure plaasvind – tot en met v.4 het ons gesien dat daar gepraat word oor ’n geveg en die oorwinning wat behaal sal word en Christus se bekleding as Koning en Hoë Priester, maar nou hier in vv.5-7 is die geveg klaar geveg en tree die Vader en die Seun nou tesame op tydens die finale oordeel – Christus se heerskappy oor hierdie huidige bedeling word nou afgesluit en Hy is op die punt om Sy vyande finaal te vernietig; te oorwin en te oordeel – ’n vervulling van Ps.2. In v.11 waarsku die Here hulle, deur te sê ~ Dien die Here met vrees, en juig met bewing, maar hulle het hulle nie gesteur aan hierdie waarskuwing nie en daarom gaan die  waarskuwing in v.9 nou in vervulling kom, nl. ~ U sal hulle verpletter met ’n ysterstaf, U sal hulle stukkend slaan soos ’n erdepot. Ons sien dan in vv.5 en 6 hoe dit gaan gebeur. Christus gaan op die dag van Sy wederkoms alle konings wat hom geopponeer het, oordeel deur hulle tot die ewige verdoemenis te veroordeel (Ps.110:5; Openb.6:16-17) en in v.6 sien ons dat die Seun, die nasies gaan oordeel en die skape van die bokke gaan skei (Matt.25:31-46).

       In v.7 bereik alles egter ’n klimaks en keer Christus die ewige Koning en –Hoë Priester finaal terug om vir ewig te heers oor die ganse heelal.

6.     SLOTSOM:
       Ons sien Jesus Christus in hierdie Psalm, as die soewereine Heerser oor alles en almal, maar ons sien Hom ook as Redder van diegene wie in Hom glo en daarom is dit van kritieke belang dat elkeen van ons reg sal reageer op sy roepstem; op die Psalmdigter se oproep van Ps.2, toe hy gesê het ~ Dien die Here met vrees, en juig met bewing. As ons dit doen het ons niks te vrees nie, want Christus as Hoë Priester hét die volmaakte en afgehandelde offer vir ons wie in Hom glo, gebring en Hy doen voortdurend voorbidding vir ons by die Vader, sodat ons nie uit Sy hand geruk sal word nie.

       As ek daarom maar een Nuwejaarsvoorneme kan hê, dan behoort dit te wees om my Redder en Hoë Priester met oorgawe te dien en al wat dit vra is om:
·           My sonde te bely en my daarvan te bekeer. Bekering van sonde lê dan ook aan die hart van die Evangelie, daarom dat Jesus in Matt 4:17 gesê het ~ Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom. Elke sondaar wat gered wil word, móét hom van sy sonde bekeer – hy móét m.a.w. ophou om te volhard in bepaalde sondes en hom/haar wend tot Christus Jesus. Dit behels m.a.w. ’n totale verandering van gesindheid, van gedagtes en denke; van optrede – daar moet ’n totale hartsverandering plaasvind en ons moet op ’n punt van algehele gebrokenheid en berou oor ons sonde kom ~ Laat ons dan ophou met die werke van die duisternis; laat ons die wapens van die lig opneem (Rom.13:12).

·           Tweedens moet ek in Jesus Christus glo – werklik glo. Reddingsgeloof behels ’n volkome en algehele en onvoorwaardelike oorgawe aan Sy wil, soos uitgedruk in die Woord van God – elkeen van ons moet aan die einde van onsself kom en die woorde van Jesus in Matt 16:24, nooit vergeet nie, maar meer nog, ons moet dit daagliks prakties toepas in en deur ons lewe ~ As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg. Ons moet Christus en Christus alleen vertrou vir ons redding ~ Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ’n gawe van God. 9Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie (Ef.2:8-9).


       My gebed vir elkeen van julle en uiteraard vir myself ook, is dat hierdie ons opregte Nuwejaarsvoorneme en –strewe sal wees – mag julle ’n geseënde 2014 beleef wat gekenmerk sal word deur geestelik groei!

Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Sondag 12 Januarie 2014

Saturday, 14 December 2013

Die Brief aan die Hebreërs – 25 (“Sola Fide”)

1.     INLEIDING:
       Die afgelope week of wat is daar geweldig gepraat oor Madiba se lewe en wat se wonderlike voorbeeld hy vir ons as Suid-Afrikaners is en dit is tot ’n gekwalifiseerde mate waar en ons kan baie neem uit wat hy gesê en voorgeleef het. Ons het ook gesien hoe dat mense (selfs Afrikaanssprekendes wat bely dat hulle gelowiges is) Mandela as geredde en uitverkorene sien en dan grond hulle hul stellings juis op hierdie wonderlike eienskappe, uitsprake en optredes van Mandela (gaan lees gerus die volgende uitstekende artikel oor Mandela en die verafgoding rondom hom, deur Tyrell Haag, op ons nuwe SOLA 5 webtuiste: http://sola5.org/nelson-mandela-responding-rightly/).

       Ons lees egter in Rom.4:5 dat Paulus sê ~ Maar die mens wat nie op wetsonderhouding staatmaak nie, maar wat glo in Hom wat die goddelose vryspreek, hy kry die vryspraak deur sy geloof . Wie het Paulus in gedagte gehad toe hierdie woorde geskryf het? Ons lees die volgende in Gen.15:6 ~ Abram het toe in die Here geglo, en die Here het dit goedgevind dat Abram so volgens die wil van die Here gehandel het. Paulus het Abraham in gedagte gehad toe hy Rom.4:5 neergepen het en beide hierdie verse van Paulus en Moses, is ’n pragtige samevatting van daardie een pragtige Sola waarop die Gereformeerde teologie ook berus, nl. “Sola Fide”, of te wel “Geloof Alleen” en wat beteken dit presies? In kort kom dit daarop neer, dat God verklaar dat elke sondaar, regverdig verklaar word wanneer hy of sy vanuit sy morele bankrotskap, volledig op die Middelaarskap van Jesus Christus staatmaak en dan alleen is hy vir God aanvaarbaar. Daar is geen ander manier om met God versoen te word nie. Geen menslike verdienste van watter aard ook al, kan Christus se verdienste aanvul of selfs verplaas nie; trouens, die Woord waarsku uitdruklik dat enige poging daartoe diskwalifiserend is.

       Dit is presies wat Paulus en Moses van Abraham gesê het – hy het vooruit in sy Messias se vrysprekende genade geglo – en hy het daarvolgens geleef! Geen wonder dat Abraham in die annale van die geskiedenis bekendstaan as “die Vader van Geregtigheid” nie en in Rom.4:11f &16 word hy “die Vader van almal wat sou glo” genoem. Hoor net wat sê Paulus in Gal.3:29 ~ En as julle aan Christus behoort, is julle ook nakomelinge van Abraham en erfgename kragtens die belofte van God.

2.     SKIRFLESING:
       Hebr.11:8-19 ~ Omdat Abraham geglo het, het hy gehoor gegee toe God hom geroep het om weg te trek na die plek toe wat hy as erfdeel sou ontvang. Hy het weggetrek sonder om te weet waar hy sou uitkom. 9Omdat hy geglo het, het hy in die beloofde land gaan woon, ’n vreemdeling in ’n vreemde land. In tente het hy daar gewoon, en so ook Isak en Jakob wat saam met hom erfgename van dieselfde belofte was, 10want hy het uitgesien na die stad wat vaste fondamente het en waarvan God self die ontwerper en bouer is. 11Omdat Abraham geglo het, het hy, hoewel Sara onvrugbaar was en hy al te oud, krag ontvang om ’n kind te verwek, omdat hy God wat dit beloof het, getrou geag het. 12Die gevolg was dat daar van een man, ’n man wat nie meer ’n kind kon verwek nie, kinders afgestam het so talryk soos die sterre van die hemelruim en so baie soos die sand van die see. 13Terwyl hulle steeds geglo het, het al hierdie mense gesterwe sonder om te verkry wat beloof is, maar hulle het dit uit die verte gesien en daaroor gejuig, en hulle het erken dat hulle hier op aarde slegs vreemdelinge en bywoners is. 14Mense wat so praat, gee daarmee duidelik te kenne dat hulle op soek is na ’n vaderland. 15As hulle terug verlang het na daardie land waaruit hulle weggetrek het, sou hulle die geleentheid gehad het om daarheen terug te gaan. 16Maar hulle het na ’n beter vaderland, dit is die hemelse, verlang. Daarom is God nie skaam om hulle God genoem te word nie; trouens, Hy het vir hulle ’n stad gereed gemaak. 17–18Omdat Abraham geglo het, het hy, toe hy op die proef gestel is, Isak as offer afgestaan. Ja, hy wat die belofte ontvang het en aan wie gesê is: “Uit Isak sal jou nageslag gebore word,”  het gereed gestaan om sy enigste seun te offer. 19Hy was daarvan oortuig dat God by magte is om uit die dood op te wek, waaruit Abraham vir Isak ook, om dit so te stel, terug ontvang het.

3.     ABRAHAM – VOORBEELD VAN GELOOF:
       Sonder enige twyfel kan Abraham beskou word as die grootste en beste voorbeeld van geloof in die ganse Bybel. Natuurlik was daar andere – selfs voor Abraham, wat wonderlike geloof aan die dag gelê het – dink maar net aan Abel en Henog en Noag, maar van nie een van hierdie ander geloofshelde word soveel detail weergegee oor hulle geloof as juis dié van Abraham nie – ons sien hier in Hebreërs 11 reeds ’n klomp eienskappe van sy geloof en dit in ’n kort gedeeltetjie en natuurlik is Gen.12-25 deurspek van elemente van sy geloof, waar die aanvang van sy geloof vir ons beskryf word; die voortgang en ontwikkeling en die vrug daarvan – en dit van ’n man wat uit ’n ongelowige, heidense huis gekom het (Jos. 24:2 ~ Toe sê Josua vir die hele volk: “So sê die Here die God van Israel: Lank gelede het julle voorvaders—onder hulle was Tera, vader van Abraham en Nahor—anderkant die Eufraat gewoon en hulle het ander gode gedien).

       Abraham se geloof was so hoog geag in die Ou Testament, dat een van die belangrikste Levitiese gebede van lofprysing, verwys na Abraham se geloof ~ U is die Here, die God wat vir Abram gekies het, hom uit Ur van die Galdeërs gebring het en sy naam Abraham gemaak het. 8U het hom getrou teenoor U bevind, met hom ’n verbond gesluit dat U die land van die Kanaäniete, die Hetiete en Amoriete, die Feresiete, Jebusiete en Girgasiete, aan sy nageslag sou gee, en U het u belofte nagekom; U is betroubaar (Neh.9:7-8). Abraham se geloof het so ’n indruk op Jakobus gemaak dat hy in Jak.2:23 sê ~ ...en hy (Abraham) is ’n vriend van God genoem.

       Behalwe vir die getuienis wat ons in Genesis het dat God aan Abraham verskyn het, lees ons dit ook, in Stefanus se toespraak voor die Sanhedrin, kort voor sy steniging ~ Broers en vaders, luister na my! God, aan wie al die eer toekom, het aan ons voorvader Abraham verskyn toe hy nog in Mesopotamië was, voordat hy in Haran gaan woon het. 3God het vir hom gesê: ‘Trek uit jou vaderland uit, weg van jou familie af, en gaan na die land toe wat Ek vir jou sal wys’ (Hand.7:2-3).

       Abraham het God so intiem leer ken, dat die toekoms vir hom soos die hede gevoel het – hy was oortuig van dit wat hy nog nie kon sien nie – net soos Moses ~ Omdat hy geglo het, het hy Egipte verlaat sonder dat hy vir die woede van die koning bang was. Hy het volhard soos iemand wat die onsienlike God sien (Hebr.11:27). Alles wat Abraham gedoen en gesê het, was gegrond op sy geloof in Hom, die onsienlike God wat hom geroep het.

·           Geloof en die Beloofde Land:
       Baie mense dink dat geloof net ’n kwessie is om oortuig te wees van sekere dinge t.o.v. God en/of die Bybel – bv. om onwrikbaar te glo dat die Bybel waar is; dat Christus waarlik opgestaan het uit die dood, ens. en daar bestaan geen twyfel daaroor dat hierdie dinge van uiterste belang is vir ons geloofslewe, trouens dit is van kardinale belang, maar dit is egter nie waar geloof eindig nie – geloof behels ook dat jy jou ganse lewe sal baseer op hierdie oortuigings, anders is dit nie geloof nie – geloof is dus lewend en hiervan is Abraham vir ons ’n uitstekende voorbeeld.

       Ons vind Abraham se roeping reeds in Gen.12:1-4 opgeteken, waar  God opdrag aan Abraham gee om uit sy land te trek na die land wat God aan hom sal aanwys (“die Beloofde Land”) en terselfdertyd maak God ’n paar beloftes aan Abraham indien hy gehoorsaam sou wees en dan volg Abraham se reaksie in v.4 ~ Abram het toe weggetrek, gehoorsaam aan die woord van die Here....

·           Geloof en Gehoorsaamheid:
       Ons sien dus hier, dat Abraham se geloofslewe begin het, die oomblik toe hy God gehoorsaam het en weggetrek het na die “Beloofde Land”. Geloof en gehoorsaamheid is onafskeidbaar van mekaar wanneer dit kom by ’n verhouding met God. Abraham sou God nooit gehoorsaam het, as hy God nie op Sy Woord geneem het nie.

       Abraham se gehoorsaamheid was dus ’n uiterlike teken en – bewys van sy inherente geloof. In die Griekse vertaling van die Ou Testament word hierdie woord “gehoorsaam” op so ’n wyse vertaal dat dit letterlik lees, Abraham het al begin trek toe God se woorde nog in sy ore weerklink het en van daardie oomblik af het Abraham se ganse lewe gedraai om sy gehoorsaamheid aan God.

       Wanneer enige persoon na Christus Jesus kom, vereis God van hom of haar om “oor te beweeg” van sy ou mens na die nuwe mens wie hy nou in Christus is – hy moet oorbeweeg van sy ou gebruike en gewoontes, na ’n nuwe leefwyse – net soos wat Abraham vanuit ’n heidense omgewing, oombliklik na ’n nuwe geloofslewe in gehoorsaamheid en afhanklikheid van God beweeg het ~ Iemand wat aan Christus behoort, is ’n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom (2 Kor.5:17).

       Om die oue mens neer te lê is een van die grootste hindernisse denkbaar in die lewe van ’n gelowige. Net soos in die lewe van Abraham, kan ons ook nie die seën letterlik sien wat daar in Jesus Christus is nie, maar net soos Abraham, moet ons ook in geloof “uittrek” en eers wanneer ons Jesus Christus ten volle vertrou en Hom gehoorsaam, sal ons die “Beloofde Land” kan binnegaan soos Abraham – ons moet eers glo en gehoorsaam; dan sal ons ervaar. Gedurende hierdie pelgrimstog, moet ons egter gedurig gehoorsaam wees aan Rom.12:2 ~ Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is

       Dit is belangrik dat ons ook daarvan kennis sal neem dat, om aan hierdie wêreld gelyk te word, of te wel, wêreld gelykvormigheid, primêr ’n gesindheid is, eerder as optrede – dit is ’n begeerte na sonde – dít is waar dit begin en dít is waar dit met wortel en tak uitgeroei moet word – in die hart. ’n Uiters betroubare aanwyser om te bepaal óf ons wêreld gelykvormig geraak het (of is) en tot watter mate toe, is om ons hart te ondersoek en vas te stel waar ons hart lê – waar ons voorliefdes lê ~ Moenie die sondige wêreld en die dinge van die wêreld liefhê nie. As iemand die wêreld liefhet, is die Vader se liefde nie in hom nie (1 Joh.2:15).

       Aan die anderkant, hoe meer ons liefde en toewyding aan Jesus Christus groei, dermate sal ons voorkeure en voorliefdes vir hierdie wêreld en sy dinge verdwyn.

·           Geloof en Geduld:   
       Vers 9 is vir ons ’n verdere aanduiding van hoe ons as gelowiges, ons geloof in hierdie wêreld moet uitleef ~ Omdat hy geglo het, het hy in die beloofde land gaan woon, ’n vreemdeling in ’n vreemde land. In tente het hy daar gewoon, en so ook Isak en Jakob wat saam met hom erfgename van dieselfde belofte was – hy het in die beloofde land gaan woon as ’n vreemdeling. Die Grieks praat hier van ’n ἀλλότριος (allotrios) – iemand wat van ’n ander land kom en nou in ’n vreemde land woon - hy was m.a.w. soos iemand wat uit ’n ander land na ’n vreemde land geëmigreer het. Ek kan my net indink hoe ek as ’n nuwe immigrant  sal optree as ek nou bv. Argentinië toe moet emigreer – ek sal my mond hou en ek sal nie uitgesproke wees oor allerlei binnelandse en politiese sake nie; ek sal baie seker maak dat ek nie bots met die gereg nie, ens. – in kort, al probeer ek hoe hard, dit sal nie voel soos my land nie en ek sal presies optree soos ’n vreemdeling in ’n vreemde land.

       Waarom het Abraham as “immigrant”; as vreemdeling in tente in die Beloofde Land, Kanaän gewoon? Ons lees in Hand.7:5 ~ God het hom geen eiendom in hierdie land gegee nie, selfs nie ’n handbreedte daarvan nie. Maar Hy het wel belowe om dit as besitting vir hom te gee, en ná hom vir sy nageslag, alhoewel hy nog nie ’n kind gehad het nie.

       Abraham kom in die land aan wat aan hom belowe is, deur  die God in wie hy onwrikbaar en onmiddellik geglo het, maar tog besit hy nie ’n handbreedte daarvan nie en nog minder het hy ’n nageslag wat dalk iets daarvan kon besit. Die enigste stukkie grond wat hy besit het, was Sara se graf in Makpele, oos van Mamre, wat hy van Efron die Hetiet gekoop het.

       Arme Abraham – hy was alleen en vreemd en besit geen eiendom nie en wat meer is, sy vreemde godsdiens is onbekend vir die inwoners van sy nuwe land – hy was monoteïsties (glo in een God), terwyl die res van die bevolking almal politeïste was (veelgodery). Sy morele standaarde was gebaseer op die karakter van God, terwyl hulle geleef het soos die gode wat hulself geskep het.

       Wat hierdie faset van Abraham se lewe betref, leer ons dus dat geloof, geduldig moet wees – geduld sonder murmurering. Geloof impliseer nie noodwendig, trouens baie selde, kitsoplossings of –gebeurtenisse. Abraham het nooit die Beloofde Land in besit geneem nie, maar hy het geduldig gewag en gewag en gewag en ten spyte van al hierdie negatiewe realiteite in sy lewe, lê die geheim vir Abraham se geduld en tevredenheid, opgesluit in v.10 ~ ...hy het uitgesien na die stad wat vaste fondamente het en waarvan God self die ontwerper en bouer is. Abraham het oor ’n ewigheidsperspektief beskik – sy oë was dus op God gevestig en nie op sy omstandighede nie.

·           Geloof en die Beloofde Seun:
       As ons kyk na v.11, sien ons dat Sara einde ten laaste tog vrugbaar geraak het en sou Abraham tog op die ou einde ’n erfgenaam kry, sodat die tweede verbondsbelofte wat God aan Abraham gemaak het, in vervulling sou kom, nl. dat hy ’n groot nageslag sou hê.

       In die meeste vertalings wil dit voorkom asof Sara die een was wat oor die geloof beskik het om vrugbaar te raak, maar hier is die NAV heeltemal korrek wanneer dit sê dat Abraham die een is wat die geloof gehad het (dit gaan hier oor ’n aksentteken wat in die oorskryfproses verkeerd geplaas is en die betekenis verander het, want die Hebreeuse woorde wat hier gebruik word is “katabolēn spermatos”, wat letterlik beteken om saad neer te lê en ’n vrou kan dit tog nie doen nie en daarom verwys hierdie frase eerder na Abraham en as ons na die konteks hier kyk, gaan dit tog ook oor Abraham se geloof en daarom glo ek, vertaal die NAV hierdie gedeelte korrek en die meeste ander vertalings – insluitende die OAV dit nié korrek nie).

       Beide Abraham en Sara was al ver verby die ouderdom waar daar nog hoop kon wees op die geboorte van ’n kind, maar steeds het Abraham geglo en vertrou in God se verbondsbelofte van ’n groot nageslag – al het hy, net soos Sara op ’n stadium gelag oor die moontlikheid van ’n kind op hulle ouderdom (Gen.17:17; 18:12). Abraham het bly glo en daarom was die uiteindelike geboorte van sy eersteling, dus die vrug van sy geloof, trouens Abraham se eersteling was maar net die begin van nog duisende der duisende wat na hom gebore sou word – die een klein Joodjie na die ander – en hulle word vandag nog gebore en almal se grootvader is Abraham!

       Die bekende Fil.4:13 was dus hier van toepassing ~ Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee, asook Mark.9:23 ~ ...alle dinge is moontlik vir die een wat glo (OAV). En Matt.19:26 sê o.a. ~ ...vir God is alles moontlik. God het belowe en Abraham het onwrikbaar geglo in God se Woord en daarom word Isak gebore!

       Ons kan nou maklik vra, maar wat van die grondgebied? Wel, God het dit vir Abraham se nageslag gegee – het Hy nie? Ons sal nie altyd die vrug van ons geloof en gebede sien nie – dieselfde met Abraham – hierin was hy dus ’n uitnemende voorbeeld vir ons.

·           Geloof en die Ewigheid:
       Vv.13-16 is net nog ’n verdere beklemtoning van die feit dat Abraham en sy onmiddellike nageslag, God op Sy Woord geneem het. Hulle het nie al God se beloftes in hulle lewe sien realiseer nie, maar v.13b stel dit pragtig ~ ...maar hulle het dit uit die verte gesien en daaroor gejuig, en hulle het erken dat hulle hier op aarde slegs vreemdelinge en bywoners is. Dit wat die onsigbare God belowe het, het hulle daar doer ver voor hulle gesien – en hulle het daaroor gejubel! Hulle het selfs vir die mense rondom hulle gesê dat hulle nie daar hoort nie – dat hulle slegs vreemdelinge en bywoners is. Hulle primêre mikpunt en doel in die lewe word vir ons in v.14b saamgevat ~ ... dat hulle op soek is na ’n vaderland en daardie vaderland was nie ’n “Republiek van Kanaän” nie – o nee, hulle het hulle hemelse woning in gedagte gehad en daarom het hulle ook geen begeerte gehad om terug te keer na hulle aardse tuisland nie – hulle was op pad – op pad na hulle ewige tuiste in die hemel!

       Dit is mense soos hierdie, wie God seën en daarom ... is God nie skaam om hulle God genoem te word nie; trouens, Hy het vir hulle ’n stad gereed gemaak. God sê in 1 Sam.2:30 ~ ...die een wat My eer, sal Ek eer. Niks verheerlik God meer as gelowiges wat in geloof lewe nie.

·           Geloof en Beproewing :
       Abraham se geloofslewe was egter nie altyd net een van voorspoed en geluk en seën nie – sy geloof, sien ons in vv.17-19, was egter ook op die proef gestel – God toets hom en gee opdrag dat hy sy eniggebore seun; sy nageslag; die vervulling van God se belofte aan hom, moet gaan offer!

       Steeds het Abraham, God op Sy Woord geneem en geweet dat God nie ontrou aan Homself is nie – Hy sál Sy beloftes nakom – al neem Hy ook vir Isak weg! Hy was so seker van God se belofte aan hom dat hy onwrikbaar geglo het, dat God Isak selfs uit die dood sou opwek – iets wat tot op daardie stadium nog nooit in die geskiednis van die mensdom gebeur het nie. Maar ’n nageslag sal hy ’n nageslag hê, soos wat God belowe het – dit het hy met sy hele hart geglo.

       V.18 is ’n baie interessante vers in die Grieks, want aan die begin word die Griekse perfektum, of te wel die voltooide teenwoordige tyd gebruik, wanneer daar staan ~ Omdat Abraham geglo het, het hy, toe hy op die proef gestel is, Isak as offer afgestaan“...hét hy Isak afgestaan”. Hierdie gedeelte wys dus na ’n reeds afgehandelde aksie in die verlede tyd – Abraham hét dit gedoen – hy hét vir Isak geoffer so ver dit Abraham se gemoed aangegaan het – hy het homself heeltemal oorgegee aan God en daar was geen twyfel meer in sy gemoed om sy enigste seun te offer nie – wat sy besluit en sy gehoorsaamheid aan betref, was dit dus ’n reeds afgehandelde saak – niks sou hom meer keer nie (so het hy in elk geval gedink!). Maar, onmiddellik daarna in dieselfde vers nog, word dieselfde werkwoord weer gebruik, maar dié keer in die imperfektum, of te wel die onvoltooide verlede tyd ~ ... Ja, hy wat die belofte ontvang het en aan wie gesê is: “Uit Isak sal jou nageslag gebore word,”  het gereed gestaan om sy enigste seun te offer“het gereed gestaan” en dit dui daarop dat die offerande nie fisies plaasgevind het nie. Abraham was tot die dood toe gehoorsaam. Hierdie is sekerlik een van die mooiste en beste heenwysings in die ganse Bybel na die offer en kruisiging van ons Here Jesus Christus.

       Ons moet egter nie ontmoedig raak wanneer ons so lees van hierdie wonderlike geloofsheld en dink dat ons dit tog nooit sal kan maak nie. Abraham was nie volmaak nie, want as hy was, sou hy in die hemel gewees het (waar hy beslis nou is) – hy het ook gestoei met sonde in sy lewe:
·           Hy het gelieg oor Sara, deur te sê dat sy, sy suster is (Gen.12:13; 20:11-13);
·           Hy (en Sara) het op ’n stadium ongeduldig geraak oor hul situasie en het hul eie planne gesmee om ’n nageslag wat God belowe het, in die lewe te bring, deurdat Sara haar slavin aan hom gegee het om ’n nageslag te verwek (Gen.16:1-15).

       Abraham se geloof het oor ’n lang tydperk gegroei tot waar dit aan die einde van sy lewe was. As gelowiges val ons ook van tyd tot tyd in sonde, maar ons word geroep om te groei in ons geloof – ja, ons sál verseker getoets word, maar as ons vashou aan Hom, sál ons groei in ons geloof ervaar.

4.     AFSLUITING:
       Daar is vyf dinge waarop die ou aartsvaders hulle geloof gebou het:
·         Hulle is op ’n pelgrimstog deur ’n vreemde land;
·         Hulle is nie deel van hierdie wêreld nie;
·         Hulle was geduldig in hul geloof;
·         Hulle het in die krag van geloof geglo;
·         Hulle het op God se ewige beloftes gefokus en daarop gestaan.


       Geliefdes, beskik jy oor hierdie tipe geloof? Is jy op hoogte van die opdragte en beloftes wat die Here aan jou gee? Is die onsigbare God ’n realiteit vir jou? Beskou jy die Woord van God regtig as die Waarheid? Beskik jy oor ’n ewigheidsperspektief en hou jy die onsienlike heerlikheid voor oë? Is dit jou grootste doel en strewe in hierdie lewe om Hom te gehoorsaam? Hoe hanteer jy situasies waar jou geloof beproef word? Sentreer jou ganse lewe en werk om God en Sy beloftes van ’n ewige “Beloofde Land”? Glo jy onwrikbaar in die gekruisigde en ook verrese Jesus Christus?

Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Sondag 08 Desember 2013

Saturday, 7 December 2013

Die Boodskap van Daniël – 11 (“Die Ewige Heerser en Koning”)

Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Sondag 08 Desember 2013

1.     INLEIDING:
       Ons kom vanoggend by die tweede gedeelte van Daniël 7 – – ’n gedeelte wat deel vorm van die visioen wat Daniël van God ontvang het en waarna ons verlede week begin kyk het, nl. vv..1-8 waar dit gegaan het oor die vier verskriklike diere wat die verskillende koninkryke verteenwoordig het, nl. die Babiloniese Ryk (die leeu met arendsvlerke – v.4); die Mede-Persiese Ryk (’n beer met ribbebene in sy bek – v.5); die Griekse Ryk (’n luiperd met vier vlerke en –koppe – v.6) en dan natuurlik laastens die Romeinse Ryk net voor en net na Jesus.

2.     SKRIFLESING:
Dan.7:9-28 ~ Terwyl ek kyk, is daar trone reggesit, en Hy wat ewig lewe, het op sy troon gaan sit. Sy klere was so wit soos sneeu, sy hare soos skoon wol. Sy troon was van vuurvlamme met wiele van vuur. 10Vuur het uit die troon gestroom en verder gevloei. Duisende der duisende het Hom gedien, miljoene het daar voor Hom kom staan. Die hofsitting het begin, en die boeke met die aanklagte is oopgemaak. 11“Terwyl ek kyk, is die een dier oor die verwaande gepraat van die horinkie doodgemaak en is sy liggaam vernietig deur dit in die vuur te gooi. 12Ook die ander diere se heerskappy is van hulle weggeneem, maar hulle lewens is nog ’n tyd lank gespaar. 13“My nagtelike visioen het voortgeduur: daar het in die wolke iemand aangekom, iemand soos ’n menslike wese. Hy het na Hom toe gegaan wat ewig lewe en is voor Hom gebring. 14Aan dié menslike wese is die heerskappy en eer en koningskap gegee sodat al die volke, nasies en taalgroepe hom sou dien. Sy heerskappy is ’n ewige heerskappy, dit sal nie tot niet gaan nie; sy koningskap sal nie ophou nie. 15“Ek, Daniël, het beangs geraak hieroor; die visioen wat ek gesien het, het my laat skrik. 16Ek het na een van dié wat daar gestaan het, gegaan en hom gevra wat dit alles beteken. Hy het dit toe vir my soos volg uitgelê: 17Die vier groot diere staan vir vier koninkryke wat op die aarde sal ontstaan. 18Maar die heiliges van die Allerhoogste sal die koninklike heerskappy ontvang en dit vir altyd besit. 19“Toe wou ek weet waarvoor die vierde dier staan, wat anders was as al die ander, buitengewoon skrikwekkend, met ystertande en bronskloue, wat al wat voorkom, verslind en vermorsel het en wat met sy pote vertrap het wat oorgebly het. 20Ek wou ook weet wat die tien horings op sy kop beteken, en waarvoor die ander een staan wat uitgekom het nadat daar drie uitgeruk is, die horing wat groter geword het as die ander en wat oë gehad het en ’n mond wat allerlei verwaande dinge kwytgeraak het. 21Terwyl ek kyk, het daardie horing begin oorlog maak teen dié wat aan God behoort het, die horing het hulle oorweldig. 22Toe het Hy wat ewig lewe, gekom en uitspraak gelewer ten gunste van die heiliges van die Allerhoogste. Die tyd het aangebreek dat die heiliges van God die koninklike heerskappy sou ontvang. 23“Dit is vir my soos volg verklaar: Die vierde dier is ’n vierde koninkryk wat op die aarde sal ontstaan en wat anders sal wees as al die ander koninkryke. Hy sal die hele wêreld insluk, dit verwoes en vertrap. 24Wat die tien horings betref: in daardie koninkryk sal tien konings een na die ander regeer, en ná hulle sal daar een kom wat heeltemal anders sal wees as die voriges, en hy sal drie konings onderwerp. 25Hy sal teen die Allerhoogste laster en die heiliges van die Allerhoogste vervolg. Hy sal probeer om die godsdienstige feeste en wette te verander, en die heiliges van die Allerhoogste sal in sy mag oorgegee word vir die hele vasgestelde tyd. 26Dan sal die hof sit en sal daardie koning se heerskappy van hom af weggevat en vir goed vernietig en beëindig word. 27Die heerskappy en mag en grootheid van al die koninkryke op aarde sal gegee word aan die heilige volk van die Allerhoogste. Sy koninkryk is ’n ewige koninkryk, en al die regeerders sal Hom dien en Hom gehoorsaam wees. 28“Hier eindig my vertelling. Ek, Daniël, het baie geskrik toe ek hieroor dink, en dit het my baie ontstel. Maar ek het alles vir myself gehou.”  

3.      “HY WAT EWIG LEWE”:
       In teenstelling met die groot onstuimige see met die vier verskriklike gediertes, vind daar nou skielik ’n wending in Daniël se visioen plaas. In Dan.7:9 verwys die Engelse vertalings na “the Ancient of days” en die OAV van “die Oue van Dae” – die NAV verwys hier na “Hy wat ewig lewe”. Ek verkies eerder die NAV se vertaling van hierdie woord (vir ’n verandering!), omdat die OAV se vertaling vir my heeltemal te familiêr klink en God Almagtig aftrek na ons vlak (dis maar net my persoonlike voorkeur en gevoel) – dit is waarom mense sommer praat van die “Oubaas daarbo”, of as hy/sy oor God praat, sal hulle sommer sê: Ek het vir God gesê, JY moet sommer dit of dat..., of JY moet my nou help...” God is net eenvoudig té heilig om Hom af te trek op ons persoonlike “pêllie-pêllie” vlak en so met Hom en van Hom te praat!

       In v.9 dan, verrys “Hy wat ewig lewe” en hierdie is ’n duidelike omskrywing van God die Vader wat op Sy hemelse troon sit en Hy is gereed om te oordeel.

       Eerstens het Hy op die middelste troon gesit (onthou v.9 dui vir ons aan dat daar meer as een troon in Daniël se visioen was). Sy klere was so wit soos sneeu (v.9), ’n toonbeeld van ongekende en volmaakte reinheid – om te dink, ’n vergelyking van hoe ons eendag in verheerlikte toestand, ook daar gaan uitsien ~ Kom nou en laat ons die saak uitmaak, sê die Here: al was julle sondes soos skarlaken, dit sal wit word soos sneeu; al was dit rooi soos purper, dit sal word soos wol (Jes.1:18).

       Die troon waarop God sit, het uit vuurvlamme bestaan, met wiele van vuur en vuur het, amper soos ’n rivier, uit die troon gevloei (v.9-10). Terwyl Hy op Sy troon sit, het miljoene voor Hom kom staan en is Hy deur duisende der duisende gedien – wat ’n gesig! Hierdie vuurvlamme is teken van God se teenwoordigheid terwyl Hy oordeel – die Engels druk dit vir my mooi uit – Fire is the symbol of God’s presence in judgement and in mercy. Ons vind voorbeelde hiervan in verskeie dele van die Woord, bv. Gen.3:24 ~ Die Here God het die mens uitgedryf, en om die toegang tot die boom van die lewe te bewaak, het Hy oos van die tuin van Eden gerubs gesit, en ook ’n vlammende swaard wat heen en weer beweeg. Moses se eerste ontmoeting met God in Eks.3:2 ~ Toe verskyn die Engel van die Here aan hom in ’n vlam binne-in ’n doringbos. Terwyl hy kyk, sien hy dat die doringbos aanhou brand, maar nie uitbrand nie. Die bekende woorde van Johannes die Doper in Matt.3:11 ~ Ek doop julle wel met water omdat julle julle bekeer het, maar Hy wat ná my kom, is my meerdere, en ek is nie eers werd om sy skoene uit te trek nie. Hy sal julle met die Heilige Gees en met vuur doop.

       Waarom sou daar wiele van vuur by die troon wees? Dit spreek van beweging en van dinamika – ons kry dieselfde gedagte in Ps.97:3 ~ ’n Vuur trek voor Hom uit en verteer sy vyande aan alle kante.

       Daniël sien ook dat God se hare so skoon soos wol is – ook ’n simbool van reinheid en dalk ook wysheid. Dit laat ’n mens egter ook dink aan die woorde in Ps.20:29 ~ Die trots van jongmanne lê in hulle krag; (en dan hierdie woorde) die versiering van oumense is hulle grysheid.

       Ons sien dus hier ’n Regter wat oor die reinheid en wysheid beskik om te onderskei tussen reg en verkeerd, tussen heilig en boos; om die regte te kies, maar terselfdertyd ook oor die mag beskik om Sy oordele uit te spreek en uit te voer!

       Hierdie visioen is iets besonders, veral as ons in gedagte hou hoe min daar oor God (behalwe sy attribute/karaktereienskappe) se voorkoms in die Woord aan ons gegee word. In Eksodus bv. het Moses in die teenwoordigheid van God verskyn, maar hy het bykans niks gesien nie en eerder ’n beskrywing van homself gehoor ~ Die Here het in ’n wolk afgekom en daar by Moses kom staan en die Naam “die Here” uitgeroep. 6Terwyl Hy by Moses verbygaan, roep die Here: “Ek, die Here, is die barmhartige en genadige God, lankmoedig, vol liefde en trou. 7Ek betoon my liefde aan geslagte en geslagte. Ek vergewe ongeregtigheid, oortreding en sonde, maar Ek spreek niemand sonder meer vry nie. Ek reken kinders en kleinkinders die sondes van vaders toe selfs tot in die derde en vierde geslag” (Eks.34:5-7).

       In Jesaja weer, het die profeet God in die Tempel sien sit, maar weer word bitter min van God se onbeskryflike grootsheid beskryf – Jes.6:1-2 ~ In die jaar van koning Ussia se dood het ek die Here gesien. Hy het op ’n baie hoë troon gesit, en die onderste van sy kleed het die tempel gevul. 2By Hom was daar serafs om Hom te dien. En dan gaan hy voort om die aandag op die serafs te vestig en o.a. hoe hulle sy mond aangeraak het met ’n gloeiende kool.

       Waarom gee Daniël meer inligting oor God se voorkoms aan ons deur? Ons sal nie regtig weet nie, maar moontlik juis om enersyds die kontras tussen redding uit genade en verdoemenis aan die anderkant te beklemtoon – om aan ons wat gered is, die heerlike en pragtige ewigheid te beklemtoon, maar andersyds ook die verskriklike en intensiteit van die verlorenes te skilder. Beslis word dit ook gegee om o.a. God se oorwinning oor die bose en Sy heerlikheid en heerskappy te beklemtoon – om Hom as aanbiddenswaardige God aan ons voor te hou, want gelowiges wat hierdie beeld van God voor oë hou, sal nooit alleen en geïsoleerd voel nie – ongeag ons omstandighede – Hy is die Almagtige; Hy is die Verheerlikte en ons kan met vertroue en afwagting te alle tye by Hom skuil, maar ook met verwagting uitsien na die “Nuwe Lewe” in Sy teenwoordigheid ~ Maar ons is burgers van die hemel, van waar af ons ook die Here Jesus Christus as Verlosser verwag. 21Deur die krag waarmee Hy alles aan Homself onderwerp, sal Hy ons nederige liggame verander om soos sy verheerlikte liggaam te wees (Fil.3:20-21).

       Ek glo dit word egter ook aan ons gegee om ons toewyding aan God te versterk ~ Aangesien julle saam met Christus uit die dood opgewek is, moet julle strewe na die dinge daarbo waar Christus is, waar Hy aan die regterhand van God sit. 2Rig julle gedagtes op die dinge wat daarbo is, nie op die dinge wat op die aarde is nie, 3want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God. 4Wanneer Christus, wat julle lewe is, by sy wederkoms verskyn, sal julle ook saam met Hom verskyn en in sy heerlikheid deel (Kol.3:1-5).

4.     DIE HEMELSE HOFSITTING:
Daniël het in hierdie visioen van hom heel eerste ’n kykie gekry in die werklikheid van die duiwelse mag waaroor die mensdom beskik, maar God gee nou aan hom ’n blik op die teenoorgestelde werklikheid van die Goddelike mag en heerskappy en oorwinning – een van rustigheid, wysheid, lig en Sy algehele soewereiniteit.

God sit op Sy troon in die hoogste hemele – hierdie is nie ’n vreemde gedagte aan die Bybel nie, ongeveer 200 jaar voor Daniël se visioen het Miga die volgende in 1 Kon.22:19 gesê ~ En Miga praat verder: “Hoor die woord van die Here! Ek het die Here op sy troon sien sit met die hele hemelse leërmag wat weerskante van Hom staan. Met die roeping van Jesaja as profeet sien ons ook in Jes.6 hoe dat God op Sy hemelse troon sit terwyl die serafs o.a. uitroep ~ ...Heilig, heilig, is die Here die Almagtige! Die hele aarde is vol van sy magtige teenwoordigheid (v.3) en God dan in v.8 vra ~  Wie kan Ek stuur?

Wat Daniël egter nou sien, nadat God aan hom die aardse magte o.l.v. die satan gewys het, is dat daar ’n hemelse hofsitting begin en in hierdie hemelse “hofsaal”, is daar nie net die een troon waarop God die Vader sit nie, maar daar is trone (meervoud) wat beset word deur die lede van die hemelsehof. Om presies te wees – daar was vier-en-twintig ander trone – hoe weet ons dit? Omdat hierdie gedeelte, in ooreenstemming met Openb.4:4 is ~ Reg rondom die troon was daar vier en twintig ander trone, en op die trone het daar vier en twintig ouderlinge gesit. Hulle het wit klere aangehad, en op hulle koppe was daar goue krone

Tydens hierdie hofsitting sit daar benewens God, vier-en-twintig ouderlinge wat deelneem aan hierdie hofsitting. Die fokus in Daniël se visioen is egter op Hom wat op die sentrale troon sit – Hy wat ewig lewe.

In v.10 van ons Skriflesing sien ons hoe dat die hofsitting begin, terwyl daar miljoene voor God kom staan. Daniël moes geweldig bemoedig gewees het deur hierdie gesig van duisende wat by God staan – hy wat Daniël is, wat sovele kere stoksielalleen gestaan het – daar is andere en nie net twee of drie nie – duisende, wat ook die Here God aanbid en dien saam met hom! Hy moes besef het dat die woorde van Paulus in Kolossense 3 nie ’n leë aanmoediging is nie, maar dat dit waar is en dat sy “alleen staan” dae op die ou einde die moeite werd gaan wees en daarom moet ons vanoggend saam met Daniël bemoedig word, om die stryd te stry tot die einde toe – Paulus sê in Kol.3:1-4 ~ Aangesien julle saam met Christus uit die dood opgewek is, moet julle strewe na die dinge daarbo waar Christus is, waar Hy aan die regterhand van God sit. 2Rig julle gedagtes op die dinge wat daarbo is, nie op die dinge wat op die aarde is nie, 3want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God. 4Wanneer Christus, wat julle lewe is, by sy wederkoms verskyn, sal julle ook saam met Hom verskyn en in sy heerlikheid deel. Daarmee saam, Paulus se bemoediging in 2 Kor.4:17 ~ Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op ’n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly. En wanneer dit vir ons voel asof ons, soos Daniël, alleen staan, moet ons ook vashou aan die belofte van die Here aan Jesaja in Jes.26:5 ~ ...Vertrou altyd op die Here, want die Here God is ’n veilige toevlug.

          Wanneer ons as gelowiges hierdie visioen van Daniël vir onsself toe-eien en besef wat op ons wag, nl. dat ons saam met duisende, hard gaan uitroep ~ Heilig, heilig, heilig is die Here die Almagtige! Die hele aarde is vol van sy magtige teenwoordigheid, en dat ons saam met hulle die deure gaan laat rammel en die tempel vol rook gaan laat word, sal ons nie meer eensaam en alleen voel nie – ongeag... en maak nie saak wat nie!

Die hofgebeure begin met die oopmaak van die boeke met die aanklagte en Daniël sien hoe dat die diere van die eerste gedeelte van Dan.7 waarna ons verlede week gekyk het, verhoor en veroordeel gaan word. Nie net het hierdie eertydse koninkryke van destyds al tot ’n val gekom as deel van God se oordeel oor hulle nie, maar almal wat deel gehad het aan die ongeregtighede van daardie aardse Ryke, sal eendag finaal veroordeel word tydens die finale groot Hofsitting van God. Johannes beskryf hierdie laaste hofsitting vir ons in Openb.20:12-15 ~ Ek het die dooies, groot en klein, voor die troon sien staan, en die boeke is oopgemaak. Daar is ook ’n ander boek oopgemaak, dit is die boek van die lewe. Die dooies is toe geoordeel volgens wat daar in die boeke geskrywe staan oor alles wat hulle gedoen het. 13Die see het die dooies teruggegee wat daarin was, en die dood en die doderyk het die dooies teruggegee wat in hulle was, en oor elkeen is geoordeel volgens wat hy gedoen het. 14Toe is die dood en die doderyk in die vuurpoel gegooi. Dit is die tweede dood, die vuurpoel. 15As daar gevind is dat iemand se naam nie in die boek van die lewe geskrywe staan nie, is hy in die vuurpoel gegooi.

       Soos ons reeds gesien het, is ”Hy wat ewig lewe”  (God die Vader) egter nie die enigste Een wat op die trone sit nie en benewens Openbaring se vier-en-twintig ouderlinge, sien Daniël nog Iemand – vv.13-15 ~ ...daar het in die wolke iemand aangekom, iemand soos ’n menslike wese. Hy het na Hom toe gegaan wat ewig lewe en is voor Hom gebring. 14Aan dié menslike wese is die heerskappy en eer en koningskap gegee sodat al die volke, nasies en taalgroepe hom sou dien. Sy heerskappy is ’n ewige heerskappy, dit sal nie tot niet gaan nie; sy koningskap sal nie ophou nie. Hierdie beeld moes waarskynlik verwarrend vir Daniël gewees het, want die Een wat hy hier sien beskik oor beide menslike, sowel as Goddelike eienskappe – iets wat hy nog nooit van gehoor óf gesien het nie. Tog aan die anderkant was dit dalk ook nie so vreemd vir Daniël nie, want hierdie antropomorfiese of menslike beskrywing van God is nie heeltemal vreemd aan die Ou Testament nie, want self hier in Daniël se visioen is daar menslike elemente rondom God (Hy sit bv.; Hy het klere en hare) en op ander plekke sien ons ook sulke menslike elemente wat aan God gekoppel word – bv. Eseg.2:8-9 ~ En jy, mens, luister na wat Ek vir jou sê. Moenie weerbarstig wees soos hierdie weerbarstige volk nie, maak oop jou mond en eet wat Ek jou gee.” 9Toe sien ek daar is ’n hand na my toe uitgesteek, en in die hand was ’n boekrol... en net ’n bietjie vroeër in dieselfde hoofstuk (v.1) word daar verwys na God se stem. Tog, is dit belangrik om daarop te let dat hier in Daniël (v.13) nou gepraat word van ...die Seun van ’n mens, (OAV) – Die NAV vertaal dit hopeloos om die minste daarvan te sê ~ ...iemand soos ’n menslike wese. Die meeste Engelse vertalings, vertaal dit met, ... One like a Son of Man”.  

Hierdie beskrywing van hierdie tweede Persoon in Daniël se profesie, laat ’n mens besef dat hier iets meer is omtrent hierdie Persoon, want Hy word beskryf as Iemand soos die Seun van die Mens, wat suggereer dat daar iets t.o.v. Sy menslike voorkoms is, wat meer is as bloot net ’n mens wat God se verskyning, aan ’n mens beskryf.

Verder lees ons in v.13 dat hierdie “Iemand soos die Seun van die Mens”, in die wolke aan gekom het en dit is ’n baie duidelike Ou Testamentiese simbool van Goddelike krag en teenwoordigheid. So lees ons bv. in Ps.68:4 dat God op die wolke ry en in Jes.19:1 lewer God uitspraak teen Egipte en dan lees v.1 verder as volg ~ Die Here ry op ’n vinnige wolk, Hy gaan na Egipte toe. En die baie bekende gedeelte in Eks.24 lees ons ~ Terwyl Moses die berg uitklim, het ’n wolk dit omhul. 16Die magtige teenwoordigheid van die Here het op Sinaiberg gebly, en ses dae het die wolk die berg omhul. Op die sewende dag het die Here uit die wolk uit na Moses geroep (Eks.24:15-16).

Terwyl hierdie Persoon in die wolke aangekom het, gebeur daar nog iets meer merkwaardig – v.14 ~ En aan Hom is gegee heerskappy en eer en koningskap; en al die volke en nasies en tale het Hom vereer; sy heerskappy is ’n ewige heerskappy wat nie sal vergaan nie, en sy koninkryk een wat nie vernietig sal word nie (OAV). Hierdie heerskappy en eer en Koningskap en koninkryk is nie maar net dieselfde as wat menslike konings ontvang nie – bv. soos in Dan.5:18 van Nebukadneser beskryf nie – nee, hierdie mag en eer en Koningskap behels veel meer as dit, want hierdie “Iemand soos die Seun van die Mens”, sal deur ~ ...al die volke, nasies en taalgroepe (ge)dien (word) en die OAV sê dat hulle Hom almal sal vereer. Hierdie “Iemand” kan dus nie bloot net ’n engel wees nie, want hierdie “Iemand soos die Seun van die Mens” ontvang ewige en onvernietigbare heerskappy – soewereiniteit dus, wat net aan God behoort en daarom is die beskrywing van hierdie tweede Persoon, die “Seun van die Mens”, so ’n raak beskrywing, want nie net alleen sou Hy mens geword het nie, maar Hy is terselfdertyd ook die Ewige, God Almagtig, daarom kon Hy toe Hy op aarde was, terselfdertyd o.a. saam met ’n prostituut eet, maar ook sondeloos bly soos God, omdat Hy self God is!

Natuurlik is dit vir ons veel makliker om hierdie benaming van Christus Jesus die Verlosser hier in Daniël te verstaan, want Jesus het alreeds in vlees na die aarde gekom, maar dit sou eers ’n paar eeue na Daniël gebeur en geen wonder daarom dat Daniël in v.15, beangs geraak het oor dít wat hy gesien het nie – die OAV stel dit vir my mooi ~ Die gees van my, Daniël, is in sy omhulsel (in sy totaliteit dus) verontrus, en die gesigte van my hoof het my verskrik. 

Daniël ontvang nou van v.16 af ’n beskrywing van die gediertes wat hy gesien het en wat met hulle gaan gebeur en dan kom hierdie wonderlike woorde in v.22 ~ Toe het Hy wat ewig lewe, gekom en uitspraak gelewer ten gunste van die heiliges van die Allerhoogste. Die tyd het aangebreek dat die heiliges van God die koninklike heerskappy sou ontvang. Die tydelik mag en heerskappy van hierdie wêreldheersers sou van hulle gestroop word (v.26) en eendag sal hulle ook in die parskuip van Openb.14:14-20 gegooi word en dan veral v.20 ~ Die parskuip, buitekant die stad, is getrap. Uit die parskuip het daar bloed uitgekom wat tot aan die tooms van die perde geraak en sestien honderd kilometer ver gestrek het hulle gaan geoordeel word vir hulle bose brutaliteit en Godloosheid.

Hoor egter wat staan in v.27 ~ Die heerskappy en mag en grootheid van al die koninkryke op aarde sal gegee word aan die heilige volk van die Allerhoogste. Sy koninkryk is ’n ewige koninkryk, en al die regeerders sal Hom dien en Hom gehoorsaam wees.

5.     DIE BETEKENIS VAN HIERDIE VISIOEN:
       Watter boodskap hou hierdie visioen van Daniël vir ons vandag in? Soos verlede week reeds gesê, leef ons steeds in die era van “wilde gediertes” soos o.a. die eerste eeuse gelowiges – nou net in ’n ander gedaante. Daar is steeds “gediertes” wat getroue gelowiges o.a. in Sudan; China; Saudi Arabië en in Noord-Korea, vervolg en doodmaak. Ons weet nie hoe ver ons “bees” in die verskiet lê nie (indien enige ooit), maar tog ervaar elkeen van ons ook ons eie unieke swaarkry en vervolging en gaan ons almal gebuk onder siektes en hierdie wêreld se sondegevalle gebrokenheid, wat ook maar ’n “dier” is, net in ’n ander gedaante as die “Daniël-gediertes”.

       Ons moet egter vashou daaraan dat ons nie vir altyd in hierdie wêreld sal woon nie en dat Christus se Koninkryk ’n ewige Koninkryk is en almal (ons inkluis) sál eendag, die knie voor Hom, die Seun van die mens, buig. Op daardie dag sal alles wat onaangenaam en lelik en skrikwekkend is; alles wat verkeerd en gebroke is, vir ewig verplaas word met die teenwoordigheid en heerlikheid van God Almagtig en die satan en sy meelopers sal op daardie dag gevonnis word in die Raadsale van die hemel en vir ewig verdoem word en in die ewige poel van vuur gewerp word (Openb.20:10).

       Op daardie dag van oordeel, sal en is ons enigste hoop, Hy wat op Golgota gesterf het en die dood en ewige oordeel vir ons oorwin het – Hy die ewige Koning en Heerser, Jesus Christus.