1. SKRIFLESING:
Hebr.1:1-14 ~ In die verlede het God baiekeer en op baie maniere met ons voorvaders
gepraat deur die profete, 2maar nou, in hierdie laaste dae, het Hy
met ons gepraat deur die Seun. God het Hom deur wie Hy die wêreld geskep het,
ook erfgenaam van alles gemaak. 3Uit Hom straal die heerlikheid van
God en Hy is die ewebeeld van die wese van God. Hy hou alle dinge deur sy
magswoord in stand. Nadat Hy die reiniging van sondes bewerkstellig het, het Hy
gaan sit aan die regterhand van die Majesteit in die hoë hemel. 4Hy
is net so verhewe bo die engele as wat die Naam wat God Hom gegee het,
voortrefliker is as hulle naam. 5Immers, aan wie van die engele het
God ooit gesê: “Jy is my Seun, van vandag af is Ek jou Vader,” en ook: “Ek
sal sy Vader wees, en Hy sal my Seun wees”? 6En wanneer God die
Eersgeborene in die wêreld inbring, sê Hy: “Al die engele van God moet Hom
aanbid.” 7Van die engele sê
Hy: “Hy maak sy engele stormwinde en sy dienaars vuurvlamme.” 8Maar
van die Seun sê Hy: “U troon, o God, staan vir ewig vas, met u koninklike
septer laat U reg geskied. 9U het die reg lief en U haat die
onreg. Daarom het God, u God, U onder groot vreugde tot Koning gesalf bo u
tydgenote.” 10En verder: “U, Here, het in die begin die aarde
gevestig, en ook die hemel is die werk van u hande. 11Dié dinge
sal vergaan, maar U bly bestaan; soos ’n kledingstuk sal alles verslyt; 12soos
klere sal U dit oprol; ja, soos ’n kledingstuk sal dit vervang word. Maar U,
U bly dieselfde, en u jare het geen einde nie.” 13Van watter engel
het Hy ooit gesê: “Sit aan my regterhand, totdat Ek jou vyande aan jou onderwerp
het”? 14Is hulle dan nie almal geeste in diens van God, wat Hy
uitstuur om dié te dien wat die saligheid gaan beërf nie?
2. INLEIDING:
Ons het verlede week gesien hoe dat die Hebreërskrywer
sy argument, dat die engele ondergeskik is aan Jesus, grond op verskeie
gedeeltes vanuit die Ou Testament en hy benader dit juis vanuit die Ou
Testament, omdat sy lesers terug geneig het na die Judaïsme (en
veral die sektegroep – die Esseners) wat
op daardie stadium baie waarde geheg het aan die engele.
Hy gaan nou voort in vv.7-14, om presies
dieselfde te doen.
3. SUPERIEURE STATUS VAN CHRISTUS:
Die skrywer kontrasteer die status van
die engele met dié van Christus, deur te wys op die engele se ondergeskikte rol
en status, teenoor dié van Jesus – die engele is diensknegte, terwyl die Seun
van God, soewerein is en om dit aan te toon, haal die Hebreërskrywer die keer
aan vanuit Ps.104:4 waar daar staan ~ U wat die winde u boodskappers maak, die weerligte u dienaars. Die engele is magtige wesens. Hulle
is soos die kragte van die natuur en God gebruik hulle soos wat Hy die winde of
weerligstrale sal gebruik, máár net soos die winde en donderweer, beskik engele
ook oor geen gesag om op hul eie besluite te neem en op te tree nie. Hulle
staan in God se diens – hulle is God se diensknegte en hulle is deur God geskep.
Christus daarenteen is God self en is onmeetbaar ver verhewe bo die engele,
deurdat Hy ewig en soewerein is.
Dit is dan juis in vv.8-9 waar die
skrywer Christus kontrasteer met die engele – ons vind dan ook hier in v.8a
waarskynlik een van die wonderlikste en belangrikste gedeeltes in die ganse Bybel
t.o.v. Christus, nl. dat Hy ewige God is! Diegene wat beweer het en nog steeds
beweer dat Christus maar bloot net mens was; of maar net soos die engele was;
of een van God se profete was; of iets van ’n "subgod", kry hier ’n "bloedneus"
uitspraak van die Hebreërskrywer, omdat hy ondubbelsinnig sê dat Christus niks
minder is as God self nie en wanneer hy dit sê, haal hy weer uit die
Ou Testament aan en die keer uit die Messiaanse Psalm, Ps.45:6-7 ~ U skerp pyle laat volke voor u voete val; hulle
deurboor die hart van die koning se vyande. 7U troon, verhewe wese,
staan vir altyd vas, met u koninklike septer laat u geregtigheid geskied. Die opskrif van hierdie Psalm is "Gedig vir ’n Koning" (N.A.V.). Hierdie is dan ’n Messiaanse Psalm
en dit gaan oor die "grote koning Dawid" se nageslag – die Messias-Koning
wat hier besing word as ewige Koning wat as oorwinnaar op Sy perd ry. Die
eienskappe van die Messias, Koning Jesus Christus is een van regverdigheid en
geregtigheid, maar ook een van weersin en haat vir alle ongeregtigheid en
boosheid. Hierdie Koning word Messias genoem omdat Hy die Gesalfde is (Messias
beteken Gesalfde) en dit impliseer
dus dat Hy nie as Koning aangestel is nie, maar gesalf is as Koning, daarom dat
v.9 sê ~ U... God, (het) U onder groot
vreugde tot Koning gesalf bo u tydgenote. Kan daar ’n duideliker verwysing na Christus se
Goddelikheid wees as juis die feit dat Hy deur God gesalf is tot Koning en hoe
kan enige engel hoër en groter geag word as die gesalfde Messias Koning?
Ons weet dat Christus, God is, maar die
vraag wat egter oor vv.8-9 gevra kan word, is hoe kan Christus aangespreek word
as God, terwyl Hy self ’n God het (Maar
van die Seun sê Hy: “U troon, o God,
staan vir ewig vas, met u koninklike septer laat U reg geskied. 9U het die reg lief en U haat die onreg. Daarom het God, u God, U onder groot
vreugde tot Koning gesalf bo u tydgenote)? Dit is juis hier waar die misterie
van die Drie-Eenheid van God ter sprake kom en is dit iets waaroor ons maar net
verstom kan staan en dit in die geloof aanvaar, want daar is maar net een God
en tog is God terselfdertyd drie, maar let op – daar is nie drie verskillende
gode nie. Die Vader is God, die Seun is God en die Heilige Gees is God en nie
een is ondersgeskik aan die ander nie, want elkeen is terselfdertyd een en
dieselfde God. Wat meer is, die Seun het volmaakte mens geword, sonder om op te
hou om God te wees. Jesus sê self in Joh.10:30 ~ Ek en die Vader is een.
Ook Paulus het hierdie feit beklemtoon, nl. dat Jesus en God een is, toe hy in
Rom.9:5 gesê het ~ ...hulle
stam van die aartsvaders af, en uit hulle is die Christus as mens gebore—Hy wat
God is, verhewe bo alles en lofwaardig vir ewig! Amen. Ook Johannes sê in 1Joh.5:20 ~ En ons weet dat die Seun van God gekom het
en ons verstand gegee het om die ware God te ken; en ons is in die ware God, in sy Seun, Jesus Christus.
Hy is die ware God en die ewige lewe. Regdeur die Woord sien ons dat
Christus terselfdertyd God is en al is hierdie feit te groot vir ons menslike
verstandjies om te begryp, is dit presies wat die Woord van God ons leer en
daarom aanvaar ons dit met en in kinderlike geloof. Dit is dan presies ook oor
hierdie feit dat Christus terselfdertyd God is, wat die Hebreërskrywer vir die
ontvangers van hierdie brief wil sê: Hoe
kan julle Christus, wat God is, gelykstel of selfs ondergeskik stel aan engele!
Wat meer is, v.9 is ook duidelik daaroor dat die Messias Koning, Jesus Christus
se troon vir ewig onwankelbaar is. Hy is ewige Koning wat regeer oor die ganse
heelal – ook oor die "amper-Higgs-boson" of die sogenaamde "God-partikel"
wat kwansuis die afgelope week ontdek is – Hy regeer ook oor alle skepsele –
skepsele wat die engele insluit, want soos ons reeds gesien het, is hulle niks
meer as skepsele nie.
4. CHRISTUS HET GEREGTIGHEID LIEF:
In v.9 lees ons en ek haal aan uit die
O.A.V. ~ U het geregtigheid liefgehad en
ongeregtigheid gehaat; daarom het, o God, u God U gesalf met vreugde-olie bo u
metgeselle. Hoor u
wat sê die apostel vir ons hier? God is nie net ’n God van liefde nie. Nee, Hy
is ook ’n God wat geregtigheid lief het en wat is die implikasie daarvan? Die
implikasie daarvan is nie net voor die handliggend nie, die Apostel sê ook vir
ons wat die implikasie is, nl. dat God die ongeregtigheid haat! Hoor u – God
HAAT ongeregtigheid. Hy is dus nie net ’n God van liefde soos wat al wat "nuwe
hervormer" wil hê nie.
Omdat Christus geregtigheid, of dit wat
reg is, lief het, haat Hy dus wetloosheid, of alles wat verkeerd is (sonde)
en daarom behoort ons ook
dit wat verkeerd is te haat. Om dit wat reg is lief te hê en dit wat verkeerd
is te haat, is onafskeidbaar van mekaar – die een kan nie sonder die ander
bestaan nie. ’n Mens sien hierdie beginsel baie mooi gedemonstreer deur Jesus,
toe Hy die Tempel gereinig het en Hy die geldwisselaars se geld op die grond
uitgegooi het en die tafels omgekeer het – ons sien egter die toppunt van
hierdie feit geïllustreer in Jesus aan die kruis – God se haat vir Sy
uitverkorenes se ongeregtigheid, wat "in-brandglas" op Jesus, maar
terselfdertyd ook God se intense liefde vir Sy uitverkorenes, ten einde hulle
deur Jesus se kruisdood, regverdig te verklaar! Alles wat God doen is reg en
regverdig – Hy kan nie en sal nooit, enige kompromie maak nie en Hy kan en sal
nooit om verskoning vra vir enige iets wat Hy ooit gedoen het nie. Dit is juis
daarom ook dat God vir Jesus salf met "vreugde-olie" (O.A.V.
– waarom moes die N.A.V. hierdie pragtige uitdrukking vervang het met
"olie" en nie gebly het by "VREUGDE-olie" nie?), want hierdie olie verwys na die
Heilige Gees wat oor Jesus uitgegiet is in reaksie op Sy gehoorsaamheid – Sy
gehoorsaamheid tot die dood toe.
Daar word ook in vv.8-9 melding gemaak
van Christus se troon, Sy septer en Sy salwing, wat alles ’n weerspieëling is
van Sy glansryke soewereiniteit en heerskappy. Sy troon – Sy heerskappy sal
nooit tot ’n einde kom nie. Sy salwing met die olie van vreugde verwys dan ook
na die hemelse vreugde wat Hom deelagtig sou word na Sy hemelvaart (Hebr.12:2). Sy septer, simbool van Sy ewige
gesag, sal in geregtigheid, billikheid en in liefde uitgeoefen word.
Die aller belangrikste vraag wat elkeen
van ons, vir onsself moet afvra is of jy deel uitmaak van hierdie geregtigheid
van God wat Hy oor Sy uitverkorenes uitgestort het en indien nie, is daar op
hierdie stadium nog geen plek vir jou in die Koninkryk nie, maar indien jy wel
deel het aan hierdie geregtigheid, moet jy ook die geregtigheid lief hê en die
onreg haat, of anders gestel, moet jy ’n heilige lewe lei! Indien ons dit nie
doen nie, ontken ons Christus Jesus se Koningskap oor ons!
Engele,
wat Christus se diensknegte is, kan op Sy opdrag, wonderlike vorme aanneem – ’n
engel kan ’n seraf word wat in die woorde van Jes.6:1-8, o.a. ses vlerke het
waarmee hy kan vlieg. Hy roep ander serafs met so ’n harde stem, dat die deure
in hul kosyne rammel en die tempel vol rook raak, maar steeds toon die serafs
hul ondergeskiktheid aan Christus, deur uit te roep ~ Heilig, heilig, heilig is die Here die Almagtige! Die
hele aarde is vol van sy magtige teenwoordigheid (Jes.6:3). Hulle is en bly steeds diensknegte
van Christus en Hy is steeds die Gesalfde wat ewig op Sy troon sit, met Sy
septer in die hand.
5. DIE ONVERANDERLIKE SKEPPER:
Verse 10 tot 12 is ’n verdere aanhaling
uit die Ou Testament en wel uit Ps.102:25-27 ~ Ek sê: “My God, moet my nie in die fleur van my lewe wegneem nie! U is
daar deur die geslagte heen. 26In die voortyd al het U die aarde
gevestig en die hemele met u eie hande gemaak. 27Die hemel en die
aarde sal vergaan, maar U sal bly. Soos ’n kledingstuk verslyt, so sal alles
vergaan, soos klere wat uitgedien raak, so sal U alles laat verdwyn. Hier besing die Psalmis die Here as
Skepper en Een wat onveranderlik is te midde van aardse veranderings en
verganklikheid, trouens die Psalmis beklemtoon die ewige aard van die Skepper
God en daarom natuurlik dié van Christus – nie net omdat Christus een is met
die Vader nie, maar ook omdat Christus o.a. in Kol.1:16 (sien
o.a. ook Joh.1:3; Hebr.1:2)
vermeld word as Skepper. Kan enige engel in dieselfde asem genoem word?
Vers 27 wat praat van alles wat sal
verslyt soos ’n kledingstuk en dit laat ’n mens maar net besef dat niks op
hierdie aarde permanent van aard is nie – selfs nie ons as mense soos wat ons
nou daar uitsien nie – trouens selfs ongelowige wetenskapliks erken dat die
heelal nie vir ewig kan voortbestaan nie (ons as gelowiges
kan genadiglik byvoeg: "Ten minste
nie soos ons die heelal nou ken nie!"). Wat is die uiteinde dan van hierdie heelal? Ons as
gelowiges rus in die wete dat God nie alleen in beheer is nie, maar dat Hy ook,
net soos wat Hy die huidige heelal geskape het, ’n nuwe aarde en ’n nuwe hemel
gaan skep. Die profeet Jesaja het dit in Jes.65:17-18 geprofeteer toe hy gesê
het ~ Ek gaan ’n nuwe hemel en ’n nuwe
aarde skep; aan dié wat daar nou is, sal daar nie meer gedink word nie, hulle
sal nie onthou word nie. 18Wees bly, en jubel sonder ophou oor wat
Ek gaan skep: Ek gaan ’n Jerusalem skep wat vol blydskap is, sy inwoners sal
vreugde hê, Jesus het
dit egter self ook aan Johannes in Opeb.21:1-2 gewys ~ Toe het ek ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde gesien. Die
eerste hemel en die eerste aarde het verdwyn, en die see het nie meer bestaan
nie. 2En ek het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, van God af
uit die hemel uit sien afkom. Die stad was gereed soos ’n bruid wat vir haar
man versier is. Met
alles op en bo die aarde wat gaan vergaan sê Hebr.1:12 egter vir ons van Christus
~ ...U bly dieselfde, en u jare het geen
einde nie. Die
Koninkryk van die hemele is vir ewig en hierdie hemelse Koninkryk se Koning
heers vir ewig! En ons – wat van ons? Ps.102:28 wat aangehaal word deur die
Hebreërskrywer hier in vv.10-12, sluit af met hierdie wonderlike en
vertroostende woorde ~ Ons
nageslag sal die land bly bewoon, ons nakomelinge sal veilig voor U woon. Christus is in beheer van alles en
enige mens wat na permanensie soek in enige iets, sal en kan dit slegs in Jesus
die Christus vind!
6. ENGELE – DIENENDE GEESTE:
Die skrywer het ten slotte Ps.110 in gedagte
wanneer hy vv.13-14 neerpen – Ps.110 is nog een van die Messiaanse Psalms. Wat
interessant is, is dat Ps.110 o.a. ’n "troonpsalm" is wat gesing was
wanneer ’n nuwe koning die troon bestyg het. Die Hebreërskrywer maak hierdie
feit dan ook van toepassing op Jesus se Koningskap – Jesus die ewige Koning. Ps.109
sluit af met die gedagte dat Jesus staan en nou hier in Ps.110 nooi die Vader Hom
om te kom sit. Om aan die Vader se regterhand te sit, beklemtoon Christus se
teenwoordigheid saam met die Vader in die hemel, maar dit beklemtoon ook Sy
Koningskap en gesag saam met die Vader. Hierdie feit staan so in kontras met
wat die vleeslike en sondige mens doen – die mens verwerp Christus, maar die soewereine
en ewige God van die heelal, verhoog Christus! Hier van God se regterhand af,
heers Koning Jesus, maar tree Hy ook terselfdertyd in vir Sy uitverkorenes.
Nog nooit is daar aan enige engel gesê om
aan God se regterhand te sit nie, maar dit is die presiese plek waar Christus sit
en wag vir Sy finale triomftog oor al Sy vyande. Die plek aan God se regterhand
was nog nooit ingeneem deur enige engel nie, want dit is die plek van die
Tweede Persoon in die Goddelike Drie-Eenheid, trouens die engele se plek is een
van onderwerping aan God, ten einde diensknegte in Sy diens te wees – Fil.2:10
bevestig dit wanneer Paulus sê ~ ...sodat in die Naam van Jesus elkeen wat in die hemel en op die aarde en onder
die aarde is, die knie sou buig.
Die feit dat Christus sit (soos
reeds vroeër aangetoon) dui
ook op Sy afgehandelde werk as Verlosser – nou wag Hy net vir Sy finale
triomftog, wanneer Hy Sy vyande vir goed sal verpletter en veroordeel, terwyl
ons op daardie dag nie net vrygespreek gaan word van alle ongeregtigheid nie,
maar ook verheerlik sal word – iets wat nie eers met die engele gaan gebeur
nie, trouens 1 Kor.6:3 sê selfs dat óns op daardie dag, engele sal oordeel! Dit
impliseer natuurlik hoegenaamd nie dat ons ooit, enigsins met Christus se
heerlikheid vergelyk kan word nie.
7. TEN SLOTTE:
As
ons sou terugkyk na die sewe Ou Testamentiese Skrifgedeeltes waarna die
Hebreërskrywer in hierdie eerste hoofstuk van hom verwys, is dit interessant om
die progressie daarvan waar te neem. Dit handel oor Christus se ewige
verhouding met Sy Vader; Sy koms na die wêreld; Sy salwing as Koning deur God,
asook Sy heerskappy. Ons sien Hom ook as dié Een wat alles begin het (skepping), maar ook dié Een wie alles gaan
beëindig, maar wat ook terselfdertyd aan die Vader se regterhand sit vanwaar Hy
vir ewig gaan regeer en heers oor Sy vyande.
[1] Boodskap deur
Kobus van der Walt te Vaaldriehoek
Gereformeerde Baptistegemeente (Meyerton) - Sondag, 08 Julie 2012