Saturday, 10 August 2013

Die Boodskap van Daniël - 06 (Die Vuurproef)


1.    SKRIFLESING:
       Die vorige hoofstuk van Daniël het afgesluit met Daniël wat baie geskenke ontvang het en as hoof van al die koninklike raadgewers aangestel is en op sy versoek ...het die koning vir Sadrag, Mesag en Abednego in beheer geplaas van die administrasie van die provinsie Babel. Maar Daniël self het in die paleis gebly.

       Daniël 3:1-30 ~ Koning Nebukadnesar het ’n goue beeld laat maak, dertig meter hoog en drie meter breed, en dit laat oprig in die Duradal in die provinsie Babel. 2Toe het hy opdrag gegee dat al sy amptenare, die goewerneurs-generaal, die goewerneurs, die administrateurs, die raadgewers, die tesourieamptenare, die regters, die landdroste, al die hoofamptenare van die provinsie, bymekaar moes kom vir die wyding van die beeld wat die koning laat oprig het. 3So het al die hoë amptenare, die goewerneurs-generaal, die goewerneurs, die administrateurs, die raadgewers, die tesourieamptenare, die regters, die landdroste, al die hoofamptenare van die provinsie, bymekaargekom vir die wyding van die beeld wat koning Nebukadnesar laat oprig het en hulle het voor die beeld gaan staan. 4’n Aankondiger het hard geroep: “Alle volke, nasies en taalgroepe, julle word beveel: 5Wanneer julle die geluid hoor van trompet, fluit, siter, lier, harp, ’n ander blaas- of musiekinstrument, moet julle buig voor die goue beeld wat koning Nebukadnesar laat oprig het, en dit aanbid. 6Wie nie buig en die beeld aanbid nie, sal onmiddellik in ’n brandende oond gegooi word.” 7Daarom het al die volke, nasies en taalgroepe, sodra hulle die geluid van trompet, fluit, siter, lier, harp of enige ander musiekinstrument hoor, voor die goue beeld wat koning Nebukadnesar laat oprig het, gebuig en dit aanbid. 8Dit was toe dat sekere Galdeërs die Jode gaan verkla het. 9Hulle het vir koning Nebukadnesar gesê: “Mag die koning baie lank lewe! 10U het ’n bevel uitgevaardig dat enigiemand wat die geluid hoor van trompet, fluit, siter, lier, harp, ’n ander blaas- of musiekinstrument, voor die goue beeld moet buig en dit moet aanbid. 11Wie nie buig en die beeld aanbid nie, moet in ’n brandende oond gegooi word. 12Maar, U Majesteit, nou is daar Jode, Sadrag, Mesag en Abednego, vir wie u in beheer van die administrasie van die provinsie Babel geplaas het, wat hulle nie steur aan u bevel nie. Hulle dien nie u god nie, hulle aanbid nie die goue beeld wat u laat oprig het nie.” 13Toe het Nebukadnesar woedend geword en vir Sadrag, Mesag en Abednego laat kom. Dié manne is voor die koning gebring, 14en Nebukadnesar het vir hulle gesê: “Is dit waar, Sadrag, Mesag en Abednego, dat julle my god nie dien nie, die goue beeld wat ek laat oprig het, nie aanbid nie? 15Nou kyk, dit sal in orde wees as julle bereid is om te buig en die beeld te aanbid sodra julle die geluid hoor van trompet, fluit, siter, lier, harp, ’n ander blaas- of musiekinstrument. Maar as julle hom nie aanbid nie, sal julle dadelik in ’n brandende oond gegooi word, en watter god sal julle uit my mag kan red?” 16Sadrag, Mesag en Abednego het koning Nebukadnesar geantwoord: “Ons hoef u nie hierop te antwoord nie. 17Ons het ons God vir wie ons dien. Hy het die mag om ons te red uit die brandende oond, en Hy sal ons ook red uit u mag. 18Selfs as Hy dit nie doen nie, moet u weet dat ons u god nie sal dien nie, die goue beeld wat u laat oprig het, nie sal aanbid nie.” 19Toe het Nebukadnesar wit geword van woede vir Sadrag, Mesag en Abednego en opdrag gegee dat die oond sewe maal warmer gemaak moet word as gewoonlik. 20Daarna het hy van die sterkste manne in sy lyfwag beveel om vir Sadrag, Mesag en Abednego vas te bind en hulle in die brandende oond te gooi. 21Hulle is toe vasgebind en sommer met hulle hemde, broeke en kopdoeke, met al hulle klere, in die brandende oond gegooi. 22Omdat die koning se opdrag so streng was, was die oond so verskriklik warm dat die manne wat vir Sadrag, Mesag en Abednego moes ingooi, deur die vlamme doodgebrand is. 23Maar die drie manne, Sadrag, Mesag en Abednego, het vasgebind binne-in die brandende oond geval. 24Toe het koning Nebukadnesar verskrik opgespring en vir sy raadgewers gevra: “Het ons dan nie drie manne vasgebind in die oond gegooi nie?” En hulle sê vir hom: “Dit is so, U Majesteit!” 25Hy sê toe: “Maar ek sien dan vier manne wat vry en ongedeerd rondbeweeg in die vuur, en die vierde lyk soos ’n hemelwese!” 26Toe het Nebukadnesar na die bek van die brandende oond toe gekom en geroep: “Sadrag, Mesag en Abednego, dienaars van die allerhoogste God, kom uit hierheen!” En Sadrag, Mesag en Abednego het uit die oond uitgekom. 27Toe die goewerneurs-generaal, die goewerneurs, die administrateurs en die raadgewers van die koning nader kom, sien hulle aan die manne dat die vuur niks aan hulle liggame kon doen nie, dat hulle hare op hulle koppe nie eens geskroei was nie en dat hulle klere niks makeer nie; jy kon nie eens ruik dat hulle in die vuur was nie. 28Toe sê Nebukadnesar: “Aan die God van Sadrag, Mesag en Abednego kom die eer toe, Hy wat sy engel gestuur het en sy dienaars gered het. Hulle het op hulle God vertrou en het die koninklike bevel verontagsaam en hulle was bereid om hulle lewe te verloor eerder as om enige god behalwe húlle God te dien of te aanbid. 29Daarom vaardig ek ’n bevel uit dat enige persoon, van watter volk, nasie of taalgroep hy ook is, wat met minagting praat oor die God van Sadrag, Mesag en Abednego, in stukke gekap moet word en dat sy huis ’n puinhoop gemaak moet word. Daar is immers geen ander god wat in staat is om so te red nie.” 30Die koning het toe gesorg dat dit voorspoedig gaan met Sadrag, Mesag en Abednego in die provinsie Babel.

2.    DIE GOUE BEELD:
       Waarskynlik steeds onder die indruk van die droom wat koning Nebukadneser gedroom het, sien ons in v.1 dat hy ’n reuse beeld in die Duradal laat oprig. Die naam van die beeld word nie in Daniël bekend gemaak nie, maar was wel ’n verteenwoordiging van Nebukadneser, of van sy god of gode. Wat egter duidelik was, is dat hierdie beeld deur die grote Nebukadneser opgerig was – ons sien dit kort-kort in hierdie hoofstuk, nl. dat die mense se aandag daarop gevestig word, dat dit hy is wat die beeld laat oprig het (vv.1-3, 5, 7, 12, 15, 18). Al was die beeld dan verteenwoordigend van een van Babilon se gode, was daar geen twyfel wie agter die oprigting daarvan gesit het nie – Nebukadneser!  

       Die verskil tussen hierdie beeld en die beeld van sy drome, was dat hierdie beeld in totaliteit van goud gemaak was en sy motivering hiervoor was waarskynlik om as teenvoeter te dien vir die beeld waarvan hy gedroom het – ’n standpunt waarin hy wou verklaar dat daar in teenstelling met die beeld van sy droom en die uitleg daarvan, geen einde aan sý koninkryk sal kom nie en dat sý heerlikheid; sý grootsheid ook vir altyd sal voortduur.

       Die Duradal waar die beeld opgerig was, is dieselfde dal waar die Toring van Babel gebou was (Gen.11:2). Die motivering vir die bou van die Toring van Babel, was tweeledig van aard en dit is veelseggend dat die oprigting van Nebukadneser se beeld, op presies dieselfde motivering gegrond was, nl.:
·           Om ’n blywende naam en indruk te maak vir die oprigters daarvan, sodat daar altyd aan hulle gedink kan word – is dit nie maar presies dieselfde as wat die wêreld tans poog om met Mandela te doen nie – om dit in Engels uit te druk, "to create a lasting legacy to his glory"!

       Nebukadneser wou ook sy naam verewig in die anale van die wêreldgeskiedenis – daarom dat hy opdrag gee aan al die ...amptenare, die goewerneurs-generaal, die goewerneurs, die administrateurs, die raadgewers, die tesourieamptenare, die regters, die landdroste (en) al die hoofamptenare om die wyding van die beeld by te woon (v.3). Hierdie uitgelese groep mense was verteenwoordigend van die volke van die wêreld.
·           Om te verhoed dat die mense/nasies deur die wêreld heen sal versprei – lynreg teen God se opdrag in Gen.9:7 (OAV) ~ Maar julle, wees vrugbaar en vermeerder; wemel op die aarde en vermeerder daarop. In Gen.11:4b word hierdie motivering vir die bou van die Toring ook geïmpliseer ~ Dan sal ons nie oor die hele aarde versprei nie. Nebukadneser wou almal verenig onder die Babiloniese koninkryk en hy doen dit deur opdrag te gee dat almal in die land die beeld moet aanbid – ’n opdrag wat hy, indien nodig, met die dood sou afdwing (v.6). Ons sien dan ook in die geskiedenis, dat hierdie Babiloniese Ryk inderdaad bestaan het, maar tragies, net soos in die geval van Babel, het Nebukadneser se Babiloniese Ryk ook nie lank bestaan nie – slegs vir 86 jaar – die kortste van al die groot Ryke!

       In v.4 gee Nebukadneser opdrag aan ...alle volke, nasies en taalgroepe, om die beeld te aanbid wanneer hulle ...die geluid hoor van trompet, fluit, siter, lier, harp, (en) ander blaas- of musiekinstrument(e).

       Uit hierdie gebeure blyk twee dinge baie duidelik:
·           Nebukadneser het oor geweldige mag beskik: Onthou dat God hierdie mag aan hom gegee het (2:37), maar hy het dit misbruik; hy het dit gebruik om die aandag op hom te vestig in plaas daarvan dat hy sy mag gebruik het om eer aan God te bring – Nebukadneser verplaas die lewende God van hemel en aarde, met ’n magtelose, dooie en verganklike afgod! Hy tree in die woorde van 4:27 sondig en in ongeregtigheid op, in plaas daarvan dat hy vanuit sy rykdom, barmhartigheid bewys aan dié wat in nood is, maar hy gebruik sy skatte om eer aan ’n beeld te bring en ten diepste word Nebukadneser die objek van aanbidding, i.p.v. God – sy sonde is niks anders as Godslastering nie – Paulus waarsku ook in Rom.1:25 hierteen, wanneer hy sê ~ Dit is hulle wat die waarheid van God verruil vir die leuen. Hulle dien en vereer die skepsel in plaas van die Skepper, aan wie die lof toekom vir ewig.

       Ons moet onsself afvra, of ons altyd regtig so ver verhewe is bo hierdie sonde van Nebukadneser? Is daar nie maar ook iewers iets, of selfs iemand in ons lewe wat ’n objek van aanbidding vir ons is, in plaas van God nie? Trouens Godslastering is ten diepste die "moedersonde" van alle sonde – dit is die mees natuurlike begeerte in die mens se hart en manifesteer meestal baie subtiel in ons lewe en dit vind meestal in die "geheim" plaas – daar waar mense nie sien nie en waar ons gerieflikheidshalwe vergeet dat God dit wel kan sien. Die vraag is of ons God beroof van Sy eer en heerlikheid deur ons aanbidding van die self en ander dinge of mense?

       Daar is egter ’n tweede rooilig wat vir ons deur hierdie gebeurtenis in die Duradal flikker – dit is dat ons ook soos die Babiloniërs mag dink, nl. dat aanbidding ’n estetiese effek moet hê, m.a.w. dat daar ’n behoorlik afgerigte orkes en koor moet wees, dat daar (soos in sommige kerke) selfs flikkerligte (of is dit nou diskoteekligte?) moet wees en allerlei ander bykomstighede en by-effekte! Die "Duradal-aanbiddingsgeleentheid" was gekenmerk deur die estetiese – trompette, fluite, liere, harpe, ens. (v.4).

       Hoe wil God hê dat ons Hom moet loof en aanbid? Joh.4:23 (OAV) ~ God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid. Die fokus moet op Hom gevestig wees en nie op die "band" (orkes) en alles wat daarmee gepaard gaan nie.
 
·           Nebukadneser was godsdienstig, maar sonder ware bekering en aanbidding van die lewende God: Nadat Daniël die droom aan Nebukadneser uitgelê het, het hy wat Nebukadneser is, diep voor Daniël gebuig (2:46) en verklaar dat God die grootste van alle gode is (2:47). Hy het dus geweet dat hy in die teenwoordigheid van "die God van alle gode" is – hy het egter net vir ’n wyle – op daardie oomblik, afgewyk van sy selfverheerliking, want hier in hoofstuk 3 is hy maar net weer waar hy was – Hy die grote koning. In plaas daarvan dat hy ’n nuwe hart ontvang, kies hy om steeds die hart van vlees te behou (Eseg.36:26). Op die oog af het hy verander, maar in sy hart was daar geen verandering nie. Dit laat ’n mens dink aan die woorde van die Here Jesus in Mark.4:19 ~ ...maar die sorge van die lewe en die verleiding van rykdom en die begeertes na allerhande ander dinge kom op en verstik die woord, en dit bly sonder vrug. Van die woorde van Paulus in Gal.5:22-25, was daar ook geen sprake nie ~ Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, 23nederigheid en selfbeheersing. Teen sulke dinge het die wet niks nie. 24Dié wat aan Christus Jesus behoort, het hulle sondige natuur met al sy hartstogte en begeertes gekruisig. 25Ons lewe deur die Gees; laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal.

3.    DIE VUURPROEF:
       Ons lees in vv.8-12 dat sekere Galdeërs vir die koning gaan vertel het dat Daniël se vriende, Nebukadneser se opdrag ignoreer om die beeld te dien en te aanbid en hulle herinner hom daaraan dat diesulkes in ’n vuuroond gegooi moes word. By die aanhoor van hierdie nuus het Nebukadneser woedend geword en nadat hy die driemanskap gekonfronteer het en hulle nog ’n kans gegee het om die beeld te aanbid, antwoord hulle hom deur vir hom te sê dat hulle, hul God aanbid – wat meer is, hulle daag hom uit, deur vir hom te sê dat húlle God hulle uit die brandende oond sal red, asook uit die mag van Nebukadneser.

       Nadat die jongmanne dit vir hom gesê het, het die koning woedend geword en opdrag gegee dat die oond nog warmer gemaak moes word en dat Sadrag, Mesag en Abednego daarin gegooi moes word.

       Geen gebeurtenis in die Bybel illustreer die opdrag van die latere apostels mooier as juis hierdie gebeurtenis nie – die apostels het in Hand.5:29 gesê ~ ’n Mens moet eerder aan God gehoorsaam wees as aan mense! – Hierdie manne was meer gehoorsaam aan God. Toe hulle gekonfronteer word met die keuse om te buig of te brand, het hulle nie ’n oomblik geweifel nie, maar vir die koning gesê, "...ons is eerder aan God gehoorsaam as aan jou."

       Wat opmerklik hier is, is dat Daniël se naam nie in hierdie gedeelte van die verhaal vermeld word nie en ons weet nie regtig waarom nie – die enigste moontlike verklaring hiervoor is dat Daniël dalk op daardie stadium in ’n ander deel van die koninkryk besig was met een of ander opdrag en dat hy nie naby die beeld gesien was en derhalwe verkla kon word nie. Daar bestaan egter geen twyfel daaroor dat Daniël saam met sy vriende sou weier om die knie voor die beeld te buig.

       Iets wat vir ons uit hierdie gedeelte konfronteer is die woorde van Rom.13:1 ~ Elke mens moet hom onderwerp aan die owerhede wat oor hom gestel is. Daar is immers geen gesag wat nie van God kom nie, en die owerhede wat daar is, is daar deur die beskikking van God en dan ook die "minder bekende" woorde van Titus 3:1 ~ Herinner die mense nadruklik daaraan dat hulle hulle aan owerheid en gesag moet onderwerp, daaraan gehoorsaam moet wees en bereid moet wees om alles te doen wat goed is. Het Daniël se vriende in hierdie verhaal, kontra hierdie opdragte opgetree? Wat staan ons te doen in ’n soortgelyke situasie?

       Is daar nie ’n teenstrydigheid hier tussen Rom.13:1 en Titus 3:1 aan die eenkant en Hand.5:29 aan die anderkant nie? Dit is so dat ons die staat moet gehoorsaam, omdat dit die gesag is wat vir die oomblik deur God daargestel is om oor ons te heers, máár die feit dat hulle deur God daargestel is, impliseer nié dat hulle absoluut outonoom, m.a.w. los van God, kan doen wat hulle wil nie – hulle beskik nie oor onbeperkte magte en regte nie, want hulle is verantwoording verskuldig teenoor Hom wat hulle daargestel het en hulle moet in afhanklikheid aan Hom regeer – of hulle Hom erken of nie. Dit het tot gevolg dat gelowiges die staat aan hulle verantwoordelikheid voor God moet herinner en daarom moet ons as gelowiges dit in woord en daad doen en as die staat nie binne God se ordes optree nie, kan en moet ons gehoor gee aan Hand.13:1, nl. dat ons ...eerder aan God gehoorsaam (moet) wees as aan mense.

       Wat het dit vir Sadrag, Mesag en Abednego moontlik gemaak om vas te staan, sodat hulle vir die koning kon sê ~ Ons hoef u nie hierop te antwoord nie. 17Ons het ons God vir wie ons dien. Hy het die mag om ons te red uit die brandende oond, en Hy sal ons ook red uit u mag. 18Selfs as Hy dit nie doen nie, moet u weet dat ons u god nie sal dien nie, die goue beeld wat u laat oprig het, nie sal aanbid nie? Wat het dit vir hulle moontlik gemaak om vas te staan?
·           Hulle het geweet dat hulle God soewerein is: Uit hierdie mans se reaksie op die koning se dreigement, het dit glashelder geblyk dat hulle onverskrokke in God se soewereiniteit geglo het ~ Ons God vir wie ons dien. Hy het die mag om ons te red uit die brandende oond, en Hy sal ons ook red uit u mag (v.16). Hulle het onwrikbaar geglo dat God soewerein is en daarom het hulle, hul totale lewens aan Hom toevertrou – wat ook al mag gebeur. Is ek en jy op dieselfde plek my broer en suster? Is ons op ’n plek waar ons so onwrikbaar vashou aan God se soewereine beheer oor ons lewe, dat ons bereid sal wees om enige beproewing wat God oor ons pad bring te aanvaar as Sy wil vir ons lewe? Wat het dit vir hulle moontlik gemaak om vas te staan?
·           Hulle het die Woord geken: Omdat hulle die Woord geken het, het hulle geweet dat God afgodediens verbied en daarom het hulle geweier om toe te gee aan die koning se eise. Dit is die rede waarom ons ook die Woord moet ken, want alles is nie swart-wit aangeleenthede waar ons dadelik kan weet of ons mag of nie en of ons moet of nie – daarvoor het ons kennis van die Woord nodig, sodat ons kan beoordeel of ons, ons moet onderwerp aan die owerhede, of aan God – die enigste betroubare bron om ons in sulke situasies te help, is die Woord van God – ons het Woensdag gekyk na die hele saak van surrogaatmoederskap – as ons nie kennis van die Woord het nie kan ons nie ’n ingeligte besluit en standpunt inneem daarvoor of daarteen nie. Wat het dit vir hulle moontlik gemaak om vas te staan?
·           Hulle was bereid om te sterf vir hul geloof en oortuigings: Hierdie is ’n baie belangrike punt, want ons kan glo dat God soewerein is en ons kan oor al die kennis van die Skrif beskik, maar as ons nie bereid is om kompromieloos "ons staan te staan" nie, kan ons nie saam met Paulus sê ~ As ons lewe, leef ons tot eer van die Here; en as ons sterwe, sterf ons tot eer van die Here. Of ons dan lewe en of ons sterwe, ons behoort aan die Here (Rom.14:8).

       Nadat die drie jongmanne vasgestaan het en geweier om die knie voor Nebukadneser en sy beeld te buig, gee hy opdrag dat hulle in die vuur gegooi moet word. Dit is so ironies dat die lyfwagte wat die koning se opdragte uitvoer, sterf as hulle Daniël se vriende in die vuur gooi, maar hulle wat nié die koning se opdrag uitgevoer het nie, kom niks oor nie (vv.22) – wat ’n pragtige illustrasie van wat Jesus in Matt.16:25 vir ons leer ~ ...want wie sy lewe wil behou, sal dit verloor; maar wie sy lewe ter wille van My verloor, sal dit terugkry.

       Behalwe vir die feit dat die drie manne ongeskonde in die vuuroond rondloop, sonder dat hulle klere eers brand, gebeur daar egter nog iets meer indrukwekkend – toe Nebukadneser by die oond inkyk, sien hy vier figure in die vuur – een meer as wat ingegooi is! Wie was dit? Ons weet nie - wat ons egter wel weet, is dat dit ’n duidelike teken van God se teenwoordigheid by hulle was. Wat hier gebeur het, was ’n vervulling van wat die Here vir Sy volk, bykans 200 jaar vantevore gesê het deur Sy profeet Jesaja ~ As jy deur water moet gaan, is Ek by jou, deur riviere, hulle sal jou nie wegspoel nie; as jy deur vuur moet gaan, sal dit jou nie skroei nie, die vlamme sal jou nie brand nie, 3want Ek is die Here jou God, die Heilige van Israel, jou Redder (Jes.43:2-3a).

       Wat vir ons hier belangrik is om van kennis te neem, is dat God nie gesê het dat Hy Sy volk óm die waters en óm die vuur sal lei nie, maar dat Hy bý hulle sal wees wanneer hulle deur die water of die vuur gaan! Dit laat my weer dink aan die woorde van J.C. Ryle wat ek so ’n week of wat gelede hier op die muur vertoon het: "Trials are intended to make us think, to wean is from the world, to send us to the Bible, to drive us to our knees." Beproewing sal altyd deel wees van God se kinders ~ Hulle het die gelowiges geestelik versterk en hulle aangespoor om getrou te bly in die geloof. “Ons sal eers deur baie verdrukking moet gaan voordat ons in die koninkryk van God kom,” het hulle gesê (Hand.14:22). Petrus sê in 1 Pet1:6-7 ~ Verheug julle hieroor, selfs al is dit nodig dat julle ’n kort tydjie bedroef gemaak word deur allerhande beproewings 7sodat die egtheid van julle geloof getoets kan word. Julle geloof is baie kosbaarder as goud, goud wat vergaan. Selfs die suiwerheid van goud word met vuur getoets, en die egtheid van julle geloof moet ook getoets word, sodat dit lof en heerlikheid en eer waardig mag wees by die wederkoms van Jesus Christus. Die troos en bemoediging wat ons egter het, is die belofte van Jes.43:2-3 waarin God sê dat Hy saam met ons deur die water en die vuur sal gaan.

       Hierdie belofte van God dat Hy altyd by ons sal wees, het sy vervulling bereik met die koms van die Here Jesus Christus – in Hom het die Emmanuel-belofte ("God met ons"), vlees geword en het Hy in hierdie lewe ervaar wat ons ervaar en nog meer, sodat Hy nou vir ons die Trooster kan wees; dié Een wat vir ons intree by die Vader. Hy het ook gekom, sodat Sy Koninkryk op aarde gevestig kon word en dat ons deel daaraan kan hê ~ Toe het die sewende engel op sy trompet geblaas. Daar was stemme in die hemel wat hard uitgeroep het: “Die koningskap oor die wêreld behoort aan ons Here en sy Gesalfde, en Hy sal as koning heers tot in alle ewigheid (Openb.11:15).

       Wat die Toring van Babel en Nebukadneser wou vermag, maar wat jammerlik misluk het, was om ’n ewige naam vir hulself te maak en die nasies van die wêreld onder een koninkryk te vestig. Jesus Christus het dit egter vermag ~ Op sy klere, by sy heupe, was daar ’n Naam geskrywe: “Die Koning van die konings en die Here van die heersers (Openb.19:16). Hierna het ek ’n groot menigte gesien wat niemand kon tel nie. Hulle was van elke nasie, stam, volk en taal en het voor die troon en voor die Lam gestaan. Hulle het wit klere aangehad, en daar was palmtakke in hulle hande (Openb.7:9).

       Die drie jongmanne het ongeskonde deur die vuurproef gegaan omdat God by hulle was en Nebukadneser was so stomgeslaan toe hy dit sien, dat hy na hulle roep en sê dat hulle uit die vuur moes kom. Hy is só beïndruk met die jong Judeërs se God dat hy uitroep ~ Aan die God van Sadrag, Mesag en Abednego kom die eer toe, Hy wat sy engel gestuur het en sy dienaars gered het. Hulle het op hulle God vertrou en het die koninklike bevel verontagsaam en hulle was bereid om hulle lewe te verloor eerder as om enige god behalwe húlle God te dien of te aanbid (v.28) en in v.29b sê hy ~ ... Daar is immers geen ander god wat in staat is om so te red nie. Hy gee terselfdertyd opdrag dat niemand minagtend van die Judeërs se God mag praat nie en die ~ ...koning het toe gesorg dat dit voorspoedig gaan met Sadrag, Mesag en Abednego in die provinsie Babel (v.30b) – hierna sal ons nie weer van Sadrag, Mesag en Abednego hoor nie, want dit gaan nie in hierdie verhaal oor mense nie, maar oor God en Sy heerskappy. Hierdie drie manne maak deel uit van die naamlose geloofshelde van Hebr.11, maar die fokus in Daniël is op God gevestig. Hierdie drie manne maak deel uit van die naamlose geloofshelde van Hebr.11, maar die fokus in Daniël is op God gevestig.
      
       Ons moet ons nie laat mislei deur hierdie uitspraak van Nebukadneser waarin hy lof en erkenning aan God bring nie, want dit dui nie noodwendig op ’n opregte bekering aan sy kant nie. Ons sien op verskeie plekke in die Woord dat mense eer aan God bring, sonder opregtheid en baie dikwels het hulle dit gedoen omdat hulle gedwing was om God se soewereiniteit te erken (bv. Jos.7:19; 1 Sam.6:5; 1 Pet.2:12 en ander). Ons het ook reeds in Dan.2 gesien dat Nebukadneser God se soewereiniteit erken, maar dat dit net tydelik van aard was. Die bewys van ware en opregte bekering word gesien in die vrug wat so ’n persoon dra (Matt.12:33).

            Dit is so ironies dat Nebukadneser dieselfde dreigement rig tot sy onderdane as wat hy tot hulle gerig het met die onthulling van sy beeld – as jy nie eer bring aan die Judeërs se God nie, gaan jy ~ ...in stukke gekap word en van jou huis sal ’n puinhoop gemaak word (v.29). Mense het hulle nie aan sy eerste opdrag gesteur nie – hulle sou hulle ook nie aan sy tweede opdrag steur nie – trouens, selfs Nebukadneser sou hom nie daaraan steur nie, want die Here God was nog steeds nie die God van Nebukadneser nie. Net soos vandag, is daar baie mense wat beïndruk is met mense se geloof, maar self dien hulle nie die Here nie.


[1] Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Sondag 11 Augustus 2013

Saturday, 3 August 2013

Die Boodskap van Daniël - 05 (Waar is jou God?)


1.    SKRIFLESING:
       Ons het die vorige keer gesien dat koning Nebukadneser opdrag gegee het dat al die raadgewers in Babel om die lewe gebring moes word omdat hulle nie vir hom kon sê wat hy gedroom het nie. Daniël het egter daarop gevra of die voltrekking van die vonnis nie uitgestel kon word nie, omdat hy antwoorde het vir die koning.

       Ons het ook gesien dat Daniël nie dadelik die droom uitgelê het nie, maar dat hy homself eers voor God verootmoedig het in gebed, waarop die Here in vv.19-23, Sy liefde en genade aan Daniël betoon het, deur alles aan hom te openbaar wat nodig was om die koning tevrede te stel én om hom en sy vriende se lewens te spaar, waarop Daniël God se almag en alwysheid besing het.

       Daniël 2:24-49 ~ Toe is Daniël na Arjok toe vir wie die koning beveel het om die koninklike raadgewers dood te maak, en hy het vir hom gesê: “Moenie die koninklike raadgewers doodmaak nie. Vat my na die koning toe, en ek sal sy droom vir hom uitlê.” 25Arjok het toe dadelik vir Daniël na die koning toe gevat en gesê: “Ek het iemand onder die Judese ballinge gekry wat die droom vir die koning kan uitlê.” 26Die koning het toe vir Daniël, wat Beltsasar genoem is, gevra: “Kan jy vir my sê wat die droom is wat ek gehad het en wat sy uitleg is?” 27Daniël het die koning geantwoord: “Die raadgewers, die voorspellers, die towenaars en die sterrekykers is nie in staat om die droom waaroor u navraag doen, vir u te vertel nie. 28Maar daar is ’n God in die hemel wat geheime kan openbaar en wat aan u, koning Nebukadnesar, wil bekend maak wat in die toekoms gaan gebeur. In u slaap het u ’n droom, ’n visioen gehad. 29Toe u gaan slaap het, het u gedink oor wat in die toekoms sal gebeur, en Hy wat geheime kan openbaar, het aan u bekend gemaak wat gaan gebeur. 30Dit is nie omdat ek meer wysheid het as ander mense dat hierdie geheim aan my geopenbaar is nie, maar omdat die uitleg aan u bekend moet word sodat u ’n antwoord kan kry op die vrae waaroor u gedink het. 31“U het ’n visioen gehad. Daar was ’n groot beeld. Dit was hoog en het baie geblink. Dit het voor u gestaan, iets skrikwekkends. 32Die beeld se kop was van suiwer goud, sy bors en sy arms van silwer, sy maag en sy heupe van brons. 33Sy bene was van yster en sy voete deels van yster en deels van klei. 34Toe u nog so kyk, breek daar ’n klip los sonder dat ’n hand daaraan geraak het en dit tref die beeld teen die voete van yster en klei en verpletter dit. 35Die yster, die klei, die brons, die silwer en die goud is alles fyn gestamp en het geword soos kaf op die dorsvloere wat in die oestyd deur die wind weggewaai word, sodat geen spoor daarvan oorbly nie. Die klip waardeur die beeld getref is, het ’n groot rots geword en het die hele aarde bedek. 36Dit is die droom, en nou sal ek dit vir u uitlê. 37“U is die groot koning; die God van die hemel het aan u die heerskappy, die krag en die mag en die eer gegee. 38Hy het die hele bewoonde wêreld, die mense, die wilde diere en die voëls in u mag gegee en u die heerser oor hulle almal gemaak. U is die kop van goud. 39Ná u sal ’n ander koninkryk na vore kom wat nie so belangrik as dié van u sal wees nie, en daarna ’n derde, die een van brons wat oor die hele wêreld heerskappy sal voer. 40Die vierde koninkryk sal so sterk wees soos yster. Yster vergruis alles en stamp dit fyn. Soos yster wat alles vergruis, so sal dié koninkryk die ander fyn stamp en vergruis. 41Die voete en tone, deels klei en deels yster, wat u gesien het, wys op ’n koninkryk wat verdeeld sal wees. Dit sal iets van die sterkte van yster hê, want soos u gesien het, is daar yster tussen die klei. 42Die tone en voete, deels van yster en deels van klei, wys dat die koninkryk deels sterk, deels swak sal wees. 43Dat u gesien het dat die yster met klei gemeng is: daar sal ondertrouery tussen die mense wees, maar hulle sal nie ’n eenheid word nie, net soos yster nie met klei meng nie. 44In die tyd van daardie konings sal die God van die hemel ’n koninkryk oprig wat nooit vernietig sal word nie. Hierdie koninkryk sal nie deur ’n ander vervang word nie. Dit sal die ander koninkryk plat trap en vernietig, maar self sal dit vir altyd bestaan. 45En dat u ’n klip uit ’n rots sien losbreek het sonder dat ’n hand daaraan geraak het en dit die yster, die brons, die klei, die silwer en die goud verpletter het: God wat magtig is, het aan u bekend gemaak wat in die toekoms gaan gebeur. Die droom is waar en oor die uitleg is daar geen twyfel nie.” 46Toe het koning Nebukadnesar diep voor Daniël gebuig, aan hom eer betoon en opdrag gegee dat daar ’n graanoffer en ’n wierook offer aan hom geoffer moet word. 47Die koning het vir Daniël gesê: “Werklik, julle God is die grootste van al die gode, Hy heers oor die konings en Hy openbaar geheime, want jy kon hierdie geheim bekend maak. 48Die koning het hoë eer aan Daniël betoon, vir hom baie en groot geskenke gegee en hom aangestel as goewerneur van die hele provinsie Babel en as hoof van al die koninklike raadgewers. 49Op versoek van Daniël het die koning vir Sadrag, Mesag en Abednego in beheer geplaas van die administrasie van die provinsie Babel. Maar Daniël self het in die paleis gebly.

2.    DANIËL VERHEERLIK GOD:
       Die eerste karakter met wie ons in hierdie gedeelte van ons Skriflesing te doen kry, is Arjok – Arjok, die hoof van die koning se lyfwag (2:14) en die man wat opdrag van die koning ontvang het om al die raadgewers in Babel om die lewe te bring – insluitende Daniël en sy vriende.
      
       Arjok is ’n leuenaar – ’n man wat vir die koning lieg en hy doen dit om waarskynlik indruk te maak op die koning en so bietjie krediet te ontvang, of dalk bevordering – wie sal weet? Hy gaan na die koning en sê vir Nebukadneser in v.25b ~ Ek het iemand onder die Judese ballinge gekry wat die droom vir die koning kan uitlêEK het iemand gekry...! Het hy regtig iemand – vir Daniël, gekry? Nee, ons lees in v.24 dat Daniël na Arjok toe gegaan het en vir hom gevra het om hom na die koning te neem.

       Arjok se liegstorie kon egter daartoe bygedra het dat Daniël ook die geleentheid kon uitbuit ten einde lof van die koning te ontvang. Daniël kon maklik gesê het, o ja u majesteit, ek kan verseker, maar hy doen dit nie; hy lieg nie soos Arjok nie; hy oes nie lof vir homself in nie, want hy antwoord in vv.27-28 ~ Die raadgewers, die voorspellers, die towenaars en die sterrekykers is nie in staat om die droom waaroor u navraag doen, vir u te vertel nie. 28Maar daar is ’n God in die hemel wat geheime kan openbaar en wat aan u, koning Nebukadnesar, wil bekend maak wat in die toekoms gaan gebeur. Daniël bring onbeskroomd al die eer aan God Almagtig en hy gaan voort in vv.29 deur te sê ~ Toe u gaan slaap het, het u gedink oor wat in die toekoms sal gebeur, en Hy wat geheime kan openbaar, het aan u bekend gemaak wat gaan gebeur.

       Hier is ’n les vir ons te lere. Wanneer ons in die wêreld en tussen mense is, moet ons net soos Daniël, altyd eer aan God bring, eerder as om net stil te bly, of natuurlik nog erger, as om eer vir onsself te probeer versamel. Watter gawes, geleenthede en talente ons ook al oor beskik – God moet altyd die eer daarvoor kry, want dit is Hý wat dit aan ons geskenk het. Ons is bloot net God se diensknegte wat die werk doen wat Hy aan ons gegee het om te doen. Hierdie is dan natuurlik ook een van die vrugte van die Gees, nl. nederigheid (Gal.5:23). Dit is egter ook deel daarvan om my kruis op te neem en te identifiseer met Jesus, want Hy is die volmaakte voorbeeld vir ons van nederigheid, trouens Hy gee ook opdrag aan ons om nederig te wees ~ Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed (Matt.11:29). Om gehoorsaam te wees aan hierdie opdrag van Jesus, hou vir ons ’n heerlike belofte in - ... julle sal rus kry vir julle gemoed. Wat is hierdie rus waarvan Jesus praat? Dit is om vrede in en met God te ervaar, wat uiteraard op die ewige rus sal uitloop!

3.    DIE DROOM:
       Terug by die droom. Omdat God die Openbaarmaker van geheime is, was dit vir Daniël moontlik om die onmoontlike te vermag – hy kon, nie net die interpretasie van die droom met Nebukadneser deel nie, maar hy kon ook vir hom presies vertel wát hy gedroom het! Daniël maak dan geen geheim daarvan, dat dit nie hy wat Daniël is wat so oulik is om hierdie geheimenis met die koning te deel nie, maar dat dit God Almagtig is wat dit doen en net Hy en Hy alleen is by magte om dit te doen.

       Wanneer Daniël vir Nebukadneser aanspreek gee hy erkenning aan die koning dat hy waarskynlik die magtigste aardse koning van sy tyd is ~ U is die groot koning (v.37). Die OAV vertaal hierdie woorde met ~ U, o koning, koning van die konings. Hierdie magtige koning moes goed gevoel het toe Daniël hom so aangespreek het, maar terselfdertyd ontbloot Daniël die koning se menslike afhanklikheid van God en sê hy eintlik tussen die lyne ~  Arme jy, jy is toe eintlik ook nie so groot as wat jy dink jy is nie, want my God is dié enigste ware God – Hy wat alles weet – selfs dít wat jy in die geheim van jou binnekamer gedroom het en jy Nebukadneser, sit nou hier voor my en jy is afhanklik van my God om te weet wat jou droom, wat jou so pla, nou regtig beteken en wat meer is, die mag waaroor jy beskik, is deur God aan jou gegee en raai wat, jy gaan binnekort uitvind dat die einste lewende God, hierdie mag van jou gaan wegneem!

       Hoe dit ook al sy, Daniël gaan in vv.31-35 voort om vir Nebukadneser te vertel wat hy gedroom het. Nadat hy die inhoud van die koning se droom met hom gedeel het, begin hy om die droom uit te lê. Hierdie droom gaan oor ’n beeld, ’n groot, hoë en blink beeld – iets skrikwekkends (v.31) en Daniël beskryf hierdie beeld in vyf dele:
·           Kop van goud;
·           Bors en arms van silwer;
·           Maag en heupe van koper;
·           Bene van yster;
·           Voete van yster en klei.

       Daniël verskaf ’n kort en bondige beskrywing van elke deel van die beeld. Wat interessant is, is dat elkeen van hierdie vier metaalsoorte wat Daniël beskryf, verteenwoordigend is van die vier hoofmetaalsoorte wat in daardie tyd ontgin en gebruik was en goud en silwer het op rykdom gedui en koper en yster verteenwoordig mag en die mengsel van yster en klei dui op ’n rampspoedige swakheid.

       Die getal vier is ook ryk aan betekenis en ons sien bv. in Dan.7 dat Daniël in een van sy visioene, vier diere sien en daar word ook gepraat van die vier windrigtings; die vier hoeke van die aarde. In Gen.2:10-14 word daar bv. gepraat van vier riviere, ens. Hierdie getal vier is nie maar net om dowe neute in die droom gebruik nie. Die getal vier het gewoonlik ten doel gehad om iets omvattend aan te dui. Daar word bv. in Open.4:7-8 gepraat van vier lewende wesens om God se troon. Hulle verteenwoordig die hele skepping. In Jeremia 15:2-3 kondig God Sy oordeel aan wanneer Hy vier woorde in vers 2 gebruik om aan te dui hoe omvattend en onomkeerbaar Sy oordeel is.

       Hierdie droom gaan dus nie nét oor Nebukadneser en sy koninkryk nie, maar oor die omvattende wêreldgeskiedenis.

4.    DIE UITLEG:    
       Daniël se uitleg van die droom begin met die kop en ’n beskrywing van die belangrikheid van die Babiloniese Ryk. Die rede waarom hy hier begin, is omdat Daniël midde in daardie tydperk staan en dat dit hier gaan oor Nebukadneser wat die droom gedroom het en ’n uitleg daarvoor vereis.

       Daniël is baie wys en baie taktvol wanneer hy vir Nebukadneser sê ~ U is die groot koning... (v.37); ...U is die kop van goud (v.38b). Die goue kop verwys dus na Nebukadneser en die Babiloniese Ryk (625-539 v.C.). Ons vind Babel reeds vroeg in die Bybel en wel reeds in Genesis met Nimrod as heerser (Gen.10:8-12) en natuurlik die bekende gebeurtenis rondom die toring van Babel en die verwarring van tale (Gen.11:1-9). Babel was altyd ’n mag waarmee rekening gehou moes word, maar onder Nebukadneser het dit ongekende hoogtes bereik.

       Daniël was egter nie net taktvol teenoor die koning nie; hy is ook baie eerlik en reguit en daarom gaan hy voort en maak hy geen geheim daarvan dat dit nie volgens die toedoen van Nebukadneser is dat hierdie grootse koninkryk tot stand gekom het nie en Daniël skroom ook nie om dit, soos ons reeds gesien het, vir die koning te sê nie ~ U is die groot koning; die God van die hemel het aan u die heerskappy, die krag en die mag en die eer gegee 38Hy het die hele bewoonde wêreld, die mense, die wilde diere en die voëls in u mag gegee en u die heerser oor hulle almal gemaak. U is die kop van goud. Nebukadneser het natuurlik hierdie opmerking van Daniël in twyfel getrek en ons sal dit D.V. nog vorentoe in hoofstukke 3 en 4 sien.

       Na die Babiloniese tydperk sou meer koninkryke volg, maar almal sal, al was dit magtige Ryke, minderwaardig wees in vergelyking met Babel.

       In v.39 verwys Daniël na die tweede deel van die droom en spesifiek dan die bors en arms van silwer.

       Om nou te begin spekuleer oor watter deel van die beeld, watter koninkryk verteenwoordig, sal uiteindelik net by spekulasie bly, omdat die teks glad nie vir ons pertinent sê watter deel, watter koninkryk verteenwoordig nie. Daar is baie mense wat sê dat die tweede gedeelte van die beeld na die Mede- en Persiese Ryk (539-331 v.C.) met koning Darius as belangrikste heerser verwys en dit kan sekerlik so wees, omdat dit die volgende groot wêreldryk was wat op die Babiloniese Ryk gevolg het. Dit klink logies dat dit die volgende Ryk moes wees, want as ons na die geskiedenis kyk, het die Babiloniese Ryk tot ’n einde gekom gedurende 539 v.C. en die Mede- en Persiese Ryk se aanvang was ook in 539 v.C.

       Die derde deel van die beeld (die maag en heupe) was van brons gemaak. Hierdie gedeelte van die beeld verwys volgens baie mense na die Griekse Ryk wat op die Mede- en Persiese Ryk sou volg (331-63 v.C.). Let op dat daar ’n verskil is tussen brons en koper – brons is ’n koper wat met tin vermeng is en soms met bykomende elemente van lood, terwyl koper suiwerder is.

       Die laaste deel, nl. die bene wat uit yster bestaan, asook die voete wat uit ’n mengsel van yster en klei bestaan, verwys volgens baie analiste na die Romeinse Ryk (strek so ver tug as 753 v.C., maar die eerste keiser was Octavia wat homself as keiser Augustus in 27 v.C. aangestel het. Die Ryk het bestaan tot in 610 n.C.). As ons na vv.39-41 kyk, dan kan ons baie na aan reg wees om te sê dat dit verteenwoordigend is van die uiteindelike Romeinse Ryk wat die een land na die ander ingepalm het en wat uiteindelik ook verdeeld was, met ’n Oostelike Ryk en ’n westelike Ryk (v.41 ~ Die voete en tone, deels klei en deels yster, wat u gesien het, wys op ’n koninkryk wat verdeeld sal wees).

       Ons moet ons egter nie moeg maak, deur te probeer bewys watter deel van die beeld, watter koninkryk verteenwoordig nie, want dit is nie die punt van die uitleg van die droom nie en Daniël het dit ook nie so uitgespel aan Nebukadneser nie. Dit gaan in hierdie droom en uitleg, nié oor die wanneer en die wie nie, maar oor die wat t.o.v. die toekoms.

       Wat dan is dit wat Daniël vir ons wil leer?
·           God is die Een wat aardse koninkryke daarstel. Dit is Hy wat regerings daarstel. Dit is God wat gesag en krag aan hulle verleen. Geen regeerder, regering of wie ook al kan daarop roem dat hy of hulle uit eie krag daar gekom het nie – ook nie Mandela, of Zuma, of Mugabe nie. Daniël maak dit baie duidelik, soos ons reeds in v.37 gesien het, dat dit God is wat Nebukadneser, die krag en die mag en die eer gegee het. Daniël vergelyk Nebukadneser met Adam in v.38 en hy sê aan die koning dat net soos Adam, het God ook al Nebukadneser se mag aan hom geskenk. Daniël vergelyk die koning dan juis ook met Adam, om hom daardeur te waarsku, dat net soos wat al die mag van Adam gestroop was nadat hy gesondig het, ook die magtige "goue-kop-Nebukadneser" gestroop sou word van al sy mag en tot stof sou vergaan, indien hy sondig en volhard in sonde – wat hy natuurlik, wel gedoen het. Daniël sê dus maar net aan Nebukadneser wat hy vroeër vir God in sy gebed gesê het, dat God dié Een is ~  ...wat tye en omstandighede verander, wat konings afsit en konings aanstel... (v.21).

·           Die feit dat een koninkryk die ander opvolg in die droom, bevestig maar net dat alle koninkryke en alle regerings nie vir altyd in beheer sal bly nie – goud verander uiteindelik na silwer en silwer word uiteindelik brons en uiteindelik yster en klei. Soos wat die tyd aanstap, raak die rebellie van die mens en regerings teen God net erger en erger en in plaas daarvan dat daar verbetering kom, is daar ’n konstante agteruitgang en verval – sien ons dit nie maar in ons eie land; in ons eie kontinent; in die res van die wêreld nie! Uiteindelik het almal en sal almal maar net soos v.42 vir ons aantoon, voete van klei hê en vernietig word.

       Die beeld is dus ’n versinnebeelding van die wêreld en sy sug na mag en oorheersing en al groter wordende rebellie teen God Almagtig – ons sien hierdie patroon reeds van die sondeval af, regdeur die Ou Testament en ons sien dit van Christus se tyd af tot vandag toe – daar is net konstante agteruitgang wat uiteindelik sal lei tot ’n verskriklike einde.

·           Aan die einde van al hierdie verval egter, kom daar ’n Rots wat al hierdie koninkryke gaan vernietig (vv.34-35).

       Hierdie Rots is die Koninkryk van God wat reeds gevestig is nadat die Here Jesus Christus Sy aardse sending voltooi het en opgevaar het na die hemel. Ja, die verval en rebellie in hierdie wêreld gaan steeds voort, maar stadig maar seker vind daar ’n positiewe opbou na die finale vestiging van Christus se ewige Koninkryk plaas, wanneer Hy weer sal terugkeer na die aarde ~ ...want Hy het ’n dag bepaal waarop Hy regverdig oor die wêreld gaan oordeel deur ’n Man wat Hy uitgekies het. As bewys daarvan vir almal, het Hy Hom uit die dood laat opstaan (Hand.17:31).

5.    TOEPASSING:
       Wat moet ons met hierdie droom van Nebukadneser en Daniël se uitleg daarvan maak? Wat se betekenis hou dit vir ons vandag in?
·           Die verganklikheid van die aardse heerlikheid: Die feit dat, soos wat Daniël uit die uitleg van Nebukadneser se droom aangetoon het, die heerlikheid van hierdie wêreld verganklik is – dit is tydelik m.a.w. en daarom moet ons besef dat daar ’n nuwe Koninkryk reeds gevestig is, maar dat die volle omvang daarvan nog in die toekoms lê (die "reeds-en-die-nog-nie-beginsel") en dit is daarop dat ons, onsself moet instel. Soos al so dikwels in die verlede gesê, moet ons ’n ewigheidsperspektief ontwikkel – ons moet ons oë vestig op die beter Koninkryk wat kom en ons moet ons lewe daarvolgens inrig. Hierdie wêreld en alles wat dit bied, is nie waaroor die lewe gaan nie, want dit is van verbygaande aard.
·           Die koninkryk(e) wat ons bou: Aan die anderkant moet ons besef dat, al moet ons die ewigheid wat voorlê gedurig voor oë hou, ons steeds in hierdie verganklike wêreld is en dat ons as gelowiges ’n roeping het om hier te volbring. Daar is soveel dinge waaraan ons as kerk gehoorsaam moet wees – dink maar net aan ons "Matt.28:19-20-roeping" om die Waarheid in hierdie wêreld te leef en te verkondig – die Evangelie van Jesus Christus. Dink maar net aan al die opdragte wat Jesus aan ons gegee het om uitleef en te gehoorsaam, soos bv. dié in die Bergpredikasie (Matt.5), trouens al die opdragte van ons Verlosser wat Hy aan ons gegee het.


       Om heel prakties hieroor te wees – In Psalm 42 sê die Psalmdigter dat die mense vir hom vra, "Waar is jou God?" Ons moet gedurig vir onsself vra, "waar ís my God?" Ons moet dit vra as ons besig is met ons dagtaak. Ons moet dit vra as ons agter die stuur van ons motors sit. Ons moet dit vra as ons met ander rasse te doen kry. Ons moet dit vra as die regering wat deur God daargestel is, bedrog pleeg en nie doen wat van hulle verwag word nie. Ons moet dit vra as ons by die werk is; as ons ontspan; as ons kuier; as ons in die kuberwêreld besig is. Ons moet dit gedurig vra, want ons eerlike antwoord daarop, sal vir ons sê waar ons geestelik staan; waar God presies in ons lewe is - is ek besig om die roeping wat die Here Jesus op my lewe gelê het, uit te leef? Is my lewe 'n getuienis van my verlossing in Christus Jesus? Leef ek die oorwinningslewe wat 'n gelowige behoort te leef? Is die Vrug van die Gees in my lewe te bespeur? Leef ek my roeping uit waartoe ek geroep is as gelowige? Is ek waarlik wedergebore?


      Ons sê dikwels (ek dalk die meeste) dat ons ’n "ongewilde-Evangelie" verkondig en dan gebruik ons dit eintlik ten diepste as ’n verskoning om niks daaromtrent te doen nie, terwyl ons juis hierdie "ongewilde-Evangelie" met ’n passie moet verkondig, omdat dit Lewe impliseer ~ Maar aan God die dank! Hy voer ons altyd saam in sy triomftog omdat ons een is met Christus. Deur ons versprei Hy die kennis van Christus oral soos ’n aangename geur (2 Kor.2:14). 
·           Die Ewige Rots Jesus Christus: Soos ons reeds gesien het, is die rots in Nebukadneser se droom, niemand anders Jesus Christus nie. Vir Daniël was die koms van die Here Jesus as Messias iets wat nog in die toekoms gelê het en was dit derhalwe iets waarna hy geweldig uitgesien het. Vir ons daarenteen, is Jesus se koms reeds verlede tyd, maar terselfdertyd ook toekomende tyd. Jesus die Christus het gekom en Sy Koninkryk kom vestig en daarom roep God ons op om onsself aan die Rots Jesus Christus te onderwerp en Sy Koninkryk eerste te soek. Aan die anderkant moet ons egter ook uitsien na Sy tweede koms en daarom moet ons voortdurende gebed, dié van Openb.22:20 wees ~ Kom, Here Jesus!



[1] Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Sondag 04 Augustus 2013

Saturday, 20 July 2013

Die Boodskap van Daniël - 04 (Daniël se Vaste Vertroue)

1.    SKRIFLESING:
       Daniël 2 is ’n baie lang hoofstuk en ons behoort dit eintlik in een sitting deur te lees, maar t.w.v. tyd gaan ons vanoggend net kyk na die eerste 23 verse.

       Daniël 2:1-23 ~ In die tweede regeringsjaar van koning Nebukadnesar het hy ’n droom gehad wat hom so ontstel het dat hy nie kon slaap nie. 2Toe het hy die towenaars, die voorspellers, die goëlaars en die sterrekykers laat roep om sy droom vir hom uit te lê. Hulle het toe voor die koning kom staan 3en hy het vir hulle gesê: “Ek is ontsteld oor ’n droom wat ek gehad het en ek wil weet wat die droom beteken.” 4Die sterrekykers het die koning in Aramees geantwoord: “Mag die koning baie lank lewe! Vertel ons die droom, dan sal ons dit vir u uitlê.” 5Die koning sê toe vir die sterrekykers: “Ek het klaar besluit: as julle my nie die droom en sy uitleg kan gee nie, sal julle aan stukke gekap word en sal van julle huise puinhope gemaak word. 6Maar as julle die droom en sy uitleg gee, sal julle baie geskenke en groot eer van my ontvang. Gee my dus die droom en sy uitleg.” 7Hulle sê toe weer vir die koning: “U Majesteit moet die droom vir ons vertel, dan sal ons dit uitlê.” 8Toe sê die koning: “Ek weet goed julle wil net tyd wen omdat julle sien ek het klaar besluit 9dat as julle die droom nie uitlê nie, daar vir julle net een straf voorlê! Daarom het julle afgespreek om vir my ’n klomp leuens te vertel totdat die omstandighede mag verander. Vertel vir my die droom dat ek kan weet of julle sy uitleg kan gee.” 10Die sterrekykers het die koning geantwoord: “Daar is geen mens op aarde wat aan u eis kan voldoen nie. Geen koning, hoe groot of magtig hy ook mag wees, het dan ook al so iets van enige towenaar, voorspeller of sterrekyker verwag nie. 11Wat u vra, is te moeilik, daar is niemand wat dit vir u kan doen nie, behalwe die gode, en hulle woon nie onder die mense nie.” 12Toe het die koning woedend geword en opdrag gegee om al die koninklike raadgewers van Babel om die lewe te bring. 13Daar is toe ’n proklamasie uitgevaardig dat die koninklike raadgewers doodgemaak moet word. Ook Daniël en sy vriende is gesoek om doodgemaak te word. 14Daniël het toe versigtig navraag gedoen by Arjok, die hoof van die koning se lyfwag, wat op pad was om die koninklike raadgewers dood te maak. 15Hy het vir Arjok, die offisier van die koning, gevra waarom die proklamasie van die koning so genadeloos is, en Arjok het dit vir hom verduidelik. 16Daniël het na die koning toe gegaan en uitstel gevra om die uitleg aan die koning te kan gee. 17Daarna is Daniël huis toe en het hy vir sy vriende Gananja, Misael en Asarja vertel wat aan die gang is 18en hulle gevra om die God van die hemel om genade te smeek oor die geheim van die droom sodat Daniël en sy vriende nie saam met die ander koninklike raadgewers doodgemaak sou word nie. 19Toe is die geheim aan Daniël geopenbaar in ’n nagtelike visioen, en Daniël het die God van die hemel geprys. 20Daniël het gesê: “Mag die Naam van God altyd geprys word, Hy aan wie die wysheid en die mag behoort, 21Hy wat tye en omstandighede verander, wat konings afsit en konings aanstel, wat aan die wyse manne die wysheid gee en die verstand aan dié wat insig het, 22wat ondeurgrondelike en verborge dinge openbaar en wat weet wat in die duisternis is; by Hom is die lig. 23Ek loof en prys U, God van my voorvaders, omdat U aan my wysheid en mag gegee het. U het aan my bekend gemaak wat ons van U gevra het, U het aan ons bekend gemaak wat om aan die koning te sê.” bly.

2.    INLEIDING:
       Hierdie gebeurtenis speel homself af in die tweede regeringsjaar van koning Nebukadneser. Daniël en sy vriende het hulle opleiding voltooi en word nou in Nebukadneser se paleis ontplooi om in die koning se diens te staan. Hierdie oorgang van die jongmanne se opleiding na dienswerk in die paleis laat ons egter met ’n probleem.

       In Nebukadneser se eerste jaar as koning (Dan.1:1) het Daniël en sy vriende met hul drie jaar lange opleiding begin (Dan.1:18), maar nou sien ons hier in hoofstuk 2 dat Daniël en sy vriende reeds in Nebukadneser se tweede regeringsjaar hul opleiding voltooi het – hoe moet ons dit verklaar? Kan dit wees dat hulle, hul drie jaar opleiding in twee jaar se tyd voltooi het (het hulle dus ’n jaar "gespring", soos sommige skrander kinders in die ou dae hul standerds "gespring" het?). Die mees algemene en aanvaarbare verklaring is dat hierdie drie jaar tydperk nie 3 maal 12 kalendermaande tydperke was nie, maar bloot net drie periodes wat, of kursusse, of semester tydperke was, wat in twee jaar se tyd afgehandel is – ons kan selfs ook sê dat dit 3 keer 8 maande periodes, of -kursusse was.

       Ons vind ’n tweede interessantheid in v.4, nl. dat die sterrekykers, of te wel die Chaldeërs, die koning in Aramees geantwoord het – Aramees was die taal van die dag – ’n internasionale taal en hoofstukke 2-7 was dan ook in Aramees geskryf, terwyl hoofstuk 1 en hoofstukke 8-12 in Hebreeus geskryf was – waarom was die boek dan in twee tale geskryf? Die verduideliking hiervoor is in kort dat die Hebreeuse gedeelte (1 en 8-12) handel oor die geskiedenis van die Hebreërs as nasie en God se baie spesifieke betrokkenheid by hulle as uitverkore volk, terwyl die middelste gedeelte (2-7) die doel van God met die wêreldgeskiedenis omskryf en hoe Hy Sy wil en doel met die wêreld bereik.

       Die beelde en simboliese taal wat in hierdie middelste gedeelte gebruik word, dui vir ons die koms en val van groot Ryke aan (bv. die Romeinse Ryk, ens.). Dit blyk dus duidelik uit hierdie gedeeltes, dat God nie Sy Koninkryk vestig op mistiese wyse en in ’n "buitewêreldse" sfeer nie, maar Hy vestig Sy Koninkryk deur mense van vlees en bloed en op hierdie aarde. God gebruik dan ook die drome van Nebukadneser om vir ons Sy wonderlike doel en wil te openbaar – ja selfs deur die heidense Nebukadneser.
      
3.    NEBUKADNESER SE DROOM:
       In. v.1 sien ons dat Nebukadneser ’n droom gehad het wat hom baie ontstel het en hy roep die hulp van al ...die towenaars, die voorspellers, die goëlaars en die sterrekykers (v.2) in om sy droom vir hom uit te lê. Nebukadneser is egter uiters onredelik, deurdat hy van hulle verwag om nie alleen die droom uit te lê nie, maar ook vir hom te sê wat hy gedroom het – waarskynlik was hy ontstemd deur die droom, maar soos wat dit maar dikwels ook met ons gebeur, kon hy nie regtig die detail van die droom onthou nie, maar aan die anderkant het hy dalk juis die detail van die droom onthou, maar wou hy vasstel of die klomp voorspellers regtig insig en kennis het. Hoe dit ook al sy, hierdie grote koning was in sy hart van harte net so onseker soos ’n kind.

       Uiteraard kon nie een van hierdie ...die towenaars, en voorspellers, en goëlaars en sterrekykers, die koning help nie. Trouens hulle reaksie is verstommend, want hulle waag dit om vir die koning te sê dat ...daar geen mens op aarde (is) wat aan u eis kan voldoen nie. Geen koning, hoe groot of magtig hy ook mag wees, het dan ook al so iets van enige towenaar, voorspeller of sterrekyker verwag nie (v.10). Wat hulle eintlik vir Nebukadneser gesê het, was dat hy van hulle verwag wat net God kan openbaar en dat hulle maar net mense is en nie God nie.

       Die koning is woedend en hy gee opdrag dat al sy raadgewers om die lewe gebring moet word (v.12) – natuurlik sou dit ook Daniël-hulle ingesluit het (v.13), maar voor ons daarby kom, is dit baie interessant om te sien, dat Nebukadneser twee eienskappe in sy optrede openbaar wat ons tot vandag toe nog by mense aantref – mense wat God nie dien nie, nl.:
·           Onsekerheid: Nebukadneser het beskik oor alles wat die hart begeer: rykdom; mag; status; ens., maar ’n eenvoudige en gewoonlik onsinnige droom, laat hierdie magtige man onseker en angstig. Die rede hiervoor was dat hy vir die hier en die nou geleef het en waarmee hy nie rekening gehou het nie, is dat hierdie lewe met al sy projekte en doelwitte en uitdagings, altyd aan die verander is, trouens dit was blootgestel aan die uiteindelike verdorwenheid van hierdie lewe, soos wat die Prediker in Pred.2:11 sê ~ Maar toe ek goed nadink oor alles wat ek gedoen het en oor alles waarmee ek my met soveel sorg besig gehou het, het ek gesien dat alles niks was, ’n gejaag na wind. In hierdie wêreld bevredig niks nie. Die Here Jesus het in Mark.4:19 self ook gesê ~ ...maar die sorge van die lewe en die verleiding van rykdom en die begeertes na allerhande ander dinge kom op en verstik die woord, en dit bly sonder vrug – presies dít was Nebukadneser se probleem en daarom was hy onseker en onvergenoegd.

       Solank as wat Nebukadneser sy sekuriteit en sy hoop gebou het op hierdie aardse dinge, sou hy teleurgestel word en sal hy voortleef in onsekerheid en dit is presies wat vandag nog met die mens gebeur.
·           Ongenaakbaarheid en Vyandigheid: Tweedens sien ons ’n ongenaakbaarheid en ’n vyandige gesindheid in Nebukadneser se optrede. Toe die raadgewers nie vir hom kon vertel wat hy gedroom het nie – praat hy nie eens van die interpretasie daarvan nie en gee hy opdrag dat hulle dood gemaak moet word (v.12).

       Ons sien hier ’n bose kringloop in aksie - as die mens in onvrede met die wêreld leef, kan hy nie vrede in homself hê nie en wanneer hy nie vrede in homself het nie, sal hy vyandiggesind wees jeens die wêreld. Trouens as jy nie vrede in jou self het nie, sal jy kwaad wees vir God en dit is presies wat ook hier met Nebukadneser gebeur, want die raadgewers sê vir hom dat dit wat hy van hulle verwag, net die gode kan doen en natuurlik weet ons dat dit net God Almagtig is wat dit kan doen (v.11) en wat is die reaksie by Nebukadneser? Toe het die koning woedend geword en opdrag gegee om al die koninklike raadgewers van Babel om die lewe te bring (v.12). Nebukadneser bal sy vuis in die gesig van God Almagtig, omdat hy nie sy sin kan kry nie, omdat hy steeds in onsekerheid verkeer; omdat hy sy vertroue in die wêreld vestig; omdat hy ongenaakbaar en vyandiggesind is.

4.    DANIËL SE REAKSIE:
       Daniël kom gou te hore wat hulle lot gaan wees en as ons in gedagte hou dat hy en baie van sy volksgenote minder as drie jaar vantevore op hardhandige, en traumatiese wyse uit hul vaderland weggevoer is, kan ’n mens maar net dink hoe hierdie jongman skielik met angs vervul kon gewees het, maar Daniël tree, in teenstelling met hoe die wêreld sou reageer, vinnig op en hy tree in wysheid en met geloof in God op. Hy rig ’n versoek tot Nebukadneser om die voltrekking van die vonnis uit te stel, omdat hy die koning se droom sal uitlê. Voor hy egter dadelik met ’n uitleg vorendag kom, wend hy homself eers tot Sy hemelse Vader vir genade en leiding om die droom te kan uitlê. Hier is geen sprake van arrogansie en grootdoenerigheid by Daniël te bespeur nie. Nee, hy maak sy absolute afhanklikheid van God Almagtig bekend en hy bid saam met sy vriende tot die Here om hulp – en die uitkoms?

       Wat hier opval, is dat Daniël se smeek om genade (v.18), ’n ego is van Salomo se gebed tydens die toewyding van die Tempel in 1 Kon.8:50 en dat dieselfde Hebreeuse woord in beide gevalle gebruik word, nl. rahamim en die betekenis van beide hierdie gebede is ’n versoek; ’n smeking, dat God getrou aan Sy Woord en beloftes sal wees en hulle in hul oomblik van nood, uit die hand van hul vyand sal red. Net soos Salomo, het ook Daniël en sy vriende, God onvoorwaardelik geglo en vertrou dat Hy hulle wel sou verlos.

       Die Here openbaar Sy almag, deur Nebukadneser se hart sag te maak vir Daniël se versoek om uitstel, want toe die wêreldse raadgewers, "gespeel" het vir tyd het Nebukadneser woedend geword, maar nou gee hy toe en verleen uitstel aan Daniël.

       Die Here toon verder Sy liefde en genade vir Sy kind, deur alles aan Daniël te openbaar wat nodig is om die koning tevrede te stel en om hom en sy vriende se lewens te spaar. Wat Daniël natuurlik nog nie geweet het nie, is dat hierdie gebeure die begin was van baie groter dinge wat op hom en sy vriende gewag het (vv.19-23).   

5.    DANIËL BESING GOD SE KARAKTER:
       Nadat die Here die geheim van Nebukadneser se droom aan Daniël geopenbaar het, het Daniël in vv.19-23, God geloof vir Sy mag en wysheid.

       Ons moet verstaan en Daniël het verstaan, dat God en net God alleen oor die mag beskik om wêreldgebeure te beheer. Die toekoms van Babel het nie in die hande van die Babiloniese afgode gelê nie – daardie gode wat nie oor die vermoë beskik om te seën, óf te vervloek nie, trouens daar is geen aardse god wat vergelyk kan word met die lewende en ewige Skepper God nie, trouens Hy sê self in Jes.46:5-10 ~ Met wie kan julle My vergelyk, aan wie kan julle My gelykstel, met wie kan julle My op een lyn stel, wie kan ’n vergelyking met My deurstaan? 6Mense gooi goud uit hulle geldsak uit en weeg silwer op ’n skaal af; hulle huur ’n goudsmid, en hy maak daarvan ’n afgodsbeeld. Dan buig hulle voor hom en aanbid hom. 7Hulle tel hom op hulle skouers en dra hom, hulle sit hom op sy plek neer en hy staan daar, hy kan nie van daardie plek af padgee nie. As iemand na hom roep, antwoord hy nie, hy help hom nie uit sy nood nie. 8Dink hieraan en luister, neem dit ter harte, julle oortreders. 9Dink aan wat vroeër gebeur het, lank gelede; Ek is God, daar is geen ander nie; Ek is God, daar is niemand soos Ek nie. 10Ek kondig vantevore aan wat later sal kom, lank tevore al wat nog nie gebeur het nie. Ek sê wat Ek besluit het en dit gebeur, wat Ek wil, doen Ek. Daniël het geweet dat daar geen ander god soos die lewende God is nie en daarom het hy homself in die eerste plek na Hom gewend en nou loof en prys hy die enigste ware God vir Sy verlossing.

       Ek het gesê dat God wêreldgebeure beheer, maar Hy openbaar dit ook aan Sy diensknegte. Hy skenk wysheid  aan die wat dit nodig het en Hy openbaar dit wat nodig is t.o.v. die toekoms aan Sy kinders, soos in Daniël se geval. Hierdie feit staan so in skrille kontras met dít wat die Babiloniese raadgewers vir Nebukadneser gesê het, toe hulle in v.11 gesê het ~ Wat u vra, is te moeilik, daar is niemand wat dit vir u kan doen nie, behalwe die gode, en hulle woon nie onder die mense nie... "behalwe die gode" – en hulle woon nie onder mense nie, m.a.w. hulle gode is so ver verwyder van hulle af, dat hulle nie eers met die mens kan praat nie. Daniël se God lewe egter en Hy kán met Sy kinders praat en Hy doen dit inderdaad ook. Daar ís maar net een God en niemand is soos Hy nie.

       Hierdie is nie ’n feit wat net gegeld het vir Daniël en sy vriende nie – hierdie is ’n waarheid wat ons in ons dag ook moet vashou wanneer ons na antwoorde en oplossings soek, want daar is soveel stemme; soveel wêreldse wysheid en krag wat ons denke en ons fokus – ons geloof, so maklik kan verduister en besoedel. Soms kom dit in die vorm van mense wat God openlik verag en verwerp; soms in die vorm van vroom godsdienstigheid; of waar gesê word dat die seisoen van die Woord en prediking verby is en daar nou op mistiese en "New Age-wyse" gemediteer word en jou innerlike self verlig kan word deur te teer op allerlei Oosterse geloofservarings en metodes. Soms is dit in die vorm van wêreldse seminare en "quick-fix" planne wat aan ons opgedring word; in "postive confession", ens. Die wêreld se wysheid en oplossings lyk baie dikwels so mooi; so goed; so aantreklik; so eenvoudig, dat ons maklik "val" daarvoor – veral as bekendes en vooraanstaandes en selfs teoloë aan bekende universiteite dit propageer.

       Wat hierdie mense vergeet, is dat hul planne en "wysheid" en pogings, gegrond word op presies dieselfde verganklike idees as dié waarop Nebukadneser en sy sterrewiggelaars hul planne en "wysheid" gegrond het – dit kom alles tot niks! Hoe kan dit tot enige iets kom as hulle die bestaan en die soewereiniteit van God Almagtig ontken en ignoreer – Hy wat alles geskep het en alles beheer ~ Kennis begin met die dien van die Here; dit is net dwase wat wysheid en opvoeding gering ag (Spr.1:7).

       Daniël loof en prys die Here egter ook vir die feit dat God dié Een is wat ...tye en omstandighede verander, wat konings afsit en konings aanstel (v.21a). Daniël het hierdie feit geken, nl. dat konings kom en gaan, omdat hy die woorde van die profesie van Jesaja goed moes geken het en daarom loof hy die Here vir Sy soewereiniteit ~ God het sy troon bokant die hemelkoepel, die aardbewoners is vir Hom soos sprinkane. Hy span die hemel oop soos ’n tentdoek, oop soos ’n tent vir die mense om onder te woon. 23Hy maak die vername mense tot niks, die heersers van die wêreld asof hulle nie bestaan nie. 24Skaars is hulle geplant, skaars is hulle gesaai, skaars het hulle wortelgeskiet, of Hy blaas sy asem oor hulle, en hulle verdor, die stormwind vat hulle weg soos stoppels. 25Met wie kan julle My dan vergelyk, wie is soos Ek? vra die Heilige (Jes.40:22-25). God is in beheer van alles en almal – ook die alledaagse, maar ook van ’n regering wat ons, in ons dag moontlik mag frustreer ~ Elke mens moet hom onderwerp aan die owerhede wat oor hom gestel is. (En dan hierdie woorde) – Daar is immers geen gesag wat nie van God kom nie, en die owerhede wat daar is, is daar deur die beskikking van God (Rom.13:1).

       Daniël het egter nie net God se almag besing nie – in v.22 besing hy ook die feit dat God alwetend is. Daniël loof die Here omdat Hy, ...ondeurgrondelike en verborge dinge openbaar en wat weet wat in die duisternis is. Verborge en ondeurgrondelike dinge soos die mens (ons) gedagtes wat weggesteek kan word vir andere, maar nie vir God nie. Hieroor sê Dawid in Ps.139:4-6, o.a. die volgende ~ Daar is nog nie ’n woord op my tong nie of U, Here, weet wat dit gaan wees. 5U omsluit my van alle kante, U neem my in besit. 6Dié wete oorweldig my, dit is te hoog vir my begrip.
      
       Nebukadneser het gedink dat hy sy droom geheim gehou het vir selfs die waarsêers, maar hy het nie rekening gehou met die alwyse en alwetende God nie!

       Die besef dat ons Here alwetend en alwys is, behoort vir ons geweldig vertroostend en versterkend te wees, want wanneer ons nie herwaarts of derwaarts weet nie, sal Hy ons lei, want Hy weet wat Sy wil vir ons is. Al weet ons nie wat die toekoms inhou nie, weet ons dat Hy die toekoms in Sy hande hou.

       Ons moet egter ook terselfdertyd besef dat God te alle tye die duistere dinge in óns lewe raaksien en daarom moet ons o.a. Paulus se oproep in Kol.3:8-10 baie ernstig opneem ~ Maar nou moet julle ook dit alles aflê, naamlik toorn, woede, boosheid, laster, skandelike taal uit julle mond. Lieg nie vir mekaar nie, omdat julle die oue mens met sy werke afgelê het en julle jul met die nuwe mens beklee het wat vernuwe word tot kennis na die beeld van sy Skepper.

       In v.23 sien ons dat die Here reageer op Daniël se gebedsversoek en sy lofuitinge en Hy het nie alleen die inhoud van die droom aan Daniël geopenbaar nie, maar Hy gee ook die uitleg van die droom aan Daniël en daarvoor loof en prys Daniël Hom.

       Hoe openbaar God Homself aan ons in hierdie dae? Deur Sy Woord en die vraag is: Wat maak ons met God se openbarings aan ons? Vertrou ons dit? Glo ons dit? Eer ons Sy Naam daarvoor? Pas ons dit toe in ons lewe? 

6.    AFSLUITING:
       Nog iets wat ons uit hierdie optrede van Daniël kan en moet leer, is dat hy die oomblik toe hy gekonfronteer was met ’n krisis in sy lewe, hy nie gedoen het wat ons so dikwels doen nie – nee, hy het heel eerste na Sy Hemelse Vader gegaan. Vir hom was die aanhaling van Jonathan Edwards ’n absolute waarheid en realiteit: Lord, stamp eternity on my eye-balls".

       Ons is so geneig om altyd eers die heel ergste in die situasie te sien en allerlei nagmerries oor die uitkoms van die situasie te sien en te bedink. Of ons maak gou ons eie plannetjies en neem besluite, sonder om ons Hoë Priester eers daaroor te raadpleeg. Ons mors ure en dae en weke en maande en soms selfs jare om ongelukkig te wees; bitter te wees; tyd te mors op wêreldse dinge wat nie is nie en wat nooit sal wees nie (’n beter werk; "potholes"; korrupsie; mense wat my teleurstel; ens., ens.). In werklikheid bal ons ook die vuis teen God soos wat Nebukadneser gedoen het, in plaas daarvan om alles teen die agtergrond van die ewigheid te sien en ons te onderwerp aan God se soewereine wil en plan met ons lewe en Sy eer in die proses te soek.

       Ons moet ten alle tye, ongeag hoe groot of hoe klein ons krisis is; of die besluit wat ons moet neem, heel eerste na ons Voorspraak en Hoë Priester, Jesus Christus gaan.

       As ons, ons harte en ons gedrag, of optrede wil laat beïnvloed en verander deur die Evangelie, is dit belangrik dat ons, ons gevoelens en gedagtes en emosies, op die regte wyse sal hanteer – ons moet ons gedagtes rig op God se ordes – op Sy Woord met ander woorde. Ongelukkig mis ons so baie, want ons het in ’n groef verval deur maar sommer alles net gou-gou self uit te sorteer en/of ons emosies die loop te laat neem oor die situasie. C.J. Mahaney som dit baie mooi op as hy sê: "We let our feelings tell us what is true, instead of letting the Truth transform our feelings." Wanneer ons, ons gevoelens en eie idees oor ons omstandighede vertroetel gee ons ’n groter prioriteit daaraan as aan die geskrewe Woord.

       Die opneem van my kruis BEGIN waar ek my gevoelens; my emosies; my onsekerhede en my worstelinge, onderdanig maak aan God en Hom vra en vertrou dat Hy Sy Woord en wat Hy sê, my sal laat beheer  en nie sal toelaat dat my eie gedagtes en gevoelens dit  doen nie.

       Laat ons die Psalmdigter se woorde in Ps.42:12 ons eie maak ~ Waarom is ek so in vertwyfeling en waarom kerm ek so? Vertrou op God! Ja, ek sal weer vir Hom ’n loflied sing. Hy is my helper en my God! Kom ons bid ook die woorde van Dawid in Ps.43:3-5 gereeld vir onsself en vir mekaar ~ Stuur u lig en u waarheid dat dié my lei en my bring na u heilige berg, na u woning! 4Laat my ingaan na die altaar van God, die God oor wie ek wil jubel en juig, dat ek U kan loof met die lier, o God, my God! 5Waarom is ek so in vertwyfeling en waarom kerm ek so? Vertrou op God! Ja, ek sal weer vir Hom ’n loflied sing. Hy is my helper en my God!


[1] Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Sondag 21 Julie 2013