Saturday, 13 December 2014

Die Profeet Sagaria - 07 (Sesde, Sewende en Agste Naggesigte – (Die Vlieënde Boekrol, ʼn Vrou in ʼn Mandjie en die Strydwaens)

1.     INLEIDING:
       Die eerste vyf naggesigte wat Sagaria ontvang het, was geweldig bemoedigend, want elke gesig het getuig van seën en voorspoed wat op hande is vir Israel. Dit het getuig van die hernude teenwoordigheid van God tussen Sy volk; die daarstelling van nuwe leiers; die voorspoed wat Jerusalem gaan beleef; die reiniging van die mense wat gesimboliseer word deur die reiniging van Josua die priester en ook die rol wat Serubbabel gaan speel in die herbou van die tempel, terwyl dit alles heen wys na die groot en ewige profeet en priester, Jesus Christus en dit is Hy wat die Heilige Gees in oorvloed aan Sy kinders gaan skenk soos bevestig in Joh.14:16-17 ~ Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle ’n ander Voorspraak stuur om vir ewig by julle te wees, 17naamlik die Gees van die waarheid. Die wêreld kan Hom nie ontvang nie, omdat hulle Hom nie sien en Hom nie ken nie. Maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees.

       Ons sal egter nou in die volgende drie gesigte sien dat, voor die wonderlike simboliek en beloftes van die vyfde naggesig ʼn realiteit kan word, nl. die Heilige Gees wat die Kandelaar van olie sal voorsien, sal beide die volk en die land eers gereinig moet word van alles wat hulle besmet met sonde en ʼn wig indryf tussen hulle en God. Die volgende drie naggesigte (5:1-6:8), is dus gesigte van oordeel en daarom moet ons na al drie gelyktydig kyk.

       Ons lees in Jes.48:10 ~ Ek het jou gelouter, maar nie soos silwer gelouter word nie, Ek het jou gelouter in die smeltkroes van ellende.

       Ons sien dus dat die ballingskap die geleentheid aan die Israeliete gebied het om die hulle geestelik te reinig, maar ons sien ook in Jer.6:29 dat hulle steeds nie volkome gereinig was nie ~ Die blaasbalk blaas, maar die vuur kry nie die lood afgeskei nie; die smelter smelt verniet, hy kry die afvalstowwe nie uitgesmelt nie. Kom ons kyk in ons eerste gedeelte van ons Skriflesing vir vandag wat hierdie lood – hierdie onsuiwerhede was.

2.     DIE VLIEËNDE BOEKROL (5:1-4):
·           Skriflesing:
       Sag.5:1-4 ~ Ek het weer ’n gesig gesien. Daar was ’n boekrol wat in die lug sweef. 2Die engel het vir my gevra: “Wat sien jy?” en ek het gesê: “Ek sien ’n boekrol wat in die lug sweef. Dit is nege meter lank en vier en ’n half meter breed” [...sy lengte is twintig el en sy breedte tien el (OAV)]. 3Toe sê die engel vir my: “Dit is die vervloeking wat oor die hele aarde strek, want elke dief het tot nou toe ongestraf gebly, en elkeen wat ’n vals eed aflê, het tot nou toe ongestraf gebly.” 4Ek stuur die vervloeking, sê die Here die Almagtige. Dit sal in die dief se huis ingaan, en in die huis van dié wat in my Naam ’n vals eed aflê. Dit sal daar bly en die huis verwoes, hout en klip, alles.

       Weereens hef Sagaria sy oë op en hierdie keer sien hy ʼn vlieënde boekrol. Hierdie boekrol was groot (20 el lank en 10 el breed = omtrent 9 meter by 4,5 meter) en volgens die engel wat die gesig verklaar, het die boekrol ʼn vloek gesimboliseer wat oor die land uitgestuur word. As ons na Deuteronomium kyk, sien ons dat ʼn vloek, die gevolg daarvan is, wanneer God se verbondswet verbreek word ~ As jy nie luister na die Here jou God nie en jy gehoorsaam nie al sy gebooie en voorskrifte wat ek jou vandag gee, en jy lewe nie daarvolgens nie, sal al hierdie strawwe oor jou kom en jou tref (Deut.28:15).

       Ons moet onthou dat die verbond wat by die Sinai gesluit was, altyd ʼn belofte van seën ingehou het, maar ook die belofte van straf as daar nie gehou word by die verbond nie.

       Die volk was waarskynlik op hierdie stadium ná die ballingskap houtgerus, want hulle herbou dan die tempel – hulle doen die regte ding in hulle oë – hulle maak weer ʼn woonplek vir die Allerhoogste in hulle midde en as hulle dit doen, sal die Here hulle weer seën soos wat Hy dan belowe het in die voorafgaande gesigte. Ongelukkig het hulle nie besef of onthou, dat hulle ook hul harte moes herbou (vernuwe) en heelhartig terugkeer na die voorwaardes van die verbond nie. Die gevolg hiervan was ʼn reuse boekrol waarin die voorwaardes van die verbond uiteengesit is en dit is groot genoeg geskryf, sodat dit duidelik gelees kon word. Hierdie boekrol is ook teken van God se gesag wat oor die volk hang en roep hulle op tot verantwoording oor hulle sonde, veral hulle diefstal en meineed (of te wel leuens). Hierdie twee sondes wat aan weerskante van die boekrol geskryf staan (soos die kliptafels van die wet), het die straf op daardie sondes bevat en die een was in ooreenstemming met die derde gebod (Eks.20:7 ~ Jy mag die Naam van die Here jou God nie misbruik nie) en die ander het die vloek bevat vir oortreders van die agste gebod (Eks.20:15 ~ Jy mag nie steel nie).

       Die inwoners van Jerusalem en omgewing was verarm a.g.v. die ballingskap en het gesukkel om finansieel kop bo water te hou, maar dit was geen rede om te steel nie en omdat hierdie sonde ʼn oortreding van die voorwaardes van die verbond was, was dit nie alleen sonde teen medeburgers nie, maar sonde direk teen God ook.  

       Die grootte van die rol is ook baie betekenisvol en daarvoor moet ons na 1 Konings 6:3 blaai ~ Die voorportaal aan die voorkant van die tempel was tien meter lank, net so lank as wat die tempel breed was. Die breedte daarvan was vyf meter. Die vlieënde boekrol het derhalwe presies dieselfde afmetings as dié van die voorportaal van die tempel. Ek het gesê dat die grootte van die vlieënde boekrol betekenisvol was, omdat die voorportaal van die tempel juis die plek was waar die priester regsprake (oordeel) gelewer het. Die implikasie van hierdie ooreenstemmende groottes, is dan dat die volk, terwyl hulle die tempel herbou, hulle terselfdertyd aandag moet skenk aan die gemeenskapsonde in hul midde. Hulle kan nie die tempel herbou en verwag dat God steeds met hulle in ʼn verbondsverhouding moet staan soos in die tyd van die tempel van Salomo, indien hulle voortgaan en blatante verbondsoortredinge in hul midde toelaat nie. Die regte vorm van aanbidding vereis dus die regte leefwyse in die oë van die Here en as dit nie die geval is nie, sal God se teenwoordigheid in hulle midde nie een van verbondseën wees nie, maar een van verbondsvervloeking.

       In v.3 sien ons egter ook dat die Here in elk geval die diewe en diegene wie vals ede aflê, gaan straf en die woorde wat hier gebruik word, nl. ...dit sal daar bly en die huis verwoes, hout en klip, alles, is in ooreenstemming met o.a. Lev.14:33-57 wat handel oor ʼn huis wat besmet is met muf en na ʼn poging deur die priester om dit te reinig, nog steeds besmet is – so ʼn huis moet in geheel afgebreek word en al die boumateriaal moet op ʼn onrein plek buite die stad gegooi word. Op dieselfde wyse sal diewe en leuenaars, geen plek vind waar hulle kan wegkruip nie – hulle sal verwoes word, want in God se oë sal oortreders van die verbond (hulle wie volhard in sonde) nie ongestraf bly nie.

       Daar is twee vrae wat ons sal moet beantwoord:
·           Waarom word hierdie twee spesifieke sondes uitgelig en die antwoord hierop is waarskynlik omdat dit die twee mees algemene sondes in Israel op daardie stadium was, maar hierdie twee is verteenwoordigend van alle ander sondes en dit impliseer dat Israel skuldig is aan die verbreking van die hele wet. N.a.v. Jak.2:10 is iemand skuldig t.o.v. al die gebooie indien hy struikel t.o.v. selfs net een van die gebooie.
·           Wat word ten diepste bedoel met hierdie twee sondes (diefstal en meineed)? Was dit regtig net so eenvoudig, of het dit meer as net bv. gewone diefstal geïmpliseer?

       Wanneer Sagaria praat van “steel” is dit ʼn ander manier om te sê dat jy jou naaste benadeel. Net so met meineed - meineed is niks anders as ʼn blatante miskenning van die heiligheid van God nie. Hierdie twee sondes is dus net ʼn ander manier om die hele wet en die profete op te som, soos wat Jesus in Matt.22:37-40 gedoen het, toe Hy gereageer het op een van die Fariseërs wat Hom gevra het wat die grootste gebod is en Hy geantwoord het... ~  Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel’ en met jou hele verstand. 38Dit is die grootste en die eerste gebod. 39En die tweede, wat hiermee gelyk staan, is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’  40In hierdie twee gebooie is die hele wet en die profete saamgevat.
 
3.     DIE VROU IN DIE GRAANMANDJIE (5:5-11):
       Die volgende gesig (die sewende) is baie nou verwant aan die vorige gesig. In hierdie gesig sien Sagaria ʼn graanmandjie en dit het ook te doen met die verwydering van die boosheid onder die volk.
·           Skriflesing:
       Sag.5:5-11 ~ Die engel wat vir my die gesigte moes uitlê, het vorentoe gekom en vir my gesê: “Kyk daar! Kyk wat kom daar aan.” 6Ek het gevra: “Wat is dit?” en hy het gesê: “Dit is ’n graanmandjie wat aankom.” Hy het bygevoeg: “Dit bevat die sonde van almal op aarde.” 7Toe word die ronde looddeksel van die mandjie opgelig, en daar sit ’n vrou binne-in die mandjie! 8Die engel het gesê: “Dit is die goddeloosheid!” Hy het haar teruggestamp in die mandjie en die looddeksel oor die bek toegeklap. 9Toe sien ek twee vroue aankom wat met vlerke op die wind sweef, vlerke soos dié van ’n groot sprinkaanvoël. Hulle het die mandjie opgetel en is daarmee die lug in. 10Ek vra toe die engel wat vir my die gesigte moes uitlê: “Waarheen gaan hulle met die mandjie?” 11Hy het geantwoord: “Hulle gaan vir die mandjie ’n huis bou in Sinar. As dit klaar is, sal die mandjie daar op die plek gesit word waar hy hoort”.

       In die gesig wat gehandel het oor die boekrol, is die boosheid verwyder d.m.v. oordeel, terwyl in hierdie gesig van die vrou in die mandjie, word afsnyding gebruik om sonde te verwyder.

       Nadat die deksel van die mandjie opgelig is, sien Sagaria ʼn vrou binne-in die mandjie. Net soos die geval met die boekrol is ook hierdie mandjie baie groter as normaal en beweeg die mandjie oor die land en dit dui op die wydverspreidheid van sonde onder die volk en die feit dat die vrou aanvanklik verberg is, mag moontlik daarop dui dat die sonde wat hier ter sprake is, sonde is wat weggesteek word en nie so duidelik sigbaar is vir die algemene publiek nie – wat nie openlik bedryf word nie. Wat sou hierdie sonde wees?

       Die betekenis van hierdie sonde blyk nie duidelik uit die onmiddellike konteks nie, behalwe dat die woord mandjie in die Hebreeus, ʼn אֵיפָה [ʾeyphah, of (verkort), ʾephah /ay·faw/] is. Die OAV is dan ook so vertaal, asook die meeste Engelse vertalings, nl. dat ʼn “efa” te voorskyn gekom het. Wat is ʼn “efa”? ʼn “Efa” is ʼn maathouer waarmee graan en meel gewoonlik afgemeet is, bv. in Rut.2:17 ~ En sy (dit is Rut) het op die land opgetel tot die aand; en toe sy uitslaan wat sy opgetel het, was dit omtrent ’n efa gars. ʼn “Efa” was gelykstaande aan nagenoeg 22 liter. Hierdie “efa” was dikwels deur handelaars misbruik om kliënte mee te verneuk (soos ʼn skaal wat nie ge-yk is nie). In Amos 8:4-6 sien ons hoe dat Amos hieroor kla en in v.5 sê hy ~ ...Ons laat die skaal mos kul soos ons wil!” Mense wat hul kliënte op so ʼn manier verkul kan maar net beskryf word as boos en dit is presies wat die vrou in die graanmandjie vir ons wil uitbeeld, nl. boosheid.

       Nadat die vrou aan Sagaria gewys is, slaan die engel die deksel van die mandjie toe en dan sien hy twee vroue figure met vlerke soos die van ʼn sprinkaanvoël of ʼn ooievaar wat die mandjie wegdra na Sinar, of te wel Babilon. Babilon was die plek waar die Israeliete vantevore betaal het vir hulle boosheid. Hierdie boosheid in die mandjie wat op die huidige Israel dui, word dus weggevoer na ʼn plek waar boosheid hoort, nl. Babilon – die sonde word afgesny en weggestuur na ʼn plek wat voorberei is daarvoor. Die enigste manier om met sonde te handel, is om dit met wortel en tak uit te roei; af te sny; te verseël en “weg te stuur”.

       Hierdie twee gesigte klink na slegte nuus, maar dit was ten diepste baie goeie nuus, want God het hierdeur aangetoon dat Hy steeds nie Sy kinders sal verwerp a.g.v. hul boosheid nie, dat Hy Sy verbondgesag sal gebruik om sonde op twee maniere onder die volk uit te roei, nl. oordeel en verwydering – Hy sal Sy wraak uitstort oor diegene wie hulle nie bekeer nie en Hy sál daardie sonde verwyder uit die midde van die volk en ware aanbidding sal weer gevestig word in die midde van die volk. Hierdie belofte van die Here is in ooreenstemming met Ps.103:12 ~ So ver as die ooste van die weste af is, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons af, asook Jes.43:25 ~ En tog is dit Ek wat jou opstandigheid vergewe. Ek is getrou aan Myself, Ek dink nie meer aan jou sondes nie.
   
4.     DIE PERDE EN STRYDWAENS (6:1-8):
       Die agste en finale naggesig wat Sagaria ontvang, was dié van vier strydwaens. Ons sal sien dat hier baie interessante ooreenkomste met die eerste naggesig bestaan, want in beide is daar sprake van gekleurde perde en beide eindig met ʼn prentjie van wêreldwye vrede, maar daar bestaan tog ook bepaalde verskille, want in die eerste naggesig was daar perde, maar nie strydwaens nie. In die eerste het die perde ingekom om verslag te lewer, terwyl in hierdie laaste naggesig is die perde angstig om te vertrek. Die kleure en volgorde van die perde verskil ook in beide hierdie gesigte.
·           Skriflesing:
       Sag.6:1-8 ~ Ek het weer ’n gesig gesien. Daar was vier strydwaens wat tussen twee berge uitgekom het, berge van koper. 2Voor die eerste strydwa was bruin perde en voor die tweede swartes. 3Voor die derde was wit perde en voor die vierde skimmels. 4Ek het vir die engel wat vir my die gesigte moes uitlê, gevra: “Wat beteken dit, Meneer?” 5Hy het vir my gesê: “Die strydwaens het gestaan voor Hom aan wie die hele aarde behoort. Nou gaan hulle in die vier windrigtings. 6Die strydwa met die swart perde gaan noord, dié met die wittes gaan agterna, en dié met die skimmels gaan suid.” 7Toe die skimmel perde wegtrek, wou hulle die aarde deurkruis, maar eers toe die engel sê: “Spring weg, deurkruis die aarde!” het hulle dit gedoen. 8Die engel het vir my geskree: “Kyk, dié wat noord gaan, bring die Gees van die Here daarheen!”

       Die feit dat hier sprake is van strydwaens, dui vir ons of op militêre aktiwiteite, of op ʼn koninklike optog, of beide en in hierdie gesig is dit wel lg. – die koning is in aantog, maar die krygers op die strydwaens is gereed om enige oomblik hul pyle af te vuur. Die beeld van ʼn strydwa, of strydwaens word ook dikwels gebruik om God as die Almagtige Koning en Kryger uit te beeld ~ For behold, the Lord will come in fire And His chariots like the whirlwind, To render His anger with fury, And His rebuke with flames of fire (Jes.66:15 – ESV).

       In v.5 sien ons dat hierdie strydwaens aan die Here behoort en die feit dat hier sprake is van vier strydwaens is om die vier windrigtings te simboliseer waarin hulle uitgestuur gaan word – oor die wêreld heen. Hierdie perde en strydwaens wag vir die Here om te sê: Spring weg en toe hulle die Here hoor sê, spring weg (v.7), toe spring hulle weg en hulle het die wêreld deurkruis soos wat die opdrag gelui het! Niks word egter gesê van die ooste nie en ook nie van die bruin perde nie.

       Die perde wat na die noorde gaan is op ʼn wraaktog en ons weet dit omdat daardie perde swart is – hulle missie is om al die volke wie se aanvalle altyd vanuit die noorde gekom het, se mag te verbreek en te straf – die skimmelperde gaan suid om Israel se ou vyand, Egipte te straf (waarskynlik is daar geen sprake van die bruin perde nie, omdat hulle hulself reeds uitgewoed het teen Babilon en Persië wat in die ooste geleë was).

       V.8 dui daarop dat die werk afgehandel is, die volk se sonde is veroordeel en God se oordeel rus op die onbekeerdes en die boosheid is verwyder onder die volk en laastens rus God se oordele op die aangrensende nasies – die vyande van Israel is gestraf (plaaslik en internasionaal) – God se heiligheid en soewereiniteit vier dus hoogty en nou kan God se Gees rus, maar ook God se volk.

5.     TOEPASSING:
       Twee onmiddellike teologiese waarhede staan vir ons baie duidelik uit in hierdie laaste drie naggesigte wat Sagaria ontvang het:
·           God is voorwaar soewerein en in beheer van die wêreld se geskiedenis (ook van ons land) en hoor net wat sê Jesaja hieroor ~ Dink aan wat vroeër gebeur het, lank gelede; Ek is God, daar is geen ander nie; Ek is God, daar is niemand soos Ek nie. 10Ek kondig vantevore aan wat later sal kom, lank tevore al wat nog nie gebeur het nie. Ek sê wat Ek besluit het en dit gebeur, wat Ek wil, doen Ek (Jes.46:9-10). Hy is inderdaad Koning van die nasies soos Openb.15:3 dit bevestig!
·        Tweedens is God ʼn heilige God wat sonde nie ongedaan laat nie – ons lees in Ps.115:5-6 die volgende ~ Die Here onderskei tussen regverdige en goddelose. Wie geweld liefhet, haat Hy. 6Hy laat vuur en swael reën op die goddeloses, ’n skroeiende wind: dit is die beker wat hulle sal drink. 7Die Here is regverdig. Hy het die mense lief wat regverdig en opreg handel, en Hy sal by hulle wees.
·        Derdens gaan Dawid voort in Ps.115:7 en lig hy vir ons ʼn derde eienskap van God uit, wat ook duidelik blyk uit Sagaria se laaste gesigte, nl. God se genade oor die ootmoediges (hulle wie hul bekeer van hul sonde) ~ Die Here onderskei tussen regverdige en goddelose. Wie geweld liefhet, haat Hy. 6Hy laat vuur en swael reën op die goddeloses, ’n skroeiende wind: dit is die beker wat hulle sal drink. 7Die Here is regverdig. Hy het die mense lief wat regverdig en opreg handel, en Hy sal by hulle wees.
·        Vierdens is Christus Jesus die oorwinnaar, nie net oor sonde nie, maar ook oor die vyand en is Hy die Heerser oor die ewige Koninkryk. Ons sien hierdie feit regdeur die Nuwe Testament uitgespel, maar ook duidelik in hierdie naggesigte van Sagaria, maar regdeur die eeue heen ontken soveel mense dit, of sien hulle dit net nie raak nie, omdat die Heilige Gees hulle geestesoë nie geopen het nie.

       Iets waarna ons egter tog moet kyk, is die feit dat Sagaria hierdie bemoedigende nuus van die Here ontvang het en die Israeliete was bemoedig, maar tog, nagenoeg 500 jaar na Sagaria het die volk nog steeds gebuk gegaan onder buitelandse onderdrukkers, want na die Persiërs (Sagaria se tyd) het die Grieke oorgeneem en na die Grieke, die Romeine – hoe moet ons dan nou hierdie gesigte verstaan en hoe moet ons die teologiese waarhede wat voortspruit uit hierdie gesigte verstaan, as dit dan oënskynlik nie gebeur nie?

       Gedurende die eerste eeu na Christus, onder die Romeinse heerskappy was hierdie verwagting vir ʼn politieke verlosser alreeds so groot, dat die volk onmiddellik aanvaar het dat Jesus hierdie verlosser is wat die Romeinse onderdrukking d.m.v. ʼn revolusie of wat ook al sou stopsit. Hierdie verwagting word bevestig deur Lukas in Luk.19:11 ~ Terwyl die mense na Jesus geluister het, het Hy nog ’n gelykenis vertel, aangesien Hy naby Jerusalem was en hulle gedink het die koninkryk van God sou nou enige oomblik kom. Selfs Jesus se dissipels het ure of dalk selfs minute voor Sy hemelvaart nog so ʼn verwagting gehad ~ Toe hulle ’n keer weer bymekaar was, het hulle vir Jesus gevra: “Here, is dit nou die tyd dat U die koninkryk vir Israel weer gaan oprig?” (Hand.1:3).

       Die Ou Testament het hierdie verwagting aangewakker deur bepaalde profesieë wat die meerderheid van die volk nie verstaan het nie – bv. Jes.52:7 ~ Hoe wonderlik klink op die berge die voetstappe van hom wat die goeie boodskap bring, wat vrede aankondig, wat die goeie tyding bring, wat redding aankondig, wat vir Sion sê: “Jou God is Koning!” Die Jode het deur die eeue heen geglo dat hierdie Een van wie Jesaja geprofeteer het, hulle van politieke onderdrukking sou verlos, maar vandag weet ons, met die lig wat Heilige Gees aan ons gee, dat hier van Jesus Christus die ewige Verlosser gepraat word wat die sonde verlos van die Israeliete en ook die sonde van die geslagte en volke daarna, wie in Hom sou glo – Hy wat versoening tussen God en die uitverkorenes kom bewerkstellig het.

       Ja, Jesus het gekom om ook die magte van hierdie wêreld omver te gooi – Hy hét die Babiloniese- en die Persiese- en uiteindelik die Romeinse onderdrukkers omver gegooi, maar primêr het Jesus die bose magte oorwin en gaan hulle aan die einde van die tye finaal verslaan word en na die geestelike Babilon gevonnis word – Jesus Christus se missie was nie net plaaslik nie, ook nie net nasionaal, of selfs internasionaal nie – nee, dit was kosmies van aard, want Jesus het gekom om die boosheid wat agter elke onderdrukker verskuil staan, te oorwin – ook dié (en laat ek dit maar uitspel) wat agter ʼn Hitler en ʼn Verwoerd en vele ander gestaan het en nog in die toekoms sal staan – óók die van die “Islamic State of Iraq” (IS of ISIS), die Taliban en vele ander – ook individue wat ongeregtigheid, vyandskap, haat, tweespalt, ens., in ons lewens saai.

       Jesus het in en deur Sy dood én opstanding, reeds die oordeel en doodsvonnis oor die vyand en alle boosheid uitgespreek en die dag van afrekening kom teen ʼn duiselingwekkende spoed nader ~ Hy het elke mag en gesag ontwapen en hulle in die openbaar vertoon deur hulle as gevangenes in die triomftog van Christus mee te voer (Kol.2:15)!

       Waar staan ek en jy wat hierdie sake betref? Is ons daar waar Christus jou ook gaan oordeel? Is jy ook ʼn oortreder van die verbond – die nuwe verbond, of is jy deel van hulle wie glo in Jesus Christus as kosmiese Regter, maar ook as liefdevolle en genadige Verlosser wat vir jou sonde aan die kruis op Golgota gesterf het en weer opgestaan het?


       Laastens – Oordink en top ek en jy voortdurend aan en oor ons swaarkry en onaangename situasies – is dit waar ons fokus voortdurend is, of is ons fokus gefikseer op die toekoms – op die oorwinning wat Christus vir ons deur Sy kruisdood en Sy opstanding en Sy hemelvaart bewerkstellig het – op Rom.8:37 ~ Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet?

Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Sondag 14 Desember 2014

Saturday, 6 December 2014

Die Profeet Sagaria - 06 (Vyfde Naggesig – Die Goue Kandelaar en Twee Olyfbome)

1.     INLEIDING:
       Verlede week het ons gesien dat die vierde naggesig wat Sagaria ontvang het, die fokus gevestig het op geestelike hindernisse wat die volk van God moes oorkom en hoe dit geëindig het met ʼn verwysing na die Messias wat as loot sou uitspruit uit die Huis van Dawid.

       Die vyfde gesig lei die tweede stel van gesigte in en dit het, soos die vorige gesig, ʼn plaaslike impak en gaan voort en toon aan hoe diegene wat ʼn nuwe “posisie” in die Here ontvang het, hul werk in diens van die Here moet voort sit. Dit fokus dan spesifiek op die rol wat Serubbabel as burgerlike leier sal moet speel, veral in die lig van politieke teenstand wat hy ervaar en veral druk wat hy ervaar om die voltooiing van die tempel te verhaas.

       Uiteindelik eindig hierdie gesig met ʼn Messiaanse profesie wat beide die koning en die priester behels.

2.     SKRIFLESING:
       Sag.4:1-14 ~ Die engel wat vir my die gesigte moes uitlê, het teruggekom en my wakker gemaak, net soos ’n mens uit sy slaap wakker gemaak word. 2Hy het vir my gevra: “Wat sien jy?” maar hy het self voortgegaan: “Ek het gesien daar is ’n kandelaar, heeltemal van goud; bo-op is ’n oliebak met sewe tuite en sewe lamppitte in elkeen. 3By die kandelaar is twee olyfbome, een regs van die oliebak en een links.” 4Ek vra toe vir die engel wat vir my die gesigte moes uitlê: “Wat beteken dit, Meneer?” 5Hy het geantwoord: “Weet jy nie wat dit beteken nie?” Ek het gesê: “Nee, Meneer.” 6Toe sê hy vir my: “Hier is die boodskap van die Here aan Serubbabel: Nie met mag en krag sal jy slaag nie, maar deur my Gees, sê die Here die Almagtige.” 7Selfs die grootste berg sal voor Serubbabel ’n gelykte word. As Serubbabel die laaste klip van die tempel op sy plek sit, sal die mense roep: “Mooi, mooi!” 8Daarna kom die woord van die Here tot my: 9Serubbabel se hande het hierdie tempel se fondamente gelê, sý hande sal dit klaar bou. Dan sal julle weet dat die Here die Almagtige my na julle toe gestuur het. 10Moenie die dag van klein dingetjies gering ag nie. Die mense sal bly wees wanneer hulle sien Serubbabel gaan aan met die bouwerk. Daardie sewe oë op die klip voor Jesua is die oë van die Here wat oor die hele wêreld kyk. 11Toe vra ek vir die engel: “Wat beteken daardie twee olyfbome weerskante van die kandelaar?” 12En verder het ek ook vir hom gevra: “Wat beteken die twee bondels olyftakkies langs die twee goue pype waaruit die goudkleurige olie stroom?” 13Hy het vir my gesê: “Weet jy nie wat dit beteken nie?” en ek het gesê: “Nee, Meneer.” 14Toe sê hy: “Dit is die twee gesalfdes wat in diens staan van Hom aan wie die hele aarde behoort.”

3.     DIE GOUE LAMPSTAANDER (vv.1-2):
       Sagaria moes vir ʼn oomblik aan die slaap geraak het en die engel wat die gesigte vir hom verklaar, maak vir Sagaria wakker, sodat hy die volgende gesig met hom kan deel (nog ʼn baie duidelike bewys dat hierdie naggesigte gedurende een en dieselfde nag vir Sagaria gegee is).

       Die engel wat tot dusver in gesprek met Sagaria was, is nou meer aktief betrokke as met die vorige gesigte en hy wag nie vir Sagaria om te vra wat die gesig beteken nie – nee, hy vra vir Sagaria wat hy sien en sonder om vir Sagaria te wag om te sê wat hy sien, skilder die engel die prentjie self.

·           Die Inligting (vv.1-2):
       Die engel sê vir Sagaria dat hy ʼn goue lampstaander sien met sewe vlamme of ligte. Ons sien in v.12 dat daar ʼn oliebak met sewe tuite bo-op die kandelaar was. Uit hierdie oliebak het daar konstant olie gevloei na die lamppitte sodat die vlamme permanent kon brand – onuitblusbaar dus.

       Wanneer ʼn mens die prentjie in jou geestesoog sien, dink jy onmiddellik aan die bekende Joodse Menora, maar tog was hierdie lampstaander heeltemal anders a.g.v. o.a. die oliebakke. Daar is mense wat reken dat die beskrywing van hierdie kandelaar nie so duidelik is nie en daarom kom sommiges daarby uit dat daar slegs sewe lamppitte en net sewe vlamme/ligte was, maar die meeste vertalings is dit eens dat elke tuit wat uit die oliebak geloop het, sewe vlamme elk gehad het, wat beteken dat daar 49 vlamme in totaal dus was. Hierdie detail is egter nie die kruks nie – die betekenis van hierdie lamp en vlamme is egter die kruks.

·           Die Interpretasie:
Daar bestaan geen twyfel daaroor dat die goue kandelaar God se uitverkorenes verteenwoordig nie – aanvanklik Israel en dan later die Nuwe Testamentiese Kerk. Waarom sê ek dat daar geen twyfel bestaan oor die betekenis van hierdie kandelaar nie? Omdat verskeie Skrifverwysings dit bevestig. Jesaja het die volgende van Israel gesê ~ Kom, Jerusalem, laat skyn jou lig! Vir jou het die lig gekom, die magtige teenwoordigheid van die Here het vir jou lig gebring. 2Daar is donkerte oor die aarde, duisternis oor die nasies, maar oor jou gee die Here lig, oor jou verskyn sy magtige teenwoordigheid. 3Nasies kom na jou lig toe en konings na die glans van die nuwe dag wat vir jou aangebreek het (Jes.60:1-3). In Jes.62:1 sê Jesaja ~ Ter wille van Sion sal ek nie swyg nie, ter wille van Jerusalem sal ek nie stilbly nie totdat daar vir hom redding deurgebreek het soos ’n nuwe dag, soos die lig van ’n brandende fakkel.

In die Nuwe Testament noem Jesus Sy dissipels, die lig vir die wêreld (Matt.6:15) en in Luk.12:35 sê Jesus vir Sy dissipels ~ Wees gereed, die heupe omgord en die lampe aan die brand! (Luk.12:35). In Openb.1:20 vind ons ʼn ekwivalent vir Sag.4:2 wanneer Jesus vir Johannes sê ~ En dit is die verborge betekenis van die sewe sterre wat jy in my regterhand gesien het, en van die sewe goue lampe: die sewe sterre is die leraars van die sewe gemeentes, en die sewe lampe is die sewe gemeentes. Die sewe lampe is die sewe gemeentes – Sagaria se lamp (met nege-en-veertig vlammetjies) dui dus onteenseglik op die Kerk van die Here Jesus Christus. Die Kerk wat die Ligdraer in die wêreld moet wees.

Die feit dat die kandelaar van goud gemaak was, dui verder op die suiwerheid; die kosbaarheid en die onvernietigbaarheid daarvan. Die feit dat die vlammetjies permanent brand en die feit dat daar so baie is, dui op die menigvuldige wyses waarop die kerk (gelowiges) hul lig laat skyn in hierdie wêreld.

       Die betekenis van die olie wat voortdurend na die vlamme vloei is nie heeltemal duidelik nie, maar verwys na alle waarskynlikheid na die Heilige Gees en die krag van die Heilige Gees wat God se kinders bekragtig om hul lig te laat skyn in die wêreld. Waarom verwys die olie na die Heilige Gees – omdat olie:
-        ...’n smeermiddel is en die doel met ʼn smeermiddel is om wrywing teen werk en gevolglik gladheid in funksionaliteit tot gevolg te hê.
-        Olie is ʼn geneesmiddel. Ons sien in Luk.10:34 dat olie en wyn as mengsel in Bybelse tye gebruik was om wonde te genees. Daar is niemand wat die mens se gewonde hart beter kan genees as juis die Heilige Gees nie.
-        Olie verskaf lig. Dit is die Heilige Gees wat die gelowige se pad verlig en hom uit die duisternis lei.
-        Olie verskaf hitte. Dit is die Heilige Gees wat die ongelowige se hart warmer lat klop en laat reageer op die roepstem van die Here. Sonder die Heilige Gees kan geen mens na Christus Jesus toe kom nie.
-        Olie versterk. Olie verskaf krag aan die liggaam.
-        Olie versier. Olie was nooit in Bybelse tye gebruik wanneer mense getreur het nie – net wanneer daar fees gevier is, of wanneer eer aan die Here gebring is (2 Sam.12:20).
-        Olie is ʼn poleer- of poetsmiddel. Dit word gebruik om growwe oppervlaktes glad te maak en dit is presies wat die Heilige Gees met ons doen – Hy poets daardie growwe kante in ons lewe, totdat dit glad is (al neem dit soms lank en ingrypende behandeling).

       Die kerk kan alleenlik ʼn getuie in hierdie wêreld wees deur die werking van die Heilige Gees.

       Die onmiddellike verklaring dus vir hierdie beeld van die kandelaar en oorvloedige olie is dat die tempel herbou gaan word, maar nie deur menslike krag en energie nie, maar wel deur die Gees van die Here self.

4.     DIE TWEE OLYFBOME (v.3):
       Die engel sê ook vir Sagaria dat daar twee olyfbome weerskante van hierdie kandelaar staan, trouens dit staan bo-oor die kandelaar.

·           Die Inligting (v.3):
       Olyfbome het tot vandag toe, ryk simboliese betekenis in Israel. In die Psalms word dit gebruik om mense wat regverdig is in die oë van die Here, uit te beeld ~ ...ek staan sterk soos ’n welige olyfboom; ek is in die huis van God en ek steun altyd daarop dat Hy vir my sorg (Ps.52:8). Olyfbome is ook simbool van kinders ~ ...jou seuns is rondom jou tafel soos jong olyfboompies (Ps.128:3b).

·           Die Interpretasie:
       Hierdie olyfbome is simbool van die priesterlike en koninklike ampte in Israel (ons sal netnou daarna kyk wanneer ons by vv.12-14 kom) wat verteenwoordig word deur Josua en Serubbabel.

       Die olyfbome is die bron van ʼn konstante vloei van olie wat die kandelaar aan die brand hou en hierdeur wil hierdie gesig sê dat alhoewel Serubbabel, wat die tempel moet herbou, beperkte middele het om die bouwerk te voltooi, daar ʼn ingrepe van God Almagtig is wat sal toesien dat al die middele (dit sluit die krag en moed en motivering in) beskikbaar sal wees en dat die tempel se bouwerk voltooi sal word.

5.     SERUBBABEL WORD BEMOEDIG (vv.4-10a):
       In vv.4-10 vind hier ʼn baie interessante wending plaas. Sagaria vra vir die engel wat die gesig beteken waarop die engel amper verbaas klink as hy vra: Weet jy nie wat dit beteken nie? Die engel gaan dan voort in v.6 en hy praat deur Sagaria, met Serubbabel – dit is amper asof hier so tussen die verduideliking van die gesig deur, ʼn terloopse privaat gesprek plaasvind, nl. ʼn gesprek tussen die engel en Serubbabel.

       Die engel sê vir Serubbabel dat die tempel nie voltooi sal word deur menslike prestasie nie – ja die mens sal nie net agteroor kan sit en kyk hoe die tempel vanself verrys nie; hulle sal hard moet werk, maar hulle sal die werk nie in eie krag self kan voltooi nie, al doen Serubbabel wat – al sou hy soos in koning Salomo se tyd, dwangarbeid in die hele Israel instel en ʼn arbeidsmag van dertigduisend man bymekaar bring, sal dit steeds nie genoeg wees nie en sê die Here vir hom ~ Nie met mag en krag sal jy slaag nie, maar deur my Gees, sê die Here die Almagtige (v.6b) – die Here sal die uiteindelike “voltooier” van die tempel wees, trouens dit sal so ʼn magtige ingrepe van God se kant wees, dat selfs (in die woorde van v.7a) die grootste berg voor Serubbabel ’n gelykte (sal) word. Daarmee saam sal geen teenstand of hindernis of wat ook al wat in Serubbabel se pad mag kom, enigsins ʼn probleem wees nie.

V.7b is glad nie goed vertaal in die NAV nie – kom ek lees die OAV en die ESV vir julle ~ En hy sal die sluitsteen te voorskyn bring onder uitroepe van: Genade, genade oor hom! (OAV) en die ESV …and he will bring forth the top stone with shouts of “Grace, grace to it!”  Wat is ʼn sluitsteen?
Ek is hoegenaamd nie ʼn siviele ingenieur of ʼn argitek, of ʼn bouer om dit te verduidelik nie, maar op my eenvoudige manier sal ek dit soos volg verduidelik: Wanneer ʼn geboëvenster of deur, of gewel gebou word, word die boog van onder af gebou en die stene/klippe word in plek gehou tot die laaste klip aan die heel bokant in plek gesit word. Hierna word die stutte verwyder en dan is dit asof die sykante uitskop, of na benede wil val, maar die boonste klip dien dan as teenwig en keer dat die boog in duie stort – beide boë aan die kante, druk dus teen hierdie sluitsteen vas.


       Hier in v.7b word daar waarskynlik verwys na hierdie laaste klip (soos die NAV dit vertaal – en dít is nie die swak vertaalde gedeelte waarna ek verwys het nie) wat in plek geplaas word en wat dan aanduiding daarvan is dat die gebou voltooi is.

       Wanneer hierdie laaste klip of sluitsteen in plek geplaas word en die einde van die bouproses aandui, sê die engel vir Serubbabel, sal die mense (en hier kom die swak vertaalde gedeelte) uitroep: Mooi, mooi! Die OAV vertaal hierdie uitroep met: Genade, genade oor hom! Die ESV vertaal dit met, Grace, grace to it! Wat beteken dit en tot wie of wat word hierdie uitroep gerig? Toe die volk dit uitgeroep het, was dit ʼn gebed tot die Here, om te vra dat die Here hierdie nuut herboude tempel sal seën en die feit dat hulle die woord “genade”, of “seën” twee keer uitskreeu, dui op ʼn geïntensiveerde vorm.

       In vv.8-9 gaan die engel voort en hy gee die versekering dat die tempel voltooi sal word (516 v.C.) en die gevolg daarvan sal wees dat die volk bo alle twyfel sal weet dat Sagaria waarlik ʼn profeet van God is.

       Haggai het in Hag.2:3 van die tempel gesê ~ Wie is onder julle nog oor wat hierdie huis in sy vroeëre heerlikheid gesien het? En hoedanig sien julle dit nou? Lyk dit nie net soos niks in julle oë nie? Haggai was uiters pessimisties oor die kanse dat die tempel weer herbou sal kan word en waarskynlik was die volk (insluitende Sagaria en Serubbabel) op presies dieselfde golflengte van pessimisme, daarom dat die engel vir hulle sê, dat hulle nie pessimisties moet wees oor die bykans onmoontlike taak wat op hande is nie, nl. die herbou van die tempel. Hulle het maar klein begin en dit lyk nie asof dit enigsins moontlik is om dit te voltooi met sulke beperkte middele en mannekrag nie, maar die engel verseker hulle dat die almagtige, alomteenwoordige en alwyse God die bouer van hierdie tempel is – Hy wat die klip met die sewe oë is, sal die projek voltooi.

6.     SAGARIA WEER IN DIE PRENTJIE (vv.10b-14):
·           Die Inligting (vv.10-13):
       In v.11 gaan die gesprek tussen die engel en Sagaria weer voort en vra Sagaria na die betekenis van die olyfbome en dan spesifiek die bondels olyftakkies en die twee goue pype. Met die tweede verduideliking van die olyfbome deur die engel word daar op nog meer detail ingegaan t.o.v. die bome en die goue pype waardeur goue olie stroom. Dit is duidelik dat hierdie twee pype van die bron van die olie, nl. die twee olyfbome, direk na die kandelaar loop en die kandelaar met ʼn permanente stroom van olie voorsien.

       Weer is die engel verbaas dat Sagaria nie in staat is om die gesig vir homself te verklaar nie, maar hy gaan voort en hy verskaf die verklaring aan Sagaria in vv.12-14.

·           Die Interpretasie:
       Eerstens is daar ʼn verwysing na twee bondels olyftakkies. Hierdie bondels is waarskynlik takkies met trosse vruggies vanwaar die olie kom wat deur die twee pype na die kandelaar vloei. Nie alleen is Josua en Serubbabel gesalf met olie nie, maar daar vloei ook olie vanuit hulle voort en dit beteken dat die Here die bome laat groei en laat vrug dra, maar hierdie twee manne is die kanale deur wie die olie, die Heilige Gees vloei, ten einde ʼn seën vir die lampstaander, die volk van die Here te wees. 

7.     TOEPASSING:
       Die kruks van hierdie gesig wat handel oor ʼn kandelaar en twee olyfbome, is dat God vir Serubbabel en Josua sal bemagtig om die heilige tempel te herbou en dit opsigself is ʼn geweldig belangrik en bemoedigende boodskap vir die post-ballingskapsvolk van God.

       Teologies word hier in hierdie gesig drie geestelike waarhede beklemtoon:
·           Met God is alles moontlik (Matt.19:26 ~ Maar Jesus het hulle aangekyk en vir hulle gesê: By mense is dit onmoontlik, maar by God is alle dinge moontlik).
·           God laat Sy wil geskied in hierdie wêreld, deur menslike diensknegte wat spesiaal bemagtig word deur die Heilige Gees vir die taak (Hag.2:5 ~ My belofte wat Ek met die uittog uit Egipte aan julle gemaak het, sal Ek nakom: my Gees sal altyd by julle bly. Moenie bang wees nie!).
·           God se werk is nie afhanklik van mense se inisiatief nie (v.6b ~ Nie met mag en krag sal jy slaag nie, maar deur my Gees, sê die Here die Almagtige).
·           God verheug Hom in die kleine (v.10 ~ Moenie die dag van klein dingetjies gering ag nie... Esra 3:12 ~ Baie van die oueres onder die priesters, die Leviete en die familiehoofde wat nog die eerste tempel geken het, het hardop aan die huil gegaan toe hulle sien hoe die fondamente van hierdie tempel gelê word. Baie ander het luidkeels van vreugde gejubel).

       Ons het gesien dat die olie wat die kandelaar voed met brandstof, tekenend is van die teenwoordigheid, die bemagtiging en werking van die Heilige Gees in en deur die kerk (en daarom alle gelowiges) van die Here Jesus, dit dui derhalwe vir ons op die permanente teenwoordigheid van die Here self. Die Here bring met Sy teenwoordigheid lig in donker omstandighede. Dit is die teenwoordigheid van die Here wat vir Serubbabel die motivering moes wees om die tempel te voltooi.

       Net so min as wat Serubbabel die tempel op eie inisiatief sou kon voltooi, net so min kan nuwe lewe onder lidmate van die kerk op eie inisiatief en inspanning tot stand kom. Egte toewyding aan die Here is iets wat deur die Gees in mense bewerk word. Net God kan dit doen. Mense beskik nie oor die mag om die Gees te manipuleer om Hom te laat doen wat hulle graag wil hê Hy moet doen nie.

       Ons leer ook uit hierdie naggesig van Sagaria dat die Here se manier om ʼn groot werk te doen, baie dikwels ʼn klein begin het, maar die uiteindelike resultaat het geweldige, ingrypende en belangrike gevolge.

       Soos wat die kandelaar verteenwoordigend was van die post-ballingskap gelowiges en vandag van die Kerk van Christus, ís die Ware Lig, Jesus Christus self ~ Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee (Joh.8:12), maar vir nou het Hy dit goed geag om Sy lig deur die Kerk en deur elke gelowige in hierdie wêreld te laat skyn.

       Vir ons as individuele gelowiges, moet ons altyd in gedagte hou – nee, moet ons daaraan vashou dat, net soos die olie nooit ophou vloei het in Sagaria se naggesig nie, net so beskik ons oor ʼn ewigdurende bron van krag wat voortspruit uit die lewende en ewige Olyfboom en omdat ons hierdie konstante teenwoordigheid van die Here ervaar, kan ons ook rus in die wete dat ons nooit uit Sy hand sal val nie ~
Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit my hand ruk nie (Joh.10:28) – ja, ons dwaal dikwels af en ja, ons val dikwels in ernstige sonde, maar God is ook ʼn genadige God.


Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Sondag 07 Desember 2014