1. INLEIDING:
Verlede week het ons gesien dat die vierde naggesig wat
Sagaria ontvang het, die fokus gevestig het op geestelike hindernisse wat die
volk van God moes oorkom en hoe dit geëindig het met ʼn verwysing na die Messias
wat as loot sou uitspruit uit die Huis van Dawid.
Die vyfde gesig lei die tweede stel van gesigte in en dit het,
soos die vorige gesig, ʼn plaaslike impak en gaan voort en toon aan hoe diegene
wat ʼn nuwe “posisie” in die Here ontvang het, hul werk in diens van die Here
moet voort sit. Dit fokus dan spesifiek op die rol wat Serubbabel as burgerlike
leier sal moet speel, veral in die lig van politieke teenstand wat hy ervaar en
veral druk wat hy ervaar om die voltooiing van die tempel te verhaas.
Uiteindelik eindig hierdie gesig met ʼn Messiaanse profesie wat
beide die koning en die priester behels.
2. SKRIFLESING:
Sag.4:1-14
~ Die
engel wat vir my die gesigte moes uitlê, het teruggekom en my wakker gemaak,
net soos ’n mens uit sy slaap wakker gemaak word. 2Hy het vir my
gevra: “Wat sien jy?” maar hy het self voortgegaan: “Ek het gesien daar is ’n
kandelaar, heeltemal van goud; bo-op is ’n oliebak met sewe tuite en sewe
lamppitte in elkeen. 3By die kandelaar is twee olyfbome, een regs
van die oliebak en een links.” 4Ek vra toe vir die engel wat vir my
die gesigte moes uitlê: “Wat beteken dit, Meneer?” 5Hy het
geantwoord: “Weet jy nie wat dit beteken nie?” Ek het gesê: “Nee, Meneer.” 6Toe
sê hy vir my: “Hier is die boodskap van die Here aan Serubbabel: Nie met mag en
krag sal jy slaag nie, maar deur my Gees, sê die Here die Almagtige.” 7Selfs
die grootste berg sal voor Serubbabel ’n gelykte word. As Serubbabel die laaste
klip van die tempel op sy plek sit, sal die mense roep: “Mooi, mooi!” 8Daarna
kom die woord van die Here tot my: 9Serubbabel se hande het hierdie
tempel se fondamente gelê, sý hande sal dit klaar bou. Dan sal julle weet dat
die Here die Almagtige my na julle toe gestuur het. 10Moenie die dag
van klein dingetjies gering ag nie. Die mense sal bly wees wanneer hulle sien
Serubbabel gaan aan met die bouwerk. Daardie sewe oë op die klip voor Jesua is
die oë van die Here wat oor die hele wêreld kyk. 11Toe vra ek vir
die engel: “Wat beteken daardie twee olyfbome weerskante van die kandelaar?” 12En
verder het ek ook vir hom gevra: “Wat beteken die twee bondels olyftakkies
langs die twee goue pype waaruit die goudkleurige olie stroom?” 13Hy
het vir my gesê: “Weet jy nie wat dit beteken nie?” en ek het gesê: “Nee,
Meneer.” 14Toe sê hy: “Dit is die twee gesalfdes wat in diens staan
van Hom aan wie die hele aarde behoort.”
3. DIE
GOUE LAMPSTAANDER (vv.1-2):
Sagaria moes vir ʼn oomblik aan die slaap geraak het en die
engel wat die gesigte vir hom verklaar, maak vir Sagaria wakker, sodat hy die
volgende gesig met hom kan deel (nog ʼn baie duidelike bewys dat hierdie naggesigte gedurende een en
dieselfde nag vir Sagaria gegee is).
Die engel wat tot dusver in gesprek met Sagaria was, is nou
meer aktief betrokke as met die vorige gesigte en hy wag nie vir Sagaria om te
vra wat die gesig beteken nie – nee, hy vra vir Sagaria wat hy sien en sonder om
vir Sagaria te wag om te sê wat hy sien, skilder die engel die prentjie self.
·
Die Inligting (vv.1-2):
Die engel sê vir Sagaria dat hy ʼn goue lampstaander sien met
sewe vlamme of ligte. Ons sien in v.12 dat daar ʼn oliebak met sewe tuite bo-op
die kandelaar was. Uit hierdie oliebak het daar konstant olie gevloei na die
lamppitte sodat die vlamme permanent kon brand – onuitblusbaar dus.
Wanneer ʼn mens die prentjie in jou geestesoog sien, dink jy
onmiddellik aan die bekende Joodse Menora, maar tog was hierdie lampstaander
heeltemal anders a.g.v. o.a. die oliebakke. Daar is mense wat reken dat die
beskrywing van hierdie kandelaar nie so duidelik is nie en daarom kom sommiges
daarby uit dat daar slegs sewe lamppitte en net sewe vlamme/ligte was, maar die
meeste vertalings is dit eens dat elke tuit wat uit die oliebak geloop het,
sewe vlamme elk gehad het, wat beteken dat daar 49 vlamme in totaal dus was. Hierdie
detail is egter nie die kruks nie – die betekenis van hierdie lamp en vlamme is
egter die kruks.
·
Die Interpretasie:
Daar bestaan geen twyfel daaroor dat die
goue kandelaar God se uitverkorenes verteenwoordig nie – aanvanklik Israel en
dan later die Nuwe Testamentiese Kerk. Waarom sê ek dat daar geen twyfel
bestaan oor die betekenis van hierdie kandelaar nie? Omdat verskeie
Skrifverwysings dit bevestig. Jesaja het die volgende van Israel gesê ~ Kom, Jerusalem, laat skyn jou lig! Vir jou het die
lig gekom, die magtige teenwoordigheid van die Here het vir
jou lig gebring. 2Daar is donkerte oor die aarde, duisternis oor die
nasies, maar oor jou gee die Here lig, oor jou verskyn sy magtige
teenwoordigheid. 3Nasies kom na jou lig toe en konings na die glans
van die nuwe dag wat vir jou aangebreek het (Jes.60:1-3). In Jes.62:1 sê Jesaja ~ Ter wille van Sion sal ek nie swyg nie, ter wille van
Jerusalem sal ek nie stilbly nie totdat daar vir hom redding deurgebreek het
soos ’n nuwe dag, soos die lig van ’n brandende fakkel.
In die Nuwe Testament noem
Jesus Sy dissipels, die lig vir die wêreld (Matt.6:15) en in Luk.12:35 sê Jesus
vir Sy dissipels ~ Wees gereed,
die heupe omgord en die lampe aan die brand! (Luk.12:35). In Openb.1:20 vind ons ʼn ekwivalent vir Sag.4:2 wanneer Jesus vir
Johannes sê ~ En dit is die
verborge betekenis van die sewe sterre wat jy in my regterhand gesien het, en
van die sewe goue lampe: die sewe sterre is die leraars van die sewe gemeentes,
en die sewe lampe is die sewe gemeentes. Die sewe lampe is die sewe gemeentes – Sagaria se lamp (met nege-en-veertig vlammetjies) dui dus onteenseglik op die Kerk van die Here Jesus Christus. Die Kerk
wat die Ligdraer in die wêreld moet wees.
Die feit dat die kandelaar
van goud gemaak was, dui verder op die suiwerheid; die kosbaarheid en die
onvernietigbaarheid daarvan. Die feit dat die vlammetjies permanent brand en
die feit dat daar so baie is, dui op die menigvuldige wyses waarop die kerk (gelowiges) hul lig laat skyn in hierdie wêreld.
Die betekenis van die olie wat voortdurend na die vlamme vloei
is nie heeltemal duidelik nie, maar verwys na alle waarskynlikheid na die
Heilige Gees en die krag van die Heilige Gees wat God se kinders bekragtig om
hul lig te laat skyn in die wêreld. Waarom verwys die olie na die Heilige Gees
– omdat olie:
-
...’n smeermiddel is en die doel met ʼn
smeermiddel is om wrywing teen werk en gevolglik gladheid in funksionaliteit
tot gevolg te hê.
-
Olie is ʼn geneesmiddel. Ons sien in Luk.10:34
dat olie en wyn as mengsel in Bybelse tye gebruik was om wonde te genees. Daar
is niemand wat die mens se gewonde hart beter kan genees as juis die Heilige
Gees nie.
-
Olie verskaf lig. Dit is die Heilige Gees wat
die gelowige se pad verlig en hom uit die duisternis lei.
-
Olie verskaf hitte. Dit is die Heilige Gees wat
die ongelowige se hart warmer lat klop en laat reageer op die roepstem van die
Here. Sonder die Heilige Gees kan geen mens na Christus Jesus toe kom nie.
-
Olie versterk. Olie verskaf krag aan die
liggaam.
-
Olie versier. Olie was nooit in Bybelse tye
gebruik wanneer mense getreur het nie – net wanneer daar fees gevier is, of
wanneer eer aan die Here gebring is (2 Sam.12:20).
-
Olie is ʼn poleer- of poetsmiddel. Dit word
gebruik om growwe oppervlaktes glad te maak en dit is presies wat die Heilige
Gees met ons doen – Hy poets daardie growwe kante in ons lewe, totdat dit glad is (al neem dit soms lank en
ingrypende behandeling).
Die kerk
kan alleenlik ʼn getuie in hierdie wêreld wees deur die werking van die
Heilige Gees.
Die onmiddellike verklaring dus vir hierdie beeld van die
kandelaar en oorvloedige olie is dat die tempel herbou gaan word, maar nie deur
menslike krag en energie nie, maar wel deur die Gees van die Here self.
4. DIE
TWEE OLYFBOME (v.3):
Die engel sê ook vir Sagaria dat daar twee olyfbome weerskante
van hierdie kandelaar staan, trouens dit staan bo-oor die kandelaar.
·
Die Inligting (v.3):
Olyfbome het tot vandag toe, ryk simboliese betekenis in
Israel. In die Psalms word dit gebruik om mense wat regverdig is in die oë van
die Here, uit te beeld ~ ...ek staan sterk soos ’n welige
olyfboom; ek is in die huis van God en ek steun altyd daarop dat Hy vir my sorg
(Ps.52:8).
Olyfbome is ook simbool van kinders ~ ...jou seuns is rondom jou tafel soos
jong olyfboompies (Ps.128:3b).
·
Die Interpretasie:
Hierdie
olyfbome is simbool van die priesterlike en koninklike ampte in Israel (ons
sal netnou daarna kyk wanneer ons by vv.12-14 kom) wat verteenwoordig word deur Josua en
Serubbabel.
Die
olyfbome is die bron van ʼn konstante vloei van olie wat die kandelaar aan die
brand hou en hierdeur wil hierdie gesig sê dat alhoewel Serubbabel, wat die
tempel moet herbou, beperkte middele het om die bouwerk te voltooi, daar ʼn
ingrepe van God Almagtig is wat sal toesien dat al die middele (dit
sluit die krag en moed en motivering in) beskikbaar
sal wees en dat die tempel se bouwerk voltooi sal word.
5. SERUBBABEL
WORD BEMOEDIG (vv.4-10a):
In vv.4-10 vind hier ʼn baie interessante wending plaas.
Sagaria vra vir die engel wat die gesig beteken waarop die engel amper verbaas
klink as hy vra: Weet jy nie wat dit beteken nie? Die engel gaan dan
voort in v.6 en hy praat deur Sagaria, met Serubbabel – dit is amper asof hier
so tussen die verduideliking van die gesig deur, ʼn terloopse privaat gesprek plaasvind,
nl. ʼn gesprek tussen die engel en Serubbabel.
Die engel sê vir Serubbabel dat die tempel nie voltooi sal
word deur menslike prestasie nie – ja die mens sal nie net agteroor kan sit en
kyk hoe die tempel vanself verrys nie; hulle sal hard moet werk, maar hulle sal
die werk nie in eie krag self kan voltooi nie, al doen Serubbabel wat – al sou
hy soos in koning Salomo se tyd, dwangarbeid in die hele Israel instel en ʼn
arbeidsmag van dertigduisend man bymekaar bring, sal dit steeds nie genoeg wees
nie en sê die Here vir hom ~ Nie met mag en krag sal jy slaag nie, maar
deur my Gees, sê die Here die Almagtige (v.6b) – die Here sal die uiteindelike “voltooier”
van die tempel wees, trouens dit sal so ʼn magtige ingrepe van God se kant wees,
dat selfs (in die
woorde van v.7a) die grootste berg voor Serubbabel ’n
gelykte (sal) word. Daarmee saam sal geen teenstand of hindernis of wat
ook al wat in Serubbabel se pad mag kom, enigsins ʼn probleem wees nie.
Hier in v.7b word daar waarskynlik verwys na hierdie laaste
klip (soos die NAV dit
vertaal – en dít is nie die swak vertaalde gedeelte waarna ek verwys het nie)
wat in plek geplaas word en wat dan aanduiding daarvan is dat die gebou voltooi
is.
Wanneer hierdie laaste klip of sluitsteen in plek geplaas word
en die einde van die bouproses aandui, sê die engel vir Serubbabel, sal die
mense (en hier kom die
swak vertaalde gedeelte) uitroep: Mooi, mooi! Die
OAV vertaal hierdie uitroep met: Genade, genade oor hom! Die
ESV vertaal dit met, Grace,
grace to it! Wat beteken dit en tot wie of wat
word hierdie uitroep gerig? Toe die volk dit uitgeroep het, was dit ʼn gebed tot
die Here, om te vra dat die Here hierdie nuut herboude tempel sal seën en die
feit dat hulle die woord “genade”, of “seën” twee keer uitskreeu, dui op ʼn
geïntensiveerde vorm.
In vv.8-9 gaan die engel voort en hy gee die versekering dat
die tempel voltooi sal word (516 v.C.) en die gevolg daarvan sal wees dat die volk bo alle
twyfel sal weet dat Sagaria waarlik ʼn profeet van God is.
Haggai het in Hag.2:3 van die tempel gesê ~ Wie
is onder julle nog oor wat hierdie huis in sy vroeëre heerlikheid gesien het?
En hoedanig sien julle dit nou? Lyk dit nie net soos niks in julle oë nie? Haggai
was uiters pessimisties oor die kanse dat die tempel weer herbou sal kan word
en waarskynlik was die volk (insluitende Sagaria en Serubbabel) op presies dieselfde
golflengte van pessimisme, daarom dat die engel vir hulle sê, dat hulle nie
pessimisties moet wees oor die bykans onmoontlike taak wat op hande is nie, nl.
die herbou van die tempel. Hulle het maar klein begin en dit lyk nie asof dit
enigsins moontlik is om dit te voltooi met sulke beperkte middele en mannekrag
nie, maar die engel verseker hulle dat die almagtige, alomteenwoordige en
alwyse God die bouer van hierdie tempel is – Hy wat die klip met die sewe oë
is, sal die projek voltooi.
6. SAGARIA
WEER IN DIE PRENTJIE (vv.10b-14):
·
Die Inligting (vv.10-13):
In
v.11 gaan die gesprek tussen die engel en Sagaria weer voort en vra Sagaria na
die betekenis van die olyfbome en dan spesifiek die bondels olyftakkies en die
twee goue pype. Met die tweede verduideliking van die olyfbome deur die engel
word daar op nog meer detail ingegaan t.o.v. die bome en die goue pype waardeur
goue olie stroom. Dit is duidelik dat hierdie twee pype van die bron van die
olie, nl. die twee olyfbome, direk na die kandelaar loop en die kandelaar met ʼn
permanente stroom van olie voorsien.
Weer is die engel verbaas dat Sagaria nie in staat is om die
gesig vir homself te verklaar nie, maar hy gaan voort en hy verskaf die
verklaring aan Sagaria in vv.12-14.
·
Die Interpretasie:
Eerstens is daar ʼn verwysing na twee bondels olyftakkies.
Hierdie bondels is waarskynlik takkies met trosse vruggies vanwaar die olie kom
wat deur die twee pype na die kandelaar vloei. Nie alleen is Josua en
Serubbabel gesalf met olie nie, maar daar vloei ook olie vanuit hulle voort en
dit beteken dat die Here die bome laat groei en laat vrug dra, maar hierdie
twee manne is die kanale deur wie die olie, die Heilige Gees vloei, ten einde ʼn
seën vir die lampstaander, die volk van die Here te wees.
7. TOEPASSING:
Die
kruks van hierdie gesig wat handel oor ʼn kandelaar en twee olyfbome, is dat God
vir Serubbabel en Josua sal bemagtig om die heilige tempel te herbou en dit
opsigself is ʼn geweldig belangrik en bemoedigende boodskap vir die
post-ballingskapsvolk van God.
Teologies
word hier in hierdie gesig drie geestelike waarhede beklemtoon:
·
Met God is alles moontlik (Matt.19:26 ~ Maar Jesus het hulle aangekyk en
vir hulle gesê: By mense is dit onmoontlik, maar by God is alle dinge moontlik).
·
God laat Sy wil geskied in hierdie wêreld, deur
menslike diensknegte wat spesiaal bemagtig word deur die Heilige Gees vir die
taak (Hag.2:5 ~ My belofte wat Ek met die uittog
uit Egipte aan julle gemaak het, sal Ek nakom: my Gees sal altyd by julle bly.
Moenie bang wees nie!).
·
God se werk is nie afhanklik van mense se
inisiatief nie (v.6b ~
Nie met mag en krag sal jy slaag
nie, maar deur my Gees, sê die Here die Almagtige).
·
God verheug Hom in die kleine (v.10 ~ Moenie die dag van klein dingetjies
gering ag nie... Esra 3:12 ~ Baie
van die oueres onder die priesters, die Leviete en die familiehoofde wat nog
die eerste tempel geken het, het hardop aan die huil gegaan toe hulle sien hoe
die fondamente van hierdie tempel gelê word. Baie ander het luidkeels van vreugde
gejubel).
Ons het gesien dat die olie wat die kandelaar voed met
brandstof, tekenend is van die teenwoordigheid, die bemagtiging en werking van
die Heilige Gees in en deur die kerk (en daarom alle gelowiges) van die Here Jesus, dit dui derhalwe vir
ons op die permanente teenwoordigheid van die Here self. Die Here bring met Sy
teenwoordigheid lig in donker omstandighede. Dit is die teenwoordigheid van die
Here wat vir Serubbabel die motivering moes wees om die tempel te voltooi.
Net so min as wat Serubbabel die tempel op eie inisiatief sou
kon voltooi, net so min kan nuwe lewe onder lidmate van die kerk op eie
inisiatief en inspanning tot stand kom. Egte toewyding aan die Here is iets wat
deur die Gees in mense bewerk word. Net God kan dit doen. Mense beskik nie oor
die mag om die Gees te manipuleer om Hom te laat doen wat hulle graag wil hê Hy
moet doen nie.
Ons leer ook uit hierdie naggesig van Sagaria dat die Here se
manier om ʼn groot werk te doen, baie dikwels ʼn klein begin het, maar die uiteindelike
resultaat het geweldige, ingrypende en belangrike gevolge.
Soos wat die kandelaar verteenwoordigend was van die post-ballingskap
gelowiges en vandag van die Kerk van Christus, ís die Ware Lig, Jesus Christus
self ~ Ek is die lig vir
die wêreld. Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig
hê wat lewe gee (Joh.8:12), maar vir nou het Hy dit goed geag om Sy lig deur die
Kerk en deur elke gelowige in hierdie wêreld te laat skyn.
Vir ons as individuele gelowiges, moet ons altyd in gedagte
hou – nee, moet ons daaraan vashou dat, net soos die olie nooit ophou vloei het
in Sagaria se naggesig nie, net so beskik ons oor ʼn ewigdurende bron van krag
wat voortspruit uit die lewende en ewige Olyfboom en omdat ons hierdie konstante
teenwoordigheid van die Here ervaar, kan ons ook rus in die wete dat ons nooit
uit Sy hand sal val nie ~
Ek gee hulle die
ewige lewe, en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal
hulle uit my hand ruk nie (Joh.10:28) – ja, ons dwaal dikwels af en ja, ons val dikwels in
ernstige sonde, maar God is ook ʼn genadige God.
Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Sondag 07 Desember 2014