Sunday, 10 August 2014

Habakuk, ʼn Profeet met ʼn boodskap vir ons – 03 (“God antwoord Habakuk ʼn tweede keer”)

1.     INLEIDING:
       Ons het verlede week gesien dat Habakuk sy verwarring oor sy volk se situasie vir ʼn tweede keer teenoor God uitgespreek het – hy het sy hart teenoor God uitgestort en hy praat reguit met God – hy sê presies hoe hy voel en hy vra reguit vrae.

       Ons het ook gesien dat God ons nie verbied om Hom te bevraagteken wanneer ons verward is, of twyfel, of bang is nie, want wanneer ons, soos Habakuk en Abraham en Job en selfs Jesus, aan God vrae vra en vir Hom sê hoe ons voel, is ons in ʼn persoonlike gesprek betrokke met ons Vader – ʼn liefdevolle, genadige Verlosser-Vader, Wie Sy kinders wat swaarkry, dra en beskerm – al is dit ook déúr die dood, maar op Sy perfekte en soewereine vooraf verordineerde tyd sál Hy oorwinning gee en sal Hy antwoorde en uitkoms gee; vrede gee; oorwinning gee; herstel gee, al is dit ook eers eendag wanneer hierdie wêreld herskep gaan word en ons wie Sy kinders is, die ewige lewe met Hom binnegaan. Diegene van ons wie in volmaakte verhouding met Hom staan – versoen deur Jesus Christus en wie verlang na die Koninkryk van God met sy vrede, liefde en volmaaktheid, kan hoop put uit hierdie wete.

       Habakuk het steeds hoop in die skadu van oordeel en swaarkry – waarom? Habakuk het in ʼn verhouding met God gestaan; hy het sy Maker vertrou en hy het Hom geken. Hy het geweet dat God, Jahweh is – my God, wat ewig is en wat nie stilbly nie (v.12). Sy verhouding met die Skepper van die heelal en die Outeur van sy en sy volk se geskiedenis is intiem en persoonlik en daarom onspan hy en wag met afwagting op God se antwoord.

2.     SKRIFLESING:
     Hab.2:1-20 ~ Ek wil op my uitkyktoring gaan staan, my plek op die vestingmuur gaan inneem, ek wil wag om te verneem wat die Here vir my sal sê en wat ek moet antwoord wanneer mense my verwyt. 2Die Here het toe vir my gesê: Skryf wat Ek aan jou gaan openbaar duidelik op kleitablette sodat mense dit sommer in die verbygaan kan lees. 3Die openbaring geld vir ’n bepaalde tyd; dit sal gou kom want dit kom beslis. Jy moet net geduldig bly wag as dit nie gou kom nie, want dit kom beslis, dit sal nie uitbly nie. 4Dit is die boodskap: Wie nie reg gesind is nie, sal sy verdiende loon kry, maar wie reg doen, sal lewe omdat hy getrou bly. 5’n Hooghartige mens wat hom deur sy rykdom laat mislei, sal nie in sy doel slaag nie, al is hy so gulsig soos die doderyk, so onversadigbaar soos die dood, al versamel hy al die nasies rondom hom, al maak hy gevangenes van al die volke. 6Dieselfde volke sal spotliedjies oor hom sing en met minagting na hom verwys. Hulle sal sê: Ellende wag vir hom wat hom verryk met goed wat nie syne is nie, wat vir hom al meer goed inpalm wat verpand is. Hoe lank sal dit nog voortduur? 7Die tyd kom vinnig nader dat jy self in die skuld sal wees, dat skuldeisers vir wie jy sidder, skielik voor jou sal staan en jou sal kaalstroop. 8Jy het baie nasies geplunder, maar nou sal dié wat oorgebly het, jou plunder, want jy het baie bloed vergiet, geweld gepleeg in baie lande, teen stede en teen hulle inwoners. 9Ellende wag vir hom wat hom ten koste van ander wou verryk en daardeur ’n ramp oor sy familie gebring het, hy wat vir hom ’n hoë nes wou bou juis om ’n ramp vry te spring. 10Met jou geknoei het jy jou familie se ondergang bewerk; jy wou baie volke uitroei, maar daarmee het jy ’n einde aan jou eie lewe gemaak. 11Selfs die klippe in die mure skreeu oor wat jy gedoen het, en die balke skreeu saam. 12Ellende wag vir hom wat ’n stad bou met moord, wat ’n dorp aanlê met onreg. 13Dit is die Here die Almagtige wat dit beskik het dat dít waarvoor volke gewerk het in vlamme opgegaan het, dat volke hulle tevergeefs afgesloof het. 14Soos waters die seebodem bedek, so sal die magtige teenwoordigheid van die Here oral op die aarde geken word. 15Ellende wag vir hom wat, toe hy vir ’n ander drank gegee het, dit met gif gemeng het en hom dronk gemaak het om na sy kaal geslagsdele te kan kyk. 16Jy sal self met skande in plaas van met eer oorlaai word, jy sal self dronk word en jou ontbloot! Die Here sal jou die oordeelsbeker wat in sy hand is, gee om te drink, en jou eer sal in skande verander word. 17Jou geweld teen die Libanon sal jouself tref, jou mishandeling van die diere op die Libanon sal jouself vernietig. Jy het baie bloed vergiet, jy het geweld gepleeg teen baie lande, teen stede met hulle inwoners. 18Wat is die nut van ’n afgod? Dit is maar net iets wat deur ’n mens gemaak is, ’n beeld waarvan net bedrog te wagte kan wees. Wat baat dit die maker om op sy maaksel te vertrou as hy ’n afgod gemaak het wat nie eens kan praat nie? 19Ellende wag vir hom wat vir ’n stuk hout sê: “Word wakker!” of vir ’n dooie stuk klip: “Staan op!” Kan ’n afgod jou iets leer? Al is hy met goud of silwer oorgetrek, is daar geen lewe in hom nie. 20Die Here is in sy heilige tempel: almal op aarde moet in sy teenwoordigheid stil wees!

3.     GOD ANTWOORD HABAKUK (2:2-20):
       Hoe lank Habakuk moes wag op God se antwoord weet ons nie, maar God antwoord en sê vir hom ~ Skryf wat Ek aan jou gaan openbaar duidelik op kleitablette sodat mense dit sommer in die verbygaan kan lees (2:2). Waarom moes hy dit neerskryf? Enersyds sodat die boodskap bewaar kon bly vir die geslagte wat sou volg – net soos wat die geval was met die ander Ou Testamentiese profete, dink bv. aan Jesaja ~ Die Here het vir my gesê: Vat ’n stuk leer en skryf daarop met ’n pen... (Jes.8:1), of Jeremia ~ So sê die Here die God van Israel: Skryf alles wat Ek met jou gepraat het, in ’n boek... (Jer.30:2). Andersyds gee die Here egter ook hierdie opdrag aan Habakuk om die antwoord neer te skryf, sodat die mense dit kan lees en dadelik verder te kan versprei onder die res van hulle volksgenote, want hierdie dinge gaan binnekort gebeur. Daarom moet hulle gewaarsku word en voorbereid wees (hier sien ons weer God se genade – Hy móét die volk straf, maar nogtans waarsku Hy hulle vooraf).

       Gedurende die tyd van die Profete het hulle, nadat hulle ʼn profesie van God ontvang het, dit neergeskryf en op die deure van die Tempel geplaas, sodat almal wat daarheen gekom het, of daar verby geloop het, dit kon lees en dan weer aan andere kon oorvertel. Nadat die priesters gevoel het dat die profesie goed genoeg versprei is onder die volk, is hierdie neergeskryfde profesie dan van die deur verwyder en veilig in die Tempel bewaar. Op hierdie wyse is al die verskillende profesieë dan ook bewaar van vervalsing en kon dit deur die nageslag gelees word – net soos ons dit vandag gedoen het.

       Waarom was dit so belangrik om eerstens kennis te neem van hierdie boodskap en tweedens, waarom moes die lesers die boodskap wyd en syd uitgedra het? Ons vind die antwoord in v.4 en hierdie is ook die sentrale tema van die hele Habakuk ~ Wie nie reg gesind is nie, sal sy verdiende loon kry, maar wie reg doen, sal lewe omdat hy getrou bly. Ons moet besef dat hierdie ʼn lewensreddende boodskap vir die Judeërs was, maar steeds ook vir ons – eintlik is dit ʼn “ewige-lewe-lewensreddende-boodskap” en daarom moet ons ook hierdie “kleitablet op die Tempel se deur”, lees en die boodskap wyd en syd verkondig! Die boodskap is in kort: “...die regverdige sal uit die geloof lewe”. As ons dit verstaan, sê Montgomery Boice, verstaan ons die Evangelie en wat die Christelike lewe behels. Hierdie is so ʼn belangrike boodskap dat dit drie maal in die Nuwe Testament herhaal word ~ In die evangelie kom juis tot openbaring dat God mense van hulle sonde vryspreek enkel en alleen omdat hulle glo. Dit is soos daar geskrywe staan: “Elkeen wat deur God vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe” (Rom.1:17); Maar die regverdige sal uit die geloof lewe; en as hy hom onttrek, het my siel geen welbehae in hom nie (OAV – Hebr.10:38 – sien ook: Gal.3:11).

       Die Amplified Bible vertaal v.38a as volg ~ But the just shall live by faith.... Hierdie hele gedagte om uit die geloof te lewe is geweldig belangrik vir ons as gelowiges en daarom gaan die Hebreërskrywer ook voort en verduidelik hy in Hebr.11:1 wat dit beteken om uit die geloof te lewe ~ Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.

       Die Here het in v.4 vir Habakuk gesê dat hy en die volk wat “uit geloof lewe” en getrou bly, sal lewe en die Hebreërskrywer sê dieselfde vir ons. Wanneer gelowiges (ons) onder druk verkeer moet ons “uit die geloof lewe” – wat beteken dit n.a.v. Hebr.11:1?

       Uit die staanspoor moet ons dit baie duidelik verstaan en ek wil dit baie sterk beklemtoon, nl. dat geloof nie bepaalde dinge kan voortbring nie – bv. glo net en jy sal ryk word; glo net en jy sal gesond word; glo net en.... Geloof kan nié dinge tot stand bring nie – geloof is ʼn bewys en vaste oortuiging van die realiteit van dinge wat nie gesien kan word nie en daarom is dit ʼn absolute vaste vertroue, oortuiging en onderskrywing van alles wat God geopenbaar, gedoen en gesê het en dat ʼn gelowige dit as heilig, regverdig en goed aanvaar en beskou. Dít sluit dan o.a. die dinge in wat ons nie sien nie, nl. o.a. die ewige lewe in die hiernamaals – Hebr.13:4 ~ ...want ons het in hierdie wêreld geen vaste verblyfplek nie, ons is op soek na die toekomstige. Dit is ook ʼn vaste vertroue en oortuiging en aanvaarding van Christus Jesus se soendood aan die kruis; Sy opstanding en hemelvaart en ook die tweede koms van Christus ~ En as Ek gegaan het en vir julle plek gereed gemaak het, kom Ek terug en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is (Joh.14:3).

       Hierdie geloof, is wat God aan Habakuk sê, hulle in moet glo en dan sal hulle lewe – niks wat ook al gaan gebeur en besig is om te gebeur moet hierdie geloof ondermyn nie. Ons moet derhalwe daarop let en vashou aan hierdie belofte van God te midde van allerlei dreigemente rondom ons – in ons land; in die wêreld; in ons werksituasie – wat ook al – ons moet vashou aan die belofte in Ef.1:11, nl. dat God alles, ongeag wat, laat gebeur volgens Sy raadsbesluit. Ons moet ons hieraan onderwerp en ons vertroue in Hom plaas en aan Hom getrou bly en volhard tot die einde toe, want dan sal ons lewe, soos wat die Here ook aan Habakuk belowe het!

       Nadat die Here vir Habakuk gesê het dat almal wat glo sal bly lewe, gaan Hy voort en spreek Hy ses vervloekings oor die Galdeërs en veral hul koning uit:
·        Hoogmoed  (v.5):  V.5 begin met die woorde (let op dat ek uit die OAV lees, want ek kan glad nie verstaan hoe die vertalers van die NAV by hul vertaling uitgekom het nie, want wat hulle daar skryf is hoegenaamd nié wat die oorspronklike teks sê nie) ~ En bowendien, die wyn is ’n bedrieër... en dan gaan die Here voort en Hy praat van die Galdeërs se hoogmoed en arrogansie.

Dit wil op die oog af lyk asof alkohol en arrogansie wat hier in dieselfde asem gebruik word, nie sin maak nie (daarom dat die vertalers van die NAV die oorspronklike teks dalk verdraai het?), daar is egter baie sterk historiese getuienis dat die Babiloniërs as nasie en Nebukadneser en sy opvolger Belsasar in persoon hulself gereeld oorgegee het aan sterk drank ~ Babel was ’n goue beker in die hand van die Here, ’n beker wat die hele wêreld dronk laat word het: die nasies het van sy wyn gedrink en daarvan mal geword (Jer.51:7). Belsasar was juis besig met ʼn gefuif toe Babilon ingeneem en oorwin is en hy uiteindelik gedood is (Dan.5).

Die verband tussen die gedrinkery en hoogmoed en arrogansie, is die Babiloniërs se sug na mag en die inname en oorname van volke en lande. Elke oorwinning het gepaard gegaan met ʼn gedrink en elke partytjie het weer gelei tot ʼn volgende veldtog – hulle kon nie genoeg kry nie, daarom dat daar in v.5 staan ~ ...so gulsig soos die doderyk, so onversadigbaar soos die dood. In hierdie opmerking teenoor Habakuk wil die Here vir hom sê, dat dronkaards alle redelikheid vergeet en dat hulle, hulself uiteindelik sal vernietig. Dit herinner aan die woorde van Spr. 23:29-35 waar daar o.a. staan dat dronkaards, rusie maak en kla en onnodig seerkry, want agterna pik hy soos ʼn slang – dit word uiteindelik maar net ʼn bose kringloop wat uitloop op selfvernietiging.

Habakuk hoor derhalwe dat hierdie verwoesting nie onbepaald sal voortduur nie en dat God Hom uiteindelik sal wreek op hierdie nasie wat die Judeërs nou verwoes en wegvoer in ballingskap – hulle dag sal kom, maar nou gebruik God hulle eers om die volk te straf vir hul afvalligheid.

·        Plundering (vv.6-8): Babilon het gesteel, geplunder, verower, gedood en verwoes, alles net om hulself te verryk met, wat nie aan hulle behoort het nie – hulle het die Judeërs besteel en hul land van hulle af weggeneem, maar nie net dit nie, hulle is ook gestroop van hul menswaardigheid en geluk en sekuriteit, maar sê God in v.7, hul dag sal kom – dit sal skielik en onverwags kom. Die verwoesting en bandeloosheid sal oënskynlik onophoudelik voortgaan, maar soos Spr.22:8 sê ~ ’n Koning wat onreg saai, sal teenspoed oes; daar sal ’n end kom aan sy hardvogtige heerskappy. Dit is baie duidelik dat God se uiteindelike oordeel gevel sal word en wat ons aan betref – daar sal ʼn dag kom wanneer ongeregtigheid in hierdie lewe gestraf sal word en ʼn einde aan gemaak sal word, al is dit ook eers wanneer God Sy uiteindelike en finale oordeel sal uitspreek oor diegene wat nie in Jesus Christus was nie.

·        Selfverheffing (vv.9-11): Nebukadneser het roem en eer vir hom en sy nageslag nagejaag en hy dit gedoen deur volke en nasies te verwoes en te annekseer, maar ons sien in v.11 dat ~ ...Selfs die klippe in die mure skreeu oor wat jy gedoen het, en die balke skreeu saam. God se volgelinge sal eendag die Galdeërs beskuldig en getuies wees van hul sondige selfverheffing - dink aan Jesus se woorde in Luk.19:40 toe die Fariseërs Hom opdrag gegee het om Sy dissipels stil te maak ~ As hulle stilbly, sal die klippe uitroep. Die Galdeërs sal nie wegkom met hul ongeregtigheid nie – ook nie ons vyande nie!

·        Bloedvergieting (vv.12-14): Babilon se stadsmure en fondasies was gebou op die bloed van o.a. die Judeërs wat weggevoer is daarheen. Hoor wat staan in Gen.4:10-12 nadat Kain vir Abel doodgeslaan het ~ Maar die Here sê: “Wat het jy gedoen? Die bloed van jou broer roep van die aarde af na My. 11Vervloek is jy dan nou, verban van die grond af wat gretig die bloed van jou broer uit jou hand opgeslurp het. 12Wanneer jy die grond bewerk, sal dit nie sy opbrengs vir jou gee nie. Jy sal ’n doellose swerwer op aarde word!” Bloed wat vergiet word, is ʼn vloek op die bloedvergieter – bloed het ʼn stem – ʼn stem wat tot God uitroep en teen die bloedvergieter getuig – ons het dit verlede week gesien toe ons Openb.6:20 aangehaal het. Jeremia het dan ook spesifiek hieroor geprofeteer in Jer.51:58 ~ So sê die Here die Almagtige: Die dik vestingmuur van Babel sal gesloop word, sy hoë poorte sal afgebrand word: mense het geswoeg vir niks, nasies het hulle afgesloof vir iets wat vir die vuur bestem is. Die onderdrukkers gaan val en vernietig word – die wraak kom God toe en uiteindelik gaan al die eer Hom toekom – v.14 ~ Soos waters die seebodem bedek, so sal die magtige teenwoordigheid van die Here oral op die aarde geken word.

·        Vernedering (vv.15-17): In antieke tye het die wenners van oorloë baie dikwels hulle gevangenis kaal laat paradeer in die strate ten einde hulle te verneder en dit is dan ook wat die Babiloniërs met die ballinge uit Juda gedoen het en daarom gaan God hulle op Sy tyd, op dieselfde wyse verneder, trouens dit gaan op ʼn nog erger graad geskied.

·        Afgodery (vv.18-20): Babilon het nie net haar eie welsyn nagejaag deur ander nasies met geweld omver te werp en hulle te plunder nie, maar hulle het ook hul eie godsdiens geskep, met hul eie afgode. Hierdie afgode van die Babiloniërs is gereeld geraadpleeg ten einde leiding te kry oor hoe en waar hul volgende veldslag moet plaasvind. Hoor wat sê Jesaja van afgodery (onthou, afgodery is nie net wanneer jy die knie voor ʼn beeld buig nie, maar ook wanneer jy geen god aanbid nie, want dan word jy jou eie god en dit is ook afgodery) ~ Dié wat afgodsbeelde maak, is self almal niks; die dierbare gode van hulle kan nie help nie. Dié wat vir hulle moet getuig, kan nie sien nie, kan nie verstaan nie; dié wat sulke gode het, word teleurgestel (Jes.44:9).

       Wat wag op die Babiloniërs oor hul afgodery? V.19 ~ Ellende wag vir hom...

       Hierdie gedeelte word afgesluit met ʼn waarskuwing wat God rig tot, nie net die Babiloniërs nie, maar ook tot die Judeërs wat juis vir hul afvalligheid deur God aan die hand van die Babiloniërs gestraf is. Wat sê Hy? V.20 ~ Die Here is in sy heilige tempel: almal op aarde moet in sy teenwoordigheid stil wees! Almal ontvang derhalwe opdrag om God in Sy heiligheid te aanbid en stil te wees. By implikasie sê Hy dus dat Hy op die punt staan om die nasies van die wêreld te veroordeel en Homself daardeur te openbaar as die enigste Heilige en Lewende God.

4.     AFSLUITING:
       Waarom het al hierdie dinge met die Judeërs gebeur? Waarom het dit met die Babiloniërs gebeur? Waarom gebeur soortgelyke situasies met en rondom ons?

       Die Judeërs het hul rug op God gedraai en nie net hierdie keer nie, maar keer op keer, ons lees die eerste keer daarvan in Num.14 toe die volk in opstand gekom het en geweier het om die Beloofde Land binne te gaan en gedurig hierna sou die volk in sonde val en hul rug op God draai – uiteindelik straf Hy hulle aan die hand van die Babiloniërs – waarom straf Hy hulle/ons? V.14 verskaf aan ons die antwoord ~ Soos waters die seebodem bedek, so sal die magtige teenwoordigheid van die Here oral op die aarde geken word – sodat God uiteindelik geëer en verheerlik kan word.

       Wat moet ons reaksie wees wanneer ons in dieselfde posisie as Juda beland? Ek wil aan die hand van vier stappe wat Dr. Martyn Lloyd-Jones aan die hand gedoen het, met julle deel wat ons optrede moet wees, wanneer ons gekonfronteer word met probleme, of trauma, of vrees, ens.:
·        Eerstens – Hou op om te dink. Die meeste van ons het die geneigdheid om baie vinnig en heeltemal te veel, oor ons probleme te babbel en/of te top. Jakobus sê in Jak.1:19 ~ ...elke mens moet maar te gewillig wees om te luister, nie te gou praat nie en nie te gou kwaad word nie. Wanneer ons eers praat en later dink, dompel ons onsself net in ʼn warboel van negatiewe gedagtes, vreesagtigheid, ongeloof, ens. Wanneer ons stilbly en dink, begin ons dinge uit te sorteer en laat ons toe dat God se Lig op die situasie val.
·        Tweedens – Herhaal en bepeins weer basiese beginsels. Lloyd-Jones sê: Wanneer jy begin dink, moet jy nie by jou onmiddellike probleem begin nie, maar veel verder terug as dit. Oordink wie en wat God is; dink terug aan hoe Hy jou in die verlede gedra het. Oordink die beloftes in Sy Woord. In die proses sal jy dus besig wees om ʼn stewige fondasie vir jouself te lê, ten einde die spreekwoordelike “bul by die horings te pak”.
·        In die derde plek moet jy hierdie bekende beginsels toepas op jou huidige situasie. Punt is, dat alle probleme ʼn oplossing het wanneer dit in die regte perspektief geplaas word. Ons moet ons situasie of probleem dus in die regte konteks plaas – bv.: As jy ʼn krisis in jou gemoed sou ontwikkel oor hoe jy finansieel gaan oorleef as jy jou werk sou verloor, of in jou oudag – vra jouself af, of God jou al ooit in die verlede in die steek gelaat het – waarom sal Hy dit nou doen?
·        Laastens, indien jy nog steeds twyfel of angstig is, moet jy jou probleem in geloof met die Here deel en aan Hom oorlaat (ons kan Woensdagaand bietjie met praktiese voorbeeld “speel” en kyk hoe ons, ons persoonlike probleme kan hanteer).

       Habakuk het sy probleem en worsteling presies op hierdie selfde wyse hanteer. Habakuk het ook opgehou om te dink en hy het gaan sit en al die elemente van God se karakter begin neerskryf – Sy soewereiniteit; Sy almag; Sy alwysheid; Sy troue sorg, ens. (2:2).

       Nadat hy homself herinner het aan God se attribute, pas hy hierdie kennis toe deur bv. te sê ~ U is tog van altyd af daar, Here; U is my heilige God; ons sal nie sterwe nie (1:12), ens. Hy sê dus vir homself wie en wat God is en hy herinner God aan Sy karakter en daardeur sê Hy dus eintlik o.a., ...maar omdat U ʼn ewige en heilige God is, sal U ons nie in die steek laat  nie, maak nie saak wat gebeur nie.

       Habakuk pas ook hierdie vierde stap toe, deur met God te praat – eerlik en reguit, uit sy hart uit – en die gevolg? God vertroos hom; God lei die volk uiteindelik weer terug na die Beloofde land toe en hulle wie hulle bekeer het (of hulle nou terug gekeer het na Juda of nie), het selfs terwyl hulle in ballingskap in Babilon was, God se versorgende genade en beskerming ervaar – dink maar net aan Daniël en sy vriende – uiteindelik het God Hom ook in Sy heiligheid, op die goddelose en weerbarstige Babiloniërs gewreek deur hulle te vernietig.


       Geliefdes, ons moet nooit Matt.16:18 (my geliefkoosde teksvers) uit gedagte verloor nie ~ En Ek sê vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my kerk bou, en die magte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.

Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente, (Drie Riviere) – Sondag 10 Augustus 2014

Saturday, 2 August 2014

Habakuk, ʼn Profeet met ʼn boodskap vir ons – 02 (“Sy tweede Beswaarskrif aan God”)

1.     INLEIDING:
       In die eerste elf verse van Habakuk het ons gesien dat hy teenoor God gekla het en dat die Here oënskynlik nie na hom luister nie en ook niks omtrent die Judeërs se sonde doen nie, waarop die Here hom geantwoord het en wel op ʼn manier wat Habakuk dit waarskynlik nie verwag het nie, deurdat God vir hom gesê het dat die volk deur die Galdeërs verslaan en weggevoer sou word in ballingskap. In ons Skriflesing vandag kom Habakuk ʼn tweede keer na God met nog ʼn beswaarskrif.

2.     SKRIFLESING:
     Hab.1:12-2:1 ~ U is tog van altyd af daar, Here; U is my heilige God; ons sal nie sterwe nie. U, Here, het die Galdeërs aangestel om die vonnis te voltrek, U, ons Rots, het hulle die mag gegee om ons te straf. 13U oë is te rein om toe te kyk terwyl daar verkeerd gedoen word, U kan tog nie sien dat daar ellende is en niks doen nie! Waarom doen U dan niks aan die trouelose mense nie, waarom bly U stil wanneer slegte mense dié vernietig wat beter as hulle is? 14Hoe kan U mense behandel asof hulle visse is, asof hulle kruipende insekte sonder leier is? 15Die Galdeërs vang mense met hoeke, trek hulle vas in nette, maak hulle bymekaar in treknette, en juig en jubel oor die vangs! 16Die Galdeërs bring selfs offers vir hulle nette, brand wierook vir hulle treknette, want deur die nette leef hulle in weelde en het hulle volop kos! 17Sal hulle maar deurentyd voortgaan om hulle nette uit te skud, om nasies meedoënloos om die lewe te bring? 2 1Op my wagtoring wil ek gaan staan en op ’n skansmuur my stel, en ek wil speur om te sien wat Hy in my sal spreek, en wat ek op my klagte moet antwoord.

       Hierdie tweede klagstaat wat Habakuk inbring teen God kan in drie dele verdeel word, nl. ʼn Geloofsverklaring (vv.12-13a); Habakuk bevraagteken weereens God se wyse van oordeel t.o.v. die volk se sonde en afvalligheid (vv.13b-17) en laastens wag hy weer op God se antwoord (2:1).

3.     HABAKUK EN SY TEOLOGIE (vv.12-13a):
       As ʼn mens na Habakuk luister in sy aanvanklike reaksie voor sy tweede klagte teenoor God, dan is dit duidelik dat hy verward is nadat die Here hom op sy eerste klagte geantwoord het. Dit is onbetwisbaar duidelik dat die Judeërs gestraf moet word vir hul afvalligheid en rebellie teen God, maar wat Habakuk nie kan verstaan nie, is dat ʼn goddelose volk gebruik gaan word om God se Verbondsvolk mee te straf en wat nog meer verwarrend vir hom is, is dat hierdie antwoord van die Here net nie strook met sy teologiese oortuiging nie.

       In vv.12-13 kan gesien word as ʼn samevatting van die profeet se teologiese oortuiging. Hy begin deur God in Sy verbondsnaam aan te spreek, nl. יְהוִה [Yâhovah /yeh·ho·vaw/]. Hierdeur verklaar hy dat God ʼn soewereine God is, die ewige en onveranderlike God wie se Naam bo alle name is.

       Hy spreek hierdie teologiese oortuigings van hom uit d.m.v. retoriese vrae en dít terwyl hy die antwoorde op sy vrae ken – wat meer is, hy weet ook dat God die antwoorde ken op sy vrae. Hy herinner homself en God eintlik maar net weer aan al God se attribute (karaktereienskappe). So vra hy bv. of God dan nie ʼn heilige God is nie; of Hy nie getrou is nie; soewerein en regverdig is nie, maar hy verklaar ook dat God rein is en dan verwys hy spesifiek na God se integriteit wanneer hy sê ~ U oë is te rein om toe te kyk terwyl daar verkeerd gedoen word (v.13a).

       Ons vind ook ʼn ander baie interessante opmerking wat Habakuk maak en wel in v.12, wanneer hy sê ~ ...ons sal nie sterwe nie. As hy praat van “ons” dan verwys hy nie net na die uitverkorenes onder die Judeërs nie, maar hy verwys na die ganse volk – ook hulle wat God verloën het en hy sê dat “ons as ʼn volk” nie aan die hand van die Galdeërs (Babiloniërs) sal sterf nie, want God is ʼn verbondsgod wat nie Sy verbond verbreek nie.
4.     HABAKUK BEVRAAGTEKEN GOD WEER (vv.13b-2:1):
       Dit is duidelik dat Habakuk sukkel om sy teologie t.o.v. God se attribute te versoen met God se beloftes van oordeel oor die volk, want aan die eenkant is Sy God in wie hy onvoorwaardelik glo en wie Hy persoonlik ken, ʼn volmaak heilige en ewige verbondsgod, maar aan die anderkant is Hy ʼn wrede, onvergewensgesinde en onregverdige God wat ʼn nóg goddeloser nasie stuur om sy volk te kom straf – dit maak net nie sin nie en wat meer is, Hy is nie net onregverdig en ongenaakbaar nie, Hy hoor Habakuk se uitroepe ook nie ~ Waarom doen U dan niks aan die trouelose mense nie, waarom bly U stil wanneer slegte mense dié vernietig wat beter as hulle is? (v.13b).

       Dit is so ironies dat Habakuk hier vir die Here vra waarom Hy nie iets aan die trouelose mense doen nie (v.13b) – dit is duidelik dat hy hier aan die Galdeërs dink, maar hy vergeet dat sy eie volk wat op die drumpel van vernietiging en ballingskap staan, net so troueloos is, want is hulle nie minder sondig en minder afvallig van God as die Galdeërs nie? Nee, hulle is op presies dieselfde plek as die Galdeërs – weg van God!

       In v.14 sê Habakuk dat God agter alles in die ganse heelal sit en dat Hy die Regeerder van alle nasies is en daarom laat Hy toe dat die mensdom mishandel en verwoes word, want oorspronklik het God die mens geskep om o.a. oor die visse van die see te heers, maar nou is die mens (sy mense) nes die visse – daar word oor hulle geheers en hulle is soos die visse van die see ook nog leierloos, want dit wil voorkom asof God hulle ook nou verwerp en aan hulle vyande oorgegee het!

       In vv.15-17 beskryf Habakuk die wegvoer van die Judeërs in ballingskap deur die Babiloniërs en hy praat van visse met hoeke in die bek en treknette vol visse. Dit is baie interessant om na illustrasies deur die Babiloniërs te kyk wat vandag nog in die Pergamon Museum in Berlyn bewaar word – in daardie illustrasies word die weerlose mense wat deur die Babiloniërs weggevoer is, geteken as ʼn klomp mense wat aan mekaar gehaak was met hoeke in die onderlip. Geen simpatie was betoon deur die wrede Babiloniërs nie.

       In v.17 vra Habakuk die Here, wanneer die Galdeërs dan nou gaan ophou om hulle so te mishandel en weg te voer en dood te maak?

5.     HABAKUK SE EERLIKHEID:
       Habakuk is deursigtig en eerlik wanneer hy hierdie dinge vir die Here sê. Hy worstel daarmee om God se soewereiniteit aan die eenkant en die toenemende boosheid in die wêreld aan die anderkant, met mekaar te versoen. Ons behoort ook ernstig en eerlik oor hierdie feite met onsself en met die Here te redeneer soos wat Habakuk gedoen het, maar uiteindelik sal ons sien, net soos wat Habakuk sal sien, dat God voorwaar in beheer is en dat Hy inderdaad soewerein is en hy begin waarskynlik stadig maar seker sien en verstaan wat J.C. Ryle so goed opgesom het, toe hy gesê het, Die mees bose vyande van God, is bloot maar net byle, sae en hammers in God se hand en hulle is onbewus daarvan dat hulle maar net instrumente in Sy hand is, ten einde Sy werk in die wêreld te doen.

       Wat doen Habakuk nou nadat hy sy hart teenoor die Here uitgestort het en hy steeds nie antwoorde het nie? Hy gee die saak oor aan die Here en hy wag in afwagting en in geloof om weer van die Here te hoor en juis hierin lê die les vir ons opgesluit.

       Vir ons lê die oplossing vir ons probleme meestal op die vlak van ʼn onmiddellike verwydering van die probleem – bv., Malema pla ons en bedreig ons vrede, en in ons sondige gedagtes gebeur dit dalk vir ʼn vlietende oomblik dat ons wens iemand wil hom “uithaal”. Wanneer ons siek word wil ons onmiddellike genesing hê, of ons sal bid, Here gee tog dat hierdie knop nie kwaadaardig sal wees nie en jy vertel vir jou vriende en broers en susters daarvan en hulle reaksie is dalk ook dié van Habakuk s’n in v.12  ~ U is tog van altyd af daar, Here; U is my heilige God; ons sal nie sterwe nie. Hiskia het ʼn soortgelyke gebed gebid in 2 Kon.20:3 toe hy verneem het dat hy terminaal siek is ~ Ag, Here, neem tog in ag dat ek voor U in trou en met volle oorgawe geleef het en dat ek gedoen het wat reg is in u oë.” Hiskia het bitterlik gehuil.

       So ʼn reaksie is ʼn tipiese reaksie van menige mens, maar dit is ook ʼn goeie reaksie en dit is ook preses wat Habakuk doen, want te spyte en te midde van sy vrae en worsteling, is hy steeds besig om God te aanbid en bevestig hy net weer al die waarhede t.o.v. Sy Vader, nl. wie en wat sy heilige God waarlik is.

       Hy spreek egter ook terselfdertyd sy verwarring uit, want tog maak alles nie vir hom sin nie – verstaan hy nie God se optrede teen sy volk nie, want (soos voorheen reeds gesê), kan hy nie verstaan waarom God ʼn nóg boser nasie gebruik om sy volk te straf nie – dit is asof ons vir die Here wil vra, maar Here, ons as gelowiges is dan bevry van die erfsonde deurdat Christus Jesus vir ons op Golgota gesterf het, waarom moet ons nog ly? Waarom moet ons ook kanker kry; waarom word van ons medegelowiges vermoor; waarom, waarom...?

       Habakuk sien ons, in ons Skriflesing, stort sy hart teenoor God uit en hy praat reguit met God – hy sê presies hoe hy voel en hy vra reguit vrae.

       God verbied ons nie om Hom te bevraagteken wanneer ons verward is, of twyfel, of bang is nie. Habakuk het presies dít gedoen en ons lees nêrens dat God hom met ʼn weerligstraal dood geslaan het nie. Abraham het dit ook gedoen toe hy by God gepleit het dat Hy Sodom moes vernietig. God het Abraham in groot liefde geantwoord, omdat God Abraham se hart geken het – Hy het geweet dat Abraham se motief nie rebellie was nie, maar juis geloof en liefde en vertroue in Hom, die soewereine God. Dit was dus eerder ʼn geval van gebrekkige kennis en insig en beide Abraham en Habakuk wou maar net antwoorde op hul verwarde gedagtes gehad het.

       In die lig hiervan is dit dus nie verkeerd as ons vra en ja, selfs pleit by God dat Hy Sy “besluit” in heroorweging moet neem nie – dit is nie verkeerd om te vra, “waarom” nie. Ja, ons weet en glo dat God soewerein is, maar ons mag nog steeds ons binneste met Hom deel, Hy is tog immers ons Vader. Toe Jesus in die Tuin van Getsemane was, het Hy presies geweet wat vir Hom voorlê, nl. dat Hy gekruisig sou word; Hy het geweet dat dit ʼn soewereine besluit van God was en dat Sy kruisiging uitgevoer móés word, want dit was die begin van die afhandeling van Sy roeping na die aarde, maar Hy is hartseer en Hy kry swaar, so swaar dat Sy sweet soos bloeddruppels geword het en Hy bid tot Sy Vader en hoor wat sê Hy ~ My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie beker by My verbygaan; nogtans nie soos Ek wil nie, maar soos U wil (Matt.26:39). Hy weet  Hy moet sterf en Hy weet waarom Hy moet sterf, maar nogtans vra HY...

       Wanneer ons, soos Habakuk en Abraham en Job en selfs Jesus, aan God vrae vra en vir Hom sê hoe ons voel, is ons in ʼn persoonlike gesprek betrokke met ons Vader – ʼn liefdevolle, genadige Verlosser-Vader, Wie Sy kinders wat swaarkry, dra en beskerm – al is dit ook déúr die dood, maar op Sy perfekte en soewereine tyd sál Hy oorwinning gee en sal Hy selfs antwoorde gee, al is dit ook eers eendag wanneer hierdie wêreld herskep gaan word en ons wie Sy kinders is, die ewige lewe met Hom binnegaan. Hy sal op Sy vooraf verordineerde tyd uitkoms gee; vrede gee; oorwinning gee; herstel gee, of wat dit ook al mag wees wat ons nodig het. Diegene van ons wie in volmaakte verhouding met Hom staan – versoen deur Jesus Christus en wie verlang na die Koninkryk van God met sy vrede, liefde en volmaaktheid, kan hoop put uit hierdie wete.

       Habakuk het steeds hoop in die skadu van oordeel en swaarkry – waarom? Habakuk het in ʼn verhouding met God gestaan; hy het sy Maker vertrou en hy het Hom geken. Hy het geweet dat God, Jahweh is – my God, wat ewig is en wat nie stilbly nie (v.12). Sy verhouding met die Skepper van die heelal en die Outeur van sy en sy volk se geskiedenis is intiem en persoonlik en daarom onspan hy en wag hy nou op God en hy wag met afwagting op God se antwoord, wanneer hy in 2:1 sê ~ Op my wagtoring wil ek gaan staan en op ’n skansmuur my stel, en ek wil speur om te sien wat Hy in my sal spreek, en wat ek op my klagte moet antwoord.

       Al verstaan Habakuk nie waarom sy volk moet ly nie, weet hy uit persoonlike ervaring dat Jahweh goed is en daarom spreek hy Hom aan as ~ ...my heilige God en hy verwys ook na Hom as die Rots (v.12) – die standvastige en getroue God.

6.     DIE EVANGELIE IN HABAKUK:
       Ons het verlede week die Evangelie in Habakuk vanuit God se perspektief gesien – ʼn genadige God, wat regverdig optree en in wysheid voorsien – voorsien het in ʼn Verlosser, Jesus Christus – in Habakuk se geval, nog sou voorsien en in ons geval, reeds voorsien het.

       In vandag se Skrifgedeelte kan ons weer die Evangelie raak sien, maar die keer vanuit Habakuk se perspektief. Ons sien hoe Habakuk getuig van God se goedheid en Sy bevryding van die volk uit hul omswerwinge in die wildernis ná Egipte en hoe Hy hulle in die Beloofde Land gevestig het. Net so het elkeen van ons wat in Christus Jesus glo en in ʼn intieme verhouding met Hom staan, ook bevryding ervaar. Trouens ons bevryding – ons verlossing, was veel, veel groter en baie meer ingrypend as dié van die Israeliete – ons het en ervaar steeds, daardie verlossing waarna die Ou Testament voortdurend verwys het en waarna die volk van God so rykhalsend uitgesien het, nl. Jesus Christus se soendood aan die kruis en Sy opstanding uit die dood en Sy hemelvaart. Ons het reeds die belofte van sondevergifnis en ʼn tuiste in die ewige hiernamaals ontvang, want Jesus Christus het reeds die volmaakte en finale offer gebring om ons te verlos van die slawerny van sonde.


       Die waarheid of realiteit van die Evangelie wat Habakuk uiteindelik ontdek het en wat elke geslag na hom en na ons opnuut moet ontdek is in 2:4 (OAV) opgeteken en Habakuk herinner ons vandag weer aan hierdie Evangeliese waarheid ~ ...Maar die regverdige, deur sy geloof sal hy lewe.

Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente
(Drie Riviere) – Sondag 03 Augustus 2014

Saturday, 26 July 2014

Habakuk, ʼn Profeet met ʼn boodskap vir ons – 01 (“Sy eerste Beswaarskrif aan God”)

1.     INLEIDING:
       Twee dekades gelede het die Blankes in Suid-Afrika (nee, dit is polities- en Bybels nie korrek om so te praat nie) – het die wittes in Suid-Afrika uit die Ou-Suid-Afrika geemigreer. Of ons nou “ja” of “nee”, of glad nie gestem het nie, ons is almal deur politici aan beide kante van die politieke spektrum tot ʼn mindere of meerdere mate mislei. Dalk het hulle dit ter goedertrou gedoen, omdat hulle ook maar nie regtig geweet het wat die uiteinde sou wees nie – feit is egter dat die witte in Suid-Afrika homself vandag eensaam en geïsoleerd voel; afgestomp; vreemdelinge in ʼn vreemde land en ʼn “bedreigde spesie”. Hulle (ons) voel soos mense op ʼn skip iewers op die groot wye oseaan. Die probleem is egter dat ons al lankal nie meer op die wye oop oseaan is nie, maar stewig vasgeanker in ʼn nuwe land – ʼn land waarheen ons moet immigreer, indien ons dit nog nie gedoen het nie. Hierdie nuwe land moet ons nuwe vaderland word en dit word die Nuwe Suid-Afrika genoem. Indien ons nie immigreer nie gaan ons vergaan net soos mense wat op ʼn reddingsbootjie vir ʼn baie lang tyd op die oseaan sonder brandstof of seile ronddopper. Ter wille van oorlewing het ons derhalwe geen keuse nie as om óf te emigreer na ʼn ánder land (en bitter min van ons wittes wat nog hier in die Nuwe-Suid-Afrika aan wal gegaan het, kan dit bekostig, of sal toegelaat word in ʼn ander land), óf om van die skip af te klim, aan wal te gaan en volle burgers van hierdie nuwe vaderland te word.

       Nou is dit ook so dat ons nie baie tuis voel in hierdie nuwe vaderland nie, omdat hier dinge rondom ons gebeur waarvan ons nie hou nie; omdat hier dinge gebeur waarvan ons die rampspoedige einde reeds kan sien en ook is hier dinge aan die gang waarmee die Here nie tevrede kan wees nie. Wat meer is, dit voel baie dikwels asof die Here tjoepstil is oor wat besig is om met ons te gebeur, of is Hy juis betrokke en besig met die geskiedenis van hierdie land van ons?

       Wat staan ons egter te doen? Habakuk het nagenoeg 2600 jaar gelede vir ons ʼn boodskap geskryf waarna ons móét kyk en wat ons kan help.

2.     AGTERGROND:
       Behalwe vir Habakuk se naam, wat uit die Hebreeus stam en wat “om vas te gryp”, of “om te omhels” beteken, beskik ons nie oor veel meer inligting t.o.v. hierdie man nie. Ons weet wel dat hy een van die Klein Profete is, maar verder weet ons nie uit watter stam hy kom nie; oor wie sy familie was nie en wat sy verdere agtergrond was nie.

       In v.1 verwys hy na homself as “die profeet” en was hy waarskynlik ʼn voltydse profeet en die feit dat hierdie boek van hom opgeneem is in die kanon van die Woord impliseer dit dus dat sy boodskap, Goddelik geïnspireer was. Ons weet wel dat hy in Juda gebly het en waarskynlik in Jerusalem en dat hy ʼn tydgenoot van die profeet Jeremia was. Habakuk tree dus nagenoeg tussen die jare 612 tot 587 v.C. op as profeet en ons weet dit n.a.v. die situasie wat hy in hierdie kort boek beskryf, want hy het dit geskryf na die val van Nineve aan die hand van die Babiloniërs in 612 v.C. (soos deur Nahum geprofeteer) en voor die val van Jerusalem, ook deur die Babiloniërs in 587 v.C.

       Habakuk was deel van ʼn volk wat in die verlede ʼn geestelike herlewing beleef het – waar dit geestelik baie goed gegaan het, maar wat nou op hierdie stadium van sy optrede geestelik geweldig veragter het. Wat hom egter die meeste gepla het, was nie sy volk se geestelike verval nie, maar God se stilswye oor die situasie.

       Wat uniek t.o.v. Habakuk se profesie is, is dat hy, in teenstelling met ander profete, geen direkte boodskap van God aan die Judeërs of ons bring nie. Trouens, dit vertel vir ons wat Habakuk en God vir mekaar gesê het en dan uiteindelik wat die profeet se reaksie op hierdie tweegesprek was. Wat dit egter nog meer merkwaardig maak, is die oënskynlike klagte van die profeet se kant teenoor God se apatie terwyl Sy volk deur die meule gaan.

       Die boek kan basies verdeel word in twee klagtes of beswaarskrifte van Habakuk teenoor God (1:1-4 en 1:12-2:1); twee antwoorde van God (1:5-11 en 2:2-20) en laastens ʼn loflied van Habakuk teenoor God (3:1-19). Baie teoloë beskou hierdie laaste loflied as waarskynlik die mooiste geloofsverklaring van enige iemand in die ganse Ou Testament.

3.     SKRIFLESING:
     Hab.1:1-11 ~ ’n Uitspraak van die Here wat Hy aan die profeet Habakuk geopenbaar het. 2Hoe lank moet ek om hulp roep voordat U hoor, Here, moet ek by U bly kla oor geweld voordat U red? 3Waarom laat u my die onreg sien wat gedoen word, waarom kyk U toe as daar soveel ellende is? Oral rondom my is daar onderdrukking en geweld, en word daar getwis en gebaklei. 4Die wet het nie meer krag nie, en daar geskied nie meer reg nie. Slegte mense het die oorhand oor die goeies, en so word die reg verkrag. 5Die Here het geantwoord: Kyk na die ander nasies: julle sal verstom staan oor wat julle sien. Ek gaan nog tydens julle lewe iets doen wat julle nie sal glo as dit vir julle vertel word nie. 6Ek gaan die Galdeërs laat kom, die wrede, woeste nasie wat dwarsoor die aarde rondtrek om lande te verower wat nie hulle s’n is nie. 7Hulle is ’n nasie wat vrees en ontsag inboesem, hulle ken net een wet, een trots, hulle eie. 8Hulle perde is vinniger as luiperds, vuriger as honger wolwe. Hulle ruiters kom aan op ’n galop, hulle kom van ver af, hulle vlieg soos arende wat op hulle prooi neerskiet. 9Hulle hele leërmag kom om verwoesting te saai, hulle kom aangestorm soos die oostewind en maak krygsgevangenes bymekaar soos sand. 10Die Galdeërs dryf die spot met konings en lag maghebbers uit. Hulle lag oor al die vestingstede: hulle gooi grondwalle teen die stede op en neem hulle in. 11Dan jaag hulle verder, hulle trek verby soos die wind. Vir hierdie sondige nasie is sy eie mag sy god.

4.     DIE TITEL (v.1):
       V.1 word oor die algemeen beskou as die titel van die boek ~ ’n Uitspraak van die Here wat Hy aan die profeet Habakuk geopenbaar het. Die woord “uitspraak” wat hier in die NAV gebruik word, word in Engels vertaal met “oracle” en in die Hebreeus is dit מַשָּׂא [massaʾ /mas·saw/] en dit dui op ʼn swaar las wat op iemand gelê word. Habakuk wil dus deur hierdie opskrif vir ons sê, dat God, in Sy antwoorde op sy klagtes, ʼn baie swaar las op hom wat Habakuk is, se skouers gelê het.

5.     HABAKUK SE EERSTE BESWAARSKRIF (vv.2-4):
       In vv.2-4 lê Habakuk sy eerste klagte voor God en trek hy God se regverdigheid in twyfel. Wat baie interessant is, is dat Habakuk nie bang is om God te bevraagteken nie. Sulke optrede is egter nie ongewoon in die Ou Testament nie. Ons sien in Ps.22 dat Dawid dieselfde doen, wanneer hy uitroep ~ My God, my God, waarom het U my verlaat en bly U ver as ek om hulp roep? (v.1). Habakuk se kennis van God, nl. dat Hy ʼn regverdige God is, klop nie nou met sy ervaring nie, want Hy tree dan nie op nie. Daar heers anargie en geweld in sy land; misdaad vier hoogty, wreedheid is aan die orde van die dag; seksuele sondes was niks snaaks nie; onderdrukking vind plaas en soos hy dit stel, die reg word verkrag. Die Hebreeuse woord vir “reg” in hierdie geval is תֹּורָה [towrah, torah /to·raw/] – Habakuk verwys dus hier na die “wet en die profete” – na God se Woord en Sy Wet. Die feit dat God se volk nie meer Sy Wet gehoorsaam nie, is een van Habakuk se grootste worstelinge.

·         Hoe lank nog Here? (v.2):
Habakuk roep uit tot God om hulp en verligting en hy vra in v.2: Hoe lank nog Here; hoe lank moet ek nog roep na U en vra vir hulp, sodat hier bekering en vrede kan kom, sodat die volk U weer sal dien? God is egter stil en die anargie en ongeregtigheid duur onverpoosd voort. Klink dit bekend? Dit laat ʼn mens dink aan die uitroepe van die gelowiges wat gesterf het vir hul geloof en wat in Openb.6:10 vermeld word – toe die Lam die vyfde seël oopmaak, het hulle uitgeroep ~ Hoe lank nog, heilige en getroue Heerser? Wanneer voltrek U die oordeel en wreek U ons dood op die bewoners van die aarde?

Nog ʼn interessante woord waarmee ons te doen kry in v.2, is “geweld” – die Hebreeuse woord hiervoor is חָמָס [chamac /khaw·mawce/] (“Hamas”), wat dui op voortdurende onderdrukking van die bose, asook die brutaliteit en aanvalle met die oog daarop om jou naaste te beseer of te dood. In meer algemene terme dui dit op ʼn ernstige oortreding van die morele wet en daarom is dit eties onaanvaarbaar.

·         Waarom Here? (v.3):
Habakuk se uitroep gaan dus oor hierdie wetteloosheid en ongeregtigheid wat God oënskynlik net toelaat, sonder dat Hy iets daaromtrent wil doen, trouens hy is amper reeds op ʼn plek waar hy begin twyfel of God enigsins oor die vermoë beskik om iets omtrent die situasie te kan doen! Hy vra aan God waarom Hy oënskynlik afwesig is en dit klink asof Habakuk wil sê: Wat help dit tog om te bid, want God hoor nie, trouens ek begin dink Hy kan niks aan die situasie doen nie – is Hy werklik soewerein?

·         Wetteloosheid (v.4):
       Habakuk sê in v.4, dat die wet wat veronderstel is om die krag te wees wat mense sal weerhou van wetteloosheid, “sy tande” verloor het. Hy het waarskynlik hier verwys na wat Moses in Eks.18:16 gesê het ~ As hulle in sake betrokke raak, kom hulle na my toe. Ek lewer dan uitspraak oor die geskille tussen hulle en maak terselfdertyd God se voorskrifte en wette aan hulle bekend. Hierdie voorskrifte en wette was God se verbondsreëls wat Hy deur Moses aan Israel gegee het, wat as basis vir orde gedien het – dit is in die besonder in Deuteronomium uiteengesit en het die morele, seremoniële en regterlike wette ingesluit.

6.     GOD SE ANTWOORD (vv.5-11):
       In vv.5-11 reageer God “uiteindelik” op Habakuk se uitroepe en verwyte en die antwoord wat Hy gee is nie wat Habakuk of selfs ons sou verwag nie – Hy vertel nié vir die profeet hoe Hy die onderdrukkers gaan verwoes nie en die regverdiges gaan red nie, inteendeel!
       In die Here se antwoord sê Hy in v.5, vier dinge aan Habakuk:
-       Eerstens sê Hy aan hom dat Hy wel betrokke is en dat daar binnekort ʼn antwoord op Habakuk se gebede sal kom.
-        Tweedens sê Hy aan Habakuk dat Hy nog in sy (Habakuk) se lewe ʼn antwoord sal verskaf op sy pleidooie.
-        Derdens sê God dat Sy optrede só ingrypend sal wees, dat hy wat Habakuk is, nie sy oë sal kan glo nie.
-        Vierdens sê God iets wat Habakuk dalk nie sou wou hoor nie – Hy sê vir hom dat die Galdeërs (ook genoem die Babiloniërs) opgerig word as ʼn magtige nasie – ʼn nasie wat die ganse wêreldgeskiedenis ingrypend sou verander (v.6). Hy sê o.a. dus vir Habakuk, dat hy hom nie self moet blindstaar teen net sy eie klein kolletjie op die wêreldkaart nie, maar dat daar ʼn groter prentjie is waar God besig is, alhoewel dit uiteindelik ook ʼn impak op Habakuk en sy volk sou hê – trouens nie baie lank hierna nie en ook ingrypend en met tragiese gevolge – nog erger as wat Habakuk en die Judeërs nou ervaar!

       Hierdie was niks nuuts nie, want reeds in Jes.29:13-14 het God die volgende deur Sy profeet gesê ~ Die Here het gesê: Hierdie volk is naby My met die mond, hulle eer My met wat hulle sê, maar hulle hart is ver van My af, hulle dien My soos mense dit wil hê, nie soos Ek wil nie. 14Daarom gaan Ek nog ongehoorder dinge doen met hierdie volk: die een ongehoorde ding na die ander, sodat die wysheid van sy wyse manne sal verdwyn, die verstand van sy verstandige mense tot niet sal gaan.

       Die Galdeërs was op pad na Israel en ons weet dat hulle nie lank na Habakuk se worsteling met God, Juda binnegeval en Jerusalem beset het nie en in die proses is duisende Judeërs weggevoer na Babilon as slawe.

       Die Here gaan voort en beskryf in vv.7-11 wie en wat hierdie verskriklike nasie – die Galdeërs, werklik is. Hy sê o.a. dat hulle geen respek het vir ander nasies en hul wette nie, want net hul wet geld. Hy beskryf o.a. ook hul weermag deur te sê dat hul perde vinniger as luiperds is en hul ruiters se akkuraatheid in hul gevegte is soos dié van ʼn arend wanneer hy sy klein prooi op ʼn hoë hoogte sien en steeds kan neerskiet op hom en hom in sy kloue gryp, nog voor die prooi onder die gras kan wegkruip.

       Meer nog, die Here sê vir Habakuk – Hy waarsku hom en sê vir hom, dat die Galdeërs op pad is om die Judeërs te verwoes en weg te voer as krygsgevangenes (v.9). Dit is asof die Here vir Habakuk sê: Habakuk, jy verkwalik My dat dit sleg gaan met jou ou volkie en dat ek nie na jou luister nie – daar wag egter nog groter ellende op hulle – kyk maar, dit gaan binnekort gebeur!

       Al was die Galdeërs ʼn goddelose nasie, trouens hulle was hulle eie god en daarom skuldig voor God – nie net omdat hulle hulself oorgegee het aan wetteloosheid en wreedaardigheid nie, maar omdat hulle hulself boonop gekroon het as hul eie god (v.11) en al was hulle dan in hul eie oë die “aller alles” het God juis hierdie sondige volk gebruik om die Judeërs te straf.

       Hierdie nuus moes vir Habakuk verwarrend gewees het. Dit was verstaanbaar dat die Judeërs gestraf moes word vir hul eie gruwelike sonde en skaamtelose rebellie, maar wat vir Habakuk onverstaanbaar was, was dat God ʼn nog boser volk sou gebruik om die Judeërs te straf – dit het net nie sin gemaak nie – was hulle straf nie te erg nie?

7.     TOEPASSING:
     Die boek Habakuk is nie ʼn maklike boek om te interpreteer nie. Waarom sou God vir ons ʼn boek gee waar Habakuk se volk se ondergang en straf die fokus van hierdie verhaal is? Ons weet ook nie eens hoe Habakuk aan die einde van sy lewe gekom het nie en of hy die ballingskap oorleef het nie – ja, al was hy ʼn profeet van God, het hy saam met sy volksgenote die volle geweld van die Galdeërs ervaar!

     Wat moet ons met hierdie gedeelte doen? Hoe is dit van toepassing op ons situasie vandag in Suid-Afrika? Is dit enigsins op ons van toepassing?

     Ons sien toenemend hoe die situasie rondom ons in chaos en bykans onregeerbaarheid verval – dink maar net aan die dreigende (nuwe) “Rooi gevaar” – die EFF se ongedissiplineerde wetlose jongelinge en hul revolusionêre uitsprake – hoor net wat het Malema gister op die EFF se eerste verjaarsdagvieringe gesê: “the party is an international organisation and that more parties would emerge in other countries. “Children of Africa, freedom is coming. We have not tasted freedom. Freedom will come with the coming revolution...we will liberate the world” (The Mail & Guardian). Die EFF kan soos wat in baie ander lande gebeur het, ook hierdie land in ʼn burgeroorlog dompel. In hoeveel Europese en Oos-Europese lande het die juig nie juis net dit bewerkstellig nie? Sommer net nou die dag het dit in Egipte en omliggende Noord-Afrikaanse lande gebeur.

     Die situasie in ons land (en die res van die wêreld) is niks anders as ongeveer 2600 jaar gelede in Habakuk se tyd nie en daarom is en moet hier lesse te leer wees vir ons in ons dag. As ons maar net na Habakuk self kyk kan ons een of twee dinge leer en wat ons in ons situasie nie moet vergeet nie:
-     Habakuk was eerlik teenoor God – hy het nie doekies omgedraai nie (net soos Job – Job 30, 31). Die Psalmskrywers het dit gedoen en so ook Jesus – en hulle het dit almal gedoen sonder om skuldig na die tyd te voel. Ons moet ook die vrymoedigheid neem, om ons harte oop te maak teenoor die Here, maar ons moet egter onthou dat ons, net soos Habakuk e.a., dit steeds met die grootste agting en respek doen, maar dóén dit net.
-     Habakuk het geleer dat God sonde nie ongestraf laat bly nie en dat ons nie God se oordeel of besluite oor hoe en wanneer en wie Hy straf in twyfel moet trek nie.
-     Al was Habakuk ʼn profeet van God, het hy saam met sy volksgenote die volle geweld van die Galdeërs ervaar (en so ook al die ander “Torah-gehoorsame” Judeërs) en is hulle nie uitgered en gespaar van die ellende soos die vroeë Christene rondom 70 n.C. wat uit Jerusalem weggeneem is na Pela toe, toe die Romeine Jerusalem en die Tempel verwoes het nie, maar God sou Habakuk en die ander gelowiges deur hierdie beproewing dra – net soos vir Daniël en sy vriende en hierin lê daar geweldige troos en bemoediging vir ons as gelowiges – ten spyte van wat die toekoms ook al inhou en te midde van ʼn geweldgeteisterde land, sal die Here ons ook dra!

     Wanneer ons na die groter prentjie kyk – na die profesie self, sien nog ʼn paar dinge wat ons kan leer:
-     Ons moet besef dat die wêreld se geskiedenis (al lyk dit hoe duister), steeds onder God se beheer is. Ons sien dit in Sy reaksie teenoor Habakuk wanneer Hy in vv.5-6 sê ~ Ek gaan nog tydens julle lewe iets doen... Ek gaan die Galdeërs laat kom. God is in beheer – Hy is altyd in beheer, al lyk dit nie altyd vir ons so nie. Dink maar net terug aan nét 25 jaar gelede – na 72 jaar se kommunisme en lande wat gebuk gegaan het onder Russiese en Kommunistiese onderdrukking; gelowiges wat gesterf het vir hulle geloof, ens. val die Berlynmuur op 9 November 1989 en verander die wêreld oornag – God is inderdaad in beheer!
-     Nog iets wat belangrik is om te besef, is dat die wêreld se geskiedenis nie “per ongeluk” plaasvind nie, al mag dit vir ons so voorkom. Ons moet nooit vergeet dat die Kerk van die Here Jesus Christus, altyd sentraal staan in God se plan en daarom kan en mag ons nooit agteroor sit met ʼn gesindheid van “laat gods water maar oor godsakker loop” nie – ons moet aktief bid – bid soos Habakuk, dat God verandering en vrede sal bring, maar dat ons dit ook sal aanvaar wanneer God die Kerk tugtig, ten einde die Kerk te suiwer – is dit nie juis wat op die oomblik in ons land aan die gang is nie en dalk nog erger gaan word?
-     Geskiedenis volg derdens ʼn Goddelike tydskedule. Ons sal hierdie feit regdeur Habakuk sien ontplooi – God sê vir Habakuk in vv.5-6 dat Hy nog in hulle leeftyd iets gaan doen omtrent die situasie – nie dalk, of Hy weet nie – Hy weet presies wanneer en daarom moet ons ontspan en rus in God se soewereiniteit en weet dat gebeure in ons land en in die wêreld gekoppel is aan ʼn Goddelike tydskedule.
-     Laastens moet ons besef dat die sleutel tot die wêreld se geskiedenis, die Koninkryk van God is. Met enige gebeure in die wêreld, moet ons onsself afvra wat die relevansie of betekenis daarvan vir die Koninkryk van God is en moet ons nie angsbevange raak nie, want God is in beheer – selfs al moet ons dalk in die proses, die “hoogste prys” betaal. Indien ons hierdie vraag nie altyd kan beantwoord nie, moet ons aanvaar – nee, weet dat God wel ʼn plan daarmee het en dat ons daarin kan rus dat ons (die van ons wie Sy kinders is) steeds deur Hom gedra sal word – ons moet net steeds saam met Dawid glo en sê ~ Die Here is my lig en my redder, vir wie sou ek bang wees? Die Here is my toevlug, vir wie sou ek vrees? (gaan lees gerus die volledige Psalm).

     Wanneer ons gebeure rondom ons op hierdie wyse hanteer, volg ons Jesus se raad wat Hy aan Sy dissipels gegee het in Matt.24:4-6 ~ Jesus antwoord hulle: “Pas op dat niemand julle mislei nie. 5Baie sal onder my Naam kom en sê: ‘Ek is die Christus,’ en hulle sal baie mense mislei. 6Julle sal die rumoer van oorloë en gerugte van oorloë hoor. Pas op, moenie verskrik word nie. Dit moet kom, maar dit is nog nie die einde nie.


     In hierdie eerste elf verse van Habakuk, sien ons ook die Evangelie van Jesus Christus baie duidelik, want hier is kort-kort verwysings na geregtigheid en genade, van wysheid en Goddelike voorsiening. Waar dit vir baie eeue voorgekom het asof God afwesig was in die geskiedenis van die Judeërs, het Hyself uiteindelik in die volheid van die tyd, deur die Persoon en werk van Sy Seun, Jesus Christus wat vlees geword het, geregtigheid en genade gebring vir almal wat in Hom glo, want aan die kruis het Jesus die volmaakte offer gebring sodat ons  regverdigmaking kon ontvang – elkeen wat in Hom glo en Hom navolg as Verlosser en Saligmaker en elkeen wat onvoorwaardelik in Hom glo, se sonde sal vergewe word en sal hy gered word ~ Maar nou het die vryspraak deur God waarvan die wet en die profete getuig, in werking getree. Dit is die vryspraak wat nie verkry word deur die wet te onderhou nie, 22maar deur in Jesus Christus te glo. God gee dit sonder onderskeid aan almal wat glo. 23Almal het gesondig, en het nie deel aan die heerlikheid van God nie, 24maar hulle word, sonder dat hulle dit verdien, op grond van sy genade vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus Christus. 25–26Hom het God gegee as offer wat deur sy bloed versoening bewerk het vir dié wat glo. Hierdeur het God getoon wat sy vryspraak behels: Hy het die sondes wat Hy voorheen in sy verdraagsaamheid tydelik ongestraf laat bly het, vergewe. Maar Hy het ook getoon wat sy vryspraak in die teenswoordige tyd behels: Hy oordeel regverdig deurdat Hy elkeen vryspreek wat in Jesus glo (Rom.3:21-26).

Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Sondag 27 Julie 2014