Tydens 'n ernstige siekbed, toe hy gedink het hy
gaan op die jeugdige ouderdom van 35 sterf, het die Puritein, Richard
Baxter, die gewoonte ontwikkel om 'n halfuur elke
dag oor die hiernamaals te peins. Hy skryf dan later hoe baie hierdie praktyk
oor die jare vir hom beteken het.
Selfs al sou ons die ou vader net soms hierin
navolg, sal dit ons geloofslewe oneindig baie verryk.
• Tensy die wederkoms van Jesus Christus binnekort
plaasvind, gaan een en elkeen van ons moet sterf. Daar is geen uitsondering
nie. Daar gaan 'n oomblik aanbreek dat my hart die laaste van sy, sê maar, 2500
miljoen pompe gee, en dat ek my laaste asem uitblaas.
En dan? Sal ek nog bewussyn hê? Hoe lank sal dit duur voordat ek my
bewussyn terugkry? Wat van die tyd tot en met die wederkoms en my opstanding?
Hoeveel sal ek weet? Waar sal ek wees? Ons sou die vrae oor die lewe na die
dood kon vermenigvuldig. Dit raak ons almal, nie waar nie.
Kom ons neem aan dat ons voor die wederkoms sal
sterf. Daar word na ons toestand tussen die liggaamlike dood en die wederkoms
van Christus verwys as die tussentoestand.
Paulus het geweet hoe belangrik dit vir ons is om
te verstaan wat die hiernamaals inhou. In 1Ts 4 skryf hy: "Ons wil hê,
broers, dat julle nie onkundig moet wees oor wat met die ontslapenes gaan
gebeur nie" (13). En dan eindig
hy sy paragraaf só: "Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde" (18).
Die regverdiges en die onregverdiges gaan hierdie
tyd - na die dood en voor die opstanding - op verskillende plekke en in verskillende
toestande deurbring (vgl. Lk
16:19-31). Maar ons gaan fokus op diegene wat in die Here en daarom salig sterf.
Ons gaan dus praat oor die staat waarin ons
afgestorwe broers en susters in Christus op hierdie oomblik is. Ons gaan praat
oor die plek waarheen een en elkeen van ons wat waarlik gered is binnekort sal
gaan, indien die Here talm om te kom.
Waar is hierdie plek? Allereers moet ons besef dis
nie 'n plek binne ons dimensies van tyd en ruimte nie. Die bybel gebruik veral
twee name daarvoor: die hemel en die paradys.
• Die hemel is 'n baie wye
en ryk begrip in die Skrif en ons kan nie nou in besonderhede daarop insak nie.
Al wat ek nou daaroor wil sê, is dat die Bybel dit aan ons voorhou as die woonplek
van God. Dis waar die klem val, en nie, byvoorbeeld, op die lokaliteit daarvan
nie. Die hemel is waar God is.
• Die paradys is net 'n Nuwe
Testamentiese begrip, waar dit slegs drie keer voorkom (Lk23:43; 2Kor 12:4; Op 2:7). In eersgenoemde vers sê Jesus vir die
misdadiger aan die kruis: "Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in
die paradys wees." Ons kan dus met stelligheid sê dat dit die plek is
waarheen ontslape kinders van die Here gaan - om by Hom te wees. Dis
oorspronklik 'n Persiese woord, en dui op 'n ommuurde tuin of park. Daar is dus
skoonheid, vrede en orde. So gebruik die Septuaginta ('n voor-Christelike Griekse
vertaling van die Ou Testament) dit vir die tuin van Eden.
2
Korintiërs 5:1-10
In hierdie paragraaf is die apostel baie seker hy weet
wat op hom wag. Oor net een ding is hy onseker - gaan hy sterf en die
tussentoestand binnegaan, of gaan hy die Here se wederkoms beleef en
onmiddellik finaal verheerlik word?
Ook ons weet nie wat die antwoord op hierdie vraag
is nie. Daarom het die Here Jesus Sy dissipels aangespoor om altyd gereed te
wees, aangesien hulle nie vooraf weet wanneer hulle gaan sterf, of wanneer die wederkoms
sal plaasvind nie.
Laat ons dus seker maak ons is elke oomblik reg om
die Here te ontmoet. So skryf Johannes dan ook: "Elkeen wat hierdie verwagting
in verband met Hom koester, hou homself rein soos Jesus rein is" (1Jh 3:3). En as mens die wederkoms en die hiernamaals ernstig opneem, is dit
inderdaad 'n kragtige aansporing tot 'n heilige lewe.
• 2 Korintiërs 5:1
Die "aardse tentwoning" (OAV) waarvan Paulus hier praat, is sy beeld vir die huidige liggaam. Daarmee
beklemtoon hy die broosheid en tydelikheid daarvan. Hierdie beeld word ook
gebruik vir die Here Jesus se vernederde liggaam in Jh 1:14. As daar staan dat
die Woord mens geword en onder ons kom woon het, sê die Grieks letterlik dat Hy
kom tent opslaan het onder ons.
Maar hierdie tent sal eendag vervang word met 'n onverganklike
en permanente woning, deur God self gemaak - 'n nuwe, verheerlikte en ewige
liggaam.
• 2 Korintiërs 5:2
Paulus vul nou sy beeld aan. Hy beskryf die liggaam
nou nie net as 'n huis of tent nie, maar ook as 'n kledingstuk. Ons verlang, sê
hy, dat ons uiteindelike hemelse huis soos klere vir ons aangetrek sal word.
Die woord "oorklee" (OAV) of "oordek" (NAV), is
betekenisvol. Hiermee wil die apostel sê dat ons begeer dat ons verheerlikte
liggame sommer dadelik oor ons ou liggame aangetrek sal word soos mens, kom ons
sê, 'n trui bo-oor 'n hemp aantrek. Presies wat hy hiermee bedoel, verduidelik
hy dan in v.3-4.
• 2 Korintiërs 5:3-4
Ons wil nie graag eers uitgetrek word en vir ʼn tyd
lank nakend wees voordat ons met ons verheerlikte liggame beklee word nie.
Duidelik sinspeel Paulus hier op die liggaamlose
tussentoestand voor die opstanding. As ons dus in hierdie lewe
verlangend sug, dan is dit nie in die eerste instansie 'n verlange na die naakte
toestand nie, maar dis 'n begeerte om sommer dadelik ons nuwe liggame te
ontvang.
Heeltemal anders as die Griekse filosofie van
destyds, dink die apostel nie dat die menslike gees op sy gelukkigste is as hy
vry van 'n liggaam is nie. Inteendeel, hy ag so ʼn toestand as naaktheid, as
subnormaal, as alles behalwe ideaal.
• 2 Korintiërs 5:8
Kom ons spring vir 'n oomblik 'n paar verse. In v.8
sê Paulus egter dat, ten spyte van alles wat hy in die eerste paar verse
geskryf het, verkies hy nogtans om eerder te sterf en sy verblyf in hierdie
liggaam te verlaat. Waarom is die naakte staat sonder 'n liggaam in die tussentoestand
- indien die Here talm om te kom - vir hom verkieslik bo die tentbestaan van
hierdie lewe? Omdat hy dan by die Here sal wees! Anders
gestel: om by Christus te wees, sal meer -
baie, baie meer – as opmaak vir ons tydelike verlies aan 'n liggaam.
In Fl 1:23 sê die apostel dat hy verlang om heen te
gaan en "met Christus" te wees. In vergelyking met hierdie lewe is
dit "verreweg die beste".
Saamgevat
Wat Paulus meer as enigiets anders verlang, is om
steeds te lewe wanneer die Here Jesus Christus terugkom - en om dan onmiddellik
sy verheerlikte liggaam te ontvang. Maar selfs al moet hy voor die tyd sterf,
is die onnatuurlike en minder as ideale liggaamlose tussentoestand steeds baie
beter as hierdie lewe - want selfs in die tussentoestand is ons reeds by
die Here!
Gelowiges
gaan dadelik na hulle dood na Christus toe.
As ek sou sterf voordat Christus terugkom, bly my
dooie liggaam agter en verval tot stof. My gees gaan dadelik na die Here toe (Pred 12:7). Van my eerste lewensoomblik af is ek immers nie
net 'n fisiese liggaam nie, maar ten diepste is ek ook gees - die nie-materiële
deel van my persoon.
Die Skrif gee ons alle rede om te glo dat ek onmiddellik
na my dood by die Here sal wees. Die Here Jesus sê vir die misdadiger aan die
kruis: "Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met
My in die paradys wees" (Lk 23:43; vgl. ook
Fl 1:23).
'n
Paar verantwoordelike afleidings uit die Skrifopenbaring oor ons tema
1. Onmiddellik na die dood gaan elke persoon na een
van twee radikaal verskillende bestemmings (Lk 16:22-23; vgl. ook Lk
23:43).
Hieroor is die Bybel oor en oor so duidelik soos daglig;
elke mens gaan óf hemel toe, óf hel toe. Saligheid of smarte wag dadelik nadat
jy jou laaste asem uitgeblaas het op jou. En so sal dit onomkeerbaar finaal bly
- tot in alle ewigheid.
2. Ons sal in 'n staat van volle bewussyn wees.
Dit is so voor die hand liggend dat mens dit beswaarlik
hoef te sê. Hoe anders sou mens jou saligheid kon beleef - of dan jou smarte, indien
jy verlore gaan. Trouens, dit verg geen verbeelding nie om te besef dat ons
bewussyn veel meer intens sal wees as hier. Is dit nie ʼn voorvereiste vir die
meer intense belewing van sowel vreugde as pyn nie?
3. Ons sal kommunikeer - met mekaar en met die
Here.
Die ryk man en Abraham praat met mekaar. Die
martelare praat met die Here en Hy reageer daarop. Dit impliseer intelligensie,
logika, vertolking, waarneming, ensovoorts.
4. In die hemel sal daar gesamentlikheid en gemeenskap
wees.
Die mededeling dat Lasarus aan "die
boesem" van Abraham is (Lk 16:22, 23,
letterlik), dui op intieme liefdesgemeenskap. En in Op 6 roep die siele
gesamentlik. Wanneer ons oorwinnend sterf, gaan ons, soos Hb 12:23 dit stel, na
die "geeste van dié wat vrygespreek en wat nou volmaak is."
5. Ons sal ons individualiteit en identiteit behou.
Lasarus het Lasarus gebly.
hê om spoedig met ʼn volmaakte en verheerlike liggaam beklee te word - en
om dan vir ewig op 'n nuwe aarde te woon.
• Diegene wat in Christus is, sien mekaar tot in
ewigheid nooit vir die laaste keer nie.
As ons nou vreugde in mekaar het, hierna - ook
reeds in die tussentoestand - sal dit baie meer intens wees. En dit sal nooit
verbygaan nie!
• Maar dis in Christus self wat ons vreugde ten
diepste sal wees!
Ons sal by Hom wees en innige gemeenskap met Hom
geniet. Ons sal Hom sien soos Hy is, en uiteindelik word soos Hy (1Jh 3:2).
• Laat ons daarom erns maak met die Christelike
hoop.
Ek weet nie van julle nie, maar dit wil my party dae
neerslagtig stem as ek besef my lewe is besig om uit te loop. Afnemende liggaamskragte,
'n geheue wat jou al hoe meer in die steek laat en toenemende ontnugtering met
dit wat hierdie lewe bied, raak al hoe meer 'n werklikheid.
Ek is oortuig daarvan dat daar net een manier is om
hierdie werklikhede te hanteer - mens moet jou oefen in die Christelike hoop. Jy
moet die dinge waaroor ons praat weer en weer oordink.
Een van die kosbaarste gawes wat die Here vir ons
in hierdie lewe gee, is 'n lewende hoop. Vir die ongelowiges, veral vir die bejaardes,
moet elke doodsberig seker klink soos die geknars van die beul se sleutel vir ʼn
ter dood veroordeelde. Male sonder tal dank ek die Here dat Hy vir my nie net
lewenssin gegee het nie, maar ook sterwenssin. Wat sou ek sonder 'n
ewigheidsperspektief gedoen het? Daarsonder kan 'n denkende mens tot geen ander
slotsom as Albert Camus kom nie: "Die lewe is 'n siek grap!" En
inderdaad is ʼn ongelowige wêreld tot die dood toe kranklik aan sinloosheid.
Daarenteen, as die dinge waarna ons kyk op die
tafels van jou hart geskryf is, sal jy saam met die pionier-sendeling in Burma,
Adoniram Judson, kan sê: "Wanneer Christus my roep, sal ek gaan met die
uitbundige blydskap van 'n skoolseun wat vir die somervakansie deur die skoolhek
hardloop."
• Is Christus die middelpunt van jou hoop?
In 1Tm 1:1 kry ons 'n kort frase wat die hart van
ons lewende hoop se inhoud verwoord: "...Christus Jesus ons Hoop". Om eendag by Hom te wees, is
waaroor dit gaan.
Kostelik het Andrew Bonar dit gestel: "Ag Here,
mag ek soos Simeon heengaan – met Christus in my arms" (n.a.v. Lk 2:28-29). Maar ons kan natuurlik ook die beeld
omdraai: as
die dood my eendag neerfel, sal ek in Christus se
arms intuimel.
• Maak seker jou hoop is eg.
As jy nie, soos Paulus, jou vreugde daarin vind dat
jy by Christus sal wees
nie (ten spyte van die tussentoestand se
"naaktheid"), hang daar 'n vraagteken oor die egtheid van jou
hoop. En, onthou, die hoop is bloot vooruitgerigte geloof. As jou hoop dus
onder verdenking is, moet ook jou geloof bevraagteken word. En as jou geloof
vals is, is jou hoop niks meer as ʼn lugspieëling nie.
• Les bes: die dood is nie 'n ewige duisternis wat
oor jou neerdaal nie; dis die doodblaas van 'n kers - omdat die dag gebreek
het. En nooit weer, tot in alle ewigheid, sal die Son weer ondergaan nie.