Vandag gedenk ons die Here Jesus Christus se Hemelvaart. Wat beteken dit vir Sy kinders?
• Wat ’n oorwinning en getuienis was Jesus se letterlike, fisiese en
historiese opstanding nie! Sy hemelvaart is egter nié minder belangrik
nie, want Jesus die Christus het met Sy hemelvaart ’n nuwe fase van Sy
Middelaarswerk betree, want Hy tree nou op as die verheerlikte Priester,
Profeet en Koning wat die koms van die Koninkryk van God sal oorsien en bestuur.
• As die Groot Profeet sal Hy en is Hy steeds besig om die
Evangelieboodskap hier op aarde voort te dryf, sodat elke volk en taal
en nasie die verlossingsboodskap van Jesus Christus kan hoor, maar ook
dat Sy kinders (die Kerk) kan groei in die allerheiligste geloof.
•
Hy is ook ons Priester en daarom kan ons die wonderlike versekering en
gerusstelling hê, dat Hy onverpoosd, voorspraak vir ons by die Vader
maak (1 Joh.2:1).
• Jesus Christus is egter ook Koning en daarom
is Hy heerser oor hierdie aarde en sal Hy saam met Sy kinders, die bose
en duistere koninkryk van die Satan stukkie vir stukkie terugdryf en Sy
oorwinning oor die Bose uiteindelik vier met Sy wederkoms, wanneer alle
mense op aarde Hom sal sien en die knie voor Hom sal buig en erken dat
Hy waarlik die Here is (Openb.1:7 en Rom.14:11).
Ons Koning en ons Verlosser leef – al die eer en heerlikheid aan Hom – Here Jesus Christus, ons aanbid U!