OPE BRIEF AAN BROERS IN DIE N.G. KERK
(Meer as 3000 kopiee van hierdie brief is uitgestuur na alle beskikbare E-Posadresse in die N.G. Kerk)
2012-05-04
Geagte
Broeder
Na baie gebed en besinning rig ek hierdie
brief aan u en ’n klompie ander broeders in die N.G. Kerk en vra dat u hierdie
brief biddend sal lees en met ’n oop gemoed daarna sal kyk.
Ek is tans ’n predikant in die Vaaldriehoek Gereformeerde
Baptistegemeente en het teologie studeer aan die Potchefstroomse Universiteit
vir C.H.O. Voor ek voltyds in die bediening betrokke geraak het, was ek baie
lank ’n onderwyser waarvan 12 jaar as skoolhoof. Ek en my vrou was ook baie
jare lidmaat van die N.G. Kerk, maar is in 1984, toe die N.G. Kerk nog gestaan
het op hul belydenisskrifte, onder sensuur geplaas en afgesny van ’n
N.G.-gemeente in Ermelo omdat ons, nadat ons waarlik tot wedergeboorte gekom
het, oortuig geraak het van die doop van gelowiges (die kredodoop) en ons laat
doop het. Ons het deur die jare heen hegte vriendskapsbande met N.G.-lidmate
gehad (en het nog steeds) – lidmate wat waarlik die Here Jesus Christus as
Saligmaker navolg (beide "kredo- en paedodopers").
Ek glo met 'n gebroke
hart dat 'n skokkende groot deel van die institusionele kerk van ons dag
grootliks koers verloor het, in sekere gevalle selfs reddende geloof versaak
het, en dringend nodig het om onverwyld en met hartstog terug te keer na die
fundamentele geloofsvertrekpunte van die Reformasie: die Skrif alleen, genade
alleen, Christus alleen, geloof alleen, die eer van God alleen. Ek onderskryf
die histories-gerespekteerde en internasionaal-erkende 1689 Baptiste Belydenis
- soos meeste reformatoriese (gereformeerde) Baptiste oor die wêreld heen,
asook die Belydenisskrif en Kernwaardes van Sola 5, 'n assosiasie van
Godgesentreerde evangeliese gemeentes en gelowiges in (tans) agt lande in
Suider-Afrika.
Waarom rig ek hierdie brief aan u? Die
afgelope jaar of drie, maar veral die afgelope jaar het ek intens bewus geraak
van ernstige dwaalleer wat posgevat het in die N.G. Kerk en ek is intens besorg
oor broers en susters in die Here Jesus Christus wat in die N.G. Kerk is. Ek
kry van tyd tot tyd te doen met predikante in u denominasie en ek ervaar
intense bekommernis en selfs verwarring by van hulle (veral jongeres).
Ek het ook bevriend geraak met heelwat
N.G.-lidmate en ’n paar predikante op "Facebook" en kon ek sommige
van die debatte wat gevoer word tussen regsinnige lidmate en –predikante aan
die eenkant en "nuwe hervormers"/"verligtes"/"liberales"/"vrydenkers"
aan die anderkant. My simpatie met die "behoudendes" aan die eenkant
en my skok en ontnugtering in predikante wat in my oë bykans niks meer van die
Woord van God glo nie, het a.g.v. hierdie debatte, net nog verder verdiep.
Wat ek nie kan verstaan nie, is dat die N.G.
Kerk oënskynlik die wil en vermoë verloor het om op te tree teen teoloë,
ampsdraers en predikante wat nie meer volgens die Belydenisskrifte en die Woord
van God optree nie en derhalwe in my oë dwaalleraars geword het (Openb.2:14-15;
1 Tes.5:14; 2 Tim.4:2-5; Deut.13:5; 1 Kor.5:11, 13; Titus 1:9; e.a.). In die
lig van Ferdie Mulder se boek, asook dit wat ek in die pers, persoonlike Blogs
en "Facebook" lees, kan ek nie anders as om te dink dat die
gesagstrukture van die N.G. Kerk reeds deur die "nuwe hervormers"
gekaap is en daarom dat niks gedoen word aan persone/lidmate wat die Kerk van
die Here Jesus Christus intens skade berokken nie.
Ek kan bv. nie verstaan hoe ’n persoon soos
Jean Oosthuizen steeds maar net toegelaat word in sy posisie by die Kerkbode,
terwyl hy blatant voortgaan om mense (insluitende myself) te belaster, te beledig, te verkleineer en geen standpunt inneem
teen dwaalleer nie – hy maak ’n openlike bespotting van God Drie-Enig, ens.
(Titus 1:16; e.a.). Hy gebruik baie dikwels kru taal teenoor mense wat
opgevoede heidene nie eens sal gebruik nie (’n voorbeeld van een van die
"Facebook" drade wat hierdie feite bevestig kan op versoek verskaf
word) en dan praat ek nie eens van sy persoonlike "Facebook-muur" nie!
Christene wat sterk van hom op Facebook verskil, word
summier geblok, maar ateïste word ‘n vry hand gegee om God te laster. Dit lyk
na ‘n eensydige skending van spraakvryheid.
Ek staan verstom en geskok oor sommige
predikante se uitsprake oor die hel (wat kwansuis nie bestaan nie – Matt.5:22;
Mark.9:47-48; 1 Tim.1:19-20; e.a.); die feit dat Satan nie ’n werklikheid is
nie (Jak.4:7; 1 Pet.5:8; e.a.); geen sondeval nie (Gen.3; 1 Joh.1:6, 8; e.a.); dat
Jesus nie uit ’n maagd gebore is nie (Matt.1:18; Luk.1:34; e.a.); die feit dat
Christus nie uit die dood opgestaan het nie (Luk.24:36; Joh.20:27; e.a.); dat
Jesus Christus nie aan die regterhand van God die Vader sit nie (Mark.16:19; e.a.);
die skepping; Jona en Noag wat mitologiese verhale is; uitsprake wat positief
is oor die "emergent church", panenteïsme, homoseksualitiet, ens.
ens. My vraag is, hoe die N.G. Kerk steeds kan toelaat dat die gewone lidmaat (geredde
en soekendes) wat op soek is na ’n ware en intieme verhouding met Jesus
Christus en groei in heiligmaking, blootgestel kan word aan sulke predikante en
selfs ’n moderator? Manne soos Nelus Niemandt; ’n Albert Cruywagen; Gerhard Bothma; Ben du Toit
en talle teologiese professore en andere? Ek wil
nie eers kommentaar lewer op sommige sinodale besluite nie.
Ek wil nie eers kommentaar lewer op sommige werklik-ontstellende
Algemene Sinode- besluite nie.
Aan die begin van hierdie jaar, toe ek ook
Ferdie Mulder se boek "Opgestaan" gelees het, is dit wat ek ervaar,
gehoor, gelees en vermoed het, opnuut bevestig en het ek net nog meer intens
bewus geraak van wat in die N.G.K. aan die gang is en wat sommige van u as
predikante, studente en talle lidmate moet ervaar. My hart het al meer begin
pyn vir regsinnige (gereformeerde) broers en susters in die N.G. Kerk en het ek
net nog dieper bewus geraak van die nood; die paniek; die verwarring; die pyn;
ens. wat besig is om pos te vat by diesulkes. Ek is veral ook intens bekommerd
oor "onskuldige" kinders wat "losgelaat" word in van die
teologiese fakulteite waar N.G. predikante opgelei word.
Ek en ons gemeente is tans deel van "SOLA
5", ’n assosiasie van Evangeliese Christene in Suidelike Afrika en ek dien
ook tans op die hoofbestuur van "SOLA 5". Die meeste van die
predikante wat deel uitmaak van "SOLA 5" is Engelssprekende broers in
die Here en hulle wil gedurig van my weet wat aan die gang is in Afrikaanse
kerklike geledere en hoe ek dit sien. Ek self vra my daagliks die vraag af: Wat
gaan hier aan? Wat kan ons doen – wat kan ek doen? Dit gaan tog immers hier oor
die eer van God en die waarheid!
Die Skrif roep ons ernstig op om
te waak teen dwaalleer, omdat dit mense weglei van die geopenbaarde waarhede.
Dit is nie ‘n saak wat enige Christen by hom kan laat verbygaan nie (2
Pet.2:1-2; Titus 1:7-11; 2 Tes.2:15; e.a.).
My broeder in Christus, ek is intens
bekommerd oor die Kerk in Suid-Afrika in die algemeen en dan spesifiek oor wat
aan die gang is in die N.G. Kerk en ek bid dat die Here sal ingryp en Sy eer
sal herstel. Ek wens so dat ek hande kon vat met u in hierdie stryd op
vergaderings, forums, sinodes, ens., maar omdat ek nie lidmaat van die NGK is
nie, kan ek nie en kan ek u maar net verseker van my voorbidding en dat ek waar
moontlik my bydrae sal lewer.
Sterkte in die stryd – ek dink aan u!
U broeder in Christus Jesus.
Kobus van der Walt