Saturday, 9 June 2012

Die Brief aan die Hebreërs - 01 (God se Selfopenbaring)


1.    INLEIDING:
       Stuart Olyott sê in sy boekie, I Wish Someone Would Explain Hebrews To Me!: Every Christian needs to understand Hebrews. If they do not, they will misunderstand the Old Testament and willl also fail to fully appreciate what our Lord Jesus Christ has done, what he is doing now, and what He is going to do in the future. As a result they will remain spiritually stunted (ingeperk, geestelik "agterlik").

       Ene Dr. Charles Feinberg het gereeld vir sy studente gesê dat hulle Hebreërs nie sal verstaan as hulle nie die boek Levitikus verstaan nie, omdat Hebreërs gebaseer is op die beginsels soos vervat in Levitikus. Hy het egter ook sy studente bemoedig deur vir hulle te sê, dat hulle nie bekommerd moet wees nie, want teen die tyd dat hulle deur Hebreërs gewerk het, sal hulle Levitikus ook verstaan. Dit sal dus goed wees as julle tuis en op julle eie tyd, self deur Levitikus sal lees en werk, omdat Levitikus o.a. talle seremoniële simbole bevat wat aangespreek word in Hebreërs.

       Voor ons op ’n reis deur Hebreërs gaan, is dit noodsaaklik dat ons eers kyk na belangrike agtergrond aspekte en waarteen ons Hebreërs moet lees, preek en verstaan. Dit is ook belangrik dat ons hierdie dinge voortdurend in gedagte sal hou, wanneer ons Hebreërs bestudeer en daarom moet julle nie nou net luister na wat ek gaan sê nie, maar julle moet ook hoor wat ek sê.

       Hebreërs is by verre die beste kommentaar oor die Ou Testament. Dit verklaar vir ons die Ou Testamentiese geskiedenis. Dit verklaar vir ons die vervullings van die Ou Testamentiese profesieë. Dit verklaar vir ons die Ou Testamentiese seremonies en – offers wat almal heenwys na Christus, die groot en volmaakte offer wat vir ons sonde gebring is – wat heenwys na die ware Priester en Tussenganger tussen ons en God.

2.    AGTERGROND:
       Hierdie boek is waarskynlik so rondom 65 n.C. geskryf en wel ongeveer 35 jaar nadat ons Here Jesus Christus gekruisig is en opgestaan en opgevaar het na die hemel en nadat die Heilige Gees uitgestort is. ’n Groot aantal van die gelowiges wat hierdie boodskap ter insae gehad het, kon die gebeure rondom Jesus nog baie goed onthou, want baie van hulle was waarskynlik ooggetuies van wat nagenoeg 35 jaar vantevore gebeur het, trouens hulle kon waarskynlik hierdie grootse gebeure nie vergeet nie, want dit het hulle persoonlike lewens ingrypend verander.

       Selfs van die oorspronklike apostels het met die skryf van Hebreërs nog gelewe, maar die meeste van die gelowiges was reeds deel van ’n tweede geslag gelowiges en hulle het almal tot geloof gekom deur die prediking en getuienisse van die oorspronklike ooggetuies.

       Met die skryf van hierdie brief, het die tempel nog in Jerusalem gestaan, alhoewel daar reeds sterk aanduidings was dat dit nie meer lank die geval sou wees nie (Hebr.12:27). Intussen het die Joodse geloof egter voortgegaan soos in die verlede, alhoewel groot hoeveelhede Jode, gelowiges geword het en dit is juis aan ’n gedeelte van hierdie Jode wat gelowiges geword het, aan wie die Hebreërbrief gerig was.

       Daar is baie spekulasie oor wie die skrywer van hierdie brief is (of dalk preek?) en baie moontlikhede word geopper. Paulus word oor die algemeen genoem as die mees waarskynlike skrywer, maar omdat sy naam nie genoem word nie, kan ons nie aanvaar dat hy wel die skrywer was nie. Wat ons kán aanvaar, is dat hierdie brief wel deur een van die apostels geskryf is, omdat die vroeë kerk nie hierdie brief in die insluiting van die kanon sou aanvaar het, as dit nie deur ’n apostel geskryf was nie en daarom kan ons sekerlik sê dat die apostel, óf die skrywer van Hebreërs,  "sus of so sê."  

       Die brief sê nie vir ons presies waar hierdie groep gelowiges hulle bevind het nie – hoogs waarskynlik deel van dieselfde gemeente – iewers. Daar is kommentators wat reken dat hierdie gelowiges in Jerusalem was omdat daar soveel verwysing na die tempel is, terwyl ander weer reken dat hulle, hulself iewers in Italië bevind het (Hebr.13:24).  
      
       ’n Vraag wat ons ook altyd vir onsself moet afvra voor ons na ’n nuwe boek in die Bybel begin kyk; daaruit lees en/of daaruit preek, is die doel waarom die boek/brief geskryf is. Wat Hebreërs aan betref, is ons nie heeltemal seker wat die redes is nie.

       Wat wel duidelik blyk, is dat ons hier te doen het met ’n groep gelowiges, waarskynlik deel van ’n huisgemeente, of dalk ’n paar huisgemeentes, wat ontmoedig geraak het a.g.v. die toewyding wat van gelowiges vereis word en wel te midde van vervolging – dit is soos ’n vuur wat nat geraak het en nou rook die hoop hout net – met geen vlam nie. Tog is daar onder die as nog ’n paar gloeiende stompies hout wat aangeblaas kan word en dit is presies wat die skrywer deur hierdie brief wil doen – hy wil die vuur weer aanblaas en hulle daardeur aanmoedig en bemoedig om vas te hou aan hulle Christelike belydenis en geloof.

       Die boodskap, of dan lering wat die apostel in die Hebreërbrief deel met hierdie groep gelowiges, word vir ons pragtig saamgevat in die eerste drie verse van hoofstuk 1. Hy praat van openbaring: God (het) baiekeer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete (1:1); Hy praat van ’n Persoon: Hy (God) (het) met ons gepraat deur die Seun (1:1-2) en hy praat van die werk wat gedoen is: Hy (het) die reiniging van sondes bewerkstellig (1:3). Dit is dan presies  ook waaroor Hebreërs handel.

       Die wyse waarop die apostel die vuur weer aan die gang kry in die lewe van die gelowiges in Hebreërs, is om bepaalde grondwaarhede weer met hulle te deel, maar hy rig ook bepaalde waarskuwings en vermanings tot hulle.

       Wat die struktuur van die brief aan betref, bestaan dit uit twee afdelings. Daar is dertien hoofstukke in totaal. Van hoofstuk 1:1 af, tot en met 10:18 gee die apostel meestal lering en van 10:19 af deel hy hoofsaaklik waarskuwings en vermanings uit.

3.    SKRIFLESING:
       Hebr.1:1-14 ~ In die verlede het God baiekeer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete, 2maar nou, in hierdie laaste dae, het Hy met ons gepraat deur die Seun. God het Hom deur wie Hy die wêreld geskep het, ook erfgenaam van alles gemaak. 3Uit Hom straal die heerlikheid van God en Hy is die ewebeeld van die wese van God. Hy hou alle dinge deur sy magswoord in stand. Nadat Hy die reiniging van sondes bewerkstellig het, het Hy gaan sit aan die regterhand van die Majesteit in die hoë hemel. 4Hy is net so verhewe bo die engele as wat die Naam wat God Hom gegee het, voortrefliker is as hulle naam. 5Immers, aan wie van die engele het God ooit gesê: “Jy is my Seun, van vandag af is Ek jou Vader,” en ook: “Ek sal sy Vader wees, en Hy sal my Seun wees”? 6En wanneer God die Eersgeborene in die wêreld inbring, sê Hy: “Al die engele van God moet Hom aanbid.” 7Van die engele sê Hy: “Hy maak sy engele stormwinde en sy dienaars vuurvlamme.” 8Maar van die Seun sê Hy: “U troon, o God, staan vir ewig vas, met u koninklike septer laat U reg geskied. 9U het die reg lief en U haat die onreg. Daarom het God, u God, U onder groot vreugde tot Koning gesalf bo u tydgenote.” 10En verder: “U, Here, het in die begin die aarde gevestig, en ook die hemel is die werk van u hande. 11Dié dinge sal vergaan, maar U bly bestaan; soos ’n kledingstuk sal alles verslyt; 12soos klere sal U dit oprol; ja, soos ’n kledingstuk sal dit vervang word. Maar U, U bly dieselfde, en u jare het geen einde nie.” 13Van watter engel het Hy ooit gesê: “Sit aan my regterhand, totdat Ek jou vyande aan jou onderwerp het”? 14Is hulle dan nie almal geeste in diens van God, wat Hy uitstuur om dié te dien wat die saligheid gaan beërf nie?

4.    TEKSVERS:
       Hebr.1:1-2a ~ In die verlede het God baiekeer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete, 2maar nou, in hierdie laaste dae, het Hy met ons gepraat deur die Seun.

5.    GOD PRAAT IN DIE OU TESTAMENT:
       Hou ingedagte dat die ontvangers van hierdie boodskap, slap in die knieë geraak het wat hul geestelike lewe aan betref en die Hebreërskrywer wil hulle bemoedig en weer geestelike perspektief gee. Hy kom dan nou hier in vers 1 en hy val sommer met die deur in die huis, wanneer hy sê ~ In die verlede het God baiekeer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat.... Die hoofgedagte hier, is dat God gepraat het.  

       Ons as gelowiges glo in God en ons weet dat God met Sy kinders praat. Hy het van die eerste dag dat die mens geskape is, met die mens gepraat – Hy het Homself dus aan die mens geopenbaar en die feit dat Hy met ons, Sy skepsele praat, impliseer dat ons ’n verantwoordelikheid en ’n verpligting het om na Hom te luister.

       Daar bestaan egter baie uitsprake en standpunte in kerklike kringe t.o.v. die wyse waarop God met die mens praat. Daar is baie groepe wat sê dat God steeds in ’n hoorbare stem met gelowiges praat, of as Hy dit nie hardop doen nie, praat Hy d.m.v. drome, openbarings, visioene, ens. met hulle. Andere weer sê dat God nie meer hardop, of d.m.v. drome of openbarings met die mens praat nie. As hy nie meer hoorbaar met ons praat nie, is die vraag hoe praat Hy dan met ons? Wat glo ons, hoe praat God met ons?

       Kom ons kyk weer na ons teksvers en dan sien ons dat God in die verlede baie met die mens gepraat het en Hy het op verskillende maniere met die mens gepraat. Ons sien bv. in Num.12:6-8 dat Hy die volgende sê ~ Luister na wat Ek sê: As daar ’n profeet van die Here onder julle is, maak Ek My aan hom bekend deur visioene en praat Ek met hom in drome. 7Maar met my dienaar Moses is dit anders Hy is die betroubaarste in my diens. 8Met hóm praat Ek direk en persoonlik, nie in raaisels nie. Hy sien selfs die gestalte van die Here. Hier sien ons eerstens, dat God met Sy profete gepraat het. Hoe het Hy dit gedoen? Hy het Homself d.m.v. visioene en drome aan hulle bekend gemaak. Hy het egter ook direk en persoonlik met hulle gepraat, soos met Moses die geval was. Gepraat van Moses, ons sien in Eks.20 dat God ook op ’n keer met Moses gekommunikeer het, deur met Sy vinger op kliptafels te skryf. Ander kere weer en dit was die meerderheid van kere, het die Heilige Gees op so ’n wyse Sy profete toegerus, dat hulle hul gedagtes in woorde uitgedruk het, wat presies die woorde was wat God aan die volk wou sê. God het ook d.m.v. magtige dade tot Sy volk gespreek; soms het Hy gefluister as Hy gepraat het, bv. met Elia by Horeb (1 Kon.19:12). Esegiël weer het God se stem d.m.v. visioene gehoor en Daniël het drome gedroom. Soms het God aan van die profete verskyn ("teofanie") – dink maar net weer aan Moses op die Berg Sinai (Eks19), of die brandende bos (Eks.3:2). God het aan Abraham in die gedaante van ’n mens verskyn en aan Jakob in die vorm van ’n engel.

       Natuurlik moet ons ook God se algemene openbaring meld, as wyse waarop Hy deur die eeue met alle mense praat (daarom dat geen mens ooit die verskoning sal hê dat hy nie van God geweet het nie) en waar word God se algemene openbaring beter beskryf as in Ps.19:1-4 ~ Vir die koorleier. ’n Psalm van Dawid. 2Die hemel getuig van die mag van God, die uitspansel maak die werk van sy hande bekend. 3Die een dag gee die berig deur aan die ander en die een nag deel die kennis aan die volgende mee. 4Sonder spraak en sonder woorde, onhoorbaar is hulle stem.

       Op grond van die feit dat God deur die profete met Sy volk gepraat het, kan ons dus ook onomwonde sê dat die ganse Ou Testament, God se spreke met Sy volk was en deur hierdie spreke van Hom, het Hy Homself aan Sy kinders bekend gemaak. 

       Die Ou Testamentiese spreke van God tot en deur Sy profete was egter nie om dowe neute nie, want God was voortdurend besig om Sy volk voor te berei op die koms van die Messias – Hy het oor ’n lang tydperk met hulle gepraat.

       Wat egter belangrik is, is om te besef dat hierdie profetiese woorde wat God se profete ontvang het, nooit God se finale woorde was nie – waarom nie? Omdat die klimaks en die finale punt van God se Ou Testamentiese profesieë nie in die profete se tyd gerealiseer het nie – Jesus die Christus was die klimaks van elke profesie en Hy sou eers veel – veel later, ná die profete se tydperk van optrede kom (ongeveer 400 jaar ná die laaste Ou Testamentiese profeet, nl. Maleagi).

       V.1 sê egter ook vir ons dat ~ In die verlede het God baiekeer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete. Ons sien dus dat God nie alleen met die profete op baie maniere gepraat het nie, maar Hy het ook deur die profete, op baie maniere, met Sy kinders gepraat. Die profete het dus dit wat God aan hulle geopenbaar of gesê het, weer aan die volk Israel gesê, of oorvertel. Wanneer die profete gepraat het, het hulle dit ook op verskillende wyses gedoen. Sommige het presies herhaal wat God aan hulle gesê het (bv. Amos), terwyl andere weer God se boodskap op ’n vraag-en-antwoord wyse oorgedra het (Maleagi). Sagaria het dit weer d.m.v. tekens en wonders gedoen – die profete was manne van onkreukbare integriteit en het dus die boodskap getrou en korrek oorgedra.

       Deur God se profetiese spreke tot die mens, het dit hulle gehelp om hul geloof met ander te deel (dink aan Abraham en Isak); kon hulle teenstand weerstaan (dink aan Moses en sy konfrontasie met Farao); kon hulle in tye van nood en afhanklikheid met vertoue optree en bv. die vyand oorwin (dink aan Dawid en Goliat).

       Nooit was God se boodskap deur Sy profete ontydig, of vervelig, of onverstaanbaar, of onbelangrik nie. Wat meer is, God se woorde was altyd progressief van aard – m.a.w. dit het elke keer meer en meer oor en van God geopenbaar. God se spreke het ook daarop gedui, dat Hy altyd gretig was om met Sy kinders te praat, net soos wat Hy vandag nog steeds gretig is om met ons te praat.

6.    GROOT PRAAT IN DIE LAASTE DAE:
       As ons net v.1 in isolasie lees, kan ons vra, maar hoe praat God vandag met die mens? Soos aan die begin gesê, is daar mense wat vas glo dat God vandag nog d.m.v. profete; drome; tale; ens. met gelowiges praat. Die Hebreërskrywer verskaf egter dadelik in v.2 aan ons die antwoord wanneer hy sê ~ ...maar nou, in hierdie laaste dae, het Hy met ons gepraat deur die Seun.

       Hier in v.2 is ’n paar woorde waaraan ons aandag moet skenk:    
·           Eerstens word hier melding gemaak van ... hierdie laaste dae. Wat of wanneer is hierdie laaste dae? In die Grieks word "die laaste" dae" vertaal met ἔσχατος (eschatos) en ἡμέρα  (hēmera). Hierdie woord "eschatos" word in hierdie geval, eskatologies gebruik (die leer van die laaste dinge) – "die laaste dae" in hierdie geval begin dus met die koms van Jesus en die huidige tyd waarin ons lewe maak ook deel uit van die laaste dae – ons sien dit in Hand.2:17 ~ Só sal dit in die laaste dae wees, sê God: Ek sal my Gees uitstort op alle mense.... Die laaste dae sal voortduur, tot en met die dag dat Jesus Christus terug sal kom – Joh.6:39-40 ~ En dit is die wil van Hom wat My gestuur het: dat Ek van almal wat Hy My gegee het, nie een verlore sal laat gaan nie, maar hulle almal op die laaste dag uit die dood sal laat opstaan. 40Dit is die wil van my Vader: dat elkeen wat die Seun sien en in Hom glo, die ewige lewe sal hê; en Ek sal hom op die laaste dag uit die dood laat opstaan”. Die woord "hēmera" dui vir ons ’n onbepaalde tydperk aan. Hierdie laaste dae, praat dus van die tydperk vanaf Jesus se eerste koms (Sy geboorte) tot en met Sy wederkoms. Ons het hierdie feit ook pragtig gesien, toe ons die reeks oor Openbaring behandel het.
·           V.2 sê ook dat God met ons gepraat het.... Verlede tyd. Dit is uiters belangrik dat ons hiervan kennis moet neem. Hy is dus nié meer besig om met ons te praat deur hedendaagse "profete" nie. Ook praat Hy nié meer met ons d.m.v. drome, soos wat baie mense beweer nie. Nee, God praat nié meer deur mense nie – nou, deur wie praat Hy dan?   
·           Derdens sien ons dat God deur Sy Seun gepraat het in hierdie laaste dae. Ons moet verstaan dat Jesus, God se laaste spreke was. Die Griekse woord wat vir die Seun hier gebruik word, is υἱός (huios), wat letterlik "in Seun" beteken en dit impliseer dat alles vervat is ín die Persoon van Sy Seun. Jesus Christus is dus die finale wyse waarop en waardeur God met die mens gepraat het – Hy praat nie meer deur profete nie, maar deur die Seun. Ons het dus hier te doen met ’n progressiewe openbaring wat vanaf die Ou Testament lei na die Nuwe Testament – dit ontwikkel van belofte tot vervulling (Matt.5:17 ~ MOENIE dink dat Ek gekom het om die wet of die profete te ontbind nie. Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul – O.A.V.). En omdat die ganse Nuwe Testament om Jesus Christus sentreer, is die Nuwe Testament, Christus se spreke tot ons vandag.

       Ons kan en mag ons dus nooit laat mislei deur mense wat sê dat die Here vir hulle sus of so gesê het nie – God gee nie meer openbarings deur mense nie – daarvoor het ons Sy Woord ontvang – dit is God se spreke vir ons vandag, daarom dat Paulus in 2 Tim.3:16-17 vir ons sê ~ Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ’n regte lewenswyse te kweek, 17sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk!  

       Die samestelling van die Bybel (die kanon) is dus afgehandel – die Woord van God is volledig en om enige iets daarby te voeg of weg te laat is Godslastering ~ Ek betuig aan almal wat die woorde van hierdie profetiese boek hoor: As iemand iets hieraan byvoeg, sal God vir hom die plae byvoeg waarvan in hierdie boek geskrywe is; 19en as iemand een van die woorde van hierdie profetiese boek wegneem, sal God sy deel aan die boom van die lewe en aan die heilige stad wegneem waarvan in hierdie boek geskrywe is (Openb.22:18-19).

       Om dus saam te vat wat ons tot nou gesê het: God het in die Ou Testamentiese tyd, deur profete met Sy kinders gepraat, maar sedert Jesus gekom het en tot en met Sy wederkoms, praat hy met ons, deur die Skrif en nét deur die Skrif en daarom moet ons ook gereeld luister na wat God vir ons wil sê, deur die Woord gereeld te lees en te oordink en toe te pas in en deur ons lewe.

                       
7.    AFSLUITING:
            Hier in vv.1-2a van Hebreërs bevestig die Heilige Gees die verhewenheid van Jesus Christus. Die Hebreërskrywer wil dus vir die gelowiges wat hierdie skrywe ontvang het, ondubbelsinnig sê dat Jesus ver verhewe (groter) bo die profete is – Hy is veel groter as enige openbaring wat in die Ou Testament aan die profete gegee is, want Hy is die vervulling van alle waarheid en nog veel meer. God het Homself daarom, ten volle verwoord en uitgedruk in Jesus Christus. Jesus het die finale openbaring van en oor God aan ons gebring, daarom dat Hy in Joh.14:9 sê ~ Hy wat My gesien het, het die Vader gesien... (O.A.V.). En  hoe sien ons Jesus? Deur die Woord van God. God het  klaar gepraat. Ons het niks meer nodig nie!


[1] Boodskap deur Kobus van der Walt te Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Meyerton) - Sondag, 10 Junie 2012

Thursday, 7 June 2012

Jakobus versus Paulus


1.     SKRIFLESING: 
Jak.2:14-26 ~ Wat help dit, my broers, as iemand beweer dat hy glo, maar sy dade bevestig dit nie? Kan so ’n geloof ’n mens red? 15Sê nou daar is ’n broer of ’n suster wat nie klere het nie en dag vir dag honger ly, 16en sê nou een van julle sou vir hulle sê: “Mag dit met julle goed gaan; gaan trek julle warm aan en eet genoeg,” maar julle gee nie vir hulle wat hulle nodig het om van te lewe nie, wat help dit dan? 17So gaan dit ook met die geloof: as dit nie tot dade oorgaan nie, is dit sonder meer dood. 18Maar iemand kan miskien sê: “Die een het die geloof en die ander het die dade.” Goed, wys dan vir my jou geloof wat sonder dade is, en ek sal jou my geloof wys uit my dade. 19Glo jy dat daar net een God is? Dit is reg. Die bose geeste glo dit ook—en hulle sidder van angs. 20Jou dwaas, wil jy ’n bewys hê dat geloof sonder dade nutteloos is? 21Ons voorvader Abraham het sy seun Isak op die altaar gelê. Is dit nie op grond van wat hy gedoen het dat God hom vrygespreek het nie? 22Jy sien dus dat sy geloof met dade gepaard gegaan het en dat dit eers deur dade volkome geword het. 23So is die Skrif vervul wat sê: “Abraham het in God geglo, en God het hom vrygespreek,” en hy is ’n vriend van God genoem. 24Julle sien dus dat ’n mens vrygespreek word op grond van sy dade en nie net op grond van sy geloof nie. 25Is Ragab die prostituut nie ook vrygespreek op grond van wat sy gedoen het toe sy die verkenners weggesteek en hulle met ’n ander pad laat ontkom het nie? 26’n Liggaam wat nie asemhaal nie, is dood. So is die geloof wat nie tot dade kom nie, ook dood.

2.    INLEIDING:
Baie gelowiges voel baie ongemaklik met die brief van Jakobus, omdat hulle sê dat dit lynreg teen Paulus se lering staan.  Ekself het baie jare gesukkel om werklik te verstaan waarom Jakobus se lering en Paulus se lering oënskynlik teenstrydig is.  

Jakobus beklemtoon die feit dat geloof dood is sonder werke, daarom dat hy in v.17 sê ~ So gaan dit ook met die geloof: as dit nie tot dade oorgaan nie, is dit sonder meer dood.  In v.20 herhaal hy dieselfde boodskap, deur te sê ~ So gaan dit ook met die geloof: as dit nie tot dade oorgaan nie, is dit sonder meer dood.

Paulus daarenteen sê in Ef.2:8-9 ~ Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ’n gawe van God.  9Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie.  Paulus beklemtoon dus die feit dat ons op grond van geloof en net geloof alleen, gered word.  Ons regverdiging en die ontvangs van die Heilige Gees het dus niks te doen met ons eie werke of gehoorsaamheid aan die Wet nie.

Die kern van Paulus se prediking in veral Galasiërs en  Romeine, maar ook in sy ander briewe, is die feit dat ons uit genade gered word, deur geloof en hierdie redding kom nie uit onsself nie, want dit is ’n gawe van God.  Paulus het terselfdertyd enige persoon wat geleer het dat jy geregverdig word deur werke, met al sy krag en mag geopponeer.

Wie is dan nou eintlik reg en wie is verkeerd en hoe is dit moontlik dat een verkeerd kan wees en nogtans word hy aangehaal in die Woord en word sy skrywes gesien as outentiek en deel van die kanon van die Bybel?  Het ons hier  dalk te doen met twee strome in die teologie wat in konflik staan teenoor mekaar?

3.    JAKOBUS VS. PAULUS:
Ons moet eerstens verstaan dat nie een van die briewe in die Nuwe Testament aan óf dieselfde mense geskryf is; óf op dieselfde tyd geskryf is; óf onder dieselfde omstandighede; óf met dieselfde motief geskryf is nie.

As ons dit in gedagte hou begin ons ’n klein bietjie beter verstaan dat hier tog dalk nie konflik in opinie bestaan nie.

’n Verdere feit wat ons in gedagte moet hou, is dat Paulus en Jakobus onder woorde "geloof" en "werke: nie dieselfde ding
verstaan nie.

Wat geloof aan betref, stel Paulus primêr belang in geloof wat die grondslag vorm vir die Christelike lewe.  Dit is waarskynlik hierdie selfde "geloof" waarna Jakobus verwys in Jak.2:19 wanneer hy sê ~ Glo jy dat daar net een God is?  Dit is reg.  Jakobus verklaar dus dat dit goed is wanneer jy glo in God.  Daar bestaan dus geen behoefte by hom om geloof "af te maak" as minder belangrik , of selfs onbelangrik is nie.  Trouens in Jak.2:5 sê hy juis dat diegene wat ryk is in die geloof, die Koninkryk van God sal beërwe.

Jakobus ontken dus nêrens die noodsaak aan geloof vir redding nie.  Jakobus laat val sy "soeklig" op die kwaliteit van geloof by "volwasse gelowiges" en die ontwikkeling of groei van "jong gelowiges".

Wanneer Paulus van "werke" praat, praat hy van "werke van die Wet", terwyl Jakobus dit nooit in daardie sin gebruik nie, maar eerder in die sin van barmhartigheidsdiens, of liefdesdiens.

Die tipe werke waarvan Jakobus dan praat, is presies dieselfde as dié wat Paulus aanprys, wanneer hy praat van "geloof wat tot uiting kom in liefde."

Ene Douglas Moo beskryf dit as volg:  Die verskil tussen Jakobus en Paulus bestaan in die opeenvolging van werke en bekering:  Paulus ontken die invloed van "VOOR-bekerings" werke, terwyl Jakobus pleit vir die absolute noodsaaklikheid van "NA-bekeringswerke."

Vir baie jare in die teologie, moes "arme Jakobus" homself altyd teen Paulus "verdedig".  Een van die redes was dat baie mense Paulus altyd gesien het as meer geestelik volwasse, of verder gevorder op die teologiese leer.  Dit alles was uiters onregverdig teenoor Jakobus, omdat Paulus en Jakobus se teologie, of standpunte teen die agtergrond van hul eie konteks gelees moet word en nie teen ’n agtergrond van sg. "geestelikheid" nie.

Ene Richard Bauckman sê dat, indien Jakobus, Paulus se standpunt oor geloof probeer ondermyn, hy nié baie suksesvol in sy poging is nie.  Die hoofsaak waaroor dit vir Paulus gaan, soos bv. die besnydenis; die saam eet met heidene en ander voedselwette, word nie eens aangespreek deur Jakobus nie.

Indien Jakobus dan besig is om te verskil van Paulus, dan sou hy tog sekerlik hierdie aspekte aangesny het.  Trouens, wanneer ons Jakobus se brief teen die agtergrond van verskeie ander Joodse geskrifte lees wat oor dieselfde sake handel, dan maak Jakobus se brief baie meer sin.  Ons het dus nie nodig om ’n debat te voer oor wie nou eintlik reg en wie verkeerd is nie.  Nee, Jakobus en Paulus se fokuspunte lê net op verskillende sfere in die teologie.

Die oënskynlike verskille wat daar moontlik tussen Jakobus en Paulus mag bestaan, word ongelukkig dikwels uitgelig, in plaas daarvan dat daar eerder gekyk word na die dosyne ooreenstemmings tussen twee Bybelskrywers wat beide onder die inspirasie van die Heilige Gees geskryf het.  Wanneer ’n mens so daarna kyk, kom jy agter dat die twee mekaar eintlik pragtig aanvul.

Ons het gesien dat Jakobus sy soeklig laat val op die kwaliteit van geloof onder gelowiges, terwyl Paulus weer na werke van die Wet verwys.  Paulus se "werke-uitdrukking" kom dus vóór wedergeboorte, m.a.w. dat géén mens gered kan word deur werke nie.  Terwyl Jakobus weer die noodsaak van werke ná wedergeboorte beklemtoon en wel in terme van o.a. barmhartigheidsdiens, of te wel liefdesdiens, ens.

4.    DIE AARD VAN OPREGTE GELOOF:
Kom ons kyk nou die aard van ware geloof.  In v.14 van Jak.2 vra Jakobus die vraag ~ Wat help dit, my broers, as iemand beweer dat hy glo, maar sy dade bevestig dit nie? Kan so ’n geloof ’n mens red?  Eintlik het Jakobus hierdie vraag alreeds in die vorige gedeeltes van sy brief beantwoord, deurdat hy dit aanmekaar beklemtoon dat ware en opregte geloof tot uitdrukking kom in aktiewe, God-verheerlikende werke.

In die lig van wat Jakobus tot nou toe geskryf het, is die logiese antwoord op sy vraag, of iemand gered kan word sonder werke, ’n baie besliste NEE.

Belangrik om daarop te let, is die feit dat Jakobus in sy redenasie nié die klem laat val op geloof wat aanvanklik nodig is vir redding en/of die volgehoue geloof wat nodig is om die "wedloop te voltooi nie".  Nee, aan die een kant laat val hy die klem op die kontras tussen vergeefse-, of vrugtelose geloof en aan die anderkant, effektiewe-, of doeltreffende geloof.

Die werke of dade wat Jakobus in gedagte het, is soos reeds gesê, dade wat verband hou met dade van o.a. welwillendheid en vrygewigheid, liefdesgawes; gasvryheid; bemoediging; ens., maar die feit dat hy na Abraham en Ragab verwys, dui tog ook aan dat hy iets meer in gedagte het as bloot net vrygewigheid, ens.

Jakobus sê dus vir ons dat geloof wat bloot net ’n openbare en mondelingse getuienis is, of ’n verstandelike- en teologiese toe-eiening van ’n "suiwere" leer, onvoldoende is vir opregte en ware geloof.  Indien daar nie getuienis is van ’n geloofslewe wat gepaard gaan met opregte dade nie, is dit ’n futiele geloof wat nié kan uitloop op redding nie.

Om hierdie feit te illustreer, kom Jakobus soos ’n ware en goeie leraar en hy illustreer dit wat hy sê aan die hand van die voorbeeld in vv.15-16 ~ Sê nou daar is ’n broer of ’n suster wat nie klere het nie en dag vir dag honger ly, 16en sê nou een van julle sou vir hulle sê: “Mag dit met julle goed gaan; gaan trek julle warm aan en eet genoeg,” maar julle gee nie vir hulle wat hulle nodig het om van te lewe nie, wat help dit dan?  Jakobus sê dus dat sulke geloof soos wat hierdie hardvogtige mense in vv.15-16 openbaar, niks anders as dood is nie.

Dit laat my dink aan die verhaal van ’n man wie se perd gevrek het en terwyl daar ’n klomp mense rondom hom en die perd staan en simpatiseer met hom, kom daar ’n predikant aan – hy het sy hoed van sy kop gehaal en na die man wat die hardste en meeste gesimpatiseer het, uitgehou en vir hom gesê:  Ek is ’n "R100 jammer", hoeveel is jy jammer?  Daarna het hy sy hoed in die rondte gestuur.  ’n Belydenis vereis optrede, anders is die nie opreg nie.

Wanneer ons geneig is om te praat oor ons geloof in Christus en die waarheid van Sy Woord, maar ons doen nie veel nie, is ons "geestelik in die moeilikheid."   Wanneer ons nie veel oor het vir andere nie; wanneer ons nie bereid is om ons geld, of ons tyd met andere te deel nie; wanneer ons nie simpatie met andere het nie; wanneer ons nie tyd maak vir andere nie; wanneer ons nie gasvry is nie, ens., moet ons voorraadopname maak van ons geestelike lewe – moet ons kyk wat in ons siele aan die gang is.  Jakobus sê ~ as (geloof) nie tot dade oorgaan nie, is dit sonder meer dood (v.17).

Dit is so ironies as Jakobus in v.18b sê ~ ...wys dan vir my jou geloof wat sonder dade is, en ek sal jou my geloof wys uit my dade.  Luister mooi wat hy sê.  As ons twee mense hier langs mekaar sit en die een praat net die heeltyd oor sy geloof, terwyl die ander een doen wat hy glo – wie sal jy glo is die ware gelowige?

Dit is verder interessant om te sien dat Jakobus se broer die Here Jesus self, saam met Jakobus stem wanneer Hy Sy gelykenis van die saaier in Matt.13 vertel.  Die eerste drie tipes grond het geen vrug opgelewer nie, maar hoor wat sê Jesus in Matt.13:23 ~ Die man by wie daar op goeie grond gesaai is, is hy wat die woord hoor en dit verstaan. Hy dra inderdaad vrug en lewer ’n oes: soms honderdvoudig, soms sestigvoudig, soms dertigvoudig.  Ware en opregte geloof bring vrug voort en hierdie vrug is optrede – dit het aksie tot gevolg!  Aan die einde van die Bergpredikasie waarsku Jesus ons as Hy sê ~ Aan hulle vrugte sal julle hulle ken. Kry ’n mens dan druiwe aan doringstruike of vye aan dissels? 17Elke goeie boom dra tog goeie vrugte, maar ’n slegte boom dra slegte vrugte. 18’n Goeie boom kan tog nie slegte vrugte dra nie, en ’n slegte boom nie goeie vrugte nie. 19Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi. 20So sal julle die vals profete dan aan hulle vrugte ken.”  21“Nie elkeen wat vir My sê: ‘Here, Here,’ sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is (Matt.7:16-21).

U sal met my saamstem dat geen voël kan vlieg met net een vlerk nie.  Geloof en werke is soos die vlerke van ’n voël.  Daar kan geen lewe wees as daar net en van die twee teenwoordig is nie.

Jakobus sluit sy betoog af met amper ’n absurde vergelyking – hy sê in v.19 ~ Glo jy dat daar net een God is? Dit is reg. Die bose geeste glo dit ook—en hulle sidder van angs.

Daar is nie ’n enkele demoon in die ganse heelal wat nie glo dat God die enigste ware, lewende en heilige God is nie.  Daar is nie ’n enkele demoon wat nie glo en weet dat God Drie-Enig, God is nie – hulle glo aan God die Vader, God die Seun Jesus Christus en God die Heilige Gees.  Daar is waarskynlik talle demone, indien nie almal nie, wat jou en my persoonlik ken.  Ja daar is waarskynlik selfs demone wat die 1689 Baptiste Belydenis uit hul koppe ken.  Sommige demone is briljante teoloë.  Trouens, sommige demone beskik oor beter teologie as waaroor ons saam mag beskik, MAAR Jakobus sê ~ Die bose geeste glo dit ook—en hulle sidder van angs (Jak.2:19b).

Hoor ’n bietjie wat sê Lukas in Hand.8:13 ~ Selfs Simon het gelowig geword. Hy is gedoop en het Filippus oral vergesel. Hy was verstom oor die groot tekens en kragte wat hy sien gebeur het.  ’n Entjie verder lees ons in vv.18-23 ~ Toe Simon sien dat die mense die Gees ontvang as die apostels hulle die hande oplê, het hy hulle geld aangebied 19en gesê: “Gee my ook hierdie bevoegdheid sodat elkeen wat ek die hande oplê, die Heilige Gees kan ontvang.”  20Maar Petrus antwoord hom: “Gaan na die verderf met jou geld en al! Dink jy jy kan die gawe van God met geld koop? 21In hierdie werk is daar vir jou geen plek nie, want jou gesindheid teenoor God is nie reg nie. 22Bekeer jou van hierdie dwaling en bid tot die Here: miskien sal Hy jou hierdie gesindheid van jou hart vergewe. 23Ek sien jy is deur afguns vergiftig en deur die sonde verstrik.” 

Simon se geloof het vir hom net so min beteken as wat die demone se geloof vir hulle beteken het, trouens dit beteken dalk selfs nog minder as wat dit vir die demone beteken, want ten minste sidder die demone van angs.

5.    AFSLUITING:
Geliefdes, het julle "twee vlerke"? Waarom "twee vlerke"? Besef jy waaruit jy en ek gered is? Besef jy hoe groot God se genade is om ons te kon red? Beskik jy oor ’n ewigheidsperspektief? Dan sal jy uit dankbaarheid, goed wil doen ten einde lof aan jou Koning te bring en Hom te behaag deur jou optrede en te getuig van Wie jy aanbid.


[1]Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te Vaaldriehoek Baptiste Gemeente (Vereeniging) – Sondagoggend 18 September 2011

Saturday, 2 June 2012


Die Doring in My Vlees - 06 
(My Verlede – Self-Konfrontasie)

1.    INLEIDING:
       Ons kom vandag by die laaste blokkie van ons reeks, nl. daardie deel van ons verlede waar ons skuldig was en gesondig het .... en toe, net om die spreekwoordelike kersie op die koek te sit, tree ons verkeerd op en sondig ons weer! Mislukking word dus opgevolg deur mislukking. Sonde word opgevolg deur sonde.

       Net om ons gedagtes weer te verfris:
·           Ons eerste blokkie het gegaan oor ons onskuldige verlede en waar ons reg opgetree het.
·           Tweedens het dit gegaan oor situasies waar ons onskuldig was, maar waar ons verkeerd en sondig opgetree  het.
·           Verlede week het ons gekyk na situasies waar ons  skuldig is – m.a.w. waar ons die oorsaak was van ons situasie, maar waarop ons reg gereageer het.
           


Onskuldig
Skuldig
Jou Reaksie

Reg
1 
(Jou reaksie was welgevallig voor God)
3
(Jy sondig, maar jy het dit reg hanteer)

Verkeerd
2
(Jy het jou omstandighede nie oor jourself gebring nie, maar jy het nogtans verkeerd reageer )


            Net soos met die vorige drie kategorieë, is dit belangrik dat ons ook die vierde faset van ons verlede (of ons vierde blokkie) sal hanteer en nie alleen sal hanteer nie, maar korrek sal hanteer, want as ons dit nie doen, sal ons agterkom dat ons steeds in die modder van die troebel viswaters van ons verlede, vasgeval sit. Die Spreukeskrywer sê in Spr.28:13 ~ Wie sy sonde wegsteek, moet niks goeds te wagte wees nie; wie sy sonde bely en daarvan afsien, sal genade ontvang. Dit is ’n belofte in die Skrif – die goeie nuus is egter dat daar hoop en lig en vergifnis in die toekoms lê, vir elkeen wat mislukkings en sonde van die verlede reg hanteer – Bybels hanteer.

       Waarskynlik een van die beste, maar tog ook hartseerste verhale in die Woord van iemand wat sondig/skuldig opgetree het en toe weer daarop gesondig het, was koning Dawid.




Skuldig
Jou Reaksie





Verkeerd

4
(Jy sondig en jy tree nog verder verkeerd op)

2.    SKRIFLESING:
       2 Sam.11:1-15. Ons vind vier beginsels in ons Skrifgedeelte van vanoggend, wat ons kan help om sonde vinnig, effektief en volledig te hanteer. Kom ons lees egter eers ons Skrifgedeelte ~ In die lente, die tyd waarin die konings gewoonlik optrek om oorlog te maak, het Dawid op ’n keer vir Joab en sy soldate en die hele Israel uitgestuur. Hulle het die Ammoniete verslaan en Rabba beleër, maar Dawid het in Jerusalem agtergebly. 2Eendag het hy na sy middagslapie opgestaan en op die dak van die paleis gaan rondstap. Van die dak af het hy ’n vrou sien bad. Sy was ’n baie mooi vrou. 3Dawid het oor haar laat navraag doen, en iemand het gesê: “Dit is Batseba dogter van Eliam, die vrou van Urija die Hetiet.” 4Dawid het toe amptenare gestuur en haar laat haal. Dit was nadat sy haar reinigingsbad geneem het na haar maandstonde. Sy het na hom toe gekom, en hy het by haar geslaap. Daarna is sy terug huis toe. 5Die vrou het swanger geword en vir Dawid laat weet: “Ek is swanger.” 6Dawid het op sy beurt ’n boodskap na Joab toe gestuur: “Stuur vir Urija die Hetiet hiernatoe.” Joab het hom na Dawid toe gestuur. Urija het by hom gekom, en Dawid het hom gevra hoe gaan dit met Joab en die leër, en hoe vorder die oorlog. 8Hierna het Dawid vir Urija gesê: “Gaan nou maar huis toe en rus ’n bietjie.” Toe Urija uit die paleis gaan, het die koning ook nog ’n geskenk agter hom aangestuur. 9Maar Urija wou nie huis toe gaan nie en het by die paleisdeur gaan slaap saam met die slawe van die koning. 10Hulle het vir Dawid gaan sê: “Urija was nie huis toe nie.” Dawid vra toe vir Urija: “Jy was mos lank weg, waarom gaan jy nie huis toe nie?” 11Sy antwoord was: “Sou ek huis toe gaan om te eet en fees te vier en by my vrou te slaap, terwyl die ark en Israel saam met Juda in hutte woon en my aanvoerder Joab sowel as u soldate in die oop veld kamp opslaan? Dit sal ek beslis nooit doen nie!” 12Dawid het Urija toe beveel: “Bly vandag nog hier! Môre stuur ek jou terug.” Urija het daardie dag en die dag daarna in Jerusalem vertoef. 13Toe het Dawid hom geroep en saam met hom geëet en gedrink. Hy het hom selfs dronk gemaak. Maar die aand het Urija uitgegaan om op sy gewone plek saam met die slawe van die koning te gaan slaap. Hy het nie huis toe gegaan nie. 14Die volgende oggend het Dawid ’n brief aan Joab geskryf en saam met Urija gestuur. 15In dié brief het hy geskryf: “Gee tog aan Urija ’n plek op die voorpunt waar die geveg kwaai is. Val dan terug sodat hy in die slag kan bly en sneuwel.”

       Ons ken die verhaal verder en weet dat Urija wel gesneuwel het op die oorlogsfront; dat Dawid met Urija se vrou getrou het; dat daar ’n seun vir hulle gebore is; dat Natan vir Dawid gekonfronteer het met sy sonde, deurdat hy ’n gelykenis aan Dawid vertel het wat eintlik vir Dawid geïmpliseer het; dat Dawid homself veroordeel het deur aan Natan te gesê het dat die man in Natan se gelykenis, dood gemaak moet word oor wat hy gedoen het, waarop Natan vir Dawid gesê het ~ Jy is die man! (12:7). Ons weet verder ook dat Dawid se vrouens van hom weggeneem is en dat Dawid se skande openbaar gemaak sou word (12:11-12). Ons weet ook dat Dawid se kind wat by Urija se vrou verwek is, van hom weggeneem is deur die dood (12:14). Ons weet egter ook dat Dawid sy sonde besef het en dit voor die Here bely het (12:13a), waarop Natan in 12:13b vir hom gesê het ~ Die Here het jou sonde vergewe: jy sal nie nou sterwe nie.

       Ek het gesê dat ons vier beginsels in ons Skriflesing vind wat ons kan help om sonde vinnig en effektief te hanteer, sodat ons nie nog verdere verkeerde besluite na aanleiding daarvan sal neem nie. Indien ons nie hierdie beginsels toepas nie, sal sake net meer ingewikkeld raak vir ons en sal ons meer en meer vasgedraai raak in ons eie sonde en ons sondige verlede, deurdat ons steeds verkeerde keuses sal maak. Ons het daarom nodig dat ons ernstige en opregte self-konfrontasie sal uitoefen.
       Hierdie vier beginsels is:
·           Besef dat alle mense sonde in hul verlede begaan het.
·           Vra jouself die vraag af, hoe jy gereageer het nadat jy gesondig het.
·           Wees op jou hoede vir gevolge wat mag volg as jy
sonde nie spoedig aanspreek nie.
·           Verheug jou in die wete dat daar ’n oplossing is.

3.    ALLE MENSE HET GESONDIG:
       Ons moet besef dat alle mense – jy, wat gesondig het, nie noodwendig so boosaardig gesondig het, soos wat Dawid gesondig het nie – hier is nie een van julle wat moord gepleeg het, plus al die ander sonde wat daarmee gepaard gegaan het nie. Die Woord waarsku egter baie duidelik in 1 Joh.1:8 ~ As ons beweer dat ons nie sonde het nie, bedrieg ons onsself en is die waarheid nie in ons nie. Met dit alles gesê, moet ons egter ook die woorde van Hand.13:22b in gedagte hou, nl. ~ ...Van hom het God gesê: ‘Ek het in Dawid seun van Isai ’n man na my hart gevind.

       As Dawid wat ’n man so na God se hart kon wees en die sonde begaan het wat hy wel begaan het, kan ons ook net so sondig. Die teendeel is egter ook waar, nl. dat indien Dawid wat so erg gesondig het, uiteindelik ’n man na God se hart kon word, dan kan ons ook. Ons moet dus besef dat alle mense sonde in hul verlede begaan het (ook ek en jy), maar dat dit ook volkome vergewe kan word!

       Dawid se ontmoeting met Batseba het gedurende die lente plaasgevind en dit was juis ...die tyd waarin die konings gewoonlik op(ge)trek (het) om oorlog te maak (2 Sam.11:1). Waarom Dawid nie saam met sy troepe gegaan het nie, is nie duidelik vir ons nie, maar die feit dat hy agtergebly het, het gely tot al sy moeilikheid.

       Terwyl Dawid op die dak van die paleis rondstap, sien hy Batseba bad - Batseba, die vrou van Urija wat een van Dawid se militêre kapteins was. Die teks dui nie vir ons aan of Dawid óf Batseba iets verkeerds gedoen het tot op hierdie stadium nie – dit mag wees dat sy heel onskuldig en onbewus van Dawid was en dat Dawid haar ook per ongelukkig gesien het – in beide gevalle was dit dalk ’n heel onbeplande en onskuldige situasie wat hom self afspeel op hierdie lentemiddag.

       Die res van die gebeure – meer korrek: die res van ’n hele klomp mense se toekoms, het op daardie oomblik aan die spreekwoordelike garedraadjie gehang – alles het afgehang van die "begeertes" van Dawid se hart – wat gaan sy volgende hartskeuse wees? Ten einde ons te help om hierdie keuse wat Dawid op daardie lentemiddag moes maak, beter te verstaan, skryf Jakobus die volgende in Jak.1:13-15 ~ Iemand wat in versoeking kom, moet nooit sê: “Ek word deur God versoek” nie; want God kan nie verlei word nie, en self verlei Hy niemand nie. 14Maar ’n mens word verlei deur sy eie begeertes wat hom aanlok en saamsleep. 15Daarna, as die begeertes bevrug geraak het, bring dit die sonde voort; en as die sonde ryp geword het, loop dit uit op die dood. Dawid kon dus ’n paar keuses gemaak het:
·           Eerstens kon hy geredeneer het, dat hy lojaal aan sy offisier wíl wees.
·           Tweedens kon hy besluit het dat hy alles in sy vermoë wíl doen om Urija en Batseba se huwelik te eer.
·           Hy kon besluit dat hy die voorbeeld van Job wíl navolg, nl. om ’n verbond met sy oë te sluit, ten einde nie op ’n wellustige wyse na ’n vrou te kyk nie (Job 31:1).
·           Hy kon sê: "Ek wíl my vreugde in die Here vind, eerder as om met allerlei sondige begeertes in my hart na Batseba te kyk" (Ps.37:4).
·            Of hy kon in die woorde van Ps.61:2 uitgeroep het ~ Hoor tog my hulpgeroep, o God, slaan tog ag op my gebed.

       As ons so luister na al hierdie moontlikhede en ons weet dat Dawid nogtans gesondig het, moet ons besef dat ons, ons gedagtes so moet inoefen dat ons ~ ...elke gedagte gevange (sal neem, ten einde) dit aan Christus gehoorsaam te maak (2 Kor.10:5). Petrus stel dalk nog duideliker en mooier in 1 Pet.1:13-16 ~ Wees daarom verstandelik wakker en nugter, en vestig julle hoop volkome op die genade wat julle deel sal word by die wederkoms van Jesus Christus. 14As gehoorsame kinders moet julle nie julle lewe inrig volgens die begeertes wat julle vroeër gehad het toe julle God nie geken het nie. 15Nee, soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in julle hele lewenswandel heilig wees. 16Daar staan immers geskrywe: “Wees heilig, want Ek is heilig.” Dit is baie duidelik dat ons onsself, voortdurend sal konfronteer met ons reaksie op sonde en sal raaksien én erken dat ons ’n keuse het voor ons sondig. Dawid se sonde (en dink net vir ’n oomblik hoeveel mense nie ingrypend deur sy sonde geraak is nie) – sy sonde kon verhoed gewees het, as hy homself net vooraf gekonfronteer het met die moontlike sonde wat op hom wag en vir homself gesê het: Ek het iets gesien wat ek nie veronderstel was om te sien nie en ek ervaar ’n brandende begeerte in myself wat God nie verheerlik nie. Ek gaan egter hierdie wellus in my kruisig en dit vervang met ’n Goddelike begeerte, voor dit hande uit ruk en sonde word.

       Indien ek en jy die vierde blok wil uitwis en ook in die toekoms leeg wil hou, móét ons bedrewe en ervare daarin raak om onsself gedurig te konfronteer t.o.v. die sondige neigings in ons hart.

       Daar bestaan ’n buffer tussen jouself, of jou hart as jy wil aan die eenkant en die res van jou gedagtes en liggaam aan die anderkant. Daar bestaan ook ’n buffer tussen jouself en ander mense – jy kan dus die proses van sonde afsny, of afsluit, voor dit sonde word. Toe Dawid vir Batseba gesien het, kon hy die buffer in sy gedagtes en optrede daargestel het. Wanneer jy ’n boek optel en foto's sien waarna jy as gelowiges nie behoort te kyk nie, moet jy dit neersit en verplaas met iets wat God verheerlik – nuwe gedagtes; rein gedagtes – lees die Woord, of bid, of bedink net die dinge wat daarbo is. Ons moet verstandelik wakker en nugter wees – ons moet heilig wees, want God is heilig!

4.    HOE REAGEER JY OP SONDE?
       Wat so tragies was van Dawid en dit is presies die gevaar van sonde, wanneer ons toegee daaraan – die een ding lei na die ander. Dawid het Batseba gesien – hy maak die verkeerde, vleeslike keuse en hy doen navraag oor haar (2 Sam.11:3). Toe hy inligting ontvang oor haar, neem hy nog steeds nie sy gedagtes gevange nie – hy konfronteer homself nog steeds nie en laat hy haar haal (11:4) en die een verkeerde vleeslike besluit na die ander word geneem – nêrens lees ons dat hy homself ooit self gekonfronteer het nie – die skakel gaan net voort en dit lei van die een ding na die volgende.

       Ons kan baie maklik nou hier sit en dink: Dawid wat het jou besiel? Wees egter versigtig en konfronteer jouself ’n bietjie – is dit nie maar presies dieselfde as wat ook al in jou lewe gebeur het nie? Dalk nie heeltemal so erg nie, maar het die een verkeerde optrede nie maar na ’n vogende gelei nie? Dink aan die rugbyafrigter wat so ’n week of twee gelede in die nuus was nadat hy die skeidsregter gestamp het. Wat het daar gebeur? Hy vererg homself vir die skeidsregter omdat die skeidsregter in sy oë ’n verkeerde besluit geneem het (na raadpleging met senior skeidsregters by die Rugbyraad, het dit die regte besluit geblyk te wees). Wat het daar gebeur? Daardie man vererg hom, omdat sy spannetjie in sy oë benadeel is – sonde. Omdat hy nie sy humeur kon beteuel nie, volg die volgende sonde – hy rand die skeidsregter aan. Was dit alles die moeite werd. By nabaat het hyself erken dit was nie, maar hy sit met die gevolge van sy sonde – hy kan nie meer afrig nie. As hy homself maar net gekonfronteer het, die oomblik toe hy sien dat die skeidsregter sy span oënskynlik benadeel, sou hy nie toegelaat het, dat sonde, net nog meer sonde voortgebring het nie!

       Die kernvraag is dus: Hoe reageer jy op sonde? Die enigste rede waarom ons in "blok vier" bly sit, is omdat wanneer ons sondig, ons dit nie reg hanteer nie. Een rede is omdat ons toelaat dat die sonde, hande uit ruk, soos in Dawid se geval.

       Ons vermy of weier selfs om te doen wat reg is, want dit is kwansuis so moeilik. As ons egter al die inspanning in ag neem wat ons spandeer om ons sonde te bedek en weg te steek, kon ons net so wel maar dit van die begin af reg hanteer het, deur vergifnis te vra en restitusie te doen waar moontlik en waar nodig. Dawid kon sy sonde reg hanteer het in plaas daarvan dat hy dit weggesteek en bedek het – hy laat maak Urija dood!

       Hoe langer jy wag om aandag aan "blok vier" te gee, des te groter word die moontlikheid dat jy in die proses nog meer sonde sal begaan. Jou reaksie op jou aanvanklike sonde is dus van kardinale belang.    

5.    PASOP – SONDE HET GEVOLGE!
Die probleem met baie mense – met baie van ons, is dat ons dink dat ons met sonde kan wegkom. Dawid moes op ’n sekere stadium (na Urija se dood) gedink het dat hy weggekom het met sy sondige plan, maar hy het nie rekening gehou met die Here en die Here se profeet, by name Natan nie. Ons moet pasop – sonde het gevolge! Num.32:23 leer bevestig dit wat ek nou gesê het ~ Maar as julle nie so doen nie, kyk, dan sondig julle teen die Here, en weet dan dat julle sonde julle sal uitvind (O.A.V.). En Paulus sê in Gal.6:7 ~ Moenie julleself mislei nie: God laat nie met Hom spot nie. Wat ’n mens saai, dit sal hy ook oes.

       Hoe dink julle hoe vergelyk Dawid se kortstondige plesier wat hy a.g.v. sy sonde geniet het, met die gevolge? Is dit dalk na aanleiding hiervan dat hy Ps.38 geskryf het? Moet my tog nie in u toorn bly straf nie, Here, en my langer in u gramskap tugtig nie. 3U pyle het my getref, u hand lê swaar op my. 4Deur u toorn is daar nie meer ’n gesonde plek aan my liggaam nie, deur my sonde is daar nie meer ’n heel plek aan my lyf nie. 5Ja, my ongeregtighede het my oorweldig soos ’n las wat vir my te swaar is. 6My wonde stink en sweer, en dít deur my eie dwaasheid. 7Ek is krom en inmekaar getrek, ek loop die hele dag en treur, 8want my lyf brand van die koors en daar is nie meer ’n gesonde plek aan my liggaam nie (vv.2-8).

       Die gevolge van Dawid se sonde en gebrek aan self-konfrontasie was bykans vernietigend. Behalwe dat sy vrouens openlik na ander mans gegaan het, staan hy vier van sy seuns aan die dood af. Ons moet baie mooi besin oor onbelyde sonde en sonde waarvan ons, ons nie bekeer nie. Sonde het gevolge; sonde het baie dikwels langtermyn en vernietigende effekte – gaan jy toelaat dat jou "vierde blokkie" teen jou bly getuig?

6.    DAAR IS ’N OPLOSSING:
       Dawid het egter uiteindelik tot sy sinne gekom – of miskien moet ek dalk eerder sê, hy het ten minste nie Natan se konfrontasie geïgnoreer nie, want hy sê in 2 Sam.12:13 ~ Ek het gesondig teen die Here. Hierdie woorde van Dawid was die begin vir hom, om sy "vierde blokkie skoon te kry". In Ps.51:3-4 sê Dawid ~ Wees my genadig, o God, in u troue liefde, wis my oortredings uit in u groot barmhartigheid! 4Was my skoon van my skuld, reinig my van my sonde!  Daar was dus ’n oplossing vir Dawid se probleem – net so kan ons ook in en deur Jesus Christus die oplossing vir ons sonde kry, indien ons, ons sonde in Ps.32:1-7 skryf hy van die vreugde wat op vergifnis volg, vergifnis wat elkeen van ons ook in en deur Jesus Christus kan ontvang en sal ontvang indien ons, ons sonde in opregtheid bely en ons daarvan bekeer – hoor wat sê Dawid ~ Dit gaan goed met die mens wie se oortredings nie gestraf word nie, wie se sonde vergewe word. 2Dit gaan goed met die mens vir wie die Here die oortreding nie toereken nie en in wie se gees daar geen valsheid is nie. 3Toe ek oor my sonde geswyg het, het my liggaam uitgeteer soos ek heeldag om hulp geroep het. 4U hand het dag en nag swaar op my gedruk, my krag het opgedroog soos water in somerhitte.     Sela
5Toe het ek my sonde bely, my oortreding nie weggesteek nie. Ek het gesê: “Voor die Here bely ek my opstandigheid;” en U het my skuld vergewe.     Sela
6Dit is waarom elke gelowige in ’n tyd van nood tot U bid; selfs vloedwaters sal hom nie skielik oorval nie. 7U is vir my ’n skuilplek, U beskerm my teen aanvalle, U laat my oorwinningsliedere sing.     Sela

7.    AFLSUITING:
       Wat is die doel daarmee om ons vier blokke uitgewis te kry? Om ons "blokke skoon te maak" lei nie net tot vergifnis nie, maar ook tot ’n fontein van vreugde en van lewe en daardie fontein van lewende water, is Jesus Christus self.

       Die Hebreërskrywer sê in Hebr.12:2-3 ~ Ter wille van die vreugde wat vir Hom (dit is Jesus) in die vooruitsig was, het Hy die kruis verduur sonder om vir die skande daarvan terug te deins, en Hy sit nou aan die regterkant van die troon van God. (En dan hierdie woorde wat aan elk van ons gerig word..). 3Hou Hom voor oë wat so ’n vyandige optrede van die sondaars teen Hom verdra het. Dan sal julle nie geestelik moeg word en uitsak nie.


[1]  Boodskap deur Kobus van der Walt te Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Meyerton) - Sondag,  03 Junie 2012